Baie Christene sukkel om die Ou Testament uitbeelding van Jesus te vereenselwig met die Nuwe Testament werklikheid. Die toetrede van die Messiaanse beweging skep by baie Christene ‘n verwarrende siening van die bediening van Jesus, wat dan ook hulle siening van die kerk beïnvloed. Met die boodskap dat ons moet terugbeweeg na ons “Joodse” oorsprong, het hierdie parallel-kerk bedienings Christene se oë afgehaal van Jesus en teruggeplaas op die Ou Testament gebruike en beloftes. Die terugkeer na die rykdom van die Joodse kultuur lei baie Christene weg van die “eenvoud” van die Nuwe Verbond en die evangelie. In hierdie studies kyk ons na die profetiese uitbeelding van Jesus in die Ou Testament om sodoende 'n meer verantwoordelike begrip te ontwikkel.