Jeremia het net soos ons die volle spektrum van kwellende emosies en ontsteltenis oor die werklikheid van ongeregtigheid ervaar. Hy het sy hart hieroor uitgestort in ‘n reeks klaagliedere, wat ons presies vertel hoe hy gevoel het. Wat dit egter so merkwaardig maak, is die feit dat elke woord hiervan deur die Gees van God geïnspireer is vir ons gebruik. Dit is dus beide Jeremia se klaagliedere en God se Woord. Hieruit kan ons aflei dat God wil hê dat ons moet weet dat Hy weet hoe die mens voel en wat hy ervaar as hy in traumatiese omstandighede verkeer.