“en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).
Die Tye van die Heidennasies word volledig beskryf aan die hand van twee visioene uitgelê in Daniël hoofstuk 2 en hoofstuk 7. Beide hierdie visioene, aan twee verskillende mense gerig, dek dieselfde geskiedkundige tydperk - vanaf die Babiloniese Ryk tot en met die tweede koms van Christus.
Wat hierdie profesieë so interessant maak, is die feit dat my en jou geskiedenis vooruit geopenbaar is. Groot gedeeltes van hierdie profesieë is alreeds vervul en ons lewe vandag naby aan die einde van die Tye van die Heidennasies. Ons kan terugkyk na dit wat oorspronklik profeties was en hoe dit in die bladsye van die geskiedenis vervul is.
Die eerste visioen is aan ‘n goddelose koning, Nebukadnésar, gegee en die tweede aan die heilige profeet Daniël. Nebukadnésar het gedroom oor vier magtige koninkryke se militêre oorwinnings, verbasende burgerlike beheer, indrukwekkende bouprogramme, afgodstelsels en humanistiese kulture – iets om te bewonder. Nebukadnésar sien in sy droom ‘n fantastiese beeld, wat uit al die kosbare metale van die aarde gevorm is en wat verteenwoordigend van vier geskiedkundige koninkryke is. Daniël het weer op sy beurt dieselfde koninkryke as vier wrede diere gesien.
Beide drome dui egter daarop dat hierdie vier gevestigde koninkryke God se Koninkryk, wat op aarde sal wees, sal voorafgaan. Die trotse Nebukadnésar wou natuurlik hê dat sy koninkryk tot in ewigheid duur. Voor Nebukadnésar se koninkryk was daar nog geen koninkryk wat oor die hele wêreld regeer het nie. Die Assiriese en Egiptiese heerskappye was tevrede met hulle stelsel van plaaslike oppergesag. Daniël verklaar in sy uitleg van die koning se droom dat Nebukadnésar die eerste Wêreldheerser is en sê:
“U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel, die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – u is die hoof van goud” (Dan. 2:37-38).
Die beeld in Nebukadnésar se droom simboliseer nie alleen die Babiloniese Ryk nie, maar al die Heidense magte wat die wêreld sou domineers tot en met Jesus se koms:
”met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens ... sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Dan. 7:13-14). Besonderhede van hierdie droom word later in ‘n diagrammatiese voorstelling op bladsy 6 uitgebeeld.
Nie alleen was Nebukadnésar die eerste wêreldheerser nie, maar volgens die Bybel, sal die begin van sy regering ook die begin van die “tye van die nasies” kenmerk. Hierdie tydperk van die tye van die nasies word gekenmerk deur die verlies aan nasionale soewereiniteit van die volk van Israel en hulle ondergeskiktheid aan die Heidennasies.
Nebukadnésar is tot koning verkies na die dood van sy vader Nabopolassar in die derde jaar van Jójakim, koning van Juda (606 v.C.). In 2 Konings hoofstuk 24 en 25 lees ons die treurige verhaal van Israel se laaste 19 jaar van rebellie teen God en teen die koning van Babilon. Nebukadnésar se leërs het daarna Jerusalem verower, die Tempel verbrand en die stad se mure afgebreek (586 v.C.)
Die eerste inval is tydens Jójakim se derde regeringsjaar geloods. Hy is toegelaat om as koning te regeer, maar het later in opstand gekom. Gedurende die tweede inval en besetting van Jerusalem sterf Jójakim en word deur sy seun, Jójagin, as koning opgevolg. Hy kies om oor te gee en is na Babilon geneem waar hy 37 jaar later aangestel word oor die ander konings wat gevange geneem is (2 Kon. 25:27). Soos aangedui in die geslagsregister in Matthéüs 1, kan Jojakim se afstammelinge nagespoor word tot en met Jesus Christus. Daar was dus altyd iemand ‘op die troon’ van Dawid al was hulle in ballingskap (Jer. 33:17).
Die laaste koning van Juda was Sedekía – Jójagin se oom. Hy het die koning van Babilon gedien, maar kom later in opstand en word gedurende die derde inval gevange geneem. Sedekía het gesien hoe al sy seuns verslaan word (Jer. 52:10, 11; Eseg. 12:12, 13).
Esegiël beskryf Sedekía as ‘n “onheilige en goddelose vors.”
“So sê die Here HERE: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is! Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook die (die kroon) sal nie bly nie – TOTDAT Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee” (Eseg. 21:25-27).
Hoséa het ook geprofeteer dat Israel (die noordelike ryk) sonder ‘n koning sou wees, ook hierdie deel van Israel sal sy soewereiniteit verloor tot die laaste dae wat onder Heidense beheer sou wees.
“Want die kinders van Israel sal ‘n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hos. 3:4-5).
Met die eerste koms van Jesus was die Romeinse Ryk ten volle in beheer van Israel. Die Babiloniese, Persiese en Griekse Ryke het gekom en gegaan. Die vierde ryk het vanaf Engeland tot by Babilon regeer. Israel het geen koning op die troon van Dawid gehad nie. Verder het Jesus geprofeteer dat Israel voortdurend deur die Heidene verdruk sou word en dat Jerusalem binnekort vernietig sou word. Hy het gesê:
“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is ... En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die TYE VAN DIE NASIES VERVUL IS” (Luk. 21:20-24).
Die woorde van Jesus is in 70 n.C. deur Rome se verwoestende inval op Jerusalem en die Tempel vervul. Die oorlewendes is oor die hele Romeinse Ryk verstrooi. Hierdie harde werklikheid het vir bykans 2000 jaar voortgeduur net soos dit deur God in die Palestynse Verbond (Deut. 28-30) bepaal is.
Die Tydperk van die Heidennasies duur nou al vir meer as 2 500 jaar voort. Jerusalem word nog steeds deur Heidennasies vertrap. Die vraag oor Jerusalem se toekoms word oorweeg in die finale fase van vredesonderhandelings wat deur Jode, Arabiere en die wêreld, sedert die Oslo Ooreenkoms in 1999, bespreek word. ‘n Moslem moskee is op die Tempelberg gevestig en meeste nasies se ambassades is in Tel Aviv – hulle weier om Jerusalem as die hoofstad van Israel te erken. Die Verenigde Nasies beskou Jerusalem as ‘n “internasionale stad” – so ook die Vatikaan. Die Palesteine eis egter ook Jerusalem as hulle hoofstad. Terwyl Jode by die Klaagmuur op die Tempelberg bid, waar God gekies het om Sy Naam te plaas (Deut. 12:5, 11, 14), is dit steeds onder Heidense beheer en sal so wees totdat “Hy kom wat reg is” (Eseg. 21:27).
Sedert die begin van die Sionistiese beweging in 1881 het die Jode na Israel begin terugkeer. Dit het tot gevolg gehad dat die Joodse bevolking van 565,000 (1945) tot 5.3 miljoen (2004) toegeneem het. Die totale bevolking in Israel, insluitend nie-Jode, het op 6,3 miljoen in 2004 gestaan. Daar word voorspel dat die getal teen 2020 n.C. tot soveel as 8 miljoen kan styg. Levitiese priesters versamel alreeds die “heilige” half-sikkel, vir Tempeldiens doeleindes, in afwagting vir die Tempel om herbou te word. Ons sien egter in hierdie studie dat die besetting van Jerusalem sal aanhou totdat Christus aan die einde van die Groot Verdrukking sal terugkeer. Gedurende die Groot Verdrukking sal ‘n Tempel in Jerusalem gebou word (Openb. 11:1-2; 2 Thess. 2:4; Matt. 24:15 en Dan. 9:27). Dit sal egter deur die Antichris, die laaste leier van die vierde koninkryk op aarde, beset word. Wanneer Jesus kom, sal die Antichris in die poel van vuur gewerp word, en dit sal die einde van die Tydperk van die Heidennasies wees.
Die verklaring van Nebukadnésar se droom word in Dan. 2:36-49 weergegee. Die vier dele van die beeld in Nebukadnésar se droom verteenwoordig vier koninkryke wat oor die wêreld, vanaf die tydperk van Daniël tot aan die einde van die tye, sal heers wanneer God ‘n koninkryk sal oprig wat tot in ewigheid bestaan:
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Dan. 2:44).
Die eerste van hierdie koninkryke is die Babiloniese Ryk wat lande van Babilon tot Assirië in die noorde, Klein Asië (Turkye) in die weste en Israel en Egipte in die suide insluit. Nebukadnésar het as koning van Babilon regeer en Daniël het geprofeteer, “U is die hoof van goud” (Dan. 2:38).
Die Babiloniese Ryk was van korte duur. Volgens Jeremia se profesieë sou dit slegs 70 jaar heerskappy voer:
“En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die Here, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak” (Jer. 25:12).
Die Babiloniese Ryk het vanaf 606 v.C. tot 536 vC geduur voordat Darius, die Meder, die koningskap ontvang het (Dan. 5:30-31).
‘n Tweede koninkryk vervang die Babiloniese Ryk en dit word deur ’skouers van silwer’ uitgebeeld. Ons lees in Daniël:
“En ná u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; (Dan. 2:39). ... sy bors en sy arms van silwer (Dan 2:32)
Die tweede koninkryk is sonder twyfel die Medo-Persiese Ryk. Die twee arms van die beeld dui op die tweeledigheid van die oorspronklike vorm van die koninkryk wat vanaf 536 v.C. tot 331 v.C. geduur het. Met verloop van tyd staan dit egter as die Persiese Ryk bekend en word tot ‘n val gebring deur die Grieke (Alexander die Grote). Die Persiese Ryk het uitgebrei tot by die grens van Indië in die ooste; Griekeland in die weste; Kaukasië in die noorde en Egipte in die suide.
Die derde koninkryk word uitgebeeld deur die buik en dye van koper, en het oor groot mag beskik. Daniël vertel ons meer: “’n ander, ‘n derde koninkryk van koper wat oor die hele aarde sal heers” (Dan. 2:39).
Die jong Alexander het klein getalle Griekse magte teen die groot Persiese leërs aangevoer. Hy is voortgedryf deur die manier waarop die koning van Persië die Grieke verneder het. Alhoewel hy ‘n klein leër en byna geen vloot gehad het nie, het hy drie veldslae oor Klein Asië aangevoer om die mag van Persië te verbreek: Granikos 334 v.C.; Issus 333 v.C. en Gaugamela 331 v.C.
Alexander het Tirus (332 v.C.) en die hele Egipte verower – ‘n vervulling van die profesie in Eseg. 27. Hy het die Persiese vloot geneutraliseer deur die oostelike kusstrook van die Mediterreense see te annekseer en Koning Poros van Indië verslaan. Hy het later terug gekeer na Babilon en as jongman, na ‘n dronkfees in Junie 323 v.C., gesterf.
Na Alexander se vroeë dood, is sy familie om die lewe gebring is en sy koninkryk (vanaf Indië tot Europa) tussen sy vier generaals verdeel. Die Griekse heerskappy se beheer oor Jerusalem het geduur vanaf 332 v.C. tot 63 v.C. – 269 jaar. Hierna verskyn die die Romeinse Ryk op die voorgrond.
Die Vierde Koninkryk – Die Bene van Yster
Die meeste klem word op die vierde koninkryk geplaas. Dit word uitgebeeld deur bene van yster, voete - deels van yster en klei - en tien tone. Dan 2: 40 sê: “… soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis”.
Die beginjare van die koninkryk word gekenmerk deur sterkte en mag (yster), maar verswak met verloop van tyd (deels yster en deels klei). In die finale stadium verdeel die vierde koninkryk in tien dele,
“maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie” (Dan. 2:44).
Daarna volg die beëindiging van die “tye van die Heidennasies”. Heidense magte sal Jerusalem nie meer langer vertrap nie. Die beloofde ewige koninkryk van God sal deur Jesus Christus ingelei word. Die vierde koninkryk is sonder twyfel die Romeinse Ryk wat in 63 v.C. beheer oor Jerusalem oorgeneem het. Die Keiserlike bewind van die Romeinse Ryk het voortgeduur vanaf Keiser Augustus (31 v.C. – word keiser in 27 v.C.) tot en met die Wes-Gote se inname van Rome in 410 n.C. Dit word gevolg deur die Vandale in 455 n.C. en die laaste westerse mag - Romulus Augustus - in 476 n.C. Die einde van die Keiserlike bewind was dus was nie die einde van die Romeinse Ryk nie.
BABILON het Ninevé in 612 v.C. en Egipte in 570 v.C. verower. Jerusalem is in 606, 597 en 586 v.C. ingeneem.
Jeremia het voorspel dat Babilon na 70 jaar sal val (Jer. 25:9-12).
Die MEDE en PERSE het Babilon verower en Kores het in 536-516 v.C. die Jode toegelaat om terug te gaan en die Tempel in Jerusalem te herbou. Artasásta het Nehemia toegelaat om Jerusalem in 445 v.C. te herbou.
GRIEKELAND: Alexander die Grote het drie veldslae teen Darius in 334, 333, 331 v.C. aangevoer.
Na sy dood in 323 v.C. is die koninkryk uiteindelik in 306 v.C. in vier dele verdeel.
Daniël het die voortduring van die koninklike lyn van die Seleukiede en Ptolemeïese koninkryke tot en met die heerskappy van Antiogos Epifanus in 175-163 v.C. voorspel.
Die Germaanse stamme is deur Asiatiese mensegroepe, bekend as die Huns en die Aware, uitgedryf (wes en suid). Daarna is die westelike Romeinse Ryk deur die pousdom gedomineer (600 n.C.) en die Heilige Romeinse Ryk deur Germaanse leierskap beset (800 n.C. tot 1806 n.C.).
Op Kersdag 800 n.C. het Pous Leo III vir Karel die Grote as Keiser oor die Heilige Romeinse Ryk aangestel. As die koning van die Franke (Germane) het hy die Lombarde, Aware en Saksers verower, almal gekersten, en dele van Italië aan die Pous teruggegee. Ses-en-sestig keisers het deel gevorm van die Heilige Romeinse Ryk, 31 is deur die Pous aangewys.
Die inkwisisies (1232 tot 19de eeu) en die kruistogte (1096 tot 1271) was slegs moontlik weens die eenheid tussen die staat en kerk.
Die Bisantyns Romeinse Ryk
In 258 n.C. is die Romeinse Ryk in Oosterse en Westerse ryke verdeel en weer vir ‘n tyd onder Konstantyn verenig. In 330 n.C. verskuif hy die setel na Konstantinopel. Die oostelike Bisantyns Romeinse Ryk duur vanaf 330 n.C. totdat Konstantinopel deur die Ottomaanse Turke in 1453 n.C. ingeneem word.
Die Pousdom en die Heilige Romeinse Ryk
In tussentyd het die Kerk van Rome al hoe meer mag verkry. Die biskoppe van Rome het posisies van outoriteit beklee as gevolg van hul ondersteuning van die keisers. Dit het uiteindelik tot die vorming van die pousdom in die tyd van Pous Gregorius die Grote gelei (590 – 604 n.C.).
In 800 n.C. is Pous Leo III van die Oosterse ryk afgesonder en Karel die Grote gekroon as die koning van Duitsland en het keiser van ‘n nuwe ryk in die weste, bekend as die “Heilige Romeinse Ryk”, geword. Die keisers van die nuwe westerse ryk is dikwels deur die pous aangewys - gewoonlik die Keiser[1] van Duitsland of Oostenryk.
Die laaste keiser, Fransis II, het eers gedurende Napoleon se bewind (1806) van die titel afstand gedoen. Sodoende het die “Heilige Romeinse Ryk”, wat die sekulêre arm van die pousdom was, na 1006 jaar verdwyn.
Napoleon, Keiser Wilhelm en Hitler
Keiser Napoleon (Koning van Italië) het ‘n dapper poging aangewend om Europa te verenig. Hy het die Midde-Ooste oorwin en as die meester van Egipte bekend gestaan. Teen 1812 het hy groot gedeeltes van Europa onder sy beheer gehad, insluitende Oos- en Sentraal-Europa, Spanje, Italië en Noorweë. Hy het selfs Moskou beset, maar kon dit nie behou nie. In 1814 eindig sy bewind as keiser en word hy na die eiland Elbe verban. In 1815 ontsnap hy, maar word egter tydens die slag van Waterloo verslaan. In 1821 sterf hy op die eiland St. Helena in die Suid Atlantiese Oseaan.
Die volgende poging om Europa te verenig is gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918) deur Keiser Wilhelm II (Duitsland) van stapel gestuur. Die Pruisiese koning, Wilhelm I (1870), het homself na die vereniging van Duitsland en die vorming van die Duitse Ryk tot keiser verhef. Keiser Wilhelm II was die kleinseun van Keiser Wilhelm I. Die einde van sy bewind word egter ingelei deur mislukte pogings om die Duitse ryk uit te brei (1918). In 1939 is nog ‘n poging aangewend om Europa te verenig – hierdie keer deur Adolf Hitler. Met Italië en Spanje as vennote het Hitler se leërs deur Europa getrek. Hitler het daarop aanspraak gemaak dat sy sogenaamde “Third Reich” heerskappy vir 1000 jaar sal voortduur. In 1945 het sy leër en sy ideaal vir ’n soewereine nasie egter tot ‘n einde gekom.
Na Napoleon, Keiser Wilhelm en Hitler se mislukte pogings om ‘n nuwe Romeinse Ryk in ‘n verenigde Europa te skep, het meeste nasies besef dat Europese eenheid en die voorkoming van oorlog slegs moontlik gemaak kan word deur ekonomiese en politieke samewerking.
In die begin het Europa uit twee afsonderlike ekonomiese gemeenskappe bestaan - “Innerlike Ses” (EEC) en “Uiterlike Sewe” (EFTA). EEC lidmaatskap het Duitsland, Frankryk, Italië, België, Luxemburg en Holland ingesluit. Samewerking is moontlik gemaak deur ‘n reeks vredesverdrae. Die belangrikste aspekte van die verdrae lui soos volg:
1) Die Verdrag van Rome (1958) het die grondslag vir die Europese Unie gelê.
2) Die Maastricht Verdrag (1993) het verder gestem vir ekonomiese en monetêre eenheid asook politieke eenheid.
3) Die Verdrag van Amsterdam (1997) het weer uitgebrei op die Maastricht Verdrag en voorsiening gemaak vir Sentraal- en Oos-Europese lande wat onafhanklikheid verkry het na Sowjet Unie tot ‘n einde gekom het (1989 – 1991).
In 1998 was daar elf Europese lande wat die “Vennootskapsooreenkomste” geteken het as ‘n eerste stap om die vyftien lande, bekend as die Europese Unie (EU), te verenig.
In Mei 2004 is tien nasies tot die Europese Unie bygevoeg om die totale bevolking onder sy beheer tot 455 miljoen te bring. Onderhandelinge met ander nasies duur voort.
Die algemene geldstelsel, die Euro, sal uiteindelik die wêreld se finansiële markte oorheers en sy ekonomiese en politieke invloed sal geen gelyke ken nie.
Die Europese Unie het alreeds ‘n Europese parlement met ‘n president en die wetgewing is in 2004 gefinaliseer. Die Schengen-ooreenkoms van 1985 het weggedoen met interne grense en meeste lande in die EU vereis nie meer grenskontroles nie.
Die EU beskou die Mediterreense See as ‘n Europese meer en is besig om ‘n Vryhandel Sone daar rondom te vestig. Dit sal na verwagting reeds teen 2010 in plek wees. Hierdie handelsinisiatief sal ‘n mark van meer as 200 miljoen mense in die ontwikkelende lande van Noord-Afrika en die Midde-Ooste voorsien. Sedert die einde van die Tweede Wêreld Oorlog voorsien Amerika $14 biljoen (ongeveer R100.8 biljoen) aan die “Marshall Hulpplan” om die lande van Europa te hervorm. In die lig van die groeiende invloed van Russiese en Internasionale Kommunisme, was dit vir Amerika belangrik om ‘n sterk verenigde Europa te sien ontwikkel.
Die Finale Stadium van die Romeinse Ryk – Die Tien Tone
Volgens die Bybel sal Europa gedurende die finale stadium van die Romeinse Ryk in 10 state verdeel. Hulle sal hul trou aan een man, die Antichris, beloof. Hy word in die Bybel ook “die dier”, “die man van sonde” en “die seun van die verderf” genoem. Meer van hom word in die visioene van Daniël 7 geopenbaar. Die 10 state word gesimboliseer deur die tien tone van die beeld in Nebukadnésar se droom en korrespondeer met die tien horings van die dier in Daniël hoofstuk 7 en Openbaring hoofstukke 12, 13 en 17. Openbaring 17:12 lees:
“En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier”.
So ver het ons gesien dat die vierde koninkryk, uitgebeeld deur die bene, voete en tone van die beeld, die Romeinse Ryk in sy verskillende vorms en fases verteenwoordig. Keiserlike Rome is gekenmerk deur sterkte (yster), maar die “Heilige Romeinse Ryk” was deels sterk (yster) en deels swak (klei). Soos ons die einde van die twintigste eeu nader, kan ons reeds die begin van ‘n herlewing van die Ou Romeinse Ryk sien wat blyk om die oorheersende wêreldmag te word - gereed vir die verskyning van die Antichris en die tien horings (tien konings).
Christus se Tweede Koms – Die Rots uit die Hemel
Laastens openbaar Daniël aan Nebukadnésar die volgende oor die beeld in sy droom:
“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mense hande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het ... maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Dan. 2:34-35).
Die klip wat ’n groot rots word verteenwoordig Jesus Christus en dit wat by Sy Tweede Koms sal gebeur. Verdere Skrifgedeeltes verklaar dat Jesus die nasies sal oordeel wanneer Hy weer kom. Die Bybel sê:
“en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thess. 1:7-8).
“En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige” (Openb. 19:15).
“ Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog” (Sag. 14:2-3).
“En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik” (Jes. 2:19).
“En in dié dag sal die Here besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde; en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in ‘n kuil en bewaar word in ‘n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word” (Jes. 24:21-22).
Die beeld van ‘n meteoriet (’n groot klip is) wat uit die ruimte na die aarde tuimel is waarlik skrikwekkend, maar dit is niks in vergelyking met die Tweede Koms van die ”Ewige Rots”(Jes. 26:4), Jesus Christus, nie.
Die tydperk van die Heidennasies as ’n wêreldmag word met die Tweede Koms van Jesus Christus beëindig. Daarna vestig Christus Sy letterlike Koninkryk op aarde – gesimboliseer deur die berg wat die aarde vul. ‘n Berg word ook elders in die Bybel gebruik om ‘n nasie te verteenwoordig. Jesaja sê:
“Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê; Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:1-4).
In Matthéüs 24 en 25 lees ons dat Christus se tweede koms net ná die Groot Verdrukking sal plaasvind. Eerstens sal dié wat die Groot Verdrukking oorleef het geoordeel word. Gelowiges sal die Vrederyk Koninkryk lewend binnegaan en die ongelowiges sal weggestuur word om die ewige straf te ontvang. Die Bybel sê:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).
“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 25:31-34).
Die langverwagte Koninkryk van God sal slegs op aarde gevestig word wanneer die Tydperk van die Heidennasies verby is, wanneer Israel as ‘n nasie gedurende die Groot Verdrukking hulle bekeer van hulle verwerping van die Messias, en wanneer Christus weer kom om persoonlik oor die aarde te heers.
Die “tien tone” wat “tien konings” verteenwoordig is dus die vierde en laaste Heidense ryk wat Jerusalem sal vernietig:
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Dan. 2:44).
Die tweede beskrywing of uitleg aangaande die Tye van die Heidene was aan Daniël in ‘n droom gegee. Hy sien vier diere (vier winde) wat uit die see opkom en die “groot see in beroering bring” (Mediterreense See). Die eerste dier wat hy sien is ‘n leeu met arendsvlerke, die tweede ‘n beer met drie ribbes in sy bek en die derde ‘n luiperd met vier vlerke en vier koppe. Die vierde dier word as “vreeslik en skrikwekkend en baie sterk met groot ystertande” beskryf.
Die vierde dier het ook tien horings, maar later in die droom verskyn ‘n enkele horinkie ook op die toneel. Die horinkie ontwortel drie van die voriges. Hierdie “klein horing” neem menslike eienskappe aan met “oë soos die oë van ‘n mens en ‘n mond wat groot dinge spreek” (Dan. 7:8). Laastens sien Daniël een soos die Seun van die mens wat in wolke van die hemel kom, en aan Hom is gegee “heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Dan. 7:14).
Die verklaring van Daniël se droom is dieselfde as wat ons in Daniël 2 gesien het. Nebukadnésar beskou die beeld in sy droom as glorieryk, maar Daniël sien die skrikwekkendheid van die beeld raak. Die geestelike toestand van ons hart bepaal hoe ons die wêreldtoneel beskou! Die goddelose verbly homself in die wêreld se prag en praal, maar die gelowige sal ‘n ewigheidsperspektief behou.
Vier Diere uit die Groot See – Die Mediterreense See
Daniël se droom, soos Nebukadnésar s’n, beskryf die vernietiging van Jerusalem (606 v.C.) en word grafies deur vier diere (Heidennasies) voorgestel:
“Hierdie groot diere wat vier is – vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid”
(Dan. 7:17-18).
Die vier diere uit die “groot see” kom te voorskyn nadat die “vier winde van die hemel die groot see in beroering bring”. Die “groot see” word as die Mediterreense See geïdentifiseer en word deur die volgende Skrifgedeeltes bevestig: (Num. 34:6,7; Deut. 1:7; Jos 9:1; 15:12,47; 23:4; Eseg. 47:10,15,19,20 en Eseg. 48:28).
Die “vier winde van die hemel” verteenwoordig vier hemelwesens wat God se bevele gehoorsaam. Hulle word deur vier strydwaens met vier sterk rooi, swart, wit en bont perde voorgestel (Sag. 6:1-3)
Dit is merkwaardig dat al vier wêreldkoninkryke groot gedeeltes van die vasteland om die Mediterreense See beslaan, insluitende Israel en Egipte.
In 1996 is die Mediterreense See as ‘n Europese Meer verklaar. Die Europese Unie verwag om teen 2010, soos reeds genoem, vrye handelsooreenkomste met meeste Noord-Afrika en Midde-Oosterse lande te sluit. Dit sal as die Euro-Med bekend staan. Europa het eksterne markte nodig en ontwikkelende lande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste bied hierdie gulde geleentheid. Grootskaalse hulppakkette sal deelname aanmoedig.
‘n Leeu met Arendsvlerke – Die Babiloniese Ryk
Die simbole van die vier diere beskryf die opeenvolgende koninkryke. Die leeu met arendsvlerke stem ooreen met die Babiloniese Ryk. Die ingange van die paleishekke van Babilon was met beelde van leeus met vlerke versier. Daniël sê:
“Die eerste was soos ‘n leeu, en hy het vlerke van ‘n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ‘n mens op twee voete neergesit is en daaraan ‘n mensehart gegee is” (Dan. 7:4).
Die verwysing na die leeu wat in ’n mens verander verwys na wat in Daniël 4 met koning Nebukadnésar gebeur. Hy is neergewerp as gevolg van sy trots en die engel het gesê:
“Laat sy hart anders word as dié van ‘n mens en ‘n dierehart aan hom gegee word” (Dan. 4:6).
Gevolglik het Nebukadnésar vir sewe jaar … “plante geëet soos die beeste ... totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls” (Dan. 4:33). Na sewe jaar is sy troon egter herstel. Dan. 4:37 sê:
“Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel”.
‘n Beer Met Drie Ribbes In Die Bek – Die Persiese Ryk
Aan die beer met drie ribbes in die bek is gesê: “Staan op, eet baie vleis”. Hierdie drie ribbes verwys na die drie nasies waaruit die groot Persiese Ryk bestaan, naamlik Medië, Babilon en Persië. Die Persiese Ryk het oorwinning behaal oor Egipte, Klein Asië en selfs Griekeland. Herodotus, die Griekse geskiedkundige, het geskryf dat ‘n leër van twee miljoen man en slawe gebruik is om Griekeland in te val. Daar was in werklikheid seker ongeveer 180 000 vegtende manne.
‘n Luiperd Met Vier Koppe En Vier Vlerke – Die Griekse Ryk
Hierdie beeld beskryf die Griekse Ryk wat die Persiese leërs oorwin het en die Mediterreense vloot geneutraliseer het. Die Grieke is aangevoer deur Alexander die Grote wat met groot spoed soos weerlig in drie oortuigende veldslae die mag van die Persiese weermag verbreek het. Na Alexander se dood is sy familie om die lewe gebring en die koninkryk onder die vier generaals (die vier vlerke en die vier koppe van die luiperd) verdeel.
Die Vier Diere Van Daniël Se Droom (Dan. 7)
1STE DIER –
‘n Leeu met die Arendsvlerke wat verwys na die Babiloniese Ryk
606 vC tot 536 vC
2DE DIER – ‘n Beer met 3 Ribbes in sy bek wat verwys na die Persiese Ryk.
536 vC tot 332 vC
3DE DIER – ‘n Luiperd met 4 koppe en 4 Vlerke wat verwys na die Griekse Ryk
332 vC tot 63 vC
4DE DIER – ‘n Afgryslike, Vreesaanjaende en Baie Sterk dier wat ‘n mengsel is van die ander diere wat verwys na die Romeinse Ryk
63 vC tot die 2de Koms van Jesus Christus
’n Dier met Ystertande en Tien Horings – Die Romeinse Ryk
Daar word meer oor hierdie dier as oor al die ander gesê: “Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier” (Dan. 7:19).
Alhoewel die karakter van die Romeinse Ryk oor die eeue baie verander het, het dit steeds bly voortbestaan. Europese lande kom nou saam onder die vaandel van die EU (Europese Unie) met ‘n gesamentlike militêre mag NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie), ‘n Europese parlement, ‘n president, ‘n polisiemag en ander gesamentlike aktiwiteite, insluitende ‘n Ruimtevaartagentskap. In 1999 het Europa ‘n gesamentlike geldstelsel op die been gebring. Die Euro sal bydra tot politieke eenheid met ‘n algemene buitelandse beleid, ‘n algemene sosiale beleid en ’n algemene sekuriteitstelsel!
Die Schengen-ooreenkoms het vrye toegang en die afskaffing van grenskontroles tussen lidlande voorgestaan. Teen Junie 1997 het agt uit vyftien lande die ooreenkoms geteken. Andere is besig om in hul voetstappe te volg. Sedert die vrylating van Oos-Europese lande (1989) en die val van die Sowjet-Unie (1991), is daar ‘n toename in aanvraag om toegang tot die Europese Unie te verkry.
Die bevolking van die 15 lidlande het in 1996 op 370 miljoen gestaan. Met die byvoeging van tien nuwe lande in Mei 2004, het die getal tot 455 miljoen mense gestyg.
Grootskaalse pogings is aangewend om Rusland se vrese vir die vorming van ‘n supermag aan sy westelike grens te keer en sekerheidsooreenkomste is in Mei en Julie 1997 tussen Rusland/NAVO en Oekraïne/NAVO onderteken. Hierdie ooreenkomste laat Oos-Europese lande toe om by NAVO in te skakel. Gedurende die Kosovo krisis is Hongarye, Roemenië en Poland vinnig tot NAVO toegelaat sodat Rusland nie voorrade en manne kon stuur om Serbië te ondersteun nie. Rusland is toestemming geweier om oor hierdie lande te vlieg.
Die verdediging van Europa word tans deur NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) gedryf. Hierdie taak om die verspreiding van internasionale kommunisme te bekamp en verhoed is oorspronklik deur die VSA gedurende die Koue Oorlog behartig. Alhoewel die Sowjet-Unie uitgeskakel is, het die Europese Unie Islamitiese fundamentalisme as ‘n eksterne sekuriteitsbedreiging geïdentifiseer. Rusland se pogings om die ou Sowjet-Unie onder die banier van die “CIS” (Commonwealth of Independent States) te laat herleef en hul handels- en militêre ooreenkomste met die Moslem wêreld, veral Iran en Libië, is belangwekkend. ‘n Russiese handelsroete deur Iran, vanaf die Kaspiese See na die Indiese Oseaan, is in 2002 amptelik geopen. Hierdie roete verminder die reistyd tussen Indië en die Verre-Ooste met dertien dae.
Die Romeinse ryk sal uit 10 afdelings bestaan en word deur die tien tone van Nebukadnésar se droombeeld en die tien horings van Daniël se droombeeld verteenwoordig. Die “klein horing,” die Antichris, sal vanuit hierdie 10 horings spruit (Openbaring 13 en 17). Dit is ook hy wat die herleefde Romeinse Ryk in die tyd van Christus se tweede koms sal lei. Hierna sal Christus Sy ewige Koninkryk oprig.
Sewende-Dag-Adventiste voer aan dat die Romeinse Ryk gedurende 476 n.C. in tien koninkryke verdeel het. Die geskiedenis ondersteun egter nie hierdie siening nie. Die Bybel sê: “maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie” (Dan. 2:44).
Preterisme beweer dat die “tien horings” en die “klein horing” na die Romeinse heersers van Pompejus (64 v.C.) en die Keiser Vespasian (70 n.C.) verwys. Preterisme glo ook dat Christus alreeds “geestelik” teruggekeer het in die jaar 70 n.C. Vervolgens beweer hulle ook dat die “tien horings” die tien Romeinse provinsies verteenwoordig, maar ignoreer die feit dat daar 54 Romeinse provinsies was. Wanneer Christus terugkeer volgens Openbaring 1:7 sal “elke oog Hom sien” - dit het sekerlik nie letterlik so in 70 n.C .gebeur nie.
Die Vrou op die Dier (Openbaring 17)
Volgens Openbaring 17 sal die vierde dier tot mag kom onder die leiding van ‘n “hoervrou”. In Openbaring 13 en 19 leer ons ook dat ‘n “valse profeet”, wat wonders doen, die Antichris sal bystaan.
Die “hoervrou” kan geïdentifiseer word volgens leidrade in die Bybel.
1) Sy is ‘n internasionale en politiese figuur. Sy is betrokke by “die konings van die aarde” en sy sit op “baie waters” – dit verwys na verskillende volke, menigtes, nasies en tale (Openb. 17:1,2,15).
2) Sy is godsdienstig en betrokke by afgodsdiens. Sy is “VERBORGENHEID, DIE GROOT BABILON, DIE MOEDER VAN DIE HOERE EN VAN DIE GRUWELS VAN DIE AARDE” (Openb. 17:5). In Johannes se tyd was die “geheime godsdienste” van Rome reeds welbekend.
3) Sy hou ‘n goue beker in haar hand, “vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery” (Openb. 17:4).
4) Sy is buitengewoon ryk. “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels” (Openb. 17:4).
5) Sy vervolg Christene en is “dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Openb. 17:6).
6) Sy sit op sewe berge en is “die groot Stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Openb. 17:9, 18).
7) Sy identifiseer met die dier – die Romeinse Ryk en sy finale heerser. Sy beskik oor groot invloed en beheer (Openb. 17:3, 11).
Die leidrade dui ongetwyfeld daarop dat die “hoer” afvallige Christendom, gelei deur die Kerk van Rome, voorstel. Die Kerk van Rome is internasionaal en polities. Dit is ‘n godsdienstige en stelsel van afgodery. Mense word “dronk gemaak met die wyn van haar hoerery” en bedwelm deur bygelowige materiële dinge soos medaljes, kruise en rooskranse. Die goue beker van die “Mis” word onderhou as ‘n voortdurende offer - ‘n godslasterlike handeling. Rome staan bekend as die “stad van sewe berge” en het oor die konings van die aarde regeer toe Johannes die boek van Openbaring in 96 n.C. geskryf het!
In die dae van Keiserlike Rome het die Keisers aan die hoof gestaan van die geheime godsdienstige afgode stelsel. Hulle het aanspraak gemaak op godheid en offers van hul lede vereis. Duisende Christene het eerder gesterf as om hulle aan die Keiser te onderwerp. Gedurende die 1006 jaar van die “Heilige Romeinse Ryk” het die Pousdom keisers aangestel. Die eerste hiervan was Keiser Karel, die koning van Duitsland. Hy het die sekulêre staatsmag manipuleer om ware Christene en Jode te vernietig. Vandag, met die herlewing van die ou Romeinse Ryk, sien ons dat dit deur die Rooms Katolieke Kerk gelei word.
Dit is ’n historiese feit dat die Vatikaan saam met Hitler gewerk het en om na die Tweede Wêreldoorlog ‘n ontsnappingsroete vir Nazi oorlogsoortreders te voorsien. Die Vatikaanse Bank is gebruik om Nazi goud te stoor en Europa het bekend gestaan as “Die Kasteel van Christendom”.
In die laaste dae sal Christenskap deur ‘n vermenging van liberale, charismatiese en humanistiese godsdiens gekenmerk word. Die Woord van God as anker sal verwerp word. Die outoriteit van die geïnspireerde Woord van God sal vervang word met menslike redenasies, sosiale programme, ervaringsgedrewe godsdiens en kerklike dogma.
Volgens die “New Europe 24/05/97” het die Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel gesê dat die primêre taak van alle kerke is om eenheid in Europa te onderhou en te beskerm. Samewerking tussen Ortodokse en Katolieke kerke word ook al hoe meer sigbaar.
Wanneer sal die Antichris geopenbaar word?
Die 10 horings van die vierde dier verwys na 10 konings wat “mag ontvang…een uur lank saam met die dier” (Openb. 17:12). Die Herleefde Romeinse Ryk sal dus in 10 dele verdeel word.
Vyf en twintig nasies behoort sedert 2005 aan die Europese Unie en meer sal toegelaat word as daar aan die intreevoorwaardes voldoen word. As die Schengen-ooreenkoms ten volle geïmplementeer is en interne grense van min waarde is, sal daar eindelik ‘n verdeling van tien state plaasvind.
Volgens Daniël 9:27 sal die Antichris se koninkryk vir sewe jaar duur. Aanvanklik sal hy as ‘n man van vrede voorkom en ‘n sewe jaar verbond met Israel sluit. Hy sal ook toelaat dat die Jode die Tempel herbou (Openb. 11:1, 2). Na die eerste drie en ‘n half jaar van die Groot Verdrukking sal hy die verbond van vrede met Israel verbreek en homself as god in die Tempel voorneem en vestig (2 Thess. 2:4). Daarna sal hy poog om gedurende die laaste drie en ‘n half jaar Israel uit die weg te ruim (Eseg. 39:22).
Die Antichris sal nie kompetisie verdra nie, selfs nie van ‘n afvallige Christendom nie, en die tien konings sal hierdie valse kerkstelsel, die hoervrou, met vuur verbrand (Openb. 17:16, 17). Die hoervrou kan dus nie die Antichris wees soos die Sewende-Dag-Adventiste beweer nie.
Die Antichris nie sal verskyn VOOR die wegraping van die Kerk nie:
“...want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (Antichris), die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is” (2 Thess. 2:3-4).
Die “afval” kan letterlik vertaal word vanaf Grieks as “die vertrek”; en in die konteks verwys dit na die vertrek (wegraping) van die Kerk. Paulus herhaal die verklaring:
“En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy (Antichris) op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtigheid geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:6-8).
Die Antichris sal nie verskyn voor die Kerk weggeraap of weggevoer word nie, maar afvallige Christendom sal nie die Groot Verdrukking ontvlug nie (Openb. 17:16-17).
Die Oordeel Van Die Antichris
Met Christus se tweede koms sal die dier (die Antichris) vernietig word:
“En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, ... Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Openb. 19:20). Paulus skryf: “En dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak”
(2 Thess. 2:8).
Daniël verwys na die Antichris as die finale heerser van die Romeinse Ryk:
“Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig” (Dan. 7:26). In Daniël 11:45 lees ons ook: “En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see (die Mediterreense See) en die berg van die heilige Prag, maar hy sal aan sy einde kom, en DAAR SAL VIR HOM GEEN HELPER WEES NIE”.
Die Tempel in Jerusalem sal nie meer deur die man van sonde beset word nie. Israel sal hulle bekeer en die Messias verwelkom, “en hulle sal opsien na My (Christus) vir wie hulle deurboor het (op Golgota)” (Sag. 12:10). Die Tye van die Heidennassies sal dan tot ‘n einde kom en Jesus Christus sal Sy ewige heerskappy opneem.
Babel en Rome
Vele mense bespiegel of Babilon in die laaste dae herbou gaan word, maar die Woord van God bewys die teendeel (Jer. 50:39).
Verborge Babilon word egter met Rome geïdentifiseer en as ‘n “hoervrou” beskryf (Openbaring 17 en 18). Sy is bestem om aan die einde van die Groot Verdrukking verbrand te word en verteenwoordig die afvallige Christendom wat deur die Kerk van Rome gelei word. Die feit dat sy op die dier se rug ry, dui op ‘n intieme verhouding tussen haar en die opkomende of herleefde Romeinse Ryk.
Die opkomende Romeinse Ryk sal egter aan die einde van die Groot Verdrukking teen haar draai (Openb. 17:16-17; 18:1-24). Die simboliek van ‘n vrou op ‘n dier is tans ‘n algemeen aanvaarde beeld vir die EU en die nuwe parlement wat in Strasburg gebou word, is soos die Toring van Babel ontwerp.
Skilderye van die Toring van Babel het as inpirasie vir die ontwerpers van die Parlementsgebou gedien. Tekeninge (regs) van Mathieu Merian (1593 – 1650), Peter Bruegal (1525 – 1569) en Abel Grimmer (1604) is geraadpleeg.
‘n Slagspreuk van die EU “baie tale – een stem” dui op die EU se onbeskaamde identifikasie met antieke Babel – ‘n tydperk waartydens die lewende God se opdrag om te versprei verwerp is.
Die EU het twee parlementshuise - in Brussels en en Strasburg. Die nuwe gebou in Strasburg, geleë aan die Franse kant van Duitsland se grens, is in 1999 geopen en spog met 1 133 kantore en ‘n waarde van $400 miljoen (ongeveer R2,880 miljoen).
Talle voorbeelde van die vrou wat op die dier ry kan gevind word en dien as ‘n simbool van ‘n nuwe Europese wêreldmag.
Die Bybel dui daarop dat die Heidense wêreldmag met Babilon begin het en met die vierde wêreldryk, Verborge Babilon, sal eindig.
Daar sal nie ‘n vyfde koninkryk wees voordat Christus kom om te regeer nie!
Die 12 sterre op die vlag van die Europese Unie (EU) en die vrou verwys na Verborge Babilon – afvallige Christendom (Openb. 17).
Die prente van die vrou wat op ‘n dier ry het in “Time Magazine” se artikel oor die EU in Desember 1991 verskyn.
Onder: “Penguin Books” het dieselfde simbool op die omslag van hul boek Companion to the European Union gebruik.
Waarom ’n Vrou Wat Op ’n Dier Ry?
Die Bybel sê in Openbaring 17: “ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier”. Hierdie beelde verwys na die afvallige Christendom en herleefde Romeinse Ryk gedurende die Groot Verdrukking. Die EU het die simbool vir hulself aangeneem, maar hoekom? Die antwoord kan gevind word in Griekse mitologie. \
Een van hierdie verhale uit die mitologie lui soos volg: Zeus het Europa, die dogter van die koning van Tirus, raakgesien terwyl sy besig was om blomme te pluk. Hy was so oorweldig deur haar skoonheid dat hy homself in ‘n pragtige wit bul verander het om haar te verlei. Nadat hy haar oortuig het om op sy rug te sit, het hy met haar na die eiland van Kreta geswem. Met hul aankoms het hy sy ware identiteit bekend gemaak en Europa as vrou geneem; en haar as die koningin van Kreta gekroon. Europa het na bewering drie seuns vir Zeus in die lewe gebring: Minos, Sarpedon en Rhadamanthos. Die mite verklaar ook dat haar broers gestuur is om haar te vind, maar nooit teruggekeer het nie.
Een van die prente van ‘n vrou wat op ‘n houtdier ry sinspeel op die geskiedenis toe, in ongeveer 1 200 v.C., gedurende die Trojaanse oorlog, die Grieke die “houtperd van Troje” gebou het om toegang tot die stad te verkry. Zeus het na bewering aan die kant van die Grieke geveg en sedertdien sien ons die skets in die “Time Magazine” wat ‘n vrou op ‘n houtdier uitbeeld. Hierdie simbool is dus reeds vroeg in heidense religie te vinde.
Die simbool van ‘n vrou wat op ‘n houtdier ry, was dus goed in die heidense godsdienstige gedagtes gevestig. Die Bybel, die geopenbaarde Woord van God, gebruik hierdie simbole om die mees godslasterlike van alle godsdienste, die afvallige Christendom, as ‘n hoervrou wat op ‘n dier ry, te beskryf.
Verborge Babilon die Grote, is die “verborgenheid van die ongeregtigheid” wat reeds aan die werk is om die Antichris op die troon van die herleefde Romeinse Ryk en die hele wêreld te plaas (2 Thess. 2:6-7) net soos die Bybel ons leer.
Onder: Die beeld van die Maagd van Quito, met die twaalf sterre van Maria op haar kop, staan meer as 200 voet hoog in die stad Quito (Ecuador).