“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie,WAT DIE WOORD VAN DIE WAARHEID REG SNY”
Inleiding
Die Bybel moet in elke sin van die woord, letterlik vertolk word. Vanaf Genesis hoofstuk 1 tot Openbaring hoofstuk 22, moet dit as die Woorde van God gesien word, onfeilbaar deur die Heilige Gees geïnspireer en bewaar. God het gesê wat Hy bedoel het, en bedoel wat Hy gesê het.
Om God se profetiese Woord te verstaan, is dit nodig om –
i) Gesonde beginsels van Bybelverklaring of interpretasie te gebruik.
ii) Te onderskei tussen die Jode, die nie-Jode (Heidene) en die Kerk van die Here Jesus Christus (Gelowiges) as die Bybelse groeperings van alle mense.
iii) Te erken dat daar sewe bedelings van tyd is.
Daar is geen mites en legendes in die Bybel nie. Dit is histories en feitelik. Die karakters in die Bybel was werklike mense wat oor die verhoog van die tyd beweeg, en die plekke was werklike plekke. Wonderwerke was nie die norm nie maar die uitsondering; en het deur Goddelike ingryping in die doen en late van die mens gebeur. Dit gaan menslike verduideliking te bowe en moet in ’n feitelike sin aanvaar word.
Net so moet professie in sy letterlike sin vertolk word. Waar simboliek in die Woord van God gebruik word, moet dit in die konteks waarin dit geskryf is verstaan word en soos wat Skrif met Skrif vergelyk word onder die Heilige Gees se leiding sal die betekenis meer duidelik word.
Israel, as volk van God, die nasies, en die Kerk moet nie met mekaar verwar word nie. Wat aan Israel as ’n nasie belowe is deur God, sal letterlik vervul word en kan nie op die Gemeente toegepas word nie. Om na te laat om tussen die Jood, die Heiden en die Kerk te onderskei, sal net tot verwarring lei.
Ten slotte. God se administrasie kan duidelik in sewe afsonderlike bedelings van tyd gesien word, waar elke bedeling begin met ’n nuwe geleentheid en in volslae mislukking en verdiende oordeel eindig. Ons leef in die laaste dae van die sesde bedeling en sien dat die wêreld wat voor die deur staan om die oordele van Groot Verdrukkings te ontvang.
Sodra die laaste bedeling aan die einde van Christus se Duisend Jaar Vrederyk voltooi word, sal daar, volgens Bybelse profesie, geen tyd meer wees nie en sal die geredde gelowiges van alle tye die ewige seëninge van die nuwe hemel en nuwe aarde ingaan, "wanneer alles aan Hom onderwerp is . . . sodat God alles in almal kan wees" (1 Kor. 15:28)
Grondbeginsels van Bybel Interpretasie.
Die belangrikheid van die gebruik van gesonde beginsels van Bybel interpretasie kan nooit oorbeklemtoon word nie. Die Bybel is nie ’n verrassingspakkie waaruit alleenstaande verse geneem kan word en uit konteks vertolk word nie. Petrus vertel ons "dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie" (2 Pet. 1:20). Elke Skrif moet in sy historiese en tekstuele konteks geplaas en verstaan word. Dit moet met ander Skrifte, wat oor dieselfde onderwerp handel, ooreenstem. Die gedeelte kan nie in isolasie betekenis hê nie, want God het elke waarheid van Sy Woord met ‘n menigte getuienisse bevestig.
Die Bybel is die oudste boek in die wêreld; dit is nou meer as 3 500 jaar sedert Moses die eerste vyf boeke geskryf het; Moses het selfs nog ouer opnames ingesluit, soos bv. die "Boek van die Stamboom van Adam" (Gen. 5:1). Om in staat te wees om ’n betroubare, deurlopende stamlys vanaf Adam tot Christus wat oor 4 000 jaar strek te vind is geen geringe taak nie. Daarom is daar geen gelyke in die rekords van die antieke geskiedenis nie.
Om hierdie besonderse verskynsel te verklaar kan net in die Goddelike oorsprong daarvan gevind word, want die Bybel maak daarop aanspraak dat dit God se Woorde is en deur Goddelike inspirasie weergegee; soos heilige manne van God deur die Heilige Gees daartoe gelei is. Om hierdie rede kan die Bybel met reg daarop aanspraak maak dat dit die woorde van die Heilige Gees is (Han 1:16; Han 28: 25) deur die monde van die profete gebruik. Gevolglik is die Bybel onfeilbaar, foutloos en volledig.
Bewyse vir die foutloosheid van die Bybel is talryk, maar nêrens kan sy ongelooflike Goddellike oorsprong beter gedemonstreer word as in sy profetiese uitsprake nie. Voorkennis is ’n unieke eienskap van God, wat sê,
"Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen"(Jes. 46:9-10)
Baie professieë van die Bybel is reeds op besondere wyse vervul. Ten minste 33 professieë is op net die een dag, toe Christus gesterf het, vervul! Die magtige ryke van Egipte, Assirië, Babilon, Persië en Griekeland het almal opgestaan en geval net soos die Bybel dit, baie jare voor dit gebeur het, voorspel het! Die feit dat so baie profesieë reeds vervul is, lei ons om te glo dat daardie wat nog in die toekoms lê, net so seker vervul sal word.
Die Jode, die Heidene, en die Kerk
God se handelinge met die mensdom in die Bybel, kan in drie verskillende groeperinge van die menslike ras gesien word. Die Apostel Paulus stel dit duidelik. "Wees geen oorsaak van struikeling vir JODE of GRIEKE of vir die GEMEENTE VAN GOD nie." (I Kor.10:32).
As ons, vir watter rede ookal, versuim om hierdie groeperinge van die mensdom afsonderlik uit te beeld maak dit die akkurate interpretasie van profetiese Skrifte onmoontlik. Sedert die dae van Abraham was daar JODE en HEIDENE (nie-Jode), maar sedert die dag van die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge tot vandag toe het God ’n derde groepering by gebring; dit is die GEMEENTE die KERK.
Spesiale aandag sal gegee word aan God se program vir die Jood; Deel 2 "Die 70 Weke van Jerusalem en Israel," en aan die Heidene; Deel 3 – "Die Tye van die Heidene." Die gemeente sal aandag kry in Deel 6 – "Die Openbaring van Jesus Christus" waar die Gemeente se geskiedenis beskryf word in die briewe aan die sewe Gemeentes in Asië. Hierdie studie van die sewe bedelings gee ’n oorsig van al drie groepe, en die volgende diagramme toon hul plekke in die geskiedenis.
Die Sewe Dispensasies van Tyd
Daar is sewe duidelik gedefinieerde tydperke in die geskiedenis vanaf Adam tot die einde van tyd, en hierdie staan bekend as die ‚SEWE BEDELINGS‛. ‘n ‚Bedeling‛ kan as ‚ ’n eeu/era‛, of ‘n tydperk, waarin God werk met of deur ‘n spesifieke persoon of mense (volk) tot seën van die mensdom.‛ In die Ou Testament word sulke periodes dikwels as "geslagte" beskryf (Ps. 100 : 5), en in die Nuwe Testament as "eeue" of "die wêreld" (Heb. 9: 26; Gal. 1: 4).
Ons moet besef dat God se administrasie van die menslike ras telkens verander het oor sy 6 000 jare van geskiedenis. Daar was, en daar sal nog verskillende bedelings van tyd wees. In die Senbrief aan die Efesiërs lees ons van "die eeue kom", "ander tye" en "alle geslagte" (Ef. 2:7; 3:5, 21). Die Sendbrief aan die Kolossense praat van "eeue en geslagte" (Kol 1:26). Die dissipels het Jesus gevra, "wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?" (letterlik "eeu/era") (Mat. 24:3)
Die geskiedenis van die wêreld is die verhaal van die mens. Die Bybel gee ons ’n wonderlike wye uitkyk op die geskiedenis soos gesien vanuit God se perspektief. Geskiedenis word beklemtoon met tye van Goddelike ingryping sodra die mensdom onder spesifieke oordele gekom het. Na elke oordeel het God Sy administrasie oor menslike aangeleenthede aangepas. Maar onder elke tipe van hierdie administrasies het die mens geheel en al gefaal. Om die Woord van Waarheid korrek te ontleed is dit nodig om die verskillende wyses waarop God Sy Waarheid geadministreer het te herken in Sy openbaring aan die mens.
Die sewe bedelings van tyd is as volg:
1) Die Tydperk van Onskuld – Adam en Eva in die Tuin van Eden.
2) Die Tydperk van Gewete – Vanaf Eden tot Noag se Vloed.
3) Die Tyd van Menslike Regering – Vanaf die Vloed tot die Toring van Babel.
4) Die Tydperk van Belofte (Verbonde) – Vanaf Abram tot Eksodus.
5) Die Tydperk van die Wet – Vanaf Eksodus tot Christus.
6) Die Gemeente Tydperk – Vanaf Die Uitstorting van die Heilige Gees tot die Wegraping.
7) Die Vrederyk Tydperk – Vanaf Christus se Tweede Koms tot die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde.
1ste Dispensasie – Die Tydperk van Onskuld. Genesis 1 tot 3.
Toe God Adam en Eva geskape het, het Hy hulle in die Tuin van Eden gevestig. God het daagliks in ’n ononderbroke gemeenskap met Adam en Eva gewandel en gepraat.
Ons word baie min vertel van die lewe in die Tuin van Eden, maar dit is duidelik dat gemeenskap met God ononderbroke, en die hele skepping , ie. flora en fauna, was in harmonie met sy Skepper. Siekte en dood was onbekend, en die mens was heerskappy gegee "oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip" (Gen. 1:28). Daar was volle voorsiening gemaak vir die mens en die diere. God het aan Adam gesê, "Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees" (Gen. 1:29). Adam het nie net gestaan en niks gedoen nie. God het ’n tuin geplant en Adam "gestel om dit te bewerk en te bewaak" (Gen. 2:15). Adam was die eerste tuinier, en hy het van elke vrug wat in die tuin gegroei het geniet, met een uitsondering – die boom van "kennis van goed en kwaad".
Deur Satan se misleiding het Eva, en toe Adam, die Goddelike opdrag verontagsaam en van die boom van kennis van goed en kwaad geeët. Op daardie oomblik het sonde in die mensdom gekom en die verhouding met God was verbreek. Die mens het skuld ervaar en het bewus geword van goed en kwaad. Verder het die hele skepping onder die vloek van sonde gekom "om jou (Adam se) ontwil" (Gen. 3:17). Die aarde het "dorings en distels" voortgebring en Adam en Eva was uit die tuin verdryf, maar nie voordat God diere geslag het om "rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek." (Gen. 3:21)
Gérubs en ‘n vlammende swaard het die weg na die boom van lewe bewaak. Die rokke van vel het noodwendig die dood van diere beteken en kon die oordeel van sonde afweer. Adam se sondige natuur is oorgedra aan alle mense, "Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word" (Rom. 5:19). Jesus Christus het "Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis" sodat ons geklee kan wees, nie in rokke van velle nie, maar in die geregtigheid van die Lam van God! So begin die Tydperk van Onskuld met seëninge, eindig in oordeel, en toon die genade van God in die voorsiening van ’n versoening (‘n bedekking) vir sonde.
2de Dispensasie – Die Tydperk van Gewete Genesis 4 tot 8
Buite die Tuin van Eden is voorsorg getref om die gemeenskap met God te herstel, maar dit het die dood van ’n plaasvervanger behels. Die vereiste was ‘n lam, en kort daarna lees ons van Kain en Abel wat offerhandes na God bring. Kain het onwrikbaar geweier om die bloed van ’n lam te stort en is sodoende deur God verwerp. Nadat hy geweier het om die bloed van ‘n lam as sonde-offer te stort (Gen. 4:7), het hy sy broer doodgeslaan, en daarna het geweld hierdie Tydperk van Gewete gekenmerk, "Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld" (Gen. 6:11). Die beskawing voor dieVloed was meer gekultiveerd en vernuftig in die vervaardiging van musiekinstrumente en gereedskap van yster, bons en goud. Ons lees van die seuns van Lameg in die lyn van Kain, dat sy seun Jubal "was die vader van almal wat op siters en fluite speel" (Gen. 4:21) en Jubal se broer Tubal-Kain, " ‘n smid wat allerhande koper— en ysterinstrumente gemaak het" (Gen. 4:22). Sulke vaardighed dui op ’n gevorderde kulturele en nywerheidsgemeenskap.
In 1922 het Sir Leonard Woolley ’n argeologie ekspedisie vir die Britse Museum gelei by Ur, waar Abraham gebly het. Hy het onder ‘n 8-voet laag klei ’n goue helm, of pruik van die keurigste ontwerp gevind saam met bae ander kunswerke en werktuie. Hierdie items uit antieke grafte word vroër as die Vloed gedateer en getuig van die merkwaardige vaardigheid van die beskawing voor die sondvloed.
Sir Leonard het opgemerk: "In geen enkele graf was daar enige beeld van ’n god, of enige simbool of ornament wat ’n mens sou opval as van ’n godsdienstige aard nie."
Die pre-sonvloed se beskawing was blykbaar materialisties en sensueel, en dit is konsekwent met alles wat die Skrif daaroor sê. Jesus het van die dae voor die sondvloed gesê "toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie" (Mat. 24:38-39). Genesis hoofstuk 6 skilder die meedoënlose prentjie as volg "Toe die mense op die aarde begin vermeerder . . . en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het . . . en al die versinsels wat hy in sy (die mens se) hart bedink, altyddeur net sleg was. . . Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld" (Gen. 6:1-2, 5,11). Temidde van sulke boosheid was daar een man, Noag, wat "genade gevind het in die oë van God" (Gen. 6:8), en toe die wêrdwye sondvloed die aarde bedek, is hy, en die wat saam met hom die ark ingegaan het, gered van die toorn van God. So wys die tweede bedeling dat die kennis van reg en verkeerd nie kan red nie, en eindig in Goddelike oordeel. Slegs deur die genade (onverdiende guns) van God, deur geloof, kan ’n mens gered word.
3de Bedeling – Die Tydperk van Regering Genesis 4 tot 11.
Voor die Sondvloed is daar geen melding van konings en koninkryke nie. Die Bybel praat eenvoudig van "geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam" (Gen. 6:4). Maar ná die sondvloed het ons die eerste melding van ’n koninkryk. Nimrod, die seun van Kus, word beskryf as " ‘n geweldenaar op aarde‛ en’n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE" (Gen. 10: 8,11).
Ons word ook vertel, "En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear" (Gen. 10:10). En ook was daar ‘n ander man met die naam Assur: "Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag en Resen, tussen Ninevé en Kalag—dit is die groot stad." (Gen. 10:11-12) [Gen 10:11 Out of that land went forth Asshur, and built Nineveh, and the city Rehoboth, and Calah, (KJV). Sien ook Keil & Delitszch Komentaar van die Ou Testament.]
Studente van antieke geskiedenis is vertroud met die name in die 10de hoofstuk van Genesis omdat sekulêre geskiedenis aanvaar dat die vroegste spore van beskawing te vinde is in die "vrugbare halfmaan" wat gestrek het van die Persiese Golf op met die Eufraatvallei en dan suid al langs die kus van Israel (Kanaan) tot in Egipte. Daar word na hierdie gebied verwys as die "wieg van die beskawing". Ons weet dat die ou Akkadiese en Sumeriese koninkryke gebloei het in die land van Sínear, tussen die twee riviere Eufraat en Tigris, en dat die Egiptiese Faraos oor die Nyl geheers het. As ons onthou dat Noag se Ark op die berge van Ararat geland het waar die Eufraat en Tigrisriviere hul oorsprong het kan ons verwag dat party van Noag se afstammelinge met die Eufraatvallei sou af beweeg tot die vrugbare vlakte van Sínear, terwyl ander suidwaarts sou beweeg na die waterryke Nyl Delta.
Die feit dat Nimrod die stad Akkad gebou het gee ons ’n verbintenis met die Akkadse koninkryk. Stede soos Babel, Ur, Ereg en Ninevé, asook die land van Sínear verskyn dikwels in handboeke oor ou geskiedenis. Selfs die datum toegeskryf aan die eerste Akkadse koning, Sargon, stem ooreen met Bybelkronologie. Prof. J.H. Breasted sê in sy boek ‚Ancient Times‛ : "Omtrent 2500 v.C. het daar in Akkad ‘n Semitiese hoofman met die naam Sargon op die voorgrond getree. . . die eerste groot Semitiese leier in die geskiedenis" (Bladsy 159). Na die vloed het ’n aantal veranderinge plaasgevind. Eerstens, die mens se heerskappy oor die hele diereryk is herbevestig.
Ons lees "Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde. . . voëls . . . en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee." (Gen. 9:2) Volgende was dat hierdie aan die mens gegee is vir voedsel, maar die eet van bloed was verbode. Ons lees in Gen. 9:4, "Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie." Toe is ook gesag gegee aan die nuwe siviele owerhede om oordeel te vel oor kwaaddoeners. "Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word" (Gen. 9:6). Hierdie opdrag staan in teenstelling met die Goddelike opdrag dat Kain, die eerste moordenaar, nie deur menslike hand doodgemaak mag word nie. God het gesê, "as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word." (Gen. 4:15) Ten slotte het God met Noag ’n verbond gesluit, én sy nageslag na hom, dat Hy nooit weer die aarde met ’n vloed sal verdelg nie. Die reënboog is as teken, of bewys van hierdie verbond gegee. Ongelukkig was die nuwe mag wat aan die mens gegee is erg misbruik, en afgodedienstige praktyke is gebruik om die mense te beheer. Die middelpunt van hierdie afgodery was die Toring van Babel, "‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik‚ met ander woorde, die aanbidding van die son, maan en sterre." Dit was die begin van astrologie, die bygeloof van die "Tekens van die Diereriem (Sodiak)" (Gen. 11:4)
Die Bybel vertel ons dat Tera, die vader van Abram "het ander gode gedien" (Jos. 24:2, 14), Joods tradisie in die Talmoed opgeskryf, stel dat Abram na Sem moes vlug omdat Nimrod sy terregstelling beveel het omdat hy Tera se agode vernietig het. Antieke geskiedenis stel dit ook dat Nimrod uiteindelik doodgemaak is deur Sem weens sy afgodery, en dat sy vrou Semiramis daarna ’n priesterlike stelsel daargestel het. Sy het ’n buite egtelike kind voort gebring en het die aanbidding van ‚die moeder en kind‛ ingestel. Dit is aan ons oorgelewer in die afgodediens van Maria en die baba Jesus! [Oor tyd het die godsdienstige beelde van die Rooms Katolieke kerk die Maria en baba Jesus prominent gemaak, dit is egter bloot beelde van Semiramis en Tamus die buite egtelike seun wat volgens Semiramis ‘n reïnkarnasie van Nimrod was.] Dit is te wagte dat sulke afgodery Goddelike oordeel sou te weeg bring. Die oprigting van die Toring van Babel was bedoel om alle mense te verenig, "sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie!" (Gen. 11:4); toe het God hul taal verwar en "So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi" (Gen. 11:8-9). So is die aarde dan verdeel in die dae van Peleg en is die oprigting van die Toring van Babel gestaak. Die Tydperk van Regering het begin met ‘n verbond en het in ’n warboel geëindig. Die tyd het nou aangebreek dat God deur ’n nuwe kanaal sou werk.
4de Bedeling – Die Tydperk van Belofte. Genesis 12 tot 50
Abram het in Ur van die Galdeërs gebly. Ur was, volgens die geskiedenishandboeke, vir jare die toonaangewende stad op die vlakte van Sínear. Ur is gelee op die Eufraat Rivier en het hawens vir skepe gehad soos die volgende kaart aantoon. Prof. J H Breastead skryf:
"Die periode van die konings van Sumer en Akkad (begin omtrent 2 300 v.C) kan opgesom word as meer as ’n eeu van van voorspoed onder die leiding van Ur, gevolg deur twee eeue van ageruitgang onder die opvolgers van Ur. . . Die mag en praal van hierdie tyd is nooit vergeet nie" (Ancient Times pages 163 & 166).
Ur was daarom dan die koninklike stad, en soos die kaart toon, het dit adelike grafkelders gehad. Baie van die stad Ur is in beslag geneem deur ’n heidense tempel en ons kan daarom verstaan hoe Tera, Abram se vader, in afgodediens betrokke geraak het soos in Josua 24:2 beskryf word. Die Joodse Talmoed kwoteer selfs Joodse tradisie wat sê dat Tera, Nimrod se regterhand man was.
Volgens die Talmud het was Abram ontnugter deur die aanbidding van die son, maan en sterre. Aangesien hy nie die son in die nag kon aanbid nie, of die sterre in die dag nie, het hy geoordeel hulle is vir hom nutteloos as gode. Gevolglik het hy die gode van sy vader, Tera, afgebreek en na Sem, die seun van Noag gevlug vir beskerming.
Die Bybel leer dat Abram se vertrek uit Ur was reaksie op ’n opdrag van die HERE. Die Bybelverslag sê eenvoudig: "En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën . . . en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word" (Gen12:1-3). Die Tyderk van belofte is ook die tydperk van die aartsvaders. Dit begin met Abram en volg die omswerwinge van Abram, Isak, Jakob (Israel), en die 12 stamvaders, die seuns van Jakob, wie se families die 12 stamme van die volk van Israel geword het. Gedurende hierdie tydperk het hulle nie die beloofde land besit nie, soos Heb 11:9-16 aantoon. "In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was" (Heb. 11:13) .
In hierdie tyd het God beloftes (verbonde) aan Abraham gemaak en dit aan Isak bevestig. (Gen. 26 1-5) en Jakob (Gen. 27:28-29; 28:4,13-15; 35:9-12). Hierdie beloftes, bekend as die Abrahamse Verbond wat verklaar dat:
i) God sal Abrahm seën en van hom "‘n groot volk maak" (Gen. 12:1-3; 22:15-18).
ii) Almal wat Abraham en sy saad geseën het sal geseën wees, en almal wat sy saad vervloek het sal vervloek wees. (Gen. 12:3)
iii) God sou aan Abraham en sy saad na hom, al die grond "van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier" gee "as ‘n ewige besitting" (Gen. 13:14 -18; 15:18 -19 ; 17:8).
vi) In Abraham se saad (Jesus Christus), sal alle families op die aarde geseënd wees (Gen 22:18) ‚En aan jou saad, dit is Christus ‚ (Gal. 3:16)
v) Abraham sou die "vader word van baie nasies" (Gen. 17:5). Ongelukkig het die Bedeling van die Belofte in ’n mislukking geeindig. Josef is as slaaf verkoop deur sy broers en in Egipte geland, en 22 jaar later volg die 12 families, om uiteindelik self Faro se slawe te word. Ons moet onhou dat God geweet het wat sou gebeur en het Abraham vooraf ingelig. In Gen 15:13-16 het God aan Abam gesê, "Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank . . . En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie."
‘n Geval van Vervulde Profesie.
Die omswerwinge van die saad van Abraham was 430 jaar, vanaf die dag van Abram se vertrek uit Haran om die land Kanaan in te gaan (Eks. 12:40-41) tot die dag van Israel se ontsnapping onder leierskap van Moses met die Eksodus of Uittog.
Van die 430 jaar was daar 400 jaar van lyding onder die Egiptenare wat die hele Kanaan beheer het. Vir net 30 jaar, terwyl Josef die guns van die Farao gehad het was daar verposing. "Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie", en so het die dwingelandy dan begin (Eks. 1:8). Die finale gedeelte van die profesie toon dat die saad van Abram ‘n vreemdeling sou wees in die land wat nie hulle s’n is nie (Egipte), maar dat hulle in die vierde geslag sou terugkeer na die land van Kanaan (Gen. 15:16). ’n Studie ondersoek van die kronologiese kaart sal aantoon dat Abram se nageslag 215 jaar in die land van Egipte was, en dat die vier geslagte in Egipte was Levi, Kehat Amran en Moses. (Eks. 6:16-20).
Terwyl die Israeliete slawe in Egipte was danksy hul eie dwaasheid, is dit ook so dat hulle nie die land wat aan Abraham gegee is, in besit kon neem nie alvorens 400 van beproewing voltooi was nie "want die ongeregtigheid van die Amoriete (wie se land Kanaan was) is tot nog toe nie vol nie" (Gen. 15:16). Hier sien ons die geduld en lankmoedigheid van God, wat nie kon toelaat dat die Amoriete geoordeel word totdat hulle hule eie oordeel self verseël het omdat hulle hul harte verhard het. Sodra die beker van ongeregtigheid gevul is sou Goddelike gegeregtigheid toelaat dat oordeel uitgevoer word. Dit het God gedoen deur die swaard van Josua; wat ons bring tot by die Tydperk van die Wet.
Soos al die bedelings, het die Tydperk van Belofte begin met die nuwe administrasie en nuwe geleenthede, maar het geëindig in veragtelike mislukking en slawerny. Hoe God ookal verkies om die sake van die wêreld te administreer, sal die mens as gevolg van sonde altyd ’n mislukking wees. Die wonder is dat God aanhou; maar dan: Hy is die “God van alle genade!” (I Pet. 5: 10)
5de Bedeling – Die Tydperk van die Wet. Eksodus 1 tot Handelinge 1
Die periode van Moses tot Christus behels die vyfde Goddelike administrasie waaronder die mensdom geleef het. Dit begin met ’n nuwe openbaring van God en groot vertonings van Sy almag in die land van Egipte. In hul gevangenisskap het Israel na God uitgeroep. Hulle smekinge is verhoor, en Moses is gestuur om hulle van die mag van Farao te verlos. Daar is tien plae op Egipte bedien en uiteindelik het Farao Israel toegelaat om te trek uit Egipte uit. Baie tekens en wonders het plaas gevind. Die kollom van vuur en het dag en nag voor hulle uit beweeg in die wildernis, die Rooisee het geopen sodat die volk droogvoets kon deurgaan, water is in die woestyn voorsien, brood (manna) is daagliks, ses dae per week gestuur en God het Sy teenwoordigheid op die berg Sinai getoon. Die Jordaan rivier het opgehou vloei tydens die vloedseisoen sodat die Israeliete kon deurgaan om in die beloofde land in te gaan. En ten slotte het die mure van Jerigo verkrummel toe die priesters van die HERE die trompette geblaas het.
Aan die begin van die Tydperk van die Wet het God vir Israel die Tien Gebooie, sanitasie-, voedsel- en morele wette gegee, asook ’n nuwe kalender, en ’n tabernakel met offers en offerhandes, wat alles deur die priesters en Leviete geadministreer moes word. Die priesters en Leviete was in werklikheid deur ’n geestelike staatsdiens ondersteun met belasting Die Tydperk van die Wet was ook ‘n tyd toe God vanuit al die volke een volk gekies het waardeur Hy Sy openbaring sou gee. Die Ou Testamentiese Skrifte is gedurende hierdie periode geskryf, en Sy profesiëe ryk tot die einde van tyd.
Die geskiedenis van Israel regdeur die Tydperk van die Wet kan sorgvuldig bestudeur word. Daar kan ons sien hoe Israel oor ’n tydperk van 1 500 jaar deur die wildernis trek, die land van Kanaan verower, regeer word deur rigters, konings en Heidene. Toe die Babiloniërs Jerusalem in 606 v.C. verower het, het die tyd van die Heidenbesetting, bekend as "tye van die nasies" (Luk 21:24) begin. Dit sal afsluit met die Seun van Dawid, Jesus Christus wat weer kom om dan op die troon van Dawid in Jerusalem te sit en Sy eie duisend jaar vrederyk te vestig.
God se keuse van die volk van Israel was die vervulling van Sy beloftes aan Abraham. Dit was die saad van Abraham deur Isak en Jakob, en daarom geregtig al die seëninge op te eis wat in die Abrahamse Verbond verbind is. Geen volk op die aangesig van die aarde het ooit ervaar wat Israel beleef en gesien het nie. Moses maak dit duidelik in Deut 4: 32 – 39 " . . . doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het . . . Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly? Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het. . . ? Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig . . . en jy het sy woorde uit die vuur gehoor."
Die Abrahamse Verbond is God se ooreenkoms met Israel wat Hy altyd sal hou, maar of Israel die seëninge van van die Verbond sal gaan geniet hang af van sy gehoorsaamheid aan God se wet. Hierdie beginsel word duidelik in die Palensteinse Verbond beskryf in Deut 28 tot 30, en God sal nooit Sy verbond verbreek nie (Lev 26:44). Dit kan onder 3 punte opgesom word —
1) As Israel die HERE gehoorsaam het, dan sou God hulle seën ooreenkomstig die beloftes van die Abrahamse Verbond. Deut 28:1 "As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie . . . en al hierdie seëninge sal oor jou kom . . . en die Here sal jou seën In DIE LAND . . . Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig . . . En al die volke van die aarde . . . sal vir jou vrees. En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee . . . IN DIE LAND wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee." (Deut. 28:1-14).
2) As Israel die HERE verontagsaam, sal hulle onder die tugtigende hand van God kom en uit die land verdryf word wat God aan Abraham en sy saad vir ewig belowe het. "Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God nie . . . dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. " (Deut. 28:15)
a) Die HERE sal jou en jou koning wat jy oor jou sal aanstel, na ‘n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie. (Deut. 28:36 )
b) Die HERE sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af . . .’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie (Deut. 28:49) . . . En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte (Deut. 28:52). . . En die HERE sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde (Deut. 28:64) . . . En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie (Deut .28:65 ) (Deut. 28:15-68; 29:1-29).
3) As Israel, nadat hulle verstrooi is, terugkeer na God, dan sal God Sy belofte nakom en aan die volk al die seëninge van die Abrahamse Verbond verleen. "En as al hierdie dinge oor jou kom . . . en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die HERE jou God jou verdryf het, en jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister . . . dan sal die HERE jou God . . . Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke . . . sodat jy kan woon IN DIE LAND wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee" (Deut. 30:1- 20).
Hierdie is die drie elemente van die Palestynse Verbond wat die basis vorm van God se handeling met Israel deur uit die Tydperk van die Wet. In eenvoudige terme is dit:
1) Gehoorsaamheid, en hulle sal geseënd wees IN DIE LAND.
2) Ongehoorsaamheid, en hulle sal UIT DIE LAND verdryf word.
3) Berou, en God sal hulle TERUGBRING NA DIE LAND.
Dit is interessant om te merk dat twee verstrooings van Israel beskryf word. Die eerste sou wees toe hulle ’n koning gehad het. Dit het toe gebeur toe Die Babiloniërs Jojagin gevange geneem het na Babilonië in 597 v.C. Die tweede verstrooing sou wees na ’n verskriklike inname van Jerusalem en sou die Jode verstrooi onder al die nasies, van die een kant van die aarde tot die ander. Dit het ongetwyfeld in 70 n.C aan die hand van die Romeine gebeur, en vir bykans 2 000 jaar is die Jode verstrooi oor die aarbol in elke nasie presies soos dit in Deut 28 & 29 beskryf is! Maar, ander Skrifte dui aan dat na die Wegraping van die Gemeente sal Israel terugkeer na die land en weereens God se getuies op aarde wees. Die Tydperk van die Wet het begin met ’n wonderlike bevryding uit Egipte uit maar het geindig met die volk so ver van God dat hulle Jesus Christus, die Messias, verwerp het en Hom aan ’n Romeinse kruis laat kruisig het. In 2004 was daar 5,3 milljoen Jode terug in die land, maar nog steeds blind oor wie hul Messias is. Toe die Jode hul Koning gekruisig het was die volk eenkant geplaas en het God ’n nuwe administrasie gekies, ’n nuwe kanaal om Sy Waarheid aan die wêreld – deur die Gemeente te kommunikeer. Ons sal nou ’n studie van die Gemeente Tydperk doen.
6de Bedeling – Die Tydperk van die Gemeente – Handelinge 2 tot Openbaring 4
Die Tydperk van die Gemeente begin in Handelinge 2 met die Uitstorting van die Heilige Gees en sal voleindig word met die Wegraping van die Gemeente. In hierdie tydperk sal almal wat deur geloof in Jesus Christus hulle van hul sonde bekeer en vertrou in Sy verlossende bloed vir vryskelding, oombliklik wedergebore en deur die Gees in die Liggaam van Christus geplaas word en die Gees se inwoning ontvang. Sodoende word die individuele gelowige ‘n lid van die Gemeente, die Liggaam van Jesus Christus gemaak waar daar geen onderskeid is tussen mense wat in Christus nie. “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus “ (Gal. 3:28). Net voordat Jesus vanaf die Olyfberg opgevaar het, het die dissipels gevra “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Die Here Jesus het geantwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet nie . . . maar . . . julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde”. (Hand. 1:6-8).
Oënskynlik het die dissipels op hierdie stadium niks van hierdie Gemeente tydperk geweet nie en het ten volle verwag dat die beloofde Koninkryk van die Messias, soos wat die Ou Testamentiese profete geprofeteer het, sou kom. ‘n Tydperk sou egter aanbreek, het Jesus hulle daarop gewys, dat hierdie aardse Koninkryk van Messias uitgestel sou word, en dat ’n nuwe bedeling, ‘n genade tydperk wat Heidene insluit in verlossing, binnekort sou begin.
Dit is nodig dat ons daaraan herinner word dat die Ou Testamentiese profetiese Skrifte niks te sê gehad het oor die Gemeente nie. Alles wat ons van die Gemeente weet is in die Nuwe Testament opgeskrywe en daarom ’n Nuwe Testamentiese openbaring. Paulus vertel ons dat dit ’n “verborgenheid,” is, en dat dit “verborge sedert die skepping” was, “verborge in Christus”, en “wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie” (Ef. 3:1-9; Rom. 16:25).
Tydens die langdurige Tydperk van die Wet was Israel God se getuienis aan die wêreld en die HERE God was die “God van Israel” (Eks. 5:1). As ’n Heiden homself bekeer het, het hy van sy eie nasie se gode weggekeer na die God van Israel en het met die HERE se volk geïdentifiseer deur die Joodse geloof aan te neem (proseliete).
In Romeine 11 word die verhouding tussen Israel en die Gemeente gedurende die Gemeente Tydperk, deur Paulus beskryf. Hy vergelyk Israel met die “natuurlike tak” van die olyfboom, en die Heidene (nie-Jode) met ‘n “wilde olyftak.” Die “natuurlike olyftak” is afgebreek en die “wilde olyftak” is ingeënt. Die Apostel Paulus wys ons daarop in Romeine 11, onder die inspirasie van die Heilige Gees, dat Israel, as gevolg van hulle verwerping van die Messias, tydelik eenkant geplaas is. Dit beteken dat die Heidene nou in die Gemeente die geleentheid gekry het om God se getuienis aan die wêreld te wees. Maar die belofte bly steeds staan, dat wanneer Israel berou kry oor hul verwerping van Christus sal hulle weer ingeënt word.
“God is magtig om hulle weer in te ent” (Rom. 11:23); “dat die verharding ten dele oor Israel gekom het TOTDAT die volheid van die Heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom . . . as Ek hulle (Israel se) sondes wegneem” (Rom. 11:25-27).
Wanneer sal die “volheid van die heidene ingaan?” Die antwoord is ooglopend; met die Wegraping. Wanneer die Heidense bruid van Christus, die gemeente, voltooid is sal die Hemelse Bruidegom haar wegraap of wegvoer (1 Thess. 4:17), en dan sal die 70ste week van Israel se geskiedenis (Dan. 9: 24-27) in aanvang neem. Dit is die tydperk wat as die "tyd van benoudheid vir Jakob” (Jer. 30:7), wat andersins as die “groot verdrukking” (Matt. 24:21, 29) bekend staan.
In die eerste helfte van die sewe jaar lange Groot Verdrukking sal Israel binnegeval word deur ’n leërmag uit die noorde wat deur Rusland gelei sal word. Hierdie noordelike leërmag sal Iran (Persië), Libië, Ethiopië (insluitende Sudan) en Turkye insluit. Israel sal tot bekering kom om in die Here as hulle Verlosser te vertrou asook om Jesus Christus as die Messias te aanvaar. (Eseg. 39:22).
In die begin van die Groot Verdrukking sal die Antichris opstaan en ’n sewe jaar lange verdrag met Israel bekragtig (Dan. 9:27), maar halfpad deur die sewe jaar sal hy sy verdrag verbreek en “die offers sal ophou”, dit is offers wat in die herboude Tempel in Jerusalem weer in aanvang geneem het. Die Antichris sal homself verhef en in die Tempel sit “en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Sien Deel 2. Onmiddellik na die Groot Verdrukking sal Jesus Christus in Sy volle Goddelike mag terugkom om die Antichris en al die leërs van die nasies, wat saamgekom het teen Jerusalem (Matt. 24:29; Openb. 19:11-21; Sag. 14:1-9), te verslaan. Die oorblywende nasies sal lewend in Christus se Vrederyk Koninkryk ingaan. Dan volg die 7de Bedeling, of die Koninkryk Tydperk.
7de Bedeling – Die Duisend Jaar Vrederyk Koninkryk – Openbaring 20
Die sewende bedeling van tyd begin onmiddellik na die Groot Verdrukking met die terugkeer van die Here Jesus Christus as Koning van die konings, en Here van die here. Dit sal vir ’n duisend jaar duur. Ons lees ses keer in Openbaring. 20:1-7 van ’n duisend jaar tydperk waartydens Satan gebind sal wees en nie die nasies kan bedrieg nie. Ons word ook vertel dat die martelare van die Verdrukking wat die merk van die dier geweier het, vir ’n duisend jaar saam met Christus sal regeer.
Matthéüs 25 verklaar dat die geredde lewendige nasies wat die Groot Verdrukking oorleef het, Christus se aardse Vrederyk Koninkryk sal ingaan. Ons lees:
“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; (Matt. 25:31-32).
Aan Sy skape sal Jesus sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 25: 34).
Die geredde mense uit al die nasies, wat die verskrikking en slagting van die Groot Verdrukking oorleef het, sal daarom lewendig in die Vrederyk van onse Here Jesus Christus ingaan; maar die ongeredde mense wat die merk van die dier ontvang het en die Antichris in die Groot Verdrukking aanbid het sal in ewige vuur gewerp word. Jesus sal vir hulle sê: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25: 41)
Die een duisend jaar Vrederyk heerskappy van Christus sal in die puin van die Armageddon slagveld begin, en in Ps. 46:7 -11 (verse 6-10 in Engelse vertalings) word die toneel grafies deur die Psalmdigter beskryf:
“(6) (46:7) Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.
(7) (46:8) Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons. Sela.
(8) (46:9) Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring,
(9) (46:10) wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.
(10) (46:11) Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.”
Ten einde laaste sal die Here Jesus se gebed beantwoord word “Laat U koninkryk kom!” Groot veranderings sal onder die Koning van konings se heerskappy plaasvind waarvan sommige hieronder gelys word.
1) Die Here Jesus Christus sal oor die hele aarde Koning wees; “wat al die nasies met ‘n ystersepter sal regeer” (Sag. 14:9; Openb. 12: 5).
2) Daar sal wêreldwye vrede op aarde wees. “en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse” (Jes. 2: 4).
3) ‘n Nuwe Vrederyk tempel van groot omvang, waar die heerlikheid van God voortdurend die stad sal belig, sal in Jerusalem gebou word (Eseg. 40 - 48; Jes. 60:19– 20).
4) Die nasie van Israel sal die “priesters van die Here wees” om God se wet vanuit Jerusalem toe te pas (Jes. 61: 6; Jes. 2: 1-5).
5) Die Heidennasies sal hulle rykdom (eintlik oorvloed) na Jerusalem bring en help met die heropbou daarvan (Jes. 60: 5-11).
6) Die Heidennasies sal Israel dien, en dié wat weier sal tot niet gaan (Jes. 60: 12-24).
7) Elke jaar sal die Heidennasies, van oor die hele aarde, na Jerusalem “optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:16), “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:17).
8) Die land van Israel sal oorvloedige reën ontvang en “stortreëns van seën sal dit wees. En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land . . .” (Eseg. 34: 26 – 27; Jes. 41:18).
9) Die naam van Jerusalem sal verander word. "en die naam van die stad sal van vandag af wees: Die HERE is daar!” (Eseg. 48: 35).
Terwyl hierdie een duisend jaar Vrederyk heerskappy van Jesus Christus met slegs verloste Jode en Heidene sal begin om die aarde te bewoon, sal hul nageslag, nes Adam voor hulle, sondige nature hê en tensy hulle persoonlik berou het oor hul sonde en hul geloof in die Here Jesus Christus plaas, sal hulle grootword as ongeredde sondaars. Hulle gehoorsaamheid aan Christus sal onder dwang wees en nie uit liefdevolle onderdanigheid nie. Gedurende hierdie tydperk sal Satan gebind wees vir een duidend jaar, dus kan die verharding van hulle harte slegs aan die bedrieglikheid van hul eie sondige harte toegeskryf word (Hebr. 3:13).
Aan die einde van die duisend jaar Vrederyk heerskappy van Jesus Christus sal Satan uit sy tronk vrygelaat word om die opregtheid van die aarde se bewoners te toets. Die gevolg sal wees dat diegene wat nie werklik tot bekering gekom het nie, mislei sal word en saamkom in opstand (rebellie) teen die Here Jesus.
“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei . . . En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad (Jerusalem) omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.” (Openb. 20:7 – 9)
By die afsluiting van die duisend jaar Vrederyk Koninkryk vind die tweede opstanding plaas. Dit is die opstanding van al die ongeredde mense van alle eeue, van Adam tot die einde van tyd. Die eerste opstanding is die opstanding van die wat gered is voor die wegraping, en die tweede opstanding is dié van die ongeredde mense van alle tye. Die Bybel leer ons nie van ’n algemene opstanding nie.
Die tweede opstanding sal al die siele van die ongeredde mense van Hades (hel), in opstandingsliggame, voor die groot Wit Troon bring, om oordeel te ontvang vir dade gedoen in die liggaam. Omdat hulle God se genadige aandrang in hulle lewens verwerp het is hulle ewige lot nooit in twyfel nie, en hulle name is daarom uit die Lam se boek van die lewe gevee. Wanneer die Gemeente weggeraap is (Openb. 4: 3) word die reënboog van genade gesien “rondom die troon”, maar met die tweede opstanding is daar GEEN REËNBOOG NIE!
Die eerste opstanding van die verlostes word geïllustreer met verskeie stadiums van ’n oes:
i) Die eerste vrugte het die Ou Testamentiese heiliges ingesluit wat met Christus opgestaan het toe Hy die Paradys in die hemel ingeneem het nadat Hy uit die dode opgewek is (Matt. 27: 52 – 53). In 1 Kor. 15: 20 – 23 lees ons: “Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het; daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.”
ii) Die hoofoes sal met die Wegraping plaasvind (1 Thess. 4:13–18).
iii) Die naoes sluit die heiliges in wat gesterwe het tydens die bewind van Antichris (Openb. 20:4–6) in die Groot Verdrukking, asook almal wat gered is aan die einde van die Vrederyk Koninkryk.
Ten slotte, na afloop van al hierdie gebeure sal daar ‘n nuwe hemel en nuwe aarde wees “want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie”.
Johannes sien die "nuwe Jerusalem, neerdaal van God uit die hemel, en toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is (Openb. 21:1, 2)
Die Bruid van die Lam, die Gemeente, sal in die nuwe Jerusalem woon (Openb. 21: 9), " En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel” (Openb. 21:24). Tyd sal vir altyd verby wees en ons sal, as die voorwerpe van die verlossende genade van God, aan die strande van ’n ewige dag staan, waar daar geen sonde of enige dood of hartseer meer sal wees nie, en GOD ALLES IN ALMAL IS (1 Kor. 15:28)!