“En die huis van Israel sal weet
dat Ek die HERE hulle God is, van dié dag af en verder” (Eseg. 39:22).
Die Alliansies van Heidennasies Gedurende “Jakob se Benoudheid”
Al die profesieë oor die laaste dae dui op ‘n universele oorlog wat gedurende die komende Groot Verdrukking sal plaasvind. Die Ou Testamentiese profete verwys na hierdie tydperk as die “dag van die Here”. Esegiël, Joël en Daniël maak melding van ‘n groot inval op Israel wat vanuit ‘n noordelike rigting sal kom. Hierdie inval sal deur Gog uitgevoer word. Hierdie hewige vervolging van Israel gedurende die Groot Verdrukking, word deur Jeremia as “’n tyd van benoudheid vir Jakob” beskryf:
“want kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die Here; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem ... Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:3, 7).
Esegiël en Joël gee besonderhede oor die moontlike Russiese aandeel wat hierdie konflik op Israel sal hê. Daar is geleerde mense wat glo dat hierdie inval daartoe kan lei dat God se volk tot bekering kom, en beide hierdie profete doen ‘n sterk beroep op die volk om te bekeer. Joël beskryf die laaste stadium van die “dag van die Here” as ‘n tydperk waartydens ALLE NASIES na Jerusalem sal optrek. Dit beteken dus dat die noordelike inval voor die oorlog van Armageddon sal plaasvind (Joël 3).
Dr. John R Ecob is van die opinie dat: “Die voorkennis van God, die Almagtige, vertel ons wat die gevolg sal wees van ‘n inval van ‘n alliansie van heidennasies by die oorlog van Armageddon. Die Russiese inval sal tot Israel se bekering lei. ‘En die huis van Israel sal weet dat Ek die Here hulle God is, van dié dag af en verder’ (Eseg. 39:22).
Die slag van Armageddon sal Israel red, die Antichris en die nasies oordeel en Christus se Vrederyk Koninkryk sal gevestig word. “Kyk, daar kom ‘n dag vir die Here ... Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd ... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde ... en Jerusalem sal in veiligheid woon” (Sag. 14:1-11).
Die Nasies wat Israel Binneval
Esegiël profeteer oor ‘n hewige inval op Israel en bied besonderhede van die soldate en die onafwendbare gevolge van die inval. ‘n Bondgenootskap van magte sal deur Gog gelei word, “die land van Magog, die prins van Ros, Meseg en Tubal”. Die naam “Ros” in Eseg. 38:2 beteken “vors” (Eseg. 38:2-3). Die naam “Gog” is in alle waarskynlikheid ‘n titel, soos President of Farao, wat aan ‘n individu gegee is. Die lande wat hy (Gog) regeer het, is Magog, Mesag en Tubal.
Josephus, die eerste eeuse Joodse geskiedkundige, skryf:
“…Magogiete is destyds deur die Grieke, Skithiërs, genoem”. (Antiquities, Book I Ch VI).
Skithië, die land van Magog, word geïdentifiseer as die hedendaagse Rusland en Oekraïne.
J.B. Bury se ‘History of Greece’ (Bl. 234) verklaar: “Stamme noord van Donau (Walasië en Moldawië) het algemeen onder Grieke as Skithiërs bekend gestaan.
Philips se ‘World History – People, Dates and Events’ (Bl. 16) verklaar: “Skithiërs, afkomstig van die vlakte land, het die Midde-Ooste in 650 v.C. binne geval”.
Halley se ‘Bible Handbook’ (Bl. 310) haal Rawlinson soos volg aan: “Groot getalle Skithiërs het ongeveer 626 v.C. die ryk vlaktes van die suide oortrek.”
Die ‘World History’ Ensiklopedie beskryf Skithiërs as “’n Groep van Indo-Europese stamme wat ‘n deel van Klein Asië in die sewende eeu v.C. beset het. Hulle is kort voor lank deur die Mediërs verdryf en hulself op die ou einde in die suide van Rusland gevestig...”
Die Skithiërs is die nageslag van Magog. Moskou en Tabolsk het waarskynlik hul name aan Meseg en Tubal te danke. Assiriese inskripsies dui ook daarop dat die heerskappy van Sargon, die koning van Assirië, sover as “Muski” gestrek het. Daar word ook verskeie kere verwys na “Mita, koning van die Moskowiete” (‘New Biblical Guide’ Urquhart Vol II bl. 416).
Dit is van belang dat Gog saam met sekere mensegroepe ook in Esegiël volgens stamname van herkoms geïdentifiseer word:
“Perse, Kusiete en Putéërs, saam met hulle, almal met skild en helm; Gomer en al sy leërs, die huis van Togarma, in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs – baie volke saam met jou” (Eseg. 38:5-7). Sekere mense glo dat Gog ‘n individuele karakter is of dat Gog, so in die bostaande verklaring, ‘n mensegroep is. (Die verskil tussen hierdie twee opinies is nie belangrik vir ‘n goeie begrip van die onderwerp nie.)
Al die nasies van die wêreld spruit voort vanuit die nageslag van Sem, Gam en Jafet (Gen. 10). In breë trekke:
a) Die seuns van Jafet vestig hulself in die noorde en weste.
b) Die seuns van Sem vestig hulself in die ooste (Abraham is ‘n afstammeling van Sem).
c) Die Seuns van Gam vestig hulself in Kanaän, Egipte en Afrika.
Vele van die name wat in Genesis 10 voorkom, verskyn in die antieke historiese rekords van Herodotus (sterf in 242 v.C.), Josephus (eerste eeu n.C.) en so meer. Volgens hierdie antieke historiese bronne is dit duidelik dat Magog, Meseg en Tubal, Gomer, die Huis van Togarma, Skeba en Dedan geleë was soos die kaart hierbo aantoon, en mettertyd verder versprei het.
Gomer word in Genesis 10:2-3 as die eerste seun van Jafet benoem. Hy het drie seuns gehad - Askenas, Rifat en Togárma. Duitse Jode staan as “Asjkenasiese Jode” bekend en Gomer en Togárma het beide aan die “uithoeke van die noorde” gewoon (Eseg. 38:6). Togárma het in Armenië, bekend as Oos-Turkye, gevestig. Gomer en Togárma het die gebied, hedendaagse Turkye, beset en rondom die Swart See versprei.
Persië (Iran) is bo aan die lys van lande wat hulself met Rusland verenig het. Ethiopië, bekend as Kus gedurende Bybelse tye, verteenwoordig die Afrikane suid van die Egiptiese grens (Soedan). Libië verteenwoordig die Noord-Afrika mensegroepe wat ondanks hul algemene Moslemse kultuur verskillende etniese oorspronge vanuit Arabië het. Vandag is hulle Moslemse nasies.
Wanneer sal Israel binnegeval word?
Bybelse profesieë in verband met die inval op Israel is baie duidelik. Volgens die profesieë is daar vier aanduidings oor wanneer dit sal plaasvind:
1. Gedurende die “laaste dae”.
2. Gedurende “die dag van die Here” (die Groot Verdrukking).
3. Nadat Israel teruggekeer het na hul land en ‘n sterk militêre mag opgebou het.
4. As die nasies van Skeba en Dedan hulself met Tarsis en sy jong leeus identifiseer.
(1) Die “Laaste Dae”
Hierdie inval op Israel vanaf die Noorde moet nie met ander invalle verwar word nie. Die Assiriërs het lank voor Esegiël se geboorte reeds op die voorgrond verskyn en die laaste drie Babiloniese invalle het ‘n jaar voor die profesie uitgespreek is, plaasgevind.
Vorige oorloë sluit die Grieke, Romeine, Arabiere, Ottomaanse Turke en Kruistog magte in, maar nie een hiervan stem ooreen met die beskrywing van die gebeurtenis in Esegiël 38 en 39 nie. Die inval wat in Esegiël beskryf word, sal in die “laaste dae” plaasvind. Hy sê: “aan die einde van die jare sal jy ‘n land intrek ... op die berge van Israel ... en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees” (Eseg. 38:8, 16).
(2) Die “Dag van die HERE”
Joël plaas die inval tydens die “Dag van die Here”. Die “Dag van die Here” staan ook bekend as die Groot Verdrukking. Daarna kom Christus om as Koning van die Konings in Sy Vrederyk te regeer. Joël verklaar: “want die dag van die Here kom, … wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die 25eerste geslagte nie” (Joël 2:1-2).
(3) Na Israel se terugkeer
Nadat Israel die Messias verwerp het, het hulle hulself onder die tugtigende hand van God geplaas en derhalwe die oordele van die Palestynse Verbond oor hulself gebring (Deut. 28-30). Die Romeine het Jerusalem in 70 n.C. vernietig en die Joodse volk is regoor die wêreld verstrooi.
Die Jode het vir ongeveer 1 900 jaar geen nasionale tuiste gehad nie. Hulle het hulself egter in 1948 as ‘n nasie verklaar en in die land van hul herkoms hervestig.
Israel het sedert 1948 beide sy bevolking en grense uitgebrei. In 2001 was daar 5,2 miljoen Jode en Israel kan spog met ‘n onverbeterbare verdedigingsmag wat deur ‘n hoë tegnologiese verdedigingsindustrie gelewer is.
Die Skrif sê vir ons dat die Antichris ná die Wegraping vir sewe jaar ‘n verbond “met baie” sal bevestig en Israel is ongetwyfeld deel hiervan. Esegiël sê die volgende in verband met Gog: “Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon ... en teen ‘n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon” (Eseg. 38:11-12). “Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: so spreek die Here HERE: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie?” (Eseg. 38:14)
(4) As die Arabiese Skiereiland hulself met die VSA identifiseer
Die vooruitgang van die moderne industrie gedurende die 20ste eeu is onomwonde gekoppel aan die voorsiening van groot hoeveelhede olie. Duitsland het die Eerste Wêreldoorlog verloor omdat hulle nie beheer oor die olievelde van Baku kon kry nie.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon Duitsland weereens nie daarin slaag om olievoorrade te bekom nie. Nadat haar sintetiese olievelde gebombardeer is, is alles tot ‘n halt geroep. Japan se oorlogsmasjien het ook tot ‘n stilstand gekom toe die VSA se duikbote meeste olietenkskepe gekelder het.
Industriële lande is hoogs afhanklik van olie vir vervoer en bedryfstelsels. Ongeveer 66% van die wêreld se bekendste olie en natuurlike gasbronne is in die Midde-Ooste geleë. Westerse oliemaatskappye het leiding geneem met die ontginning van olie en gas. Dit het gelei tot ‘n sterk verbinding tussen die Weste en die ses Arabiese State in die Persiese Golf. Koeweit, Bahrein, Qatar, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en Oman het elkeen sterk bande met die VSA, insluitende militêre ooreenkomste en waarborge om verdediging teen Irak en Iran te verseker. Operasie “Desert Storm” (1991) is ‘n bewys van die Weste se vasberadenheid om hul olie- en gasbelange in die Persiese Golf te beskerm.
Die Bybel verklaar dat “Skeba en Dedan en die koopmans van Tarsis en al sy jong leeus” die leërs van die heidennasies sal teenstaan wanneer Israel binnegeval word. Hulle sal sê:
“Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om roof te rowe? Om silwer en goud weg te dra, om vee en goed weg te neem, om ‘n groot buit te maak?” (Eseg. 38:13).
Skeba en Dedan, die Arabiese Skiereiland
Die Arabiese skiereiland se bevolking is ongetwyfeld die afstammelinge van Skeba en Dedan (Gen. 10:7; 25:3). Die nageslagte van Abraham, Hagar en Ketura is “na die ooste van die land” gestuur, voor Abraham se dood, sodat daar nie gestry sou word oor die land wat God aan Isak as ‘n ewige erfenis gegee het nie. Die Skrif toon ook aan dat die seuns van Abraham by sy byvroue het suid oor die hele lengte van die Arabiese Skiereiland versprei het. Dit is een van die lyne waaruit die Arabiese mensegroepe kom.
Die Arabiere het ook van Heber se seun Joktan, die broer van Peleg, afgestam. Waarom was dit vir God belangrik om vir ons die name van Joktan se dertien seuns te gee as die goddelike lyn in elk geval deur Peleg na Abram, Isak en Israel sou gaan? Dr. John Ecob is oortuig van die volgende: “dat hulle die Arabiese skiereiland moes beset en sal deur God gebruik word om die nasie van Israel in die laaste dae tot bekering te bring. Hulle was ook deel van die beloftes wat God twee honderd en vyftig jaar later aan Abraham gemaak het.
Ons vergeet soms dat die Verbond met Abraham onvoorwaardelike beloftes insluit, en dat Abraham nie slegs die vader van “’n groot nasie” (Gen. 12:2) is nie, maar ook dat hy “die vader van baie nasies” (Gen. 17:5) sal wees. Die Arabiese mensegroepe is die vervulling van hierdie belofte van God van Abraham."
Abraham het die seuns van Hagar en Ketura “weggestuur van Isak ...na die ooste” (Gen. 25:6) om by hul neefs, die nageslag van Eber en Joktan, aan te sluit.
Volgens ‘Unger’s Bible Dictionary’ het al dertien seuns van Joktan stamhoofde geword en hulself in Arabië gevestig. Háwila was een van hulle en Moses beskryf die landstreek na hom vernoem soos volg: “waar die goud is. En die goud van die land is goed” (Gen. 2:11-12). Hy sê ook: “Daar is balsemgom en onikssteen” (Gen. 2:12).
Die Ofir goudvelde, ook na een van Joktan se seuns vernoem, is in Suid-Arabië geleë en staan tans as Yemen bekend. Salomo en Hiram se knegte het skepe na Ofir se goudvelde gestuur om 450 talente goud vir die tempel te gaan haal (2 Kron. 8:18).
Joktan het ‘n seun en Abraham het ‘n kleinseun met die naam van Skeba gehad. Argeoloë het bevestig dat die koninkryk van Skeba, naamlik die Sabeërs wat Job se osse geneem het (Job 1:15), goed in Arabië gevestig was.
Die Koningin van Skeba, wat deur Jesus as “die koningin van die suide” (Matt. 12:42) beskryf word, het met kamele en ‘n groot gevolg na Jerusalem gegaan om Salomo se rykdom en wysheid te aanskou. Sy het “speserye en goud in menigte en edelgesteentes” saamgeneem (2 Kron. 9:1).
Ons kan met veiligheid sê dat die seuns van Abraham en Hagar oor die afgelope 4 000 jaar met die nageslag van Joktan vermeng het, en die Arabiese volk gevorm het. Jeremia verwys na die “konings van Arabië, en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon” (Jer. 25:24). Die sekulêre geskiedenis van die Arabiere, soos in die eerste eeu opgeteken is deur die geskiedskrywer Josephus en deur Griekse en Romeinse geskiedkundiges, beskryf die oorspronklike inwoners van Arabië soos volg: “hoofsaaklik nomadiese mense wat in tente gewoon het en geweier het om betrokke te raak by landbou of die bou van stede. Daar is dus min rekords van hulle” (’n direkte vertaling).
Die Regabiete (Jeremia 35) is waarskynlik Arabiere weens die feit hulle getrou gebly het aan die bevel wat hulle van hul vader ontvang het:
“Julle mag geen wyn drink, julle en julle kinders tot in ewigheid nie. Ook mag julle geen huis bou of saad saai of wingerd plant of dit besit nie, maar julle moet in tente woon al julle dae, sodat julle baie dae mag lewe in die land waar julle as vreemdelinge vertoef” (Jer. 35:6,7).
Dit lyk asof die Nabateërse koninkryk uit drie tipes Arabiese groepe bestaan het. Hulle was almal handelaars gewees. Die koninkryk van Skeba (suid) het sover as Sjina en Indië met speserye, wierook, mirre, diere, ivoor, pêrels, katoen, gemmer, kaneel, suiker, medisyne, goud en sy handel gedryf (Eseg. 27:20-22). Seevarende Nabateërs was bekend as seerowers en plunderaars.
Woestynbewoners het ingevoerde goedere met kamele noordwaarts na die westerse markte van Tirus geneem waar dit na Griekeland en Rome verskeep is (Eseg. 27:20-22). Die noordelike Nabateërs het hulself in Edom gevestig (586 v.C.) nadat Nebukadnésar se leërs, soos deur Esegiël voorspel (Eseg. 25:12-14), verwoesting gesaai het. Die Nabateërs het die Edomiete se plek ingeneem en ‘n stad (Rekem / Rekmu), uit rots gekap, opgerig. Dit is later jare deur die Romeine na Petra hernoem. Dit het bekendheid verwerf as handels metropool. Die nou ingang, ‘n paar meter breed, strek verder as ‘n kilometer en selfs antieke Sjinese geskrifte maak melding daarvan.
Die voorgeslagte van die Nabateërs is afstammelinge van Sem en het die ware God geken. Moses se skoonpa was ‘n priester in Midian en rekords dui daarop dat die Arabiese stamme oorspronklik deur priester-konings, soos Melgisedek, regeer is. Die koningin van Skeba het God erken. Sy het aan Salomo gesê: “Geloofd sy die Here u God wat behae gehad het om u op die troon van Israel te laat sit!” (1 Kon. 10:9).
Deur die eeue heen het die waarheid van God onder die Arabiese mensegroepe weggekwyn. Mohammed se valse boodskap en militaristiese aanslag het dus spoedig steun gewerf.
Arabiese leërs het teen 638 n.C. Jerusalem beset en hulself daarop toegespits om die Midde-Ooste en Noord-Afrika in te neem. In 711 n.C. is Spanje bereik en eers in 1492 n.C. finaal uitgedryf. Die Moslemse kultuur het die Arabiere, woestyn nomades, in stadsbewoners omskep.
Vroeg in die twintigste eeu het Arabiere in Arabië teen die Ottoman Turkse heersers opgestaan en aanspraak gemaak op Palestina. Die land oos van die Jordaanrivier, Sirië, Egipte en Saudi Arabië is na die Eerste Wêreldoorlog aan hulle gegee. Die land wes van die Jordaan is verdeel en Israel verklaar sy onafhanklikheid in 1948.
Uit die geskiedenis is dit duidelik dat daar nooit ‘n Palestynse nasie was nie. Arabiese heersers het gekom en gegaan en vanaf Damaskus, Bagdad, Riad en Kaïro regeer, maar nooit vanaf Jerusalem nie.
Die koningin van Skeba het met kamele gekom om die wysheid van Salomo te sien en ons Here het haar die “koningin van die suide” genoem (Matt. 12:42). Argeologiese bewyse verklaar die ontdekking van ‘n steenmuur met die name van almal wat oor die Koninkryk van Skeba regeer het, insluitende ‘n aantal koninginne. Die bewyse is noord-oos van Yemen (suid-wes Arabië) gevind - bekend as die Mahram Bilquis - “die koningin van Skeba se plek” (‘Time Magazine’ ,10 September 2001).
Ons weet dat die Midianiete langs die noord-wes kus van die Arabiese skiereiland gebly het en die nageslag van Abraham en Ketura is.
Gedurende die sewende en agtste eeue van die Christen-era het Islam die hele Midde-Ooste verower en vorige inwoners verdryf. Dit beteken dat vele mense van Irak, Sirië, Jordanië, Egipte en “Palestina” van Abraham afstam en etnies gesproke Arabiere is.
Die “handelaars van Tarsis” en hul “jong leeus” is uitspruitsels van Brittanje. Herodotus, die Griekse geskiedkundige, skryf dat Tarsis agter die Pilare van Hercules lê - groot rotse weerskante die straat van Gibraltar wat na die Atlantiese Oseaan lei.
Genesis 10:4-5 verklaar dat Tarsis een van die seuns van Jawan is aan wie God “die eilande van die Heidene” gegee het. Die Skrif verwys ongeveer tien keer na die “skepe van Tarsis” (bv. Jes. 2:16; 23:1,14; 60:9; Eseg. 27:25).
Ongeveer 2,500 jaar gelede het Esegiël oor die groot handelsentrum van Tirus geskryf. Hulle het met tin, wat uit Tarsis gebring is, handel gedryf: “Tarsis het handel gedrywe met jou weens die menigte van allerhande goed: silwer, yster, tin en lood het hulle as handelsartikels aan jou gelewer” (Eseg. 27:12).
Die naam Brittanje is afgelei van die Fenisiese naam “Baratanic” wat “land van tin” beteken. Aristoteles verwys in 350 v.C. daarna as Brittanika. Die ‘New Twentieth Century Encyclopedia’ toon aan dat Cornwallis die bron van tin gedurende die antieke tydperk was.
Die ‘Independent International’ (19 Augustus 1997) verklaar: “Tinontginning in Cornwallis word na 2500 jaar tot ‘n einde gebring. Die laaste oorblywende tinmyn in Brittanje en Europa het Donderdag aangekondig dat hulle sal sluit - met die verlies van 270 poste.” Die verslag wys ook daarop dat Cornwallis gedurende die negentiende eeu gespog het met 400 myne en 30 000 werknemers. Die “handelaars van Tarsis en die jong leeus” word met die Anglo-Saksiese mensegroepe, insluitende die VSA en hul “seevarende mag”, verbind. Die Amerikaanse vloot is tans verantwoordelik vir patrollering van die Persiese Golf en die beskerming van Skeba en Dedan. Dawid se gebed vir sy seun Salomo, profeties van Christus, koppel Skeba aan Tarsis en dui daarop dat beide gedurende die millennium ryk geseën sal word. “Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring. Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien” (Ps. 72:10-11).
Is dit bloot toevallig dat Saoedi-Arabië, die antieke koninkryk van Skeba, met die jong leeus van antieke Tarsis, verbind is? Midde-Oosterse politici het verseker dat Arabiese olie sjeiks afhanklik moet wees van die Weste se beskerming teen aggressiewe buurlande.
‘n Noordelike Inval
Beide profete Esegiël en Joël verwys na hierdie inval vanaf die noorde. Joël sê:
“Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na ‘n dor en woeste land...” (Joël 2:20).
Esegiël sê: “Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die noorde, ... En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die noorde en jou laat kom op die berge van Israel” (Eseg. 38:15; 39:2).
Een van die nasies wat met Rusland verenig sal word, word in Esegiël 38:6 as “die huis van Togarma, in die uithoeke van die noorde” beskryf. Togarma is die antieke naam vir stamme wat na Klein Asië, bekend as Turkye, migreer het. Die geografiese noorde van Jerusalem loop deur die hart van Turkye, oor die Swart See en deur die Oekraïne en Rusland. Beide die Oekraïne en Turkye word as lede van hierdie toekomstige bondgenootskap geïdentifiseer. Die oorspronklike Hebreeuse teks is meer spesifiek as ons Afrikaanse vertaling en dra die gedagte van “verre noorde”, of die “vêrste noord” oor. Dit beteken dat die profesie nie na Israel se naaste bure Lebanon, Sirië of Irak verwys nie.
Die Omsirkeling van Israel
Israel bevind hulself in ‘n uiters kwesbare posisie. Die kaart van die Midde-Ooste dui aan dat Israel deur twee kringe vyandige nasies omsirkel word. Die binneste kring bestaan uit Lebanon, Irak, Sirië, Jordanië en Egipte (‘n bevolking van 100 miljoen mense). Die buitenste kring bestaan uit Turkye, Iran, Soedan en Libië (‘n bevolking van 200 miljoen). Die bevolking sal tot 425 miljoen mense styg as Rusland, die Oekraïne en die state van die Kaukasus bygevoeg word – dit in teenstelling met Israel se 5,4 miljoen Jode.
Die Opkoms van Islamitiese Fundamentalisme 1979
Die voorbereiding vir die finale inval op Israel het reeds met die val van die Sjah van Persië, en die opkoms van Islamitiese fundamentalisme as ‘n politieke mag, begin. ‘n Nuwe era van revolusie is onder die leiding van Ayatollah Khomeini begin – slegs ‘n jaar nadat Israel en Egipte ‘n Vredesverdrag onderteken het (1978).
Sedert 1979 het die wêreld die gewelddadigheid van Islamitiese fundamentalisme, volgens hul drie-punt program, sien groei.
1) Die oorname van gematigde Islamitiese regerings.
2) Die destabilisasie van Westerse nasies.
3) Die vernietiging van die Staat van Israel.
In 2003 was daar meer as 1 biljoen Moslems, een sesde van die wêreld-bevolking, en hulle invloed strek oor Noord-Afrika tot in Sudan, Tsjad, Niger en Nigerië. Indonesië, Maleisië, Sentraal Asië en die Midde-Ooste is ook Moslem. Islam versprei in die weste van Sjina en daar is tans 20 miljoen Moslems in Rusland.
Die Val van die Sowjet-Unie in 1989
In 1917 het die Bolsjewiekse Revolusie, Tsar Nicholas II, onttroon en 70 jaar van kommunisme ingelei. Na die tweede wêreldoorlog het ‘n periode van konfrontasie tussen internasionale kommunisme ontstaan - gelei deur die Sowjet-Unie en die Westerse Magte. In 1961 is die Berlynse Muur opgerig en het die bedreiging van ‘n kern-slagting al hoe nader gekruip.
In 1949 is die Noord Atlantiese Vrede Organisasie (NAVO) gevestig om die militêre bedreiging van die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR of Rusland) af te weer.
In 1955 reageer Rusland (USSR) daarop deur ‘n militêre alliansie met Oos-Europese lande te vorm (Warschau Verdrag). Om die verspreiding van kommunisme in die olieryke Midde-Ooste te voorkom, vestig die Weste ‘n verdedigingsmag wat al langs die suidelike grens van Rusland (USSR) gevestig is.
Die Bagdad Verdrag (1955) en die Sentraal Asiatiese Verdragsorganisasie (SENAV, 1958) het daartoe gelei dat Turkye, Iran en Pakistan deur die Weste beleër is. Die USSR is gevolglik toegang tot die Indiese Oseaan en Midde-Oosterse oliebronne geweier.
Die SENAV verdedigingsmag, langs die suidelike front van die USSR, is na die val van die Sjah van Persië en die opkoms van militante fundamentalisme verbreek. Die USSR het op hierdie tydstip egter genoeg probleme van sy eie gehad wat nege jaar later tot sy eie ondergang gelei het.
Gedurende die jaar van 1989 vind die mees verstommende gebeurtenisse plaas.
Nasies, wat deel van die Warschau Verdrag is, breek een na die ander weg van USSR se beheer. Die volgende het plaasgevind:
Gedurende die volgende twee jaar is daar meer veranderinge - Oos- en Wes-Duitsland word verenig (1990); Boris Yeltsin bedank uit die Kommunistiese Party; en die USSR, die Warschau Verdrag en ekonomiese alliansies ontbind (1991). Na die disintegrasie van die USSR is die Statebond van Onafhanklike State gevorm en sluit alle vorige Republieke , behalwe Georgië, in.
Hoekom het die USSR geval?
Kommunisme is ateïsties en vereis van jou om geloof in God te verwerp. So ‘n houding het die USSR onder die oordeel van God geplaas.
Die Bybel sê:
“Die dwaas sê in sy hart, Daar is geen God ...” (Ps. 14:1).
“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen Sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle” (Ps. 2:1-4).
Teen 1990 was Rusland (USSR) se ekonomie aan flarde en die einde van ‘n bewind aangekondig. Werkernemers het maande vir hul salarisse gewag. Daar is egter nog ‘n rede vir die val van Rusland. Die Woord verklaar dat Israeliete terug moes keer na die land wat God aan Abraham en sy saad gegee het. Miljoene Jode was egter steeds agter die “ystergordyn” toegesluit. God sê aan Israel:
“Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af” (Jes. 43:5-6).
Aan die einde van die Sowjet-Unie se heerskappy het ongeveer ‘n miljoen Russiese Jode na Israel teruggekeer.
Die Weermag van die Heidennasies is Gehaak!
In Esegiël 38:4 sê God vir Gog, die prins van Ros, Mesag en Tubal, “En Ek sal jou weglok en hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek en jou hele leër, ...”
Hierdie weermag se omstandighede noodsaak hulle om saam met verdere nasies te staan - teen Israel. Die Europese Unie versamel egter alle Katolieke, Ortodokse en Protestantse nasies, aan die weste van Rusland, om ‘n Verenigde State van Europa te vorm.
Op Rusland se suidelike grens voorsien Moslem-nasies, vanaf Pakistan tot Soedan, ‘n ontwikkelende mark van ongeveer 400 miljoen mense. Rusland se ekonomiese toekoms is geografies tot die suidelike nasies verbind. Hulle deel meeste van die wêreld se olie en natuurlike gasbronne.
Nasies wat deel gevorm het van die “Warschau Verdrag” skaar hulself tans by die EU en NAVO. Die deur na die Weste is gevolglik vir Rusland gesluit. Israel word deur Amerika ondersteun en vorm ook deel van die EU. Dit is daarom logies dat Rusland se buitelandse beleid pro-Arabies sal wees.
Die voorbereiding vir die finale slag tussen Gog en Israel is die verantwoordelikheid van Rusland, soos deur God bepaal. “Hou jou reg en maak jou klaar, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het; en wees vir hulle ‘n leidsman” (Eseg. 38:7).
Israel het ongetwyfeld ‘n tegnologiese voorsprong in terme van oorlogvoering. Alhoewel daar minder as ses miljoen Jode (2004) in Israel is, het hulle beskikking tot kernwapens, satelliet bewaking, gesofistikeerde laserwapens, bestuurstelsels en ‘n lugmag wat deur ander lande beny word. Israel vervaardig en verkoop ook wapens aan die res van die wêreld.
As Moslem-nasies Israel wil aanval, sal moderne wapens noodsaaklik wees. Sonder ondersteuning van buite is die kans egter skraal om enige sukses te behaal. Daar is dus reeds by Rusland om hulp aangeklop.
Die ‘Guardian Weekly’ van 24 Mei 1998 en die ‘Jerusalem Post’ van 30 Mei 1998 het beide berig gegee van planne om Russiese missiele, met gesofistikeerde radarstelsels, in Sirië op te rig. Hierdie radarstelsel dek ‘n radius van 320km en beskik oor die vermoë om alle lugvaart en missiel bewegings vanaf Turkye tot en met Egipte te monitor en af te weer. Die verslag lui soos volg: “…Brittanje en die Verenigde State vrees dat Moskou in staat sal wees om vertroulike informasie in die hande te kry…”.
Daarbenewens het Rusland ook vir Iran bygestaan om ‘n kernkragaanleg ter waarde van $1 biljoen op te rig. Rusland en Iran het ook saamgewerk om missiele te ontwikkel wat Israel sal kan bereik. Suksesvolle toetse is in 2004 uitgevoer.
Intelligensieverslae dui daarop dat Rusland hul samewerking bied op voorwaarde dat die Islamitiese revolusie nie haar grense bereik nie. Ander verslae toon aan dat Iran ná die ontbinding van die USSR reeds ‘n aantal kernwapens van Kazakhstan aangekoop het.
Iran is sedert 1997 betrokke by oorlogsoefeninge - 200,000 troepe het 'n afstand, gelykstaande aan die afstand tussen Iran en Israel, afgelê. Die kodenaam van die projek was: “Die pad na Jerusalem!” In Rusland is daar ‘n groeiende nasionalistiese beweging wat ‘n sterk anti-Semitiese beleid volg. Openbare verklarings van hierdie beweging blameer Jode vir al Rusland se terugslae.
Die Toekoms van Turkye
Die volgende oorsig van die toekoms van Turkye is deur Dr. John Ecob ontwikkel. “Een van die nasies wat deel vorm van die Russies-Moslemse alliansie is die “huis van Togarma, in die uithoeke van die noorde”. Antieke geskiedenis dui daarop dat die afstammelinge van Togarma (Oos-Turkye / Armenië), na die Groot Vloed, regoor Klein Asië (Turkye) versprei het. Wes-Armenië is deur Oos-Turkye oorgeneem nadat die Turke 1,7 miljoen Armeniërs na Sirië gedryf het (1915-1916). ‘n Totaal van 750,000 mense is as gevolg van hongersnood of Turkse koeëls dood.
Turkye is sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n lid van NAVO en in 2004 het hulle die grootste leër in die Midde-Ooste gehad.
Turkye se bevolking is 95% Moslem en word deur ‘n nie-godsdienstige regering, wat deur die weermag in die lewe geroep is, regeer. Gedurende vorige verkiesings het die Islamist Welfare Party mag verkry en ‘n koalisie-regering gevorm totdat die weermag dit as onwettig verklaar het. Nuwe verkiesings het die “Virtue Party” tot oorwinning sien tree, maar hierdie party is ook kort voor lank as onwettig verklaar. In 2003 het die Development Party, in eie reg, die mag verkry en benodig slegs vier setels om ‘n 2/3 meerderheid te hê en die wetgewing te verander.
Turkye en Israel het militêre ooreenkomste opgestel. As ‘n Islamitiese regering egter oorneem, sal alle ooreenkomste met Israel tot niet verklaar word. Indien Moslems die oormag in Turkye verkry, sal dit die balans van mag in die Midde-Ooste dramaties verander.
Die ‘Guardian Weekly’ van 12 Julie 1998 het berig dat Turkye deel wou word van die EU. Die aansoek is verwerp en Turkye het dit as diskriminasie beskryf. Turkye voer aan dat Europa haarself as ‘n ‘Christelike klub’ beskou en bedreig voel deur die moontlike instroming van (Islamitiese) immigrante vanaf Anatolië.
In Deel 3 is daarop gewys dat die EU ‘n herlewing van die Ou Romeinse Ryk sal wees. Aanhoudende verwerping van Turkye deur die EU, ongeag daarvan dat sy Moslem is, speel reguit in die hande van die fundamentalistiese beweging. Islam verklaar reeds dat bande met die EU onmiddellik verbreek sal word as hulle tot die regering verkies word.
Die Vernietiging van Gog se Leër
Die volk van God sal ‘n oorweldigende teenstand in die gesig staar en sal in die 7-jaar Groot Verdrukking (Openbaring 7) deur 144,000 Joodse predikers uitgedaag word. Hierdie gebeurtenis sal uiteindelik daartoe lei dat Israel bekeer en Jesus Christus as Messias en Heer aanvaar. God sal daarop antwoord gee deur invallende leërs te vernietig:
1. Aardbewings
“Waarlik, in dié dag sal daar ‘n groot aardbewing wees in die land van Israel, ... en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaar stort en al die mure op die aarde val” (Eseg. 38:19-20).
Seismiese ingenieurs het in 2004 voorspel dat ‘n groot aardbewing Israel sal tref en ‘n groot impak op Jerusalem, Haifa en Tel-Aviv sal hê. Daar was al verskeie aardbewings, maar seismoloë glo dit is net ‘n kwessie van tyd voordat hierdie groot een tref.
2. Onenigheid
“En Ek sal die swaard oproep teen hom ... die swaard van die een sal teen die ander wees” (Eseg. 38:21).
Dit laat ons dink aan toe Koning Josafat deur ‘n bondgenootskap van Ammoniete, Moabiete en Edomiete aangeval is. Ons lees dat die koning: “sy aangesig daarop gerig het om die Here te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep” (2 Kron. 20:3). Die profeet Jahasiël het geantwoord: “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle” (2 Kron. 20:17).
Juda het oorlog toe gegaan en begin om God te prys, en “op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here ‘n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense ... sodat hulle verslaan is ... het hulle mekaar in die verderf gehelp. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie” (2 Kron. 20:22-24).
Net so sal Israel die woorde van Joël 2:12-20 onthou en “‘n vasdag heilig”. Die priesters sal “tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o Here, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?
God sal ‘n vreeslike oordeel oor Israel se vyande uitstort. Iraniërs, Turke, Russe, Soedannese, Libiërs en andere sal met die swaard na mekaar toe wanneer Israel die Messias as Here erken! Die gevolg – slegs ‘n 1/6 van die leërs sal oorleef! (Eseg. 39:2).
3. Siektes
“En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed” (Eseg. 38:22).
Ons dink ook aan die dae van koning Hiskia. Assirië se weermag het die land van Juda ingeneem, behalwe Jerusalem. Die hoof dienskneg van Sanherib, koning van Assirië, het met God die spot gedryf. Nadat Hiskia homself voor God verneder het, het 185,000 Assiriese soldate, in een nag, in hulle tente omgekom (2 Konings 19:35). God sal in die laaste dae ook siekte gebruik. Biologiese oorlogvoering word ook as ‘n wapen van massavernietiging beskou en lande soos Iran en Irak neem leiding op die gebied.
4. Haelstene
“... en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is” (Eseg. 38:22).
Die vernietiging sal slegs ‘n 1/6 van die leërs spaar (Eseg. 39:2) en Joël verklaar dat oorlewendes weggedryf sal word: “na ‘n dor en woeste land, sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe” (Joël 2:20).
Miskien dui dit daarop dat die oorblywendes tot in Siberië sal vlug (Joël 2:20). Die bestemming is “ver weg” en die Oostelike See verwys seker na die Stille Oseaan en die Westelike See na die Arktiese Oseaan.
Gog se einde
Joël sê: “... en sy stank sal opstyg, en ‘n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen” (Joël 2:20).
Esegiël beskryf die nagevolge van die konflik: “En in dié dag sal Ek aan Gog ‘n plek gee waar ‘n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte. En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank” (Eseg. 39:11-12).
Honderde duisende lyke sal in ‘n vallei aan die oostekant van die Dooie See (Jordanië) begrawe word. Dit sal “Hamman-gog” genoem word - die dal van “Gog se Menigte” (Eseg. 39:11).
Magog en nabygeleë kuslande
Die land van Magog (Gog se land) sal deur brande geteister word: “En Ek sal ‘n vuur slinger in Magog en onder hulle wat in die kuslande veilig woon; en hulle sal weet dat Ek die Here is” (Eseg. 39:6).
Die kuslande verwys na die seuns van Java. Ons het reeds gesien dat Tarsis een van die sy seuns was (Gen. 10:4) en dat die handelaars van Tarsis en die jong leeus teen die Russies-Moslemse inval gekant sal wees.
Amerika en/of Brittanje sal klaarblyklik ook deur vuur getref word en nie in staat wees om enige groot militêre rol te speel nie – die gevolg van Russiese konflik of Goddelike oordeel. ‘Jane’s Intelligence Digest’ maak melding daarvan dat Islamitiese terroriste kernwapens teen Amerika sal gebruik indien sy Israel bystaan.
In September 2004 het ‘n verslag daarop gedui dat 15 sensitiewe teikens reeds in Amerika geïdentifiseer is.
God se plan met Israel
Hierdie gebeure sal daartoe lei dat Israel tot bekering kom en “die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openb. 17:12).
“En die huis van Israel sal weet dat Ek die Here hulle God is, VAN DIE DAG AF EN VERDER. En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen my troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het ... En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here Here” (Eseg. 39:22-29).
Die idee dat Israel tot bekering sal kom voor die Wegraping is teenstrydig met die Skrif. Israel sal deur die Groot verdrukking gaan en met blydskap die Messias se Tweede Koms verwag.
Die Bybel sê: “dat die verharding ten dele oor Israel gekom het TOTDAT die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die HELE Israel gered word” (Rom. 11:25-26).
Joël sê duidelik dat die noordelike inval op die “dag van die Here” sal plaasvind. Israel moet dus daar wees as die Messias Sy voet op die Olyfberg plaas: “... en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10-14).
Toe die seuns van Israel voor Josef gestaan het, het hulle erken dat hulle in groot verdrukking is omdat hulle hom 20 jaar gelede as slaaf verkoop het: “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer (Josef), omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie – daarom kom hierdie benoudheid oor ons” (Gen. 42:21).
So sal die dag kom wanneer die seuns van Israel sal erken dat hulle in Groot Verdrukking is omdat hulle God se enigste Seun 2 000 jaar gelede verwerp het en Hom aan ‘n kruis gehang het en geweier het om na Hom te luister!
Net soos Josef se broers onder die heerskappy van Josef geseën is, sal Israel ook verhoog word - tot die hoof van die nasies.
In die voorsienigheid van God sal Sy predikers met die krag van die Woord van God en die druk wat die nasies op hulle plaas Israel tot bekering lei. Esegiël gee ons ‘n voorbeeld van hierdie tipe goddelike invloed: “En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het” (Eseg. 39:23).
Die ontwikkeling van die alliansies tussen die heidennasies dui daarop dat Christus se koms naby is!