" Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is, sowel as die wat gaan gebeur" (Openb. 1:19).
Inleiding tot die Boek van Openbaring
Die laaste boek in die Bybel, die Openbaring van Jesus Christus, is nie moeilik om te verstaan as ons die “sleutelvers” tot die verklaring van die boek van Openbaring verstaan en gebruik nie. Daardie sleutelvers wat die Here ons gegee het word uitgelê in Openbaring 1:19 en verdeel die boek Openbaring in drie dele. Hierdie drie dele identifiseer en onderskei die gebeure in die konteks van die verlede tyd, die huidige gebeure, en die toekomstige gebeure. Met ander woorde die gebeure wat sal plaasvind oor die tydperk vanaf die ontvangs van die Openbaring deur die vroeë Kerktydperk tot en met die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde strek.
Die SLEUTELVERS lees soos volg:
“Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is, sowel as die wat gaan gebeur" (Openb. 1:19).
Hierdie laaste boek in die Bybel is vir ons ‘n openbaring van “die dinge” (gebeure) “wat gou moet gebeur"(Openb. 1:1). In hoofstuk een ontvang Johannes 'n visioen (openbaring) van die opgestane Here Jesus Christus. In hoofstukke 2 en 3 vind ons sewe briewe wat aan "die sewe gemeentes in Asië" geskryf is (Openb. 1:4); briewe wat die Here se tevredenheid oor die goeie dinge en Sy besorgdheid oor hul geestelike toestand aan hulle oordra. In hoofstuk 4 tot hoofstuk 22 lees ons 'n beskrywing van daardie gebeure wat nog toekomstig is en wat begin met die woorde: "Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur" (Openb. 4: 1).
Die “dinge … wat jy gesien het” is die visioen wat Johannes op die eiland Patmos ontvang het.
Die “dinge … wat is” beskryf die sewe gemeentes van Asië wat letterlik in Johannes se tyd bestaan het, maar wat ook as tipes van enige individuele Kerk, reg deur die geskiedenis, beskou kan word. Hulle is ook 'n uitbeelding van die historiese vordering van die Kerk vanaf die uitstorting van die Heilige Gees tot en met die Wegraping; met ander woorde tot en met die voltooiing van die Kerktydperk.
Die “dinge … wat gaan gebeur” is die gebeure wat nog toekomstig is: vanaf die Wegraping van die Kerk, gevolg deur die Groot Verdrukking, tot en met die terugkeer van Jesus Christus na die aarde om Sy Vrederyk (wat ‘n duisend jaar sal duur) te vestig, die tweede opstanding, en die ewige nuwe hemel en nuwe aarde. Ons hét dus ‘n sleutel tot die uitleg van die boek ontvang. God het dit soos volg verdeel:
“dinge … wat
jy gesien het…”
Hfst. 1
“dinge … wat is…”
Hfst. 2-3
“dinge … wat
gaan gebeur.”
Hfst. 4-22
DEEL 1 - DIE DINGE WAT HY GESIEN HET
(Openbaring 1)
Die Openbaring (αποκαλυψιs/apokalupsis) van Jesus Christus aan Johannes op die eiland Patmos, is die "ontsluiering" van die "dinge wat binnekort (skielik) moet plaasvind." God die Vader, het hierdie gebeure, wat tot voordeel van "Sy dienaars" strek, aan Christus geopenbaar en Christus het dit aan Johannes deur Sy engel oorgedra.
Die boek begin met 'n visioen van die Here Jesus Christus in die gedaante van sy volle Goddelikheid:
a) Hy is die tweede Persoon van die God Drie-eenheid saam met die Vader en die Heilige Gees. Hy is gelyk aan en tot in ewigheid sonder begin en sonder einde (vs. 4-5).
b) Hy is die "getroue getuie" - volmaak ten opsigte van Sy aardse getuienis (v.5).
c) Hy is die "eersgeborene uit die dode” - niemand kon voor Hom in dieselfde opstandingskrag opstaan nie (v.5).
d) Hy is die "Owerste oor die konings van die aarde" - Hy heers nou op die troon van die hemel, en sal eendag as Koning van konings en Heer van here op die aarde en oor die aarde, op die troon van Dawid, regeer (v.8).
e) Hy is "die Alfa en Omega, die begin en die einde", die Skepper en finale Regter (Oordelaar) van die hele skepping.
f) Hy is die Ewige God, "wat is en wat was en wat kom, die Almagtige" (v.8), daar is niemand in die hemel of op die aarde groter as Hy nie.
Die beskrywing hierbo bevestig net weereens vir ons die absolute Godheid van onse Here Jesus Christus. Enige ander minderwaardige beskrywing van Hom sou bloot “'n ander Jesus” wees (2 Kor. 11:4).
Die uiteindelike hoogtepunt en seëviering van God se plan is die oorwinning van Christus oor alle magte van boosheid, hetsy menslik of demonies. En Johannes roep dan uit: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!” (Openb. 1: 7).
Met Christus se tweede koms sal elke knie moet buig ... en elke tong sal moet bely dat Jesus Christus die Here tot heerlikheid van God die Vader is (Fil. 2: 10-11). Hy sal sigbaar op die wolke van die hemel kom, soos deur die Engel verklaar is (Hand. 1: 9-11), en soos Jesus sélf gesê het sal gebeur (Matt. 24: 34).
Die volk Israel, “hulle wat Hom deursteek het”, sal wanneer Jesus weer terugkom hulle fout besef en berou hê. Hulle "sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun" (Sag. 12:10). En in daardie tyd sal ‘n mens vra: "Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende" (Sag. 13: 6).
Kyk, Hy kom in die wolke van die hemele,
Elke oog sal hom sien, verhewe omhoog;
Israel wat hom deurboor het sal hard uitroep,
En hulle sal onthou:
die kruis, die graf, en die wolk.
Die Alfa, Omega, begin en einde,
Hy sal sy engele stuur vir Sy uitverkore volk,
En heidene wat nou voor Hom neerbuig, sal val,
Wanneer Jesus, eindelik, gekroon word as HEER VAN ALMAL!
Die Gebruik van “Die Dag van die Here”
Johannes sê: “Ek was in die Gees op die dag van die Here”. Hier verwys “die dag van die Here” na die eerste dag van die week waartydens die gelowiges vroeër vir gemeenskap saam gekom het. Ons moet onthou dat die Here op die eerste dag van die week, tydens die fees van die Eerste Vrugte, opgestaan het uit die dood. Hy was die “eersteling … van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15: 20-23). Die Kerk is op Pinksterdag, wat ook die eerste dag van die week was, gebore. Christene word nie gevra om die Sabbat te onderhou nie, want volgens God is die Sabbat “’n teken tussen My en die kinders van Israel tot in ewigheid” (Eks. 31: 15-17; Kol. 2: 16), dus was dit nog altyd ‘n teken aan Israel.
Die ander gebruike van die “dag van die Here” is heeltemal verskillend van die gebruik daarvan in Openb. 1:10. Hierdie “Dag van die HERE”, wat meer gereeld in die Bybel gebruik word, verwys na daardie tydsperiode wanneer God Sy toorn en oordele oor die nasies sal uitstort; en wel gedurende die 70ste week (sewe jare) van Daniël se profesie oor Israel (Dan. 9: 24-27). Jesus noem hierdie Dag van die HERE: "‘n tyd van groot verdrukking” (Matt. 24: 21-29); Jeremia beskryf die tyd as: “die tyd van Jakob se benoudheid“ (Jer. 30:7); Daniël noem dit “‘n tyd van benoudheid” (Dan. 12: 1); en Joël beskryf dit as “‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag ...“ (Joël 2: 1-2).
Die Dag van die HERE vind onmiddellik voor die tweede koms van Christus na die aarde toe plaas (Matt. 24: 29-31), en kan nie begin alvorens die Kerktydperk beëindig word deur die Wegraping van die Kerk nie. Paulus sê: “Daardie dag, die dag van Christus, sal eers plaasvind as die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word” (2 Thess. 2 :1-9).
Nadat die Kerk verwyder of weggeraap is sal die Antichris geopenbaar word en die laaste sewe jaar van Israel se geskiedenis sal begin. Die Dag van die HERE begin met die klank van die basuin van God. (1 Thess. 4:16; 1 Kor. 15:51-54). Basuine is in Israel gebruik om ‘n opdrag van samekoms aan te kondig soos in die geval van ‘n oorlog of om mense te mobiliseer. Wanneer die basuin van God weerklink sal dit ‘n aankondiging wees van eerstens; dat die Kerk letterlik “weggevoer” word (die Here tegemoet in die lug); tweedens dat die heidennasies gewaarsku word oor die komende en dreigende Groot Verdrukking; en laastens ook dat Israel gemobiliseer word as getuies van God gedurende die Groot Verdrukking!
Johannes se Visioen van die Opgestane Here Jesus Christus
Die visioen wat Johannes gesien het is baie duidelik. Johannes het gesê:
“Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag”.
Dit is soos die Here aan Johannes verskyn het. Dit is wat Johannes gesien het en dit is die eerste deel van die sleutelvers wat die Boek van Openbaring verklaar.
Johannes het na die visioen soos ‘n dooie aan die voete van Jesus geval, maar die Here het hom gerusgestel: “Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openb. 1:17-18).
Dit is op hierdie tydstip wat Johannes aangesê word om te “Skryf”. Die kern skrifgedeelte volg hierna (Openb. 1:19):
1. die dinge ... wat JY GESIEN HET, (verlede)
2. die dinge ... wat IS, (hede)
3. die dinge ... wat GAAN GEBEUR; (toekomstig)
Daar is twee ander aspekte in hierdie visioen wat ons kennis van God en die Boek van Openbaring sal uitbrei.
Eerstens, die Getal Sewe
Die getal sewe kom 44 keer in hierdie boek voor. Dit is die getal van “volheid”, of “voltooidheid”, en die sewe goue kandelare dui op sewe Gemeentes in Asië (Openb. 1: 20). Hulle beskryf ook die volledige Kerktydperk vanaf Pinkster tot en met die Wegraping. Die boek is daarom aan die hele Kerk geskryf en nie net aan die sewe kerke van Asië nie. Ons sal meer daaroor leer in hoofstukke 2 en 3.
Tweedens, die Engele in Openbaring
Daar is 76 verwysings na engele in hierdie boek. Geen ander boek in die Bybel openbaar soveel oor hierdie hemelse wesens nie. Die rede hiervoor is dat die groter gedeelte van die boek (hoofstukke 4-22) klem plaas op die dinge wat Johannes gesien het NADAT hy deur ‘n geopende deur in die hemel opgeneem is (Openb. 4:1-2). Vanaf hierdie punt word hy getoon “wat na hierdie dinge moet gebeur” (Openb. 4: 1), met ander woorde ná die Kerktydperk wat eindig met die geklank van die basuin en die Here se roepstem: “Kom op hierheen” (1 Thess. 4:16, 1 Kor. 15:52, Openb. 4:1).
DEEL 2 — DIE DINGE WAT IS
(Openbaring 2 en 3)
Die sewe Gemeentes van Asië is aan die westelike kant van Turkye, soos ons dit vandag ken, geleë. Christus openbaar Homself aan elkeen van hierdie Gemeentes op 'n manier wat op daardie Kerk se geestelike toestand van toepassing is. Net soos Christus voorspel het dat onkruid tussen die koring sal groei, voëls in takke sal bly en suurdeeg met meel gemeng sal word (Matt. 13: 24 - 33), so dui die beskrywing van hierdie sewe Kerke daarop dat afvalligheid in die plaaslike gemeentes gevind sal word. Die "oorwinnaars" in elke Kerk verteenwoordig die “ware Kerk”. Wat in werklikheid openbaar word is hoe dit in die kerk sal wees tot en met die Wegraping van die ware gelowiges. Al wat daarna oorbly is die finale afvalligheid van Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde (Openb. 17:5).
Die teenwoordigheid van die Heilige Gees in die ware Kerk weerhou die volle verwerkliking van afvalligheid: "Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word. . . "(2 Thess. 2:7-8).
Elkeen van die sewe briewe is ‘n verslag van die volgende:
a) Die Openbaring van Christus aan daardie gemeente.
b) Die Aanprysing van daardie gemeente.
c) Die Veroordeling van daardie gemeente (behalwe Smirna en Filadelfia).
d) Die Vermaning van Christus vir daardie gemeente.
e) Die Waardering van Christus vir die Oorwinnaars (die geredde oorblyfsel).
Die Sewe Gemeentes van Asië verteenwoordig sewe stadiums van Kerkgeskiedenis, vanaf die Apostoliese Kerk tot en met die laaste-dae Kerk. Die oorwinnaars is die geredde oorblyfsel in alle tydperke wat weggeraap sal word. Die afvallige Kerk sal deur die Groot Verdrukking tydperk gaan.
Die Gemeente van Efese — letterlik "Begeerd" (Openb. 2:1-7)
Prakties
Aan hierdie Gemeente word die Here Jesus geopenbaar waar Hy in die midde van sewe kandelare loop. Die gemeente word geprys vir haar geduld, getrouheid aan die Woord van God en vir haar haat van die dade van die Nikolaïete wat gepoog het om hiërargiese gesag oor die gelowiges te bring (nikolaïeties beteken “seëvierend oor die mense”). Sy veroordeling is oor die feit dat hulle hul eerste liefde, naamlik Christus, verlaat het. Die vermaning is om te "Onthou. . .en te bekeer!" (Openb. 2:5). Onthou die vreugde van jou verlossing, bekeer van formalisme en dien die Here met 'n blye, vreugdevolle en liefdevolle hart. Hulle word gewaarsku dat hul kandelaar van getuienis verwyder sal word as hulle nie bekeer nie.
Profeties
Die Kerk in Efese is 'n beeld van die vroeë Apostoliese Kerk wat die evangelie regdeur die wêreld versprei het (Kol. 1:6).
Die Here was in hulle midde, hulle het getrou die valse apostels uitgewys en teen hulle opgetree. Die vroeë Kerk het diegene, die Nikolaïete, wat 'n kerklike hiërargie wou inbring, teengestaan. Hulle het hul dade gehaat soos God dit gehaat het. Hierdie dade sluit in die opkoms van die hiërargiese klas binne die Kerk wat die kanaal geword het vir baie tradisionalisme en bygelowigheid.
Die vroeë Kerk was daarom fundamenteel in sy leer, maar tydens die tweede geslag het hulle begin om hul eerste liefde te verloor. Uiteindelik was sy getroue verdediging van die groot leerstellings van die Woord nie gekoester in 'n ryke, liefdevolle verhouding met Jesus Christus nie.
Die Gemeente in Smirna — letterlik “Mirre” (Openb. 2:8-11)
Prakties
Christus word geopenbaar as die "eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het" (Openb. 2:8). Hierdie gemeente word geprys omdat hulle vir Christus gely het. Daar is geen woord van teregwysing nie. Die Here is sag met dié wat ly, want hy het self daardie pad geloop. "Wat dood was, en is lewend!" Die dood is nie die einde nie, maar die weg tot finale oorwinning.
Die vermaning is om "getrou te wees tot die dood" en die beloning is 'n "kroon van lewe". "Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie" (Openb. 2: 11).
Die tweede dood (Openb. 20: 14-15), wat die ewige poel van vuur is, kan hulle nooit skade aandoen nie. Party kan miskien op die brandstapel verbrand word hier op aarde, maar dit is niks in vergelyking met die oordeel van die hel se vuur wat voorlê vir die wat ongered is nie. Lyding op aarde maak die beloning van die hemel soveel meer soeter en ons weet dat "as ons verdra, ons met Hom sal regeer" (2 Tim. 2:12).
Profeties
Die betekenis van Smirna is “mirre” wat lyding suggereer; aangesien dit gebruik is in die begrafnis van geliefdes. Dit was deur Nikodemus gebruik toe hy die liggaam van onse Here Jesus Christus te ruste gelê het (Joh. 19:39). Smirna verteenwoordig die tweede fase van Kerkgeskiedenis – ‘n tydperk wat Kerk geskiedkundiges die "Tien Heidense Vervolgings" noem. Die Christene het baie erg onder Rome gely. Vele gelowiges het vir die saak van Christus gesterf. Hierdie periodes van vervolging het geskied onder die regerings van die volgende keisers:
1. Nero (54 - 68 n.C.)
2. Domitianus (81-96 n.C.)
3. Trajanus (98-117 n.C.)
4. Markus Aurelius (161-180 n.C.)
5. Severus (193-211 n.C.)
6. Maksinium (235-238 n.C.)
7. Dekius (240-251 n.C.)
8. Valerianus (253-260 n.C.)
9. Aurelianus (270-275 n.C.)
10. Diocletianus (285-305 n.C.)
Die Bybel sê in Openb. 2: 10: “...en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
Vervolging is soms gerig op die leiers van die Kerk. Rome het gepoog om "die hoë takke korter te sny". Die Woord van God is geteiken en diegene wat geweier het om hul afskrifte daarvan af te staan is doodgemaak. Ten spyte daarvan het die Kerk het in hierdie tyd egter gegroei en die "bloed van die martelare het die saad van die Kerk geword".
Die Gemeente in Pérgamus — letterlik “getroud” (Openb. 2:12-17)
Prakties
Aan hierdie kerk het Christus die volgende geopenbaar: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart“ (Heb. 4:12).
Hierdie gemeente word geprys vir die feit dat sy vashou aan die Here se naam en nie die geloof verloën nie, selfs nie in die midde van vervolging nie. Veroordeling word egter uitgespreek oor die wat ‘n kompromie aangegaan het deur die leer van Bileam en die Nikolaïete aan te hang. Dwaalleer was besig om in te sypel.
Ons moet onthou dat Bileam, die valse profeet, verbied was om Israel te vervloek, maar het Balak, die koning van Moab, geleer hoe om Israel te vernietig deur immoraliteit en afgodery in hul geledere in te bring (Num. 25).
Die gemeente van Pérgamus was veronderstel om afgesonderd van afvalligheid en die sondes van die vlees te lewe. Die Bybel sê: "Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie" (1 Joh. 2:15). Tensy bekering plaasvind, sal die Here met die swaard van Sy mond veg teen die afvalliges om sodoende hulle van hul onheilige en wêreldse assosiasies te verwyder.
Vir die oorwinnaars wat weier om deel te hê aan heidense feeste sal God hemelse manna gee asook 'n “wit keursteen” van kwytskelding en 'n nuwe persoonlike naam wat dui op 'n hegte persoonlike verhouding met Christus (In Romeinse howe het lede van die hof 'n wit steen in 'n bak gegooi om onskuld aan te dui).
Profeties
Pérgamus beskryf die periode van Kerkgeskiedenis vanaf 313 n.C. tot 600 n.C. toe die Kerk ‘getroud' was met die staat. Na Keiser Diocletianus was daar 'n magstryd in die Romeinse Ryk. Die Romeinse keiser Konstantyn het verskyn as die onbetwiste heerser. Gedurende hierdie stryd vir mag het hy beweer dat hy 'n visioen van 'n kruis in die hemel gesien het met die woorde: "BY THIS CONQUER". Hy het die simbool van die kruis aangeneem, dit as ikoon voorgehou en homself begin vereenselwig met die groot aantal Christene wat vervolg was.
In 313 n.C. het Konstantyn ‘n edik van Verdraagsaamheid uitgereik. Sogenaamde Christenskap het die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword en het vermeng met die mistiese Romeinse afgodediens en dit later oorgeneem en vervang.
Hierdie vorm van “Christenskap” het gewild geword en in 325 n.C. het Konstantyn ‘n vergadering van meer as 318 biskoppe, tydens die Raad van Nicea, gelei. Die Geloofsbelydenis van Nicea is saamgestel en die gewildheid van die Christendom het die deure geopen vir 'n vloedgolf van bygelowigheid en dwaling. Kloosterwese of monnikestand (monastisisme), sekularisme, die verheerliking van Maria, gebede aan martelaars en heiliges het alles in hierdie tydperk begin en die georganiseerde klerikale stelsel het ‘n bloeityd ervaar.
Die leer van Bileam, die verdraagsaamheid van afgodery en immoraliteit, en die leer van die Nikolaïete, die klerikale beheer oor die mense, was sekerlik kenmerkend van die Pérgamus tydperk. Die Bisantynse Staatskerk het die weg vir die Donker Eeue, onder die Pousdom se heerskappy, gebaan.
Die Gemeente in Thiatire — letterlik “aanhoudende offer” (Openb. 2: 18-29)
Prakties
Die Here openbaar Homself aan Thiatire as die "die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper" (Openb. 2: 18). Christus word aan hierdie gemeente as veroordelend geopenbaar. Geen ander gemeente het tot sulke dieptes van verdorwenheid gedaal nie en daar is teen geen ander gemeente sulke verskriklike oordele uitgespreek nie. Aanhangers van Isébel het tot "die dieptes van Satan" gedaal, en God sal "haar kinders … sekerlik doodmaak" (Openb. 2:23).
Vir werke word hulle geprys meer as vir geloof, maar vir afgodery en onsedelikheid wat deur die profetes Isébel ingestel is, word hulle deur die Here veroordeel.
Daar is 'n duidelike parallel tussen die Isébel van die Ou Testament en die van Openbaring. Hierdie vrou was die vrou van Agab, koning van Israel. Sy was ook die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs. Sy het die profete van die Here om die lewe gebring (1 Kon. 18: 4, 13), en 450 profete van Baäl en 400 profete van Asjéra finansieel ondersteun (1 Kon. 18: 19). Verder het sy afgodery en onsedelikheid in Israel toegelaat en selfs aangemoedig. Geestelike afvalligheid gaan gewoonlik met sedelike verdorwenheid gepaard.
Die enigste woord van troos word aan diegene "wat nie die dieptes van Satan geken het nie" (v.24) gerig.
Hulle moet "vashou wat hulle het, totdat Ek kom" (v.25) en dan sal hulle beloon word. Hulle sal saam met Christus in Sy Koninkryk regeer. Die mense van hierdie afvallige Kerk sal in die Groot Verdrukking gewerp en doodgemaak word. Die Roomse Kerk sal voortgaan tot in die Groot Verdrukking: "Kyk, Ek werp haar neer . . . en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking..." (Openb. 2: 22).
Gedurende die Groot Verdrukking sal die afvallige Roomse kerk geoordeel word: "En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak" (Openb. 2:23). Dit word in Openb. 17 beskryf waar die hoervrou, wat duidelik na die afvallige Christendom verwys, gedurende die Groot Verdrukking gelei word deur Rome (Openb. 17:9, 18). Groot Verdrukking gelei word deur Rome (Openb. 17:9, 18). Nadat die afvallige Christendom die vierde dier tot in ‘n posisie van magsbeheer gery het (i.e. die Herstelde Romeinse Ryk), sal die Antichris teen die Christendom draai: "En die tien horings... sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand" (Openb. 17:16).
Die afvallige Christendom het regdeur die Heilige Romeinse Ryk politieke magsbegeer gehad en streef tans daarna deur ‘n invloed uit te oefen op die Europese Unie. Slegs die wat gered is sal egter saam met Christus regeer (Openb. 2:26). Aan hulle sal die "môrester" gegee word (i.e. hulle sal weggeraap word). Christus se tweede koms word vergelyk met die opkoms van die "Son van geregtigheid" (Mal. 4:2), maar die "môrester" kom eerste op. Christus sal dus voor die Groot Verdrukking kom om die wat gered is weg te neem in die Wegraping.
Profeties
Thiatíre beskryf heel gepas die vierde fase van Kerkgeskiedenis. Die pousdom het ongeveer 600 n.C. begin met Gregorius die Grote aan stuur van sake (590-604 n.C.). Die aanhoudende offer van die Mis het die sentrale kenmerk van die Rooms Katolieke afgodsdiens geword. Thiatíre is ook gekenmerk deur 'n vrou wat afgodery en onsedelikheid aan ander geleer het. Afgodery in die Bybel word hoerery, owerspel en ontug genoem (Eseg. 16:20 - 41).
Vervolgens het hierdie kerk ook die karakter van Isébel gehad, sy wat die getroue profete van die Here om die lewe gebring het. Dieselfde brutale eienskap word in die Roomse kerk van hierdie tyd gesien: die kerk wat "dronk is van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Openb. 17:6). Aanbidding in die Rooms Katolieke afgodsdiens het ook 'n vrou in die middelpunt gestel. Maria word as "die Koningin van die Hemel" gesien en voorgehou. Hierdie paganistiese of heidense gebruik het reeds in Jeremia se tyd bestaan en is deur God, by monde van Sy profeet, veroordeel (Jer. 45: 15 - 27).
Die Gemeente in Sardis — letterlik “min ontsnap” (Openb. 3:1-6)
Prakties
Die Here openbaar Homself aan Sardis as die Een wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre (sewe engele) het.
"Die sewe Geeste van God" verwys na sewe goddelike eienskappe van die Heilige Gees. Hy is die Gees van God - "...die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE" (Jes. 11:2).
Hierdie gemeente ontvang weinig aanprysing. 'n Handjievol is nie verontreinig nie (v.4), maar Christus sê "dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood." (v.1). Daar word aan gemeente gesê: "Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie." (v.3)
Die oorblyfsel, die oorwinnaars, sal in rein blink klere saam met die Here wandel, in die geregtigheid van die heiliges (Openb. 19: 8), 'n geregtigheid wat deur die Here Jesus toegereken sal word.
Profeties
Die gemeente in Sardis is 'n beeld van die kerk in die Reformasie wat in 1517 begin het toe Martin Luther sy 95 leerstellings aan die deur van die Kerk in Wittenberg vasgespyker het. Hy het geprotesteer teen die verkoop van aflaatbriewe waardeur geld ingesamel is om die St. Petrus katedraal in Rome te herstel.
In 1516 het Erasmus die eerste gedrukte Griekse Teks saamgestel. Luther het dit in Duits vertaal en dit het daartoe gelei dat die bygelowigheid van die Rooms Katolieke afgodsdiens aan mense ontbloot is.
In plaas van redding deur werke is regverdigmaking deur geloof verkondig en talle mense is gered. So kan ons dan die "weinige ontsnaptes", wat uitgebreek het uit die greep van die pousdom, identifiseer. Met die verloop van tyd het Protestantse beweging formeel geword. Dit het steeds vasgehou aan die babadoop, 'n priesterlike hiërargiese stelsel, ‘n ampsgewaad asook die vereniging van kerk en staat. Dit het ‘n naam gehad dat dit die Bybelse leerstellings navolg, maar was van enige geestelike lewe ontledig. Protestantisme neem oor die algemeen ‘n a-millennialistiese posisie in. Dit wil sê dat hulle verklaar dat die beloofde Duisendjaar Vrederyk op aarde reeds bestaan en ontken enige toekoms vir die staat van Israel of ‘n Wegraping van die Kerk of Christus. Die Here sê, "as jy dan nie wakker word nie (uitkyk vir Sy koms), sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” (Openb. 3:3)
Die Gemeente in Filadelfía — letterlik “broederliefde” (Open. 3:7-13)
Prakties
Die Here openbaar Homself as dié Een wat " heilig is, hy wat getrou is, hy wat die sleutel van Dawid het en wat die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie."
Dit is die ooglopende verwysing na Jes. 22:22 wat van die Christus praat as die regmatige Erfgenaam van die troon van Dawid wat "afgekap" sal word en dat die heerlikheid van Sy vader se huis (Dawid se huis) "afgesny” sal word. Christus is op Golgota in 32 n.C. gekruisig of afgekap en die heerlikheid van sy Vader se huis (Israel) is in 70 n.C. "afgesny"(v.25). Hierdie gemeente ontvang ‘n aanprysing van die Here en ‘n geopende deur en hul vyande sal weet dat God hulle liefhet. Omdat hulle "die woord gehou het", het die Here beloof om hulle "in die uur van beproewing wat oor die wêreld gaan kom" (v.10) te beskerm. Hulle moet "so vashou" aan die lig van die Here se terugkoms en nie toelaat dat enigiemand hulle kroon wegvat nie. Jesus het gesê: "Kyk, Ek kom gou!" Oorwinnaars sal vir altyd by die Here wees, en sal "nooit meer uitgaan nie", en sal God se naam en die naam van die nuwe Jerusalem dra - die naam wat uitgehou is vir die Bruid (Openb. 21:2 en 9-10).
Profeties
Die gemeente in Filadelfía beeld vir ons die groot evangeliese ontwaking, wat gedurende die 18de en 19de eeue plaasgevind het pragtig, uit. Aan die begin van die 1700's het die Reformasie die mag van Rome in die noorde van Europa verbreek. Luther se Duitse vertaling van die Bybel is in 1522 voltooi en Tyndale se Engelse vertaling in 1526. Die 1611 "King James" Engelse weergawe van die Bybel het universele aanvaarding verwerf en sendinggenootskappe het die Woord van God reg oor die wêreld versprei.
Rome kon feitlik niks doen om dit te stop nie. God het 'n deur vir hierdie kerk geopen wat niemand kon toemaak nie! (Openb. 3:8). Manne soos Wesley, Whitfield, Hudson Taylor, Moody, Finney, William Booth, C.T. Studd, die Morawiërs, die Broederskap Beweging en Geloofsending organisasies het almal toegesien dat menigtes gered word. Die groot gesange gevul met diep leerstellings, wat Satan sy bes probeer om van ontslae te raak, was in hierdie tyd geskep.
Die boodskap van die hoop op die Here se terugkeer is met vuur en ywer gepreek. God se onderskeidelike planne vir Israel en die Kerk het duidelik geword deur die prediking van lojale manne van God. Die Here se belofte is om hierdie gemeente uit die Verdrukking te hou: ". . . in DIE UUR van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel" (Openb. 3:10).
Die Brief aan Laodicea — letterlik “die volk regeer” (Openb. 3:14-22)
Prakties
Die Here openbaar Homself aan hierdie wêreldse gemeente as "die getroue en ware getuie, die begin van die skepping van God".
Geen aanprysings word uitgespreek nie. Die Here sê, "Ek sal jou uit my mond spuug". Hierdie kerk is nie warm nie en nie koud nie. Dit is materialisties en gemoeid met aardse rykdom, maar God vind dit totaal bankrot, naak en blind. Die enigste oplossing is bekering, anders sal God se straf uitgestort word. Hier staan Christus BUITE die deur van die gemeente. Sy wys dat sy nie Christus nodig het om haar programme te bestuur nie. Sy is selfgenoegsaam en het "niks nodig nie". Dit is 'n gewilde Kerk en weet niks van die "die struikelblok van die kruis" (Gal. 5:11), dit wat kenmerkend is van 'n goddelike Kerk nie.
Die Here se beroep is nie op hierdie Kerk as geheel nie, maar op individue daarin. "As enige man my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek inkom na hom, en sal saam met hom 'n maaltyd nuttig, en hy met my."
Hierdie Kerk het Christus verwerp en God het geen ander keuse as om die Kerk as geheel te verwerp nie. Hy beroep Hom op individuele mense. Die goddelike oorblyfsel (oorwinnaars) sal saam met Hom regeer.
Profeties
Die Laodicea kerk tydperk was ‘n tydperk waar die menslike intellek oorgeneem het. Die Woord van God was vir hulle nie meer die finale outoriteit oor kwessies rakende geloof en gedrag nie. Die Kerk era waarin ons tans is, is besig om op dieselfde manier tot ‘n einde te kom as wat Israel die tydperk van die Rigters afgesluit het “elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (Rigters 21:25).
Die Christendom het ontsettende rykdom verwerf en kan nie meer soos Petrus sê: "silwer en goud het ek nie" (Hand. 3:6). Oneerlike leiers het 'n welvaart Evangelie begin verkondig en uitermatig ryk geword soos wat hulle mense met bedrieglike aansprake op genesings en wonderwerke mislei. Die vermeerdering van moderne weergawes van die Skrif wat op korrupte manuskripte gebaseer is, die aanvaarding van Evolusie (teïsties en andersins), die gebruik van "gospel" rock musiek, die bevordering van vrouens in die amp van Kerkleierskap, die verdraagsaamheid jeens alternatiewe lewenstyle en ekumeniese inklusiwiteit getuig daarvan dat "die volk(mens)” in Christendom “regeer". Die Here is gereed om hierdie Kerk uit Sy mond te spuug!"
DEEL 3: DIE DINGE HIERNA
(Openbaring 4-22)
Ons kom nou by die TOEKOMSTIGE GEBEURE wat na hierdie huidige KERKTYDERK sal volg. Die profetiese gebeure van hierdie tydperk wat ons sal behandel is soos volg:
i) Die Wegraping van die Kerk.
ii) Die Groot Verdrukking op die Aarde.
iii) Die Opkoms, Regering en ondergang van die Antichris.
iv) Israel se 70ste "Week" - die Tyd van Jakob se benoudheid.
v) Christus se Tweede Koms.
vi) Christus se Eenduisend Jaar Vrederyk Koninkryk.
vii) Die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde.
i) DIE WEGRAPING VAN DIE KERK (Openb. 4:1 tot 5:14)
Ons weet dat ons die derde deel van die Openbaring bereik het omdat Johannes 'n geopende deur in die hemel sien en 'n stem hoor sê: "Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur" (Openb. 4:1).
Daar ontvang Johannes dan ‘n voorskou van die toekomstige gebeure, dit wat verby hierdie huidige Kerktydperk strek. Nadat hy sy eie wegraping tot in die Here se teenwoordigheid vooruit in sy visioen gesien het, het hy gesien wat hy en elke lid van die liggaam van Christus sal sien wanneer ons om die troon van God vergader sal wees.
Die stem wat hy gehoor het was nie die van 'n engel nie, maar van die Here Jesus self, "die Alfa en Omega" (Openb. 1:8). "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep" 1 Thess. 4:16. Die Griekse woord vir "roep" is "κελευσµατι" en dui op 'n "gebiedende roep” of 'n roep van aansporing. Die Here gee die bevel "Kom op hierheen!" (Openb. 4:1). Dieselfde bevel word aan twee Joodse profete, wat gemartel word gedurende die Groot Verdrukking, gegee en ons lees: “En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou (Openb. 11:12).
Die Wegraping word elders as volg beskryf:
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17)
“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Kor. 15:51-52).
Hoofstukke 4 en 5 beskryf die toneel in die hemel soos die Kerk reeds rondom die Here en Sy troon van genade vergader is. Daarom kan ons weet dat die Wegraping van die gelowiges eerste sal wees omdat dit beskryf word voor die begin van die Groot Verdrukking wat eers in hoofstuk 6 begin.
Alle aandag word gefokus op die Een wat op die troon sit. Sy voorkoms word beskryf as Jaspis en Sardoniks; wat die laaste en eerste stene op die Joodse hoëpriester se borsplaat is. Petrus sê: "Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar" (1 Pet. 2:7). Esegiël het dieselfde troon gesien: "wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het... met ‘n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag” (Eseg. 1:26-28).
Die reënboog wat die troon omring is die teken van God se verbond van genade met Noag (Gen. 9:13). Dit toon aan dat die Kerk nie voor die Wit Troon van oordeel, soos beskryf in Openbaring 20:11, sal kom nie, maar voor 'n troon van genade! Voor die troon is 'n kristalsee en rondom die troon is vier engelagtige wesens, elkeen met ses vlerke, wat die ewige heiligheid van God verkondig. Voor die troon is "sewe lampe van vuur … wat die sewe Geeste van God is" (Openb. 4:5), en “in die middel van die troon ... staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is" (Openb. 5:6).
Op die vier-en-twintig sitplekke rondom die troon sit ouderlinge met krone op hul koppe. Hierdie ouderlinge is verteenwoordigend van die kerk, want hulle is "uit elke stam en taal en volk en nasie" (Openb. 5:9). Hulle sal sonder twyfel die taak hê om ordelike aanbidding van die heiliges in die hemel te verseker, net soos daar vier-en-twintig groepe priesters aangestel is om die aanbidding van Israel te lei (I Kron. 24: 7-19; Luk. 1: 9, 23). Daar word krone, wat aan die gelowiges beloof is as beloning vir diens, gegee en ontvang. Daar is die kroon van die lewe vir gelowige martelaars (Openb. 2:10; Jak. 1:12); 'n kroon van heerlikheid vir getroue ouderlinge (leraars) (1 Pet. 5:4), 'n kroon van blydskap vir sielwenners (1 Thess. 2:19; Fil. 4:1) en 'n kroon van geregtigheid vir almal wat Sy verskyning liefhet (2 Tim. 4:8).
Hierdie is die onverwelklike krone (1 Kor. 9:25) wat by die Regterstoel van Christus (Bema troon) aan die wat vir Hom gearbei het gegee word. Jesus sê: "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Openb. 3:11).
Die ouderlinge "werp hul krone voor die troon" (Openb. 4:10). Ons arbeid is tot Sy heerlikheid en eer!
ii) DIE GROOT VERDRUKKING OP AARDE (Openb. 6:1 tot 18:24)
Johannes het 'n geseëlde boek met sewe seëls in die regterhand van God gesien. Hy het geween omdat niemand waardig was om die boek oop te maak en te lees nie, niemand om eens daarna te kyk nie. Toe spreek een van die vier en twintig ouderlinge met hom:
“Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek" (Openb. 5:5).
Toe Johannes kyk, sien hy "n Lam asof geslag" wat die boek met die sewe seëls kom neem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Onmiddellik het die wat in die hemel is begin sing en met ‘n groot stem het hulle verklaar dat Hy "die Lam wat geslag is, waardig is om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof” (Openb. 5:12).
Die Leeu van Juda, die Wortel van Dawid, is die Lam wat die toorn van God vir alle menslike sonde gedra het. Hy alleen is waardig om die oordele van die Groot Verdrukking, wat in die boek van die sewe seëls opgeskryf is, te voltrek. Jesus het gesê: “En Hy (die Vader) het Hom (die Seun) mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is” (Joh. 5:27).
Daniël het hierdie oordele wat sou kom "verseël" (Dan. 12:4, 9), tot die "tyd van die einde", en nou lees ons hoe die Lam elkeen van die sewe seëls van die oordele van die Groot Verdrukking sal oopmaak.
Die Eerste Seël: ‘n Ruiter op 'n wit perd gaan as oorwinnaar uit om te oorwin (Openb. 6:1-12). Hy het 'n boog, maar geen pyle nie, en 'n kroon word aan hom gegee. Ander Skrifgedeeltes toon dat sodra die Kerk weggeraap is, die "man van sonde” geopenbaar sal word (2 Thess. 2:3-9). Hierdie openbaring en oorwinning is vredevol en 'n vervalsing van Christus se verskyning (Openb. 19:11). Paulus het die volgende geskryf oor die Dag van die Here: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle..." (1 Thess. 5:3).
Daar word in die Bybel van die groot anti-tipe van die Antichris, Antiogos Epifanus geskryf, dat hy "deur vrede ...talle sal vernietig" (Dan. 8:25).
Die Verdrukking sal met 'n groot vredesbeweging begin wat 'n sewe jaar verbond met Israel insluit (Dan. 9:27), maar hy, die Antichris, sal die verbond halfpad deur die sewe jaar verbreek. (Sien afdeling 2)
Die Tweede Seël: ‘n Ruiter op 'n rooi perd verskyn en sal vrede van die aarde wegvat. 'n Toestand van anargie sal heers en mense sal mekaar doodmaak
(Openb. 6:3-4).
Die Derde Seël: 'n Ruiter op 'n swart perd verskyn met 'n weegskaal om basiese voedsel af te meet; hierdie dui seël op hongersnood. (Openb. 6:5-6).
Die Vierde Seël: ‘n Ruiter op 'n vaal perd verskyn met die mag om een kwart van die wêreld se bevolking te dood. As die wêreldbevolking 6 biljoen mense is dan beteken dit dat die dodesyfer, in hierdie tyd, 1,5 biljoen sal bereik! (Openb. 6:7-8).
Die Vyfde Seël: Die siele van martelaars bid vir vergelding. Aan hulle is gesê om "nog 'n klein tydjie te wag". Die Groot Verdrukking sal net vir kort tydperk van sewe jaar duur (Openb. 6:9-11).
Die Sesde Seël: 'n Groot aardbewing en ‘n meteoriet tref die aarde. Die son en die maan verdonker en die eilande verskuif. Mense skuil in grotte en roep uit vrees uit vir hierdie Dag van die Here, en die toorn van die Lam (Openb. 6: 12-17).
Die Sewende Seël: Nog sewe oordele word hiermee aangekondig. Die Sewende Seël is die sewe basuin oordele en volg op die sewe seël oordele. Sommige mense reken hierdie is eenvoudig dieselfde as die seël oordele, maar net in groter detail. Dit kan egter nie die geval wees nie omdat die sewende seël al sewe die basuin oordele bevat. Ons sal ook sien dat die sewende basuin nog ander oordele aankondig. Die sewe seëls word gevolg deur sewe basuine, wat weer op hul beurt gevolg word deur die sewe skale oordele die "sewe laaste plae".
Elkeen van hierdie oordele is daarom in volgorde en word erger soos die Groot Verdrukking vorder (Openb. 8:1-6).
Sewe engele word basuine of trompette gegee om te blaas. Elke trompet is 'n ander oordeel, en hierdie oordele is in reaksie op die gebede van die martelaars (Openb. 8:3-5). Jesus het gesê, "Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie... Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen" (Luk. 18:7-8). Na die Wegraping sal enige een wat hom tot God wend uiterste vervolging ondervind.
Die Sewe Basuin Oordele
Die volgende is 'n kort oorsig van die volgende fase van die Groot Verdrukking. Die eerste vier basuine sal een derde van die aarde affekteer. Ons word nie vertel watter derde nie.
Die Eerste Basuin: Hael, vuur en bloed, en 'n derde van alle gras word verbrand. Hierdie vuur sal wêreldwyd wees en van reuse omvang (Openb. 8:7).
Die Tweede Basuin: 'n Groot berg wat met vuur brand word in die see gewerp. Een derde van die see verander in bloed. Seelewe en skepe word vernietig (Openb. 8:8).
Die Derde Basuin: Bring 'n groot ster, moontlik 'n asteroïede, in botsing met die aarde. Die riviere en waterstelsels word besoedel en vele mense sterf (Openb. 8:10).
Die Vierde Basuin: ‘n Derde van die son, maan en sterre word getref en veroorsaak dat die lig gedurende die dag en nag met ‘n derde sal verminder word. Die klimaat sal sonder twyfel verandering ondergaan (Openb. 8:12).
Die vyfde, sesde en sewende basuine word as drie Wee of ellendes beskryf “Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon”. Die laaste Wee is die sewende basuin – die sewe skale van oordele.
DIE EERSTE WEE
Die Vyfde Basuin: ‘n Engel open die bodemlose put. Demone, wat soos sprinkane lyk, maak hul verskyning (Judas 6 en 2 Pet. 2:4). Satan sal vir ‘n kort tydperk voor die duisendjarige Vrederyk die volle hoeveelheid demoniese magte tot sy beskikking hê om teen Christus te veg (Openb. 9: 1-12).
DIE TWEEDE WEE
Die Sesde Basuin: Die grootste leër op aarde ooit kom bymekaar. Die leër is 200 miljoen man sterk en is verantwoordelik vir die dood van een derde van die mensdom. Hierdie operasie word vir 'n spesifieke tyd demonies georganiseer. Mense sal egter steeds nie van hul afgodery en sondes bekeer nie (Openb. 9:13-21).
DIE DERDE WEE
Die Sewende Basuin kondig die koninkryk van God aan. Dis tyd vir God om dié te vernietig wat die aarde vernietig het. Die oes tydperk het aangebreek en die koninkryke van die aarde sal gedwing word om hulleself aan Christus te onderdanig. Die sewende basuin voltooi profesie rakende die koms van die Here en kondig die begin van die sewe skale aan (Openb. 10: 7-11, 11: 15-19, 15: 1-8).
Die Sewe Skaal Oordele
Die skale word beskryf as "die sewe laaste plae" (Openb. 15:1 en 21:9) Hierdie oordele bring ons tot by die tweede 3½ jaar van die Groot Verdrukking.
Die Eerste Skaal: Bose swere kom op die mense wat die merk van die dier ontvang het en sy beeld aanbid het (Openb.16:2).
Die Tweede Skaal: Die see verander in bloed, en al die lewende wesens in die see sterf (Openb. 16:3).
Die Derde Skaal: Die riviere en drinkwater word in bloed verander as straf vir die bloedvergieting van die heiliges (Openb. 16:4 -7).
Die Vierde Skaal: Die son word geoordeel! Mense word deur die hitte verskroei, maar hulle wil steeds nie bekeer nie (Openb. 16:8-9).
Die Vyfde Skaal: Die koninkryk van die Dier word gevul met donkerte en siektes, maar steeds bekeer hulle nie (Openb. 16:10-11).
Die Sesde Skaal: Die Eufraatrivier droog op vir die leërs van die konings van die Ooste om sodoende na Armageddon te kan gaan (Openb. 16:12-16).
Die Sewende Skaal: 'n Groot aardbewing laat die stede van die nasies val en die Verborge Babilon word geoordeel (Openb. 16:17-21; hfst.17 en 18).
iii) DIE OPKOMS, REGERING EN ONDERGANG VAN DIE ANTICHRIS (Openb. 6:1-2, 13:1-18, 17:1-18, 19:19-20)
As die wegraping plaasvind en die Heilige Gees daarmee saam verwyder word, as gevolg van die inwoning van die gelowige, sal alle hindernisse wat die "verborgenheid van ongeregtigheid" teëhou, nie meer daar wees nie (2 Thess. 2:7). Die afvallige en ongelowige ‘Kerk’ wat agterbly sal voortgaan om die herleefde Romeinse Ryk, of die Europese Unie soos dit vandag bekend staan te ondersteun. Die heersers van die dag sal dan moet verklaar waarom daar miljoene vermiste mense is wie se klere agtergelaat is. Die agterlaat van die klere by die wegraping sal as 'n getuienis dien net soos Jesus se klere wat in die grafkelder agter gelaat is na Sy opstanding. Die Midde-Oosterse krisis sal opgelos moet word, en Israel sal onder uiterste bedreiging kom van die opkomende Islamitiese fundamentaliste wat in samewerking met Rusland sal werk.
Die Opgang van die Antichris (Openb. 6:2)
Die Antichris sal onmiddellik na die wegraping verskyn as die ruiter op die wit perd met 'n boog (militêre vermoë) in sy hand, maar geen pyl nie (in vrede). Met sy eerste vredesinisiatief "sal hy een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit (sewe jaar lank)" (Dan. 9: 27). (Sien Deel 2). Hy sal as vredemaker oplossings vir vele van die wêreld se kwellende probleme bied. Hierdie sterk verbond of verdrag, sal Israel insluit, maar halfpad deur die 7 jaar sal die Antichris die verdrag verbreek en ‘n inbraak maak op die Joodse Tempel en die wyse van aanbidding: "hy sal slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels (afgodery) sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word" (Dan. 9:27).
Die Antichris sal uit die herleefde Romeinse Ryk kom, want ons lees in Dan. 9:26 "die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad (Jerusalem) en die heiligdom (die Tempel) verwoes". Die feite van geskiedenis vertel dat Romeinse leërs Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. verwoes het, en daarom moet die Antichris hierdie vors wees; met ander woorde ‘n Romeinse vors wees.
Die Antichris word ook gesien as die "die klein horinkie" wat op die kop van die vierde dier in Daniël se visioen voorkom, soos aangeteken in Dan. 7. Hierdie vierde dier verteenwoordig die "vierde koninkryk op die aarde" (Dan. 7:23): Babilon is die eerste, Medo-Persië die tweede, die Grieke die derde, en die Romeine die vierde. Die Romeinse koninkryk bly onafgebroke tot op die dag van Christus se tweede koms en die heiliges van God wat sal heers: "hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye (aardse regerings) sal hulle vereer en gehoorsaam wees" (Dan. 7:27).
Die Antichris sal heers oor die finale fase van die Romeinse Ryk wat ons bymekaar sien kom onder die banier van die Europese Unie (EU). Hy sal onmiddellik na die Wegraping verskyn en ‘n 7 jaar verbond met Israel bevestig.
(Sien Deel 3).
Die Heerskappy van die Antichris (Openb. 13:1; 17:1-18)
Gedurende hierdie tydperk sal twee ‘diere’ op die wêreldtoneel verskyn. Die eerste kom uit die see en ontvang die mag, troon en outoriteit van die draak; wat Satan is (Openb. 12:9). Hy word gesien as die dier met sewe koppe, tien horings, 'n mond soos 'n leeu, voete soos ‘n beer en 'n liggaam soos 'n luiperd. Hier herken ons die ooreenstemmende eienskappe van die vier diere in Daniël se visioen (Dan. 7).
Die vernaamste verskil tussen Daniël se dier en die bogenoemde is "Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit" (Openb. 17: 9). Die vrou, soos ons sal sien, is die afvallige Christendom (Openb. 17: 1-18, Ef. 3: 3-9, Rom. 16: 25-26, Kol. 1: 24 -27).
Die Antichris sal, as gevolg van die wonderwerke wat hy en die valse profeet sal doen, deur mense van dwarsoor die wêreld aanbid en gevolg word. “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openb. 13:13). Hy sal militêre mag hê en daar sal gesê word: “Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openb. 13:4). Hy sal God en die tempel belaster, en teen die gelowiges draai (Openb. 13:7).
Die Antichris sal 'n politieke staatshoof wees, maar net soos die Keisers aanbidding en offerandes afgedwing het sal "die man van sonde . . . die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" ook doen (2 Thess. 2: 4).
Om sy nuwe godsdiens te administreer sal hy ook ‘n hoof priester hê — die Valse Profeet (die tweede dier).
Halfpad deur die sewe-jaar verdrag met Israel sal die Antichris:
1) 'n Verandering van hart ondergaan en draai teen die afvallige Christendom, hulle wat hom gehelp het om sy mag te bekom (die hoervrou, Openb. 17), en die Antichris sal haar met vuur verbrand (Openb. 17: 16-18).
2) Sy verbond met die bekeerde nasie van Israel verbreek (Sien Deel 4), en begin om die volk genadeloos te vervolg.
3) Die herboude Tempel in Jerusalem inneem en die "die gruwel (afgod) van die verwoesting," opstel (Matt. 24:15, Dan. 9:27, Dan. 11:36 - 39).
4) Beheer neem oor alle kommersiële en ekonomiese aktiwiteite. Sy merk “666” sal aanvaar moet alvorens enige een kan koop of te verkoop (Openb. 13:16-17).
Hierdie godslasterlike regering sal ‘n tydperk van twee-en-veertig (42) maande of een-duisend-twee-honderd-en-sestig (1260) dae, of drie en 'n halwe jaar in beheer wees (Openb. 13:5; Openb. 12:6, 14) voordat Christus weer kom.
Die Sewe Koppe (Openb. 17: 9-10)
Die sewe koppe is ook beskrywend van sewe konings (of koninkryke) wat sal regeer. Vyf daarvan het tot en met die dae van Johannes by ‘n einde gekom. Een het gedurende die tydperk van Johannes geheers, en een moes nog kom, en 'n agste een, die Antichris self, is nog toekomstig.
Hierdie dier wat uit die see kom is simbolies van die Heidennasies (Dan. 7:2-3). Hy is die finale Heidense wêreld heerser en sal die; "tyd van die nasies (Heidennasies)" voltooi (Luk. 21:24). Die sewe koppe verteenwoordig daarom die volgende:
“Vyf het geval" — Assirië, Egipte, Babilon, Persië, en Griekeland (geskiedenis).
"Een is" — Rome was in die tyd van Johannes aan die stuur van wêreldsake en het voortgeduur tot 1804 in die vorm van die Heilige Romeinse Ryk. Pogings om dit te herleef deur Napoleon, Kaiser en Hitler het egter gefaal.
“Een wat nog moet kom” – Hierdie toekomstige een sal egter vir “'n kort rukkie" duur. Dit is moontlik dat hierdie Herleefde Romeinse Ryk in ons tyd as die EU verrys.
Die Antichris is die agste heerser en sal by Christus se tweede koms saam met die valse profeet in die verderf, "'n poel van vuur", gewerp word (Openb. 19:20).
Die Tien Horings (Openb. 13:1, 17:3 en 12)
Die tien horings verwys na die "tien konings" waaruit die Antichris se koninkryk sal bestaan. "Die tien horings ... is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier" (Openb. 17:12).
Die Herleefde Romeinse Ryk is op die oomblik besig om interne grense tussen lidlande, onder die Schengen Ooreenkoms, te laat verdwyn, en gesprekke vind plaas oor hoe die EU in streke opgedeel kan word. Sodra die bevolking van die EU 500 miljoen mense bereik, wat Oos-Europese lande insluit, sal dit nodig wees om die geheel in hanteerbare gedeeltes op te deel. Dit kan daartoe lei en is moontlik dat Europa in tien state verdeel word en verantwoording sal moet doen aan 'n sentrale hoof — die Antichris.
Die Valse Profeet (Openb. 13:11-18)
Jesus het teen groot misleiding in die laaste dae gewaarsku. Hy het van "valse Christusse" (Matt. 24:5, 24) en "valse profete" (Matt. 24:11, 24) gepraat. Hy het gesê hulle sal "groot tekens en wonders verrig". Dit sal gedurende dieselfde tyd wees wat “die gruwel van verwoesting” homself in die Tempel oprig. Al hierdie dinge sal tydens die Groot Verdrukking, onmiddellik vóór die terugkoms van die Here, plaasvind.
Die hedendaagse valse profete volg dieselfde patroon. Hulle bemoei hulself met tekens, genesings, wonderwerke, val-en-lag in die gees, praat in tale, die uitdryf van demone, die skep van profesieë as woorde van God, ensovoorts. Al hierdie dinge berei die wêreldling voor vir die laaste ‘geloofsgeneesheer’ en persoon wat bonatuurlike wonders sal doen, en sy valse profeet. Hy sal so oortuigend wees dat hy sonder goddelike ingryping die uitverkore volk van Israel sal laat glo dat hy die beloofde Messias is.
Jesus het gesê, "Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!" (Matt. 7:22-23).
Die Hoervrou (Openb. 17:1-18; 18:1-24; 19:1-3)
Die dier met sewe koppe en tien horings word gesien waar hy deur 'n hoervrou gery word. Sy is getooi in "goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery" (Openb. 17:4). Die identifisering van die vrou is duidelik uit die volgende leidrade.
1) Sy is internasionaal (wêreldwyd). Sy sit op "baie waters" wat die "volke en menigtes en nasies en tale is" (Openb. 17: 1, 15).
2) Sy is polities ingestel. "met wie die konings van die aarde gehoereer het" (Openb. 17: 2).
3) Sy is uitermatig ryk. Sy is "bekleed met goud en versier met kosbare stene en pêrels" (Openb. 17: 4), en sodra sy vernietig is sal handelaars uitroep, "sulke groot rykdom het tot niks gekom nie" (Openb. 18: 17).
4) Sy is goddeloos en afvallig. Haar naam is "Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde" (Openb. 17: 4-5). Afgodery het in Babilon begin, en die goue beker in haar hand is simbolies daarvan. Die Roomse Mis is ‘n lasterlike, afvallige offer en vorm die kern van afvallige Christendom (Openb. 17: 4-5).
5) Sy is skuldig aan die bloed van die martelaars van Jesus. "dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus" (Openb. 17: 6). Die Kerk van Rome het getroue gelowiges vir meer as 1000 jaar geslag! Haar geskiedenis is in bloed geskryf.
6) Haar hoofkwartier is in Rome. Rome is die stad op "sewe heuwels" (Openb. 17: 9) en "is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde" (Openb. 17: 18).
Die vlag van die Europese Unie bevat die twaalf sterre van die maagd Maria, en die EU word beskryf as "Vesting van Europa". Turkye is toegang tot die EU geweier omdat dit 'n Moslem land is en nie deel van Europa se sogenaamde "Christen Klub" vorm nie. Die Ortodokse Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel, Bartholomeüs, het verklaar: "Om die eenheid van Europa te bewaar is die nommer een plig van alle Christene vandag."
Na die Wegraping sal daar niks wees om die vorming van een wêreldkerk te verhinder nie en Rome sal hierdie wêreldkerk se leier wees. Maar uiteindelik sal die Antichris nie sy politieke aktiwiteite of godsdienstige mededinging verdra nie, en sal haar met vuur verbrand (Openb. 17:16-17). Die afgryslike oordeel wat op haar gaan kom word in Openbaring hoofstuk 18 beskryf.
Die Ondergang van die Antichris (Openb. 19:20)
Met Christus se koms, "is die dier gevange geneem, en saam met hom die valse profeet ... Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. (Openb. 19:20) Ander skrifgedeeltes wat die oordeel van Antichris beskryf word op bladsy 70 genoem.
Die Groot Verdrukking – Kenmerkend Joods
Israel sal as God se getuies die hoofrolspelers gedurende die Groot Verdrukking wees.
1) Daar word vanaf hoofstuk 6 tot hoofstuk 18, met ander woorde in die Groot Verdrukking, geen melding van die Kerk op aarde gemaak nie,.
2) Israel, die Tempel, Jerusalem, en Joodse profete word in hierdie hoofstukke genoem (Hoofstukke 7, 11, 12, en 14)
3) In Openbaring 7 word martelaars beskryf as diegene wat "wat uit die groot verdrukking kom," (Openb. 7:14). Die spesifieke lidwoord "die" kom in die Grieks voor. Die gebeure wat vanaf hoofstukke 6 tot 18 beskryf word is die "dag van die Here", of die Groot Verdrukking waarvan Jesus in Matt. 24:21 en 29 praat.
4) Die Bergpredikasie beskryf die Groot Verdrukking en is geheel en al Joods in karakter veral omdat die kerk tydperk eers 55 dae later begin nie. Daaruit kan ons leer dat die tydperk van die Groot Verdrukking voor Christus se tweede koms sal plaasvind; met verwysing na Jerusalem, Judea, die heilige plek, en die sabbatdag. "Onmiddellik na die verdrukking van daardie dae sal die son verdonker... en DAN sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn..." (Matt. 24: 29).
5) Die terugkeer en bevryding van Israel word elders verbind met oordele wat in die laaste dae sonder gelyke sal wees. Jeremia sê, "want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem. ...Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word" (Jer. 30:3-7).
6) Daniël skryf ook oor die Groot Verdrukking en verbind dit met Israel se bevryding. "En in dié tyd ... sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar IN DIE TYD sal jou volk gered word" (Dan. 12: 1).
7) Ander skrifgedeeltes praat van 'n Joodse Tempel gedurende die Dag van die Here (Groot Verdrukking), waarin die Antichris ‘n afgod vir aanbidding sal oprig: "Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval (letterlik die "vertrek!") kom en die mens van sonde geopenbaar word ... wat ... hom verhef ... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess. 2:3 - 4). In Matt. 24:15 lees ons ook van die "gruwel van die verwoesting" wat tydens die Groot Verdrukking in die Joodse Tempel ("die heilige plek") opgerig gaan word.
Die Antichris sal halfpad deur die Verdrukking die “offer en offerande” wat gebring word staak (Dan. 9:27). Dit impliseer dat Israel in daardie stadium reeds in hulle land hervestig sal wees en reeds weer met Tempel aanbidding sal begin het. Die Kerk sal verseker nie die Tempel bou of offerandes bring nie. Dit móét Israel wees! Vir 'n volledige bespreking van die "70 Weke" van Israel profesie verwys na Deel 2.
Hierdie skrifgedeeltes en baie ander verbind Israel met die Groot Verdrukking tydperk en met die tweede koms van Jesus Christus om oor die aarde te regeer. Dit is daarom nie verrassend dat aansienlike detail in Openbaring gevind word oor Israel as God se getuie in die kort tydperk voor Christus terugkeer nie.
144,000 Joodse Getuies
Openbaring 7 beskryf die verseëling van 144,000 "dienaars van God"; wat uit die 12 stamme van Israel (Openb. 7:1-8) kom. Die Vader plaas Sy seël op hul voorhoofde as beskerming teen die oordele van God wat gereed sal wees om op die aarde neer te daal. Dit dui daarop dat die Groot Verdrukking nie dieselfde is as die verdrukking wat Christene in die kerktydperk ondervind nie. Christene word wêreldwyd vervolg, maar die Groot Verdrukking is ‘n spesifieke tydperk van die oordeel van God. Iets soortgelyk het in Esegiël se tyd gebeur toe hy 'n visioen gesien het van God se oordeel wat spoedig op Jerusalem sou neerkom. ‘n Man met ink word aangesê om 'n merk te plaas op elke man in Jerusalem wat "sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word" (Eseg. 9:14). Ses manne met swaarde het deur die stad gegaan, en slegs diegene met die merk is gespaar!
Hierdie uitgesoekte Jode kan alleenlik die taak verrig om in so 'n kort tydperk die Evangelie van die komende koninkryk regoor die wêreld te verkondig. Die Jode is wêreldwyd versprei en een van die mees veeltalige mensegroepe op die aarde. Jesus het gesê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom (Matt. 24:14).
Die resultaat van hul prediking sal daartoe lei dat vele mense tot bekering kom en as martelaars sterf: "daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon (in die hemel) ... En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit [die] groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam (Openb. 7:9-17).
Die Konstruksie van die Tempel (Openb. 11:1-13)
In Openbaring 11 word opdrag gegee om die tempel in Jerusalem te meet en te bou. Aan Johannes word gesê: "Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap" (Openb. 11:1b -2).
Dit impliseer dat die Tempel in die oop ruimte langs die Koepel van die Rots Moskeë gebou sal word, die presiese plek waar die fondasie van Herodes se Tempel alreeds gevind is. Die Jode beplan reeds om die Tempel te bou en hulle het die heilige halwe-sikkel kollekte het in 1997 vir hierdie doel begin (Sien Deel 5).
Die Twee Joodse Profete (Openb. 11:3 -13)
Twee Joodse Profete (getuies) word met die bou van die Tempel en die herinstelling van Tempel aanbidding geassosieer. Hulle moet vir 1,260 dae (3½ jaar) ‘n getuienis wees. Hulle sal in-sak-en-as sit om aan te dui dat Israel tot berou geroep word.
Ons lees dat: "hulle die twee olyfbome en die twee kandelare is wat voor die God van die aarde staan" (Openb. 11:4).
Hierdie gedeelte is ‘n ooglopende verwysing na die "twee olyfbome" in Sagaria se profesie in hoofstuk 4. In hierdie geval word die Tempel herbou na die Babiloniese ballingskap wat, weens teenkanting van die Samaritane, gestaak moes word. Die Samaritane het 'n internasionale dekreet van die Persiese heerser Artasásta verkry om die werk aan die tempel te staak (Esra 4: 21). God het twee Geesvervulde profete, Haggai en Sagaria, opgerig om die volk aan te moedig om die Tempel te voltooi en die Persiese dekreet te verwerp. Die dekreet is op die ou einde tydens die regering van Darius omgedraai tot voordeel van die bouprojek en die Tempel is in 516 v.C. voltooi; twintig jaar na die begin van die bouprojek.
Hierdie twee Olyfbome verskaf olie aan die kandelaar, en ons lees: " En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan" (Sag. 4:14). Gedurende die Groot Verdrukking sal daar twee soortgelyke getuies (profete) wees wat Israel sal oortuig om ten spyte van alle internasionale teenkanting voort te gaan om die Tempel te bou. Sedert 2005 kan geen Jood meer op die Tempelberg aanbid nie. Hierdie situasie sal egter, net soos in die dae van Sagaria, verander word sodat die Tempel gebou kan word.
Sommige mense suggereer dat hierdie twee profete dalk Moses en Elia is weens ooreenkomste in die wonders wat hulle verrig het. Dis egter meer waarskynlik dat dit twee Joodse profete vanuit die 144,000 evangeliste en meer spesifiek uit die stam van Levi sal wees.
Dit is interessant dat die nasionale simbool van die nasie Israel, sedert 1948, die kandelaar (sewe lampe) en twee olywe is, net soos dit in Sagaria 4 beskryf word!
Die twee profete word uiteindelik deur die Antichris gedood. Hulle liggame sal vir drie en 'n half dae êrens in 'n strate van Jerusalem lê. Die aarde wat mislei word deur die Antichris se wonderdade sal bly wees en sy "oorwinning" oor God se dienaars vier. Hierna lees ons egter dat die profete uit die dood opgewek sal word! "En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou. En in dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom... en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring" (Openb. 11:12-13).
Hierdie Skrifgedeelte kan nie vergeestelik word nie, want ons lees: "en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad ... waar ook onse Here gekruisig is" (Openb. 11:8).
Ons weet ook dat Jesus Christus ons Here in Jerusalem gekruisig is en dat die dinge wat beskryf word dus letterlik geïnterpreteer moet word!
Israel se Geskiedenis van die Begin tot Einde (Openb. 12:1)
Openbaring 12 bied ons 'n panoramiese beeld van die nasie Israel - beskryf as 'n vrou: "‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre" (Openb. 12:1).
Die vrou skenk geboorte aan 'n "manlike kind" wat bestem is om "al die nasies met 'n yster septer te regeer". Ten tyde van die kind se geboorte probeer die draak, "die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei", hom vermoor, maar hy word weggeruk na God en Sy troon.
Die volk Israel word as die vrou uit wie Jesus voortgespruit het voorgestel. Satan het reeds Jesus as kind probeer doodmaak. Hy sal eendag "alle nasies regeer met 'n ysterstaf ". Dawid skryf in die Psalms: "U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek sal nasies (heidene) gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting... U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot" (Ps. 2:7-9).
Die nasie van Israel word in die Bybel geïdentifiseer met die son, maan en sterre. In Genesis lees ons dat Josef 'n droom gehad het en sy broers daarvan vertel het: Kyk, ek het nog ‘n droom gehad — die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig ... sy vader het hom hard bestraf en aan hom gesê ... moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?" (Gen. 37:9 -10). Die son het Israel voorgestel, die maan Josef se moeder, en die twaalf sterre die kinders van Israel. Om Skrifgedeelte met Skrifgedeelte te vergelyk is die enigste manier om die betekenis van die simbole in die Bybel waar te neem en te onderskei.
Paulus het die volgende oor Israel geskryf: "aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees, Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen" (Rom. 9: 5).
'n Gaping in Israel se Geskiedenis
Verder lees ons in Openbaring 12 dat "die vrou na die woestyn gevlug het waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend twee honderd en sestig dae lank" (Open. 12:6), (1,260 dae = 42 maande = 3½ jaar). Hierdie tydperk verwys ongetwyfeld na die tweede helfte van die 7 jaar Groot Verdrukking; nadat die Antichris die "slagoffer en spysoffer" in die middel van die "week" laat ophou” het (Dan. 9: 27).
Dit is opmerksaam dat hier niks oor Israel se geskiedenis oor die tydperk vanaf die hemelvaart van Christus tot en met die laaste sewe jaar net voor Christus se Tweede Koms, gesê word nie! Waarom, is die vraag? Die antwoord moet konsekwent wees met al die ander dele van profesie wat verklaar dat hierdie tydperk as die verborgenheid of geheimenis tydperk van die Kerk bekend staan: “die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is” (Rom. 16: 25).
Die onvermoë of versuim om hierdie gaping te herken maak dit onmoontlik om Bybelse profesieë korrek te verstaan en te verklaar.
Israel in die Verdrukking (Openb. 12:6 -17)
Die tweede helfte van die Groot Verdrukking sal vir Israel ‘n afgryslike tydperk wees. In hierdie stadium het Israel reeds tot bekering gekom en glo hulle in Jesus Christus as die Messias, maar Satan is steeds losgelaat op die aarde. Die geloof van Israel in die aangesig van hierdie afgryslike tydperk van slagting is onwrikbaar en God verklaar oorlog uit die hemel. "Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp... En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie" (Openb. 12:10-11).
Net 'n kort tydjie bly oor en Satan se toorn sal ontvlam teen Israel. "En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou" (Openb. 12:17).
God sal spesiale bystand aan Sy volk verleen wat in die vorm van ‘n skuiling in die wildernis sal wees (Openb. 12:14). Sommige glo dis die stad van Petra of elders in die grotte van die wildernis van Judea. Die Antichris sal probeer om hulle op te spoor, maar dit sal misluk (Openb. 12:15-16). Soos Jesus gesê het: "ter wille van die uitverkorenes (i.e. ter wille van Israel) sal daardie dae verkort word" (Matt. 24:22). As Satan Israel totaal kon vernietig sou God se doel om 'n koninkryk op aarde te vestig en om Sy beloftes aan Abraham en sy saad te vervul tot niet gegaan het.
v) CHRISTUS SE TWEEDE KOMS (Openbaring 19:1-21)
Die Groot Verdrukking sluit af met die verskyning van Jesus Christus in die wolke en die "Halleluja" koor sal gehoor word.
Christus sal kom as Lam en Bruidegom (verse 7 en 9), Getrou en Waaragtig (v.11), Die woord van God, (v.13), en Koning van die konings en die Here van die here (v.16). Die swaard wat vanuit Sy mond kom sal die nasies wat "saamtrek om teen Hom oorlog te maak" (v.19) verslaan, en die dier en sy valse profeet "word in die poel van vuur gewerp" (v.20). Christus se oorwinning is finaal. Vele skrifgedeeltes beskryf die Dag van God se verskyning en help ons om die omvang van die gebeurtenis beter te verstaan. Geen enkelvoudige gedeelte van die Bybel kan alle aspekte van Sy oorwinning beskryf nie.
Hierdie gebeure moet ook vanuit die perspektief van die Kerk gesien word, wat sopas vanaf die Regterstoel (Bema) van Christus af kom, waar hulle belonings vir diens ontvang het: "Die bruid het haarself gereed gemaak" (Openb. 19:7). Sy kom saam met haar Bruidegom na die bruilofsmaal van die Lam. In hierdie tyd sal Hy kom "om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind" (2 Thess. 1:10). Dit is gewis moeilik om ons voor te stel hoe hierdie groot menigte van geredde siele saam sal lyk, maar die opwinding van so 'n samekoms sal die verstand te bowe gaan.
Hoe gaan dit wees? Die apostels, 'n menigte van martelaars, getroue sendelinge, en gewone Christene soos ek en jy sal in die volmaaktheid van Christus vertoon word; "maar ons weet dat ons... aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is" (1 Joh. 3:2). In die hemel sal nie net Sy heerlikheid vertoon word nie, maar ook die bewyse van Sy genade. Miljoene vrygekoopte siele wat uit die put van sonde gelig is sal ewige getuienisse lewer "tot lof van die heerlikheid van sy genade" (Ef. 1:6).
Soos A.T. Pierson dit gestel het (vry vertaal uit Engels):
“Almal van hul; sondaars bevlek in Sy blik,
Maar nou geklee in ‘n reine kleed, tot Sy eer klink hulle lofprysing saam:
Aan Hom wat ons lief gehad het en gewas het van sonde,
Aan Hom behoort die heerlikheid, vir ewig. Amen”.
Ontelbare engele sal op daardie dag toeskouers wees. Migael, Gabriël, Serafs, en Gerubs, en dienende geeste wat gewaak het oor die erfgename (kinders) van die verlossing sal hul blik op die Here van die heerlikheid rig! Die toneel op aarde sal egter totaal anders wees. Die leërs van die nasies sal teen Jerusalem versamel (Sag. 14:2-3) en die woede (en raserny en gramskap) van die konings van die aarde sal vertoon word. Daar ontmoet twee leërs; die leër van die Koning van konings teen dié van die konings van die aarde (Open. 19:19). Hierdie sal die hoogtepunt van Antichris se woede teen Christus wees, "teen die HERE en teen sy Gesalfde" (Ps. 2:2), maar oor die uitslag is daar nooit twyfel nie.
“Dan sal die HERE uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg...” (Sag. 14:3-4).
“En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige” (Openb. 19:15).
Jesaja skets hierdie konflik grafies: "Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos ... Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie ... Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom" (Jes. 63:1-4).
Israel sal die Here se verloste volk wees, wagtend op hul Messias. Eers in rou gedompel (Sag. 12:10) terwyl hulle nadink oor hoe hulle Hom aan 'n Romeinse kruis vasgespyker het. Die spyker merke sal nog steeds sigbaar wees: “En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13: 6).
Dan sal hartseer in vreugde en blydskap verander word, en 'n geroep al opgaan: "Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp" (Jes. 25: 9). "In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ‘n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar! U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U. Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is ‘n ewige rots" (Jes. 26: 1- 4).
Baie van die Psalms sal 'n nuwe betekenis verkry nadat die Here gekom het. Israel sal Psalms kan sing: "God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela ... Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe ... Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand. Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde" (Ps. 46:1-11).
Die Oordeel van die Lewende Nasies (Matt. 25:31 - 46)
Gedurende die Groot Verdrukking sal daar drie klasse mense op aarde wees:
1) Die Joodse nasie. (Die Here se "broers" Matt. 25:40)
Die 144,000 sal hul tot die Here wend en die Evangelie van die Koninkryk verkondig. Later, gedurende die Verdrukking wanneer die Russies-Moslemse nasies die land inval, sal die hele nasie na die Here bekeer. "En die huis van Israel sal weet dat Ek die HERE hulle God is, van dié dag af en verder" (Eseg. 39:22). As Christus kom sal elke oorlewende van die nasie van Israel gered word (Rom. 11:26-27). En hulle sal wag en kyk vir hul Here om terug te keer.
Baie Joodse gelowiges sal vir hul geloof in Jesus Christus doodgemaak word. Dit sluit die 144,000 dienaars van God in, hulle wat in die hemel gesien word waar hulle 'n nuwe lied "voor die troon" sing terwyl die Groot Verdrukking voortduur (Openb. 14:1-5).
2) Die Geredde Heidene
Vele heidene sal deur die getuienis van gelowige Jode gered word. Gedurende die Groot Verdrukking sal hierdie heidene die Joodse getuies wat vervolg word met kos en klere ondersteun, in gevangenisse besoek en in siekte bystaan. Hulle sal weier om die afgod van die Antichris te aanbid of om sy merk op hul hand of voorkop te plaas.
'n Groot aantal geredde Heidene sal as martelaars vir Christus sterf, ons sien hulle "voor die troon, en voor die Lam, geklee in wit klere" (Open. 7:9-10). Hulle word aan die einde van die Groot Verdrukking, as deel van die eerste opstanding, opgewek. Ons lees van hulle in Openbaring 20: "En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank" (Openb. 20:4).
3) Die Ongeredde Heidene
Hierdie mense sal dié wees wat die Antichris volg, sy merk aanneem, en sy afgodsbeeld aanbid: "As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk ontvang... sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God... sal gepynig word met vuur en swawel... tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang" (Openb. 14:9-11).
Die Heidene wat die Groot Verdrukking oorleef sal voor God by die troon van "Sy heerlikheid" staan (Matt. 25:31). Daar sal hy die skape van die bokke skei nadat Hy sy "uitverkore" volk Israel bymekaar gemaak het (Matt. 24:31). Die bewys van die verlossing van die “skape” lê in die feit dat hulle die Here se volk bygestaan het: "Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk... vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen" (Matt. 25:34-40).
Die bokke sal in "'n ewige vuur" ingaan. Hulle het in geen manier nie Joodse of Heidense gelowiges bygestaan nie: "vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie" (Matt. 25:45).
vi) CHRISTUS SE EENDUISEND JAAR VREDERYK KONINKRYK
(1,000 Jaar van Vrede - Openb. 20)
Menigtes van mense bid die “Onse Vader” al vir amper 2000 jaar lank, maar hier in die Vrederyk sal hierdie gebed uiteindelik ten volle beantwoord word. "Laat U koninkryk kom. Laat u wil geskied op aarde, soos ook in die hemel" (Matt. 6:10). Hierdie koninkryk sal ‘n 1000 jaar duur en word ses keer, in die besonder, in Openbaring 20:2-7 genoem:
1) Satan sal vir ‘n 1000 jaar gebind wees (v.2);
2) Satan sal vir ‘n 1000 jaar in die bodemlose put verseël wees (v.3);
3) Trone word gevestig en gelowiges wat vanuit die Verdrukking kom, lewend en dood, sal saam met Christus vir ‘n 1000 jaar regeer (v.4);
4) Ongeredde mense sal tot aan die einde van die 1000 jaar, met ander woorde tot met die tweede opstanding van die dode, moet wag (v.5)
5) Die eerste opstanding sluit slegs die in wat gered is. Hulle sal Priesters van God en van Christus wees en saam met Hom vir ‘n 1000 jaar regeer (v.6)
6) Aan die einde van hierdie 1000 jaar sal Satan vrygelaat word vir 'n "kort tydjie" (Openb. 20:3) en die nasies nog eenkeer mislei. Hy sal die Gog en die Magog in oproer bring om so die "kamp van die heiliges" en "die geliefde stad" Jerusalem te omsingel (Openb. 20:9). Die Vrederyk Koninkryk Tempel en die Heerlikheid van God sal hier teenwoordig wees. Hierdie finale rebellie sal met vuur vanuit die hemel geoordeel word, en Satan sal in die poel van vuur gewerp word. Dit is waar die dier en die valse profeet alreeds vir ‘n 1000 jaar is (Openb. 20:7-10). Die Gog is gedurende ‘n vorige aanval op Israel tydens die Groot Verdrukking oorwin (Eseg. 38 & 39), voordat Israel bekeer het en "heiliges" genoem word (die besonderhede van elke aanval is bepaald verskillend).
vii) DIE NUWE HEMEL EN DIE NUWE AARDE
(Openbaring 21 en 22)
Met die afsluiting van die 1000 jaar Vrederyk Koninkryk sal die aarde met vuur vernietig word en die ewige orde sal in aanvang neem in die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde. Almal wat tydens die koninkryk tydperk gered is sal ook ‘n opstandingsliggaam ontvang en daarom sal die finale fase van die eerste opstanding aan die einde van die 1000 jaar plaasvind.
Die Opstanding van die Regverdige en Onregverdige (Joh. 5:29)
Die eerste opstanding word vergelyk met 'n oes wat in drie fases versamel word; daar is die eerste vrugte (voor-oes), die hoofoes, en die na-oes.
Toe Christus opgestaan het, het Hy die Ou Testamentiese gelowiges vanuit die paradys na die hemel gelei. Christus was "die eerste vrugte van hulle wat geslaap het" (1 Kor. 15:20; Matt. 27:52-52). Die groot hoofoes vind met die Wegraping van die Kerk plaas (1 Thess. 4:13-18) en die na-oes aan die einde van die Groot Verdrukking (Open. 20:6) en die duisendjarige Vrederyk koninkryk. Die eerste opstanding is bedoel vir die wat gered is.
Die tweede opstanding vind as een gebeurtenis aan die einde van die Vrederyk plaas wanneer al die ongereddes vanaf die begin van tyd voor die groot Wit Troon sal staan en geoordeel sal word. Dit sal nie wees om hul ewige lot te beslis nie, maar om grade van straf in die poel van vuur te ontvang na gelang van hul werke (Openb. 20: 11-15).
Die Nuwe Jerusalem en die Nuwe Aarde
'n Detail beskrywing van die nuwe Jerusalem word in hoofstuk 21 gegee. Dit is ongetwyfeld die plek waarheen Christus gegaan het om plek vir gelowiges voor te berei (Joh. 14:1-3). Die nuwe Jerusalem se grootheid ontgaan ons sterkste verbeelding.
Dit wil voorkom asof die nuwe Jerusalem met die Kerk geassosieer word, want toe die engel vir Johannes gesê het: "Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam", sê Johannes: "... [hy het] my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal" (Openb. 21:14). Die Kerk is "gebou op die fondament van die apostels en die profete (Ef. 2:20). Die nasies, van alle tydperke, sal "in die lig wandel" van daardie stad en "hulle heerlikheid en eer daarin bring" (Openb. 21:24); dit is die woonplek van die Bruid van die Lam!
Die vloek van die skepping sal vir finaal verwyder word en daar sal geen meer sonde, siekte, pyn, verdriet of dood wees nie. Die troon van God sal daar gevestig wees en elkeen sal 'n sondelose opstandingsliggaam ontvang. Ons sluit af met een van die mooiste verse in die Bybel: "En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees" (Openb. 22:3-4).
Die Laaste Oproep
Terwyl ons, ons studie in die Boek van die Openbaring afsluit, staan ons op die kuslyn van die ewigheid. Op hierdie punt is die geleentheid om Christus vir verlossing te vertrou nog beskikbaar maar kan dalk enige oomblik is vir altyd verby wees. ‘n Tyd waar lewensdoelwitte is vir altyd verspeel sal wees. As ons dink aan die siele wat vir ewig verlore sal gaan, is die enigste rede daarvoor dat hulle geweier het om die gratis geskenk van die ewige lewe te ontvang deur Jesus Christus as persoonlike Verlosser en Saligmaker te aanvaar in geloof. Drie keer hoor ons die oproep: "Kom, Kom, Kom". God se uitnodiging in die laaste hoofstuk is geen verrassing nie:
“En die Gees en die bruid (die Kerk) sê: Kom!. En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet (Openb. 22:17).