”omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het,” Ps. 102:17
Israel se Verstommende “70 weke” Profesie
Die mees verstommende profesie oor God se plan vir die nasie Israel word in Daniël 9 in slegs vier verse gegee. Dit word “Die 70 Weke Profesie“ genoem.
”Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak; om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring; om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af, om Jerusalem te herstel en op te bou, tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”
(Dan. 9:24-27)
Die profesie begin met die woorde, “Sewentig sewetalle (sewentig sewes) is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, dit wil sê; 70 x 7 of 490 jaar, is vir die Joodse volk en die stad Jerusalem bestem - om ses beloftes aan hulle te vervul.
In die Hebreeuse taal beteken die woord “week” letterlik “sewes” en verwys nie noodwendig na ‘n “week” van dae nie. In Dan. 10:2, in die Hebreeuse teks, beteken die uitdrukking “drie volle sewe dae weke” of 21 dae, letterlik drie sewetalle van dae. In Dan. 9:24-27 is beteken dit slegs “sewes”, en omdat baie van hierdie profesie reeds vervul is kan ons weet dat daar na “sewes van jare“ verwys word. Daarom kan ons ook verstaan dat 70 jare x 7(sewes) gelyk is aan 490 jaar; ‘n tydperk vasgestel vir Daniël se mense (die Jode) en vir Daniël se heilige stad (Jerusalem) om die volgende te bereik:
1) “om die goddeloosheid te voleindig en
2) om die maat van die sondes vol te maak en
3) om die ongeregtigheid te versoen en
4) om ewige geregtigheid aan te bring en
5) om gesig en profeet te beseël en
6) om wat hoogheilig is, te salf.”(Dan. 9:24)
Let asseblief daarop dat hierdie skrifgedeelte bevestig dat die bostaande ses beloftes slegs op die Jode en Jerusalem van toepassing is en dus nog nie vervul is nie omdat hierdie 490 jaar tydperk, slegs met “ewigdurende regverdigheid” teenoor Israel in die 1000 jaar Vrederyk Koninkryk van God afgesluit sal word!
Agtergrond van die Profesie
Nebukadnésar, die koning van Babilon, het Jerusalem drie keer verower; die eerste keer in 606 vC, gedurende die regering van koning Jójakim; dan in 597 vC, gedurende die kort regering van die jong koning Jójagin; en laastens in 586 vC, gedurende die regering van koning Sedekía. Die stad en die Tempel was in 586 vC vernietig. Daniël is gedurende die eerste inval in ballingskap na Babilon weggevoer, en Eségiël gedurende die tweede. Jeremia het in die land agtergebly en het teen die mense se afgodery en slegte lewenstyle gepreek. Hy het geprofeteer dat Israel vir sewentig jaar die koning van Babilon sal dien (Jer. 25:11-12; 29:10; Dan. 9:2; Esra 1:1). Die 70 jaar diens aan die koning van Babilon het in 606 vC begin en in 536 vC, nadat Babilon deur die Mede en Perse verower is, geëindig. Kores het die bevel uitgevaardig dat die Tempel herbou mag word.
Die Bevel van Kores
Jesaja se profesie het, meer as 170 jaar tevore, voorspel dat Kores, die Persiese koning, ‘n bevel sou uitvaardig dat die Tempel herbou moes word. Hierdie profesie het selfs die naam van Kores genoem lank voordat hy nog gebore was!
“So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God van Israel; ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ‘n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie” (Jes. 45:1-4).
“wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word “ (Jes. 44:28).
Hoofstuk 1 tot 6 van die boek Esra, bevat besonderhede van die bevel van Kores om die Tempel te herbou. Alhoewel Kores gesê het dat Jerusalem herbou moes word, het sy bevel slegs toestemming gegee vir die herbouing van die Tempel. Hierdie werk was 20 jaar later in 516 vC te midde van weerstand van die Samaritane voltooi (Esra 6:15). Die herbouing van die Tempel is egter nie die begin van die “70 weke“ nie, daar moet ons eerder na die herbou van die stad van Jerusalem verwys.
Die begindatum van die 70 Weke – Die bevel van Artasásta 445 v.C.
Die begindatum vir die 490 jaar periode van die 70 weke profesie is presies gegee “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou” (Dan. 9:5). Net soos die bevel van Kores gefokus het op die herbou van die Tempel, net so fokus die begin van die “70 weke“ op die herbou van Jerusalem. Hierdie gebeurtenis is opgeteken in Nehemía 2:1-11 en het plaasgevind in die maand Nisan, in die 20ste jaar van Artasásta, die koning van Persië, en ons weet dit was die jaar 445 vC.
Nehemía was koning Artasásta se wyndraer en was hartseer in die koning se teenwoordigheid. Toe hy gevra is om sy hartseer te verduidelik, het hy geantwoord:
“Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is?“
Artasásta het dadelik briewe van magtiging aan Nehemía gegee om die Stad van Jerusalem (Neh. 2:8) te herbou. Hierdie bevel, “die woord … om Jerusalem te herstel en op te bou” (Dan. 9:5), bevestig die begindatum van Israel se 490 jaar (die 70 weke profetiese tydperk) wat met die Tweede Koms van Christus beëindig sal word! Dit het, soos reeds gemeld is, in die maand Nisan (die eerste maand van die Joodse jaar), in die 20ste jaar van Artasásta, wat die jaar 445 vC was, begin.
Sommige mense verwar die bevel van Kores met die bevel van Artasásta, maar dis duidelik dat die stad Jerusalem nie herbou was in die dae van Serubbábel die tyd toe die bevel deur Kores gegee is nie. Nadat Nehemía meer as 90 jaar later in Jerusalem aangekom het, word gesê dat hy die bouvalle van die stad, wat nie opgeruim was nie, ondersoek en gesê het: “... daar was geen plek vir die dier om onder my verder te gaan nie“ (Neh. 2:14). Slegs die Tempel is gebou en na 52 dae was die muur gelas, om ‘n mate van beskerming teen die vyand te bied, terwyl die stad herbou word. Nehemía het geskryf: “Die stad was wyd uitgestrek en groot, maar die mense daarin was min, en die huise was nie opgebou nie“(Neh. 7:4).
Drie afdelings in die Sewentig Weke
Die 70x7 jare word in drie periodes gedeel
1) 7 x 7 = 49 jaar
2) 62 x 7 = 434 jaar
3) 1 x 7 = 7 jaar:
Totaal = 490 jaar.
Eerstens, gedurende die eerste 49 jaar is die stad in “moeilike tye“ herbou omdat die Samaritane die herbou van Jerusalem teengestaan het.
Tweedens, volg die 434 jaar wat beëindig sal word met die aanbieding van “Messias die Prins“ as Israel se Koning. Die 69ste ”week“ word opgevolg deur die Messias wat “afgesny“ word, maar nie vir enige kwaad wat Hy gedoen het nie.
Laastens sal Jerusalem en die Tempel vernietig word voordat die laaste 7 jaar, die 70ste “week” begin.
Die som van die eerste twee periodes is 49 jaar + 434 jaar of dan wel 483 jaar en, soos Robert Anderson QC in sy boek “The Coming Prince” daarop wys, is vervul op die presiese dag toe Jesus Christus Homself, op “Palm Sondag” aan die nasie Israel as Messias en Koning openbaar het. Dit het gebeur toe Hy op ‘n esel in Jerusalem ingery en die skare geskree het: “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here,” in vervulling van Sagaria se profesie:
Sagaria 9:9. “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.”
Op geen stadium voor “Palm Sondag” het Jesus Homself aan die nasie as Koning voorgestel nie.
Die menigte het Jesus herken as die seun van Dawid, wat hom bemagtig om op die troon van Dawid te sit. Hulle het geskree:”Hosanna vir die seun van Dawid. GESEËND IS HY WAT KOM IN DIE NAAM VAN DIE HERE“(Matt. 21:9; Luk. 19:38).
Om terug te werk na die Gregoriaanse kalender en profetiese jare van 360 dae in berekening te hou, het Robert Anderson QC bewys dat hierdie profesie presies tot op die dag vervul is, 173 880 dae vanaf die 1ste Nisan 445 vC tot die 6de April 32 nC (Bybelse profesie is geneig om 360 dag jare).
Soos wat Jesus op die dag in Jerusalem ingery het, het Hy vir Jerusalem gesê:
”As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:42-44).
Die gevolg van Israel se onvermoë om die profesie van Daniël 9 te verstaan, was dat Jerusalem vernietig sou word en die Jode tussen die nasies verstrooi sou word. Jesus het gesê:
“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is ... daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tyd van die nasies vervul is.“ (Luk. 21:20-24).
Daniël het ook aangedui dat, nadat Messias “afgesny” is, Jerusalem vernietig sal word, soos dit in 70 nC vervul is!
“en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings” (Dan. 9:26).
Josephus, die Joodse skrywer van geskiedenis wat vir die Romeinse Rykdom geskryf het, het die verowering van Jerusalem aanskou en dit in sy boek “The Jewish Wars”, opgeteken. Die storie van die vyf maande inname is neerdrukkende leesstof, want terwyl Titus, die Romeinse generaal, die stad aangeval het, was daar drie faksies binne die stad wat in ’n meedoënlose burgeroorlog gewikkel was. Sommige dae is daar 500 Jode in die openbaar gekruisig, en hongersnood het vrouens daartoe gedryf om hul eie kinders te eet.
Die Romeinse vernietiging van Jerusalem en die verstrooiing van die volk, is in die Palestynse Verbond voorspel. Twee ballingskappe word beskryf, eerstens ná Babilonië (Deut. 28:36) en dan deur die Romeine, “... onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde“.
“Die HERE sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ‘n arend vlieg -’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,“ (Deut. 28:49) en “’n nasie hard van aangesig, wat ‘n grysaard nie ontsien en vir ‘n seun geen genade het nie“ (Deut. 28:50).
Josephus skryf dat baie Joodse gevangenis na Egipte gestuur is om as slawe in die myne te werk, net soos Moses gewaarsku het: ‘En die Here sal jou op skepe na Egipte terugbring, op die pad waarvan ek jou gesê het: Jy sal dit verder nie meer sien nie, en daar sal julle aan jul vyande as slawe en slavinne verkoop word, maar daar sal geen koper wees nie” (Deut. 28:68).
Daniël se Sewentigste Week (laaste 7 jaar)
Aangesien die profesie tot die einde van die 69ste week so akkuraat vervul is, ontstaan die vraag dan: “Wanneer sal die laaste sewe jaar van Jerusalem se geskiedenis uitgespeel word?“
Dis duidelik dat die 70ste week nog nie voltooi is nie, want indien wel, sou Jerusalem nou ewige regverdigheid geniet het; die allerheiligste plek in die Tempel herbou en vir diens gesalf gewees het en die volk Israel sou met God versoen gewees het. Die 70ste week het duidelik nie onmiddellik na die 69ste week, toe Christus Homself as Koning aan die volk voorgestel het, begin nie. Inteendeel, die profesie dui aan dat die 70ste week NIE dadelik na Christus se triomftog in Jerusalem sal plaasvind nie, want twee ander gebeurtenisse moes nog plaasvind.
Dit was:
1) Messias sou nog “afgesny” word, (4 dae later), EN
2) Jerusalem en die Tempel (die stad en die heiligdom) sou vernietig word! (38 jaar later).
Ons kan kwalik sê dat die ses seëninge wat die einde van die 70ste week sal kenmerk, (490 jaar later), al ’n realiteit geword het veral as Israel hulle Messias doodgemaak het en dan ook deur die Romeinse Ryk verstrooi is! Die Bybel het voorspel dat hierdie verstrooiing die resultaat van die volk se ongehoorsaamheid sou wees (Deut. 8:36-37, 63-67).
Josephus se verslag van die verowering van Jerusalem en ander gebeurtenisse in sy tyd, wys dat Jerusalem glad nie regverdig of met God versoen was nie en die Tempel nie die plek van heilige aanbidding was nie. Selfs die Romeine was geskok deur die afgryslike optrede van die vegtendes.
‘n Gaping tussen die 69ste en 70ste weke
In die lig van hierdie geskiedkundige feite moet ons aanneem dat daar tussen die 69ste en 70ste weke ‘n gaping in tyd is. Iemand kan vra: “Hoe lank is die gaping en hoekom moet daar ’n gaping wees terwyl daar geen onderbreking in die eerste 483 jare was nie? “
Die idee van ‘n gaping in die 70 week profesie is nie as ‘n eenmalige of geïsoleerde insident in die Bybel nie, want ander Skrifgedeeltes toon gapings in Israel se geskiedenis.
Die “Gaping” volgens Jakobus
Jakobus, in sy toespraak aan die ander apostels en die ouderlinge in Jerusalem het gesê: “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel (Hand. 15:14-16).
Eerstens sal heidense gelowiges in die gemeente versamel word en DAARNA sal Christus terugkom EN DIE VERVALLE HUT VAN DAWID WEER OPRIG! Die finale hervestiging van die troon van Dawid wag op die vervulling van die “volheid van die heidene”. Jakobus wys ons nie net op ’n gaping tussen die 69ste en 70ste weke nie, maar hy vertel ons ook wat die doel daarvan is: “dat God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir Sy Naam aan te neem.” Dit is duidelik dat dit verwys na die Tydperk van die Kerk en dat die mense wat geroep is, verwys na die heidense gedeelte van die Bruid van Christus.
Die “Gaping” volgens Esegiël
Esegiël het geprofeteer dat Koning Sedekía die laaste sou wees wat ‘n kroon op die troon van Dawid sou dra – “TOTDAT Hy kom wat daarop reg het” (Eseg. 21:25-27). Daar sal dus ’n lang wagtydperk wees, vanaf 586 vC tot en met die Tweede Koms van Christus, waar niemand op die troon van Dawid sal wees nie. Die finale seëning van Israel is dus in afwagting vir die terugkeer van die Here Jesus Christus om te sit op die troon van Dawid, soos deur die engel Gabriël voorspel is:
” Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:32-33).
Die “Gaping” volgens Hosea
Hosea praat ook van ‘n gaping in Israel se geskiedenis, waarna die volk dan na die Here sal terugkeer. Hy skryf: “Want die kinders van Israel sal ‘n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hos. 3:4-5).
Hosea het aan die noordelike koninkryk, bekend as Efraim of Israel, wat 721 vC deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is, geprofeteer. Ons leer in die Bybel dat Israel en Juda, na ’n lang periode van “baie dae” sonder ’n koning of offers, na hulle land en tot die Here teruggebring sal word. Daardie herstel van die nasie tot God se seëning sal kom in die laaste dae!
Esegiël voorspel ook die hereniging van die twee koninkryke van Efraim en Juda na ‘n lang tyd van skeiding. Sy profesie van die twee stukke hout kyk vooruit na ’n tyd wanneer God
“hulle een volk sal maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees” (Eseg. 37:22); terwyl Sagaria eenvoudig sê:
“En Ek sal die huis van Juda sterk maak en aan die huis van Josef hulp verleen en hulle ‘n woonplek aanwys, want Ek ontferm My oor hulle; en hulle sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie, want Ek is die HERE hulle God, en Ek sal hulle verhoor” (Sag. 10:6).
Hosea maak dit duidelik dat die herstel van die noordelike koninkryk en die hereniging met Juda eers na ’n lang verloop van tyd sal geskied. Hierdie “gaping” sal aan die begin van die 70ste week van Daniël se profesie eindig.
Die “Gaping” volgens Paulus
Paulus vertel in Romeine 11 hoe Israel, die “natuurlike olyftak”, afgebreek is (Rom. 11:17) en die Heidene, die “wilde olyftak” in hulle plek ingeënt is. Hy vervolg deur te sê dat die blindheid en “verharding ten dele oor Israel” sal aanhou totdat “die volheid van die heidene ingegaan het” (Rom. 11:25).
Hierdie gaping in Israel se geskiedenis sal aangaan TOTDAT die kerk voltooi is, en DAN, soos Paulus sê, “en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem” (Rom. 11:26 -27).
Klink dit nie baie soos die seëninge wat aan die einde van die 70ste week op Israel sal val nie? Wat ’n groot verskil! In Paulus se dag, 60 nC, wou die Jode “hulle aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” (Rom. 10:3), en hy skryf verder: “maar wat die uitverkiesing betref, is hulle wel vyande ter wille van julle” (Rom. 11:28). Hy sê egter ook aan die Korinthiërs: “Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem” (2 Kor. 3:14-16).
Hierdie verandering tot die seëning ten opsigte van Israel kan slegs plaasvind nadat die VOLHEID VAN DIE HEIDENE INGEGAAN HET! En hierdie wonderlike gebeurtenis staan bekend as die WEGRAPING van die Kerk!
Die laaste sewe jaar van Israel se geskiedenis moet dus voorafgegaan word deur die verwydering van die Kerk, en gevolg word deur die Tweede Koms van Christus as die Koning van konings. Aan die begin van daardie sewe-jaar periode sal 144 000 Jode tot bekering kom. Hulle sal die Evangelie van die verwagte koninkryk van Jesus Christus verkondig en ’n menigte sal tot bekering kom. Die nasie van Israel, as geheel, sal egter die Groot Verdrukking se oordele nodig hê om hulle by die punt van bekering te bring (Openb. 7:1-17; Rom. 11:26; Eseg. 39:22).
Die tydperk (gaping) tussen die 69ste en 70ste weke verloop al vir byna 2 000 jaar, terwyl Israel verstrooid is onder die nasies, vervolg en vermoor word. Israel is egter gedeeltelik terug in die land as vervulling van Esegiël se profesie (Eseg. 36), en sodra die Kerk weggeraap word, sal die 70ste week begin.
Die Tydperk van die Gemeente – Die Geheimenis
Sommige sal die vraag vra: “Waarom word daar nie in Daniël 9 na die Tydperk van die Gemeente verwys nie?” Ons vind die antwoord in Efesiërs 3, waar ons lees dat God reeds opgehou het om met Israel te handel (tydelik) soos Hy in die Ou Testament gedoen het. Hy het nou begin werk met ’n nuwe liggaam, naamlik die gemeente wat uit Jode en Heidene bestaan wat “mededeelgenote is van dieselfde liggaam”. Hierdie is ‘n nuwe liggaam en is nie in die Ou Testament geopenbaar nie. Dit was ’n “verborgenheid” in die ander tye of die vorige dispensasies. Paulus sê, “wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.” (Ef. 3:5-6)
Op die dag van die uitstorting van die Heilige Gees het die Apostels in heidense tale gepraat “oor die groot dade van God” (Hand. 2:11). Jesaja het geprofeteer dat daar ’n tydperk sou kom wanneer God met Israel sou spreek deur “lippe wat hakkel, en met ’n vreemde tong ..., “maar hulle wou nie luister nie” (Jes. 28:11-12), en Paulus kwoteer Jesaja se profesie in 1 Kor. 14:21, waar hy dan sê vers 22 dat die Heidense tale vir Israel ‘n “teken” sal wees. Die Apostels wat in die Heidense tale gepraat het, was ’n teken dat God van plan is om in oordeel teenoor die Jode op te tree en na die Heidene te draai.
Petrus het hulle egter herinner dat as hulle sou bekeer, God “Hom mag stuur wat vooraf aan hulle verkondig is, naamlik Jesus Christus ... Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete” (Hand. 3:19-21).
Die verwerping van Israel is net totdat die nasie bekeer; dan sal Jesus Christus deur God gestuur word met tye van verkwikking vir die nasie. Die tydsduur van die “gaping” is gekoppel aan die tydperk van Israel se ongeloof.
Die Toekomende Romeinse Prins en die Laaste 7 Jaar.
Aan die begin van die 70ste week van Israel se profetiese geskiedenis sal daar ’n Romeinse prins kom wat ’n sewe jaar verdrag met Israel sal sluit.
Ons kan weet dat die komende Prins ‘n toekomende Romeinse heerser sal wees, want die Bybel sê dat dit sy mense is wat die stad en die heiligdom sou verwoes soos wat dit in 70 nC gebeur het. Almal is dit eens dat dit die Romeine was dit gedoen het “En die volk van ’n vors wat sal kom en die stad en die heiligdom verwoes” (Dan. 9:26).
Daarom sien ons dat, gedurende die laaste sewe jaar van Israel se profetiese geskiedenis, hierdie toekomende Romeinse vors ‘n vredesverdrag vir een week (sewe jaar) sal sluit of bevestig, maar in die middel van die sewe jaar (na drie en ‘n half jaar) sal hy na Israel terugkeer en “slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan. 9:27). In Openb. 11:2-4; 12:6, 14; 13:5 en Dan. 7:25 word hierdie periode ook beskryf as “1 260 dae”, “42 maande” en “’n tyd en tye en ’n halwe tyd”.
Die Romeinse vors is sonder twyfel die komende Antichris wat uit die herleefde Romeinse Ryk sal verrys. Hy sal ’n stokkie steek voor die bring van offers in die herboude Tempel in Jerusalem sodat “op die vleuel van gruwels daar ’n verwoester” sal wees (Dan. 9:27). Sommige verklaar die “vors wat sal kom” as ’n verdere verwysing na “Messias, die Vors.” Hulle sien die verwysing na “die slagoffer en spysoffer laat ophou” as verwysing van Christus se offer op Golgota as vervulling van die Ou Testament se tipologie en vervanging van die diere-offers.
Daniël 9:27 gee egter die rede waarom die offers gestop moet word; dit is “VIR DIE VLEUEL VAN GRUWELS” wat natuurlik na die gruwel van afgodery verwys. Hierdie komende prins kan dus nie die Messias wees nie, maar móét die Antichris wees omdat hy gedurende die 70ste week die Joodse offers met sy eie afgodsbeeld sal vervang. Dit sou godslastering wees om te sê dat die doel van Christus se offer op Golgota “vir die vleuel van gruwels” was!
Paulus vertel alles van hierdie vreeslike gebeurtenis in 2 Thess. 2:3-4, wanneer die “mens van sonde ... die seun van die verderf” wat homself sal “verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is; sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”
Sagaría praat van twee herders in Israel. Die Hemelse Herder sal deur die nasie verwerp en vir 30 sikkels silwer (Sag. 11:10-13) verkoop word, maar die dwase herder, die “slegte herder”, sal teen die nasie draai en dit soos ’n wilde dier verskeur en die trop verwoes.
Hierdie dwase en slegte herder is die een na wie Jesus verwys: “as ’n ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aanneem (Joh. 5:43). Die afgodsdienstige karakter van die Antichris se heerskappy word vaagweg in Openb. 13:14-15 en in Dan. 11:35-39 beskryf. Daniël sê: “En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word. En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou. Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer. So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ‘n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel.”
Die “vleuels van gruwels” sal die aanbidding in die herstelde Tempel verwoes. Die woord “vleuels” wat in die Afrikaanse vertaling gebruik word, mag verwys na die karakter van die Antichris soos uitgebeeld in die Romeinse arend. In hierdie verband sal die Antichris die vervulling wees as ‘n “tipe” van Antiochus Epifanus wat sy afgodsbeeld op die altaar van God in die tempel opgerig het. Hy het ook ander afgode in elke dorpie in Israel geplaas. In 167 vC het Antiochus Epifanus die Tempel van God aan die Griekse god, Jupiter Olimpus, toegewy (Historiese verwysings: 1ste Boek van Makkabees 1:47-56; 2de Boek van Makkabees 6:1; Dan. 8:11-14).
Aan die einde van die 70ste week sal Christus terugkeer en die Antichris en sy profete sal geneem word en “lewend gewerp word in die vuurpoele wat met swawel brand” (Openb. 19:20).
Daniël sê dat die Romeinse vors wat sal kom, tot die einde van die 70ste week sal heers, maar dat “wat vas besluit is” met ander woorde, God se oordeel, “sal oor wat woes is, uitgestort word” (Verwoester). Die woord wat vertaal word “woes” kan ook vertaal word “Verwoester”. Die Romeinse “vors wat sal kom” sal die Verwoester wees wat sy afgodsbeeld in die Tempel sal oprig, en hierdie godslasterlike aksie sal die oordeel van God, wat op hom uitgestort sal word, tot gevolg hê.
Implikasies van hierdie Profesie – Die Herboude Tempel!
Vandag nader ons die einde van die Tydperk van die Kerk. Die wegraping kan enige oomblik plaasvind en dan sal die laaste sewe jaar van Israel se geskiedenis begin. Israel is alreeds besig om haarself in lyn te bring met die herleefde Romeinse Ryk (EU) en is ‘n mede lid van die Europese Unie. Die Tempel sal vroeg in die sewe jaar, wanneer Israel na die Here terugkeer, herbou word en dan sal offers weer gemaak word. Daar moet nog twee Tempels in Jerusalem gebou word. Dit is:
1) Die Groot Verdrukking Tempel waarna Openb. 11:1-4 verwys, en
2) Die Vrederyk Tempel waarna Eseg. 40 tot 46 verwys.
Die Tempel in die Groot Verdrukking sal met die goedkeuring van die Romeinse “vors”, die Antichris en die aanmoediging van twee profete, wat met Haggai en Sagaria ooreenstem, opgerig word. Hulle is die twee Ou Testament profete wat Serubbábel, die goewerneur, en Josua, die hoëpriester, aangemoedig het om die Tempel ná die Babiloniese gevangenskap, onder ’n bevel wat deur ’n heidense keiser uitgevaardig is, te herbou (Sag. 4:1-14). Op soortgelyke wyse sal die twee Groot Verdrukking profete die herbouing van die Tempel tydens die eerste helfte van die Groot Verdrukking aanmoedig. Let daarop dat hulle as die “twee olyfbome”, wat die olie voorsien om die sewe lampe van getuienis brandend te hou (Openb. 11:4; Sag. 4:3), beskryf word. Dit is interessant om daarop te let dat Sagaría “tussen die tempel en die altaar” van die herboude Tempel (Matt. 23:35) doodgemaak is, en dat die twee Verdrukking Profete deur die Antichris in Jerusalem verslaan sal word (Openb. 11:7-12)! Die geskiedenis sal homself herhaal.
Die Jode se Tempel in die Groot Verdrukking sal nie die hele Olyfberg beslaan nie, want Johannes kry die opdrag om nie die voorhof buitekant die Tempel te meet nie, “want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap” (Openb. 11:2). Volgens Luk. 21:24, sal “Jerusalem vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.”
Na ‘n aanvanklike periode van vrede onder die beskerming van die Antichris, sal daar ‘n skielike verandering plaasvind, en Israel sal Groot Verdrukking ervaar soos nog nooit tevore nie. Hierdie laaste drie en ’n halwe jare voor Christus se tweede koms, sal die mees intense gedeelte van die Groot Verdrukking wees. Matthéüs skryf wat Jesus verklaar het:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae ... sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn” (Matt. 24:29-30).
Die nasies wat die Groot Verdrukking oorleef, sal deur Christus geoordeel word (Matt. 25:31-46); en Israel sal direk na die verstrooiing wat tydens die Groot Verdrukking plaasvind finaal teruggebring word na hulle land. Hulle sal met vliegtuie en skepe terugkeer (Matt. 24:31; Jes. 60:8-9).
Die nasies wat die Antichris gevolg het, sal in die Hel gewerp word (Matt. 25:41), maar dié wat aanhou glo het en by God se volk, Israel, deur die Groot Verdrukking bly staan het, sal ingaan in die Vrederyk Koninkryk van Christus (Matt. 25:34-40; Sag. 14:16; Jes. 60:3, Jes. 10-16).
In daardie dag sal Israel die lied sing wat in Jesaja 26 aangeteken is, en hulle sal ‘n regverdige nasie wees, “priesters van die Here” (Jes. 61:6).
Die Groot Verdrukking Tempel sal verwoes en verwyder word, moontlik deur ‘n groot aardbewing (Openb. 16:18; Sag. 14:4-11), en ’n nuwe, glansryke Tempel sal gebou word en dit sal funksioneer volgens die spesifikasies wat in Esegiël 40 tot 46 uitgelê is.
Laastens sal die Heerlikheid van God terugkeer en aanhoudend skyn vanuit Jerusalem, waarvan die naam verander sal word na “Jehovah Shammah”, wat beteken “DIE HERE IS DAAR” (Eseg. 48:35).
Sewe Karaktereienskappe van die Antichris
Daar is sewe dinge aangaande die laaste-dae Romeinse prins, die Antichris, waarop ons moet let:
1) Hy sal aanvanklik in vrede aan die wêreld verskyn en ‘n sewe-jaar vredesverdrag met Israel sluit (Dan. 9:27).
2) Hy sal ‘n ooreenkoms aangaan waarin Israel die vermoë sal hê om die Tempel te herbou terwyl die Heidene die voorhof van die Olyfberg beset, met ander woorde die Moskee van Omar (Openb. 11:2).
3) Hy sal “die land (van Israel) verdeel vir wins“ (Dan. 11:39; Joël 3:2). Die Arabiese/Israelitiese verdeling van die land sal dus bevestig word.
4) Na drie en ‘n halwe jare sal hy God se twee profete in Jerusalem doodmaak, maar God sal hulle in verheerlikte liggame, ten aanskoue van alle mense, wegneem (Openb. 11:7-12).
5) Halfpad deur die sewe-jaar lang Groot Verdrukkings sal Hy die Tempel se offerandes wat deur die alreeds bekeerde nasie van Israel uitgevoer word, , tot ‘n einde bring en hulle dan vervolg (Dan. 9:27). (Israel se bekering sal in die Groot Verdrukking plaasvind. Lees Esegiël 38 en 39.)
6) Hy sal in die Tempel sit en daarop aanspraak maak dat hy God is! (2 Thess. 2:3-4).
7) Hy sal sy afgodsbeeld in die Tempel en oral in die wêreld oprig, en universele aanbidding vereis! (Openb. 13:12).
Hierdie toekomende Romeinse heerser sal dus vir die laaste 42 maande van die Groot Verdrukking aanhou met heers, totdat die Here Jesus Christus terugkeer met die leërs van die hemele om beide die dier en sy valse profete in die poel van vuur te werp (Openb. 19:11-21).
Hoe Naby Is Ons Aan Die 70ste Week Van Israel Se Geskiedenis?
Daar is baie aspekte van hierdie profesie wat daarop wys dat ons al hoe nader kom aan die tyd wanneer Israel sal ingaan in die laaste sewe jaar voor Jesus Christus terugkom om te regeer.
Sedert Mei 1948 word Israel as ‘n soewereine staat erken. Die Joodse bevolking in die land het van 565 000 in 1945 tot 5 200 000 in 2001 gegroei. Die Arabiese bevolking was toe ongeveer 1,000,000, die Wesbank uitgesluit.
Die Olyfberg word deur ‘n Moslem Moskee beset, maar baie Jode wag vir die Messias om terug te keer en die Tempel te herbou. Baie wil dit selfs begin herbou voordat die Messias terugkeer en baie instrumente vir Tempel aanbidding is reeds gemaak en kan by die Tempel Instituut in Jerusalem besigtig word.
In April 1997 het ‘n advertensie in die Jerusalem Post aangekondig dat die “Restore the Half-Shekel” fonds, in ooreenstemming met Moses se instruksie in Eks. 30:11-16 gestig is en soos in 2 Kron. 24:1-14 toegepas sal word. Die Hoof van die Rabbinaat van Jerusalem sal elke jaar spesiaal gemunte muntstukke verkoop en dit sal elke jaar terugkeer na Jerusalem en toegewy word as Hekdesh (tempelskatte). Dit sal gestoor word in ’n spesiale kelder in die Bank van Israel totdat die Messias terugkeer! Die “heilige” silwer half-sikkel was vir die onderhoud van die Tabernakel en Tempel-geboue gebruik, en sal fondse voorsien vir die konstruksie en onderhoud van die Tempel.
Die eerste “heilige” half-sikkel is gedurende die 50ste bestaansjaar van die nasie uitgegee en die illustrasie daarop is ’n voorbeeld van die embleem wat as herdenking van die 55ste jaar van Israel se hervestiging gebruik was.
Joodse befondsing, vervaardiging van instrumente en die identifisering van die priesterlike familie (die seuns van Aäron), dui daarop dat voorbereidings vir die hervatting van die Tempel aanbidding goed vorder.
‘n Verslag in die Israel Today van Oktober 2003, wys foto’s van ‘n volskaal model van ’n Tempel wat in ‘n Joodse gemeenskap by Mitzpe Yericho, naby die Dooie See, opgerig is. Dit funksioneer as ’n opleidingsentrum om priesters (kohanin) vir diens in die Derde Tempel voor te berei.
Daar bestaan min twyfel dat die fondasies van die Tweede Tempel vasgestel is deur Professor Kaufman, ongeveer 100 meter noord van die Moslem Tempel (Dome of the Rock) in die noordelike voorhof van die Olyfberg. Asher Kaufman, ’n Skotse Jood, het in 1960 na Israel geïmmigreer. Hy het ’n professor aan die Hebreeuse Universiteit in Israel geword en navorsing gedoen oor fusie en die spektroskopie van gejodeerde gasse. Hy was ’n baie presiese man wat streng aandag aan detail geskenk het.
Kaufman het ‘n studie gedoen van vroeëre Joodse geskrifte om die afmetings van die Tempel vas te stel. Hy het gevind dat die ligging daarvan in ’n oos/wes oriëntasie was, met die ingang wat na die oostelike hek van die muur front, wat die voorhof van die tempel omring. Indien die posisie van die oostelike hek vasgestel kon word, sou dit net ’n kwessie wees om ’n reguit lyn in ‘n reg westelike rigting te trek om die posisie van die Tempel vas te stel.
Verder het hy vasgestel dat die rooi vers op ‘n verhoogde posisie op die Olyfberg, waar die Tempel oor die mure van Jerusalem gesien kon word, geoffer is. Deur op hierdie hoë punt te staan moet daar net verby die oostelike hek (of Goue Poort) gekyk word om die posisie van die Tempel vas te stel.
Ondergrondse rioolstelsels wat gebruik is om die bloed vanaf die altaar wat voor die Tempel gestaan het, na die Kidron Vallei te neem, is in die 19de eeu deur die Britse opmeter, Kaptein Warren, gevind. Sy bevindings is in die Biblical Archaeological Review gerapporteer. Gershom Gorenberg, senior verslaggewer van die Jerusalem Report, het geskryf: “Hy (Kaufman) het die tekeninge van die spoelbakke aan die noordelike kant van die Tempel, soos aangeteken deur die negentiende-eeuse ontdekkers, bestudeer; dit is in lyn met waar húlle verklaar die mure was.
Teen 28 Desember 1974 het Kaufman genoeg bewyse gehad om te bewys dat hy die terrein van die Tweede Tempel gevind het, een honderd meter noord van die Moslem Tempel (Die Koepel van die Rots)! Die Derde Tempel kan gebou word sonder om die Moslemse Tempel (Die Koepel van die Rots) te verwyder.
Die herlewing van die Romeinse Ryk onder die banier van die Europese Unie (EU) en Israel se Vennootskap met die EU, berei die weg voor vir die Antichris se betrokkenheid in Israeli aangeleenthede. Die “Oslo Ooreenkoms” en ander vredesplanne wat poog om die Arabiese/Joodse konflik deur verdeling van die land op te los en om Jerusalem ’n Internasionale stad te maak, berei die weg vir onderhandelinge ten opsigte van die Tempelberg voor.
Die oplewing van Islamitiese fundamentalisme in 1979, in die tyd wat die vors van Persië verslaan is, is baie betekenisvol. Dit is duidelik uit die Bybel dat deur God se voorsienigheid die Jode tot ’n soeke na die Here sal kom. Israel het haar Arabiese bure oorwin op die oorlogsveld en voel nou meer veilig, veral met die militêre ondersteuning van die Verenigde State. Die wyer sirkel van die Islamities nasies: Iran (Persië), Turkye (Togarma), Libië, en Ethiopië (Sudan), verteenwoordig ’n meer gedugte bedreiging sodat Israel nie die voldoende militêre weerstand kan bied nie. Rusland se verhouding met die Islamitiese nasies is nog ’n negatiewe teken.
Die Wegraping van die Kerk sal voor die 70ste “week” begin, wanneer die Tempel herbou sal word, plaasvind. Alhoewel ons ten strengste daarteen moet waak om enige tydsduur te koppel aan die Tweede Koms van Jesus Christus, is dit duidelik dat ons die einde van die tyd nader.
Die Dag van die Here
Reg deur die Skrif word die Dag van die Here gesien as ‘n tyd van grootskaalse oordeel wat die Tweede Koms van Christus voorafgaan. Profesie oor gebeure wat die Dag van die Here vooraf gaan, stem ooreen met gebeure in die periode wat Jesus die “groot verdrukking” noem. Ons kan met veiligheid sê dat beide na dieselfde periode verwys.
Paulus skryf in sy eerste brief aan die Thessalonicense:
“… die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag … wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid - dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood van ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie ... Want God het ons nie bestem vir die toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe”
(1 Thess. 5:2-10).
Hierdie verse laat ons met absoluut geen twyfel dat die Wegraping sal plaasvind VOOR die Dag van die Here, die 70ste week van Daniël se profesie. Die 70 weke is Israel se profetiese geskiedenis en is nie op die Kerk van toepassing nie. Dit is die “tyd van benoudheid vir Jakob” (Jer. 30:7) en die Kerk moet weggeneem wees voor daardie dag aanbreek. Net soos Noag en Lot na veiligheid geneem is voor die oordeel oor die aarde voltrek is, sal die Kerk ook weggeneem word voor die Dag van die Here aanbreek.
Opsomming
Die 70 “weke” profesie is 70 keer 7, of 490 jaar, totdat Israel en Jerusalem na ewigdurende geregtigheid gebring sal word. Die profetiese tyd begin op die eerste dag van die maand van Nisan in die twintigste jaar van Artasásta, naamlik 445 vC. Hierdie 490 jaar word in drie periodes verdeel.
Gedurende die eerste 7 “weker of 49 jaar word die stad herbou. Aan die einde van die 69ste week (7+62=69 weke of 483 jaar) het die Messias homself as Koning van Israel vertoon. Christus as Messias het dit op die eerste Palm Sondag gedoen, maar Hy was nie deur almal so aanvaar nie.
Vier dae later is die Messias afgesny (gekruisig) aan die kruis van Golgota, en Jerusalem is uiteindelik, soos geprofeteer, 38 jaar later in 70 nC, verwoes. Hierdie gebeure moes tussen die 69ste en 70ste “weke” van die profesie plaasvind. Die 70ste week volg dus nie direk op die 69ste week nie en daar is duidelik ’n tyd gaping tussen die 69ste en 70ste “week”, bekend as die geheimenis van die Tydperk van die Kerk wat nog nie bekend gemaak was nie (Ef. 3:1-9), maar besig is om nou plaas te vind.
Wanneer die kerk weggeraap word, sal die Tydperk van die Kerk voltooid wees en Israel se 70ste week sal begin met ‘n sewe-jaar vredesverdrag wat met hulle deur ’n Romeinse prins (EU) gesluit is. Hierdie prins sal die fasiliteerder wees van ’n finale ooreenkoms om die land van Israel te verdeel (Dan. 11:39) en gesamentlike besetting van die Tempel Berg deur Jode én Heidene toe te laat (Openb. 11:1-2). Die Tempel sal gevolglik in die Groot Verdrukking gebou word. Die Antichris, die Romeinse prins, sal Israel aanvanklik goedgesind wees en haar teen ’n Egiptiese aanval verdedig (Dan. 11:40-45). Terselfdertyd sal onderdrukking van die Midde Ooste plaasvind as voorwendsel vir die besetting van die “pragtige land”.
Voordat die Verdrukking se oordele begin val sal 144 000 Jode tot beskerming verseël word met die Vader se naam op hulle voorhoofde. Hulle taak sal wees om die Evangelie van die koninkryk te verkondig “tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Hulle sal halfpad deur die Groot Verdrukking van die aarde ’n marteldood sterf, vrygekoop word en die hemel ingaan (Openb. 14:1-3). Die bekering van die 144 000 kan moontlik as gevolg van die Wegraping begin word.
Gedurende hierdie tydperk sal die hele Israel deur die prediking van die 144 000 Joodse “diensknegte van God” tot bekering kom (Lees Joël 2). Die twee Joodse profete beskryf in Openbaring 11 word doodgemaak nadat hulle “hul getuienis voleindig het” (Openb. 11:3, 7). Gedurende die eerste drie en ’n halwe jaar sal die vredesverdrag verbreek word en die Antichris se ware karakter sal openbaar word. Hy sal dan probeer om Israel uit te wis, maar een derde van die mense sal bewaar word vir die tweede koms van die Here, wanneer die Antichris in die poel van vuur gewerp sal word. God sal Israel tydens die tweede helfte van die Verdrukking in die wildernis bewaar en hulle sal Christus verwelkom wanneer Hy terugkeer om as Koning van konings te regeer.
’n Engel sal tydens die tweede helfte van die Groot Verdrukking Goddelike getuienis gee. Hy sal die ewige Evangelie verkondig (Openb. 14:6). Die ewige Evangelie waarsku die wêreld: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het” (Openb. 14:7). Aan die einde van tweede helfte van die Groot Verdrukking word die oordeel oor die Heidense nasies met die slag van Armageddon, wanneer “alle nasies”, in Jerusalem versamel word, voltrek. Christus se koninkryk sal eindelik op aarde gevestig word en slegs dán sal die ses beloftes, bepaal vir Israel en Jerusalem, ’n realiteit word. Die 490 profetiese jare sal dan vervul wees.