Op 2 Februarie 1907 dien ‘n kommissie van die Oudtshoorn Gemeente wat ondersoek moes instel na nuwe gemeentes soos Armoed, Wynandsrivier ens. ‘n verslag in waarin vermeld word dat die heer W.G. Olivier, A.’sn., tien morge grond onder water as geskenk aan die kerkraad aanbied.
Willem Gerhardus OLIVIER seun van Andries Hermanus en Maria Margaretha RHEEDER was getroud met Anna Maria Elizabeth Susanna KOTZE. (KAB 2193/1913 6/9/721)
Grensende aan die grond was driehonderd morge geskik vir ‘n dorp. Die kommissie is bedank vir sy werk en is verder versoek om met sy ondersoek voort te gaan. Later sou daar verwikkelinge kom waarvan daar op hierdie stadium blykbaar geen besef was nie.
In elk geval verskyn broeder oud-diaken J. Olivier van Saffraanrivier op 30 Mei 1908 op die kerkraadsvergadering en herinner die Raad aan die belofte van broeder W. Olivier om by Armoed ‘n stuk grond te gee vir die bou van ‘n kerk en pastorie. Hy versoek die Raad om so gou moontlik met die werk in aanvang te maak.
Broeder Deas gee toe kennis dat hy by die volgende vergadering sou voorstel dat daar dadelik ‘n begin gemaak sou word.
Op ‘n vergadering van 8 Augustus 1908 verskyn broeder oud-diaken A. Olivier, W.’sn., van Armoed en maak die volgende aanbod: Sy vader en familie bied aan om aan die Kerkraad te gee transport van vyf morge grond met ‘n kerkgebou daarop bevattende sewehonderd sitplekke. Die gebou sou binne twee jaar voltooi wees en sou omtrent ‘n kwart myl van die skoolgebou staan. Binne honderd tree van die vyf morge grond sou geen kantien of bottelstoor of enige gebou sterk drank mag verkoop nie.
Indien nodig sou die plan van die kerkgebou aan die kerkraad vir goedkeuring voorgelê word. Van hulle kant verlang hulle om te weet of die raad daar ‘n leraar of hulpprediker sou plaas, of op hoedanige wyse daar gearbei sou word.
Na ‘n breedvoerige bespreking is ‘n antwoord aan broeder A. Olivier veertien dae uitgestel. Op die vergadering wat toe veertien dae later gehou is, stel broeder Deas voor dat die heer Olivier se aanbod met dank aangeneem word, maar ‘n amendement, voorgestel deur broeder Potgieter dat ‘n kommissie aangestel word om die heer Olivier te ontmoet en verder ondersoek in te stel insake die ligging ens., word aangeneem
Op 19 September lewer die kommissie sy verslag, asook ‘n brief van die heer W. Olivier en seuns met ‘n plan van die kerk sowel as van die nuwe dorp. Terselfdertyd word ook ‘n petisie, met 110 name daarop, gelees teen die aanname van die aanbod van die kerkgebou. Ongelukkig word die besware van die petisionarisse teen die aanname van die aanbod nie genoem nie.
Na ‘n breedvoerige bespreking is voorgestel dat die Raad onder die bestaande omstandighede die aanbod nie kon aanneem nie.
Terwyl sake op De Hoop so fluks gevorder het dat die hoeksteenlegging van die kerk aldaar reeds op 5 Mei 1909 kon plaasvind, kon daar met die onderhandelings in verband met die aanbod van ‘n kerkgebou en vyf morge grond by Armoed geen vordering gemaak word nie.
Ten spyte van die herhaling van die aanbod, asook van twee petisies met ongeveer driehonderd naamtekeninge, waarin die petisionarisse hulle begeerte uitspreek om ‘n kerkgebou in hulle midde te hê en hulle hul teleurstelling lug dat die geskenk van die heer W. Olivier nie aangeneem is nie, is daar op ‘n vergadering op 24 Oktober 1908 weer deur die Raad besluit om die aanbod nie te aanvaar nie.
Hierdie saak kom weer onder bespreking op ‘n vergadering gehou op 4 Desember 1909.
Nadat twee briewe gelees is, die een deur C.J. Nortje en 63 ander, die ander deur J.H. Fourie, beide teen die aanname van die aangebode geskenk van grond en ‘n kerkgebou, word daar besluit dat ‘n sterk kommissie aangestel sou word om ‘n vergadering op 19 Februarie 1910 op Armoed te hou en te rapporteer. Die kommissie sou bestaan uit soveel kerkraadslede as wat gewillig sou wees om daarop te dien.
Die vergadering is op die bepaalde datum, 19 Februarie, onder voorsitterskap van Ds. Murray gehou.
Die grote meerderheid van die kerkraadslede was teenwoordig, asook ongeveer tweehonderd gemeentelede. Nadat die verrigtinge met gebed geopen is, lewer die voorsitter ‘n kort toespraak, en toe die kerkraadsnotule wat op die saak betrekking gehad het, gelees is, versoek hy dat almal wat iets te sê had, vóór of teen die aanname van die geskenk, sou praat maar in ‘n gees van liefde.
Daar is baie en ernstig gepraat, waarna voorgestel is dat tot stemming oorgegaan sou word. Hierin het die voorsitter toegestem, maar eers nadat hy nadruklik gesê het dat die Kerkraad hom nie sou verplig voel om volgens die uitslag van die stemming te handel nie. Dit blyk toe dat omtrent 190 vóór en 60 teen die aanname was. Daarna is die vergadering met gebed gesluit.
Toe die verslag van hierdie vergadering op ‘n Kerkraadsvergadering op 5 Maart 1910 gelees is, het daar ‘n bespreking gevolg waarna besluit is dat die aanbod aangeneem word op die volgende voorwaardes:
(a) Dat die vyf morg grond vry van Munisipale belasting sou wees;
(b) dat vrye weiding aan die kerkgangers toegestaan sou word;
(c) en dat die mure van die kerk minstens agtien voet hoog sou wees.
Tot ‘n kommissie om die betrokke partye te ontmoet en die saak verder af te handel, is benoem broeders J.A. Keller, P.R. Schoeman, P.J. Lategan, O. Fourie en P. Keller
As die kommissie voor onoorkomlike besware te staan kom, sou die saak weer terugverwys word na die Kerkraad.
Op 11 Februarie 1911 kon hierdie kommissie rapporteer dat hulle die kerk in naam van die Kerkraad oorgeneem het. ‘n Mosie van dank aan die heer W. Olivier is eenparig aangeneem en te boek gestel. Twee jaar later op 03.07.1913 sterf Willem Gerhardus OLIVIER en word hy begrawe in die begraafplaas by die Volmoed skool. (Volgens Vic OLIVIER)
En so het Oudtshoorn toe, as geskenk, ‘n kerkgebou van Armoed gekry.
Geneem uit Eeufees Gedenkboek van die Ned. Geref. Gemeente Oudtshoorn 1853-1953
Saamgestel deur M.S. Greeff