Pylie en die Engelse
Burger OLIVIER, 'n professor in die Regte van Tsaneen het hierdie interessante staaljie deurgestuur. Hou hierdie ruimte dop! Hy klink na iemand wat nog met baie sulke herinneringe in sy kop rondloop.
Wat ek jou vertel is waar en ek het geen rede om die persone wat dit vertel het te betwyfel nie. Ou "Peilie" uitgespreek Pylie het vir ons gewerk en toe ek hom leer ken, was hy 100, altans so het ons gedink. Toe die Boys High School, vandag Oudtshoorn Hoërskool, gebou is, was Pylie 'n jong man van so 18, volgens getuies. Want sien, my pa het voor hom groot geword en my pa sou vandag 105 jaar wees. Die skool was wanneer gebou?? Maak jou eie som.
Gedurende die Ingelse oorlog was ou Pylie 'n kosryer vir die Engelse. Eendag het ou Pylie en ander met kos gekom en opgemerk dat die Engelse kamp omring was deur boere. Hoe het hulle geweet..?? Hulle, Pylie en sy span, was skerp en het die blink van boere se geweerlope gesien. Op 'n vraag van die Engelse of hulle nie die boere gewaar het nie, het hulle nee gesê, want sien, hulle was ook gatvol, want hulle was gedwing om vir die Tommies te werk.
Die Engelse verkenners het opgesaal en weggery. Meteens was daar pandemonium. Een skoot was gehoor en vier Tommies het met kopskote van perde getuimel en die kamp was in harwar.
'n Paar dae later was die erg bedonnerde Tommies weer daar. Hiedie keer op volle vaart agter 'n boer aan wat in volle vaart met sy vos wegjaag. Met 'n 2de kyk het Pylie gesien dit was die boerekommandant GIDEON SCHEEPERS!! Gideon het volgens die vertelling in 'n dammetjie gedraai en 'n gwarriebostak het aan sy perd se stert vasgehaak. Hy het 'n paar sirkels gemaak en reg op die Engelse afgestorm. Laasgenoende het gedink hier kom baie boere, want die gwarriebos maak toe baie stof en hulle jaag weg met EEN boer wat omtrent 20 man jaag.
Pylie het sy huis naby die dammetjie gebou, op 'n klip koppie, vanwaar hy die petalje sit en dophou het.
Lange jare daarna het ons nog die klipkoppie besoek en die gleuwe in die berg waar kanonne, Long Toms, gestaan het bewonder. Met halwe ontsag raak jy met die vingerpunte aan die rots en mymer: "Ai-Ai, ek wonder waar is al die mense nou?"
Pylie is oorlede in 1967, toe was hy nog 100. Hy het loogtwak of pruimtabak gekerf, gedroog en gerook tot hy 100 was.
ONS WAG NOG VIR DIE VOLGENDE BURGER-HERINNERINGE
Het jy gehoor van die spook by oom Japie se huis wat daar vanaf 1925 geloop het en die bobbejaan met die ketting om sy nek? En hoe oom Albert en oom John een laat nag, vroegoggend, met fietse in mekaar vas gery het. Albei sê toe: "John, is dit jy?" Die ander antwoord toe: "Okkert, is dit regtig jy? Ek dog ek sien 'n spook!
Het jy gehoor van Jakkals Klue se broer met sy volvo 122S oor die Swartberg?
Laat nag stap ek en my broer (1955) op huis toe nadat hy 'n hengse fight by die kerksaal opgetel het. Skielik hoor ons mans stemme en ons gaan sit. Hier voor ons marsjeer 'n peleton soldate die veld in en praat 'n taal wat ons toe nie verstaan nie! (Engels) "Lick, Wack , Lick Wack... "