-Ronnie van Rensburg: Nie net was motors daardie dae skaars nie, maar ook 'n ding soos 'n radio. Yskaste, telefone en ander elektriese apparate was ongekend. Maar die meer vooruitstrewende mense van daardie tyd het wel 'n radio gehad, of soos dit deur almal genoem is, 'n "wireless". So het Oom Herrie Coetzee een gehad en ook Mnr. Goussaard, die skoolmeester. Daar is nie daardie dae van 'n skoolhoof gepraat nie.
Ewenwel, my pa sê dit was 'n Maandagmôre in die vakansie en hulle was die oggend besig om sloot skoon te maak - Oupa Frik, sy werksmense en van sy seuns - toe Oom Ernst daar aangestap kom. Nadat daar oor en weer na mekaar se welstand verneem is, sê Oom Ernst: "FRIK, DIE SKOOLMEESTER HET ONS GISTERAAND KOM HAAL OM NA DIE WIRELESS TE LUISTER."
"Ja, Oom Ernst, en wat sê die wireless," vra Oupa Frik.
"FRIK, DAARDIE DING KAN PREEK! 'N PREDIKANT SE MOER!!"
Mense wat ver afstande moes aflê - te ver vir 'n perdekar - het per trein gery. Dit is ook gesien as 'n "gevaarlike" vervoermiddel en daarom kon voornemende passasiers op die stasie versekering koop wat gewoonlik slegs geldig was vir daardie spesifieke reis en die retoer.
Een van die kleinboere van die Kandelaarsrivier daardie tyd, was Johannes Stefanus Olivier. Hy is deur almal Boetie genoem en was die oudste broer van my Oupa Frik wat ons al tevore in hierdie stories ontmoet het. Hy was 'n korrelkop en, wat ons vandag sal noem, 'n "controll freak." Hy moes altyd sy eie sin kry.
Een van sy dogters, Nonnie, het haarself bekwaam as onderwyseres en 'n onderwyspos op Willowmore aanvaar. Sy moes per trein soontoe ry en ook as sy vakansies huis toe gekom het. So koop sy een keer "insurance" vir 'n halfkroon voor 'n treinrit Oudtshoorn toe en naby Hazenjacht is daar toe 'n treinongeluk en Nonnie kan teen haar versekering eis. Syself het net brandwonde opgedoen a.g.v. die stoom, maar die versekering het uitbetaal. Hoeveel hulle uitbetaal het, weet ek nie, maar dit was in elke geval genoeg sodat sy vir haar pa 'n motor kon koop. Olie Boetie, soos my pa hom altyd genoem het, wou nie leer bestuur nie, maar een van sy seuns, Chrisjan, wat Ant Sannie met die "grappie" getreiter het, het iemand gekry wat hom geleer het en so kon hy sy pa en ma dorp toe neem.
Maar die ou Ford was ook soms halsstarig en so verseg dit een Vrydagoggend om te vat. Hoe dit werk weet ek nie, maar my pa het gesê die "starter" het met 'n "dynamo" gewerk. Chrisjan het die kar teen die afdraendjie voor die huis laat afloop, tot in die grootpad en die werksmense het nog so 'n entjie gestoot tot oor die brug, maar daar het die toggie vir eers geëindig. Niks wat Chrisjan gedoen het, kon dit aan die gang kry nie.
"Chrisjan, los eers die besigheid en gaan haal vir Diamond en Black," het Olie Boetie beveel. Diamond en Black was die ou se twee karperde en hy het beslis meer vertroue in hulle gehad. Chrisjan het nie geweet wat die sy pa in gedagte gehad het nie, maar hy sou nie daaraan dink om teen te stribbel nie.
Toe hy met Diamond en Black terugkom, het Olie Boetie die perde voor die Ford gespan. Hoe hy dit reggekry het sonder 'n disselboom, het my pa altyd gesê, het hy nie geweet nie. Later die middag, toe hulle van die dorp af terug was, het hy vir Oupa Frik en Ouma Hessie, sy onmiddellike bure, kom vertel van die oggend se petalje.
"Frik, en Diamond en Black vat en ons begin beweeg en Chrisjan werskaf hier voor met 'n ysterding" - die ratte, sê my pa, "en ek voel pebliek hoe ruk iets vas, ... maar ék het hom laat losruk!" vertel die ou spoggerig.