Daar is geen kortpad na sukses nie, veral nie in in die mededingende modewêreld waar jy die keuse het om te swem of te sink en boonop dikwels met dwelms gekonfronteer word nie.
'n Swartlander het vir 'n hele dekade aanhou swem en kan vandag met trots raad gee aan jong modelle oor hoe om dwelmvry in die modewêreld te bly.
Elizora Olivier (25) van Malmesbury en die supermodel Kate Moss het albei op bykans dieselfde ouderdom die modewêreld betree, maar Olivier se raad is: "Sê nee vir dwelms!" As jy haar pols oor die dwelmdebakel van Kate Moss, antwoord sy: "Ek dink dwelms is aaklig en 'n mens moet so ver moontlik daarvan wegbly." Haar raad aan jong modelle is: "Sê net nee. Dink verder as die oomblik en dis so maklik om net nee dankie te sê."
Olivier se lewe het op die ouderdom van 15 in 'n oogwink verander nadat haar ouers, mnr. Gert en mev. Emtia Olivier, en haar niggie Lolla Orchard haar in 1995 aangemoedig het om vir Die Burger se Jong Model-kompetisie in te skryf. Dit was Olivier se eerste skoonheidskompetisie. Een van haar pryse was 'n kontrak by Topco, 'n modelagentskap in Kaapstad. Hierna het sy nooit teruggekyk nie.
Sy was destyds maar in gr. 10, maar het die wêreld aan haar voete gehad met haar natuurlike skoonheid. Olivier het Mare Todd, 'n fotograaf van Engeland, 'n paar jaar gelede in Suid-Afrika ontmoet. . Die twee se vriendskap het oor die jare al hegter geword en twee jaar gelede het hulle besluit om te trou. Die egpaar woon tans in New York en daar is nog geen sprake van 'n gesinsuitbreiding nie.
Die Swartlander se voete is steeds stewig op die grond en sy is baie geheg aan haar familie. Haar ma sê: "Wanneer Elizora en Mare die kans kry, 1ê hulle so veel as moontlik besoek af by ons, haar twee broers, Gerritt (23) en Guillaime (20), en suster, klein Emtia (14), op Malmesbury."
Olivier woon al ses jaar in New York en werk vir die modelagentskap Wilhelmina. Sy keer so gereeld as moontlik terug na Suid-Afrika om een van die Kaap se mooiste bakens te aanskou. "Dit is elke keer 'n groot oomblik om huis toe te gaan en Tafelberg deur die vliegtuigvenster te sien."
Oor haar langtermyn-doelwitte sê sy: "Ek werk tans daaraan, maar die tyd is te kort vir langtermyn-dink."
BRON: Kaap-Rapport 26 Maart 2006
Jul 07 2005 11:26:49:507PM - (SA)
Ivor Price
Londen. - 'n Vrou wat Malmesbury in die Wes-Kaap tien jaar gelede verruil het vir 'n modelloopbaan oorsee, het gister die tweede terreuraanval binne vier jaar oorleef.
Me. Elizora Olivier (25), haar suster, Emtia, en dié se maatjie, Minka Swart, is gevra om van 'n bus te klim wat 'n terroriste-teiken kon wees. Hulle was op pad na die London Eye, die reuse-uitkykwiel langs die Teemsrivier.
Elizora, wat al op die Amerikaanse uitgawe van die tydskrif Glamour en Harper's Bazaar se voorblaaie was, het gister gesê sy is bekommerd oor Emtia en Minka, wat by haar in Londen kuier.
"Hulle het nog nie gehuil nie, maar hulle is baie geskok. Hulle is te bang om Dinsdag in die vliegtuig huis toe te klim."
Emtia en Minka is albei 12 jaar oud en in gr. 6 aan die Laerskool Swartland en die Christelike Privaatskool in Malmesbury.
Me. Welmien Olivier, Elizora en Emtia se ma, het gesê sy het die ergste gevrees. Eers nadat sy telkemale uit Suid-Afrika probeer uitvind het of haar kinders veilig is, het sy besef: "Dit hét al met ons gebeur."
Elizora was ook op 11 September 2001 in New York toe die World Trade Center aangeval is. Sy het daar as model gewerk .
"Ek het lank gesukkel om by Elizora uit te kom omdat die telefoonnetwerke in Engeland oorlaai was. Iemand in Oxford het later gebel om te sê hulle is veilig," het Welmien gesê.
Elizora was 15 jaar oud toe sy internasionale bekendheid verwerf het. Sy het 'n modelkontrak gewen in die Jong Burger Model van die Jaar-kompetisie wat aangebied is deur Beeld se susterkoerant Die Burger .