BLOEMFONTEIN. - Jan Bloustert Ferreira, die gespikkelde brak van Taiwan, wat nou vastelande ver van die bordeel is waar hy grootgeword het, het in die botter geval.
Danksy die oop harte en beursies van twee SuidAfrikaners het Jan Bloustert drie weke gelede 'n geregistreerde Suid-Afrikaanse "burger" geword.
Mnr. Jaco Olivier, 'n argitek van Bloemfontein, het pas R20 000 opgedok om sy Oosterse brak al die pad vanaf Taiwan na Bloemfontein to bring. En nou het Jan Blou al meer papiere en vliegkoste agter sy naam as sy twee eienaars, Olivier en mnr. Johannes Deetlefs, 'n grafiese ontwerper, van Bloemfontein.
Deetlefs vertel: "Ek het drie jaar gelede Engels by 'n skool in Ping Tung, Taiwan, gegee."Daar is honderde rondloperhonde in Taiwan se strate. Jan Blou het in 'n bordeel grootgeword en ons harte gesteel. Ons het hom en vier ander rondloperbrakke aangeneem en 'n piepklein woonstel met vyf honde gedeel!" lag Deetlefs.
Olivier sê: "Sy naam is Jan Bloustert Ferreira omdat alles in ons Taiwanse woonstel blou was. Ons het so geheg geraak aan hom en sou ons enigiets opdok om Jan saam te bring Suid-Afrika toe.
"Die reëlings om Jan Blou reg to kry vir `emigrasie' het twee maande geduur." Die brak se bloedtoetse is by die Onderstepoort-instituut vir Veeartsenykunde buite Pretoria, gedoen. "Jan is tien dae lank in Milnerton in kwarantyn geplaas."
Jan moes ook 'n invoer- en uitvoerpermit kry. Nou, drie weke ná Jan Blou se aankoms by die Olivier-huishouding, het soesji en rys plek gemaak vir biltong, braaivleis en 'n tuin vol honde-speelgoed.
Elsje Neethling
Die Burger 08.03.2007