In 'n wesenlik nie-intellektuele land soos Suid-Afrika is enige denkpoging in die openbaar eintlik 'n revolusionêre daad. Dit is met dié besef dat Pieter Duvenhage hulde bring aan die Suid-Afrikaanse denker Bert Olivier, wat vandag 60 word.
HOEWEL Bert Olivier in 2004 die Stalsprys vir filosofie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gekry het, is hy ongelukkig grootliks onbekend in die Suid-Afrikaanse openbare lewe. Een rede is miskien dat hy as 'n boorling van die Oos-Kaap langer as 30 jaar half weggesteek sit by die universiteit in Port Elizabeth -'n omgewing wat nietemin in die historiese branding van Suid-Afrika. staan. 'n Ander rede is dat Olivier hom tot dusver van debatte in die pers weerhou het.
Aan die ander kant is daar baie in filosofiese kringe wat meen dat die mantel van Johan Degenaar as openbare intellektueel op die skouers van Olivier geval het. Hiermee word bedoel dat 'n mens hier te make het met 'n denker wat die spanningsverhouding tussen teorie en praktyk op kreatiewe wyse kan ontgin. In die Suid-Afrikaanse konteks beteken dit dat daar 'n voortdurende wisselwerking tussen die beste moontlike denke en die lokale konteks bestaan. By geleentheid van sy 60ste verjaardag is die tyd meer as ryp om Olivier se belangrikheid as so 'n betrokke denker in ons midde te huldig.
Afrikaanse filosofie in die afgelope 100 jaar kan breedweg in drie tradisies verdeel word: 'n kontinentale tradisie wat op Stellenbosch en in Pretoria ontstaan het; die Christelike wysbegeerte wat op Potchefstroom en in Bloemfontein invloedryk geword het, en die analitiese filosofie wat 'n ruk lank aan Unisa deur Afrikaanse filosowe beoefen is. Olivier is deur sy Port Elizabethse leermeester, Fanie Schoeman, in die kontinentale tradisie opgelei. Dit het beteken dat hy al vroeg met denkers soos Husserl en Heidegger, en denktradisies soos die eksistensialisme en fenomenologie kennis gemaak het. Een manier om hierdie denktradisies te verstaan, is deur die verhouding tussen universele teorieë en hul partikuliere toepassing met omsigtigheid te hanteer. Hierdie respek vir die partikuliere in die aangesig van totaliserende denkpogings is een van die deurlopende temas in die denke van Olivier. In die voetspore van Husserl en Heidegger is dit veral Derrida, maar ook ander denkers, wat hom in die rigting motiveer.
'n Ander motief in Olivier se denke is die dubbelsinnige erflating van die moderne wêreld. Reeds met die skrywe van sy doktorstesis (1977) oor die aartsmodernis Descartes is hierdie probleem rigtinggewend. Volgens Olivier het die moderne denke ons aan die een kant gehelp om sake met die wetenskaplike metode te objektiveer, maar aan die ander kant het hierdie objektiverende denke ook die wêreld tot 'n gevaarlike plek van instrumentele bestuur en tegnologiese magsmisbruik omvorm. Dit bring 'n derde motief in Olivier se denke na vore: dat ons as moderne mense in 'n ontredderde wêreld bestaan. Hierdie wesenlik negatiewe teologie sluit sterk aan by Nietzsche se begrip van nihilisme, wat daarop neerkom dat die ou gode vir die moderne mens gevlug het en dat die mens slegs by wyse van 'n passiewe nihilisme of aktiewe nihilisme daarop kan inspeel.
Olivier het sedert die tagtigerjare verskeie kere lang navorsingsbesoeke aan die VSA (Yale en Villanova) en Brittanje (Wallis) afgelê, waar hy sy belangstelling in die probleem van die moderne wêreld na die tema van die postmodernisme uitgebrei het. In die proses het hy nou saamgewerk met prominente filosowe soos Karsten Harries (Yale), Christopher Norris (Wallis), John Caputo (Villanova) en vele ander. Die deurlopende fokus hier is om die moderne manier van denke aan die hand van denkers soos Derrida, Foucault en Lacan uit te daag. Derrida se "metode" van dekonstruksie is belangrik omdat hy ons bedag maak op die verskillende betekenislae wat in tekste en taaluitinge skuil. Foucault se begrip van diskoers-analise wys ons op die verskynsel van taal as 'n magsinstrument en hoe dit by wyse van verskillende diskoersregimes ons handelinge beïnvloed. Lacan gee ons 'n kontemporêre tipologie om die verstrengelde aard van ons onderbewuste en talig-simboliese orde te beskryf. In die spore van dié drie denkers het Olivier ook van denkers soos Lyotard, Deleuze en Guattari kennis geneem.
Dit is egter nodig om te vra: Wat is die implikasies van Olivier se toeëiening van hierdie denke in die Suid-Afrikaanse konteks? Reeds in die tagtigerjare het hy in aansluiting by die Amerikaanse denker Rorty vir 'n ope gesprek in Suid-Afrika gepleit. In daardie stadium het hy aangevoer dat die Nasionale Party nie die gesprek in Suid-Afrika mag domineer nie. Nou, na 1994, het Olivier nie opgehou om nuwe vorme van hegemonie te kritiseer nie. Volgens hom gee genoemde post-strukturalistiese denkers ons die denkmiddele om die baie komplekse verandering in magsverhoudinge wat in Suid-Afrika (ná '94) plaasvind te bestudeer. Dit beteken onder meer dat die magsverhoudinge wat tot 'n nuwe magskompleks verstar en rigidiseer (waar nuwe elites, soos Machiavelli dit stel, teen gewone mense te staan kom), ontmasker moet word. In hierdie opsig moet sake soos asimmetriese magsverhoudinge, hiërargiese denkvorme, dominasie en hegemonie sonder enige illusie behandel word.
Hoewel Olivier sy akademiese werk oorwegend in Engels gelewer het, is by hom geen twyfel oor Afrikaans se tipies Germaanse uitdrukkingsvermoë en nuanse nie. Dit is 'n taal waarin hy met plesier dink en skryf. Ná 1994 voel hy hom ook, soos baie ander mense in die land, oop en bevry om in groter mate in Afrikaans te skryf As 'n denker oor mag beteken dit egter nie vir hom dat Afrikaans sonder instellings soos skole en universiteite sal kan voortbestaan nie. Hier is Olivier terdeë bewus van die brose grond waarop veeltaligheid in Suid-Afrika staan.
Vanjaar is nie net die jaar waarin Olivier 60 word nie, maar ook dié waarin Degenaar 80 word en N.P. van Wyk Louw 100 sou geword het. Wat hierdie drie denkers na my mening deel, is 'n sekere denk-onverskrokkenheid, maar ook 'n sin vir die vele. By elkeen word dit op 'n ander manier geartikuleer: Louw gebruik die begrip liberale nasionalisme, Degenaar is bekend vir sy begrip van pluralisme, en Olivier werk meer met die post-strukturele konsep van die heterogene. Daar is 'n ondergrondse stroom wat dié denkers verbind: 'n grondige kritiek teen enige ingesteldheid wat die wêreld nét vanuit 'n magsentrum probeer bedink.
* Pieter Duvenage is In Johannesburgse akademikus.
Die Burger Saterdag 7 Januarie 2006