Die heel eerste OLIVIER wat na Suid-Afrika gekom het was Hendrik Corneliszoon OLIVIER wat in 1661 hier aangeland het. Hy was 'n baie goeie boer en kon in 1677 'n slaaf bekom omdat hy as een van die tien beste boere aangewys is.
Sy broer Ockert Corneliszoon OLIVIER het 10 jaar later in 1761 hier aangekom. Hy was nogal 'n stout seun en het 'n baie interessante geskiedenis.
Die OLIVIERS het baie vinnig oor die hele Suid-Afrika versprei. Met die veeboere se voortdurende soeke na weiding het ons voorvaders ook dieper en dieper die binneland ingetrek. Dit lyk of daar twee defnitiewe trekrigtings was - een suid van die Langeberge in die rigting van die latere Klein Karoo en 'n ander noord van die Langeberge dieper die Groot Karoo in.
Ek vermoed dat die eerste OLIVIER wat suid van die Langeberge getrek het Ockert was wat ons later in Armoed langs die Olifantsrivier in die latere Oudtshoorn aantref. Volgens Alta le Roux van Oudtshoorn is die plaas Armoed van 'n Koi kaptein, Armoeda, aangekoop en dit is waar die naam Armoed vandaan kom. Hierdie Ockert se tweede seun, wie se naam ook Ockert was, het verder oos getrek en sy tentpenne by Twee Riviere naby die huidiglike Joubertina ingeslaan.
As 'n mens deur die begraafplaas op Fraserburg stap, besef 'n mens ook dat OLIVIERS in hierdie gemeenskap diep spore getrap het. In "Fraserburg en sy Kerk" noem D.A. Scholtz dat Jan (Johannes?) Lodewyk OLIVIER die eerste Olivier was wat in die 1760's homself in di� omgewing kom vestig het. Dit is min of meer dieselfde tyd as wat Ockert in die Oudtshoorn omgewing aangekom het. Daarvandaan, lyk dit vir my, is hulle verder na Graaff Reinet.
Ook in Burghersdorp was baie OLIVIERS wat ook diep spore in die Anglo-Boereoorlog getrap het. Hier was Jan Kommandant OLIVIER natuurlik een van die groot legendes.
Met die deurwerk van Sterftekennisgewings in die Vrystaatse Argief het ek ook hier baie OLIVIERS gevind wat in Armoed gebore is. Met die tyd sal ek ook probeer bepaal wie hierdie Vrystaatse OLIVIERS se stamvader was.
En dan het ek in 2004 ook afgekom op 'n DERDE STAMVADER direk uit Frankryk. Hy was Frank OLIVIER en het in Port Elizabeth gewoon. Ek hoop om nog meer van hom uit te vind.