Armoed, of Volmoed soos die dorpie vandag bekend staan, is omtrent 10 km buite Oudtshoorn geleë en is op die oorspronklike plaas van Ockert, die stamvader van al die Klein Karoo en Langkloof Oliviers.
Met Kapkar en Twee Koeie Dorp toe
Ervarings van Onderwyser 50 Jaar gelede
Hoe hy en 'n paar vriende tydens die Tweede Vryheidsoorlog met 'n kapkar en twee koeie daarvoor na Oudtshoorn toe gery het om hulle inkopies te kom doen, was die vermaaklike ondervinding van mnr. G.J. Roux, 'n afgetreede onderwyser van Wellington, wat aan die begin van die eeu op Volmoed (destyds Armoed) skool gehou het en wat die afgelope weke hier gekuier het. Die ineentuimeling van die volstruisveernywerheid word ook deur mnr. Roux beleef.
Dit was in die jaar, September 1899, net met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, dat ek as 'n jong onderwysertjie op Armoed beland het en byna 14 jaar daar werksaam was. Watter veranderinge en omwentelinge het ek nou hier aangetref na meer as 'n half eeu. Al die ou inwoners het van die toneel verdwyn byna sonder uitsondering, en hul kinders en kleinkinders het hul plek ingeneem. Baie van die ou woonstede het ook spoorloos verdwyn, ook die ou onderwyserswoning waarin ses van my agt kinders die eerste lig gesien het. Ek sou boekdele kon vul as ek alles moes vertel van die ou vervloë dae. Ek is seker dit sal moeilik gaan om 'n vrugbaarder deel van die distrik of selfs die Unie te vind, as die plekkie waar die Moeras en die Kandelaars riviere in die Olifantsrivier vloei, want ek het dit in die jare tweekeer gesien hoe die Olifantsrivier as dit in volle vloed is, die twee spruite van hom terughou en opdam sodat hul geelbruin modderwater ver oor die omliggende lande uitstoot, en as hul weer wegsak, dik lae modder van 'n halwe voet tot 'n voet dik op die lande agterlaat.
Dit is in die slik dat die lusern,vrugtebome, mielies, tabak, en nou ook groot wingerde, en alle soorte groente so welig groei. Armoed is seker die hart van Oudtshoorn wat vrugbaarheid en diepte van aarde betref.
Die Inwoners
Laat my toe om hier te noem maar net twee van die oudste en invloedrykste name van die tyd, met wie ek so te sê daeliks in aanraking gekom het. Dit was mnr. Hendrik Mulder, parlementslid van die Hoërhuis in die tyd, en mnr. Willem Olivier, (oom Willem Platjie) soos almal hom geken en genoem het. Mnr. Mulder het my dikwels gevra om saam met hom sy engeles papiere - wetgewing in die tyd - deur te gaan. Dit was my 'n groot eer en voorrreg. Hy was nogal taamlik goed in Engels vir sy tyd. Oupa Willem Olivier was 'n man vir kerk en skool. Dit was hy en sy vrou wat in 1910 die kerk wat vandag op Armoed staan laat bou het. Tog so jammer dat hy en sy vrou nie albei langs die kerk te ruste gelê is nie. Hy was my ou steunpilaar as daar iets by die skool of onderwyserswoning verandering en verbetering moes ondergaan. My kinders praat nog vandag van Oupa Olivier na al die jare. 'n Ware ongeslypte diamant was hy, maar daar was nog somaar baie ander van dieselfde kaliber wat ek nooit sal vergeet nie.
In die dae het die dominee op die dorp, en onderwysers op die plaas somaar baie gunste en gawes ontvang bo-op hulle karige salarissie
die dorp raak en hy vertel hoe hy en 'n hele paar jong kêrels my kom vra het om aandklasse op te rig vernaamlik vir die onderwys in Engels en rekenkunde. Hy sê my dat die Engels wat hy toe geleer het, hom nou goed te staan kom.
Krygswet 1899
Gedurende die Boere-oorlog toe krygswet of Martjie Louw (Martial Low) soos die boere gesê het, geproklameer is, het dit maar bitter gegaan op die boereplase.
Aan die einde van elke week moes almal ingaan dorptoe om hul weeklikse kos rantsoen te gaan haal. Al die perde en esels was van die plase verwyder, en motors was toe nog onbekend. Met twee melkkoeie voor die kapkar moes ons toe elke Saterdagmôre inry. Maar saam met die swaarkry was daar ook baie vermaaklike avonture.
Om maar net een te noem van so baie ander. Oupa Willem Platjie en sy vrou, tant Antjie, my vrou en ek is toe een Saterdagmôre dorp-toe met die kapkar en twee groot koeie daarvoor. Oupa Willem het dit meesterlik verstaan om met die heuningkwas die Engelse kommandant op die dorp om sy vinger te draai, en die môre het hy van hom 'n ou kreupelperd, saal en toom gekry om op die plaas rond te ry agter die volstruise aan. Dit was Maart maand en hy nooi die kommandant om op die plaas van sy pragtige hanepoot druiwe te kom eet.
"But you must come and fetch me, Mr. Olivier," sê die kommandant."
"How must I come and fetch you, you took all my horses?" sê die oubaas.
"But how did you come in this morning?" vra die kommandant.
"How did I come in?" vra die oubaas. "I had two women before the cart, and two women on the cart."
Die Verkeer
Motors was onbekend en om in die tyd in enige rigting van Oudtshoorn af weg te kom was uiters moeilik, en alles moes met kar en perde gedoen word. Baie later eers is die spoorlyn van Klipplaat tot op Oudtshoorn aangelê, en in die Suide van Riversdal tot op Mosselbaai aangebring. Ons moes toe maar altyd oor die Swartberg Pas na Prins Albert-weg per poskar of liewer waentjie, en na Mosselbaai per private rytuig en dan per stoomboot na Tafelbaai. So het ons maar altyd moes oorweg kom vir 'n vakansie of ander besigheid. As ons dan na 'n lang rit in die Kango of, bo op die Swartbergpas kom, klim ons gewoonlik af, en kyk terug daar ver onder na die Klein Karoo, dan is dit op 'n stil mooiweer dag asof jy die sagte koele bergwindjie hoor sê, "Lusern, volstruis!! Lusern, volstruis!!" dis al.
In 1913 het die volstruisveer sy toppunt bereik, meen ek, en van 1914 af in die diepte afgedaal. In 1920 toe ek weer op Oudtshoorn vir 'n kort besoekie kom, en in die strate van die volstruis stad rond stap, dink ek, "Ja die Bybel is maar 'n waar boek waar dit staan, "Ik heb vele knechten te paard gesien, en heren gaande als knechten op die aarde". Hier het nou waarlik 'n tragiese omwenteling plaasgevind.
Ek het op die 14 jaar op Armoed baie gesien en beleef. Oorvloede en armoede, vrugbare en baie skrale dro jare. Daar was tye toe die mense in die stad by waterkarre water moes koop en ons op Armoed met vaatjies en watersakke uit die tenke by die dorpshuise drinkwater moes moes gaan haal twee keer per week. Gorrietjies (diep ronde gate) word in die riviere gemaak waar mens en dier moes lafenis kry. Maar in die volop jare floreer alles weer.
Die motorkar het op die toneel verskyn en ek het gesien, die pa het 'n blink en spoggerige motor en die twee seuns, Willem en Piet, het elkeen 'n Fordjie - die eerste wat uitgekom het - en daar trek die drie motors agtermekaar elke Saterdagmre dorp toe, en meester moes sy twee ou karperdjies maar in die klawer laat loop, en ook in die blink motor kom klim.
Op die dorp gekom, sit ons almal op die stoep van die losieshuis en rook. Ja, so het ek Oudtshoorn geken vir die laaste halwe eeu.
NUUS
Mnr. G.J. Roux, van Wellington, wat enige weke lank op Volmoed en Oudtshoorn gekuier het, keer more terug na sy tuiste. Tydens sy besoek hier het hy 'n artikel oor sy ondervindings uit die ou dae geskryf vir die "Oudtshoorn Nuus". Dit verskyn elders in hierdie uitgawe
Vrydag 3 Augustus 1951