Ek glo Generaal Jan Hendrik verdien 'n bladsy van sy eie!! Ek het 'n klompie baie interessante foto's van Okkie De Jager (Genl Olivier is sy oupagrootjie) ontvang asook baie interessanthede in sy e-posse aan my. Ek plaas die e-posse asook die interessante foto's asook foto's wat ek alreeds gehad het op hierdie bladsy. Ek het ook baie interessante aantekeninge van generaal Olivier by sy kleindogter, Maria Oostuyzen ontvang wat ek ook al gedeeltelik geplaas het. Die aantekeninge het hy gehou in die Diyatalawa kamp op Ceylon.
Maar eers Okkie se e-posse:-
E-pos 1:
Ek het die Oorlogsmedalje van "Assist. Hoofd Kommandant Jan Hendrik Olivier". Hy was my oupgrootjie. Sy een dogter (my ouma) was Johanna Olivier wat met Ockert Cornelis Brits van Roodedraai in 1916 getroud is. My ma (Mara Brits) is uit die huwelik gebore. Sy is gertoud met my pa (Marthiens de Jager).
Iewers het ek gelees dat Olivier tweede in bevel van die Vrystaatse magte (naas de Wet was).
My ouma het my vertel dat haar pa (JH Oliver) die dagboek van de Wet na sy terugkoms uit Ceylon gelees
het en sy moer gestrip het: "de Wet lieg - hierdie was my veldslae!" Hy het strepe deur de Wet se dagboek getrek.
Oorlogsmedalje van (sykant ingegraveer) ASSIST. HOOFDKOMMANDANT J.H. OLIVIER. Let wel dat dit die tweede hoogste rang in die Orange Vrystaat was. As jy kyk op die Oorlogsmuseum se lys van medaljes, sal jy dit sien http://rapidttp.com/milhist/vol011fo.html "(1) The order of seniority of ranks mentioned in your enquiry can be classified as follows: (a) Oranje Vrystaat (Republic of the Orange Free State): (i) Hoofdkommandant (ii) Assistent Hoofdkommandant. " Daar was drie sulke (ii) medaljes vir die Vrystaat. Met reg kan ons sê dat JH Olivier die bevelvoerder van die Suidelike Vrystaatse magte was.
E-pos 2:
My ma het my vanmiddag hierdie fotos gegee. Ek het dit gou ingescan. Dit is van JH Olivier en sy tweede vrou (JFG Uys) in 1888 afgeneem. Goeie toestand. Jy sien sy is verwagtend met my ouma Johanna Olivier.
Die tweede foto - in 'n veel swakker toestand is van my Ouma Johanna Olivier toe sy met my Oupa (Okkie Brits) getroud is. Huwelikskaartjie van my ouma aan my Oupa Ockert Cornelis Brits (ek het sy naam gekry). Let wel dat haar pa as Genl. Olivier van Olifantsbeen van Zastron aangedui word. Hierdie foto kan jy saam met die huwelikskaartjie plaas. Hier was sy 28 jaar oud (onthou die troudatum van 1916). Hulle het toe op Roodedraai (langs Volksrust) gebly. My ma het my nog 'n foto aangebied: JH Olivier (as ou man) saam met sy drie dogters (Johanna, Joekie en Drieka) by Winburg afgeneem waar hy gevangene geneem is tydens die ABO in 1900. Ek het nie tyd gekry om dit ook te vat nie - ons was haaastig, want ek vertrek Donderdag na Parys Frankryk vir 'n maand.
E-pos 3:
Onthou dat sy vrou JFG Olivier ook in die konsentrasie kamp was. Hulle kinders was ook in die kamp (my Ouma Johanna was 12 jaar oud toe sy kamp toe gegaan het).
Aangeheg 'n afdruk van 'n gesensorde brief vanaf Ceylon geskryf deur JH Olivier in Diyatalawa Kamp aan sy vrou JFG Olivier in die Aliwal Noordse Konsentrasie kamp. Dit is gefrankeer met 'n 6c Ceylon QV posseel vir vervoer per boot na Aliwal Noord Konsentrasie Kamp. Onthou ook dat JFG Olivier moes uitgestaan het as die' kamp vrou van die Boere Offisier met die hoogste rang.
'n Foto wat my baie "puzzle" (en waarmee my ma my nie kon help nie) is die van die Kamp kinders - ook uit my Ouma Johanna se versameling: Agterop staan: "Bewaar: die portret van die boere oorlog - vertrek na Aliwal Noord". Vrystaatse kinders op pad na die kamp?
My ouma (of haar ma) het 'n vel waspapier voorop met 'n speld vasgeheg en name van kinders bo-oor fotos ingeskryf: "Willie, Robert, George, G. Smyth en Harvey Smyth." Jy sien die speld merk bo links. Ek sien nie my Ouma en haar susters op die foto nie. Ek weet nie of hulle ook daarop is nie? Ek weet nie of JFG Olivier die foto op grond van haar "status" in die kamp bekom het nie, of dalk agterna? So, die Aliwal koevert en Aliwal foto saam kan ook 'n mooi prentjie maak. Dit moes nogal vernederend vir my Ouma Grootjie gewees het om 'n kamp gevangene in Aliwal Noord te wees, waar alle Britse soldate en almal daar geweet het dat haar man voorheen (1899) Aliwal Noord namens die OVS geproklameer het!
2) Interprovinsiale Periode poskaart aan my ouma Johanna (Olivier) vanaf haar Broer B. Olivier toe sy nog op Olifantsbeen gebly het. Gedateer 1911.
Handtekening van J.H. Olivier (een van die briewe wat hy aan sy dogter gestuur het.
Doodsberig van sy tweede vrou, JFG Oliver (Uys), my ma het haar name gekry.
Jan Hendrik OLIVIER is ongeveer 1856 gebore op Rooiwal en op 30 Mei 1930 oorlede. Geb op Rooiwal. Hy was Vrystaatse Volksraadslid en Boeregeneraal Hy het 15 kinders weet van 1 seun Henning en een dogter Anastasia sien lewensgeskiedenis Met militere eerbewys begrawe.
SABW Vol 1[ Rosenthal Sterf Bloemfontein] Datum 1848-1924 OLIVIER Jan Hendrik Gebore Rooiwal distrik Burgersdorp. 24.01.1848 + Volksrust 30.05.1930 Vrystaat Volksraadlid en Boeregeneraal. Trek met sy ouers na die distruk Zastron Sluit op 15 jarige ouderdom by OVS grenspolisie aan en word twee jaar daarna Veldkornet in die distrik Zastron-Rouxville Vir sy deelname aan die oorlog teen Mosjweweshwe word aan hom die plaas Olifantsbeen in die wyk Vechtkop (tans Dist Zastron) toegeken waar hy 47 jaar lank boer.
Generaal Olivier sit langs die president van die Vrystaat MT Steyn.
In 1883 word hy volksraadlid van Caledonrivier en met die uitbreek van die ABO voer hy as kommandant bevel oor die Rouxville -Zastron kommando. Een van 3 OVS kommando's wat ten noorde van die Oranjerivier geplaas word om De Aar, Noupoort en Stormberg te annekseer. Daar was 4 Seuns saam met hom op kommando en 1 sneuwel in Natal.
Op 13 November 1899 beset hy Aliwal-Noord. Hy trek na Burgersdorp, Jamestown en Barkly- Oos. Hy beset Stormberg met 1700 man op 26 November 1899. Die slag van Stormberg 10 Desember 1899 was 'n oortuigende oorwinning, maar word ongelukkig nie opgevolg nie, want Olivier wou nie op 'n Sondag veg nie. Hy val terug op 11 Maart 1900 in die rigting van Ladybrand en neem deel aan CR De Wet se opmars in die suidoostelike Vrystaat teen Gatacre en Gen Maj. EY Bradant se koloniale divisie in Maart en April 1900 en by Thaba Nchu.
Die foto links is van genl. Oliviers en 9 ander mans wat aan die Stormberg-veldslag deelgeneem het en het Nico Vermaak van Randburg goedgunstiglik voorsien. Vier van die mans is Oliviers en die ander vyf onderskeidelik Adendorf, Besuise, Jooste, Muller en Smit - Groot Hendrik Smit.
Hy trek na Ficksburg in Mei en na Sandrivier om noordwaarts die opmars van Roberts te stuit en veg onder De Wet tot aan die einde Julie in die OVS. Met De Wet se groep ontkom hy uit die Brandwaterkom op 30 Julie 1900 deur Golden Gate. As gevolg van 'n geskil in krygstaktiek besluit OLIVIER en sy 3 seuns om by die Transvaalse magte aan te sluit en op pad op 27 Augustus 1900 word hy veraai deur 'n vriend en val hy in die hande van die Queenstown Volunteer Rifles en word saam met sy seuns na Cylon gestuur. Sy seuns was Veldkornet Jan Hendrik (29 jaar), Henning Jeremias (24 jaar) en Barend Daniel (18 jaar)
Daar bly hy tot 1902 Hy was baie teruggetrokke en dus nie baie gewild. Hy keer terug en word lid van die wetgewende vergadering in sy ou distrik. Hy was ook 'n perdeteler In 1910 ontrek hy hom van die openbare lewe. Na sy aftrede woon hy by sy dogter op Rustenburg waar sy tweede vrou sterf. Hy sterf op besoek (met dogter) aan Volksrust en word daar met militere eerbewys begrawe OLIVIER was 2 keer getroud en het 15 kinders gehad.
Uit "Bannelinge oor die Oseaan" Coen Groenewald bl 68-69 Generaal Olivier het voor die oorlog met volbloed perde geboer, en het tydens sy ballingskap die Goeweneur van die kolonie, Sir West Ridgway, bygestaan met perdetelery op Delft, 'n eilandjie aan die noordkus van Ceylon. Op advies van generaal Olivier is die perdetelery georganiseer en verbeter. Vanwee sy boerderyervaring het Genl Olivier ook sekere giftige plante uitgewys. Met die hulp van 'n ander krygsgevangenis, 'n kenner, is die plante uitgeroei. Hierdie plante het veevrektes veroorsaak.
AV Oosthuizen se Rebelle van die Stormberge gee 'n weergawe van Olivier se inval in die Noordoos- Kaap en sy anneksering van Aliwal Noord en die daaropvolgende naamsverandering na "Oliviersfontein" wat 4 mnde sou hou.
Ook heelwat oor die persoon van Olivier. * 1845 Burgersdorpdistrik Verhuis kort daarna na die Vrystaat waar hy in 1865 laerkommandant van die Rouxvillekommando in die oorlog teen die Basotho's was. Kmdt Olivier het die familieplaas van sy vader gekoop en 'n vermoënde man geword. Op bl 69 word melding gemaak van Johannes Francouis De Wet, 'n goeie vriend van Olivier. Sien detail onder de Wet X Olivier Op bl 86 word melding gemaak van Gustav van Aardt, 'n getroue ondersteuner. Op 1 Maart 1900 ontvang Olivier opdrag om Stormberg te ontruim, reeds die volgende dag het Olivier Stormberg begin ontruim en toe Gatacre op 5 Maart 1900 op Stormbergstasie aankom, was daar die boodskap vir hom in 'n lokomotief gelaat. "Wel Generaal Gatacre, aangesien ons jou tweekeer met die kleiner getalle opgefoeter het, gee ons maar Stormberg aan jou om verdere Britse bloedvergieting te voorkom, want jy sal tog nooit Stormberg kan afneem nie. Ons wens jou 'n spoedige en veilige terugkeer na Engeland toe "Die uwe 'n Boer. En bokant Olivier se sinkhut die volgende. Gatacre: Ons het 24 uur vir jou gewag en kan nie langer wag nie. TOTSIENS. Maandag 12 Maart het Olivier se droom van 'n eie onafhanklike republiek in die Stormberge met Oliviersfontein (Aliwal-Noord) as hoofdorp aan skerwe gelê. Die burgers van hierdie republiek was soos jakkalse sonder gate. Op 26 Augustus 1900 is Olivier en sy twee seuns, van wie die jongste slegs 13 jaar oud was, gevangene geneem tydens 'n poging om Winburg te ontset. Hy was op pad na die randtjie wat deur die boere beset was, maar toe hy sy bestemming bereik, was die burgers weg en is hy gevange geneem deur manne van Brabant's Horse in siviele klere wat hy vir sy eie mense aangesien het, So verbaas was hy dat hy op sy perd gesit en lag het, vas onder die indruk dat sy manne besig was om hom 'n poets te bak. Hierdie insident het die vermoede laat ontslaan dat hy verraai is en die het van Olivier 'n verbitterde man gemaak. Hy is na Ceylon verban.
(Van die inligting is verskaf deur [kleinseun] Henning OLIVIER en Anastasia OLIVIER [dogter] van Pretoria)
Kom ook voor in Boere Offisiere 1899-1902 deur Jacques Malan sy bronne is DB: 7,11 Nienaber 1:189
SABW 1:628 Van Zyl: 52,65,66,67,69,107,125,131,145,153,249,250
Malan gee * c 1856 - 15 jaar aangesluit by grenspolisie en op 17 jaar veldkornet - 1883 lid van Volksraad en 1893 herkies - 13.11.1899 beset Aliwal Noord en daarna Burgersdorp, Jamestown, Barkly-Oos en Stormberg Op 26.11.1899 probeer sir W.F. Catacre Stormberg beset - 1907-1910 Wetgewende vergadering
Interessante insigte van Nico Vermaak:
Baie dankie vir die biografiese gegewens oor Genl JH Olivier. Ek hoop nie jy gee om nie, maar ek het jou boodskap en versoek net so by die Slagveld-foto van die Genl in die ABO album geplak as 'n Kommentaar. Praat maar as jy wil hê ek moet dit afhaal. Dit gee die foto soveel meer lewe.
Die gegewens is vir my persoonlik baie interessant en leersaam. Ek het nie voorheen geweet dat Generaal Olivier Zastron en Olifantsbeen-bande het nie.
Ekself is op Zastron gebore. Een van my skerpste herinneringe as so 'n 10-jarige seun in die vroeë 60's is van 'n jakkalsjag op 'n koue wintersmore op Olifantsbeen. Die opwinding van die voor-dagbreek se bymekaarkom op die plaas, koffie en beskuit, die klompe honde en brakke wat mekaar net wil gryp, gewere, die reuke van geweerolie, diesel-bakkies en pyprook wat in die donker meng. Daarna die klim na die voorsit-plek teen die hang van Olifantsbeen, die berg waarna die plaas heet, so genoem weens 'n klipsuil wat bo-op die berg staan. En uiteindelik die ongelooflik vervelige doodstil sit en wag dat die jakkalse nou moet verbykom dan die ooms op hulle kon losbrand. G'n enkele jakkals gesien daardie oggend nie - die honde van Oranjejag het die spoor van 'n troppie vaalribbokke wat opgejaag is, gevat en niks kon hulle daarvan afkry nie! Die skok toe ek na die tyd hoor hoe hulle hanteerder dreig dat hy hulle met 'n stuk bloudraad gaan b.. (slaan)!
Hulle is maar net honde, het ek gedink.
Wat dit met genealogie te doen het weet ek nie - maar dit wys my maar weer ek is 'n "stedeling in die stad misplaas" - soos Boerneef geskryf het - 'n "Boer op beton", soos die liedjie gaan.
Groete,
Nico Vermaak
RANDBURG
Die klipsuil waarna die plaas Olifantsbeen vernoem is.