Stories uit vergange se dae
Ronnie van Rensburg -
Die meeste van hierdie stories is stories wat deur my pa, Sam Olivier, vertel is en is eintlik nie stories nie, maar dinge wat werklik gebeur het. Dit het byna almal afgespeel in Kandelaarsrivier en Volmoed - wat toe natuurlik nog Armoed was - naby Oudtshoorn.
Die naam Armoed het niks te doen gehad met armoede of swaarmoedigheid of 'n gebrek aan moed nie. Toe die eerste blanke boere die omgewing van die huidige Volmoed bereik het, het hulle grond van 'n Khoi hoofman met die naam Harmoed of Harmoet verkry. Die naam het in die volksmond Armoed geword. Die nedersetting wat daarna in daardie omgewing ontstaan het, is Armoed genoem en is in die vroeë 1960's na Volmoed verander, omdat die naam teen daardie tyd konnotasies van armoede en moedeloosheid aangeneem het. Die val van volstruisvere in 1914, die Groot Griep van 1918 en die droogte van 1930 is natuurlik almal dinge wat bygedra het tot die swartgallige konnotasies van die naam Armoed en die eintlike oorsprong van die naam het heeltemal in die vergetelheid verval. Hoe dit ook al sy, dit is amptelik verander na die "teenoorgestelde" vorm, Volmoed.
Ou Mol en ou Baardman
Maar dit net terloops. Sommige van die stories het my pa van sy pa gehoor, soos hierdie eerste een oor Ou Mol en Ou Baardman. Hulle was twee oujongkêrels van Volmoed wat miskien as bywoners op een van die boere se grond gewoon het. Hulle was getroue kerk- en biduurgangers en het gereeld die vrymoedigheid geneem om hardop te bid by biduurgeleenthede. Kinderlik opregte gebede. So het een van hulle by geleentheid gebid dat die Here tog moet gee dat die mense die dooie volstruise sal begrawe, want hulle stink al verskriklik! Ook het een van hulle gebid dat die Here aan sy buurman se hart moet werk, sodat dié vir hom 'n karmenaadjie sal stuur van die vark wat hy geslag het!
Die storie wat my pa die meeste geniet het, het juis by so 'n biduurgeleentheid plaasgevind.. Volmoed se kerk is 'n hele entjie uit die dorpie uit gebou. Die kerksaal is egter in die Rooistraat, net langs die skool gebou en tydens Pinkster is daar elke aand in die kerksaal bidure gehou. Die saal was stampvol, maar Ou Mol en Ou Baardman het al vroeg gekom en het geen probleem gehad om op die opvoustoele wat gebruik is, plek te kry nie. Die diens het pas begin toe daar 'n redelike gesette oom en sy skraal vroutjie opdaag. Die dominee het vir hulle gewys dat daar heel voor nog plek is en bedagsaam gewag dat die twee hulle plekke inneem en toe weer begin met die diens.
Die ou oom het hom reggeskuif op die stoel en hom klaargemaak om lekker te luister. Na 'n rukkie het hy sy een been oor die ander geswaai om meer gemaklik te sit. Die eis was te veel vir die opvoustoeltjie en dit het skielik onder die oom meegegee. Hy en sy vrou beland albei in 'n hoop op die vloer. Daar was so 'n bietjie onderdrukte gegiggel, maar die diakens het flink opgespring en die twee oues opgehelp en hulle gehelp om weer hulle plekke in te neem en die dominee kon voortgaan met die diens.
Seker 'n volle tien minute daarna kon Ou Mol en Ou Baardman dit nie meer hou nie en het die snaaksheid van die situasie hulle opnuut getref en albei het kliphard uitgebars van die lag. Soos dit maar sulke tye gaan, het hulle die res van die gemeente aangesteek en moes die dominee weer eens wag vir die vrolikheid om te bedaar voordat hy kon aangaan met die biduur!