Ronnie van Rensburg:
Somtyts is daar films vertoon in die skooltjie op Kandelaarsrivier op 'n Vrydagaand of 'n Saterdagaand. Seker maar die skoolmeester wat dit gereël het. Die hele buurt het die geleentheid bygewoon. Almal is in die skooltjie ingepak. Oom Ernst en sy vrou het van die hele besigheid nog minder as die ander ou mense verstaan, maar dit was darem goeie vermaak - van diere en so aan. Alles het volgens plan verloop totdat daar 'n motorkar in die film sy verskyning maak. Die motorkar is afgeneem waar dit in die pad aangery kom - teen die verbysterede spoed van 40 m.p.u. Die kar kom reg op die kamera aangery en toe dit nie tekens toon van stilhou of uitswaai nie, was dit net te veel vir Oom Ernst se senuwees. Hy het net een kreet gegee en by die skooldeur uitgestorm - uit die pad van daardie gevaarlike besigheid uit! Die jong manne het laggend uitgegaan om Oom Ernst weer terug te bring en hom te verseker dat daar geen gevaar bestaan nie. Hulle het hom agter die skool gekry waar hy besig was om te soek na die gat wat die gevaarte gemaak het toe dit deur die skool gejaag het!
Van Poetse bak en nog wat
Vermaak - vir oud en jonk - was maar dun gesaai in hierdie tyd en poetse bak was aan die orde van die dag. (Weet vandag se kinders nog wat dit is om vir iemand 'n poets te bak? Of is dit ook 'n uitdrukking wat in die vergetelheid geraak het? Vir eietydse jongmense - 'n poets is 'n "joke"!)
My pa se groot vriend, At Strydom, was 'n baaspoetsbakker. Gedurende een Desembervakansie het hy en my pa vir At se oom, Oom Adam Barnard, gehelp om koring te dors en die koring na Tom se meule op die dorp aan te ry. Die ouer mense, soos Oom Adam Barnard, het van al die nuwerwetse goed soos roomys, niks geweet nie en dié dag sê hy dan ook vir sy oom: "Oom, ek gaan vandag vir Oom iets baie lekker koop as ons klaar die wa afgelaai het."
Op pad terug Kandelaarsrivier toe, hou hulle dan ook by 'n kafee stil en At koop vir hulle elkeen 'n roomys op 'n "koun". Toe hy Oom Adam s'n vir hom gee, sê hy: "Oom moet net oppas, dit is baie warm. Oom moet dit koud blaas en dan sommer 'n groot hap vat." Oom Adam het geblaas en geblaas totdat At gesê het hy kan nou maar 'n hap vat. Met die eerste hap roep Oom Adam uit: "Donnie, At! Ek het die ding glad te koud geblaas!"
Sondae middae is daar oor en weer gekuier langs die rivier op - en af. Almal het gestap; jy kan nie 'n donkiekar of 'n perdekar inspan vir sulke kort endjies nie. Dan het almal in die voorhuis gesit en gesels en koffie gedrink. Later het die jong mense buite onder die bome of voor die huis op die stoep gaan sit. Die Sondag is daar by Oom Theuns en Ant Sannie Koen gekuier. Ant Sannie was 'n suster van Oom Ernst wat so hard kon praat en sy het nie haar woorde getel as sy iets wou sê nie. 'n Neef van my pa, Chrisjan Olivier, het weke tevore 'n advertensie vir allerhande "grap-hulpmiddele" in die Sondagkoerant Die Landstem gesien en vir hom 'n paar items bestel. Een daarvan was 'n plastiekdrol - baie realisties. So het Chrisjan die "grappie" (ek kan tog nie heeltyd sê "die drol" nie!) op die vloer in die voorhuis neergesit. Maar niemand van die grootmense het iets raakgesien en iets daaroor gesê nie. Die jong mense het natuurlik almal van Chrisjan se plan geweet en was dik van die lag. Hoe sal Ant Sannie op hierdie "grappie" reageer?
Chrisjan besluit hy moet sake so 'n bietjie aanhelp en snuif 'n paar keer vieserig deur sy neus en kyk om hom rond. Nog niks. Weer 'n paar snuiwe en toe vra hy: "Wat stink dan so, Ant Sannie?" Ant Sannie weet niks in haar huis stink nie en vee Chrisjan gelyk met die grond met: "Dis seker jou gat wat so stink, Chrisjan!" Die ander jong mense stik soos hulle lag. "Nee, maar regtig, Ant Sannie! Kyk hier op die vloer!" gooi Chrisjan wal. Ant Sannie kyk waar hy wys. Haar stem slaan dun deur ... "O hedetjie tog! Dis seker die katjie! Theuns, kry die skoppie en die besem!" Chaos!
Ant Sannie het somtyds, as sy darem te lus kry, van Oom Theuns se roltwak afgesny en dit gepruim. Toe hy haar een keer op heterdaad betrap, het sy net gesê: "Vat my, Theuns. Ek is skuldig." Wat sou sy gedink het sou liewe, goeie Oom Theuns aan haar doen?
Oom Theuns en Ant Sannie se bywonershuisie was naby die grootpad en een aand baie laat klop daar iemand aan hulle deur. Oom Theuns en Ant Sannie was al in die bed, maar Oom Theuns staan op om te gaan kyk wie dit is. Ant Sannie was bitter nuuskierig oor wat aan die gang was, want sy kon die stemme hoor, maar nie wat gesê is nie. "Wie is dit, Theuns?" het sy 'n paar keer ut die kamer uit geroep, totdat Oom Theuns later vir haar sê dit is 'n man wat petrol vir sy kar wil hê. "Om Theuns het nie 'n motor gehad nie, maar Ant Sannie, voortvarend soos altyd, het raad geweet. "Stuur hom na Ockert Blommetjie toe," skree sy en herhaal die stukkie raad weer later toe Oom Theuns nie dadelik terugkom nie.
"Hoekom het jy hom nie na Ocker Blommetjie to gestuur nie?" vra sy net vererg toe Oom Theuns weer in die bed klim. "Vrou, dit wás Ockert Blommetjie," antwoord Oom Theuns bedaard. "Bek, bek, bek!" tik Ant Sannie haarself op die mond.