'n Suid-Afrikaner is minute voordat terroriste 'n woonstelkompleks in Riaad opgeblaas het, deur dieselfde bomaanvallers in die voet geskiet toe hy en sy gesin voor die mans probeer uitvlug het. Hulle is boonop in die daaropvolgende chaos van hul twee klein kindertjies geskei en eers ure later herenig.
Mnr. Gerrit Olivier, sy vrou, Mireilla, en hul kinders, Gert-Nicholas en Marié. Olivier is in die voet geskiet tydens die bomaanval op 'n Westerse woonstelkompleks in Riaad, Saoedi- Arabië.
SA gesin se angs
Bomaanval: Geskei van slapende kinders Egpaar loop deur onder handgranate - ERIKA GIBSON
PRETORIA - 'n Suid-Afrikaner is minute voordat terroriste 'n woonstelkompleks in Riaad opgeblaas het, deur dieselfde bomaanvallers in die voet geskiet toe hy en sy gesin voor die mans probeer uitvlug het.
Hulle is boonop in die daaropvolgende chaos van hul twee klein kindertjies geskei en eers ure later herenig.
Mnr. Gerrit Olivier, sy vrou, Mireilla, en hul kinders, Gert-Nicholas en Marié. Olivier is in die voet geskiet tydens die bomaanval op 'n Westerse woonstelkompleks in Riaad, Saoedi- Arabië.
Mnr. Gerrit Olivier (32) en sy vrou, Mireilla, 'n dokter, het in die pad van die bomaanvallers beland terwyl dié deur die ingang van die Al Hamra-kompleks gebars het op pad om hul karbom te laat ontplof. Hulle het met masjiengewere op die Oliviers losgebrand.
Olivier het sy vrou oor 'n muur help ontvlug terwyl handgranate om hulle ontplof het. Sy voet is deur 'n koeël vergruis toe hy oor die muur gespring het.
Olivier se pa, mnr. Gert Olivier van Kuruman in die Noord-Kaap, het gister van sy seun en skoondogter se gru-ervaring vertel na 'n oproep van hulle af.
"Gerrit en Mireilla het Maandagaand laat gaan stap in die kompleks toe hulle hulle in die bomaanvallers vasgeloop het. Hul twee kinders Marié (4) en Gert-Nicholas (3), het reeds geslaap.
"Die terroriste het handgranate na die geboue gegooi so ver as wat hulle gery het. Die volgende oomblik het die hoofgebou ontplof."
"Gerrit het met sy stukkende voet en al na hul woonstel gehardloop, waar alles in puin was. Die sitkamermuur is weggeskiet en daar was geen teken van die kinders nie. Toe hy en Mireilla buitentoe storm om hulle te soek, het 'n Saoedi-polisieman gesê hy moet by 'n hospitaal kom met sy bloeiende voet. Hy het toe eers besef hy is ernstig gewond.
"Intussen het hul buurman en vriend, 'n Fransman, ná die bomontploffing gaan kyk of hulle seergekry het. Hy was self flenters van die skrapnel.
"Dis toe dat hy die twee kindertjies met hul klere en die woonstel in vlamme gekry het. Hy het hulle gegryp en met die hulp van die polisie na 'n hospitaal gejaag."
Terwyl Gerrit in 'n ander hospitaal behandel is, het hul Suid-Afrikaanse vriende van hospitaal tot hospitaal gery op soek na die kinders. Dié het hulle eers ses uur later opgespoor - geskok, maar ongedeerd.
"Gerrit-hulle wou onmiddellik terugkeer Suid-Afrika toe, maar al hul besittings is verwoes - tot hul paspoorte."
Boonop moes die dokters in Riaad Gerrit se voet opereer, want van die beentjies is vergruis. Hy was gister steeds onder verdowing in die hospitaal.
Die egpaar se Suid-Afrikaanse vriende help intussen met klere vir die egpaar en hul kinders.
"Hulle keer so gou moontlik terug Suid-Afrika toe. Hulle het net voor die oorlog in Irak ook hier kom kuier om eers te kyk wat gebeur in die Midde-Ooste. Hulle was pas terug en nou dit," het Olivier sr. gesê.
Olivier jr. is in bedryfsingenieur wat die afgelope vyf jaar in Riaad woon en werk. Sy vrou het 'n praktyk in die woonkompleks, maar is ook een van die koningsgesin se dokters.
Mev. Hannelie van Heerden, Olivier jr. se peetma, het gister gesê die egpaar wou altyd net die beste vir hul kinders hê. Nou is daar niks van hul besittings oor nie. "Marié verjaar binnekort. Die verjaardaggeskenkie wat ek vir haar gestuur het, is seker ook verwoes. Dis net 'n wonderwerk dat hulle lewe. "
* Volgens die Suid-Afrikaanse ambassade in Riaad is twee Suid-Afrikaners, gewond, berig Sapa. Die ambassade wou nie name bekend maak nie.
DIE BURGER (VOORBLADBERIG) - 15.05.2003