Van Strand Rust tot Reebok

Ek het 'n tydjie gelede die volgende baie interessante e-pos gehad van Anelma Ruschioni van Reebok. Ek plaas haar e-pos net om perspektief te gee - ek hoop nie jy gee om nie Anelma!



Hallo Josey

Ek het heel toevallig via google op die bogenoemde webblad afgekom. Baie dankie vir al die interessante inligting!

My oupagrootjie was O.J. Olivier van Welgeluk, Oudtshoorn, een van Gert “Towers” Olivier se broers, en sy jongste dogter was my ouma. My kleinneef en sy seun boer steeds op Welgeluk – ek sal hulle laat weet van die webblad ingeval hulle iets wil bydra.

Self kan ek iets stuur oor die begin van Strand Rust (vandag Reebok) naby Mosselbaai. Dit was oorspronklik ‘n private strand wat omstreeks 1909 deur 10 grondeienaars van die Oudsthoorn-omgewing gekoop is, 6 van hulle kinders van my oupagrootjie.

Vriendelike groete


Van Strand Rust tot Reebok



Die strandoord Reebok (oorspronklik Strand Rust, geleë tussen Klein-Brakrivier en Tergniet) was eers ‘n private strand wat aan tien grondeienaars behoort het. Ses van hulle was seuns en skoonseuns van Hansie (O.J.) Olivier van Welgeluk, Oudtshoorn. Op hierdie Olivier erwe wat gestrek het vanaf Olivierlaan tot by die huidige Kusweg, is daar vandag nog 7 huise wat behoort aan Olivier nasate. Pieter Olivier se eiendom is omstreeks 1929 verkoop aan John McLaren en op die stuk grond is daar vandag 3 huise wat aan sy afstammelinge behoort.

Uittreksels uit Van Strand Rust tot Reebok: Stories en vertellings sedert 1909 deur Anna Kühn (© 2004, uitgegee deur haar dogter, Anelma Ruschioni). Anna (Bredell) Kühn was die jongste dogter van Beatrice (Olivier) Bredell, die jongste dogter van Hansie (O.J.) Olivier van Welgeluk, Oudtshoorn.

“As mens vandag by Reebok bultaf en oor die treinspoor ry, sien jy aan weerskante die nege oorspronklike huise wat op die destydse Strand Rust gebou is. Hierdie is die hart van die strandoord – waar die aanvanklike ontwikkeling omstreeks 1909 begin het.

Tot ongeveer 1955 was Strand Rust ’n private strand wat slegs deur die destydse grondeienaars onder die spoor gebruik is. Baie jare lank het die treinspoor en die toegangshek op Pappie (Louis Bredell) se stuk grond gehelp om dit so te hou. Mettertyd het die strand geweldig begin uitbrei en ontwikkel, die naam Strand Rust het in onbruik verval, en so het die huidige Reebok ontstaan. Die klompie oorspronklike huise bly egter steeds getuie van ’n era toe tien grondeienaars (waaronder ses Olivier broers en susters, kinders van oupa Hansie Olivier) die strandjie vir hul jaarlikse somervakansie uitgesoek het. Van die eerste grondeienaars is die Bredell-familie vandag die beste verteenwoordig: nege huise behoort aan kleinkinders, ander besit erwe, en tans is dit reeds die vyfde geslag wat gereeld kom vakansie hou.”

Al Mammie se susters en broers het in die omgewing van Oudtshoorn gewoon. Om familiebande te behou, het hulle gereeld Desembermaande almal saam gaan kamp by Dwars-in-den-weg. Hierdie strandjie was aan die begin van 1900 ’n bekende kampeerplek, geleë naby ’n rivierlopie anderkant Groot-Brakrivier, omtrent waar Bothastrand vandag is. Geweldige reëns en stormweer het hul tente een Desembermaand platgewaai. Dit het hulle laat besluit om ’n permanente strandplek te soek waar hulle kon bou. Klein-Brakrivier was destyds reeds bewoon deur heelwat van Oudtshoorn en Mosselbaai se Engelssprekende boere en besigheidsmense. Ons familie se politiek was anders, en hulle het dus nie sin daarin gehad om hulle daar te vestig nie.

Pappie en Mammie het saam met oom Fanie le Roux en aunt Chrissie (van Onverwacht) en oom Piet en aunt Frieda Olivier van Welgeluk (nou die Safari-volstruisplaas) spoorlangs gesoek vir ’n geskikte stuk grond. Die spoorlyn van Mosselbaai na George is in 1907 gebou, en die halte by Reebok was reeds daar.

Met die eerste oogopslag was Voorbaai naby Mosselbaai (nou Diazstrand) vir hulle die ideale plek. Die uitsig op die baai was baie mooi en dit was so naby dat hulle die aankoms en vertrek van skepe sommer sonder verkyker kon sien. Die pragtige wit sandstrand was ’n pluspunt, so ook die rivier wat daar in die see vloei. En boonop ’n eiland! Maar aunt Chrissie (met die legendariese baie fyn neus) het so see se kant toe gekyk en die robbe op die eiland gesien. Die

windjie het juis landwaarts gewaai en die besluit was toe definitief nee! Nog ’n klagte was dat die “glare” op die see te skerp was. Toe maar weer terug, en so ontdek hulle die mooi stuk gelyk grasveld langs die spoorlyn by Reebok. Hierdie groot stuk grond onderkant die spoor, ’n deel van die plaas Rheeboksfontein, is toe aangekoop van mnr. Hendrik J.G. de Jager vir £50.Weens die treinspoor was hierdie grond destyds vir hom nutteloos as weiding.

Die eerste grondeienaars

Op 23 Augustus 1910 het Ockert Fourie namens al tien die eienaars die oordrag van die grond onderteken. Die oppervlak was negentien morg of 224 vierkante roede, dus omtrent agtien hektaar. Die tien kopers van Strand Rust was:

Ockert Fourie

Johannes Hendrik Josephus le Roux (Jr.)

Stephanus Daniel le Roux

Ockert Johannes Olivier

Petrus le Roux Olivier

John Stephanus Olivier

William Hooper

Johannes Mattheus le Roux

Johannes Hermanus Greeff

Louis Johannes Bredell

Elke eienaar het ’n middelerf, ’n stuk grond na Klein-Brakrivier se kant en ook een erf na Tergniet se kant gekry. As boere grond moet verdeel, kan jy egter seker wees dit sal nie sonder problem geskied nie! Die Bakenskraal le Roux’s het byvoorbeeld daarop aangedring dat al hul erwe gekonsolideer word op die middelerf. Vandag staan hul oorspronklike strandhuis steeds alleen, omring deur ’n groot stuk oop veld, links van De Jagerweg as mens by Reebok oor die treinspoor ry.

Aangesien die spoor ’n gedeelte van oom Hendrik de Jager se plaas afgesny het,was dit nodig om by die spooroorgang twee hekke aan te bring – sy beeste het nog vryelik in die bosse rondgeloop. Nie een van die boere was juis gretig om die erf net langs die oorgang te kry nie. Uiteindelik het Pappie (wat ook ’n slim prokureur was!) ingewillig om hierdie stuk grond te neem, op dié voorwaarde dat hy dan ’n iets ekstra by een van die ander erwe kry.

Die aanvanklike pad en twee toegangshekke na Strand Rust was min of meer op die grens van die Bredell-erf (aan die Hoopers se kant) en op private grond. Dit was dus slegs die grondeienaars onder die spoor wat toegang tot die destydse strandplek gehad het.

Die eerste huise

Toevallig was ses van die eerste grondeienaars familie, almal seuns of skoonseuns van oupa Hansie Olivier van Welgeluk, Oudtshoorn. Vyf het huise gebou in die huidige Olivierlaan; ek noem hulle soos hulle in volgorde van die hek af gewoon het:

Louis en Beatrice (Olivier) Bredell – suster

Fanie en Chrissie (Olivier) le Roux – suster

Ockie en Sêra Olivier – broer

Piet en Frieda Olivier – broer

Hans en Bettie (Olivier) le Roux – suster

Oom John en aunt Johanna Olivier (’n vierde Olivier-suster) het verhuis van Oudtshoorn en nooit ’n huis gebou nie; hul grond is later verkoop aan Jock Terblanche, skoonseun van oom Hans en aunt Bettie le Roux. Op vier van die ander erwe het Oudtshoorn-boere destyds groot, ruim vakansiehuise nader aan die see gebou. In volgorde van die treinspooroorgang af in die rigting van Tergniet kan hierdie huise vandag nog gesien word:

William Hooper (die destydse eienaar van die huidige Highgatevolstruisplaas) se oorspronklike huis is die groot vierkantige wit een op regterhand, net ná die ry Olivierlaan-huisies. Vandag (April 2004) lyk dit nog bykans soos aan die begin van die vorige eeu, gebou met breë stoepe en hoë plafonne wat koelte moes

verskaf tydens die lang somervakansies. Die huis is later verkoop aan Willem Pretorius, ’n provinsiale politikus van die Vrystaat (die Willem Pretorius-wildreservaat is na hom vernoem). Daarna het dit vir baie jare behoort aan Manie Olivier van Welgeluk, Oudtshoorn – seun van oom Ockie en aunt Sêra – voordat sy kinders dit geërf het.

Uit ’n brief gedateer 17 Februarie 1910 kan ons aflei dat Pappie en Mammie se Olivierlaan-huisie in 1909 gebou is, en waarskynlik deur dieselfde mnr. H.C. Rensburg van Klein-Brak-rivier wat toe in opdrag van Pappie sekere verbeteringe aangebring het. Enige bouery het seker maar stadig gevorder omdat boumateriaal destyds per trein of wa van Mosselbaai na Strand Rust vervoer moes word.

Daar is aan ons vertel dat die eerste eienaars in Olivierlaan hul huisies net as voorlopige strandplekke gesien het. Ek weet Pappie het vertel dat die eienaars langs die spoor eers besluit het om net tuiekamers op te rig. Later van jare sou hulle dan voor op hul onderskeie erwe, in ’n lyn met die Hoopers se huis, stewiger permanente strandhuise bou. Omstandighede het egter ’n paar jaar later so drasties verander dat daar uiteindelik heeltemal afgesien is van sulke planne.

Vanaf 1914 het die dramatiese val in die prys van volstruisvere heelwat veranderinge op Strand Rust meegebring. Die koms van die motor het modes geweldig beïnvloed: dames wou nie meer met volstruisveergetooide hoede in die wind ry nie, en waaiers was uit die mode. Die waarde van ’n volstruis het so gedaal dat niemand dit eens present wou hê nie. Daar was egter ook ander faktore wat ’n rol gespeel het: die Eerste Wêreldoorlog (1914 –1918), die groot griep-epidemie van 1918, en die landwye droogte van 1925–1933. Dit was die jare van die groot depressie.Tegelykertyd was daar in 1929 ’n totale neenstorting van die aandelebeurs in Amerika. Dit het oorgespoel na Europa, Engeland en Suid-Afrika, en die wêreldekonomie het ’n laagtepunt bereik. Plaaslik wou banke geen geld uitleen nie.

In hierdie jare is talle welgestelde boere bankrot verklaar. Drie van die nege huiseienaars op Strand Rust moes uiteindelik hul strandhuise verkoop. Die Fourie-broers se twee groot huise is gekoop deur senator Van Niekerk en oom Johnie de Jager. Oom Piet se huisie in Olivierlaan is omstreeks 1929 verkoop aan mnr. John McLaren. (Vandag besit sy nasate steeds hierdie eiendom wat strek vanaf Olivierlaan tot by Kusweg.)


BOEKOMSLAG: Van die huisies in Olivierlaan met Mosselbaai op die agtergrond.


FOTO 1: Die tien Olivier-kinders v.l.n.r. agter: Ockie, Chrissie, Piet, Tienie, Bettie; en voor Mimmie, Beatrice, Annie, Kittie en Johanna. (Die name van die ses broers en susters met grond op Strand Rust / Reebok verskyn in bold.)


FOTO 2: Olivier familie-inligting verskaf deur Anna Kühn, dogter van Beatrice (Olivier) Bredell en kleindogter van Hansie (O.J.) Olivier van Welgeluk.


FOTO 3: Beatrice, die jongste Olivier-kind, vroeg-1900 saam met Hansie (O.J.) en Cato Olivier van Welgeluk, Oudtshoorn.

FOTO 4: “Mammie se trourok is vandag in die Oudtshoorn-museum. Die rok is spesiaal ingevoer van Madeira; dit is van sy, en elke stekie is met die hand gewerk.”

FOTO 5: “Bruilofsgaste by Pappie en Mammie se troue, afgeneem op die stoep van oupa Hansie Olivier se dorpshuis op 27 Oktober 1907. Hulle is op Mammie se verjaardag in die ou Moederkerk getroud. Hierdie dorpshuis op Oudtshoorn is vandag in die besit van nig Rina se dogter Susara en haar man, François Tiran. Al ses die susters en broers wat grond op Strand Rust besit het, verskyn op hierdie foto. Agter v.l.n.r.: oom Hans en aunt Bettie le Roux; die bruidspaar, Louis en Beatrice Bredell; oom Ockie en aunt Sêra Olivier. Middel: oom John en aunt Johanna Olivier; oom Fanie en aunt Chrissie le Roux; oom Piet en aunt Frieda Olivier.Voor: oom Stephen en aunt Kittie le Roux (nog ’n Olivier-suster); oom Jurie en aunt Annie Schoeman (die oudste Olivier-suster); ouma Olivier (Catharina Jacomina LE ROUX).


FOTO 6: “Strand Rust in die vroeë 1900’s: die vyf Olivierlaan-huisies (asook die bykomende “Rooms”) staan ingeryg langs die treinspoor, met vorentoe (v.l.n.r.) die heelwat groter huise op die erwe van William Hooper, die Bakenskraal le Roux’s, Ockert Fourie en Johannes Greeff. Naby die treinhalte was daar ook ’n opsigtershuisie en onder langs die see twee badshuisies, opgerig deur die Bakenskraal le Roux’s en die De Jagers.”

FOTO 7: Die pragtige sandsteenhuis, “a feather baron’s mansion” in 1910 gebou deur Pieter Olivier op ‘n gedeelte van die plaas Welgeluk. Vandag is dit bekend as die Safari-vertoonplaas en behoort dit aan die Lipschitz familie. Die huis is tydens die “boom” van die volstruisveertydperk gebou; 4 jaar later met die val van die veremark was Piet Olivier bankrot en moes hy die plaas verlaat. Slegs die sandsteen is plaaslik uitgehaal - die dakteëls is uit België, die loodglasvensters en deure uit Holland, die pilare uit Griekeland, die houtwerk uit Indië, die marmerteëls in die binnekant van die huis uit Italië, en die vuurherde is uit Engeland ingevoer. Bron: [PDF]LAASTE KOPIE van M- tesis. WESSEL 2