Kandelaarsrivier was 'n wyk van die N.G. gemeente Volmoed en dus is daar soms 'n wyksbiduur op 'n Sondagmiddag in die skoolgeboutjie gehou. Almal het gegaan en kinders en jong mense is deur hulle ouers verplig om dit by te woon. Die groter kinders en die tieners is egter toegelaat om by hulle maats te sit en so het 'n groepie van hulle, waarvan my pa een was, die middag in die agterste banke gesit. Dit was hoogsomer en so warm soos net Oudtshoorn op 'n Sondagmiddag drie-uur kan wees. Die biduur is gelei deur Oom Hendrik Zaayman, 'n ou oom met 'n temerige stemmetjie. Soos die gebruik destyds was, het hy 'n gedeelte uit die Kerkbode voorgelees - stadig en temerig - en toe gesê: "Daar is nou geleentheeede vir gebeeede."
Na 'n rukkie het iemand gebid. Daar was weer stilte. Die kinders se koppe het begin knik - hulle oë was mos alreeds toe. Dan sê Oom Hendrik: "Nog eeeen," en dan bid daar weer iemand lank en opreg. Weer 'n lang stilte. "Nog eeen," teem Oom Hendrik weer. Weer volg 'n lang, eerbiedige gebed in 'n gedempte stem. Na 'n ruk vra Oom Hendrik weer: "Nog eeen." Skielik val Oom Ernst weg en bulder: " DRIE MAAL HEILIGE GOD ..." Die kinders spring regop van skrik, nog deur die slaap, gaan sit weer, spring weer op en kom eindelik tot hulle sinne, nog verdwaas!
Oom Ernst en die motor
In daardie dae was 'n motor nog 'n vreemde ding. Nie eers die ryk mense van die omgewing het een gehad nie. Maar so kom daar een oggend 'n motor by Oom Ernst Meyer se huis aan, twee mans klim uit en klop aan. Die deur word oopgemaak deur Tant Susie, Oom Ernst se vrou. Sy was so stil en bedeesd soos wat Oom Ernst luidrugtig was.
Nadat die motor weer weg is, kom Oom Ernst, wat toe al afgetree was, na waar my Oupa en 'n klompie werksmense en van sy kinders besig was om tussen die wingerd te skoffel. Nadat daar gegroet is en oor en weer na mekaar se welstand verneem is, vra Oupa Frik Olivier: "Wat het die mouter dan vanmôre by julle kom maak, Oom Ernst?"
So vertel oom Ernst toe dat die "man met die mouter" vergrotings van foto's laat maak. Jy gee hom 'n foto - 'n kiekie, het hulle dit daardie dae genoem - en hy laat vir jou 'n vergroting daarvan maak - in kleur, as jy wil. "Is dit nie 'n baie duur besigheid nie, Oom Ernst?" vra Oupa Frik, waarop Oom Ernst verduidelik hoe die prys bepaal word. Om 'n vergroting in kleur te laat maak, kos eintlik 15 pond - baie, baie geld; meer as 'n bankklerk se salaris in daardie dae. Maar nou kan 'n egpaar afslag kry as die geluk aan hulle kant is. Die "man met die mouter" het 'n houtkassie vol kaartjies en op elke kaartjie is 'n bedrag ingevul. As die man en sy vrou albei dieselfde bedrag uit die kassie trek, kry hulle daardie bedrag afslag op die totaal. "En ek trek," sê die ou, baie spoggerig, "en ek trek 10 ghienies!" Tien pond en tien sjielings! Hy stoot sy bors uit om te beklemtoon hoe goed hy was. "En Susie trek, ... en Susie trek strond!" Nodeloos om te sê, maar Oom Ernst-hulle het toe nie 'n vergroting laat maak nie.