Administrateur

SY EDELE P. J. 0LIVIER Administrateur van Kaapland

Philippus Jacobus Olivier is in 1901 in die distrik Fauresmith gebore. As kind het hy saam met sy moeder 'n geruime tyd in die konsentrasiekamp op Bethulie deurgebring. Sy vader, wat lid was vir Fauresmith van die ou Vrystaatse Volksraad, het hy verloor toe hy maar nege jaar oud was. Hy gaan skool aan die Hoërseunskool in die Paarl, en volg daarna 'n landboukursus aan die Universiteit van Stellenbosch. Vervolgens gaan hy na Australië waar hyaan die Universiteit van Sydney 'n honneursdiploma in die skaap- en wolboerdery behaal.

Terug in Suid-Afrika gaan hy boer op 'n plaas in die distrik Fauresmith. Hy neem nou aktief aan die openbare lewe deel en in 1940 word hy verkies tot lid van die volksraad vir die kiesafdeling Kuruman. Hy het hierdie kiesafdeling tot 1951 verteenwoordig toe hy as Administrateur van Kaapland benoem is.

Mnr. Olivier was 'n man wat sy pligte baie ernstig opgevat het en hierdie buitengewone toegewydheid van hom in die amp van Administrateur het ongetwyfeld sy einde verhaas. Hy is in Maart 1958 oorlede.

Bron: Die administrasie van Kaapland 1910 - 1960 Opgestel en uitgegee deur die Kaapse Provinsiale Administrasie , Waalstraat Kaapstad