WILHELM DE SWARDT
Pretoria - André Olivier, een van die land se belowendste 800 meter-atlete, neem vandag die eerste keer in twee jaar weer aan ’n Suid-Afrikaanse Atletiekbyeenkoms deel.
En die kans is goed dat hy sy eerste senior titel in Durban kan verower.
Mbulaeni Mulaudzi, die wêreldkampioen in die 800 m, het steeds las van beserings en sal volgens sy afrigter, Hezekiel Sepeng, waarskynlik eers in Junie weer begin deelneem.
In 2008 en 2009 het Olivier tweede ná Mulaudzi op die Suid-Afrikaanse byeenkoms vir seniors geëindig en die 800 op die Suid-Afrikaanse Studentebyeenkoms gewen. Hy was ook die Suid-Afrikaanse junior kampioen in 2008.
Hy het reeds as 19-jarige op Stellenbosch die 800 in 1:45.41 afgelê. Ongelukkig is hy ’n paar maande ná dié haastige wedloop beseer.
Jean Verster, sy afrigter, het wyslik besluit dat Olivier glad nie mag hardloop voordat hy nie heeltemal herstel het nie. Dit het daartoe gelei dat Olivier verlede jaar glad nie aan wedlope deelgeneem het nie.
Verster sê al wat vir hulle saak maak, is om te verseker dat Olivier op sy beste is vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Londen.
Olivier, wat vanjaar nog net aan ligabyeenkomste deelgeneem het, is nog nie geklop vandat hy sy terugkeer gemaak het nie. Verster wou hom nie veel oor ’n moontlike wentyd uitlaat nie, veral omdat geen atleet tot dusver vanjaar ’n werklike vinnige tyd gehardloop het nie. Hy meen egter ’n wentyd van 1:46.00 is nie onmoontlik nie.
Samson Ngoepe, Folavio Sehohle en Windy Jonas is die ander atlete om dop te hou in die 800. Die eindronde vind môre plaas.
2011-04-08 21:48
Die Beeld