Ronnie van Rensburg: In die ou tyd, en tot diep in die sestigerjare, het niemand ander besproeiingsmetodes gehad as leiwater in 'n leivoor uit die bespoeiingsdamme wat in die rivier gebou was nie. Almal wat grond gehad het, het leibeurte gehad wat noukeurig deur die hof uitgewerk is - lank terug, maar nog steeds vandag van krag. Kandelaarsrivier en Volmoed se mense het byna almal byname gehad om hulle te onderskei van ander met dieselfde naam en van. So was daar - net van die Oliviers alleen - die Kliphoete, die Spekkies, die Doggies, die Rooistraters, die Ketiele en nog ander.
Soos julle seker al afgelei het, gaan hierdie storie oor leiwater en byname. Leibeurte was presies uitgewerk en almal het geweet wanneer die water afgekeer moes word om na die volgende persoon toe te gaan. Natuurlik het nie almal hulle by die voorgeskrewe tye gehou nie en so was die leibeurte dikwels die bron van rusies en dispute. Wat maak jy nou as jy nog net so 20 minute nodig het om die laaste stukkie van jou wingerd nat te kry! Jy keer maar nie die water af nie tot iemand langs die rivier op ry om te kom kyk waar sy leiwater is.
So het my Oom Jannie Gerber een keer sy beurt oorskry kort nadat hy Kandelaarsrivier toe getrek het en hy het geweet hy gaan moeilikheid kry van die volgende persoon wat die water moes kry, Ockie Fourie, maar agter sy rug by almal bekend as Ockie Tros. Hy was een van die min wat sy eie bynaam gehaat het en woedend geword het oor die gebruik daarvan.
Oom Jannie moes dorp toe gaan die oggend en sê vir sy vrou, Diana, wat nie 'n boorling van die omgewing was nie en vir wie die mense toe nog heel vreemd was: "As Ockie Tros kom soek na sy water, sê vir hom ek sal inkeer as ek uit die dorp uit kom." So kom Ockie Tros toe soek na sy water, reeds woedend oor die tyd wat hy verloor het en Tannie Diana dra die boodsakp getrou oor: "Meneer Trost, jy sal net moet wag tot my man by die huis kom. Dan sal hy dadelik afkeer." Ockie Tros het sy woede verbaal op haar uitgehaal, maar sy het kalm gebly en hom heel beleefd as "Mnr Trost" aangespreek en koffie aangebied! Hy is dadelik prokureur toe en Oom Jannie moes 'n boete betaal oor die water wat hy "gesteel" het.
Nog 'n storie wat my pa graag vertel het, het as hoofkarakter die bekende Ant Sank Nortje gehad. Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog was Suid-Afrika se posisie t.o.v . die oorlog nogal iets waaroor baie mense opgewonde geraak het. Baie, of miskien moet ek sê die meeste, Afrikaners wou nie saam met Engeland veg nie. Daarvoor was die herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog nog te vars. My pa het my duidelik laat verstaan dat dit nie eintlik was dat die Afrikaners aan Duitsland se kant was nie, maar eerder dat hulle teen Engeland was. In elke geval, daar was 'n politieke vergadering waarop die kwessie luidkeels bespreek is en waarby Ant Sank Nortjé teenwoordig was. 'n Jong man, wat sy nie van Adam af geken het nie, het reg voor haar opgespring en die spreker (wat teen S.A se deelname was) in die rede geval deur luidkeels te vra: "Maar wie sal ons beskerm as Engeland ons nie beskerm nie? Wie sal ons beskerm?" Waarop Ant Sank opstaan en hom in sy stoel terugdruk met hierdie woord: "Sit, jou klein bog! Ek sal jou beskerm!"