Mnr. Jean en mev. Liz Olivier en hul dogters Catherine (12), Elizabeth (10) en Jean-Louise (8) by me. Marshalene Booysen van die Bridgton Sewendedag-Adventistekerk op Oudtshoorn
Susters dans by Ausies vir S-Kaapse kinders
Oudtshoorn - Die Bridgton Sewendedag-Adventistekerk het die tweede keer binne twee jaar geld vir sy straatkindprojek uit Australië ontvang.
Die kinders van mnr. Jean en mev. Liz Olivier, twee Oudtshoorniete wat in 1999 na Australië geëmigreer het, het R5 500 wat hulle in Kangaroo-land ingesamel het vir die kerk se straatkindprojek geskenk. Olivier het in Januarie verlede jaar namens haar oudste dogter, Catherine (12), 'n tjek vir R1 000 aan die Bridgton SDA Kerk oorhandig, wat met groot dank ontvang is.
Catherine en haar twee jonger sussies, Elizabeth (10) en Jean-Louise (8), het die bedrag ingesamel deur net soos talle kinders by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in die strate in Sydney se Circular Quay te dans.
Die Oliviers het vanjaar vir die eerste keer as gesin vir 'n vakansie na Suid-Afrika gekom en toe die kinders daarvan te hore kom, het hulle vinnig besluit om, weer vir dieselfde doel geld in te samel.
Elizabeth en Jean-Louise het 'n brief aan hul skoolhoof geskryf waarin hulle toestemming vra om sjokoladekoekies by die skool te verkoop.
Ousus Catherine het dieselfde gedoen deur 'n brief aan haar hoërskool se skoolhoof te skryf.
Die drie sussies het met die poging die mooi bedrag van 1100 Australiese dollar (R5 500) met die hulp van die Avondale SDA School in Coorongbong ingesamel.
Op Oudtshoorn het hulle in Neppon en in die Matjoks vir die straatkinders gedans en die geld aan past. Sam Gertse, koördineerder van die Bridgton SDA-straatkindprojek, oorhandig.
Die straatkinders het nie op hulle laat wag nie en vir die Australiërs gesing.
Die Burger Julie 2005