Ina GEOGALE néé OLIVIER se herinneringe aan haar oupa is weer 'n bewys hoe gewone hardwerkende, mense 'n blywende indruk op ons gemaak het en hulle nalatenskap nooit werklik na waarde geskat kan word nie. Ek kon hierdie storie net so wel by die belangrike persone geplaas het aangesien oom Gert diep spore in ons geskiedenis getrap het. Baie dankie Ina.
My oupa, Gert Johannes Petrus Olivier, was ‘n seun van Gerhardus Loduvikus Petrus Olivier en Hester Catharina Strydom. Hy is in 1906 in Prins Albert gebore en is in 1980 in Pretoria oorlede.
Oupa Gert het my baie oor natuurbewaring geleer. Hy was baie lief vir die natuur en het vir 25 jaar uit die 26-jarige bestaan van die Transvaalse afdeling Natuurbewaring vir die instansie gewerk. Een van my skerpste herinneringe was om saam met Oupa Gert in sy ou Ford bakkie deur die veld te ry op die plaas De Kuilen naby Lydenburg (vandag Mashishing) op soek na wildstrikke. Die plaas is vandag deel van die Sterkspruit Natuurreservaat van die Mpumalanga Provinsiale Regering.
Daar was niks wat Oupa so kwaad gemaak het as om ‘n dooie dier in ‘n wildstrik te kry nie en die werkers het gou geweet dat dit onmiddelike ontslag sou beteken as enige van hulle dit sou waag om ‘n strik te stel. Een van sy werkers het eenkeer baie verontwaardig by my gekla hoedat die Oubaas nie eens wou hê dat hulle “net ‘n ou hasietjiekie” vir die pot vang nie. Oupa het dit gehoor en toe so droogweg opgemerk:”Beslis nie as die hasietjiekie horings het nie.”
Oupa was baie lief vir sy kleinkinders en as ons kom kuier het, is ons omtrent bederf. Een van ons gunsteling uitstappies was om in ons nagklere uitgedos agterop die Ford dorp toe te ry na die inry-bioskoop toe. Oupa het gesorg dat die bak gerieflik toegerus is met ‘n matras en komberse en Ouma het genoeg padkos vir ‘n hele week ingepak. Oupa was veral lief vir Westerns, en ek kan nou nog onthou hoe ons “True Grit” met John Wayne op Lydenburg gekyk het met ons winter-asems wat sulke wolkies voor ons uit maak.
Die enigste keer wat Oupa ooit sy stem vir my dik gemaak het, was toe ek so nege, tien jaar oud was. Ons is saam met Oupa die veld in om die grensdrade op De Kuilen te inspekteer. In die proses loop ons toe verby die mooiste rooi lelies (vandag weet ek dit was van die skaars Cyrthantus galpinii of vuurlelie) en ek pluk toe van die blomme om vir Ouma te gaan wys. Net daar steek Oupa vir my omtrent ‘n streng preek af dat ‘n mens nooit, ooit ‘n veldblom mag pluk sonder om eers te kyk of daar nog voorbeelde is nie. Jy moet ook weet wat jy pluk, want mens weet nie of jy dalk die laaste van die soort met jou plukkery vernietig nie. En jy mag nie veldblomme pluk tensy jy dit wil bestudeer nie. Daardie lessie oor natuurbewaring en volhoubaarheid het my my lewe lank bygebly en was die begin van my liefde vir plantkunde.
Baie min mense weet dat Oupa Gert een van die pioniers van visteelt in Suid-Afrika was. Sy liefde vir visse het begin toe hy by die Departement Waterwese begin werk het. Dit was net voor die Tweede Wêreldoorlog. Hy was deel van die konstruksiespan wat die Loskopdam naby Middelburg (Tvl) gebou het. Hy het my ouma in hierdie periode ontmoet en ons was baie trots daarop dat sy naam ook pryk op die gedenkteken wat vandag nog by die damwal staan. Na die afloop van die oorlog het hy weer vir Waterwese gaan werk en was hy betrokke by die bou van besproeiingskanale by Groblersdal en Witrivier. Dit was harde werk, en Oupa Gert moes dikwels self agter die “bulldozer” inskuif om die werk klaar te maak. Ek dink dis ‘n blyk van my oupa en die res van die span se deursettingsvermoë en deeglikheid dat die kanale vandag nog bestaan.
Na 16 jaar van damme en kanale bou, het hy hom by die eertydse Fauna en Flora aangesluit. Een van sy eerste take was om die damme vir die Provinsiale Vissery Instituut by Lydenburg te bou. Dit het vyf jaar geneem om 100 visteeldamme te bou en die visteelstasie by Lydenburg was in daardie stadium die grootste in die Suidelike Halfrond.
In 1953 is Oupa Gert na Marble Hall om die visserynavorsingstasie daar te bou. ‘n Reeks kanale en damme is oor ‘n periode van vier jaar uit die oer-bosveld onder uiters moeilike omstandighede geskep. In 1957 is my oupa weer terug Lydenburg toe om verder te werk aan die visteelstasie daar. Hy is omstreeks 1960 na die Hartebeespoort visteelstasie oorgeplaas waar hy gewerk het tot en met sy amper-aftrede in 1971. Ek onthou nog goed hoe ons tydens skoolvakansies saam met Oupa en sy werkers op die dam uit is om die indringer waterhiasinte op te hark – my oupa het die plant met ‘n passie gehaat en was baie gefrustreerd dat daar nie genoeg fondse beskikbaar was om dit vir eens en altyd uit te roei nie, want die plante het gedurig in die sluise vasgehaak en die visdamme beslyk. (Ek wonder dikwels of die watergehalte in Hartebeespoortdam nie vandag beter sou wees as die hiasint probleem reeds destyds aangespreek is nie.)
My oupa het altyd gespot dat hy twee keer amper afgetree het. Die eerste keer het Natuurbewaring Oupa Gert gevra om sy laaste visteelstasie, op die plaas De Kuilen in die Lydenburg distrik, te bou. Dit was die modernste visteelstasie nog en Oupa Gert en sy span het die bouwerk binne twee jaar kafgedraf. Hy het ‘n natuurlike aanleg vir bouplanne getoon en het menige van die dambouprobleme met sy praktiese kennis in die veld opgelos – soveel so dat die geleerde ingenieurs wat saam met hom aan die projek gewerk het, dikwels eers raad by hom gevra het voordat hulle verder planne gemaak het.
Met sy “tweede aftrede” is Oupa Gert gevra om vir ‘n verdere periode aan te bly om die visteelstasie op De Kuilen aan die gang te kry. Daar is hoofsaaklik forelle by die stasie geteel en ons kleinkinders het vinnig geleer hoe om die wyfie-forelle te “melk” vir hulle eiertjies en hoe om die vingerlinge en groter visse te voer. Oupa was ons baie geduldige leermeester. Dieselfde fasiliteite op De Kuilen word vandag deur ‘n privaat instansie gebruik wat rekord-getalle foreleiers oorsee uitvoer.
Oupa Gert het in die laaste paar jaar van sy lewe heelwat gesondheidsprobleme ondervind aangesien hy sy hele lewe deur straf gerook het – tussen veertig en sestig sigarette per dag. As gevolg van die skade aan sy longe, was hy in sy laaste jare afhanklik van sy suurstoftenk en sy “pompie” en was dit een van sy kenmerke. In 1980 is hy aan emfiseem dood. Hy het ons vertel dat hy op dertien reeds begin rook het, maar dat hy eers tydens die Tweede Wêreldoorlog “hard begin rook het”. Ek het later uitgevind dat my oupa ‘n sersant was in die Suid-Afrikaanse Ingenieurskorps wat eers in Suidwes-Afrika (Namibië) en toe in Noord-Afrika geveg het. My oupa het nie eintlik oor sy ervarings in die oorlog gepraat nie, maar was vir die res van sy lewe anti-oorlog.
Hy het darem een staaltjie oor die oorlogsjare vertel. Hulle was in Egipte gestasioneer en besig om paaie en brûe te bou toe die Duitsers se vliegtuie begin om hulle kamp te bombardeer. Daar was nie baie plekke om in te skuil nie en Oupa en die kampkok het toe so saam-saam in een van die betonpype ingeduik. Nadat een van die vliegtuie weer gevaarlik naby aan hulle gevuur het sodat die stukke opslag oor hulle vlieg, begin die kampkok jammerlik te weeklaag.”Ek’s geskiet, ek’s geskiet!” roep die ou. “Waar’s jy geskiet?” vra my oupa. “In my kop,” kreun hy, “ek voel my harsings met my hand!” Oupa kruip nader om te help, maar bars toe uit van die lag toe hy die ou onder oë het, tot groot ontsteltenis van die ‘gewonde’. Die harsings wat die kok so met sy hand gevoel het, was eintlik brooddeeg. In sy haas is die kampkok met een van die staalpanne waarin hulle brood gebak het, die pyp in. Die Duitsers het die pan, wat langs sy kop te lande gekom het, flenters geskiet – en so het ‘n broodpan –en brooddeeg – eintlik ‘n Suid-Afrikaner se lewe gered. Volgens Oupa het hulle die man tot die dag met hul terugkeer na Suid-Afrika “Harsings” genoem. Ek het my oupa gedurig verpes om my te vertel wat “Harsings” se regte naam was, maar hy het altyd diplomaties stilgebly.
My oupa het altyd gesê dat hy nie een van die grênd Oliviers van Oudtshoorn was nie. Vir ons kleinkinders was hy egter grênd op die beste moontlike manier. Hy was ons Oupa Gert.