Landdros van Nigel doodgeskiet - PHILIP DE BRUIN
Streeklanddros Ockert Olivier is Woensdagaand koelbloedig in die oprit van sy huis in Nigel (in raaiselagtige omstandighede en vermoedelik 'n sluipmoordaanval) doodgeskiet.
Dit word "ongetwyfeld met sy werk as landdros verbind ''.
Olivier (53) was die derde streeklanddros wat in sy huis se oprit geskiet is. Die ander twee was streeklanddroste Piet Theron, wat ook gesterf het, en Tienie Langenhoven, wat die aanval oorleef het. Albei was van Kaapstad.
Streeklanddros Tony Hoffert van Pinetown is ook in 2001 doodgeskiet toe hy sy kind by die skool gaan aflaai het. Streeklanddros Renier Boshoff van Wynberg, Sandton, het die dood vroeër vanjaar net-net vrygespring toe skote op hom geskiet is buite die hofgebou.
Streeklanddros Chris Eksteen het gister gesê Olivier was besig met verskeie belangrike deelsverhoorde sake. Hy het in die streekhof van Lenasia gewerk.
Olivier se vrou, mev. Karien Olivier, was die aand na 'n byeenkoms by die kerk. Met haar terugkeer omstreeks agtuur het sy, soos hul gewoonte was, die toeter geblaas en Olivier het die garagedeur vir haar oopgemaak.
"Pas nadat hy die deur agter haar toegemaak het, het sy 'n skoot hoor klap. Sy het van skok in die motor bly sit en toe haar man na haar hoor roep. Hy het gesê sy kan maar uitkom, want 'hulle' is weg.
"Hy het 'n koeëlwond in die been gehad. Sy het met hom hospitaal toe gejaag, maar hy het later weens ernstige bloedverlies en skok gesterf," het Eksteen gesê.
Al die omstandighede dui daarop dat die aanval op Olivier spesifiek gemik was.
Streeklanddros Adriaan Bekker, president van die Vereniging van Streekhoflanddroste van Suid-Afrika (Armsa) het gesê hy en Olivier se ander kollegas 'is geskok". "Ek verstaan alle landdroskantore landwyd word ondersoek met die oog op die verbetering van veiligheid,"
Die Burger Vrydag 25 Oktober 2002-10-26
[Hy is c.1949 gebore (Hy was 53 jaar oud)]