Mnr. Donald Olivier (33) is die afgelope 19 maande betrokke by die NSRI op Wildernis. Hy het vandeesmaand die organisasie se Gallantry-toekenning gekry vir sy dapper optrede op 29 Maart 2005 toe hy 'n pa en seun se lewe gered het.
Man van George vereer vir dapperheid met redding in see
TISHA STEYN
GEORGE - 'n Boorling van hier het die hoogste toekenning vir dapperheid van die Nasionale Seereddingsinstituut ontvang.
Mnr. Donald Olivier (33) is die afgelope 19 maande betrokke by die NSRI op Wildernis. Hy het vandeesmaand die organisasie se Gallantry-toekenning gekry vir sy dapper optrede op 29 Maart toe hy 'n pa en seun se lewe gered het.
"Dit was 'n koue triestige oggend. Die wind het gewaai en dit was bewolk. Ek was van die Wildernis-Nasionale Park se hoofkantoor af op pad na George, toe ek die noodoproep kry dat twee mense in die moeilikheid is in die see by Wildernis se strand. Ek het van die N2 af by die NSRI op Wildernis se hoofkantoor ingedraai.
Ek het nie my swembroek by my gehad nie, maar daar was nie nog tyd om die kantoor oop te sluit en een te kry nie. Ek het my klere afgestroop, 'n swemboei gegryp en is die water in."
Leon du Toit (10), wat saam met sy ouers hier vakansie gehou het, het blykbaar in die moeilikheid geraak toe 'n seestroom hom gegryp het. Sy pa, Adrian, het ingeswem om hom te help, maar omdat daar heelwat bedrieglike seestrome aan die kus is, was albei gou in die knyp.
"Toe ek daar aankom was hulle sowat 100m van die strand af agter die brekers. Die golwe was so 3m hoog. Ek het hulle albei aan die boei laat vashou. Waar sterk seestrome is , veroorsaak dit maalgate met 'n sandbank rondom. Ek het eers regsom die maalgat probeer uitswem, en toe linksom, maar die stroom het ons telkens teruggevat. Uiteindelik het ek besluit dit sal die beste wees om net daar te wag vir die boot om ons te kom oppik. Ek het geweet ek kan op die span staatmaak: hulle sou ons kom haal. Ons moes net uithou. Ek was meet bekommerd oor die pa. Vir die seun was dit 'n groot avontuur."
"Om hulle aandag af te lei van die benarde situasie en te voorkom dat hulle paniekerig raak, het ek hulle uitgevra oor waar hulle vandaan kom, en so aan. Die seun was heel opgewek."
Die boot het die twee derenkelinge 10 minute later opgepik. Olivier moes self terugswem, want die boot was vol.
"'n Mens verwag nie om erkenning te ontvang vir wat jy doen nie. Die toekenning is 'n bonus. Ek het as kind baie branderplank gery en ek is 'n sterk swemmer. Ek wou nog altyd vir die NSRI werk. Dit is my manier om iets vir die gemeenskap te doen."
Olivier het in 1990 aan York High School op George gematrikuleer. Hy het daarna sy vlootopleiding deurloop. Hy werk die afgelope 13 jaar vir die Eerste Nasionale Bank op George. Hy is getroud met Lee-Ann, 'n onderwyseres. Hulle het 'n dogtertjie, Abigail, wat agt maande oud is.
Die Burger - 2005