Tannie Maria, dogter van Generaal Jan Hendrik OLIVIER se seun, Frederick Johannes OLIVIER, onthou die volgende van haar oupa en ouma. (Die foto links is van Frederick en sy vroutjie Jan SEPHTON) Tannie Maria woon tans by haar dogter in Amerika en word vanjaar (2011) 87 jaar oud. Ek plaas ook twee pragtige foto's wat sy vir my gestuur het hier by hierdie briefie. Die drie mans is Jan Hoffman, J. Raalman en Jan Hendrik Olivier. Baie-baie dankie tannie Maria!
Beste Josey
Jammer dat ek so stadig is om te antwoord.
My Oupa was 'n perdeboer, of sê 'n mens perdeteler, vandaar al die stalle op die fotos. In die museum in Bloemfontien is artikels wat belangstellendes kan gaan besigtig. Daar is 'n foto van Oupa, 'n vlag, 'n lyfband en 'n goudkleurige band met 'n roset op. Ek vermoed dat dit seker vir spesiale geleenthede bedoel was. Miskien is daar iemand wat vir ons kan sê waarvoor dit gebruik was.
Die oorspronklike boek se bladsye waarin hy al sy reise in Ceylon opgeteken het is ook daar asook die oorgeskrewe een. Die bladsye was deurmekaar en toe het die miere dit baie verniel. Dit het my baie lank geneem om uit te sorteer.
Toe ek die museum besoek het was daar 'n jong man wat vir my 'n Psalm en Gesange boekie wat aan Oupa behoort het gewys. Daar was ook 'n pas, mooi netjies garaam, waarmee Oupa uit die kamp op Ceylon kon gaan.
My ma, Jane, het baie stories vir ons kinders vertel o.a. onthou ek die volgende:
" Wat skort met iemand wat 'n verraaier word? Vroeg een oggend het 'n Engelse Offisier met sy gevolg op die plaas aangekom vergesel van 'n boere verraaier. My ouma Johanna Olivier en die kinders moes kamp toe. Sy moes gou maak was die bevel van die verraaier. My ouma Johanna vra toe vir die offisier of sy asseblief 'n koei mag saam neem vir melk vir die baba. My jongste tannie was 'n baba. Die Offisier het verlof gegee, maar die verraaier het net gesê volstrek nie! Hy sal dit nie toelaat nie. My ouma moes haastig pak Eindelik was alles gelaai en die kinders op die wa. My ouma wou toe opklim, maar die verraaier sê glad nie, volstrek nie! "Ou Hannie, vandag sal jy agter die wa loop! As jy probeer opklim slaat ek jou met hierdie sweep totdat die bloed by jou hakskene afloop. My ouma moes loop."
Dit was so lafhartig. Mens wonder of hy ooit aan sy nageslag gedink het? Almal het geweet wie HULLE was!
Tannie Maria
Tannie Maria onthou ook hoe sy as jong dogtertjie op haar oupa se skoot gesit het en hoe haar oupa vir haar geleer het hoe om op 'n horlosie te lees terwyl haar ouma se heerlike brood in die oond in die kombuis gebak het. Sy onthou nog so goed oupa Jan se woorde: " Sussie, kan jy al die tyd op 'n horlosie lees?" Oupa wat dan sy goue sakhorlosie te voorskyn bring en vir sy kleindogter leer hoe om op 'n horlosie te lees.
Kosbare herinneringe tannie Marie, kosbare herinneringe!!!