PHILIP DE BRUIN
JOHANNESBURG. ‑ Jacques Olivier, kleurryke gewese Springbok, huidige Sewes- Springbok, oud‑Blou Bul en die laaste twee jaar 'n steunpilaar van die Pumas, is finaal klaar met rugby.
"Ek is klaar, klaar, klaar. Só klaar dat ek nie eens my stewels gaan ophang nie.
"Ek het hulle weggestuur om verkoop te word sodat ek doodseker kan wees ek steek nooit, ooit weer my voete in hulle nie.
“Nee deksels, ek het 'n ruk terug na 'n video‑opname van een van my wedstryde gekyk. Toe ek myself so van voor af sien aankom met die vreeslike bles het ek vir myself gesê: "Dáái ou met daai vreeslike bles hoort nie meer op 'n rugbyveld nie.
"Wat natuurlik nie beteken dat ek nou klaar is met die lewe nie, hoor. Inteendeel. Jy weet mos die spreekwoord sê: Die oudste bok het die hardste horing. Dis maar asof ek met 'n nuwe fase van my lewe begin.”
Die bles was darem nie regtig die rede waarom die gewilde Olivier (34) besluit het om rugby vaarwel toe te roep nie.
"Ek het drie weke gelede van 'n muur geval en my knie die soveelste keer beseer. Die naweek daarna ‑ in die wedstryd tussen die Pumas, en die Valke ‑ moes ek van die veld af weens die kniebesering.
"Toe die dokter vir my sê, ek sal geopereer moet word, het ek net daar besluit: tot hier toe en nie verder nie. Ek sien nie meer kans vir 'n program van rehabilitasie nie. 'n Ou se lyf sê vir jou as jy moet ophou."
Hy word aanstaande week geopereer.
Ofskoon Olivier as Springbok (vleuel en senter) in sy 22 toetse en, sowat 50 wedstryde in die Boktrui ondersteuners gaande gehad het met sy dartel‑ en kraglopies, het hy in sy hele loopbaan net een drie in 'n toets gedruk.
"As jy my sou vra watter drie as Springbok in 'n toets ek die langste, sal onthou, moet ek ongelukkig antwoord: my enigste drie! En boonop was dit 'n drie wat enige dom ou sou kon druk."
Olivier se loopbaan het by die Hoërskool Menlopark in Pretoria op skrumskakel begin ‑ en tydelik geëindig.
"Ek het in die weermag glad nie rugby gespeel nie. Toe ek op Tukkies kom, het 'n vleuel in die sesde span hom aan 'n wedstryd onttrek en ek is as nood‑plaasvervanger op die veld gestuur. Binne 'n jaar het ek vir die destydse Noord‑Transvaal gespeel."
Hy was sedert 1991 'n Blou Bul en het in 1992 Springbok geword.
"Ek het nog baie sentimente oor, die Bulle, maar ek kry deesdae skaam vir hulle."
Hy het hom verlede jaar by die Pumas aangesluit, waar hy sy loopbaan twee weke gelede met 'n drie afgesluit het.
As hy so oor sy loopbaan terugkyk, sê hy, kom daar net een gedagte by hom op: "Alles was meer geluk as wysheid."
Hy gaan hom voortaan op verskeie sakebelange toespits. Tukkies het hom reeds genader met 'n aanbod om hul tweede span af te rig.
"Maar ek sal nog lank daaroor dink," het Olivier gister gesê.
DIE BURGER 24.04.2002