KAAPSTAD. - Francois Olivier het Sondag 'n agterstand van sewe houe ná die eerste ronde uitgewis om só op dramatiese wyse sy tuisklub, die Strand, se ope-gholftoernooi met een hou te wen.
Die 21-jarige Olivier se bestendigheid het teen die einde die deurslaggewende rol gespeel. Sy rondetellings van 73 en 72 vir 'n totaal van 145 - een hou meer as die baansyfer het sy tweede titel in klubs se ope toernooie in die Westelike Provinsie verseker.
Dit is 'n skitterende oorwinning as in ag geneem word dat Oliver se telling van 73 hom sewe houe agter die 66 van Gerlou Roux, die voorloper ná die eerste ronde, gelaat het. Roux se setwerk het hom in die tweede ronde in die steek gelaat en sy telling van 81 het hom gesamentlik vierde laat eindig.
"Ek het nie gedink ek staan enigsins 'n kans om die toernooi te wen nie," het Olivier gesê met verwysing na Roux se groot voorsprong ná die eerste ronde. Divan van Zyl van Parow (75 vir 146) en Cameron Johnston van Royal Cape (74 vir 146) het saam in die tweede plek klaargemaak.
Volgens Olivier is dit nie altyd so maklik om in jou tuisklub se ope goed te vertoon nie. Die verwagting van die klublede is groot. Olivier, wat bemarking aan die Tygerberg-Kollege studeer, het darem erken dat sy kennis van Strand se kort putjies hom 'n groot voordeel oor van sy teenstanders besorg het. Die putjies is lank (drie van die vier putjies is langer as 180 meter) en die setperke is klein.
"Dié putjies kan jou ondergang beteken, want as jy die setperke aan die verkeerde kant mis, kan jy maklik 'n hou of twee afstaan," het Olivier verduidelik.
"Dit is amper 'n gegewe op die baan - as jy die kort putjies goed speel, is die kans goed dat jy ook 'n goeie telling gaan aanteken."
En dit is presies wat hy op die kort 17de gedoen het toe hy so te sê van die sege seker gemaak het deur 'n lang sethou van 10 m vir 'n voëltjie te slaag.
"Dié sege motiveer my om hart te werk. Ek sien nou met oorgawe uit na my eerste deelname aan die provinsiale toernooi aanstaande maand."
Buiten om sy beste vir die WP in die provinsiale toernooi te lewer het hy ook vir hom 'n doelwit gestel om vroeg aanstaande jaar op Erinvale vir die Suid-Afrikaanse Ope te kwalifiseer.
"Ek wil eendag 'n beroepspeler word, maar dit sal my groot vreugde gee indien ek as amateur my plek dié prestigeryke toernooi kan versker," het Olivier gesê.