Ds. Phil Olivier
Ds. Phil Olivier se ouers was Johannes Diederik Olivier en Christine Elizabeth Lamont. Hy begin sy skoolopleiding in 1924 aan die Laerskool Germiston-Suid en matrikuleer in 1934 aan die Hoërskool Germiston. Van 1935 tot 1937 studeer hy aan die Universiteit van die Witwatersrand en behaal sy B.A.-graad. Die volgende jaar begin hy sy studies aan die Teologiese Fakulteit (Afd. B) van die Universiteit van Pretoria en ontvang die B.D.-graad in 1941. Aan die einde van 1942 word hy as proponent gelegitimeer.
Ds. Philippus (Phil) Lodewickus Olivier (21 Junie 1918 in Germiston - 26 Augustus 2008 in Kaapstad) was predikant in drie gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, assistent-redakteur van die Kerkbode en samesteller van Ons gemeentelike feesalbum, 'n oorsig oor die ontstaan en groei van byna al die destydse NG gemeentes met geleentheid van die 300-jarige herdenking in 1952 van Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap, die sogenaamde Van Riebeeck-fees
Ná 'n kort bediening op Louis Trichardt word Olivier in 1945 leraar van die NG gemeente Vergenoeg in Kenia, maar in 1951 verhuis hy en sy gesin Kaapstad toe. Hulle noem hulle huis "Vergenoeg" om hulle aan hulle wonderlike tye in Oos-Afrika te herinner. Op 1 Augustus 1951 in die ouderdom van net 33 jaar word hy redaksionele hoof van N.G. Kerk-uitgewers en beklee dié pos tot 1959. In dié tyd help hy met die samestelling van die Jaarboek van die NG Kerke en is hy samesteller van Ons gemeentelike feesalbum. In die voorwoord, gedagteken Februarie 1952, skryf Olivier: "Hier het ons 'n boek wat nie daarop aanspraak gaan maak 'n standaard-werk te wees nie. Die gedagte was net om 'n 'mooi boek' in die hande van ons lidmate te stel wat as eenvoudige aandenking aan die groot dade van God wat ons Kerk – wat drie eeue gelede hier geplant is – kon dien."
In 1960 word hy assistent-redakteur van die Kerkbode in Kaapstad. Ná die aftrede van ds. M.J. van der Westhuizen, wat 21 jaar lank redakteur was, neem Olivier as redakteur waar tot dr. Andries Treurnicht op 1 Maart 1960 redakteur word. Hulle het sewe jaar lank saamgewerk. In dié tyd was daar intense spanning oor onder meer die Cottesloe-kerkeberaad en pogings om afsonderlike ontwikkeling Skriftuurlik te regverdig. Treurnicht het 'n behoudende standpunt ingeneem, maar Olivier was 'n profetiese stem by die koerant wat hom nie met die verkramptes in die Kerk kon vereenselwig nie.
In 1967 word Treurnicht redakteur van die Pretoriase middagblad Hoofstad, waarna die kommissie vir kerklike tydskrifte besluit om die pos van assistent-redakteur af te skaf. Olivier moes sy pos binne ses maande ontruim en hy verlaat die Kerkbode met hartseer. Dit was vir hom en sy vrou 'n teleurstellende sameloop van omstandighede, maar hy is lank genoeg gespaar om dekades later te beleef hoe die Kerk die lig sien.
livier en sy gesin verhuis dieselfde jaar na die destydse Suid-Rhodesië waar hy leraar van die NG gemeente Bulawayo-Noord word. In sy dienstyd is 'n nuwe orrel ingewy. In 1972 word Wankie ook deel van sy arbeidsveld en kort daarna beleef die gemeente die Wankie-mynramp.
In 1973 vertrek die Olivier-gesin na Philippolis in die Vrystaat. Op 1 Augustus 1976 aanvaar Olivier 'n betrekking by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika in Kaapstad as hoofsekretaris van publikasies en verspreiding.
Hy tree af op 30 Junie 1983 en hy en sy vrou gaan woon in Plumstead in die suidelike voorstede van Kaapstad. Na sy aftrede het hy 'n tyd lank deeltyds vir die Bybelgenootskap gewerk, veral aan die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Hy het proeflees- en vertaalwerk gedoen. Uit sy pen het altesaam 15 publikasies verskyn, waar Ons gemeentelike feesalbum sekerlik die bekendste is.
In 1984 verhuis die egpaar na Gansbaai en in 1993 na Melkbosstrand. In 1999 kry hy 'n beroerte en sterf op 26 Augustus 2008. Sy troosdiens is waargeneem deur ds. Francois Hanekom van die NG gemeente Bloubergstrand.
Olivier is op 10 Maart 1945 met Petro Verster getroud. Hulle het twee dogters, Marietjie en Christine, gehad en met sy afsterwe was daar vier kleinkinders.
BRON: http://af.wikipedia.org/wiki/Phil_Olivier