Ek en my vrou Amor woon al 17 jaar is Jeffreysbaai na my aftrede. Ek is nie so oud nie net 72 jaar jonk (Julie 2012), moes op 56 jaar by Anglo American aftree as gevolg van regstellende aksie na 1994. Ek was voor dit vir 18 jaar in die S.A. Polisie en vir 20 jaar in Anglo se Sekuriteitsafdeling. Dit nou daar gelaat.
.Die Bybel was die eiendom van my Agter- Oupagrootjie Ignatius Petrus Hendrik Olivier *1823 op die plaas Mynhardtsrivier in die Olifantsrivier vallei tussen Calitzdorp en Oudtshoorn = 20/4/1823 in Gamka. Hy het beskryf dat die Bybel na sy seun Ockert Johannes Olivier moet gaan. Na sy dood het die Bybel 'n wye draai in aangetroude familie se besit gemaak en was by 'n sekere Ignatius Petrus Hendrik (Naas) Fourie toe ek bewus geword het van die bestaan daarvan.
Aangesien my oupa, ook Ignatius P H Olivier die oudste seun van genoemde Ockert Johannes was en ek sy oudste agter- kleinseun, het ek alles in my vermoë gedoen om die Bybel te bekom. Na heelwat onderhandelings en besoeke het ek uiteindelik, na die Oom Naas Fourie se dood, wel die Bybel gekry.
Die oupa, Ignatius Petrus Hendrik Olivier (f6) *1823, was die eerste persoon met daardie naam. Hoe het hierdie naam ontstaan? Na 'n bietjie rondkyk in die boeke van de Villiers en Pama het ek die volgende afleiding gemaak. Ignatius P.H. se vader Ockert Johannes Olivier (e1) was getroud met Anna Elizabeth du Preez (f5). In 1823 vernoem hulle, soos die gebruik was, hulle 5de seun na haar Pa se oudste broer, Ignatius Petrus Du Preez (e2). Die Hendrik wat bygevoeg is, kon moontlik van die Olivier Stamvader gekom het, maar moontlik ook van die Ferreiras, want Anna Elizabeth du Preez se oupa, Andries du Preez was getroud met Hester Ferreira (b12) 'n dogter van Ignatius Ferreira, die Stamvader. Sy het 'n broer gehad met die naam Petrus Hendrik Ferreira (b3).
Hoe het ons Oliviers in Strydenburg se omgewing gekom? Die Oliviers het van voor 1800 in die Olifantsrivier vallei, vermoedelik op die plaas Langverwacht in die omgewing van De Hoop en Volmoed gewoon en geboer. My Pa Johannes Stephanus Olivier is op 13/10/1908 te Langverwacht gebore. In 1918 met die groot oorstromings in die Olifantsrivier vallei het my oupa IPH. Olivier (Naas) alles verloor waarmee hy geboer het. Piet Lategan van Lategansvlei het op daardie staduim groot grond 50,000 morge in die omgewing van Strydenburg/Britstown besit. My oupa en ouma IPH. Olivier en 6 kinders, sy getroude suster Petronella JD. Fourie en 3 kinders (Oom Naas in wie se besit die Bybel was se ma) het toe verhuis na Strydenburg omgewing.
My oupa het hom gaan vestig op die plaas Vlakfontein in die distrik van Britstown. Toe die Smartt Sindekaat dam in die Ongersrivier tussen Britstown en Vosburg in aanbou was, het oupa Naas die plaas verlaat en daar gaan sementkanale bou. Na voltooiing van die projek het hy hom toegespits op die bou van sementvalle in riviere en waterlope op plase in die omgewing. Hy het op daardie stadium in Britstown gewoon tot sy dood, waar hy en my ouma begrawe is.