Mét of sónder tande

Die mense van die Karoo - of sê ons Kagroo (Hulle bry mos so lekker)

Burger OLIVIER

Dit moes hier om en by 1955 gewees het, want my pa het nog die Ford lorrie met sy opslaan syklappe gery. Dit het soos 'n "army lorry" gelyk. Ons s'n was net groen. Die lorrie het 'n snaakse geluide gemaak as jy wegtrek - en dan, op die ooppad, so teen 30 myl per uur, (onthou ons was onder dié stelsel tot 1961) het die bande gesing op die sementpad. Hoekom die oumense sementpad gebou het, weet ek nie, seker goedkoper, maar 'n fiets se droom, veral as jy so "klik-klik" oor die laste gaan.

Ons, dis nou my pa, ma, oom Ockert, Lewies en John, uitgespreek Jôn, ons was oppad met die Lorrie tussen De Rust en Beaufort-Wes. Die pad deur Meiringspoort was laaaank en ons het twee keer stilgehou om te eet. Dit is wors, (lekker vetterig) bruin brood, (self gebak) gekookte eiers en roereiers wat al blou is. Oom Lewies en Ockert (almal is broers) kan nie met tande en al eet nie en haal dit toe uit. Hulle sit dit toe op die lorrie se kap neer om die etery nou sommer goed te geniet. My pa, 'n haastige man, het klaar geëet en nadat elke man by 'n bossie gestaan en broeklosmaak het en Ma maar 'n besembos moes gebruik, maak die klomp reg om te vertrek.

Pa in die lorrie, wen hom op en daar gaan hy, sonder Lewies en Ockert, want sien, dié wou nog eers die toets bespreek. Almal skree en waai: "Hooo, wag, wag, haaai, hoooo, stop, stop," maar tevergeefs, die drywer wil nou Beaufort-Wes toe. 'n Anderhalfmyl verder kry my ma hom oorreed om te stop. Almal soek die twee wat agtergebly het. Pa kry die een stel tande wat op die kap lê en sit ook 'n bak neer om te verseker dat die "baas" dit sal kry. Met die tweede wegtrek val dit deur die watergat in die bak en die geknarrs kon gehoor word toe hy daaroor ry.

Moeg kom almal by die punt aan waar hulle agtergelaat is en almal soek!. Op laas sien ons die ou kleurlingman wat speels met 'n stokkie in die sand krap, "Het jy twee wit mans sonder tande hier rond gewaar?" vra my pa kwaad, want Beaufort-Wes is nog ver. "Ja ek het! "Waar is hulle ?" "Weg," kom die antwoord. "Weg waarheen?" "Hoe moet ek weet! Hulle het gesê hulle gaan huistoe en het 'n lift met 'n donkiekar gekry. Hulle is wragtig oppad terug Volmoed toe!" "Jy weet, ek breek sommer jou bleddie nek," sê oom John. "Ja, dis wat hulle gesê het." "Hulle gaan julle bleddie nekke breek.!!"

Melktyd kom ons toe op die plaas aan sonder die twee, want hulle het op Pacaltsdorp, sonder tande, oornag!!