-Burger Olivier-
Ok, ‘n paar aantekeninge: Ronnie van Rensburg skryf basies oor mense wat ek ook ken en familie is van my. Kom ons begin voor.
Oom Harry Coetzee was Harry en sy seuns Piet (wat met Ella getroud is - ongeveer 70 jaar) en Chris Coetzee 75. Oom Harry het so 500 meter bokant ons in Kandelaarsrivier gewoon. Hy is oorlede toe ek nog in die laerskool was.
Mnr. Gousaard was aan my bekend, want sien, my tannie, (my pa se suster) was ‘n onderwyseres saam met GJ Roux by Armoed. Sy was Dorie Olivier (Dorothea Maria) en het o.a. musiek gegee. Ek wou nie by haar leer nie, want sy het ons altyd met ’n liniaal op jou vingers geneuk. Ek het toe Largo bestudeer en dit was die eerste stuk wat ek op die klavier gespeel het. Later, in 1963, het ek sang opgeneem en saam met Marlene Johnson oom Basil, die steenmaker se dogter, opera gesing - 'Student Prince.'
Ons het daarna so 2-3 jaar saam gesing en toe opgebreek. Ek was ‘n bas bariton wat 2 oktawe hoër kon sing as ‘n gewone bariton. Ek het ook later Whispering Hope, Boys Best Friend is his Mother, Aloa Ho, ens. gesing. Ek speel klavier, kitaar en saag.
Ek sing nog steeds, maar baie beperk en het onlangs die voorreg gehad om met ‘n ou vriend van Italië (‘n Italianer) Caro Mio Ben of te wel O Solo Mio te sing. Hy is 79 en ‘n sterk bariton wat baie saam met Virginia Lee gesing het. Ons het die Laeveld 12 uur die nag wakker gesing.
Toe ek onlangs in die Midde-Ooste was, was ek die eerste expat wat toestemming gekry het om Arabiese vroue in diens te neem en het by die besigheid, (ek was ‘General Manager’ van ‘n petrochemiese aanleg,) 6 in diens gehad en hulle was puik. Maar, genoeg van my.
Tannie Dorie Olivier se suster was Gertie of Sussie soos almal haar geken het en my pa David Hermanus Fourie Olivier en sy broer Frikkie. Frikkie het in 1947 gesterf.
My pa se pa, Frik, was basies ‘n bywoner by oom Henry Keller wie ‘n baie ryk man was. Sy vrou was tannie Matty Keller en hul seun was Piet Keller, ook ‘n onderwyser.
Nog iets anders - die oom Okkie Tros was baie goed bekend aan my en hy het ‘n mooie dogter gehad, maar ongelukkig ouer as ek.
My pa was waterfiskaal van Kandelaarsrivier en as dit gereën het in die berg sal oom Okkie Sondag by die kerk, voor kerk, skoorvoetend na my pa stap en sê: 'Ja Dawie, is daar water? Julle steel seker alles daarbo!” want ons het aan die ''bokant van die rivier gewoon'' sodat ons weer niks kry nie. En so sal hy karring oor die water tot iemand hom ‘n dwars antwoord gee.
NOG IETS ANDERS! Net bokant in Rooistraat het oom Pietertjie gewoon en sy werk was om tuie, karwatse, swepe (is daar ‘n verskil?) en rooi veldskoene gemaak. Dit nog op die lees gesny en dan moes jy jou voet kom pas. Whow... Hy en sy susters het alleen gewoon en jy het ‘n allemintige 5 sjielings vir ‘n paar vellies betaal en so 2/- ‘n sweep. Dit was nou om die voëls by die wingerde te jaag.
O ja, dan was daar ook Martiens Kaas, hy was die kaasmaker van daardie tyd.
At Strydom , is aan my bekend en het in die appelwereld naby die Kaap geboer. Sy pa was oom Jacob en oom Jacob het ‘n hanetree bokant in die pad wat deur Kandelaarsrivier geloop het, gewoon. Oom At se jongste broer was Eben. Hy was uitermatig fiks en het Saterdae oggende of met die fiets na die poskantoor so 10 kilometer weg, gery of gedraf. Kyk hulle was nog broers en suster en hul byname was die ratels, want hulle was so taai en sterk soos beeste.
Eben het SWD rugby gespeel. Eben het vir Parks klub daar in Sondagsrivier gespeel.
At Strydom se ander broer oom Martiens het ‘n plaashuis by ons op Kandelaarsrivier gehuur en altyd maar Vrydagaande sy dubbel brandewyntjie gevat. Een keer per maand het ons op ‘n Vrydagaand by hulle gaan kuier. Hulle huis was so 300 meter van waar ons gebly het.
Dié aand het oom Martiens ons vertel van ‘n “spookhond” wat daar by die huis loop!
Dit was so teen agtuur toe die storie begin lyf kry. Oom Martiens het sy bene soos ‘n koeksister inmekaar gewurg en sy pyp gestop en die rokie so rustig in die lug geblaas terwyl ek, Ma, Pa en sy vrou ''wag!!”
Die volgende oomblik skree oom Martiens, “Hond!!! Hond!!!” en gooi sy pyp en sy dop dat dit doerrr oor die stoep trek. Onnodig om te sê - almal op die stoep skrik ons gat af en storm gelyk vir die voordeur en seil langs mekaar daardeur tot in die kombuis. Oom Martiens met sulke lang klas windvoël treë, doerrrr in die lug - ek tussen sy bene deur en res volg!!
Hy moes daarna ‘n kan soetetjies uithaal, Red Jeripigo, om die ou mense se senuwees te laat bedaar. Ons familie het draf-draf die aand baie laat, so 9uur se koers, huis toe gedraf, omkyk- omkyk!!!
Ek wonder net of Nonnie Olivier en Boet, my familie, nog leef? Boet het op skool. ek was in Sub A en hy in st. 8, altyd pouses ons kop afgedruk en met een been so speel-speel oor ons kop geskop en gesê: Jis Boet…..!!”
Ek het in Sub A ‘n ander seun met ‘n byl gekap - ons het ‘n operette opgevoer. Juffrou Faure het ‘n groep kinders op die vloer laat sit. Drie van ons kabouters het met houtbyltjies rondom hule geloop en gesing: ''Ons is kabouters van Kabouterland. Dis ons land. Dis ons land.” Toe gly die byl en ek kap buttie Kat (buttie was die kleurling woord vir boetie en kat - hy skree soos ‘n kat as hy seerkry) Ek het ‘n hengse pak slae by die hoof, mnr. Van den Berg gekry.
My ma het die hoof by die skoolraadskantoor gaan verkla en hy was gepos na Putsonderend..... Shame, arme ek!!!