JOHANN DE JAGER
BLOEMFONTEIN. — Hy het gebid daar moenie nog 'n paaltjie kantel nie nadat hy die eerste agt paaltjies ingeoes het en toe na 12 agtereenvolgende boulbeurte in die boulaanval vervang is.
Só het Mario Olivier, wat op die derde dag in die Super Sport-krieketwedstryd teen die Eagles Saterdag hier voortgegaan het om al 10 paaltjies in die tuisspan se eerste beurt vir die Warriors in te oes, gesê.
Die 25-jarige naatbouler was met sy 10/65 in 26.3 boulbeurte die derde Suid-Afrikaner wat dit in 'n plaaslike eersterangse wedstryd kon vermag.
Stephen Jefferies het dit 20 jaar gelede op Nuweland met 10/59 vir die Westelike Provinsie teen die Vrystaat reggekry. Voor dit was Bert Vogler die eerste speler wat 10 paaltjies in 'n kolfbeurt op sy kerfstok gehad het. Hy het in die 1906/'07-seisoen 10/26 vir die Oostelike Provinsie teen Griekwas in Johannesburg ingeoes.
Olivier se beste boulvertoning voor die wedstryd was die 5/67 wat hy verlede seisoen in Oos-Londen teen die Lions ingeoes het.
"Ek kan dit nie beskryf nie. Ek kan nou nog nie eintlik sê hoe dit voel nie, maar ek is in die wolke," het die bouler agterna gesê.
Sy ses paaltjies van Saterdag se oggendskof het hom op agt te staan gebring. Hoewel hy deur die val van elke paaltjie aangespoor is om aan te hou boul, het Zander de Bruyn ná 12 agtereenvolgende boulbeurte besluit om hom 'n ruskans te gee.
Mens sou dink die kaptein sou hom met tien paaltjies in sig met die nuwe bal toevertrou het, maar De Bruyn het met homself en Lomwabo Tsotsobe volhard toe dit aangevra is.
Olivier erken hy was effens moeg. Hy het nietemin kort-kort in die rigting van sy kaptein gekyk, maar hom gelos. "Hy het geweet ek wil graag boul en ek wil graag my tien hê. Hy is my kaptein en ek respekteer hom vir sy keuses. Hy is die een van die besluite op die veld maak.
Hy het wel gesê 'dit is my dag' en dat ek ná middagete beslis weer ingespan sal word. Olivier het asem opgehou daar val nie intussen weer 'n paaltjie nie. "Dit is seker lelik van my, maar ek het baie gebid en gewens niemand vat 'n ander paaltjie nie."
Die bal waarmee hy die eerste agt paaltjies geneem het, sal as 'n gesogte aandenking uitgestal. word. Sy kaptein het dit agterna aan hom gegee.