Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Kliek ook gerus op die "Oordenkings" skakel (menu) daarbo 👆🏻 om by die ouer oordenkings uit te kom.
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟑𝟎 – 𝐇𝐞𝐫𝐬𝐭𝐞𝐥 𝐨𝐧𝐬, 𝐇𝐞𝐫𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dikwels in die lewe – wanneer die drade van hoop lyk of dit oral begin uitrafel – los dit ons met ’n gevoel van verlatenheid en wanhoop. In ons land, Suid-Afrika, raak mense gou moedeloos of gefrustreerd – veral as hulle met heimwee begin terugdink aan “die goeie ou dae” en “hoe dinge was”. Die realiteit is dat die goeie ou dae nooit sal terugkom nie en dinge nooit weer sal wees soos dit was nie. Dis verby. Dis die verlede. Tog weet ons dat ons kan bou op dit wat ons nou het, want ons fondasie is stewig in Jesus Christus.
Ja, te midde van uitdagings en onsekerheid, nooi God ons om ons oë na Hom op te slaan, want in Sy Woord vind ons beloftes wat genesing en herstel bring. As Suid-Afrikaners wat vir die laaste klompie dekades al in baie onsekerheid leef, wend ons vandag ons aandag die laaste paar verse van Psalm 80:
“¹⁸𝐻𝑜𝑢 𝑡𝑜𝑔 𝑢 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑛 𝑎𝑎𝑛 𝑢 𝑟𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟𝑘𝑎𝑛𝑡,
𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒𝑘𝑖𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑈 𝑣𝑖𝑟 𝑈𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 ℎ𝑒𝑡.
¹⁹𝑂𝑛𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑈 𝑤𝑦𝑘 𝑛𝑖𝑒.
𝑀𝑎𝑎𝑘 𝑜𝑛𝑠 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑!
𝑁𝑒𝑡 𝑢́ 𝑁𝑎𝑎𝑚 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝑎𝑎𝑛𝑟𝑜𝑒𝑝.
²⁰𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝐺𝑜𝑑, 𝐻𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒,
ℎ𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑙 𝑜𝑛𝑠;
𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑠𝑘𝑦𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑔,
𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑.”
– Psalm 80:17-20 (AFR20)
Die hele Psalm 80 is ’n hulproep tot die “Herder van Israel” (vers 1) om herstel te bring en die wêreld te laat sien dat God alleen hul heerser is en dat Hy alleen verdien om aanbid, geloof en geëer te word. Hierdie is ’n gedeelte wat nog altyd tot die harte van mense gespreek het en ook só direk spreek tot die verlangende harte en hoopvolle geeste van die mense van Suid-Afrika.
Terwyl ons altyd die beproewinge van ons tyd in die gesig sal staar, gee God ’n gerusstellende belofte. Hy het leiers grootgemaak, individue wat aan sy regterhand geposisioneer is, wat die verantwoordelikheid dra om die nasie met wysheid en integriteit te lei. As leiers – op watter gebied ook al – leer by die Een wat vir ewigheid aan God se regterhand sit, Jesus Christus, sal hulle leiers wees wat God se eer eerste stel. Ons moet in ons land bid vir leiers wat deur God se hand bemagtig is – leiers wat geregtigheid, gelykheid en die welsyn van alle burgers soek.
In tye van swaarkry is dit natuurlik om vêr van God af te voel. Tog herinner hierdie verse in Psalm 80 ons dat wanneer ons na Hom toe draai, herlewing en nuwe lewe ’n sekerheid is. Terwyl ons geestelike vernuwing soek, individueel en gesamentlik, sal God se transformerende krag ons harte laat herleef.
In die pleidooi vir enige herstel, vind ons die essensie van hoop. God, die Almagtige, is nie net in staat om te herstel wat gebreek is nie, maar Hy 𝙬𝙞𝙡 dit graag ook doen. As ons wandel in God se lig – in die lig van sy aangesig – besef ons dat God se guns, genade en redding altyd naby is.
Laat ons die Naam van die Here ernstig aanroep, met die vertroue dat Hy ons gebede verhoor en met genade reageer. Laat ons bid vir God se Goddelike ingryping, en glo dat sy lig die duisternis sal verdryf en ’n seisoen van herstel vir ons land, Suid-Afrika, sal bewerkstellig.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Die herstel van my land, my wêreld, begin by my. In die aangesig van die Here, word ek herstel deur die verlossing wat Jesus Christus vir my bewerk het.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Liewe Hemelse Vader, ons kom in nederigheid en bring die mense van Suid-Afrika voor U. Mag u hand op ons land se leiers rus en hulle met wysheid en onderskeidingsvermoë lei. Laat daar herlewing wees in die harte van die mense, trek hulle nader aan U. Here, herstel in u barmhartigheid wat gebreek is en laat u aangesig oor hierdie land skyn. Mag die mense van Suid-Afrika die volheid van U verlossing ervaar en die hoop wat net U kan voorsien. Ons bid dit in die wonderlike Naam van ons Here, Jesus Christus. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟐𝟖 – 𝐃𝐢𝐞 𝐚𝐚𝐫𝐝𝐞 𝐢𝐬 𝐯𝐨𝐥 𝐯𝐚𝐧 𝐬𝐲 𝐡𝐞𝐞𝐫𝐥𝐢𝐤𝐡𝐞𝐢𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat presies is God se heerlikheid? As ons stil word in God se teenwoordigheid, of as ons rustig is in die natuur (ook in Sy teenwoordigheid), ervaar ons Sy heerlikheid? Wat presies is dit? Is dit iets abstrak? Iets bo ons menslike waarnemingsvermoë? Is dit dalk iets wat ons nie fisies kan waarneem nie?
Definitief een van my gunsteling gedeeltes van die Bybel, is Jesaja 6 waar Jesaja geroep word. Jesaja ervaar ’n visioen van absolute heerlikheid. Hy is in God se troonkamer en daar is engele wat rondvlieg en mekaar telkens toeroep: “𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔, ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔, ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝐻𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒! 𝐷𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑣𝑜𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑.” (Jesaja 6:3 AFR20) Met ander woorde, wat Jesaja ons leer, is dat God se heerlikheid gesien kan word in die skepping. Net soos Jesaja in totale verwondering oor God se heerlikheid staan in die hemel, is die engele in verwondering oor God se heerlikheid wat op aarde ten toon gestel word.
Die ware God is nie ’n god wat wegkruip nie. Hy is nie moeilik om te vind nie. Hy het nooit beplan dat jy Hom slegs kan ken deur ’n aangesig tot aangesig ontmoeting nie. Hy wou nog altyd hê dat almal Sy goedheid moes ervaar. Maar omdat God ons as fisiese wesens geskep het met sintuie om dinge te ervaar, het Hy ook gekies om Sy onsigbare eienskappe fisies aan ons uit te druk. God het dus ’n wêreld geskep waarin ons Sy heerlikheid kan sien wat tot uitdrukking kom in al die wonderlike, mooi dinge wat Hy gemaak het – bome, blomme, berge, oseane, diere, alles. God se heerlikheid is dus iets wat ons tasbaar deur ons sintuie ervaar en is bedoel om ons in verwondering te laat oor wie Hy is. En as ons God se heerlikheid aanskou en Hom erken vir wie Hy is, kan ons nie anders as om Hom te aanbid nie – net soos Jesaja gedoen het.
Maar dan moet ons ook vêrder onthou dat ons in God se beeld geskape is. Net soos God se skeppingswerk openbaar wie Hy is, so is ons werk ’n tasbare uitdrukking van ons identiteit. Omdat ons na God se beeld geskape is, weerspieël ons wie ons is in alles wat ons doen. En uiteindelik is wat ons doen ook bedoel om God se heerlikheid te weerspieël terwyl ons deelneem aan Sy glorieryke werke. Hy het ons nie net geskep sodat ons Hom in al Sy glorie sou ken nie, maar ook sodat ons Sy karakter aan die wêreld rondom ons sou weerspieël.
Dit is soms, nee dikwels moeilik om te voel dat ons ons werk ’n vorm van heerlikheid bevat. Om eerlik te wees, dink ons waarskynlik dat ons gewone ou daaglikse werke eintlik maar min blywende waarde het. Maar, as ons mooi begin besef en begryp hoe God se heerlikheid in die skepping weerspieël word, kan ons dalk begin besef dat selfs die mees algemene werk ongelooflike waarde het. Net soos ’n gewone blom, ’n lelie of selfs ’n onkruid blommetjie, God se skoonheid kan weerspieël, net so kan ’n algemene werk, soos ’n straatveër dit ook doen.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe kommunikeer my werk wie ek is as God se beelddraer? Hoe kan my werk God se heerlikheid aan die wêreld kommunikeer?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Baie dankie Here vir alles wat ek elke dag kan doen. Werk, speel, rus – dankie vir alles. Dankie dat ons U heerlikheid regoor die aarde in U skeppingswerke kan waarneem. Help my om ook in my werke U beeld uit te dra op aarde. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟐𝟕 – 𝐔𝐢𝐭𝐯𝐞𝐫𝐤𝐢𝐞𝐬 𝐝𝐞𝐮𝐫 𝐆𝐨𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat beteken dit om deur God uitverkies te wees? Beteken dit dat God lank gelede iewers gaan sit het en voor die tyd besluit het wie gered gaan word en wie nie? Is slegs ’n groepie mense bestem vir die ewige lewe? Wat dan van vrye wil? Ons kan ook mos kies...
Paulus skryf in Efesiërs 1:4 (AFR20): “⁴𝑆𝑜 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑𝑙𝑒𝑔𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑖𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑒𝑘𝑖𝑒𝑠, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑏𝑒𝑟𝑖𝑠𝑝𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑖𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑠𝑜𝑢 𝑤𝑒𝑒𝑠”
Dit wil amper voorkom of Paulus bedoel dat ons wat glo, vooraf beplan is. Asof nét ons deel is van God se plan van verlossing... Maar, gelukkig is dit nie so nie. Of is dit nou ongelukkig vir ons? Ons weet tog dat daar niks is wat ons kan doen om ons heeltemal voor God te regverdig nie. So, hoe werk dit dan?
Paulus skryf hierdie woorde in Efesiërs 1 om te beklemtoon dat ons verlossing geheel en al van God afhang (gaan lees gerus ook die res van die hoofstuk). Ons word nie gered omdat ons dit verdien nie, maar omdat God genadig is en vrylik verlossing bied aan dié wat glo. Ons het niks gedoen om Sy besluit om ons te red te beïnvloed nie (behalwe natuurlik ons onvermoë om sondevry voor Hom te leef). God het ons gered, volgens Sy groot plan. Daar is dus geen manier waarop ons enige krediet aan onsself kan toe-eien vir ons verlossing nie – daar is geen plek vir trots of eiewaan nie. Die geheimenis van verlossing was al in God se gedagtes lank voor ons nog bestaan het!
Sien, vir God bestaan tyd nie en kan ons hierdie konsep van uitverkiesing nie regtig ooit ten volle verstaan nie. Tog weet ons – soos die Woord ons leer – dat God nog altyd beplan het vir ons om in Sy beeld te wees. Ons keuse vir die sonde het dit heeltemal verander en ons kon nog nooit enigiets 𝘥𝘰𝘦𝘯 om dit reg te stel nie. Daarom het God in sy oneindige liefde en genade vir ons ’n plan gemaak. God wou nooit hê en wil nogsteeds nie hê dat enige mens verlore sal gaan nie. Dít is die rede waarom Jesus mens geword het en die prys vir ons redding en versoening met God kom betaal het.
Dit is regtig moeilik om te verstaan hoe God ons enigsins kon aanvaar. Maar, as gevolg van Jesus Christus, word ons geheilig en kan ons vlekloos voor Hom staan. God het ons gekies. Ons behoort aan Hom deur Jesus Christus. Ja, dit was ons keuse om Sy genade te aanvaar, maar Hy het ons so gemaak om dit te aanvaar of te verwerp. Die plan was nog altyd in plek en as ons reg kies, kyk God na ons asof ons nog nooit gesondig het nie. Deur Jesus Christus, is daar net een ding wat jy kan 𝘥𝘰𝘦𝘯 vir hierdie uitverkiesing: jy moet 𝘬𝘪𝘦𝘴 vir Jesus en met alles wat jy het in Hom glo!
Al wat ons dan kan doen in antwoord op God se genade en onmeetbare liefde vir ons, is om ’n lewe van dankbaarheid te lei.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Besef ek regtig hoe groot God se genade vir my is? Dat Hy mý gekies het? Aanvaar ek dit in my lewe? Wys my lewe dit?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse God, God vêr bo my begrip. Ek verstaan nie U liefde en genade nie. Dit is té groot vir my. Tog het U gekies om dit aan my te gee. Ek verdien dit nie. Dankie Here Jesus, dat U dit vrylik beskikbaar gestel het vir ons almal. Aan U kom toe die lof, die eer en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟐𝟐 – 𝐖𝐞𝐞𝐬 𝐚𝐧𝐝𝐞𝐫𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep)
“²𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑔𝑒𝑙𝑦𝑘𝑣𝑜𝑟𝑚𝑖𝑔 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑢𝑤𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑛𝑘𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠𝑘𝑒𝑖 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑒𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑚𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑚𝑎𝑎𝑘𝑡𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠.” – Romeine 12:2 (AFR20)
Om gelykvormig te wees, beteken dat jy ’n uiterlike voorkoms het wat verskil van wat binne jou aangaan. Dit is soos om heeltyd toneel te speel en, om die waarheid te sê, dis baie uitputtend.
Wanneer Paulus hierdie woorde skryf aan die Romeine, wil dit voorkom asof hulle reeds toegelaat het dat hulle lewens een groot toneelstuk was. Hulle was meer gemoeid om in mense se goeie boekies te kom as in God s’n. Paulus sê vir hulle dat dit tyd is om te stop.
Om aan die wêreld gelykvormig te word, is nie eie aan ’n sekere plek of tyd nie. In Paulus se tyd was die Romeine ’n nasie wat erg gefokus was op fisiese plesier en genot. Só het elke tyd ook ’n waardestelsel – ’n groep oortuigings en norme – die gees van die tyd. Om een of ander rede was dit nog altyd so gewees met die mens. Ons laat toe dat liberale en kontemporêre denke begin dikteer hoe die morele raamwerk moet lyk. Ongelukkig is hierdie denkraamwerk nog altyd oorheers deur die Satan (2 Kor. 4:4).
Paulus sê ons denke moet vernuwe word. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is die woord vir metamorfose. Metamorfose beteken ’n fisiese, uiterlike verandering van gedaante. Net soos Jesus Christus vir ’n kort tydjie op aarde en op ’n beperkte manier sy innerlike, Goddelike aard en heerlikheid tydens ’n tipe metamorfose na buite vertoon het, moet Christene ook hulle innerlike, verloste aard uiterlik openbaar. Dit moet nie net daardie een keer gebeur wanneer jy tot bekering kom nie, maar elke liewe dag.
Hierdie soort transformasie kan slegs plaasvind as die Heilige Gees ons denke verander deur konsekwente, volgehoue studie en meditasie van God se Woord (gaan lees gerus die Woord – jy sal genoeg bevestiging hiervan kry). Vernuwe denke is denke wat deurdrenk is- en onder die beheer is van God se Woord.
Wanneer ons begin om ’n gedaanteverwisseling te ondergaan, begin ons lewens goed, aangenaam, aanneemlik vir God wees. Lewens wat onderwerp is aan God se volmaakte wil. ’n Lewe wat vir God aanneemlik is, soos Hy offers aangeneem of verwerp het in die Ou Testament. Ons weet Jesus het vir ons die finale offer gebring, maar in dankbaarheid bring ons ons lewens elke dag as offer voor God. Ons gesindheid moet reg wees. Ons offer moet reg wees. ’n Lewe wat moreel en geestelik vlekloos is, soos die vereiste was vir die offerdiere. (vgl. Lev 22:19–25).
𝑴𝒐𝒆𝒏𝒊𝒆 𝒔𝒐𝒐𝒔 𝒉𝒊𝒆𝒓𝒅𝒊𝒆 𝒘𝒆̂𝒓𝒆𝒍𝒅 𝒘𝒆𝒆𝒔 𝒏𝒊𝒆. 𝑾𝒆𝒆𝒔 𝒂𝒏𝒅𝒆𝒓𝒔!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is my offer heilig? Is dit aanneemlik vir God? Hoe maklik laat ek toe dat wêreldse denke my beïnvloed?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus dat U die volmaakte offer vir my sondes gebring het. Help my om nie aan hierdie wêreldgelykvormig te word nie. Transformeer my. Laat U skoonheid en reinheid wat binne my leef, na buite begin uitstraal. Laat my lewe, in dankbaarheid, ’n aanneemlik offer wees vir U, my God en hemelse Vader. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟐𝟏 – 𝐆𝐞𝐫𝐞𝐠𝐯𝐞𝐫𝐝𝐢𝐠 𝐯𝐨𝐨𝐫 𝐆𝐨𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Regdeur die Ou Testament vind ons tekste wat voorskryf hoe God se volk moet leef om in lyn met Sy wil te wees. Tekste wat voorskryf wat die mense moet doen om in Sy oë geregverdig te word. As hulle gehou het by die wette wat Hy aan hulle gegee het, was hulle deel van die verbond. Daarom kon Dawid ook praat en sing oor sy geregtigheid. Psalm 18:21-25 (AFR20) sê:
“²¹𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑜𝑒𝑑𝑔𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑; 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑠𝑘𝑜𝑜𝑛 𝑖𝑠, ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑜𝑒𝑑. ²²𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑒𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑒 𝑝𝑎𝑎𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑙𝑦 𝑒𝑛 𝑚𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑚𝑦 𝐺𝑜𝑑 𝑛𝑖𝑒. ²³𝐽𝑎, 𝑒𝑘 ℎ𝑜𝑢 𝑎𝑙 𝑠𝑦 𝑤𝑒𝑡𝑡𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑜𝑒̈, 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑣𝑎𝑠𝑡𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒 – 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑤𝑦𝑘 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑓 𝑛𝑖𝑒. ²⁴𝐸𝑘 𝑤𝑎𝑠 𝑜𝑛𝑏𝑒𝑟𝑖𝑠𝑝𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐻𝑜𝑚, 𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑟ℎ𝑜𝑢 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑. ²⁵𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑠𝑘𝑜𝑜𝑛 𝑖𝑠 𝑖𝑛 𝑠𝑦 𝑜𝑒̈.”
Hoe kon Dawid so seker wees hiervan? Ons weet tog dat Dawid nie volmaak was nie. Inteendeel, hy erken op baie plekke, veral ook in Psalm 51, dat hy erg gesondig het teenoor God en mense. Die wonderlike deel van God se verbond met die volk van Israel, was dat God vir hulle ’n manier gegee het om steeds geregverdig te word. As hulle teenoor God se wette gesondig het, het hulle die geleentheid gehad om hul sonde te bely en deur ware berou te toon, kon hulle herstel word en weer versoen word met God en die volk. In Levitikus 1-7 word die proses van die offerandes verduidelik waardeur die Israeliete hul saak met God en hul naaste kon regmaak.
Wat egter die belangrikste was in hierdie hele proses van regverdiging, was nie net die offer nie, maar die gesindheid waarmee die offer gebring is. Sonder ’n nederige en berouvolle hart, waarmee jy jouself geheel en al aan die genade van God oorlaat, was die offer eintlik nutteloos. Daarom sê Dawid ook in Psalm 51:18-19 (AFR20): “¹⁸𝑈 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑖𝑛 𝑠𝑙𝑎𝑔𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑠𝑜𝑢 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑒; •𝑏𝑟𝑎𝑛𝑑𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟𝑠 𝑎𝑎𝑛𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑈 𝑛𝑖𝑒. ¹⁹𝑂𝑓𝑓𝑒𝑟𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 '𝑛 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑜𝑘𝑒 𝑔𝑒𝑒𝑠, '𝑛 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑜𝑘𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑝𝑙𝑒𝑡𝑡𝑒𝑟𝑑𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑈, 𝑜 𝐺𝑜𝑑, 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑖𝑛𝑎𝑔 𝑛𝑖𝑒.”
Wanneer ons só na die Here toe kom met ons sondes, kry ons God se geregtigheid oor ons – dan ken Hy die volmaakte geregtigheid van die volmaak te offer, Jesus Christus, aan ons toe (vgl. 2 Kor. 5:21).
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wanneer ek my sonde voor God bely, is dit om my eie gewete te sus, of omdat ek waarlik berou het daaroor?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almal van ons het sonde. Gaan vandag in ware berou na ons hemels Vader vir vergifnis en regverdiging.
𝑴𝒂𝒈 𝒅𝒊𝒆 𝒈𝒆𝒏𝒂𝒅𝒆 𝒗𝒂𝒏 𝒐𝒏𝒔 𝑯𝒆𝒓𝒆 𝑱𝒆𝒔𝒖𝒔 𝑪𝒉𝒓𝒊𝒔𝒕𝒖𝒔, 𝒆𝒏 𝒅𝒊𝒆 𝒍𝒊𝒆𝒇𝒅𝒆 𝒗𝒂𝒏 𝑮𝒐𝒅, 𝒆𝒏 𝒅𝒊𝒆 𝒈𝒆𝒎𝒆𝒆𝒏𝒔𝒌𝒂𝒑 𝒆𝒏 𝒐𝒏𝒃𝒆𝒔𝒌𝒓𝒚𝒇𝒍𝒊𝒌𝒆 𝒗𝒓𝒆𝒅𝒆 𝒘𝒂𝒕 𝑮𝒐𝒅 𝒔𝒆 𝑮𝒆𝒆𝒔 𝒐𝒏𝒔 𝒈𝒆𝒆, 𝒎𝒆𝒕 𝒋𝒖𝒍𝒍𝒆 𝒘𝒆𝒆𝒔!
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟏𝟖 – 𝐑𝐢𝐠 𝐣𝐨𝐮 𝐨𝐞̈ 𝐨𝐩 𝐆𝐨𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
In ons reis deur hierdie lewe, word ons dikwels gekonfronteer deur uitdagings en onsekerhede. Sommige mense is baie naïef as dit hierby kom en dink dat blote positiewe denke hulle daarvan sal bevry of dat hulle dit eenvoudig net kan ignoreer. Tog weet ons almal dat die realiteit van die lewe heeltemal anders is. Ons moet eerlik met onsself wees en die realiteit van moeilikhede in die lewe erken. Ons moet besef dat geeneen van ons kwytskelding ontvang van die harde realiteit van die lewe nie – sonde en ons keuse daarvoor het gesorg dat die wêreld nie is soos God dit beplan het nie en die gevolge daarvan sal altyd ’n realiteit in ons lewens wees.
Ja, dit klink dalk amper hopeloos om so te dink, maar gelukkig, vir diegene wat glo dat Jesus Christus gekom het om die beeld van God in ons te kom herstel, is daar hoop. Maar om op God te vertrou, die Naam van Jesus te dra en die blye Evangelie te verkondig, hou ook weer op sy beurt vir ons moeilikhede in – die wêreld hou nie daarvan nie en sal selfs met ons spot... Selfs eeue voordat Jesus gekom het, het gelowiges dit ook geweet en ervaar en het hulle hul oë gerig op God:
"¹'𝑛 •𝑃𝑒𝑙𝑔𝑟𝑖𝑚𝑠𝑙𝑖𝑒𝑑.
𝑁𝑎 𝑈 𝑘𝑦𝑘 𝑒𝑘 𝑜𝑝, 𝑈 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑤𝑜𝑜𝑛.
²𝐾𝑦𝑘, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑒̈ 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑙𝑎𝑤𝑒 𝑔𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑒𝑖𝑒𝑛𝑎𝑎𝑟,
𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑒̈ 𝑣𝑎𝑛 '𝑛 𝑠𝑙𝑎𝑣𝑖𝑛 𝑔𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑖𝑒𝑛𝑎𝑟𝑒𝑠,
𝑠𝑜 𝑖𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑒̈ 𝑔𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑜𝑛𝑠 𝐺𝑜𝑑 𝑡𝑜𝑡𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑖𝑔 𝑖𝑠.
³𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑖𝑔, 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑖𝑔;
𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑎𝑠 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑔 𝑔𝑒ℎ𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑖𝑛𝑎𝑔𝑡𝑖𝑛𝑔;
⁴𝑡𝑜𝑡 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑖𝑒𝑝𝑠𝑡𝑒 𝑤𝑒𝑠𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑎𝑠 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑔 𝑔𝑒ℎ𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑝𝑜𝑡𝑙𝑎𝑔
𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑣𝑜𝑙𝑑𝑎𝑛𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒, 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑖𝑛𝑎𝑔𝑡𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑒𝑢𝑟 ℎ𝑜𝑜𝑔ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔𝑒𝑠."
– Psalm 123 (AFR20)
’n Pragtige psalm waarin ons woorde vind wat vir ons beskryf hoe ons afhanklikheid van- en vertroue in God moet lyk. Om ons oë te rig op die Here, impliseer ’n bewuste besluit om ons fokus te herlei van die probleme wat ons omring na die Een wat regeer. Dit is ’n erkenning dat ons hulp van ’n Bron buite onsself kom.
In nederigheid en verwagting – soos ’n dienskneg wat gretig na die hand van hul meester kyk vir leiding en voorsiening – word ons geroep om ons oë op die Here te rig, in afwagting van Sy genade. Ons God is nie vêr of onverskillig nie, maar aktief betrokke by ons lewens, gereed om sy genade uit te reik wanneer ons ons harte na Hom wend.
Die psalmdigter erken sy menslikheid en die stryd en uitdagings wat elke mens in die gesig staar. Soms moet ons ook pleit om genade. Soms moet ons ook aan God erken dat ons moeg en oorlaai is. Soms moet ons by God kla oor die minagting en veragting wat ons verduur ter wille van Sy Naam – maar soms moet ons Hom ook loof daarvoor, want dit is voorwaar ’n voorreg.
Oomblikke van beproewing en opposisie is eie aan ons tyd en is iets wat ons almal een of ander tyd sal teëkom. Om oorweldig en moedeloos te word deur die probleme wat ons in die gesig staar, is maklik. Psalm 123, soos amper elke psalm en elke deel van die Bybel, leer ons ’n waardevolle les oor waar om in daardie tye te draai.
Om jou oë te rig op die Here, die Een wat in die hemel troon, is dikwels die enigste uitweg vir ons. Dit is ’n uitnodiging om ons fokus te verskuif van die uitdagings voor ons na die God wat groter is as enige struikelblok. Wanneer ons ons blik op Hom rig, erken ons ons behoefte aan Sy leiding, voorsiening en genade.
Mag ons, soos die psalmis, ’n houding van nederigheid en verwagting aankweek en ons oë in alle omstandighede na die Here ophef. Deur dit te doen, vind ons krag, hoop en die versekering dat ons God beide gewillig en in staat is om Sy genade oor ons uit te stort.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so moet ek my oë rig op die Here, my God, totdat Hy my genadig is.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God, my God, ek rig my oë op U. Wees my genadig en gee my krag vir elke uitdaging en bespotting in hierdie wêreld. Laat U alleen verheerlik word. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟏𝟔 – 𝐖𝐚𝐭 𝐬𝐢𝐞𝐧 𝐉𝐞𝐬𝐮𝐬 𝐢𝐧 𝐦𝐲 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Jesus was nog nooit afgeskrik deur mense se onvolmaaktheid en tekortkominge nie. Eintlik is Hy baie gemaklik en hoopvol met sulke mense. Hy het geëet saam met gehate tollenaars en van die grootste “sondaars” van Sy tyd (vgl. Matt. 9:11). Hy was selfs ’n vrou wat skuldig was aan owerspel genadig (vgl. Joh. 8:3-11). Sy eie dissipels – die manne wat Hy self gekies het – was soms traag van begrip, wispelturig en ongelowig (vgl. Matt 15:16; Mark. 9:19; 14:66-72). Jesus het selfs in sy laaste uur aan die kruis ’n misdadiger in die Koninkryk verwelkom (vgl. Luk. 23:43).
Jesus sien die potensiaal in onvolmaakte mense raak. Wanneer ons gewoonlik ernstig en eerlik bewus word van ons eie swakhede, raak ons raadop. Wanneer ons begin besef dat ons nie meer op onsself of ons eie kragte, wysheid en insig kan staatmaak nie, begin ons besef dat ons gereed is om op Jesus te vertrou. Dis eintlik hartseer dat ons dikwels eers in sulke omstandighede dit weer besef...
Jesus verwag net dat ons eerlik is met onsself en met Hom. Hy raak egter gefrustreerd met oneerlikheid. In die Woord het Hy van die skerpste woorde geuiter teen die godsdienstige skynheiliges wat nie eers besef het dat hulle in verskriklike geloofsnood verkeer het nie. “𝐺𝑒𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑑𝑜𝑘𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑜𝑑𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑒𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑒𝑘𝑒𝑠.” (Matt. 9:12), het Hy vir hulle gesê. As ons dus waarlik wil lewe soos Jesus wil hê ons moet, is ’n belangrike eerste tree om 100% eerlik te wees met onsself oor ons eie onvolmaaktheid.
Wanneer ons ons donker sondes in Sy wonderbaarlike lig bring, deur hulle te noem by die naam – wellus, woede, skinder, vraatsug, hebsug, jaloesie, ens. – stel dit ons in staat om diepgaande genesing van die Groot Geneesheer te ervaar. 1 Joh. 1:8-9 sê:
“⁸𝐴𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑒̂ 𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑖𝑠𝑙𝑒𝑖 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑠𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑒𝑛 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒. ⁹𝐴𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑏𝑒𝑙𝑦 – 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑒𝑛 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔, 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑦 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑓 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑟𝑒𝑖𝑛𝑖𝑔.”
Maar ons moet nie net ons tekortkominge en oortredings erken nie. Ons moet onsself en ons sondige geaardhede deur die Gees van God laat transformeer, sodat ons die soort mense word in wie die nuwe lewe wat Jesus ons skenk die duidelikste tot uiting kom. Omdat ons mense is, is onvolmaaktheid onvermydelik. Maar, deur middel van Jesus kan dit wat oud was, nuut word (2 Kor. 5:17). Jesus sien baie meer potensiaal in jou raak as wat jy dink!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Weet ek watter van my eie tekortkominge staan in die pad van my volle oorgawe aan Jesus se genade en wil? Het ek dit al bely?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Praat met Jesus oor hierdie dinge...
𝑽𝒓𝒆𝒅𝒆 𝒗𝒊𝒓 𝒋𝒖𝒍𝒍𝒆 !
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟏𝟓 – 𝐖𝐚𝐭 𝐦𝐨𝐞𝐭 𝐞𝐤 𝒅𝒐𝒆𝒏 𝐨𝐦 𝐠𝐞𝐫𝐞𝐝 𝐭𝐞 𝐰𝐨𝐫𝐝 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
“⁶ “𝑊𝑎𝑎𝑟𝑚𝑒𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑡𝑒𝑔𝑒𝑚𝑜𝑒𝑡𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑚𝑦 𝑛𝑒𝑒𝑟𝑏𝑢𝑖𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑤𝑒 𝐺𝑜𝑑? 𝑆𝑎𝑙 𝑒𝑘 𝐻𝑜𝑚 𝑡𝑒𝑔𝑒𝑚𝑜𝑒𝑡𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑒𝑡 •𝑏𝑟𝑎𝑛𝑑𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟𝑠, 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑎𝑎𝑟𝑜𝑢𝑑𝑘𝑎𝑙𝑤𝑒𝑟𝑠? ⁷𝑆𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑚𝑒𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑒̈ 𝑛𝑒𝑒𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑟𝑎𝑚𝑚𝑒, 𝑚𝑒𝑡 𝑡𝑖𝑒𝑛𝑑𝑢𝑖𝑠𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑜𝑚𝑒 𝑜𝑙𝑦𝑓𝑜𝑙𝑖𝑒? 𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑚𝑦 𝑒𝑒𝑟𝑠𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒𝑛𝑒 𝑔𝑒𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑟𝑒𝑑𝑖𝑛𝑔, 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑢𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒?” ⁸𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢, 𝑚𝑒𝑛𝑠, 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑 𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑖𝑠: 𝑊𝑎𝑡 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑒𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑎𝑠 𝑜𝑚 𝑛𝑒𝑡 𝑡𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑟𝑒𝑔 𝑖𝑠, 𝑜𝑚 𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑤𝑦𝑠 𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑛𝑒𝑑𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝐺𝑜𝑑 𝑡𝑒 𝑙𝑜𝑜𝑝?” – Miga 6:6-8 AFR20
Hierdie gedeelte ken sommige van ons baie goed. Dit word soms in die erediens as Wet lesing gebruik. Dit is pragtige, beroemde woord van die profeet Miga wat eenvoudig God se verwagtinge van Sy mense stel: “𝑊𝑎𝑡 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑒𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑎𝑠 𝑜𝑚 𝑛𝑒𝑡 𝑡𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑟𝑒𝑔 𝑖𝑠, 𝑜𝑚 𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑤𝑦𝑠 𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑛𝑒𝑑𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝐺𝑜𝑑 𝑡𝑒 𝑙𝑜𝑜𝑝?” (Miga 6: 8).
Ons weet tog dat, wanneer ons só lewe, dan weerspieël ons God se hart. Regdeur die geskiedenis, was dit nog altyd God se opdrag, eintlik liefdevolle versoek en hartewens, dat die mens só sal lewe in antwoord op God se goedheid en vrygewigheid. God wou nog altyd hê dat ons lewe ’n dankbare antwoord sal wees op dít wat ons van Hom weet: dat Hy ’n goeie, genadige, liefdevolle God is.
Jesus het die godsdienstige leiers van sy tyd, die wetgeleerdes en Fariseërs, gekonfronteer omdat hulle aanbidding in ’n sirkus verander het en dat hulle uiterlik al die regte dinge gedoen het, maar innerlik nagelaat het om reg en barmhartigheid te laat geskied. Hy het hulle fel gekritiseer en hulle ‘skynheiliges’ en ‘blinde leiers’ genoem (Matt. 23:23-24).
God wil hê dat Sy volk nederig die pad saam met Hom sal stap, want as ons met Hom saamstap, word ons meer soos Hy. Jesus self, is die weg (Joh. 14: 6). Hy wys vir ons die pad aan. Hy het gekom om te dien, nie om gedien te word nie (Mark. 10:45). Toe die mense Hom vra watter werke God vereis vir die mens om gered te word, het Hy eenvoudig geantwoord: “𝐷𝑖́𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑: 𝐷𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑙𝑜 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐸𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 ℎ𝑒𝑡.” (Joh. 6:28-29). Wanneer Jesus se mense Hom volg met hulle hele hart en siel, ontwikkel hulle harte soos Syne – harte wat medelydend is en gerig is daarop om reg te laat geskied.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Jesus, dankie dat U sommige dinge eenvoudig gemaak het. Help my asseblief om regverdig op te tree, om barmhartig lief te hê en nederig met U te wandel. Maak my hart soos U hart. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐3-11-14 – 𝐈𝐬 𝐝𝐚𝐚𝐫 𝐧𝐨𝐠 𝐠𝐞𝐧𝐨𝐞𝐠 𝐭𝐲𝐝 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
“⁸𝐿𝑎𝑎𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑠𝑎𝑎𝑘 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑦𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒𝑠: 𝐵𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠 𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑔 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑒𝑛𝑑 𝑗𝑎𝑎𝑟, 𝑒𝑛 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑒𝑛𝑑 𝑗𝑎𝑎𝑟 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑔. ⁹𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑙 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑓𝑡𝑒 𝑢𝑖𝑡, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑝𝑎𝑟𝑡𝑦 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑘 𝑛𝑖𝑒. 𝐼𝑛𝑡𝑒𝑒𝑛𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑙 ℎ𝑒̂ 𝑠𝑜𝑚𝑚𝑖𝑔𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑟𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑡𝑜𝑡 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑘𝑜𝑚.” – 2 Petrus 3:8-9 AFR20
Gewoonlik gebruik mense vers 8 hierbo om te probeer verduidelik dat ons nie God kan verstaan nie en dat tyd nie vir Hom bestaan nie. Hy doen dinge op Sy tyd. Maar kyk mooi... Wat staan in vers 9? Waarom is daar soveel tyd by God? Is daar regtig soveel tyd?
Petrus het hierdie geskryf sodat die mens kan besef hoeveel geduld God met ons het. God wil graag hê dat ons ons bekeer; dat ons sal terugkeer na Hom en dat ons nét aan Hom getrou sal bly. Hy wil nie hê dat enigeen van ons verlore moet gaan nie. Hy wag geduldig dat ons in nederige afhanklikheid na Hom sal kom, net soos die verlore seun in die gelykenis (sien Lukas 15:11-32).
God roep ons altyd om huis toe te kom – om te reageer op Sy liefde en genade, om deel te neem aan Sy koninkryk. God wil nie hê dat iemand die kans verloor om verlossing te ontvang nie; Hy is geduldig en goedhartig en barmhartig. Terselfdertyd beteken dit nie dat ons die besluit moet uitstel nie! Ons almal weet tog dat ons dae op aarde wel getel is. Eendag is eendag wanneer ons almal se aardse lewens tot ’n einde sal kom. Vir sommige kan dit vandag wees. Vir ander kan dit nog ’n tydjie duur. Ons weet nie wanneer ons tyd op aarde sal eindig nie.
𝗘𝗻 𝗝𝗲𝘀𝘂𝘀 𝗸𝗼𝗺 𝘃𝗶𝗿 𝘀𝗲𝗸𝗲𝗿 𝗼𝗼𝗸 𝘁𝗲𝗿𝘂𝗴. Daarom volg Petrus ook hierdie verse op in vers 10 met:
“¹⁰𝐷𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑘𝑜𝑚 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑓, '𝑛 𝑑𝑎𝑔 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑒 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑔𝑒𝑑𝑟𝑢𝑖𝑠 𝑡𝑜𝑡 '𝑛 𝑒𝑖𝑛𝑑𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑘𝑜𝑚, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑙𝑒𝑚𝑒𝑛𝑡𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑢𝑖𝑡𝑏𝑟𝑎𝑛𝑑 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑝 𝑔𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑖𝑠, 𝑜𝑛𝑡𝑏𝑙𝑜𝑜𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑.”
Dit is dus baie belangrik dat ons vandag op Christus vertrou as ons Here en Verlosser. Die hemel en die hel bestaan al twee beslis (Jesus het tog oor albei gepraat!). Die keuse is ons s’n: ons kan vir Christus heelhartig volg, of ons kan eie gang gaan. Gebruik jou tyd wys en maak die regte keuse.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Het ek al regtig gekies? Kies ek elke dag?
𝖁𝖎𝖗 𝖏𝖔𝖚 𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 𝖛𝖆𝖓𝖉𝖆𝖌 :
Praat met God oor jou keuse.
𝑽𝙧𝒆𝙙𝒆 𝒆𝙣 𝙨𝒆𝙚̈𝒏 𝒗𝙞𝒓 𝒋𝙪𝒍𝙡𝒆 𝒂𝙡𝒎𝙖𝒍 !
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟎𝟗 – 𝐖𝐚𝐧𝐧𝐞𝐞𝐫 𝐝𝐢𝐞 𝐦𝐚𝐧𝐧𝐚 𝐨𝐩𝐡𝐨𝐮 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
In Josua 5:10-12 vind ons ’n treffende oomblik wanneer die Israeliete hul eerste Pasga vier in die Beloofde Land, Kanaän. Die manna, wat hulle gedurende hul lang reis deur die woestyn onderhou het, het opgehou die dag nadat hulle die opbrengs van die land geëet het.
“¹⁰𝑇𝑒𝑟𝑤𝑦𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑏𝑦 𝐺𝑖𝑙𝑔𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑘𝑎𝑚𝑝 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑒𝑟𝑡𝑖𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑛𝑑 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛𝑑 𝑑𝑖𝑒 𝑃𝑎𝑠𝑔𝑎 𝑔𝑒𝑣𝑖𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑙𝑎𝑘𝑡𝑒𝑠 𝑏𝑦 𝐽𝑒𝑟𝑖𝑔𝑜. ¹¹𝐷𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑛𝑎́ 𝑑𝑖𝑒 𝑃𝑎𝑠𝑔𝑎, 𝑝𝑟𝑒𝑠𝑖𝑒𝑠 𝑜𝑝 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑢𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑔𝑒𝑒̈𝑒𝑡 – 𝑜𝑛𝑔𝑒𝑠𝑢𝑢𝑟𝑑𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑜𝑑 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑎𝑎𝑖𝑑𝑒 𝑘𝑜𝑟𝑖𝑛𝑔. ¹²𝐷𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑛𝑛𝑎 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑝𝑔𝑒ℎ𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑛𝑎́ ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑢𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑔𝑒𝑒̈𝑒𝑡 ℎ𝑒𝑡. 𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑚𝑎𝑛𝑛𝑎 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑛𝑖𝑒. 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑗𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑝𝑏𝑟𝑒𝑛𝑔𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝐾𝑎𝑛𝑎𝑎̈𝑛 𝑔𝑒𝑒̈𝑒𝑡.” – Josua 5:10-12 (AFR20)
Vir jare lank het die Israelite in die woestyn gedwaal. Soms het hulle rigtingloos gevoel en ander kere het hulle sommer heeltemal die pad byster geraak en in ongeloof of afgod aanbidding verval. Deur al hierdie jare, was God getrou en het God gesorg – self met kos en water. Dan, wanneer hulle by Gilgal die Jordaan op droë grond oorgesteek het (Josua 3) – net soos hulle destyds die Rooisee op droë grond oorgesteek het – hou die manna op...
Hierdie gedeelte in Josua 3-5 dien as ’n kragtige herinnering aan hoe die volk oorgegaan het vanuit ’n seisoen van dwaal na ’n seisoen van vestiging. Vir jare was hulle in alles afhanklik van God se voorsiening en het hulle (met ’n groot gesukkel) vasgehou aan God se beloftes. Nou gaan hulle oor na die vervulling van daardie einste beloftes.
Net soos die Israeliete se lewensmiddele verander het van die wonderbaarlike voorsiening van manna na die oorvloed van die land, so kan ons eie lewens ook oorgaan van tye van wag na seisoene van vervulling.
In ons persoonlike reise deur hierdie lewe, is daar gereeld ook deure wat vir ons toemaak. Ons eerste reaksie kan een wees van teleurstelling of ongelukkigheid, maar as ons God vertrou, sien ons dat daar oomblikke is wanneer die bekende bepalings van die verlede plek maak vir nuwe seëninge en geleenthede. Dit kan voel of jou mylpale skuif, maar hierdie verskuiwings kan mylpale van groei en vooruitgang verteenwoordig en soms moet ons verandering verwelkom en omhels, sodat ons by nuwe omstandighede kan aanpas.
Dalk is jy in ’n seisoen van jou lewe waar jy nie regtig wil wees nie. Dalk is jy besig om oor te skuif na ’n nuwe seisoen. Dalk het jy pas die nuus ontvang dat die manna gaan ophou en dalk het dit reeds opgehou. Dalk is jy nog verbysterd oor die feit dat God iets weggeneem het of dat daar groot verandering in jou lewe is, of kom.
Weet asseblief dat God altyd met jou is. Weet ook dat elke seisoen in jou lewe belangrik is en dat jy dit kan omhels en vrede vind in God se teenwoordigheid binne daardie seisoen.
𝑾𝒂𝒏𝒏𝒆𝒆𝒓 𝒅𝒊𝒆 𝒎𝒂𝒏𝒏𝒂 𝒐𝒑𝒉𝒐𝒖... 𝒊𝒔 𝒋𝒚 𝒓𝒆𝒈 𝒐𝒎 𝒅𝒊𝒆 𝒍𝒂𝒏𝒅 𝒕𝒆 𝒃𝒆𝒘𝒆𝒓𝒌, 𝒔𝒐𝒅𝒂𝒕 𝒋𝒚 𝒅𝒊𝒆 𝒔𝒆𝒆̈𝒏𝒊𝒏𝒈𝒆 𝒗𝒂𝒏 𝑮𝒐𝒅 𝒔𝒆 𝒃𝒆𝒍𝒐𝒇𝒕𝒆𝒔 𝒊𝒏 𝒋𝒐𝒖 𝒍𝒆𝒘𝒆 𝒌𝒂𝒏 𝒆𝒓𝒗𝒂𝒂𝒓.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek moet oop bly vir die seëninge wat met elke nuwe hoofstuk in my lewensreis kom. Ek moet vertrou op die getrouheid van God se voorsiening en leiding langs die pad.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God, dankie dat U nog altyd vir my voorsien het. Dankie dat ek op U kan vertrou. As ek dalk vashaak in ’n winter seisoen in my lewe, wys vir my die belofte van die nuwe lewe wat ek reeds in U het. Laat my uitsien na die seëninge wat, volgens u beloftes, ’n werklikheid sal word en reeds is in my lewe. Ek weet dat ek soms daaraan moet werk – wys my waar en hoe. Ek loof en prys U vir u beskerming, troos, versorging en liefde. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟎𝟔 – 𝐆𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟 𝐢𝐬 𝐧𝐢𝐞 ’𝐧 𝐠𝐞𝐯𝐨𝐞𝐥 𝐧𝐢𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Gevoelens kan ons dikwels in die steek laat. Gevoelens is gebaseer op omstandighede en ons weet mos, dit kan so vinnig verander soos die weer. Geloof is weer heeltemal anders. As ons geloof begin by die wysheid van ontsag vir die Here (gister se dagstukkie), is geloof die uitleef, vertroue en vaste oortuiging dat God werklik is, en dat Hy besig is om uiteindelik alles ten goede vir die gelowige te laat meewerk – ongeag die huidige omstandighede (Romeine 8:26-30). Inteendeel, geloof het al dikwels baie mense gelei om in die teenoorgestelde rigting van gevoelens te gaan.
In Markus 5:24-34 vind ons die vertelling van die vrou wat vir 12 jaar al aan bloedvloeiing gely het. Omdat haar kwaal bloed bevat het, was sy heel moontlik afgesny van die volk – volgens die Joodse wette – omdat sy ‘onrein’ was. Toe sy egter hoor van die genesende krag van Jesus, het sy die groot skare aangedurf en deur hulle almal gegaan. Sy het fisies uitgereik na Hom, aan Sy bokleed geraak en is onmiddellik genees. Jesus se antwoord aan haar: “𝐷𝑜𝑔𝑡𝑒𝑟, 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑑.” (vers 34)
God nooi nog altyd mense uit om Hom hul hele lewe lank in geloof te vertrou. Daarom se Salomo ook in Spreuke 3:5-6 (AFR20): “⁵𝑉𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑒𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 – 𝑜𝑝 𝑗𝑜𝑢 𝑒𝑖𝑒 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑡𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑛𝑖𝑒. ⁶𝐾𝑒𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑖𝑛 𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑤𝑒𝑒̈, 𝑒𝑛 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑝𝑎𝑎𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑢𝑖𝑡 𝑚𝑎𝑎𝑘.”
Jesus se manier, is ’n manier van vertroue. Regdeur Sy hele lewe op aarde, het Jesus absolute geloof in sy Vader getoon en Sy volgelinge uitgedaag om dieselfde soort geloof te beoefen.
Mense is ongelukkig, om verskeie redes, geneig om te twyfel. Die moderne Westerse kultuur is propvol skeptisisme. Die hedendaagse soeke na waarheid sê: “Jy moet eers verstaan voor jy kan glo.” Daarom het Jesus nog altyd teen hierdie denke gesê jy moet “glo om te verstaan.” In die stryd met twyfel en ongeloof, moedig Jesus mense aan, “𝑀𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑡𝑒𝑙𝑑 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒 – 𝑔𝑙𝑜 𝑛𝑒𝑡!” (Mark 5:36). Jesus se manier, is die manier om elke dag op God te vertrou, vir hierdie lewe en die ewige een hierna.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, laat my aandag en my fokus op U asseblief nie afgelei word deur gevoelens nie – gevoelens wat so wispelturig kan wees. Ek wil in U glo, op U vertrou en myself oorgee aan U, selfs wanneer ek nie so voel nie. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟎𝟒 – 𝐊𝐫𝐲 𝐯𝐢𝐫 𝐣𝐨𝐮 𝐛𝐢𝐞𝐭𝐣𝐢𝐞 𝐰𝐲𝐬𝐡𝐞𝐢𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om foute te begaan is nie lekker nie. Tog, is foute en mislukkings die opdoen van ervaring. Ervaring, skep weer kennis en insig van ’n spesifieke saak of situasie. Kennis wat toegepas word op die regte, goeie manier, is wysheid.
Met ander woorde, om te leer uit ons foute, asook die foute van ander in die verlede, is wysheid. Tog voel dit soms of hierdie definisie en formule vir wysheid nie altyd 100% werk nie. So, wat maak ons? Hoe en waar kan ons ware wysheid vind? Hoe hanteer ons alles wat die lewe na ons kant toe gooi? Spreuke 9:10 (AFR20) sê:
“¹⁰𝐷𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑖𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑠 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑎𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑒𝑛 𝑘𝑒𝑛𝑛𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝑖𝑠 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔.”
Regdeur die boek van Spreuke, moedig Salomo ons aan om wysheid te “verwerf” (Spreuke 4:5), dan sal ons die lewe liefhê; en dat wysheid beter is as goud (Spreuke 16:16); en dat diegene wat wysheid vind, die lewe vind en in God se guns is (Spreuke 8:32-35). Hierdie wysheid, ware wysheid, begin eerstens, met ’n (gesonde) ‘vrees’, ‘ontsag vir die Here’. Hierdie ‘vrees’ is nie ons normale vrees en angs vir wêreldse dinge nie. Dit is eerder ons geweldige ontsag, respek en liefde vir ’n liefdevolle, tog streng, hemelse Vader.
Tweedens, moet ons strewe na wysheid nooit ophou nie. Ons moet dit soek soos vir silwer en verborge skatte (Spreuke 2:4). Derdens, moet ons aanhou bid daarvoor. Jakobus sê in Jakobus 1:5: “⁵𝐴𝑠 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑜𝑟𝑡𝑘𝑜𝑚, 𝑙𝑎𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑟𝑎 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑒, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒ℎ𝑜𝑢𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑦𝑡, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑.” Dít natuurlik, is wanneer ons smag na die ware wysheid, volgens Spreuke 9:10.
En, vierdens, moet ons aanhoudend God se Woord bestudeer, daarop mediteer en deurdink (Psalm 19:7). Ons moet nie bloot net op ons eie begrip staatmaak nie, maar ook steun op die wysheid en insig wat Christene deur die eeue voortgebring het.
Om wysheid te kry, moet ons God vrees – ontsag hê vir Hom, Sy Woord bestudeer en deur volgehoue gebed die behoefte kweek en begeer om die lewe vanuit God se perspektief te verstaan.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Besef ek dat God eerste in my lewe moet wees? Wat plaas ek voor Hom? Het ek ware ontsag vir my hemelse Vader?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige, ewige, hemelse Vader, té dikwels laat ek ander dinge toe om belangriker vir my te wees. U is my God. U is die belangrikste in my lewe. Skenk asseblief aan my ’n nederige hart en daarmee sáám, ware wysheid. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟎𝟑 – 𝐎𝐨𝐫 𝐯𝐚𝐥𝐬 𝐩𝐫𝐨𝐟𝐞𝐭𝐞 𝐞𝐧 𝐥𝐞𝐫𝐚𝐚𝐫𝐬 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek staan deesdae heeltemal verbaas oor hoe gou mense een of ander doktrine of ideologie opeet vir soetkoek. Daar is allerhande samesweringsteorieë, ketting-boodskappe, oortuigende internet boodskappe... ag noem dit maar op – alles een of ander teorie wat met sogenaamde bewyse nou skielik die lig gesien het. En dan word al hierdie dinge kwansuis ook met wetenskaplike teorieë en bewyse gerugsteun...
Ja, deesdae weet mens nie meer regtig wat is waar en wat nie. Jy weet nie meer of jy iets kan glo of nie. En dit is nie net só as dit kom by die bekende persoonlikhede nie – dit het al selfs deurgesyfer na Noag, Elia, Moses, selfs Jesus en amper die hele Bybel. Elke versie word uitmekaargetrek, wetenskaplik geanaliseer, geweeg en, telkemale, te lig bevind – of eerder, te lig bevind vir die groep mense wat nie daarmee wil saamstem nie.
Maar, weereens, is hierdie nie ’n nuwe verskynsel nie. Natuurlik is dit baie meer merkbaar as gevolg van tegnologie en die internet, maar hierdie is al ’n probleem sedert toeka se tye. En die hartseer deel daarvan, is dat dit in die kerk gebeur – dit is mense wat voorheen vrygekoop, verlos is deur Jesus, wat hierdie valse leringe die kerk insmokkel en sodoende die einste Jesus verloën. Klink hard op hulle, of hoe? Maar dis nie my woorde nie, hoor wat skryf Petrus:
“¹𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑠 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑎𝑙𝑠 𝑝𝑟𝑜𝑓𝑒𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑜𝑘 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑙𝑠 𝑙𝑒𝑟𝑎𝑎𝑟𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑖𝑒𝑡𝑖𝑔𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑘𝑒𝑡𝑡𝑒𝑟𝑦𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑖𝑛𝑠𝑚𝑜𝑘𝑘𝑒𝑙, 𝑒𝑛 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑦𝑔𝑒𝑘𝑜𝑜𝑝 ℎ𝑒𝑡, 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑒̈𝑛. 𝑆𝑜 𝑏𝑒𝑤𝑒𝑟𝑘 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 '𝑛 𝑠𝑘𝑖𝑒𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑔𝑎𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒𝑠𝑒𝑙𝑓. ²𝐵𝑎𝑖𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑜𝑠𝑏𝑎𝑛𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑑𝑒 𝑛𝑎𝑣𝑜𝑙𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑒𝑙𝑎𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑. ³𝐷𝑒𝑢𝑟 ℎ𝑒𝑏𝑠𝑢𝑔 𝑔𝑒𝑑𝑟𝑒𝑤𝑒, 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑖𝑛𝑑𝑒 𝑎𝑟𝑔𝑢𝑚𝑒𝑛𝑡𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑏𝑢𝑖𝑡. 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑛𝑛𝑖𝑠 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑙𝑎𝑛𝑘𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑒𝑑; 𝑗𝑎, ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑔𝑎𝑛𝑔 𝑡𝑎𝑙𝑚 𝑛𝑖𝑒.” – 2 Petrus 2:1-3 (AFR20)
Petrus waarsku die vroeë Christene oor die gevare van valse profete en leraars wat op subtiele wyses vernietigende leringe sal inbring en mense van die ware geloof af sal lei. Hierdie valse leraars, sê Petrus, is dikwels mense wat voorheen deur Christus vrygekoop is, maar nou word hulle gekenmerk deur hulle ontkenning van dít wat die Here ons leer, en hulle selfsugtige begeertes, wat uiteindelik tot hulle eie vernietiging lei.
Dit is hartseer om te dink dat hierdie dikwels waar is van mense na wie ons opgekyk het en mense na wie nog baie mense opkyk. Petrus beklemtoon die belangrikheid van onderskeidingsvermoë en om gegrond te bly in die waarheid van God se woord. Mense word deesdae so maklik beïnvloed deur die eksentriese, charismatiese en oortuigende stellings van mense wat hul argumente staaf deur ’n mensgemaakte internet as sogenaamde “wetenskaplike bewyse”. In meeste gevalle is dit die argumente van mense wat die waarheid verdraai vir hul eie gewin – ons moet leer om dit te weerstaan.
Hierdie gedeelte, sowel as Judas 4-13, 1 Tim. 6, 2 Tim. 4, Kol. 2 en heelwat ander gedeeltes, dien as ’n sterk herinnering vir ons om waaksaam te wees in die onderskeid van die leringe en boodskappe wat ons teëkom, beide binne en buite ons geloofsgemeenskappe. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om onsself stewig in die waarheid van die Skrif te begrond en bewus te wees van die potensiële gevare van valse leringe wat ons kan weglei van die pad van geregtigheid.
Vêrder, moet ons ook ons eie motiewe en bedoelings ondersoek, om te verseker dat ons nie swig voor hebsug of die versoeking om ander vir persoonlike gewin te manipuleer nie. Onthou: ons is geroep om in integriteit en waarheid te lewe, om God te eer en ander te dien met rein en onbaatsugtige harte.
Mag ons Here Jesus Christus weer Hoof wees van sy kerk en mag God se waarheid weer leef in die harte van die kerk.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek moet alle leringe toets aan die waarheid van die Skrif en ek moet vasstaan in my geloof.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, skenk aan my wysheid en lei my, sodat ek alle leringe – binne- en buite die kerk – sal toets aan die waarheid van U Woord. Help my om standvastig in my geloof te bly, selfs wanneer ek gekonfronteer word met misleidende en bedrieglike mense. Gee my die krag, insig en wysheid om die integriteit van U Woord te handhaaf en ’n lewe te lei wat die liefde, genade en waarheid van ons Here Jesus Christus weerspieël. Tot eer van God alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟏𝟏-𝟎𝟐 – 𝐖𝐚𝐧𝐧𝐞𝐞𝐫 𝐣𝐲 “𝐚𝐟” 𝐯𝐨𝐞𝐥 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Party dae voel jy sommer net “af”. Jy kan nie jou vinger daarop sit nie, maar daar is iets wat jou net “anders” laat voel. Dalk is dit iets wat jy geëet het, of dalk iets wat jy gedoen het of dalk nie gedoen het nie... Ons almal ken daardie gevoel wanneer jy weet jy hoef nie te voel soos jy voel nie, maar jy voel wel só.
Soms weet ons ook presies wat die rede is hoekom ons net nie heeltemal reg voel nie. Soms weet ons dat ons iets aan die saak moet doen en soms kan ons niks aan die saak doen nie. Soms is dit eenvoudig om net te kies om anders te voel oor iets en ander kere is dit nie so maklik nie. Psalm 43, heel moontlik deur Dawid geskryf, beskryf hierdie algemene menslike emosie. Die psalmdigter het heel moontlik ook gewonder hoekom hy voel soos hy voel en het heel moontlik ook na vele nadenke en bepeinsing besef dat hy NIE só hoef te voel nie:
“¹𝐻𝑎𝑛𝑑ℎ𝑎𝑎𝑓 𝑚𝑦 𝑟𝑒𝑔, 𝑜 𝐺𝑜𝑑, 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑚𝑦 𝑠𝑎𝑎𝑘 𝑡𝑒𝑒𝑛 '𝑛 𝑜𝑛𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑛𝑎𝑠𝑖𝑒;
𝑏𝑒𝑣𝑟𝑦 𝑚𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑏𝑒𝑑𝑟𝑜𝑔 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑟𝑒𝑔 𝑝𝑙𝑒𝑒𝑔.
²𝑈 𝑖𝑠 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑏𝑦 𝑤𝑖𝑒 𝑒𝑘 𝑡𝑜𝑒𝑣𝑙𝑢𝑔 𝑠𝑜𝑒𝑘. 𝑊𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑒𝑟𝑝 𝑈 𝑚𝑦 𝑑𝑎𝑛;
𝑤𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝑟𝑜𝑢𝑘𝑙𝑒𝑟𝑒 𝑙𝑜𝑜𝑝 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑢𝑘𝑘𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑒𝑢𝑟 '𝑛 𝑣𝑦𝑎𝑛𝑑?
³𝑆𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑢 𝑙𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑢 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑; 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑚𝑦 𝑙𝑒𝑖, 𝑚𝑦 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑛𝑎 𝑢 •ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝑏𝑒𝑟𝑔 𝑒𝑛 𝑛𝑎 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑛𝑝𝑙𝑒𝑘,
⁴𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑘𝑎𝑛 𝑖𝑛𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑙𝑡𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑏𝑙𝑦𝑑𝑠𝑘𝑎𝑝 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑏𝑒𝑙, 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑈, 𝑜 𝐺𝑜𝑑, 𝑚𝑦 𝐺𝑜𝑑, 𝑘𝑎𝑛 𝑝𝑟𝑦𝑠 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑟.
⁵𝑊𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑘𝑤𝑦𝑛 𝑗𝑦 𝑤𝑒𝑔, 𝑚𝑦 𝑠𝑖𝑒𝑙, 𝑒𝑛 𝑖𝑠 𝑗𝑦 𝑠𝑜 𝑜𝑛𝑟𝑢𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑖𝑛 𝑚𝑦?
𝐻𝑜𝑜𝑝 𝑜𝑝 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑒𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑜𝑚, 𝑚𝑦 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑑𝑎𝑛𝑘 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑦, 𝑚𝑦 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔.”
– Psalm 43 (AFR20)
Ja, soms voel dit vir ons of die Here vêr van ons is. Soms voel dit selfs of die Here ons verwerp het. Maar – soos die psalmdigter ook maar besef het – God is altyd naby. God se lig lei ons as ons net weer bereid is om daarin te loop. Wanneer ons by God se huis is, by die kerk, dan besef ons weer hoe lief die Here ons het en kan ons weer met blydskap jubel oor God se goedheid.
Al verstaan ons nie aldag hoekom dinge gebeur en hoekom ons soms voel soos ons voel nie, weet ons tog in ons binneste dat daar by God vrede is. Ons weet dat om die Here te loof en prys vir alles wat goed is – en selfs opdraandes in ons lewens – weer in ons die versekering skep dat God in beheer is.
Hoekom wil ons dan “af” voel? Hoekom wil ons in ’n hopie inmekaarsak? Hoekom wil ons dat ons siele wegkwyn in ons? Hoekom wil ons toelaat dat omstandighede oor ons hang soos ’n donker wolk, terwyl ons weet dat ons God vêr bo ons omstandighede is?
Laat God jou hoop wees. Besef weereens hoe bevrydend en verlossend dit is om in die Almagtige se teenwoordigheid te wees.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God is my hoop. Ek moet gereeld in sy teenwoordigheid wees en Hom dank en loof vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, ek loof en dank U vir die verlossing wat U teenwoordigheid vir my bring. Neem asseblief al my kommer en vrese weg en laat my soek na u teenwoordigheid elke dag. U is my toevlug en ek kom na U om my gemoed weer op te lig en my oë weer te fokus op U grootheid. Dankie dat ek kan weet dat ek ook by u huis, by-, deur- en in die kerk saam met ander opgelig word en die verlossing kan ervaar wat u teenwoordigheid bring. Halleluja! Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
Ds. Christo Schoeman ···ᶜᴶˢ··· ©