Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Kliek ook gerus op die "Oordenkings" skakel (menu) daarbo 👆🏻 om by die ouer oordenkings uit te kom.
Vroeër in die week het ek tydens ons weeklikse Bybelstudie oor ’n baie omstrede onderwerp gepraat. Die vorige week se onderwerp was ook nie maklik nie – veral omdat ons Bybelstudiegroep hoofsaaklik bestaan uit mense bo die ouderdom van 70. Die onderwerpe was kuisheid en egskeiding.
Aanvanklik het ek gedink dat die onderwerpe glad nie vir weduwees en ouer paartjies van toepassing sal wees nie, maar was ek darem aangenaam verras hoe lekker ons gesels het daaroor en hoeveel ek nogsteeds by ons “wyse gryses” kan leer. In ons Bybelstudie behandel ons in detail die Bergrede in Matteus 5-7 en maak ons erns met Jesus se uitsprake.
Na ons Bybelstudie en saamgesels het ek besef dat een van die grootste oorsake van die toestand van verval in die wêreld vandag, is egskeidings – iets wat oorspronklik amper heeltemal taboe was.
So bietjie agtergrond: Die Church of England is destyds afgestig van die Roomse kerk, omdat koning Henry VIII wou skei en dit ontoelaatbaar was in die Roomse kerk. Hy het homself hoof van die nuwe sekte gemaak en kon toe maak soos hy wou. Later het selfs die Roomse kerk egskeiding begin goedkeur, maar deur dit iets anders te noem: nietigverklaring van ’n huwelik. Deesdae, laat meeste moderne howe egskeidings “sonder skuld” ook toe – waar geen party die skuld hoef te dra nie en mense maar net hul eie gang gaan.
Hoe ons ook al kyk na egskeidings, is daar altyd iemand wat daaronder ly – hetsy kinders, of een- of albei partye. Uiteindelik sit ons met gebroke huise en verhoudings. Dit het tot gevolg ’n verlies aan dissipline of selfs oor-dissiplinering. Seuns ontwikkel nie behoorlik tot mans nie en meisies nie behoorlik tot vroue nie, omdat die nodige rolmodelle weg is en hulle hul moet wend na die verwronge beelde van die media en die res van die wêreld.
Hierdie is natuurlik ’n onderwerp waaroor baie gesê kan word en baie lank oor gepraat kan word, maar vir vandag, wil ek net weer die aandag daarop rig dat ons, as kerk, baie paraat moet wees. Die duiwel hou nie daarvan dat mense gehoorsaam bly aan God nie en die moeilikheid kom eintlik in, omdat mense nie meer behoorlik besef hoe heilig die huwelik veronderstel is om te wees nie. Regdeur God se Woord vind ons genoeg riglyne en waarskuwings. Een só ’n waarskuwing het Paulus eeue gelede al geskryf vir die kerk in Efese, waar hierdie probleem alreeds bestaan het:
“³𝑆𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑤𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑏𝑒𝑡𝑎𝑎𝑚, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑡𝑢𝑔, 𝑜𝑛𝑠𝑒𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑛 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑒 𝑣𝑜𝑟𝑚, 𝑜𝑓 𝑔𝑖𝑒𝑟𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑠𝑝𝑟𝑎𝑘𝑒 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒. ⁴𝐺𝑟𝑜𝑤𝑤𝑒, 𝑙𝑖𝑔𝑠𝑖𝑛𝑛𝑖𝑔𝑒 𝑜𝑓 𝑣𝑢𝑖𝑙 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡𝑗𝑖𝑒𝑠 𝑝𝑎𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒; 𝑛𝑒𝑒, 𝑑𝑎𝑛𝑘 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑝𝑎𝑠 𝑏𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒. ⁵𝐷𝑖́𝑡 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑏𝑒𝑠𝑒𝑓: 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑡𝑢𝑔 𝑝𝑙𝑒𝑒𝑔, 𝑜𝑛𝑠𝑒𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑜𝑓 '𝑛 𝑔𝑖𝑒𝑟𝑖𝑔𝑎𝑎𝑟𝑑 𝑖𝑠 – 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑔𝑖𝑒𝑟𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑠 𝑎𝑓𝑔𝑜𝑑𝑒𝑟𝑦 – ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑛𝑖𝑒.” – Efesiërs 5:3-5 (AFR83)
Ja, meeste egskeidings is as gevolg van ontrouheid of oor geld. Ons moet baie versigtig wees dat ons nie so maklik trap in die lokvalle wat die vyand stel nie. Ons moet ’n duidelike punt daarvan maak om God die middelpunt van ’n huwelik te maak. Die samelewing het iets so kosbaar soos die huwelik begin afmaak as ’n vervangbare ooreenkoms, maar dit is nie hoe God dit beplan het nie. God se plan was dat sy kerk deur gesonde, heel huise sal groei en die regte waardes en waarheid sal leer en leef in die wêreld.
So, wat maak ons nou? Is die kerk nou stukkend? Ja, maar die kerk is nog altyd ’n plek vir stukkende mense. Die kerk is nog altyd veronderstel om ’n plek te wees waar mense wat foute gemaak het welkom is. Die kerk is nog altyd ’n plek waar God se genade oorvloedig is en vergifnis vrylik beskikbaar is vir die berouvolle sondaar. Die kerk is veronderstel om ’n heel huis te wees vir diegene wat gebroke voel.
Onthou, die kerk is die bruid van Christus en Hy bly altyd getrou aan ons – selfs al is ons so gereeld ontrou. Gaan na die Bruidegom en ontvang vergifnis, liefde en genade in oorvloed. Neem wat jy ontvang na jou huis en elke huis daarbuite, sodat ons weer gehoorsaamheid aan ons hemelse Vader sal kweek.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat God ons leer in sy Woord is steeds van krag vandag. Ek moet gehoorsaam wees aan die Here en nie aan mense nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, vergewe ons mensdom dat ons so maklik U Wet verdraai en verontagsaam. Ons is gebroke en U alleen is die Geneser. Maak ons weer heel en help ons om die kerk en samelewing te wees wat U behaag. Mag U alleen verheerlik word in ons huise en mag ons gehoorsaam bly aan U in ons huwelike en in al ons verhoudings, sodat U alleen die eer en lof sal ontvang. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟑𝟎 – 𝐒𝐭𝐚𝐚𝐧 𝐬𝐭𝐢𝐥 . . . 𝐊𝐲𝐤 𝐨𝐩 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
As daar een van die psalms is wat ek maar oor en oor kan lees en aanhou dink daaroor, dan is dit Psalm 8. Miskien is dit omdat ons as ’n groot laerskool koor – saamgestel uit al die laerskole in Krugersdorp destyds – in 1988 die Totius beryming laat weergalm het vanuit die Bob van Reenen stadion. Krugersdorp se Eeufees vieringe het van 1987-1988 geduur en gedurende daardie tyd was daar heelwat hulde gebring aan baie mense wat oor die jare bygedra het tot die dorp se ontwikkeling en vordering. Maar, die grootste hulde wat gebring was, was deurentyd aan God vir sy genade.
As ek deesdae deur Krugersdorp of my ou tuisdorpe van Randfontein of Stilfontein ry, dan kyk ek met baie heimwee na talle plekke. Waar ek myself die laaste 3 jaar bevind op Delareyville, is dit dieselfde: mense verlang na hoe die dorp gelyk het, hoeveel dinge gewerk het en hoe dit veilig was. Ja, dinge het baie verander in die laaste paar dekades, maar een ding het wel dieselfde gebly. Een ding was nog altyd ’n konstante in ons geskiedenis, maar soms vergeet ons om dit raak te sien – soms vergeet ons om stil te staan in die warboel van die lewe en toe te laat dat ons asems weer weggeslaan word... Daardie een ding, is God se genade.
Met die verskriklike snel pas van die lewe deesdae (selfs op die platteland), vergeet mense gou waar alles vandaan kom en hoekom ons hier is. Omdat alles so vinnig verander, kyk min mense meer op boontoe. Min mense onthou dat daar ’n God is en party vergeet selfs dat daar nog die prag van die natuur en sterreruim is. In die stede is daar soveel ligte en besoedeling dat mens skaars die sterre meer kan sien en met die alewige veranderings in die wêreld, sal sommige mense dalk nie eers verbaas wees as hulle een nag besluit om op te kyk en daar nie meer ’n enkele ster in die hemel is nie.
Maar, soos die sterre, basuin die hele Skepping God se almag uit oor die aarde en regdeur die heelal. Of jy kies om dit te ignoreer of ontken, maak nie saak nie, want iewers sal dit jou bereik en sal jy besef dat jy, mens, maar net ’n mens is en God is God. Een of ander tyd moet jy bieg dat jy nie die middelpunt van alles is nie en moet jy buig voor die Skepper van die heelal. Een of ander tyd – hopelik gereeld – sal jy verbaas, verwonderd, verstom staan voor God se groot liefde en genade.
Dawid het dit ook besef toe hy 𝗣𝘀𝗮𝗹𝗺 𝟴 geskryf het en ek deel graag 𝗧𝗼𝘁𝗶𝘂𝘀 se beryming daarvan. Dink vandag na oor hoe groot God is en hoe lief Hy jou het deur jou die kroon van Sy Skepping te maak. Besef weer dat jy nie vêr hoef te gaan om terug te keer na Hom nie.
𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟 𝑜𝑓 𝑤𝑜𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒̈,
𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑟𝑎𝑛𝑑, 𝑜 𝐻𝑒𝑒𝑟, 𝑜𝑓 𝑤𝑖𝑙𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡𝑒𝑟𝑤𝑒𝑒̈,
𝑔𝑒𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑠𝑓𝑒𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑒𝑖𝑛𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 —
𝑜𝑓 𝑜𝑟𝑎𝑙 𝑏𝑙𝑖𝑛𝑘 𝑢 𝑁𝑎𝑎𝑚 𝑒𝑛 𝑚𝑎𝑗𝑒𝑠𝑡𝑒𝑖𝑡.
𝑈 ℎ𝑒𝑡, 𝑜 𝐻𝑒𝑒𝑟, 𝑤𝑎𝑡 𝑡𝑟𝑜𝑜𝑛 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒,
𝑢𝑖𝑡 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑡𝑎𝑎𝑙 𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑒𝑚 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑢𝑖𝑔𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔𝑒
𝑢 𝑚𝑎𝑔 𝑔𝑒𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑠𝑤𝑦𝑔
𝑤𝑎𝑡, ℎ𝑜𝑜𝑔 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑡, 𝑢𝑖𝑡 𝑤𝑟𝑎𝑎𝑘𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒 𝑑𝑟𝑒𝑖𝑔.
𝐴𝑠 𝑒𝑘, 𝑜 𝐻𝑒𝑒𝑟, 𝑢 𝑛𝑎𝑔𝑡𝑒𝑙𝑖𝑘𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙
𝑑𝑎𝑎𝑟𝑏𝑜 𝑎𝑎𝑛𝑠𝑘𝑜𝑢, 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑖𝑛𝑡- 𝑒𝑛 𝑔𝑙𝑎𝑛𝑠𝑔𝑒𝑤𝑒𝑚𝑒𝑙;
ℎ𝑜𝑒, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑈 𝑡𝑜𝑒𝑏𝑒𝑟𝑒𝑖, 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑢𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑚𝑎𝑎𝑛
𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑡𝑖𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑎𝑛𝑔 𝑜𝑜𝑟 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑟𝑒𝑣𝑒𝑙𝑑𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛 —
𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑑𝑎𝑛 𝑑𝑎𝑡 𝑈 ℎ𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑑𝑒𝑛𝑘 ℎ𝑒𝑡,
𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒𝑘𝑖𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑈 𝑠𝑜 𝑟𝑦𝑘 𝑏𝑒𝑠𝑘𝑒𝑛𝑘 ℎ𝑒𝑡!
𝑀𝑒𝑡 𝑒𝑒𝑟 𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑠 ℎ𝑦 𝑔𝑒𝑘𝑟𝑜𝑜𝑛,
𝑠𝑘𝑎𝑎𝑟𝑠 𝑚𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑛𝑔’𝑙𝑒 𝑜𝑚 𝑢 𝑡𝑟𝑜𝑜𝑛.
𝐽𝑎, 𝑑𝑎𝑎𝑟’𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟 𝑜𝑓 𝑤𝑜𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒̈,
𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑟𝑎𝑛𝑑, 𝑜 𝐻𝑒𝑒𝑟, 𝑜𝑓 𝑤𝑖𝑙𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡𝑒𝑟𝑤𝑒𝑒̈,
𝑔𝑒𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑠𝑓𝑒𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑒𝑖𝑛𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 —
𝑜𝑓 𝑜𝑟𝑎𝑙 𝑏𝑙𝑖𝑛𝑘 𝑢 𝑁𝑎𝑎𝑚 𝑒𝑛 𝑚𝑎𝑗𝑒𝑠𝑡𝑒𝑖𝑡.
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟗 – 𝐇𝐨𝐮 𝐛𝐨𝐞𝐤 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐥𝐞𝐰𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie kere as dinge goed gaan, vergeet ons dit te gou. Ons goeie ervarings word té dikwels deur donker wolke van slegte ervarings, selfverwyt, ongeluk en teëspoed oorskadu. Dan vergeet ons sommer van die goeie in die lewe en begin ons dink dat die lewe baie swaar is. Die manier waarop ons boekhou van die lewe, maak dat die balans na die verkeerde kant toe tilt. Dit begin lyk of ons altyd in die rooi is en nooit daaruit kan kom nie. Ons moet leer om dinge anders te doen...
Wanneer Paulus sy eerste brief aan die mense in Tessalonika afsluit, gee hy hulle so paar laaste herinneringe van hoe hulle hul boek se inskrywings moet invul. Hy gee aan hulle so paar laaste wenke van hoe hulle hul gesindhede moet verander. Net so paar van hulle:
“¹⁶𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑏𝑙𝑦. ¹⁷𝐵𝑖𝑑 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑟𝑖𝑔. ¹⁸𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑚𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑑𝑒 𝑑𝑎𝑛𝑘𝑏𝑎𝑎𝑟, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑎𝑔.” – 1 Tessalonisense 5:16-18 (AFR20)
Sien, nie elke dag is ’n slegte dag nie. Inteendeel, ons moet juis probeer om te vergeet van die slegte dae. Ons kan leer uit slegte ervarings, maar ons kan dit aanwend om van ons beter mense te maak. Ons moet egter meer en meer die goeie dae en goeie ervarings onthou. Ons moet die boek inskrywings waar God aan ons rustigheid en vrede en blydskap geskenk het bewaar. Ons moet dit selfs fisies in ’n regte boek neerskryf, indien nodig. Ons moet onsself daaraan herinner. Daardie tye wat niemand anders gekry nie, maar as jy daaraan dink, dan glimlag jy en onthou jy God se goedheid. Daardie tye waar jou blydskap oorgeloop het. Ons moet boekhou daarvan om onsself te herinner.
Wanneer die donker wolke kom, sal ons reg wees. Ons weet mos: die duiwel hou daarvan om ons koppe te vul met allerhande negatiewe gedagtes. ’n Stukkie geluk werk soos ’n flitslig in die middel van die nag. Die bose kan maar probeer om ons wêreld met somberheid te vertroebel, maar as ons die boek oopmaak wat God se seëninge bevat, word die skaduwees verpletter en verdwyn die donker wolke soos mis voor die son.
Onthou dat jou lewe verander die dag wanneer jy jou geheel en al oorgee aan Jesus Christus. Jou boek begin nuut. Ja, daar is nog van die ou inskrywings daar, maar jy hoef nie almal te hou nie. Begin om daardie ou, donker bladsye uit te trek en stuur dit deur God se versnipperaar en begin om hulle te vervang met nog meer van die gelukkiges waar God aan jou vrede, geluk en blydskap skenk.
Onthou, jy kies hoe jy boekhou van jou lewe. As jy toelaat dat donker wolke die opskrifte van die bladsye gaan wees, gaan dit maak vir ’n tranetrekker die dag wanneer dit geoudit moet word. Jou lewe is onder nuwe bestuur en die ou boeke maak nie meer saak nie. Raak ontslae van daardie ou, donker blaaie. Kies eerder om meer boek te hou van die goeie dae, gevul met God se goedheid. Wees bly, bid gedurig en wees dankbaar.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus, dat U aan my ’n keuse gee. Help my om nie te fokus op die negatiewe dinge van die lewe nie. Dankie dat alles van my verlede nie hoef te bepaal wie ek is nie. Dankie dat ek ’n nuwe lewe het in U. Help my te om fokus op U teenwoordigheid in my lewe, sodat U, Heilige Gees, my sal vul met blydskap en dankbaarheid. Ek loof en prys U daarvoor. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟖 – 𝐕𝐨𝐥𝐠 𝐆𝐨𝐝 𝐬𝐞 𝐯𝐨𝐨𝐫𝐛𝐞𝐞𝐥𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
As Christene moet ons elke dag streef om meer en meer soos Jesus te wees. Maar hoe kan ons dit doen? Jesus het alles opgeoffer om ons te red: Sy Godheid, sy heerlikheid, sy ouers, sy vriende, Sy lewe... Hoe kan ons ooit hierdie voorbeeld volg? Eintlik, heel eenvoudig. Paulus skryf:
“¹𝑉𝑜𝑙𝑔 𝑑𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑠 𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠, ²𝑒𝑛 𝑙𝑒𝑒𝑓 𝑖𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒, 𝑛𝑒𝑡 𝑠𝑜𝑜𝑠 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑔𝑒ℎ𝑎𝑑, 𝑒𝑛 𝐻𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑡𝑒𝑟 𝑤𝑖𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑠 '𝑛 𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟𝑔𝑎𝑤𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑎𝑠 '𝑛 𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑛𝑎𝑚𝑒 𝑔𝑒𝑢𝑟.” – Efesiërs 5:1-2 (AFR20)
Paulus moedig die gelowiges in Efese en vir ons aan om die voorbeeld van God te volg en op die weg van liefde te wandel, net soos Christus Sy liefde vir die mensdom deur Sy offerdood aan die kruis getoon het.
Eerstens se Paulus vir ons dat ons God se voorbeeld moet volg. Paulus begin deur gelowiges aan te spoor om God se voorbeeld na te volg. As kinders wat baie geliefd is, word ons geroep om die karakter van ons Hemelse Vader te weerspieël. God se liefde is onbaatsugtig, geduldig en vergewensgesind. Wanneer ons God se voorbeeld volg, demonstreer ons Sy liefde aan die wêreld, bring eer aan Hom en wys ons aan ander hoe die transformerende krag van God se liefde die wêreld kan verander.
Tweedens, om in liefde te lewe, is ’n doelbewuste keuse om ons lewens te laat lei deur die liefde wat God se Gees in ons kweek. Liefde moet die dryfkrag agter ons aksies, ons houdings en ons interaksies met ander wees. Hierdie liefde is ook nie beperk tot ons onmiddellike familie- en vriendekringe nie, maar dit omsluit alle mense, selfs diegene wat dalk moeilik is om lief te hê. Net soos Christus ons onvoorwaardelik liefgehad het, word ons geroep om dieselfde liefde aan ander uit te bewys.
Derdens, herinner Paulus ons weer aan Christus se onbeperkte liefde in die offer wat Hy gemaak het: Die toppunt van liefde word gesien in die offer van Jesus Christus. Hy het ons so liefgehad dat Hy Homself gewillig oorgegee het as ’n offer en offer aan God. Sy dood aan die kruis was ’n “'𝑛 𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑛𝑎𝑚𝑒 𝑔𝑒𝑢𝑟.” wat ons met God versoen het en redding vir die mensdom gebring het. Verstaan jy hoe diep die liefde van God is in hierdie daad? Besef jy hoe toegewyd God aan ons is en dat ons ander ook só moet liefhê en dien?
Om God se voorbeeld te volg, beteken dat ons daarna sal streef om ook onbaatsugtige en opofferende liefde na te volg in jou interaksies met ander mense.
Om God se voorbeeld te volg, beteken dat ons doelbewus kies vir liefde elke dag – ’n besluit wat ons gedagtes, woorde en dade sal prioritiseer, selfs wanneer ons voor uitdagings te staan kom.
Om God se voorbeeld te volg, beteken dat ons in- en deur ’n opofferende liefde sal leef – ons sal soek vir geleenthede om ander te dien en lief te hê net soos Jesus vir ons gedoen het.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
As ek God se voorbeeld volg en in liefde leef, kan my lewe ’n kragtige getuie vir die wêreld wees, wat ander aantrek na die transformerende krag van God se liefde.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en hemelse Vader, dankie dat u liefde geen perke geken het toe ons Here Jesus ons aan die kruis gered het nie. Laat my liefde vir ander nie net ’n gevoel wees nie, maar ’n manier van lewe wat U hart weerspieël. Laat die liefde wat ek leef ander lewens beïnvloed en eer bring aan die U, wat ons eerste liefgehad het. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟏-𝟎𝟖-𝟐𝟖 – 𝐌𝐨𝐞𝐭 𝐣𝐲 𝐣𝐨𝐮𝐬𝐞𝐥𝐟 𝐛𝐞𝐰𝐲𝐬 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is vreemd hoe tye verander. Toe ek grootgeword het, was ek geleer dat jy moet hard werk vir dinge in die lewe: Harde werk lewer goeie resultate. Deesdae se jongmense en eintlik alle mense – darem nie almal nie – glo dat alles hulle toekom, dat die wêreld hulle dit skuld. Gelukkig sien jy hier en daar nog harde werk, maar dan werk mense hard vir wat húlle wil hê – wat hulle dink hulle verdien. Dit is so in die werksplek en ongelukkig syfer dit deur na ons huise ook. Ons dink dat werkies vir ons gunsies en geskenkies afkoop of eerder “omkoop”.
Weet jy, in God se Koninkryk, werk dinge anders. God het aan ons iets gegee wat ons geensins verdien nie: die regte status voor Hom. Romeine 3:23-24 leer (AFR83) ons: “²³𝐴𝑙𝑚𝑎𝑙 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔, 𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑛𝑖𝑒, ²⁴𝑚𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒𝑛, 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑣𝑟𝑦𝑔𝑒𝑠𝑝𝑟𝑒𝑒𝑘 𝑣𝑎𝑛𝑤𝑒𝑒̈ 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠.”
Wanneer ons die regverdigingsleer reg verstaan, sien ons dat ons as regverdig beskou word voor God. Nie omdat ons gehoorsaam is aan die Wet nie – want niemand kan altyd aan ál die Wet se vereistes voldoen nie – maar as gevolg van die volmaakte verlossingswerk van Jesus Christus. Hy alleen het volmaak volgens die Wet geleef en dit vervul. Vanweë Christus se werk beskou God ons nie meer as sondig of skuldig nie. Hy sien ons as regverdig en heilig. Daarom hoef ons nie God se toorn te vrees nie, want ons sondes word vergewe en die gewig van ons skuld is verwyder. Maar onthou: dit is nou mits ons wegdraai van ons ou, sondige lewe. Ons kan nie aanhou sondig en onveranderd wees as Jesus Christus in ons lewe is nie.
Johannes Calvyn verduidelik ook dat geen sondaar hom/haarself ooit sal kan regverdig nie. Nie net dit nie, maar oral waar daar sonde is, is daar ook “die toorn en wraak van God”. Aan die ander kant, is ’n geregverdigde persoon iemand “wat in die toestand van ’n sondaar nie gereken word nie, maar in dié van ’n regverdige; en daarom staan hy/sy vas voor God se regterstoel terwyl alle sondaars val.” Dit gebeur as ons nie op onsself en ons eie werke vertrou nie – omdat ons niks regverdig in ons sal vind nie – maar, as ons in die geregtigheid van Christus deur geloof vertrou. Dis goeie nuus!
As mense, probeer ons onsself voortdurend voor ander mense regverdig. Omdat ons bang is dat ons tekortkominge en sondes blootgestel word, werk ons onsself simpel om onsself te bewys. Dit los ons uiteindelik net uitgeput en vreugdeloos. Maar as ons die waarheid begin begryp dat ons in Christus volkome deur God aanvaar word, ongeag wat ons doen, ervaar ons ’n vrede wat ons toelaat om nie onsself besig te hou met onsself nie – nie meer ons eie suksesse of ons eie mislukkings nie. Vêrder, kan ons dan ook met vertroue die werk verrig wat God vir ons gegee het, selfs met al ons menslike beperkings. Die regverdigingsleer skep vir ons ’n ongelooflike vryheid in ons werk, want as God, die uiteindelike Regter, ons reeds as regverdig geag het, kan niemand en niks ons veiligheid of status in Hom steel nie.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek hoef myself nie aan mense te bewys nie. Net aan God. Ek mag nie Sy genade en regverdiging goedkoop maak nie, maar ek moet dit in dankbaarheid aanvaar en daarvolgens leef.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Baie dankie Here Jesus dat U deur die groot werk aan die kruis, my regverdig voor die Vader. Ek verdien dit nie en ek sal ewig dankbaar bly daarvoor. Ek loof U en prys U daarvoor. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟓 – 𝐄𝐤 𝐢𝐬 𝐭𝐨𝐠 𝐬𝐨 𝐨𝐮𝐥𝐢𝐤 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek spot altyd deur te sê dat ek nog net een maal in my lewe ’n fout begaan het en dit was toe ek gedink het ek het ’n fout begaan. Ja, ons spot dikwels oor hoe reg ons is en hoe goed ons is. Soms gaan sukses egter wel na ons koppe toe en dan spot ons nie meer nie, maar dan spog ons graag daaroor.
Kyk, daar is niks verkeerd daarmee om trots te voel oor sekere prestasies in ons lewens nie, maar ons moet nooit vergeet waarom ons in staat is daartoe nie. Ons moet nooit vergeet waar kom alles wat ons nodig het – en nog meer – vandaan nie. Paulus leer die kerk in Korinte wat in daardie stadium baie trots was oor hul groei en vooruitgang die volgende:
“¹⁷𝑊𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑚 𝑜𝑝 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑤𝑖𝑙 𝑏𝑒𝑟𝑜𝑒𝑚, 𝑚𝑜𝑒𝑡 ℎ𝑜𝑚 𝑏𝑒𝑟𝑜𝑒𝑚 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒. ¹⁸𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑎𝑎𝑛𝑏𝑒𝑣𝑒𝑒𝑙, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑎𝑛𝑏𝑒𝑣𝑒𝑒𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑.” – 2 Korintiërs 10:17-18 (AFR20)
Paulus draai nie doekies om hier nie. Hy sê eintlik reguit vir die mense: “As enigiemand gaan roem oor enigiets, moet dit in die Here wees.” So dikwels dink ons ook dat óns so oulik of pragtig is, maar ons moet ons fokus verskuif van selfbevordering na die erkenning van God se werk in ons lewens. Dit is amper natuurlik deesdae dat mense spog of erkenning soek vir hul prestasies. Ons moet leer om daardie neiging te herlei en eerder die eer aan God te gee.
Sien, dis nie die persoon wat hom/haarself prys wat saak maak nie, sê Paulus, maar eerder die een wat die Here prys. Ons goedkeuring en aanbeveling kom nie van menslike toejuiging of applous nie, maar van God. So dikwels gaan ons uit ons pad om mense tevrede te stel. Ons wil so graag gewild wees en hê dat mense van ons sal hou. Ons moet tevredenheid en vertroue vind in die wete dat dit op die ou end God se goedkeuring is wat werklik tel.
Die les wat Paulus ons hier leer, eggo Jesus se woorde in Matteus 23:12 (AFR20): “¹²𝑊𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑓, 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑒𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑒𝑛 𝑤𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑒𝑑𝑒𝑟, 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑓 𝑤𝑜𝑟𝑑.” Ons moet elk dag leer om nederigheid te kweek in ons lewens. Ons moet ’n besluit neem om doelbewus die kollig op God se eer te plaas, eerder as om die aandag op onsself te rig.
Wanneer jy dus ’n uitmuntende prestasie bereik en, alhoewel die versoeking groot sal wees om te neig na ’n bietjie grootpratery, gee die erkenning aan God. Soek eerder Goddelike goedkeuring as die verganklike en soms valse menslike eerbewyse. Weet dat jou nederigheid jou sal lei op ’n pad van ware verhoging voor God.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Soek ek dalk te gereeld mense se goedkeuring en applous? Besef ek dat al my prestasies ’n uitvloeisel is van God se genade in my lewe? Ek is nie so oulik nie. Alle lof en eer aan God.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige hemelse Vader, dankie vir u genade en u leiding in my lewe. Help my om myself gereeld voor U te verootmoedig. Mag ek vrede en bevrediging vind in U goedkeuring alleen. Skenk aan my die wysheid, moed en nederigheid om my fokus daarop te rig sodat U alleen verheerlik sal word in alles wat ek doen. Ek loof en prys U vir al u goedheid. In Jesus se Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟒 – 𝐉𝐚𝐛𝐞𝐬 𝐬𝐞 𝐠𝐞𝐛𝐞𝐝 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
’n Hele klompie jare gelede het Bruce Wilkinson in ’n boek oor Jabes se gebed vertel hoe mens elke dag Jabes se gebed kan bid en dat ’n mens met wat hy noem “waagmoedige gebed”, elke dag ’n gebed kan bid wat God altyd sal verhoor. Die boek het in Amerika meer as 4 miljoen eksemplare verkoop en die Afrikaanse weergawe het in Suid-Afrika ook duisende verkoop. Ons lees in die Skrif die volgende:
“¹⁰𝐽𝑎𝑏𝑒𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝: “𝐴𝑠 𝑈 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑔 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑒𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑒𝑒̈𝑛, 𝑚𝑦 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑𝑔𝑒𝑏𝑖𝑒𝑑 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑒𝑛 𝑎𝑠 𝑢 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑏𝑦 𝑚𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠! 𝑊𝑒𝑒𝑟ℎ𝑜𝑢 𝑜𝑛ℎ𝑒𝑖𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑚𝑎𝑟𝑡 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒.” 𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑢𝑟 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑔𝑒𝑣𝑟𝑎 ℎ𝑒𝑡.” – 1 Kronieke 4:10 (AFR20)
Ons lees egter in die Woord nie veel meer oor Jabes nie, behalwe hierdie weergawe waar hy as voorouer van die Judese konings aangedui word – alhoewel nie deur direkte bloedlyn nie. Tog het soveel mense hierdie boek van Wilkinson gekoop en ernstig elke dag hierdie gebed van Jabes oor hulself begin bid – met die hoop dat God hul grondgebied sal vergroot. Dalk het party mense gedink God sal vir hul fisiese grond gee; ander dalk rykdom; ander het dalk gehoop vir ’n groter bedienings veld. Hoe ook al, na my mening, was amper net Wilkinson se finansiële grondgebied met hierdie boek vergroot...
Wat ons wel nie moet miskyk in hierdie kort weergawe van Jabes nie, is wat oor hom gesê word. In vers 9 lees ons: “⁹𝐽𝑎𝑏𝑒𝑠 𝑖𝑠 ℎ𝑜𝑒̈𝑟 𝑔𝑒𝑎𝑔 𝑎𝑠 𝑠𝑦 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠; 𝑠𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑑𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑛𝑎𝑎𝑚 𝐽𝑎𝑏𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 ℎ𝑜𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑚𝑎𝑟𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑒𝑡.”
Herinner hierdie vers ons nie aan die smart van Genesis 3:16 nie? Is elke mens nie uit smart gebore nie? Het ons almal nie ook die hunkering om meer van God te ontvang – soos die plan oorspronklik was nie? Maar, Jabes was hoër geag as sy broers. Jabes was heel moontlik ’n man wat naby God geleef het. Jabes het ook nie iets nuut gevra nie. Jabes se gebed weergalm die woorde wat God self aan Israel belowe het deur die woorde van Jakob op sy sterfbed (Gen. 49).
Dus, al wat Jabes eintlik van God vra, is om God se beloftes te vervul. Jabes se geloof in God is die kern van die gebed – nie Jabes se eie begeertes nie. Ongelukkig het Wilkinson se boek onder soveel mense ’n valse hoop gevestig. Baie het begin dink, onwetend, dat hulle God kan manipuleer deur gebed. Jabes wou, deur God se beloftes, homself losmaak van die smartlike vooruitsigte wat selfs sy ma gehad het en wat in sy eie naam hom deur die lewe vergesel het. Jabes wou dat God se almag en God se getrouheid weer sigbaar wees vir alle mense en dat God se verbond tot vervulling sal kan kom met Christus se koms. In geen stadium was Jabes se gebed vir sy eie gewin gewees nie.
Ongelukkig is daar soveel Christene vandag wat uiters selfsugtig en selfgesentreerd is. As ons Jabes se gebed mooi verstaan, dan sien ons dat hy ons anders leer. Ons ontvang uit God se hand, sodat ons kan gee en die fokus is weg van die eie-ek. Ware Christenskap eis dat ons, soos Jesus self gesê het, die eie-ek laat sterf elke dag (Matt. 16:21-28). Ware Christenskap eis dat ons elke dag dankoffers bring, omdat Christus die grootste offer vir ons gebring het. Ons weet ons kan dit nie terugbetaal nie, want ons weet ook dat ons nooit daardie offer van Hom verdien het of kan verdien nie.
As ons wil hê dat 1 Kronieke 4:10 altyd vir ons van toepassing moet wees, moet dit wat God behaag ons grootste begeerte wees. Ons hemelse Vader sal altyd gee wat sy kinders begeer, as ons begeertes gegrond word in Sy Woord en sy verbond en as dit op God se eer alleen gerig is.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is dit wat ek wil hê in lyn met God se wil vir my lewe? Hoe kan ek in my wêreld my offer bring in dankbaarheid en tot eer van God?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Onse Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word en laat U wil geskied – soos in die hemel, só ook in my lewe. Soos Jabes gebid het, bid ek ook vandag: Seën my Here; vergroot my grondgebied – dáár waar ek vir U diensbaar kan wees; hou u hand oor my en weerhou my van onheil en laat ek nie smarte ervaar nie. Indien ek wel smarte in my lewe beleef, laat my smarte in vreugde verander, tot U eer en verheerliking alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟑 – 𝐕𝐢𝐧𝐝 𝐯𝐫𝐞𝐝𝐞 𝐢𝐧 𝐣𝐨𝐮 𝐛𝐞𝐬𝐥𝐮𝐢𝐭𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Psalm 119 is die langste psalm in die Bybel – ’n hele 176 verse! 176 verse van wysheid en hart gesprekke. As jy iewers ’n tydjie het, gaan lees gerus dit alles. Eintlik... maak tyd en gaan lees dit. Vandag lees ons verse 33-35 saam:
“³³𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔 𝑚𝑦 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑒𝑛𝑑𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑏𝑦 𝑘𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑢. ³⁴𝐺𝑒𝑒 𝑚𝑦 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑏𝑦 𝑢 𝑤𝑒𝑡 𝑘𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑢, 𝑑𝑖𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑚𝑦 ℎ𝑒𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑘𝑎𝑛 𝑛𝑎𝑘𝑜𝑚. ³⁵𝐵𝑒𝑔𝑒𝑙𝑒𝑖 𝑚𝑦 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑖𝑛 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑘 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒.” – Psalm 119:33-35 (AFR20)
Die lewe is gevul met baie besluite, kruispaaie en vurke in die pad. As ’n ouer, is dit soms ook nog moeiliker, omdat jy graag vir jou kinders ook reg wil leer. Dit is soms amper onmoontlik om die regte besluit as ouer te neem. As jy een pad kies, kan dit ongewenste gevolge hê. Kies jy die ander kant, kan daardie besluit ook nét sulke negatiewe resultate oplewer. Jy kom dikwels in die lewe by oomblikke waar dit lyk of daar nie ’n gewilde resultaat kan wees nie.
’n Ander moeilike aspek van om besluite vir jou kinders of vir ander mense te moet neem, is die insette van ander ouers en vriende wat nie dieselfde besluit as jy sou geneem het nie. En jy weet mos: hulle sal jou dikwels sommer gou vertel hoekom jy die verkeerde besluit geneem het, want mense is gewoonlik mos nie bang om hul opinies te deel nie.
Wanneer dit kom by besluite wat jy vir jouself moet neem, raak dinge ook nogal moeilik soms. Ons vra na raad by ander en ons volg dikwels verkeerde raad; ons luister na wat die wêreld sê ons gelukkig sal maak; ons lees selfs tydskrif artikels en ek hoop dat “iets” met ons sal gesels. Tog weet ons in ons binneste – in ons harte – wat die regte besluite sal wees. Ons weet ons moet God vertrou en die Heilige Gees se leiding soek, vind en volg.
Dalk het jy nodig om binnekort belangrike besluite vir jouself of names jou kinders of ander mense te neem. In daardie oomblikke moet jy weet jy kan vrede vind in jou besluite, as jy weet dat jy tot God gebid en geluister het na Hom om jou op Sy pad te lei. Soms is dit die enigste vrede wat jy voel. Dit is daarom baie belangrik om te onthou dat Hy weet wat jou behoefte is, en Hy sal jou lei terwyl jy Hom soek. Dit is Sy belofte.
Om ander te lei en besluite te neem is soms moeilik. Selfs om te besluit wat die beste is vir jou, is soms moeilik. Onthou: God weet altyd beter. Slegs met God se krag kan krom paaie reguit gemaak word. God lei ons. Vind Sy vrede in jou besluite.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek is nie alleen in die besluite wat ek moet neem namens myself, my kinders of namens ander mense nie. God se vrede en leiding help my. Hoe reageer ek as ander mense nie saamstem met ’n besluit wat ek neem nie? Vir watter besluit het ek nodig om God se wysheid nou te soek?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
“³³𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔 𝑚𝑦 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑒𝑛𝑑𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑏𝑦 𝑘𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑢. ³⁴𝐺𝑒𝑒 𝑚𝑦 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑏𝑦 𝑢 𝑤𝑒𝑡 𝑘𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑢, 𝑑𝑖𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑚𝑦 ℎ𝑒𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑘𝑎𝑛 𝑛𝑎𝑘𝑜𝑚. ³⁵𝐵𝑒𝑔𝑒𝑙𝑒𝑖 𝑚𝑦 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑖𝑛 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑘 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒.” – Psalm 119:33-35 (AFR20). Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟐 – 𝐋𝐮𝐢𝐬𝐭𝐞𝐫 𝐧𝐚 𝐝𝐢𝐞 𝐦𝐨𝐨𝐢 𝐦𝐮𝐬𝐢𝐞𝐤 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons lees in Genesis 39 van Josef wat vals beskuldig, in die tronk gegooi, vergeet en afgeskryf is (sien Gen. 39:19-23). Maar na hierdie tyd wat hy so-te-sê vergeet is, word hy aangestel as die tweede-in-bevel van Egipte – net onder die farao. Josef moes om een of ander rede eers ’n pouse beleef in sy lewe.
Ons lees ook dat God dieselfde met Paulus gedoen het. Paulus het ook ’n pouse, ’n ruskans (as ons dit so kan noem) van twee jaar gevangenisstraf moes dien. As gevolg van Paulus se liefde vir die evangelie was hy gevonnis, en kan ons dalk op ’n manier sê dat God hierdie pouse in die lewensfase van die apostel ingereken het.
Ek is seker dat Paulus, net soos Josef, lang aande in die hol tronksel deurgebring het en gedink het aan alles wat hy kon vermag as hy vry was om te doen wat hy wou. Dit moes seker ’n stryd gewees het om nie mal te word nie. Paulus was nie ’n rustige of passiewe persoon nie. Hy was ondernemend en ’n inisieerder. Ek is seker hy het gesukkel met die tydsberekening van die Goddelike Dirigent van hierdie liedjie, wat sy lewe so beïnvloed het. Tog moes Paulus wag. Hy moes rustig raak en maar net doen wat hy kon. Hy het gebid en briewe geskryf.
Dikwels wonder ons ook hoekom daar skielik remme aangedraai word op ons lewens. Hoekom dit voel of ons vasgehou word. Dit voel of ons gebede nie verhoor word nie en asof ons begeertes nie vervul word nie. Sommige dinge waarvoor ons gebid het, het nooit gebeur nie. Ons is passievol oor ons geloof en ons is getrou aan God, maar dan lyk dit nie asof God haastig is om ons angstige, soms woedende gebede te verhoor nie. Hy los nie skielik alles en jaag om ons begeertes te vervul nie. Ons wag op God om die tempo van ons lewenslied so bietjie te versnel, maar Hy wat die simfonie geskryf het dirigeer dit ook en Hy ken die regte tempo en nou is dit tyd vir ’n pouse...
Wanneer ons in hierdie oomblikke van ons lewens so bietjie ’n tree terug gee en met nuwe oë na die situasie en onsself kyk, sal ons besef dat ons nie so volwasse is as wat ons gedink het nie. Ons is nie so geduldig soos ons gedink het nie. Ons is nie so wys nie, nie so bedagsaam nie, nie so sterk nie. Ons Goddelike Dirigent ken die tydsberekening van ons groei. God bou dinge in ons en weet hoe lank dit sal neem voordat ons die eienskappe ontwikkel wat nodig is om ons eie gebede te oorleef.
Hierdie het ek al baie gesê, maar ons moet, net soos Josef en Paulus, leer om geduldig te wees. Ons kan nie die toekoms injaag nie – ons kan in elk geval nie vinniger daarby uitkom as wat God bepaal het nie. Ons kan ook nie God se tydberekening vir die spesifieke lewenslied wat Hy vir ons geskryf het, probeer aanjaag nie. As ons dit doen, word die musiek vals en word die skoonheid daarvan in gevaar gestel. Ons moet wag vir die regte tydsberekening. Word stil en luister na die mooie melodieë wat God geskryf het vir jou lewe. Hy is die Groot Komponis en die Dirigent. Sy tydsberekening is perfek.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, dankie vir U tydsberekening. My bereidwilligheid om geduldig te wees, is deel van my vertroue en my geloof – nie in die musiek nie, maar in die Dirigent. Ek plaas al my vertroue in U. Dankie dat U tydberekening altyd perfek is. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟐𝟏 – 𝐕𝐞𝐫𝐬𝐥𝐚𝐞, 𝐦𝐚𝐚𝐫 𝐧𝐢𝐞 𝐯𝐞𝐫𝐬𝐥𝐚𝐚𝐧 𝐧𝐢𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer die lewe soms moeilik raak, is dit maklik vir ons om moed te verloor. Ons staan verslae en kyk hoe dinge skeefloop, maar ons voel magteloos om iets daaraan te doen. Ons weet God is daar en ons kan op Hom vertrou, maar ons eie kragte is min en emosies oorweldig ons.
Finansiële verknorsings, werk-stres, verbrokkelde verhoudings, siekte, die dood van ’n geliefde – al hierdie dinge takel ons af en maak ons moeg. Dit voel amper of ons verslaan is, maar ons moet weet ons is nie. Paulus leer ons in 2 Korintiërs 12:9-10 (AFR20):
“⁹𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑀𝑦 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑔, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑚𝑦 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑛 𝑠𝑤𝑎𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑜𝑙𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔.” 𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑠𝑎𝑙 𝑒𝑘 𝑚𝑦 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑤𝑒𝑟 𝑜𝑝 𝑚𝑦 𝑠𝑤𝑎𝑘ℎ𝑒𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑟𝑜𝑒𝑚, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑠𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑚𝑦 𝑘𝑎𝑛 𝑏𝑒𝑠𝑘𝑢𝑡. ¹⁰𝑇𝑒𝑟 𝑤𝑖𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑢𝑔 𝑒𝑘 𝑚𝑦 𝑖𝑛 𝑠𝑤𝑎𝑘ℎ𝑒𝑑𝑒, 𝑏𝑒𝑙𝑒𝑑𝑖𝑔𝑖𝑛𝑔𝑠, 𝑜𝑛𝑡𝑏𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔𝑠, 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑒𝑛 𝑏𝑒𝑛𝑜𝑢𝑑ℎ𝑒𝑑𝑒; 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑠𝑤𝑎𝑘 𝑖𝑠, 𝑗𝑢𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑛 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘.”
Die Israeliete het dikwels ook verslae gestaan oor alles wat met hulle gebeur het. In een van die moeilikste situasies waarin hulle was, staan die reus Goliat en daag hulle uit. Hy val hulle aan, spot met hulle en, nog erger, hy spot met God. Die Israeliete het dalk begin dink dat God hul verlaat het, want hierdie reus spot God, maar God doen niks om hom te straf nie. Dan daag ’n jong skaapwagter op:
“⁴⁵𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐷𝑎𝑤𝑖𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐹𝑖𝑙𝑖𝑠𝑡𝑦𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝐽𝑦 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑎 𝑚𝑦 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟𝑑 𝑒𝑛 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑣𝑒𝑔𝑠𝑝𝑖𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑘𝑟𝑜𝑚𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟𝑑, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑘 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑎 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑁𝑎𝑎𝑚 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝐻𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒, 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑣𝑒𝑔𝑠𝑙𝑖𝑛𝑖𝑒𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙, 𝑣𝑎𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑗𝑦 '𝑛 𝑏𝑒𝑠𝑝𝑜𝑡𝑡𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑎𝑎𝑘. ⁴⁶𝑉𝑎𝑛𝑑𝑎𝑔 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑛 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑜𝑜𝑟𝑙𝑒𝑤𝑒𝑟...” – 1 Samuel 17:45-46a (AFR20)
Ja, vir 40 dae lank het Goliat beledigings geskreeu aan die Israeliete oor die Ela-vallei. Vir 40 dae lank was die Israeliete vasgevang in daardie vallei en selfs koning Saul het gevlug. Vir 40 dae lank moes die Israeliete verslae toekyk hoe hulle en God beledig en gespot word. Maar dan kom Dawid in die Naam van die Here en hy spreek die vyand direk aan. Ons ken die verhaal vêrder en hoe Dawid met een klippie uit sy slingervel die reus teen die voorkop getref het en die oorwinning behaal het.
Wanneer moeilike tye tref, is ons gou om ook verslae te staan en toekyk hoe ons wêreld inmekaar val en word ons ook vasgevang in ’n vallei, terwyl die vyand ons staan en beledig en spot. Vrees, angs en bekommernis oorval ons gedagtes – soveel so dat ons amper verslaan voel... Moenie weghardloop nie. Staan vas. Wees soos Dawid en staar jou vyand vierkantig in die oë – in die Naam van die Here. Laat die Woord van die Here jou wapen wees en slinger daardie klippie voluit teen die vyand se voorkop vas. God sal jou donker vallei in ’n poort van oorwinning verander.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Met God aan my kant en in Jesus se Naam, kan die vyand my nie oorwin nie. Ek is dalk verslae oor gebeure in my lewe, maar in Jesus Christus kan ek nie verslaan word nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, dankie dat U die almagtige, enigste God is. Daar is geen reus in my lewe wat vir U te groot is nie. Dankie dat selfs die donkerste van valleie waarin ek my bevind my nie sal verslaan nie. Dankie, dat ek in Jesus se Naam, net soos Dawid, die oorwinning sal behaal. Help my om ook in swaar tye U Woord aan die vyand te verkondig. U is my God en ek loof U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟗 – 𝐃𝐢𝐞 𝐤𝐞𝐫𝐧 𝐯𝐚𝐧 𝐨𝐧𝐬 𝐛𝐞𝐬𝐭𝐚𝐚𝐧. (Kliek hier vir die klankgreep)
As God die Een is wat ons rigting bepaal en ons laat gaan of bly, is die volgende vraag wat ons seker het: Wat moet ek doen? Daar waar ek is. Daar waar ek gaan. Wat is dit wat ek moet doen?
Toe Jesus die dissipels leer bid het, en as ons ook die “onse Vader” bid, dan bid ons juis in Matteus 6:10 (AFR20), “¹⁰𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑢 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘 𝑘𝑜𝑚. 𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑢 𝑤𝑖𝑙 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑖𝑒𝑑, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙, 𝑠𝑜 𝑜𝑜𝑘 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒.” Dit is die kern van ons bestaan. Ons moet God eer en Sy Koninkryk deur ons en deur alles wat ons doen, laat kom.
Deur ons samewerking met God se Gees wat in ons werk, kan ons groei tot die punt waar óns wil lyn is met dít wat God wil hê – ons passies en doelwitte is dan Sy passies en doelwitte; ons dink, praat, stel belang en tree op op ’n Christelike manier. Ons sal nooit volmaak of sonder worsteling en teëspoed in hierdie lewe wees nie, maar ons kan innerlik met Jesus verbind wees. Ons luister na die leiding van die Gees. Ons ontwikkel ons gawes. Ons leef ons lewens na aan die dinge wat belangrik is in God se Koninkryk. Paulus leer in 1 Korintiërs 10:31-11:1 (AFR20) die volgende:
“³¹𝑂𝑓 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑛 𝑒𝑒𝑡 𝑜𝑓 𝑑𝑟𝑖𝑛𝑘 𝑜𝑓 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑡𝑜𝑡 𝑒𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑. ³²𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝐽𝑜𝑑𝑒 𝑜𝑓 𝐺𝑟𝑖𝑒𝑘𝑒 𝑜𝑓 𝑑𝑖𝑒 •𝑔𝑒𝑚𝑒𝑒𝑛𝑡𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 '𝑛 𝑠𝑡𝑟𝑢𝑖𝑘𝑒𝑙𝑏𝑙𝑜𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒. ³³𝑁𝑒𝑡 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑘 𝑜𝑜𝑘 𝑝𝑟𝑜𝑏𝑒𝑒𝑟 𝑜𝑚 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑝𝑠𝑖𝑔𝑡𝑒 𝑖𝑛 𝑎𝑔 𝑡𝑒 𝑛𝑒𝑒𝑚, 𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒́ 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑛𝑎 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑒𝑒𝑓, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠 𝑚𝑎𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑. ¹𝑉𝑜𝑙𝑔 𝑚𝑦 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑 𝑣𝑎𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑣𝑜𝑙𝑔.”
Maar, ongelukkig, is dit dikwels nie genoeg vir ons nie. Ons wil ons spesifieke, individuele doel met sekerheid ken. Ons wil weet wat presies ek nou of later moet doen. Ons wil hê die raaisel moet opgelos word. Ons wil ’n unieke doel vind waarop ons ons energie kan fokus. Ons wil darem weet wat dit is wat ons lewens die moeite werd maak. Ons wil oortuig wees dat ons lewe tel. Ons soek ’n teiken om voor te mik...
Miskien mislei ons oordrewe soeke na die spesifieke “iets” wat ons moet doen ons... Miskien weerspieël hierdie behoefte van ons om met sekerheid te weet, ons verslawing aan beheer en ons innerlike trots. God wil hê dat ons Hom moet vertrou, en soms, as ons te veel weet, het dit tot gevolg dat ons te min vertrou. Miskien, deur te laat gaan van die druk om ons doel te vind – en deur eerder toegewyd vir God te volg elke dag... miskien los dit ons reg in die middel van die teiken.
So, of jy nou eet, slaap, rus, werk of wat ook al doen, doen dit tot eer van God. Doen wat jy moet doen.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Soek ek dalk ook heeltyd daardie “iets spesifiek”? Mis ek dalk die groter prentjie? Wat kan doen om meer die voorbeeld van Christus te volg?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, ek volg so gereeld my eie kop en hart. Ek bid dat U Koninkryk kom en U wil geskied, maar dan dink ek dat ek dit alleen moet doen. Help my om te laat gaan van my eie agenda en plannetjies. Ons Vader wat in die hemel is, laat U Koninkryk in en deur my kom, laat U wil wees wat ek wil hê. Laat my hart, gedagtes en my lewe U liefde weerspieël waar ek ook al is en waar U my ook al lei. Mag alles wat ek doen en dink net tot U eer alleen wees. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟖 – 𝐌𝐨𝐞𝐭 𝐣𝐲 𝐛𝐥𝐲 𝐨𝐟 𝐦𝐨𝐞𝐭 𝐣𝐲 𝐠𝐥𝐲 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Die meeste van ons hou van vakansie. Party hou daarvan om iewers heen te gaan en net bietjie rustig te wees. Ander hou weer daarvan om baie dinge te sien en te doen op vakansie. Party mense wil net by die huis bly en rus. Elke nou en dan het ons ’n vakansie nodig.
Die wêreld is verskriklik gejaagd deesdae. Partykeer sien ons nog uit daarna en streef ons na die adrenalien wat met elke spitsverkeer en sperdatums gepaard gaan. Maar, vir meeste van ons, is dit nie meer wat ons wil hê nie. As jy daar in die verkeer vassit, of jy stres oor die hope werk wat wag en die sperdatum wat naderkom, dan dink jy aan daardie stil, idilliese plekkie in die berge wat jy op TV gesien het, langs ’n mooi stroom in die middel van ’n woud. Dan toet die motors skielik weer om jou en jy dink by jouself en bid: “Ag Here, kan ek maar nie hierdie werk bedank en uit hierdie gejaagde lewe uitkom nie? Kan ek maar nie van hierdie mallemeule afklim nie?”
Miskien voel jy so. Miskien is jy moeg en jy kort ’n breuk. Miskien dink jy daaraan om ’n plekkie by die see te koop, met ’n wiegstoel en ’n kat. “Enige ander plek as hier, Here”, dink jy. Maar wat dink God?
In Numeri 9 lees ons van die Israeliete wat deur die woestyn trek met die tabernakel wat hulle volgens God se spesifikasies opgerig het en hoe God self teenwoordig was oor die tabernakel. Bedags was die teenwoordigheid van die Here ’n wolk wat die tabernakel bedek het en snags was daar ’n glans van vuur gewees. As die wolk getrek het, het die volk getrek. So ook met die glans van vuur. Dag of nag. God het bepaal waar en wanneer die Israeliete bly of trek. Vers 18-19 sê: “¹⁸𝑂𝑝 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑡𝑒𝑙𝑘𝑒𝑛𝑠 𝑘𝑎𝑚𝑝 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑒𝑘, 𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑘𝑎𝑚𝑝 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑠𝑙𝑎𝑎𝑛. 𝑆𝑜𝑙𝑎𝑛𝑘 𝑎𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑙𝑘 𝑏𝑜 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑎𝑏𝑒𝑟𝑛𝑎𝑘𝑒𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑜𝑒𝑓 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑘𝑎𝑚𝑝. ¹⁹𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑙𝑘 '𝑛 𝑙𝑎𝑛𝑔 𝑡𝑦𝑑 𝑏𝑜 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑎𝑏𝑒𝑟𝑛𝑎𝑘𝑒𝑙 𝑤𝑎𝑠, ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑝𝑙𝑖𝑔𝑡𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑛𝑎𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑘𝑎𝑚𝑝 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒.” En vers 22: “²²𝑂𝑓 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑜𝑢 𝑡𝑤𝑒𝑒 𝑑𝑎𝑒, '𝑛 𝑚𝑎𝑎𝑛𝑑, 𝑜𝑓 𝑙𝑎𝑛𝑔𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑠, 𝑡𝑒𝑟𝑤𝑦𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑙𝑘 𝑙𝑎𝑛𝑘 𝑏𝑜 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑎𝑏𝑒𝑟𝑛𝑎𝑘𝑒𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑜𝑒𝑓 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑔𝑒𝑘𝑎𝑚𝑝 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒. 𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑙𝑘 𝑜𝑝𝑔𝑎𝑎𝑛, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑒𝑘.”
Dalk ondervind jy ondraaglike druk in jou daaglikse lewe, druk wat jy dink beter sal word as jy op ’n rustige plek van jou keuse kan gaan sit. God het die Israeliete gewys dat Hy ons paaie kies. Hy het aan hulle ’n sigbare herinnering aan Sy teenwoordigheid gegee om hulle te lei: ’n wolk bedags en ’n vuur glans in die nag. As die wolk lig, trek hulle weg; as dit sak, het hulle kamp opgeslaan. God se teken in die lug het hul koers aangedui en die pas aangegee. Deur op te kyk, het die Israeliete ontdek dat die Here die bewegings bepaal het van Sy mense; God wat gesê het “staan”, was net so belangrik soos God wat gesê het “gaan”. God alleen het die redes vir die reis, die onsigbare gevare wat voorlê en die uiteindelike doel buite elke beweging geken.
God het die lewens van die Israeliete gebied en die rigting aangewys. Hy sal dieselfde vir jou doen as jy Hom toelaat. As jy wil weet watter kant toe jy moet draai, of jy moet bly of gly, kyk op.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Die lewe is onvoorspelbaar en die realiteit is dat ek nie altyd sal weet wat, waar of hoe nie. God weet wel. Hy bepaal my koers en gaan saam met my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here, dat U my rigting is en my lewe bepaal. Wys my die koers waarin ek moet gaan. Of ek moet bly of gaan, laat dit van U afhang en nie ek nie. Laat ek doen wat ek moet doen daar waar U my wil hê. Laat U Gees my lei. U bepaal my koers. Amen.
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟕 – 𝐒𝐡𝐚𝐥𝐨𝐦 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Filippense 4:6 sê: “⁶𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑖𝑘𝑠 𝑏𝑒𝑘𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟𝑑 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒...” Duidelik het Paulus nie gedink dat ons 2000 jaar later soveel dinge gaan hê wat ons kan bekommer nie. Ek kan partykeer so kwaad word – as alles skeef loop en as niks wil uitwerk nie – as iemand na my toe kom en sê: “Ag nee man, moenie stres nie. Alles sal OK wees...” Ek meen, magtig man! Kan jy nie sien my wêreld is besig om in duie te stort nie! Moenie vir my kom sê alles sal OK wees, as jy nie ’n idee het van wat in my lewe aangaan nie!
Voel jy ook soms so? Ek dink ons almal ervaar dit van tyd tot tyd. Ons soek vrede. En ons weet: vrede is nie net die afwesigheid van geweld en twis nie. Nee, vrede is ’n innerlike gevoel. Dit is iets wat ons gevoelens van angs, depressie en vrees met ’n kalmerende rustigheid vervang. Om ware vrede te vind, is deesdae nogal ’n moeilike ding en deesdae is daar baie maniere waarop mense daarna soek – maniere wat nie baie goed is vir ons nie. Sommige mense probeer rustigheid en vrede kry deur die gebruik en misbruik van alkohol en medikasie en dwelmmiddels. Ander soek dit weer in woede en ander verslawings. Ons weet dat Jesus self vir ons in Matteus 6:25-34 gesê het dat ons nie hoef te bekommer oor enigiets nie, want ons Vader sorg vir ons... “maar Jesus,... tye het verander... Dinge is nie meer so eenvoudig nie...”
Ja... ons stres so erg oor sekere dinge en bekommer ons so erg oor goed, dat ons selfs vir Jesus begin vertel dat Hy nie verstaan nie. Ons vergeet dat Hy ook mens was en eintlik ten volle verstaan waardeur ons gaan.
Sien, Bybelse vrede – wat heeltemal anders is as wêreldse, oppervlakkige vrede – begin, nie net met die gevoel daarvan nie, maar met die kern oorsaak daarvan: ’n sterk verhouding met God en met ander. Natuurlik moet ons besef dat vrede met God alleenlik moontlik gemaak word deur die Prins van Vrede. Waar Jesus Christus Sy Koninkryk vestig, is vrede die norm.
Sien, die geheim van Paulus se raad in Filippense 4:6 volg in die res van die vers en in vers 7: “⁶𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑖𝑘𝑠 𝑏𝑒𝑘𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟𝑑 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑚𝑒𝑘𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑛𝑘𝑠𝑒𝑔𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑. ⁷𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑟𝑖𝑝 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑟𝑒𝑓, 𝑠𝑎𝑙 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑜𝑜𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑑𝑎𝑔𝑡𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑎𝑘.” Ook in die Ou Testament, het omtrent twee-derdes van die gebruik van die woord vrede (“𝒔𝒉𝒂𝒍𝒐𝒎”) verwys na die innerlike vervulling van menswees wat ervaar word wanneer jy God se teenwoordigheid ervaar. Hierdie vrede – ware vrede – kan ervaar word deur God se teenwoordigheid in jou lewe selfs in die moeilikste van situasies en omstandighede.
Bekommernis is die grootste dief van vrede in ons lewens. Dit keer dat ons rustig en in vrede slaap in die aande. Dit hou ons op hete kole deur die dag. Ons Vredevors, Jesus, beklemtoon in Matteus 6:25-34 die ontsaglike vermoë van God die Vader om Sy mense elkeen afsonderlik lief te hê en vir ons te sorg, voordat ons deur die bekommernisse van hierdie lewe oorval word. Is dit moeilik om te glo? Kyk maar om jou rond... Glo dit!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕖́𝕟 𝕕𝕠𝕖𝕟 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
As dit kom by moeilike situasies wat jy nie onmiddellik kan verander of regstel nie – gebroke, seer verhoudings; siektes of kwale; finansiële- en werk krisisse – gaan na God toe in gebed. Begin deur eers al die dinge waarvoor jy dankbaar is op te noem – tot in die kleinste bietjie detail van al die mooi wat God in jou lewe doen. Maak seker jy noem alles... Lê dan jou versoeke voor God. Spreek dit net eerlik en duidelik met Hom aan. Wees spesifiek. Bied Hom dinge aan wat buite jou beheer is en wat jy nie kan regstel nie. Let op hoe, terwyl jy hierdie geestelike gebedspraktyk beoefen, ’n vrede wat jy nie kan verstaan nie, oor jou begin vloei...
𝑴𝒂𝒈 𝒋𝒚 𝒗𝒓𝒆𝒅𝒆 𝒊𝒏 𝒐𝒐𝒓𝒗𝒍𝒐𝒆𝒅 𝒆𝒓𝒗𝒂𝒂𝒓, 𝒅𝒆𝒖𝒓 𝒅𝒊𝒆 𝒕𝒆𝒆𝒏𝒘𝒐𝒐𝒓𝒅𝒊𝒈𝒉𝒆𝒊𝒅 𝒗𝒂𝒏 𝒅𝒊𝒆 𝒆𝒘𝒊𝒈𝒆, 𝑨𝒍𝒎𝒂𝒈𝒕𝒊𝒈𝒆 𝑮𝒐𝒅 𝒊𝒏 𝒋𝒐𝒖 𝒍𝒆𝒘𝒆.
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟔 – 𝐃𝐢𝐞 𝐨𝐨𝐠 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐭𝐨𝐫𝐦. (Kliek hier vir die klankgreep)
Iemand het eenmaal gesê dat die lewe ’n reis is en dat dit nie regtig gaan oor die bestemming nie, maar oor hoeveel jy die rit geniet. Alhoewel dit dalk so is, is ons as Christene juis anders ingestel, omdat ons weet waar ons eindbestemming is en dat daardie bestemming soveel beter is as die reis wat ons hier en nou ervaar. Sien, die lewe is soos ’n bootreis en ons weet dat die see een oomblik baie kalm kan wees en ons kan ewe gedwee net ronddryf of rustig voortseil, maar binne ’n oogwink kan alles drasties verander.
Soms is die lewe gevul met allerhande storms. Ons is partymaal heel gelukkig en tevrede met alles in ons lewens en dan, sonder enige waarskuwing, breek daar ’n storm los wat ons van alle kante begin slaan. Ander kere voel dit of ons nog in die middel van ’n storm is, dan kom die volgende, groter, erger storm en die golwe en winde oorweldig ons heeltemal. Dit voel as’t ware asof ons gaan vergaan...
In Matteus 8:23-27 (AFR20) lees ons van Jesus en die dissipels wat in só ’n fisiese storm vasgevang was:
“²³𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑜𝑡 𝑔𝑒𝑘𝑙𝑖𝑚 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑑𝑖𝑠𝑠𝑖𝑝𝑒𝑙𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑣𝑜𝑙𝑔. ²⁴𝑆𝑘𝑖𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑏𝑎𝑟𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 '𝑛 ℎ𝑒𝑤𝑖𝑔𝑒 𝑠𝑡𝑜𝑟𝑚 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑒 𝑙𝑜𝑠, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑙𝑤𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑜𝑡 𝑜𝑜𝑟𝑠𝑝𝑜𝑒𝑙 ℎ𝑒𝑡. 𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑙𝑎𝑎𝑝. ²⁵𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑎𝑘𝑘𝑒𝑟 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑒𝑛 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝: “𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑟𝑒𝑑 𝑜𝑛𝑠! 𝑂𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑎𝑎𝑛!” ²⁶𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝐻𝑜𝑒𝑘𝑜𝑚 𝑖𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑎𝑛𝑔, 𝑘𝑙𝑒𝑖𝑛𝑔𝑒𝑙𝑜𝑤𝑖𝑔𝑒𝑠?” 𝑇𝑜𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝐻𝑦 𝑜𝑝 𝑒𝑛 𝑏𝑒𝑠𝑡𝑟𝑎𝑓 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑒. 𝐸𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑘𝑎𝑙𝑚 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑. ²⁷𝐷𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑤𝑎𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑑 𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑊𝑎𝑡𝑡𝑒𝑟 𝑠𝑜𝑜𝑟𝑡 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒́ 𝑑𝑎𝑡 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑒 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑠𝑎𝑎𝑚?””
Ons geloof is dikwels vasgevang in ’n storm, as gevolg van die storms van die lewe. Skielike veranderings, terugslae, mislukkings, gesondheid, verbrokkelde verhoudings, verlies van belangrike dinge en ook verlies van geliefdes, kom dikwels en begin hard slaan teen ons bootjie. Ons geloof word selfs somtyds geskud en partymaal laat dit ons hulpeloos voel. Dit begin voel of ons verdrink in die golwe van vrees en wanhoop.
Ons weet dat God met ons is en dat ons geen onheil hoef te vrees nie, maar ons omstandighede – soos die dissipels – oorweldig ons. Ons probeer gewoonlik eers self alles doen om te sorg dat ons bootjie nie sink nie en dan, wanneer ons sien ons kan dit nie uit ons eie regkry nie, roep ons na Jesus. In die middel van die chaos, wanneer dit voel of ons bootjie begin sink, slaap Jesus... “Gee Hy nie om nie? Hoekom het hy nie vir ons kalm waters voorsien nie? Gee Hy nie om dat die storms van die lewe my laat vergaan nie?”, vra ons dalk. Maar Jesus het geslaap – nie omdat Hy nie omgee nie, maar omdat Hy nog altyd in beheer was. Jesus het gewag dat ons op Hom sal vertrou. Jesus was nie vir enige oomblik bekommerd nie, want Hy is God en Hy is almagtig. Geloof in Jesus gee ons vrede en stabiliteit te midde van die lewe se storms.
Johannes 1:1-5 leer ons dat Jesus self alles geskape en tot stand gebring het. Ja, Jesus was nog altyd daar en Hy is ook nou met jou. Jesus het nog altyd volmag gehad oor die Skepping en Hy het ook volmag oor al die storms in jou lewe. In die oog van ’n tornado, reken wetenskaplikes, is dit heeltemal kalm. Daarom, in die middel van die storms van jou lewe, is Jesus se vrede en vra Hy met groot liefde en ontferming: “Hoekom is jy bang, kleingelowige? Weet jy nie dat jy altyd op My kan vertrou nie?”
Ja, in ons lewens sal ons dikwels storms ervaar – uitdagings wat ons vrede en geloof sal bedreig. As ons ons vertroue in Jesus plaas, sal ons agterkom dat Hy nie slaap nie, maar dat Hy gereed staan om ons harte en ons gedagtes weer te kalmeer. Selfs in die middel van die ergste storms van ons lewens, is ons Redder met ons en sal Hy ons vrese en twyfel bedaar en ons weer bring na waar daar kalmte en vrede is.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
In die storms van my lewe is Jesus met my. Jesus is my bron van vrede en hoop.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, dankie vir U teenwoordigheid in- en u gesag oor die lewe se storms. Soms voel dit of die storms van die lewe my gaan oorweldig. Versterk my geloof, Here, sodat ek in u krag kan vertrou om die storms stil te maak en vrede in my hart te bring. Help my, soos die dissipels, om vertroosting in u onwrikbare liefde te vind. Ek loof en prys U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟔 – 𝐖𝐢𝐞 𝐢𝐬 𝐉𝐞𝐬𝐮𝐬 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Die kerk van vandag en die kerk van die eeue is gebaseer op die kragtige belydenis van Petrus in Matteus 16:16. Jesus het die vraag gevra oor wie die mense sê Hy is, en toe vra Hy aan die dissipels: “𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑒̂ 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑠 𝐸𝑘?” (vers 15) Petrus se antwoord en belydenis, “𝑈 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠, 𝑑𝑖𝑒 •𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑𝑒 𝐺𝑜𝑑.”, is die belydenis wat ons tot vandag toe nog anders maak as die wêreld wat weier om te glo.
Van die begin van die mensdom af, was dit God se visie om saam met Sy mense in volmaakte gemeenskap te wees. Toe die mens se eie keuses en vrye wil hierdie visie verwerp het en deur middel van die sonde die verhouding baie skade aangerig het, het God alreeds ’n plan begin onthul om die pad terug na Hom te bied. God se plan het bestaan uit die opbou van Abraham se nageslag tot ’n groot nasie en om dit nog vêrder uit te brei in die liggaam van Christus deur Abraham se nageslag. So het die verhaal van Israel, mense uit alle nasies op die eerste koms van Christus gewys – en déúr Hom, op God se plan om ’n verhouding met Sy volk te herstel.
Daarom vra Jesus net voor Sy kruisiging daardie belangrike vraag aan Sy dissipels en verduidelik daardeur aan hulle hulle rol om God se uiteindelike visie vir die komende koninkryk te verwesenlik. Matteus 16:13-19 beklemtoon dat God se plan vir gelowiges steeds van krag is; die visie is dat gelowiges bymekaar moet kom in ’n gemeenskap wat tot vandag toe voortduur.
Na die opstanding en hemelvaart van Jesus het God hierdie gemeenskap, die kerk, gevorm en gelei deur Sy dissipels. Die verhaal van die kerk wys mense van alle nasies op die wederkoms van Christus wanneer Hy die oorspronklike visie van God ten volle sal herstel. As kerk moet ons lewens bely, soos Efesiërs 4:15 ons leer: “... 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑖𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑏𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑙𝑦 𝑒𝑛 𝑠𝑜 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑝𝑠𝑖𝑔𝑡𝑒 𝑔𝑟𝑜𝑒𝑖 𝑛𝑎 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑡𝑜𝑒. 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑓”. Daar is baie maniere waarop God Sy doel op aarde kan bereik, maar ons moet glo dat ons, die kerk, die primêre werktuig daarvoor is. Dit is hoe God dit beplan het.
Wie sê jy is Jesus? Jou belydenis maak jou deel van die liggaam van Christus. Onthou: In die liggaam van Christus behoort jy aan ’n familie wat gefokus is op al die dinge van God, wat goed, reg en gesond is. In die liggaam van Christus sal jy vinniger groei in jou wandel met God. As gevolg van ons nuwe identiteit in Christus, leef ons om uit te druk wie ons in Christus is, nie om te bewys wie ons is nie. In die liggaam van Christus word jy deel van ’n beweging wat groter is as jy self.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is my belydenis in lyn met wie Jesus Christus is? Is ek deel van die liggaam van Christus en besef ek dat ek moet wees om God se plan tot uitvoering te bring?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Almagtige God, dat U U eie Seun gestuur het om ons met U te versoen. Uit ons eie sou ons dit nie regkry nie. Dankie dat U U kerk gevestig het, Here Jesus. Dankie dat ek kan deel wees van U groot plan. Help my om in te skakel en my deel te doen. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟒 – 𝐀𝐬 ’𝐧 𝐛𝐨𝐨𝐦 𝐢𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐰𝐨𝐮𝐝 𝐯𝐚𝐥 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is ’n gesegde wat vanuit Engels kom wat vra: “As ’n boom in die woud val, en niemand is daar om dit te hoor nie, maak dit ’n geluid?” Dalk sê jy “ja” en dalk “nee”. Die vraag is, veral as jy ‘nee’ antwoord, maak dit ’n verskil? Sommige mense sal sê dat die vraag oor die boom ’n betekenislose vraag is en dat ons eerder meer betekenisvolle vrae moet vra in die lewe. Sien, omdat die boom nie in jou eie woud geval het en dalk skade aangerig het aan iets wat jou eie is nie, maak dit dalk nie saak nie. Maar, wat as dit wel so was?
Die gees van apatie in die wêreld maak ons stomp. Ons stomp ons af vir die tragedies in die kerk, omdat dit ons eie gemeente dalk nie raak nie. Ons stomp ons af vir die boer wat vermoor word 500km van ons, want ons ken hom nie. Ons stomp ons af vir die tragedies van ander mense, omdat dit ons nie raak nie. Maar, wat maak jy as daardie boom in jou eie woud val – sonder klank, maar dit rig skade aan aan jou of jou geliefdes?
Wanneer tragedie tref in ons lewens, vra ons vrae. Ons wil weet hoekom. Ons wil weet hoekom nou? Ons wil weet hoekom daardie persoon of hoekom ek? Want sien, as daardie boom val en die lewe van een van God se kinders neem, dan begin ons wonder oor hoe sterk God regtig is en of Hy regtig oplet wat aangaan in die lewe en of Hy hoor as ons uitroep in pyn.
Wanneer iets in ons eie lewe gebeur waar ons naby aan die dood is, maar tog anderkant uitkom, dan is dit maklik vir ons om te sê “God het nog werk vir my om te doen”, of “God se engele hou wag oor my”. Maar hoe pas dit in God se “groter plan” as ’n jongmens sterf? Maklike trooswoorde van “Die kind is nou in ’n beter plek”, laat ons dalk so klein bietjie beter voel en die gedagte van ’n sagte briesie wat waai en geen bome wat val in die hemel om ons lewens te ontwrig nie plak ’n klein pleistertjie op ons seer. Maar, terwyl soveel mooi en goed in die hemel is, is die beste plek vir ’n jongmens in die fleur van sy/haar lewe, naby sy/haar ouers waar die een lewe wat ons hier het geniet kan word.
Ja, as tragedie vêr weg is, is dit makliker vir ons. Vir ons wat vêr weg is, bring die afstand vertroosting, omdat daardie gebeure en daardie lewe nie heeltemal eg is vir ons nie. Ons ken dalk nie daardie mense nie en dis makliker om die tragedie toe te reken aan menslike dwaasheid, of dalk die boosheid van die mensdom en sonde. Maar as die boom in jou eie woud val, waar is God?
Ek weet dat alles tot hier dalk bietjie swartgallig klink, maar hierdie is die vra en gevoelens waarmee elkeen van ons worstel – veral as ’n tragedie naby- of in ons huis tref. Dalk is jy iemand wat dadelik sterk staan en nooit sulke vrae vra nie, maar dalk val jou hele wêreld in om jou. Die hoekom vrae ten tye van ons hartseer word nie altyd beantwoord deur Jesus se woorde in Matteus 5:45 (AFR20) wat sê: “𝐻𝑦 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑠𝑦 𝑠𝑜𝑛 𝑜𝑝𝑘𝑜𝑚 𝑜𝑜𝑟 𝑠𝑙𝑒𝑔𝑡𝑒 𝑒́𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑒𝑛 𝐻𝑦 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑟𝑒𝑒̈𝑛 𝑜𝑜𝑟 𝑤𝑒𝑡𝑠𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑠𝑎𝑚𝑒𝑠 𝑒́𝑛 𝑤𝑒𝑡𝑠𝑣𝑒𝑟𝑏𝑟𝑒𝑘𝑒𝑟𝑠.” Maar tog: “𝑂𝑛𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑡𝑒𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑑𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑒𝑒𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑦 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑛𝑒𝑚𝑒 𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑖𝑠;” (Romeine 8:28 AFR20) – ja, alles wat goed is en alles wat sleg is, laat God ten goede vir ons meewerk – al maak niks daarvan nou sin nie.
Om ’n kind van God te wees en om Hom lief te hê – te midde van hartseer, pyn en lyding – beteken dat ons soms in die reën sal staan en huil vir die tragedies in die lewe wat geen sin maak nie en waarvoor God dit goeddink om nie vir ons antwoorde te gee nie. Om ’n kind van God te wees, beteken dat as ’n boom in ’n woud val, is God daar om dit te hoor en daarom is Hy ook by jou om jou te dra.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God is by my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie dat ek nooit alleen is nie. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟐 – 𝐃𝐢𝐬 𝐚𝐥 𝐰𝐚𝐭 𝐞𝐤 𝐡𝐞𝐭 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Terwyl ons weet dat ons tevrede moet wees met wat ons het en, alhoewel ons glo dat God in elke behoefte sal voorsien (Matt. 6:25-34), smag ons so dikwels na meer. Ons wil graag meer kan doen en beter kan doen – ook vir die Here. Party van ons bid selfs daarvoor. Dalk het jy ook al in die verlede só gebid: “Here, ek weet ek mag seker nie eintlik hierdie vra nie, maar seën asseblief my finansies, sodat ek meer geld sal hê. Ek belowe dat ek meer vir die kerk sal gee. Dalk kan ek die Lotto wen of iewers erf? Hoe ook al, Here, kan ek net asseblief bietjie meer hê, sodat ek minder bekommernis het en minder sal sukkel?”
Dalk klink só gebed vreemd vir jou, of dalk het jy ook al in die verlede iets soortgelyk gebid. Ja, ons weet ons moet tevrede wees met wat ons het, maar dit sal darem soveel makliker wees as ons meer het, nè?
Sien, die eintlike probleem is nie dít wat ons het nie, maar hoe ons daarna kyk. Ons sien dat ons minder het as ander en dan begin ons dink dat dit nie genoeg is nie. Selfs ook as dit kom by ons bediening vir God. Ons dink dat ons nie genoeg talent het nie; of nie genoeg geld nie; of nie genoeg gawes nie; of nie genoeg tyd nie. In ons oë, sal ons nooit genoeg hê nie, want van een ding is daar gewoonlik nie genoeg by ons nie... Ons het net te min geloof.
Daar was Jesus, langs ’n meer, waar Hy eintlik wou alleen wees – nadat Hy die slegte nuus van Johannes die Doper se dood gehoor het. Skielik is daar duisende mense om genees te word, geleer te word, om Hom te volg. Hulle siele word gevoed met die brood van die ewige lewe, maar hulle liggame is nie gevoed nie. Dit is lank na etenstyd en die mense raak onrustig. ’n Klein seuntjie staan eenkant met 5 brode en 2 vissies en dink by homself: “Ek sou graag hierdie vir die Here wil aanbied, maar dit is nie genoeg nie. Ek wil graag help om hierdie duisende mense te voed, maar hiérdie bietjie kos sal dit nie maak nie. Netnou lag Jesus vir my... Maar, wag so bietjie... Dit is dan Jesus hierdie. Ek het gesien watter wonderwerke Hy verrig. Ek is seker dat my ou 2 vissies en 5 brode genoeg sal wees vir Hom om mee te werk. Ek sal wat ek het, vir Hom gee.” Die dissipels was op die punt om die mense weg te stuur.
“¹⁶𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑎𝑛𝑡𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑: “𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑜𝑒𝑓 𝑛𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑔 𝑡𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒; 𝑔𝑒𝑒 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑡𝑒 𝑒𝑡𝑒.” ¹⁷𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑒̂ 𝑡𝑜𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝐻𝑜𝑚: “𝑂𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟 𝑛𝑒𝑡 𝑣𝑦𝑓 𝑏𝑟𝑜𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑡𝑤𝑒𝑒 𝑣𝑖𝑠𝑠𝑒.” ¹⁸𝐻𝑦 𝑠𝑒̂ 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟: “𝐵𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑖𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑀𝑦.”” – Matteus 6:16-18 (AFR20)
Ons weet wat verder gebeur het: Jesus voed meer as 5000 mense met daardie 2 vissies en 5 brode (Joh. 6:1-15; Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17) – die enigste wonderwerk wat in al 4 die evangelies opgeteken is.
Soms kyk ons na die lewe en dink: “Ek wens ek het meer gehad. Ek wens ek kon meer doen. Ek wens... maar dit is al wat ek het...” Die feit dat hierdie wonderwerk van Jesus in elk van die evangelies opgeteken is, moet vir ons betekenis dra. God gee vir jou wat jy nodig het – dis genoeg. God gee vir jou genade – dis meer as genoeg. God gee vir jou liefde – ook meer as genoeg. Dít wat jy uit God se hand ontvang, is genoeg – as jy dit teruggee vir Hom. Dít wat jy het, is dalk min in jou oë, maar in God se hande is dit meer as genoeg. Moenie terughou nie. Vat daardie geloofsprong en vertrou God om jou, en dít wat jy het, te gebruik, sodat die menigte om jou gevoed kan word met God se lewegewende Woord.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Dít wat ek het, is genoeg... in God se hande.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, neem my 2 vissies en 5 brode en doen in my lewe en in die lewe van almal om my meer as wat ons ooit kan verwag. Tot U eer en verheerliking alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟏 – 𝐊𝐮𝐢𝐞𝐫 𝐣𝐲 𝐬𝐚𝐚𝐦 𝐬𝐨𝐧𝐝𝐢𝐠𝐞 𝐦𝐞𝐧𝐬𝐞 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Kyk, as daar nou een ding is wat ons mense graag doen, is dit om ander mense te oordeel. Ten minste eenmaal per week hoor jy hoe iemand vir jou sê: “Het jy gehoor wat watsenaam nou weer gedoen het?” Ons sê ons steur ons nie aan skinderstories nie, maar ons luister so graag as iemand iets te sê het oor iemand anders of as ons self iets oordelend oor iemand anders kan sê. Ons hou onsself so selfvoldaan en kritiseer iemand se optrede of lewenstyl, sodat ons onsself daardeur kan verontskuldig. Maar wat sê mense oor ons? ...
Sien, ons sal gou vir ander mense vertel dat ons ons nie meng met die semels nie, want ons sal nie dat die varke ons opeet nie, maar saam met wie kuier jy? Kuier jy dalk saam met sondaars? Voordat jy daardie vraag antwoord, hoor eers wat sê Paulus:
“¹𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢, 𝑜 𝑚𝑒𝑛𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝑤𝑖𝑒 𝑗𝑦 𝑜𝑜𝑘 𝑎𝑙 𝑖𝑠, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑜𝑛𝑡𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑛𝑖𝑒. 𝑀𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑝𝑒𝑟𝑠𝑜𝑜𝑛 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑝𝑟𝑒𝑒𝑘, 𝑣𝑒𝑟𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑗𝑦 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑗𝑜𝑢𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝑑𝑖𝑒𝑠𝑒𝑙𝑓𝑑𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛. ²𝑂𝑛𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑛𝑎 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑜𝑜𝑟 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑘𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑢𝑙𝑘𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛. ³𝐷𝑖𝑛𝑘 𝑗𝑦, 𝑜 𝑚𝑒𝑛𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑢𝑙𝑘𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑡𝑒𝑟𝑤𝑦𝑙 𝑗𝑦 𝑑𝑖𝑒𝑠𝑒𝑙𝑓𝑑𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑟𝑦𝑠𝑝𝑟𝑖𝑛𝑔? ⁴𝑂𝑓 𝑣𝑒𝑟𝑎𝑔 𝑗𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑦𝑘𝑑𝑜𝑚 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑔𝑜𝑒𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑎𝑎𝑔𝑠𝑎𝑎𝑚ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑, 𝑒𝑛 𝑏𝑒𝑠𝑒𝑓 𝑗𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑗𝑜𝑢 𝑡𝑜𝑡 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑤𝑖𝑙 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑛𝑖𝑒?” – Romeine 2:1-4 (AFR20)
Ja, ons oordeel baie gou oor ander mense, terwyl ons weet dat die oordeel slegs God toekom. Ons wil so graag onsself verontskuldig deur ander mense se sondes uit te wys, sodat ons beter oor onsself kan voel, maar eintlik is ons almal sondig. Elkeen van ons is ’n sondaar... So, kuier jy saam sondige mense?
Wat Paulus ons eintlik hier wil leer, is dat ons anders na mense moet begin kyk. Ons moet besef dat ons ook sondaars is en dat God se genade vir elkeen van ons genoeg is. Ons moet besef dat ons kan verander en dat ons elke dag meer en meer soos Jesus moet word. En wat het Jesus anders gedoen? Jesus het saam met sondige mense gekuier.
In Lukas 19 lees ons hoe Jesus by ’n veragte man met die naam van Saggeüs aan huis gegaan het. Volgens die mense in Jerigo, was Saggeüs ’n berugte sondaar gewees. Maar Jesus sê as’t ware vir Saggeüs: “Saggeüs, ek ken jou naam, en ek het na jou gesoek. Ek gee nie om wat jy al in die verlede gedoen het nie. Ek is lief vir jou net soos jy is en omdat Ek eintlik nog liewer vir jou is as dit, wil ek hê dat jy verander. Ek wil jou genade bewys en ek wil jou vriend wees.”
Saggeüs se hele lewe het daardie dag verander toe Jesus saam met hom, ’n sondaar, aan huis was. Dit was nie omdat Saggeüs uit sy eie goed was nie, maar omdat hy besef het hoe lief Jesus hom het en hoe groot God se genade is. Dit het nie saakgemaak hoe erg mense Saggeüs veroordeel het of hoe erg hy dalk al in die verlede ander mense veroordeel het nie. Wat saakgemaak het, is dat Jesus hom onvoorwaardelik liefgehad het.
Kuier jy saam met sondige mense? Ek hoop so, want God het mense in jou lewe geplaas omdat Hy op jou staatmaak, nie om hulle te oordeel of fout te vind met hulle nie, maar bloot net om hulle lief te hê. Soms is die mense wat ons dink die vêrste van koers af is, soos Saggeüs en onsself, God se uitgesoekte instrumente. Wees daar waar God jou wil hê. Hou aan om sy liefde te deel met sondige mense, nét soos Hy steeds sy liefde aan jou en my, sondige mens, bewys.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek moenie oordeel nie. Ek moet ander mense liefhê, soos God my lief het.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, dankie dat U verder sien as wat ek was en vooruitsien na wat ek in U kan wees. Dankie dat U by my aan huis gaan en dat U my help om te verander. U liefde en genade help my om te bekeer van sonde. Help my om ook ander mense lief te hê soos U my lief het. Tot eer en verheerliking van U grote Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟏𝟎 – 𝐄𝐤 𝐢𝐬 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek hoor so dikwels mense sê dat hulle is wat hulle is en dat mense hulle nou maar so moet aanvaar of mense moet dit maar los. Soms sal mense selfs sê dat hulle is soos God hulle gemaak het en as enigiemand ’n probleem daarmee het, moet hulle dit maar met God opvat... Sjoe... as jy al ooit so iets gesê het, beteken dit dat jy sê God maak foute en dat God tevrede is met mense wat nie streef om getransformeer te word terug na God se beeld nie. Dis so asof ons somtyds sê: “Los my uit. Ek is wie ek is en klaar!”
Maar daar is net Een wat dit kan sê:
“¹¹𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑊𝑖𝑒 𝑖𝑠 𝑒𝑘, 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑓𝑎𝑟𝑎𝑜 𝑘𝑎𝑛 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑙𝑒𝑖?” ¹²𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑎𝑛𝑡𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑: “𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑏𝑦 𝑗𝑜𝑢. 𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 ℎ𝑒𝑡: 𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝑢𝑖𝑡 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑖 ℎ𝑒𝑡, 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑜𝑝 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑟𝑔 𝑑𝑖𝑒𝑛.” ¹³𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝐾𝑦𝑘, 𝑎𝑠 𝑒𝑘 𝑏𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑚 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑒̂, ‘𝐷𝑖𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑣𝑎𝑑𝑒𝑟𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑛𝑎 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟,’ 𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑎 𝑚𝑦 𝑑𝑎𝑛, ‘𝑊𝑎𝑡 𝑖𝑠 𝑠𝑦 𝑛𝑎𝑎𝑚?’ 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑒̂?” ¹⁴𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑒̂ 𝑡𝑜𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠: “𝐸𝑘 𝐼𝑠 𝑊𝑖𝑒 𝐸𝑘 𝐼𝑠.” 𝐻𝑦 𝑠𝑒̂ 𝑡𝑜𝑒 𝑜𝑜𝑘: “𝑆𝑜 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑎𝑛𝑡𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑, ‘𝐸𝑘 𝐼𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑛𝑎 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟.’ ”” – Eksodus 3:11-14 (AFR20)
Gilbert Keith Chesterton (1874-1936) het eenmaal ’n artikel in die Londen Times geantwoord. Die artikel het die vraag gevra: “𝘞𝘢𝘵 𝘪𝘴 𝘧𝘰𝘶𝘵 𝘮𝘦𝘵 𝘥𝘪𝘦 𝘸𝘦̂𝘳𝘦𝘭𝘥?” Chesterton het op ’n baie mooi vel papier geskryf:
“𝘌𝘬 𝘪𝘴.
𝘋𝘪𝘦 𝘶𝘸𝘦,
𝘎.𝘒. 𝘊𝘩𝘦𝘴𝘵𝘦𝘳𝘵𝘰𝘯”
Ja, dit is wat fout is met die wêreld nog altyd. God is die enigste Een wat is, maar ons almal dink nog altyd óns is. God is die Een wat mens geword het in Jesus Christus en ons sondes betaal het aan ’n bloedige kruis. God is die Een wat ons red. God is die Een wat ons oopsluit as ons onsself toesluit in sonde. God is die Een wat die antwoord is op al ons vrae en uitdagings. God is die Een wat ons verlos van onsself. God is wie Hy is – net Hy, nie ons nie.
Die Hebreeuse basis van die woord vir “Ek is” en die naam van God, kom op dieselfde neer. God is... alles. Alles wat goed is; alles wat mooi is; alles wat hoop bring; alles wat ons verwyder van die ewige straf. God is die enigste Een wat dit alles kan wees, sonder om enigsins dit hoef te verduidelik. Want God is liefde. Liefde, onbeskryflik groot wat in genade aan ’n kruis geopenbaar was aan ons, sodat ons nie meer self sal sê: “Ek is” nie, maar God is. Ja, minder ek en meer God. Dis wat Moses destyds al aan die Israeliete moes vertel, sodat hulle bietjie oor hulself sou kom en dit is wat God nog altyd vir ons vertel en wys deur sy oneindige liefde vir ons, maar tog dink ons nogsteeds dat óns so oulik is...
God kan nie lieg nie en daarom is Hy wie Hy is en daarom is Hy só lief vir ons – ja, net soos ons is – maar nog liewer, sodat Hy ons nie wil los soos ons is nie. Al wanneer jy kan sê “Ek is”, is wanneer God jou alles is.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God is wie God is. Wat ’n wonderlike voorreg om ’n kind van God genoem te word. God is die antwoord. Ek moet net die regte vraag vra.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God, dankie dat U is. Wees alles vir my. Alle lof, eer en aanbidding kom U alleen toe. Dankie dat U my lief het soos ek is, maar nog liewer dat U my nie wil los soos ek is nie. Ek het U lief Here. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟗 – 𝐇𝐨𝐮 𝐨𝐩 𝐬𝐨𝐞𝐤 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons met uitdagings in die lewe te staan kom, is dit dikwels moeilik om te fokus op die oplossing of selfs net die moontlikheid van verligting. Ons weet dat God met ons is, selfs in die donkerste kloof (Ps. 23:4 / gister se oordenking), maar tog kom die “wat as” vrae by ons op. Ons wonder oor hoe lank dit nog sal duur of hoe ons deur daardie kloof sal kom. Ons wonder of ons beter ander kant sal uitkom en wat dalk môre op ons wag... Ons soek antwoorde, maar dis nêrens te vinde nie...
Bekommernis is iets in die lewe wat elke persoon een of ander tyd ervaar. Niemand is immuun teen kommer nie en té gereeld laat ons toe dat dit baie van ons aandag en energie in beslag neem. Ons laat soms selfs toe dat bekommernis ons lewens begin heers. Ons vra onsself af: “Wat gaan ék hieraan doen?” ... Jesus sê:
“³¹ “𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑘𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟 𝑒𝑛 𝑣𝑟𝑎, ‘𝑊𝑎𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝑒𝑒𝑡?’ 𝑜𝑓 ‘𝑊𝑎𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑟𝑖𝑛𝑘?’ 𝑜𝑓 ‘𝑊𝑎𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝑎𝑎𝑛𝑡𝑟𝑒𝑘?’ 𝑛𝑖𝑒. ³²𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑖𝑑𝑒𝑛𝑛𝑎𝑠𝑖𝑒𝑠 𝑠𝑜𝑒𝑘. 𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑠𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑔 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑛𝑜𝑑𝑖𝑔 ℎ𝑒𝑡. ³³𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑒𝑒𝑟𝑠 𝑑𝑖𝑒 •𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑦 •𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑒𝑛 𝑎𝑙 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑦𝑔𝑒𝑣𝑜𝑒𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑. ³⁴𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑢𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑘𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑜̂𝑟𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑚𝑜̂𝑟𝑒 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑜𝑚 𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑏𝑒𝑘𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟. 𝐸𝑙𝑘𝑒 𝑑𝑎𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑.”” – Matteus 6:31-34 (AFR20)
Dit is ’n baie eenvoudige les en belofte wat God ons gee. Wanneer ons uitdagings in die gesig staar en dit lyk of die antwoord of oplossing ons ontduik, moet ons leer om stil te word. In die stilte – by God – sal ons daardie stil stem van God se Gees hoor wat ons gedurig herinner: “Ek weet van jou probleem. Jy hoef nie te wonder oor wat jy moet doen nie. Wag in my vrede en op my tydberekening. Ek sal jou wys hoe Ek jou hierdeur dra. Moenie bekommerd wees oor môre nie, want ek is alreeds daar. Ek het jou nog nooit in die steek gelaat nie en Ek sal nooit nie.”
Is daar dalk dinge wat pla in jou huwelik of jou finansies? Het jy moontlik vrae oor jou gesondheid? Is daar dalk verhoudings wat begin verbrokkel of wonder jy waar of wat jy môre moet doen en waar jy moet wees? Ontbreek die antwoorde jou en is jy al moeg gesoek daarna? Hou op soek! Neem daardie tyd wat jy sou spandeer om antwoorde te soek en loof God dat Hy in beheer is. Dank die Here dat Hy besig is om te werk in- en aan jou probleme en ook in- en aan jou.
Daar is ’n Engelse sêding wat nogal werk wanneer bekommernis en twyfel ons begin oorneem: “𝑳𝒆𝒕 𝒈𝒐! 𝑳𝒆𝒕 𝑮𝒐𝒅!” Laat God jou bekommernis vervang met sy onbeskryflike, oorheersende vrede en die versekerde wete dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God is in beheer.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse God en Vader, daar is soveel dinge in die lewe waaroor ek geen beheer het nie. Dankie dat ek kan weet dat ek nie deur hierdie dinge gevange gehou hoef te wees nie. Dankie dat U vir u skepping sorg en dat ek deel is van die kroon van u skepping. Dankie dat U sal voorsien presies wat ek nodig het wanneer ek dit nodig het. Dankie dat ek in u vrede kan rus. Ek loof U en prys U, in Jesus se Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟖 – 𝐃𝐢𝐞 𝐝𝐨𝐧𝐤𝐞𝐫𝐬𝐭𝐞 𝐤𝐥𝐨𝐨𝐟. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer donker tye tref, weet ons dat ons op God kan vertrou. Ons weet dat God altyd daar is en dat Hy ons veilig aan die ander kant sal kry. Maar soms is daardie tye baie, baie donker en word ons oorval met angs en vrees. Ons weet God sal ons aan die ander kant kry, maar ons vergeet dat Hy ook daar is – in die donker – om by ons te wees.
Dawid het ook in sy lewe deur baie donker tye gegaan en, as skaapwagter, was hy ook fisies in donker klowe en ander donker plekke gewees. Toe Saul hom vervolg het, moes hy vir sy lewe vlug en in ’n donker grot wegkruip. Maar Dawid het geweet hy is nie alleen nie:
“⁴𝑆𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑎𝑠 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒 𝑘𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑖𝑛𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑎𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑈 𝑖𝑠 𝑏𝑦 𝑚𝑦. 𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑢 𝑠𝑡𝑎𝑓 𝑒𝑛 𝑢 𝑠𝑡𝑜𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑟𝑢𝑠𝑠𝑡𝑒𝑙.” – Psalm 23:4 (AFR20)
Sien, wanneer jy weet God is met jou, soos Dawid geweet het, sal jy vind dat jy vrede en ’n loflied kan vind in beide die grot, sowel as die paleis. Dawid het God ingenooi in sy lewe en geweet dat, selfs al nooi hy Hom nie, Hy in elk geval daar sal wees. Selfs al raak alles om jou letterlik of figuurlik donker, kan jy weet dat die almagtige God by jou is. Jy hoef nie te kla oor die moeilikheid, terwyl jy wag dat God jou daarúít kry nie.
Wanneer jy net daarop fokus dat God jou uit die donker kloof moet bring, sal jy vir seker begin om gefrustreerd te wees. Jy sal ongeduldig wag dat die situasie verander, maar dit gaan voel soos ’n ewigheid. Wanneer jy God deel maak van jou situasie en Hom vra om in te kom, kan jy gerus wees. Dan kan jy ook soos Dawid beaam: “𝑆𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑎𝑠 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒 𝑘𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑖𝑛𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑎𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑈 𝑖𝑠 𝑏𝑦 𝑚𝑦. 𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑢 𝑠𝑡𝑎𝑓 𝑒𝑛 𝑢 𝑠𝑡𝑜𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑟𝑢𝑠𝑠𝑡𝑒𝑙.”
Ja, ons hoef nie bang of bekommerd te lewe nie, want ons weet dat die God wat ons gemaak het en ons oneindig lief het altyd by ons is. God is by ons in elke donker kloof van die lewe. Op God se presiese, regte tyd sal Hy ons bring waar ons veronderstel is om te wees. Ons hoef nie onsself te frustreer en slapelose nagte te hê oor ’n eenvoudige donker kloof nie.
Wanneer ons God oral in ons lewens innooi, vra ons nie meer dat God net die situasies in ons lewens verander nie, maar dat Hy óns sal verander. God sal ons verander en ons laat groei in ons geloof, sodat ons sterker aan die ander kant sal uitkom en sodat ons sy grootheid sal besef en ervaar.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe dikwels wag ek dat God moet kom om ’n uitkoms te bring, terwyl Hy heeltyd by my is? Ek hoef geen donker kloof van die lewe te vrees nie, want God is by my en sy stok en staf beskerm en lei my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, ek het geen rede om ooit bekommerd te wees oor enigiets in my lewe nie, want U is met my in elke donker kloof van die lewe. U is my Goeie Herder en ek weet dat U my beskerm en my lei en my verander om meer op U te vertrou. Laat my rus en vrede vind in U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟕 – 𝐖𝐞𝐞𝐬 𝐛𝐢𝐞𝐭𝐣𝐢𝐞 𝐡𝐚𝐫𝐝𝐤𝐨𝐩𝐩𝐢𝐠. (Kliek hier vir die klankgreep)
Meeste van ons ken die verhaal van Moses en Aäron voor die farao in Egipte. God wil sy volk verlos uit Egipte, maar die farao speel speletjies met God se verteenwoordigers. Tog het God vóór die tyd al vir Moses gesê dat dit so sal wees:
“¹𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑛𝑡𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 ℎ𝑜𝑚: “𝐾𝑦𝑘, 𝐸𝑘 𝑔𝑒𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑠𝑎𝑔 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑓𝑎𝑟𝑎𝑜, 𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟 𝐴𝑎̈𝑟𝑜𝑛 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑣𝑜𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑒𝑒𝑠. ²𝐴𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝐸𝑘 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑒𝑙, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑦 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟 𝐴𝑎̈𝑟𝑜𝑛 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑟𝑎, 𝑒𝑛 ℎ𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑓𝑎𝑟𝑎𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑒𝑙 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑡𝑟𝑒𝑘 𝑢𝑖𝑡 𝑠𝑦 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑢𝑖𝑡. ³𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐸𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑓𝑎𝑟𝑎𝑜 ℎ𝑎𝑟𝑑𝑘𝑜𝑝𝑝𝑖𝑔 𝑚𝑎𝑎𝑘, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐸𝑘 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑡𝑒𝑘𝑒𝑛𝑠 𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑖𝑛 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑑𝑜𝑒𝑛. ⁴𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑙 𝑛𝑖𝑒 𝑛𝑎 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑙𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑎𝑛 𝑠𝑎𝑙 𝐸𝑘 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒 𝑚𝑦 𝑚𝑎𝑔 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑎𝑟: 𝑚𝑒𝑡 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑟𝑒𝑑𝑑𝑖𝑛𝑔𝑠𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝐸𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑚𝑚𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙 𝑢𝑖𝑡 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑣𝑟𝑦. ⁵𝐴𝑠 𝐸𝑘 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒 𝑡𝑟𝑒𝑓, 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑒𝑓 𝑑𝑎𝑡 𝐸𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑛 𝑠𝑎𝑙 𝐸𝑘 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙 𝑡𝑢𝑠𝑠𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑡𝑟𝑒𝑘.”” – Eksodus 7:1-5 (AFR83)
God het geweet dat die farao nee sou sê, maar tog het hy vir Moses en Aäron opdrag gegee om met hom te gaan praat. Omdat God ’n groter plan met al hierdie gebeure gehad het, het Hy die farao se hart nog meer verhard sodat God sy mag aan die mense van Israel en Egipte kon wys. Moses moes herhaaldelik die farao se bespotting en woede in die gesig staar toe dit gelyk het asof hy nooit van plan sou verander nie.
Die farao was baie hardkoppig, maar Moses moes nog hardkoppiger wees, om aan te hou om God se Woord te verklaar én om die farao se hardkoppigheid te oorleef.
Ons raak dikwels in die lewe gefrustreerd of gestres omdat ons omstandighede nie uitwerk soos ons beplan het nie, of omdat dit voel ons loop heeltyd teen ’n muur van teenkanting of hardkoppigheid vas. Ons bid en bid vir uitkoms of ’n oplossing, maar soms voel dit of niks gebeur nie en selfs asof die saak net vererger. Ons glo dat God die uitkoms sal bied, maar ons begin ook twyfel...
Soos Moses, moet ons ook leer om ander mense se hardkoppigheid en die hardkoppigheid van situasies te oorleef. Ons moet besef dat God se tydsberekening presies is. Ons moet hardkoppig wees in ons geloof en vashou daaraan en die feit dat God beter weet. Soms laat die Here dinge nie vir ons uitwerk nie, omdat Hy daardie spesifieke situasie gebruik om ons te laat groei as mens en in geloof. God gebruik dikwels moeilike tye om ons weer ons afhanklikheid van Hom te laat besef en sodat ons op ’n geestelike vlak bó dit kan uitstyg. Ons moet hardkoppiger wees as die situasie.
God belowe om alles (goed en sleg) ten goede te laat meewerk vir ons wat Hom lief het (Rom. 8:28). Glo in hierdie belofte. Wees hardkoppig teen die aanslae van die vyand wat jou wil laat twyfel in God se getrouheid.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is ek hardkoppig as dit kom by die suiwerheid van God se Woord en hoe ek dit oordra? Ek moet hardkoppig bly in my geloof, sodat ek bo my situasies, in God se krag, kan uitstyg.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, help my om standpunt in te neem en meer hardkoppig te wees in my vertroue in U. Laat my sterk staan in my geloof en vertrou dat U my deur moeilike uitdagings en hardkoppige situasies sal dra. Dankie dat U my krag gee om te volhard, sodat ek die dinge wat probeer om my terug te hou, sal oorleef. Ek weet dat u tydsberekening presies is en daarom wag ek op die oorwinning wat u bring in- en deur alle uitdagings. Ek loof en prys u Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟓 – 𝐖𝐞𝐞𝐬 𝐦𝐚𝐚𝐫 𝐬𝐰𝐚𝐤 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Vanoggend lees ek ’n dagstukkie van ’n redelik bekende TV evangelis en ek staan weereens verstom. Ek is glad nie ’n aanhanger van hierdie persoon nie en toe ek die stukkie lees, het ek net weer besef watter leuens sommige mense ander leer en hoeveel God se Woord al verdraai is. Die persoon neem een Bybelvers in Psalm 81 en skryf dan daaroor. Psalm 81:11 (AFR20) lees:
“ ¹¹𝐸𝑘, 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑖𝑠 𝑗𝑜𝑢 𝐺𝑜𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑢𝑖𝑡 𝐸𝑔𝑖𝑝𝑡𝑒𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑜𝑝𝑡𝑟𝑒𝑘 ℎ𝑒𝑡. 𝑀𝑎𝑎𝑘 𝑗𝑜𝑢 𝑚𝑜𝑛𝑑 𝑤𝑦𝑑 𝑜𝑜𝑝, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐸𝑘 𝑑𝑖𝑡 𝑘𝑎𝑛 𝑣𝑢𝑙.”
Alhoewel hierdie boodskap aan Israel bedoel was om hulle te motiveer om God te aanbid en terug te keer na Hom, sodat hulle die seën wat God hul belowe het, sal ontvang, kom hierdie evangelis en vertaal dit anders. Hy reken dat ons moet leer om ons monde groter oop te maak en kragtiger en meer veeleisende gebede te bid, sodat ons God se seën groter in ons lewens sal sien en meer van God sal ontvang. Hy reken dat as ons maar net tevrede is met hoe God tans in ons behoeftes voorsien, sal ons nie meer kry nie. Hy sê ons moet meer van God verwag, dan sal Hy meer gee... So asof ons dan aan God dikteer hoe en wat Hy moet doen... Nee wat, hierdie man het die kat aan die stert beet met sy voorspoed teologie.
Vreemd genoeg, in ’n ander dagstukkie, skryf hierdie einste man oor Paulus se “doring in sy vlees”. Weereens haal hy slegs een vers aan en skryf hy eerder oor hoe ons nie sal weet waarom God soms moeilike mense of situasies in ons lewens toelaat nie. Maar, as hy tog net verder wou lees en daaroor skryf... Dan sou hy ook agterkom dat sy benadering tot Psalm 81 ook verkeerd is. Paulus skryf:
“⁷...𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚, 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑘𝑒𝑒𝑟 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑏𝑙𝑎𝑠𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑔𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑚𝑎𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 '𝑛 𝑑𝑜𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑙𝑒𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒, '𝑛 𝑒𝑛𝑔𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑆𝑎𝑡𝑎𝑛, 𝑜𝑚 𝑚𝑦 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑢𝑖𝑠 𝑡𝑒 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑛. ⁸𝐻𝑖𝑒𝑟𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑑𝑟𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑠𝑚𝑒𝑒𝑘 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑤𝑦𝑘. ⁹𝑀𝑎𝑎𝑟 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑀𝑦 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑔, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑚𝑦 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑛 𝑠𝑤𝑎𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑜𝑙𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔.” 𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑠𝑎𝑙 𝑒𝑘 𝑚𝑦 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑤𝑒𝑟 𝑜𝑝 𝑚𝑦 𝑠𝑤𝑎𝑘ℎ𝑒𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑟𝑜𝑒𝑚, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑠𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑚𝑦 𝑘𝑎𝑛 𝑏𝑒𝑠𝑘𝑢𝑡.” – 2 Korintiërs 12:7b-9 (AFR20)
Sien, dis eenvoudig. God laat sommige lyding en beproewing toe in ons lewens – nie om sadisties of wreed te wees nie – maar om ín ons weer ’n behoefte te skep. ’n Behoefte aan God se voorsienigheid wat nooit sal teleurstel nie. Ons MOET tevrede wees met wat God ons gee en ons moet vrede vind in ons omstandighede. God se genade is vir ons genoeg en ons moet op Hom vertrou. Ons hoef nie altyd sterk te wees nie en ons hoef nie te streef na groter rykdom, groter magsposisies, groter aansien of enigiets groter nie. Ons moet net die groter mens wees – in nederigheid. Ons moet besef dat God in ons swakheid sterk is. Wanneer ons lyding, beproewing, vernedering, siekte, rou, of wat ook al sleg ervaar, is God daar en dít is seën genoeg. Dit is genade. Dit is genoeg.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ons kan nie wil dink dat ons in ons gebede God kan manipuleer nie. Ons het geen reg om te dink dat as ons die naam van Christen dra, dat ons Christus self is nie. God is God en ek is mens. Ek is wel God se mens en sy kind en daarom weet ek dat Hy altyd sal voorsien en dat ek in sy teenwoordigheid meer as genoeg het.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, U is God alleen. Vergewe my dat ek soms dink dat U volgens my pype moet dans. Here, die wêreld is vol valse leraars en verwronge teologieë. Help my om te bly in u waarheid en om nederig te bly. Dankie vir die dorings in my vlees wat my nederig hou, sodat ek aan U kan vasklou. Dankie dat U sterk is in my swakheid. U genade is vir my genoeg. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟒 – 𝐖𝐞𝐞𝐬 𝐠𝐫𝐨𝐨𝐭 𝐢𝐧 𝐧𝐞𝐝𝐞𝐫𝐢𝐠𝐡𝐞𝐢𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Kyk, dis nie lekker as jy aan die kortste ent van neerhalende mense trek nie. As ander dink hulle is soveel beter as jy of as jy uitgesluit word of jy word nie geken in sekere sake nie, dan kan dit nogal ’n impak hê op ’n mens se gemoed. Soms is mense openlik téén jou, maar meer dikwels is dit wat agter jou rug gesê of beplan word wat jou slapelose nagte kan gee.
Ek is iemand wat in die verlede nogal gou kwaad geword het. As daar iewers iets skeefgeloop het in my lewe, het ek gou ’n groot bohaai daaroor gemaak en gestry en baklei om dit reg te maak. Mense het geweet hulle moenie met my sukkel nie... Maar, soos die jare aangestap het, het God my geduld geleer en het ek rustiger geword. Dit krap nog baie aan my as daar ongeregtigheid of skynheiligheid is by mense, maar ek het geleer om nie meer my humeur te verloor nie. Soms kan ons nie anders as om daardie mense vierkantig in die oë te kyk nie en dan moet ons reg wees daarvoor. Dit kan ’n vreesaanjaende ervaring wees, of dit kan dalk baie vrede bring...
Saulus was seker dié grootste vyand van die vroeë kerk. Hy het baie trots daarin gevind om gelowiges in hegtenis te neem en in die tronk te sit. Maar toe verskyn Jesus aan Saulus en skielik was Saulus blind en hulpeloos. Skielik is hierdie skerminkel in sy diepste nood. Wat sou jy gemaak het as Saulus jou vervolg het, jou vriende in hegtenis laat neem het en selfs goedkeuring gegee het dat sommige van hulle om die lewe gebring moet word? Sou jy enigsins uitreik na só ’n persoon?
Daar in Saulus se grootste nood, stuur God ’n Christen met die naam Ananias om vir Saulus te bid en oor sy nood te praat. Ananias wou eers nie en het aan God probeer verduidelik dat Saulus nie jou maat is nie, maar God beveel Ananias om te gaan. Ananias het gegaan en, deur vir Saulus te bid, het Ananias goed gedoen aan iemand wat groot skade aan sy medegelowiges en die kerk aangedoen het.
“¹⁷𝐴𝑛𝑎𝑛𝑖𝑎𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑒𝑘, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑢𝑖𝑠 𝑏𝑖𝑛𝑛𝑒𝑔𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 ℎ𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑙𝑒̂, 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒: “𝑆𝑎𝑢𝑙, 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟, 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 – 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑘𝑦𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑚𝑒𝑒 𝑗𝑦 𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 – 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑘𝑎𝑛 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑒𝑛 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑.” – Handelinge 9:17 (AFR20)
Omdat God geweet het wat Hy beplan, het Saulus voortgegaan om die apostel Paulus te word, wat baie kerke gestig het, byna die helfte van die boeke van die Nuwe Testament geskryf het en ongelooflik baie gedoen het vir die evangelie en ons geloof. Ananias was die “groter persoon” gewees en het uitgereik na iemand waarna niemand wou uitreik nie.
Dalk het jy ook mense soos Saulus in jou lewe wat al jare teen jou is. Die teenkanting of bedreiging van hierdie mense is dalk nie so erg soos Paulus s’n was nie, maar dit is dalk mense wat neerhalend is teenoor jou en jou behandel asof jy hul mindere is. Sal jy kan goed wees vir daardie Saulus in jou lewe al het hy/sy jou nie reg behandel nie? Sal jy uitreik en goed wees teenoor daardie persoon wanneer hy/sy dit nodig het? Wees die groter persoon en seën diegene wat jou vervloek het. In hul tyd van nood, moenie jou hulp weerhou nie. God is regverdig en God beloon regverdigheid en barmhartigheid.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Bid ek vir my vyande? Sal ek gehoorsaam wees as God my beveel om goed te doen aan mense wat verkeerd teenoor my opgetree het? God beveel my om juis dít te doen.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, dankie dat, maak nie saak hoe sleg ek soms behandel word nie, U die een is wat my regverdig verklaar. Dankie, dat U die Saulusse in my lewe lief het. Dankie, dat U in hul lewens en ook in myne werk. Help my om die groter persoon, in nederigheid, te wees sodat ek aan hulle guns sal bewys en hulle sal seën. In Jesus se Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟑 – 𝐀𝐬 𝐣𝐲 𝐛𝐥𝐨𝐞𝐝 𝐬𝐰𝐞𝐞𝐭 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer die uitdagings van die lewe erg begin druk op ’n mens, dan hoor jy partymaal dat mense vir jou sê dat hulle bloed sweet. Ja, soms is die berg voor jou so hoog dat jy begin dink dat jy nooit daaroor sal kom nie. Jy begin wonder hoekom dit met jóú moes gebeur en of enigiemand anders ooit sal verstaan waardeur jy gaan.
Miskien is jy vandag op só ’n plek, of miskien lê daar so iets voor vir jou. Indien wel, wil ek jou vandag kom gerusstel dat daar Iemand is wat presies weet hoe dit voel – eintlik nog beter!
Die aand voor Jesus gekruisig is, het Hy na die tuin van Getsémané gegaan om te bid. Hy het presies geweet wat die lyding is wat Hy sou moes verduur. Hy was moeg, eensaam en so oorweldig deur emosie dat Sy sweet letterlik soos bloeddruppels was. Ja, Jesus het regtig – nie spreekwoordelik nie – maar regtig bloed gesweet. Onthou dat, alhoewel Jesus 100% God is, was Hy ook 100% mens gewees. Hy het alles gevoel wat ons voel. Hy het oorweldig gevoel. Hy het ook, soos ons dikwels doen, God gevra om eerder net hierdie onaangename ervaring weg te neem.
Alhoewel Jesus geweet het dat dit die Vader se wil is om hierdie ongelooflike, swaar straf oor Hom te bring, het sy menslikheid en die angs en vrees van wat voorlê, Hom oorweldig. Hy vra dat God hierdie lydensweg sal wegneem, maar tog ook dat die Vader se wil sal geskied. Maar wat baie belangrik is hier, is toe alles donker is en Jesus heeltemal alleen en verlate gevoel het, het Hy Hom na sy hemelse Vader gewend. Dan lees ons in Lukas 22:43 (AFR20):
“⁴³𝐷𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑒𝑛𝑔𝑒𝑙 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑎𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑘𝑦𝑛 𝑒𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘.”
In daardie oomblik toe dit gelyk het of Jesus nie kon aangaan nie, het God ’n engel gestuur om Hom te versterk.
God weet presies hoe swaar die las is wat jy dra. Hy sien dat jy die beste “jy” is wat jy kan wees as jy die kinders grootmaak, ’n verslawing beveg, uitdagings by die werk moet trotseer of selfs siekte of dood in die gesig staar. Wanneer dit voel of jou kragte jou begewe, moenie bekommerd wees nie, want engele kom. Hulp is op pad. Wanneer jy vertrou op God en steun op die krag van sy Gees in jou, sal jy krag voel wat jy nie gehad het nie, vreugde te midde van moedeloosheid, hoop reg in die middel depressie. Jy sal die krag hê om lyding te verduur, die goedheid en guns om berge te oorkom, die vasberadenheid om te oorleef. Dit is nie as gevolg van jou eie pogings nie; dis die krag van God in jou en ja, soms ook die engele wat God stuur om jou te versterk.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Jesus self het gesê: “²⁸ “𝐾𝑜𝑚 𝑛𝑎 𝑀𝑦 𝑡𝑜𝑒, 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑚𝑜𝑒𝑖𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑏𝑒𝑙𝑎𝑠 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝐸𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑟𝑢𝑠 𝑔𝑒𝑒. ²⁹𝑁𝑒𝑒𝑚 𝑚𝑦 𝑗𝑢𝑘 𝑜𝑝 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑒𝑛 𝑙𝑒𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑀𝑦, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝐸𝑘 𝑠𝑎𝑔𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑛𝑒𝑑𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑟𝑢𝑠 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑚𝑜𝑒𝑑. ³⁰𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑚𝑦 𝑗𝑢𝑘 𝑖𝑠 𝑑𝑟𝑎𝑎𝑔𝑙𝑖𝑘 𝑒𝑛 𝑚𝑦 𝑙𝑎𝑠 𝑖𝑠 𝑙𝑖𝑔.”” – Matteus 11:28-30 (AFR20).
Ek kan met enigiets na Jesus toe gaan en Hy sal my help.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, dankie dat U weet van al die swaar laaste wat ek soms dra. Dankie dat U die bron is van krag, wanneer dit voel of ek niks meer krag het nie. Dankie dat U selfs engele in verskillende vorme stuur om in my behoeftes te voorsien. In U het ek die krag om enigiets wat ek in die gesig moet staar te verduur. Ek loof en prys U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟐 – 𝐇𝐞𝐫𝐢𝐧𝐧𝐞𝐫 𝐡𝐮𝐥𝐥𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek onthou as kind hoe ons altyd gesit en luister het na die stories wat ons ouers en oumas en oupas ons vertel het van die “ou dae.” Hulle het ons vertel van die speletjies wat hulle gespeel het, die manier waarop hul dinge gedoen het, hoe dinge “anders was”, en natuurlik die dinge wat hulle geleer het, hoe dit geleer was en hoe ons nogsteeds daaruit kan leer. Partykeer het ons gedink dis nogal “cool”, maar ander kere het ons gedink dis sommer dom gewees.
Noudat ek self kinders het, kom ek agter dat ek dieselfde met hulle gedoen het. Ek het ook probeer om hulle waardevolle lesse te leer, sodat hulle met goeie waardes sal grootword. Tog weet ek dat dit hul eie lewe is en dat hulle hul eie besluite moet neem. Een ding wat ek wel, hopelik, genoeg vir hulle geleer het, is wat God ook vir die Israeliete deur die Paasfees probeer herinner het...
Ons lees in Eksodus 13 dat God die volk herinner om die dag te herdenk waarop hulle uit Egipte getrek het. Vir sewe dae lank moet hulle ongesuurde brood eet en op die sewende dag ’n fees hou tot eer van die Here. En dan, op daardie dag, lees ons in vers 8: “𝐽𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑠𝑒𝑢𝑛 𝑜𝑝 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑖𝑛𝑙𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑠𝑒̂, ‘𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑡𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑟𝑑𝑒𝑛𝑘𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡...” Ja, ons moet ons kinders en jongmense gereeld leer en herinner aan wat God vir ons gedoen het.
In Suid-Afrika het ons ’n hele paar nasionale vakansiedae waarop ons spesifieke gebeure of mense herdenk. Party van hierdie dae was nie so mooi gewees nie en daar was onskuldige bloed wat gevloei het. Maar hierdie dae herinner ons eintlik ook, soos met die Paasfees, aan wat omtrent 2000 jaar gelede gebeur het: Dat Jesus se onskuldige bloed ook vir jou en my gevloei het.
Joodse tradisie het ’n baie, baie belangrike les om ons te leer. Moet dit asseblief nie mis nie. Onthou: Jy is die rol gegee as priester in jou huis of waar jy jou betref. Vertel jou kinders, jou familie, jou vriende van God se getrouheid in jou lewe. Stel hulle bekend aan God se wonderlike genade en vergifnis. Wys hulle hoe Sy liefde lyk wanneer dit in ’n persoon se lewe uitgeleef word. Jou lewe. En bid dat elkeen sy eie persoonlike verhouding met Christus sal hê.
As jy die voorreg het om lid te wees van ’n kerkgemeenskap, word jy weekliks bedien deur mans en vroue wat deur God geroep is. Hierdie is jou predikant, ouderlinge, diakens, mede-lidmate. Mense wat geroep is om ons te onderrig en uit te daag. Maar om hierdie mense in ons lewens te hê, beteken nie dat ons nie meer ’n verantwoordelikheid het nie. Hulle taak is nie om hierdie spesiale rol in ons huise en werkplekke aan te neem nie. Daai taak is ons s’n.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ons het 'n roeping om ons lewens as voorbeeld te lei. Om ons kinders, jongmense, vriende en familie te leer oor God se weë, om hulle te herinner aan Sy getrouheid en om hulle te wys hoe dit lyk om met nederige dankbaarheid te lewe, omring deur Sy genade.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie vir dít wat U vir my gedoen het. Help my om te leef dat almal om my dit kan sien. Help my om te vertel en te leer van U liefde en genade. Laat my elke dag, in dankbaarheid lewe, ter herinnering aan dít wat U vir my gedoen het. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟖-𝟎𝟏 – 𝐕𝐞𝐠 𝐨𝐟 𝐯𝐥𝐮𝐠 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
So dikwels in die lewe word van ons verwag om stresvolle en ongemaklike situasies te hanteer. Dit is iets wat geeneen van ons kan vryspring nie. Stres en moeilikheid is nou maar deel van die lewe en ons weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie. Natuurlik is daar baie strategieë as dit hierby kom, maar gewoonlik is dit die mens se natuurlike instinkte van “veg of vlug” wat inskop. Óf jy begin stry en baklei teen die situasie, óf jy probeer alles in jou vermoë om weg te kom daarvan en dit te vermy. Maar dit is nie altyd so maklik nie. Daar is té gereeld situasies waardeur jy eenvoudig net móét gaan. Hoe maak ons dan? Hoe hanteer ons die drama? Is daar nie ’n derde opsie nie? Iets beter as veg of vlug?
So gepraat van stresvolle situasies. Daniël het amper onmoontlike situasies in die gesig gestaar. Situasies wat uitsonderlike wysheid en bravade vereis het. Behalwe vir die feit dat hy in ballingskap was in Babilonië en baie van sy vriende, familie en volksgenote deur ’n wrede konings van Babilonië vermoor is, word hy deur God geroep om juis voor koning Nebukadnesar te kom. Die koning het drome gehad wat niemand kon uitlê nie en Daniël gaan en benader die man wat opdrag gegee is om al die sogenaamde waarsêers, towenaars en priesters wat misluk het in hulle taak, om die lewe te bring! Nou kom Daniël voor die koning te staan. Al die oë is op hom gerig. Wat as hy misluk? Dan is dit die einde vir hom. Die koning sal hom definitief om die lewe laat bring... Praat van stres!
Hoe het Daniël hierdie uiters dramatiese en stresvolle situasie hanteer? Deur nie op homself en sy eie krag staat te maak nie. In Daniël 2:20-23 lees ons dat Daniël ’n hegte verhouding met God gekweek het en dat hy geweet het dat hy heeltemal afhanklik was van God vir wysheid en krag. Toe die drama op kookpunt begin draai en hy gevra word of hy die droom van Nebukadnesar kan interpreteer, het Daniel nie self gepraat nie. Hy het nederig geantwoord: “²⁷...𝐷𝑖𝑒 𝑔𝑒ℎ𝑒𝑖𝑚 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑛𝑎𝑣𝑟𝑎𝑎𝑔 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑘𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑠𝑒𝑠, 𝑡𝑜𝑤𝑒𝑛𝑎𝑎𝑟𝑠, 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑠𝑒̂𝑒𝑟𝑝𝑟𝑖𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟𝑠 𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑝𝑒𝑙𝑙𝑒𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑢𝑖𝑡𝑙𝑒̂ 𝑛𝑖𝑒. ²⁸𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 '𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑒ℎ𝑒𝑖𝑚𝑒 𝑜𝑝𝑒𝑛𝑏𝑎𝑎𝑟...” (Daniël 2:27-28 AFR20). Daniel het God uitgenooi na sy drama. Dis die derde opsie. Laat God vir jou veg!
Dalk werk jy as die enigste vrou in die leierskap van jou kerk; of jy moet sorg vir jou bejaarde en verswakte skoonfamilie, wat nooit gedink het dat jy goed genoeg is vir hul kind nie. Dalk staar jy werkloosheid in die oë; of moet jy elke dag werk vir ’n baas wat geen genade en empatie het met ander nie. Ongeag die situasie, die beste manier om dit met genade en wysheid te hanteer, is om God uit te nooi om die omstandighede se uitkoms te bepaal. Laat Hom deurdring met Sy wysheid. Steun op Sy krag. Vertrou op Sy insigte. Jy voel miskien of jy nie die spanning kan hanteer nie, maar, met God se hulp, kan jy. Kies die derde opsie. Laat God jou help en veg op Sy manier met genade, liefde en wysheid.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe gereeld probeer ek om alleen moeilike situasies aan te pak? Hoe dikwels vlug ek van my verantwoordelikheid om stresvolle situasies te ontlont?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige, ewige, wyse God, help my op U staat te maak en te steun in moeilike en stresvolle situasies. Ek verstaan nie hoekom dinge soms gebeur nie en ek weet nie wat die uiteinde van alles is nie, maar U weet. Help my, om soos Daniël, ’n hegte verhouding met U te kweek en op U te vertrou om elke situasie te hanteer. Help my vrede vind in U wat in beheer is van my lewe. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
Ds. Christo Schoeman ···ᶜᴶˢ··· ©