Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Kliek ook gerus op die "Oordenkings" skakel (menu) daarbo 👆🏻 om by die ouer oordenkings uit te kom.
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟖 – “𝐕𝐫𝐚, 𝐞𝐧 𝐯𝐢𝐫 𝐣𝐮𝐥𝐥𝐞 𝐬𝐚𝐥 𝐠𝐞𝐠𝐞𝐞 𝐰𝐨𝐫𝐝 . . . ” (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ’n mens tot geloof kom in Jesus Christus, kom jy agter dat baie dinge begin beter gaan met jou. Jou hele gesindheid teenoor dinge wat jou dalk voorheen sou onderkry verander en jy sien kans vir baie meer in die lewe. Is dit omdat God skielik al jou moeilikheid en uitdagings wegneem? Nee, die uitdagings en probleme van die lewe bly daar, omdat dit nie van God afkomstig is nie, maar deur die werking van die Heilige Gees in jou, sien jy kans en vind jy krag om oor hierdie uitdagings wat soms soos ’n berg voor jou gelê het te kom.
As Christen, kom jy ook agter dat daar geweldig baie krag lê in gebed. Wanneer jy gereeld in gesprek is met God en gereeld in die Woord wandel, begin jy besef dat daar vir baie van die lewe se uitdagings baie goeie raad en self antwoorde lê by God en die Woord.
Baie Christene dink egter dat wanneer jy glo, dan kan jy deur gebed – jóú gebed – alles doen en alles regkry, selfs afdwing. Gewoonlik word Jesus se woorde in die bergrede aangehaal. Jesus sê in Matteus 7:7-8 (AFR20):
“⁷ “𝑉𝑟𝑎, 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑; 𝑠𝑜𝑒𝑘, 𝑒𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑖𝑛𝑑; 𝑘𝑙𝑜𝑝, 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑜𝑝𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑. ⁸𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑟𝑎, 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔; 𝑒𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑒𝑘, 𝑣𝑖𝑛𝑑; 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑘𝑙𝑜𝑝, 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑜𝑝𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑.”
Mense hou dikwels hierdie vers aan jou voor en sê vir jou dat jy maar regtig enigiets vir God kan vra en God SAL dit gee. Party mense sê selfs vir jou dat as jy dit nie kry nie, glo jy nie reg nie of is jou geloof nie sterk genoeg nie. As jy iets wil hê, sê hulle, moet jy net vra. Enigiets... So asof God 'n “genie in ’n lamp” is wat alle wense laat waar word. Hierdie mense sal ook soms kom met die wonderlikste sogenaamde “getuienis” van hoe God hulle gebede verhoor het en hoe wonderlik hulle geseën is, omdat hulle “met oortuiging” bid. Dan bid en bid en bid ons, tot ons uiteindelik moedeloos gebid is, want God gee dan nie waarvoor ons vra nie.
Liewe mens, God kan nie gemanipuleer word nie. As ons die res van Jesus se les hier lees, sien ons dat die Vader vir ons sal gee wat goed is en wat nodig is. Verse 9-11 sê:
“⁹ “𝑊𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙, 𝑎𝑠 𝑠𝑦 𝑠𝑒𝑢𝑛 𝑏𝑟𝑜𝑜𝑑 𝑣𝑟𝑎, 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑜𝑚 '𝑛 𝑘𝑙𝑖𝑝 𝑔𝑒𝑒? ¹⁰𝑂𝑓 𝑜𝑜𝑘, 𝑎𝑠 ℎ𝑦 '𝑛 𝑣𝑖𝑠 𝑣𝑟𝑎, 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑜𝑚 '𝑛 𝑠𝑙𝑎𝑛𝑔 𝑔𝑒𝑒? ¹¹𝐴𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑙𝑒𝑔 𝑖𝑠, 𝑑𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑜𝑚 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑛𝑘𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑡𝑒 𝑔𝑒𝑒, ℎ𝑜𝑒𝑣𝑒𝑒𝑙 𝑡𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 •ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑔𝑒𝑒 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑣𝑟𝑎!”
So, waarvoor vra ons in gebed. Vra ons vir ’n nuwe kar, ’n nuwe werk, geld, ’n huis? Of dank en loof ons God dat ons mag vra? Vra ons vir Sy sorg? Vra ons dat Hy, soos Hý goeddink ons sal seën? Verstaan ons wat seën beteken? Die Vader weet wat elkeen van ons nodig het op enige gegewe oomblik. Soms mag ons direk vra vir iets spesifiek, want dit is dalk nodig en, indien dit God se wil is, sal Hy dit gee. Soms is Sy antwoord “nee”. Ek spot altyd, maar dis die waarheid: Toe ek God gevra het vir geduld, toe seën hy my met kinders! Hy wou hê dat ek geduld leer – en ek het!
Mag ons bid en ontvang. Mag ons soek en kry. Mag ons klop en daar oopgemaak word vir ons. Maar, mag dit alles wees, omdat ons bid en soek na die Here se wil. Mag ons klop aan die deur van God se hart – ’n deur wat wawyd oopstaan, ’n tuiste vir ons met oorvloedige liefde wat uitstroom om ons lewens te vul.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Waarvoor vra ek in gebed? My eie selfsugtige begeertes? Of na die wil van God?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, leer my om reg te bid en reg te vra. Dankie dat U alreeds voorsien. Dankie dat ek met U kan praat. Here gee aan my wat ek nodig het. Maak deure oop waar nodig en selfs toe waar nodig. Laat my gedurig soek na U wil en laat my dit vind in my lewe. Liewe Vader in die hemele, dankie dat U die goeie, nodige dinge gee waarvoor ek vra. Ek loof en prys U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟕 – ’𝐧 𝐋𝐚𝐬 𝐯𝐚𝐧 𝐣𝐨𝐮 𝐬𝐤𝐨𝐮𝐞𝐫𝐬 𝐚𝐟. (Kliek hier vir die klankgreep)
Gedurig in die lewe voel dit vir ons of dinge soms net te veel word. Partymaal is dit as gevolg van eksterne faktore en die feit dat die wêreld floreer in sondigheid. Ander kere is dit omdat ons self gekies het vir die sonde.
Sedert die Sondeval is daar iets fout met die mens. Ons het ’n ingebore swakheid – ’n inherente boosheid. Ons probeer so hard om nié sekere dinge te doen nie, maar as ons weer sien, dan het ons dit gedoen. Ons weet soms dat ons besig is met sonde, maar dan kies ons om aan te hou daarmee. Ons wil nie, maar ons doen dit.
Ja, sedert die begin van die mensdom, het ons hierdie onvolmaaktheid oorgeërf by Adam en Eva. Maar, wanneer ons dit doen, kan ons nie vir hulle die skuld gee nie, want ons het vrye wil en ’n keuse in alles. Die mens was volgens God se beeld geskape en ons was veronderstel om altyd in harmonie met Hom te leef, maar ons keuse vir die sonde het dit vernietig.
Gelukkig vir ons, is God ryk aan genade en gee Hy vir ons vrylik die gawe van genade (vgl. Romeine 5:12-21). Die Nuwe Mens, Jesus Christus, het gekom om die verhouding weer te herstel en om ons weer te begin vorm na die beeld wat ons moet wees. Maar tog sondig ons steeds. So, wat maak ons dan? Ons volg Dawid se goeie raad in Psalm 32 (AFR20):
“¹𝑉𝑎𝑛 𝐷𝑎𝑤𝑖𝑑. '𝑛 𝑀𝑎𝑠𝑘𝑖𝑒𝑙.
𝐺𝑒𝑙𝑢𝑘𝑘𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑟𝑒𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑤𝑒, 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑑𝑒𝑘 𝑖𝑠.
²𝐺𝑒𝑙𝑢𝑘𝑘𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑟𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑏𝑒𝑑𝑟𝑜𝑔 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒.
³𝑇𝑜𝑒 𝑒𝑘 𝑠𝑡𝑖𝑙𝑔𝑒𝑏𝑙𝑦 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑒𝑛𝑡𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑜𝑠 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑘𝑟𝑒𝑢𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑔.
⁴𝐽𝑎, 𝑑𝑎𝑔 𝑒𝑛 𝑛𝑎𝑔 𝑤𝑎𝑠 𝑢 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑝 𝑚𝑦; 𝑚𝑦 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑠𝑘𝑟𝑎𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑤𝑒𝑔𝑔𝑒𝑘𝑤𝑦𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑖𝑡𝑡𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑚𝑒𝑟. •𝑆𝑒𝑙𝑎
⁵𝑀𝑦 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑈 𝑒𝑟𝑘𝑒𝑛; 𝑚𝑦 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑑𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒. 𝐸𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑑𝑖𝑛𝑘, 𝑒𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑚𝑦 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑟𝑒𝑑𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑏𝑒𝑙𝑦, 𝑒𝑛 𝑈 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑤𝑒. 𝑆𝑒𝑙𝑎
⁶𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔 𝑡𝑜𝑡 𝑈 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑏𝑖𝑑 𝑡𝑒𝑟𝑤𝑦𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒𝑛𝑡ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠. 𝐷𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑢𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑤𝑎𝑡𝑒𝑟𝑣𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑟𝑒𝑖𝑘 𝑛𝑖𝑒.
⁷𝑈 𝑏𝑖𝑒𝑑 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑏𝑒𝑠𝑘𝑢𝑡𝑡𝑖𝑛𝑔; 𝑈 𝑣𝑟𝑦𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑚𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑛𝑜𝑜𝑑; 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑏𝑒𝑙𝑘𝑟𝑒𝑡𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑏𝑒𝑣𝑟𝑦𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑚𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑈 𝑚𝑦. 𝑆𝑒𝑙𝑎”
Dan praat die Here:
“⁸𝐸𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑒, 𝐸𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑙𝑒𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑙𝑜𝑜𝑝. 𝐸𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑟𝑎𝑎𝑑 𝑔𝑒𝑒, 𝑚𝑦 𝑜𝑜𝑔 𝑜𝑜𝑟 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑜𝑢.
⁹𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑝𝑒𝑟𝑑, 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑚𝑢𝑖𝑙 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑, 𝑔𝑒𝑑𝑟𝑎 𝑛𝑖𝑒: 𝑀𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑜𝑚 𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑎𝑛𝑔 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑏𝑒𝑡𝑒𝑢𝑒𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑏𝑙𝑦 ℎ𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑦 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑖𝑒.”
Moenie dat die swaar laste van die sonde jou onderkry nie. Gooi dit van jou af. Aanvaar die genadegawe van God en werp jou sorge op Jesus Christus wat reeds daarvoor betaal het.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Psalm 32:10:11 (AFR20):
“¹⁰'𝑛 𝐺𝑜𝑑𝑑𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑠𝑚𝑎𝑟𝑡𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 – 𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑜𝑚𝑟𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑜𝑚.
¹¹𝑉𝑒𝑟𝑏𝑙𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑒𝑛 𝑗𝑢𝑖𝑔, 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒𝑠; 𝑗𝑎, 𝑗𝑢𝑏𝑒𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑢𝑖𝑡, 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑚𝑒𝑡 𝑜𝑝𝑟𝑒𝑔𝑡𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒.”
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus dat U al die straf vir my gedra het. Vergewe my dat ek nogsteeds die genadegawe wat U my gratis bied verwerp wanneer ek kies vir die sonde. Vergewe my sondes en lei my, Heilige Gees, sodat ek waarlik vry kan wees en kan lewe tot eer en verheerliking van my almagtige God en Vader. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟒 – “𝑽𝒆𝒓𝒕𝒓𝒐𝒖 𝒐𝒑 𝑯𝒐𝒎; 𝑯𝒚 𝒔𝒂𝒍 𝒔𝒐𝒓𝒈.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Soms kyk ons na ander se lewens en sien dat dit met hulle so goed gaan. Hulle is dalk oneerlik in hul besigheid, of hulle kom weg met allerhande dinge wat verkeerd is. Dit lyk en is onregverdig. Hoekom kan ander mense "alles" hê, maar ons wat die Here volg moet hard werk vir wat ons het? Hoekom tref slegte dinge ons? Kan ons nie maar ook so nou en dan kry wat ons wil hê nie? Hoekom moet amper alles in die lewe so moeilik wees? Hoekom kom slegte dinge goeie mense oor en gaan dit goed met die slegte mense en lyk dit of hulle wegkom met alles. Hulle lyk selfs gelukkig. Hoekom glo ons dan?
Dawid skryf in Psalm 37:1-5 (AFR83):
“¹𝑉𝑎𝑛 𝐷𝑎𝑤𝑖𝑑. 𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑡𝑒𝑙 𝑜𝑜𝑟 𝑠𝑘𝑒𝑙𝑚𝑠 𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑘𝑤𝑒𝑙 𝑜𝑜𝑟 𝑠𝑘𝑢𝑟𝑘𝑒 𝑛𝑖𝑒,
²𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑔𝑟𝑎𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑜𝑢 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑔𝑟𝑜𝑒𝑛𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑤𝑦𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟.
³𝑉𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑙𝑖𝑒𝑤𝑒𝑟 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑖𝑠, 𝑤𝑜𝑜𝑛 𝑒𝑛 𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑟𝑢𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡.
⁴𝑉𝑖𝑛𝑑 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑒𝑛 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟.
⁵𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚; 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑜𝑟𝑔.”
Dawid het hierdie psalm geskryf en oor dieselfde goed gewonder as ons. Dawid het dalk ook gewonder hoekom hy nogsteeds op God moet vertrou as die Here oënskynlik die goddelose en onregverdige mense laat wegkom met dinge. Dawid het dalk selfs in God begin twyfel – soos ons ook dikwels doen. Wanneer ons egter die hele psalm lees, sien ons hoe die Here se vrede Dawid vrese en twyfel verwyder. Die Here gee vir hom selfs wat sy hart begeer. Nie aardse besittings en aardse geluk nie. Nee, innerlike vrede en vreugde! Is dit nie tog wat elkeen van ons uiteindelik wil hê in hierdie lewe nie?
Ons weet dat die lewe onregverdig is en ons weet dat elkeen van ons een of ander tyd daarmee te doen sal kry. Dalk was jy al die slagoffer van een of ander misdaad, dalk het mense jou verraai, dalk het iemand sleg gepraat van jou, dalk het jy iemand verloor as gevolg van onreg en verdraaide waardes in die lewe. Dit is vir seker nie regverdig nie. Dit is nie reg. En ons kan die vraag vra: ‘Waar was God en hoekom het Hy dit toegelaat?’ Ons kan dit vra en ons mag dit vra, want as ons weer daardie innerlike vrede en vreugde wil ervaar, moet ons dit vir God vra, sodat Hy vir ons kan wys dat Hy wel nog altyd daar was en is. God is ook ontevrede oor hierdie dinge, maar die mens kies daarvoor. God is ook reeds môre daar en Hy wil hê ons moet, soos Dawid, besef dat ons hierdie innerlike vrede kan kry. Hoe?
“⁵𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚; 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑜𝑟𝑔.”
Ons sukkel baie hiermee, al klink dit so eenvoudig. Ons ís mos Christene. Ons het mos al lankal ons lewens vir die Here gegee... Maar, het ons? Het ons regtig? Het ons ALLES vir Hom gegee, of neem ons met elke gebed weer so paar goedjies terug om self te probeer uitsorteer? Wanneer ons probleme en uitdagings groter is as ons vermoëns, is dit God se probleme en uitdagings. En niks is vir Hom te groot nie. Gee alles vir Hom. Hy is getrou en Hy sal jou help. Wees geduldig. Moenie daai goedjies weer terugvat nie, tensy Hy jou wys hoe om dit te hanteer. God se geregtigheid sal uiteindelik seëvier.
“𝑉𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚; 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑜𝑟𝑔.”
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God is nog altyd in beheer. As ek nie weet hoe om dinge te hanteer nie, moet ek dit vir Hom gee. God is getrou. Ek moet my hele lewe aan Hom oorgee en op Hom vertrou. God sal sorg.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, ek vergeet so gou dat U in beheer is. Ek wil so dikwels weer self beheer neem van my lewe. Dankie dat ek wel oor onreg in die wêreld gekwel word. Laat my regmaak wat stukkend is in die wêreld – binne my vermoë. Laat my dit wat ek nie kan dra nie en dit wat ek nie kan oplos of uitpluis nie by U los. Laat my met my hele wese op U vertrou. Dankie dat U sal sorg. Skenk aan my U vrede en vreugde. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟑 – 𝐀𝐬 𝐆𝐨𝐝 𝐬𝐞 𝐠𝐞𝐝𝐮𝐥𝐝 𝐨𝐩𝐫𝐚𝐚𝐤 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
As daar een ding is in die Bybel wat ons voortdurend aantref, is dit hoe God se volk gedurig vergeet. Die Ou Testament is vol van die verslae waarin Israel vergeet van wat God vir hulle gedoen het. Oor en oor lees ons hoe die mense weer hul eie paaie wil volg en hoe dit elke keer vir hulle rampspoedige gevolge inhou. God is geduldig met die volk en gee hulle elke keer weer ’n kans om tot bekering te kom en Hom te volg, maar as ons weer sien, dan het die volk weer volksvreemde gebruike oorgeneem en begin hulle op hul eie krag en rykdom roem.
Amos was ’n herder, ’n gewone kleinvee oppasser wat in die 8ste eeu voor Christus geleef het. God openbaar aan Amos ’n profetiese uitspraak wat hy moet lewer aan die volk. Weereens sien ons hier hoe God enigiemand kan gebruik om diensbaar te wees vir Hom, maar die boodskap wat arme Amos moes bring, was nie ’n maklike of goeie boodskap nie. God se geduld het opgeraak met die volk. Vir té lank het die volk aangehou om God te ignoreer en het hulle hul eie koppe en begeertes gevolg.
As ons die boek van Amos lees, sien ons nogal baie voorbeelde van wat die volk alles verkeerd gedoen het en hoe dit vandag nog die geval is. Selfs vir die gemeentes van daardie tyd sê God: “²³𝐻𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑤𝑎𝑎𝑖 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑑𝑒𝑟𝑒 𝑤𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑀𝑦; 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑙𝑎𝑛𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑝𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝐸𝑘 𝑛𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑖𝑒. ²⁴𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑟𝑜𝑙 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑤𝑎𝑡𝑒𝑟 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑ℎ𝑜𝑢𝑑𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑜𝑜𝑚.” (Amos 5:23-24 AFR20). God sê duidelik vir die mense dat Hy nie skynheiligheid en halfhartige diens soek nie. In hoofstuk 8 lees ons hoe die mense nie kan wag om uit die erediens te kom, sodat hulle die armes kan uitbuit en slawe maak van hulle nie.
Oor en oor waarsku God deur Amos die mense dat daar swaar tye gaan kom, maar die mense is so geset op hul eie weë dat hulle selfs nie eers meer wil luister na God se Woord nie. Die priester Amasia probeer selfs vir Amos wegjaag en sê eintlik vir Hom dat hulle nou moeg is om te luister na God (Amos 7). Dan kom God en sê vir die mense dat daar ook ’n tyd van honger gaan kom. Maar hierdie is nie honger na kos nie. God sê dat die mense sal honger na die Woord, maar dat hulle dit nie sal vind nie (Amos 8:11-14).
As ons kyk hoe dinge in die wêreld gaan vandag en hoe mense nie meer omgee oor God se Woord nie, wat gaan ons doen as die Woord nie meer te vinde is nie? Wat gaan ons maak as God se geduld met ons opraak? Ons sal nie ’n kans staan nie. Maar gelukkig praat God ook in hoofstuk 8 van die dag wanneer dit helder oordag sou duister word, waar die aarde sou skud en honger na die Woord sal kom. Eintlik was daardie dag ’n hartseer dag, maar as ons dit vergelyk met wat daardie dag aan die kruis gebeur het, was dit ook só ’n dag. En op daardie dag het Jesus vir ons die oorwinning behaal. Nou is Jesus self ons Hoëpriester en tree Hy in vir ons by die Vader. Nou is daar weer geduld met ons, maar ons moet onsself nogsteeds waardig daarvan bewys.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
As ’n Christen kan ek nie halfhartig lewe nie. Ek mag nie net ’n “Sondag-Christen” wees nie. Wanneer ek my hart vir die Here gee, gee ek alles. Dan soek ek elke geleentheid om te sorg dat God se geregtigheid seëvier. Dan doen ek reg aan ander. In al my doen en late moet ek streef om ’n ontmoeting met die lewende God hê in elke oomblik. Ek moet smag na God se Woord.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, mag U geduld nooit opraak met my nie. Help my om by U Woord te hou en help my om gehoorsaam te wees aan U. Mag die wêreld besef hoe nodig ons U het. Mag ek streef na U geregtigheid en mag ek nooit vergeet van alles wat U vir my doen nie. Ek loof en prys U, in die Naam van my Middelaar en Here, Jesus Christus. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟐 – 𝐕𝐢𝐫 𝐰𝐢𝐞 𝐝𝐨𝐞𝐧 𝐣𝐲 𝐝𝐢𝐭 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Deesdae sien jy baie video’s op sosiale media van mense wat goed doen aan ander mense. Party mense gee vir geen rede vir boemelaars of vreemdelinge baie geld. Ander mense koop kos vir iemand op straat of betaal ’n vreemdeling se rekening by die winkel of restaurant. Dit is nogal hartroerend om die ontvangers van die goeie daad se reaksie te sien, maar wat my pla is die motiewe van die sogenaamde weldoeners. Is hul doel om goeie dade aan te spoor, of is dit vir eie eer?
Jesus praat baie duidelik hieroor in die bergrede:
“¹ “𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑝 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑜𝑒𝑑𝑒 𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 •𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑏𝑒𝑜𝑒𝑓𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑑𝑒𝑢𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑡𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑏𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 •ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒. ² “𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑎𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑒𝑜𝑒𝑓𝑒𝑛, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑏𝑎𝑠𝑢𝑖𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑦𝑛ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 •𝑠𝑖𝑛𝑎𝑔𝑜𝑔𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑎𝑡𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑘, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑒̈𝑒𝑟 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒. •𝐴𝑚𝑒𝑛, 𝐸𝑘 𝑠𝑒̂ 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒: 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔. ³𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑎𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑒𝑜𝑒𝑓𝑒𝑛, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑙𝑖𝑛𝑘𝑒𝑟ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑟𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, ⁴𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒𝑠𝑑𝑎𝑎𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑜𝑟𝑔𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑏𝑙𝑦. 𝐸𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑜𝑟𝑔𝑒 𝑖𝑠, 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑜𝑛.”” – Matteus 6:1-4 (AFR20)
Die beginsel wat Jesus hier leer, is onvoorwaardelike liefde en sorg. Wanneer jy iets vir iemand anders doen, wanneer jy goeie dade doen, moet jy niks terugverwag nie. Ja, selfs nie eers ’n dankie nie. Of dit in jou gemeente is, in jou dorp, in jou familie, in jou huwelik, of waar ook al: doen net goed, omdat jy goed WIL doen. Liefdadigheid is juis wat die woord sê: ’n daad van liefde. En as ons gaan kyk na 1 Korintiërs 13, sien ons dat dade van liefde die volgende eienskappe het:
“⁴𝐿𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑏𝑙𝑦 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔,
𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑔𝑒𝑒 𝑜𝑚,
𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑗𝑎𝑙𝑜𝑒𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒,
𝑠𝑝𝑜𝑔 𝑛𝑖𝑒,
𝑒𝑛 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑎𝑎𝑛𝑑 𝑛𝑖𝑒.
⁵𝐿𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑡𝑟𝑒𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑜𝑝 𝑛𝑖𝑒,
𝑗𝑎𝑎𝑔 𝑛𝑖𝑒 𝑒𝑖𝑒𝑏𝑒𝑙𝑎𝑛𝑔 𝑛𝑎 𝑛𝑖𝑒,
𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑒𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑛𝑖𝑒.
𝐷𝑖𝑡 ℎ𝑜𝑢 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑒𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑛𝑖𝑒,
⁶𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑙𝑦 𝑜𝑜𝑟 𝑜𝑛𝑟𝑒𝑔 𝑛𝑖𝑒,
𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑏𝑙𝑦 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑.
⁷𝐷𝑖𝑡 𝑏𝑒𝑑𝑒𝑘 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠,
𝑔𝑙𝑜 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠,
ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠,
𝑣𝑒𝑟𝑑𝑢𝑢𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠.
⁸𝐿𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑓𝑎𝑎𝑙 𝑛𝑜𝑜𝑖𝑡 𝑛𝑖𝑒.”
– 1 Korintiërs 13:4-8 (AFR20)
Sien, onvoorwaardelike liefde vir jou medemens is nie skynheilig nie. Só ook jou liefde vir God. Jesus se vêrder:
“⁵“𝐸𝑛 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑖𝑑, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑦𝑛ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑜𝑢 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑚 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑛𝑎𝑔𝑜𝑔𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑎𝑎𝑡ℎ𝑜𝑒𝑘𝑒 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 𝑏𝑖𝑑, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑. •𝐴𝑚𝑒𝑛, 𝐸𝑘 𝑠𝑒̂ 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒: 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔. ⁶𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑗𝑦, 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑏𝑖𝑑, 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑎 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑖𝑛𝑛𝑒𝑠𝑡𝑒 𝑘𝑎𝑚𝑒𝑟, 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑡𝑜𝑒 𝑒𝑛 𝑏𝑖𝑑 𝑡𝑜𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑜𝑟𝑔𝑒𝑛ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑜𝑟𝑔𝑒𝑛ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑠𝑖𝑒𝑛, 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑜𝑛.”” – Matteus 6:5-6 (AFR20)
As jy die vraag wil beantwoord: ‘Vir wie doen ek dit?’, is dit nodig dat jy eers die volgende vraag moet beantwoord: Vir wie lewe jy? As jy lewe vir die Here, kan jy nie vir jou eie eer dinge doen nie. Ja, jy kan dinge vir jouself en jou eie sorg doen, maar as dit kom by liefdadigheid, gaan dit oor God se eer – nie jou eie nie. Niemand hoef eers daarvan te weet nie – God weet daarvan en dis al wat saak maak. Daarom kan jy in jou eie privaatheid met God ook daaroor praat en by Hom die dank en beloning vir jou gehoorsaamheid ontvang in die vorm van sy vrede. In die privaatheid van jou binnekamer kan jy ook jou hart uitstort voor God en Hy sal jou beloon. Wees geduldig en volg die riglyne van die liefde wanneer dit kom by liefdadigheid en gebed. Moenie skynheilig wees nie. Jy doen goed vir God en jy leef vir God.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Vra jouself en dink mooi: Vir wie doen ek alles wat ek doen? Vir wie leef ek?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, gee my ’n opregte, vrygewige en nederige hart. Laat my onvoorwaardelike liefde leef, sonder om ooit my eie eer te soek. Laat my gebedslewe ook lewend bly en hoor my hart. Laat ek U vrede ervaar en help my om tyd te maak om in U teenwoordigheid te rus. Neem my lewe Heer en laat dit ’n lofsang en ’n verhaal van liefdesdade wees tot U eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟏 – 𝐈𝐬 𝐦𝐲 𝐨𝐟𝐟𝐞𝐫 𝐚𝐚𝐧𝐧𝐞𝐞𝐦𝐥𝐢𝐤 𝐯𝐢𝐫 𝐆𝐨𝐝 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
As ons, soos gister se oordenking, die Woord ter harte neem en dit laat uitvloei in dade van liefde, is dít wanneer ons toelaat dat God ons ’n heel nuwe siening oor die lewe gee. Wanneer ons begin besef dat ons vryheid in Jesus Christus suiwer genade is, begin ons anders dink oor ons lewens en ook die lewens van ander. Ons besef dat ons wel in baie gevalle broos is, maar ons word nie meer meegesleur deur die vloed van broosheid in die wêreld nie. Ons begin besef dat ons nie meer ons broosheid of selfs ons menslikheid kan gebruik as verskoning vir sonde nie en ons wil nie meer gelyk wees daaraan nie. Ons begin om selfs die "klein sondetjies" te verafsku. Dis hoe dit hoort.
Toe Jesus Sy ewige offer aan die kruis gegee het, was dit ’n volmaakte, heilige offer. Hy het nie gelyk geraak aan die sondige wêreld van Sy tyd nie. Sy lewe is ons kompas – ons ware Noord. Daarom streef ons elke dag om meer en meer soos Hy te wees. Ons streef om heilig te wees. Om meer en meer in en deur die lewende Woord, Jesus Christus, te lewe en te leer en te doen wat Hy ons in die skriftelike Woord leer, leer ons wat God se wil is. Die Bybel is nie net ’n "goeie boek" nie. Dit is God se Woord. As jy werklikwaar hoor wat God ons leer en hoor hoe Jesus vandag nog met jou praat deur die Woord, sal jy ook ’n doener wees van die Woord.
Daarom skryf Paulus ook om ons te herinner daaraan om onsself elke dag weer opnuut aan God te wy en om onsself oop te stel vir die transformasie en vernuwing deur die Heilige Gees:
“¹𝐵𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠 (*𝑒𝑛 𝑠𝑢𝑠𝑡𝑒𝑟𝑠 𝑛𝑎𝑡𝑢𝑢𝑟𝑙𝑖𝑘), 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑎𝑟𝑚ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑒𝑘 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑢𝑠 𝑛𝑜𝑢 𝑜𝑝 𝑜𝑚 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑚𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑘𝑖𝑘𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑙 𝑎𝑠 '𝑛 𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑 𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑚𝑙𝑖𝑘. 𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑖𝑛𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑜𝑑𝑠𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠. ²𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑔𝑒𝑙𝑦𝑘𝑣𝑜𝑟𝑚𝑖𝑔 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑢𝑤𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑛𝑘𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠𝑘𝑒𝑖 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑒𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑚𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑚𝑎𝑎𝑘𝑡𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠.” – Romeine 12:1-2 (AFR20) (* dit word só veronderstel)
As jy wonder hoe jy God se stem duideliker kan hoor, skaar jou dan by die res van ons wat ook dikwels daaroor wonder. Gee jou lewe as offer in die erediens, omgeegroepe, wyk byeenkomste, Bybelstudie en ander bedienings van jou gemeente. Maar gee jouself. Daar moet geen bybedoelings of negatiwiteit en afbrekende kritiek wees nie. Die enigste bedoeling is die eer en verheerliking van God. Leer daar, luister daar, hoor God se stem, sodat jy kan wees wie God wil hê jy moet wees waar jy jouself elke dag bevind.
Mag jou lewe vir God goed en aanneemlik en volmaak wees.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
As ek vir Jesus volg, moet ek Hom heelhartig volg. Ek moet elke dag die leiding van die Heilige Gees in my lewe aanneem en tyd maak om te luister na God se stem. My hele lewe is ’n offer vir God. Is my offer aanneemlik vir my heilige God?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, U het ons gewys hoe ons moet lewe en U leer ons nogsteeds deur U Woord en deur U Gees wat ons lei. Laat ons gehoorsaam wees en laat ons lewens ’n aanneemlike offer wees vir U. U volmaakte offer het ons vrygekoop. Laat ons lewe in U genade en mag ons krag vind in U Naam om oor die sonde en broosheid van die wêreld die oorwinning te behaal. Tot eer en verheerliking van ons almagtige God en Vader. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟐𝟎 – 𝐊𝐲𝐤 𝐦𝐨𝐨𝐢 𝐢𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐩𝐢𝐞𝐞̈𝐥. (Kliek hier vir die klankgreep)
Toe Jesus verheerlik is op die berg, het die dissipels vir ’n kort oomblik ’n stukkie hemel op aarde gesien. Moses en Elia was ook daar en het met Jesus gepraat oor die pad wat vir Hom voorlê – die pad van lyding en straf wat Hy vir ons sondes met liefde sou loop (vgl. Luk. 9:28-36; (Matt. 17:1-8; Mark. 9:2-8). Op die berg, op daardie oomblik, was daar vyf ander manne waarna ons gerus kan luister: Moses, Elia, Johannes, Jakobus en Petrus – almal mense wat God se Woord met suiwerheid en gesag verkondig het. Maar, God self spreek en sê: “³⁵...𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑚𝑦 •𝑆𝑒𝑢𝑛, 𝑑𝑖𝑒 𝑈𝑖𝑡𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑟𝑒𝑛𝑒. 𝐿𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑎 𝐻𝑜𝑚.” (Luk. 9:35b AFR20)
Die vraag is: Luister ons nog na Jesus? En, as ons luister, doen ons wat Hy sê? Jakobus skryf dan ’n hele paar jaar ná hierdie gebeure:
“²²𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑑𝑜𝑒𝑛𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑, 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑙𝑒𝑔𝑠 ℎ𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑚𝑖𝑠𝑙𝑒𝑖 𝑛𝑖𝑒. ²³𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑤𝑖𝑒 '𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑠 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑑𝑜𝑒𝑛𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒, 𝑖𝑠 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑔 𝑖𝑛 '𝑛 𝑠𝑝𝑖𝑒𝑒̈𝑙 𝑠𝑖𝑒𝑛. ²⁴𝐻𝑦 𝑠𝑖𝑒𝑛 ℎ𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑔 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑚𝑖𝑑𝑑𝑒𝑙𝑙𝑖𝑘 ℎ𝑜𝑒 ℎ𝑦 𝑔𝑒𝑙𝑦𝑘 ℎ𝑒𝑡.” – Jakobus 1:22-24 (AFR20)
Sien, kerk wees is soveel meer as net 'n gevoel. Ons sit dalk in 'n erediens, luister na 'n preek en dit raak ons diep. Maar, as ons nie dit ons eie maak en iets daarmee doen nie, bly dit niks meer as net 'n warm gevoel nie. Jesus se opdragte is duidelik, veral as ons na bv. die bergrede (Matt. 5-7) kyk en die opsomming van die Wet. Om God lief te hê bo alles en ook ons naaste soos onsself, kan ons nie anders as om dit te wys nie. Paulus leer ook in 1 Kor. 13 dat geloof, hoop en liefde bly. Liefde is die grootste, want dit is die een van die drie wat sigbaar is.
Petrus, Johannes en Jakobus se lewens was vir altyd verander toe hulle op daardie dag in die teenwoordigheid van die almagtige God was. En vandag is dit nogsteeds só. Niemand van ons kan in God se teenwoordigheid wees en onveranderd daar wegstap nie. Wanneer jy besef wat Jesus vir jou gedoen het en jy besef dat jy vry is, is jy vir altyd ’n nuwe mens. Jakobus skryf dan vêrder:
“²⁵𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒𝑝 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑚𝑎𝑎𝑘𝑡𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑣𝑟𝑦ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑛𝑘𝑦𝑘 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑢, 𝑠𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑙𝑢𝑘𝑘𝑖𝑔 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑖𝑛 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑡𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 '𝑛 𝑑𝑜𝑒𝑛𝑒𝑟.” – Jakobus 1:25 (AFR20)
Soms kyk ons in die spieël en ons sien onsself, die nuwe mens, maar omdat ons eie sondige begeertes nog eerder die ou mens daar in die spieël wil sien, vergeet ons hoe ons lyk. Moenie vergeet hoe jy in die spieël lyk nie. Kyk mooi. Jy is ’n nuwe mens in Jesus Christus. Jy is God se kind. God is liefde. Wys dit gerus vir die wêreld.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek is God se kind. Ek is vrygekoop deur Jesus Christus. My geloof moet in liefde – God se liefde – oorgaan in dade.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie, Here Jesus, dat ek nuutgebore kan wees deur U. Dankie dat ek in my geestesoog U heerlikheid kan aanskou en dat ek vir ewig daardeur verander is. Laat my nooit vergeet hoe ek lyk nadat U my skoongewas en vrygemaak het nie. Laat my doen wat U sê en laat ek luister na U stem. Tot eer en verheerliking van God wil ek my lewe lei. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟏𝟖 – 𝐀𝐬 𝐣𝐲 𝐝𝐢𝐞 𝐠𝐫𝐨𝐭𝐞𝐫 𝐩𝐫𝐞𝐧𝐭𝐣𝐢𝐞 𝐦𝐢𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek kan soms lekker vir myself lag as ek sport kyk. Ek raak partymaal so kwaad vir spelers as hulle iets doen, maar dan, net die volgende oomblik, gebeur daar iets wonderlik en my span teken punte aan. As ek terugkyk na al die gebeure wat gelei het tot die punte, besef ek dat die “simpel ding” wat daardie speler aangevang het, deel was van die plan om uiteindelik die punte te kry. Ek het op die oomblik nie die groter prentjie raakgesien nie.
Toe ek jonger was en nog kon rugby speel, was ek deel van ’n baie goeie losvoorspeler trio gewees. Dikwels moes een van ons maar die harde houe vat en verdedigers trek, sodat een van die ander ’n beter kans kon kry om die wedstryd vir die span te wen. Om die pyn van harde duikslae te vat was nie ’n straf nie , maar eerder ’n eer, omdat die span se eer op die spel was.
Met Jesus se verheerliking op die berg, het Petrus en die ander dissipels ook eers die groter prentjie gemis. Hulle kon op daardie oomblik nog nie heeltemal besef waarom Jesus móés ly en móés sterf nie. Hulle kon nie heeltemal verstaan dat Jesus eintlik alreeds hoog verhewe is bo alle mense en die skepping nie. Hulle wou Jesus graag daar hou by hulle en Hom veilig hou teen watter sameswering ook al sou kom. As ons dit vergelyk met die rugby analogie wat ek gebruik het, was Jesus die beste Springbok rugbyspeler wat in ’n laerskool se onder 9 span speel. Hy was bereid om die hele opposisie se duikslae te neem, sodat die hele span vry sal wees om die wedstryd te wen.
Daarom, toe die drie dissipels eerder probeer om hul geliefde Here te probeer beskerm, spreek die Vader self en sê: “𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑆𝑒𝑢𝑛, 𝑜𝑜𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝐸𝑘 𝑀𝑦 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑢𝑔. 𝐿𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑎 𝐻𝑜𝑚.” (Matteus 17:5b AFR20)
Die dissipels en amper die hele volk kon in daardie tyd nie die groter prentjie raaksien nie. Die dissipels het ’n blik in die ewigheid en die hemel gekry daardie dag en hulle het amper begin besef hoe groot Jesus werklik is en hulle het dalk ook ’n besef begin kry dat Jesus gewilliglik al die houe sal neem vir elkeen van ons.
Ons raak dikwels moedeloos en kwaad as dinge nie uitwerk volgens ons planne nie, maar Paulus leer ons dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet (Rom. 8:28-30). Hoor mooi: God laat ALLES ten goede meewerk. Dit beteken nie alles sal goed gaan nie. Dit beteken dat goeie en slegte dinge, uiteindelik meewerk – in die groter prentjie – om ons voor te berei vir ons ewige woning en die groot oorwinning in Jesus se Naam.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur nie, maar God weet. God weet wat kom, omdat Hy alreeds in die toekoms is. As ek nie die groter prentjie sien nie, moet ek nie moedeloos word nie, maar ek moet vrede en vreugde vind in God se teenwoordigheid en in Jesus, wat reeds die oorwinning behaal het.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, toe U aarde toe gekom het, kon die mense nie verstaan dat U gekom het om ons te bevry nie. Vandag nog, maak dit nie sin vir baie mense nie en sien ons nie altyd die groter prentjie raak nie. Dankie dat U alles ten goede laat meewerk vir ons wat U lief het. U is groter as wat ons kan verstaan. Dankie dat U plan vir ons ook groter is as wat ons verstaan. Laat ons elke dag in U teenwoordigheid leef en dankie dat U reeds die oorwinning behaal het, sodat ons ook elke dag daarin kan deel. Mag ons luister na U en gehoorsaam wees aan U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟏𝟓 – 𝐑𝐚𝐚𝐝 𝐭𝐞𝐞𝐧 𝐯𝐞𝐫𝐬𝐨𝐞𝐤𝐢𝐧𝐠𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons volhard in geloof, is die lewe dikwels baie uitdagend. Die Satan hou nie daarvan wanneer God se mense hulself toewy om gehoorsaam te wees nie. Selfs Jesus het in sy gehoorsaamheid aan die Vader, die teistering van die duiwel moes beleef (vgl. Matt. 4:1-11; (Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13). Ons kan maklik, wanneer ons swig onder die las van versoekings, onsself probeer paai deur te sê: ‘Maar ek is net ’n mens en Jesus is God. Vir Hom was dit makliker om die duiwel en sy versoekings te weerstaan.’ Ja, dit is waar en dit is dalk ’n bietjie troos wanneer ons sondig, maar dit is nie regtig ’n verskoning nie.
Jesus was nog altyd God, maar vir omtrent 33 jaar, was Hy ook mens. Hy het dieselfde dinge deurgegaan as wat ons deurgaan. Hy was versoek in die woestyn deur die duiwel, maar Hy het – net soos ons – die Heilige Gees as krag en ondersteuning gehad. Dáár in die woestyn het Jesus nie eenmaal op sy Goddelikheid staatgemaak nie. Selfs nie eers aan die kruis het Hy ’n legioen engele ontbied om Hom te red nie, want in alles, het Hy aan jou en my en ons verlossing gedink. Hy móés as mens ly, sodat Hy verhoog kon word tot die hoogste verheerliking saam met die Vader. Die straf móés op Hóm neerkom, sodat ek en jy ook deur die Gees sterker kan staan in versoekings. Maar hoe doen ons dit? Deur meer en meer in God se geskrewe Woord te leef en meer en meer met die vleesgeworde Woord, Jesus Christus, saam te leer en leef.
Die Psalmdigter van Psalm 119 het dit besef:
“⁹𝐻𝑜𝑒 𝑠𝑎𝑙 '𝑛 𝑗𝑜𝑛𝑔𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑦 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑠𝑝𝑎𝑑 𝑠𝑢𝑖𝑤𝑒𝑟 ℎ𝑜𝑢? 𝐷𝑒𝑢𝑟 𝑡𝑒 ℎ𝑜𝑢 𝑏𝑦 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑.
¹⁰𝑀𝑒𝑡 𝑚𝑦 ℎ𝑒𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑒𝑘 𝑈; 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑔 𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑓𝑑𝑤𝑎𝑎𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒.
¹¹𝐼𝑛 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑘𝑜𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑈 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒.
¹²𝑈 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑝𝑟𝑦𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝐻𝑒𝑟𝑒! 𝐿𝑒𝑒𝑟 𝑚𝑦 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒!
¹³𝑀𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑙𝑖𝑝𝑝𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑒𝑙 𝑒𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑖𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑚𝑜𝑛𝑑.
¹⁴𝑂𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑝𝑎𝑙𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑢𝑔 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑒 𝑟𝑦𝑘𝑑𝑜𝑚.
¹⁵𝑂𝑜𝑟 𝑢 𝑜𝑝𝑑𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑒𝑘 𝑛𝑎𝑑𝑖𝑛𝑘; 𝑒𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑜𝑝 𝑢 𝑝𝑎𝑎𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑡.
¹⁶𝐼𝑛 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑘 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒; 𝑒𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒.”
– Psalm 119:9-16 (AFR20)
Hierdie geld natuurlik vir jonk en oud. Lees God se Woord. Leer daaruit. Praat met God. Praat met mense oor God. Loof die Here met hart en mond. Hou by God se Woord. Vind vreugde in die Woord!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe kan ek my lewenspad suiwer hou en die versoekings van die vyand en hierdie wêreld weerstaan? Deur te hou by God se Woord.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here,
¹⁰𝑀𝑒𝑡 𝑚𝑦 ℎ𝑒𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑒𝑘 𝑈; 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑔 𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑓𝑑𝑤𝑎𝑎𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒.
¹¹𝐼𝑛 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑘𝑜𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑈 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒.
¹²𝑈 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑝𝑟𝑦𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝐻𝑒𝑟𝑒! 𝐿𝑒𝑒𝑟 𝑚𝑦 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒!
¹³𝑀𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑙𝑖𝑝𝑝𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑒𝑙 𝑒𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑖𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑚𝑜𝑛𝑑.
¹⁴𝑂𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑝𝑎𝑙𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑣𝑒𝑟ℎ𝑒𝑢𝑔 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑒 𝑟𝑦𝑘𝑑𝑜𝑚.
¹⁵𝑂𝑜𝑟 𝑢 𝑜𝑝𝑑𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑒𝑘 𝑛𝑎𝑑𝑖𝑛𝑘; 𝑒𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑜𝑝 𝑢 𝑝𝑎𝑎𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑡.
¹⁶𝐼𝑛 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑘 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒; 𝑒𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒.”
Laat my hou by u Woord, Here. In Christus behaal ek die oorwinning oor versoeking. Laat dit só wees Here. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟏𝟑 – 𝐕𝐨𝐥𝐡𝐚𝐫𝐝𝐢𝐧𝐠 𝐢𝐧 𝐠𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons gemeente het gister ’n baie spesiale geleentheid saam bygewoon. Ons het onsself weer herinner aan wat die kruis vir ons beteken. So elke nou en dan moet ons weer diep daaroor nadink, sodat ons weer sal besef watter groot voorreg ons het om in Jesus se voetspore te volg en hoe ons elke dag ons kruis gewilliglik moet opneem, onsself verloën en die ou mens – die eie-ek – te laat sterf. Dit was voorwaar ’n wonderlike geleentheid en daar was ’n groot persentasie van die gemeente teenwoordig waar ons ons opnuut weer toegewy het om Jesus te volg. (vgl. Luk. 9:18-27)
Wat dikwels sulke wonderlike geleenthede se prag wegneem, is dat mense soms met ’n verkeerde siening van wat dit beteken om Jesus te volg in hul gedagtes sit. Jesus het dinge nie maklik gehad nie en Hy was uiteindelik deur sy eie mense oorgelewer om gekruisig te word. Ja, om Jesus te volg en om ’n selfopofferende gesindheid te hê is nie maanskyn en rose nie. Tog moedig Jesus ons aan om dit te doen... Maar waarom sal Hy dan so ’n groot taak en opoffering voor ons stel? Waarom sal ons dan gewilliglik agter Hom aanloop, as ons weet dat dit nie altyd ons lewe makliker gaan maak nie? Om die antwoord daarvoor te probeer verstaan, moet ons die groter prentjie probeer raaksien. Jakobus beskryf dit só:
“²𝐵𝑒𝑠𝑘𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑠 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒, 𝑚𝑦 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠, 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑟ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑣𝑎𝑙, ³𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡, 𝑎𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑔𝑒𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑎𝑟𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑒𝑒𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔. ⁴𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑎𝑟𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑤𝑖𝑘𝑘𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔 𝑘𝑜𝑚, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑘 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑜𝑝𝑠𝑖𝑔 𝑡𝑒𝑘𝑜𝑟𝑡 𝑠𝑘𝑖𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒. ⁵𝐴𝑠 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑜𝑟𝑡𝑘𝑜𝑚, 𝑙𝑎𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑟𝑎 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑒, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒ℎ𝑜𝑢𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑦𝑡, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑. ⁶𝑀𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑣𝑟𝑎, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑜𝑚 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑠𝑖𝑛𝑠 𝑡𝑒 𝑡𝑤𝑦𝑓𝑒𝑙, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑤𝑖𝑒 𝑡𝑤𝑦𝑓𝑒𝑙, 𝑖𝑠 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑔𝑜𝑙𝑓 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑛𝑑 𝑟𝑜𝑛𝑑𝑔𝑒𝑟𝑢𝑘 𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑔𝑒𝑠𝑙𝑒𝑒𝑝 𝑤𝑜𝑟𝑑. ⁷𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑠𝑜 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑘 𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔 𝑛𝑖𝑒. ⁸𝐻𝑦 𝑖𝑠 '𝑛 𝑑𝑢𝑏𝑏𝑒𝑙ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠, 𝑜𝑛𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑣𝑎𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑑𝑜𝑒𝑛.” – Jakobus 1:2-8 (AFR20)
Ja, ons kan nie verwag dat ons enigiets wyser sal word in hierdie lewe as ons voor elke uitdaging wil swig en moed opgee nie. Ons moet leer om te volhard. Net vandag vertel iemand wat baie atlete al afgerig het in sy lewe my: ‘’n Plan en doel, sonder aksie, is ’n droom. Maar: ’n plan en doel, met volharding, is verwesenliking van jou droom.’
Om werklik ware wysheid te kry in die lewe en die dinge van die lewe, moet ons volhard in die geloof, sodat ons wysheid van God af sal ontvang – wysheid waarmee ons die groter prentjie kan begin raaksien. Ons geloof is ’n reis waarop ons is en is iets waaraan daar elke dag gewerk moet word. Daarom het Jesus gesê dat ons elke dag ons kruis sal opneem, onsself verloën en Hom sal navolg.
As ons net ’n belofte maak om God te volg, maar ons gaan nie daadwerklik oor om te volhard daarin elke dag nie, gaan ons bitter teleurgestel word – deur onsself. Dan sal dit voel asof ons heen en weer geslinger word deur die lewe en asof daar nie enige standvastigheid in ons lewens is nie. Maar as ons op God vertrou en saam met Jesus stap, sal Hy ons help om ons laste ligter te maak en ons die krag gee om vas te staan op ons Rots.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Om Jesus te volg verg volharding en ek moet myself elke dag daaraan herinner. Ek moet leer uit die lewenslesse en ek kan saam met Jesus die oorwinning behaal.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, laat my getrou agter U aanloop. Laat my volg waar ook al U lei. Gee my die krag en uithouvermoë om te volhard in my geloof in U. Vader, skenk aan my wysheid, sodat ek die uitdagings van die lewe saam met U Gees wat my help en lei kan aanpak en in Christus’ Naam die oorwinning sal behaal. Tot U eer en verheerliking. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟏𝟎 – 𝐇𝐨𝐞 𝐥𝐢𝐞𝐟 𝐢𝐬 𝐣𝐲 𝐯𝐢𝐫 𝐝𝐢𝐞 𝐰𝐞̂𝐫𝐞𝐥𝐝 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Net nou die dag het ek die voorreg gehad om een van my rugbyhelde te ontmoet. Hy is nou al in sy sewentigs en al redelik gevorderd in sy lewe. Dit was wonderlik om te luister na verhale wat hy vertel van provinsiale rugby, internasionale toere en selfs van die minder trotse oomblikke van sy rugbyloopbaan. Hy is, soos ons mos sê, ’n “plat op die aarde mens”. ’n Gewone mens wat, volgens hom, die voorreg gehad het om sy land te verteenwoordig op die rugbyveld.
So het ek ook al die voorreg gehad om ’n paar ander bekende mense te ontmoet in my lewe en een ding wat ek agtergekom het oor almal van hulle: hulle is gewone mense soos ek en jy. Wat ek vêrder agtergekom het, is dat dié van hulle wat die gelukkigste is, is die mense waarvan hul roem nie hul eie roem is nie. Die eer wat hulle ontvang van mense, skryf hulle toe aan God en hulle gee aan Hom die eer. Ja, hulle het dalk deur hul loopbaan en daarna ook op een of ander manier finansieel daaruit gebaat, maar dít is nie vir hulle so belangrik nie. Hulle het nie die wêreld en al die dinge van die wêreld lief nie, want hulle weet wat eintlik belangrik is.
Natuurlik is dit nie alle bekendes wat só is nie en ek het ook gelees dat bekende sangeres en aktrise Mary J. Blige, wat beweer dat sy gelowig is, in ’n onderhoud oor haar weelderige leefstyl, die volgende geantwoord het:
“My God is a God who wants me to have things ... He wants me to be the hottest thing on the block. I don’t know what kind of God [you] are serving, but the God I serve says, ‘ ... you need to be the hottest thing this year, and I’m gonna make sure you’re doing that.’ My God is the bomb!” (“Dear Superstar: Mary J. Blige,” Blender, Mei 2006, p. 58)
Duidelik het sy ’n godheid van haar eie geskep, wat aan haar begeertes kon voldoen. Die woorde en voorbeeld van Jesus is nêrens hier te vinde nie. Johannes het juis ook weer daaroor geskryf in sy eerste brief:
“¹⁵𝑀𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑, 𝑜𝑓 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑖𝑠, 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒̂ 𝑛𝑖𝑒. 𝐴𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑖𝑛 ℎ𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒, ¹⁶𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 – 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑒̈ 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟, 𝑎𝑟𝑟𝑜𝑔𝑎𝑛𝑡𝑒 𝑠𝑝𝑜𝑔𝑔𝑒𝑟𝑦 𝑜𝑜𝑟 𝑏𝑒𝑠𝑖𝑡𝑡𝑖𝑛𝑔𝑠 – 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑. ¹⁷𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒𝑠 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑦, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑏𝑙𝑦 𝑡𝑜𝑡 𝑖𝑛 𝑒𝑤𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑.” – 1 Johannes 2:15-17 (AFR20)
En hoe doen ons die wil van God? Deur gehoorsaam te wees aan God se gebooie. In die voorafgaande gedeelte praat Johannes oor gehoorsaamheid aan die liefdesgebod en amper al sy skrywe gaan daaroor. Liefde vir God, eerste, en liefde vir mekaar. Liefde vir God se skepping en alles wat goed is in die wêreld, maar nie vir die korrupte denke en maniere van die wêreld nie. Ja, God het die wêreld só lief gehad dat Jesus gekom het vir ons almal, tog het die wêreld korrup gebly en wil so min selfs vandag nog glo in Hom.
Natuurlik kan ons die fisiese seën wat ons van God ontvang geniet, maar ons moet onthou dat die eer God toekom en dat ons nie in die strik moet trap van self-eer en selfverheffing nie. Moenie leef vir die tydelike dinge nie. Rig jou fokus op die ewige God en jou ewige woning.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek is IN hierdie wêreld, maar ek is nie VAN hierdie wêreld nie, want my eindbestemming is by my Here Jesus Christus. Ek moenie dat aardse dinge my aandag aftrek van wat belangrik is nie. Liefde vir God en liefde vir my naaste, moet altyd my fokus bly.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here God, mag my enigste trots in die lewe wees, dat ek deur u krag en u leiding, gehoorsaam is aan u liefdesgebod. Mag ek u wil doen, sodat ek vir ewig by U kan bly. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Sommige gedeeltes in die Bybel is nodig om te analiseer, in konteks te bring en te verduidelik aan mense. Ander gedeeltes weer, is so duidelik en reguit soos jy kry. Meeste van die Spreuke van Salomo is van daardie reguit wyshede waar geen verduideliking nodig is nie. Salomo het hierdie wyshede neergeskryf om te dien as raad vir sy kinders – praktiese raad vir die lewe.
Ons dink so dikwels dat die Bybel een of ander misterieuse boek is wat onverstaanbaar is en soms net te veel dinge bevat vir ons om na te volg. Ja, soos genoem, moet sommige gedeeltes meer in diepte verduidelik word en is dit ook nodig dat die Heilige Gees ons lei in die verstaan daarvan, maar in meeste gevalle, veral in die Ou Testament, is dit waardevolle geloofs- en praktiese lewenslesse wat ons dadelik daaruit kan neem. Daarom wil ek vandag van Salomo se wysheid met jou deel:
“⁶𝐺𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑖𝑒𝑟, 𝑙𝑢𝑖𝑎𝑎𝑟𝑑, 𝑘𝑦𝑘 𝑛𝑎 𝑠𝑦 𝑤𝑒𝑒̈, 𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑤𝑦𝑠.
⁷𝐻𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 •𝑎𝑎𝑛𝑣𝑜𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟, 𝑜𝑝𝑠𝑖𝑒𝑛𝑒𝑟 𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, ⁸𝑏𝑒𝑟𝑒𝑖 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑚𝑒𝑟 𝑠𝑦 𝑘𝑜𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟, 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑎𝑚𝑒𝑙 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑒𝑠𝑡𝑦𝑑 𝑠𝑦 𝑣𝑜𝑒𝑑𝑠𝑒𝑙.
⁹𝐻𝑜𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑘, 𝑙𝑢𝑖𝑎𝑎𝑟𝑑, 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑦 𝑛𝑜𝑔 𝑏𝑙𝑦 𝑙𝑒̂? 𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑦 𝑜𝑝𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑢𝑖𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑝?
¹⁰'𝑛 𝐵𝑖𝑒𝑡𝑗𝑖𝑒 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑝, '𝑛 𝑏𝑖𝑒𝑡𝑗𝑖𝑒 𝑖𝑛𝑠𝑙𝑢𝑖𝑚𝑒𝑟, '𝑛 𝑏𝑖𝑒𝑡𝑗𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑣𝑜𝑢 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑟𝑢𝑠; ¹¹𝑑𝑎𝑛 𝑘𝑜𝑚, 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑟𝑜𝑛𝑑𝑙𝑜𝑝𝑒𝑟, 𝑗𝑜𝑢 𝑎𝑟𝑚𝑜𝑒𝑑𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑎𝑛, 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑘 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑠𝑘𝑎𝑎𝑚𝑡𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒 𝑚𝑎𝑛.
¹²'𝑛 𝐷𝑒𝑢𝑔𝑛𝑖𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠, '𝑛 𝑏𝑜𝑜𝑠𝑑𝑜𝑒𝑛𝑒𝑟, 𝑖𝑠 ℎ𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑚𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑜𝑙 𝑣𝑎𝑙𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑟𝑜𝑛𝑑𝑙𝑜𝑜𝑝, ¹³𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑜𝑒̈ 𝑘𝑛𝑖𝑘, 𝑡𝑒𝑘𝑒𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑣𝑜𝑒𝑡𝑒, 𝑏𝑒𝑑𝑢𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑣𝑖𝑛𝑔𝑒𝑟𝑠, ¹⁴𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑜𝑟𝑤𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑡𝑦𝑑 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑡𝑤𝑒𝑒𝑑𝑟𝑎𝑔 𝑠𝑎𝑎𝑖.
¹⁵𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚, 𝑜𝑛𝑣𝑒𝑟𝑤𝑎𝑔𝑠 𝑘𝑜𝑚 𝑠𝑦 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑠𝑝𝑜𝑒𝑑 – 𝑝𝑙𝑜𝑡𝑠𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑 ℎ𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑝𝑙𝑒𝑡𝑡𝑒𝑟, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑙.
¹⁶𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑠𝑒𝑠 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 '𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑟𝑠𝑖𝑛 ℎ𝑒𝑡, 𝑠𝑒𝑤𝑒 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑎𝑓𝑠𝑡𝑜𝑜𝑡𝑙𝑖𝑘:
¹⁷ℎ𝑜𝑣𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑜𝑒̈, '𝑛 𝑏𝑒𝑑𝑟𝑖𝑒𝑔𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑡𝑜𝑛𝑔, ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑖𝑒𝑡, ¹⁸'𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑏𝑜𝑠𝑒 𝑝𝑙𝑎𝑛𝑛𝑒 𝑠𝑚𝑒𝑒, 𝑣𝑜𝑒𝑡𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑜𝑢 𝑖𝑠 𝑜𝑚 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑡𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑑𝑙𝑜𝑜𝑝, ¹⁹'𝑛 𝑣𝑎𝑙𝑠 𝑔𝑒𝑡𝑢𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑙𝑒𝑢𝑒𝑛𝑠 𝑢𝑖𝑡𝑟𝑦𝑔, 𝑒𝑛 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑡𝑤𝑒𝑒𝑑𝑟𝑎𝑔 𝑠𝑎𝑎𝑖 𝑡𝑢𝑠𝑠𝑒𝑛 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠.
²⁰𝑀𝑦 𝑠𝑒𝑢𝑛, ℎ𝑜𝑢 𝑏𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑎𝑑𝑒𝑟, 𝑒𝑛 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑚𝑜𝑒𝑑𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑜𝑛𝑡𝑎𝑔𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑛𝑖𝑒.
²¹𝐵𝑖𝑛𝑑 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑑𝑢𝑟𝑒𝑛𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑎𝑟𝑡, 𝑏𝑖𝑛𝑑 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑚 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑒𝑘.
²²𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑟𝑜𝑛𝑑𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑙𝑒𝑖; 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑝, 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑜𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑤𝑎𝑔 ℎ𝑜𝑢; 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑤𝑎𝑘𝑘𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖́𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑠𝑖𝑔 ℎ𝑜𝑢.
²³𝑊𝑎𝑛𝑡 '𝑛 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑑 𝑖𝑠 '𝑛 𝑙𝑎𝑚𝑝, 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔 𝑖𝑠 '𝑛 𝑙𝑖𝑔. 𝐷𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑑 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑖𝑠 𝑡𝑒𝑟𝑒𝑔𝑤𝑦𝑠𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑚𝑎𝑛𝑖𝑛𝑔,”
– Spreuke 6:6-23 (AFR20)
Kyk, as daar nou een ding is wat baie min mense van hou, is dit vermaning en teregwysing. Enige kritiek teen iets wat ons doen, is mos so dikwels vir ons amper soos ’n aanval teen ons persoonlikheid en wie ons is. Maar nie alle kritiek as afbrekend nie. As kritiek op die regte manier ontvang word – as opbouend – kan jy as mens geweldig groei daardeur. Veral die raad en teregwysing van ouers en ouer mense wat Godsmanne en –vroue is. Dan besef jy dat God se Woord waarlik die beste lamp en lig is om jou lewenspad te verlig.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God se Woord het baie wysheid en raad. Ek moet dit gereeld raadpleeg. Ek moet God ook in gebed raadpleeg oor alle praktiese- en geloofsake. Indien daar kritiek teen my gelewer word, moet ek dit met wysheid oorweeg en sien of dit opbouend kan wees tot my as mens – ek moet dit meet aan God se Woord.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Liewe hemelse Vader, help my om met wysheid op te tree en hardwerkend te wees. Help my om goeie raad te aanvaar en slegte raad te ignoreer. Laat my U Woord al beter leer ken. Laat my die wysheid en raad daarin my eie maak. Mag ek geleer word daardeur en ook deur ouers en ouer mense wat U Koninkryk wil bevorder daardeur. Laat u gebooie vir my ’n lamp wees en u onderrig ’n lig. Laat my waarlik ag slaan op die vermanings, sodat ek op die pad na die lewe sal bly. Tot u eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟗 – 𝐓𝐨𝐞𝐭𝐬𝐞, 𝐛𝐞𝐩𝐫𝐨𝐞𝐰𝐢𝐧𝐠𝐬 𝐞𝐧 𝐯𝐞𝐫𝐬𝐨𝐞𝐤𝐢𝐧𝐠𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons lewe vir seker in baie uitdagende tye. Baie mense se stresvlakke is hoog, spanning word fisies op ons liggame gevoel as gevolg van druk en terugslae in ons lewens. Ja, selfs in die Christen se lewe gebeur hierdie dinge! Eintlik, in baie gevalle, gebeur hierdie dinge nog méér in die Christen se lewe.
Met praktiese sake in die lewe, weeg ons dikwels die voordele en nadele van ’n saak op teen mekaar, voordat ons ’n besluit neem daaroor. Moet ek ’n huis koop, byvoorbeeld? Wat gaan dit my kos? Hoeveel meer geld gaan ek spandeer elke maand? Waar moet ek dalk sny aan my begroting? Kan ek bekostig om my begroting te sny? As die onmiddellike voordele vir ons nie aanloklik genoeg lyk nie, sal ons gewoonlik teen ’n saak staan, omdat ons eerder nou gemaklik wil leef en sonder stres en spanning wees. Maar die langtermyn voordele, al is dit bekend, word eerder opsy geskuif en ons stel eerder uit.
Met ons geloof, gaan dit dikwels ook só. Ons besluit om vir Jesus te volg, maar, omdat die vyand nie daarvan hou nie en begin planne smee teen ons om ons geluk te steel, dan swig ons dikwels onder die druk. Ons keer so hier en daar terug na ons ou lewe en, voor jy jouself kry, is jy weer heeltemal terug in jou ou lewe van wêreldse gemak en geluk en Jesus word slegs ’n bysaak vir jou. Die druk wat op jou geloof toegepas word, ken jy toe as van God afkomstig en jy begin dink en glo dat jy nie regtig reg is daarvoor dat God jou beproef nie. Jy begin dalk selfs glo dat God jou versoek... Dít alles, terwyl God eintlik die Een is wat jou daarvan kan verlos!
“¹²𝐺𝑒𝑙𝑢𝑘𝑘𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑎𝑠 ℎ𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑔, 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛𝑛𝑖𝑛𝑔𝑠𝑘𝑟𝑎𝑛𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔, 𝑤𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡. ¹³𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑠𝑒̂: “𝐸𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘” 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑒𝑛 𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝐻𝑦 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑛𝑖𝑒. ¹⁴𝐸𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 ℎ𝑦 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑔𝑒𝑣𝑜𝑒𝑟 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑒𝑖 𝑤𝑜𝑟𝑑. ¹⁵𝐷𝑎𝑛, 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑣𝑟𝑢𝑔 𝑖𝑠, 𝑔𝑒𝑒 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑜𝑟𝑡𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒, 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑟𝑜𝑒𝑖 𝑖𝑠, 𝑔𝑒𝑒 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑜𝑟𝑡𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑. ¹⁶𝑀𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑖𝑠𝑙𝑒𝑖 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠.” – Jakobus 1:12-16 (AFR20)
Ja, glo dit. God is nie die een wat jou versoek nie. Hy is die Een wat jou daaruit én daardeur wil help. Hy wil beproewinge in jou lewe gebruik om jou sterker te maak, nie swakker nie. Ons is nooit alleen in enige toetse of beproewinge in ons lewens nie. God is altyd daar om ons te help en God se doel vir jou lewe en jou geloof is altyd deel van dit wat jy deurmaak. Ons moet deur God se Gees gelei word, sodat ons nie mislei word deur die leuens van die vyand en begeertes van ons eie sondige natuur nie. Jy het mos gekies vir die lewe, moenie neig na die dood nie!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Daar is ’n verskil tussen “toetse” en “versoekings”. As God my geloof toets, gee Hy ook die krag om daarbo uit te styg. God sal my nooit versoek om te sondig nie – dis die werk van die duiwel en sy helpers. God sal my ook daarin help, deur die Gees wat in my woon. Ek moet luister na die stem van die Heilige Gees in my en nie verlei word deur die leuens van die Satan nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, U wat self deur die Satan versoek was en weet waardeur ons gaan in hierdie lewe, laat U Gees altyd met my wees en laat my geloof getoets word en laat ek die toetse slaag deur U krag in my. Dankie almagtige Vader, dat U goed is en dat U die sonde haat en my nooit sal versoek daarmee nie. Here, ek het U lief. Help my deur alle uitdagings in die lewe, sodat ek ook die oorwinningskrans sal ontvang. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟕 – 𝐀𝐬 𝐣𝐲 𝐛𝐞𝐠𝐢𝐧 𝐛𝐫𝐞𝐞𝐤 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Net nou die dag het ek vir jou gesê om klei te wees, volgens wat Jesaja ons leer in Jesaja 29. God is die Pottebakker en ons is die klei. Ons kan nooit sê dat ons op onsself kan roem nie. In alles wat ons is en wat ons doen, kom die lof en eer God alleen toe.
Gister se boodskap het ons herinner dat Jesus se lig in- en deur ons skyn. Jesus is die Woord wat vlees geword het en ons het nogsteeds die geskrewe Woord ook om ’n lamp vir ons voete te wees (Psalm 119:105-112). Deur hierdie lig wat uit die Woord skyn, weet ons dat ons altyd God se leiding in alle sake kan vind.
Maar, as ons klei is, moet ons onthou dat klei dikwels baie bros is en maklik kan breek. Soms breek die wêreld klein stukkies van ons uit en is daar gate in die kleipotte wat ons is. Wat dan? Dan hou jy aan skyn! Hoor wat skryf Paulus is sy tweede brief aan die Korintiërs:
“⁶𝑊𝑎𝑛𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑒̂ ℎ𝑒𝑡, “𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠 𝑙𝑖𝑔 𝑠𝑘𝑦𝑛,” 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝐻𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑦𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑚 𝑜𝑛𝑠 𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑖𝑔 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑒𝑛𝑛𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠. ⁷𝐻𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑎𝑡 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑖𝑛 𝑘𝑙𝑒𝑖𝑝𝑜𝑡𝑡𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑢𝑖𝑡𝑒𝑛𝑔𝑒𝑤𝑜𝑛𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑑𝑢𝑖𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑘𝑜𝑚 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒. ⁸𝐼𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑢𝑘, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑒𝑙𝑑𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒; 𝑜𝑛𝑠 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑟 𝑟𝑎𝑎𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑒𝑒̈, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑟𝑎𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠 𝑛𝑖𝑒; ⁹𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑒𝑘 𝑔𝑒𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒; 𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑝𝑙𝑎𝑡𝑔𝑒𝑠𝑙𝑎𝑎𝑛, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑖𝑒𝑡𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒. ¹⁰𝐷𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑤𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑟𝑎 𝑜𝑛𝑠 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑎𝑎𝑚, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑜𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚 𝑠𝑖𝑔𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑.” – 2 Korintiërs 4:6-10 (AFR20)
Ons is nie onoorwinbaar nie. Ons is dikwels swak, brose mense. Die wêreld kan jou soms vol gate slaan en dit kan voel of die skat binne jou begin uitloop en kwyn. Maar onthou een ding: God is onoorwinbaar. Dit is God se lig wat in- en deur jou skyn. Daardie lig kan nie uitgedoof word nie en skyn vir ewig. Dit is die lewe wat ons in Jesus Christus het. Daarom sê Paulus dat ons nie moet moed opgee in moeilike omstandighede nie, maar dat ons selfs in ons broosheid en gebrokenheid, God se lig moet laat skyn.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wanneer dinge sleg gaan, is ons geneig om te fokus op die eindigheid van dinge en selfs die lewe. Ons dra die sterwe van Jesus met ons saam, maar dit is die sterwe van die ou mens. Ons dra ook die lewe! Ek moet die lewe, Jesus se nuwe lewe wat Hy vrylik aan my gee, sigbaar maak in alles van my lewe.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, U gee my nuwe lewe. Soms los die lewe my amper moedeloos en baie broos. Laat U lig so sterk deur my skyn – in my goeie en slegte dae, sodat: al word ek verdruk, ek nie oorweldig word nie; al is ek oor raad verleë, ek nie radeloos sal wees nie; al word ek vervolg, ek sal weet U my nooit in die steek sal laat nie; al word ek platgeslaan, ek weer my krag in U vind en nie vernietig word nie. Here Jesus, dankie dat ek U sterwe in my kan saamdra om my te herinner dat die ou mens moet sterf. Laat u lewe sigbaar word in my. Tot u eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟔 – “... 𝒅𝒊𝒆 𝒍𝒊𝒈 𝒔𝒌𝒚𝒏 𝒊𝒏 𝒅𝒊𝒆 𝒅𝒖𝒊𝒔𝒕𝒆𝒓𝒏𝒊𝒔 ...” (Kliek hier vir die klankgreep)
In Johannes 1 beskryf Johannes Jesus as God se Woord, omdat Jesus as mens gekom het om God se groot genade aan die mense te verkondig, maar ook te wys. Deur Jesus se hele lewe het God gepraat met die mens. In die eerste vyf verse van die Johannes evangelie, beskryf Johannes die Godheid en die doel van Jesus se menswording:
“¹𝐼𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑖𝑛 𝑤𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑊𝑜𝑜𝑟𝑑, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑊𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑤𝑎𝑠 𝑏𝑦 𝐺𝑜𝑑, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑊𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑤𝑎𝑠 𝐺𝑜𝑑. ²𝐻𝑦 𝑤𝑎𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑖𝑛 𝑏𝑦 𝐺𝑜𝑑. ³𝐴𝑙𝑙𝑒𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝐻𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑤𝑎𝑡 𝑏𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛, 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒. ⁴𝐼𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑠 𝑙𝑒𝑤𝑒, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒́ 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑤𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒. ⁵𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔 𝑠𝑘𝑦𝑛 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠 𝑘𝑜𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑑𝑜𝑜𝑓 𝑛𝑖𝑒.” – Johannes 1:1-5 (AFR20)
Toe Johannes hierdie woorde geskryf het en aan die mense bekend gemaak het, was dit nuus vir baie gewees. Selfs vandag nog, wanneer mense tot die besef kom dat Jesus Christus waarlik God is, is hulle verbaas, stomgeslaan en weet hulle dikwels nie wat om daarmee te maak nie.
Wanneer ons egter mooi gaan lees en luister na Jesus se woorde en al die briewe wat Paulus en ander apostels geskryf het oor God se liefde en genade, dan besef ons dat dinge eintlik nog altyd dieselfde is. God het nog altyd vir ons die lig en die lewe gegee. Hoor wat is eeue voor Jesus se koms opgeteken in Psalm 119:
“¹⁰⁵𝑈 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑠 '𝑛 𝑙𝑎𝑚𝑝 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑣𝑜𝑒𝑡 𝑒𝑛 '𝑛 𝑙𝑖𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑠𝑝𝑎𝑑.
¹⁰⁶𝐸𝑘 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑒𝑒𝑑 𝑎𝑓𝑔𝑒𝑙𝑒̂ – 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑏𝑦 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑢 – 𝑜𝑚 𝑢 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑖𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑛𝑎 𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑚.
¹⁰⁷𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑡𝑒𝑟𝑛𝑒𝑒𝑟𝑔𝑒𝑑𝑟𝑢𝑘; 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑚𝑦 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑! ...
¹¹¹𝐸𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑢 𝑏𝑒𝑝𝑎𝑙𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑎𝑠 𝑏𝑙𝑦𝑤𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑒𝑟𝑓𝑝𝑜𝑟𝑠𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔; 𝑗𝑎, 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑟𝑡.
¹¹²𝐸𝑘 𝑟𝑖𝑔 𝑚𝑦 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑝 𝑜𝑚 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑡𝑒 𝑣𝑜𝑒𝑟 – 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑, 𝑡𝑜𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑖𝑛𝑑𝑒 𝑡𝑜𝑒.”
– Psalm 119:105-107; 111-112 (AFR20)
Ja, God se bepalings is vir ons ’n blywende erfporsie en God se Woord was nog altyd daar om die mens te help. En toe die Woord vlees geword het in Jesus Christus, het dit alles soveel makliker en duideliker gemaak.
In ’n donker, gevalle wêreld, is God se Woord nogsteeds die lamp vir ons voete en die lig wat ons lei. Die Woord wat vlees geword het, Jesus Christus, is vir ons die lewe. Wanneer alles om ons voel of dit in duie stort, of wanneer ons soos die psalmis voel dat ons terneergedruk is, gee God se Woord ons weer lewe.
Wanneer die wêreld baie deurmekaar is en dalk nie sin maak nie, vind God in sy Woord. Hy sal jou lei.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat of wie lei my in die besluite wat ek moet maak elke dag? As ek terneergedruk voel, waarheen gaan ek? Ek kan altyd na God gaan en ek hoef nie vêr te soek om Hom te vind nie. God se Woord, die Bybel, en God se Woord wat vlees geword het, Jesus Christus, lei my deur die werk van die Heilige Gees.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige Vader, dankie vir U Woord. Dankie dat ek altyd uit die Bybel kan lees en dat ek aan u bepalings kan vasklou wanneer dit voel of die lewe my heen en weer slinger en dinge om my dalk heeltemal deurmekaar is. Laat my altyd wandel op die pad waar u lig skyn. Dankie Here Jesus, dat U die lewe en die lig is vir my. Laat my ook skyn vir ander, sodat hulle U kan leer ken ook in u lig sal wandel. Tot u eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟑 – 𝐖𝐞𝐞𝐬 𝐤𝐥𝐞𝐢. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om ’n nuwe skepping te wees in Jesus Christus, beteken dat jy met die mond bely en met jou dade wys dat jy nuut is. Vleiende taal wat nie gepaardgaan met dade van liefde nie, is nutteloos.
Vir duisende jare al het God, deur die skepping en deur sy verbond met ons, bevestig dat Hy ons God is en dat Hy altyd betrokke is by die mens. Die mens weet nog altyd dat God alles sien en alles weet, maar tog dink mense nogsteeds dat hulle dinge kan doen waarvan God nie sal weet nie. Die mens weet nog altyd dat God net gehoorsaamheid vra. God vra dat ons Hom lief het en ook ons medemens lief het, soos ons onsself lief het. Maar ons selfliefde het nog altyd vir ons net moeilikheid veroorsaak, want soms raak ons té lief vir onsself en ons eie begeertes. Adam en Eva was die eerste mense en dáár al het die probleem begin...
Jesaja skryf eeue later en rig ’n waarskuwing aan Jerusalem – ’n waarskuwing wat Jesus weer aanhaal teen die Fariseërs (vgl. Mar. 7:1-8; Matt. 15:1-20). Jesaja skryf:
“¹³𝑀𝑦 𝐻𝑒𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑂𝑚𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝑀𝑦 𝑛𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑜𝑛𝑑 𝑒𝑛 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑙𝑖𝑝𝑝𝑒 𝑀𝑦 𝑒𝑒𝑟, 𝑚𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑣𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑀𝑦, 𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑎𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑀𝑦 𝑏𝑙𝑜𝑜𝑡 '𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒𝑟𝑑𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑑, ¹⁴𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚, 𝑘𝑦𝑘, 𝐸𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑚 𝑜𝑝 '𝑛 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘𝑒, 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑏𝑎𝑎𝑟𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑚𝑎𝑛𝑖𝑒𝑟 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝑡𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒𝑙. 𝐷𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑦𝑠𝑒𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑡𝑜𝑡 𝑛𝑖𝑒𝑡 𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑜𝑟𝑔𝑒 𝑏𝑙𝑦.” ¹⁵𝑊𝑒𝑒 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑝𝑙𝑎𝑛𝑛𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑑𝑖𝑒𝑝 𝑤𝑒𝑔𝑠𝑡𝑒𝑒𝑘! 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑝𝑙𝑎𝑎𝑠, 𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑒̂: “𝑊𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑒𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑘𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠?” ¹⁶𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑎𝑎𝑖 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠! 𝑂𝑓 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑜𝑡𝑡𝑒𝑏𝑎𝑘𝑘𝑒𝑟 𝑏𝑒𝑠𝑘𝑜𝑢 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑎𝑠 𝑔𝑒𝑙𝑦𝑘𝑤𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑔 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑙𝑒𝑖, 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑘𝑠𝑒𝑙 𝑣𝑖𝑟 𝑠𝑦 𝑚𝑎𝑘𝑒𝑟 𝑘𝑎𝑛 𝑠𝑒̂, “𝐽𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑛𝑖𝑒”, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑒𝑣𝑜𝑟𝑚 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑜𝑡𝑡𝑒𝑏𝑎𝑘𝑘𝑒𝑟 𝑠𝑒̂, “𝐻𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒”?” – Jesaja 29:13-16 (AFR20)
Ons dink so dikwels dat God nie sal verstaan waardeur ons gaan nie en dat ons eerder maar in die geheim moet probeer om dinge uit te sorteer – soms op die verkeerde manier. Ons sal Sondae voorgee asof ons getroue Christene is en bely dat ons op God vertrou, maar sodra ons weg is van die erediens, dan mor ons oor allerhande dinge en beraam ons ons eie planne om ons weer gelukkig te maak.
God is die pottebakker en ons die klei. Klei kan nie self gevorm word in iets bruikbaar nie. Die Pottebakker weet wat Hy doen. Om te dink God weet nie wat Hy doen nie, net omdat jy nie verstaan hoekom dinge gebeur nie, is nie wysheid nie. Hemelse wysheid is om te aanvaar dat God God is en jy, jy is God se maaksel – presies soos Hy beplan het. As jy toelaat dat Hy aanhou vorm aan jou, sal jy weer perfek wees. God het baie geduld met jou. Wees jy ook geduldig en laat Hy jou vorm, volgens sy wil.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God is die Pottebakker. Ek is die klei. God weet wat Hy doen. Ek moet God se wil aanvaar in my lewe en ek moet met my tong, hart en dade bely dat Hy alleen God is.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, jammer dat ek so dikwels dinge self wil uitsorteer en dat ek myself wil vorm in wat ek dink ek moet wees. Ek moet wees wie en wat U my maak. Vorm my en maak my, soos U wil. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟑 – 𝐖𝐲𝐬𝐡𝐞𝐢𝐝 𝐯𝐚𝐧 𝐁𝐨. ( Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is ’n groot verskil tussen kennis en wysheid. Amper alle mense besit een of ander vorm van kennis, maar wysheid is die kundigheid om die kennis wat jy besit op die regte manier toe te pas. As jy jou kennis reg toepas kan dit jou tot voordeel wees en kan jy ander ook leer om uit jou besluite te leer. Maar dan is daar natuurlik ook verskeie soorte wysheid. Die wysheid wat ek nou net beskryf het, is 9 uit 10 kere ’n aardse tipe wysheid wat lei tot die bevordering van ’n individu en sy/haar eie eer en rykdom.
Jakobus skryf dat ons versigtig moet wees om hierdie soort wysheid te sien as wysheid van God. Ware wysheid, sê Jakobus, is wysheid wat suiwer is en wat geregtigheid bevorder. Hemelse wysheid, sê hy, is gevul met hemelse kwaliteite:
“¹³𝑊𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑠 𝑤𝑦𝑠 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑖𝑔? 𝐿𝑎𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑑𝑟𝑎𝑔 𝑠𝑦 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑎𝑔𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑡𝑜𝑜𝑛. ¹⁴𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑏𝑖𝑡𝑡𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑓𝑔𝑢𝑛𝑠 𝑒𝑛 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠𝑢𝑔 𝑖𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑖𝑠, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑝 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑒𝑟𝑜𝑒𝑚, 𝑒𝑛 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑙𝑖𝑒𝑔 𝑛𝑖𝑒. ¹⁵𝐷𝑖́𝑡 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑏𝑜 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑠, 𝑛𝑖𝑒-𝑔𝑒𝑒𝑠𝑡𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑒𝑛 𝑑𝑒𝑚𝑜𝑛𝑖𝑒𝑠. ¹⁶𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑓𝑔𝑢𝑛𝑠 𝑒𝑛 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠𝑢𝑔 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠, 𝑘𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑛𝑜𝑟𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑟𝑙𝑒𝑖 𝑔𝑒𝑚𝑒𝑛𝑒 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟. ¹⁷𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑏𝑜 𝑖𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒 𝑝𝑙𝑒𝑘 𝑠𝑢𝑖𝑤𝑒𝑟, 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒𝑙𝑖𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑, 𝑏𝑒𝑑𝑎𝑔𝑠𝑎𝑎𝑚, 𝑖𝑛𝑠𝑘𝑖𝑘𝑙𝑖𝑘, 𝑣𝑜𝑙 𝑑𝑒𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠 𝑒𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑢𝑔𝑡𝑒, 𝑜𝑛𝑝𝑎𝑟𝑡𝑦𝑑𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑔𝑒𝑣𝑒𝑖𝑛𝑠. ¹⁸𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑢𝑔 𝑣𝑎𝑛 •𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑎𝑎𝑖 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑘.” – Jakobus 3:13-18 (AFR20)
So moet ons elke besluit wat ons neem mooi opweeg. Is die besluit tot bevordering van my eie eer? Doen ek dinge uit afguns vir ander of uit selfsug en selfbevordering? Of is ek besig om te dink aan God se Koninkryk in alles wat ek doen? Is ek vredeliewend, bedagsaam teenoor ander, inskiklik en vol deernis in my optrede? Is ek onpartydig in sake en ongeveins?
Ek hoor dikwels hoe mense sê: “Onthou net: die wiel draai...” Sien, as jy nie vrede maak en vrede bevorder nie, sal die onsuiwer motiewe agter jou aksies altyd, op een of ander manier, na vore kom. Laat die vrug van geregtigheid in jou gesaai word en tree op met hemelse wysheid.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe besluit ek wat ek moet doen en nie moet doen nie. Gebruik ek die wysheid wat van Bo kom, of maak ek staat op aarde, onsuiwer wysheid?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, skenk my U wysheid, sodat ek in alles wat ek dink en doen, U Koninkryk kan bevorder. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟐 – 𝐎𝐨𝐫𝐰𝐢𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐰𝐞̂𝐫𝐞𝐥𝐝 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is dikwels dinge wat ons bekommer in die lewe. Geld, moeilike mense en situasies, uitdagings in die werkplek, kritiek van ander mense – alles dinge wat binne ons ’n wroeging veroorsaak. Ons wroeg met verskillende sake, omdat ons eintlik net bietjie vrede wil ervaar. Ons wil graag die dinge uitsorteer en, in ’n mate, oorwinning behaal. Die grootste worsteling wat meeste mense dan uiteindelik in die lewe het, is om te weet wat die regte ding is om te doen – hoe om ’n beter mens te wees. Ons wil graag die wêreld en sy uitdagings oorwin. Maar, is dit ooit moontlik? Johannes skryf:
“¹𝐸𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑙𝑜 𝑑𝑎𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑖𝑒 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 𝑢𝑖𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒, 𝑒𝑛 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑜𝑘 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑙𝑖𝑒𝑓 𝑤𝑎𝑡 𝑢𝑖𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒 𝑖𝑠. ²𝐻𝑖𝑒𝑟𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡: 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝐺𝑜𝑑 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑜𝑖𝑒 𝑛𝑎𝑘𝑜𝑚. ³𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑜𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟ℎ𝑜𝑢, 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑜𝑝𝑑𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑙𝑎𝑠 𝑛𝑖𝑒; ⁴𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑢𝑖𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒 𝑖𝑠, 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑; 𝑒𝑛 𝑑𝑖́𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛 – 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓. ⁵𝑊𝑖𝑒 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑎𝑠 ℎ𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑙𝑜 𝑑𝑎𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑖𝑒 •𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠?” – 1 Johannes 5:1-5 (AFR20)
Ja, geloof kan die wêreld oorwin. Jou geloof in Jesus Christus, die Seun van God en God self. Deur te hou by sy opdragte en te lewe soos Hy vra, is oorwinning oor die wêreld. Liefde vir God en gehoorsaamheid aan sy gebooie, wen die uitdagings wat die wêreld voor ons opstapel.
Ag, maar dit klink darem so eenvoudig, nè? Tog weet ons, in realiteit, in is dit nie altyd so maklik nie. Vir Jesus was dit maklik, want Hy is God. Maar vir ons... ons is dan net mense... So hoe dan nou?
Ons vergeet so gou dat Jesus Christus 100% God is, maar dat Hy ook 100% mens was:
“¹⁴𝐴𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑑𝑎𝑛 𝑎𝑎𝑛 𝑣𝑙𝑒𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑑𝑒𝑒𝑙 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑜𝑘 𝐻𝑦 𝑛𝑒𝑡 𝑠𝑜 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑠𝑒𝑙𝑓𝑑𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑔𝑒𝑘𝑟𝑦, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑚𝑎𝑔 ℎ𝑒𝑡, 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐷𝑢𝑖𝑤𝑒𝑙, 𝑘𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑜𝑛 𝑚𝑎𝑎𝑘, ¹⁵𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑢𝑖𝑡 𝑣𝑟𝑒𝑒𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑘 𝑖𝑛 𝑠𝑙𝑎𝑤𝑒𝑟𝑛𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑒𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡, 𝑘𝑜𝑛 𝑏𝑒𝑣𝑟𝑦. ¹⁶𝑊𝑎𝑛𝑡 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑠𝑒𝑘𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑛𝑔𝑒𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑜𝑟𝑔 𝑛𝑖𝑒; 𝑖𝑛𝑡𝑒𝑒𝑛𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑟 𝐴𝑏𝑟𝑎ℎ𝑎𝑚 𝑠𝑒 𝑛𝑎𝑔𝑒𝑠𝑙𝑎𝑔 𝑏𝑒𝑠𝑜𝑟𝑔. ¹⁷𝑚𝑜𝑒𝑠 𝐻𝑦 𝑖𝑛 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑜𝑝𝑠𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑙𝑦𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 '𝑛 𝑏𝑎𝑟𝑚ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔𝑒 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝐻𝑜𝑒̈𝑝𝑟𝑖𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑘𝑜𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑜𝑚 𝑎𝑠 𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟 𝑡𝑒 𝑑𝑖𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝑠𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠. ¹⁸𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑔𝑒𝑙𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑒 𝐻𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 𝐻𝑦 𝑖𝑛 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑡 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒́ 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑡𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑝.” – Hebreërs 2:14-18 (AFR20)
So, hoe oorwin jy die wêreld? Sáám met Jesus. Nie op jou eie nie – jy kan nie. Jesus was self mens en weet waardeur jy gaan. Praat met Hom. Deel jou hart met Hom. Werk konstant aan jou verhouding met die Here. Hy is meer as in staat om jou te help. Glo dit.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek kan nie die wêreld op my eie oorwin nie. Jesus het reeds oorwin. In Hom en deur Hom, kan ek ook elke dag die oorwinning behaal.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, U was self mens en ek weet U verstaan waardeur ek elke dag gaan en U verstaan die wroegings en worstelings waardeur ek soms sukkel. Wees met my en help my. Laat my gehoorsaam wees aan U opdragte en gebooie, almagtige God, en laat my die oorwinning oor die wêreld behaal, deur geloof en in die Naam van Jesus Christus, my Here. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟐-𝟎𝟏 – 𝐇𝐨𝐞 𝐨𝐦 𝐭𝐞 𝐠𝐞𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat is jou gunsteling besitting? Dalk is dit ’n geskenk wat jy van iemand ontvang het of iets waarvoor jy lank gespaar het. As ons iets het waaraan ons baie waarde of sentiment heg, is dit amper vanselfsprekend dat ons nie sommer van daardie item sal wil afskeid neem nie. As ons dit móét weggee, sal dit heel moontlik onder dwang wees of met heelwat droefheid gepaard gaan.
Maar, wat as jy sien dat daar iemand is wat dalk daardie item baie nodiger het as jy? As jy byvoorbeeld twee voertuie het, maar een staan amper permanent in die motorhuis, net ingeval jy dit dalk weer nodig het, terwyl jy net jou nuwe “droom kar” bestuur. Jy weet jou buurman moet elke dag in wind en weer en brandende son 5km werk toe stap, omdat hy nie ’n voertuig kan bekostig nie, sal jy aan hom jou spaar motor gee? Of nog beter, sal jy aan hom jou “droom kar” gee?
Ja-nee, dit sal nie sommer gebeur nie en, indien wel, sal dit seker met ’n swaar hart wees. Maar dink bietjie mooi daaraan: Dink hoe jy gaan voel, as jy weet jy het iemand werklikwaar groot hulp verleen – sonder om iets terug te verwag. Hoe sal jy dan voel? Steeds droewig? Dalk kwaad? Indien jy nogsteeds so voel, moet jy eerder nie gee nie.
Paulus begin hoofstuk 9 van die tweede brief aan die Korintiërs met die woorde: “¹𝐸𝑖𝑛𝑡𝑙𝑖𝑘 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑜𝑛𝑛𝑜𝑑𝑖𝑔 𝑜𝑚 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠𝑙𝑒𝑤𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 •ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑡𝑒 𝑠𝑘𝑟𝑦𝑓.” (2 Korintiërs 9:1 AFR20)
Ek voel dikwels ook nogal so. Ek wil nie preek oor dankoffers en dienslewering binne ’n gemeente of gemeenskap nie, maar om een of ander rede, vergeet mense baie gou wat van hulle verwag word. ’n Ou dominee het eenmaal gesê: ‘Daar is drie dinge wat jy nie oor preek nie. Jy preek nie oor geld nie. Jy preek nie oor politiek nie. En, jy preek nie oor twintig minute nie.’ Natuurlik moet mens probeer om ’n boodskap kort te hou en die ander twee is natuurlik twee onderwerpe waar jy jouself baie ongewild sal maak. Gelukkig het ek al geleer dat ek nie in ’n gewildheidskompetisie is nie...
Paulus skryf vêrder:
“⁵𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑜𝑜𝑑𝑠𝑎𝑎𝑘𝑙𝑖𝑘 𝑔𝑒𝑎𝑔 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑒 𝑠𝑝𝑜𝑜𝑟 𝑜𝑚 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑢𝑖𝑡 𝑛𝑎 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 •𝑑𝑎𝑛𝑘𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑜𝑒𝑒̈𝑟 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑡, 𝑖𝑛 𝑜𝑟𝑑𝑒 𝑡𝑒 𝑘𝑟𝑦, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑒𝑑 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑎𝑠 '𝑛 𝑤𝑒𝑟𝑘𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑑𝑎𝑛𝑘𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟, 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑠 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑓𝑔𝑒𝑑𝑤𝑖𝑛𝑔 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒. ⁶𝐷𝑖𝑒 𝑝𝑢𝑛𝑡 𝑖𝑠: 𝑊𝑖𝑒 𝑘𝑎𝑟𝑖𝑔 𝑠𝑎𝑎𝑖, 𝑠𝑎𝑙 𝑘𝑎𝑟𝑖𝑔 𝑜𝑒𝑠; 𝑒𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑣𝑙𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑠𝑎𝑎𝑖, 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑜𝑟𝑣𝑙𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑜𝑒𝑠. ⁷𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑒 𝑠𝑜𝑜𝑠 ℎ𝑦 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑎𝑓 𝑖𝑛 𝑠𝑦 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑢𝑖𝑡 ℎ𝑒𝑡 – 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑟𝑜𝑒𝑓ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑜𝑓 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑑𝑤𝑎𝑛𝑔 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑏𝑙𝑦𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑔𝑒𝑤𝑒𝑟 𝑙𝑖𝑒𝑓. ⁸𝐸𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔 𝑜𝑚 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑣𝑙𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑖𝑛 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑜𝑝𝑠𝑖𝑔 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑟𝑔𝑒𝑛𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑒𝑛 𝑜𝑜𝑟𝑣𝑙𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑘𝑎𝑛 𝑏𝑦𝑑𝑟𝑎 𝑡𝑜𝑡 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘.” – 2 Korintiërs 9:5-8 (AFR20)
Hoe gee jy vir die kerk? Gee jy ooit vir die kerk? Of gebruik jy ook eerder die verskoning dat jy op ander plekke goed doen en gee? Ja, ander organisasies en ander mense het ook hulp nodig, maar die kerk is juis deur Jesus daargestel om baie van die barmhartigheidswerk, sending, versorging, onderrig en vele ander take te verrig ter uitbreiding van God se Koninkryk.
Raak betrokke by jou gemeente en word deel van Jesus se hande en voete in die wêreld. Gee met blydskap. God dwing jou nie om te gee nie en ek kan jou ook nie dwing nie. Wees dankbaar vir alles wat God vir jou doen en deel jou dankbaarheid en God se seën met ander gelowiges.
God se seën is egter veel meer as fisiese behoeftes. Hy is met jou. Hy beskerm jou, vertroos jou, dra jou, versterk jou, oorlaai jou met goedheid, liefde en guns. Jy is Sy kind en Hy het jou baie lief. Kom ons bewys ons liefde vir Hom deur te gee. Gee jou tyd, jou omgee, jou hart, jou hele lewe - en ja, dit sluit ook in, van jou geld en aardse besittings - dit alles is deel van hoe ons help dat God se Koninkryk sigbaar word op aarde.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat gee ek? Is dit genoeg? Hoekom/hoekom nie?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie liewe Heer vir U goedheid. Mag ons lewens 'n aanvaarbare offer wees vir U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
Ds. Christo Schoeman ···ᶜᴶˢ··· ©