Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-07-05 – Slaap rustig. (Kliek hier vir die klankgreep)
God slaap nie... Gewoonlik word hierdie term gebruik wanneer mense voel hulle is verontreg. Dit voel goed om te sê. Dit gee jou so bietjie gemoedsrus dat jy nie hoef wraak te neem nie, want God se geregtigheid sal seëvier. Dit gee jou so bietjie vrede.
Maar dink weer daaroor: God slaap nie. In Psalm 3:6 skryf Dawid: “6Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die Here onderskraag my.”; en in Psalm 121:4 noem hy ook “4Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.” God slaap nie.
Dis nie iets om te sê om te wens dat God sal wraak neem namens ons nie. Dis nie iets wat ons sê net om ons gewetes te sus nie. Dis ’n feit. Dis ’n herinnering. God is God. Ons is nie. Ons moet slaap, maar God slaap nie. Slaap, is die een ding wat ons meer van doen as enige ander taak (of ons is veronderstel om dit te doen). Ongeveer een derde van elke dag en een derde van ons lewens word aan die slaap bestee. Slaap is so noodsaaklik vir die funksionering van ons liggame dat ons sal sterf as ons te lank daarsonder gaan. Maar die belangrikheid van slaap is nie net tot ons fisiese funksies beperk nie – slaap is ook ’n belangrike geestelike aktiwiteit.
Soos genoem, is slaap vir ons ’n geestelike herinnering – Almal slaap, maar ons hemelse Vader slaap nooit. Slaap is dus ’n daaglikse herinnering dat ons nie God is nie. John Piper skryf dat “God ons eenmaal per dag bed toe stuur, soos pasiënte met ’n siekte. Die siekte is ’n chroniese neiging om te dink dat ons in beheer is en dat ons werk onontbeerlik is. Om ons van hierdie siekte te genees, verander God ons een keer per dag in hulpelose sakke sand. ”
Slaap is ook ’n daad van geestelike vertroue – ons is nêrens fisies meer kwesbaar as wanneer ons slaap nie. Alhoewel die meeste van ons in redelike goeie veiligheid leef, was dit vir baie mense deur die geskiedenis heen – insluitend Dawid tydens sy vlug van sy seun Absalom – om jou aan die genade van jou vyande te stel. Slaap los jou kwesbaar. Daarom, wanneer ons slaap, vertrou ons op die Here – wat nie slaap nie – om ons te bewaar.
Slaap is natuurlik ook ’n aardse prentjie van ’n geestelike werklikheid – In die Skrif word slaap gereeld gebruik as ’n metafoor vir die dood. Jesus het byvoorbeeld vir Sy dissipels gesê dat Jaïrus se dogtertjie en ook Lasarus net slaap (vgl. Luk. 8 & Joh. 11). Jesus het hulle uit die dood opgewek en daardeur bewys dat ons dood hier op aarde bloot ’n toestand van slaap is waarvan ons ‘wakker word’ in die ewige lewe. (vgl. ook 1 Kor. 15 & 1 Tess. 4).
Slaap is dus ook ’n geestelike voorbereiding – Een van die aspekte van geestelike vorming wat die meeste oor die hoof gesien word, is bloot om genoeg te slaap. Soos John Ortberg ook sê: “Ek het ontdek dat dit baie moeilik is om soos Jesus te dink en te voel en op te tree as ek nie genoeg slaap nie.” Slaap is ’n vorm van geestelike voorbereiding wat ons toerus om te volg waarheen Christus lei.
Slaap dus rustig. Maak seker jy rus. God slaap nie. Vind jou vrede en krag daarin.
Om oor te dink vandag:
Slaap is noodsaaklik vir ons liggaamlike gesondheid en ons geestelike ontwikkeling. Slaap ek genoeg? Hoekom nie? Los ek al my bekommernisse in die God wat nooit slaap nie se bekwame hande?
Gebed:
Dankie Here dat U God is. Nie ek nie. Dankie dat U my ’n manier gee om myself reg te kry vir dit wat U vir my beplan. Help my om rustig te slaap elke aand, sodat ek fisies, emosioneel en geestelik sterk kan wees. Dankie dat ek op U kan vertrou en in U vrede kan vind. Amen
2021-07-03 – kleine ek teen my GROOT UITDAGINGS! (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe vergelyk jy met jou broers en susters? Jou kollegas? Jou geloofsgenote? Voel jy ook soms dat jy net nie genoeg is nie? Dat jy ook graag meer soos ander wil wees? Voel dit soms of jy maar “klein” is in vergelyking met ander mense? Of “klein” is in vergelyking met ander se prestasies?
Toe Israel oor die Jordaan trek, herinner God hulle aan iets baie belangrik. Ons lees Deuteronomium 9:1-4a (AFR20):
1“Luister, Israel! Jy trek vandag oor die Jordaan om nasies wat groter en magtiger is as jy te gaan verdryf. Daar is groot stede wat hemelhoog versterk is; 2daar is mense wat groot en lank is – die Enakiete, wat jy self ken en van wie jy self gehoor het dat mense sê, ‘Wie kan stand hou voor die Enakiete?’ 3Jy moet vandag weet dat die Here jou God, Hy wat voor jou oor die Jordaan gaan, 'n verterende vuur is. Hy self sal hulle uitdelg, ja, Hy self sal hulle voor jou verneder, sodat jy hulle sal verdryf en vinnig vernietig, soos wat die Here jou beloof het. 4“Wanneer die Here jou God hulle voor jou verjaag, moet jy nie in jou hart sê, op grond van my regverdigheid het die Here my in hierdie land ingebring om dit in besit te neem nie...”
Ek is seker die Israeliete was bang toe hulle voor die Enakiete moes staan. Hier staan hierdie nasie voor hulle wat baie groter is as hulle. Dis ’n nasie wat al baie meer vermag het. Hulle is groter én hulle het meer prestasies. God het egter belowe om meer as net ’n bondgenoot van Sy volk te wees. Hy het nie net gesê: ‘Ek sal saam met julle gaan om die vyand te oorwin nie.’ In plaas daarvan het Hy belowe om vooruit te gaan. Hy het belowe om die leiding te neem in die geveg. God sou die land namens hulle oorwin en inneem. Natuurlik het God Sy woord, Sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob gestand gedoen (vers 5). Die Enakiete is vernietig.
Ons grootste uitdaging in enige uitdaging is die vraag: ‘Hou mense van my?’ Opposisie en onsekerhede dreig altyd in ons harte. Moet ons regtig in die vorm van die kultuur ingedruk word, om in te pas? Om gerespekteer te word? Om die regte loopbaan te hê? Om saak te maak? Soveel kere is ons innerlike stryd die eintlike reuse wat ons moet oorwin. Die oorwinning van hart en verstand is die voorste linie van die geloofstryd.
Wanneer onsekerheid oor wie jy is, jou klein laat voel, moet jy onthou dat God meer is as net ’n vriendelike bondgenoot. Hy is ’n betroubare vegter wat vooruit sal gaan en teen jou reuse sal veg. Wanneer ons begin groei in geloof, begin ons besef dat God ons almal “ontsagwekkend en wonderbaarlik” gemaak het (Psalm 139:14). Ons hoef nie ’n gebrek aan vertroue in onsself te hê nie. God gee aan ons die “regte” woorde om te sê in gesprekke. Hy sal ons vul met vertroue deur aan ons Sy geregtigheid te gee. En dan, wanneer jy klaar deur die uitdaging gegaan het, sal jy weet dat dit God was wat die geveg gewen het, en kan jy aan Hom alle eer gee.
Om oor te dink vandag:
Watter persoonlike “gevegte” veroorsaak dat my maag sommer begin draai? Watter reuse uitdagings stop my in my spore? Verstaan ek dat God reeds daar is? Hy het vooruitgegaan om my twyfel te oorwin.
Gebed:
Here, U het my op ’n ontsagwekkende en wonderbaarlike wyse gemaak. Ek twyfel dikwels in myself. En ek twyfel ook soms – dalk dikwels – in U. Vergewe my daarvoor. Ek bring al my twyfel en uitdagings vir U. Ek glo dat U dit sal oorwin. Dat U my ook die krag sal gee om dit te oorwin. In Jesus se Naam. Amen
2021-07-02 – Klip harte. (Kliek hier vir die klankgreep)
Verlossing is iets wat God doen – nie ons nie. Verlossing het deur Jesus Christus gekom toe Hy Sy bloed aan die kruis gestort het (vgl. Joh 3:17; Rom. 5:9). Die mense wat die verlossing en redding aanvaar en ervaar in hul lewens, ontvang die ewige lewe as ’n genadegawe wat hulle deur die geloof ontvang (vgl. Ef. 2:5, 8 en die vorige 2 weke se dagstukkies) – hierdie gawe kom vanuit God se barmhartigheid, nie as gevolg van enige menslike werke nie.
In al drie die sinoptiese evangelies word Jesus se gelykenis van die saaier gegee (Matt. 13; Mark. 4 & Lukas 8). As jy nie die gelykenis ken nie, gaan lees dit asseblief eers voordat jy vêrder lees of luister vandag.
Een van die sade wat die saaier saai val op ’n klipbank. Miskien het jy dit ook al in die natuur gesien: ’n plantjie wat sommer op ’n klip, ’n rots of ’n vreemde plek begin groei. Jesus sê van hierdie saad:
“Die saad wat op die klipbank val, is daardie mense wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar hulle het nie wortel geskiet nie. Hulle glo net 'n rukkie, en wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit.” – Lukas 8:13 (AFR20)
So... kan Christene hulle redding verloor? Is dit moontlik om een oomblik gered te wees en die volgende oomblik nie? Aangesien redding van begin tot einde ’n werk van God se genade is, kan diegene wat aan Christus behoort, verseker wees dat hulle nooit hul redding sal verloor nie. Hulle is “uitverkies” om redding te ontvang, nie om God se toorn te ontvang nie (vgl. 1 Tess. 5:9). Daar is ook natuurlik ’n subjektiewe sy aan hierdie versekering, want “Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is.” (Rom. 8:16 AFR20). Met ander woorde, as ons kinders van God is, help die Heilige Gees ons om met vertroue te weet en glo dat ons erfgename van die ewige lewe is.
Maar hierdie versekering is geen verskoning vir selfvoldaanheid nie. God se genade transformeer die mense wat in Christus is. Dit maak ons anders – van binne na buite. Daarom moet diegene wie se lewens geen bewyse van hierdie transformasie toon nie, hulself ondersoek om te sien of hulle ooit wérklik op Christus vertrou het (vgl. 2Kor. 13:5; Heb. 6:1-8). Ons moet dus nie vra of ons ons redding dalk verloor het nie, maar eerder onsself die vraag afvra of ons dit ooit in die eerste plek besit het.
Jy kan nie met ’n harde, klip hart glo nie. Die goeie saad van verlossing wat Jesus gesaai het, moet op goeie, sagte grond in jou hart val, sodat dit kan groei in jou en jou kan maak wie God wil hê jy moet wees. Moenie jouself bluf nie. Moenie voorwaardelik, partydig of wisselvallig glo nie. Hou aan glo!
Om te doen en bid vandag:
Sorteer dinge met jouself uit. Sorteer dinge met ander mense uit. Sorteer hierdie saak wéér met God uit.
Vrede en seën vir julle almal!
2021-07-01 – Die moed om wys te wees. (Kliek hier vir die klankgreep)
“15My seun, as jou hart wys is, is ook my hart verheug. 16My binneste sal jubel wanneer jou lippe praat wat reg is.” – Spreuke 23:15-16 (AFR20)
Salomo skryf hierdie woorde vir sy seun om te demonstreer waarom goeie dissipline nodig is. Hy vertel ook wat dit is wat ’n ouerhart bly maak: as jou kinders die lesse wat jy hulle leer ter harte neem en daarvolgens praat en optree.
Net so is dit ook met God, ons Vader. As ons, Sy kinders, met wyse harte lewe en praat wat reg is, verheug dit Hom. ’n Hoë IK of slimpraatjies, behaag God nie. Ook nie talente, suksesvolle besighede of ondernemings of groot gekommersialiseerde bedienings nie. Die uiteinde van die saak is dat Hy verheug in mense wat wys van hart is en die moed het om te praat wat reg is.
Om wyse besluite te neem en te praat wat reg is, sal nie vir ons gewildheidskompetisies wen nie. Selfs die mense wat die naaste aan ons, sal dit soms betwis, maar ons moet regtigwaar leer om in elke situasie bietjie terug te staan, diep daaroor te besin en dan besluite te neem wat die beste sal wees vir almal daarby betrokke.
Moed om op te staan vir wat reg is, is deesdae ’n skaars kommoditeit, maar dit is in oorvloed by dié mense waarvoor niks minder as God se beste, die standaard is. Wat is nodig vir hierdie deug? ’n Diepe begeerte om te doen wat die beste is, ongeag die emosionele trauma wat jou siel dalk moet verduur om dit deur te voer, omdat jy weet jy sal weerstand kry en ook moontlike verwerpings in die oë moet staar. Niemand hou daarvan as hulle foute uitgewys word of as hulle uitgedaag word om te verander nie. Maar, om God te volg, beteken ook dat ons godsdienstige konfrontasies sal hanteer met liefde, geduld en genade – soos God ook met ons is.
Wysheid is toegepaste kennis. Ons kennis van wie God vir ons is, moet oorgaan in wyse harte, met monde wat praat wat reg is. Hê die moed om op te staan vir wat reg is.
Om oor te dink vandag:
Is my hart en mond ’n vreugde vir God?
Gebed:
Hemelse Vader, gee my die moed om wys te wees, om toegewyd te wees, sodat ek die beste van elke persoon in my lewe sal uitbring, en in ruil daarvoor, om U plesier en vreugde te voel. Amen
2021-06-30 – Die aarde is vol van Sy heerlikheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat presies is God se heerlikheid? As ons stil word in God se teenwoordigheid, of as ons rustig is in die natuur (ook in Sy teenwoordigheid), ervaar ons Sy heerlikheid? Wat presies is dit? Is dit iets abstrak? Iets bo ons menslike waarnemingsvermoë? Is dit dalk iets wat ons nie fisies kan waarneem nie?
Definitief een van my gunsteling gedeeltes van die Bybel, is Jesaja 6 waar Jesaja geroep word. Jesaja ervaar ’n visioen van absolute heerlikheid. Hy is in God se troonkamer en daar is engele wat rondvlieg en mekaar telkens toeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” (Jesaja 6:3 AFR20) Met ander woorde, wat Jesaja ons leer, is dat God se heerlikheid gesien kan word in die skepping. Net soos Jesaja in totale verwondering oor God se heerlikheid staan in die hemel, is die engele in verwondering oor God se heerlikheid wat op aarde ten toon gestel word.
Die ware God is nie ’n god wat wegkruip nie. Hy is nie moeilik om te vind nie. Hy het nooit beplan dat jy Hom slegs kan ken deur ’n aangesig tot aangesig ontmoeting nie. Hy wou nog altyd hê dat almal Sy goedheid moes ervaar. Maar omdat God ons as fisiese wesens geskep het met sintuie om dinge te ervaar, het Hy ook gekies om Sy onsigbare eienskappe fisies aan ons uit te druk. God het dus ’n wêreld geskep waarin ons Sy heerlikheid kan sien wat tot uitdrukking kom in al die wonderlike, mooi dinge wat Hy gemaak het – bome, blomme, berge, oseane, diere, alles. God se heerlikheid is dus iets wat ons tasbaar deur ons sintuie ervaar en is bedoel om ons in verwondering te laat oor wie Hy is. En as ons God se heerlikheid aanskou en Hom erken vir wie Hy is, kan ons nie anders as om Hom te aanbid nie – net soos Jesaja gedoen het.
Maar dan moet ons ook vêrder onthou dat ons in God se beeld geskape is. Net soos God se skeppingswerk openbaar wie Hy is, so is ons werk ’n tasbare uitdrukking van ons identiteit. Omdat ons na God se beeld geskape is, weerspieël ons wie ons is in alles wat ons doen. En uiteindelik is wat ons doen ook bedoel om God se heerlikheid te weerspieël terwyl ons deelneem aan Sy glorieryke werke. Hy het ons nie net geskep sodat ons Hom in al Sy glorie sou ken nie, maar ook sodat ons Sy karakter aan die wêreld rondom ons sou weerspieël.
Dit is soms, nee dikwels moeilik om te voel dat ons ons werk ’n vorm van heerlikheid bevat. Om eerlik te wees, dink ons waarskynlik dat ons gewone ou daaglikse werke eintlik maar min blywende waarde het. Maar, as ons mooi begin besef en begryp hoe God se heerlikheid in die skepping weerspieël word, kan ons dalk begin besef dat selfs die mees algemene werk ongelooflike waarde het. Net soos ’n gewone blom, ’n lelie of selfs ’n onkruid blommetjie, God se skoonheid kan weerspieël, net so kan ’n algemene werk, soos ’n straatveër dit ook doen.
Om oor te dink vandag:
Hoe kommunikeer my werk wie ek is as God se beelddraer? Hoe kan my werk God se heerlikheid aan die wêreld kommunikeer?
Gebed:
Baie dankie Here vir alles wat ek elke dag kan doen. Werk, speel, rus – dankie vir alles. Dankie dat ons U heerlikheid regoor die aarde in U skeppingswerke kan waarneem. Help my om ook in my werke U beeld uit te dra op aarde. Tot U eer alleen. Amen
2021-06-29 – Stilwordtyd. (Kliek hier vir die klankgreep)
Selfs te midde van ’n pandemie in die wêreld, is alles steeds gejaagd. Ons sukkel om af te skakel. Slaappatrone bestaan amper nie meer nie. Daar is gedurig daardie “iets” wat in jou gedagtes maal. Waar vind ons vrede? Wanneer kom die stilte? Kan ons nie maar net vir een oomblik stop nie?
Dit klink dalk onnatuurlik. Ons kan mos nie in die tye waarin ons leef, ophou doen wat ons doen nie. Ons moet ’n bestaan maak. Ons moet vooruitgaan. Ons moet ons besig hou met belangrike dinge. Ons drink darem mos genoeg vitamiene en aanvullings... Ons het nie tyd om tyd te maak om tyd af te staan vir rus nie. Ons moet maar net aangaan...
En dan kom daar ongelukkig partykeer ongevraagde, skielike, slegte nuus. Dalk ’n terugslag, dalk ’n verhouding wat verbrokkel, dalk ’n siekte, dalk dood. Ons word as’t ware forseer om rustig te raak. Om bietjie terug te staan en ’n nuwe perspektief te kry. Dit is stilwordtyd...
Dit is sleg dat omstandighede ons somtyds eers moet forseer om rustig te raak. Ons moet leer om stilword ’n gewoonte te maak.
Dawid skryf Psalm 131, heel moontlik nadat hy ook besef het dat ’n mens nie altyd só kan aangaan nie. Kan jy jouself dit indink hoe dit moet wees om elke dag getaak te wees om ’n hele volk en al hulle sake en probleme te regeer en hanteer? Dawid het dalk besluit om ook eers ’n bietjie te rus. Hy skryf:
“Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie. Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie. 2Maar ek het my siel tot kalmte en bedaring gebring. Soos 'n kindjie by sy moeder, soos 'n kindjie, is my siel in my. 3Israel, vestig jou hoop op die Here, nou en vir altyd.”
Dawid plaas die “groot dade” en “wonderbaarlike dinge” en selfs ook sy eie trots, vir eers opsy. En in hierdie stilte, “voel” hy God se arms, soos dié van ’n liefdevolle moeder wat ’n kindjie vashou; “voel” hy hoe God sy siel weer gesond maak.
Jou nuwe gewoonte (vandag en elke dag):
Mense, hierdie is regtig ’n ernstige saak. Raak rustig. Word stil. Hou op jaag. Hou op alles najaag. Skakel vir ’n oomblik die rekenaar of TV af, sit jou slimfoon neer en sit net rustig... en stil... Laat God jou siel aanraak. Praat met Hom. Luister in die stilte na Sy stem. Daar is geen beter medisyne as dit nie.
Mag jy waarlik God se vrede en kalmte ervaar, soos Hy Sy arms om jou siel vou.
2021-06-28 – Oersonde, COVID en verlossing... (Kliek hier vir die klankgreep)
In eergister se dagstukkie, het ons so vinnig daaraan geraak dat God se verlossing – wat Hy vrylik aan ons bied – ’n gawe is. Iets wat Hý doen. Nie iets wat ons kan verdien nie. Tog moet ons kies om dit te aanvaar of nie.
In Genesis 3 word die verhaal vertel van die mens se verkeerde keuses. Daar word vertel hoe die mens gekies het vir sonde en sodoende verval het in ’n amper eindelose siklus van sonde en wanhoop – ’n siklus wat beklemtoon word met die dood. Dit is as gevolg van Adam en Eva dat ons hierdie geneigdheid tot sonde geërf het. (Dis darem lekker om iemand anders die skuld te gee, nè?)
Van vandag af is ons weer op vlak 4 inperking en die virus infeksies skiet die hoogte in... Natuurlik word daar nog regoor die wêreld deesdae geproklameer dat die situasie waarin die wêreld nou verkeer – ja die COVID-19 pandemie – ook ’n verdere resultaat is hiervan. Party reken dit is God se straf. Ander reken dat God toelaat dat die Satan ons teister hiermee. Ander sê weer dat die virus mensgemaak is. Wil jy weet wat dit eintlik is? Wil jy die openbaring vanuit die Bybel hoor vir COVID? Goed, hier kom dit.... Ek het geen idee nie. Daar is niks daarvan in die Bybel nie. Dit is nie voorspel nie. Dis ’n virus. Ja, heel moontlik ’n resultaat van ons oersonde. Onthou, as gevolg van ons oersonde, het die dood die wêreld ingekom. Dalk is dit vervaardig en gemanipuleer in ’n laboratorium. Dit maak nie nou saak nie. Wat wel saak maak, is dat ons nie hoop verloor nie.
Met die oersonde, waar die mens verdoem was, het God nie die mens gelos tot verdoemenis nie, maar gee Hy eerder aan ons die belofte van wedergeboorte en nuwe lewe. Romeine 6:23 (AFR20) sê: “...die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.” Hierdie is nie iets wat ons verdien nie. Nee, dit is iets wat uit groot liefde en genade aan ons as ’n gawe gegee is. Hierdie is die bewys van God se egte, allesoortreffende liefde en genade vir Sy skepping.
Ek weet nie hoe lank die virus nog gaan woed nie. Ek weet nie hoeveel mense gaan siek word en doodgaan nie. Ek weet wel dat die gevolge van hierdie virus nog vir baie jare met ons gaan wees. Ek weet ook dat ek nie wanhopig is nie, want God is my hoop. Ek weet dat hierdie lewe en al die dinge wat daarmee gepaard gaan – insluitende ons oersonde, huidige sonde, siektes, en wat ook al – al hierdie dinge, is tydelik. God se gawe van verlossing in Jesus Christus, ons Here, is vir ewig.
Om oor te dink vandag:
Lees weer daardie laaste sin. Oorweeg dit mooi. Besef jy dat, alhoewel ons misluk het om God se opdragte uit te voer, al het ons nie voldoen aan die verwagtinge wat God vir ons gehad het nie, het God nogsteeds genoeg liefde vir ons gehad dat Hy ons ’n uitweg, in Jesus Christus, uit daardie siklus gebied het? Verstaan jy dat jou hoop daarin gevestig is en dat hierdie virus en hierdie wêreld, dinge is wat sal verbygaan?
Gebed:
Dankie, almagtige, liefdevolle God, dat U die gawe van verlossing aan ons geskenk het in Jesus Christus. Here, ons weet nie waarheen is al die dinge in die wêreld op pad nie. Tog weet ons dat U in beheer is en dat U vir ons ewige verlossing bied. Help ons om nie wanhopig te word nie. Help ons om ligbakens te wees vir ’n wêreld wat nie anders kan, as om wanhopig te wees nie. Mag ons u gawe van verlossing verkondig, te midde van al hierdie chaos in die wêreld. Tot U eer alleen. Amen
2021-06-26 – Uitverkies deur God. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat beteken dit om deur God uitverkies te wees? Beteken dit dat God lank gelede iewers gaan sit het en voor die tyd besluit het wie gered gaan word en wie nie? Is slegs ’n groepie mense bestem vir die ewige lewe? Wat dan van vrye wil? Ons kan ook mos kies...
Paulus skryf in Efesiërs 1:4 (AFR20): “4So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees”
Dit wil amper voorkom of Paulus bedoel dat ons wat glo, vooraf beplan is. Asof nét ons deel is van God se plan van verlossing... Maar, gelukkig is dit nie so nie. Of is dit nou ongelukkig vir ons? Ons weet tog dat daar niks is wat ons kan doen om ons heeltemal voor God te regverdig nie. So, hoe werk dit dan?
Paulus skryf hierdie woorde in Efesiërs 1 om te beklemtoon dat ons verlossing geheel en al van God afhang (gaan lees gerus ook die res van die hoofstuk). Ons word nie gered omdat ons dit verdien nie, maar omdat God genadig is en vrylik verlossing bied aan dié wat glo. Ons het niks gedoen om Sy besluit om ons te red te beïnvloed nie (behalwe natuurlik ons onvermoë om sondevry voor Hom te leef). God het ons gered, volgens Sy groot plan. Daar is dus geen manier waarop ons enige krediet aan onsself kan toe-eien vir ons verlossing nie – daar is geen plek vir trots of eiewaan nie. Die geheimenis van verlossing was al in God se gedagtes lank voor ons nog bestaan het!
Dit is regtig moeilik om te verstaan hoe God ons enigsins kon aanvaar. Maar, as gevolg van Jesus Christus, word ons geheilig en kan ons vlekloos voor Hom staan. God het ons gekies. Ons behoort aan Hom deur Jesus Christus. Ja, dit was ons keuse om Sy genade te aanvaar, maar Hy het ons so gemaak om dit te aanvaar of te verwerp. Die plan was nog altyd in plek en as ons reg kies, kyk God na ons asof ons nog nooit gesondig het nie.
Al wat ons kan doen in antwoord op God se genade en onmeetbare liefde vir ons, is om ’n lewe van dankbaarheid te lei.
Om oor te dink vandag:
Besef ek regtig hoe groot God se genade vir my is? Dat Hy mý gekies het? Aanvaar ek dit in my lewe? Wys my lewe dit?
Gebed:
Hemelse God, God vêr bo my begrip. Ek verstaan nie U liefde en genade nie. Dit is té groot vir my. Tog het U gekies om dit aan my te gee. Ek verdien dit nie. Dankie Here Jesus, dat U dit vrylik beskikbaar gestel het vir ons almal. Aan U kom toe die lof, die eer en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen
2021-06-25 – Wees anders. (Kliek hier vir die klankgreep)
“2Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” – Romeine 12:2 (AFR20)
Om gelykvormig te wees, beteken dat jy ’n uiterlike voorkoms het wat verskil van wat binne jou aangaan. Dit is soos om heeltyd toneel te speel en, om die waarheid te sê, dis baie uitputtend.
Wanneer Paulus hierdie woorde skryf aan die Romeine, wil dit voorkom asof hulle reeds toegelaat het dat hulle lewens een groot toneelstuk was. Hulle was meer gemoeid om in mense se goeie boekies te kom as in God s’n. Paulus sê vir hulle dat dit tyd is om te stop.
Om aan die wêreld gelykvormig te word, is nie eie aan ’n sekere plek of tyd nie. In Paulus se tyd was die Romeine ’n nasie wat erg gefokus was op fisiese plesier en genot. Só het elke tyd ook ’n waardestelsel – ’n groep oortuigings en norme – die gees van die tyd. Om een of ander rede was dit nog altyd so gewees met die mens. Ons laat toe dat liberale en kontemporêre denke begin dikteer hoe die morele raamwerk moet lyk. Ongelukkig is hierdie denkraamwerk nog altyd oorheers deur die Satan (2 Kor. 4:4).
Paulus sê ons denke moet vernuwe word. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is die woord vir metamorfose. Metamorfose beteken ’n fisiese, uiterlike verandering van gedaante. Net soos Jesus Christus vir ’n kort tydjie op aarde en op ’n beperkte manier sy innerlike, Goddelike aard en heerlikheid tydens ’n tipe metamorfose na buite vertoon het, moet Christene ook hulle innerlike, verloste aard uiterlik openbaar. Dit moet nie net daardie een keer gebeur wanneer jy tot bekering kom nie, maar elke liewe dag.
Hierdie soort transformasie kan slegs plaasvind as die Heilige Gees ons denke verander deur konsekwente, volgehoue studie en meditasie van God se Woord (gaan lees gerus die Woord – jy sal genoeg bevestiging hiervan kry). Vernuwe denke is denke wat deurdrenk is- en onder die beheer is van God se Woord.
Wanneer ons begin om ’n gedaanteverwisseling te ondergaan, begin ons lewens goed, aangenaam, aanneemlik vir God wees. Lewens wat onderwerp is aan God se volmaakte wil. ’n Lewe wat vir God aanneemlik is, soos Hy offers aangeneem of verwerp het in die Ou Testament. Ons weet Jesus het vir ons die finale offer gebring, maar in dankbaarheid bring ons ons lewens elke dag as offer voor God. Ons gesindheid moet reg wees. Ons offer moet reg wees. ’n Lewe wat moreel en geestelik vlekloos is, soos die vereiste was vir die offerdiere. (vgl. Lev 22:19–25).
Moenie soos hierdie wêreld wees nie. Wees anders!
Om oor te dink vandag:
Is my offer heilig? Is dit aanneemlik vir God? Hoe maklik laat ek toe dat wêreldse denke my beïnvloed?
Gebed:
Dankie Here Jesus dat U die volmaakte offer vir my sondes gebring het. Help my om nie aan hierdie wêreldgelykvormig te word nie. Transformeer my. Laat U skoonheid en reinheid wat binne my leef, na buite begin uitstraal. Laat my lewe, in dankbaarheid, ’n aanneemlik offer wees vir U, my God en hemelse Vader. Amen
2021-06-24 – Om te weet wat God weet. (Kliek hier vir die klankgreep)
Gister het ons besef dat selfs nie een van ons regtig regverdig is nie. Ons sondige natuur dring heeltyd in teen hoe ons graag wil lewe. Tog besef ons ook dat daar by God genade, vergifnis en versoening is. Maar hoe weet ons wat God vir ons wil hê? Hoe werk alles regtig ten goede mee vir ons? Hoe kan dit wees, as dinge so dikwels moeilik en sleg is? Is God regtig lief vir ons? Het Hy regtig ’n plan vir ons lewens? Hoe val alles in plek van God se uiteindelik “groot plan”?
As ons kyk na Dawid, wat begin het as ’n gewone skaapwagter en uiteindelik die grootste koning van Israel was, sien ons dat hy nogal baie tyd bestee het om ook hierdie vrae neer te pen. Hy het baie gedigte en liedere geskryf oor hierdie vrae, maar ook oor sy verwondering oor God. Hy skryf psalms terwyl hy staar na God se skepping, terwyl Saul hom vervolg, terwyl hy stres en bang is, terwyl hy bly is, terwyl hy koning is, selfs terwyl hy weet die einde van sy lewe is ophande.
Psalm 139:1-6 (AFR83) beskryf hoe Dawid in verwondering is oor hoe groot God is en hoe goed God elkeen van ons ken. Dawid skryf:
“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”
Ons weet tog hierdie dinge en ons weet tog ook dat ons hulp van die Here, die Skepper van die hemel en die aarde, kom (Ps. 121:2), maar hoe kan ons net meer weet? Hoe kan ons weet wat kom? Hoe kan ons bietjie meer uitvind oor God se plan en hoe Hy dink?
Ons word so dikwels gefrustreerd en maak soms oorhaastige besluite, omdat ons dinge nie uitwerk soos ons dit graag wou hê nie. Ons weet nie wat kom nie en wens net ons kon vir ’n paar oomblikke bietjie hoër wees, sodat ons ’n stukkie in die toekom kon insien... Maar dit is nie ons plek nie... Dit is God se plek, waar Hy op die troon sit. Jesaja 55:8-9 (AFR83) sê:
“8My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”
Ons moet onthou: God is God; Hy sien dinge van bo en Hy is in beheer. God sien dinge wat ons nie sien nie. God is nie uit daarop om ons te straf of te laat swaarkry nie. Jesus het regdeur die evangelies vir ons ’n duidelike beeld geskets van ons liefdevolle Vader wat ons graag nader aan Hom wil trek en ons in eer herstel. Hy ken ons deur en deur. Ons weet en verstaan nie alles nie, maar dis “okay”, want Hy weet en verstaan alles en Hy is lief vir ons. Dit is genoeg.
Om oor te dink vandag:
Watter dinge is daar wat ek maar regtig nou eens en vir altyd by God se voete kan los? Besef ek dat my lewe nie buite beheer is nie? Dit is veilig in God se beheer...
Gebed:
Jammer, Here, dat ek so dikwels dinge wil weet wat eintlik U gebied is. Jammer dat ek gefrustreerd raak met hoe U dinge doen en soms toelaat in my lewe. Vergewe my dat ek meer beheer wil neem. U is in beheer. U weet beter. Ek vertrou U. Amen
2021-06-23 – Nie een is regverdig nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons deur die Bybel lees, kom ons agter dat daar darem maar baie sondige mense was. Op amper elke bladsy is daar mense wat wegdraai van God af en dan weer uitroep na Hom en smeek vir God se genade wanneer hulle skielik in nood verkeer. Dis niks nuut nie. Van die begin van die mensdom af, is dit al so. Daarom het God van die begin af ook vir die Israeliete ’n spesiale dag van versoening gemaak en dit in die Joodse kalender gesit. Op hierdie dag sou die hoëpriester vir homself en vir die hele volk offers bring. Sodra hierdie rituele voltooi was, sou al die sondes van al die Joodse mense seremonieel aan ’n bok oorgedra word en die bok in die woestyn vrygelaat word.
“7Daarna sê Moses vir Aäron: “Gaan na die altaar en maak jou reinigingsoffer en jou brandoffer gereed en doen versoening vir jou en jou mense. Maak ook die volk se offer gereed en doen vir hulle versoening, soos die Here beveel het.” – Levitikus 9:7 (AFR20)
Sjoe! As selfs die hoëpriester sondig was. Is daar dan hoop vir ons om ooit waarlik geregverdig te word? Ons het dan gister ook daaroor gepraat... Wat dan nog van die teks in Romeine 3:10 (AFR20) wat sê: “...Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie;”
Ek meen, wat dan van ons? Elke dag draai ons ook weg van God; en ons sondes word al hoe meer en meer, totdat dit die punt bereik waar ons dit net nie meer kan ignoreer nie! Is daar darem vir ons ook ’n ritueel of seremonie wat ons sondes kan wegneem? ... Nee, maar ons het ook ’n Hoëpriester, Jesus Christus, die Regverdige, wat ’n sondelose lewe gelei het en ’n offerdood gesterf het, en ons sonde op Homself geneem het. En in ruil daarvoor, het Hy Sy geregtigheid aan ons gebied. As gevolg van Hom, en nét as gevolg van Hom, is ons vergewe, vry, skoon en in staat om vir alle ewigheid te lewe.
“...ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. 16Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.” – Hebreërs 4:15-16 (AFR20)
Gebed:
Liefdevolle God en hemelse Vader, ek dank U dat U U Seun na hierdie wêreld gestuur het om my Hoëpriester te wees. Dankie Here Jesus vir U sondelose lewe wat U in staat gestel het om versoening te doen vir my sonde en vir die sondes van die hele wêreld. Dankie vir U dood, vir die storting van U bloed wat my red en my heilig in U oë. Help my om die vrede te geniet van die wete dat my sondes van my weggeneem word deur die offer aan die kruis van Jesus Christus, my Here. Amen
2021-06-22 – Geregverdig voor God. (Kliek hier vir die klankgreep)
Regdeur die Ou Testament vind ons tekste wat voorskryf hoe God se volk moet leef om in lyn met Sy wil te wees. Tekste wat voorskryf wat die mense moet doen om in Sy oë geregverdig te word. As hulle gehou het by die wette wat Hy aan hulle gegee het, was hulle deel van die verbond. Daarom kon Dawid ook praat en sing oor sy geregtigheid. Psalm 18:21-25 (AFR20) sê:
“21Die Here het aan my goedgedoen op grond van my geregtigheid; omdat my hande skoon is, het Hy my vergoed. 22Want ek het op die Here se paaie gebly en my nie skuldig gemaak voor my God nie. 23Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte – daarvan wyk ek nie af nie. 24Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sondeskuld. 25Die Here het my vergoed op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë.”
Hoe kon Dawid so seker wees hiervan? Ons weet tog dat Dawid nie volmaak was nie. Inteendeel, hy erken op baie plekke, veral ook in Psalm 51, dat hy erg gesondig het teenoor God en mense. Die wonderlike deel van God se verbond met die volk van Israel, was dat God vir hulle ’n manier gegee het om steeds geregverdig te word. As hulle teenoor God se wette gesondig het, het hulle die geleentheid gehad om hul sonde te bely en deur ware berou te toon, kon hulle herstel word en weer versoen word met God en die volk. In Levitikus 1-7 word die proses van die offerandes verduidelik waardeur die Israeliete hul saak met God en hul naaste kon regmaak.
Wat egter die belangrikste was in hierdie hele proses van regverdiging, was nie net die offer nie, maar die gesindheid waarmee die offer gebring is. Sonder ’n nederige en berouvolle hart, waarmee jy jouself geheel en al aan die genade van God oorlaat, was die offer eintlik nutteloos. Daarom sê Dawid ook in Psalm 51:18-19 (AFR20): “18U vind immers geen vreugde in slagoffers nie, anders sou ek dit gee; •brandoffers aanvaar U nie. 19Offers aan God is 'n gebroke gees, 'n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie.”
Wanneer ons só na die Here toe kom met ons sondes, kry ons God se geregtigheid oor ons – dan ken Hy die volmaakte geregtigheid van die volmaak te offer, Jesus Christus, aan ons toe (vgl. 2 Kor. 5:21).
Om oor te dink vandag:
Wanneer ek my sonde voor God bely, is dit om my eie gewete te sus, of omdat ek waarlik berou het daaroor?
Gebed:
Almal van ons het sonde. Gaan vandag in ware berou na ons hemels Vader vir vergifnis en regverdiging.
Mag die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap en onbeskryflike vrede wat God se Gees ons gee, met julle wees!
2021-06-21 – Wat sien Jesus in my? (Kliek hier vir die klankgreep)
Jesus was nog nooit afgeskrik deur mense se onvolmaaktheid en tekortkominge nie. Eintlik is Hy baie gemaklik en hoopvol met sulke mense. Hy het geëet saam met gehate tollenaars en van die grootste “sondaars” van Sy tyd (vgl. Matt. 9:11). Hy was selfs ’n vrou wat skuldig was aan owerspel genadig (vgl. Joh. 8:3-11). Sy eie dissipels – die manne wat Hy self gekies het – was soms traag van begrip, wispelturig en ongelowig (vgl. Matt 15:16; Mark. 9:19; 14:66-72). Jesus het selfs in sy laaste uur aan die kruis ’n misdadiger in die Koninkryk verwelkom (vgl. Luk. 23:43).
Jesus sien die potensiaal in onvolmaakte mense raak. Wanneer ons gewoonlik ernstig en eerlik bewus word van ons eie swakhede, raak ons raadop. Wanneer ons begin besef dat ons nie meer op onsself of ons eie kragte, wysheid en insig kan staatmaak nie, begin ons besef dat ons gereed is om op Jesus te vertrou. Dis eintlik hartseer dat ons dikwels eers in sulke omstandighede dit weer besef...
Jesus verwag net dat ons eerlik is met onsself en met Hom. Hy raak egter gefrustreerd met oneerlikheid. In die Woord het Hy van die skerpste woorde geuiter teen die godsdienstige skynheiliges wat nie eers besef het dat hulle in verskriklike geloofsnood verkeer het nie. “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes.” (Matt. 9:12), het Hy vir hulle gesê. As ons dus waarlik wil lewe soos Jesus wil hê ons moet, is ’n belangrike eerste tree om 100% eerlik te wees met onsself oor ons eie onvolmaaktheid.
Wanneer ons ons donker sondes in Sy wonderbaarlike lig bring, deur hulle te noem by die naam – wellus, woede, skinder, vraatsug, hebsug, jaloesie, ens. – stel dit ons in staat om diepgaande genesing van die Groot Geneesheer te ervaar. 1 Joh. 1:8-9 sê:
“8As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. 9As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.”
Maar ons moet nie net ons tekortkominge en oortredings erken nie. Ons moet onsself en ons sondige geaardhede deur die Gees van God laat transformeer, sodat ons die soort mense word in wie die nuwe lewe wat Jesus ons skenk die duidelikste tot uiting kom. Omdat ons mense is, is onvolmaaktheid onvermydelik. Maar, deur middel van Jesus kan dit wat oud was, nuut word (2 Kor. 5:17). ). Jesus sien baie meer potensiaal in jou raak as wat jy dink!
Om oor te dink vandag:
Weet ek watter van my eie tekortkominge staan in die pad van my volle oorgawe aan Jesus se genade en wil? Het ek dit al bely?
Gebed:
Praat met Jesus oor hierdie dinge...
Vrede vir julle!
2021-06-19 – Almal wil ’n huisie by die see hê. (Kliek hier vir die klankgreep)
Koos Kombuis het ’n liedjie gehad baie jare gelede, waar hy sing:
Almal wil 'n huisie by die see hê
Almal wens die struggle was verby
Almal sê die lewe is eers môre
Maar môre is te laat vir my
Ek dink ons almal wil tog hê dat ons lewens iets moet beteken. Dat mense ons sal onthou vir iets. Maar die lewe is taai. Dit is nie maklik nie. Ons wil almal tog net iewers iets behaal. Soos ’n atleet, wil ons ook ’n trofee by die eindstreep ontvang – iets wat ’n merk op hierdie wêreld los en ons lewe sin gee.
Paulus sit in die Romeinse gevangenis en staar die dood in die oë, en dan skryf hy hierdie eerlike beoordeling van sy lewe en bediening aan Timoteus:
“7Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. 8Nou wag die oorwinningskrans van •geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms liefhet.” – 2 Timoteus 4:7-8 AFR20
Paulus weet hy is op die laaste rondte. Soos ’n langafstand atleet, was hy amper op die wenstreep – nogsteeds in volle vaart. Hy is vreugdevol, omdat hy weet dat hy sy lewe geleef het sonder dat iets sy geloof in God laat wankel het.
Een ding wat God van elkeen van ons wil hê, is ons getrouheid. Hy wil hê dat ons getrou aan hom moet bly. As jy dalk nog ’n geestelike ontdekkingsreisiger is, begin só ’n lewe deur die eerste stap: Vra Christus om jou te vergewe en leiding te gee. Sodra jy dit doen, sal Christus in jou kom woon. Deur die leiding van die Heilige Gees sal Jesus jou in staat stel om jou lewenswedloop getrou te voltooi.
’n Lewe wat tel, wat regtig saakmaak, is ’n lewe wat gekenmerk word deur getrou saam met God te wandel. Aan die einde van jou lewe, waaraan jy ook al dink jy na sal terugkyk – belangstellings, prestasies, besittings – niks sal kan vergelyk met die tevredenheid, die ware vrede om te weet dat jy jou lewe belê het in geestelike dinge – dinge wat vir ewig sal hou. Dit sal veel beter wees om voor God te staan met die sekerheid dat jy dinge op Sý manier gedoen het, as op enige ander manier.
Miskien wil jy ook ’n huisie by die see hê. Miskien wag jy ook eers vir dinge om beter te word. Miskien is jy bevoorreg genoeg om eers môre te begin, maar môre is te laat vir my.
Om oor te dink vandag:
Waarvoor wag jy?
Gebed:
Here, maak my meer getrou. Help my om U merk op die wêreld te los, nie myne nie. Amen
2021-06-18 – Wysheid in die grysheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om een of ander rede, sien die samelewing nie meer hoë ouderdom soos die Bybelse kulture nie. Miskien is dit omdat soveel meer mense deesdae baie ouer kan word as in die verlede. Miskien is dit omdat mense net baie meer selfgerig en eiewys is.
Salomo skryf in Spreuke 16:31: “31'n Sierlike kroon is grysheid; op die pad van geregtigheid word dit gevind.” In daardie tye was grys hare die teken van ’n wyse, bejaarde en baie gerespekteerde persoon. Iemand wat al die pad gestap het en die ervaring opgedoen het. Iemand wat kan raad gee... as jy bereid is om te luister.
Vandag sien so baie mense grys hare as ’n teken van iemand wat ons net vertraag, ons terughou. Mense luister nie na die wysheid wat gryses bereik het nie. Ons kinders en jongmense sal ook so begin dink – beïnvloed deur ons kultuur – tensy ons iets daaraan doen. Hoe skakel ons nog in by ons “gevorderde ouderdom” mense? Luister ons nog na hulle? Spandeer ons ooit tyd met hulle?
Daar is soveel ouer mense wat smag na ’n geselsie. Hulle wil net graag bietjie tyd met iemand spandeer – veral saam jong mense. Hulle mis hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Ongelukkig het COVID ons nou beperk, maar daar is tegnologie! Maak ’n oproep, ’n ‘video-call’. Ouer mense hou daarvan om by kinders te wees en andersom. Net hul saamwees – selfs deur middel van die tegnologie – sal ons jongmense help om respek vir bejaardes te skep. Kinders hou van stories en ouer mense het baie om te vertel – dit kan baie waardering skep in jongmense om kosbare lewenservarings te leer.
In ’n wêreld wat meer gemoeid is om uit te vind hoe om genadedood wettig te maak, kan ons ons gesinne help om ’n gesonde begrip van God se liefde vir bejaardes te ontwikkel, en sorg dat ons in hul lewens belê.
Onthou: Respekteer bejaardes. Jy sal eendag ook daar wees.
Om oor te dink vandag:
Met watter bejaarde(s) spandeer ek tyd wat my van hulle wysheid gegee het? Hoe kan ek meer verhoudings met bejaardes ontwikkel? Leer ek my kinders of die jongmense in my gemeenskap om bejaardes te respekteer en te waardeer?
Gebed:
Ewige, wyse God, U het so baie van ons mense geseën om oud te word. Soms beteken dit dat die liggaam nie meer so goed werk nie. Soms ook nie die gedagtes nie. Tog is daar nog soveel wysheid opgesluit in hulle. Dankie dat ons die voorreg het om gevoed te word deur die wysheid wat U aan ons bejaardes skenk. Help my om meer tyd te maak, selfs met al die beperkings deesdae, om te leer by hulle. Hou hulle asseblief veilig gedurende hierdie ongewone tyd waarin ons leef. Bewaar asseblief hulle wysheid vir ons. Seën hulle, in Jesus se Naam. Amen
2021-06-17 – Wat moet ek doen om gered te word? (Kliek hier vir die klankgreep)
“6“Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan, my neerbuig voor die verhewe God? Sal ek Hom tegemoetgaan met •brandoffers, met jaaroudkalwers? 7Sal die Here daarmee genoeë neem met duisende ramme, met tienduisende strome olyfolie? Moet ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir my eie sonde?” 8Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?” – Miga 6:6-8 AFR20
Hierdie gedeelte ken sommige van ons baie goed. Dit word soms in die erediens as Wet lesing gebruik. Dit is pragtige, beroemde woord van die profeet Miga wat eenvoudig God se verwagtinge van Sy mense stel: “Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?” (Miga 6: 8).
Ons weet tog dat, wanneer ons só lewe, dan weerspieël ons God se hart. Regdeur die geskiedenis, was dit nog altyd God se opdrag, eintlik liefdevolle versoek en hartewens, dat die mens só sal lewe in antwoord op God se goedheid en vrygewigheid. God wou nog altyd hê dat ons lewe ’n dankbare antwoord sal wees op dít wat ons van Hom weet: dat Hy ’n goeie, genadige, liefdevolle God is.
Jesus het die godsdienstige leiers van sy tyd, die wetgeleerdes en Fariseërs, gekonfronteer omdat hulle aanbidding in ’n sirkus verander het en dat hulle uiterlik al die regte dinge gedoen het, maar innerlik nagelaat het om reg en barmhartigheid te laat geskied. Hy het hulle fel gekritiseer en hulle ‘skynheiliges’ en ‘blinde leiers’ genoem (Matt. 23:23-24).
God wil hê dat Sy volk nederig die pad saam met Hom sal stap, want as ons met Hom saamstap, word ons meer soos Hy. Jesus self, is die weg (Joh. 14: 6). Hy wys vir ons die pad aan. Hy het gekom om te dien, nie om gedien te word nie (Mark. 10:45). Toe die mense Hom vra watter werke God vereis vir die mens om gered te word, het Hy eenvoudig geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” (Joh. 6:28-29). Wanneer Jesus se mense Hom volg met hulle hele hart en siel, ontwikkel hulle harte soos Syne – harte wat medelydend is en gerig is daarop om reg te laat geskied.
Gebed:
Jesus, dankie dat U sommige dinge eenvoudig gemaak het. Help my asseblief om regverdig op te tree, om barmhartig lief te hê en nederig met U te wandel. Maak my hart soos U hart. Amen
2021-06-16 – Is daar nog genoeg tyd? (Kliek hier vir die klankgreep)
“8Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Petrus 3:8-9 AFR20
Gewoonlik gebruik mense vers 8 hierbo om te probeer verduidelik dat ons nie God kan verstaan nie en dat tyd nie vir Hom bestaan nie. Hy doen dinge op Sy tyd. Maar kyk mooi... Wat staan in vers 9? Waarom is daar soveel tyd by God? Is daar regtig soveel tyd?
Petrus het hierdie geskryf sodat die mens kan besef hoeveel geduld God met ons het. God wil graag hê dat ons ons bekeer; dat ons sal terugkeer na Hom en dat ons nét aan Hom getrou sal bly. Hy wil nie hê dat enigeen van ons verlore moet gaan nie. Hy wag geduldig dat ons in nederige afhanklikheid na Hom sal kom, net soos die verlore seun in die gelykenis (sien Lukas 15:11-32).
God roep ons altyd om huis toe te kom – om te reageer op Sy liefde en genade, om deel te neem aan Sy koninkryk. God wil nie hê dat iemand die kans verloor om verlossing te ontvang nie; Hy is geduldig en goedhartig en barmhartig. Terselfdertyd beteken dit nie dat ons die besluit moet uitstel nie! Ons almal weet tog dat ons dae op aarde wel getel is. Eendag is eendag wanneer ons almal se aardse lewens tot ’n einde sal kom. Vir sommige kan dit vandag wees. Vir ander kan dit nog ’n tydjie duur. Ons weet nie wanneer ons tyd op aarde sal eindig nie.
En Jesus kom vir seker ook terug. Daarom volg Petrus ook hierdie verse op in vers 10 met:
“10Die dag van die Here sal egter kom soos 'n dief, 'n dag waarop die hemele met 'n gedruis tot 'n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.”
Dit is dus baie belangrik dat ons vandag op Christus vertrou as ons Here en Verlosser. Die hemel en die hel bestaan al twee beslis (Jesus het tog oor albei gepraat!). Die keuse is ons s’n: ons kan vir Christus heelhartig volg, of ons kan eie gang gaan. Gebruik jou tyd wys en maak die regte keuse.
Om oor te dink vandag:
Het ek al regtig gekies? Kies ek elke dag?
Vir jou gebed vandag:
Praat met God oor jou keuse.
Vrede en seën vir julle almal!
2021-06-15 – Geloof is nie ’n gevoel nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Gevoelens kan ons dikwels in die steek laat. Gevoelens is gebaseer op omstandighede en ons weet mos, dit kan so vinnig verander soos die weer. Geloof is weer heeltemal anders. As ons geloof begin by die wysheid van ontsag vir die Here (gister se dagstukkie), is geloof die uitleef, vertroue en vaste oortuiging dat God werklik is, en dat Hy besig is om uiteindelik alles ten goede vir die gelowige te laat meewerk – ongeag die huidige omstandighede (Romeine 8:26-30). Inteendeel, geloof het al dikwels baie mense gelei om in die teenoorgestelde rigting van gevoelens te gaan.
In Markus 5:24-34 vind ons die vertelling van die vrou wat vir 12 jaar al aan bloedvloeiing gely het. Omdat haar kwaal bloed bevat het, was sy heel moontlik afgesny van die volk – volgens die Joodse wette – omdat sy ‘onrein’ was. Toe sy egter hoor van die genesende krag van Jesus, het sy die groot skare aangedurf en deur hulle almal gegaan. Sy het fisies uitgereik na Hom, aan Sy bokleed geraak en is onmiddellik genees. Jesus se antwoord aan haar: “Dogter, jou geloof het jou gered.” (vers 34)
God nooi nog altyd mense uit om Hom hul hele lewe lank in geloof te vertrou. Daarom se Salomo ook in Spreuke 3:5-6 (AFR20): “5Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. 6Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.”
Jesus se manier, is ’n manier van vertroue. Regdeur Sy hele lewe op aarde, het Jesus absolute geloof in sy Vader getoon en Sy volgelinge uitgedaag om dieselfde soort geloof te beoefen.
Mense is ongelukkig, om verskeie redes, geneig om te twyfel. Die moderne Westerse kultuur is propvol skeptisisme. Die hedendaagse soeke na waarheid sê: “Jy moet eers verstaan voor jy kan glo.” Daarom het Jesus nog altyd teen hierdie denke gesê jy moet “glo om te verstaan.” In die stryd met twyfel en ongeloof, moedig Jesus mense aan, “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” (Mark 5:36). Jesus se manier, is die manier om elke dag op God te vertrou, vir hierdie lewe en die ewige een hierna.
Gebed:
Here Jesus, laat my aandag en my fokus op U asseblief nie afgelei word deur gevoelens nie – gevoelens wat so wispelturig kan wees. Ek wil in U glo, op U vertrou en myself oorgee aan U, selfs wanneer ek nie so voel nie. Amen
2021-06-14 – Kry vir jou ’n bietjie wysheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om foute te begaan is nie lekker nie. Tog, is foute en mislukkings die opdoen van ervaring. Ervaring, skep weer kennis en insig van ’n spesifieke saak of situasie. Kennis wat toegepas word op die regte, goeie manier, is wysheid.
Met ander woorde, om te leer uit ons foute, asook die foute van ander in die verlede, is wysheid. Tog voel dit soms of hierdie definisie en formule vir wysheid nie altyd 100% werk nie. So, wat maak ons? Hoe en waar kan ons ware wysheid vind? Hoe hanteer ons alles wat die lewe na ons kant toe gooi? Spreuke 9:10 (AFR20) sê:
“10Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig.”
Regdeur die boek van Spreuke, moedig Salomo ons aan om wysheid te “verwerf” (Spreuke 4:5), dan sal ons die lewe liefhê; en dat wysheid beter is as goud (Spreuke 16:16); en dat diegene wat wysheid vind, die lewe vind en in God se guns is (Spreuke 8:32-35). Hierdie wysheid, ware wysheid, begin eerstens, met ’n (gesonde) ‘vrees’, ‘ontsag vir die Here’. Hierdie ‘vrees’ is nie ons normale vrees en angs vir wêreldse dinge nie. Dit is eerder ons geweldige ontsag, respek en liefde vir ’n liefdevolle, tog streng, hemelse Vader.
Tweedens, moet ons strewe na wysheid nooit ophou nie. Ons moet dit soek soos vir silwer en verborge skatte (Spreuke 2:4). Derdens, moet ons aanhou bid daarvoor. Jakobus sê in Jakobus 1:5: “5As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” Dít natuurlik, is wanneer ons smag na die ware wysheid, volgens Spreuke 9:10.
En, vierdens, moet ons aanhoudend God se Woord bestudeer, daarop mediteer en deurdink (Psalm 19:7). Ons moet nie bloot net op ons eie begrip staatmaak nie, maar ook steun op die wysheid en insig wat Christene deur die eeue voortgebring het.
Om wysheid te kry, moet ons God vrees – ontsag hê vir Hom, Sy Woord bestudeer en deur volgehoue gebed die behoefte kweek en begeer om die lewe vanuit God se perspektief te verstaan.
Om oor te dink vandag:
Besef ek dat God eerste in my lewe moet wees? Wat plaas ek voor Hom? Het ek ware ontsag vir my hemelse Vader?
Gebed:
Almagtige, ewige, hemelse Vader, té dikwels laat ek ander dinge toe om belangriker vir my te wees. U is my God. U is die belangrikste in my lewe. Skenk asseblief aan my ’n nederige hart en daarmee sáám, ware wysheid. Amen
2021-06-12 – Is God nogsteeds jammer Hy het ons gemaak? (Kliek hier vir die klankgreep)
“5Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, 6was die Here jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom tot in sy hart gegrief.” – Genesis 6:5-6 AFR20
Van die begin af, het God die mens geskape om vrye wil te hê. As dit nie so was nie, en Hy het almal gedwing, geforseer of só gemaak dat hulle net Hom kan dien, was dit nie liefdevol nie. Dan was God ’n tiran. Maar God skep alle mense met die keuse om Hom lief te hê of nie. In Sy beeld, skep Hy ons om in verhouding met Hom en in verhoudings met mekaar te wees. Ons het vryheid. Vryheid van keuse en ook vryheid om te kies vir God of om van Hom af weg te draai. Ongelukkig, is dít wat die mens van die begin af al begin kies het.
God is God en Hy kon sekerlik voorsien wat die mens sou doen, tog het Hy ons geskep met die vermoë om te doen soos ons kies. God se oordeel bly tog nogsteeds regverdig. Hy láát niemand sondig nie. Hy is die regter van die hele aarde, en Sy geregtigheid sal geskied en is dieselfde vir almal. Hy dwing niemand om Hom lief te hê nie, want – soos genoem – sou dit nie liefde wees nie. Nogtans kan niks sy heerlikheid en genade dwarsboom of omkoop nie.
Gelukkig vir die mens, is God se liefde vir ons soveel meer as ons liefde vir Hom en het Hy gedurig getoon dat hy oorvloedig is in liefde en trou. Gaan lees gerus Eksodus 34:6-7 waar God sélf dit beaam. God het ons nie in ons sonde gelos om te vergaan nie. Sy hartseer oor mense se sonde het daartoe gelei dat Hy ’n manier van verlossing voorsien: Jesus Christus. Deur Jesus se dood en opstanding is die weg na die ewige lewe oopgestel vir almal wat op hom vertrou vir hul redding (Joh. 14:6).
Om oor te dink vandag (en elke dag):
Wat is my keuse? Is ek vir God, of teen Hom?
Gebed:
Here Jesus, U het alles opgeoffer vir my, gebroke mens. Jammer, dat U jammer was dat U my gemaak het. Ek sondig baie. Vergewe my asseblief. Help my om vír U te kies elke dag. Help my om elke dag te kies om U lief te hê. Grote God, dankie dat U self ’n manier gemaak het vir my om met U versoen te word. Ek verdien dit nie. My liefde is onvolmaak. Dankie dat U liefde vir my volmaak en oneindig is. Ek loof en prys U grote Naam. Amen
2021-06-11 – Waar is jy nou? (Kliek hier vir die klankgreep)
“1'n Ouer man moet jy nie skerp berispe nie, maar vermaan hom soos 'n vader, en vermaan jonger mans soos broers, 2ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters – en dit alleen met suiwer bedoelings.
3Betoon eer aan weduwees wat werklik weduwees is. 4Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle leer om in die eerste plek hulle godsdienstige pligte teenoor hulle eie familie na te kom, en hulle ouers en grootouers te vergoed; want dit is aanneemlik in die oë van God. 5Maar sy wat werklik 'n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; 6maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood. 7Beveel hulle hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. 8Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as 'n ongelowige” 1 Timoteus 5:1-8 AFR20
Die ou manier van kaart lees was nogal moeilik as jy dit nie geken het nie. Jy moes presies weet waar jy is, voordat jy jou roete kan beplan na waarheen jy wil gaan. Deesdae is daar GPS. Die GPS bepaal self, met behulp van satelliete, waar presies jy is en gee selfs vir jou die beste roete na waarheen jy op pad is. Maar wat as die GPS af is? Wat as die satelliete nie werk nie? Hoe gaan jy weet hoe jy by jou bestemming moet uitkom, as jy nie weet waar jy is nie?
Die teks wat ons gelees het in 1 Timoteus 5, beskryf vir ons so paar goeie aanwysings van ons verhoudings, net so duidelik soos ’n GPS ons reisplanne sou. ‘Wees respekvol teenoor ouer mense ... behandel jonger mans as broers, ouer vroue as moeders en jonger vroue as susters, met absolute suiwerheid. Gee behoorlike erkenning aan die weduwees wat regtig nood het. . . Elkeen wat nie vir hul familielede sorg nie, en veral ook nie vir sy eie huis nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige’ (5:1-3,8).
Maar al hierdie instruksies gaan jou niks help, tensy jy eerlik is met jouself oor waar jy nou is nie. As ons mooi kyk na hierdie lysie en vir onsself kan sê op elkeen daarvan, ‘Ja, ek doen dit’, mooi so. Maar as ons al hierdie dinge sê en dit nie doen nie, is ons so verlore soos iemand sonder ’n GPS of selfs ’n ou papier kaart.
Verhoudings in die lewe is baie harde werk. Mense maak staat op ons. Hulle hou ons dop om te sien hoe ons praat, hoe ons onder druk reageer, hoe ons ander en hulle eer. Ons kan nooit ’n vakansie vat van hierdie verantwoordelikhede nie. Ons moet altyd besig wees om daaraan te werk. Maar as ons nie met nugtere oë gekyk het na waar ons in ons verhoudings is nie – as ons eerder anderkant toe kyk, inplaas daarvan om ons geneigdheid tot selfsug, disrespek en luiheid eerlik te hanteer – sal hierdie verhoudings nooit beter word nie.
Om oor te dink vandag:
Sien ek om na my eie mense? Is my verhoudings reg? Hanteer ek mense soos die Bybel my leer? Weet ek waar ek is in my verhoudings en in my lewe?
Gebed:
Hemelse Vader, miskien moet ons elke nou en dan – dalk meer gereeld – nederig bely: ek is dikwels ongeduldig met ouer mans en sien soms neer op jongmense. Ek is onbewus van mense in nood en ook nie sensitief oor my gesin se gevoelens nie. Maar U teenwoordigheid help my om my verlorenheid te erken, U genade vergewe my van hierdie mislukkings, en U wysheid gee my rigting. Dankie daarvoor. Amen
2021-06-10 – God doen wat Hy wil. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer dit kom by gebed, is daar gewoonlik ’n paar redes hoekom mense bid of nie bid nie. Mense bid om in gereelde kontak met God te wees, om Sy hart te hoor, om hulle harte oop te maak vir Hom, om Hom te loof en prys, te dank, en ook te smeek en pleit by Hom.
Party mense sê weer dat hulle wel in God glo, maar omdat God weet wat in hulle harte aangaan en God in elk geval mos God is en doen net wat Hy wil – soos Hy goeddink, help dit nie om te bid nie. Kyk, gebed sonder God is sommer net praat met jouself. En geloof sonder God, is nie geloof nie. God is die voorwerp, onderwerp en alles van ons geloof. As ons nie bid nie, dan glo ons nie. As ons nie glo dat ons ’n liefdevolle, barmhartige God volg, wat bereid is om wel van plan te verander in ons guns nie, hoekom glo ons dan?
Sjoe, moeilike vrae en moeilike, harde feite... tog moet ons wel ook verstaan en besef dat God God is. En ja, God doen wat God wil doen. Hy is almagtig. Hy regeer. Spreuke 21:30 leer ons ook dat geen van ons menslike idees en planne hou stand teen God nie:
“30Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die Here nie.”
Selfs as ons dink ons is reg en God is verkeerd. Selfs al verstaan ons nie Sy redes nie. Dit help nie ons wil ons eie idees voorhou nie. God is goed en God is reg. Daarom is selfs die idee dat dit nie help om te bid nie, omdat God God is en doen wat Hy wil, ’n slegte idee...
Wat hierdie nóg moeiliker maak, is om te verstaan hoekom slegte dinge dan gebeur met goeie mense. Ons wíl vra hoekom. Weet jy, selfs deur al Job se lyding en al die lewenslesse wat God hom geleer het, het God nooit vir hom gesê hoekom hy swaarkry nie. Dit is genoeg om te sê dat God ons nie hoef te antwoord of iets te verduidelik nie.
Dié van ons wat kinders het, sal weet. Ons kon nooit verstaan hoekom ons ouers vir ons gesê het dat ons moet ‘maak soos hulle sê en klaar!’ nie. As jy jou eie kinders het, verstaan jy, want jy weet wat beter is. As dit kom by God, moet ons ook ons kinders en mekaar leer om Sy wil te aanvaar. Soms sal ons moet erken dat ons dit nie kan verklaar nie. Deur alles, moet ons wel weet dat Sy wil, sal geskied. Daarom móét ons tot Hom bid met die ‘wat as’ en ‘hoekom’ vrae van die lewe – dat Hy ons kan help verstaan of vrede vind in Sy wil.
Om oor te dink vandag:
Watter voorbeelde van onderwerping aan God sien my kinders en ander geliefdes in my lewe? Watter planne het ek gemaak, wat ek nou sien nie noodwendig God se plan is nie? Hoe kan ek leer om God se plan in die toekoms makliker te aanvaar?
Gebed:
Almagtige, goeie God. U is God. Nie ek nie. U plan is goed en hoe U dinge doen, is uiteindelik beter. Help my om U waarheid en vrede in my lewe te aanvaar. Amen
2021-06-09 – Bid vir krag in jou werk. (Kliek hier vir die klankgreep)
Gebed kan alles wat ons doen in ons werk en die manier waarop ons dit sien aansienlik beïnvloed. Tog, in ons daaglikse gebede sluit ons dikwels die behoeftes wat ons in die werk wat ons doen teëkom, uit (dalk is jou werk om ’n moeder te wees, of ’n tuisteskepper, of wat ook al). Om een of ander rede – vir meeste mense – kom ons werk en werkplekke nie eers in ons gedagtes op as ons bid nie. Dalk is dit die rede hoekom baie van ons dikwels nie gelukkig is in ons werke nie en ervaar ons dalk nie die volheid van wat God vir ons wil hê daar waar ons werk nie. Party mense spot mos ook dat hulle by die werk eerder moet bid vir geduld as vir krag, want anders gaan hulle dalk iemand aanrand.
Maar, weer op ’n ernstige noot: Wanneer ons begin bid vir ons werk, besef ons dat God aktief is in alles wat ons doen, nie net ons ‘persoonlike’ of ‘geestelike’ lewens nie. Dít is nogal transformerend. Dit verander hoe ons dinge ervaar. Dit verander ons groei. Tog verander gebed nie God se hart ten opsigte van ons werk soveel as wat dit ons s’n verander nie. En wanneer ons ons werk begin sien soos God dit sien, ervaar ons die krag van gebed en van God se genade.
Een van die gereelde gebede in die Bybel – veral in die briewe van Paulus – is gebede wat vra dat God Sy mense sal krag gee; dat Hy ons sal bemagtig om baie te doen. Ongelukkig kom almal van ons een of ander tyd in die versoeking om mag vir die verkeerde redes na te streef of te misbruik. Tog is die regte soort krag of mag nog steeds ’n goeie ding.
Paulus wou hê dat mense Christus in ons lewens duideliker moes sien, en hy het geweet dat God se krag dit sou bewerkstellig. So vra Jakobus dan ook dat ons bid vir mekaar:
“16Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.” – Jakobus 5:16 AFR20
Die evangelie is die krag wat mense verander (sien Rom. 1:16), en wanneer mense Christus duideliker sien, word hulle bemagtig om te lewe en op te tree soos God dit bedoel het.
God se transformatiewe en skeppende krag is in ons, en kan ons werk en die manier waarop ons ons lewens leef ongelooflik beïnvloed. Wanneer ons begin bid vir ons werk, besef ons dat God aktief is in alles wat ons doen, nie net ons ‘persoonlike’ of ‘geestelike’ lewens nie.
Om oor te dink vandag:
Besef ek dat my werk ’n baie groot deel van my lewe is? Is ek dankbaar vir die werk wat God aan my toevertrou het? Verstaan ek dat God juis ook daar dinge vir my en in my en deur my kan verander? Bid ek gereeld hieroor?
Gebed:
Here, dankie vir my werk. Al is dit dalk nie altyd maanskyn en rose nie, is dit die werk wat U op hierdie oomblik van my lewe aan my toevertrou het. U ken my situasie en U weet hoeveel meer ek, in die werk wat ek doen, vir U kan doen. Help my om deur U krag – die krag van die evangelie – dinge te verander waar nodig, sodat U verheerlik kan word. Amen
2021-06-08 – Gebed Blokkasies. (Kliek hier vir die klankgreep)
“24Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. 25En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.” – Markus 11:24-25 AFR20
Sjoe, regtig? Kan ek maar bid net wat ek wil? Kan ek regtig vra waarvoor ek wil, en as ek net glo, dan kry ek dit? Fantasties! Ek het nie geweet dit werk so nie. Ek meen, Jesus self het in hierdie verse gepraat...
Ai, as dit maar so was, nè? As gebed maar net kon werk soos die strokies met die genies. Wens en jy het dit! Maar ons weet dit is nie so maklik nie. Ons weet dat Jesus vêrder leer dat ons moet bid dat die Vader se wil sal geskied. As ons binne Sy wil leef en vra daarvoor, sal dit gebeur en sal ons vrede vind daarin. Dit is moeilik. Maar wat nog moeiliker is, is wat Jesus in vers 25 beveel: Ons moet ander mense vergewe. Geliefdes kan ons met tyd vergewe, maar wat van vyande of mense waarvan ons nie hou nie?
Een van die moeilikste dinge om te doen is om ons vyande te vergewe. Jesus beveel ons om die mindere te wees, om nederig te wees, maar dit is dan soveel makliker en lekkerder om te wens dat dié mense wat ons verontreg het, God se toorn, of ten minste ons eie toorn, sal ervaar. Wat dan nou van “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand, ens.”? (Eks. 21:24-25)
Jesus leer ons in Sy Woord (Matt. 5:38-39) dat ons anders moet wees. En dan, hier in Markus 11:25 sê Hy dat sulke woede en pyn ons verhouding met God kan belemmer. Solank haat en woede in ons harte bestaan, kan ons nie die geloof bereik waarvan hier in die Markus evangelie gepraat word nie, naamlik dat ons waarlik glo dat ons gebede verhoor sal word. Dit is slegs deur die totaliteit van Christus se boodskap van liefde te erken – om ons vyande te vergewe en lief te hê – dat ons ware nabyheid met God kan bereik. Dat ons sal ware vrede vind in Sy wil en sal vra en soek na Sy wil.
Om oor te dink vandag:
Wie moet ek vergewe?
Gebed:
Here Jesus, vergewe my dat ek sukkel om te vergewe. Wys my waar en wie ek nog moet vergewe. Help my om vordering te maak in my geloofslewe. Help my om ander te vergewe, soos U my vergewe. Amen
2021-06-07 – Woorde ontbreek. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons almal weet hoe dit voel. Jy is oorweldig deur jou omstandighede. Skielik raak alles net té veel. ‘Daardie argument kon beter afgeloop het... Ek moes nie gesê het wat ek gesê het nie... Wat as die toetse positief terugkom... Hoe gaan ek deur hierdie ding kom?...’
Jy gaan klim later die aand in die bed en jy draai heeltyd rond. Jy kan nie slaap nie. Onrustigheid. Jy weet jy móét met God praat. Jy maak jouself reg, maar... Jy het nie woorde nie. Jy weet nie wat om te sê nie. Moet jy vra vir krag of vergifnis? Moet jy, mag jy ooit iets vra? Is daar spesiale woorde wat jy moet gebruik? Hoe werk hierdie gebed ding nou eintlik? Jy dink jy het geweet, maar die woorde ontbreek jou skielik. Hoe nou?
In gister se boodskap oor die wapenrusting van God (Ef. 6:10-18), het ons geleer dat die 7de deel van die wapenrusting baie belangrik is. Dit is gebed. Maar wat maak ons as ons nie weet wat om te bid nie? Die antwoord is juis ook in Ef. 6:18 as Paulus leer dat ons deur die Gees moet bid. Hoe? Hoe doen ons dit as woorde ontbreek?
In Romeine 8:26-27 (AFR20) vertel Paulus meer:
“26So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. 27Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die •heiliges intree.”
Die frustrasies van die lewe kan ons geestelik stomslaan. Maar God hou nie op om ons te hoor as ons stom is voor Hom nie. In stilte of as ons woorde een deurmekaar mengelmoes van geprewel is, tree die Heilige Gees namens ons by die Vader in. Hy weet wel waarvoor om te bid. Dit was Jesus se belofte en dit is so.
Die volgende keer wat jou eie gees gelaai is met ’n vrag swaarder as wat jy kan dra, vertrou dat God, selfs al kan jy miskien nie woorde vind om te bid nie, jou geroep duidelik hoor deur die ingryping van die Heilige Gees. Hy ken jou hart, jou gedagtes en jou grootste behoeftes beter as wat jy dit sélf ken. Alhoewel jou woorde miskien misluk, sal jou Voorbidder jou nooit in die steek laat nie. Onthou wel: Maak die tyd om in kontak te bly en stil te word.
Om te doen vandag (en elke dag):
Raak stil voor God.
Mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe.
2021-06-05 – Ook maar net mense... (Kliek hier vir die klankgreep)
Partymaal is dit darem baie moeilik om ander mense lief te hê – selfs ander Christene... Veral ander Christene! Dít gesê, dink ek dit is sekerlik ook dikwels moeilik vir ander mense om my lief te hê.
Dink bietjie aan iemand wat jy dink is moeilik om voor lief te wees. Dalk ’n kollega, familielid, ’n politikus, ’n vyand... Wat sal dit vat vir jou om daardie persoon lief te hê?
Ons almal weet hoe seer dit ons maak as iemand wat sê hulle is lief vir ons, iets doen wat ons vertroue in hulle verbreek. As dit een keer gebeur, is dit nog redelik maklik om hulle te vergewe en om aan te beweeg. Maar as dit oor en oor gebeur, dan het jy nogal goeie rede om daardie persoon se liefde in twyfel te trek.
As gelowiges, is ons veronderstel om ander lief te hê soos ons onsself het (Matt. 22:39; Mark. 12:31; Luk. 10:27). Tog behandel ons só dikwels ander mense baie liefdeloos. En ja, ons almal doen dit. Ons is maar almal skuldig daaraan. Maar dit hoef nie so te wees nie. Daar is eintlik geen rede dat ons so is nie.
Ons gewildste verskoning is natuurlik dat ons ‘ook maar net mense is’. Maar ons maak nie staat op menslike liefde nie! Dit is nie die Rots waarop ons bou nie. Hoor wat skryf Johannes in 1 Johannes 4:7-8 (AFR20):
“7Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”
God is liefde. Alles wat goed en liefdevol is en wat liefde wys, kom van Hom. Hy is die bron van liefde. As God se kinders, het ons heeltyd toegang tot Sy liefde. Wanneer ons sukkel om ander lief te hê, hoef ons God net te vra vir Sy liefde. Dit is tog wat God wil hê: dat Sy liefde die wêreld in verkondig en geleef word. As ons nie God se liefde vir ander mense wys nie, gee ons hulle ’n rede om te twyfel of God se liefde werklik in ons is of nie – selfs om te twyfel of God se liefde werklik bestaan. En wanneer twyfel eers inkruip, begin vertroue by die agterdeur uitloop.
Laat ons God elke dag beter leer ken. Laat ons Sy liefde vir mekaar hê. Mag ons dit deel met ander.
Om oor te dink vandag:
Jy weet wat dit gaan vat om daardie ander persoon lief te hê; om jouself lief te hê... Kry dit by God.
Gebed:
Almagtige, liefdevolle God, dankie dat U ons liefhet. Dankie dat U U liefde aan ons beskikbaar stel. Skenk aan ons U liefde vir ander, wanneer ons dit nie uit ons eie kan doen nie. Amen
2021-06-04 – Sagte rotse. (Kliek hier vir die klankgreep)
46“Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie?
47“Elkeen wat na My toe kom en my woorde hoor en daarvolgens handel – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: 48Hy is soos 'n man wat besig was om 'n huis te bou. Hy het gespit en diep gegrawe, en die fondament op die rots gelê. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit die huis nie laat ineenstort nie, omdat dit goed gebou was.” – Lukas 6:46-48 AFR20
Jesus, die Een wat deur die eeue heen al baie sterk steunpilare in ons lewens gebou het, vergelyk ons geestelike fondament met ’n gebou wat ’n sterk, onbeweeglike fondasie het. In Sy gelykenis vertel hy van ’n wyse bouer wat ‘die fondament op (die) rots gelê (het)’ (vers 48). Ons weet dat oorstromings een of ander tyd in verskillende vorms in ons lewens sal kom: siekte, finansiële probleme, ’n verbrokkeling van ’n verhouding, rampe in die samelewing – soos COVID-19, terrorisme, natuurrampe. As ons Jesus se woorde nie ter harte neem en dit toepas nie, is ons op wankelrige grond. Maar as ons ons geestelike lewens bou op wat Hy sê, kan ons staande bly deur alles wat ons skud.
Jesus gebruik hierdie gelykenis net nadat Hy Sy dissipels ’n hele paar moeilike opdragte gegee het: Wees lief vir jou vyande en wees goed vir hulle (sien verse 27-36); Antwoord woede met vriendelikheid, skinderpraatjies met stilte, bitterheid met ’n opgewekte gees; Moenie ander oordeel nie, maar aanvaar hulle soos God jou aanvaar het; Vergewe, want jy is vergewe (sien vers 37); Wees vrygewig, en vrygewigheid sal na jou toe terugkom wanneer jy dit die nodigste het (sien vers 38); Wees meer besorg oor jou eie reinheid as vir die reinheid van ander (sien verse 41 - 42); Sorg dat jou hart goed is, want jou woorde sal wys wat binne jou aangaan, maak nie saak hoe goed jy kan toneelspeel nie (sien verse 44 - 45).
Die rotsvaste fondament van ons geloof is nie ’n abstrakte begrip nie. Die 'rotse', ironies genoeg, is ’n sagte hart en ’n sagte gees. En dit kan net van die Rots van die Eeue, Jesus Christus, kom.
Om oor te dink vandag:
Watter rotse / steunpilare het God in my lewe vir my gegee? My ouers? My familie? ’n Goeie vriend/in? Is ek ’n ‘sagte rots’ vir iemand of moet ek self nog meer daaraan werk?
Gebed:
Dankie liewe Heer dat U soveel sterk mense in my lewe vir my gegee het. Soms sien ek hulle nie eers raak nie. Soms besef ek nie dat U hulle ‘sagte rotse’ gemaak het nie. Help my om ook vir ander ’n rots te wees en dat ek my eienskappe van U sal kry, Here Jesus, my Rots. Amen
2021-06-03 – Onverganklik. (Kliek hier vir die klankgreep)
God se genade is oneindig groot. Sy liefde onbeskryfbaar. Sy geduld met ons is ook baie. Só het ons gelees en gehoor die laaste paar dagstukkies. Maar hoe is dit dat God dit kan doen? Hoekom sukkel ons om dit met ons geliefdes en ander mense te ervaar en toe te pas? Jy weet mos. Daardie wonderlike eienskappe waarvan 1 Korintiërs 13:4-7 praat:
4Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
5Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
6Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.
Die geheim van God se vermoë om hierdie dinge perfek te doen, is natuurlik nie ’n geheim nie. God is liefde. God se aard is om ons lief te hê, en vers 8 sê vêrder: “Die liefde vergaan nooit nie...”
Wanneer ons kies om iemand lief te hê, want ja, ons het ’n keuse, is daardie liefde daar. Dit bly daar. Liefde is nie iets wat aangesit of afgesit kan word nie. Dit is ons aard. As mense gemaak volgens God se beeld, kan ons ook nie anders nie. Maar in God se oneindige liefde vir ons, het Hy ons vrye wil gegee en het ons die keuse om lief te hê of nie.
Miskien is jy in ’n verhouding – liefdes verhouding, vriendskap, professioneel, of anders – en jy wonder of dit die moeite werd is om aan te hou werk aan daardie verhouding. Miskien “voel” jy net nie meer die liefde nie en jy begin wonder of dit nog die moeite werd is om in daardie verhouding te wees. Weet jy, die lewe is nie ’n sprokie nie en ware liefde is nie ’n warm gevoel van vlinders in jou maag nie. Liefde is ’n keuse – ’n keuse wat jy elke oomblik van elke dag moet maak.
Kies vandag om jou man of vrou of familie of almal om jou lief te hê met die onvoorwaardelike liefde waarmee God jou lief het. Ware liefde vergaan nie. Ware liefde is onverganklik.
Om oor te dink vandag:
Op watter maniere wys God Sy liefde vir my elke dag? Kom ek dit ooit nog agter? Watter van die eienskappe van 1 Korintiërs 13:4-7 sukkel ek die meeste mee? Hoe kan ek onvoorwaardelike liefde aan my familie bewys?
Gebed:
Here, U liefde, genade en geduld met my is so onbeskryflik groot. Help my om meer soos U te wees. Laat U liefdesvuur sterk brand in my hart. Amen
2021-06-02 – Jou “kwota” genade. (Kliek hier vir die klankgreep)
As mense, jaag ons darem maar baie nonsens aan. Dink mooi daaraan: ons spandeer hopeloos té veel tyd aan sonde en verkeerde denke en dade. Elke keer, hopelik, het ons berou daaroor, en weet ons dat ons vergifnis lê by ons liefdevolle God.
Wonder jy ook gereeld of God nie al moeg is vir jou probleme, herhaalde mislukkings en sondes wat ons maar sukkel om te oorwin nie? Het ons nie dalk al klaar ons “kwota” genade by God opgebruik nie?
As ons só begin dink, moet ons teruggaan na die eerste verhaal van God se genade: Adam en Eva. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God deur van die verbode boom te eet, en hulle het sonde in die wêreld ingebring. Die gevolge van hul optrede is oorgedra na alle mense en ons is uit die tuin van Eden verban. Ag, hoe lekker sou dit wees om in só ’n paradys te kon lewe...
Maar weet julle? Adam en Eva moes nie die paradys verlaat omdat God moeg was vir hulle nie. Hulle verhuising was glad nie verlatenheid nie; dit was genade.
Daar was twee spesiale bome in die tuin van Eden. Die een was die “boom van kennis van goed en kwaad”. Hierdie boom was die een met die verbode vrugte. Die ander boom was die “boom van die lewe”. Dit was die boom wat Adam en Eva die ewige lewe gegee het.
En hierdie lewensboom is die rede waarom hulle moes trek. Want as hulle toegelaat sou word om te bly, sou hulle van die boom van die lewe geëet het en vir ewig gelewe het (sien Genesis 3:22) – in sonde vir ewig, in al die gebrokenheid wat die sonde meebring, vir ewig. En God kon dit nie verdra vir die mense vir wie Hy só lief was nie.
Dit was dus Sy liefde wat hulle laat trek het. En dit was Sy liefde wat hulle toegelaat het om te sterf, sodat hulle die opgestane lewe kan ervaar wat sy Seun eendag sou voorsien.
God se genade het nie opgeraak vir die eerste mense nie. En Sy genade vir jou of vir my sal ook nooit opraak nie. Paulus beaam dit in Efesiërs 2:4-5 (AFR20):
“4-5Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met •Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!”
Om oor te dink vandag:
Voel ek soms of God my nie kán vergewe nie? Dat my “kwota” genade dalk opgebruik is? Verstaan ek dat ek elke dag in Sy genade lewe?
Gebed:
Hemelse God en Vader, alles is net genade. In Jesus Christus, ons Here, is alles bewys. Jammer, dat ek soms sukkel om myself te vergewe. Dankie dat daar by U altyd vergifnis en genade is vir die sondaar wat berou het en bely. U liefde gaan my verstand te bowe. Ek loof U en prys U Naam. Amen
2021-06-01 – Hoekom luister God nie?! (Kliek hier vir die klankgreep)
“Hoe lank nog, Here? Ek roep om hulp, maar U luister nie;” – Habakuk 1:2a AFR20
Het jy al ooit soos Habakuk gevoel? Dat jy roep en roep om hulp. Dat jy bid tot God, maar dit voel of dit op dowe ore val?
Voel dit soms of God vêr weg is? Voel jy soms of Hy jou in jou tyd van nood verlaat het? Mag ons so dink? Wat moet ons dan dink en hoe moet ons optree as dit blyk of God vêr weg is?
John McArthur het geskryf dat daar vier dinge is wat ons in sulke tye moet onthou:
1. Jy’s nie alleen nie – Selfs groot geloofshelde soos Martin Luther en C.S. Lewis het geskryf oor hierdie presiese geestelike krisisse waardeur hulle ook gegaan het. En in die Bybel vind ons konings van Dawid tot Jesus wat Godverlate gevoel het (vgl. Ps. 22:1 en Matt. 27:46). Ons kan werklik troos vind in die feit dat ons nie die enigste is wat sulke ervarings deurgemaak het nie, en dat die stilte nie noodwendig ’n weerspieëling is van die kwaliteit van ons geloof of ons verhouding met God nie.
2. Dit is tydelik – Ons weet dit tog, maar ons moet gedurig daaraan herinner word. Petrus skryf ook in 1 Petrus 1:6: “Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.”
3. Daar is ’n rede – Ons mag dalk dink dit is onregverdig, maar Petrus se vêrder in vers 7: “Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof... uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.”
“As een van God se kinders word jy Sy teenwoordigheid belowe, al voel jy soms alleen en sonder hulp. Rus daarin om te weet dat God, jou Vader, goeie redes het om jou jou beproewings te laat deurgaan. Hy is daartoe verbind om jou heilig te maak, selfs al beteken dit dat jou geluk ’n tydjie weggeneem word.” (John McArthur)
4. Jy word gehoor – Selfs al lyk dit asof God miljoene kilometers weg is, is Hy altyd nader aan ons as ons eie asem. Hy hoor jou, so moenie bang wees om prontuit te vra, soos Habakuk, waarom jou hulproepe onbeantwoord lyk nie. Hou aan bid en weet dat God se stilte nie vir ewig sal duur nie.
Onthou: Ons lyding onder God se stilte het ’n doel en kan gebruik word om ons te help groei in geloof en gehoorsaamheid.
Om te doen vandag:
Spreek jou hart met God. Word dan stil. Gee Hom kans om met jou te praat.
Mag jy God se vrede ervaar.
2021-05-31 – Ek verstaan nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die mens se kennis het op soveel gebiede al geweldig uitgebrei. Ons weet hoe werk atome. Ons het kennis van sterrestelsels miljoene ligjare weg. Ons verstaan die anatomie van die mense. Ag, en so kan ons nog baie opnoem. Tog is daar soveel wat ons nie weet nie. Soveel wat ons nogsteeds nie verstaan nie. Soveel dinge waarvoor ons nie verduideliking of rede kan vind nie. Ons weet van dinge, maar ons verstaan dit nie. Daar is natuurlik baie praktiese voorbeelde van hierdie dinge wat ons nie verstaan nie, maar die een ding wat boaan my lys is: Hoe is dit moontlik dat Jesus ons lief het? Ek verstaan nie.
Ek meen, kyk hoe foeter ons die aarde wat Hy aan ons toevertrou het om voor te sorg en vêrder te ontwikkel, op. Kyk hoeveel jaag mense aardse rykdom na. Kyk hoeveel afguns, jaloesie, wraak, hebsug, gierigheid ... hoeveel haat daar tussen mense is. Hoe kan Hy ons liefhê? En Jesus het ons nie net lief nie, Hy het ons verskriklik baie, onbeskryfbaar lief. Van al die vrae waaroor ek dikwels wonder, wonder ek nog gereeld hieroor. Ek verstaan nie. Verstaan jy? Wonder jy ook?
Paulus bid vir die Efesiërs en probeer in sy beperkte woordeskat dit beskryf:
“16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” – Efesiërs 3:16-19 AFR83
Weet jy, Jesus het jou só lief dat Hy die hemel verlaat het en vir jou en my aarde toe gekom het. Hy is só lief vir jou dat Hy vir jou gely en gesterf het. En die Bybel sê dat niks wat jy kan doen jou sal skei van die liefde van Jesus nie.
Paulus probeer om in sy woorde, oneindige liefde te beskryf – ’n liefde waarvan ons nooit by die einde daarvan sal uitkom nie. God het jou liefgehad voordat Hy jou geskep het. Hy is op hierdie oomblik lief vir jou. En Hy sal jou vir ewig liefhê.
Ons kan onmoontlik verstaan hoe lief Jesus ons het. Ons hoef nie te verstaan nie. Al wat ons hoef te doen, is om dit te aanvaar.
Om oor te dink vandag:
Probeer dink aan hoe lief God jou het. Probeer net... Wanneer jy op daai punt kom wanneer jou brein dit nie meer kan verstaan nie, hou maar op probeer.
Gebed:
Liewe Heer, baie dankie vir U onbeskryflike, oneindige liefde. Help my om dit te aanvaar. Amen
2021-05-29 – Die oorwinningskreet. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soos ons gedurende die Pinkstertyd besef het, is ’n deel van ons storie, om te wag. Ek wil graag weer vandag daaraan raak en weereens wys, uit God se Woord, hoe Hy altyd getrou is.
Ons gaan dikwels deur moeilike, uitdagende tye en ons smag na die dag wanneer ons uiteindelik die oorwinningskreet kan uitbasuin. Die spanning loop hoog. Ons bly hoop... of ons probeer ten minste. Ons weet God is getrou en dat Hy dinge op Sy tyd – die regte tyd – sal laat gebeur. Maar soms is hierdie hoop en hierdie wete van God se getrouheid, diep, diep binne ons weggebêre. Ons wil so graag uitkoms vind. Ons wil graag daardie verligting voel...
Lees Josua 6:1-20
Meeste van ons ken die verhaal van hoe die Israeliete die stad van Jerigo ingeneem het (indien jy dit nie ken nie, gaan lees asseblief die gedeelte).
Die Israeliete het 40 jaar gewag om die oorwinningskreet uit te roep. Nou is hulle uiteindelik amper daar. Ses dae lank het hulle die opdragte van God gevolg en het hulle stil – sonder ’n woord – rondom Jerigo getrek, met net die trompet geluide wat deur die priesters geblaas is. Toe kom die sewende dag. Stel jouself die spanning voor... sou God self die mure afbreek? Sou die inwoners van Jerigo sonder ’n geveg oorgee? Sou die Israeliete kan uithou en doen soos God voorgeskryf het? Toe gee God die groen lig: blaas op die trompette; skreeu vir oorwinning, en die mure van die stad sal in duie stort. Net soos God belowe het, basuin die ramshoring, die manskappe hef die oorlogskreet, en die oorwinning was aan hulle gegee. Die Israeliete het die stad Jerigo verower en uiteindelik hul regmatige plek in die beloofde land geëis.
Die Israeliete moes seker so verlig gevoel het om ’n oorwinning te behaal na soveel jare se gewag en voorbereiding. Kan jy dalk vereenselwig daarmee? Voel jy dalk of jy die laaste ruk stagneer, asof jou omstandighede net nie wil verander nie? Smag jy na resolusie, om selfs net ’n klein oorwinning te behaal? God is besig om dinge te bewerk, selfs terwyl ons wag. Dink aan hierdie tyd van wag as ’n proses wat uiteindelik sal uitloop op ’n oorwinning. Bly intussen getrou en weet dat God daar by jou is en jou voorberei op die komende gevegte, doele en oorwinnings.
Gebed:
Baie dankie Here, dat U altyd in beheer is. U tyd en U manier is volmaak. Help my om geduldig te wag op die oorwinning wat U vír my of déúr my sal behaal. Help my vertrou. Help my om in gehoorsaamheid te wag en U instruksies te volg. Dankie dat U my voorberei. Dankie dat U altyd by my bly. Laat my rus vind in U vrede. Amen
2021-05-28 – Wat is jou storie? (Kliek hier vir die klankgreep)
Almal het ’n storie om te vertel. Soms ’n goeie een, soms nie so goeie een nie. Tog het elke storie wel iets in om te leer – vir jouself of vir ander. Ons dink dikwels dat ons storie nie die moeite werd is om te vertel nie. “Ek praat nie voor mense nie.”, of “Ek het nie die opleiding om dit te doen nie.”, is dikwels die verskonings wat ons ook gebruik om nie ons storie te vertel nie.
Petrus en Johannes was gewone, ongeskoolde mense. Al twee vissermanne – ’n laeklas ambag in daardie tyd. Sommige van die Fariseërs wat dié twee in hegtenis geneem het omdat hulle ’n verlamde bedelaar genees het, is veral verbaas oor die vermoë van die mans om hulleself behoorlik te artikuleer en wil weet hoe hulle die genesing kon bewerkstellig. Dan praat Petrus (Handelinge 4:8-12 AFR20):
“8Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: Leiers van die volk en familiehoofde, 9as ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het, 10moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret “wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. 11“Hy is “ ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, en die hoeksteen geword het.’ 12“Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”
Jesus se vergifnis en genade saam was die enigste rede waarom Petrus en Johannes die kans gehad het om te slaag in die lewe. Hulle het ’n storie gehad om te vertel en ’n getuienis van vergifnis en bevryding om te leef. Die sogenaamde “slim mense” – die leiers, familiehoofde en skrifkenners – kon dit nie glo nie. Petrus se antwoord, getuig dan vêrder van hoe dit moontlik is. Dis nie uit hulle eie krag dat hulle dit kan doen nie. Nee, hulle het tyd saam met Jesus spandeer. Hy kry die eer. Jesus is die een wat ons lewens seën met wonderbaarlike veranderings en ongelooflike bedienings.
Om oor te dink vandag:
Wat is die storie wat ek moet vertel? Is Jesus deel daarvan? Vertel ek dit gereeld? Hoekom / Hoekom nie?
Gebed:
Here Jesus, voor ek U geken het, het ek net ’n gewone storie gehad om te vertel. Nou is my storie wonderlik. Want U is wonderlik. Soms is ek nog skaam oor my verlede of ek dink dat my storie nie gehoor hoef te word nie. Help my om te getuig van U liefde, genade en die wonderbaarlike verandering wat U in my en ons almal kan laat gebeur. Maak my ’n instrument in U hande. Tot U eer alleen. Amen
2021-05-27 – ’n Bloudruk vir die lewe. (Kliek hier vir die klankgreep)
’n Bloudruk is die argitektoniese planne vir ’n gebou of konstruksie. Dit is die plan wat gevolg moet word vir sukses. Om so iets te kry vir die lewe, is nogal moeilik.
Spanning, uitdagings, konflik en wroegings is deel van die lewe. Dit sal altyd daar wees, ongeag die keuses wat ons maak in ons lewens. Waardesisteme sal altyd met mekaar bots en ons sal wat ons glo altyd moet verdedig teen die aanvalle van botsende geloofstelsels. As ons nie vir onsself kan vasstel watter van ons geloofsoortuigings ononderhandelbaar is nie, sal ons hele waardestelsel ingee onder die gewig van kortstondige, onwyse besluite – ons eie besluite en dié van ander. Dit is dus uiters belangrik om die oortuigings of waardes wat reeds getoets is en wat bewys is dat dit ’n vaste grondslag of fondasie het, te bewaar. Slegs dan kan ons teenstrydige realiteite toets aan wat betroubaar is, sodat die fondament ongeskonde gelaat word.
Hierdie is waar vir individue, sowel as vir nasies.
Die skrywers van die Bybel was nie onkundig oor hierdie konstante spanning in die wêreld nie, en die Christelike geloof is ook nie ’n vreemdeling vir hierdie uitdagings nie. Jesus self het hierdie konflik op ’n kragtige manier vir ons demonstreer toe Hy vir 40 dae in die woestyn deur die vyand geteister en versoek was (Matteus 4:1–11). In elkeen van hierdie versoekings, was ’n gevaarlike halwe waarheid voorgehou. “sê hierdie klippe moet brood word”, was die eerste uitdaging wat die versoeker gestel het. Dit is interessant om daarop te let dat die uitdaging op Jesus se mag of Sy woord is. En dan, in sy tweede versoeking het Satan die woorde “daar is geskrywe” gebruik om Jesus uit te daag om Sy mag oor alle ander magte te toon (vers 6).
Paulus skryf vir die mense in Korinte in 1 Korintiërs 10 (gaan lees gerus die hele hoofstuk) en begin die hoofstuk met: “Broers, ek wil nie hê julle moet hieroor onkundig wees nie:...”, en dan volg hy dit op met ’n hele verduideliking van hoe maklik dit is om in afgodediens weggevoer te word en afvallig te raak. Afgodery, moet ons besef, is enigiets wat ons kies om bó God se wil te wees – enigiets wat vir ons belangriker is as God in ons lewens. Paulus sê dan vêrder baie reguit: “21Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?” (verse 21-22)
Ons waardestelsel, ons fondasie, ons rots, is Jesus Christus. Net soos Jesus nie geswig het onder die versoekings van die vyand self nie, mag ons en hoef ons nie. Deur die krag van God se Gees in ons, kan ons ook vasstaan in geloof.
Om te doen vandag:
Gaan sit saam met ’n betroubare vriend of geloofsgenoot en voer ’n gesprek oor jou diepste waardes en prioriteite in jou lewe. Bespreek jou oortuigings en evalueer jou praktyke (huidige en gewenste) as dit kom by die volgende dinge: God, die kerk, die huwelik, ouerskap, vriendskappe, geld, werk / loopbaan, stokperdjies. Skryf jou diepste oortuigings neer. Kyk of jy dalk ‘n beter bloudruk kan bedink om doelbewus te lewe. Praat met God oor hierdie plan.
Seën en vrede vir jou vandag!
2021-05-26 – Die offers wat ons bring. (Kliek hier vir die klankgreep)
Omdat ons God kan ken deur Jesus Christus wat mens geword het, en met die grootste offer ooit ons weer versoen het met die Vader, kan ons ook nou met vrymoedigheid na die Vader gaan. Dit is nie meer nodig vir allerhande offers en spesifieke dade en rituele nie. Jesus het dit alles reeds saamgevat in die offer aan die kruis. Daarom dat Jesus sê in Matteus 22:40 AFR20 in die opsomming van die wet: “Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete.”
Liefde vir God en liefde vir die mens. Dit is wat Jesus aan die kruis bewys het. Sy gehoorsaamheid en liefde vir die Vader het Hom oorgehaal om God se liefde vir die mensdom aan ’n kruis, met een finale offer te gee. Daarom is Hy dan nou ook ons Hoëpriester vir ewig! Hoor wat sê Hebreërs 7:20b-27 AFR20:
““Die Here het 'n eed afgelê, en dit sal Hom nie berou nie: Jy is priester vir ewig.”
22Daarvolgens het Jesus ook borg van 'n beter verbond geword. 23Boonop was daar baie ander mense wat priesters geword het, omdat die priesters deur die dood verhinder is om aan te bly; 24maar omdat Hy tot in ewigheid bly, besit Hy 'n priesterskap wat nie tot 'n einde kom nie. 25Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree.
26So 'n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, 27wat, anders as die hoëpriesters, nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as 'n offer gebring het.”
Jesus is heeltemal anders as ander priesters. Lees weer die gedeelte hierbo en kyk self hoekom... Ja, Hy leef vir altyd, is reeds by die Vader, is heilig, onskuldig, onbevlek (vers 26). Al offer wat ons kan bring in dankbaarheid, is ons lewens (Romeine 12).
Deur Jesus se lewe op aarde, kon ons God leer ken. Met Jesus wat vir ewig ons Priester is by die Vader, tree Hy in vir ons soos geen ander kan nie, en met Sy Gees wat in ons woon kan ons God se hart elke dag nog beter ken.
Om oor te dink vandag:
Besef ek regtig wat dit beteken dat Jesus die finale offer vir my gebring het? Omdat Hy reeds by die Vader is, vir my plek regmaak en intree as my Hoëpriester, leef ek só uit dankbaarheid, gehoorsaam aan Hom?
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U ons ewige Hoëpriester is. Dankie dat U heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is. Heilige Gees, lei my elke dag om U hart, o God, al beter te leer ken. Help my om in dankbaarheid, gehoorsaam aan U Woord te leef. Amen
2021-05-25 – God is kenbaar. (Kliek hier vir die klankgreep)
“1Die Here het aan Abraham verskyn by die akkerbome van Mamre terwyl hy op die hitte van die dag by die ingang van sy tent sit. 2Toe hy opkyk, sien hy skielik drie mans naby hom staan. Toe hy hulle sien, hardloop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig laag teen die grond.” – Genesis 18:1-2 AFR20
God se intense deernis vir Sy mense word nog altyd getoon deur Sy bereidwilligheid om Homself, dikwels deur Sy gesproke woord, aan Sy volk te openbaar. Sedert die dae van die tuin van Eden, was dit al so. Na die sondeval, is dit duidelik dat die volk van God verbaas was dat God selfs met hulle sou wou praat. Hulle het dikwels wanneer God Hom aan die mense openbaar het, eerder op ’n afstand gestaan, in vrees en ontsag (bv. Eks. 20:21).
Hierdie verskynings van God aan die mens in die Ou Testament, vind dan die perfekte vervulling in die menswording van Jesus Christus. Tydens Sy geboorte het Jesus die heerlikheid van die hemel gewillig opsy gesit om die gestalte van ’n dienskneg aan te neem, met die enkele doel: om vir sondige mense ’n weg te maak om na die Vader te kom (Fil. 2:1-11). In Sy Godheid het Jesus die aard en karakter van God aan die wêreld gedemonstreer en verklaar, op ’n manier wat die mensdom toegelaat het om nie net ’n tydelike blik op sy glorie te sien nie, maar om die presiese afdruk van God se glorie op ’n permanente, deurlopende wyse te ervaar. Hoor hoe mooi stel die Hebreërs skrywer dit in Hebreërs 1:1-3:
“1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep. 3Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese. Hy hou alles in stand deur sy magtige woord; en nadat Hy die reiniging van sondes bewerk het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes.”
Jesus het Homself kenbaar gemaak, sodat gevalle mans en vroue God kan ken.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U my ’n blik gee op die glorie van God. Dankie dat U my gewys het wie Hy is en dat U my ’n manier gegee het om Hom intiem te ken. Amen
2021-05-24 – Kyk hoe oulik is ek! (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 1Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg.
2Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid.
3Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.” – Spreuke 11:1-3 AFR83
Trots, verwaandheid of selfverheffing is ’n moeilike ding om in ’n gesin of enige plek te beheer. Ek meen, jy wil graag hê dat jou kind trots moet wees op die uitstekende punte wat hy of sy behaal, maar jy wil nie hê dat hulle met hul intelligensie begin spog in die klaskamer nie. Die balans tussen gesonde selfvertroue en arrogansie is regtig moeilik.
Een van die beste maniere om jou kinders en jouself en ander hierdie balans te leer, is om onsself altyd te herinner aan hoe al ons talente en vermoëns van God af kom. Lofprysinge kan maklik na ’n tiener se kop toe gaan. Ons moet hulle en onsself laat onthou dat ons ons voete deeglik in daardie kennis moet plant om in hierdie gebied volwasse te word.
’n Ander manier vir ons om mekaar aan te spoor, is om in mekaar te glo, maar ons moet nie “óór-glo” of “óór-vertrou” nie. Julle weet mos, baie ouers het die geneigdheid om vir hul kinders te laat glo dat hulle in alles ongelooflik goed kan presteer, as hulle net hard genoeg probeer. Gewoonlik is hierdie tipe óór-vertroue onrealisties, en al wat dit doen, is om mense op te stel vir ’n harde “afkom aarde toe” wanneer hulle in die regte wêreld kom.
Dit is goed vir enigiemand om selfversekerd te wees in wie hulle is, en dit is goed om hierdie vertroue by jou kinders en geliefdes in te boesem. Maar jy moet nooit vergeet dat jy, behalwe vir Christus in jou, niks kan doen nie. Saam met Hom kan jy alles doen wat Hy wil hê jy moet doen, maar dan moet jy Hom die eer gee.
Onthou: Trots bou ongesonde arrogansie, terwyl vertroue ’n gesonde selfbeeld opbou.
Om oor te dink vandag:
Waar sien ek trots in my gesinslewe? Hoe het ek al gesien hoe trots ander mense negatief beïnvloed? Het ek en my kinders of geliefdes ’n gesonde selfvertroue? Hoekom of hoekom nie?
Gebed:
Here Jesus, ek weet ek kan niks doen sonder U nie. Dankie vir al die gawes, talente en vermoëns wat U so genadiglik aan my skenk. Help my om altyd te onthou dat dit van U af kom. Help my om deur U Heilige Gees wat my lei, wonderlike dinge te doen tot U eer. Amen