Hieronder is 'n lys van vorige oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-05-22 – In die tussentyd. (Kliek hier vir die klankgreep)
Môre is dit Pinksterfees. Ons het in die laaste 49 dae na Paasfees gewag hiervoor. Dalk met bietjie frustrasie, dalk nie. Wat ons wag anders as die dissipels s’n gemaak het, is dat ons reeds die “geskenk”, die belofte van die Vader ontvang het: “...bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het.” (Handelinge 1:4b AFR20)
Jesus het gesterf, die dood oorwin, en voordat hy hemel toe is, het Hy vir die dissipels gesê om ’n onbepaalde tyd in Jerusalem te wag totdat ’n onbekende gebeurtenis sou plaasvind. Hierdie ouens het alles neergelê om Jesus te volg. En dan, ná Sy opstanding, toe hulle baie opgewonde was, het Jesus vir hulle gesê om te wag. Stel jou voor hoe dit sal voel as jy beveel word om te wag wanneer, al wat jy regtig wil doen, is om wonderlike nuus aan die wêreld te gaan vertel.
Ek kan nogal baie aanklank vind hiermee... Die van julle wat my ken, sal weet ek was nie altyd in die bediening nie. Ek het eers vir 2 dekades IT werk gedoen in die korporatiewe wêreld. En toe ek besluit dat ek gaan gehoorsaam en ek sal gaan, toe moet ek eers nog 6 jaar studeer. Toe ek die wêreld wil verander, toe moet ek wag en eers myself verander.
Waarom laat God ons dan so opgewonde raak om te doen wat Hy vra, en dan laat Hy ons wag, nadat ons die roeping gehoorsaam het? Miskien is dit omdat ons iets meer as passie nodig het. Miskien gebeur daar iets tussenin wat op geen ander tydstip gebeur nie.
Die Heilige Gees kon onmiddellik gekom het. Pinkster kon gebeur het die oomblik toe die apostels in die bovertrek bymekaargekom het. En tog het daar iets in die gewag gebeur. Nee, nie by God nie. God is nie stadig nie. Dink maar ook aan Dawid of Josef; dit lyk vir my nogal asof daar iets gebeur binne die mense wat wag.
Ons wag, maar God... doen iets. Miskien hoor ons Hom duideliker terwyl ons wag. Ons soek hom vuriger in die vertragings. Ons reageer makliker in die tussentyd.
Volgende keer, as jy daardie ongemaklike gevoel het, dalk moet wag, of jou planne word op hulle kop gedraai, spandeer die tyd om met God praat. Vra Hom om jou geduld te leer en jou te gebruik. Luister dan na Sy stem en volg Sy leiding.
Geliefde kind van God, mag jy hierdie Pinksterfees die Gees van God ervaar in jou, om jou en oraloor. Mag jy Sy liefde deel met die wêreld en ’n verskil maak wat niemand gedink moontlik is nie. Vrede vir jou!
2021-05-21 – Amper daar... (Kliek hier vir die klankgreep)
Nog net 2 dae. Dan vier ons die uitstorting van die Heilige Gees oor God se kerk. Ons vier die begin van iets wat hierdie wêreld heeltemal verander het in die laaste 2000 jaar. Eintlik vier ons die voortsetting van iets wat God self, Jesus, begin het. Dit is wonderlike nuus. Dit is verlossing vir elke mens wat bereid is om sy/haar eie lewe neer te lê, hulle kruis op te neem elke dag Hom te volg.
Net na Paasfees het ons gesê dat Jesus Christus ’n duidelik kloof in tyd gemaak het met daardie kruisgebeure. Aan die een kant is die kruis, ons verlede en ons sonde. En aan die ander kant is die opstanding, nuwe lewe en ons roeping. Ons moet gaan!
In die laaste paar weke het ons egter ook onsself herinner dat ons soms maar moeg raak. Die wêreld en ons eie omstandighede, maak ons dikwels fisies, emosioneel en geestelik moeg. Ons voel of ons nie vêrder kan gaan nie.
Toe Jesus die dissipels op die pad na Emmaus ontmoet het, was hulle ook moeg. Hulle was hartseer, deurmekaar, moedeloos. Hulle wou eintlik net by hul bestemming kom, dat hulle maar kan ophou. Hulle was amper daar... en dit was genoeg vir hulle. En wanneer hulle hul rusplek bereik, “28Toe hulle nader kom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis.” (Lukas 24:28 AFR20)
Hoekom het Jesus dit gedoen? Want dit is deel van Sy geaardheid. Hy gaan altyd vêrder. Hy doen altyd meer vir ons. Hy weet dat hierdie twee dissipels ’n plek (fisies, geestelik en emosioneel) bereik het, waar hulle eerder wil stop. Jesus veroordeel hulle nie daarvoor nie. Nee, Hy bly by hulle, breek brood saam met hulle en openbaar Homself aan hulle. Dít gee hulle krag om weer vêrder te gaan. Hulle kom agter dat hulle wel vêrder kán gaan. Hulle wíl vêrder gaan. Hulle is nog nie klaar nie.
Om oor te dink vandag:
Oor 2 dae is dit Pinksterfees. Besef ek hoe geseënd ek is om God se Gees te ontvang? Besef ek hoe geseënd ek is dat God deur my kan werk? Besef ek dat dit altyd te gou is om op te hou?
Gebed:
Dankie God, Heilige Gees, dat U my bron van krag is. Dat ek altyd nog ’n bietjie vêrder kan gaan. Dankie dat ek in U teenwoordigheid mag rus. Wys my hoe my volgende treë lyk in my Christelike wandel en gestuurdheid. Ek neem dit aan in Jesus’ Naam. Amen
2021-05-20 – Super-Christene. (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is blykbaar Super-Christene tussen ons. Hulle lyk soos gewone mense, maar hulle het “superpowers.” Baie van ons is dalk van hierdie Super-Christene... Julle weet mos, dis daai kere wat jy sommer net so vir iemand op straat kyk en “woeps” – daar verander daardie persoon in ’n Christen. Ons het mos skielik “super powers” as ons Christene word.
Dis mos maklik. Die oomblik wat ons besluit om volgers van Jesus te word, is alles skielik makliker. Wanneer Jesus ons dan opdrag gee om dissipels te gaan maak, dan is dit net so maklik... Nee, glad nie! Dis vrek moeilik.
Ek dink elkeen van ons mis elke dag ten minste 9 uit 10 geleenthede om mense na Christus te lei. Ja, 9 uit 10! Hoekom? Want ons is so min ingestel om dit te doen, dat ons die geleenthede nie eers raaksien nie. Ons luister nie genoeg na daardie stil stem van die Heilige Gees in ons nie.
Die moeilikheid met die kerk en die wêreld deesdae, is dat mense te veel wil lyk soos Christene en te min wil doen wat Jesus ons beveel het. Jesus beveel ons om te gaan na al die nasies en dissipels te maak van die mense, maar ons glo so in ons binneste dat dit nogsteeds eerder iemand anders se werk is. Die opbou seisoen vat te lank en ons sien nie kans daarvoor nie. Ons glo in die gebeure van daardie Pinksterdag omtrent 2000 jaar gelede... ons weet dat die Heilige Gees werklik is, maar sjoe, dis darem baie werk wat wag...
Toe Jesus Sy dissipels geleer het, het Hy dikwels vir hulle geleer hoe hulle eendag alles sal regkry. Die antwoord is eenvoudig. Daar is nie Super-Christene nie, maar om ’n gewone Christen te wees, moet jy in Jesus bly en Hy in jou. Jesus self het gesê: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15:5 AFR83)
Om ’n Springbok rugbytrui te dra, maak my nie ’n Springbok rugbyspeler nie. Dit verg baie oefening en toewyding en ontwikkeling. Ons kan nie net ’n kruis om ons nek dra, ’n mooi Bybelversie tattoo hê, of ’n “I love Jesus” T-hemp of kepsie dra nie. Sonder Jesus kan ons nie wees wie Hy wil hê ons moet weet nie. Ons is nie Super-Christene nie. En dis OK.
Dis nog net 3 dae, dan vier ons Pinkster. Die dag toe die kerk bemagtig is deur God sélf se Gees. Wees wie jy moet wees in Christus. Dra baie vrugte. Goeie vrugte.
Let op vandag:
Terwyl jy vandag besig is met jou normale dagtake, luister na die stil stem van die Heilige Gees. Moenie dit bevraagteken of probeer weg rasionaliseer nie. Luister. Glo. Gehoorsaam. Onthou Jesus gaan vooruit.
Seën en vrede vir jou vandag!
2021-05-19 – Die opbou... (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer jy na ’n groot en bekende musiekkunstenaar se konsert toe gaan deesdae, is die eerste halfuur of so eers ander kunstenaars wat optree. Dit is om die stemming reg te kry en die atmosfeer te skep vir wat kom. So ook by rugbywedstryde: Die “kleiner” spanne speel eers en die skare kan – sonder enige verdere koste – die wedstryde geniet of swaar vind om te kyk. Maar dan kom die groot wedstryd. Dit waarvoor jy gewag het. Die voorwedstryde is nie altyd baie goed nie, maar tog die moeite werd om te kyk. Vanuit daardie wedstryde sien jy soms hoe die sterre van môre lyk.
Ek lees weer vir ons saam uit Handelinge 1:4-5 AFR20:
4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 5Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.”
God gebruik nog altyd tye van opbou – veral in die natuur. Kyk maar na wolke wat opbou voor die reën; hoe ’n saad ontwikkel in ’n groot plant of boom. Die goeie plante neem heelwat tyd in beslag om te groei, terwyl onkruid gewoonlik vinnig groei. Ja, ja, ja... die ou cliché: Goeie dinge vat tyd.
Een of ander tyd in ons lewens moet ons wag. Dit is teen ons menslike natuur, maar dit is God se plan. Om te wag gaan ook – in ’n mate – teen Jesus se opdrag om “te gaan en dissipels te maak van al die nasies.” So... Moet ons wag? Of moet ons gaan? Hierdie is natuurlik ook die vrae wat ons dikwels vra in ons omstandighede met werk, persoonlike kwessies, verhoudings, ens.
Ek wil gou ’n geheim met jou deel: God gee nie geduld nie. Hy leer dit! Wanneer ons wroeg met hierdie dinge, sal die Here ons volgende tree op ons geloofsreis begin duidelik maak as ons meer tyd in Sy teenwoordigheid spandeer. In hierdie seisoen van opbou, moet ons streef om drie dinge te ontwikkel: 1.) Karakter. Deur te wag, kan ons geestelike gewoontes en konsekwentheid ontwikkel; 2.) Krag. Ons word bemagtig om God groot te maak; 3.) Oop deure. Ons word die geleentheid gegee om effektief te dien.
Die dissipels het gewag. Hulle was gehoorsaam. Hulle het deur die voorwedstryde gesit. Hulle was deur die opbou, opgebou. En toe dit tyd was vir die groot wedstryd, toe vloei God se krag deur hulle en daardie dag groei die kerk van 120 na 3120 (Handelinge 2).
God gebruik soms seisoene van opbou in ons lewens. Dit mag dalk voel soos ’n seisoen van vrugteloosheid, maar seisoene van vrugbaarheid word altyd voorafgegaan deur ’n seisoen van opbou.
Om oor te dink vandag:
Wanneer laas het ek in gehoorsaamheid aan God gewag? Besef ek dat in die stilte, in die seisoen van wag, praat God dikwels die hardste?
Geliefde, maak jouself stil en hoor hoe God praat. Laat Hom toe om in jou ’n standvastige karakter te ontwikkel, karakter wat vrugbare grond word vir krag uit die hoogte. God sal die deure vir jou oopmaak om daardie krag in en deur die volgende seisoen van jou lewe te dra.
Vrede vir jou!
2021-05-18 – “Ek het alles beplan... Toe gebeur die lewe!” (Kliek hier vir die klankgreep)
4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 5Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” 6Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” 7Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” – Handelinge 1:4-8 AFR20
Die dissipels kon nie wag om vir almal te vertel dat Jesus lewe nie. Dan gee Jesus vir hulle – vir eers – ’n ander opdrag... wag.
Die Bybel wys ons op soveel plekke dat om te wag, ’n duidelike doel het. Ons maak dikwels planne om iets te doen of iewers te wees of om in ’n sekere stadium van ons lewens “iets” te bereik. Dan gebeur die lewe... Jy verloor jou werk. ’n Geliefde word siek en sterf dalk. Jou gesondheid belemmer jou kanse op vooruitgang. Mense is gemeen. Die wêreld draai teen jou.
Ag, daar kan soveel dinge gebeur wat vir ons lyk of dit ’n straf is. Of God ook teen ons gedraai het. Ons bid en bid en wil graag ook weer geluk ervaar. Maar wanneer ons gaan stil word en besef dat ons definisie van geluk dalk verkeerd geformuleer is, kom ons weer agter dat God wel al ons gebede verhoor. Die antwoord is: soms ja, nou dadelik; soms is dit nee; en soms is dit..... wag.
God roep ons om te gaan en vir Hom te werk in die wêreld. Soms roep Hy ons en sê: “Gaan, maar wag.” Soos die dissipels, wil ons die hoop en krag van die evangelie deel. Maar soms moet ons wag. Jesus roep ons om te wag. En wat het gebeur toe die dissipels gewag het? Hulle was geestelik voorberei en hulle het die Heilige Gees ontvang.
Krag kom in wag. As ons wag op die Here, ontvang ons krag. Dan begin ons leer wat op Sy hart is, wat Sy wil is en dan begin ons om meer soos Hy te word. Om te wag, is nie tydmors nie. Eers wanneer ons genoeg gewag het... geduld geleer het... is ons reg om te gaan.
Om oor te dink vandag:
Watter gewoontes het ek wat nogsteeds my frustrasie met wag aanhelp? Gee ek te gou op? Wat is my definisie van geluk?
Gebed:
Liewe Heer, gee my die dringendheid om ander mense te vertel van U, maar die geduld om te wag vir U perfekte tyd. Gee my ook die geduld om te wag dat U my behoorlik voorberei vir wat U vir my beplan het. Laat ek U vrede ervaar – al weet ek nie wat presies U vir my beplan nie. U weet, Here. Dit is genoeg vir my. Amen
2021-05-17 – Kliek-kliek. Klaar. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag se wêreld beweeg teen ’n astronomiese vinnige pas. As jy honger is, kliek jy gou twee keer op jou slimfoon en die kos word by jou afgelewer. Soek jy ’n nuwe TV of ander toestel, presies dieselfde... Kliek-kliek, klaar. Om te wag is frustrerend en “onnodig” vandag. Tog is van Jesus se laaste woorde aan Sy dissipels, om te wag (gister se teksgedeelte). En omdat hulle gewag het, het duisende mense tot geloof gekom toe hulle die Heilige Gees ontvang het. Die dissipels was vasberade om te wag.
Soms gaan ons deur die lewe en dit voel of ons ’n muur getref het. Dit voel of ons stagneer. Ons wil graag vordering maak. Alles en almal om ons maak dan goeie vordering. Hoekom nie ek nie? On begin voel soos Dawid in baie van sy psalms. Dit voel of dit sleg gaan met goeie Christene, terwyl die slegte wêreld floreer. Hoekom doen ons dan nog alles? Hoekom is ons dan Christene?
Ons moet onthou: Christenskap is nie ruilhandel met Jesus nie. Ons hou nie by Sy Woord om seëninge inruil te verdien nie. Ons is gehoorsaam uit dankbaarheid vir wat Hy reeds vir ons gedoen het. Dawid sê in Psalm 37:1:2 al: “Moet jou nie ontstel oor die kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie, 2want soos gras verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle.”
Die lewe voel soms onregverdig. En weet jy wat? Dit is! Maar God is regverdig. Hy sien jou getrouheid raak. Hy sien jou deursettingsvermoë en jou toegewydheid. Hy weet jy wag. Maar waarvoor wag jy? Om te getuig vir Hom? Of om geseën te word? Of om “iets” te ontvang?
Onthou: God gee soos God goeddink en soos nodig. God is altyd besig deur die Heilige Gees in die wêreld. Ons plig is om aan te sluit daarby. Om diensbaar te wees. Om Jesus toe te laat om deur ons Sy Koninkryk te laat kom. Maak nie saak waarvoor jy op God wag nie, weet dat Sy tydsberekening altyd perfek is. Kom ons sluit aan by die dissipels en wees vasberade om op die belofte van die Vader te wag: Die werking van die Heilige Gees in ons. As ons glo en nie moed opgee nie, sal ons ’n oes sien.
Om oor te dink vandag:
As ek mooi kyk na my verlede, sien ek die menige gevalle van God se getrouheid aan my of aan ander raak? Besef ek dat die vrede waarna ek dalk soek, waarvoor ek wag, net by Jesus gevind kan word? Maak ek genoeg tyd om in God se teenwoordigheid te wag?
Gebed:
Here Jesus, vandag kom vra ek al weer vir geduld... Ja, Here, dit is hoe ongeduldig ek is. Gee my asseblief die geloof wat nodig is om te wag op U. Om te aanvaar dat U wel ook in my huidige omstandighede is en dat U in beheer is. Gee asseblief dat ek my tyd beter sal beplan om meer in U vrede te rus. Help my om in U teenwoordigheid te wag en bemagtig my deur U Heilige Gees. Help my om te sien hoe U my my omstandighede, en my verhaal kan gebruik om U Naam groot te maak. Amen
2021-05-15 – Wag so bietjie... (Kliek hier vir die klankgreep)
“1Die eerste berig, Teofilus, het ek geskryf oor alles wat Jesus begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het, 2tot die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy deur die Heilige Gees opdragte gegee het aan die •apostels wat Hy uitgekies het. 3Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor 'n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die •koninkryk van God gepraat het. 4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het.” – Handelinge 1:1-4 AFR20
Om te wag is nie maklik nie. Ons is nou maar eenmaal ongeduldige mense. ’n Groot deel van Jesus se lewe, moes Hy wag. Hy het 30 jaar gewag om Sy bediening te begin. En toe dit begin, begin dit met 40 dae se vas in die woestyn en versoeking van die duiwel self. Daarna het Hy begin om die Koninkryk van God en verlossing van die mensdom te verkondig. Van die lewe se beste seëninge kom dikwels vanuit die mees uitdagende take.
Om te wag is nie passief nie. Om te wag vereis dat ons onsself strategies plaas in ’n posisie om wysheid, leiding en bemagtiging van God te ontvang. Voordat Jesus opgevaar het hemel toe, sê Hy dat Sy volgelinge moet wag vir die geskenk wat God belowe het. Terwyl hulle in die bovertrek gewag het, het hulle gebid. Hierdie aksie het hulle geestelik geposisioneer om die gawe van die Heilige Gees te ontvang. Wag is nie ledigheid nie; dis ’n passievolle strewe na God.
Om te wag het ’n doel. Jy is nou presies waar God jou wil hê. Jy voel dalk onvervuld, tastend, soekend, selfs doelloos. Selfs vrees kan jou begin beetpak en jou hoop begin wegvreet. Besef dat God besig is om jou voor te berei – met waarmee jy besig is en wat jy doen – vir wat kom. Wat dit is weet ons dikwels nie, maar Hy weet en Hy wil dat jy wees wie jy moet wees wanneer jy reg is om te dien.
Ons is baie kere nie gereed vir God se volgende tree op ons reis nie. Tog het elke deel van God se plan ’n spesifieke doel, selfs die tyd om te wag. Wanneer jy wag, onthou dat God se tydsberekening perfek is. So, wag so bietjie... Wag op God en kry jouself gereed vir wat kom!
Om te doen vandag (of binnekort of wanneer nodig):
Praat met ’n geestelike mentor of predikant oor jou frustrasie met wag. Laat God toe om jou te wys, dalk deur gesprek met ’n ander persoon, om die prentjie duideliker te maak.
Gebed:
Here, ons is so ongeduldig partykeer. Soms het ons ook nie genoeg dringendheid nie. Ek dink ons moet eerder ongeduldig wees, omdat ons moet besef hoeveel werk daar nog is om te doen vir U. Help my om wel geduldig te wag. Om te wag terwyl U my voorberei en toerus met U Gees vir die spesifieke doel waarvoor U my gekies het. Laat ek my wagtyd soekend, saam met U spandeer. Amen
2021-05-14 – Groter liefde as dit... (Kliek hier vir die klankgreep)
Om die dood in die oë te staar is sleg. Jesus het gebid vir Sy dissipels (ons ingesluit) dat ons in die wêreld moet bly (Johannes 17). Paulus sê ook dat hy veel eerder by Christus wil wees, maar ter wille van die verkondiging van die evangelie, bly hy en doen wat hy moet (Filippense 1, kyk ook gerus 2 Korintiërs 5). Ons wil graag eerder by Jesus wees vir alle ewigheid, maar ons wil ook graag nog hier lewe – dis immers ’n gawe van God. Dis ’n moeilike tweestryd hierdie.
Selfs Jesus het geworstel daarmee as ons kyk na Sy gebed in die tuin van Getsémané (Matteus 26). Tog aanvaar Jesus die Vader se plan vir ons verlossing en is Hy gehoorsaam. As volgers van Jesus, word ons geroep om dieselfde te doen. Wanneer Jesus ook die die dissipels leer, sê Hy vir hulle: “13Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.” (Johannes 15:13 AFR20) Daardie gesprek begin en eindig Jesus met “Julle moet mekaar liefhê.” En verduidelik Hy vêrder: “...soos ek julle lief het.” (Johannes 15:9-17)
Nou, ons het nou al bepaal dat hierdie neerlê van jou lewe nie altyd so letterlik verstaan moet word nie. Ons weet ons moet ons lewe elke dag neerlê, sterf aan ons ou sondige natuur, ons kruise opneem en Jesus volg. As ons weer na Petrus se voorbeeld kyk (Johannes 21), is dit bemoedigend om te sien dat Petrus – wetend dat dit ’n pynlike dood op die ou end gaan beteken – nogsteeds kies om vir Jesus te volg. Ons weet Petrus was iemand wat gereeld gehuiwer het. Tog gaan hy.
As Jesus se missionale werktuie in die wêreld, gaan vertel ons nie vir mense van Hom omdat ons wíl ly, opoffer en selfs sterf nie. Ons gaan om ons toewyding aan ons beste Vriend te eer. Ons lê ook ons lewens neer vir Hom. Ons gaan voort, maak nie saak wat dit kos nie.
Om oor te dink vandag:
Is ek regtig bereid om Jesus oral te volg selfs al beteken dit fisiese lyding en selfs dood? Indien nie, waaraan hou ek nogsteeds vas wat ek eintlik maar kan laat gaan? Is Jesus my beste vriend? Maak ek Johannes 15:13 waar in my lewe?
Gebed:
Dank Jesus vir bereidwilligheid in jou lewe. As daar nog goedjies is wat haakplekke veroorsaak, vra Hom om jou te help om jou los te maak daarvan.
Mag jy die genade en vrede van God die Vader en ons Here Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees in jou lewe ervaar.
2021-05-13 – Fokus! (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag is Hemelvaart. Jesus het opgevaar hemel toe en Hy het belowe dat Hy terugkom. As gestuurdes, sou ons soos verdwaalde skape gewees het as dit nie was vir daardie belofte nie. Ons hou aan om Sy verteenwoordigers te wees, juis omdat ons die dringendheid van Matteus 24:14 in ons binneste aanvoel: “14Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.”
Nie een van ons weet wanneer daardie dag gaan wees nie. Tog weet ons ons moet gereed wees. Ons kan nie nog tyd mors om onder mekaar te stry oor wie die belangrikste is of wie wat moet doen nie (soos Petrus in gister se dagstukkie). Ons moet eenvoudig net doen wat gedoen moet word. Ons moet getuig. Ons moet aansluit by die werk van die Heilige Gees. Ons het een fokus: Jesus. Ons moet ons eie lewens neerlê, ons kruise opneem en Hom volg. Ons moet sorg dat hierdie evangelie van die Koninkryk oraloor verkondig word. Ons moet gaan. Dringend.
Ons kan nie nog tyd mors om onsself met ander te vergelyk en ons fokus op ons opdrag belemmer nie. Ons vra mos maklik die vrae: “Hoekom moet ander beter daaraan toe wees? Hoekom seën God hulle op só manier? Hoekom nie ek nie? Hoekom moet ek ’n duurder prys betaal?”... Jesus se antwoord is in elk geval nogsteeds dieselfde vandag: “...wat het dit met jou te doen? Volg jy my!” (Johannes 21:22) Ons aandag moenie wees op ander nie, maar net op Jesus, Sy sending en ons spesifieke opdrag.
Hoe wonderlik gaan daardie dag darem wees! Daardie dag wanneer Hy weer terugkom. Is ek gereed?
Om oor te dink vandag:
Sukkel ek dalk met gevoelens van onregverdigheid, nie genoeg erkenning nie, of dalk frustrasie? Skryf dit neer of noem dit sommer hardop... Verbeel dan Jesus se antwoord... “...wat het dit met jou te doen? Volg jy my!”
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U opgevaar het hemel toe om vir ons plek gereed te maak. Dankie dat U ons nie alleen gelaat het nie. Dankie dat U Heilige Gees ons lei in hierdie belangrike opdrag. Here, jammer dat ons so gou fokus verloor, so gou jaloers raak op ander of so maklik net op ons eie gevoelens fokus. Vernuwe asseblief ons fokus. Mag dit net op U gerig wees en op wat waarlik belangrik is. Tot U eer. Amen
2021-05-12 – "Wat van hulle?" (Kliek hier vir die klankgreep)
Nou goed. Teen die tyd weet ons nou al dat ons geroep is. Ons weet ons moet “gaan.” Maar, nie almal van ons kan fisies gaan nie. Sommige van ons word oud. Sommige van ons sukkel met gesondheid. Soms kan ons regtig nie gaan nie. Die lewe boul ons soms uit en dan weet ons nie watter kant toe nie. Veral deesdae, met ’n pandemie wat al langer as ’n jaar woed. Ons het dalk ’n behoefte om meer te doen vir God, maar hoe? Daar is mos ander Christene ook waarmee dit beter gaan. Wat van hulle?
As die harde en uitdagende realiteite van die lewe skielik ons geromantiseerde drome van missionaliteit verpletter, wat vereis die Here dan nog van ons? ’n Missionêre lewe is ’n balans tussen die nastreef van God se roeping en om vas te hou aan hoop terwyl ons die bose beveg. Daar is soveel mense wat deur valse leringe , skewe waardes en die satan self verlore gaan. Hulle gaan nie bevry word, sonder ’n geveg nie.
Om vir Jesus ja te sê, vereis dat ons onsself verloën, ons kruis opneem en hom volg (Matteus 16:24). Ons toewyding aan Christus sluit die dood in. Voordat jy op die slagveld aankom, dink jy dat net seëninge wag. Dan kom lyding. Jy bid desperaat oor jou misleide kind of is geskok oor jou lewensmaat se kankerdiagnose. Die gewig van “Hoekom?” word skielik swaarder as “Gaan!” Miskien moes jy nie so gou “ja” gesê het vir Jesus nie. Die vyand fluister in jou oor: “Jy het darem probeer. Niemand sal jou kwalik neem dat jy eerder net by die huis sit nie.”
Nadat Jesus aan Petrus verduidelik het wat dit gaan kos – sy lewe uiteindelik – om Hom te volg, kyk Petrus na Johannes en vra Hom: “Here, maar wat van hom?” (Johannes 21:21 AFR20)
Hoeveel keer vra ons nie ook die vraag nie? “Wat van hulle, Here? Kan hulle nie eerder gaan nie? Hoekom is my lot moeiliker as hulle s’n? Hoekom moet ek gaan as dit dan so moeilik is?” Petrus kry homself so bietjie jammer en dan antwoord Jesus Hom ferm, tog liefdevol: “...wat het dit met jou te doen? Volg jy my!”
Dis nie altyd maklik nie. Inteendeel, Jesus het gesê dit sal moeilik wees en die wêreld sal ons haat, “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.” – Hebreërs 10:39 AFR83
Om oor te dink vandag:
Wat vra Jesus moet ek neerlê sodat ander vryheid kan vind? Wanneer die nasies uitroep na verlossing, stuur Jesus arbeiders. Hy stuur die gewilliges. Daar is ’n prys om die verlorenes met die Vader te versoen. Het ek al gekies daarvoor? Wanneer gaan ek? Waar gaan ek?
Gebed:
Dink vandag ernstig na oor hierdie vrae. Onthou dat God jou ook stuur daar waar jy reeds is. Spandeer tyd in stilgebed oor jou roeping.
Vrede vir jou!
2021-05-11 – “Ek wil nie hier wees nie.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Om jou kruis te dra, is nie maklik nie. Selfs Jesus het met die fisiese dra van Sy kruis gesukkel. Met die simboliese kruis, het Hy ook gesukkel. As mens was dit moeilik. As God, het Hy geweet dat die Vader dit so wil. Dat die mensdom redding en verlossing daardeur kan kry. Hy wou nie. Maar Hy het. Sy liefde vir ons was groter as Sy menslike self-bewaring instink.
Ook Dawid het baie psalms geskryf oor hoe moeilik dit is om sterk te staan in swaar tye. Tye waar hy ook fisies gedreig was met die dood. In Psalm 56:2-3 (AFR20) sê hy: “2Wees my genadig, o God, want mense treiter my; die hele dag teister veglustige mense my. 3My teenstanders treiter my die hele dag, ja, baie veg teen my uit die hoogte.”
Dit is vir seker nie maklik om daardie opofferings te maak nie. Om in alle omstandighede God se verteenwoordiger te wees. Om vir Hom te “gaan” en te wees waar Hy jou wil hê. Ons het baie teenstanders. Mense hou nie van Christene nie. “Ek hou nie van Christene nie. Hulle is dan so skynheilig... Hulle is net soos ek...”
Vandag se wêreld is baie anders. Dis vinnig. Dis onpersoonlik. Ons ken nie eers ons bure nie. Ons weet van hulle. Ons weet miskien wat hulle name is. Maar ons ken hulle nie. Glo hulle? Ken hulle vir Jesus? “Nee. Ek hou nie van hulle nie. Ek wil nie hier wees nie.”
Handelinge 17:26-27 (AFR20) sê: “26Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, 27sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie.”
Jy is waar jy hoort – vir nou. Dit is dalk nie waar jy wou wees nie. Maar God het dit so bepaal dat jy daar is. Dit is waar jy nou moet “gaan.” Waar jy vir mense moet vertel en moet wys wie Jesus is. Waar mense Hom sal soek en Hom sal vind.
Om oor te dink vandag:
Is my liefde vir my mede-mens groter as my menslike self-bewaring instink? Is ek bereid om vêr uit my gemaksone te tree? Om te “gaan” daar waar is? Dalk na my bure? My kollegas? Die boelie by die skool of werk?
Gebed:
Here Jesus, U het ons gewys hoe groot U liefde vir ons almal is. Dit moes, as mens, vir U baie moeilik gewees het. Dankie dat U God is en dat U aan ons gedink het toe U daardie kruis moes dra. Help my om al die geraas van voorveronderstellings en wêreldse waardes in- en om my stil te maak. Help my om te gaan of te bly en te werk daar waar ek nie wil wees nie. Laat U genade en U vrede my metgesel wees. Amen
2021-05-10 – Hoeveel kos ’n kruis? (Kliek hier vir die klankgreep)
Kan jy jouself indink om in Jesus se tyd saam met Hom te gelewe het. Jy volg Hom. Leer by Hom. Doen alles wat Hy sê. En dan... net nadat Hy gekruisig word, word jy vertel dat jy ook gekruisig gaan word. Dit is tog die letterlike betekenis van wat Jesus gesê het in Markus 8:34 (AFR20):
“34Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” – Markus 8:34 AFR20
Gelukkig weet ons dat Jesus nie alles wat Hy gesê het letterlik bedoel het nie. Om jou kruis op te neem, omvat jou hele wese – alles wat ons is, wat ons weet en wat vir ons kosbaar is. Party sal uiteindelik die uiterste opoffering maak. Die koste van ons opoffering is soms baie meer as eenvoudige materiële goedjies wat ons huise vol maak of selfs betekenisvolle verhoudings.
Dikwels is dit juis hierdie verhoudings wat ons so kosbaar beskou wat ons verhinder om Jesus heelhartig te volg. Dit maak dat ons nie wil gaan nie. Ons wil mos nou nie familie en vriende se gevoelens seermaak nie. Maar, uiteindelik weet ons tog dat ons verhouding met Jesus die belangrikste is. Ons wil Hom mos nie teleurstel nie. Daarom móét ons gaan en Hom vertrou om ook die hele gewig van ons besluit vir ons te dra.
Selfs toe Jesus self in die tuin van Getsémané nie wou gaan nie en gevra het dat die Vader daardie lydensbeker van Hom sou wegneem, het Hy die Vader se wil geken. Die vereiste opoffering het onwilligheid meegebring. Jesus het gepleit, 42“Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.” (Lukas 22:42 AFR20)
Die verlossing van die mensdom het Jesus se dood vereis. Hy het geweet watter pynlike marteling hy sou verduur, maar tog het Hy steeds na die kruis gegaan. Mag of kan ons minder gewillig wees?
Onwilligheid is in orde so lank as wat ons in elk geval gaan. Dit beteken dat ons die koste bereken het. Ons menslike harte sê vir ons om nie te gaan nie. Maar as gevolg van wat God gedoen het, móét ons in elk geval maar gaan.
Om oor te dink vandag:
Weet ek wat dit my kos om te gaan vir God? Om Sy gestuurde te wees? Het ek al die koste van my kruis bereken? Besef ek dat die opoffering ’n eer is?
Gebed:
Here Jesus, ek weet al te goed wat die koste van U kruis was. Dit het U lewe gekos. Maar U het dit gedoen vir my. Help my om aan U gehoorsaam te wees en my kruis op te neem elke dag, en U te volg. Help my besef dat, al dink ek die opoffering is ’n duur prys om te betaal en die kruis dalk te swaar om te dra, U by my is en dat my verhouding met U en my gehoorsaamheid aan U die belangrikste moet wees. Laat U wil geskied. Amen
2021-05-08 – Moenie wag nie... Daar’s nog meer... (Kliek hier vir die klankgreep)
Paulus sê in Filippense 3:12 AFR83:
“12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.”
Op die pad na Emmaus (Lukas 24) ontmoet Jesus twee dissipels wat so te sê moed opgegee het en eintlik in die verkeerde rigting op pad is. Die vroue se vertelling van die leë graf het vir hulle soos onsin geklink. Hulle was ontmoedig en teleurgestel, hulle was op pad in die verkeerde rigting. Omdat Jesus wou hê dat hulle vêrder met Hom sal gaan, verskyn Hy aan hulle. Soos daardie TV-winkel advertensies wat sê: “But wait... There’s more...”, kom Jesus egter en sê vir hulle: “Moenie wag nie... Daar’s nog meer...”
Ons het mos so paar dae terug ook met hierdie vertelling gewerk en gesien nadat Jesus alles aan hulle verduidelik het vanaf Moses en die profete, gaan die dissipels se oë oop en begin hulle harte opnuut brand vir die evangelie. Al was hulle op pad in die verkeerde rigting, het iets binne hulle verander. Wanneer ons ook verder gaan saam met Jesus, verander iets in ons. Maak nie saak hoe goed ons dink on Hom ken of ervaar het nie, daar is altyd meer. Gaan vêrder saam met Jesus.
Onthou Jesus het hulle verhoed om Hom te herken in die begin. Miskien wou Hy eers hulle harte toets. Miskien wou Hy eers weer in hulle daardie verlange na Sy teenwoordigheid aanvuur. Toe hulle besef dat hulle nog heeltyd in Sy teenwoordigheid is, wou hulle nie dat dit weer verander nie en wou hulle dat Hy by hulle bly.
Hoe dikwels is ons ook deurmekaar en wonder ons hoekom God nie dinge laat uitwerk het soos ons gedink het dit sal nie? En hoeveel keer het Jesus dan ons gevra: “Sal jy saam met My vêrder gaan, selfs al verstaan jy nie?” Jesus roep ons vandag nog met dieselfde passie en dieselfde sterk stem van liefde wat ons gehoor het die eerste keer toe ons Hom begin volg het. “Moenie nou ophou nie. Moenie wag nie... Daar wag nog baie meer vir jou. Gaan vêrder.”
Dietrich Bonhoeffer het gesê: “Alhoewel dit goed is dat ons die Heilige Een wil ken, is dit waarskynlik nie so goed om aan te neem dat ons ooit die taak sal voltooi nie.”
Om oor te dink vandag:
Waarheen is ek op pad? Het ek dalk moedeloos langs die pad gaan bly sit? Is ek dalk ontmoedig en weer op pad in die verkeerde rigting? Besef ek dat Jesus al die pad saam met my is op enige pad?
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U wil hê dat ek U beter leer ken. Ek besef dat ek U nooit ten volle sal ken nie, want U is soveel meer as wat ek kan dink. Wys my asseblief op watter pad ek nou is. Laat my hart weer brand om vêrder saam met U te gaan. Amen
2021-05-07 – Gaan vêrder. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dinge in ons lewens gaan nie altyd soos ons beplan nie. Mense stel ons teleur, ons verloor geliefdes, ons ervaar mislukkings en terugslae. In moeilike tye is dit baie moeilik om God se liefde vir ons raak te sien. Ons het gereeld nodig dat iemand ons daaraan herinner of ons opnuut weer daarvan vertel.
Wanneer ons plat teen die grond is en wanneer ons dink daar is geen manier om op te staan nie, is dit goed as iemand ons daaraan kan herinner dat Jesus vir elkeen van ons gesterf het. Hy het reeds al die straf vir ons oortredings gedra en Hy belowe dat ons saam met Hom vir ewig sal wees – daar waar daar nie meer enige trane, hartseer, pyn of worsteling sal wees nie. Ons kan dit amper nie glo nie. “Hoekom sou Christus vir my sterf? Ek het dan al so baie aangejaag in my lewe.”
En dit is presies hoekom ons Hom nodig het in ons lewens. Dit is hoekom ons Hom al beter moet leer ken. Om vêrder in die wêreld te gaan vir Christus, moet ons eers leer om in Hom vêrder te gaan – om ons identiteit in Hom te besef, te omhels en dit uit te leef. Vir onsself en vir ander. Eers moet ons Hom waarlik leer ken as ons Verlosser en Saligmaker. Die Een wat ons vergewe, al sukkel ons om onsself te vergewe. Dit is hoe groot Sy liefde vir ons is!
Daar is nie vandag baie mense wat Jesus openlik – sommer op straat en in die alledaagse lewe – verkondig nie. Dis dalk kras, maar dis omdat ons nogsteeds onsself en ander dinge voor Hom stel. Hy is nie ons eerste liefde nie. Ons kan nie vêrder gaan, as ons nie in onsself en in Christus vêrder kan gaan nie.
Die Hebreër skrywer moedig ook sy lesers aan om verder te gaan in Hebreërs 6:1-3 (AFR20):
“1Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande •Christus, en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van die bekering van dooie werke, van geloof in God, 2van onderrig oor reinigingsrituele, oplegging van hande, opstanding uit die dood, en van ewige oordeel. 3En juis dit sal ons doen, as God dit toelaat.”
Gaan vêrder. Vergewe jouself. Vergewe ander. Wees wie jy moet wees. In Christus.
Om oor te dink vandag:
Is daar iemand wat nodig het dat ek hulle ondersteun of daardie “hupstootjie” van geloof gee, sodat hulle vêrder kan gaan? Het ek dit dalk nodig? Wie kan ek mee praat daaroor?
Gebed:
Here, so baie van ons sukkel soms om onsself te vergewe of net aan te beweeg van sekere dinge af. Dit verhinder ons om ten volle toegewyd te wees aan U en om U te verkondig in die wêreld. Help my om te besef wie ek is in U. Help my om ander ook te help om hul identiteit in U te besef en te aanvaar. Help my om vêrder te gaan. Amen
2021-05-06 – Die kerk "klub". (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons weet ons moet aanhou. Ons weet ons kan. Maar dit is dikwels moeilik as ons nog nie ons rol in God se Groot Opdrag verstaan nie. As ons nog nie self “gaan” nie of nie ander help om te gaan nie. Deur nie betrokke te wees in een of ander vorm van sending nie, is ons net in die kerk “besigheid”. Dan is ons nie meer besig met God se redding nie. Dan is ons besigheid en God se besigheid, twee verskillende besighede. Dan is ons kerkgebou, ’n opgehemelde klubhuis. Dis bloot ’n groep mense met dieselfde idees en belangstellings. Dis nie meer ’n huis van aanbidding, waar almal welkom is en waaruit mense gestuur word nie.
In God se kerk, werk dinge anders. Ons gee nie onsself, ons tyd of ons geld om iets terug te verwag nie. Nee, ons gee, sodat die kerk – ons ingesluit – kan gaan. Ons sorg vir Jesus se sake... en Hy sorg vir ons. Dis eintlik eenvoudig.
Elke gelowige moet iewers tot die besef kom dat om aan die kerk te behoort – en spesifiek aan ’n gemeente te behoort, is iets besonders. Saam met hierdie besef, kom die besluit om verder te gaan. Ons kan nie net in ons “klubhuis” bly en dit probeer oppas en beskerm nie. Johannes 3:16 sê: “God het die wêreld so liefgehad.” Jesus beveel ons in Handelinge 1:8 om te gaan “tot in die uithoeke van die wêreld.” Ons verteenwoordig die lewende Here. Die wêreld is ons teiken.
Gaan kyk gerus hoeveel missionale organisasies is daar wat uitmuntende werk doen vir die Here. Gaan lees gerus hoe elkeen van hulle ontstaan het. Deur mense wat besef het, hulle moet gaan. Hulle moet God se besigheid hulle eie maak. Gaan kyk ook hoe God altyd wonderbaarlik vir hulle sorg. Elke wonder van voorsiening, is duidelik in reaksie op mense se gehoorsaamheid aan God se opdrag om die hele wêreld in te gaan.
Ons vier volgende week Hemelvaart en kort daarna is dit Pinksterfees en dan vier on die gawe van God se Heilige Gees. Jesus self het gesê:
“... julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” – Handelinge 1:8 AFR20
Om oor te dink vandag:
Is my gemeente ’n klubhuis? Is ons in die “kerk besigheid” of is ons besig met God se werk van redding vir die wêreld? Besef ons dat ons moet gaan of dat ons verder kan gaan?
Gebed:
Here Jesus, soos die Vader U gestuur het, het U ons ook gestuur. Jammer, dat ons so dikwels dink U kerk is ’n klub. Dankie, dat U U Heilige Gees vir ons gegee het om in ons te woon en deur ons te werk tot U eer. Dat mense gered kan word en dat ons instrumente in U hande kan wees. Ons bid vir wonderwerke, tekens en wonders in die wêreld wat mense sal rig na ’n almagtige God wat oneindig lief is vir hulle. Gebruik ons, U kerk. Amen
2021-05-05 – “Ek weet jy kan!” (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons wil so dikwels opgee en die handdoek ingooi. Ons is moeg gesukkel, moeg probeer, maar God kom en sê vir ons gedurig: “Ek weet jy kan. Hou aan. Jy kan dit doen. Jy kan aangaan.” Dis soos ’n sport afrigter wat altyd nog so paar repetisies uit die atlete kan kry, selfs al dink hulle hulle is klaar. As Comrades atleet weet ek, jy dink jy amper elkeen van daardie 90 kilometers jy’s klaar, maar jy hou maar aan om nog een voet voor die ander te sit.
Vandag se teksgedeelte is bietjie lank, so gaan lees dit gerus self in jou Bybel. Dit is Lukas 24:13-35. Dit gaan oor hoe Jesus op die pad na Emmaus by twee van Sy dissipels aangesluit het, hoe hulle Hom eers nie herken het nie. Hulle was half verlore. Jesus was dood en hulle het nie geweet wat om te maak van die vroue se verslag dat Jesus opgestaan het nie. Die dissipels was moeg, verslae, nie meer lus vir enigiets nie. Jesus sê dan eintlik vir hulle: “Ek weet julle kan. Hou aan.”
Een moderne Engelse vertaling van Jesus se woorde aan hulle is eintlik so akkuraat. Hy sê vir hulle (vrylik vertaal): “Hoekom is julle só hardkoppig? Hoekom is dit só moeilik vir julle om elke woord te glo wat die profete gespreek het?” (Lukas 24:25) Maar Jesus gaan dan vêrder: “Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.” (Lukas 24:27 AFR20)
By hul bestemming is die manne moeg en wil hulle ingaan om oor te bly en Jesus maak of Hy vêrder wil gaan. Die manne dring aan dat Hy oorbly en toe hulle eet, gaan hulle oë oop (Lukas 24:29-31). Skielik is hierdie manne nie meer moeg nie. Sommer daardie selfde uur, haas hulle na Jerusalem om die ander te gaan vertel – Jesus lewe! In slegs ’n kort tydjie wat hulle saam was, het Jesus hulle harte weer warm laat klop vir die evangelie.
Ons fokus so dikwels op ons bestemming. “As ek tog net daar kan uitkom, dan kan God my gebruik.” Maar God wil jou gebruik daar waar jy nou is, nou. Hy roep jou om nou al vêrder te gaan, om jou verhouding met Hom te verdiep. Om toe te laat dat Hy vir jou ook verduidelik hoekom Hy vir jou gekom het. Soos met die Comrades marathon, kom mens dikwels agter dat die eindbestemming baie goed is om by uit te kom, maar hoe jy daar kom, is wat dit waarlik die Comrades maak.
Om oor te dink vandag:
Waar het ek dalk in my lewe maar geskik vir net genoeg? Waar was ek tevrede om net genoeg van myself te gee, terwyl my hart meer wou gee?
Wanneer jy moeg, mismoedig, ontmoedig of doelloos voel, hou aan. Wanneer jy nie verstaan hoekom dinge juis só uitgedraai het nie en jy kan nie die pad vorentoe sien nie, moenie opgee nie. Volhard! Gee vir God nog. Hy weet jy kan en jy weet dit ook eintlik. Wie weet? Deur aan te hou, is jou oë dalk op die drumpel om ook geopen te word... Hou aan! Ek weet jy kan!
Vrede vir jou!
2021-05-04 – Geloofshelde. Reuse. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die Here roep elkeen van ons om ’n spesifieke rol te vervul is Sy Koninkryk. In vandag se wêreld vereis mense die egtheid, die outentisiteit van die roeping. “As God my geroep het, wil ek weet dat dit Hy is wat my roep.” Die wonderlike nuus is, ons kan ons eie unieke roepings uitleef in ’n egte gemeenskap, as ons dit intensioneel doen. Die gemeenskap, as dit eg is, bevestig die egtheid daarvan.
Gemeenskap was nog altyd belangrik vir die mens. Dit is hoe God ons geskape het. Selfs met Adam al, het Hy gesê “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n helper maak, as sy gelyke.” (Genesis 2:18 AFR20). Diep binne ons, het ons die behoefte om te behoort en saam te woon en doen. Sodra ons begin fokus op ons eie welvaart en beroemdheid, tree ons uit buite God se ontwerp. Maar ons kan dit oorkom, deur bewus te wees van ander om ons en deur ons voorgangers, ons geloofshelde te eer. Hebreërs 12:1 (AFR20) sê:
“1Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,”
Hebreërs 11 en 12 skets vir ons ’n duidelike prentjie van Ou-Testamentiese geloofshelde. Mense waarvoor ons moet dankbaar wees wat reeds harde werk gedoen het, nog voor ons begin het. En natuurlik is daar nog vele ander in die laaste 2000 jaar gewees. Ons staan op die skouers van reuse.
Net so belangrik is die mense wat saam met ons werk vandag. Ons moet in liefde en deernis met en saam met mekaar werk. Mense in ons lewens is die belangrikste en tog ook die moeilikste deel van ons lewens. Persoonlikhede bots en ons sukkel maar partykeer met mekaar. Maar om saam te dien, is ’n noodsaaklike deel van ons geloof. Jesus het gesê: “35Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” – Johannes 13:35 AFR20
Die belangrikste deel van ons roeping, is ons vennootskap met die Heilige Gees. Ons verklaar so dikwels dat ons vir God werk... so asof God nie betrokke is nie. Dit werk nie so nie! God is nie afwesig nie. Hy doen die werk deur ons en saam met ons. Selfs Moses het God gesmeek: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie.” – Eksodus 33:15 AFR20.
Ons gaan, saam met God.
Om oor te dink vandag:
Op watter “reuse” se skouers staan ek? As hul nog leef, het ek al vir hulle dankie gesê? Kan ek hulle vertel hoe hulle my roeping en bediening beïnvloed het? Dalk is dit net die bemoediging wat hulle vandag nodig het.
Gebed:
Baie dankie liewe Heer dat daar soveel ander is voor my wat ook die wedloop met ywer aanpak. Dat daar ’n hele geloof-skare is wat my aanmoedig. Help my om met my mede-gelowiges te werk. Help my dat hulle ook met my kan werk, sodat ons saam kan werk. Dankie dat U oral met ons saamgaan en dat ons bruikbaar mag wees in U Koninkryk. Amen
2021-05-03 – Gaan. Saam. (Kliek hier vir die klankgreep)
Iemand het eendag ’n studie gedoen oor die woord “gaan” en na ’n intense ondersoek, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die woord “gaan” beteken om te gaan!
Om te gaan, beteken dat daar ’n keuse betrokke is. “Gaan” kan beteken om oor die pad te gaan of oorsee te gaan. Die keuse word nie verhinder deur ekonomiese toestand, intelligensie, ras, geslag of enigiets anders nie. Daar is wel ’n keuse of jy alleen gaan of saam met ander gaan.
By die graf was dit die twee Maria’s wat hul gehaas het om die dissipels te gaan vertel. Alhoewel Jesus as ’n krimineel gebrandmerk was, was hulle steeds getrou. Die getrouheid van vroue, hulle vermoë om vertroue, geloof en betroubaarheid te demonstreer, word regdeur die evangelies uitgelig.
Regdeur die geskiedenis van die kerk, vind ons die wonderlike bydraes van vroue, waar hulle kerke plant, mense leer, vertalings doen, mense verpleeg, kos gee, sorg, bystand bied – in alles is hulle besig om te evangeliseer. Vandag nog sien ons hoe vroue veral, gewoonlik in spanne, merkwaardige werk verrig in God se Koninkryk. Prediker 4:9-12 (AFR83) sê:
“ 9Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. 10As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. 11As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? 12Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
Die belangrikheid van saam “gaan” kan en moet nie onderskat word nie. In Handelinge 2:17-21 (AFR20) kom die woorde van Joël 2:28-32 weer voor om dit ook weer vir ons te beklemtoon:
“ 17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom. 18Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rookwolke. 20Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 21Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, verlos word.’ ”
Om oor te dink vandag:
Hoe kan ek met ander (mans en vroue) of hulpbronne tot my beskikking inskakel wat my in staat sal stel om my volle potensiaal vir God te bereik en deure oop te maak vir betrokkenheid by God se sending? Op watter maniere kan ek my bediening uitbrei deur beide vroue en mans ten volle te betrek?
Gebed:
Almagtige God en Vader, ek is U dienaar. Dankie dat ek nie alleen hoef te gaan nie. Dankie dat U U gawes so vrylik skenk aan al U kinders. U het vir elkeen van ons U Gees gee, sodat ons met die gawes waarmee U ons toerus en op ons eie unieke, God-geskape manier, U goeie nuus aan almal kan bring. Mag mense na U toe kom en mag ons saam aan U alleen die lof en die eer bring. Amen
2021-05-01 – Die “vis en chips” span. (Kliek hier vir die klankgreep)
Sport spelers poog oor die algemeen om beter te word, sodat hulle vir die eerste span kan speel. Dis mos die “verteenwoordigende” span. Die top span. Die belangrike mense... Maar dikwels moet ons maar tevrede wees met tweede, derde of selfs laer spanne... die spanne wat ons geken het as die “vis en chips” spanne.
“ 4As daar nie osse is nie, is die voerkrip leeg; met net een goeie os bring jy 'n groot oes in.” – Spreuke 14:4 AFR83
Wanneer ons Christene is, is ons ’n span wat saam “gaan”. Tog is ons alleen. Soms voeg die Here mense by tot ons span en instrumente in Sy plan, wat ons glad nie verwag nie. Ons word dikwels so maklik deur voorveronderstellings en ingeprente waardes gekondisioneer, dat ons dink Christene moet ’n sekere manier lyk, ’n sekere manier praat en sekere kwalifikasies of kwaliteite hê. God gee gereeld die regte mens vir die regte plek of situasie. Ons moet net leer om te luister en op te let.
Ons verwag dat die oes groot is, maar ons sien die goeie osse wat God ons gee dikwels nie raak nie. Dit is die mense wat weet hoe dinge daar werk en hoe om situasies reg te hanteer.
So was dit nog altyd. By die graf, was een van die eerste vroue daar Maria Magdalena wat voorheen sewe demone in haar gehad het. So het ook Johanna, die vrou van een van Herodes se bestuurders, vir Jesus gevolg. Hierdie vroue was integraal in die verkondiging van die evangelie en ook in die bediening in God se Koninkryk. Hulle was goeie “osse” gewees, wat veroorsaak het dat ’n groot oes inkom.
Soos ons uitgaan in die wêreld om God se verteenwoordigers te wees, moet ons God vertrou om ’n span saam te stel wat Hy kies. Ons kan maar net aansluit daarby en geseën word deur die werk wat Sy Gees daardeur doen. Dis nie altyd die eerste span nie. Dis soos die “vis en chips” span wat baie mense nie veel van verwag nie, maar wat uiteindelik met vreugde baie kan vermag.
Om oor te dink vandag:
Amper elke menslike fout of swakheid, is die teenoorgestelde kant van ’n sterkpunt of gawe. Soms irriteer of frustreer ander mense my, maar dalk is daardie eienskap die dekmantel oor ’n moontlike sterk punt of gawe. Kan ek dalk meer geduld hê met mense om te sien wat God in hulle sien?
Gebed:
Here, jammer dat ek soms my eie idees het van hoe U kerk moet lyk en werk. Dankie dat U self die span kies waarvan ek moet deel wees, want as ek moet kies, werk dit té veel kere nie uit nie. Help my om nederig te wees, te leer van ander mense en om saam te werk, sodat ons vir U die oes sal inbring. Amen
2021-04-30 – Ek gaan visvang. (Kliek hier vir die klankgreep)
3Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” En hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het uitgegaan en in die boot geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. – Johannes 21:3 AFR20
Die dissipels se emosies moes seker op ’n mallemeule gewees het. Op Palm Sondag was hulle heel bo. Met die kruising die Vrydag het hulle met snel spoed afgeval aarde toe – deurmekaar, vol twyfel, hopeloos, amper wanhopig... Dan kom die opstanding Sondag wat hul wanhoop weer in vreugde omskep.
Dan is daar baie leë kolle in die verhaal. Agt dae gaan verby tussen Jesus se eerste verskyning aan hulle tot die tweede keer. Nog dae gaan verby. Arme Petrus begin aan emosionele sweepslag ly en besluit maar om eerder weer terug te gaan na wat hy ken.
Hoe dikwels ervaar ons nie ook sulke dae nie? Daardie dae wanneer dit voel of God afwesig is in ons lewens. Daardie dae wanneer ons mekaar soveel meer nodig het as ander.
“Ek gaan visvang”, het Petrus gesê. Daarmee gooi hy eintlik die handdoek in en sê dat hy eerder weer die familiebesigheid wil opneem. Inplaas daarvan dat die ander dissipels hom kritiseer en oordeel, is hulle antwoord ’n Christelike antwoord van omgee en ondersteuning: “Ons gaan ook saam met jou.”
Op daardie dag het hulle niks gevang nie, maar hulle was by mekaar gewees en het mekaar ondersteun. Dit is wat God se kinders doen. Niemand van ons kan alleen Christus se opdrag vervul nie, maar saam kan ons die lot van mekaar en van nasies verander.
Om oor te dink vandag:
Watter van my vriende het nodig dat ek net “daar” is vir hulle? Het ek dit dalk nodig? Is ek bereid om dit vir mense te sê?
Gebed:
Here, soms wil ek net alleen wees. Ek wil U weer soek. Ek wil U doel vir my lewe weer soek. Maar dit is nie altyd lekker om alleen te wees nie. Dis nie lekker om te wonder of U daar is nie. Dankie dat U soveel wonderlike mense in my lewe vir my gegee het om U liefde en teenwoordigheid weer vir my sigbaar te maak. Help my om ook só “daar” te wees vir ander. Amen
2021-04-29 – Immanuel. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Christenskap werk solo pogings baie min. Die vroue het saam na die graf gegaan. Die dissipels was saam uitgestuur. Die dissipels het Jesus saam ontmoet en saam sy opdrag gehoor. Die kerk het saam gewag vir die Heilige Gees en die krag en gawes ontvang om te gaan. Van die begin van die kerk, is eenheid en spanwerk ’n integrale deel van hoe ons werk. Ons gemeenskaplike doel om te gaan vertel, is ’n uitvloeisel en uitbouing van die Nuwe Testament. Paulus het met spanne gewerk. Die kerk het gesamentlik hul opdrag gekry en dit gemeenskaplik en saam uitgevoer.
Alhoewel spanwerk ideaal is, is realiteit nie altyd heeltemal dáár nie. Persoonlikhede bots en spanne werk nie altyd lekker saam nie. Selfs Paulus en Barnabas het ophou saamwerk ná hul meningsverskil oor Johannes Markus (Handelinge 15:36-41). Partykeer los gehoorsaamheid ons op ons eie. Paulus was alleen in Atene gewees en moes homself alleen in die hof verdedig (2 Timoteus 4:16). Tog was Paulus nie alleen nie. In slegs die volgende vers skryf hy:
“ 17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee...” – 2 Timoteus 4:17a AFR83
Selfs al is ons alleen, is ons nie op ons eie nie. Onthou wat Christus self vir ons gesê het in Matteus 28:20b (AFR20): “...En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” Dit vat ons terug na die begin van Matteus (1:23 AFR20) wat sê: 23“Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ ” En selfs in die middel van Matteus (18:20) weerspieël Jesus se profetiese woorde oor die kerk dit toe Hy sê: “Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde.”
Al Jesaja se profesieë oor Immanuel – God met ons – is vervul. Dit is ’n duidelike stelling wat God kom maak ek het: “Ek is met julle!” Hierdie is nie ’n solo taak nie, maar een vir die hele geloofsgemeenskap. Daarom sê Jesus, “...Ek is met JULLE...” Hy is met almal wat reageer op Sy opdrag.
Om oor te dink vandag:
Gaan kyk bietjie mooi in die Evangelies hoe Jesus saam met Sy volgelinge gaan. Kyk bietjie na jou eie lewe. Sien jy hoe God se teenwoordigheid daarin bevestig is?
Gebed:
Dankie Here dat ek nie alleen is nie. Immanuel. God is met my en God is met Sy kerk. Help my om my deel van U kerk te wees tot U eer alleen. Amen
2021-04-28 – Die Vader wys die pad. (Kliek hier vir die klankgreep)
Toe Josua agterkom dat hy skielik moet begin lei, was hy bietjie onseker oor die pad. Hy was gewoond om vir Moses te volg... en dan verseker Moses hom in Deuteronomium 31:8 (AFR20):
“ 8Die Here is die Een wat voor jou uitgaan; Hy is by jou, Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie.”
As ons klein is en bevoorreg genoeg is om ’n pa te hê, dan volg ons hom – veral op onbekende plekke. Ons fokus is net op hom gerig en ons vertrou dat hy die pad ken. Ons klou aan sy hand vas en weet hy sal nie ons hand los nie.
Wanneer ons lees van Jesus se bediening, sien ons dat Hy altyd ten minste twee treë voor Sy volgelinge was. Dit het tot gevolg gehad dat die dissipels Sy leierskap kon vertrou, hulle geloof het ontwikkel in iets wat vrees in hulle verwyder het. En omdat Hy vêr genoeg vooruit was, kon die dissipels ook hul eie pad dophou, terwyl hulle vir Jesus volg.
Soms dwaal ons so klein bietjie van God se bedoelde roete van ons lewensreis af, so asof ons vir Hom wil sê: “Dis OK, ek sal dit van hier verder vat...”
Ons kan die versekering en vrede hê om te weet dat God ons nie gevra het om êrens heen te gaan waar Hy self nie eerste was nie. Jy is nie verlore sonder ’n hand om vas te hou nie. God is in beheer, Hy gaan voor jou uit. Hou Sy beloftes styf vas en volg eenvoudig die Vader.
Om oor te dink vandag:
Kyk terug na jou lewe en die bediening wat God aan jou toevertrou het. Dalk is dit om ’n ouer te wees, ’n versorger, ’n broer, ’n suster, wat ook al Hy aan jou toevertrou het. Sien jy hoe God jou gelei het, die weg voor jou voorberei het en jou voorberei het? Met hierdie duideliker prentjie in gedagte, waar kan die trajek van God se leiding jou volgende neem? Is jy gereed om ja te sê en in geloof uit te tree?
Gebed:
Hemelse Vader, U het self ook U Seun gelei om vir ons te lei. U Gees gaan ons nogsteeds oral vooruit en U was nog altyd daar. Dankie, dat ons op U kan vertrou. Dankie, dat U ons nooit in die steek laat nie en nooit verlaat nie. Ons hoef nie bang te wees nie en niks hoef ons af te skrik nie. U is in beheer en ons glo en vertrou op U beloftes. Amen
2021-04-27 – Ja! Soos Petrus! (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons wil graag soos Jesus wees, maar baie keer is ons soos Petrus. Maar tog, nie almal is Petrus nie. Ons weet mos: Petrus is die rots. Die rots waarop die kerk gebou is. Ons wil graag almal ’n rots wees. Maar soms is ons soos die ander kant van Petrus...
Sterk, standvastige, passievolle, spontane Petrus, klim uit die boot uit saam met Jesus op die water... en dan sink Petrus. Hy kap die oor van ’n soldaat af om Jesus te verdedig, dan verloën hy Hom. Petrus het drooggemaak... baie kere. Hy het groot gebare gemaak, dapper geloofstreë gegee, groot woorde gepraat, maar hy het verstik in sy woorde, hy het gesink, hy het misluk. Toe dinge om hom bietjie warm word, verraai sy tong sy hart. Toe hy onder druk is, toe hardloop hy.
Maar hoor die stukkie detail wat Markus in die evangelie plaas daar by die graf (wat beide Matteus en Lukas uitgelaat het):
“ 6Maar hy sê vir hulle: “Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en vir •Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ ” – Markus 16:6-7 AFR20
Hoekom noem die engel vir Petrus afsonderlik? Op die oomblik van waarheid, het Petrus Jesus verloën. Daarom stuur Jesus vir hom ’n spesifieke boodskap. Dit is net soos Jesus is. Hy stel Petrus gerus met die boodskap: “Ek wil jou deel hiervan maak. Ek gaan vooruit. Ek wag daar vir jou.”
Almal van ons maak foute. Ons almal maak droog. Dan begin ons onsself afvra: “Is ek genoeg? Gaan ek nie weer droogmaak nie? Ek ken myself. Ek weet wat my tekortkominge en swakhede is. Is ek reg? Is ek die regte persoon hiervoor? Sal ek dit hierdeur maak?”
Jesus ken ook al hierdie dinge van ons. Soos met Petrus, laat Hy ons Hom nogsteeds volg en by Hom leer om die die wêreld te leer van Sy liefde en genade. Dieselfde impulsiewe, spontane, passievolle, oorreagerende, verloënende Petrus, het ’n sterk leier en rots geword vir die kerk. Ons is dus in goeie geselskap. Jesus ken ons, heeltemal. En tog het Hy ons geroep. Hoekom? Want ons is ook struikelblokke met potensiaal. Ons dink dikwels ons dra vir Jesus saam met ons, maar onthou Hy is reeds daar.
Om oor te dink vandag – nee... om te doen vandag:
Los jou mislukkings in die verlede – die gemiste geleenthede, tye wat jy “nee” gesê het, halfhartige pogings en volstrekte rebellie – en slaan ag op Jesus se uitnodiging om Hom weer te ontmoet. Vra Hom om jou te vergewe, jou te verander en selfs jou mislukkings tot Sy eer te gebruik. Vertrou dan dat Hy voor jou uitgaan in watter avontuur Hy jou ook al roep.
Gebed:
Praat self met Jesus oor bogenoemde dinge. Baie seën en vrede vir jou!
2021-04-26 – Reeds daar. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soos ons in die vorige dagstukkie gelees (of gehoor het), gaan Jesus ons vooruit. Oral waar ons gaan, is Hy reeds daar. Of dit nou hier op aarde is of by ons ewige woonplek in die hemel. Hy gaan vooruit. Dit is iets wat God nog altyd gedoen het vir Sy mense.
Terwyl ons hier op aarde in God se diens is, is daar twee dinge waarvan ons seker kan wees. Eerstens, moet ons weet dat God ons nooit iewers- of na iemand stuur, waar Hy nie vooruitgegaan het nie. Die Heilige Gees het reeds die werk begin.
Gaan dinge onseker wees daar? Natuurlik. Gaan alles reeds in plek wees? Verseker nie altyd nie. Gaan ons Jesus sien waar Hy ons vooruitgaan? Nie altyd nie. Ons moet eers uit ons gemaksone uittree, en dan sal ons Hom daar kry. Soos die engel ook vir die vroue by die graf gesê het: “Daar sal julle hom sien, soos Hy vir julle gesê het.” (Markus 16:7 AFR20)
Nie alles gaan dadelik in plek val nie, maar kyk mooi. Jesus is reeds daar. God sal op Sy manier en op Sy tyd alles in plek laat val, want Hy is reeds daar. Rowan Williams het gesê: “Sending, is om uit te vind waar die Heilige Gees reeds besig is om te werk, en daarby aan te sluit.”
Die tweede ding waaroor ons seker kan wees, is dat ons in gebed aansluit by Jesus. Hoor wat sê die engel Gabriël vir Daniël in Daniël 9:23a (AFR20):
“ Aan die begin van jou smeekgebed het daar 'n woord uitgegaan...”
Die oomblik wanneer ons begin bid oor ’n saak, is God reeds besig om daaraan aandag te gee. Die antwoord en die uitkoms, is dalk nie altyd wat ons verwag nie, maar ons weet dat God alles altyd in plek laat val in ooreenstemming met Sy groot plan. Waar ons ook al gaan, daar is God reeds en is Hy besig om vir ons alles voor te berei – selfs op die vreemdste plekke en tye. Selfs in ons grootste struwelinge, hartseer of stresvolle situasies.
Om oor te dink vandag:
Is ek oplettend genoeg om te besef waar die Heilige Gees reeds besig is? Bid ek darem vir die mense wat nog van God moet hoor? Sal ek hulle gaan vertel?
Gebed:
Hemelse God en Vader, gee aan my ’n behoefte om deur U Heilige Gees ’n hart te hê vir die mense wat U nog moet leer ken. Help my om my gebede te rig op U wil en U eer. U is reeds daar. Dankie, dat ek U daar kan ontmoet en kan getuie wees oor hoe wonderlik U liefde en genade vir ons almal werk. Amen
2021-04-24 – Jesus gaan vooruit. (Kliek hier vir die klankgreep)
Nadat Jesus die Nagmaal met Sy dissipels gevier het, het Hy Sy dood aangekondig – seker voorspel as ons so ’n woordkeuse wil gebruik. Dan sê Hy vir hulle:
“ 32“Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” ” – Matteus 26:32; Markus 14:28 AFR20
Met hierdie woorde, berei Jesus die dissipels voor vir Sy dood en beloof aan hulle ’n toekoms. Ná Sy opstanding, gee Hy dan ook aan die vroue by die graf instruksie om die dissipels daaraan te herinner. Dit gee aan hulle hoop. Jesus gaan vooruit, Hy ontmoet hulle daar.
Die dissipels was vir drie jaar lank elke dag aan Jesus se sy. Die kruisiging was vir hulle baie traumaties. Hulle kon nie behoorlik verstaan toe Hy Sy dood en opstanding aankondig nie. Dalk was hulle té vol vertroue. Dit gepaard met hulle wegvlug van die wagte, Petrus se verloëning en Christus se kruisiging, het hulle verpletter.
Toe hulle Jesus in Galilea ontmoet, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel of eerder gehuiwer. Tog is aanbidding en twyfel eintlik onversoenbaar. Die dissipels het nie getwyfel of gehuiwer om te glo dat Jesus opgestaan het nie, maar eerder getwyfel oor hul verhouding met Hom. Hulle het Hom dan verlaat!
Dis die wonder van Jesus! Hy gaan voor ons uit in alle gebeure en omstandighede. Hy is God. Hy is reeds daar in die toekoms en in alle situasies. Hy lei ons, wys ons die rigting aan, gee ons krag, troos en sorg. Net voor die kruisiging, het Sy dissipels Hom in die steek gelaat en Hom verlaat. Maar Jesus gaan voor hulle uit, bring hulle weer bymekaar, vergewe hulle, genees hulle gemoed en emosies en maak hulle Sy verteenwoordigers op aarde.
Dit gaan ons verstande te bowe, maar Jesus is tevrede om mense soos ek en jy te gebruik om Sy werk voort te sit. Mislukkings, verwardheid en selfs geestelike blindheid diskwalifiseer ons nie van die diens waartoe Jesus ons geroep het nie... Nie as ons Jesus toelaat om ons vooruit te gaan, ons te vergewe, ons in ere te herstel en ons van voor af in besit te neem nie. Niks waardeur jy gaan is te klein of te groot vir Jesus nie. Hy is reeds daar en Hy is reg om jou reg te kry om selfs in moeilike tye en plekke vir Hom te getuig.
Om oor te dink vandag:
Verstaan ek regtig dat Jesus my in alles vooruitgaan? Besef ek dat ek nêrens alleen is nie en dat Hy my in alles sal bystaan?
Gebed:
Here Jesus, my hart is dikwels vol twyfel en verwardheid. Ek weet wel dat dit gewoonlik ook in my opkom, net voor U, opgestane Here, Uself weer openbaar. Ek verstaan nie altyd nie en het soms moeilike vrae. Ek weet ek het swakhede en mislukkings in my dissipelskap en in my volgelingskap. Help my om meer op U te vertrou en dankie, my God, dat U my vooruitgaan, selfs in die tye wanneer ek dink of voel U is nie naby my nie. Ek loof U en prys U vir U oneindige liefde en genade. Amen
2021-04-23 – Slegs ’n oomblik. (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe was dit die dag toe jy begin glo het? Wat was dit wat jou laat “ja” sê het vir Christus? Johannes het by die graf ingeloop, gesien dit is leeg en die kopdoek mooi opgevou. Johannes het geglo.
Ons is nogsteeds by die graf op daardie wonderlike oggend. Ek gaan nie vandag weer die gedeelte plaas of lees nie, want ek dink ons ken dit goed teen hierdie tyd. (as jy egter nou eers by ons aansluit, lees gerus Johannes 20:1-10)
Ons weet Johannes het vinniger as Petrus gehardloop. Hy was eerste by die graf, maar hy het gehuiwer. Miskien was hy bang om onrein verklaar te word. Dalk was hy bygelowig. Maar, toe Petrus sommer net instorm, toe volg Johannes. Wanneer dit by geloof kom, kan een persoon se moed iemand anders inspireer om te volg.
Wie ken jy wat dalk op die rantjie staan om alles oor te gee in geloof? Wat verhoed hulle en hou hulle nog “buite?” Dalk ’n waardestelsel? Norme? Vrees? Of wag hulle dalk vir iemand om hulle te lei? Moet jy dalk lei, of is jy dalk daardie persoon wat wag?
Mense is net soos Petrus en Johannes: nuuskierig, soekend, huiwerend – hierdie mense is ons bure, kollegas, skoolmaats, familie, vriende. Hulle wag ook vir iemand om hulle daardie hupstootjie te gee – om die opgestane Here te ontmoet. Vir Johannes het dit in ’n oomblik gebeur. Toe hy ingaan, het Hy geglo dat Jesus Christus God is en Hy het die dood vir altyd oorwin. Dit vat slegs ’n oomblik. Wat is nodig vir daardie oomblik? Eerstens moet ons besef dat nie almal op dieselfde manier of spoed ingaan nie.
Ons kan nie ongeduldig of kwaad raak vir mense soos Johannes nie. Ons kan nie mense verander nie, maar God kan. Ons kan nie ’n ontmoeting met Jesus afdwing of haas nie. Die Heilige Gees werk op Sy eie manier met elke mens. Nie almal is Petrus’e nie. Nie almal is Johannes’e nie. Petrus het op een manier ingegaan en Johannes op ’n ander manier – tog het albei geglo. Baie staan by die ingang om nog net te loer. Wys hulle dat hulle maar mag inkom.
Om oor te dink vandag:
Hoe kan my moed iemand anders inspireer om te glo? Besef ek dat mense wat ek teëkom elke dag miskien my getuienis moet hoor?
Gebed:
Here Jesus, ek besef dat nie almal van ons dieselfde is nie. Lei my asseblief na mense wat nodig het om aangemoedig te word. Help my om moed te hê en te wys, sodat ek met alles kan ingaan en vir ander ook kan aanmoedig om daardie geloofsprong te neem. Amen
2021-04-22 – Is Jesus wie Hy sê Hy is? (Kliek hier vir die klankgreep)
Jesus se dissipels het nie mooi alles verstaan wat Jesus hulle geleer het nie. Hulle het nogsteeds ’n koninkryk verwag waar Jesus regeer. Toe stort alles in duie. Jesus was gekruisig en saam met Hom is die dissipels se hoop begrawe. Ek dink hulle was baie bang, hartseer en deurmekaar. Jesus het hulle dan so baie belowe. Was dit alles ’n leuen? Dit moes nie so geëindig het nie. Was Jesus wie Hy gesê het Hy is?
Maar dan gebeur die onmoontlike. Jesus staan op uit die dood. Kan dit waar wees? Kan Johannes Hom weer vertrou? Ja, ons haak nogsteeds so bietjie vas by die graf vandag. Johannes het vinniger as Petrus gehardloop en kom eerste by die graf aan, maar hy huiwer. Onthou jy Johannes 20:5 (AFR20)? “Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie.”
Hoekom het Johannes gehuiwer? Was hy dalk bang om teleurgestel te word? Wat as Jesus nog in die graf lê? Dan is Hy mos nie wie Hy gesê het Hy is nie?
So dikwels in ons lewens gebeur dinge wat ons nie verstaan nie. Dinge wat ons soms sprakeloos los. God verhoor ons gebede. Ons bid vir ’n wonderwerk. En God gee dit! Ons is dankbaar. In die wolke. En dan skielik, gebeur iets anders en die wonderwerk is weg. God neem terug wat Hy gegee het. Dit los ons teleurgestel, kwaad, hartseer, bang, deurmekaar. Kan ons Hom weer vertrou? Is Hy wie Hy gesê het Hy is?...
Nes Johannes, haak ons dikwels vas daar by die ingang van die graf. Ons ervaar God se wonderwerk en seëninge in ons lewens, maar besef nie dat alles in elk geval aan God behoort nie. Wanneer ons iets verloor of dinge nie vir ons uitwerk nie, dan dink ons ook: “Dit moes nie so geëindig het nie.” Ons blameer God vir mislukkings en teëspoed. Ons bly by die ingang van die graf staan. Ons wil nie ingaan nie, want wat as Jesus nie is wie Hy gesê het Hy is nie... Ons vertrou nie. Ons glo nie.
Gaan maar in. Glo my Jesus is wie Hy sê Hy is en nog soveel meer.
Om oor te dink vandag:
Watter vrae het ek wat ek vir God wil vra? Vrae oor teleurstellings, seer, twyfel? Is ek eerlik met myself en met Hom daaroor?
Gebed:
Almagtige God, ek is ’n swak en twyfelagtige mens. Ek erken dit dalk nie altyd nie, maar ek huiwer ook soos Johannes. Ek glo ook nie altyd dat U is wie U sê U is nie, Here Jesus. Skenk aan my die moed om gedurig in U teenwoordigheid te wil bly, sodat U aan my U wil sal openbaar en ek kan gaan waar U my wil hê. Amen
2021-04-21 – “Wie sal Ek stuur?” (Kliek hier vir die klankgreep)
Gister het ons gehoor van Johannes wat vinniger as Petrus gehardloop het, maar eers gehuiwer het om by die graf in te gaan. Met Petrus se voorbeeld en aansporing, het Johannes ingegaan.
Wanneer dit kom by ons gestuurdheid in God se Koninkryk, gaan elkeen van ons op ’n ander manier. Sommige van ons, soos Johannes, hang buite rond. Onseker van wat op ons wag aan die ander kant van gehoorsaamheid. Ons sukkel om onsself oor te haal om hierdie plek van dood te betree – dood van ons “eie-ek”, ons gemak en veiligheid.
Niks word uiteindelik bereik as ons net voor die graf staan nie. Huiwering is verstaanbaar, maar moenie dat dit jou verlam nie. Johannes het gehuiwer, maar het uiteindelik ingegaan, geglo en gehoorsaam. Maar selfs Petrus het ook nog nie heeltemal besef wat wag nie. Sy huiwering kom eers later na vore, in Johannes 21:15-17 (AFR20):
“ 15Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon •Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” 16Hy vra hom weer 'n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” 17Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei .”
Sommige van ons spring sommer net in, sonder dat ons die water getoets het, net om agter te kom dat ons gestuurdheid dikwels meer van ons vra as wat ons gedink het. Toe Jesus vir Petrus 3 keer vra of hy Hom waarlik lief het (agape of onvoorwaardelike liefde), het Petrus elke keer geantwoord met die Griekse phile-o liefde, wat meer broederlik of vriendskap beteken.
Wanneer ons God se stem hoor, soos in Jesaja 6:8 (AFR20) wat vra: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?”, gaan ons antwoord: “Hier is ek, stuur my!”... of is Jesus net ons “vriend”? Jy is die antwoord op sekere mense se gebede. Moenie huiwer nie. Gaan!
Om oor te dink vandag:
Stel ’n balansstaat op. Aan die een kant: Watter swakhede, verpligtinge, vrese, gemak, mense of dinge moet ek dalk prysgee? Aan die ander kant: Watter wonderlike seëninge van gehoorsaamheid het God my geskenk? Besef ek dat Sy teenwoordigheid, sorg en ewige heerlikheid deel is daarvan? Watter kant van die balansstaat is groter?
Gebed:
Hier is ek, Here, stuur my! Amen
2021-04-20 – Binne die graf. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag is ons weer vir ’n oomblik by die graf op daardie wonderlike opstanding Sondag. Hoekom? Want dit is die beste nuus ooit! Maar ons staan nie net buite nie, ons gaan in...
“ 5Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. 6Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, 7en die doek wat oor sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant, afsonderlik opgerol. 8Toe het ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, binnegegaan, en hy het gesien en geglo. 9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. 10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. ” – Johannes 20:5-10 AFR20
Vir hierdie twee dissipels was die in- en uitgaan van die graf, ’n lewensveranderende ervaring. Dit was ’n geloofsprong. Eerstens, het die Joodse wette dit verbied om in ’n graf in te gaan of selfs daaraan te raak – dit was onrein. Tweedens, was daar ’n Romeinse seël op die graf, hulle kon gearresteer word en gemartel word.
Tog gaan hierdie twee dissipels, op die woord van Maria Magdalena, in geloof (en seker ook nuuskierigheid), om die onbekende te betree.
As gevolg van hierdie vrou se getuienis, oorkom Petrus en Johannes hulle vrese en vooroordele. Hulle gaan in en word getuies. Ons weet Petrus was impulsief en vol geloof, maar wat van Johannes? Hoekom het hy eers gehuiwer? Miskien het hy nie verstaan nie? Dalk het hy nog nie geglo nie? Miskien het Petrus se optrede vir Johannes aangespoor?
Almal van ons het geloof as gawe ontvang. Soos met spiere, moet dit geoefen word om sterker te word. Om te groei. Ons verstaan nie altyd nie, maar ons geloof is nie in verstaan nie. Ons geloof is in Jesus Christus. Ons kan met vertroue die onbekende betree en doen wat God van ons vra, selfs al verstaan ons nie. Deur die onbekende te betree – soos Petrus en Johannes – word ons getuies.
Wanneer ons ook eers in die graf ingaan, besef en glo dat dit leeg is, en weer uitgaan, word ons getuienis ’n kragtige getuienis. As ons net inloer, kan ons ’n opinie hê. Maar, as ons ingaan, het ons ’n getuienis. Gaan in, kyk self, wees deel daarvan, glo, en God sal Sy opstandingskrag in jou lewe ook werklik maak.
Vrede en seën vir jou!
2021-04-19 – Gaan huis toe. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Lukas 8 word vertel van hoe Jesus ’n man wat van demone besete was verlos het deur die demone in ’n trop varke in te stuur. Die varke het oor die krans gehardloop en in die see verdrink. Toe gebeur die volgende:
“ 38Die man uit wie die demone uitgegaan het, het Jesus gesmeek om by Hom te kon bly. Maar Hy het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis en vertel daar wat God alles vir jou gedoen het.” Hy het toe weggegaan en dwarsdeur die dorp bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. ” – Lukas 8:38-39 AFR20
God werk in en deur ons om die evangelie oral te kry – naby of vêr. Dikwels hoor ons van ’n wonderwerk wat gebeur het. Ons uitgebreide kennis en ervaring skep egter deesdae amper dadelik ’n toestand van ongeloof. “Daar moet seker ’n mediese of tegnologiese rede wees...” Vir die persoon waarmee die wonderwerk gebeur en die mense wat dit waarneem, is dit egter anders. Dis waar. Dis eg. Hulle glo.
Soms is dit al wat nodig is. Daardie een persoon word ’n evangelis, want hy/sy vertel van die wonderwerk. Nie almal glo hulle nie, maar daar is wel mense wat deur hulle getuienis bemoedig word en wat tot geloof kom. Die verhaal van God se grootheid word vertel daar waar hulle is.
Jesus het die dissipels gestuur na alle nasies, maar die eintlike punt is: almal wat nodig het, moet dit hoor. Daarom stuur Jesus ook nie hierdie man om na Sjina of een of ander vêrafgeleë eiland te gaan nie. Hy moet huis toe gaan. Na sy eie dorp en sy eie mense. Daar moet hy vertel.
Ons hoef nie altyd vêr te gaan om te vertel nie. Dit begin tuis. Soms is dit net ’n verhaal van God se goedheid en grootheid – nog nie die hele evangelie nie.
Om oor te dink vandag:
Weet my huis hoe groot God is? Waar kan ek in my alledaagse lewe meer pertinent God se liefde en genade wys?
Gebed:
Liewe Heer, mag ons, U kerk, opgerig word om ’n sterk groep mense te wees. Skenk aan ons wat nodig is om ’n kerk te wees vir ons eie mense en vir ander. Mag ons dwarsdeur die dorp ook bekend maak wat U vir ons gedoen het. Amen
2021-04-17 – Vrees vir die onbekende. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons het almal daardie stem in ons binneste wat sê: “Sal jy gaan? Sal jy hulle gaan vertel van My?” Ons weet dat ons eintlik gemaak is daarvoor. Ons weet dat dit die rede is hoekom ons bestaan. Hoekom Jesus gekom het. Dat almal kan weet van Sy liefde en genade. Ons moet gaan... maar waarheen? Wat as God wil hê ons moet gaan waar ons nie gemaklik is nie?
Dan begin ons gewoonlik vir God ons planne vertel. Hoe ons sal gaan waar die mense ons ken. Waar ons die taal praat. Waar die mense maklik is. Waar dit veilig is. Bekend. Gemaklik.
Maar God verwag dikwels dat ons gaan waar dit nie maklik is nie. Dalk na ’n verre land waar Christene vervolg word. Dalk na die arm woonbuurt, waar drank en dwelms seëvier. Dalk na jou bure. Dalk na daardie familielid waarmee jy nie meer praat nie. Dan tree vrees weer in...
Toe die Here beplan het om Israel weer op te rig, het die mense ook gevrees en die Here herinner hulle:
“ 1“Maar nou,” so sê die Here,
jou Skepper, Jakob,
die Een wat jou gevorm het, Israel,
“moenie bang wees nie,
want Ek het jou losgekoop,
Ek het jou op jou naam geroep –
aan My behoort jy.
2As jy deur water moet gaan –
Ek is by jou,
of deur riviere –
hulle sal jou nie oorspoel nie.
As jy deur vuur moet gaan –
jy sal nie geskroei word nie,
en die vlam sal jou nie brand nie. ” – Jesaja 43:1-2 AFR20
Moenie dat vrees vir die onbekende jou weerhou om God se opdragte uit te voer nie. Moenie dat dit jou weerhou om te getuig nie. Laat God jou lei op die avontuur en vind vreugde daarin. Moenie bang wees nie. Mense wag om vertel te word. Mense wag om Jesus te ontmoet. Jy behoort aan Hom en Hy is met jou oral waar jy gaan.
Om oor te dink vandag:
Watter plekke of mense vermy ek? Wat weet ek van die mense? Hoe kan ek ’n ander invalshoek gebruik om die deur oop te maak sodat Jesus ook daar geken kan word?
Gebed:
Here, dankie dat U my beskerm en my lei. Ek behoort aan U en ek hoef nie bang te wees nie. Maak U wil aan my bekend en maak my hart gewillig. Die onbekende is ’n avontuur, want U bly in beheer. Help my om dit só te ervaar en met ywer te gaan. Tot eer en verheerliking van U heilige Naam. Amen
2021-04-16 – “Nee wat. Nie ek nie.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Party mense het dit net. Van kleintyd af weet jy sommer, daardie persoon gaan ’n dokter, ingenieur, onderwyser, of selfs predikant word. Maar baie van ons – al is ons dalk al hoeveel jare in ’n beroep – wonder nogsteeds of is dit wat ons moet doen. Ons wonder soms of die Here nie eerder ons wil gebruik om “iets groter” te doen nie.
“ 26Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. 27Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, ” – 1 Korintiërs 1:26-27 AFR20
Ons dink dikwels dat sekere gawes in die bediening belangriker is as ander. Ons dink dat Woord verkondiging (prediking) die enigste manier is om die Evangelie te verkondig. Maar, God soek nie altyd predikers nie. Hy soek jou. Daar waar jy is. Met jou talente en jou vaardighede. Hy soek jou om in wat jy doen – dit waartoe Hy jou nou geroep het – te vertel. Te leef, sodat mense Sy liefde en genade kan sien.
Die mense wat God roep, was nog altyd kenmerkend divers: jongmense soos Jeremia en ou manne soos Abraham, professionele mense, soos Lukas, of ongeleerdes, soos Petrus, skugter mense, soos Timoteus, en moedige vroue, soos Debora, vuriges, soos Johannes die Doper, en hakkelende introverte, soos Moses. En dan is daar ek en jy – die onwaarskynlike kandidate wat God geroep het om te gaan vertel.
Miskien dink jy: “Nee wat. Nie ek nie.” Miskien het jy gevoel dat die Heilige Gees jou roep om te gaan vertel. Miskien voel jy ongeskik daarvoor. Miskien hou ander vol dat jy nie gekwalifiseerd genoeg is nie. Jy kry ongelukkig nie kwytskelding, net omdat dit nie in jou gemaksone is nie. God soek nie talent, charisma of finesse nie. Hy soek harte met oorgawe. Hy weet wie Hy kan gebruik. Jy is perfek geskape soos God dit wou, en jy is bruikbaar en waardevol vir Hom.
Om oor te dink vandag:
Is my hart oorgehaal en oorgegee vir God se opdrag? Moet ek miskien met ’n mede-gelowige hieroor praat om my te help? Aanvaar ek myself soos God my gemaak het?
Gebed:
Liewe Heer, soms onderskat ek die vermoëns wat U reeds in my geskape het. Vergewe my dat ek soms nie in myself sien wat U in my sien nie. Help my om te glo dat ek gemaak is en nog geskaaf kan word in presies wat U nodig het. Ek hoef nie al die ander gawes te besit nie. Net ’n hart wat aan U gehoorsaam is. Maak asseblief U roeping vir my – waar ek is, of waar ek moet wees – bekend. Amen
2021-04-15 – Die krag van woorde. (Kliek hier vir die klankgreep)
In ons land waar ons 11 amptelike tale het (plus natuurlik nog gebaretaal ook) en nog ander variante van die tale, is dit soms moeilik om mense te verstaan. Dit maak dit vir ons makliker as iemand in ons eie taal met ons kan kommunikeer. Om nie ’n ander taal te verstaan nie, maak dat ons weer die krag van woorde waardeer.
Wanneer ons die evangelie verkondig, is dit nie altyd moontlik om woorde te gebruik nie. Soms moet ons net vriendelik, verdraagsaam en medelydend wees, maar as woorde ons ontbreek, maak dit ons opdrag moeilik. Romeine 10:13-14 (AFR20) sê:
“ 13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” 14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? ”
As ons ons lewens leef tot eer van God, is dit ’n getuienis, maar mense kom tot geloof in Christus as dit aan hulle verduidelik kan word. Hulle moet dit ook hoor. Die verkondiging aan andertaliges is nie aan ons almal toevertrou nie. Tog kan ons met hulle en met ons eie generasie verhale deel.
Jesus se Groot Opdrag word vervul deur die Evangelie te verkondig. Baie mense kan nie glo vandag nie, omdat hulle nog nooit Jesus se Naam gehoor het nie, of omdat hulle dink dis sommer ’n niksseggende kragwoord. Ons is almal verantwoordelik om in ons huidige konteks en omgewing ons generasie te vertel van Jesus. Efesiërs 5:16 (AFR20) sê:
“ 16Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. ”
Die tyd is nou. Ons kan nie meer met ’n mond vol tande sit nie. Jesus vra dat ons Sy verhaal vertel. Sal jy?
Om oor te dink vandag:
Is daar iemand wat ek van weet wat nog nie van Jesus gehoor het nie of dalk nog nie mooi verstaan nie? Wat is die eerste stappe wat ek moet neem om nuwe vriendskappe te bou, myself voor te berei en oor my vrese te kom?
Gebed:
Here Jesus, U het U Gees gegee. Ek is nie alleen nie. Ek hoef nie hierdie opdrag op my eie en in in my eie krag uit te voer nie. Soms is ek nog skaam. Soms sukkel ek met vrees om uit my gemaksone te klim. Ek praat nie altyd goed nie. Tog weet ek, soos U vir Moses en soveel ander al gehelp het, kan U my ook help. Ek wy my toe aan U opdrag. Leer my en lei my, tot U eer. Amen
2021-04-14 – ’n Hart vir Diensgetuienis. (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 18Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” ” - Matteus 28:18-20 AFR20
Ons hoor dikwels van mense wat sê dat hulle ’n hart het vir sending of getuienis. Dat hulle verstaan hoe belangrik dit is. Dat hulle regtig baie dink oor die mense wat sulke belangrike werk moet doen. Hulle bid selfs vir hulle. Regtig? Bid ons daarvoor en daaroor?
Jesus sê in Johannes 14:15 (AFR20) “As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou.” Voor Jesus se hemelvaart het Hy ’n duidelike opdrag gegee. Gaan! Vertel! Verkondig die goeie nuus! Maak dissipels! Dit sluit almal van ons in.
As jy vandag hierdie boodskap lees of hoor, beteken dit heel moontlik dat jy in een of ander mate nog in staat is om die boodskap te verkondig. Dit sluit nie altyd Woord verkondiging in nie. Dit begin soms net met ’n glimlag. Vriendelikheid. Hoflikheid. Verdraagsaamheid. Diensgetuienis.
Dikwels weerhou vrees ons van gehoorsaamheid. Inplaas daarvan om te doen wat Jesus ons beveel het, kla ons eerder oor hoë rekeninge en belasting, ’n korrupte regering, die kerk leiers, ons ouers, en wie weet wat nog. Ons kry maklik verskonings. Verskonings wat ’n vrees kweek (hoe groot of klein ook al) vir hierdie opdrag. Maar, soos Jesus vir die vroue by die graf gesê het: “Moenie langer bang wees nie. Gaan...” (Matteus 28:10 AFR20)
Om oor te dink vandag:
Is daar dalk iemand waarmee ek my passie vir die Groot Opdrag kan deel? Het ek regtig ’n passie daarvoor? Is daar dalk iemand waarmee ek verhale hieroor kan deel? Watter geleenthede is daar in my nabye omgewing?
Gebed:
Here Jesus, ek maak nie altyd erns met hierdie belangrike opdrag nie. Ek bid soms daaroor, maar dink partykeer dat dit eerder vir “ander” mense is. Ek besef dat ek nie langer bang moet wees nie. Ek moet gaan. Wys my hoe en waar. Gee my genade, krag, wysheid, moed en alles wat nodig is, sodat ek U verteenwoordiger kan wees. Amen
2021-04-13 – Vervaldatums. (Kliek hier vir die klankgreep)
“ ...haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood!... ” – Matteus 28:7 AFR20
Ons gaan vir nog ’n dag of twee fokus op hierdie belangrike opdrag. Hoekom? Want dit is baie belangrik. Dit is van kardinale belang. Dit is waarom die kerk bestaan!
Die engel vertel die vroue dat Jesus uit die dood opgestaan het en gee verder vir hulle die instruksie om met dringendheid te gaan en vertel.
Het jy dalk al in die verlede ’n blikkie kos oopgemaak of melk uit die yskas en wanneer jy dit begin uitgooi, vang so onaangename reukie jou? Dan kyk jy skielik na die lettertjies daarop... “Beste voor...” of “Gebruik voor...” Ja, die vervaldatum!
Ons het nêrens op ons ’n datum getatoeëer of gegraveer nie, tog moet almal eenmaal sterf, sê Hebreërs 9:27. Almal van ons het ’n vervaldatum. So ook elke persoon wat jy gaan teëkom in jou lewe. Jy het dalk net daardie oomblik om hul ewigheid te beïnvloed. Een of ander dag, sal die laaste dag wees wat jy sal kry om hulle te vertel oor Jesus – oor die Lewe. Dit geld vir jou bure, vriende, familie en selfs ook die 2 biljoen mense wat nog nie van Hom gehoor het nie. Dit maak ons opdrag om haastig en met dringendheid te gaan, soveel belangriker.
Hierdie opdrag is vir almal wat glo. Die opdrag spreek beide die spoed en prioriteit daarvan aan. Ons kan nie wag tot iemand eers op ’n sterfbed lê nie. Dis gewoonlik mos wat gebeur: die dominee of predikant moet gou by die familielid se sterfbed kom... Nie om te praat oor die gemeente se basaar of nuwe bediening in armsorg nie. Nee, ek moet gaan vertel van die nuwe lewe in ons opgestane Here, Jesus Christus. Die familie verwag dat ek moet haas om dit te doen.
Omtrent 150 000 mense sterf elke dag wêreldwyd. Baie van hulle, sonder Christus in hul lewe. Die oes waaraan ons werk, het ’n vervaldatum. Ons moet gaan vertel. Vandag. Wat van môre? Môre is dalk te laat...
Om oor te dink vandag:
Wat is dringend en wat is belangrik in my lewe? As ek aan die einde van die week ’n verslag aan God moet gee, waarmee sal ek sê was ek besig? Wat sal vir God die belangrikste wees?
Gebed:
Here God, U het dit op my hart gedruk om te gaan. Om te vertel. Dit is nie ’n las nie. Dit is ’n voorreg. Help my bid. Vir myself en vir mense. Help my om te gaan. Help my om te vertel – met woord en met daad. Help my om U te verkondig. Om die wonderlike nuwe lewe wat U so genadiglik skenk te wys. Help my om dit te doen. Vandag nog. Amen
2021-04-12 – Dissipels maak? Ek? (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” – Matteus 28:19-20a AFR20
Hierdie opdrag wat Jesus gegee het, is vandag nogsteeds van toepassing. Dit is nie net vir ’n paar uitgesoekte Christene nie. Dis nie net vir sendelinge, evangeliste en leraars nie. Christus gee opdrag aan ons almal om te gaan en dissipels te maak.
Wanneer ons die opdrag hoor en begin ervaar dat ons moet “gaan”, voel ons nie altyd heeltemal toegerus daarvoor nie. “Ek is mos nie opgelei daarvoor nie. Ek is maar net ’n onderwyser, boer, huisvrou, boekhouer, klerk, ambagsman, skolier, student of wat ook al.”
Ons is bang en ons het onvoldoende opleiding... Goed so! Dan word God verheerlik. In ons swakheid, is Hy sterk en rus Hy ons toe met wat nodig is. Onthou jy die vroue by die graf?
“ 8Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. ” – Matteus 28:8 AFR20
Hierdie vroue het met vrees en blydskap daardie geloofsprong geneem. Hulle het nie heeltemal geweet wat kom nie, maar hulle was gehoorsaam.
Om oor te dink vandag:
Waarheen lei God my vandag? Dalk na ’n vriend of vriendin? ’n Kollega? ’n Klasmaat? Dalk na iemand wat nie soos ek lyk of dink nie? Dalk na ’n onbekende plek of mens?
Gebed:
Here Jesus, U het ons gestuur. Almal van ons. Ek is nie uitgesluit van daardie groot, belangrike opdrag nie. Dankie daarvoor. Dankie dat U Heilige Gees my lei en dat U my toerus en die talente en gawes wat U my gegee het gebruik. Iemand wag om van U te hoor. Wys my waar ek bruikbaar kan wees. Tot U eer. Amen
2021-04-10 – Gaan! Gou! (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, 7en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” 8Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. ” – Matteus 28:6-8 AFR20
Wanneer ons vir Jesus volg, begin ons ook hierdie ommeswaai in emosies wat die vroue beleef het, te ervaar. Die hartseer, pyn, ellende en wroegings van hierdie lewe, kan omskep word in vreugde. Die goeie nuus van Christus se opstanding en wat dit vir ons beteken, maak dat ons iemand daarvan wil vertel – en gou ook!
Terwyl die vroue gehaas het om gehoorsaam te wees aan die engel se opdrag, het hulle Jesus teëgekom. Aanvanklik het hulle hom nie herken nie. Ten spyte van hulle dringendheid het Jesus hulle eers eenkant toe geneem vir tyd saam met Hom. Wanneer passie en dringendheid om te gaan en doen soos Jesus ons beveel het ons harte vul, trek Jesus ons soms eenkant toe om daarop te fokus om eers net te wees wie ons is. Wanneer ons eers tyd saam met Hom spandeer het, is ons getuienis kragtiger en effektiewer
Te veel mense verloor hul passie. As ons die tyd wat God ons roep om saam met Hom te spandeer nalaat, vervaag ons dringendheid om die verlorenes te bereik.
Om oor te dink en oor te bid vandag:
Het ek ’n roeping anders as waar ek vandag is? Vra ek die Heilige Gees om weer en weer die passie en die dringendheid wat Hy in my geplant het, aan te wakker? Die opgestane Verlosser roep – sal jy gaan?
2021-04-09 – Die kloof in tyd. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag begin ons waar ons eintlik al Maandag moes begin. Tog, kan ons die laaste paar se dagstukkies en die volgende paar weke tot en met Pinkster opsom met die teksgedeelte van wat gebeur het verlede Sondag: Opstanding Sondag.
“ 5Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, 7en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” – Matteus 28:5-7 AFR20
Die grootste kloof in tyd, was gesny deur ’n Kruis op Golgota. God self het alles middeldeur gesny. ’n Moeilike era van offers, regverdiging en sukkel, eindig met Jesus se woorde: “Dit is volbring.” En dan begin ’n nuwe era met die woorde van die engel wat sê: “Kom kyk...” en “...haas julle en gaan sê...”
Ons kan duidelik verstaan hoe alles volbring is aan die Kruis. Verlossing volbring. Redding bewerkstellig. Die dood oorwin. So maak God alles reg wat skeefgeloop het. En hoe maak Hy ’n nuwe begin? Die opstanding. Die nuwe verhaal van die mensdom, begin by die leë graf.
Ons opdrag as kerk begin hier. Dit begin met die boodskap: “Hy het opgestaan!” Dit vereis ’n persoonlike ervaring daarvan en dit is gepaard met ’n opdrag om dit met dringendheid te gaan vertel.
Hierdie dringendheid beteken nie haastigheid nie. Dit beteken nie ons moet net so in die verbygaan dit gou-gou doen nie. Nee, dit is die resultaat van jare se volg in Jesus se voetspore en ’n lewe wat elke dag al meer geken word aan gehoorsaamheid. Prioriteite word herrangskik. Sukses, gemak, sekuriteit, eer en aansien... beteken niks. Dit is eienskappe wat aan die vorige era behoort en deur Jesus se woorde “Dit is volbring” ongedaan gemaak is. Ons is nou mense van die nuwe tyd. Ons lewens word nou oorheers deur die waardes van daardie tyd, met die noodsaaklikheid om te gaan en vertel. Ons gaan haastig en met dringendheid, want, vir ons, maak niks anders saak nie.
Om oor te dink en oor te bid vandag:
Hoe kan ek die dringendheid van Christus se opdrag beter weerspieël? Vra ek gereeld die Heilige Gees om my te help om my prioriteite te ontleed soos dit blyk uit my optrede en houdings? Is ek daartoe verbind om die Groot Opdrag met haas en dringendheid te gehoorsaam?