Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Kliek ook gerus op die "Oordenkings" skakel (menu) daarbo 👆🏻 om by die ouer oordenkings uit te kom.
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟑𝟏 – 𝐎𝐩 𝐝𝐢𝐞 𝐫𝐞𝐠𝐭𝐞 𝐭𝐲𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Prediker 3 leer ons dat daar ’n tyd vir alles is in die lewe. Ons leer van ’n tyd om te kom en te tyd om te gaan; ’n tyd om te plant en ’n tyd om te oes; ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede; ’n tyd om te lewe en ’n tyd om te sterf. Ja, ons is tydgebonde en God het aan ons tyd gegee, sodat ons meer orde aan dinge kan koppel. En Prediker 3 leer ons ook dat God aan ons ’n besef gegee het van die ‘onbepaalde tyd’ – die ewigheid.
Maar vandag se lewe is so gejaagd, dat dit partymaal voel of ons net nie tyd het vir enigiets nie. Ons het nie tyd vir genoeg ontspanning nie. Daar is nie tyd vir vakansie nie. Selfs net om gou familie of vriende te bel neem tyd in beslag en ons moet eerder tyd bestee aan produktiwiteit en vooruitgang. Ons tyd is kosbaar en ons moet die meeste daarvan maak – so leer die wêreld ons... Maar hoe maak jy die meeste van jou tyd? Om rykdom en lugkastele te jaag? Of om te fokus op wat met jou gebeur nadat tyd ophou bestaan?
Ons verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur wanneer hulle gebeur nie, maar God – wat verhewe is bo tyd – het alles presies uitgewerk, sodat dit ons sal baat en tot ons voordeel sal werk in ons tydgebonde lewens hier op aarde. Ek weet die konsep is amper onbegryplik en dit stuur ons gedagtes in ’n oneindige kringloop van redenering en verbysterende logika, maar dit is nou maar net so... Glo my maar daaroor.
Want, sien, as ons in beheer was van tyd en as ons ’n beter begrip kon hê oor die ewigheid, sou ons dalk beter kon verstaan of kon bepaal hoe en wanneer ons wat moes doen en hoe ons dit moes doen – selfs hoe en wanneer ons ons lewens vir die Here gee. Maar ons is nie in beheer van tyd nie – ons kan maar slegs die tyd wat ons gegee is, bestuur. En dit is ook maar goed so, want hoor wat skryf Paulus:
“⁴𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑜𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑦𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑏𝑒𝑝𝑎𝑎𝑙 ℎ𝑒𝑡, 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑒𝑘 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑠𝑦 𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟. 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑢𝑖𝑡 '𝑛 𝑣𝑟𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑜𝑟𝑡𝑒 𝑎𝑓 𝑤𝑎𝑠 𝐻𝑦 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑤𝑜𝑟𝑝𝑒 ⁵𝑜𝑚 𝑜𝑛𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑤𝑜𝑟𝑝𝑒 𝑤𝑎𝑠, 𝑙𝑜𝑠 𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑜𝑝 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑎𝑠 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑛𝑒𝑒𝑚 𝑘𝑜𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑.” – Galasiërs 4:4-5 (AFR20)
Toe die tyd presies reg was, het God aan ons die wonderlikste geskenk gegee... hierdie geskenk is Jesus Christus. Paulus was so oorweldig deur hierdie gedagte – die grootheid van alles wat God vir ons in Sy Seun gegee het – dat hy (Paulus), in plaas daarvan om dit alles in woorde te probeer omskryf, uiteindelik tot die gevolgtrekking kom, dat ons maar net kan sê: “Dank God vir Sy Seun – Sy Gawe té wonderlik vir woorde.”
Jesus is God se volmaakte, onbeskryflike geskenk – gegee op presies die regte tyd. Ons leef nou en ons weet dat Jesus gekom het vir ons redding en verlossing. Ons weet ook dat Hy weer sal kom om ons te kom haal. Omdat ons denke beperk word deur tyd, weet ons nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar omdat God in ons die besef gegee het van die lewe in die ‘onbepaalde tyd’ hierna, verstaan ons dat ons die geleentheid om God te dien en gehoorsaam moet aangryp met alles wat ons het.
Op die regte tyd het Jesus, die Verlosser van die wêreld, gekom vir jou en my en vir ons die belofte van onvoorwaardelike liefde, oneindige hoop en ewige lewe gebring – en dít aan elke liewe mens wat in Hom glo. Hoe wonderlik is dit darem dat ons ook só, op die regte tyd – enige tyd – hierdie Here van ons kan deel met almal om ons!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God se tyd is perfek. Nog voordat ek geweet het dat ek Jesus nodig het in my lewe, het Hy gekom om my te oorlaai met liefde en genade.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, dankie dat alles in my lewe op die regte tyd gebeur, omdat U verstaan wat ek nie kan begryp nie. Dankie vir die volmaakte, onbeskryflike geskenk van U Seun Jesus, wat té wonderlik is vir woorde. Dankie vir die geskenk van die ewige lewe, die oneindige hoop wat in Hom gevind word en die onvoorwaardelike liefde wat U my gegee het. Mag ek elke dag hierdie geskenk met ander deel. In Jesus se Naam, Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟗 – 𝐈𝐬 𝐣𝐨𝐮 𝐬𝐨𝐧𝐝𝐞 𝐭𝐞́ 𝐠𝐫𝐨𝐨𝐭 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons voel dikwels dat ons sondes dalk net té veel is. Ons begin soms twyfel in die vergifnis wat ons kan ontvang en die verlossing wat ons gebied word. Wanneer ons partymaal weer in dieselfde strikke trap, begin ons dink dat ons net nie goed genoeg is nie of ons begin twyfel of ons waarlik losgekoop is deur die bloed van Jesus Christus. Ons gewetes kla ons aan. Maar daar is meer in daardie aanklagte as wat ons dink...
In die Openbaring van Johannes, skryf hy oor die groot oorlog wat sal woed tussen die engele en die Satan. Hy skryf hoe die engele die oorwinning sal behaal, maar dan noem hy ook ’n belangrike waarskuwing vir ons:
“¹¹𝐻𝑢́𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑜𝑚 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛, 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐿𝑎𝑚, 𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑡𝑢𝑖𝑒𝑛𝑖𝑠. 𝑆𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑒𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑠 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑔𝑒ℎ𝑎𝑑 𝑛𝑖𝑒. ¹²𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚, 𝑗𝑢𝑖𝑔 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑤𝑜𝑜𝑛! 𝑊𝑒𝑒 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑠𝑒𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐷𝑢𝑖𝑤𝑒𝑙 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑤𝑜𝑒𝑑𝑒 𝑛𝑎 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑒𝑒𝑟𝑔𝑒𝑑𝑎𝑎𝑙, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑚𝑖𝑛 𝑡𝑦𝑑 𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑒𝑡.” – Openbaring 12:11-12 (AFR20)
Sien, ons gewetes kla ons dikwels aan met goeie reg, omdat dit die werk is van die Heilige Gees in ons. Dit is daardie stil, sagte stem wat ons herinner dat vrygekoopte mense nie só moet optree nie en dat daar vir ons vergifnis en redding is wanneer ons berou en bekeer. Maar, omdat die duiwel weet dat ons beperkte tyd op aarde het en dat sy finale ondergang seker is, sal hy aanhou om ons te herinner aan alles wat ons nog ooit verkeerd gedoen het. Hy sal ons laat dink dat ons nie God se liefde en genade werd is nie. Hy lieg!
As jy al ooit gevoel het asof jou foute en mislukkings te groot is om skoongewas te word deur die bloed van die Lam, moenie daardie leuen glo nie! Die bloed van die Lam is die bloed wat die vyand alreeds verslaan het en hom vir ewig sal uitwis. Dit is die bloed van die Lam wat die dood en die hel oorwin het, wat die duiwel en sy trawante laat sidder van angs en vrees, wat die son laat ophou skyn het op daardie oomblik toe die prys vir ons sondes aan ’n houtkruis betaal is. Dit is die bloed van die Lam wat melaatses genees het, blindes laat sien het, verlamdes laat loop het, ’n egbreker in eer herstel het, ’n moordenaar aan die kruis langs Jesus vergifnis gebied het en, ja, selfs die soldate wat Jesus gekruisig het, vergifnis gebied het.
Daar is geen sonde té groot, dat dit nie bedek kan word deur die bloed van die Lam nie. Luister na die stil sagte stem binne jou – nie daardie beledigende, skreeuende stem van die aanklaer nie. Skud daardie skuldgevoelens af en ontvang God se vergifnis en genade. Berou en bekeer. Draai jou rug op die sonde. Draai jou rug op die Satan. Die bloed van die Lam, Jesus Christus, was jou sondes vir ewig skoon.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
As ek dink my sondes kan nie vergewe word nie, of as ek in selfverwyt en selfbeskuldiging vasgevang is, is dit nie die Heilige Gees wat my vermaan nie. Dit is die duiwel wat my wil laat glo dat God se genade vir my nie genoeg is nie. Dit is ’n leuen.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, baie dankie vir die ongelooflike prys wat my Here Jesus Christus betaal het. Dankie, dat sy bloed gevloei het vir my sondes. Jammer, Here Jesus, dat U die prys moes betaal vir my sondes. Vergewe my. Dankie, dat U my in ere herstel het aan die kruis en vir die geleentheid om nou vir U te leef. Herinner my, Heilige Gees, dat my sondes vir ewig vergewe is en dat daar meer as genoeg liefde en genade is by my God en Vader. In Jesus se Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟖 – 𝐍𝐨𝐠 𝐧𝐞𝐭 𝟒𝟎 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Regdeur die Bybel vind ons gedeeltes wat gekoppel is aan spesifieke tye. Een van die nommers wat nogal baie voorkom is die getal 40: Moses was vir 40 dae en nagte op die berg Sinai; Jesaja het vir 40 dae gevas; Esegiël het vir 40 dae op sy sy gelê om Juda se sondes uit te beeld; die groot vloed se reën was 40 dae en nagte; Jesus was vir 40 dae in die woestyn versoek deur die duiwel; Jesus was vir 40 dae nog op aarde na sy opstanding. Amper oral in die Bybel waar ons die getal 40 kry, simboliseer dit ’n tydperk van beproewing en gewoonlik ook oorwinning daarna.
“⁴𝐽𝑜𝑛𝑎 ℎ𝑒𝑡 𝑏𝑒𝑔𝑖𝑛 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑑 𝑏𝑖𝑛𝑛𝑒 𝑡𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛, '𝑛 𝑑𝑎𝑔 𝑠𝑒 𝑙𝑜𝑜𝑝 𝑣𝑒𝑟. 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝: “𝑁𝑜𝑔 𝑛𝑒𝑡 𝑣𝑒𝑒𝑟𝑡𝑖𝑔 𝑑𝑎𝑒, 𝑑𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑁𝑖𝑛𝑒𝑣𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑜𝑒𝑠!”” – Jona 3:4 (AFR20)
Jona waarsku die mense van Nineve dat God hul goddelose stad sal verwoes oor 40 dae. Weereens word daar ’n tydperk van 40 dae op hierdie beproewing geplaas. God sê as’t ware: “Julle het 40 dae om julle lewe in orde te kry – dan is dit die einde vir julle.” 40 dae... Wat sal jy maak as jy weet jy het net 40 dae oor om te lewe?
Sien, God het nie vir Nineve gesê: “Toemaar, die oordeel sal eendag kom en julle kan maar wanneer dit geleë is vir julle, julle lewens regkry” nie. Nee, Jona het – volgens God se instruksie – ’n sperdatum op hul lewens geplaas. Hierdie nuus was só erg, dat die koning dadelik begin rou en ’n vas van bekering aangekondig het. Nineve het nie gewag nie, maar hulle het dadelik ag geslaan op God se opdrag tot bekering en God het uiteindelik die stad gespaar.
As jy nog net 40 dae oor het op aarde, wat sal jy anders doen? Hoe sal jy meer op God en God se wil fokus? Of ons dit wil erken of nie: die lewe hier op aarde het ’n sperdatum. Wanneer dit is, weet niemand van ons nie. Wat ons wel weet, is dat God se genade elke dag vir ons genoeg is en dat dit elke dag nuut is. Elke dag kom die Here en sê vir ons: “Kry jou sake in orde. Maak reg wat jy kan. Leef in my liefde en genade. Aanvaar die redding wat my Seun, Jesus Christus, jou bied.”
God se genade is genoeg en dit is oorvloedig, maar die venstertydperk vir daardie genade gaan nie vir ewig duur nie – jy het net hierdie tyd, hierdie lewe om dit te aanvaar. Moenie jou kans mis nie. Moenie uitstel nie. Wees gehoorsaam en doen dit nou.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat as ek net 40 dae oor het? Wat van 40 ure, 40 minute, 40 sekondes? Ek kan nie bekostig om nie aan God gehoorsaam te wees nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, dankie dat U altyd deur U Gees in my hart praat. Dankie, vir ’n venster van genade wat U my skenk om my hart te verander en in u guns te leef. Maak my sensitief vir u stil en rustige stem. Laat my ag slaan op die waarskuwings, raad en rigting wat U bied. Laat my nie 40 dae, ure, minute of selfs sekondes wag voordat ek gehoorsaam is nie. Tot u eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟕 – 𝐕𝐨𝐫𝐞𝐧𝐭𝐨𝐞 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
As jy ’n Christen is, sal jy een of ander tyd Filippense 3:13 teëkom – dalk nog voordat jy jou hart vir Jesus gee. Paulus skryf dat hy hom losmaak van die dinge wat verby is – die verlede. Maar is dit regtig moontlik? Filippense 3:13 (AFR20) sê:
“¹³𝐵𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠, 𝑒𝑘 𝑟𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑡 𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑚𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑒𝑘: 𝐸𝑘 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑟𝑒𝑘 𝑚𝑦 𝑢𝑖𝑡 𝑛𝑎 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑙𝑒̂.”
Sjoe, dit klink darem so goed. As ons maar net ook alles wat agter ons is, agter ons kon los en eerder fokus op die toekoms. Of as ons selfs die dinge wat vandag gebeur gou kon afskud en net vorentoe kyk. Maar ons weet dat die lewe nie altyd so eenvoudig is nie... Weet jy? Ons maak die lewe moeiliker as wat dit is. Ons maak berge van molshope. Ons fokus op onsself veroorsaak dat die verlede altyd terugkom om by ons te spook en ons geluk van vandag te steel.
Paulus het iets agtergekom in sy lewe. Hy het so klein bietjie van God se genade, liefde en voorsienigheid begin verstaan. Hy het agtergekom dat die verlede die verlede is. Ja, jy gaan jouself nie heeltemal kan losmaak daarvan nie, maar as jy leer uit foute en mislukkings en jy kies om nie meer vêrdere energie daarop te spandeer nie, kan jy fokus en reik na wat voorlê – ewige vrede, seën en heerlikheid by God.
So, groet maar die dinge wat jy nie verstaan het nie, die dinge wat jou omgekrap het waaraan jy so graag wil vashou, die woede en bitterheid wat dalk jou begin opvreet van binne af. Sê totsiens vir daardie selfvoldane gedagte dat jy altyd reg moet wees en dat argumenterende, sarkastiese en kritiese denke en woorde jou moet definieer. Groet nou maar daardie negatiwiteit wat sorg dat jy so dikwels die ergste in mense en dinge moet raaksien. Sê ‘tata’ vir skuldgevoelens en spyt en mislukkings wat reeds verby is. Wys maar vir daardie swak selfbeeld die deur. Jaag minderwaardige denke oor jouself of om te dink jy is nie goed genoeg nie sommer weg. Groet maar daardie verhoudings wat jy weet verkeerd is en ook daardie wat veroorsaak dat jy kompromieë oor die evangelie aangaan.
Elke dag is nuut. Elke dag gee jou die geleentheid om van voor af te besef wie God sê jy is – nie die wêreld of jyself nie. Glo en omhels wie God sê jy is, want Hy het jou uniek en wonderlik gemaak.
Alhoewel die mens – in menslike oë – allerhande tekortkominge en misvormdheid sien, moet jy weet dat God nie foute maak nie - jy is ’n meesterstuk. Nog beter: jy is vergewe en verlos.
Die verlede is die verlede. God het iets beters wat voorlê. Die goedheid en guns waarvan Psalm 23 praat, is nie net iets vir die lewe hierna nie, maar as jy God se teenwoordigheid in jou lewe besef en ervaar elke dag, sal dit jou neem na ’n geestelike plek waar jy nie op jou eie sou kon gaan nie (dalk fisies ook). Daar wag nuwe deure om oop te maak, nuwe vlakke van geestelike herlewing, nuwe verhoudings, genesings, vryheid en deurbrake. Wat voorlê is wonderlik. Strek jou uit daarna en vat dit. Neem dit aan in die genade van ons Here.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is daar dinge in my verlede wat dalk te veel definieer wie ek is? God sê ek is ’n nuwe skepping in Jesus Christus (2 Kor. 5:17-21).
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige Here, dankie vir ’n nuwe dag elke dag. Dankie dat ek al die negatiewe dinge en swaar bagasie van die verlede wat ek soms saamdra kan groet. Dankie dat ek dit alles by U kan los, sodat ek in vrede vorentoe kan beweeg in die genade wat U voorsien. Ek strek my uit na die nuwe dinge wat U oor my pad sal bring, sodat U daardeur verheerlik sal word. In Jesus se Naam, Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟓 – 𝐆𝐫𝐨𝐞𝐭𝐞 𝐞𝐧 𝐬𝐞𝐞̈𝐧 𝐯𝐢𝐫 𝐆𝐨𝐝 𝐬𝐞 𝐟𝐚𝐦𝐢𝐥𝐢𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Met huisbesoeke – veral by mense wat nie gereelde kerkgangers is nie – is dit gewoonlik in die eerste 10 minute wat die verskonings uitkom oor hoekom eredienste nie bygewoon word nie of hoekom daar nie betrokke is by gemeentelike aktiwiteite nie. Ai, ek wens mense wil besef hoe baie hulle mis van, soos dit in Grieks bekend staan, koinonia – oftewel, Christelike gemeenskap. ’n Gemeente is soos ’n familie en dit is een van die grootste voorregte om aan Jesus te behoort en so ook aan sy familie.
Ongeag die samestelling van ons fisiese gesinne, is ons almal deel van God se wêreldwye, ewige familie. Ons het broers en susters regoor die wêreld wat ons passie vir die evangelie deel en, soos ons, daarna streef om Jesus te dien en sy evangelie te deel. Ons geniet saam die voorreg om saam op die aarde te woon. Ons sien ook saam uit daarna om op die nuwe aarde te woon, terwyl ons, in die tussentyd, vir mekaar bid en ondersteun in die bediening.
Paulus sluit sy tweede brief aan Timoteus af:
“¹⁹𝑆𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑔𝑟𝑜𝑒𝑡𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑃𝑟𝑖𝑠𝑘𝑎 𝑒𝑛 𝐴𝑘𝑤𝑖𝑙𝑎, 𝑒𝑛 𝑂𝑛𝑒𝑠𝑖𝑓𝑜𝑟𝑢𝑠 𝑠𝑒 ℎ𝑢𝑖𝑠𝑔𝑒𝑠𝑖𝑛. ²⁰𝐸𝑟𝑎𝑠𝑡𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑖𝑛 𝐾𝑜𝑟𝑖𝑛𝑡ℎ𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑙𝑦, 𝑇𝑟𝑜𝑓𝑖𝑚𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑠𝑖𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝑀𝑖𝑙𝑒𝑡𝑒 𝑎𝑔𝑡𝑒𝑟𝑔𝑒𝑙𝑎𝑎𝑡. ²¹𝐷𝑜𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑠 𝑜𝑚 𝑛𝑜𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑛𝑡𝑒𝑟 𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑚. 𝐸𝑢𝑏𝑢𝑙𝑢𝑠 𝑒𝑛 𝑃𝑢𝑑𝑒𝑛𝑠 𝑒𝑛 𝐿𝑖𝑛𝑜𝑠 𝑒𝑛 𝐶𝑙𝑎𝑢𝑑𝑖𝑎 𝑒𝑛 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠 𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑟𝑜𝑒𝑡𝑒. ²²𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑏𝑙𝑦 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑒𝑠! 𝐷𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑏𝑙𝑦 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒!” – 2 Timoteus 4:19-22 (AFR20)
Paulus het heelwat vriende in die bediening gehad. Hy sluit hierdie brief af met persoonlike groete aan sy goeie vriende in Efese en groete van die Romeinse gelowiges aan Timoteus. Alhoewel daar groot afstand tussen hulle was, het hierdie gelowiges mekaar getrou lief gehad en mekaar ondersteun.
Priska (of Priscilla) en Akwila was twee van Paul se naaste vriende. Hy was in Korinte by hulle aan huis gewees en hulle het saam met hom na Efese gereis, waar hulle eredienste in hul huis aangebied het (Hand. 18:18–26; 1 Kor. 16:19). Hulle het later in Rome gewoon, waar hulle ook ’n kerk gehuisves het (Rom. 16:3–5). Ten tye van Paulus se skrywe, was hulle terug in Efese en het hulle saam met Timoteus gewerk. Omdat hierdie twee vriende hard gewerk het in die bediening, is dit nie verbasend dat Paulus hulle veral onthou nie. Hulle is vir ons ’n goeie voorbeeld.
Dan is Paulus se laaste opgetekende woorde: “𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑏𝑙𝑦 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑒𝑠! 𝐷𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑏𝑙𝑦 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒!” (v. 22). Hierdie is Paulus se opregte gebed vir Timoteus, die Efesiër en ook vir ons.
Die hele brief (of boek) van 2 Timoteus is ’n wonderlike bemoediging vir ons om te volhard in die bediening van die evangelieboodskap. Die brief laat ons besef dat ons bereid moet wees om te ly as ’n volgeling van Jesus. Daar is geen manier wat enigeen van ons dit uit eie krag kan doen nie; ons het nodig dat die Here by ons is – Hy ondersteun en versterk ons deur sy genade. Uit God se genade, ontvang ons geloof en is ons gered deur Jesus Christus alleen. Elke seën wat ons in Christus het, is vanweë sy genade. En dit is God se genade wat ons in staat sal stel om te volhard om Hom te volg en te dien, getrou te bly aan sy Woord en te leef tot God se eer alleen, totdat ons Hom van aangesig tot aangesig sal ontmoet.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Werk ek hard vir die evangelie en dien ek God op enige manier wat Hy van my vra – soos Paulus, Timoteus, Priska, Akwila en Paulus se ander vriende in die bediening het? Besef ek dat ek deel is van God se familie – die kerk? Dink na oor al die seëninge wat jy in hierdie lewe kan geniet vanweë God se genade.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Liewe God en Vader, maak my bewus van u teenwoordigheid. Versterk my en onderskraag my, sodat ek sal volhard om U te dien. Dankie, vir u genade. Dankie dat U my gered het. Ek loof en prys u grote Naam, Here Jesus. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟒 – 𝐖𝐚𝐭 𝐢𝐬 𝐣𝐨𝐮 𝐠𝐫𝐨𝐨𝐭𝐬𝐭𝐞 𝐩𝐚𝐬𝐬𝐢𝐞 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Net gister het ek gepreek oor hoe Petrus in Antiogië skielik in ’n ander mens verander het toe die Christene van Joodse afkoms daar aangekom het (Galasiërs 2:11-16). Hy het terug verander in die ou mens. Paulus was baie ongelukkig hieroor en het hom berispe daaroor. Die hele boodskap het gegaan oor hoe ons ’n God-sentriese lewe moet lei, eerder as ’n self-sentriese lewe. Sien, dit gaan oor jou passie in die lewe – dít waarvoor jy lewe.
“¹⁴𝐴𝑙𝑒𝑘𝑠𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟, 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑜𝑝𝑒𝑟𝑠𝑚𝑖𝑑, ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛. 𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑜𝑚 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑦 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑙𝑑. ¹⁵𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑗𝑦 𝑜𝑝 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑜𝑒𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑜𝑚, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒 ℎ𝑒𝑓𝑡𝑖𝑔 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑔𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛. ¹⁶𝑇𝑦𝑑𝑒𝑛𝑠 𝑚𝑦 𝑒𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑒𝑑𝑖𝑔𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑚𝑦 𝑏𝑦𝑔𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒; 𝑖𝑛𝑡𝑒𝑒𝑛𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑒𝑘 𝑔𝑒𝑙𝑎𝑎𝑡. 𝑀𝑎𝑔 𝑑𝑖𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑔𝑒𝑟𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒! ¹⁷𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑢𝑛 𝑒𝑛 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑘𝑜𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑡𝑜𝑜𝑖, 𝑒𝑛 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑖𝑑𝑒𝑛𝑒 𝑑𝑖𝑡 𝑘𝑜𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑟; 𝑒𝑛 𝑒𝑘 𝑖𝑠 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑒𝑢 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑑. ¹⁸𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑚𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑏𝑜𝑠𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑑 𝑟𝑒𝑑, 𝑒𝑛 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠, 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑔 𝑜𝑝 𝑠𝑦 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑠𝑒 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘. 𝐴𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑖𝑟 𝑒𝑤𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑒𝑤𝑖𝑔! •𝐴𝑚𝑒𝑛.” – 2 Timoteus 4:14-18 (AFR20)
Paulus se passie, was God se heerlikheid. Hy wou hê dat elke deel van sy lewe gefokus moes wees op God se goedheid en genade. Alhoewel Paulus baie suksesvol was in die bediening van die evangelie, neem hy nie krediet vir sy sukses of sy volharding in lyding nie; hy wil hê dat God al die eer moet ontvang.
Paulus het besef wat ons amper elke dag besef: mense is ontrou en dislojaal. Hy het teenkanting in sy bediening ervaar en hy is deur sy vriende in die steek gelaat. Maar God is altyd getrou. Paulus kon tydens sy eerste verhoor getuig van God se getrouheid. Niemand was by hom of het hom ondersteun terwyl hy sy aanklaers in die gesig gestaar het nie, maar God het hom versterk om die evangelie te verkondig. Met ’n kwaadwillige skare en ’n onregverdige doodsvonnis voor hom, het Paulus verkondig dat Jesus gesterf het en opgestaan het, en dat redding alleen in Hom gevind word.
As gevolg van Paulus se vrymoedigheid en onbeskaamdheid, het baie heidene die evangelie gehoor. Hierdie krag om sy verhoor te verduur en met vrymoedigheid te preek, het nie uit homself gekom nie: Jesus was aan Paulus se sy. Jesus het as mens op aarde ook ’n vyandige skare en onregverdige doodsvonnis in die gesig gestaar sodat Hy verlossing aan Jode en heidene kon bied. Paulus was versterk met dieselfde krag, deur die Heilige Gees, om die goeie nuus van verlossing te verkondig.
Paulus het geweet dat dit die Here was wat hom daarvan weerhou het om onmiddellik ná hierdie eerste verhoor doodgemaak te word, en hy het geweet dat God hom van die ewige dood sal red (v. 18). Dit beteken nie dat hy nie fisiese dood sou ervaar nie – sy teregstelling was op hande. Maar sy toekomstige redding en heerlikheid is seker. God sal sy verlossingswerk voltooi en hom na sy hemelse koninkryk neem. Paulus se reaksie op hierdie verlossing was om eer aan God te gee.
Ons mag dalk nie dieselfde beproewinge ervaar wat Paulus moes verduur nie, maar ons is ook verlos van die gevolge van ons sonde – ewige dood en skeiding van Christus. Ons kan ook Paulus se vertroue deel dat God die werk wat hy in ons begin het sal voltooi en ons veilig tot heerlikheid sal bring. Terwyl ons nadink oor ons redding van die dood en ons toekomstige heerlikheid en terwyl ons ons lewens leef elke dag, moet ons antwoord ook wees: “𝐴𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑖𝑟 𝑒𝑤𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑒𝑤𝑖𝑔! •𝐴𝑚𝑒𝑛.” (v. 18).
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat is my grootste passie in die lewe? Is dit gefokus op my eie-, of op God se eer?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, ek loof U vir die redding en verlossing wat U bewerk het vir my. Gee my ’n groter passie om só te lewe dat U eer en heerlikheid geken kan word in my lewe. Gee aan my geleenthede en laat ek dit raaksien waar ek die aandag op u heerlikheid kan vestig. Aan U kom toe die heerlikheid vir ewig en ewig! Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟐 – “𝐖𝐡𝐞𝐧 𝐝𝐚𝐲𝐬 𝐚𝐫𝐞 𝐝𝐚𝐫𝐤, 𝐟𝐫𝐢𝐞𝐧𝐝𝐬 𝐚𝐫𝐞 𝐟𝐞𝐰.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer moeilike tye tref, smag ons daarna dat iemand ons sal help. Soms wil ons ook net alleen wees, maar gewoonlik verlang ons na beter tye en die dinge en mense wat ons gehelp of bygestaan het in die verlede. Maar soms verlaat ons vriende ons... Paulus skryf aan Timoteus:
“⁹𝐷𝑜𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑠 𝑜𝑚 𝑔𝑜𝑢 𝑛𝑎 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑒 𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑚, ¹⁰𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐷𝑒𝑚𝑎𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑎𝑎𝑡: 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑢𝑖𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑔𝑒𝑘𝑟𝑦, 𝑒𝑛 𝑛𝑎 𝑇ℎ𝑒𝑠𝑠𝑎𝑙𝑜𝑛𝑖𝑘𝑎 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑒𝑘, 𝐾𝑟𝑒𝑠𝑠𝑒𝑛𝑠 𝑛𝑎 𝐺𝑎𝑙𝑎𝑠𝑖𝑒̈, 𝑒𝑛 𝑇𝑖𝑡𝑢𝑠 𝑛𝑎 𝐷𝑎𝑙𝑚𝑎𝑠𝑖𝑒̈. ¹¹𝑁𝑒𝑡 𝐿𝑢𝑘𝑎𝑠 𝑖𝑠 𝑛𝑜𝑔 𝑏𝑦 𝑚𝑦. 𝐺𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑎𝑎𝑙 𝑣𝑖𝑟 𝑀𝑎𝑟𝑘𝑢𝑠, 𝑒𝑛 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑜𝑚 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑦 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑛𝑢𝑡𝑡𝑖𝑔 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑑𝑖𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔. ¹²𝑇𝑖𝑔𝑖𝑘𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 𝑛𝑎 𝐸𝑓𝑒𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟. ¹³𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑘𝑜𝑚, 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑛𝑡𝑒𝑙 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝑇𝑟𝑜𝑎𝑠 𝑏𝑦 𝐾𝑎𝑟𝑝𝑢𝑠 𝑎𝑔𝑡𝑒𝑟𝑔𝑒𝑙𝑎𝑎𝑡 ℎ𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑜𝑜𝑘 𝑑𝑖𝑒 •𝑏𝑜𝑒𝑘𝑟𝑜𝑙𝑙𝑒, 𝑣𝑒𝑟𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑒𝑟𝑘𝑎𝑚𝑒𝑛𝑡𝑒.” – 2 Timoteus 4:9-13 (AFR20)
In gevangenskap smag Paulus na drie dinge: sy vriende, warmte en God se Woord. Hy versoek dat Timoteus na Rome sal reis en sy vriend Markus, sy mantel en sy boekrolle saam te bring (die perkamente was waarskynlik Paulus se Griekse kopieë van die Ou Testament).
Paulus mis sy medewerkers in die evangelie. Kressens en Titus het vertrek om voort te gaan met evangelie werk in ander dorpe, en Paulus het Tigikus na Efese gestuur – miskien om hierdie brief aan Timoteus te gee en sy werk voort te sit terwyl hy na Rome gereis het. Maar Demas het Paulus verlaat en na Thessalonika gegaan.
Demas was voorheen een van Paulus se medewerkers – waarskynlik terwyl hy onder huisarres was (Fil. 1:24; Kol. 4:14). Maar soos Paulus se lyding toegeneem het, het Demas hom verlaat. Ons weet nie of Demas sy geloof of selfs die evangeliebediening ook verlaat het nie – dalk het hy voortgegaan om die evangelie in Thessalonika te deel. Tog het Demas die wêreld meer liefgehad en sy gemaksone meer waardeer as om saam met Paulus te ly. Miskien wou hy net homself die skande spaar om met ’n veroordeelde misdadiger geassosieer te word. Miskien was hy bang dat hy ook dieselfde soort lyding sou ondervind as hy in Rome sou bly. Miskien wou hy net ’n bietjie rustigheid ervaar in Thessalonika. Dit laat my dink aan die bufferplakker wat mens soms op motors sien wat sê: “If days are dark, friends are few”...
Hoe ons optree, spreek boekdele oor wat in ons harte aangaan – wat vir ons belangrik is en waarvan ons hou. As ons Jesus liefhet en sy wederkoms met vreugde verwag, sal ons bereid wees om gerief, sekuriteit en respek op te offer. Maar as ons hierdie wêreld liefhet en aardse gemak en gemaklikheid waardeer, sal ons skaam of bang wees om te identifiseer met mense wat Jesus met oorgawe en vrymoedigheid volg en deel met ander.
Gelukkig weet ons dat wanneer ons misluk, is dit nie die einde nie. Markus, wat ook Johannes genoem is, het Paulus ook verlaat – op sy eerste sendingreis (Hand 13:13; 15:37–38). Maar Markus het teruggekom en was vir Paulus ’n groot hulp tydens sy huisarres (Kol. 4:10; Filemon 1:24). God was genadig om Markus te vergewe en hom nuwe geleenthede te gee om te dien. Dit is baie bemoedigend om te weet ons kry ook weer en weer ’n kans.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Het ek ook al in die verlede my rug gedraai op geleenthede waar ek Jesus kon dien of die evangelie kon deel?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie, Here, dat U genadig is om te vergewe. Maak my bereid om U te dien, sodat ek ’n bruikbare instrument in u hande sal wees. Help my en versterk my geloof, Heilige Gees, sodat ek Jesus meer lief sal hê as die gemak en sekuriteit van hierdie wêreld. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟏 – 𝐃𝐢𝐞 𝐛𝐞𝐥𝐨𝐧𝐢𝐧𝐠 𝐯𝐢𝐫 𝐡𝐚𝐫𝐝𝐞 𝐰𝐞𝐫𝐤. (Kliek hier vir die klankgreep)
In hierdie lewe kan jy op vier maniere ryk word: Óf jy erf ryk, óf een of ander geluk tref jou, óf jy steel, óf jy werk hard daarvoor. In al vier gevalle, word rykdom en beloning egter nie gewaarborg nie en is die duur van die beloning ook nie gewaarborg nie. Maar, die laaste een, harde werk, het gewoonlik ’n beloning wat ná jou tyd op aarde sal voortduur – dis die erfenis wat jy los vir die volgende geslagte. Só werk dit ook met harde werk vir God, maar is die beloning vir ander en vir jóú.
Paulus het geweet dat sy aardse bediening op ’n einde gestaan het. Sy taak om die evangelie na die heidene te neem (Hand. 9:15; 13:46) was voltooi en hy het geweet dat hy binnekort sal sterf. Hy gebruik dan twee beelde wat wys hy verwag die dood – dié van opoffering en dié van ’n reis:
“⁶𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑒𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑎𝑠 •𝑑𝑟𝑎𝑛𝑘𝑜𝑓𝑓𝑒𝑟 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑒𝑔𝑖𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑦𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑛𝑎𝑏𝑦. ⁷𝐸𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑦𝑑 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑟𝑦, 𝑒𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑑𝑙𝑜𝑜𝑝 𝑣𝑜𝑙𝑡𝑜𝑜𝑖, 𝑒𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑢. ⁸𝑁𝑜𝑢 𝑤𝑎𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛𝑛𝑖𝑛𝑔𝑠𝑘𝑟𝑎𝑛𝑠 𝑣𝑎𝑛 •𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑜𝑝 𝑚𝑦, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑅𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟, 𝑜𝑝 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑒 – 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑛𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑦 𝑘𝑜𝑚𝑠 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡.” – 2 Timoteus 4:6-8 (AFR20)
Paulus verwys na die ‘drankoffer’ (v. 6) wat deel was van die daaglikse offers wat die Israeliete beveel is om aan die Here te bring (Num. 28:1-8). Sedert sy bekering was Paulus se hele lewe een van opoffering en aanbidding. Sy teregstelling sal sy laaste offer wees. Tweedens sê Paulus, ‘die tyd van sy heengaan is naby’ (volgens die oorspronklike Griekse vertaling) – sy dood is op hande. Paulus weet dat die eerste deel van sy reis – die wedloop op die aarde – verby is en hy maak gereed om te vertrek na ’n nuwe plek. Maar hy sien uit en is selfversekerd, omdat hy weet hy verlaat hierdie lewe vir iets baie beters.
Paulus sien sy bediening ook as ’n wedloop – een wat hy suksesvol voltooi het (v. 8). Hy het die evangelie aan die heidene oorgedra en kerke en toekomstige leiers gestig. Nou verwag hy sy prys – sy beloning.
In die oorspronklike Griekse spele het die wenners van atletiekbyeenkomste krone of kranse van immergroen blare ontvang. Dit was van baie waarde, omdat dit die atleet se oorwinning aandui en getuig van die meedoënlose opleiding en dissipline wat hulle verduur het om te wen. Maar Paulus sien uit na ’n veel groter kroon – die ‘oorwinningskrans van geregtigheid’ (v. 8) wat Jesus vir hom sal gee wanneer hy die wêreld oordeel. Paulus staan op die punt om ’n deur ’n menslike regter in ’n aardse hof skuldig bevind en ter dood veroordeel te word. Maar eendag sal Christus, ‘die regverdige Regter’, hom as regverdig verklaar. Dit sal nie wees as gevolg van Paulus se getrouheid in die bediening en sy harde werk nie, maar weens sy vertroue in Jesus alleen as Verlosser.
Ons sien uit na dieselfde beloning, daarom moet ons gretig en met vertroue Christus se wederkoms verwag. Ongelowiges behoort sy wederkoms te vrees – want hulle sal sy regverdige oordeel vir sonde in die gesig staar. Maar as ons Jesus vir redding vertrou het, is ons gereed vir Hom. Harde werk en verkondiging van die evangelie sal dalk deur mense gekritiseer en selfs veroordeel word, maar die beloning daarvoor duur voort tot in ewigheid.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Sien ek uit na Jesus se verskyning, of is ek bang daarvoor? Is ek bereid om ’n lewe van opoffering te lei met die wete dat ek die prys wat voorlê sal ontvang?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, gee aan my ’n ewigheidsperspektief, sodat ek vir ewige heerlikheid, eerder as aardse belonings, sal lewe. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟐𝟎 – 𝐇𝐚𝐫𝐝𝐞 𝐰𝐞𝐫𝐤. (Kliek hier vir die klankgreep)
Partykeer lag ek lekker saam met mense as dit kom by my beroep. Party mense spot en sê dat ’n dominee mos net een dag ’n week werk en dan is die dominee se oë nog helfte van die tyd toe! Ja, dit is snaaks en dit is spottend gesê, maar ek kan vir julle een ding sê: Die bediening van die Woord is nie maklik nie. Dit is ’n absolute voorreg en dit is my passie, maar dit is dikwels harde werk. Paulus skryf ook daaroor:
“³𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑘𝑜𝑚 '𝑛 𝑡𝑦𝑑 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑙𝑒𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑎 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑟𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑟𝑒𝑒𝑙 𝑤𝑖𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑟, 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑙𝑒𝑒𝑟𝑚𝑒𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟𝑠 𝑛𝑎 𝑒𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑜𝑒𝑘. ⁴𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑓 ℎ𝑜𝑢 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑖𝑛𝑠𝑒𝑙𝑠 𝑤𝑒𝑛𝑑. ⁵𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑏𝑙𝑦 𝑗𝑦 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑛𝑢𝑔𝑡𝑒𝑟, 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑢𝑢𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑙𝑦𝑑𝑖𝑛𝑔, 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑎𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒, 𝑏𝑒𝑜𝑒𝑓𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑑𝑖𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑜𝑙𝑢𝑖𝑡.” – 2 Timoteus 4:3-5 (AFR20)
Paulus skryf hier juis oor hoekom evangeliebediening sulke harde werk is: omdat mense die waarheid verwerp. Paulus sê mense sal nie lering duld wat hul denke regstel of hul gedrag bestraf nie. Mense wil ’n evangelie hê wat nie hul oortuigings en lewenstyl sal beïnvloed nie. Hulle soek dus leraars wat hulle ongehoorsame gedrag verskoon en hulle verwerping van God se Woord regverdig. Hulle wend hulle tot ‘versinsels’ of ‘mites’ (v. 4) – idees of stories wat hulle toelaat om op te tree soos hulle wil.
Liewe mens, hierdie is nie net ’n 21ste-eeuse probleem nie. Paulus het geskryf dat Timoteus dit in die gesig sou staar terwyl hy die gemeente in Efese lei; en dit is wat ons ook in die gesig staar vandag. ’n Gewilde mite in ons kultuur is dat mense hul identiteit – geslag of seksualiteit – kan kies. ’n Ander gewilde een is die voorspoed-evangelie – dat vertroue op God gesondheid en rykdom in hierdie lewe waarborg. Dan kom ons nog vele ander mites teë oor evolusie, hel, vagevuur en redding deur werke. Wat maak ons daarmee en hoe moet ons reageer? Paulus gee vir ons vier instruksies in vers 5:
‘...bly jy nugter’. Met ander woorde: ‘Hou kop.’ Terwyl ander mense beïndruk is en meegesleur word deur nuwe en aantreklike lering, moet ons onafskeidbaar wees van die evangelie. Ons moet duidelik wees oor die waarheid en nie daarvan weggelei word nie. Daarvoor moet ons volkome vertroue in die gesag en genoegsaamheid van die Skrif hê (3:16-17).
‘... verduur lyding’. Mense sal nie Skrifgetroue leer verdra nie, wat beteken dat ons weerstand sal kry en probleme ondervind as ons voortgaan om God se Woord getrou te leer. Maar ons moet die waarheid leer sonder kompromie en bereid wees om die swaarkry wat volg te verduur.
‘... doen jou werk as verkondiger van die evangelie'. Maak nie saak wat die gawe is wat God jou gee nie, moet jy nogsteeds – tydig en ontydig (4:2) – die goeie nuus van Jesus Christus deel.
‘... beoefen jou bediening voluit’. Ten spyte van moeilike omstandighede en persoonlike lyding, moet ons die werk voltooi waartoe God ons roep. Ons moet volhard in ons bedieninge.
Mense rondom ons sal God se Woord verwerp en hulle sal hulle wend tot lering wat hulle beter laat voel oor sonde en hulself, maar ons moet volhard om Paulus se voorbeeld te volg en ’n Skrifgetroue leer van die evangelie voorhou.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Watter ‘mites’ oor die evangelie is daar deesdae waartoe Christene in die versoeking kom. Is ek onbeweeglik van die waarhede wat in die Bybel geleer word? Wanneer kom ek dalk in die versoeking om weg te draai van die waarheid?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en hemelse Vader, stel my in staat om vas te staan in die evangelie. Help my om Jesus in my gemeenskap te deel en gee my die bereidheid om swaarkry te verduur as ek die waarheid, sonder kompromie, praat en leer. Here, dit is harde werk, maar met U aan my kant en U as my bron van krag kan ek dit doen, sodat U verheerlik word. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟗 – 𝐒𝐤𝐫𝐢𝐟𝐠𝐞𝐭𝐫𝐨𝐮𝐞 𝐖𝐨𝐨𝐫𝐝𝐯𝐞𝐫𝐤𝐨𝐧𝐝𝐢𝐠𝐢𝐧𝐠. Kliek hier vir die klankgreep)
Dwarsdeur Paulus se tweede brief aan Timoteus, moedig hy hom aan om getrou te wees – getrou aan sy gawe (1:6); getrou aan Paulus (1:8); getrou aan die evangelie (1:13–14); getrou aan Christus (2:8); getrou aan die kerk (2:24); en getrou aan die Skrif (3:14–15). Dan skryf Paulus verder:
“¹𝐸𝑘 𝑣𝑒𝑟𝑚𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑒𝑟𝑛𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑒𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑖𝑒𝑠 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝑒𝑛 𝑜𝑜𝑘 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑔 𝑜𝑝 𝑠𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑘𝑦𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘: ²𝑉𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑, ℎ𝑜𝑢 𝑡𝑦𝑑𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑡𝑦𝑑𝑖𝑔 𝑎𝑎𝑛, 𝑤𝑒𝑒𝑟𝑙𝑒̂, 𝑏𝑒𝑠𝑡𝑟𝑎𝑓, 𝑏𝑒𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑 𝑒𝑛 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑙𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔.” – 2 Timoteus 4:1-2 (AFR20)
Paulus vermaan vir Timoteus – hy spoor hom aan – om getrou te wees in ‘die verkondiging van die Woord’ (4:2).
Met alles in ag geneem waaroor Paulus geskryf het aan Timoteus, is hierdie die hoofrede van sy brief. Terwyl hy sy teregstelling en die einde van die apostoliese era verwag, wil hy hê Timoteus moet voorbereid wees om voort te gaan met die evangeliebediening. Die belangrikste deel van evangeliebediening is om God se Woord te verkondig – soms ook sonder woorde (’n godvrugtige lewenswandel).
Timoteus moes bereid wees om dit ‘tydig en ontydig’ te verkondig (v. 2) – wanneer dit gerieflik was en wanneer dit hom iets sou kos; wanneer sy hoorders bereid was om te luister en selfs as hulle hardvogtig was; wanneer ongelowiges ontvanklik was vir sy woorde en wanneer hy vyandigheid in die gesig sou staar. Timoteus moes denke regstel wat nie met die Woord saamstem nie of wat die Woord verdraai het. Hy moes gedrag wat teenstrydig was met die Woord bestraf. Hy moes godsaligheid aanmoedig in gehoorsaamheid aan die Woord.
Gereelde prediking van God se Woord – wat getrou bly aan God se Woord – is noodsaaklik as die kerk wil groei. Dit is die primêre manier wat God gekies het om sy kerk op te bou, daarom is dit belangrik om deel te wees van ’n kerk wat verklaar dat hulle die Bybel leer. Ons het nodig om die Bybel noukeurig te hoor en daarvoor het ons gereelde geleenthede nodig. Ons moet bereid wees om gekorrigeer te word wanneer ons denke verkeerd is en bestraf te word wanneer ons gedrag sondig is. Ons moet bereid wees om te verander in reaksie op God se Woord.
Dalk dink jy jy hoef nie gereelde prediking te hoor nie. Miskien glo jy dat jy voldoende kan groei deur self God se Woord te lees. Terwyl ons almal die Bybel moet lees en self moet bid – gereeld – het God evangeliste, herders en leraars as gawes gegee om die kerk op te bou en ons toe te rus om Hom te dien (Ef. 4:11-12). Regdeur die Bybel sien ons dat God mense gebruik om sy waarheid te verklaar. In sy wysheid het Hy gekies om individue as instrumente te gebruik om sy eie woorde te verkondig en te verduidelik. Ons moet nederig wees en ons in hierdie gawe verlustig.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe hoog ag ek Skrifgetroue prediking? Gebruik ek elke geleentheid om te hoor hoe die Bybel geleer en verduidelik word?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, vandag bring ek u bedienaars van die Woord voor U. Ek bid dat diegene wat verantwoordelik is vir die prediking in ons kerke U Woord sorgvuldig en geduldig sal leer – tydig en ontydig. Mag leraars die moed, krag, insig en wysheid hê om dwaalleer te weerlê, sondige denke en aksies te bestraf en om mense te bemoedig, sodat U die eer sal ontvang deur u kerk. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟖 – “𝐁𝐥𝐲 𝐛𝐲 𝐝𝐢𝐭 𝐰𝐚𝐭 𝐣𝐲 𝐠𝐞𝐥𝐞𝐞𝐫 𝐡𝐞𝐭.” (Kliek hier vir die klankgreep)
In vandag se wêreld is niks meer nuut nie. As iets nuut is vandag, is dit môre weer verouderd. Tog is meeste van ons aangetrokke tot enigiets nuuts en opwindend. Ons raak maklik verveeld met tradisie en ons word vinnig gefassineer deur dinge wat vars of ongewoon is. Ons soek nuwe klere, nuwe karre, nuwe selfone, nuwe rekenaars, nuwe alles... Niemand wil mos “uit” voel of wees nie. Selfs as dit kom by die evangelie, gryp mense deesdae na allerhande vars en aantreklike weergawes... Paulus skryf:
“¹⁴𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑗𝑦, 𝑏𝑙𝑦 𝑗𝑦 𝑏𝑦 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑦 𝑣𝑎𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑢𝑖𝑔 𝑖𝑠, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑏𝑦 𝑤𝑖𝑒 𝑗𝑦 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡, ¹⁵𝑒𝑛 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑘𝑙𝑒𝑖𝑛𝑠 𝑎𝑓 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝑆𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒 𝑘𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑔𝑒𝑒 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠. ¹⁶𝐸𝑙𝑘𝑒 𝑆𝑘𝑟𝑖𝑓𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑖𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑔𝑒𝑖̈𝑛𝑠𝑝𝑖𝑟𝑒𝑒𝑟 𝑒𝑛 𝑖𝑠 𝑛𝑢𝑡𝑡𝑖𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔, 𝑤𝑒𝑒𝑟𝑙𝑒𝑔𝑔𝑖𝑛𝑔, 𝑡𝑒𝑟𝑒𝑔𝑤𝑦𝑠𝑖𝑛𝑔, 𝑒𝑛 𝑜𝑝𝑣𝑜𝑒𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑚 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑡𝑒 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑠𝑎𝑎𝑚, ¹⁷𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑡, 𝑏𝑒𝑘𝑤𝑎𝑎𝑚 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑡𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑔𝑒𝑟𝑢𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑡𝑎𝑎𝑘.” – 2 Timoteus 3:14-17 (AFR20)
Die valse leraars in Efese was waarskynlik as vooruitstrewend en innoverend gesien. Hulle lering was heel moontlik baie aantreklik en sommige van die gelowiges het dalk gewonder of hierdie nuwe idees nie meer effektief in evangelisasie kan wees nie. Maar Paulus beskou hulle ‘vooruitgang’ as ’n verwydering of wegbeweging van verlossing en eerder meer in die rigting van groter goddeloosheid (2:16; 3:9, 13).
Die raad aan Timoteus (en ons) is om voort te gaan in die evangelie van waarheid. Timoteus moes nie wegbeweeg van die evangelie deur na nuwe interpretasies van die Skrif te soek nie, maar moes volhard om God se Woord te gehoorsaam soos hy geleer is. Hoekom? Omdat hy die Skrif geken het en geweet het dat diegene wat hom geleer het, betroubaar was. Dit is God se Woord wat ons “𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑔𝑒𝑒 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔” (v. 15). Die Bybel wys ons na Jesus Christus en leer dat deur geloof in Hom alleen is dat ons gered word. Timoteus moes die versoeking weerstaan om weg van die evangelie af te beweeg, en ons moet ook.
In die afgelope dekades het sommige kerkleiers en leraars van die Woord oor sekere kwessies die Woord uitgedaag en weerspreek om die Christelike geloof meer aantreklik vir ongelowiges te maak. Sommige het duidelik en openlik wegbeweeg van wat die Skrif leer oor kwessies van geslag en seksualiteit. Ander verwerp weer die leer van verlossing deur geloof in Christus alleen of oor die ewige straf vir diegene wat Christus verwerp. Ons kan eintlik verstaan hoekom. Sien, dit is moeilik om aan iemand wat sukkel met geslagsidentiteit of seksuele onsedelikheid te verduidelik dat hulle nie beide hul fisiese begeertes kan bevredig én ’n regte verhouding met ’n heilige God kan geniet nie. Dit maak seer om te erken dat ons vriende of familielede wat God in hierdie lewe verwerp vir ewig deur hom gestraf sal word. Daarom blyk dit meer goedhartig om eerder die Bybel se lering te herinterpreteer om dit aantrekliker of meer deernisvol vir almal te laat lyk. Maar ons moet baie versigtig wees om in só ’n rigting te beweeg. Slegs die waarheid van die Skrif kan ons wysheid gee tot verlossing. Ons moet nooit wegbeweeg van wat die Bybel leer nie.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe kan ek in die versoeking kom om weg te beweeg van die Bybel se lering? Is daar kwessies waaroor ek in die versoeking kom om nuwe of meer gewilde denke aan te neem?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Heilige Gees wat in my woon, help my om getrou te bly aan die Woord. Laat my net gehoorsaam bly aan die Skrif en wat U aan my openbaar. Laat my die dwaalleer en afwykings van die waarheid herken en gee my krag om dit teë te staan. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟕 – 𝐆𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟 𝐬𝐨𝐨𝐬 𝐏𝐚𝐮𝐥𝐮𝐬 𝐬’𝐧. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om een of ander rede is daar vandag nog die valse mening dat, wanneer jy ’n volgeling van Jesus is, jou lewe sonder enige uitdagings en probleme is. Daar is selfs predikante wat dit preek en wil aanvoer dat, as daar iets skeefloop in jou lewe, jy nog een of ander sonde het wat jy moet bely – so asof daar iets soos Karma in die Christelike geloof is!
As ons kyk na Paulus se voorbeeld, sien ons dat dit vir hom glad nie maanskyn en rose was nie. Hy skryf aan Timoteus:
“¹⁰𝐽𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑜𝑢𝑔𝑒𝑠𝑒𝑡 𝑛𝑎𝑔𝑒𝑣𝑜𝑙𝑔 𝑖𝑛 𝑙𝑒𝑒𝑟, 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑠𝑤𝑎𝑛𝑑𝑒𝑙, 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑛𝑒𝑚𝑒, 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓, 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑, 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑎𝑟𝑑𝑖𝑛𝑔, ¹¹𝑖𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑒𝑛 𝑙𝑦𝑑𝑖𝑛𝑔, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝐴𝑛𝑡𝑖𝑜𝑔𝑖𝑒̈, 𝐼𝑘𝑜𝑛𝑖𝑢𝑚 𝑒𝑛 𝐿𝑖𝑠𝑡𝑟𝑎 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑒𝑡. 𝑊𝑎𝑡𝑡𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑒𝑘 𝑜𝑜𝑘 𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑢𝑢𝑟 ℎ𝑒𝑡 – 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑑! ¹²𝐴𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑜𝑑𝑣𝑟𝑒𝑠𝑒𝑛𝑑 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑤𝑖𝑙 𝑙𝑒𝑒𝑓, 𝑠𝑎𝑙 𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑑𝑎𝑎𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑. ¹³𝑆𝑙𝑒𝑔𝑡𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑒𝑛 𝑏𝑒𝑑𝑟𝑖𝑒𝑒̈𝑟𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑡𝑜𝑡 𝑒𝑟𝑔𝑒𝑟 𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑚𝑖𝑠𝑙𝑒𝑖, 𝑒𝑛 𝑚𝑖𝑠𝑙𝑒𝑖 𝑤𝑜𝑟𝑑.” – 2 Timoteus 3:10-13 (AFR20)
As ons waarlik getroue volgelinge van Jesus is, sal ons lewens – in ’n redelike mate – ’n bietjie soos Paulus s’n lyk. Waar ons die geleentheid kry, sal ons die evangelie deel en ons gedrag sal goeie vrugte toon tot God se eer. Ons geloof in God sal eg wees. Ons sal in ’n hegte verhouding met Hom staan deur Christus, en ons sal Hom vertrou om sy beloftes na te kom en ons deur lyding te onderhou. Ons geloof sal geduld en liefde tot gevolg hê. En God sal ons help om uithouvermoë aan te kweek vir die vervolging wat ons sál ervaar omdat ons Jesus volg.
Ons lees oor die groot vervolging wat Paulus gely het toe hy in Antiogië, Ikonium en Listra was in Handelinge 13-14. As ons geloof in Jesus eg is – as ons geloof soos Paulus het, liefde, geduld en uithouvermoë navolg – moet ons maar vervolging ook verwag. Die transformasie deur die Heilige Gees in ons lewens sal dramaties en sigbaar wees, en God se vyande sal met haat reageer op ons nuwe waardes en prioriteite.
Wanneer swaar tye tref, vergeet ons soms dat ons moet verwag om vir ons geloof te ly. Christene regoor die wêreld ervaar elke dag diskriminasie en fisiese vervolging, maar in baie lande – ons s’n ook – is die koste om Christus te volg nie hoog nie. Miskien is dit omdat ons nie so verskil van die mense rondom ons nie. Miskien is ons gedrag of die manier waarop ons ons tyd of geld spandeer nie so verskillend nie. Ons deel dalk nie die evangelie vrymoedig in ons werkplekke, skole of in ons gemeenskappe nie, maar ware godsaligheid is kenmerkend en dit sal dikwels ’n vyandige reaksie van ongelowiges uitlok. Dit is omdat ons godsaligheid diegene wat goddeloos is kritiseer – dit oortuig hulle en maak hulle skaam oor hulle gedrag.
Terwyl hy sy teregstelling verwag het, het Paulus geweet dat hy nie noodwendig van die fisiese dood gered sal word nie. Maar hy het geweet dat God hom in staat gestel het om sy lyding tot op daardie tydstip te kon verduur en Hy sou hom uiteindelik van aardse lyding red en tot sy ewige koninkryk opneem. Ons het presies dieselfde versekering. Weet maar: Ons sal nie vry wees van probleme in hierdie lewe nie, maar ons kan vol vertroue wees dat God ons sal onderhou en dat ons eendag, in heersende vrede, met Hom sal lewe.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Verwag ek om te ly as ’n volgeling van Jesus? Vestig my godsaligheid die aandag op my geloof of pas ek my gehoorsaamheid aan God se Woord aan om in te pas by diegene rondom my?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie vir lyding. Dankie dat ek weet dat alles – goed of sleg – ten goede meewerk, omdat ek U lief het en omdat ek volgens U wil geroep is. Dankie, dat U selfs die stukkende stukkies van my lewe kan gebruik om te dien as getuienis van U groot liefde en genade. Laat my getrou bly aan U en volhard in die geloof. Tot u eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟓 – 𝐁𝐲 𝐰𝐢𝐞́ 𝐥𝐞𝐞𝐫 𝐣𝐲 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer Paulus vir Timoteus (en ons) waarsku oor die gevare van dwaalleer en skynheiligheid, binne- én buite die kerk, sê hy dis:
“⁵𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑙 '𝑛 𝑠𝑘𝑦𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑔𝑜𝑑𝑣𝑟𝑒𝑠𝑒𝑛𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑜𝑢, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑔𝑜𝑑𝑣𝑟𝑒𝑠𝑒𝑛𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑚𝑖𝑠𝑘𝑒𝑛. 𝐵𝑙𝑦 𝑤𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑢𝑙𝑘𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒. ⁶𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑖𝑠𝑔𝑒𝑠𝑖𝑛𝑛𝑒 𝑏𝑖𝑛𝑛𝑒𝑑𝑟𝑖𝑛𝑔, 𝑒𝑛 𝑙𝑖𝑔𝑠𝑖𝑛𝑛𝑖𝑔𝑒 𝑣𝑟𝑜𝑢𝑒, 𝑜𝑜𝑟𝑙𝑎𝑎𝑖 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠, ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑝𝑟𝑜𝑜𝑖 𝑚𝑎𝑎𝑘 – 𝑣𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑔𝑒𝑑𝑟𝑦𝑓 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑟𝑙𝑒𝑖 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒𝑠, ⁷𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑒𝑟 𝑖𝑠, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑜𝑜𝑖𝑡 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑟𝑖𝑝 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒. ⁸𝐸𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝐽𝑎𝑛𝑛𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝐽𝑎𝑚𝑏𝑟𝑒𝑠 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑒𝑡 ℎ𝑒𝑡, 𝑛𝑒𝑡 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑒𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑘𝑜𝑟𝑟𝑢𝑝 𝑖𝑠 𝑖𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑛𝑘𝑒 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓. ⁹𝑀𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑤𝑎𝑎𝑠ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑑𝑢𝑖𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑜𝑘 𝑚𝑒𝑡 𝐽𝑎𝑛𝑛𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝐽𝑎𝑚𝑏𝑟𝑒𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑙 𝑤𝑎𝑠.” – 2 Timoteus 3:5-9 (AFR20)
In hierdie verse waarsku Paulus ons om weg te bly van mense wat voorgee dat hulle Jesus volg, maar wie se woorde en gedrag nie ooreenstem met sy lering nie. Ons moet veral versigtig wees vir leraars van die Bybel wat só is – in die kerk, maar ook deur TV, sosiale media en boeke. Hierdie mense is baie gevaarlik. Hulle is nie opregte gelowiges nie en gebruik hulle posisie as leraars (v. 8) om mense weg te lei van die waarheid.
In Efese het valse leraars vroue geteiken wat oorweldig was deur sondes waarmee hulle geworstel het. Hierdie vroue was “𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑒𝑟” (v. 7), maar hulle kon nie onderskei tussen valse lering en die waarheid nie. Terwyl hulle gretig is om te leer, verstaan hulle nie dat die evangelie hulle kan bevry van skuldgevoelens en van sondige gedragspatrone nie. Die dwaalleraars was dus suksesvol om hulle te mislei – en dalk selfs finansieel by hulle baat te vind (1 Tim. 6:5).
Paulus vergelyk hierdie gevaarlike leraars met Jannes en Jambres, die Egiptiese towenaars wat die eerste drie wonderwerke wat Moses voor Farao gedoen het, nageboots het (Eks. 7-8). Net soos die towenaars Moses teëgestaan het met hulle optrede, so staan die Efesiese valse leraars Timoteus teë deur ’n valse evangelie te verkondig. In beide gevalle staan hulle nie net God se dienaars teë nie, maar God self. Hulle denke is korrup en hulle het die evangelie verwerp.
Ons sien dit té gereeld: Mense wat God se Woord verdraai om hulself beroemd en ryk te maak. Daar is mense wat leer dat volgelinge van Jesus nie siekte of gestremdheid of armoede moet ly nie, en hulle maak baie geld uit hierdie lering. Maar hoewel hulle nou sukses en gewildheid geniet, sal dit nie hou nie. Die Egiptiese towenaars is deur God se krag verslaan en as bedrog ontbloot (Eks. 8:18-19), en uiteindelik sal die valse leraars van ons geslag ook deur God ontbloot en vir ewig verwerp word.
Ons moet versigtig wees waarna ons luister en waarmee ons betrokke raak. Ons moet hierdie valse lering ten alle koste vermy en ons moet waak teen die sondes wat ons kwesbaar vir hulle invloed kan maak. Maar ons hoef nie bang te wees vir mense wat die waarheid teëstaan nie, want God sal hulle skynheiligheid blootlê en hulle oordeel. Uiteindelik sal sy waarheid seëvier.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
God se waarheid is die enigste waarheid. 𝘚𝘰𝘭𝘢 𝘚𝘤𝘳𝘪𝘱𝘵𝘶𝘳𝘢: Deur God se Woord alleen.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie, Here, dat U die hoogste mag het en dat diegene wat U teëstaan, wel verslaan sal word. Beskerm my asseblief dat ek nie deur valse leringe mislei sal word nie. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟒 – 𝐌𝐞𝐧𝐬𝐞 𝐞𝐧 𝐦𝐚𝐬𝐤𝐞𝐫𝐬 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer Paulus praat oor die laaste dae in 2 Timoteus 3:1-4, noem hy die eienskappe van mense wat vir hulself leef en waarsku hy ons daarteen. Maar dan raak dinge ongemaklik... Paulus beskryf hierdie mense vêrder. Hy sê hulle is
“⁵𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑙 '𝑛 𝑠𝑘𝑦𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑔𝑜𝑑𝑣𝑟𝑒𝑠𝑒𝑛𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑜𝑢, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑔𝑜𝑑𝑣𝑟𝑒𝑠𝑒𝑛𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑚𝑖𝑠𝑘𝑒𝑛. 𝐵𝑙𝑦 𝑤𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑢𝑙𝑘𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒.” – 2 Timoteus 3:5 (AFR20)
Ja, Paulus gee ’n reguit en ontstellende beeld van mense wat vir hulleself leef eerder as vir God. Vers 5 is veral skokkend omdat hy sê dit is moontlik vir hierdie mense om ’n vorm – of voorkoms – van godsaligheid te hê. Hulle kan mense binne die kerk wees!
Dit laat my nou dink aan ’n grappie wat tydens die COVID pandemie rondgeloop het waar my een vriend gegrap het deur te sê dat wanneer ons ons maskers kan afhaal, gaan baie mense weer hul valstande moet insit of begin tande borsel!
Weet jy, ons sien goddeloosheid nie altyd dadelik raak nie. Dikwels word goddeloosheid deur goeie – of godsdienstige – gedrag gemasker. Paulus waarsku dat daar mense sal wees wat skynbaar geloof het, maar nie vir Jesus opreg volg nie. Hulle mag aan eredienste deelneem, aanbiddingsliedere sing of geld aan die kerk gee, maar hulle is nie innerlik verander deur die krag van die evangelie nie – hulle geloof is nie eg nie. Sommige sal selfs binne die kerk ander leer (v. 8). Hierdie leraars lyk dalk godvrugtig omdat hulle die Skrif ken, maar as hierdie kennis nie hulle gedrag beïnvloed nie, word hulle mislei oor hulle spiritualiteit – dan is hulle net soos die Fariseërs in Jesus se tyd.
Ons moet onthou en weet – soos ons in hoofstuk 1 lees – dat die Heilige Gees kragtig is en dat Hy lewens verander (2 Tim. 1:7). Dit is iets wat ons deesdae al meer begin sien: Mense wat daarop konsentreer om ’n kennis van God te hê, maar nie deur Hom getransformeer word nie. Hierdie mense is nie opregte gelowiges nie. Hulle weerstaan God se werk in hulle lewens, en verwerp sy mag om hulle te verander van aanbidders van hulleself na aanbidders van God.
Ons moet baie paraat wees hieroor. Ons moet duidelik bewus wees van mense binne die kerk wat sê hulle volg vir Jesus, maar uiteindelik leef hul vir hulself, geld en plesier. En ons moet ernstig waak teen hierdie soort skynheiligheid in ons eie lewens. Ware godsaligheid word in aksie gesien. Ons geloof in Jesus word eg bewys deur uiterlike uitdrukkings van liefde vir God en ander, eerder as onsself. Jakobus het ook gesê: “...𝑤𝑦𝑠 𝑑𝑎𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑑𝑎𝑑𝑒, 𝑒𝑛 𝑒𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑢𝑖𝑡 𝑚𝑦 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑤𝑦𝑠.” (Jak. 2:18b AFR20)
As ons té besig is met die dinge van God en nie die God van die dinge nie, moet God ingryp. As ons té gefokus is op die onderhouding van godsdienstige reëls, maar nie God en ander opreg lief het nie, moet ons bekeer en vra dat God se Gees sy kragtige transformerende werk in ons harte sal doen. As ons sê ons het God lief, maar ons leef selfsugtige en onheilige lewens, moet ons berou hê en vra dat die Heilige Gees se krag ons gedrag verander.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Watter bewyse is daar in my lewe dat my hart deur die Heilige Gees verander is? Weerspieël my uiterlike gedrag dít wat God in my gedoen het?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Liewe Heer, vergewe my as ek skuldig is daaraan dat ek dalk ook soms daarop fokus om godvrugtig voor te kom, maar nie opreg is in my liefde vir U of vir ander nie. Mag ek ’n lewe van getrouheid aan U en u Woord najaag en ’n lewe van integriteit leef. Tot u eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟑 – 𝐃𝐢𝐞 𝐥𝐚𝐚𝐬𝐭𝐞 𝐝𝐚𝐞 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Die wêreld waarin ons leef is boos en ons word amper elke dag gekonfronteer met die gevolge van selfsugtige en selfgesentreerde dade. Ons moenie verbaas wees as mense wat nie aan Christus behoort nie, op goddelose maniere optree nie. In die derde hoofstuk van Paulus se tweede brief aan Timoteus, berei hy hom voor vir ’n aanslag op godsaligheid. Dit sou nie ’n tydelike beproewing wees nie, maar ’n permanente kenmerk van hoe die lewe sal wees in die laaste dae.
“¹𝐷𝑖́𝑡 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑡: 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑠𝑡𝑒 𝑑𝑎𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑦𝑒 𝑘𝑜𝑚. ²𝐷𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠𝑢𝑔𝑡𝑖𝑔 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑔𝑒𝑙𝑑𝑔𝑖𝑒𝑟𝑖𝑔, 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡𝑝𝑟𝑎𝑡𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑎𝑎𝑛𝑑, 𝑏𝑒𝑙𝑒𝑑𝑖𝑔𝑒𝑛𝑑 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑒𝑑𝑒𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑢𝑒𝑟𝑠, 𝑜𝑛𝑑𝑎𝑛𝑘𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑔𝑜𝑑𝑠𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠𝑡𝑖𝑔; ³ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑𝑝𝑟𝑎𝑡𝑒𝑟𝑠, 𝑏𝑎𝑛𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑛 𝑤𝑟𝑒𝑒𝑑, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒; ⁴ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑎𝑖𝑒𝑟𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑟𝑜𝑒𝑘𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑔ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔. 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑒𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑡 ℎ𝑒̂ 𝑎𝑠 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝐺𝑜𝑑.” – 2 Timoteus 3:1-4 (AFR83)
Die laaste dae is nie iets wat vêr in die toekoms is nie. Timoteus se tyd was reeds die laaste dae en ons s’n ook. Dit is die tyd tussen Jesus se oorwinning aan die kruis en sy finale wederkoms. En dit is ’n era van geleenthede – vir mense oraloor om na Christus te draai vir redding. Sy oorwinning is volmaak en sy wederkoms is seker. Maar, terwyl ons op Hom wag, sal ons heelwat seisoene van beproewing ervaar wat moeilik is om te verduur.
In verse 2-4 lys Paulus 18 kenmerke van goddeloosheid wat ons in hierdie laaste dae sal sien. Eerstens sal mense hulself liefhê – hulle sal selfgesentreerd wees, behep met hulself en hul eie belange. Die enigste ding wat hulle net so lief sal hê as hulself, sal geld wees. Soos hulle hierdie selfliefde aankweek, sal hulle grootpraterig en trots word.
Selfliefde en trots sal in hul verhoudings wys soos hulle beledigend en ongehoorsaam word. Hulle sal ondankbaar, onheilig, liefdeloos en onvergewensgesind wees. Hul taal sal lasterlik wees en hul gedrag buite beheer. Hulle sal wreed wees en haat wat goed is. Hulle sal hul vriende verraai en roekeloos en arrogant wees. Laastens sal hulle egoïsties wees – lief wees vir plesier eerder as God, en net daarin belangstel om die lewe te geniet. Hmm... lyk amper of Paulus dit vir ons geskryf het, of hoe?
Kyk, dit is nie ’n mooi prentjie nie, maar dit is die natuurlike uitwerking van harte wat op die self, eerder as God, gerig is. Hierdie dinge moet ons grief, want ons sou net só gewees het as God nie ons harte op Hom gerig het nie. Die wortel van hierdie goddeloosheid is eieliefde, en daar is net een geneesmiddel: die goeie nuus van die evangelie. Hierdeur is verandering moontlik: “¹⁷𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚, 𝑎𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 ℎ𝑦 '𝑛 𝑛𝑢𝑤𝑒 𝑠𝑘𝑒𝑝𝑝𝑖𝑛𝑔. 𝐷𝑖𝑒 𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑦𝑔𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛 – 𝑘𝑦𝑘, ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑢𝑢𝑡 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑.” (2 Kor. 5:17 AFR20).
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek is ’n nuwe skepping. Ek kan nie en mag nie aan hierdie wêreld gelyk word nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, dankie dat U my ’n nuwe skepping gemaak het in Christus. So dikwels tree ek ook nog op uit te veel selfliefde en trots en beïnvloed dit my gedrag verkeerd. Here, help my om U alleen lief te hê. Mag ek en u kerk getrou bly aan Jesus ten spyte van die sondige gedrag van die wêreld rondom ons. Here Jesus, bring asseblief u verlossing aan die mense wat ek ken wat U nie lief het nie. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟐 – 𝐀𝐬 𝐦𝐞𝐧𝐬𝐞 𝐝𝐢𝐞 𝐤𝐚𝐭 𝐚𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐭𝐞𝐫𝐭 𝐛𝐞𝐞𝐭 𝐡𝐞𝐭 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
In my lewe – veral vandat ek in die bediening is – het ek al baie teorieë, ideologieë en vreemde teologieë teëgekom. Met die bombardering van inligting wat deesdae beskikbaar is, eet mense sommer gou enigiets – as dit beteken hulle hoef nie 100% getrou te bly aan God se Woord nie – soos soetkoek op. So, hoe maak ons met mense binne die kerk wat deur hierdie foute mislei word?
“²⁴'𝑛 𝐷𝑖𝑒𝑛𝑠𝑘𝑛𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑟𝑢𝑠𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑟𝑖𝑒𝑛𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙, 𝑏𝑒𝑘𝑤𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔, 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔, ²⁵𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑎𝑔𝑡ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑡𝑒𝑟𝑒𝑔𝑤𝑦𝑠. 𝑀𝑖𝑠𝑘𝑖𝑒𝑛 𝑚𝑎𝑔 𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑜𝑡 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑘𝑒𝑛, ²⁶𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑜𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑖𝑛𝑛𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑘𝑜𝑚 – 𝑣𝑟𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑖𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐷𝑢𝑖𝑤𝑒𝑙, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑤𝑖𝑒 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑢 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑤𝑖𝑙 ℎ𝑒̂.” – 2 Timoteus 2:24-26 (AFR20)
Paulus sê daar is twee soorte teenstanders. Eerstens, bedrieërs – mense wat ’n voorkoms van godsaligheid het, maar nie werklik gered is nie. Paulus waarsku ons later in sy brief oor hierdie mense (3:5-8). Hulle is gevaarlik omdat hulle ons van die evangelie kan weglei, en daarom moet ons hulle vermy. Tweedens is daar mense wat Jesus opreg wil volg, maar ’n verkeerde begrip van die waarheid het. Ek dink baie van ons ken so iemand.
Paulus sê ons moet hierdie mense “𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑎𝑔𝑡ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑡𝑒𝑟𝑒𝑔𝑤𝑦𝑠” (v. 25), of “𝑚𝑜𝑜𝑖 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑡𝑒 𝑝𝑎𝑑 ℎ𝑒𝑙𝑝” (Die Boodskap). Dit gaan nie hier oor wie die slimste is of wie die meeste of beste reg is nie, maar dit gaan hier oor bekering – ’n verandering van hart en denke. Dit is alles God se werk. Anders as wat baie predikante dink, kan niemand van ons self iemand tot bekering bring nie, maar ons kan getrou wees om die waarheid te leer en te bid dat God harte en gedagtes sal verander. Wat ’n wonderlike voorreg. God het in ons lewens gewerk om ons tot bekering te bring en gebruik ons nou genadiglik om die waarheid te praat sodat ander ook tot bekering gebring sal word.
Mense wat deur foute en dwaalleer mislei is, is deur die duiwel gevange geneem en moet gered word. Hulle word deur Satan mislei en verslaaf. As ons poog om valse leerstellings reg te stel, is ons in ’n oorlog gewikkel – ’n onsigbare geestelike stryd om die gedagtes van mense wat deur Satan mislei is te bevry. Ons moet dit onthou terwyl ons diegene wat die waarheid verwerp of verkeerd verstaan geduldig en sagkens nader en hulle oorreed om terug te keer na die waarheid. As ons dit só doen, weerspieël ons die manier waarop God ons meedoënloos genader het toe ons Hom verwerp het. Ons moenie streef om argumente te wen nie, maar harte – ons moenie twisgierig wees nie, maar saggeaard.
Kan jy sien hoekom dit so nodig is dat ons moet bid vir ons kerkleiers terwyl hulle in hierdie stryd betrokke raak. En ons moet die suiwerheid, prag en wonder van die evangelie in ons lewens wys.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wie ken ek wat opreg is in hul begeerte om Jesus te volg, maar mislei is in hul verstaan van God se Woord? Hoe kan ek hul valse denke sagkens regstel sodat hulle die evangelie duidelik verstaan?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, daar is baie dwalinge in- en om die kerk vandag. Mag ons kerkleiers in u waarheid bly. Help my om die geleenthede raak te sien wat U my gee om die wonder van die evangelie te wys in my lewe. Gebruik my, sodat U mense tot bekering en verlossing sal bring. Mag ons lewens só wees, dat ander mense sal besef hoe groot U is en hoe en aangetrek sal word na die waarheid wat daar is in ons Here Jesus Christus. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟏 – 𝐎𝐨𝐫 𝐝𝐰𝐚𝐬𝐞 𝐞𝐧 𝐚𝐟𝐛𝐫𝐞𝐤𝐞𝐧𝐝𝐞 𝐭𝐰𝐢𝐬𝐠𝐞𝐬𝐩𝐫𝐞𝐤𝐤𝐞 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe moet ’n leier lyk wat gehoorsaam is aan God? Hoe sal só ’n persoon optree teenoor mense wat nie met hom/haar saamstem nie?
“²²𝑉𝑙𝑢𝑔 𝑤𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟𝑡𝑒𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑗𝑒𝑢𝑔 𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑟𝑒𝑒𝑓, 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑟𝑒𝑖𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑎𝑎𝑛𝑟𝑜𝑒𝑝, 𝑛𝑎 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓, 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒; ²³𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑚𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑤𝑎𝑠𝑒 𝑒𝑛 𝑎𝑓𝑏𝑟𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑡𝑤𝑖𝑠𝑔𝑒𝑠𝑝𝑟𝑒𝑘𝑘𝑒, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑎𝑛𝑙𝑒𝑖𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑔𝑒𝑒 𝑡𝑜𝑡 𝑟𝑢𝑠𝑖𝑒𝑠. ²⁴'𝑛 𝐷𝑖𝑒𝑛𝑠𝑘𝑛𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑟𝑢𝑠𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑟𝑖𝑒𝑛𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙, 𝑏𝑒𝑘𝑤𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔, 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔,” – 2 Timoteus 2:22-24 (AFR20)
Paulus sê vir Timoteus dat as hy ’n leier wil wees wat wys dat hy goeie vrugte dra vir God, moet hy ‘wegvlug vir die bose begeertes van die jeug’ (v. 22).
Wanneer ons gewoonlik dink aan die begeertes van die jeug, dan assosieer ons dit dikwels met seksuele onreinheid. Maar – in die konteks van hierdie deel van sy brief – lyk dit meer waarskynlik dat Paulus Timoteus waarsku teen die neiging van jongmense om argumenterend, arrogant, heethoofdig en rebels te wees. Hy sê hier vir Timoteus om nie kort van draad, opvlieënd of aggressief te wees teenoor diegene wat nie met jou saamstem nie. Hy moet eerder hierdie kenmerke van godsaligheid najaag: regverdigheid, geloof, liefde en vrede.
Paulus herhaal hier die opdragte wat hy vir Timoteus in sy eerste brief gegee het – om te vlug van die rusies en hebsug wat die dwaalleraars kenmerk, en sê weer vir hom: “𝑆𝑡𝑟𝑒𝑒𝑓 𝑒𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑛𝑎 •𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑔𝑜𝑑𝑣𝑟𝑒𝑠𝑒𝑛𝑑ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒, 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑎𝑟𝑑𝑖𝑛𝑔, 𝑠𝑎𝑔𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑.” (1 Tim. 6:11b AFR20).
Dit is hoe godsaligheid lyk. Dit is die voorbeeld wat Timoteus vir die gemeente in Efese moet stel. Dit is die voorbeeld wat alle kerkleiers behoort te stel. En dit is ’n voorbeeld wat ons almal moet volg. “...𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑟𝑒𝑖𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑎𝑎𝑛𝑟𝑜𝑒𝑝” (v. 22) is almal wat aan God behoort en van sonde gereinig is. Dit sluit ons in as ons volgelinge van Jesus is.
Vanuit ons sondige natuur is ons geneig om te stry en te stry maar, as God se dienaars, moet ons “...𝑣𝑟𝑖𝑒𝑛𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙...” (v. 24). Dit beteken nie dat ons valse leringe sommerso sal laat verbygaan nie, sonder om dit te konfronteer en probeer regstel – Paulus sal dit in die volgende verse aanspreek. Maar eerder as om argumenterend te wees, sal ons vrede nastreef. Eerder as om krities of gegrief teenoor ander te wees, sal ons liefde toon. Eerder as om in dwase rusies betrokke te raak, sal ons God se Woord wil leer soos ons die geleentheid het – in ons gesinne; in ons kleingroepe; aan die jongmense wat ons ken; en aan ons ongelowige vriende en bure. As ons godvrugtig wil wees, moet ons weghardloop van die gevare van stryery en baklei, en eerder na geregtigheid hardloop.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wanneer kom ek die meeste in die versoeking om argumenterend, kort van draad of opvlieënd te wees teenoor ander gelowiges? Wat sou verander as ek geregtigheid, geloof, liefde en vrede in my verhoudings sou nastreef? Hoe kan ek vandag praktiese een van hierdie eienskappe nastreef?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Heilige Gees wat in my woon, help my om nie kort van draad, opvlieënd of aggressief te wees teenoor mense wat nie met my saamstem nie. Verander my denke en my gemoed, sodat ek geregtigheid, geloof, liefde en vrede sal nastreef. Tot eer van my God en Vader. In Jesus se Naam, bid ek dit. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟏𝟎 – 𝐁𝐫𝐮𝐢𝐤𝐛𝐚𝐫𝐞 𝐠𝐞𝐫𝐞𝐞𝐝𝐬𝐤𝐚𝐩. (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is deesdae allerhande realiteitsprogramme op televisie waar jy – in ’n mate – ’n kykie kry in die lewens van ander mense. In meeste van hierdie programme word hierdie mense se huise uitgebeeld as baie groot wonings met net die beste dinge daarin. TV-kykers kyk daarna en begin dalk dink dat die dinge wat hulle het nie goed genoeg is nie, want “ander mense” het dan net die beste... Paulus skryf:
“²⁰𝐼𝑛 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 ℎ𝑢𝑖𝑠 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒 𝑛𝑒𝑡 𝑔𝑜𝑢𝑒 𝑒𝑛 𝑠𝑖𝑙𝑤𝑒𝑟𝑣𝑜𝑜𝑟𝑤𝑒𝑟𝑝𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑤𝑒𝑟𝑝𝑒 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑢𝑡 𝑒𝑛 𝑘𝑙𝑒𝑖 – 𝑠𝑜𝑚𝑚𝑖𝑔𝑒 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑓𝑎𝑡𝑠𝑜𝑒𝑛𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑢𝑖𝑘, 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑜𝑛𝑓𝑎𝑡𝑠𝑜𝑒𝑛𝑙𝑖𝑘. ²¹𝐴𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 ℎ𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑑𝑎𝑛 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑖𝑛𝑖𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒, 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑦 '𝑛 𝑓𝑎𝑡𝑠𝑜𝑒𝑛𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑤𝑒𝑟𝑝 𝑤𝑒𝑒𝑠: 𝑎𝑓𝑔𝑒𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟, 𝑏𝑟𝑢𝑖𝑘𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐸𝑖𝑒𝑛𝑎𝑎𝑟, 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑖𝑘 𝑣𝑖𝑟 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘.” – 2 Timoteus 2:20-21 (AFR20)
Ja, groot, pragtige, duur huise is vol duur eetgerei – goue en silwer skottelgoed, en kristalglase – wat deur die eienaar van die huis en sy gesin of gaste gebruik word. Maar hierdie plekke bevat ook alledaagse gereedskap wat deur die bediendes gebruik word vir geringe take soos om badkamers skoon te maak of vloere te skrop. Paulus vergelyk die kerk met só ’n huis. Hy sê dat in God se huis is dit net die waardevolle gereedskap wat tel – nie oor hoeveel hulle in geldelike terme werd is nie, maar weens hul doel.
As ons God wil dien, moet ons rein wees. In die Ou Testament moes alles wat in die Joodse tempel gebruik is afgesonder en gereinig word. Net so, as ons afgesonder word om ons Meester te dien, moet ons ook gereinig word – van valse leringe wat geloof vernietig (v. 18), en van die sondige gedrag waartoe hierdie lering lei (v. 19). Ons kan slegs vir God nuttig wees as ons afgesonder en heilig is. Dan sal ons “...𝑔𝑒𝑠𝑘𝑖𝑘 (𝑤𝑒𝑒𝑠) 𝑣𝑖𝑟 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘...” wat Hy vir ons het (v. 21).
Paulus het in die voorafgaande gedeelte Timoteus se lering en gedrag gekontrasteer met dié van die valse leraars in Efese. In hierdie volgende verse is dit waarskynlik dat hy voortgaan om getroue en valse leraars te kontrasteer eerder as gelowiges en ongelowiges. Maar vers 21 is ’n bemoediging vir elkeen wat Jesus wil dien. As ons valse leringe vermy en onsself van sonde weerhou – insluitend rusie en goddelose spraak (2:14, 16) – dan sal ons die groot voorreg hê om deur ons Eienaar, Jesus Christus, gebruik te word. As ons waarheid en heiligheid nastreef, sal ons voorbereid wees vir sy goeie werke.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat is van die goeie werke waartoe Jesus my geroep het? Op watter maniere moet ek verander om voorbereid te wees vir hierdie werke? Hoe sal God se Woord my help om dit te doen?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, gee my die diepe hartsbegeerte om heiligheid na te streef. Help my om die dinge te vermy wat my daarvan weerhou om nuttig vir U te wees. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟎𝟖 – “𝑫𝒊𝒆 𝑯𝒆𝒓𝒆 𝒌𝒆𝒏 𝒅𝒊𝒆𝒈𝒆𝒏𝒆 𝒘𝒂𝒕 𝒂𝒂𝒏 𝑯𝒐𝒎 𝒃𝒆𝒉𝒐𝒐𝒓𝒕” (Kliek hier vir die klankgreep)
“¹⁹𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑜𝑔 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑓𝑜𝑛𝑑𝑎𝑚𝑒𝑛𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑡𝑒𝑤𝑖𝑔, 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑖𝑛𝑠𝑘𝑟𝑖𝑝𝑠𝑖𝑒, “𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑘𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑡” 𝑒𝑛, “𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑁𝑎𝑎𝑚 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑎𝑛𝑟𝑜𝑒𝑝, 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑢𝑔 𝑜𝑝 𝑜𝑛𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑒𝑒𝑟.”” – 2 Timoteus 2:19 (AFR20)
Soos dit vandag nog gaan regoor die wêreld, het valse lering vinnig versprei in Efese, maar Paulus het geweet dat God se vaste fondament vas staan. Hierdie fondament is die kerk. In sy eerste brief aan Timoteus, verwys Paulus na die kerk as “...'𝑛 𝑝𝑖𝑙𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑛 '𝑛 𝑓𝑜𝑛𝑑𝑎𝑚𝑒𝑛𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑.” (1 Tim. 3:15). Hier gebruik hy weer argitektuur as beeldspraak om vir Timoteus te herinner dat, alhoewel daar sommige is wie se geloof geskud word, die kerk – God se vaste fondament – veilig sal bly.
In antieke tye was ’n seël soms op ’n gebou gegraveer as bewys van eienaarskap sodat almal sou weet aan wie dit behoort of wie dit ontwerp of gebou het – soos ons vandag ook nog op sekere geboue vind. Paulus sê God het sy seël van eienaarskap op die kerk gegraveer om te wys dat ons aan Hom behoort en om ons permanente eienaarskap te waarborg. As sy mense is ons veilig en is ons maklik om te identifiseer, want hierdie seël het ’n inskripsie.
Ons vertroue en motivering is nie gebaseer op die brose hoop dat ons God ken nie, maar op die onwrikbare waarheid dat Hy ons ken. Ons moet baie mooi besef: God kan nie deur skynheiligheid mislei word nie; Hy ken diegene wat Hy vir die ewige lewe gekies het. Ons sal in ons lewens baie mense teëkom wat probeer om die evangelie te ondermyn met hul valse lering en gedrag, maar ons hoef nie bang of onseker te wees nie. God kan onderskei tussen sy uitverkore volk en bedrieërs, en Hy sal uiteindelik diegene oordeel wat nie aan Hom behoort nie.
So, hoe lyk ons ander? Ons – diegene wat aan God behoort – demonstreer ons opregte geloof deur bekering van sonde en gehoorsaamheid aan Hom. Ons bely die Naam van die Here deur weg te draai van sonde en op Hom te vertrou vir redding. Ons sal wegdraai van valse leringe wat lei tot korrupte denke en goddelose gedrag (1 Tim. 6:3-5). In plaas daarvan sal ons groei in heiligheid as ons God se Woord gehoorsaam.
Is dit darem nie ’n wonderlike bemoediging dat die Here ons gekies het, en dat Hy ons in staat sal stel om getrou te bly en te wys dat ons aan Hom behoort deur ons gehoorsame gedrag nie? God se kerk sal vas staan. Dit is ons hoop en vertroue in die aangesig van valse lering.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe gee die belofte dat “𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑘𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑡” my versekering? Wanneer sal hierdie waarheid my veral bemoedig? Is daar spesifieke sondes waarvan ek my moet bekeer? Wys die manier waarop ek leef dat ek aan die Here behoort?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie dat ek aan U behoort. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟎𝟕 – 𝐊𝐞𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐰𝐚𝐚𝐫𝐡𝐞𝐢𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die woorde wat ons elke dag gebruik en die woorde wat ons aanhoor is baie belangrik. Van jonk af, het ek geleer om nie my ore uit te leen vir allerhande skinderstories en leë praatjies nie. As iemand iets oor iemand anders wil sê of sommer bog kwytraak, vat ek dit maar met ’n knippie sout – totdat ek sélf die waarheid kan bepaal. Paulus skryf:
“¹⁴𝐻𝑒𝑟𝑖𝑛𝑛𝑒𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒, 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑠𝑘𝑢 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑒𝑟𝑛𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑦 𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑢𝑡𝑡𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒́ 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑎𝑛ℎ𝑜𝑜𝑟, 𝑡𝑒𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑟𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒. ¹⁵𝐿𝑒̂ 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑝 𝑡𝑜𝑒 𝑜𝑚 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑙 𝑎𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑒𝑡, 𝑎𝑠 '𝑛 𝑎𝑟𝑏𝑒𝑖𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑒𝑓 𝑡𝑒 𝑠𝑘𝑎𝑎𝑚 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑢𝑖𝑡 𝑝𝑎𝑑 𝑎𝑎𝑛𝑑𝑢𝑖. ¹⁶⁻¹⁷𝑉𝑒𝑟𝑚𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑑𝑑𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒, 𝑙𝑒𝑒̈ 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡𝑗𝑖𝑒𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒, 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝐻𝑖𝑚𝑒𝑛𝑒𝑢𝑠 𝑒𝑛 𝐹𝑖𝑙𝑒𝑡𝑢𝑠, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑡𝑜𝑒𝑛𝑒𝑚𝑒𝑛𝑑 𝑔𝑜𝑑𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑝𝑟𝑒𝑖. ¹⁸𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑎𝑓𝑔𝑒𝑑𝑤𝑎𝑎𝑙 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑡𝑒 𝑠𝑒̂ 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑝𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑝𝑙𝑎𝑎𝑠𝑔𝑒𝑣𝑖𝑛𝑑 ℎ𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑑𝑜𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑔𝑜𝑜𝑖 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑜𝑚𝑚𝑖𝑔𝑒 𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑜𝑚𝑣𝑒̂𝑟.” – 2 Timoteus 2:14-18 (AFR20)
Paulus kontrasteer hier die sorgelose woorde wat deur valse leraars gespreek word met die versigtige manier waarop Timoteus God se Woord moes leer. Paulus sê dat ons ons nie moet steur aan die praatjies van mense wat die waarheid wat in ons harte leef weerspreek nie. Maar woorde kan groot skade berokken; dit kan mense “...𝑡𝑒𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑟𝑖𝑔 ...” (v. 14). Hoe gebeur dit?
’n Alewige twis oor allerhande dinge, lei ons aandag van die evangelie af, veral wanneer ons tyd spandeer om te stry oor onbelangrike kwessies wat ons nie bevoordeel nie. Dit stop ons nie net om te fokus op ons missie om dissipels te maak nie, maar ons kan ook die gevaar loop om op een of ander manier stertjies by te las by die evangelieboodskap.
Die valse leraars in Efese het dit gedoen. Himeneus en Filetus het geleer dat al God se toekomstige beloftes reeds vervul is en al die seëninge van die hemel nou ervaar kan word. Vir hulle het dit vryheid van lyding en ’n gratis kaartjie om óf heeltemal van die wêreld te onttrek óf om selfvoldaan te raak oor sonde beteken. Timoteus moes eerder fokus om ywerig te wees om God se Woord suiwer te leer (v. 15). Anders as hierdie valse leraars wat na mense kyk vir goedkeuring, moes hy goedkeuring by God alleen soek. Hy moes valse lering vermy sodat hy nie kwesbaar sou wees om van die waarheid af te dwaal en goddeloos te word in sy gedrag nie.
Bedienaars van die Woord het ’n verantwoordelikheid om God se Woord met integriteit en ywer te hanteer. Hulle moet die Woord ken en verstaan, sodat hulle die kerk kan beskerm teen valse leringe wat mense wegtrek van die evangelie. Hulle moet die Woord getrou leer en toepas sodat hulle hoorders sal groei in waarheid en godsaligheid.
Ons almal weet tog dat valse lering deesdae vinnig en gevaarlik versprei, soos ’n kanker. Maar in plaas daarvan om liggaamsweefsel dood te maak of ledemate en spiere te vernietig, vernietig valse lering geloof. As ons geestelik gesond wil bly, moet ons dit ten alle koste vermy. Dit beteken dat ons na Skrifgetroue Bybel-leraars moet luister en ywerig moet wees om God se Woord self noukeurig te bestudeer, sodat ons valse leringe kan herken. Ons moet die waarheid ken sodat ons dit kan gehoorsaam.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat kan ek doen om meer gedissiplineerd te wees in persoonlike Bybelstudie?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, laat die Bedienaars van die Woord wat ek ken, die Woord met integriteit sal hanteer en versigtig en suiwer sal toepas. Help my om meer ywerig te wees in my persoonlike studie van u Woord. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟎𝟔 – 𝐋𝐲𝐝𝐢𝐧𝐠 𝐛𝐫𝐢𝐧𝐠 𝐯𝐫𝐞𝐮𝐠𝐝𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vanuit ’n Engelse gesegde word daar vir mense geleer dat daar twee dinge is in hierdie lewe wat jy nie kan ontduik nie: die dood en belasting. Ja, lyding is deel van die lewe – hetsy dit nou belasting is wat betaal moet word, die rou van ’n geliefde se dood, of dalk net erge fisiese of emosionele pyn wat ons moet verduur. Maar die Bybel leer ons dat lyding in hierdie lewe later lei tot heerlikheid. Dit klink amper cliché, teenstrydig en soos valse hoop, maar dit ís wel so. Paulus skryf:
“¹¹𝐷𝑖𝑒́ 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑝𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑖𝑠 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟:
𝐴𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟𝑓 ℎ𝑒𝑡, 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑙𝑒𝑒𝑓;
¹²𝑎𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑎𝑎𝑛ℎ𝑜𝑢 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑎𝑟𝑑, 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑟𝑒𝑔𝑒𝑒𝑟;
𝑎𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝐻𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑒̈𝑛, 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑦 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑒̈𝑛;
¹³𝑎𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑖𝑠, 𝐻𝑦 𝑏𝑙𝑦 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐻𝑦 𝑘𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑒̈𝑛 𝑛𝑖𝑒.
¹⁴𝐻𝑒𝑟𝑖𝑛𝑛𝑒𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒, 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑠𝑘𝑢 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑒𝑟𝑛𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐺𝑜𝑑 𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑦 𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑢𝑡𝑡𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒́ 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑎𝑛ℎ𝑜𝑜𝑟, 𝑡𝑒𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑟𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒.” – 2 Timoteus 2:11-14 (AFR20)
Hierdie verse is ’n bemoediging vir diegene wat getrou is aan Christus, en ’n waarskuwing vir diegene wat ontrou is.
Ons vind hier ’n belofte van hoop vir diegene wat getrou is om Jesus te volg. Jesus het sy dissipels geleer dat om Hom te volg, hulle bereid moet wees om ‘hulleself te verloën’ (Lukas 9:23–24). Hy het sy lewe prysgegee en sy volgelinge moet dieselfde doen. Daar lê ewige heerlikheid voor – ons sal saam met Christus lewe en vir ewig saam met Hom regeer. Maar in hierdie lewe – elke dag – word ons geroep om die eie-ek te laat sterf. Ons moet elke dag die sonde en ons selfsugtige begeertes laat afsterf. Ons word geroep om swaarkry te verduur terwyl ons die voorbeeld van ons lydende Verlosser volg.
Maar hoe sal dit lyk in praktyk? Dit beteken dat ons ons tyd, energie en hulpbronne aan die diens van evangeliebediening bestee eerder as ons eie plesier. Dit beteken dat ons bespotting, diskriminasie en selfs vervolging sal verduur, terwyl ons in gehoorsaamheid aan God se Woord lewe. Dit beteken dat ons gerief, sekuriteit, goedkeuring en beheer sal opoffer, terwyl ons ons op elke gebied van ons lewe aan Jesus onderwerp. Maar die beloning is, soos die Engelse sê, ‘out of this world’! Ons sal vir ewig saam met Christus lewe en regeer. Om Jesus te volg is ’n duur prys om te betaal; dit eis opoffering. Maar ons ewige beloning sal veel groter wees as enige opoffering wat ons ooit in hierdie lewe sal maak.
Ons moet egter nie die sterk waarskuwing vir diegene wat bewys dat hulle ontrou is mis nie. Diegene wat Jesus in hierdie lewe verloën, sal deur Hom verloën word in die lewe wat kom. Jesus het gesê: “³³𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑀𝑦 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑒̈𝑛, 𝑠𝑎𝑙 𝐸𝑘 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑚𝑦 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑒̈𝑛.” (Matt. 10:33 AFR20). As ons Jesus as Verlosser en Koning verwerp, sal Hy ons verloën wanneer Hy terugkeer om die wêreld te oordeel. God kan nooit ontrou aan Homself wees nie en ons weet dat God nie lieg nie – Hy kan nie sy beloftes van verlossing en oordeel verbreek nie. Hy sal altyd getrou bly aan sy karakter en Woord. Dit beteken dat Hy sonde sal oordeel en diegene straf wat sy evangelie van genade verwerp. Ons moet anders wees. Ons moet dié wees wat Hom getrou volg.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe spandeer ek my tyd, energie en geld? Watter opofferings kan ek maak om in evangeliebediening te belê?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Heilige Gees, lei my en versterk my, sodat ek op elke gebied van my lewe my aan Jesus sal onderwerp. Dankie, vir die beloning wat U belowe het vir diegene wat aan hulself sal sterf en aan U getrou sal bly. Help my om só te leef. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟎𝟓 – 𝐊𝐞𝐭𝐭𝐢𝐧𝐠𝐬 𝐤𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐭 𝐧𝐢𝐞 𝐤𝐞𝐞𝐫 𝐧𝐢𝐞 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Om effektiewe dienaars te wees in die bediening van die evangelie, is dit nodig dat ons onthou oor Wie die evangelie gaan – ons moet vir Jesus onthou. Dit mag dalk voor die hand liggend lyk, maar dit is maklik om afgelei te word van die fokus op Jesus – hetsy deur die besige bedrywighede van die kerk, of deur die druk van die lewe, of deur die moedeloosheid wat ons in die gesig staar wanneer ons die evangelie met vriende en familie deel. Paulus skryf:
“⁸𝑂𝑛𝑡ℎ𝑜𝑢 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑑𝑎𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠, 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑛𝑎𝑔𝑒𝑠𝑙𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝐷𝑎𝑤𝑖𝑑, 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑤𝑒𝑘 𝑖𝑠 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑚𝑦 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒, ⁹𝑤𝑎𝑎𝑟𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑘 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑢𝑘𝑘𝑖𝑛𝑔 𝑙𝑦 – 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑖𝑛 𝑏𝑜𝑒𝑖𝑒, 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑚𝑖𝑠𝑑𝑎𝑑𝑖𝑔𝑒𝑟. 𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑒𝑖 𝑛𝑖𝑒! ¹⁰𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑢𝑢𝑟 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑡𝑒𝑟 𝑤𝑖𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑟𝑒𝑛𝑒𝑠, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑜𝑘 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑚𝑒𝑡 𝑒𝑤𝑖𝑔𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑟𝑦.” – 2 Timoteus 2:8-10 (AFR20)
Ons moet onthou dat Jesus die beloofde Koning is – die een wat uit die nageslag van Dawid gebore is en wat vir ewig sal regeer. Jesus is die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë van ’n messias wat God se volk sou red en verlos. Sy opstanding uit die dood is die basis vir ons geloof en ons hoop op die ewige lewe. Die evangelie is nie sommer net goeie nuus nie. Die evangelie is die beste nuus, want Jesus leef!
Paulus het erge lyding ervaar en was gesien as ’n misdadiger omdat hy geleer het dat Jesus die opgestane Verlosser is. Maar terwyl Paulus in kettings was, was die evangelie nie. Dit het voortgegaan om te versprei en mense uit die slawerny van sonde te red. Paulus het geweet dat sy gevangenskap die evangelie bevorder, aangesien ander gelowiges moed gevind het om Jesus meer vreesloos te verkondig (Fil. 1:12–14). Hy het altyd die ewige heerlikheid in gedagte gehad van almal wat die evangelie sal hoor en gered sal word as gevolg van sy lyding. Hy was bereid om marteling en lyding van die Romeine te verduur, en uiteindelik teregstelling, ter wille van die redding van ander gelowiges.
Paulus het op soveel verskillende maniere – alhoewel in ’n baie mindere mate – die voorbeeld van Jesus nageboots. Jesus het harde, onregverdige behandeling en uiteindelik die dood gely om diegene te red wat God gekies het. Ons verlossing kon slegs bereik word ten koste van Jesus se eie lewe. As ons Jesus toegewyd en met volharding volg, moet ons verwag om op een of ander manier sy lyding te deel. Maar hierdie verse in 2 Timoteus gee ons drie groot bemoedigings:
1. Jesus Christus is uit die dood opgewek – ons is verseker van ons verlossing.
2. God se Woord kan nie geboei word nie – so ons kan vertrou dat dit sal aanhou versprei en vrugte dra, ten spyte van enige beperkinge wat op ons geplaas word terwyl ons dit probeer deel.
3. Ons is verseker van die toekomstige ewige heerlikheid – sodat ons tydelike lyding kan verduur.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe het Jesus se opstanding my lewe en my ewige toekoms verander?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, U woord is vol beloftes en versekering. Wees met my tydens beproewings en gee my krag om dit te verduur. Skenk aan my ’n ewigheidsperspektief. Dankie, dat U Woord nie geboei kan word nie en dit steeds vandag in staat is om mense te red van die slawerny van sonde. Ek loof en prys U, in Jesus se Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟎𝟒 – 𝐒𝐨𝐥𝐝𝐚𝐭𝐞, 𝐚𝐭𝐥𝐞𝐭𝐞 𝐞𝐧 𝐛𝐨𝐞𝐫𝐞 𝐯𝐢𝐫 𝐂𝐡𝐫𝐢𝐬𝐭𝐮𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep)
As volgelinge van Jesus Christus, is dit soms moeilik vir ons om te weet wat om te doen, hoe om op te tree en waar en wanneer om dit te doen. Hoe lyk ware dissipelskap? Hoe lyk dit om Jesus eensgesind te volg? Paulus gee vir Timoteus en vir ons drie beelde wat vir ons wys hoe ons moet lewe.:
“³𝑉𝑒𝑟𝑑𝑢𝑢𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑏𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔, 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑙𝑑𝑎𝑎𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠. ⁴'𝑛 𝑆𝑜𝑙𝑑𝑎𝑎𝑡 𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑟𝑖𝑘 𝑖𝑛 𝑠𝑎𝑘𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑑𝑎𝑎𝑔𝑠𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑠𝑦 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙𝑣𝑜𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑡𝑒𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑠𝑡𝑒𝑙. ⁵𝑉𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑 '𝑛 𝑎𝑡𝑙𝑒𝑒𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 '𝑛 𝑤𝑒𝑑𝑙𝑜𝑜𝑝 𝑑𝑒𝑒𝑙𝑛𝑒𝑒𝑚, 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑘𝑟𝑜𝑜𝑛 𝑎𝑠 ℎ𝑦 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑒̈𝑙𝑠 𝑚𝑒𝑒𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑛𝑖𝑒. ⁶𝐷𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑑𝑏𝑜𝑢𝑒𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑒𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑒𝑠 𝑘𝑟𝑦. ⁷𝐷𝑖𝑛𝑘 𝑛𝑎 𝑜𝑜𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑠𝑒̂, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑛𝑠𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑒 𝑖𝑛 𝑎𝑙 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒.” – 2 Timoteus 2:3-7 (AFR20)
Ons moet, eerstens, soos soldate wees. Waarvoor is ons hier? Hoekom lewe ons? Ons lewe om Jesus te dien en ons moet daarna streef om Hom te behaag deur lojaal, gefokus en gehoorsaam te wees. Net soos ’n goeie soldaat se aandag nie van sy doel en roeping afgetrek moet word deur burgerlike en alledaagse aktiwiteite nie, so sal goeie soldate van Christus Jesus hulle aandag daarop vestig om Hom te gehoorsaam. Dit beteken nie dat ons geen belangstellings of stokperdjies sal hê nie, maar ons kan nie toelaat dat dit inmeng in die werk wat ons het om die evangelie te versprei nie.
Die meeste van ons werk of studeer of het een of ander verpligting om vir familielede te sorg, en ons moet ons verantwoordelikhede ywerig nakom. Maar evangeliebediening moet ook ’n prioriteit wees. Mis jy dalk geleenthede om Jesus te dien omdat vermaak of sport of ander stokperdjies vir jou belangriker is? Dalk word jy voor ’n moeilike keuse geplaas waar jy moet oorweeg om ’n bevordering of ander loopbaanvordering op te offer, sodat jy meer toegewyd kan wees aan jou kleingroep- of jeugbediening of ander bedieninge in die kerk? Is daar dalk geleentheid in jou lewe waar jy meer doelbewus verhoudings kan of moet bou met ongelowiges met wie jy die evangelie kan deel? Ons fokus moet altyd daarop wees om Jesus te dien.
Die volgende twee beelde van Paulus beeld harde werk en dissipline uit. Ons moet soos atlete en boere wees. Om ’n atleet van Olimpiese Spele kaliber te wees, vereis ’n hoë vlak van fiksheid wat slegs bereik kan word deur maande se streng oefening en opleiding. Om ’n suksesvolle mededinger te wees, beteken dissipline en selfopoffering. Maar die suksesvolle atleet word beloon met ’n medalje van oorwinning. Net so verg boerdery lang ure en harde werk. ’n Boer moet slaap en ander geriewe opoffer om suksesvol te wees. Maar as hulle dit doen, sal hulle met goeie oeste beloon word.
Net so, sê Paulus, moet ons hard werk met doelgerigte toewyding en dissipline. En as ons dit doen, sal ons vrugte sien – lewens wat vir ewig verander is deur die evangelie. Dít is ons motivering om hard te werk aan evangeliebediening. Ons verwag die vreugde om te sien hoe lewens getransformeer word tot God se eer.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Watter dinge is in die pad dat ek Jesus heelhartig dien en volg? Wat moet ek dalk opoffer om meer vrugbaar te wees in my diens areas?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Heilige Gees, lei my om sterk te staan. Help my om nie af te wyk van my doel nie. Gee my krag en volharding. Seën my met die vreugde om te sien hoe U lewens verander. Laat my aanhoudend nadink oor U Woord, Here, en skenk my insig in al die dinge wat goed en aanneemlik is vir U. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟕-𝟎𝟑 – 𝐃𝐞𝐮𝐫 𝐝𝐢𝐞 𝐠𝐞𝐬𝐥𝐚𝐠𝐭𝐞 𝐡𝐞𝐞𝐧 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Genade is iets wat ons eers regtig besef wanneer ons begin ervaar dat daar niks goed is in hierdie wêreld wat ons verdien nie, maar dat daar wel soveel goeie dinge met ons gebeur en dat ons soveel goeie dinge ontvang en ervaar. Ons almal sondig en ons verdien eintlik net straf en swaarkry, maar God is goed.
Genade – as ons dit moet opsom – omvat al die rykdom wat ons in- en deur Jesus Christus het. Paulus skryf vêrder aan Timoteus:
“¹𝐽𝑦 𝑑𝑎𝑛, 𝑚𝑦 𝑘𝑖𝑛𝑑, 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, ²𝑒𝑛 𝑑𝑟𝑎 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑡𝑢𝑖𝑒𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑒𝑡, 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑎𝑛 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑟𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑏𝑒𝑘𝑤𝑎𝑎𝑚 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑚 𝑜𝑜𝑘 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑟𝑖𝑔.” – 2 Timoteus 2:1-2 (AFR20)
Terwyl dit nie altyd maklik is om Jesus 100% te volg nie, moet ons volhou en weet dat daar twee aspekte van genade is wat ons sal versterk terwyl ons as volgelinge van Jesus lewe.
Eerstens, is dit die verlossende genade van God wat Hy deur sy Seun gee om die straf vir ons sonde te dra, sodat ons regverdig verklaar kan word voor sy oë. Om hierdie verlossende genade werklikwaar te ken en ervaar, help ons om in sekerheid te groei en gevorm te word in die beeld van God.
Tweedens, is dit die ondersteunende genade van God wat ons elke dag ervaar, terwyl die Heilige Gees aanhou werk in ons om ons in staat te stel om in geloof te volhard en in godsaligheid te groei. Ons moet elke dag versterk word deur die kennis van hierdie verlossende genade wat ons leer in die Woord en deur die ervaring van God se ondersteunende genade in ons lewens.
God het sy kerk deur ons Here Jesus laat vestig, sodat die evangelie sal groei en getrou van een leraar na ’n ander oorgedra word – deur die geslagte heen totdat Jesus terugkeer. Paulus het die evangelie aan Timoteus oorgedra. Timoteus moes dit aan ander leraars oordra wat dit op hul beurt aan ander sou oordra. Eeue later sien ons die sukses van hierdie strategie. En nou is dit ons doel om die evangelie met ander te deel totdat Jesus weer kom.
Evangeliedienaars – dit is elkeen van ons – het ’n verantwoordelikheid om te belê in die opleiding van toekomstige leraars wat sal voortgaan om die evangelie te leer. Ons moet diegene wat dit getrou doen waardeer, vir hulle bid en hulle ondersteun. Ons kan egter almal betrokke wees om die evangelie van een geslag na ’n ander oor te dra. Ons kan dit in ons gesinne of kleingroepe doen, of in een-tot-een dissiplinering en dissipel-making van jonger lewens.
So dikwels is ons onder druk om die evangelieboodskap aan te pas of te verander om dit meer aanvaarbaar te maak vir diegene rondom ons. Ons het genade nodig om ons te versterk. Ons kan elke dag hoop vind in- en ons verheug oor God se verlossende genade – veral wanneer ons misluk en in die versoeking kom om wanhopig te raak. Ons kan vertrou op die ondersteunende genade van God om ons in staat te stel om te volhard ten spyte van ons swakhede en vrese.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe is ek betrokke by die oordrag van God se evangelie?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Genadige hemelse God en Vader, dankie vir u verlossende genade wat my red en u ondersteunende genade wat my krag en moed gee om U te volg. Versterk my deur u ondersteunende genade, sodat ek sal volhard in ’n lewe toegewy aan U. Dankie, Here Jesus, dat die evangelie deur die geslagte heen van Paulus se dag af tot nou toe bewaar is. Wys my hoe en waar ek my rol moet speel in die toekomstige groei van die goeie nuus en u kerk. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟔-𝟎𝟗 – 𝐒𝐭𝐚𝐚𝐧 𝐛𝐲 𝐦𝐲. (Kliek hier vir die klankgreep)
Geloof in Jesus Christus is ’n wonderlike ding. Dit verander jou hele lewe en kan jou vul met ongelooflike vreugde en vrede. Maar met verandering is daar dikwels ook ongemaklikheid. Skielik moet jy begin aanpassings maak en selfs sekere dinge en mense in jou lewe begin vermy of jy moet anders begin optree as wat jy gewoond was.
Hierdie geloof voel dan soms of dit nogal ’n duur prys is om te betaal en, as jy duur vir iets moet betaal, dan kan jy een van twee emosies ervaar en gevolglik op een van twee maniere optree. Jy sal óf in die verleentheid gestel word deur Jesus óf jy sal bereid wees om vir Hom te ly.
Paulus skryf vêrder aan Timoteus:
“¹⁵𝐽𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑖𝑛 𝐴𝑠𝑖𝑒̈, 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑘 𝐹𝑖𝑔𝑒𝑙𝑢𝑠 𝑒𝑛 𝐻𝑒𝑟𝑚𝑜𝑔𝑒𝑛𝑒𝑠, 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑢𝑔 𝑜𝑝 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑑𝑟𝑎𝑎𝑖 ℎ𝑒𝑡. ¹⁶𝑀𝑎𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑏𝑎𝑟𝑚ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑒𝑤𝑦𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑂𝑛𝑒𝑠𝑖𝑓𝑜𝑟𝑢𝑠 𝑠𝑒 ℎ𝑢𝑖𝑠𝑔𝑒𝑠𝑖𝑛, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑑𝑖𝑘𝑤𝑒𝑙𝑠 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑏𝑒𝑢𝑟 𝑒𝑛 ℎ𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑏𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑎𝑎𝑚 𝑛𝑖𝑒; ¹⁷𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒𝑛𝑠, 𝑡𝑜𝑒 ℎ𝑦 𝑖𝑛 𝑅𝑜𝑚𝑒 𝑤𝑎𝑠, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑦 𝑦𝑤𝑒𝑟𝑖𝑔 𝑛𝑎 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑒𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑣𝑖𝑛𝑑. ¹⁸𝑀𝑎𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑔𝑒𝑒 𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑜𝑝 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑏𝑎𝑟𝑚ℎ𝑎𝑟𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑏𝑦 𝐻𝑜𝑚 𝑣𝑖𝑛𝑑. 𝐽𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑔 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑑 ℎ𝑜𝑒𝑣𝑒𝑒𝑙 𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠 ℎ𝑦 𝑖𝑛 𝐸𝑓𝑒𝑠𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑏𝑒𝑤𝑦𝑠 ℎ𝑒𝑡.” – 2 Timoteus 1:15-18 (AFR20)
Daar sit Paulus. Alleen in ’n Romeinse tronksel of in huisarres waar hy deur baie van sy medegelowiges in die steek gelaat is. Gelukkig is die Christene in Rome steeds in kontak met hom (2 Tim 4:21), asook sy vriend Lukas wat by hom gebly het (2 Tim. 4:11). Ander vriende – soos Timoteus – gaan voort met Paulus se werk terwyl hy in boeie is (2 Tim. 4:11-12, 19-20). Maar die meeste van die ander medegelowiges in Asië het hom verlaat.
Nogal hartseer as ons besef dat baie van hierdie gelowiges juis deur Paulus tot bekering gekom het en geleer het oor dissipelskap by Paulus. Maar nou is niemand bereid om met hom te identifiseer of geassosieer te word nie. Hulle is skielik óf bang óf skaam vir of oor hom. Om hom te ondersteun of hom by te staan, het vir hulle te duur prys geword.
Gelukkig was Onesiforus ’n lojale vriend. Hy het na Rome gereis en hard gesoek na Paulus om hom aan te moedig en te help – heel moontlik met kos en klere om in sy fisiese behoeftes te voorsien. Hy was onbeskaamd oor Paulus se boeie en tronkstraf; hy het Paulus nie verlaat nie – al sou dit sy eie aansien kos. Hy was lojaal – beide aan Paulus en aan Christus.
Ons ervaar dalk nou nie self fisiese lyding, maar, soos Onesiforus, het ons elke dag geleenthede om te wys dat ons onbeskaamd is oor Jesus deur medegelowiges te ondersteun wat wel ly. Hoe reageer ons op hierdie geleenthede? Draai ons in skaamte weg, of is ons bereid om saam met hulle te ly indien nodig?
Die prys is soms duur en die versoeking om weg te draai is groot, maar ons moet onthou dat Jesus gewillig skaamte en verlies gely het in ons plek. Toe Hy aan die kruis gesterf het, is Hy van sy klere, sy waardigheid, sy aansien en sy lewe gestroop. Hy is deur die skare verwerp, deur sy vriende verraai, deur sy volgelinge in die steek gelaat en deur sy Vader verlaat. Hy het verwerping ervaar, sodat ons aanvaarding kan ken. Hy is in die steek gelaat, sodat ons verwelkom kon word. Hy is nie skaam om ons broers en susters te noem nie (Heb. 2:11). Ons moenie skaam wees vir Hom nie en ons moenie skaam wees vir ons broers en susters nie.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe help ek my medegelowiges wat ly as gevolg van die evangelie? Is ek bereid om saam met hulle te ly?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, wees asseblief met alle Christene wat ly weens hul geloof. Help my sodat ek ander kan help en ondersteun. Laat ander gelowiges my ook asseblief bystaan as ek ly weens my geloof in U. Maak my onbeskaamd en bereid om te identifiseer en geassosieer te word met diegene wat verag word vir hul geloof in Jesus Christus, ons Here. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟔-𝟎𝟖 – 𝐖𝐞𝐞𝐬 ’𝐧 𝐯𝐨𝐨𝐫𝐛𝐞𝐞𝐥𝐝 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐮𝐢𝐰𝐞𝐫 𝐥𝐞𝐞𝐫.(Kliek hier vir die klankgreep)
In die bediening is dit soms moeilik om voor te bly met hoe vinnig alles verander en wat die volgende “in-ding” is. Party leraars werk hulself oor ’n mik om elke week iets nuut vir die jongmense te doen, maar een of ander tyd raak die idees op en begin jy jou “gehoor” verloor. Ander weer, probeer so erg vashou aan tradisie, dat die eintlike idee van evangelie verkondiging afgesaag en eentonig raak. Wat maak mens en hoe maak jy?
Kyk, dit is altyd nogal baie aanloklik om aan nuwe en opwindende maniere te dink om die evangelie te kommunikeer. Maar, hoewel dit nuttig is om kreatief te dink oor hoe ons die goeie nuus van Jesus Christus aan ongelowiges aanbied, moet ons baie versigtig wees om nie té kreatief te wees met die boodskap self nie. Die evangelie – soos die res van God se Woord – is onveranderlik, en ons moet nie en mag nooit dit verdraai of aanpas om by ons behoeftes te pas nie.
In Efese was dit die geval gewees (soos op baie ander plekke en ook vandag) dat valse leraars die mense weggelei het van die evangelie. In Timoteus se tyd, egter, het hierdie valse leraars die mense geleer dat die opstanding van gelowiges suiwer geestelik is en reeds plaasgevind het (2:18). Dit het as’t ware vir die mense geleer dat dit nou alreeds hemel op aarde is en dat jy eintlik al die voorregte en seën vir jouself moet neem. Verder was geleer dat gelowiges vryheid van lyding het en gevolglik sou lyding dan ’n teken wees dat jy nie gered is nie. So ’n valse evangelie was natuurlik baie aantreklik en aanloklik – veral in ’n tyd en plek waar volgelinge van Jesus erg vervolg was. Paulus het geweet dat dit vir Timoteus moeilik sou wees om voort te gaan om geloof in Jesus se dood en opstanding as die enigste weg van verlossing te verkondig. Paulus skryf dan vêrder aan Timoteus:
“¹³𝐻𝑜𝑢, 𝑎𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑢𝑖𝑤𝑒𝑟 𝑙𝑒𝑒𝑟, 𝑣𝑎𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑒𝑡; 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑒𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑖𝑠. ¹⁴𝐵𝑒𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑜𝑠𝑏𝑎𝑟𝑒 𝑝𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑡𝑜𝑒𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑖𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑜𝑜𝑛.” – 2 Timoteus 1:13-14 (AFR20)
Paulus moedig dus vir Timoteus aan om die evangelie versigtig te bewaar. Timoteus moet dit beskerm en deurgee aan ander, want dit is waar en dit bring lewe. Maar behalwe die bewaring van die boodskap van die evangelie, moes Timoteus ook Paulus se ‘voorbeeld van die suiwer leer ... in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is’ navolg (v. 13). En só moet ons ook.
Geloof in die evangelie is veronderstel om ons gedrag te beïnvloed – dit moet lei tot ’n geloof en liefde wat ooreenstem met die boodskap wat ons leer. Ons lewens moet wys dat volgelinge van Jesus steeds lyding ervaar, maar dat geloof in Jesus ons elke dag dra en onderhou. Ons lewens moet wys dat die liefde wat ons van God ontvang het ons in staat stel om ander lief te hê. Hierdie gedagte is baie belangrik om te onthou wanneer ons die evangelie met ons ongelowige vriende, bure en kollegas deel. Ons mag nie enige kompromieë maak nie – die boodskap moet onbeskaamd, suiwer en duidelik verkondig word dat verlossing deur Christus alleen is. Ons moet inderdaad ook kan wys hoe die evangelieboodskap ons lewens verander het deur hierdie geloof en liefde uit te leef.
Klink nogal skrikwekkend, nè? Klink amper asof dit te veel is om van ons te vra? Onthou: ons doen niks hiervan uit ons eie krag nie. Ons maak staat op die Heilige Gees om ons te help terwyl ons probeer om die goeie nuus van Jesus met almal te deel.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is daar dalk dele van die evangelie waar ek in die versoeking kom om kompromieë aan te gaan of wat ek dalk mis wanneer ek met ongelowiges praat? Is my lewe ’n bewys van my geloof en liefde in Jesus Christus?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, laat ek vashou aan u Woord en laat my lewe ’n getuienis wees van die kosbare pand wat U ook aan my toevertrou het. Laat ek die evangelie boodskap suiwer en onbeskaamd verkondig in alles wat ek sê, dink en doen. Dankie, Heilige Gees, dat U in my woon en my krag gee om sterk te staan in my geloof. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟔-𝟎𝟕 – 𝐃𝐢𝐞 𝐭𝐨𝐞𝐤𝐨𝐦𝐬 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐞𝐯𝐚𝐧𝐠𝐞𝐥𝐢𝐞 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat is die toekoms van die evangelie? Net gister praat ek met mede-leraars en is ons besorg oor die nuwe kultuur van geen gender en aanspreekvorme wat dreig. Ons is besorg oor wat die uiteinde van alles sal wees en hoe- en watter standpunt ons dan nou moet inneem. Ons is besorg oor die plek van die evangelie in al hierdie dinge, maar nie bekommerd nie.
As medegelowiges en as geroepenes, gaan ons dikwels ook deur dieselfde uitdagings en moeilikheid as ander gelowiges. Soms lyk iets soos ’n berg voor jou en soms is dit maar ’n kleine ou molshopie wat jy vinnig kan plattrap. Vir jou medegelowige kan dit dalk net andersom lyk en hy/sy ervaar dit anders. Daarom moet ons gedurig met mekaar praat en mekaar bemoedig. Ons moet raad deel en strategieë saamsnoer om nie toe te laat dat versoekings en aanvalle van die bose ons onderkry nie.
Net nadat Paulus vir Timoteus herinner het aan die wonderlike evangelie wat ons almal verkondig, bemoedig hy hom verder deur vir Timoteus te laat weet dat hy nie alleen in hierdie stryd is nie:
“¹¹𝐻𝑖𝑒𝑟𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑎𝑠 𝑝𝑟𝑒𝑑𝑖𝑘𝑒𝑟, •𝑎𝑝𝑜𝑠𝑡𝑒𝑙 𝑒𝑛 𝑙𝑒𝑟𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑡𝑒𝑙. ¹²𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑙𝑦 𝑒𝑘 𝑜𝑜𝑘 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑘 𝑠𝑘𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑦 𝑛𝑖𝑒; 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑒𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑖𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑒𝑘 𝑛𝑜𝑔 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑙, 𝑒𝑛 𝑒𝑘 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑢𝑖𝑔 𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑒𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑖𝑠, 𝑡𝑜𝑡 𝑜𝑝 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑔 𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑤𝑎𝑎𝑟.” – 2 Timoteus 1:11-12 (AFR20)
Soos baie dinge in die lewe, moet ons dit eenmaal nou maar net aanvaar: Evangeliebediening behels lyding. As ons getrou wil wees in die verkondiging van die evangelie, moet ons verwag om op een of ander manier te ly. Paulus ly in ’n Romeinse tronk, maar hy maak staat op sy vertroue in die evangelie, sy toewyding daaraan en in Wie hy nog altyd sy vertroue stel.
Paulus was bereid om te ly, omdat hy die Een ken waarin hy geglo het – hy ken vir Jesus. Hy het nie net geweet van Jesus nie; hy het Hom persoonlik geken. Hy het Jesus se karakter geken en hy het vertroue gehad in Jesus se getrouheid. Die Heilige Gees gebruik dikwels ons omstandighede om sy krag in ons lewens sigbaar te maak en om Jesus persoonlik te ken, verander die manier waarop ons na ons omstandighede kyk. Ons kan ook vol vertroue en onwankelbaar bly, selfs in die moeilikste omstandighede, want ons ken die Een wat tot aand ie voleinding van tyd 𝘣𝘺 ons en 𝘷𝘪𝘳 ons is. (vgl. Matt. 28:20 & Rom. 8:31-33)
Paulus was oortuig van God se krag om die evangelie te bewaar. Hy het geweet hoe dit voel om deur mede-gelowiges in die steek gelaat te word (vgl. 2 Tim. 1:15, 4:10); hy het geweet dat valse leringe toe al ook regdeur die kerk versprei word (2 Tim. 2:17-18) en dat valse leraars die mense sal uitbuit tot hul eie voordeel en voorspoed (2 Tim. 3:8, 4:3). Maar Paulus was seker dat die evangelie bewaar sou word en verkondig sal word tot die dag wanneer Jesus terugkeer. Paulus het geweet dat dit alles sal so wees, want hy het volle vertrou gehad in God se krag.
Paulus het geweet dat sy lyding die moeite werd is, want dit sal die evangelie bevorder. God sou- en het sy lyding gebruik om die evangelie te help versprei en om baie goeie vrugte te dra. Daarom was Paulus nie besorg oor die toekoms van die evangelie nie, omdat hy verstaan en vertrou het dat vir ewig veilig in God se hand is. Paulus het geweet wat ons ook weet: dat God die ware bewaarder van die evangelie is.
Ons kan volle vertroue in God hê om sy evangelie te bewaar ongeag die ontmoedigende reaksies daarop wat ons deesdae so dikwels sien. Dalk raak ons moedeloos as gevolg van toenemende geestelike onverskilligheid binne ons kerke. Dalk raak ons ontsteld wanneer Bybelse waarhede verdraai word of omdat God se Woord deesdae mos deur sogenaamde geleerde teoloë voorgehou word as “woorde oor God”. Maar ons hoef nie te wanhoop nie, want God is beide in staat en daartoe verbind om sy evangelie te bewaar. Ons moet net aanhou om dit getrou te deel met die wêreld.
Alles wat vandag aan die gebeur is, het al gebeur en die kerk het al vele sulke uitdagings moes deurmaak. Die evangelie is veilig, want dit is God se goeie nuus en Hy sal dit bewaar tot Jesus terugkom om ons te kom haal.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe gewillig is ek om lyding te verduur deur getrou te bly aan God se Woord, sodat die evangelie aan ander oorgedra kan word?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie, almagtige God en Vader, dat U die ware bewaker van die evangelie is en dat U sal verseker dat dit bewaar en verkondig word totdat Jesus terugkeer. Maak my gewillig om te ly, sodat ander die evangelieboodskap kan hoor. Tot U eer en verheerliking. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟔-𝟎𝟔 – 𝐃𝐢𝐞 𝐠𝐨𝐞𝐢𝐞 𝐧𝐮𝐮𝐬 𝐰𝐚𝐭 𝐨𝐧𝐬 𝐯𝐞𝐫𝐤𝐨𝐧𝐝𝐢𝐠.(Kliek hier vir die klankgreep)
Wat presies is die evangelie – die goeie nuus – wat ons verkondig? Paulus skryf vêrder aan Timoteus, nadat hy hom herinner het om hom nie daarvoor te skaam nie, wat presies dit is:
“⁹𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝑟𝑜𝑒𝑝𝑖𝑛𝑔 – 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑢𝑖𝑡 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒. 𝑅𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑒𝑤𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑎𝑓 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑛𝑘, ¹⁰𝑒𝑛 𝑛𝑜𝑢 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑜𝑝𝑒𝑛𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑘𝑦𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑉𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑒𝑟, 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑖𝑒𝑡𝑖𝑔 ℎ𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑣𝑒𝑟𝑔𝑎𝑛𝑘𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑒𝑡.” – 2 Timoteus 1:9-10 (AFR20)
Dit is eintlik die kort en die lank van die evangelie: God het ons gered, deur sy genade, deur die werk van Jesus Christus. God is die outeur van ons verlossing. Voordat hy die wêreld geskep het, het God beplan om ons te red van die gevolge van ons sonde – deur Jesus se dood en opstanding. Al verstaan ons dit nie mooi nie en, omdat God môre alreeds daar is, was dit nog altyd sy plan dat Jesus sou sterf as ’n straf vir ons sonde. Ons is gered volgens God se plan. Nie ons plan nie. Nie omdat ons so oulik is nie. Nie deur iets wat ons kan doen nie. Nee, deur geloof, genade, liefde en Christus alleen. Daar is niks wat ons tot ons verlossing kan bydra nie; dit word slegs deur die dood en opstanding van Jesus bewerkstellig.
Vers 10 herinner ons aan presies wat Jesus bereik het. Eerstens het hy die ‘dood vernietig’. Ja, ons sal almal fisiese dood ervaar, maar ons hoef dit nie te vrees nie, want as ons op Jesus vertrou, het die dood geen mag oor ons nie. Die einde van hierdie lewe is nie die einde nie – dit is die begin van ons lewe in heerlikheid. Wanneer Paulus hierdie skryf, is dit vir homself ook ’n troos terwyl hy teregstelling in die gesig staar. Hierdie waarheid behoort ons ook te troos wanneer ons die dood in die gesig staar – ons eie of dié van ander gelowiges.
Tweedens het Jesus ons die weg gewys om die ewige lewe te verkry. As gelowiges in die evangelie vrees ons nie die dood nie. Ons sien eerder uit na die lewe wat kom. Jesus het die mag van die dood vernietig en sy lig kom skyn op die pad na die ewige lewe. Die evangelie is goeie nuus!
Maar hierdie verse herinner ons ook daaraan dat God ons roep om heilige lewens te lei. Terwyl Timoteus in die groot, welvarende stad van Efese woon, kom hy voor die versoekings en verloklikheid van rykdom te staan. Hy moet God se opdrag om heilig te wees onthou. Ons kom ook in die versoeking om meer waarde te heg aan rykdom, gemak en plesier as om Jesus te ken en sy Woord te gehoorsaam. Ons moet ook God se opdrag om heilig te wees onthou. Ons moet onthou dat ons uit genade gered is, en ons moet onthou dat ons gered is vir heiligheid.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Op watter maniere heg ek meer waarde aan die plesier van hierdie wêreld as aan Jesus?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse God en Vader, dankie vir u genade waardeur U my gered het deur Jesus se dood en opstanding. Help my om ’n heilige lewe te lei wat op die ewigheid saam met U gefokus is. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟔-𝟎𝟓 – 𝐒𝐭𝐚𝐚𝐧 𝐨𝐩 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Paulus skryf vir Timoteus en in sy tweede brief, in sy aansporing vir Timoteus om getrou te bly in sy roeping, sê Paulus ’n baie belangrike ding vir Timoteus:
“⁸𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑢𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑎𝑎𝑚 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑡𝑢𝑖𝑒𝑛𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑜𝑜𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦, 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑛𝑒, 𝑛𝑖𝑒. 𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑟𝑎 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑦𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑚𝑖𝑑𝑑𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑.” – 2 Timoteus 1:8 (AFR20)
As volgelinge van Jesus behoort ons nooit skaam te wees vir die evangelie nie. Ons moet ook nie skaam wees vir mekaar nie. Ons moet probeer onthou dat elkeen van ons uniek gemaak is deur God en dat elkeen van ons se verhouding met ons Here op ’n ander manier beleef en geleef word. In ’n kultuur waar geloof in- en verdediging van die evangelie as dwaas of selfs skadelik beskou word, kan ons nogal maklik in die versoeking kom om nie in die openbaar met Jesus en sy kerk te identifiseer nie, of om nie die Bybel as die ware, onveranderlike en onverganklike Woord van God te verklaar nie. Hoe reageer ons op hierdie aansporing en opdrag van Paulus?
In hierdie brief van Paulus (en al sy ander briewe) herinner hy ons dat ons bereid moet wees om sulke lyding te trotseer. Wanneer ons lyding in die lewe ervaar en die oorsaak is die sondigheid van die mensdom, is dit soms moeilik om sterk te staan, want dit is onregverdig. Maar wanneer ons lyding ervaar as gevolg van die evangelie, moet ons weet ons kan dit doen. Ons kan dit doen met volle vertroue dat God se krag ons sal onderhou en ons help.
Die eerste-eeuse gelowiges het dieselfde versoeking in die gesig gestaar om hulle van Jesus en sy volgelinge te distansieer, maar Paulus sê vir Timoteus om onbeskaamd te wees.
Eerstens moet Timoteus onbeskaamd wees oor die evangelie. In plaas van skaam wees daarvoor, moet hy bereid wees om daarvoor te ly. As volgelinge van Jesus kan ons, nee, móét ons verwag om op een of ander manier te ly omdat ons ’n lydende Verlosser volg. Om met Jesus te identifiseer en hom as die enigste weg van verlossing te verkondig maak ons kwesbaar vir verwerping, slegsê, vernedering, moeilikheid in die werkplek, selfs regstappe, materiële verlies en skande. Vir baie Christene regoor die wêreld beteken dit erge vervolging: fisiese en emosionele skade; weerhouding van menseregte; verbanning; rou; marteling; gevangenisstraf; en ja, selfs die dood. Lyding is nooit maklik nie, maar as ons vir die evangelie ly, sal God ons bemagtig om getrou en moedig te wees.
Tweedens moet Timoteus onbeskaamd wees oor Paulus. Ja, Timoteus moenie soos die Afrikaanse gesegde nie praat oor sy broer in die tronk nie... Om Paulus te ondersteun sou Timoteus op een of ander manier seermaak. Mense sou sekerlik teen hom diskrimineer, dalk finansiële ondersteuning weerhou of hy kon selfs verraad van medegelowiges in die gesig staar. Daar is altyd ’n duur prys om te betaal as jy jou identifiseer met iemand anders wat vir die evangelie ly. Maar Timoteus moes by Paulus staan, en ons moet ook bereid wees om saam met Christene te staan wat vervolging in die gesig staar as gevolg van hulle getrouheid aan die evangelie. Ons moenie skaam wees vir die evangelie of vir diegene wat dit getrou bedien nie, hoe groot die persoonlike koste daarvan ook al is.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wanneer en waar kom ek dalk in die versoeking om my te skaam vir die evangelie? Is dit soms vir my te duur prys om te betaal om Jesus te deel as die enigste weg van verlossing?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, soms skaam ek my vir die evangelie en soms skaam ek my ook vir my medegelowiges. Vergewe my daarvoor. Skenk aan my genoeg krag en moed om vrymoedig, onbeskaamd en gewillig te wees om vir my Here Jesus Christus te ly. Here, skenk u krag ook aan ons medegelowiges regoor die wêreld wat vervolg word vir hul geloof in U, sodat hulle getrou sal wees ten spyte van hulle lyding. Wys my waar ek vir U kan opstaan en waar ek my medegelowiges kan ondersteun om die evangelie te verkondig. Mag ons u spreekbuis wees in die wêreld. Tot u eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Wanneer Paulus aan Timoteus sy tweede brief skryf en hom (Paulus) verheug in Timoteus se geloof, doen Paulus dit om ’n rede. Hy herinner Timoteus daaraan dat hy vir hom bid en bemoedig hom daardeur. Dan skryf Paulus verder:
“⁶𝑂𝑚 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑑𝑒 ℎ𝑒𝑟𝑖𝑛𝑛𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑗𝑜𝑢 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑔𝑎𝑤𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑠, 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑙𝑒̂ ℎ𝑒𝑡, 𝑜𝑝𝑛𝑢𝑢𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑒 𝑣𝑢𝑢𝑟. ⁷𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑡𝑜𝑔 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑔𝑒𝑒𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑒𝑠𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑒𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑏𝑒ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠𝑖𝑛𝑔.” – 2 Timoteus 1:6-7 (AFR20)
Timoteus het ’n gawe van lering ontvang van die Here. Paulus en die ander ouderlinge in Efese het hom daarom afgesonder vir kerkleierskap (1 Tim. 4:13–14). Maar – soos met enige gawe – as Timoteus nie sy gawe sou gebruik nie, sou dit kwyn en dalk sterf. Net soos ’n onversorgde vuur sal uitbrand en sterf, net só sal ’n gawe wat nie gekweek en beoefen word nie, leweloos en oneffektief word. Dit was nie genoeg vir Timoteus om net te weet hy het hierdie gawe nie: hy moet dit gebruik.
Natuurlik is hierdie ook baie belangrik, omdat Paulus die einde van sy lewe sien nader kom het. Soos die apostoliese era tot einde sou kom, só moes die volgende generasie evangeliedienaars gereed wees om voort te gaan om die evangelie te versprei en die kerk te onderrig. Timoteus was aangespoor om sy gawe te gebruik om die kerk op te bou, haar teen valse leringe te bewaar en die evangelie te bevorder.
Paulus weet dat net die blote idee hiervan skrikwekkend is. Hy het ook die moedeloosheid en opposisie wat evangeliedienaars ondervind verstaan. Daarom herinner hy Timoteus daaraan dat God sy Heilige Gees gegee het om hom toe te rus en te bemagtig vir bediening. Dit is ook hierdie einste gawe van die Heilige Gees wat Timoteus (en ons) daarvan moet weerhou om bang te wees. Ons moet eerder moed hê om die waarheid met vrymoedigheid te verkondig, selfs al word dit verwerp of met woede ontvang. Soos Timoteus, kan ons ook onderrig gee met vertroue in die Heilige Gees se krag om ons bediening effektief en vrugbaar te maak.
Die Heilige Gees rus alle gelowiges toe met krag, liefde en selfdissipline.
Die Heilige Gees gee krag: sodat ons pogings moedig en vrugbaar kan wees, ten spyte van ons swakhede en vrese.
Die Heilige Gees gee liefde: juis vir ongelowiges wat die evangelie moet hoor en vir die kerk, sodat ons gemotiveer is om gewillig en opofferend te dien.
Die Heilige Gees gee selfdissipline: sodat ons ons gawes effektief kan gebruik. Predikers en kerkleiers het hierdie dissipline nodig sodat hulle met integriteit hard kan werk – veral omdat baie van hul werk nie deur ander gesien word nie. Almal van ons het hierdie dissipline nodig – omdat ons in die versoeking kom tot luiheid, selfbevrediging en ’n gemaklike, selfs gemaksugtige lewe.
Prys God vir sy Heilige Gees, wat ons toerus met alles wat ons nodig het!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek is in die bediening van God se krag, liefde en selfdissipline – deur God se Gees in my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Liewe Vader, dankie vir u gawe van die Heilige Gees. Mag ons kerkleiers ook u krag, liefde en selfdissipline ken, o Heilige Gees. Skep in hulle ’n hart vir die bediening en rus hulle toe om sonder vrees u Woord suiwer te verkondig. Gees van God, gee vir my die nodige moed, liefde en dissipline, sodat ek my God effektief kan dien op die maniere waartoe Hy my geroep het. Tot u eer en verheerliking alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟔-𝟎𝟏 – 𝐃𝐢𝐞𝐧 𝐚𝐧𝐝𝐞𝐫 𝐢𝐧 𝐠𝐞𝐛𝐞𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
In al Paulus se briewe, beklemtoon hy die belangrikheid van gebed. Dit is vir Paulus van kardinale belang dat daar gebid moet word vir mense en, veral vir die kerk. Selfs amper aan die einde van sy lewe, terwyl hy in die tronk gegooi en dood in die gesig staar, gaan hy voort om vir ander mense te bid. Gewone mense sou dalk eerder onder sulke omstandighede hul gebede gemik het op die spesifieke omstandighede, maar nie Paulus nie. Ons sou amper kon verwag dat Paulus sou bid vir verligting van ongemak, vrylating uit die tronk of redding van teregstelling. Maar Paulus hou aan om vir ander mense te bid... Ons lees in 2 Timoteus 1:3-5 (AFR20):
“³𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑛𝑘𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑚𝑦 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑜𝑢𝑒𝑟𝑠, 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑠𝑘𝑜𝑜𝑛 𝑔𝑒𝑤𝑒𝑡𝑒 𝑑𝑖𝑒𝑛, 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑜𝑛𝑜𝑝ℎ𝑜𝑢𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘, 𝑏𝑒𝑑𝑎𝑔𝑠 𝑒𝑛 𝑠𝑛𝑎𝑔𝑠, 𝑖𝑛 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑑𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑛𝑘. ⁴𝐴𝑠 𝑒𝑘 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑡𝑟𝑎𝑛𝑒 𝑡𝑒𝑟𝑢𝑔𝑑𝑖𝑛𝑘, 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑎𝑛𝑔 𝑒𝑘 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑛𝑎 𝑜𝑚 𝑗𝑜𝑢 𝑡𝑒 𝑠𝑖𝑒𝑛, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑚𝑒𝑡 𝑏𝑙𝑦𝑑𝑠𝑘𝑎𝑝 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑. ⁵𝐸𝑘 𝑑𝑖𝑛𝑘 𝑠𝑡𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑜𝑝𝑟𝑒𝑔𝑡𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓, 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑒𝑟𝑠 𝑖𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑜𝑢𝑚𝑎 𝐿𝑜𝑖̈𝑠, 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑚𝑜𝑒𝑑𝑒𝑟 𝐸𝑢𝑛𝑖𝑐𝑒 𝑤𝑎𝑠 – 𝑒𝑛 𝑒𝑘 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑢𝑖𝑔 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑜𝑘 𝑖𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑠.”
In Paulus se gebede sien ons hoe groot mentor en geestelike leier hy was en sy gebede wys sy afhanklikheid en vertroue in God om ander gelowiges toe te rus en te onderhou. Paulus weet net God kan dit doen, daarom bid hy ‘onophoudelik’ (v. 3).
Deesdae is so baie van ons besig met die dinge van die Here dat ons vergeet om tot die Here van die dinge te bid. Ons so dikwels besig met voorbereiding van toesprake, preke of Bybelstudies, kerklike programme en funksies, dat dit eintlik té maklik is om gebed af te skeep. Die voorbeeld wat Paulus ons gee van dissipelskap, is iets wat voortspruit uit sy verbintenis tot gebed. Sy gebede word aangevuur deur sy liefde vir Timoteus en sy besorgdheid oor evangeliebediening. Op presies dieselfde manier moet ons liefde vir ander gelowiges daartoe lei dat ons vir hulle bid.
Timoteus se ma en ouma was vroue van geloof, maar egte geloof kan nie geërf word nie – dit moet persoonlik wees. Daarom dank Paulus God dat Hy Timoteus gered het en hom ’n opregte geloof gegee het. Ons dank God dalk dikwels vir die feit dat ons self gered is, maar hoe dikwels loof en dank ons Hom vir sy reddingswerk in die lewens van ander gelowiges? Hoe dikwels bid ons nog dat Hy ook ander mense sal red wat Hom nog nie ken nie? Terwyl ons bid, erken ons God se almag en soewereiniteit, en toon ons ons nederige afhanklikheid van Hom.
Selfs in kettings en in afwagting van teregstelling, gaan Paulus voort om God te dien – deur sy gebede. Dikwels voel ons dat ons omstandighede ons onderkry, maar ons moet onthou: God is met ons IN ons omstandighede en ons God is BO ons omstandigheid. Ons omstandighede verskoon ons nie daarvan om betrokke te wees by evangeliebediening nie – dit doen ons deur altyd getrou te wees in gebed.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe toegewyd is ek om vir ander Christene te bid? Bid ek vir my familie, vriende, omgeegroep, my kerkraad, my predikant, vir sendingwerkers en die kerk in die algemeen? Vir wie kan ek my verbind om gereeld voor te bid?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige Here, help my om my gebedslewe meer ander-persoon-gesentreerd te maak. Laat my minder wees en U meer wees in- en deur my, sodat ek vir ander tot seën sal wees. Tot U eer alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
Ds. Christo Schoeman ···ᶜᴶˢ··· ©