Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-08-18 – Bly of gly? (Kliek hier vir die klankgreep)
Die meeste van ons hou van vakansie. Party hou daarvan om iewers heen te gaan en net bietjie rustig te wees. Ander hou weer daarvan om baie dinge te sien en te doen op vakansie. Party mense wil net by die huis bly en rus. Elke nou en dan het ons ’n vakansie nodig.
Die wêreld is verskriklik gejaagd deesdae. Partykeer sien ons nog uit daarna en streef ons na die adrenalien wat met elke spitsverkeer en sperdatums gepaard gaan. Maar, vir meeste van ons, is dit nie meer wat ons wil hê nie. As jy daar in die verkeer vassit, of jy stres oor die hope werk wat wag en die sperdatum wat naderkom, dan dink jy aan daardie stil, idilliese plekkie in die berge wat jy op TV gesien het, langs ’n mooi stroom in die middel van ’n woud. Dan toet die motors skielik weer om jou en jy dink by jouself en bid: “Ag Here, kan ek maar nie hierdie werk bedank en uit hierdie gejaagde lewe uitkom nie? Kan ek maar nie van hierdie mallemeule afklim nie?”
Miskien voel jy so. Miskien is jy moeg en jy kort ’n breuk. Miskien dink jy daaraan om ’n plekkie by die see te koop, met ’n wiegstoel en ’n kat. “Enige ander plek as hier, Here”, dink jy. Maar wat dink God?
In Numeri 9 lees ons van die Israeliete wat deur die woestyn trek met die tabernakel wat hulle volgens God se spesifikasies opgerig het en hoe God self teenwoordig was oor die tabernakel. Bedags was die teenwoordigheid van die Here ’n wolk wat die tabernakel bedek het en snags was daar ’n glans van vuur gewees. As die wolk getrek het, het die volk getrek. So ook met die glans van vuur. Dag of nag. God het bepaal waar en wanneer die Israeliete bly of trek. Vers 18-19 sê: “18Op bevel van die Here het die Israeliete telkens kamp opgebreek, en op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan. Solank as wat die wolk bo die tabernakel vertoef het, het hulle gekamp. 19Wanneer die wolk 'n lang tyd bo die tabernakel was, het die Israeliete die verpligtinge teenoor die Here nagekom en nie kamp opgebreek nie.” En vers 22: “22Of dit nou twee dae, 'n maand, of langer was, terwyl die wolk lank bo die tabernakel vertoef het, het die Israeliete gekamp en nie verder getrek nie. Maar wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek.”
Dalk ondervind jy ondraaglike druk in jou daaglikse lewe, druk wat jy dink beter sal word as jy op ’n rustige plek van jou keuse kan gaan sit. God het die Israeliete gewys dat Hy ons paaie kies. Hy het aan hulle ’n sigbare herinnering aan Sy teenwoordigheid gegee om hulle te lei: ’n wolk bedags en ’n vuur glans in die nag. As die wolk lig, trek hulle weg; as dit sak, het hulle kamp opgeslaan. God se teken in die lug het hul koers aangedui en die pas aangegee. Deur op te kyk, het die Israeliete ontdek dat die Here die bewegings bepaal het van Sy mense; God wat gesê het “staan”, was net so belangrik soos God wat gesê het “gaan”. God alleen het die redes vir die reis, die onsigbare gevare wat voorlê en die uiteindelike doel buite elke beweging geken.
God het die lewens van die Israeliete gebied en die rigting aangewys. Hy sal dieselfde vir jou doen as jy Hom toelaat. As jy wil weet watter kant toe jy moet draai, of jy moet bly of gly, kyk op.
Gebed:
Dankie Here, dat U my rigting is en my lewe bepaal. Wys my die koers waarin ek moet gaan. Of ek moet bly of gaan, laat dit van U afhang en nie ek nie. Laat ek doen wat ek moet doen daar waar U my wil hê. Laat U Gees my lei. U bepaal my koers. Amen.
2021-08-17 – Kom, o Gees van waarheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons ophou bekommer oor elke dag en ons begin fokus op die dinge wat God wil hê ons vir Hom moet doen, kan ons egter gou weer mismoedig raak. Daar is dan soveel werk. Soveel mense wat gered kan word. Soveel mense wat hulp nodig het. Ons is oorweldig en dit maak ons nogal moedeloos...
Maar weet jy, toe die eerste dissipels die eerstes was om Heilige Gees te ontvang, het hulle lewens vir altyd verander. Selfs die mense om hulle het dit agtergekom. In Handelinge 4:13 (AFR83) lees ons: “13Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense.” Verbeel jou: jy gaan van gewone visserman na teologiese gegradueerde na predikante en pastors in ‘n oogwink. Jy begin allerhande vreemde en wonderlike dinge doen! Praat van ongelooflik! Dít, en nog meer, is die werk wat die Heilige Gees in ons doen. So, hoe kan ons weet of ons gevul is met die Heilige Gees?
Die Bybel maak dit baie duidelik: daar is geen manier waarop ons ons lewens in die Christelike geloof kan leef, sonder die Heilige Gees as ons gids nie.
In Johannes 14:16-17 (AFR83) sê Jesus: “16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Ons is so erg bekommerd deesdae oor beheer in ons lewens, dat ons begin dink dat om deur die Heilige Gees beheer te word, dalk ook ’n slegte ding kan wees. Maar ja, soos God se Woord ons leer, is die Heilige Gees ons Voorspraak, soos ’n advokaat. Hy praat die waarheid tot ons en deur ons. Hy is ons kompas en wys on die regte pad aan. Die Gees tree selfs vir ons in in gebed wanneer woorde ons ontbreek (Rom. 8:26-28). Nou, ek weet weet nie van jou nie, maar vir my klink dit nie na ’n slegte idee nie. Dit klink eintlik baie opwindend. Dit klink noodsaaklik.
Die beste uitwerking van die Heilige Gees, moet wees, die transformasie wat plaasvind wanneer God gewone mense kies om buitengewone dinge te doen. Dit is nou maar eenmaal ’n feit soos ’n koei: ons kan nie ons Christelike geloof uitleef sonder die Heilige Gees as ons gids nie.
Jesus het geweet dat selfs sy fisiese teenwoordigheid op aarde nie genoeg was vir die dissipels nie. Petrus, die leier van die dissipels, was die soort ou wat vol moed was, en tog het hy gereeld klei getrap. Die een oomblik dink hy soos Christus, en die volgende oomblik bestraf Jesus hom en sê dat hy vol van die Satan is (Matt. 16:23).
En tog gebruik God vir Petrus nogsteeds as ’n dissipel vir Sy eer. By die leë graf het die engel Petrus spesifiek by sy naam genoem (vgl. Mar. 16:7), so asof om Petrus daaraan te herinner dat sy geloof in werklikheid nie misluk het nie. En Petrus gaan aan en doen groot dinge.
Liewe mens: Maak nie saak hoe swak, sterk of moedig jou geloof vandag is nie, die Heilige Gees wag op jou. Kom. Kom nader aan Sy teenwoordigheid.
Om oor te dink vandag:
Voel dit soms vir my asof my optrede my daarvan weerhou om op die hulp van die Heilige Gees te vertrou? Wat doen ek daaraan?
Gebed:
O Heilige Gees, kom! Kom en vul my, soos beloof. Here Jesus, dankie dat ek nooit alleen hoef te wees nie. Dankie dat U U Gees vrylik gee aan dié wat glo. Skenk my elke dag die geloof en vertroue om gelei te word deur U, Heilige Gees. Lei my om U werk te doen. Tot U eer. Amen
2021-08-16 – Moet oor niks bekommerd wees nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Filippense 4:6 sê: “6Moet oor niks bekommerd wees nie...” Duidelik het Paulus nie gedink dat ons 2000 jaar later soveel dinge gaan hê wat ons kan bekommer nie. Ek kan partykeer so kwaad word – as alles skeef loop en as niks wil uitwerk nie – as iemand na my toe kom en sê: “Ag nee man, moenie stres nie. Alles sal OK wees...” Ek meen, magtig man! Kan jy nie sien my wêreld is besig om in duie te stort nie! Moenie vir my kom sê alles sal OK wees, as jy nie ’n idee het van wat in my lewe aangaan nie!
Voel jy ook soms so? Ek dink ons almal ervaar dit van tyd tot tyd. Ons soek vrede. En ons weet: vrede is nie net die afwesigheid van geweld en twis nie. Nee, vrede is ’n innerlike gevoel. Dit is iets wat ons gevoelens van angs, depressie en vrees met ’n kalmerende rustigheid vervang. Om ware vrede te vind, is deesdae nogal ’n moeilike ding en deesdae is daar baie maniere waarop mense daarna soek – maniere wat nie baie goed is vir ons nie. Sommige mense probeer rustigheid en vrede kry deur die gebruik en misbruik van alkohol en medikasie en dwelmmiddels. Ander soek dit weer in woede en ander verslawings. Ons weet dat Jesus self vir ons in Matteus 6:25-34 gesê het dat ons nie hoef te bekommer oor enigiets nie, want ons Vader sorg vir ons... “maar Jesus,... tye het verander... Dinge is nie meer so eenvoudig nie...”
Ja... ons stres so erg oor sekere dinge en bekommer ons so erg oor goed, dat ons selfs vir Jesus begin vertel dat Hy nie verstaan nie. Ons vergeet dat Hy ook mens was en eintlik ten volle verstaan waardeur ons gaan.
Sien, Bybelse vrede – wat heeltemal anders is as wêreldse, oppervlakkige vrede – begin, nie net met die gevoel daarvan nie, maar met die kern oorsaak daarvan: ’n sterk verhouding met God en met ander. Natuurlik moet ons besef dat vrede met God alleenlik moontlik gemaak word deur die Prins van Vrede. Waar Jesus Christus Sy Koninkryk vestig, is vrede dit norm.
Sien, die geheim van Paulus se se raad in Filippense 4:6 volg in die res van die vers en in vers 7: “6Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” Ook in die Ou Testament, het omtrent twee-derdes van die gebruik van die woord vrede (“shalom”) verwys na die innerlike vervulling van menswees wat ervaar word wanneer jy God se teenwoordigheid ervaar. Hierdie vrede – ware vrede – kan ervaar word deur God se teenwoordigheid in jou lewe selfs in die moeilikste van situasies en omstandighede.
Bekommernis is die grootste dief van vrede in ons lewens. Dit keer dat ons rustig en in vrede slaap in die aande. Dit hou ons op hete kole deur die dag. Ons Vredevors, Jesus, beklemtoon in Matteus 6:25-34 die ontsaglike vermoë van God die Vader om Sy mense elkeen afsonderlik lief te hê en vir ons te sorg, voordat ons deur die bekommernisse van hierdie lewe oorval word. Is dit moeilik om te glo? Kyk maar om jou rond... Glo dit!
Om oor te dink en te doen vandag:
As dit kom by moeilike situasies wat jy nie onmiddellik kan verander of regstel nie – gebroke, seer verhoudings; siektes of kwale; finansiële- en werk krisisse – gaan na God toe in gebed. Begin deur eers al die dinge waarvoor jy dankbaar is op te noem – tot in die kleinste bietjie detail van al die mooi wat God in jou lewe doen. Maak seker jy noem alles... Lê dan jou versoeke voor God. Spreek dit net eerlik en duidelik met Hom aan. Wees spesifiek. Bied Hom dinge aan wat buite jou beheer is en wat jy nie kan regstel nie. Let op hoe, terwyl jy hierdie geestelike gebedspraktyk beoefen, ’n vrede wat jy nie kan verstaan nie, oor jou begin vloei...
Mag jy vrede in oorvloed ervaar, deur die teenwoordigheid van die ewige, Almagtige God in jou lewe.
2021-08-14 – Lekker! Kry vir jou! (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe dikwels is ons gemoedere baie laag as gevolg van iets wat ons self gedoen het? Ons probeer so hard om “goeie Christene” te wees... Maar waar kom ons definisie vir “goeie Christene” vandaan? Partykeer laat mede-Christene en ander mense ons so sleg voel oor iets wat ons gedoen het, dat ons dink ons nooit daarvoor vergewe kan word nie. Ons begin vasgevang raak in ’n siklus van selfverwyt en skuldgevoelens. Soveel so, dat ons nie regtig die lewe ten volle kan leef nie. Ons leef so erg onder ’n donker wolk, dat ons nie die lig sien skyn oor die groot toekoms wat Jesus vir ons moontlik maak nie. En wat maak ander Christene dan? Hulle staan op die kantlyn en sê: “Lekker! Kry vir jou!”
In die gelykenis van die vader en sy twee seuns, oftewel die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32), vertel Jesus aan die mense hierdie verhaal van hoe ons ook maar dikwels voel. Die een seun vra iets verskrikliks van sy vader: om sy erfporsie te kry terwyl sy vader nog lewe. Dit was in daardie tyd (seker vandag ook) heeltemal ongewoon gewees en baie disrespekvol, amper om te wens vir die vader se dood. Hierdie verlore seun neem dan sy erfporsie, verkoop alles en gaan partytjie alles uit en leef ’n losbandige en sondige lewe. Hy eindig uiteindelik op in die ergste toestande van ’n Joodse sienings punt: ’n plek waar onrein varke in ’n baie beter posisie is as hy. “Hoe durf hy. Lekker man! Boontjie kry sy loontjie! Kry vir jou!”, dis seker wat al die Joodse luisteraars gedink het op hierdie stadium van die verhaal. Ons voel ook dikwels so as ander mense begin af-spiraal in ’n put van selfverwyt of hoe?...
Maar in die gelykenis, blyk die vader se uitspattige genade net so vêrreikend te wees as die oortredings van die seun. Hy reël ’n fees vir sy seun wat sy sonde erken en bely en terugkeer na sy vader se huis. Maar weet julle? Die verhaal draai naby die einde toe die ouer broer weier om by die partytjie aan te sluit en onthul dat hý eintlik net so verlore was as sy jonger broer.
Hierdie gelykenis was waarskynlik eerder bedoel om die eiegeregtige gesindheid van oplettende godsdienstige mense te illustreer wat geregtig gevoel het op die koninkryk omdat hulle “nooit ’n opdrag verontagsaam het nie” (Lukas 15:29). Jesus los egter die gelykenis onopgelos om Sy luisteraars te dwing om hulself in die verhaal te sien.
Aan watter kant staan jy vandag? Lekker! Kry vir jou! Kry vir jou genade in oorvloed by die Vader! Kry hierdie genade wanneer jy begin glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser is. Of jy die verlore seun of dogter is en of jy die een is wat nie die genade van ’n oneindig liefdevolle Vader gun oor jou medemens nie... God het jou liewer as wat jy kan dink en wil graag dat jy in Sy liefde bly. Ag, hoe lekker! Kry gerus vir jou!
Gebed:
Genade onbeskryflik groot. Ja Here, dit het U aan my bewys. Vergewe my dat ek soms myself laat spiraal in selfverwyt, terwyl U my inwag met oop arms. Vergewe my dat ek soms dink dat ek U genade van ander kan weerhou, omdat ek self wil oordeel. U is ons God en ons almal se Vader. Dankie Here Jesus, dat U dit deur die kruis vir ons moontlik gemaak het om kinders van die Vader te wees. Amen
2021-08-13 – ’n Groot toekoms. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is interessant hoe preek style verskil en hoe dit oor tyd verander het. Ek onthou, as kind, hoe die dominees so erg oor die hel gepreek het. Ek dink ek was so bang vir die hel, dat ek daarom eerder in Jesus geglo het. Latere jare, toe begin die dominees en predikante skielik net genade preek en dat Jesus jou vriend is. Deesdae, is mense nogal deurmekaar, en sukkel ek as predikant soms om die regte aanslag te vind. Die direkte aanslag, die een wat hou by die waarheid, het ek begin besef, is die beste.
Sien, dit is nodig vir ons om te weet dat Jesus wel ons vriend is, maar ons moet ook besef dat Hy God is. Ons moet besef dat daar genade in oorvloed is by God, maar dat Jesus vir seker sal terugkom om te oordeel oor almal... Dit maak dit moeilik, maar tog is dit eintlik baie eenvoudig... Of jy is een van God se mense of jy is nie. Daarvolgens het jy ’n groot toekoms, of glad nie een nie...
In die boek Joël word geprofeteer dat God ander nasies sou oordeel oor hoe hulle Sy mense behandel het. Op die dag van die Here sou hierdie toekomstige oordeel kom; maar op daardie verskriklike dag het die Here egter beloof om ’n toevlug vir Sy volk te wees. In hierdie gedeelte het God belowe om die God van Sy volk te wees en onder hulle in Jerusalem te woon. As gevolg van God se teenwoordigheid onder die mense, sou die land geseënd, vrugbaar en veilig wees teen buitelandse invalle.
Dit is nogal ontstellend om te lees hoe erg God die ander nasies sal straf en hoe kwaad Hy eintlik is, maar dit is ook baie gerusstellend om te lees oor hierdie seën wat Hy beplan vir Sy mense. Hierdie seën wys gelowiges dan ook op die dag waarna verwys word in Openbaring 22, waar die rivier van die lewe in die nuwe hemel en op die nuwe aarde uit die troon van God sal vloei en die hele stad van God tot lewe bring. Daar sal ook die die boom van die lewe wees, wat regdeur die jaar vrugte sal dra.
Partykeer maak dit ons bang as ons dink dat alles eendag wel moet eindig en dat Jesus wel sal terugkeer om te oordeel oor almal. Die volk van God kan egter deelneem aan hierdie pragtige seën wat op ’n hele paar plekke in die Bybel geprofeteer word, as gevolg van die werk van Jesus aan die kruis. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy al die skulde van almal wat op Hom sal vertrou vir redding op Homself geneem, en het Hy die enigste manier geword waarop God die mens se sonde sou vergewe.
Jesus is dus die enigste toevlug vir die volk van God. Hy beskerm hulle nie net teen hul vyande nie, maar Hy het ook die toorn van God namens hulle op Homself geneem. Dit is wat dit vir God moontlik maak om in Sy mense te woon. Nou leef die mense van God, met die inwoning van die Heilige Gees, elke dag van hul lewens met die hoop op ’n groot toekoms en wag ons totdat hierdie belofte van ewige seën verwesenlik sal word.
Om oor te dink vandag:
Is ek God se kind? Is ek deel van Sy volk? Besef ek dat ek net moet glo in Jesus Christus as my Rots en Verlosser? Dat Hy my lewe verander deur Sy Gees in my.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U die swaar gewig van my skuld gedra het. Help my om vry te wees van skuldgevoelens, om elke sekonde te leef in die kennis van die groot toekoms wat U vir my moontlik gemaak het. Amen.
2021-08-12 – Die woorde van my mond. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Partykeer is dit beter om stil te bly”, het my ma altyd gesê. “As jy nie iets goed het om te sê nie, hoef jy nie iets te sê nie.” En so kan ek aangaan oor hoeveel dinge my ouers my geleer het oor die krag van woorde en ook die krag van stilte. Maar ons moet praat elke dag. Ons moet met mense kommunikeer en soms moet ons ook met mense argumenteer.
Ons probeer ons kinders leer dat hulle twee keer, selfs drie keer moet dink voordat hulle praat. Dat hulle hulself moet afvra of hul woorde vriendelik, noodsaaklik en waar is. Dit is drie vereistes vir woorde. Indien jou woorde een van hierdie eienskappe ontbreek, is dit beter om stil te bly. Maklike raad, of hoe? Ja, miskien vir ’n gesin of ’n klein opset, maar in die wêreld daar buite... nie so maklik nie. Veral nie as die wêreld nie dieselfde reëls volg nie. Maar, as ons dan nou die “sagte” benadering volg, hoe sal ons dan ooit die “harde” moeilikhede van die lewe adresseer? Met sagtheid, respek en eerlikheid.
In Psalm 19 skryf Dawid hoe die Skepping sonder woorde die eer van God verkondig. Ons, as mense, is egter geseën met spraak en dan sluit Dawid die psalm af in vers 15 met die woorde: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Ps. 19:15 AFR20)
Ons woorde – by die huis en buite die huis – moet ’n weerspieëling wees van wat binne ons aan die gebeur is. Dit moet ’n weerkaatsing wees van die nuwe mens wat Christus in ons bewerk. Argumente en konfrontasies in ons lewens, is groei geleenthede. Dit is dinge wat ons kan vermy, maar soms is dit nodig. Wanneer ons ons monde oopmaak om te praat, moet ons Jakobus se woorde in Jakobus 3:9-10 (AFR83) onthou: “9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie.”
Woorde wat nie deurdink is nie, woorde wat nie vriendelik, noodsaaklik en waar is nie, is woorde wat kom vanuit afguns en selfsug en Jakobus sê vêrder in vers 16 (AFR20): “...waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.” Ons wil tog nie ons huise vol wanorde en allerlei gemene dade hê nie. Ons wil tog ook hierdie dinge uit die wêreld verwyder. As dit beteken dat ons woorde die sleutel is om hierdie dinge uit te sluit, dan moet ons mooi dink voor ons praat. En mag ons saam met Dawid bid: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Ps. 19:15 AFR20) Amen
Vrede vir julle almal!
2021-08-11 – God se werktuie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die kerk van vandag en die kerk van die eeue is gebaseer op die kragtige belydenis van Petrus in Matteus 16:16. Jesus het die vraag gevra oor wie die mense sê Hy is, en toe vra Hy aan die dissipels: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” (vers 15) Petrus se antwoord en belydenis, “U is die •Christus, die •Seun van die lewende God.”, is die belydenis wat ons tot vandag toe nog anders maak as die wêreld wat weier om te glo.
Van die begin van die mensdom af, was dit God se visie om saam met Sy mense in volmaakte gemeenskap te wees. Toe die mens se eie keuses en vrye wil hierdie visie verwerp het en deur middel van die sonde die verhouding baie skade aangerig het, het God alreeds ’n plan begin onthul om die pad terug na Hom te bied. God se plan het bestaan uit die opbou van Abraham se nageslag tot ’n groot nasie en om dit nog vêrder uit te brei in die liggaam van Christus deur Abraham se nageslag. So het die verhaal van Israel, mense uit alle nasies op die eerste koms van Christus gewys – en déúr Hom, op God se plan om ’n verhouding met Sy volk te herstel.
Daarom vra Jesus net voor Sy kruisiging daardie belangrike vraag aan Sy dissipels en verduidelik daardeur aan hulle hulle rol om God se uiteindelike visie vir die komende koninkryk te verwesenlik. Matteus 16:13-19 beklemtoon dat God se plan vir gelowiges steeds van krag is; die visie is dat gelowiges bymekaar moet kom in ’n gemeenskap wat tot vandag toe voortduur.
Na die opstanding en hemelvaart van Jesus het God hierdie gemeenskap, die kerk, gevorm en gelei deur Sy dissipels. Die verhaal van die kerk wys mense van alle nasies op die wederkoms van Christus wanneer Hy die oorspronklike visie van God ten volle sal herstel. As kerk moet ons lewens bely, soos Efesiërs 4:15 ons leer: “... ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof” Daar is baie maniere waarop God Sy doel op aarde kan bereik, maar ons moet glo dat ons, die kerk, die primêre werktuig daarvoor is. Dit is hoe God dit beplan het.
Wie sê jy is Jesus? Jou belydenis maak jou deel van die liggaam van Christus. Onthou: In die liggaam van Christus behoort jy aan ’n familie wat gefokus is op al die dinge van God, wat goed, reg en gesond is. In die liggaam van Christus sal jy vinniger groei in jou wandel met God. As gevolg van ons nuwe identiteit in Christus, leef ons om uit te druk wie ons in Christus is, nie om te bewys wie ons is nie. In die liggaam van Christus word jy deel van ’n beweging wat groter is as jy self.
Om oor te dink vandag:
Is my belydenis in lyn met wie Jesus Christus is? Is ek deel van die liggaam van Christus en besef ek dat ek moet wees om God se plan tot uitvoering te bring?
Gebed:
Dankie Almagtige God, dat U U eie Seun gestuur het om ons met U te versoen. Uit ons eie sou ons dit nie regkry nie. Dankie dat U U kerk gevestig het, Here Jesus. Dankie dat ek kan deel wees van U groot plan. Help my om in te skakel en my deel te doen. Tot U eer alleen. Amen
2021-08-10 – Herinner hulle. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek onthou as kind hoe ons altyd gesit en luister het na die stories wat ons ouers en oumas en oupas ons vertel het van die “ou dae.” Hulle het ons vertel van die speletjies wat hulle gespeel het, die manier waarop hul dinge gedoen het, hoe dinge “anders was”, en natuurlik die dinge wat hulle geleer het, hoe dit geleer was en hoe ons nogsteeds daaruit kan leer. Partykeer het ons gedink dis nogal “cool”, maar ander kere het ons gedink dis sommer dom gewees.
Noudat ek self kinders het, kom ek agter dat ek dieselfde met hulle gedoen het. Ek het ook probeer om hulle waardevolle lesse te leer, sodat hulle met goeie waardes sal grootword. Tog weet ek dat dit hul eie lewe is en dat hulle hul eie besluite moet neem. Een ding wat ek wel, hopelik, genoeg vir hulle geleer het, is wat God ook vir die Israeliete deur die Paasfees probeer herinner het...
Ons lees in Eksodus 13 dat God die volk herinner om die dag te herdenk waarop hulle uit Egipte getrek het. Vir sewe dae lank moet hulle ongesuurde brood eet en op die sewende dag ’n fees hou tot eer van die Here. En dan, op daardie dag, lees ons in vers 8: “Jy moet jou seun op daardie dag inlig en sê, ‘Dit is ter herdenking van wat die Here vir my gedoen het...” Ja, ons moet ons kinders en jongmense gereeld leer en herinner aan wat God vir ons gedoen het.
In Suid-Afrika het ons ’n hele paar nasionale vakansiedae waarop ons spesifieke gebeure of mense herdenk. Party van hierdie dae was nie so mooi gewees nie en daar was onskuldige bloed wat gevloei het. Maar hierdie dae herinner ons eintlik ook, soos met die Paasfees, aan wat omtrent 2000 jaar gelede gebeur het: Dat Jesus se onskuldige bloed ook vir jou en my gevloei het.
Joodse tradisie het ’n baie, baie belangrike les om ons te leer. Moet dit asseblief nie mis nie. Onthou: Jy is die rol gegee as priester in jou huis of waar jy jou betref. Vertel jou kinders, jou familie, jou vriende van God se getrouheid in jou lewe. Stel hulle bekend aan God se wonderlike genade en vergifnis. Wys hulle hoe Sy liefde lyk wanneer dit in ’n persoon se lewe uitgeleef word. Jou lewe. En bid dat elkeen sy eie persoonlike verhouding met Christus sal hê.
As jy die voorreg het om lid te wees van ’n kerkgemeenskap, word jy weekliks bedien deur mans en vroue wat deur God geroep is. Hierdie is jou predikant, ouderlinge, diakens, mede-lidmate. Mense wat geroep is om ons te onderrig en uit te daag. Maar om hierdie mense in ons lewens te hê, beteken nie dat ons nie meer ’n verantwoordelikheid het nie. Hulle taak is nie om hierdie spesiale rol in ons huise en werkplekke aan te neem nie. Daai taak is ons s’n.
Ons het 'n roeping om ons lewens as voorbeeld te lei. Om ons kinders, jongmense, vriende en familie te leer oor God se weë, om hulle te herinner aan Sy getrouheid en om hulle te wys hoe dit lyk om met nederige dankbaarheid te lewe, omring deur Sy genade.
Gebed:
Here, dankie vir dít wat U vir my gedoen het. Help my om te leef dat almal om my dit kan sien. Help my om te vertel en te leer van U liefde en genade. Laat my elke dag, in dankbaarheid lewe, ter herinnering aan dít wat U vir my gedoen het. Amen
2021-08-09 – Veg of vlug? (Kliek hier vir die klankgreep)
Eerstens: Geseënde vrouedag aan al die vroue.
So dikwels in die lewe word van ons verwag om stresvolle en ongemaklike situasies te hanteer. Dit is iets wat geeneen van ons kan vryspring nie. Stres en moeilikheid is nou maar deel van die lewe en ons weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie. Natuurlik is daar baie strategieë as dit hierby kom, maar gewoonlik is dit die mens se natuurlike instinkte van “veg of vlug” wat inskop. Óf jy begin stry en baklei teen die situasie, óf jy probeer alles in jou vermoë om weg te kom daarvan en dit te vermy. Maar dit is nie altyd so maklik nie. Daar is té gereeld situasies waardeur jy eenvoudig net móét gaan. Hoe maak ons dan? Hoe hanteer ons die drama? Is daar nie ’n derde opsie nie? Iets beter as veg of vlug?
So gepraat van stresvolle situasies. Daniël het amper onmoontlike situasies in die gesig gestaar. Situasies wat uitsonderlike wysheid en bravade vereis het. Behalwe vir die feit dat hy in ballingskap was in Babilonië en baie van sy vriende, familie en volksgenote deur ’n wrede konings van Babilonië vermoor is, word hy deur God geroep om juis voor koning Nebukadnesar te kom. Die koning het drome gehad wat niemand kon uitlê nie en Daniël gaan en benader die man wat opdrag gegee is om al die sogenaamde waarsêers, towenaars en priesters wat misluk het in hulle taak, om die lewe te bring! Nou kom Daniël voor die koning te staan. Al die oë is op hom gerig. Wat as hy misluk? Dan is dit die einde vir hom. Die koning sal hom definitief om die lewe laat bring... Praat van stres!
Hoe het Daniël hierdie uiters dramatiese en stresvolle situasie hanteer? Deur nie op homself en sy eie krag staat te maak nie. In Daniël 2:20-23 lees ons dat Daniël ’n hegte verhouding met God gekweek het en dat hy geweet het dat hy heeltemal afhanklik was van God vir wysheid en krag. Toe die drama op kookpunt begin draai en hy gevra word of hy die droom van Nebukadnesar kan interpreteer, het Daniel nie self gepraat nie. Hy het nederig geantwoord: “...Die geheim waaroor die koning navraag doen, kan die wyses, towenaars, waarsêerpriesters en voorspellers nie vir die koning uitlê nie. 28Daar is egter 'n God in die hemel wat geheime openbaar...” (Daniël 2:27-28 AFR20). Daniel het God uitgenooi na sy drama. Dis die derde opsie. Laat God vir jou veg!
Dalk werk jy as die enigste vrou in die leierskap van jou kerk; of jy moet sorg vir jou bejaarde en verswakte skoonfamilie, wat nooit gedink het dat jy goed genoeg is vir hul kind nie. Dalk staar jy werkloosheid in die oë; of moet jy elke dag werk vir ’n baas wat geen genade en empatie het met ander nie. Ongeag die situasie, die beste manier om dit met genade en wysheid te hanteer, is om God uit te nooi om die omstandighede se uitkoms te bepaal. Laat Hom deurdring met Sy wysheid. Steun op Sy krag. Vertrou op Sy insigte. Jy voel miskien of jy nie die spanning kan hanteer nie, maar, met God se hulp, kan jy. Kies die derde opsie. Laat God jou help en veg op Sy manier met genade, liefde en wysheid.
Om oor te dink vandag:
Hoe gereeld probeer ek om alleen moeilike situasies aan te pak? Hoe dikwels vlug ek van my verantwoordelikheid om stresvolle situasies te ontlont?
Gebed:
Almagtige, ewige, wyse God, help my op U staat te maak en te steun in moeilike en stresvolle situasies. Ek verstaan nie hoekom dinge soms gebeur nie en ek weet nie wat die uiteinde van alles is nie, maar U weet. Help my, om soos Daniël, ’n hegte verhouding met U te kweek en op U te vertrou om elke situasie te hanteer. Help my vrede vind in U wat in beheer is van my lewe. Amen
2021-08-07 – Werk lekker. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om oor te dink vandag:
As jy elke uur van elke dag, en elke dag van elke jaar kon werk, sou jy? Het jy al ooit so lekker saam met ander mense gewerk, dat jy dikwels daarna verlang?
“2Die twaalf het daarop die hele groep dissipels bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie goed dat ons die woord van God verwaarloos om by die tafels diens te verrig nie. 3Broers, soek dan sewe mans onder julle, van goeie getuienis en vol van die Gees en van wysheid, wat ons vir hierdie taak kan aanstel. ... 7En die woord van God het versprei en die aantal dissipels in Jerusalem het aansienlik vermeerder, en 'n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword.” – Handelinge 6:2-3, 7 (AFR20)
Hierdie verse verduidelik een van die maniere waarop die gelowiges in Handelinge hul werk georganiseer het. Hulle het saamgewerk om ’n stelsel te ontwikkel. Dit was nie chaoties nie. Hulle het nie energie, tyd of hulpbronne vermors nie. Hulle wou doeltreffend vir God werk.
Hulle het hul eie vermoëns en hul eie beperkings erken. Ja, hulle het geweet wat hulle nie weet nie en geweet wat hulle nie kan doen nie. Hulle het nie rondgehardloop om alles tegelyk te probeer doen nie. Hulle het nie probeer om meer te doen as wat hulle kon nie, en hulle het hard gewerk aan wat hulle kon doen. As gevolg hiervan het die kerk gegroei, en meer en meer mense het Jesus leer ken.
Gelowiges van vandag moet ook verantwoordelikhede deel. Niemand kan alles doen nie. En almal behoort iets te doen. Ons moet biddend nadink oor waar ons vermoëns die beste by God se werk inpas. Ons moet God vra om ons opdragte te gee wat ons toelaat om Hom die beste te dien. En as gevolg hiervan sal die Woord van God versprei.
Gaan en werk lekker in God se Koninkryk!
Om te doen vandag:
Deel bietjie met ander hoe lekker jy tans of in die verlede saam met ander mense gewerk het. Deel ook die rede waarom julle goed saamgewerk het.
Gebed:
Liewe Heer, help ons asseblief om die vermoëns wat U ons gegee het, te ken en te gebruik. Help ons ook om ons eie beperkings te ken. Gee dat ons met vreugde ons werk kan doen en dat ons met vreugde sal werk dat U Koninkryk kom. Amen.
2021-08-06 – Werk vir wat wag. (Kliek hier vir die klankgreep)
Partykeer dink ons dat wat ons doen nie saakmaak nie. Ons voel soms dat ons werk geen verskil maak nie. Nou ja goed, soms is die take waarmee ons besig is nie so indrukwekkend soos ander nie. Soms is dít wat ons doen, nie regtig so beduidend soos ons graag wil nie. Soms voel dit of dit ’n mors van tyd is. Asof dit niks beteken nie... Maar, soos gister genoem, die werk kom van God af en ons doen dit vir Hom. Só kan ons regtigwaar enigiets tot God se eer doen, behalwe sonde.
Sedert Dawid se kinderjare, het hy die taak gehad om oor ’n kudde skape toesig te hou en só ’n belangrike rol te speel in die bron van inkomste van sy familie. Hy moes die vee beskerm teen roofdiere en diewe. God het Dawid van sy nederige begin as nederige herder geneem, en God het hom die verantwoordelikheid gegee om oor Sy uitverkore volk te heers. Die vaardighede wat Dawid tydens sy vroeë jare geleer het, het uiteindelik gelei tot sy toesig oor God se volk terwyl hy hulle gelei en beskerm het gedurende sy tyd as koning. Alles wat hy gedoen het en móés doen – dinge wat hy dalk gesien het as niksbeduidend – was voorbereiding vir God se plan. Niks was verniet nie.
Jesus was op Sy beurt dan ook die gekose herder van God se volk gewees. In Johannes 10:11-15 se Jesus ook:
“11Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12Die huurarbeider, wat nie 'n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – 13omdat die man 'n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. 14Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape.”
Dit is opmerklik hoe gereeld Jesus dieselfde beeldspraak gebruik het as wat Hy oor sy lewe en bediening geleer het toe Hy Homself die goeie herder en Sy volgelinge Sy skape genoem het. Jesus het Homself gesien as die Een wat bedoel was om die volk van God te beskerm en te lei en – as ’n getroue herder – Sy eie lewe te gee ter wille van die skape.
Om ’n skaapwagter te wees, is nie lekker nie. Dit was nog nooit nie en dit was ’n moeilike en onaangename werk. Hy moes in die veld slaap in reën en sneeu saam met die skape. Hy moes oral wees waar hulle is en alles doen om die skape te beskerm. Nie ’n lekker werk nie, maar die moeite werd. Dawid se opleiding het hom voorberei om God se volk te lei. Jesus se nederige begin as timmerman het Hom ook opgelei om hard te werk vir Sy mense en om uiteindelik die groot Herder te wees vir Sy volk.
Om oor te dink vandag:
Waaroor en oor wie het God my aangestel? Selfs dáár in my werkplek? Wie is my skape?
Gebed:
Here Jesus, ek loof U omdat U die Goeie Herder is. Dankie dat U my liefgehad het, my gelei en beskerm het, selfs tot die dood toe. Ek weet nie altyd wat U vêrder vir my beplan nie, maar soos U Woord my leer, weet ek dat dit goed is, want dit kom van U. Help my om die werk wat U aan my toevertrou het, getrou te doen en dat ek my taak as herder oor die take en die skape wat U vir my gee, tot die beste van my vermoë en tot U eer te doen. Amen.
2021-08-05 – Waarvoor werk jy? (Kliek hier vir die klankgreep)
As dit kom by werk, is mense se gesindheid gewoonlik een van twee uiterste kategorieë:
Een uiterste is die werkslaaf, met ’n selfoon in die een hand, nog ’n slimfoon of tablet in die ander hand, en ’n rekenaar oop op hul skoot.
Die ander uiterste is die persoon wat ’n werk slegs as ’n noodsaaklike euwel beskou, net ’n middel tot ’n salaris. Ontspanning is hier prioriteit. Hierdie persoon bestaan net vir naweke.
In watter kategorie is jy? Weet jy... nie een van hierdie kategorieë is Bybels nie.
Paulus skryf aan die Tessalonisense oor hulle gesindheid teenoor werk en die invloed wat dit op hulle gemeenskap gehad het. In 1 Tessalonisense 4:11-12 (AFR83) skryf hy:
“11Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. 12Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.”
Sommige van die Tessalonisense gelowiges was harde werkers, maar ander het ledig geraak, en met niks om te doen nie, het hulle begin om nogal moeisaam te raak. Paulus sê dan ook vir hulle in sy tweede brief: “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”” (2 Tess. 3:10 AFR83)
Paulus het ook vir Timoteus gesê: “...as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as 'n ongelowige.” (1 Tim. 5:8). Maar ons weet ook dat werk oor baie meer gaan as om net vir ons gesinne voorsiening te maak – al is dit baie belangrik. Ons beroep gaan nie net oor die verdienste nie; dit gaan ook oor hóé ons leef.
Watter werk ons ook al doen, dit is ’n roeping tot eer van God: ’n Vullisverwyderaar help om die skepping mooier te maak tot eer van God. ’n Messelaar of skrynwerker bou tot eer van God. ’n Onderwyser vorm die gedagtes van ander tot eer van God. Ons werk en ons gesindheid teenoor ons werk, wys aan ander mense hoe ons God liefhet en daarna streef om Hom te dien in alles wat ons doen.
Die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 wys aan ons dat God die eerste mense geroep het om te werk. Hulle moes oor die algemene dinge op aarde heers en alles in standhou en hulle moes spesifiek ook die tuin van Eden bewerk. Ons word ook geroep om te werk. Of ons werk buite die huis of binne die huis is, werk is goed, omdat dit van God af kom.
Getroude paartjies moet weet dat een van die beste dinge wat hulle vir mekaar in die huwelik kan doen, is om die werk van hul gade hoog te ag. Ons moet “...ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb. 10:24), om die beste in mekaar na vore te bring, om mekaar se selfrespek en gevoel van waarde op te bou. Ons moet mekaar help om Christelike gedrag na te boots, wat insluit om ’n bestaan te maak. Ons Verlosser het self as timmerman gewerk voordat Hy as Leraar begin het.
Onthou: Wees dankbaar vir enige werk, want werk kom van God af. Doen dit tot Sy eer.
Om oor te dink vandag:
Besef ek dat enige werk wat ek doen, tot eer van God moet wees? Doen ek dit?
Gebed:
Dankie Here dat ek kan werk. Dankie dat ek enige taak in my werk en by die huis tot U eer kan doen. Help my dat my gesindheid reg sal wees en help my om ander ook aan te spoor om met trots hul werk vir U te kan doen. Tot U eer alleen. Amen
2021-08-04 – Werk saam. (Kliek hier vir die klankgreep)
As ons weet ons het harde werk, word ons dikwels gou moedeloos as dinge nie uitwerk nie. Ons sukkel maar voort en hoop dat dit tog net gou sal klaar wees. Wanneer ons dit klaarmaak, is ons moeg, uitgeput en nie lus om weer so iets aan te pak nie. Maar as ons goeie resultate sien, is dit weer bemoedigend vir ons en sien ons weer kans.
Soms, is die werk egter net té veel vir ons om alleen te doen. Ons wil dit graag alleen doen en wil graag hê dat ons die erkenning daarvoor sal kry, maar ons weet ook goed dat ons dit nie op ons eie kan doen nie.
Wanneer dit kom by God se Koninkryk, moet ons besef dat dit verskriklik baie werk is. Jesus self het gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” (Luk. 10:2 AFR20) Ons kan nie dit op ons eie doen nie. Ons het God nodig en ons het mekaar nodig. Moses het ook gedink dat hy alles moet doen, maar gelukkig het sy skoonpa Jetro, vir hom goeie raad gegee in Eksodus 18:17-18 (AFR20):
“17Moses se skoonvader sê toe vir hom: “Dit is nie goed dat jy die saak so hanteer nie. 18Jy gaan jouself heeltemal uitput – jy sowel as hierdie mense wat by jou is. Want dit is te veeleisend vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.”
Baie mense worstel met die wêreldse ‘behoefte’ om almal tevrede te stel. Ons wil so graag aan almal se vereistes voldoen en die woordjie ‘nee’ is net nie in ons woordeskat nie. Maar ons moet besef dat ons eenvoudig nie orals op een slag kan wees nie. Ons kan dan nie eers alles doen wat óns graag wil doen nie. Om te probeer om alles vir alle mense te wees, plaas ons op ’n vinnige pad na uitbranding. Maar, as ons leer om te delegeer en leer om saam te werk met ander Christene, word ons vrygemaak om te fokus op die dinge wat God ons gegee het om te doen.
Delegering skep ook die geleentheid vir ander bekwame mense om in ’n nuwe rol te ontwikkel. Die mense rondom Moses sou moontlik nooit leiers geword het as hy hulle nie die geleentheid gegee het nie. Dit is dieselfde vir ons vandag. Soms is die beste ding wat ons vir ander en onsself kan doen, om opsy te staan sodat iemand anders kan optree. Moet jouself nie oorwerk nie. Moet nie dink dat jy alleen God se Koninkryk moet laat kom nie. Werk saam. Lei op en delegeer. Tot eer van God.
Om oor te dink vandag:
Wat is my hoogste prioriteite? Kan ek my losmaak van een van my huidige verantwoordelikhede en dit aan iemand anders gee en daardie persoon aanmoedig om te groei? Watter take kan ek aan my kinders of ander jongmense delegeer sodat hulle kan groei en leer om ander te dien?
Gebed:
Here, soms word ek heeltemal oorweldig as ek kyk na die taak voorhande. As dit kom by persoonlike, praktiese dinge; en as dit kom by U Koninkryk. Ek kan nie dink dat ek dit alleen kan doen nie en dan dink ek soms dat dit ’n onmoontlike taak is. Here Jesus, U self het gesê die arbeiders is min, maar Hemelse Vader, die oes behoort aan U. Stuur asseblief arbeiders uit vir U oes. Help my om saam te werk en te delegeer waar nodig. Help my om dit ook in my privaat en werklewe toe te pas. Help my om slimmer te werk, sodat ek daardeur nuwe krag sal ontvang om U beter te dien. Amen
2021-08-03 – Werk daarvoor. (Kliek hier vir die klankgreep)
“4'n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm; dit is vlyt wat ryk maak.” – Spreuke 10:4 (AFR83)
Die Bybel is baie duidelik oor die verskil tussen iemand wat arm is en iemand wat sommer net lui is. Baie mense het niks, want hulle doen geen moeite om hulself te help nie. Dit is onaanvaarbaar. Tog is daar baie lui mense in ons samelewing. Ons almal het tog al gehoor dat iemand sê: “Ek sal ‘so-en-so’ help, as hulle tog net gehelp wíl word of as hulle hulself wíl help.”
Noe goed, ons weet dat baie mense deesdae nie kán werk nie, as gevolg van verskeie redes, en dat werk ook maar skaars is. Die moeilikheid is dat hierdie kwessie dan dikwels ’n polities kwessie word en ’n verskoning vir mense word, wanneer dit eintlik nog altyd ’n Bybelse kwessie is. God verwag dat ons met al ons vaardighede, gawes en talente wat ons van Hom ontvang het, moet werk om vir onsself en ons gesin te sorg. Ons moet ook ons gesin leer om vir hulself te sorg, en dit moet voortduur tot in toekomstige geslagte. Om hierdie waarde by ons kinders en ons samelewing se jongmense in te boesem en hulle te help om die verskil tussen luiheid en harde werk te besef, is dit ’n goeie idee om as gesin saam te werk om take en ander projekte in die huis te verrig. Ja, weereens, soos met amper al die waardes en standaarde wat ons leer in God se Woord, begin die harde werk by die huis.
Om jou kinders of jongmense in die gemeente of gemeenskap betrokke te kry, kan ’n taak soms ’n bietjie vertraag of beteken dat iets nie presies gedoen word soos jy sou wou nie. Maar onthou, dit is goed, want op die lange duur leer jy hulle hoe om te werk. Fokus op die groot prentjie. Dit is die belangrikste. Deur harde werk en samewerking, word die regte waardes en gesindheid in mense gekweek.
Onthou: Gee iemand alles waarvoor hulle vra, en hull sal nooit ophou vat nie. Leer iemand om te werk, en hulle sal nooit ophou gee nie.
Om oor te dink vandag:
Hoe definieer ek ’n ‘harde werker’? Hoe leer ek my kinders en ander jongmense op take te verrig? Hoe kan ek in my gesin/familie meer sáám werk?
Gebed:
Baie dankie Here, dat U aan my verskeie talente, gawes en vermoëns gegee het. Help my om te doen wat ek kan. Help my om ’n voorbeeld te wees aan ander – veral ons jongmense – van die voordeel van harde werk. Help my om Bybelse waardes in die volgende geslag te kweek. Tot U eer. Amen
2021-08-02 – “Groei in genade en kennis.” (Kliek heir vir die klankgreep)
In 2 Petrus 3:18 (AFR20), in die slot van sy tweede brief, moedig Petrus sy lesers aan: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus.”
Die meeste van ons weet: Enige lewende organisme hou altyd aan groei – al is dit net ’n klein bietjie. Soms is dit nie eers sigbaar nie en word ou selle net met nuwes vervang. As daar egter geen groei is nie, is daar geen lewe nie. Dit is ’n natuurwet. Hierdie beginsel geld natuurlik ook vir ons geestelike lewens. In ons geestelike vorming, moet ons dus, soos Petrus sê: “Sorg dat (ons) julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus.” Maar wat beteken dit? As genade heeltemal God se gawe en gratis geskenk aan ons is, hoe kan óns die inisiatief neem om ‘daarin te groei’?
Die negentiende-eeuse teoloog Archibald Alexander het dit soos volg verduidelik: "Vir sovêr enige siel toeneem in geestelike kennis, groei dit in dieselfde mate in genade." Om in genade te groei, moet ons ywerig wees in die verwerwing van geestelike kennis, beide in ervaring en intellektueel, wat ons toelaat om in wysheid te groei – kennis van ons geestelike toestand, kennis van God se Woord en kennis van Christus.
Alexander gee dan ’n hele paar voorstelle oor hoe ons kan groei in genade. Opgesom, is dit:
1. Besef dat dit volgehoue inspanning sal verg – Net soos hare en naels se groei van dag tot dag nie sigbaar is nie, so moet ons ook besef dat daaglikse vordering amper onmerkbaar is, maar ons moet elke dag werk daaraan. Ons moet daagliks sterf vir die sonde en lewe vir geregtigheid.
2. Doen die werk, maar vertrou op die Heilige Gees – Om te vorder in ons geestelike vorming, moet ons genoeg insit in ons geestelike dissiplines. Maar selfs al voeg ons ons beste menslike pogings tot heiligmaking toe, moet ons besef dat enige vooruitgang die werk van die Heilige Gees is. Ken dus jou perke en ken jou vermoëns in dít wat jy doen en aanpak, maar vertrou geheel en al op God vir die res, asof jy nie eers deel is van die formule nie.
3. Bestudeer die Skrif vir geestelike voordeel, nie net vir nuuskierigheid se onthalwe nie – Vermy nuuskierige en oordrewe bespiegelinge oor dinge wat nie geopenbaar word nie en moenie eers onnodig probeer stry met diegene wat deesdae mos ‘alles weet’ en ‘al die antwoorde’ het nie. Ons pogings om die Skrif te bestudeer moet ons daartoe lei om meer soos Jesus te word, nie om steeds beter teologiese debatteerders of kurators van obskure spekulasie te word nie.
Onthou: Om in genade te groei, vereis die verkryging van die geestelike kennis wat ons daartoe lei om meer gehoorsaam aan Christus te word.
Om oor te dink vandag:
As ek oor ’n lang tydperk terugkyk, sien ek die groei? Volg ek hierdie voorstelle? Wat moet ek dalk uit my lewe sny wat my verhoed om te groei in genade en kennis van Jesus Christus?
Gebed:
Baie dankie Here, dat U die groei in my bewerk. Uit my eie sal ek dit nie kan doen nie. Help my om nie gefrustreerd en ongeduldig te raak, omdat ek dit nie raaksien nie. Laat my met my hele hart op U vertrou, Heilige Gees, om die werk in en deur my te doen. Mag ek toegewyd U Woord bestudeer en elke dag gehoorsamer word aan U. Vorm en maak my, soos U wil. Amen
2021-07-31 – Ek wens ek was ’n superheld... (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit sou darem lekker gewees het as sommige van ons ’n supermoondheid, oftewel “superpower”, gehad het. Dan kon ons mos die wêreld maklik verander...
Maar weet jy? Almal van ons – wanneer ons vir Jesus aanvaar as Verlosser en Hom begin volg – word toegerus met spesifieke gawes om ander te bedien. Dit gebeur met almal. Nie een van ons word deel van God se familie, sonder dat ons verander word nie. Ons ontvang ’n geestelike gawe (of gawes). Maar wat presies is dit?
Wanneer ons praat van “geestelike gawes”, dan gaan dit juis oor die twee Griekse woorde “pneumatikos” (“geestelik” of “van die Gees”) en “charisma” (“gawe”). Geestelike gawes is spesiale vermoëns of funksies wat deur die Heilige Gees gegee word, wat bedoel is om deur God se mense gebruik te word om God se werk te voltooi.
Ons moet ook mooi besef dat Geestelike gawes met ’n doel gegee word. Dit gaan nie oor hoe goed of gelowig ons sal lyk om hierdie gawes te gebruik nie. God wil hierdie gebroke wêreld verlos, en hy het gekies om ons, die kerk, te gebruik om dit te doen. Terwyl die Heilige Gees in die Ou Testament tydelik op volgelinge van God gekom het om hulle in staat te stel om spesifieke take te vervul, dui die Nuwe Testament duidelik aan dat die Heilige Gees in alle gelowiges woon en dat alle gelowiges geestelike gawes het. En aangesien die Nuwe Testament na spesifieke gawes verwys, is dit duidelik dat God wil hê dat ons ons gawes moet identifiseer om dit die beste te kan gebruik.
Geestelike gawes is soos gereedskap wat bedoel is om gebruik te word. Die Goddelike taak om stukkende mense die geleentheid te gee om weer heel te word in God, is aan ons gegee, en ons moet hierdie gereedskap aan die werk sit. Paulus skryf dan ook in Romeine 12:4-6a (AFR20):
“4Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, 5net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. 6Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is”
Dan noem Paulus so paar van hierdie gawes op (Rom. 12:6b-8): profesie, dienswerk, onderrig, bemoediging, mededeelsaamheid, leiding, barmhartigheid... Het jy gehoor, dis is alledaagse, eenvoudige, Christelike take. Ja, die Heilige Gees rus ons toe om soos Jesus te leef.
Om ’n beter begrip van jou eie geestelike gawes te verkry, sluit aan by die res van die liggaam en vra mede-gelowiges eenvoudig om jou te help om jou gawes te ontdek. Ons het ’n verantwoordelikheid om God se gawes te ontdek en te ontwikkel, en dan uit te vind hoe elkeen pas in die wêreld, sodat dit kan word soos Hy dit wil hê. Onthou jy is ’n gawe gegee, en God beplan om jou gawe te gebruik om die wêreld te verander.
As kind het jy dalk gedroom om een of ander supermoondheid te besit. Nou is dit nog beter: die Almagtige Skepper het aan jou ’n Goddelike gawe gegee. As dit gebruik word in en deur jou unieke persoonlikheid, vermoëns en intellek, aangevuur deur Sy Heilige Gees, sal God beslis bonatuurlike resultate lewer vêr bo wat jy kon vra of jou ooit sou voorstel.
Gaan en wees ’n superheld!
Om oor te dink vandag:
Weet ek wat my gawe(s) is? Wat doen ek om dit te ontwikkel? Hoe wend ek dit aan om die wêreld te verander?
Gebed:
Dankie almagtige Skepper, dat U in my aanhou skep. Dat U U Heilige Gees in my laat woon en dat ek diensbaar kan wees om die verskil wat U wil sien in die wêreld te kan bring. Hier is ek Here. Gebruik my. Amen
2021-07-30 – Verwag die Hoop. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons sê ons moenie blindelings glo nie en net op God alleen vertrou; en wanneer ons erken dat Jesus gekom het om ons te kom verlos – en nie te veroordeel nie, dan moet ons wel ook realisties kyk na die hele prentjie. Onthou Jesus veroordeel jou nie vir wie jy was vóór jy Hom ontmoet het nie. Maar wat vêrder gebeur, speel wel ’n rol, want ons weet ook dat Hy vir seker gaan terugkom om te oordeel oor almal – lewend of dood.
Dit klink so dikwels verdoemend as ons dit hoor, maar ons hoef nie daarvoor bang te wees nie. Tog, moet ons wel die erns van die saak ook besef. Ons moet besef dat ons nie maar kan voortgaan soos ons het, vóór ons vir Jesus geken het nie. Ons kan nie dink dat die redding en verlossing wat Jesus baie duur voor betaal het mee gemors kan word nie. Ja, die Here het baie geduld met ons en Sy Woord leer ons dat Hy ons altyd weer sal vergewe, maar dan moet ons opreg wees. As ons opsetlik sondig en God in ons sak probeer hou as ’n troefkaart, dan maak ons die genade goedkoop en was ons dalk nooit regtig verlos nie – dan het ons dalk nog nie heeltemal ons lewe oorgegee in Jesus se hande nie. Ons moet uit dankbaarheid, sterk staan in die geloof. Ons hoop bepaal dat ons nie bang hoef te wees vir die komende oordeel nie...
Paulus skryf aan ’n groep mense wat deel was van die gemeente in Thessalonika. Hulle was nuwe volgelinge van Jesus. Hulle het baie vrae en uitdagings gehad te midde van ernstige teenstand van die Jode. Paulus besef dit en weet dat dit nodig is om die mense hoop te gee. Hy doen dit dan juis in elke hoofstuk van 1 Tessalonisense. In 'n groot deel van die boek word Jesus voorgestel as die hoop op redding – vir hierdie lewe, sowel as wanneer Hy na die aarde terugkeer. Hierdie boodskap was veral van groot belang vir hierdie gehoor (en ons), aangesien die evangelie oorspronklik na hulle gekom het te midde van groot lyding en verdrukking (1 Tess. 1:6). (klink nogal soos ons land en wêreld op die oomblik...)
Paulus bemoedig die mense en herinner hulle oor hoe die mense van hulle praat:
“9Hulle self vertel oor ons van die besondere ontvangs wat ons by julle gekry het: Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, 10en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom.” – 1 Tessalonisense 1:9-10 (AFR20)
Paulus praat nie net van gewone “wag” op iets hier nie. Nee, hier is ’n “verwagting”, dit impliseer dat ons gretig en afwagtend moet uitsien na die wederkoms van die Here. Hierdie hoop is ’n selfversekerde wag en nie ’n wensdenkery nie. Diegene wat in Christus glo en Hom waarlik volg, kan ondanks hulle omliggende omstandighede met selfvertroue die lewe tegemoetgaan, en hulle kan met vreugde wag op Sy wederkoms. Ons weet dat Sy genade en liefde vir ons genoeg is. Dit was nie goedkoop gewees nie. Ons vertrou waarlik op Hom, want Hy het ons verlos van die mag van die sonde.
Om oor te dink vandag:
Sien ek waarlik nog uit na Jesus se wederkoms?
Gebed:
Here Jesus, help my om met vertroue, geduld en blymoedigheid op U koms te wag. Help my om U elke dag meer te vertrou en te weet dat U tydsberekening perfek is. Amen.
2021-07-29 – Is daar iets soos ‘blinde geloof’ ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Julle weet mos? Mense sê dikwels vir ons: ‘Nee man, jou geloof is te klein. Jy moet weet wat jy wil hê in die lewe en jy moet gaan daarvoor!’ Dikwels voeg mense ook nog by: ‘Jy moet God toets aan Sy beloftes... Glo net... en Hy sal jou help...’
Sjoe... In ’n mate, is daar wel ’n bietjie waarheid aan daardie benadering, maar oor die algemeen is dit verkeerd. Ja, ons kan God vertrou oor Sy beloftes, maar om Hom half uit te daag en amper te tart... ek weet nie so mooi daaroor nie... Maar om te te gaan vir wat óns in die lewe wil hê en te verwag dat ons God gaan manipuleer met ’n gebed... nee wat, dan sit ons die pot vêr mis en verstaan ons nie waaroor geloof gaan nie.
In die Bybel word geloof altyd gekoppel aan ’n daadwerklike vertroue in God en sy Woord. Vir die gelowige bestaan daar nie iets soos ‘blinde geloof’ nie. Geloof is die verstandige, heelhartige reaksie van ’n mens op die geopenbaarde wil van God en op die voorregte wat Hy Sy volk beloof het. Bybelse geloof beteken nie dat mense in enige onwaarskynlike ding kan glo en dat God dan, in reaksie hierop, dit móét laat geskied nie. Met ander woorde, geloof wat nie direk aan God se Woord gekoppel is nie, is bloot positiewe denke.
In sy kern is geloof – vertroue op God – hoe mense toegang verkry tot die redding wat God in Christus Jesus voorsien het. Abraham, die vader van almal wat reddende geloof het (Rom. 4:16), “het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken” (Jak. 2:23 AFR20). Tog, geloof self, is nie geregtigheid of regverdiging nie, maar dit is hóé ons toegang kry tot Jesus se reddende geregtigheid en Sy regverdiging – iets waartoe ons nooit op ons eie sou kon toegang hê nie. (Ef. 2:8).
Geloof, die gawe van God aan sy volgelinge, word versterk deur deeglik aandag aan die Bybel te gee en die geestelike dissiplines – soos Bybelstudie, gebed, dankbaarheid, diens, en persoonlike bediening te beoefen. Romeine 10:17 (AFR83) sê: “Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Gedurende ons hele Christelike lewe bly geloof steeds die manier hoe gelowiges die voorregte en noodsaaklike dinge ontvang om Christus te kan dien. Ons vertrou op God om te gee wat Hy belowe het – of dit nou gawes en vermoëns is om die werk van Jesus in die wêreld te doen, of om dit in ons eie harte te doen (Joh. 14:12-13), of dalk is dit net wat nodig is om ons deur ons geestelike reis te dra na ons ewige tuiste in die hemel.
Moet dus nie blindelings glo nie. Glo in God. Vertrou op Hom. Soek en vind Sy wil en leef vir Hom.
Om oor te dink vandag:
Is my idee van geloof dalk nie heeltemal reg nie? Is my prentjie van God dalk te klein?
Gebed:
Almagtige God en Vader, dankie dat U groter is as wat ek verstaan. Vergewe my dat ek soms dink ek kan U manipuleer. U het , deur U Seun, Jesus Christus, vir my die gawe van geloof gegee – en daardeur alleen vind ek my redding en kom my regverdiging. Skenk aan my asseblief alles wat nodig is, dat ek vir U diensbaar kan wees en sodat ek ten volle net vir U kan leef. Amen
2021-07-28 – Die slotsom van alles. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die Prediker skryf dat Hy verskeie paadjies in die lewe gewandel het opsoek na sin in die lewe – plesier, rykdom, wysheid, werk. Nou, nie baie van ons sal ooit die tyd of die middele besit om die soort soeke te doen wat die Prediker gedoen het nie, daarom kan ons maar gerus kyk na wat hy geskryf het. Sy gevolgtrekking oor alles? Dit maak nie saak hoe hard ons probeer om betekenis in die lewe te vervaardig nie, tyd gaan verby en uiteindelik sterf ons almal...
Sjoe! Dis mos nou nie eintlik wat ons wil hoor nie.
Ons gaan dikwels deur die lewe elke dag asof iemand oor ons skouer loer om ons dade te beoordeel. Ons dink miskien, so in ons gedagtes: ‘My vrou dink ek doen nie genoeg by die huis nie, of: My man wonder seker hoekom ek daardie rok gekoop het, of: My baas dink ek vat te lank met daardie projek, of: Die ouderlinge verstaan nie hoekom ek nie daardie komitee kan aanvat nie, of dikwels ook: Dit is nie hoe Ma dit sou gedoen het nie... En miskien is die stem wat ons die meeste hoor ons eie: Waarom is ek nie goed genoeg nie?’
Selfs as ander mense ons prys of komplimenteer, kan die druk wat ons op onsself plaas die laaste lof verdrink. Ons plaas onsself so erg onder druk om meer te doen – en dit beter en vinniger te doen. Hoe kan God dan nog met ons tevrede wees, wonder ons, wanneer ons self so swak voel? Wat is die doel dan? Hoe maak dit sin?
Die Prediker skryf gelukkig ook – na ’n lang en amper depressiewe oordenking oor die lewe – in Prediker 12:13-14(AFR20):
“13Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. 14God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.”
Ons hoef nie al die antwoorde te vind nie. God het dit. Ons hoef nie alle mense tevrede te stel nie – net vir God. In Johannes 3:17 (AFR20), sê Jesus ook: “17God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” God het dus nie gekom om ons te veroordeel nie, maar om ons te verlos. Ons is dikwels skuldig daaraan dat ons onsself en ander veroordeel, maar Jesus het gekom om ons te verlos. Niks van die druk wat ons voel in die lewe, kom van God af nie. Dit is alles deur ons eie standaarde en toedoen. Al waaraan ons onsself moet meet, is God se standaarde.
Ja, ons is swak. En ja, ons voldoen dikwels nie aan ons eie verwagtinge nie. Maar wat verwag God vandag van ons? Om in sy Seun te glo wat ons vrygemaak het van sonde. Om te glo dat Hy sterker is as ons twyfel, vrees, trots en ambisie. Om te glo dat Hy ons nie veroordeel oor wie ons was voordat ons Sy Seun ontmoet het nie. Om te ontdek wie ons is in die lig van Sy liefde, vryheid en genade.
Om oor te dink vandag:
Wat/wie bepaal my standaarde?
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat U gekom het om my te verlos. Verlos my asseblief ook van myself, sodat ek net vir U kan lewe. Help my om soos die Prediker, te besef dat om U te dien en aan U gehoorsaam te wees, genoeg is vir my. Tot U eer. Amen
2021-07-27 – Onthou! (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is vandag presies 16 maande vandat ons in Suid-Afrika die eerste inperking vir die Corona virus betree het. Daar het soveel dinge intussen gebeur. Soveel dinge het nie gebeur nie. Planne, beramings en drome het nie realiseer nie. Ons het gewag dat dinge beter word. En dit het... so bietjie. Maar ons wag steeds. Ons wil graag hê dat dinge weer heeltemal normaal is. Dat ons weer kan aangaan met ons lewens. Daar is soveel dinge ‘op hou’ gesit.
Om te wag is nie lekker nie. Dit begin ons heeltemal oorneem. Dit asem ons aandag in, dit begin kou aan ons fokus, dit sluk ons gedagtes is en dit los ons nogal gou in ’n plek van onsekerheid en twyfel. Ons wil positief bly te midde van nuwe uitdagings, maar dis moeilik. En as dit moeilik is, dan vergeet ons gou. Dan onthou ons nie God se beloftes nie. Vandag wil ek jou graag bemoedig deur jou te herinner om aan God vas te hou, om Hom te soek en te raadpleeg met jou hele hart, want Hy is getrou – ons vind die bewyse daarvan regdeur Sy Woord.
So, wanneer stof en puin van ’n land se geplunder dreig om passies, drome en roepinge te vervang, moet ons God se belofte aan Noag en “alle lewende wesens” in Genesis 9:15 onthou, God sê: “Ek sal my verbond onthou tussen my en julle.”
Wanneer ons slawe word van vrees, bekommernis, twyfel en angs, dink aan Eksodus 2:23-25: “Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. ... God het hulle gekreun gehoor ... en God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.”
As skuldgevoelens ons verorber en ons vrees dat God ons sondes nooit sal vergeet nie, moet ons Jesaja 43:25 onthou waar die Here sê: “Ek, ja, Ek is die Een wat ter wille van Myself jou oortredings telkens uitgewis het, jou sondes nie in herinnering geroep het nie.”
Onthou ook Lukas 24:6-7 as hoop baie skaars is: “Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, 7‘Die •Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ ” Jesus het die dood oorwin!
Wanneer dit voel of ons rigtingloos dwaal in ’n deurmekaar wêreld, moet ons Deuteronomium 8:2 onthou: “Dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het”
Onthou hierdie beloftes wat God ons gee in Sy Woord en onthou Sy goedheid in ons lewens. As jy dalk vandag sukkel om te sien hoe God namens jou beweeg en dinge names jou bewerk, onthou dat Hy belowe het om vandag net so teenwoordig en getrou aan jou en my te wees, soos al die mense in die verlede.
Gebed:
Here, dankie vir U beloftes. Help my om te onthou dat U altyd hier is en dat U getrou is. Ek vertrou op U en ek wag op U uitkoms. Gee my U vrede. Amen
2021-07-26 – Toekoms en hoop. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons ons lig laat skyn in die donker, is dit iets wat nie misgekyk kan word nie. Ongelukkig, sien die vyand dit ook raak en is dit vir hom en sy trawante ’n uitnodiging om ons aan te val. Te midde van slegte tye, is dit alreeds moeilik om standvastig te wees en sterk te staan in geloof... en as ons nog vanuit ander oorde ook aangeval word, maak dit ons taak as Christene nog moeiliker. Maar ons moet tog onthou, dat God ons nooit alleen los nie. Hy beplan beter dinge vir ons en Hy veg saam met ons die stryd.
Meeste van ons ken die teks van Jeremia 29:13 (AFR20) goed. Dit hang in sommige van ons se sitkamers, of is sommer op die muur geverf. Dit staan groot op ons yskas of iewers in ons huise:
“11Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee.”
Dit is ’n pragtige teks wat ons baie hoop gee. ’n Teks wat ons herinner dat God werklikwaar beplan om alles ten goede te laat meewerk vir die wat Hom lief het (Rom. 8:28-30). Wanneer ons die hele verhaal lees in Jeremia, dan gee dit ons nóg meer hoop, want God belowe dat Hy Sy volk sal herstel. Ja, God belowe om Sy volk te seën – selfs in hul ballingskap. Selfs in hul swaarkry, sorg Hy vir hulle. Ten spyte van hul ongehoorsaamheid en ten spyte van die feit dat hulle deur hul eie toedoen in ballingskap is, sê God dat Hy vir hulle goeie dinge beplan.
So vind ons regdeur die Bybel hoe God altyd ’n goeie plan vir Sy mense uitvoer, selfs deur slegte tye. Nou, ons weet mos dat ons God se mense is. Ons het die voorreg om Sy kinders genoem te word. Dit is persoonlik. Ons is familie. En ons weet dat God vir ons sal sorg, net soos Hy nog altyd vir Sy mense gesorg het in die verlede. Wat presies God se plan is, sal ons nooit 100% weet nie, maar ons kan meer daaroor leer deur Sy Woord te bestudeer en met Hom daaroor te praat.
Jeremia 29:11 word opgevolg deur hoe ons hierdie planne kan leer ken. God se vêrder vir Israel – en vir ons in verse 12-13:
“ 12Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. 13Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg.”
Om oor te dink vandag:
Bly ek positief te midde van moeilikheid en beproewings? Onthou ek dat God aan my ’n toekoms en hoop gee? Soek ek God met my hele hart?
Gebed:
Dankie, Almagtige God, dat U beter weet en dat U weet wat kom. Help my om my nie te bekommer nie. Help my om sterk te staan in my geloof en om waarlik ’n lig te wees in donker, onsekere tye. Ek roep U aan en soek U met my hele hart. Help my om meer gereeld en meer getrou tot U te bid, U te vertrou en U te soek en vind. Dankie dat U vir my sorg. U liefde gaan my verstand te bowe. Ek loof en prys U daarvoor. Amen
2021-07-24 – Lig in die donker. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons onsself bevind in donker dieptes – soos Psalm 23 beskryf – is dit moeilik. Ons voel oorweldig en ons weet nie altyd watter kant toe nie. Soms voel dit of daar geen uitweg is nie. In Psalm 69, skryf Dawid hoe erg dit voel dat hy – deur sy eie toedoen – in die moeilikheid is. Verse 2-4 sê:
“2Verlos my, o God, want water het tot by my keel gekom. 3Ek het weggesink in diep modder, en daar is geen vastrapplek nie; ek het in diep water beland, en die vloed gaan my meesleur. 4Ek is uitgeput van my geroep, my keel is al hees. My oë is vermoeid van wag op my God.”
Voel ons nie maar ook dikwels só nie? As gevolg van onwyse besluite, beland ons gereeld in situasies waarin ons nie wil wees nie. Dit voel of ons wegsink in ’n poel diep modder en dit kom al tot by ons keel. Ons skree om hulp, maar ons is al hees geskree en en ons is moeg om te wag vir uitkoms...
In ’n mate is dit nogal die verhaal van die laaste 16 maande in die wêreld. Eintlik, is dit die verhaal van die wêreld van die begin van die mensdom af. Maar weet jy wat? Daar waar jy nou is, miskien bevind jy jouself ook in ’n moeilike situasie. Miskien is die frustrasie van die pandemie inperking en die gevolge daarvan ook vir jou nou al net ’een te veel’ ... Onthou een ding: Dit is nie wat met jou gebeur wat saak maak nie, dit is wat gebeur met jou as iets met jou gebeur wat regtig saak maak. Met ander woorde: Hoe hanteer jy die situasie? Al sink jy weg in die modder en voel jy dat die vloed jou gaan meesleur, soos Dawid? Besef jy, soos Dawid, dat jy steeds op God moet wag? Dat jy steeds jou hulp by Hom kry. Dat jy, selfs in moeilike situasies, nogsteeds aan God die eer kan gee?
Hoor wat skryf Dawid in vers7:
“7Laat hulle wat op U wag nie deur my toedoen beskaamd staan nie, Here my Heer, Heerser oor alle magte. Laat hulle wat U soek nie deur my toedoen verneder word nie, o God van Israel.”
Die les hier is onmiskenbaar. Ons vriende en familie hou ons dop as dinge begin sleg gaan, as ons geloof getoets en amper verpletter word, as dinge nie uitdraai soos ons beplan het nie. Dit is dan ons kans om hulle te wys hoe ons liefde vir God en Sy liefde vir ons absoluut genoeg is. Ons reaksie op mislukkings en beproewings bied ’n geleentheid – ’n toets – om te bewys hoe getrou Hy in ons behoeftes voorsien. Dit is ons kans om Hom goed te laat lyk.
Om oor te dink vandag:
Laat ek my lig skyn al is ek in ’n diep, donker plek? Al het ek self die donker oor my gebring?
Gebed:
Dankie Here, dat U altyd by my is. Dat ek selfs in moeilike en donker tye op U kan vertrou en U lig deur my kan laat skyn. Ek verstaan dat ek soms, as gevolg van my eie swak besluite, in moeilike situasies beland. Dankie dat U liefde vir my groot genoeg is om my weer daaruit te kry. Mag ek U in goeie en in slegte tye verheerlik. Amen
2021-07-23 – Wees sagmoedig. (Kliek hier vir die klankgreep)
“4Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! 5Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.” – Filippense 4:4-5 (AFR20)
In die 1953 en 2020 vertalings, word die Griekse woord hier in vers 5 vertaal met “vriendelikheid”. Die 1983 vertaling het gekies vir die woord “inskiklikheid”. Meeste Engelse vertalings kies die woord “gentleness” of “moderation.” In die Griekse konteks waarin Paulus vir die mense in Filippi skryf, maak dit sin dat die woord “gentleness”, oftewel “sagmoedigheid”, gebruik word, omdat daar onder nuwe Christene nogal heelwat gestryery was onder mekaar en ook met ander gelowe.
Maar wat beteken dit om sagmoedig te wees? Beteken dit om neutraal, maklik geïntimideer of passief te wees? Is sagmoedigheid nie eerder ’n goeie kwaliteit vir ’n troeteldier of perd nie? Deesdae word mos aangevoer dat persoonlikheidseienskappe soos selfgelding, blatante “op die man af” reguit wees en eiegeregtigheid van baie meer waarde is vir ons ... Ons kan mos nie ’n “softy” wees nie. As dit is hoe ons dink, dan verstaan ons nie sagmoedigheid nie.
In die Bybel het sagmoedigheid groot waarde. Paulus verduidelik hier wat dit beteken om deugsaam te wees, veral in die lig van die geskille wat onder die Filippense ontstaan het. Hoe moes hulle eenheid bou? Eerstens moes hulle bly wees – dankbaar. As hulle hulle daarop toelê om hulle te verheug in die opgestane Christus, sou hulle eerder op hul gemeenskaplike vreugde konsentreer as op die verskille wat verdeling kon veroorsaak. Dan eers sou hulle hul “sagmoedigheid” (“vriendelikheid” – vers 5) aan almal duidelik kon maak. Sagmoedigheid eis dat mens optree met redelikheid. Dit beteken nie dat die waarheid in gedrang gebring word nie; dit beteken eerder dat die waarheid verdedig word met inagneming van die ander persoon se standpunt. Met ander woorde, daar word geleentheid gegee aan alle party om spreekwoordelik in mekaar se skoene te stap. Daar is eenmaal nou maar net ’n wonderlike eienskap in sagmoedigheid wat woede en vyandigheid heeltemal ontlont.
Paulus kom herinner ons hier dat die sleutel tot vrede dankbare gebed is. Dat ons eerder al ons bekommernisse aan God moet oorgee, terwyl ons dankie sê (verse 6-7). Om God se vrede te beleef, die vrede wat “alle begrip oortref” (vers 7), word ons aangespoor om eerder te fokus op dinge wat waar, eerbaar, reg, rein, lieflik en lofwaardig is – positiewe dinge (verse 8-9). As ons oor sulke dinge begin nadink en daarop fokus, ontwikkel ons die vermoë om klein skoonhede in die lewe raak te sien en te waardeer, en verhoog dit ons dankbaarheid aan God. ’n Gees van tevredenheid en dankbaarheid bring vrede. Wees sagmoedig. Bring vrede.
Om oor te dink vandag:
Spreek ek bemoedigende woorde? Het ek ’n houding van tevredenheid wat my toeganklik maak? Word mense na my toe aangetrek – selfs al gaan ek self deur moeilike tye? Kan mense my sagmoedigheid sien en weet dat die Here naby is?
Gebed:
Here, gee my ’n sagmoedige hart. Help my fokus op wat waar, eerbaar, reg, rein, lieflik en lofwaardig is. Help my om dankbaar te wees. Help my om so te lewe dat ander sal besef U is naby. Maak my sagmoedig en help my om U vrede in die wêreld te bring. Tot U eer alleen. Amen
2021-07-22 – Weet jy wie jy is? (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek onthou – so hele klompie jare gelede – toe ek na skool as kelner gewerk het by ’n restaurant. ’n Man het ingekom en jy kon sommer sien van die begin af dat hy nie nonsens vat nie. Iewers het ek bietjie lank gevat om vir hom iets te bring en ons het begin stry. Toe hy skielik afhaak en kliphard op my skree: ‘Weet jy wie ek is mannetjie?!’... Ek het hom aangestaar, my hand op sy skouer gesit en hardop vir almal in die restaurant gevra: ‘Ag mense, kom ons help asseblief die man... hy het vergeet wie hy is...’ Gelukkig het die man die humor daarin gesien en is die res van die aand was darem aangenaam gewees.
Maar dit is nogal ’n goeie vraag wat ons gedurig vir onsself vra, is dit nie? Wie is ek? Elke keer as ons dink ons het onsself bewys, dan verander alles en is ons weer onseker.
In Lukas 19:1-9 word daar vertel van Jesus se besoek aan Saggeüs, die hooftollenaar. Tollenaars, oftewel belasting vorderaars, was onder die mees-gehate mense in Israel, omdat hulle vir die Romeine gewerk het en hulself ryk gemaak het deur hul Joodse volksgenote in te doen. Hoor wat gebeur toe in Lukas 19 (AFR20):
“1Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. 2En kyk, daar was 'n man met die naam Saggeüs. Hy was 'n hooftollenaar en 'n ryk man. 3Hy het probeer om te sien wie Jesus is, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” 6Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis.” 8Maar Saggeüs het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug. 9Jesus het vir hom gesê: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is 'n seun van Abraham.”
Saggeüs het so bietjie vergeet wie hy is. Toe hy bietjie tyd afstaan en dit saam met Jesus spandeer, ontdek hy toe weer wie hy is. Hy besef toe dat Hy in Christus, ’n nuwe mens kan wees. Hy besef toe dat hy nie nodig het om gelyk te word aan die wêreld nie. Hy besef toe ook, dat hy nie hoef te wees wie die mense gedink het hy is nie.
Johannes 1:12 (AFR20) sê: “Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.”
Onthou: jy is betekenisvol en jy maak saak, want jy is God se kind.
Om oor te dink vandag:
As gevolg van my nuwe identiteit in Christus, is ek vry van veroordeling. (Rom. 8:1)
As gevolg van my nuwe identiteit in Christus, word my waarde bepaal deur wie ek is in Hom, nie deur my prestasies nie. (Matt. 11:28)
As gevolg van my nuwe identiteit in Christus, leef ek om uit te beeld wie ek in Christus is, nie om te bewys wie ek is nie.
As gevolg van my nuwe identiteit in Christus, kan ek daarop fokus om ander op te bou en nie af te breek nie.
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat ek kan weet wie ek is in U. Dankie dat U selfs vir ’n sondaar soos ek, soveel geduld en liefde het. Help my om U liefde uit te beeld in my lewe en nie meer te probeer bewys wie of wat ek is nie. Ek is U kind, grote God. Dankie dat ek so groot eer mag hê. Mag U daardeur verheerlik word. Amen
2021-07-21 – Ken jy die plan vir jou lewe? (Kliek hier vir die klankgreep)
In baie preke en dagstukkies word ons geleer dat ons nader aan God moet wandel, sodat ons Sy plan vir ons lewens kan ken. Ons word dikwels geleer dat dít ware geloof is en ook – as jy weet wat God beplan vir jou is – dit die teken van ware geloof is. Hebreërs 11:1 (AFR20), sê egter die volgende:
“1Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”
In die res van Hebreërs 11 word ons vertel van al die Ou-Testamentiese helde, wat, volgens ons definisie, blindelings geglo het en gehoorsaam was – al het hulle nie geweet waarheen hulle op pad is nie. Vêrder, het baie van hulle nie hul erfenis of beloning ontvang in hul leeftyd nie, maar in die ewigheid.
Is jy dalk vandag in die middel van een van die onverwagte verrassings wat die lewe so gereeld opdis? Is jy dalk op ’n plek wat jy nooit verwag het nie? Is jy nie seker wat volgende gaan gebeur nie? Indien wel... Welkom by die lewe! Welkom by realiteit.
Om een of ander rede, vergeet ons nogal gereeld dat ons nie God is nie. Ons vergeet dat ons nie Sy plan vir ons lewens hoef te ken nie. Die wêreld voer aan dat ‘sien is glo’, terwyl geloof anders is. 2 Korintiërs 5:7 sê juis ook dat “ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie.” As ons elke aspek van God se plan vir ons lewens geken het, mooi netjies in alle detail verduidelik, waarom sou ons dan nog geloof nodig hê?
Oomblikke van absolute sekerheid kom baie selde. Gaan kyk gerus na die mense waarvan daar in Hebreërs 11 gepraat word. Het hulle geweet wat wag en presies waarheen God hulle neem en hoe alles gaan uitdraai? Beslis nie. Maar hierdie mense het in geloof vorentoe gegaan.
Ons moet ook vorentoe beweeg. Ons weet nie wat kom nie. Dan bid ons. Ons vra God se raad. Ons ondersoek Sy Woord en bedink Sy waarhede daarin. En dan, wanneer dit tyd is om te besluit, om dalk ’n skuif te maak... Miskien voel ons nie gereed nie, ons voel nie seker nie, maar God gee ons liefdevol die geleentheid om in geloof Hom te vertrou vir die resultaat.
Die Bybel gaan oor mense in ’n vloeiende, dinamiese verhouding met God. Dit is nie ’n geheime kode met ’n verborge skat nie. Dit is nie ’n bloudruk wat God se plan vir jou lewe stap-vir-stap uitspel nie. In plaas daarvan om ons maniere te leer om God se plan vir ons lewens te vind, leer dit ons die beginsels om God se hart te vind. Die ewige, lewende God lei deur verhouding. As ons dit verstaan, begin ons Sy aangesig soek, nie Sy hand nie. Ons hou op om God se plan te wil vind sodat ons eerder vir God sélf kan vind. As ons nie meer so erg die ‘antwoord’ wil hê nie, wil ons eerder die Een hê wat die antwoord ken. Dis die plan.
Om oor te dink vandag:
Wanneer laas het ek in geloof opgetree en God vertrou vir die uitslag?
Gebed:
Almagtige God, ewige Here, dankie dat U die plan vir my lewe ken en dat ek U mag ken. Help my om U in U Woord U te leer ken. Help my om in my gebedslewe – al ontbreek die woorde my dikwels – U hart te leer ken. Dankie vir geloof in U. Dankie dat ek weet alles, my lewe en besluite ingesluit, is veilig in U hande. Amen
2021-07-20 – Gebed soos wierookoffers. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Ek roep na U, Here, kom tog gou na my toe, luister tog na my, ek roep na U. Mag my gebed voor U wees soos 'n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos 'n graanoffer in die aand.” – Psalm 141:1-2 (AFR83)
Ons word dikwels oorweldig deur ons situasie en die stryd tussen goed en kwaad. Ons probeer so hard om reg te lewe, maar vind dat ons nie altyd aan die regte kant van geregtigheid kan bly nie. Dan bid ons... en dit voel daar ook asof ons nie weet wat om te sê nie. Ons voel al amper raadop.
Dawid vra God in Psalm 141 dat sy gebed voor God soos ’n aangename wierookoffer sal wees. Ag, hoe wens ons nie ook dat ons gebede só voor God sal kom nie. Ons struikel oor ons woorde en weet baie kere nie wat om te sê nie. Ons wonder selfs of ons gebede dit ooit maak tot in God se troonkamer... ons begin wonder of dit ooit die moeite werd is om nog te bid. Is ons maar nie verlore sake nie? Gister het ons dan ook gesê dat ons eie woorde en ons eie kragte nie opgewasse is teen sonde nie...
En daarin juis lê die verskil. Ons kan nie op ons eie nie. Ook nie eers bid nie. As ons bid, en dit is sommer net praat met onsself, dan help dit nie. Ons moet besef dat ons in ’n gesprek tree met die God van die heelal. Die God wat vir jou en my baie lief het. Ons kan vandag ook met vertroue bid, in die wete dat God ons gebede verhoor. Hebreërs 7:25 sê “Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” Jesus dien as die tussenganger, as middelaar tussen gelowiges en God, en Hy neem die versoeke en smekinge van gelowiges aan en stel dit voor God.
1 Johannes 2:1 voeg by: “En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Terwyl Dawid God gesmeek het om sy gebede te hoor en te aanvaar, kan gelowiges vandag met selfvertroue bid in die wete dat Jesus hulle gebede namens hulle sal neem. Ons moet geen twyfel hê oor die vraag of God die gebede van diegene wat Hom volg, verhoor of nie. Jesus het dit vir gelowiges moontlik gemaak om hulle versoeke aan God voor te lê, soos Paulus ook sê in Filippense 4:6: “maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Die gebede van gelowiges is soos wierook vir God wat dit vir seker hoor.
Om oor te dink vandag:
Ek kan met vrymoedigheid my gebede na die Vader rig in die Naam van my Here, Jesus Christus.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U my versoeke, my smekinge en alles op my hart na die Vader neem, sodat my gebede vir Hom ’n aangename wierookoffer kan wees. Amen
2021-07-19 – Hoe om sonde te wen. (Kliek hier vir die klankgreep)
Medikasie om op te hou rook, kos amper duurder as sigarette (as jy nie baie rook nie). Daarom is dit maklik om te redeneer dat dit goedkoper is om eerder aan te hou rook... Maar dit maak nie sin nie, want rook is sleg vir jou en dit rig baie meer skade aan as net aan jou beursie. Maar so het ek ook lank geredeneer...
Meeste van ons is nogal so... Nou nie as dit kom by rook spesifiek nie, maar as dit kom by sonde. Ons leef eerder in sonde, as om ’n manier te vind om dit te vernietig. Ons gaan lê eerder slap en word daardeur vernietig as om maniere aan te leer sodat ons dit kan oorwin. Paulus self en die mense in Rome het ook nogal erg daarmee gesukkel. Hy skryf in Romeine 6:14-18;23 (AFR20):
“14Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade. 15Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie! 16Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. 17Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; 18vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword ... 23Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.”
Paulus het erken dat hy nie die feit kon ontsnap dat hy ’n sondaar was nie. Omdat sonde uiteindelik tot die dood lei, sou sy sonde hom vernietig as hy dit nie hanteer nie. Hy het ’n geveg op hande gehad, een wat hy daagliks gevoer het.
So, hoe kan ons die stryd wen en die mag van sonde verslaan? Om eerlik te wees, ons kan nie. Ons het nie die krag of die morele volmaaktheid om so ’n monumentale stryd te wen nie. Vir die oorwinning moet ons – net soos Paulus – op Jesus Christus vertrou. Sy offer aan die kruis, wat die sondes van alle mense dra, bied ons die enigste hoop om die mag van die sonde te onttroon. Sonde is té ernstig om alleen in die gesig te staar. Om oor sonde te wen, moet ons heeldag en nag die Naam van ons Oorwinnaar, Jesus Christus, aanroep.
Om oor te dink vandag:
Besef ek dat my woorde alleen en my kragte alleen nie opgewasse is teen die mag van sonde nie? Onderwerp ek my hele lewe aan my Verlosser, Jesus Christus, sodat Hy deur my die oorwinning kan behaal?
Gebed:
Dankie Here Jesus dat U die sonde van die hele wêreld oorwin het aan die kruis. Dit sluit my sonde ook in. Ek dink soms dat ek op my eie dit kan oorwin, maar ek kan nie. Help my. Neem my hele lewe en heers daarin en daaroor. Al die lof, eer en heerlikheid vir die oorwinning kom U toe. Amen
2021-07-17 – Kan ’n God van liefde haat? (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons weet ons dien ’n God van liefde, genade en barmhartigheid. Maar... kan God ook haat? Eers moet ons dalk besef wat dit beteken om iets te haat. Om te haat, is om iets of iemand te verafsku, geheel en al téén hulle of dit te wees. Om te haat, beteken dat iemand ’n intense weersin het in iets of iemand.
Kan ’n God van liefde, ’n God wie se essensie liefde is, haat? En indien wel, wat haat God?
Haat is ’n baie sterk woord en as die Bybel dus vir ons sê dat God iets haat, moet ons heel waarskynlik daarop ag slaan.
Salomo skryf in Spreuke 16:16-19 (AFR83) die volgende:
“16Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: 17oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, 18gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, 19'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.”
Salomo het hierdie verse juis in 'n vorm geskryf om ons aandag te trek. Hy sê eers “Die Here haat ses dinge...” en direk daarna sê hy, “...nee, daar is sewe...” Skrywers in daardie tyd het hierdie manier gebruik om spanning op te bou en om seker te maak dat hulle die aandag van hul gehoor het. Die kennis wat in hierdie verse gedeel word, is ongelooflik belangrik. As ons weet wat God haat, kan ons seker maak dat ons hierdie dinge ten sterkste vermy.
Salomo noem sewe dinge wat God haat. En uit hierdie sewe noem hy twee keer leuens. Hy skryf dat God ’n “...'n bedrieglike tong” (AFR20) haat en dat God “'n vals getuie wat leuens uitryg” (AFR20) haat. Hy haat dit só erg, dat Salomo dit twee keer gesê het.
Ons moet te alle koste daaraan werk om leuens van alle soorte te vermy. En nee, daar is nie iets soos ’n onskuldige wit leuentjie nie. Ons leuens doen niks vir ons nie; dit maak ons net seer. En nog belangriker, dit maak God seer.
Gebed:
Liewe Heer, keer asseblief dat ons tonge nie lieg nie en laat ons altyd die waarheid praat. Gee ons die moed en vertroue om altyd eerlik te wees. Amen
2021-07-16 – Spieëlbeelde. (Kliek hier vir die klankgreep)
In ons stryd om deur Jesus Christus oor die bose in die wêreld te oorwin, is dit nodig dat ons onsself ook beter ken. Gelukkig, in God se Woord, vind ons nogal heelwat wat gesê word oor die mensdom. Ons lees byvoorbeeld dat God ons gemaak het, volgens Sy beeld, as man en vrou (Gen. 1:27), dat ons op ’n “ontsagwekkende en wonderbaarlike wyse gemaak is” (Ps. 139:14), dat ons swak en kwesbaar is (Ps. 103:14-16), dat ons sondig is (baie plekke) – die lys gaan aan en aan... Maar die belangrikste en diepgaande ding wat die Bybel oor ons sê, is dat ons almal die onpeilbare eer gekry het om in die beeld van God (imago Dei) geskep te wees. As ons na ’n ander mens kyk, moet ons poog om te sien hoe God daarin weerspieël word. Selfs ná die sondeval, ten spyte van die sonde wat in alle mense voorkom, dra mense steeds die beeld van God (vgl. Gen.9:6). En Christus – die volmaakte beeld van God – het gekom om ons te verlos sodat ons God se heerlikheid in groter volheid kan weerspieël.
Kolossense 1:15 (AFR20) sê: “15Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die •Eersgeborene oor die hele skepping;”
As beelddraers van die Allerhoogste, het ons almal ’n inherente gevoel van ons doel in hierdie wêreld: ons is geroep om God se karakter te weerspieël en Sy werk voort te sit. Dit vorm ook hoe ons ander beskou en behandel. Elke persoon – of dit nou vreemdeling, naaste of medewerker is – moet die waardigheid, respek en liefde ontvang wat hulle as God se beelddraer toekom.
Mense weerspieël nie net vir God nie, maar hulle verteenwoordig Hom ook. Antieke heersers het dikwels beelde van hulself in verskillende dele van hul koninkryke opgerig om hul gesag aan hul ondergeskiktes voor te stel. Ons is volgens God se beeld geskape sodat ons Hom hier op aarde kan verteenwoordig, net soos ’n ambassadeur ’n vreemde land verteenwoordig. Vir die wêreld is ons ewige eindbestemming ’n vreemde land. Maar dit is die beste land, met genoeg plek vir almal. ’n Plek waar almal heen kan vlug vir asiel – waar hulle nooit weer deur die magte van hierdie wêreld vervolg kan word nie. Daarom poog ons om elke dag meer en meer soos Christus te word, Hy wat die perfekte beeld van God vir ons kom wys het.
Om oor te dink vandag:
Dra ek God se beeld die wêreld in? Hanteer ek ander mense as beelddraers van die Almagtige God van die heelal?
Gebed:
Almagtige Hemelvader, dankie dat ek U beeld kan dra. Jammer dat ek dit nie altyd gestand doen nie. Jammer dat ek nie altyd ander mense ook behandel as beelddraers nie. Help my om meer en meer soos U te wees, Here Jesus, want U het my reeds gewys hoe God lyk deur U hele lewe. Dankie dat U Gees in my woon om my elke dag meer en meer soos U te maak. Mag U Koninkryk kom deur my. Aan U behoort die lof en die eer en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen
2021-07-15 – Ons ware stryd. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. “ – Efesiërs 6:12 (AFR20)
Dit is nogal moeilik om te glo dat jou stryd nie teen vlees en bloed is, as jy sien op die nuus hoe mense begin plunder en plekke afbrand nie. Dis moeilik om te glo dat ons stryd eintlik teen bonatuurlike magte is, is jy sien hoe word mense se besighede verwoes, mense aangerand en vermoor en waar korrupsie en wanorde seëvier.
Dit alles in die middel van ’n wêreldwye pandemie. En asof dit nie genoeg is nie, is die normale alledaagse uitdagings ook nog daar... Hoe is ons stryd nie teen vlees en bloed nie, as jou tweejarige skree en “tantrums” gooi en jy weet nie hoe om hom/haar te kry om te stop nie. Of as jou tiener rebels en opstandig is en jou uitlok op alle gebiede en dit voel of jy net nêrens kom met die kind nie. Maar... Dit is nie jou regte stryd nie.
Alhoewel dit voor die hand liggende probleme met vlees en bloed is wat ons elke dag moet aanpak, is die punt van Efesiërs 6:12 dat dit die innerlike stryd teen die bose, die magte van die duisternis in hierdie wêreld is, wat al hierdie moeilikheid in ons lewens veroorsaak. Moenie dit sommer afmaak as niks of iets kleins nie. Moenie maak asof dit nie bestaan nie. Maar moet dit ook nie oordramatiseer nie. Moenie die bose die skuld of krediet gee vir slegte keuses nie.
Nóg belangriker, moet ons ’n balans vind, sodat ons kan besef waar die boosheid in ons lewens vandaan kom en hoe dit ons as gesinne, as kerk-familie en as ’n nasie beïnvloed. Ons moet ernstig begin bid vir God se beskerming oor ons gesinne. Onthou, die krag en mag van Christus is baie groter as enige ander krag of mag in hierdie wêreld. Daardie stryd is reeds gewen. Christus het die graf verslaan en die bose en die dood het verloor. Maak aanspraak op daardie belofte oor jou gesin en probeer om God te eer in alles wat jy doen. Wys jou kinders en jou geliefdes hoe. God sal voorsien, seën, beskerm en verdedig terwyl ons Hom soek met ons hele hart.
Om oor te dink vandag:
Besef ek dat my kinders, my gesin, my familie, my mede-Christene nie die ware vyand is nie? Hoeveel tyd bestee ek aan die stryd met vlees en bloed? Hoe kan ek beter verstaan wie die eintlike vyand in my huis, werk, kerk en wêreld is? Hoe soek ek God om in die oorwinnings te groei? Wat doen ek om die ware stryd te wen?
Gebed:
Almagtige God en Vader, U weet wat aangaan in die wêreld, in ons land, in ons huise en selfs in ons kerke. Ja Here, ons weet dat U dit nie goedkeur nie, maar dat U dit wel toelaat. Dit is nie U wat slegte dinge laat gebeur nie, maar dit is deur die slegte keuses van mense wat die bose magte van die duisternis begin stryd voer in die lewe. Vandag kom bid ons, Here, dat U ons sal beskerm. Help ons om U getrou te volg en vir ons huise, ons werke, ons kerke en ons land te bid. Beskerm ons. Gee ons die krag om die bose te weerstaan en om in U Naam die oorwinning te behaal. Tot U eer. Amen
2021-07-14 – Wonderwerke is nie genoeg nie... (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is vreemd (en baie hartseer natuurlik) dat baie mense, wanneer dit goed gaan, so effens vergeet van God. Daar word nie meer huisgodsdiens gehou nie. Selfs stiltetyd word beperk tot die minimum. ’n Skietgebedjie hier en daar is dalk die orde van die dag – ‘as daar tyd is.’ Gespot met jou godsdiens en die misbruik van God se Naam word oorgesien, want gelukkig moet ‘daardie mense eendag daarvoor verantwoording doen’...
Maar wag net tot die moeilikheid tref! Dan wend ons ons skielik tot God. Ons sê ons is jammer. Ons bid vir uitkoms. Ons vra vir wonderwerke. Ons glo. Regtig. Ja, ons glo regtig. En wat doen God? Hy sê nie: “Nee, jy wou mos nie meer aandag aan my gee nie.” Hy verwyt ons nie vir ons afvalligheid, ongehoorsaamheid en tekort aan toegewydheid nie. Nee, Hy antwoord ons in liefde en gee vir ons uitkoms. Hy kom weer en weer tot ons redding. En daarna... sê ons dankie en ons gaan maar weer aan soos voorheen.
Dit is niks nuuts nie. Dit is die verhaal van God se volk regdeur die Bybel. Daarom dat Jesus genadiglik vir ons die finale prys kom betaal het vir ons sondes. Maar een ding moet ons wel ook besef. Hoor wat gebeur in Matteus 11:20 (AFR20):
“Toe het Jesus begin om die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, te verwyt, omdat hulle hulle nie bekeer het nie.” – Matteus 11:20 (AFR20)
Sien, selfs in Jesus se tyd, en nog voor Hy op aarde was, en natuurlik ook in die 2000 jaar daarna, het die waarneming van bonatuurlike wonderwerke nie daartoe gelei dat mense waarlik tot bekering gekom het en Jesus se lering gevolg het nie. Gedurende sy bediening het Jesus ergernis getoon met menigtes wat gestroom het om te sien dat ’n gewilde leier iets bonatuurliks doen. Hy wou nie die toeskouers se applous en toejuiging hê nie. Hy wou nie gewild wees nie. Hy wou toewyding hê. Uiteindelik het Hy geleidelik meer begin om gelykenisse te vertel, wat Hy in privaat aan Sy dissipels verduidelik het (Matt. 13:11–17).
Die mense kon nie of wou nie aanvaar wie Jesus is nie. Wonderwerke was nie vir hulle genoeg nie. Hulle wou meer hê. Hulle wou hê dat Jesus volgens hulle pype dans en doen wat hulle graag wou hê. Ons kan nie weer daardie fout maak nie. Ons weet wie Jesus is. Hy doen nogsteeds wonderwerke in ons lewens elke dag. As jy hier lees of luister, is jy geseën deur die wonderwerk van die lewe wat Hy vandag aan jou gegee het. Hoeveel ander wonderwerke gaan ongesiens verby ons elke dag? Ons moet elke dag toegewyd begin oplet en elke dag dankbaar wees vir die grootste wonderwerk ooit: Jesus Christus se dood en opstanding – alles gedoen vir jou en my.
Om oor te dink vandag:
Is ek soos die toeskouers in die Bybel, wat net wag vir die skouspel en daarna maar net aangaan met my ‘normale’ lewe? Of is ek ’n volgeling van die Koning van die Heelal?
Gebed:
Here Jesus, dankie vir die wonderwerk wat U elke dag in my lewe doen. Dankie dat U soveel meer is vir my. Vergewe my dat ek U soms as vanselfsprekend aanvaar en U net ‘gebruik’ soos en waar ek nodig het. U is altyd by my deur U Gees wat in my woon. Help my om U getrou en toegewyd te volg en U leringe ter harte te neem. Amen
2021-07-13 – Doen wat jy sê en sê wat jy doen. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die definisie van ‘integriteit’ is om eerlik te wees en goeie morele standaarde te hê. In gewone Afrikaans: as jy integriteit het, doen jy wat jy sê en sê jy wat jy doen – jou woord is jou eer en daar is geen verborge motiewe in jou dade nie.
As die ouers van ’n gesin integriteit het, is dit waarlik ’n gawe vir daardie familie. Almal kyk op na daardie persoon. Verwyder die integriteit, en alles verander. Vertroue is gebreek en selfs die gevoelens teenoor daardie persoon verander.
Gesinne wat floreer, is vol opregte, standvastige individue wat mekaar se leiding soek en saam voorspoedig is. Wat doen ons om areas in ons gesinne bloot te stel waar daar nie integriteit is nie? In ’n ‘gesonde’ gesin sal ’n gebrek aan integriteit vinniger opduik, omdat die gebrek nie die norm is nie. In ’n ‘ongesonde’ gesin sal dit nie so maklik blootgestel word nie, want dit sal onder ander probleme versteek wees.
As gesinne – en dit geld nou vir huisgesinne en kerkfamilies – moet elke gesinslid se lewe van naderby beskou word en areas waar integriteit ontbreek, aangespreek word. Dit is tog ons verantwoordelikheid as mede-Christene. Ons is almal God se kinders en ons is verantwoordelik vir mekaar. Dit is tog wat dit beteken om in die rykdom van God se liefde te lewe (gister se dagstukkie). Om dit te doen, is miskien ongemaklik, maar dit is nodig om integriteit in die huis te handhaaf.
As jou kind tekens toon van ’n gebrek aan integriteit, moet jy hierdie saak vinnig die hoof bied en hulle herinner aan Spreuke 11:3 (AFR83) wat sê: “Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.” Help hulle om meer integriteit in hul lewe aan te kweek. So ook, moet ons selfs ons ouers daaroor konfronteer. Elke persoon wat bely dat Jesus Christus die Here is, is ons verantwoordelikheid. Daarom word ons ook nie kwaad as mense ons aanspreek oor ons foute nie – ons verwelkom dit en kweek self ons eie integriteit daardeur.
Leef altyd met integriteit en jy sal altyd die leiding van God ervaar.
Om oor te dink vandag:
Is my gesin se integriteit hoog en sigbaar? En myne? Waar het my gesin hulp nodig met integriteit? Hoe kan ek help? As ek tuis begin en my gesin se integriteit begin beskerm, sal dit uitvloei na buite – in die kerk en die wêreld.
Gebed:
Here, U is ons voorbeeld. U doen nog altyd wat U sê en U sê wat U doen. Soms is U wil vir ons verborge, maar ons weet dat U ’n troue God is wat die hoogste vorm van integriteit het. Help ons om ook so te lewe. Lei ons. Laat ons gesinne gevul wees met integriteit en mag ons mekaar help – as gesinne en as U kerk – om U leiding te volg. Tot U eer alleen. Amen
2021-07-12 – Om ryk te wees. (Kliek hier vir die klankgreep)
In gister se boodskap het ons gehoor dat God ons gemaak het om vir ons lief te wees. In Sy groot liefde vir ons, het Hy mens geword – in Jesus Christus – en aan ’n aaklige kruis hierdie liefde bewys en vir ons sondes gesterf. Sy doel vir ons, is dat ons Hom ook lief het en die wêreld wys hoe lief Hy almal het – al is ons ongehoorsame, sondige kinders.
Tog, is die wêreld se fokus anders as ons s’n. Terwyl die res van die wêreld daarop fokus om die korporatiewe leer van sogenaamde sukses te klim, wil God hê dat Sy kinders daarop moet fokus om Hom vreugde te bring. Ons lewens word gemeet aan hoe ons God en ander liefhet – nie aan hoe hoog ons kan klim nie.
Wanneer ’n Skrifkenner Jesus vra oor die grootste gebod in Markus 12:28-34 en ná Jesus se antwoord, hy weer vir Jesus antwoord: “33‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag, en om jou naaste lief te hê soos jouself’, is belangriker as al die •brandoffers en diereoffers.” (vers 33), sê Jesus vir hierdie man: “Jy is nie ver van die •koninkryk van God nie.” (vers 34)
Ware rykdom, is nie geld in die bank, baie besittings of duur speelgoed nie. Ware rykdom is rykdom in God se Koninkryk. Ons kan ryk wees vir God. Ons lewens – met God se hulp – kan ’n bron van plesier en vreugde wees vir die God van die heelal. Ons kan God laat glimlag. As alles verby is, sal nét God se beoordeling van ons lewens regtig saak maak. Aandelebeurs makelaars, skatryk boere, Hollywood-sterre, straatveërs en Boesman- en Khoi-Khoi stamlede sal almal op gelyke grond voor Hom staan.
Om ryk te wees vir God, beteken dat ons siele gesonder word en goed is. Om ryk te wees vir God beteken dat jy die mense rondom jou moet liefhê en geniet. Om ryk te wees vir God, beteken dat jy meer van jou gawes en passies leer en goeie werk doen om die wêreld te verbeter. Om ryk te wees vir God, beteken om vrygewig te wees met jou goed. Om ryk te wees vir God, beteken dat jy die tydelike dinge dienaar maak van dit wat ewig is. Om ryk te wees vir God, beteken dat jy die lewe, met alles wat daarin is, begin geniet, omdat dit ’n voorreg is om hier te wees.
Hierdie is wonderlike maniere om ryk te wees vir God, maar Jesus het dit opgesom in die aard, die essensie van God, in een woord: liefde. Wees lief vir God met jou hele hart, siel, verstand en krag. En wees lief vir jou medemens soos jy jouself lief het. (Mark. 12:30-31) Al die ander dinge is outomatiese bysake. Niemand kan hierdie twee gebooie gehoorsaam en arm wees in God se oë nie. Niemand kan dit nié doen nie, en ryk wees in God se oë.
Om ryk te wees vir God, begin met die gee aan God wat hy die meeste wil hê en wat Hy die meeste vir jou gee – liefde. God soek ons hele hart en ons toewyding.
Om oor te dink vandag:
Gee ek aan God die aandag wat Hy verdien? As ek Hom onvoorwaardelik liefhet, sal ek nie net groei in die liefde vir Hom wat Hy verdien nie, maar ook in my liefde vir ander.
Gebed:
Here, help my om ryk te wees. Ryk in U liefde. Ryk in die liefde wat ek teenoor U het en teenoor almal en alles wat U gemaak het. Amen
2021-07-10 – Wat van my planne? (Kliek hier vir die klankgreep)
In gister se dagstukkie het ons gesien dat dit nie altyd goed is om dinge op ons manier te doen nie. God se manier is beter, want ons geneigdheid tot sonde en eie wil en begeertes kan ons dikwels in die moeilikheid kry. Maar, as ons nadink oor God se plan vir ons lewens, kan ons nie anders as om te wonder oor ’n heeltemal ander vraag nie: ‘Wat van ons eie planne vir ons lewens?’ Ons droom en fantaseer oor wie ons moet trou, watter werk ons moet doen, waar ons moet woon, of watter ander lewens-doele ons moet stel vir ons geluk.
Ons wil tog almal gelukkig wees. Ons wil ook “ietsie” vanuit hierdie lewe hê... Ja, dis tog wat wêreldse geluk beteken. Wat ons so gou vergeet wanneer ons hierdie tipe geluk najaag, is dat God se plan vir ons baie groter is as ons eie. God sê vir ons dwarsdeur die Bybel dat ons gebore is om H om te dien. Hierdie lewe van diens beteken dat ons ander moet liefhê en aan hulle behoeftes moet voorsien. God roep ons om vriendelik, goedgesind en vergewensgesind teenoor mekaar te wees (vlg. Ef. 4:32). ’n Deel van God se plan vir ons is om ander te dien op die manier wat Hy vir ons uiteengesit het. Net soos die barmhartige Samaritaan die man in nood in Jesus se gelykenis gehelp het (vgl. Luk. 10:25-37), só moet ons ook Christus se voorbeeld volg en diegene wat ons die nodigste het, gehoorsaam help.
Paulus praat ons moed in vir hierdie opdrag in Galasiërs 6:9-10. Hy sê: “9Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.”
Ons planne, moet gerig wees op God se eer. Nie ons eie nie.
Om oor te dink vandag:
Doen ek genoeg goed? Kan ek beter of meer doen in my eie huisgesin? Kan ek beter of meer doen in die huisgesin van geloof, die kerk?
Gebed:
Hemelse Vader, help my om my geluk te vind in die klein dingetjies wat ek doen vir mense. Help my om goed te doen. Gee aan my ’n dankbare hart en ’n hart wat gerig is op U eer. Help my om nie moeg te raak om goed te doen nie, sodat ek kan uitsien na die oes wat op my wag in die ewigheid saam met U. Amen
2021-07-09 – “I did it my way.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Frank Sinatra se liedjie weergalm dalk nou in jou kop. ’n Mooi liedjie daardie. Hy sing hoe hy nie soos ander mense was nie, maar in sy uniekheid, dinge op sy manier gedoen het. Goeie raad. Moenie soos ander wees nie. Wees jouself. Maar soms, is “jouself wees” nogal ’n probleem...
Toe die Israeliete in die woestyn was, nog op pad na die beloofde land, word hulle dors. Daar is nêrens water nie. God beveel dan vir Moses en Aäron om met ’n rots te praat en daar sal water uitkom vir die hele volk en hulle vee.
God beoog om ’n groot wonderwerk te doen vir Sy volk. Maar wat doen Moses? Hy en Aäron gaan na die volk toe, staan by die rots en vra die volk of HULLE (dis nou Moses en Aäron) vir die volk water uit die rots moet laat kom. Dan slaan Moses die rots twee keer en daar kom genoeg water uit vir die hele volk en hulle vee.
Hoe wonderlik! God gee nogsteeds aan Sy mense wat hulle nodig het, ten spyte daarvan dat Moses en Aäron nie die opdrag uitgevoer het presies soos God beveel het nie. Is dit nie wonderlik om te weet dat God se liefde en sorg vir ons nie afhang van hoe goed ons luister nie?... Maar dan moet ons natuurlik ook kyk na die ander kant van hierdie verhaal, want in daardie wonderlike oomblik, was daar ook ’n tragiese oomblik gewees. Hoor wat sê God vir Moses en Aäron:
“12Maar die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Omdat julle nie vertroue in My gestel het om My heiligheid voor die oë van die Israeliete te erken nie, daarom sal julle hierdie geloofsgemeenskap nie in die land inneem wat Ek vir hulle gegee het nie.” ” – Numeri 20:12 (AFR20)
Moses verbeur hiermee die grootste voorreg – om die volk in die beloofde land in te lei – omdat hy nie sy humeur kon beheer nie. Hy ignoreer wat God hom beveel het oor hoe hy die water moet kry. In plaas daarvan het hy dit op sý manier in woede gedoen. Hy en Aäron – of dit nou hul bedoeling was of nie – probeer ook die eer van die wonderwerk vir hulself toe-eien... Die gevolge? Planne vir die toekoms verander so bietjie. Dis nie dat God Sy belofte breek om die volk in die beloofde land in te lei nie, maar Moses het nie meer die voorreg om dit te sien gebeur nie.
Het jy dalk ook ’n fatale fout – daardie een swak punt wat al jou drome ongedaan kan maak, as jy daaraan toegee? Die meeste van ons het so iets. Maar deur dit te herken en dit reguit in die oë te staar, kan ons voorsorg tref om te verhoed dat ons daaraan toegee. En ons kan God vra om ons te help om die versoekings wat ons vasberadenheid verswak, te vermy. Dit sal goed wees om ook eendag te kan sê: “I did it my way”, maar dan moet “my way”, God se manier wees.
Om oor te dink vandag:
Wat is daardie “een ding” of dalk twee of drie, wat my verhoed om dinge op God se manier te doen? Daardie ding wat ek so trots is om te sê, dit is “my way” – terwyl ek weet dit is nie wat God van my wil hê nie?
Gebed:
Here Jesus, U ken my deur en deur. U weet watter eienskappe en “dinge” ek het wat verhoed dat ek meer en meer soos U kan word elke dag. Help my asseblief om dit nie op my manier te doen nie, maar eerder U manier. Help my om tot U eer alleen te lewe. Amen
2021-07-08 – Tetélestai! (Kliek hier vir die klankgreep)
In hierdie Koninkrykstyd, gaan ons vandag (soos gister) weer terug na die kruis. Dit is iets wat ons eintlik elke dag moet doen. Waarom? Want die kruis se betekenis is finaal. Min dinge in die lewe is finaal. Geskiedenis herhaal telkemale. Dinge gaan aan. Maar wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het, het ’n blywende, finale impak om die mensdom. ’n Finale antwoord vir jou en my.
In Johannes 19:30, terwyl Jesus aan die kruis hang, en al die gespot en gemartel einde se kant toe staan, sê Hy: “Tetélestai”, buig Sy kop vooroor en gee sy Gees oor. Tetélestai, die Griekse woord vir “dit is volbring”, of “om iets tot voltooiing te bring.” ’n Eenvoudige sin. Min woorde, maar die betekenis van hierdie sin het ewige gevolge vir miljarde mense. Toe Jesus verklaar: “Dit is volbring”, het Hy aangedui dat Sy verlossingswerk voltooi is; dat Hy die volle prys vir ons sondes betaal het.
Die kruis gaan oor soveel meer as ’n Man wat pyn en lyding verduur; dit gaan oor soveel meer as ’n Man wat deur Sy vriende en familie verlaat word. Die kruis gaan oor Jesus, die ewige Seun van God, wat deur Sy Vader verlaat is. Jesus, wat vir altyd een met die Vader was, was bereid om aarde toe te kom en met sondaars soos ons te identifiseer. Hy was selfs bereid om ons sonde te wórd (2 Kor. 5:21), sodat Hy aan die kruis in ons plek kon sterf. Aan die kruis is die helse straf wat ons verdien, op Hom geplaas; Hy het gewilliglik God se toorn verduur om ons vry te maak. Daarvoor moes Hy heeltemal mens wees en was Hy vir daardie oomblik heeltemal alleen en verlate.
Wanneer Jesaja in Jesaja 51:17 sê: “Skud jouself wakker! Skud jouself wakker! Staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy woede gedrink het! Die beker wat 'n mens laat steier, het jy gedrink, leeg geslurp.”, dan besef ons dat ons ook deel van daardie volk, van daardie oordeel moet wees. Maar Jesus het daardie straf, wat vir ons bedoel was, op Homself geneem – vir almal wat in Hom glo. Ons sondes is betaal, en die verlossingswerk is wonderlik “volbring!” Tetélestai!
Gebed:
Here Jesus, ek sidder as ek dink dat U self my sonde geword het. Dit is ondenkbaar en ek kan my nie eers voorstel wat U moes verduur het om hierdie stryd vir ons te voltooi nie. Dankie, my Verlosser. Amen
2021-07-07 – Wat beteken die kruis vir jou? (Kliek hier vir die klankgreep)
“2Skud die stof van jou af! Staan op, gaan sit op jou troon, Jerusalem! Maak jou los van die bande om jou nek, krygsgevangene, dogter van Sion! 3Ja, so sê die Here: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.” – Jesaja 52:3-4 (AFR20)
Wat beteken die kruis vir jou? Dink mooi. Wat beteken dit regtig?
Meeste Christene het ’n kruis iewers. Dalk voor in jou tuin, dalk hang een op ’n muur in jou huis, dalk ’n hangertjie, dalk is dit jou agtergrond skerm op jou rekenaar, dalk selfs ’n tatoe... Dit is deesdae vir ons ’n mooi en spesiale versiering. Die hedendaagse assosiasie met die kruis, is dat dit ’n voorwerp van Christelike identifikasie en aanbidding is, en natuurlik is dit ook. Maar, omdat dit al só gekommersialiseer is, is dit byna onmoontlik om die kruis te sien vir wat dit eintlik was. En as ons die kruis nie verstaan nie, verstaan ons nie wat ons Here namens ons gely het nie: skaamte.
Jesus het die kruis verag. Om in Sy tyd selfs net van die kruis te gepraat het, was walglik. Dit was ’n straf wat uitsluitlik vir die ergste misdadigers van die land was. Dit was ontwerp om die grootste marteling en vernedering vir wetsoortreders te bewerkstellig.
Wanneer ons sê dat Jesus ‘die kruis verduur het en die skaamte daarvan verag het’, dan sê ons nie ‘arme Jesus’ nie. Nee, ons sê daarmee dat Jesus ons só liefgehad het en so onderdanig en gehoorsaam was aan die Vader, dat Hy nie net die pyn en marteling daarvan nie, maar ook die openbare vernedering verduur het. En toe dit verby was, is Hy verhef tot die hoogste plek van eer en waardigheid in die heelal. Dit alles het Hy gedoen vir jou en my. Gratis en verniet. Sonder ’n sent is ek en jy losgekoop. Skud die stof van jou af. Staan op. Jy is vrygekoop. Die prys is betaal aan ’n vieslike kruis. Dít is hoe lief Jesus ons het!
Om oor te dink vandag:
Wat beteken die kruis vir jou?
Gebed:
Jesus, Heer van heerlikheid, U het aarde toe gekom en die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en gewilliglik ’n ondenkbare dood aan die kruis gely. U het gesterf vir my, ’n sondaar. U het die boete betaal vir my sondes. Sulke wonderlike liefde is vir my heeltemal onverstaanbaar. Help my om te verstaan dat die pad na heerlikheid dikwels ’n reis deur probleme en uitdagings vereis, maar dat U altyd by my is. Ek wil U volg in alles wat ek doen. Ek weet dat, om U waarlik te dien, ware vryheid is. Ek bid dit in U Naam alleen. Amen
2021-07-06 – Dit help nie ek bid nie... (Kliek hier vir die klankgreep)
In Handelinge 4:23-31 bid die dissipels ’n vurige gebed waarin hulle die Here aanroep om ag te slaan op die bose planne van Herodes en Pontius Pilatus om die verkondiging van die evangelie in die wiele te ry. Die dissipels bid dat hulle met vrymoedigheid die evangelie kan verkondig en dat daar wonders verrig kan word in die Naam van Jesus Christus. “Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.” (Hand. 4:31 AFR20)
Wow! Kragtige, vurige, vrymoedige gebed. In 2 Konings 19:14-19 bid koning Hiskia ook ’n vurige gebed om God se hulp aan te roep – en God antwoord en stuur ’n engel om 185,000 Assiriërs neer te vel (2 Kon. 19:35). Sjoe, hoe wens ek dat ek ook sulke kragtige gebede kan bid... Wat is die geheim? Dit is tog nie dat ek nie glo dat God enigiets kan doen nie. Ek twyfel tog nie in God se almag nie.
Wonder jy ook soms hieroor? Waarom wil dit voorkom asof sekere mense se gebed kragtiger is as ander? Gebeur sulke wonders nog? ... Ek dink nie die probleem lê in ons gebed nie. Dit lê ook nie daarin dat God nie luister nie – Hy luister altyd. Die probleem lê in ons eie onvermoë om tussen ons eie wil en die wil van God te onderskei. As dit nie God se wil is om vir ons ’n ‘ja’ antwoord te gee nie, dan gaan ons bitter teleurgestel wees.
Omdat ons bitter graag in God se wil wil bly, bid ons soms met ’n effense skugterheid: ‘Here, genees asseblief my vriend, as dit U wil is.’ Waarom het ons nie die vrymoedigheid om eenvoudig net die volgende te bid nie: ‘Here, genees my vriend asseblief.’ En dan glo ons net, ongeag die uitslag, dat ons gebede nie tevergeefs was nie?
Sien, gebed gaan nie net om ’n antwoord van God te ontvang nie. Gebed gaan ook daaroor, dat dit ons verander. Dit maak ons geestelike oë oop om dinge te sien wat ons nie self kan sien nie en om God op ’n vars, nuwe manier te sien. As ons met vrymoedigheid bid, word ons vanuit ’n stagnerende plek van godsdienstige gewoonte, na ’n plek van egte verbintenis met God gebring.
Gebed maak dus wel ’n verskil – ’n lewensveranderende en aardskuddende verskil. Ons kan met selfvertroue kniel en weet dat die bewende geprewel van ’n eenvoudige Jesus-kind soos ek en jy se gebede vêr en wyd strek. Moenie huiwer nie. Bid. Glo. Vra met vrymoedigheid. Nie sodat jou gebede God laat ‘werk’ nie, maar sodat jy sal begin sien hoe Jesus in jou lewe werk – soos Hy wil. Ons kan nie – en moet nie eers probeer – om God te manipuleer nie, maar ons kan met vrymoedigheid bid vir sake wat belangrik is vir God en God se kinders.
Om oor te dink vandag:
Waaroor moet ek met meer vrymoedigheid bid vandag? Doen dit.
Mag jy God se vrede in jou gebedslewe beleef. Mag jy die vrymoedigheid hê om hartsake met God te bespreek. Mag jy sien hoe ons Here, deur Sy Heilige Gees, wonderlike dinge in jou lewe doen.