Ander Gedagtes
(Hierdie is briewe of sommer net gedagtes neergepen. Sommige is briewe wat gestuur was aan die
Kerkbode, maar nie gepubliseer is nie.
(Hierdie is briewe of sommer net gedagtes neergepen. Sommige is briewe wat gestuur was aan die
Kerkbode, maar nie gepubliseer is nie.
Weereens nog 'n brief wat die Kerkbode nie eers geantwoord of gepubliseer nie.
2024-04-17 - Vir wie stem jy ?
Ek lees onlangs aanlyn in die Kerkbode dat die NG Kerk nog ’n lidmaat sien wat nie meer wil assosieer met die NG Kerk nie. Daar is debatte: oor diversiteit, inklusiwiteit en geregtigheid; dolerendes en nie-dolerendes; soeke na waarheid, gereformeerdheid en Reformatoriese beginsels...
My gedagtes dwaal na die komende verkiesing in Suid-Afrika en of demokrasie die ideale oplossing is wat almal gedink het dit sal wees. Sien, in ’n demokrasie stem jy vir ’n party en daardie party stem intern vir iemand om hulle te verteenwoordig op ’n groter/belangriker vergadering. Maar, daardie persoon(e) mag dalk té veel of té min saamstem met wat die beste is vir almal, of kan selfs besluit om net hom/haarself te bevorder in status, finansies of wat ook al. Die vraag ontstaan: Wat is die ware oplossing vir ons land en die kerk? Weer ’n burokrasie of outokrasie of een of ander ander “krasie”?
Reinholdt Niebuhr het geargumenteer dat menslike geregtigheid tekortskiet en God se geregtigheid uiteindelik die antwoord is. Die vraag is – vir die land en die kerk: As ons van nature neig na ongeregtigheid, hoe probeer ons dit korrigeer? Inklusiwiteit? “Oopkop denke” – met die aanvaarding van almal se sienings, leefstyle definisies van waarheid en redding? Stem ons vir die mens wat die “meeste wysheid” besit en, indien wel, wat is die oorsprong van hierdie wysheid?
Vir Niebuhr, volgens Lebacqz, is die kern liefde, afgelei van geloof, maar dit vereis getrouheid aan gereformeerdheid. Want waar begin die liefde? By God. Want God is liefde. Maar dan moet ons ook getrou bly aan ons gereformeerdheid en die 5 solas. Dis eenvoudig. Red net Jesus ons uit genade, die gawe van geloof, soos verwoord in God se Woord, die Bybel? En is alles tot God se eer alleen? Leef ons, bestaan ons – as individue en as kerk – tot God se eer? Of dalk ons eie?
Deesdae vra ek baie meer hoekom vrae – nie oor alles om my nie, maar direk gemik aan myself. Hoekom voel ek so? Hoekom is ek kwaad? Hoekom is ek gefrustreerd? Hoekom maak kerkpolitiek my ongelukkig? En hoe meer ek dieselfde vraag in ’n situasie herhaal, hoe beter is die kans dat ek een of ander tyd eerlik sal wees met myself – dat mý siening, mý gevoel, mý ego, mý status, mý belange voorkeur geneem het... Is dit nie dalk ook die moeilikheid waarmee ons eintlik sit nie? Sien, die kerk behoort tot God, nie omgekeerd nie. Die enigste “krasie” wat in die kerk werk is Christokrasie. Christus IS Koning, Hoof van die Kerk. God se eer, God se agenda, God se belange. Nie politiek (kerk of anders) nie.
Die huidige demokratiese stelsel van die NG Kerk op Algemene Sinodale vlak, sien ek nie as die verpersoonliking van koinonia nie, maar dalk kan ons daarby uitkom. Die weg vorentoe is terug na die Bron van geregtigheid, onderwerping aan God se wil – sodat Jesus, eerstens oor ons lewens- en, tweedens, die bruid (kerk) regeer. Hy is immers die Koning. Ek stem Jesus.
Na aanleiding van 'n oordenking op dieselfde dag oor dieselfde tema, het ek die oordenking bietjie redigeer om aan die aantal karakters te voldoen, maar weereens het die Kerkbode nie eers geantwoord of gepubliseer nie.
2023-11-03
Deesdae staan ek heeltemal verbaas oor hoe gou mense een of ander doktrine of ideologie opeet vir soetkoek. Daar's allerhande samesweringsteorieë, ketting-boodskappe, oortuigende internet boodskappe... ag noem dit maar op – alles een of ander teorie wat met sogenaamde “bewyse” nou skielik die lig gesien het en kwansuis ook met “wetenskaplike teorieë en bewyse” gerugsteun..
Deesdae weet mens nie meer wat is waar en wat nie. En dit geld nie net vir bekende persoonlikhede nie – dit het al selfs deurgesyfer na Noag, Elia, Moses, selfs Jesus en amper die hele Bybel. Elke versie word uitmekaargetrek, wetenskaplik geanaliseer, geweeg en, telkemale, te lig bevind – of eerder, te lig bevind vir die groep mense wat nie daarmee wil saamstem nie.
Maar, hierdie is nie ’n nuwe verskynsel nie. Natuurlik is dit baie meer merkbaar as gevolg van tegnologie en die internet, maar hierdie is al ’n probleem sedert toeka se tye. En ja, dit gebeur ook in die kerk – dit is mense wat voorheen vrygekoop, verlos is deur Jesus, wat hierdie valse leringe die kerk insmokkel en sodoende die einste Jesus verloën. Is ek té hard op hulle, of hoe? Maar dis nie my woorde nie, gaan lees gerus 2 Pet. 2, Jud. 4-13, 1 Tim. 6, 2 Tim. 4, Kol. 2 en heelwat ander gedeeltes hieroor.
Petrus waarsku die vroeë Christene oor die gevare van valse profete en leraars wat op subtiele wyses vernietigende leringe sal inbring en mense van die ware geloof af sal lei. Hierdie valse leraars, sê Petrus, is dikwels mense wat voorheen deur Christus vrygekoop is, maar nou word hulle gekenmerk deur hulle ontkenning van dít wat die Here ons leer, en hulle selfsugtige begeertes, wat uiteindelik tot hulle eie vernietiging lei.
Dis so hartseer dat hierdie dikwels waar is van mense na wie ons opgekyk het en ná wie nog baie opkyk. Petrus beklemtoon die belangrikheid van onderskeidingsvermoë om gegrond te bly in die waarheid van God se Woord. Mense word deesdae so maklik beïnvloed deur eksentriese, charismatiese en oortuigende stellings van mense wat hul argumente “staaf” deur ’n mensgemaakte internet as sogenaamde “wetenskaplike bewyse”. Hierdie is argumente van mense wat die waarheid verdraai vir hul eie gewin – ons moet leer om dit te weerstaan.
Ons moet baie waaksaam wees in die onderskeid van die leringe en boodskappe wat ons teëkom, beide binne en buite ons geloofsgemeenskappe. Ons moet onsself stewig in die waarheid van die Skrif begrond en bewus wees van die potensiële gevare van valse leringe wat ons kan weglei van die pad van geregtigheid.
Vêrder, moet ons ook ons eie motiewe en bedoelings ondersoek, om te verseker dat ons nie swig voor hebsug of die versoeking om ander vir persoonlike gewin te manipuleer nie. Ons is geroep om in integriteit en waarheid te lewe, om God te eer en ander te dien met rein en onbaatsugtige harte.
Mag ons Here Jesus Christus weer Hoof wees van sy kerk en mag God se waarheid weer leef in die harte van die kerk.
Dié een nie eens gestuur aan die Kerkbode nie, maar wel aan 'n paar vriende.
Nog gedagtes . . .
2022-06-12
Vir die soveelste oggend word ek tussen 01:00 en 03:00 wakker en is die eerste gedagte wat by my opkom die situasie in die NG Kerk. Ek dink aan dinge wat ek wil uitskree op my eie “soapbox”. Dinge wat mense moet hoor... Dinge wat nie vir my sin maak nie... Hoe het die kerk hier gekom? Hoekom is daar soveel onenigheid? Hoekom is sommige “vol liefde” en ander “liefdeloos” ? Hoekom verskil definisies van liefde in die kerk? Ek dog dan God is liefde...
Ek hoor net ’n paar dae gelede hoe ’n kollega in ons sinode vertel dat daar 3 groepe is in die NG Kerk. Dié wat téén die 2019 AS besluit is; dié wat vír die besluit is; en blykbaar die grootste groep in die middel: diegene wat net wil kerk wees. Die kollega sê dan ook dat ons eintlik moet mooi kyk na die AS se besluit (wat die ruim-huis beginsel aanvoer) en dat dit mos eintlik werk vir almal. Ek sou daarmee kon saamstem, as die onderliggende kwessie nie so ernstig was nie. Ek sou kon saamstem dat elkeen maar doen wat vir hom/haar werk, as die gesag van God se Woord nie in gedrang was nie.
Sien, dit gaan nie regtig oor die 2019 (of 2015) besluit nie. Dit gaan oor geloof, hoop en liefde. Dit gaan oor die 5 Solas. Dit gaan oor die wortel van die eintlike kwaad. Dit gaan oor ’n magstryd. Dit gaan oor mense wat nie meer glo nie, omdat die wetenskap en hul eie twyfel hulle oortuig het dat God se Woord nie meer God se Woord is nie – alhoewel dit vir duisende jare nog altyd God se Woord was... Dit gaan oor tegnologie wat mense skielik baie slim maak en die internet wat jou nou eerder antwoorde kan gee. Dit gaan oor jou “reg” om te glo wat jy wil, soos jy wil. Dit gaan oor hoe ’n ruim-huis beginsel voorgestel en aanvaar word, maar hoe dit eintlik net werk tot voordeel van dié wat hul eie agendas wil deurvoer en hul eie klein ryk wil bou. Dit gaan oor die stelselmatige afbreek van waardes – Bybelse waardes – omdat die norm gemeet word aan dié van die samelewing (wêreld).
Die ruim-huis beginsel werk nie! Daar is nie ’n meerderheid gemeentes in ’n “middel-groep” nie. Dalk is hulle tans daar, maar dit is omdat hulle nie behoorlik ingelig is nie. Hulle is apaties, omdat hulle dink dat hierdie dinge hulle nie raak nie. Hulle besef nie dat hulle, by wyse van assosiasie, reeds onder dieselfde kam geskeer word nie. Hulle is NG Kerk en die NG Kerk (en baie ander denominasies wêreldwyd) is ’n grap vir die wêreld. Dis ’n siek grap. Die wêreld kan nou met reg vinger wys en sê: “Sien! Julle Christene is almal dieselfde. Julle sê een ding en julle doen iets anders.” Titus 1:16 is van toepassing op die hele NG Kerk: “Hulle bely dat hulle God ken, maar weerspreek dit met hulle dade” En of die “middelgroep” dit wil erken of nie, is dit só.
Jy kan nie sê dat jy eerder net wil kerkwees en wil aangaan met “belangriker” dinge, terwyl jy nie ’n standpunt inneem nie. Is jy vír God se Woord of daartéén? So eenvoudig soos dit. Aanvaar jy God se Woord in geheel; of wil jy ook soos die neiging deesdae is, net sekere dele aanvaar, terwyl jy die res afskryf of op jou eie manier interpreteer en kontekstualiseer? Lees jy uit God se Woord en laat dit toe om, deur God se Heilige Gees, te praat met jou en jou te verander? Of lees jy jouself en jou eie oortuigings IN God se Woord IN?
Soos met die 2015 AS, het iemand – amper in trane – die vergadering gevra: “Indien ons nie vandag hieroor besluit nie, wanneer?”, vra ek nou weer: “Indien ons nie vandag standpunt inneem nie, wanneer?” As ons “kerkregtelik” wil optree en by ’n sinode- of AS sitting besluit, is dit reg? Kan tussen 200 en 400 “hand-geselekteerde” afgevaardigdes – waarvan die meerderheid openlik vêr verby liberaal in hul teologiese denke is – die spreekbuis word van die NG Kerk? Is die kerkreg en kerkorde dan reg? Hoekom stem die gemeentes nie? Hoekom kan daar nie, soos met Belhar, behoorlik gekommunikeer word aan gemeentes en elke gemeente ’n amptelike besluit neem nie? Die stemme per gemeente kan mos getel word en daar kan volgens ring-, streek-, sinodale- en algemene sinodale vlak bepaal word wat eintlik die oortuiging is van die kerk, of hoe?
2022-06-13
Vanoggend lees ek weer Psalm 124 en besef ek hoe ons tans deur ’n stormvloed van dwaalleer en selfgesentreerdheid van die mens oorweldig word. Ek besef ook weer hoe baie van my mede-leraars reeds soos voëls in ’n net gevang is. Ek besef dan ook weer dat Jesus Christus die net reeds gebreek het, maar dat sommige gemaklik is onder die net en hulself oortuig het dat hulle nie regtig gevang is nie. Daar is vir hulle gelieg en hulle glo dat hierdie net God se liefde is wat hulle toevou... Nou voer hulle aan vanuit ’n posisie van mag wat hulle hulself toegeëien het, dat ander hulle moet volg en dat dié wat nie die “nuwe leer” wil aanvaar nie, liefdeloos is. Mag ek eerder, soos Dawid, ná die tyd God loof en prys dat Hy die net gebreek het en dat Hy my staande gehou het deur die stormwaters. Mag ek roem op die Here waarvandaan my hulp kom. Ek volg nie mense nie. Ek volg vir Jesus. Mense moet my ook nie volg nie, tensy hulle sien dat ek agter Jesus aanloop.
Al sewe die briewe in Openbaring 2-4 wil ek graag stuur aan die Algemene Sinode en ook aan alle gemeentes van die NG Kerk. Ek wil graag hê dat elkeen van ons ernstig sal aandag gee daaraan en ons sal bekeer. Ek wil graag hê dat God nie die dinge wat Hy teen daardie sewe gemeentes gehad het, ook nou teen ons hou nie. Ek wil graag dat dinge anders sal wees. Ek wil graag hê dat die kerk sal ag slaan op God se Woord... Maar ek weet dat die “slim” mense vir my sal lag en vir my sal sê dat ek nie God se Woord so kan gebruik nie. Hulle sal aanvoer dat dit nie op ons van toepassing is nie, as gevolg van Johannes wat moontlik vreemde gasse in die grot waaruit hy geskryf het, ingeasem het. Hulle sal aanvoer dat Johannes dalk kranksinnig was. Hulle sal aanvoer dat Openbaring se gebeure reeds gebeur het. Hulle sal nie God se Woord vat as God se Woord nie – dis nie op hulle van toepassing nie... dis bloot woorde van ’n kranksinnige tronkvoël wat per ongeluk in ’n boek wat deur mense geskryf is opgeneem is...
Ek weet regtig nie wat om te doen nie. Ek is lief vir God en ek is lief vir die kerk. Ek is lief vir die NG Kerk, maar ek is sielsongelukkig dat God se Naam en God se Woord deur die NG Kerk (se leiers) deur die modder gesleep word.
Ek sal bid. Ek sal aanhou bid en ek sal aanhou glo. Ek sal aanhou vertrou op God en ek sal die hoop wat in my is leef. Ek sal dat God se liefde – ware liefde – sigbaar raak in my lewe. Ek sal probeer om nie die dwaalleraars te haat nie, maar ook bid vir hul bekering. Mag die Here my krag gee. Mag Hy my geloof gee. Mag God alleen regeer oor Sy kerk.
Dié een nie eens gestuur aan die Kerkbode nie, maar wel aan 'n vriendin om te gebruik elders.
Meer van dieselfde.
Toe ek in 2010 besluit het om voltyds Teologie te gaan studeer, sodat ek ’n bedienaar van die Woord kan wees in die NG Kerk, het baie van my vriende my afgeraai – juis omdat ek by die Universiteit van Pretoria wou studeer. Slegs ’n paar jaar vantevore was die Teologiese Fakulteit van UP in die nuus met gerugte van dwaalleer en dosente wat “anders” glo. Tog het ek gegaan. Ek het studeer. Alles bevraagteken. Vasgehou aan God en my geloof deur die Heilige Gees. Ek het deurgedruk.
In daardie dae was daar nie Zoom klasse nie. Voltydse studies was die orde van die dag. Ek het uit my werk bedank, deeltyds gewerk (slegs 1 dag ’n week vir amper ’n jaar), my pensioen opgebruik in die 6 jaar studies, en uiteindelik darem gelegitimeer. Vrou, 3 kinders, kerk (met ’n gemeente-skeuring ook nog!), sport, werk en ander verpligtinge was in die lug opgegooi en ek het probeer dit balanseer. Deur genade alleen het ek baie goed presteer en het God gesorg. Studies klaar, nou voltyds in die bediening wat voorlê.
Aansoek nommer 23 in 6 maande (vanaf Augustus in my finale jaar), was ek beroep. Wat ’n vreugde! Dit bly ’n vreugde en ’n voorreg om vir God te werk. Ek is tans in my tweede gemeente en op grondvlak is dit steeds ’n nederige, afhanklike voorreg om diensbaar te wees. Maar... soos toe ek die vorige 20 jaar in die IT bedryf was, het die ontevredenheid met organisasies se leierskap my weer ingehaal. Groot korporatiewe maatskappye wou niks weet as ek vir hulle miljoene rande kon spaar nie, want hulle was gemaklik met hoe dinge was; of die kompetisie doen dinge dan só... Nou is dit weer so... Sommige leierskap kies om eerder gelyk te word aan die wêreld, ten koste van die kerk en die kerk se roeping.
Kerk leierskap dwing ’n beleid af op lidmate wat hul opinies wil lug en daar word heeltyd gedans rondom kwessies met mooi woorde soos “vasgelooptheid” en “ruim huis beginsel”. Menswaardigheid en menseregte word met mekaar verwar en daar word selektief met God se Woord omgegaan. Ander meen dat die Bybel NIE God se Woord is nie, maar eerder God se woorde aan mense in mensetaal, deur mense. Vandaar dan ook die rusbank “wysheid” om te kies wat jy wil en te los wat jy wil. Liefde word skielik gebruik as ’n ideale maatstaf. Nie God se liefde nie. Nie God IS liefde nie. Nee, net liefde. As jy volgens God se Woord ander se dade veroordeel, is jy liefdeloos.
Die liggaam van Christus het, volgens baie mense (wil dit voorkom), verander. Christus is nie meer die Hoof nie. Ons het weer ’n Pous en Aartsbiskoppe in die NG Kerk – net met ander benamings. Maar ek mag dit nie sê nie, want dan trap ek op tone en tone trap is deur hulle verbied. Hulle is mos die hoof(de) van die kerk nou. Wie is ek en meeste ander lidmate nou om te kla?
Hulle is gevra, met broederlike liefde, om hulle te bekeer, maar as jy self nie glo dat jy sondig nie, dan sondig jy mos nie en hoef jy nie te bekeer nie... Sonde is mos deesdae wat jy sélf sê dit is – nie God se Woord nie. Sola Scriptura bestaan mos nie meer nie. Die kerk het blykbaar mos nou al vêrder as dít gereformeer... Daarom dan ook dat Teologiese Fakulteite nou “Fakulteite van Teologie en Religie” geword het. Menseregte, ander teologieë en ideologieë moet nou vermeng word. “Kweekskole” is eintlik oorbodig vir meeste wat só redeneer.
As ek nuwe mense ontmoet, sê ek vir min mense ek is ’n dominee, want dan wil hulle weet in watter denominasie. Ek is skaam om vir hulle te sê ek is in die NG Kerk. Ek is skaam vir die laaste 30 (eintlik 60) jaar se leiding in die kerk. Ek is wel dankbaar dat God nogsteeds, midde al hierdie chaos, die meeste van die lidmate en bedienaars van die Woord gebruik het (en nogsteeds gebruik) om Sy Koninkryk uit te brei.
Vreemd dat daar in ’n demokratiese land (waar demokrasie nog nie tot sy volle reg gekom het of enigsins behoorlik werk nie), geensins geleer word deur die NG Kerk nie. Die NG Kerk het ook probeer om demokraties te stem vir ’n hele paar dinge, maar die verteenwoordiging en die stemme was nie behoorlik demokraties nie. Waar is die reg en geregtigheid daarin? As meerderheid (glo ek) van lidmate nie saamstem met die tydsgees wat begin oorneem in die kerk nie, waarom word hulle stemme nie gehoor nie of waarom word hulle nie gevra om te stem nie?
Baie woorde en baie frustrasies hierdie. Ek is amper elke dag moeg vir die kerk. Nee, ek is amper elke dag moeg vir die NG Kerk. Nee, ek is amper elke dag moeg vir die politiek en magstryd in die NG Kerk. Nee, ek is moeg dat mense dink hulle kan in God se pad staan. Ek is moeg dat Jesus in mense se koppe nie meer die Hoof van Sy Kerk is nie (nie net die NG Kerk nie).
Kyrie Eleison.
Dɪᴇ ᴡᴇ̂ʀᴇʟᴅ ᴡᴏʀᴅ ɴᴏɢ ᴏᴜᴇʀ.
(Opgedra aan my moeder op haar eerste verjaarsdag in die hemel, waar sy in elk geval nooit ouer sal word nie!)
(Dankie Koos Doep vir die musiek en inspirasie)
Die wêreld word nog ouer,
maar in my hart voel dit kouer.
Want sonder haar, moet ons die dag nou vier.
Dis my moeder se verjaarsdag.
Dis ’n tyd vir sing, speel en lag.
Maar hoe moet ons dit doen, sonder haar hier?
Daar in die hemel, nou,
is sy sonder seer of rou
en ons almal gaan maar aan soos ander dae.
Die verlange in harte
verdrink in al die smarte,
maar ons weet dit sal nie vir altyd pla.
“Lag en speel en sing”,
“Moenie nou vir my blomme bring,
want jy weet, dit help nie met die seer...”
Want die lewe is mos kort,
terwyl almal ouer word.
“Wees bly! Ja verbly jou in die Heer!”
Saam sal ons maar verlang,
wyl trane die fees bedwang,
want kyk hierdie was ’n wonderlike vrou.
Weg, maar nie uit ons harte,
verbloem ons maar die smarte,
terwyl trane met lag, speel en sing trou.
Ja, die lewe gaan nog aan.
Al voel ons soms gedaan.
Ons sal haar eer op hierdie goeie dag.
Sy’s by Jesus, geklee in hemelse prag.
Ja, die wêreld word nog ouer,
en ek gee dit die koue skouer.
Want sonder haar, sal ons die dag nou vier.
Dis my moeder se verjaarsdag.
Dis ’n tyd vir sing, speel en lag.
Ons sal die lewe met mekaar vier.
Ai my moeder, hoe wens ek jy was hier...
My moeder, ek wens jy was nog hier.
···ᶜᴶˢ··· ©
2021-08-18
Dit is 2:30 op ’n Woensdagoggend. Dit is my af dag, maar van 01:00 af al lê ek wakker. My brein is nie af nie. Ek het ’n diens by die ouetehuis later en nog ’n vergadering nog later – nie regtig ’n af dag nie. Maar ander dinge is ook in my gedagtes... Die NG Kerk, COVID, die toestand van Suid-Afrika en klomp ander goed maal in my kop – hoofsaaklik die treurige toestand van die kerk. Maar nie net die NG Kerk nie. Eintlik, nou dat ek daaraan dink, is dit nie die toestand van die kerk wat my pla nie. Dis die wêreld. Die wêreld is siek. En nie net oor COVID nie. “Daar is te veel met die wêreld gefoeter”, kom Koos Du Plessis se woorde skielik in my gedagtes op. Ja, die mense se idees en gedagtes is nie meer soos dit was nie. Almal dink anders deesdae. Dinge is nie soos toe ek ’n kind was nie.
Ek wonder of dit ook so was vir my ouers en grootouers toe hulle my ouderdom was? Miskien is dit maar net wat hulle na verwys as ’n “mid-life crisis”. Miskien dink ek te veel. Miskien is ek te erg aandag-afleibaar. Dis nogal ’n mooi manier om verstrooid te beskryf, maar miskien dink ek te veel.
Terug by my rede vir my insomnia (of so dink ek). Ek is regtig ongelukkig oor die kerk (wêreldwyd) se sienings deesdae. Om een of ander rede, het ek die laaste ruk weer baie aangetrokke gevoel tot Kanada. Soveel so, dat ek selfs begin soek het na Suid-Afrikaans gebore predikante wat nou daar woon. Ek wou graag kontak maak om te hoor wat die proses is om soontoe te gaan (vir as die Here my dalk daar wil hê eendag). My ge-google het my uiteindelik by die Presbiteriaanse Kerk in Kanada se webtuiste (https://presbyterian.ca/) gekry en my kommer en hartseer oor die kerk het net vêrder uitgebrei. Dit wil voorkom of die Presbiteriaanse Kerk in Kanada in hul Algemene Sinode Sitting van 6-9 Junie 2021 tot die besluit gekom het om alle LGBTQI verhoudings en huwelike goed te keur, die kerk se teologie en praktyk rondom hierdie onderwerp te verander en om gekwalifiseerde LGBTQI mense (enkellopend of getroud) toe te laat tot legitimasie en toe te laat tot die bediening van die Woord. Ek wonder of die NG Kerk se onlangse gestryery en die eensydige nuusberigte (amper alle koerante en elektroniese media: publiek en kerk) dalk die Kanadese gehelp of gemotiveer het in hul besluit. Nou ja, ek voel nie meer so baie aangetrokke tot Kanada nie...
Ja, ek is openlik teen die hele LGBTQI beweging. Ek is nie teen die mense nie. Ek is teen hul gekose leefstyl. Hoekom? Want die Bybel is daarteen. En nee, ek is nie ’n fundamentalis nie. Ek verstaan dat daar baie dele van die Bybel is wat in konteks verstaan moet word. Ek verstaan ook dat daar baie dele van die Bybel is wat nie buite konteks gebruik kan/moet word nie.
Ek is ’n NG dominee. Ek glo in die gereformeerde leer. Ek glo in die 5 solas. Ek glo in die belydenisskrifte van die kerk. Ek kan mos nie wil anders wees nie. Ek kan nie na soveel jare wat die kerk staatgemaak het daarop, nou skielik besluit dat ek net sommige van die standaarde en waardes daarin ondersteun nie – net omdat menseregte skielik anders dikteer nie!. As ek dit doen, maak ek my mos skuldig aan juis die oersonde, of hoe? Is dit nie tog wat die Skeppingsverhaal ons leer nie? (En nee, ek gaan nie nou in ’n debat hieroor gaan of die aarde 6000 jaar oud is en of evolusie bestaan of nie) Die Skeppingsverhaal vertel ons tog dat die eerste mense se grootste fout was dat hulle soos God wou wees. Hulle wou alles weet en vir altyd lewe. Hulle het besluit dat hulle beter weet – nadat God hulle gewaarsku het – en toe het hulle God se opdrag verontagsaam. Hulle was ongehoorsaam. Hulle het God probeer ondermyn. Hulle het geglo dat hulle eie oordeel en hulle eie besluite beter is as God s’n.
Dit klink darem baie bekend. Dit voel of ek hierdie “movie” al gesien het, en dit eindig nie goed nie.
Vir die eerste mense en die mense daarna, gelukkig, het God ons nog altyd liefgehad. Hy was nog altyd betrokke by- en met ons. Daarom het Hy ’n verbond gesluit met Abraham en, nadat Hy gesien het dat die mens nogsteeds nie in staat is om self gered te word nie, het God self mens geword, in Sy eie Seun, Jesus Christus. En ons weet tog wat Jesus vir ons almal aan die kruis gedoen het. Ons weet dat dit juis deur Sy groot offer is, dat ons weer met God die Vader versoen is. Ons weet dat dít eintlik deel is van ons geloof. Dat dit die res van die solas opmaak. Ja, net geloof (sola fide), net genade (sola gratia), net deur Christus (solus Christus) en vir seker net tot eer van God (Soli Deo Gloria) – nie onsself nie. Maar dit kan slegs so wees, as ons glo in net die Bybel (sola scriptura).
En juis daarin lê die grootste gestryery in die kerk deesdae. Skrifbeskouing. Ek verskil van jou en jy verskil van my. Jy voel jy interpreteer die Skrif anders en jy is geregtig daarop. Jy voel dat dit jou menslike reg is om anders te voel en anders te dink as ek. Daarmee gaan ek nie met jou stry nie. Jy mag maar anders as ek dink en voel oor sekere sake. Maar, ek is jammer, as jy willekeurig met God se Woord omgaan en dit gelykmaak aan wêreldse standaarde, dan gaan ek van jou verskil. As jy voel dat menseregte belangriker is as dít wat die mens al vir 2000 jaar (eintlik baie langer) geglo en vertrou het, sal ek my menslike reg om van jou te verskil gebruik. As jy vir my kom sê: “Kom bietjie by! Tye het verander!”, gaan ek vir jou sê: “God het nie verander nie en Sy Woord het ook nie verander nie!” Ek kan nie met jou saamstem as jy vir my sê dat dit “OK” is vir mense om homoseksualiteit en ander dergelike praktyke te beoefen nie. Ek kan ook nie met jou saamstem as jy sê dat mense nie ’n keuse het nie. Ek verstaan dat daar uitsonderlike gevalle is waar die anatomie van mense buitengewoon is en in sulke gevalle kan en moet mense ’n ingeligte besluit neem, maar hierdie is ook ’n ander argument op sy eie. Ek is jammer, ek kan nie saamstem met ’n wêreld wat God se Woord begin afmaak as ’n “uitgedateerde boek” nie. Ek kan nie saamstem met Kuratoriums wat nie regtig omgee watter tipe teologie vir toekomstige bedienaars van die Woord geleer word nie. Ek kan nie saamstem met dosente en wêreldberoemde teoloë wat openlik die maagdelike geboorte en/of die fisiese opstanding of Jesus se wonderwerke ontken nie. Ek kan nie saamstem met ’n kerk (verwys na Kanada, NG Kerk en baie ander deesdae) wat bereid is om “hulle teologie te verander” om by ’n mense-besluit aan te pas nie. En dit is tog wat oral aan die gebeur is. In die NG Kerk ook. Mense pas stelselmatig hul teologie aan om in te pas by die prentjie wat die wêreld en die duisende menseregte vir ons skilder.
Ja, teologie is seker iets wat dinamies moet wees. Dit is iets wat gedurig kan verander, maar as die Bron van ons studie deur al die eeue nog dieselfde, onveranderde, onbegryplike Wese is, hoekom probeer ons Hom in ons eie boksies inpas? Het Karl Barth ons nie genoeg hieroor gewaarsku nie? As ons God se Woord wil glo, moet ons mos glo soos ’n kind. Ons verduidelik tog aan ons kinders dat sekere dinge wel nie altyd so-of-so werk nie, want die konteks is anders. So ook, moet ons verstaan dat sekere wette en praktyke van die Bybel nie meer aanvaar en toegepas word nie. Die fout wat egter gemaak word hiermee, is dat ons nie besef waar die draaipunt is nie. Baie mense wil graag argumenteer, na beide kante toe, dat daar met konsekwentheid geïnterpreteer moet word. Die probleem daarmee is dat Skrifbeskouing dan neig om óf fundamentalisties óf liberalisties te wees. Die draaipunt van Skrifbeskouing moet wees die draaipunt van ons lewe en bestaan: Jesus Christus.
Jesus het gekom en baie dinge anders gedoen en anders benader. Hy het baie van die ou maniere kom verander. Maar, Hy het nie die basis verander nie. God is nogsteeds dieselfde God. En die waardes bly dieselfde. Nêrens in die Bybel staan die woorde “God haat sonde, maar God het die sondaar lief” nie. Tog impliseer ons verstaan van God, ons teologie, dit. As ons sonde, wat uitdruklik regdeur die Woord van God (vóór Christus en ná Christus) as sonde beskou word, begin goedkeur as aanvaarbare menslike gedrag – omdat die meerderheid van die samelewing so sê, hoe is ons nog Skrifgetrou? Natuurlik is ek lief vir gay, lesbiër, transgender en heeltemal-deurmekaar-gender mense. Hulle is ook God se skepsels, soos ek. Natuurlik besef ek ook dat ek ’n sondaar is. Ek het my foute. Baie. Ek moet ook dikwels vir God vra om vergifnis. Ek moet ook dikwels weer mooi kyk na die kruis. Ek moet ook weer mooi kyk na wat presies dit is wat Jesus kom doen het vir my. Ek haat sonde. Tog, soos Paulus ook geskryf het, as ek weer sien, dan het ek iets verkeerd gedoen. Dan begin die proses van voor af. Ek bely dit en vra om vergifnis en ek probeer om dit nie weer te doen nie. Ek weet God het my lief soos ek is, maar Hy het my liewer as dit – daarom los Hy my nie soos ek is nie. Daarom werk Sy Gees heeltyd in my en laat my in die vroeë oggendure al hierdie deurmekaar dinge tik, sodat ek dit darem van my hart afkry en omdat dit seker deel is van my innerlike transformasie. Ek is lief vir alle mense. Ek sukkel soms daarmee en soms hou ek glad nie van mense nie, maar ek probeer om met Jesus se liefde vir almal lief te wees: selfs ons korrupte regering, selfs die munisipaliteite wat nie diens lewer nie, selfs myself, selfs LGBTQI mense, selfs kerkleiers wat duidelik te erg beïnvloed is deur die “gees van die tyd”. Maar, ek kan nie hierdie “goedgekeurde” lewenstyl en waardes goedkeur nie. Net soos ek nie die korrupsie in die staat wat lei tot die verval van ’n wonderlike land, kan goedkeur nie, kan ek nie die waardesisteem van mense wat lei tot die verval van ’n samelewing, goedkeur nie. Net soos ek hard is op myself oor my eie foute, is ek, en moet ek hard wees op ander, want ons moet verantwoordbaar gehou word vir mekaar. Dit is tog hoekom ons die kerk is, of hoe?
Daar is vir die laaste 2 dekades al baie gemaak oor die missionale kerk en hoe ons, as NG Kerk, ’n gestuurde en sturende kerk is / moet wees. Ek dink nie ons kan enigsins eers daarop begin fokus, as ons nie eers dinge in orde kry nie. Ons kan nie ’n huis van wanorde en twis wees en verwag dat ons ordelike en voorbeeldige werk gaan verrig nie. Ja, “’n krom stok slaan ook reguit.” God gebruik nogsteeds ’n disfunksionele kerk tot Sy eer. Dis hoe groot en ontsaglik en wonderbaarlik ons God is. Maar sal dit nie soveel beter wees as ons eers weer ons verhoudings met mekaar uitsorteer nie? Sal ons nie soveel meer kan doen nie? En nee, ons kan nie maar maak soos die Engelse gesegde sê nie: “Let’s agree to disagree” en ook nie “Let’s agree to differ” nie. Ons kan nie maar anderkant toe kyk en hoop die probleem sal weggaan nie. As dit kom by God se Woord, kan ons nie en mág ons nie verskil nie – nie as dit kom by duidelike waarhede nie. Hoe kan ons eenheid bereik as ons oor alles wil verskil? Ons kan nie meer die verskoning gebruik en sê dat ons darem saamstem dat Jesus ons Redder en Verlosser is nie. Ja, dit is die basis van ons geloof, maar ons kan nie nét dit in gemeen hê en oor alles anders verskil nie. Ek is baie bekommerd oor die NG Kerk en die toekoms van die NG Kerk – veral die toekomstige teoloë en bedienaars van die Woord. Ek weier om meegesleur te word in ’n vuil modder massa van halwe waarhede en aangepaste waardes.
Ek voel nogal baie soos Martin Luther deesdae: “Hier staan ek – ek kan nie anders nie!” As ek kyk na die kerk, die samelewing, dan voel ek soos die letterlike vertaling van waar hierdie ikoniese woorde van Luther geuiter is: die dieet van wurms! (“Diet of Worms” – “die Ryksdag van Worms”) Ja, ek is sommer naar vir wat in die wêreld aangaan. Ek is naar vir COVID en oor al my vriende en familie wat in die laaste jaar oorlede is. Ek is naar dat ek nie behoorlik kon rou nie. Ek is naar dat families van mense wat ek begrawe het of roudienste voor gehou het, ook nie behoorlik kon rou nie. Ek is naar dat ek in ’n nuwe gemeente is waar ek nog nie eers helfte van die mense ken nie. Ek is naar dat al hierdie dinge my naar maak en dan moet ek nog wakker lê saans, omdat ek bekommerd is oor die kerk. Ek is naar omdat ek baie kere dink dat ek die enigste een is wat so voel. Maar ek weet ek is nie. Ek is naar, omdat ek nie weet wat om hieraan te doen nie, behalwe om bladsye en bladsye vol te tik. Ek is naar vir die kerk en wonder soms hoekom ek in die bediening is en met die kerk geassosieer moet word. Ek is naar. Maar, ja. “Hier staan ek – ek kan nie anders nie! God help my. Amen...”
En nog een gestuur aan die Kerkbode, maar nie gepubliseer nie.
My antwoord op die video van Nelis Janse van Rensburg, en artikel na aanleiding daarvan:
"Dit is vir my ironies hoe die “globale tydsgees van weerstand teen gesag” wat genoem word, nie eers herken word wanneer dit in die kerk aan die werk is nie. Daar word baie diskreet ook genoem dat daar nie teen die kerklike gesag weerstand gebied moet word nie. Maar, as Christus die Hoof van die Liggaam is, sal dit mos nie ’n probleem wees nie. Miskien moet die NG Kerk eers weer kyk wie regeer die kerk. Miskien is die onderliggende ongelukkigheid nie oor een of twee spesifieke kwessies nie, maar oor die feit dat daar lankal nie meer enige vertroue is in ’n gesagstruktuur nie (Algemene Sinode en selfs streeksinodes) – ’n gesagstruktuur wat hulself aanwys as gesag oor die kerk deur ondersteuners van idees en ideologieë voorkeur te gee in sittings en gesprekke, om die stem van die “kerk” te word.
Ongelukkig, soos nou, wanneer mense die gesag uitdaag, iets wat Jesus ook baie met die Fariseërs en Skrifgeleerdes gedoen het, word hulle beskuldig as onmin-saaiers. Die “Hippie-kultuur” word eerder aangemoedig: Aanvaar alles en laat almal doen wat vir hulle goed is en soos hulle dit verstaan...” G’n wonder die NG Kerk is in ’n posisie waar hulle heeltyd soos “klein kindertjies ... deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan” (Ef. 4:14). Ons fokus is nie meer op die opbou van die Liggaam van Christus nie. Daar word met lippetaal gepraat van optree in liefde, maar deur nié die kwessies te hanteer nie, word daar nie opgebou in liefde nie. Jesus Christus is nie meer die hoof nie. Ja, ek, NG Kerk dominee, sê dit. Want dit is hoe ek deesdae die kerk in breë beleef. Ek sal die gesag uitdaag, omdat ek op grondvlak elke dag mense se moeilike vrae moet probeer beantwoord oor “die goed wat die Algemene Sinode nou weer op ons afdwing.” En ek sal vashou aan die waarheid en probeer om die liggaam te groei na Christus toe (Ef. 4:15) en aanhou probeer om hier waar die Here my nou geplaas het, Sy Woord suiwer te verkondig. Ek sal aanhou bid en aanhou glo dat God in beheer is. Sy tyd is perfek en ek hoop regtig net dat Jesus ons darem so bietjie kans sal gee voordat Hy terugkom, dat ons net weer hierdie klein stukkie van Sy huis in orde kan kry..."
En weereens nog 'n brief gestuur aan die Kerkbode, maar nie gepubliseer nie.
Narsis of Nar?
2021-01-07
Vir ’n paar dae al maal die artikel van Francois Preiss oor Narsisme (https://kerkbode.christians.co.za/2021/01/02/narsisme-mense-van-die-leuen/) in my gedagtes. Ek lees van selfverliefdheid, grandiositiet, mense van die leuen en hoe jy uit so verhouding moet ontsnap. Hoe narsiste glo dat nét húlle en húlle sienings saakmaak. Hoe hulle weier om selfondersoek te doen. Hoe ons narsiste eintlik jammer kry, want binne is hulle “arm en leeg, innerlik beseer met ’n onversadigbare honger”.
Ek dink verder ook aan die NG Kerk waarvoor ek so lief is, die kerk waarin ek glo God my geroep het om te dien. Ek dink hoe mense links en regs die kerk verlaat – ontsnap! Skielik tref dit my: Miskien sien lidmate ons – predikante en leiers in die kerk – as ’n klomp narsiste! Dis hulle menslike instink om eerder te vlug. Niemand wil tog nié saakmaak nie. Niemand wíl geboelie word nie.
Dan onthou ek ook my studies, die verskynsel van “Holy Folly” en hoe ons op die regte manier “narre” kan wees vir Christus. Hoe, wat ons doen, vir die wêreld vreemd en selfs snaaks mag lyk, maar hoe ons onsself – ter wille van Christus – verneder. Hoe ons, ter wille van God se waarheid, sal opstaan en vasstaan in geloof. Hoe ons profeties moet wees in ’n wêreld waar God, die kerk en geloof ontheilig word – selfs al beteken dit dat ons téén die wêreld se aanvaarde norme, oortuigings en morele standaarde getuig, om sodoende weer ’n gevoel van die waarheid te kry. Vir die wêreld lyk ons soos narre. Ons is dan “anders”...
Dalk lyk ons tog soos ’n klomp narre vir die lidmate en die publiek? Sirkus narre. Dit wil voorkom of ons die nuus maak elke keer, omdat elkeen so erg behep is met hoe belangrik hy of sy kan/moet lyk. Die kerk, geloof, waarheid en God is lankal by die agterdeur uit.
Miskien is ons geboelie en gemanipuleer hierin deur patriargie. Miskien is ons selfbehep. Miskien moet ons Apartheid die skuld gee. Miskien is dit ons voorgangers in die kerk se skuld. Miskien is dit die Bybel se skuld. Miskien... het ons nie eers agtergekom dat ons self narsiste geword het nie... Miskien moet ons ernstig begin selfondersoek doen. In 2019 al het Francois raad voorgestel hiervoor (https://kerkbode.christians.co.za/2019/08/30/narsiste-in-gemeentes-kerk-mag-nie-onkundig-en-wereldvreemd-wees-nie/), maar natuurlik sal ’n klomp narsiste mos nie erken dat hulle ’n probleem het nie... Mag ek eerder ’n nar vir Jesus Christus wees.
Op 'n sosiale media groep, vra iemand die volgende vraag:
Waar in die Bybel self sê die Bybel: Sola Scriptura? Of dat die Bybel ditself uitlê?
My antwoord:
Verskoon die lang antwoord, maar ek het bietjie gaan lees oor wat oom Karl Barth hieroor geskryf het. Ek verstaan nou hoekom hy gesê het dat die mens se godsdiens in die pad staan van ons geloof en teologie. Indien ons enige van die ander 4 solas wil glo, moet dit deur God geopenbaar word. Die instrument vir die openbaring, is, soos reeds gesê, die natuur en die Skrif. Die openbaring van God deur die Heilige Gees is beide werklik en moontlik as ’n bepaling van die mense se bestaan.
Indien ons die kanon (wat “reël” of “reël van waarheid” beteken) aanvaar, bevestig ons dat die vroeë kerk dit aanvaar en bevestig het as iets wat alreeds gevorm en aan ons gegee is. Maar dan sê Barth ook: “Holy Scripture is the Word of God to the Church and for the Church. We are, therefore, ready to know what Holy Scripture is in the Church and with the Church. We do not regard ourselves as unrestrained in this matter or restrained only by our own direct knowledge of the rule of truth. Therefore we know that we have to listen to the Church in matters of the Canon, as we have also to listen to it at all points in matters of the exposition of Holy Scripture and faith and order. But even though it is in and with the Church that we ask what is that Holy Scripture which is the Canon given in the Church and forcing itself upon it by its own inspiration, we cannot take our answer from the Church but from Holy Scripture itself. We will not be obedient to the Church but to the Word of God, and therefore in the true sense to the Church.” (Barth, K. “The doctrine of the Word of God”, p.475)
Natuurlik gaan dit ook oor die bevestiging en getuienis van die ander solas:
“It has often been asked whether and to what extent the doctrine of Holy Scripture, and especially the proposition that of all the literature of the world, ancient and modern, we must recognise in these writings Holy Writings, is based on the Bible itself ? That this statement does correspond with what Holy Scripture teaches about itself rests first of all, and generally and indirectly, upon the uniqueness and contingency of the revelation attested in it. We can put it even more simply and say that it rests on the true humanity of the person of Jesus Christ as the object of its testimony. What else is the Bible but the proof of the existence of the historical environment of this reality and, to that extent, of the historicity of the reality itself ? But of all world literature it is only the Bible which offers this proof: or other literature offers it only because it has first been offered by the Bible. In general, therefore, the witness of Holy Scripture to itself consists simply in the fact that it is witness to Jesus Christ. And the knowledge of the truth of this self-witness, the knowledge of its unique authority, stands or falls with the knowledge that Jesus Christ is the incarnate Son of God.” (Barth, K. “The doctrine of the Word of God”, p.485)
Dit word verder bevestig in geloof, wat self ’n gawe van God is. Sonder geloof kan die aanname en oortuiging van die Skrif as Woord van God nie aanvaar of eers oorweeg word nie. (Barth, K. “The doctrine of the Word of God”, p.501-506) Die Bybel is Woord van God, omdat dit getuienis lewer en steeds God aan ons openbaar, deur onvolmaakte mense en ook deur onvolmaakte mense – onder opdrag en inspirasie van die Heilige Gees – neergeskryf is. Tog is ons geloof nie ’n voorwaarde vir die Bybel om Woord van God te wees nie. Die Bybel of Sola Scriptura eerder, as bron van gesag oor die Christen se lewe is bevestig in die inkarnasie van Jesus Christus en die manier waarop Hy self die Skrif gebruik het. As ons, die kerk (nie net protestants nie), Solus Christus glo, volg ons die voorbeeld en glo ons soos Hy geglo het.
So ja, die Bybel self sê nie dat dit Sola Scriptura is nie. Dit sê ook nêrens dat dit dit sélf uitlê nie, maar God self spreek en wanneer die Heilige Gees dit só aan ons openbaar. Barth: “When we say ‘by the Holy Spirit’ we mean, by God in the free and gracious act of His turning to us. When we say ‘by the Holy Spirit’ we say that in the doctrine of Holy Scripture we are content to give glory to God and not to ourselves.” (Barth, K. “The doctrine of the Word of God”, p.537)
Nog 'n brief gestuur aan die Kerkbode, maar nie gepubliseer nie.
Gehoorsaam tot die dood...
Baie van ons in die bediening dink altyd dat ons meer en meer moet doen en dat die werk net nooit sal ophou nie. In ’n mate is dit wel só – die goeie werke sal eers end-uit gevoer word en voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Fil. 1:6), maar hoeveel doen dit ten koste van familie, gesondheid, innerlike geluk en nog meer? Ons vat nie ons weeklikse “af-dag” nie, maar doen eerder die werk waarby ons andersins nie ongehinderd sal uitkom nie. Ons neem verlof, maar los die selfoon aan – net ingeval... Ons sê “ja” vir alles, want “nee” is “ongehoorsaamheid”.
Ek lees in hoofstuk 7 van Craig Groeschel se boek “The Christian Atheist” die volgende raak: “...God has done more through the church when I’ve done less.” Selfs Paulus het net nadat hy dit geskryf het en vir ’n oomblik op homself geroem het, dit besef (1 Kor. 15:10). Probeer ons nie soms (altyd) té veel doen nie? Probeer ons nie té sigbaar wees nie? Is ons (ongewilligheid om onsself en ons gewoontes te verander) nie dikwels wat in God se pad staan nie?
Ek sê nie ons moet terugsit en niks doen nie, maar eerder meer in lyn kom met God se wil vir ons bediening. Miskien moet ons meer begin vertrou dat God se wil beter is as ons (of ’n kerkraad) s’n? Miskien moet ons (en ons kerkrade / leiers) meer (of weer) begin luister na wat God van ons vra en aansluit waar die Heilige Gees reeds besig is met die uitbreiding van God se Koninkryk? Miskien moet ons minder fokus op kerk as instansie en meer fokus op kerk as lewende organisme?
Ek glo dat God se kerk – in welke formaat ook al – altyd sal bly bestaan en dat ons altyd met volharding die wedloop moet hardloop (Heb. 12). Ons moet egter onsself afvra: Ten watter koste? En: Watter wedloop is ons mee besig? Watter beloning soek/verwag ons?
Liewe kollegas in die bediening, my gebed vandag vir julle:
Mag God – nie ons nie – sigbaar wees in die werke wat Hy aan ons toevertrou het. Mag God alleen verheerlik word en mag ons minder probeer alles doen en vir God kans gee om te doen wat God wil. Mag ons kerk wees, soos Jesus dit beplan het. Mag ons bid. Mag ons meer attent wees op die stem van die Here en meer tyd maak om dit te hoor. Mag ons die Here vra om ons (en ons gemeentes se) harte te verander, sodat ons toegerus kan word om waarlik Sy hande en voete te wees. Mag ons besef dat ons stukkend is en daarom ook ’n hawe kan wees vir alle stukkende mense. Mag ons besef dat God gebreekte kruike gebruik en dat God alleen ons kan heelmaak. Mag die Lig wat nooit deur die donker uitgedoof sal word nie, deur ons skyn en God meer deur die kerk doen en ons minder. Mag God se kerk waarlik gehoorsaam wees aan God se wil – tot die dood... Mag die mens se eie wil nie die oorsaak daarvan wees nie...
Slegs 'n gedeelte van hierdie brief was gepubliseer deur die Kerkbode:
Die magstryd in die NG Kerk.
2020-11-05
Ek sit vanoggend en lees oor Goudland Sinode (waarheen ek binnekort verhuis) se siening oor SGV en die “ruimte” wat blykbaar oral geskep word. Ek luister vir ’n hele paar jaar al na lidmate se klagtes en sienings oor verskeie onderwerpe en opspraakwekkende gebeure in die NG Kerk waarvoor ek so lief is... My hart is seer. Ek het nie altyd antwoorde nie... Daarom probeer ek maar nou al die vrae en redenasies neerlê op skrif (’n gedeelte hiervan was ons huidige gemeente se antwoord op die 2019 SGV besluit). Miskien het iemand daar buite die antwoorde.
Meer as ’n jaar is verby ná die 2019 AS Sitting. Meer as 5 jaar sedert die 2015 sitting. 13 jaar sedert 2007... 34 jaar sedert die Ope Brief in 1986... Wat het verander in die NG Kerk? Niks. Dit is steeds ’n magstryd.
Lidmate – gewone mense wat nooit op ’n kerkraad wil dien nie – sien hoe die mense “daar bo allerhande dinge op ons bly afdwing.” “Wie het hulle baas gemaak?” “Nee wat, ek vat eerder my goed en loop.”
Ja, die hoofrede hiervoor is die alewige gestryery oor SGV, Belhar, ’n kerk téén Apartheid (wat nogsteeds moet jammer sê) en sogenaamde “liefdeloosheid.” Die gewone lidmaat weet nie eers dat daar nie eintlik ’n hiërargie (veronderstel is om te) bestaan in die NG Kerk nie. Hulle kan nie verstaan hoe ons dan nou gereformeerd is, maar dit lyk soos ’n Rooms-Katolieke regering! Ons “pous” en “biskoppe” het net ander titels...
Tydens die Algemene Sinode (AS) Sitting van 2019 (waarby ek self nie teenwoordig was nie) het ek ’n paar stellings gemaak en ’n paar vrae gevra in ’n brief. Tot dusvêr het daar nie regtig enige antwoorde gekom nie. Wanneer dit kom by SGV en die besluite van die AS in 2019 t.o.v. burgerlike verbintenisse, word gemeld (sonder om nou in al die detail in te gaan – raadpleeg maar self al die kerkordes) dat die 2007 besluite van die NG Kerk oor HUWELIK, PROMISKUÏTEIT EN SELFDEGESLAG VERHOUDINGS, steeds geldig is. Indien dit die geval is, weerspreek dit op sigself die hele besluit van 2019. Lidmate vra ook hierdie vrae... Hulle lees ook so nou en dan die kerkorde en Kerkbode...
Dit is duidelik dat die bewoording en formulering van die 2019 besluit geneem is in ’n poging om uit die “vasgelooptheid” weg te kom en te probeer om ’n middeweg vind. Die weerspreking van die argumente maak dat die besluit in dit sélf ongeldig is en weereens oop is vir tientalle interpretasies en/of toepassings. Dit maak lidmate deurmekaar. En kwaad.
’n Ander benadering en vrae wat gedurig opkom oor SGV: Indien gemeentes buite die RSA onderworpe is aan daardie land se wetgewing, wat is die eintlike rede dan vir die Algemene Sinode 2019 se besluit? Is dit RSA wetgewing? Is ons bang dat die regering gaan frons oor ons getrouheid aan die Skrif?
Ons eie grondwet sê dat ons die reg het op vryheid van godsdiens en geloof. Deur ons te dwing om sekere wette of gebruike deel te maak van ons identiteit en/of kerkorde, is eerstens teenstrydig met God se Woord, en tweedens is dit ongrondwetlik.
Daar word in die 2019 besluit en ook in ander dele van die ASM verslag baie gepraat oor menswaardigheid, maar daar het duidelik ’n verwarring ingetree met ons definisies van menswaardigheid en menseregte.
Om mense met menswaardigheid te behandel is ons Godgegewe opdrag, maar die verwestering van die samelewing en die verval van ons waardesisteme het tot gevolg dat daar te veel menseregte die lig gesien het en dat talle van hierdie “regte” pertinent net sekere individue of groepe bevoordeel, ten koste van die regte van ander. Dit word nie net op die terrein van selfdegeslag SGV gesien nie, maar ook só vir heelwat van die onderwerpe wat bespreek was by die Algemene Sinode 2019 (en elke dag in die kerk). Die verwarring tussen mensgemaakte wette oor menseregte en ons opdrag om mense met menswaardigheid te behandel, het gelei daartoe dat ons toegelaat het dat die mens en/of staat weer meer seggenskap het as die Woord van God – soos bewys in die hofsaak teen die 2016 Algemene Sinode besluit.
Waarom, na 34 jaar, is die meerderheid van die NG Kerk, ’n wit, Afrikaanse kerk? Waarom is daar nie behoorlike integrasie van al God se mense nie? Waarom is daar nie meer (behoorlike) vennootskappe nie? Is Apartheid weg? In die politieke kringe lyk dit nie so nie. Daar is diskriminasie. Dit het net omgedraai. Dalk... omdat die oorspronklike vorm nog heers in ons kerke (nie net NG nie)?
Wanneer ons al die bogenoemde in ag neem, asook die wydverspreide reaksie daarop, noop dit ons om ook die volgende vrae vra:
a. Indien daar nie ’n hiërargie bestaan in die vergaderings van die NG Kerk nie, waarom wil dit voorkom (vir meeste lidmate) of die Algemene Sinode (en selfs streeksinodes) vanuit ’n magsposisie dikteer aan die res van die kerk, terwyl “die res” nie daarmee saamstem nie? En nee, die ruimhuis-beginsel maak nie alles beter nie en is nie die antwoord nie.
b. Is die Algemene Sinode werklik ’n ware weerspieëling en verteenwoordiging van die NG Kerk se gemeentes wat op grondvlak verkeer?
c. Indien daar op ’n demokratiese wyse gehandel word in die vergaderings van die kerk, is dit die beste oplossing/voorstel waarop besluite geneem moet word? Veral wanneer dit blyk dat daar nie genoegsame verteenwoordiging van die oorgrote meerderheid is nie?
Reinhold Niebuhr het gesê: “Man’s capacity for justice makes democracy possible; but man’s inclination to injustice makes democracy necessary.” In ’n normale samelewing is hierdie baie waar. Ongelukkig is die resultaat van demokrasie en enige ander vorm van regering dat die gekose “geregtigheid” nie vir almal kan geld nie – daar is altyd iemand wat benadeel word. Slegs God se geregtigheid is volmaak.
In die NG Kerk heers demokrasie. Viva demokrasie! Viva! Mense word ingestem en mense word voorgestel om sinodes te verteenwoordig – tog besluit die sinodale moderamen uiteindelik (in ’n redelike mate) wie gaan na die AS toe. Vir sommige “normale lidmate” maak dit nie saak nie. Vir ander maak dit baie saak. Is daar regtig ’n magstryd? Daar is dan demokrasie. Dit heers... Ons moet dit maar net aanvaar...
Wat het geword van ons gereformeerde beginsels? Die 5 solas? Ek het dan gedink Jesus Christus moet heers in en oor Sy kerk...
Brief gestuur en gepubliseer op die webtuiste van die Kerkbode.
Mag die Here weer Sy kerk regeer
Ds. Christo Schoeman, van Marquard skryf:
Na aanleiding van ’n boodskap van een van my vriende en kollegas waarin hy tereg voel soos “kots in ’n tuimeldroër” na al die dinge wat tydens elke AS gebeur en hoe dit in die media verkondig word, deel ek sy (en vele ander se) pyn en ek voel ook só. Ek dink die NG Kerk moet, soos Nelis gesê het, nou begin aanbeweeg. Ons (ons almal wat verteenwoordig word – wil dit voorkom by die AS) hou heeltyd vas aan- en betwis en redeneer allerhande dinge wat óns dink so verskriklik belangrik is. Uiteindelik is dit óns agendas, óns kwellings, óns kerk se beeld in die publieke oog.
Wanneer gaan ons bietjie oor onsself kom? Wanneer gaan ons weer besef dat dit nie óns kerk is nie, maar dat ons bloot dienaars is in God se Koninkryk? Wanneer gaan ons weer ’n vergadering open in God se Naam – die Naam bo alle Name – en daadwerklik vir God toelaat om teenwoordig te wees en Sy wil te laat geskied. Dat Hý (of neig dit ook nou na patriargale spraak – sic) regeer? Dat Hy weet wat beter is? Dat Hy in beheer is van Sy kerk?
Met die hofsaak in die SGV geval, het ons nie weereens die fout van die verlede gemaak om te sê dat die staat nou seggenskap het bo die gesag van God se Woord nie? Het ons weereens verval in ons “ou maniere?” Dieselfde mense (met uitsondering van ’n paar “nuwe denkers”) sit alweer by die AS en dryf / stuur weer dieselfde agendas in dieselfde rigting. Ons voer dit aan – al te vroom – as dít wat God wil hê... Leer ons nie uit die foute van die verlede nie?
Ons spandeer en debatteer ure en dae in vergaderings oor Sinodale bydraes, gender gelykheid, gay mense en wie weet wat nog, terwyl daar heel moontlik net om die draai vanwaar die AS gehou word, honderde of duisende mense honger ly en haweloos is en dalk nog nie eers behoorlik weet waaroor presies hierdie hele “Evangelie” bohaai is nie. Ten minste slaap elke Sinodeganger snoesig en eet hulle lekker. Ten minste is hierdie meer knellende kwessie darem iewers op die agenda of in hulle agterkop iewers.
My een mentor het my gereeld (tydens my studies) die vraag gevra: “Hoekom dink jy, so laat in jou lewe, is jy geroep om in die NG Kerk (nie enige ander kerk nie) te dien?” My antwoord: “Want iemand moet baklei.” Sekerlik darem nie fisies nie, maar iemand moet iewers – al is dit maar net op grondvlak in ’n gemeente – begin opstaan vir wat reg is. Iemand moet begin sê: “Word wakker mense!” Ons is so erg verknog aan ons eie-ek, dat ons lankal nie meer deur God se oë hierdie wêreld en Sy kerk kan sien nie. Ons hou só erg vas aan wie of wat die NG Kerk was en wat óns dink ons identiteit moet wees, dat ons vergeet wie ons is en Wie s’n ons is.
Ek is moeg dat elke tweede lidmaat dreig om hulle goedjies te pak en ’n ander “kerk” te soek. Ek is moeg dat die media halwe waarhede en eie weergawes van besluite plaas en dat die NG Kerk se naam al meer en meer deur die modder gesleep word. Ek is moeg daarvoor dat daar in ons eie geledere leiers is wat dreig om af te stig en dat “kerkskeuring” eers in hul woordeskat is. My magtig man! Hierdie is God se kerk! Wie dink ons is ons dat ons dit wil beheer en regeer? Dat ons Hóm wil dreig met verdeeldheid en skeuring?
Ons het weer van God se kerk ’n wêreldse instansie gemaak. Iets wat duidelik nie werk nie. Hoe maak ons dit reg? Ek weet nie. Ek is net so gefrustreerd soos julle almal. Ek sien dat daar vanoggend by die AS gewandel is in die Woord met Jeremia 29:4-14 en ek wonder of ek die “guts” sou hê as ek daar was om te sê dat die volgende verse vir my uitstaan vir die NGK:
8 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie.
9 Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.
Mag die Here weer Sy kerk regeer. Nie ons nie. Ek is moeg.
Nog 'n onderwerp begin, maar nog nie verder daaraan gewerk nie...
DIE WATERSIKLUS VAN GOD SE LIEFDE
Hoe Om Te Oorleef In Vandag Se Dorre Self-Gesentreerde Wêreld
Deur
Christo Schoeman
Inleiding
Water. Daarsonder kan geen lewende organisme klaarkom nie. Of dit nou in ys-, gas- of vloeibare vorm is – niks wat leef op hierdie aarde kan daarsonder oorleef nie.
So ook is dit met God se liefde. Glo dit of nie, daar is niks in hierdie hele wêreld of in die heelal wat kan bestaan sonder die liefde en genade van God nie. Uit liefde, het God nog lank voordat tyd bestaan het, besluit om iets uit niks te skape[1]. Hy het dit só spesifiek en intelligent geskape dat dit uiteindelik – so wil dit voorkom – onafhanklik kan voortbestaan en ontwikkel. Of u in evolusie glo of nie, die bewyse van ’n super-intelligente skepping en self-instandhoudende skepping is oral sigbaar.
Tog het hierdie skepping op aarde een groot natuurlike afhanklikheid. As jy gedink het dit is die mens, dan het jy verkeerd geraai. Inteendeel, met bevolkingsgroei soos dit nou is, uitputting van natuurlike hulpbronne, onder-produsering van landelike behoeftes en nog vele meer elemente in die mengsel, is die mens eintlik (heel waarskynlik) die een ding waarsonder die aarde kan klaarkom. Nee, dis nie die mens wat nodig is vir die voortbestaan van die aarde nie: niks kan sonder water en suurstof klaarkom nie – veral water. Wag, laat ek myself eers korrigeer. Daar is wel in 2010 organismes gevind diep in die Middellandse See wat klaarblyklik sonder suurstof oorleef. Dit is ’n multi-sellulêre diertjie, genaamd Loricifera en die selle van hierdie diertjie bevat organelle wat in ’n mate dieselfde eienskappe van suurstof produseer wat nodig is vir lewe. Hoe ook al, dit het steeds water nodig en woon in water...
https://www.sciencemag.org/news/2010/04/scienceshot-animals-live-without-oxygen
Jy kan sien waarheen ek hiermee gaan... Water is ’n natuurlike vereiste vir lewe. Waar daar water is, is daar lewe. Sonder water is daar nie lewe nie. Maar hoe dan nou die vergelyking tussen God se liefde en water? Daar is dan soveel mense op hierdie aarde wat nie in God glo nie – en hul leef nog. Daar is ook soveel mense wat vyandig is teenoor God – en hul leef nog. Daar is soveel van ons wat soms twyfel in- en oor God se liefde – en ons leef nog. God se liefde kan tog nie ’n vereiste wees vir lewe op aarde nie! Of is dit?
In die res van hierdie boek wil ek graag (hopelik) aan jou verduidelik hoekom ek God se liefde so noodsaaklik soos water vir oorlewing sien. Ek gaan aan u verduidelik met behulp van die water-siklus hoe God se liefde altyd, oral is en hoe dit ons lewens beïnvloed, hoe ons soms sélf toelaat dat dit nie suiwer ingeneem word nie, hoe dit toegepas en (klaarblyklik) uitgedien en uitgeput word, hoe dit weer opleef en hoe dit weer self ook lewe voortbring.
Vir die doeleindes van verduideliking en om die uitleg en volgorde van die boek te verstaan, word die volgende voorstelling van die watersiklus gebruik gemaak. U sal sien dat elkeen van die elemente betrokke hier reeds analogies vergelyk word met moontlike elemente binne ons geloofslewens, die kerk en die wêreld.
In elke hoofstuk sal daar in meer detail na elkeen van die stappe gekyk word, asook hoe interne en eksterne faktore dit beïnvloed en hoe dit uiteindelik die hele siklus en die water self beïnvloed.
Hierdie boek is nie ’n vinnige antwoord op al die lewe se moeilike vrae nie, maar hopelik sal dit jou help om te besef dat jy vir God só nodig het, soos jy water nodig het om te oorleef. Hopelik sal dit ook in jou ’n nuwe hoop en verstaan aanwakker oor hoe God se liefde veronderstel is om oor- en in jou en die hele aarde te vloei.
Hoofstuk Een: Die Bron van Water
Waar kom water vandaan? As ons tegnies en wetenskaplik daaroor moet nadink, kan ons seker sê dat dit ontstaan het vanuit die samestelling van waterstof en suurstof wat ons in ons atmosfeer kry. Dit is dus ’n chemiese reaksie. Maar... waar het die waterstof en suurstof ontstaan? Is dit alles die gevolg van miljoene jare se evolusie na die “Big Bang”? Of was dit maar altyd daar? Wat van reën? Was reën eerste of was die see eerste daar? Indien wel, hoe het die see ontstaan as daar nie reën of riviere was nie? Het die water dalk uit die aarde gekom? Indien wel, hoe het die ontstaan?
Sjoe, hierdie tipe denke en gedagte patroon is genoeg om mens ’n kopseer of ’n geval van vertigo te gee! Laat my nogal dink aan die hoender en eier vraag... Maar goed, kom ons los dit eers daar en kyk na ’n alternatiewe benadering:
As ons werk vanuit die aanname (of geloof) dat God alles uit niks geskape het nie, kan ons aanneem dat die waterstof en suurstof ontstaan het toe Hy alles geskape het. Hy het dit só intelligent gedoen dat die twee stowwe met mekaar begin meng het en uiteindelik water gevorm het. Dit was so ’n wonderlike skepping dat dit aanhou reageer het en uiteindelik so vermenigvuldig het, dat dit die aarde heeltemal gevul het. Later het God besluit dat die waters geskei moet word, want die mens moet nog kom en ons het droë grond nodig om te lewe. Eers was die waters van die aarde en dié van die hemel geskei en daarna het die waters op een plek versamel, sodat daar droë grond vir ons mens kan wees.[2]
Vir die “prentjie-brein” mens, maak hierdie tweede verduideliking baie meer sin en is dit baie meer aanvaarbaar en ontvangbaar as die eerste logiese benadering. Tog, vir die “logiese brein” mens, is die eerste benadering redelik aanvaarbaar, al kan dit dalk net in ’n sekere mate bewys word. Wat wel duidelik is, is dat die werklike oorsprong of die bron van die water nie bepaal kan word nie. In beide gevalle, is die bron vir ons ontoeganklik – omdat ons nie daar was toe alles begin het nie. Ons kan nie verstaan hoe en waar en wanneer nie. Die bron – die heel oorspronklike bron – bly ’n misterie.
En presies net so, is dit met God en God se liefde. Beide is ’n misterie...
[1] Hebreërs 11:3 sê: “Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.” Dus het God uit niks uit, alles laat ontstaan. Of ons nou glo in die “Big Bang”, evolusie, intelligente ontwerp – of nie, die Woord leer ons dat God die Skepper is wat alles uit niks geskep het.
[2] Genesis 1
Die volgende het ek begin skryf as inleiding tot 'n boek wat ek graag eendag wil voltooi, maar wanneer... dit weet ek nog nie...
Inleiding
“Power tends to corrupt and absolute power corrupts absolutely.”
– Lord John Dalberg-Acton
“Man’s capacity for justice makes democracy possible; but man’s inclination to injustice
makes democracy necessary.” (Niebuhr, 2011: XXXII)
Geskiedenis herhaal gedurig en by wyse van spreke is die mens ’n produk van sy/haar eie toedoen. Alles wat ons doen, het ons al gedoen. Die foute van die verlede word deurgaans herhaal en die mens leer net nie uit ons verlede nie. As historikus het Lord Acton bloot ’n historiese weergawe gegee van hoe die mensdom deur die eeue heen misbruik gemaak het van magsposisies en hoe selfs die beste van mense slagoffer geword het van wat Reinhold Niebuhr toeken aan die sondigheid van die mens. Tog was Niebuhr meer optimisties oor politieke mag en spesifiek die soeke na geregtigheid in moderne samelewings.
Deesdae is ons nie meer in ’n moderne samelewing nie. Sommige meen dat ons in ’n post-moderne era is en ander reken ons is al verby dit en dat ons in ’n post-post-moderne tydperk ingegaan het. Hoe ook al, die mens soek deesdae oral vir antwoorde vir baie moeilike vrae. Ons soek na identiteit. Ons word geleer dat ons uniek is en dat ons nie saamgesleep moet word in die samelewing se groepsdruk nie. Ons is mos individue... Dit het weer tot gevolg dat ons só divers is in ons uniekheid, dat ons elkeen op ons eie staan en elkeen vir onsself en ons eie waardes “baklei”. Uiteindelik is ons – onwetend – weer deel gemaak van ’n groep: die individue – die mense wat almal dink hulle is besig om só anders te wees, maar in hul andersheid, is hulle almal dieselfde...
Ons maak staat op ons menseregte, want dit is mos regverdig. Ons is geregtig daarop. Ons is geregtig op alles wat ons wil. Dit is wat ons mens maak! Uiteindelik weet ons nie meer wat ons wil hê nie. Depressie is die orde van die dag in talle huishoudings (meeste kere onwetend) en ons individualisme sorg dat ons eintlik alleen is. Wanneer iemand skielik op ’n verhoog sê dat hy opstaan vir Afrikaans, begin dit skielik iets in ons aanwakker en ons dink dat dit die ontbrekende skakel in ons identiteit is. Ons vergeet sommer gou dat om Afrikaans te praat en om neigend polities regs te wees, eintlik twee verskillende dinge is. Ons begin weer terugverlang na die Apartheidsjare, toe “dinge darem nog gewerk” het. Ten minste het “almal hul plek geken”... Weereens, dit alles is al ou nuus. Dit het al gebeur en sal seker weer gebeur.
In hierdie boek, word daar kortliks gekyk na etlike aspekte wat Reinhold Niebuhr deur die jare, as etikus, op gefokus het. Niebuhr se benadering tot geregtigheid en die toepassing daarvan vanuit ’n Christelike perspektief word spesifiek bestudeer, met die oog op die situasie wat tans (eintlik sedert die laat 1980’s) in Suid-Afrika heers.
In die 1990’s het talle Suid-Afrikaners gepraat van die “gravy train” en het veral wit Suid-Afrikaners gemeen dat die destydse nuwe regering bloot “geskep” het vir hulleself en die res van die land moes krepeer van ellende. Aan die ander kant was daar diegene wat gemeen het dat die wittes kla met ’n witbrood onder die arm. Die prentjie wat deur die media geskets was (en steeds geskets word) is uitermatig eensydig en skep talle kere sensasie wat natuurlik help met die verkoop van hul koerante en tydskrifte. Tog kan ons nie die verhale wat vertel word ignoreer nie, want in die huidige Suid-Afrika in 2019, 25 jaar nadat demokrasie “geseëvier” het, is daar nogsteeds menigtes wat onder die broodlyn lewe – wit en swart. Daar is deurgaans berigte oor korrupsie in die regering en oraloor. Misdaad is aan die toeneem en mense het nie meer respek vir die reg nie. Ongeregtigheid seëvier. Nie demokrasie nie.
Die vrae ontstaan: Het demokrasie tot sy volle wording gekom of het dit gefaal? Indien demokrasie nog in wording is, wat verhoed die groei? Is die mens se neiging tot ongeregtigheid die rede, soos Niebuhr beweer, dat daar nie behoorlike geregtigheid geskied nie? Kan en/of moet die kerk betrokke raak, as ons in gedagte hou die flaters van die verlede?
Hierdie vrae en nog talle ander moet gevra word in ’n demokratiese land waar dit blyk of die kerk (spesifiek die NG Kerk) aan die krimp is. In talle Sinodes en op Ring-vlak wil dit voorkom of die kerk begin besef het dat hul roeping meer en meer gemik moet wees op die mense, die gemeenskappe in die land. Dit is die mening van die student dat kerk en politiek nie een moet wees nie, maar dat die kerk verseker ’n rol moet speel vanuit die vorming en toepassing van sosiale etiek. Reinhold Niebuhr het deur sy lewe talle verskillende standpunte ingeneem hieroor en dit is juis daarom dat sy werk só ’n belangrike rol kan speel. Soos Dorien (2011:x) dit stel: “There were a few constants among all the changes. Niebuhr took for granted the activist orientation of the Social Gospel, even as he denounced Social Gospel idealism. He was deeply political, for which he never apologized; if people suffered because of politics and economics, Christian ethics had to deal with politics and economics.”
Vanuit ’n teologiese perspektief gaan daar in hierdie boek gefokus word op die teologiese benadering tot demokrasie en geregtigheid volgens Reinhold Niebuhr en hoe dit toegepas kan/moet word binne ’n demokratiese samelewing om sodoende die soeke na geregtigheid moontlik weer op die regte spoor te kry.
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word - net soos dit is - om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Geen geredigeerde (edited) weergawes mag as jou eie voorgedoen word nie asseblief.
Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
© 𝒟𝓈. 𝒞𝒽𝓇𝒾𝓈𝓉ℴ 𝒮𝒸𝒽ℴℯ𝓂𝒶𝓃
(Alle Bybeltekste (behalwe vir die Boodskap - hier en daar gebruik) is verkry vanaf die Bybelgenootskap se webtuiste vir die Bybel: https://biblesa.co.za/ .)