Hieronder is 'n lys van vorige oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-04-03 – Lydenstyd Dag 40 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” ” – Matteus 28:19-20 AFR20
Hoe sluit ons hierdie 40 dae af? Hoe maak ons ’n slot stelling wat met ons gaan bly? Dit moet darem iets wees wat ’n impak gaan maak.
Terwyl ons Stil Saterdag deurbring, en in ons agterkoppe dink aan Jesus in die graf, weet ons dat môre Sondag is. Opstanding Sondag! Daarom, met die goeie nuus van al die Paas gebeure vars in die geheue van sy lesers, sluit Matteus sy evangelie af met die woorde: “En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”
Miskien, met die eerste oogopslag, lyk dit dalk nie soos die mees indrukwekkendste of onvergeetlike sin nie. Tog kies Matteus om die boek daarmee af te sluit, wat die beduidende betekenis daarvan aanspreek.
Die dissipels sou vir seker intense vervolging deurmaak oor die volgende paar maande wat sou kom. En Jesus het hulle verseker dat Hy daar sal wees saam met hulle – tot die bittereinde toe.
Fisies sou Jesus opvaar na Sy Vader, maar Hy stuur Sy Heilige Gees wat vir altyd in Sy dissipels sal woon.
Dit was ’n belofte vir die dissipels. En dit is ’n belofte vir ons vandag. Jesus is altyd met ons deur Sy Heilige Gees wat in ons woon. Altyd en vir ewig!
Om oor te dink:
In watter situasies moet ek onthou dat Jesus by my is? Hoe sal dit die situasie verander? Of, hoe sal dit my verander om die situasie beter te hanteer?
Gebed:
Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees! Ek aanbid 'n wonderlike en almagtige God. Ek aanbid ook ’n God wat my lief genoeg het om by my te wees. Altyd. Tot die einde toe. U sal my nooit verlaat of alleen los nie. Dankie liewe Heer. Ons sien uit na môre. U het reeds oorwin. Ek loof U en ek prys U, in die Naam van ons Verlosser, Jesus Christus. Amen
2021-04-02 – Lydenstyd Dag 39 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 16Die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waarheen Jesus hulle ontbied het. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel. 18Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” ” – Matteus 28:16-20 AFR20
Op hierdie Goeie Vrydag, terwyl ons dink aan al die hartseer en pyn van die dag, dink ons ook aan die vreugde en vrede wat ons kan ervaar in die Kruis en ook die leë graf. Ons dink aan ons plig wat daaruit voortspruit. Die teksgedeelte wat ons gelees het, is bekend as “Die Groot Opdrag.” In Engels is dit “The Great Commission” en is dit nogal ’n gepaste opskrif, tog wonder ek of dit ten volle Jesus se opdrag aan die dissipels omsluit.
Ons dink so dikwels aan hierdie teksgedeelte as ’n oproep om die goeie nuus te deel as iets wat buite ons normale daaglikse lewe is. En, terwyl dit wel so is, is dit ook ’n roeping om te dien en onsself te gee. Dit is uiteindelik ’n natuurlike uitbreiding van ons lewens in Christus.
Die Desiring God webtuiste stel dit só (vertaal in Afrikaans): Wanneer ons lewe in Jesus gesond en lewendig is, wil ons nie net ons wortels diep in Hom laat groei nie, maar sal ons ook ons takke uitspan en Sy goedheid uitreik na ander.
Om dissipels te maak, is meer as om net die waarheid te praat. Dit beteken dat ons ons lewens deel, soos Paulus ook skryf in 1 Thessalonicense 2:8: “..so het ons dit goedgedink om nie net die evangelie van God aan julle mee te deel nie, maar selfs ook ons eie lewens – omdat julle vir ons geliefd geword het.”
Die goeie nuus is deel van ons lewens – wie ons is in Christus. As ons is wie ons is in Hom, word die uitdeel daarvan, ’n uitbreiding van wie ons is. Dis Goeie Vrydag. Die Kruis staan sentraal in ons lewens. Deel dit.
Om oor te dink:
Wie plaas die Here op my hart, met wie ek Sy waarheid moet deel? Deel ek myself met ander en laat ek die Evangelie toe om ’n uitbreiding te wees van my lewe in Christus?
Gebed:
God van liefde, ek dank U vir U genade teenoor alle sondaars. Veral ’n sondaar soos ek. Dankie dat ek die goeie nuus kan deel uit die oorvloedige vreugde en vrede wat U in my lewe gestort het. Ek is geseënd om ’n seën te wees vir ander. Amen
2021-04-01 – Lydenstyd Dag 38 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 11Terwyl die vroue op pad was, het enkele van die wagte na die stad gegaan en alles wat gebeur het, aan die leierpriesters berig. 12Die leierpriesters het toe met die familiehoofde bymekaargekom, en 'n besluit geneem om 'n groot som geld aan die soldate te gee, 13met die opdrag: “Sê, ‘Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.’ 14En as die prokurator daarvan te hore kom, sal ons hom gerusstel en sorg dat julle nie in die moeilikheid beland nie.” 15Hulle het die geld toe geneem en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode versprei. ” – Matteus 28:11-15 AFR20
Die grootste bedrog en toesmering ooit. Dit was wat Jesus se vyande probeer het. Hulle bedink ’n slinkse plan, koop soldate om en begin gerugte versprei deur ’n uitgebreide en magtige netwerk.
En tog, ironies genoeg, ten spyte van hulle invloed en listigheid, het die leierpriesters en hulle gevolg – deur hul misleidende plan en al – aanvaar dat die graf leeg is.
Hartseer ding is: vandag glo mense nogsteeds hierdie leuens... Maar mense kan probeer net wat hulle wil om van die waarheid weg te kruip of om dit weg te steek. God het altyd die laaste woord. Hy is soewerein, alwetend, almagtig. Hy is God. God se waarheid seëvier altyd. Sy waarheid maak ons vry.
Die enigste manier vir ons om die waarheid te ken, is nie net die oorweldigende bewyse dat die opstanding histories akkuraat was nie: Die enigste manier waarop ons die waarheid kan ken en ten volle oortuig kan wees daarvan, is om ’n persoonlike verhouding met Jesus te hê.
Om oor te dink:
Probeer ek ook om weg te kruip van die waarheid deur my “te besig wees” of my afleibaarheid? Het ek ’n persoonlike verhouding met Christus wat my oortuig van die waarheid?
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir U soewereiniteit. Ondanks die korrupsie en verdraaiing van die huidige wêreldstelsel en die magte wat daar is, regeer U as oorwinnaar. U waarheid sal seëvier. Ek glo en ek is oortuig daarvan dat ek U kan vertrou en altyd op U steun. Amen
2021-03-31 – Lydenstyd Dag 37 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 8Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. 9Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom. 10Daarop sê Jesus vir hulle: “Moenie langer bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea moet gaan – daar sal hulle My sien.” ” – Matteus 28:8-10 AFR20
Soms gebeur daar iets waar jy twee keer moet kyk. Jy kan amper nie glo wat jy sien nie! Die vroue by die graf kon amper nie glo wat hulle sien nie. Eintlik, kon hulle amper nie glo wat hulle nie sien nie. Daar was geen liggaam in die graf nie. Die engel het hulle vertel dat Jesus opgestaan het uit die dood. Kon dit waar wees? Hulle het gehardloop om die dissipels te gaan vertel, ’n mengelmoes van vrees en blydskap (en sekerlik baie adrenalien) het deur hulle are gepomp.
En dan ontmoet Jesus hulle. Hierdie vroue was dalk nog nie heeltemal op die regte plek in hul geloof nie. Die Skrif sê hulle was nog bevrees. Maar, Jesus ontmoet hulle net daar waar hulle is. Hy het nie gewag vir ’n oomblik wanneer hulle eers “genoeg geloof” het nie. Hy het hulle nie beoordeel (en veroordeel) volgens menslike geloof-standaarde nie. Hy ontmoet hulle, terwyl hulle nog probeer sin maak van alles wat hulle ervaar het.
Al wat die vroue as antwoord kon bied, was om neer te val en Hom te aanbid.
Om oor te dink:
Voel ek ook soms of ek eers die “perfekte lewe” en “perfekte geloof” moet hê, voordat ek ’n regte verhouding met Jesus kan hê? Wat is my reaksie as Jesus my ontmoet in my tyd van nood?
Gebed:
Heilige God van genade, ek kom na U toe in aanbidding omdat U my ontmoet net waar ek is. U ken my hart en U weet ek sal dinge nooit 100% regkry nie. Maar dit is hoekom U U Seun gestuur het om vir my te sterf – want ons almal het gesondig en ons almal ontbreek U heerlikheid. Dankie, Here. Amen
2021-03-30 – Lydenstyd Dag 36 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 5Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, ” – Matteus 28:5-6 AFR20
By die leë graf, groet die engel die vroue. “Moenie bang wees nie.” Dit is woorde wat ons so dikwels in die Woord vind, en as ons dit hoor, behoort daar in ons binneste iets te gebeur. Ons behoort God se vrede in onsself ook te ervaar. Maar, in die ander woorde van die engel is daar ook ’n dieper waarheid wat in ons moet resoneer.
Die engel is nie sommer net daar nie. Hy is nie daar om mense te verwelkom by een of ander uitstalling nie. Sy insiggewende opmerking aan die vroue is so treffend: “...ek weet julle soek Jesus...”
Op een of ander manier, soek ons almal nie vir Jesus nie? Ons is immers almal soekers op hierdie mallemeule lewensreis. Party van ons het Jesus gevind, maar vind nogsteeds maniere om Hom nog meer te ontdek elke dag. Sommige van ons moet nog die soete vreugde ontdek wat daar is om Hom waarlik te ken.
Hoe dit ook al sy, die antwoord lê in die leë graf. Hy is die Opstanding en die Lewe vir almal wat Hom soek.
Die engel nooi die vroue om te “kom kyk.” Elkeen wat soek, ontdek vir Jesus deur ’n persoonlike ervaring. Dit moet ’n een-tot-een transaksie wees: my sonde vir Sy vergifnis. Ek moet na Jesus toe kom, net soos ek is, sonder enige pleidooi, want Sy bloed was gestort vir my.
Om oor te dink:
Waar is ek op my reis? Soek ek nog vir God? Moet ek ook “kom kyk”?
Gebed:
Vader, dankie dat U ’n Gods-vormige vakuum in my hart geskep het. Niks wat ek het en niks wat ek doen, kan daardie leemte vul nie. So, ek kom eenvoudig net na Jesus toe. Amen
2021-03-29 – Lydenstyd Dag 35 (Kliek hier vir die klankgreep)
Normaalweg, kyk ons in hierdie groot Lydensweek na die laaste paar dae en veral die laaste ure voor die kruisiging, maar omdat ons alreeds dit deurgewerk en daaroor reflekteer het – en ook omdat ons weet dat Sondag kom – spring ons vooruit met groot verwagting, terwyl ons steeds reflekteer oor die gebeure van hierdie week – alles wat vooraf gebeur het sodat ons kan hoop. Ons dink ook aan al die dinge wat Jesus kom uitdaag het in hierdie tyd wat ons saam met Hom deurgemaak het.
“ 1Ná die Sabbat, teen dagbreek op die eerste dag van die week, het Maria Magdalena en die ander Maria gegaan om na die graf te kyk. 2Skielik was daar 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal, nadergegaan, die steen weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu. 4Uit vrees vir hom het dié wat die graf bewaak, gebewe en soos dooies geword. 5Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, 7en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” 8Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. ” – Matteus 28:1-8 AFR20
Die bemagtiging van vroue is nie ’n nuwe ding nie. Reeds van die Skepping af, het God dit eintlik so beplan: Hy het tog vir Adam ’n gelyke gemaak in Eva, maar natuurlik om ’n ander rol te vervul. Tog, in vandag se teksgedeelte, sien ons hoe God die sosiale norme van die tyd sommerso van die hand wys en bewys Hy waarom Hy gekom het om tot vandag toe nog die sosiale aanvaarbaarheid uit te daag.
Dit was geen toeval dat die vroue die leë graf ontdek het nie. Dit was deur God so georden. Dit was God wat ons herinner dat vroue kosbaar is in Sy Koninkryk. God het die wêreldorde, sonder enige moeite, omgekeer.
Volgens die kultuur van daardie tyd, moes vroue nie eers gesien of gehoor word nie. Maar God herstel hulle tot hul regmatige plek as belangrike deelnemers in Sy Koninkryk. Hy gee die vroue by die graf die wonderlike opdrag om Sy eerste getuies te wees.
Om oor te dink:
Sien ek vroue (dalk myself – as jy vrou is), as instrumenteel en belangrik in God se Koninkryk op aarde?
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir die ereplek wat U aan vroue in U Woord gegee het. Dit lyk soms vandag nogsteeds asof vroue veg om gehoor en gesien en erken te word. Maar ek dank U dat U ons almal sien, U hoor en U bemagtig ons almal – in ons verskillende rolle – met belangrike werk vir U koninkryk. Amen
2021-03-27 – Lydenstyd Dag 34 (Kliek hier vir die klankgreep)
Terwyl ons in hierdie Lydenstyd nog worstel met allerhande vrae oor ons eie menswees, uitdagings, moeilikheid en die wêreld, gaan ons onsself herinner in die laaste dae – tot op daardie wonderlike Paassondag – waaroor al hierdie dinge gaan. Waarna ons uitsien vandag en elke dag.
“ 5Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, “ – Matteus 28:5-6 AFR20
Die graf is leeg. Dood kon Hom nie hou nie. Hy het opgestaan. Ons God het die sonde en die dood oorwin.
Ons oordink hierdie gedagte met die woorde van die lied, “In Christ Alone” – ek het dit bietjie aangepas vir ons wat Afrikaans is:
Sy liggaam was neergelê daar in die graf
Lig van die wêreld deur donkerte gedood
Toe breek aan die heerlike, hemelse Dag
Uit die graf staan Hy op en gaan voort
En in oorwinning staan Hy en gaan na vore
Sonde se greep oor my is verlore
Want ek is Syne en Hy is my God
Christus se bloed bepaal nou my lot
Geen skuld in lewe, geen vrees in dood
Dit is Christus se krag in my ingedring
Van geboorte, tot my laaste asem voorts
Jesus bepaal vir altyd my bestemming
Geen helse mag of mense planne gemeen
Kan my ooit ruk vanuit Sy hand
Tot Hy terugkeer of my huis toe neem
Hier in die krag van Christus, neem ek stand
Daardie selfde opstandingskrag is aan die werk in ons vandag!
Om oor te dink:
Glo ek dat Christus se opstandingskrag in my werk deur die Heilige Gees? Besef ek dat ek kan opstaan van enige mislukking en enige terugslag?
Gebed:
Almagtige God, U het die graf oorwin en ook die sonde. Eens en vir altyd. Leer my om te leef in die wonderlike lig van U offer en die krag van U opstanding. Amen
2021-03-26 – Lydenstyd Dag 33 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ Die volgende dag – dit is die dag ná Voorbereidingsdag – het die leierpriesters en die •Fariseërs by •Pilatus byeengekom en gesê: “Meneer, ons het onthou dat toe hy nog geleef het, daardie bedrieër gesê het, ‘Ná drie dae sal Ek weer opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot op die derde dag beveilig word, sodat sy dissipels hom nie gaan steel en vir die volk sê, ‘Hy is opgewek uit die dood!’ nie. Die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. ” Pilatus het vir hulle gesê: “Julle kry 'n wag van soldate. Gaan beveilig die graf soos julle goeddink.” Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wagte daar te plaas. ” – Matteus 27:62-66 AFR20
Kan julle glo: een dooie Man, elf dissipels wat almal gevlug het van die toneel af, en ‘n paar vroue wat so in die agtergrond rondhang... Op een of ander manier, is hierdie mengelmoes groepie ‘n bedreiging vir leierpriesters, die Fariseërs, en selfs vir Pilatus.
Onsekerheid het skielik al hierdie mense oorval – hulle almal wat so seker was hulle doen die regte ding om Jesus te kruisig. Hulle tref skielik ekstra maatreëls om Jesus se graf te bewaak. Maar ons almal weet mos hoe dit uitgedraai het. As God verklaar dat die graf leeg is, is die graf leeg.
Daar is niks wat ooit God se planne in die wiele kan ry nie. Geen wapen wat teen ons gesmee word, sal slaag nie. Selfs in dood, is daar oorwinning vir ons. God kom altyd Sy beloftes na. Alreeds vanaf die begin van Genesis, is daar meer as 300 profesieë oor die lewe, dood en opstanding van Jesus. God het hulle almal vervul.
God hou Sy Woord. Niks kan in Sy pad staan nie.
Om oor te dink:
Waar is my fokus vandag? Is dit op my doodloop of moedelose omstandighede, of op my God wat die die dood oorwin het?
Gebed:
Almagtige God, ek is dikwels geneig om ontnugter te word deur toe deure en doodloopstrate. My oë sien net wat voor my lê: ek staar soms vas teen die magte hier wat al hoe sterker word. Help my om te glo dat alles ten goede meewerk vir diegene wat U liefhet en wat deur u geroep is. U is 'n God wat Sy Woord hou. Amen
2021-03-25 – Lydenstyd Dag 32 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was. Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word. Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. ” – Matteus 27:57-60 AFR20
In hierdie gedeelte vind ons ‘n ryk, invloedryke en magtige man op die toneel. Josef van Arimatea was ‘n lid van die regeringsraad gewees. Hy het heel moontlik in hierdie stadium van sy lewe alles in plek gehad en goeie vooruitsigte vir sy loopbaan en toekoms gehad: rykdom, mag, aansien en invloedryk.
Tog plaas hy alles op die spel vir Jesus. Hy waag selfs sy reputasie. Hy kom vorentoe en tree op in ‘n tyd waar alles nog baie gevaarlik is, wanneer hy nog verneder kan word, selfs gestraf word. Maar Josef van Arimatea soek nie en maak nie verkonings nie. Hy vertoon sy liefde deur sy aksies.
Daar kom verseker ‘n tyd in jou lewe en in myne, wanneer ons geroep word om uit ons gemaksones te klim en iets groot en dapper vir God moet doen. Dit mag dalk beteken dat ons ‘n groot risiko neem wat ons nooit onsself kon indink ons sou neem nie. Maar wanneer God ons roep, rus Hy ons toe daarvoor.
Om oor te dink:
Wat vra God van my vandag? Kan ek waarlik Sy stem hoor bó die kakofonie van my lewe? Is ek bereid om ‘n groot tree uit my gemaksone uit te gee vir Hom?
Gebed:
Hemelse Vader, help my om te onthou en aangemoedig te word deur die feit dat U genade genoeg is vir elke situasie. Ek is soms gemakliker om op die kantlyn te staan of in die skaduwees weg te kruip in my geloof. Om eerder terughoudend te wees en te verkies om nie 'n risiko te neem nie. Maar U het my nie geroep om gemaklik te wees nie. U het my geroep om my kruis op te neem en te volg. Ek bid, Here, dat U Gees my sal oortuig en bemagtig. Amen
2021-03-24 – Lydenstyd Dag 31 (Kliek hier vir die klankgreep)
" Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik •Seun van God.” " – Matteus 27:54 AFR20
Die omvang van Jesus se kruisiging was selfs weerspieël in die natuur. Duisternis het die land bedek, die aarde het erg geskud, rotse het oopgebreek.
Daar was geen manier dat iemand wat dit alles aanskou het, al hierdie tekens as sommer toevallig kon verklaar nie. Die natuur het die verwoesting van die oomblik geëggo.
Die hoofman oor 'n honderd en sy makkers - 'n hele klomp van die mense wat Jesus so lekker gespot en verniel het - snak verskrik na hul asems toe hulle uiteindelik besef dat Jesus waarlik die Seun van God is.
Maar om daardie feit te erken en 'n mens se geloof in Jesus te stel, is twee heeltemal verskillende dinge. Trouens, selfs Satan erken dat Jesus die Seun van God is. Wat jy met die erkenning doen, is wat jou lewe hier en vir altyd bepaal.
Die natuur getuig nog altyd van die heerlikheid en krag van God. In Romeine 1:20 (AFR20) skryf Paulus: "Want Sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in Sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging;"
Laat ons dus nie ophou om uit te roep nie: “Hy was werklik Seun van God.” Kom ons sê elke dag met vreugde dat hy sekerlik en waarlik my God is.
Om oor te dink:
Wat doen ek met my kennis van God? Verander dit die manier waarop ek leef?
Gebed:
Genadige God, soms raak ek vasgevang in kopkennis. Dit vertaal nie in harte kennis – wat ek in my hart weet die waarheid is – nie. Ek laat nie altyd toe dat U waarheid my verander nie. Vergewe my dat ek soms gevoelloos en onverskillig is oor U Woord. Amen
2021-03-23 – Lydenstyd Dag 30 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 50Toe het Jesus weer met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. 51En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. ” – Matteus 27:50-51 AFR20
Wat ’n ongelooflike dramatiese oomblik was dit nie! Die voorhangsel in die tempel was in twee geskeur.
Hierdie voorhangsel – wat die Allerheiligste deel, waar net die priesters toegelaat was, geskei het van die aanbidders – was ’n baie swaar materiaal gordyn gewees. Volgens historiese rekords, was dit tussen 14 en 18 meter lank en sowat 10 sentimeter dik gewees. Dit was nie ’n dun en gewone stukkie materiaal gewees nie. En dit het van bo tot onder geskeur!
Hierdie bonatuurlike daad het vir ons – ’n stukkende en sondige mensdom – die reg gegee om in die Allerheiligste in te gaan en weer ’n verhouding met God te hê.
Miskien moet ons onsself bietjie afvra agter watter tipe gordyne of sluiers ons wegkruip. Wat keer ons om in ’n heilige, intieme gemeenskap met God te verkeer?
Is ons verlede dalk te troebel? Of moet ek eers sekere “dinge” in orde kry? Is my sluier of gordyn dalk dat ek nog te lief is vir wêreldse dinge?
Ons moet glo dat die voorhangsel reeds geskeur is. Hebreërs 10:19-21 sê vir ons dat ons die heiligdom kan ingaan deur die bloed van Jesus, deur die nuwe en lewende manier waarop Hy dit vir ons geopen het, met Sy liggaam. Hoor wat staan daar:
“ 19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, 20langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het 'n groot Priester oor die huis van God. ” – Hebreërs 10:19-21 AFR20
Jesus se liggaam is afgebreek, sodat almal toegang kan hê tot die Allerheiligste in God se teenwoordigheid.
Solank ons vir onsself die voorhangsel toehou, sal ons nie God in al Sy glorie kan aanskou nie.
Om oor te dink:
Wat keer my om die Allerheiligste te betree? Agter watter gordyn kruip ek weg? Kan ek God se troon van genade met vertroue nader?
Gebed:
Dankie, Hemelse Vader, dat U ons so liefgehad het, dat U U enigste Seun gegee het. Dankie dat Jesus vir ons die voorhangsel geword het wat geskeur was, sodat ons toegang het tot die Allerheiligste. Dankie dat ons in U teenwoordigheid mag wees. Amen
2021-03-22 – Lydenstyd Dag 29 (Kliek hier vir die klankgreep)
Soos ons die gedeelte van Jesus se woorde aan die Kruis afsluit, is dit dalk goed om vir ’n oomblik eers hier stil te staan. Tyd om te mediteer op die Woord van God.
Meditasie is nie een of ander vreemde heidense gebruik nie – nie as dit reg gedoen word nie. Hoor wat sê Psalm 1:1-2 (AFR83):
“ 1Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink. ”
Om te mediteer beteken om diep na te dink in en oor die Woord wat in ons harte leef. Dit is wat die psalmdigter hier bedoel wanneer hy sê “Dit gaan goed met die mens” “wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.”
Dit is ook die rede waarom ons met elkeen van hierdie dagstukkies tyd neem om na te dink oor sekere dinge. Neem vandag die tyd om weer na te dink oor die laaste woorde van Jesus wat ons in die laaste 7 dagstukkies gelees het. Luister na, of lees dan ook hierdie lied geskryf deur Isaac Watts:
When I survey the wondrous cross
On which the Prince of glory died,
My richest gain I count but loss,
And pour contempt on all my pride.
Forbid it, Lord, that I should boast,
Save in the death of Christ my God!
All the vain things that charm me most,
I sacrifice them to His blood.
See from His head, His hands, His feet,
Sorrow and love flow mingled down!
Did e’re such love and sorrow meet,
Or thorns compose so rich a crown?
Were the whole realm of nature mine,
That were a present far too small;
Love so amazing, so divine,
Demands my soul, my life, my all.
Gebed:
Hemelse Vader, ek dink aan hierdie woorde van hierdie lied: “Het hier sulke liefde en hartseer ontmoet?” Daar was nog nooit so ’n aangrypende, dog kragtige samesmelting van liefde en opoffering nie, en daar sal ook nooit wees nie. Golgota was ’n historiese maatstaf. U het U Seun, Jesus gestuur as die perfekte Paaslam wat my vir altyd verlos. Laat my nooit die diepte van U offerande uit die oog verloor nie. Amen
2021-03-20 – Lydenstyd Dag 28 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 44Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. 45Die son is verduister, en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. 46Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. ” – Lukas 23:44-46 AFR20
Jesus se laaste uitspraak op die Kruis. Dit was nie ’n bombastiese uitspraak nie. Dit was nie ’n verklaring van eiewaan of selfverheffing of iets wat die aandag op Hom sal vestig ná wat Hy gedoen het nie. Dit was nie ’n teologiese toespraak nie.
Dit was eenvoudig ’n Seun se algehele vertroue in ’n goeie, goeie Vader. Dit was Jesus wat ons wys wat dit beteken om 100% op God te vertrou. Jesus het ons gewys wat dit beteken om selfs jou reg om te lewe neer te lê. Dit was Jesus wat ons wys hoe om te sterf.
Dr. William Barclay het geskryf: “Jesus het gesterf met ’n gebed op Sy lippe. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Hierdie was die woorde van Psalm 31:6, met een woord bygevoeg: Vader. Dit wys dat ná Sy uitroep van ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’, adresseer Jesus weer God as “Vader” en herbevestig Hy die intieme verhouding in die Triniteit.”
Hy het gesterf in volmaakte vrede en Homself oorgegee aan die Een wie Hy die beste geken het.
Om oor te dink:
Wat vra God moet ek oorgee aan Hom? Wat moet ek aan Hom toewy? Vertrou ek ’n onbekende toekoms aan ’n bekende God toe?
Gebed:
Vader God, dankie vir die intieme verhouding met Sy Vader wat Christus in die laaste oomblik aan die Kruis getoon het. Dankie vir die vrede waarmee Hy Sy laaste asem uitgeblaas het – die vrede wat eintlik so maklik beskikbaar is vir almal wat glo. Help my om U te vertrou vir die dag van môre en vir alle ewigheid. Amen
2021-03-19 – Lydenstyd Dag 27 (Kliek hier vir die klankgreep)
“30Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. ” – Johannes 19:30 AFR20
Net daardie drie woorde – “Dit is volbring” – ’n verklaring van oorwinning. (Terloops, die Grieks is eintlik net een woord: Tetelestai)
Jesus gebruik ’n anderste tipe sins sintaksis. ’n Goeie taalonderwyser sou ons leer om die regte grammatika te gebruik en eerder sê: “Dit was volbring.”
Tog het Jesus doelbewus die woorde só uitgespreek om te verklaar dat die werking van Sy offer geldig is vir alle tye. Hy IS vandag ons Here. Sy offer IS nou vir ons, net soos dit toe was.
Jesus het gedoen waarvoor Hy gekom het. Dit was afgehandel, volbring – heeltemal volmaak. Jesus het Sy hele lewe uitgegiet, selfs tot in die dood. Hy het dit moontlik gemaak vir ’n sondige mensdom om ’n ewige, diepe verhouding met ’n Heilige God te hê.
Niks was nodig om nog bygevoeg te word nie. Geen goeie werke nie. Niks meer offers nie. Hierdie was die grootste oorwinning vir die hele mensdom. Oorwinning oor sonde en die dood.
Om oor te dink:
Glo ek dat ek oorwinning het oor sonde as gevolg van die Kruis? Of voel ek op ’n manier nog dat ek nie sterk genoeg is om die golwe van verdorwenheid wat die wêreld meebring te weerstaan nie? Hou ek styf vas aan die Kruis – nie net vir redding nie – maar om daagliks oor sonde te triomfeer?
Gebed:
My God en Vader, soms val ek weer terug in gewoonte sondes. I vergeet so gou dat U alreeds vir my die oorwinning behaal het. Help my om te begryp: “Dit is volbring.” Al wat ek moet doen, is om daardie geskenk te aanvaar en vrede en rus te vind in dít wat U bereik het. Amen
2021-03-18 – Lydenstyd Dag 26 (Kliek hier vir die klankgreep)
“28Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” ” – Johannes 19:28 AFR20
Jesus het aan daardie houtkruis gehang, dalk gesukkel om asem te haal. Hy het geweet dat die einde naby is en dan roep Hy in fisiese angs en pyn: “Ek is dors.”
Miskien sal ’n paar slim mense hiervoor ’n string diep teologiese redes kan gee. Miskien het Jesus met hierdie woorde verwys na Sy siel se dors vir mense om in die Koninkryk in te kom. Dalk is daar diepere teologiese redes gewees... maar dalk was Jesus net dors.
Jesus was 100% God, maar ook 100% mens. Hy het die marteling en pyn deurgemaak in Sy menslike liggaam. Hy het aan ’n kruis gehang met die son en die wind op Hom. Hy was dors. Hy het gely as ’n mens, om sodoende die mensdom te verlos. Hy, wat die Lewende Water is, het self, fisies, dors.
Jesus het sy behoefte aan iets te drinke aanvaar. Hy het Sy reg om onoorwinlik en onkwesbaar te wees prysgegee, sodat Hy ’n mensdom vol pyn kon bereik.
Om oor te dink:
Gee ek som voor dat alles “OK” is? Besef ek dat om kwesbaar te wees, nie beteken dat ek swak is nie? Kry ek die water van die lewe by die Lewende Water, sodat ek dit ook kan uitgiet in die lewens van ander?
Gebed:
Here Jesus, ek staan steeds in verwondering oor U, selfs as ek herinner word hoe kwesbaar U ter wille van my geword het. Dat U – die Lewende Water – U dors sou uitspreek sodat ek my beter met U kan vereenselwig. U het as mens gely. U het elke hou, elke sweepslag, elke hamerhou van die spykers in die kruis as ’n mens ervaar. Ek buig neer in algehele verwondering. Amen
2021-03-17 – Lydenstyd Dag 25 (Kliek hier vir die klankgreep)
“45Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. 46Teen ongeveer die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ ” – Matteus 27:45-46 AFR20
Baie van ons was al alleen. Soms selfs verlate. Maar, daardie uitroep van verlatenheid is iets wat ons nooit ten volle sal begryp nie. Dit was ’n roep, ’n hulpkreet, binne die wese van die Drie-Eenheid.
In hierdie donker uur, hang Jesus aan die kruis: geskend deur die sonde van die hele wêreld se verlede, hede en toekoms. So erg, dat God die Vader vir ’n oomblik Sy gesig moes wegdraai van Sy geliefde Seun. Hy kon nie verdra om te sien hoe die verdorwenheid van die wêreld alles op die heilige, vlekkelose Lam van God neerkom nie.
Hierdie is die enigste keer wanneer Jesus Sy Vader as “God” aanspreek. Ons sal seker nooit die binnewerkings van daardie oomblik ken nie, maar, in daardie woorde, kom die uiterste verlatenheid wat Jesus ervaar het, redelik duidelik deur. Jesus het die toorn van God ervaar – wat ons verdien het – deur ons sondes op Hom te neem. Jesus het Sy reg tot ’n ongekende intieme verhouding met Sy Vader prysgegee.
Dit was die rede hoekom Hy gehuil en gebid het in die tuin van Getsémané.
Tog, “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins” (Hebreërs 12:2a AFR83)
Om oor te dink:
Het ek al toegelaat dat die eensaamheid en verlatenheid van die Kruis waarlik en behoorlik my hart beïnvloed?
Gebed:
Here Jesus, ek sal nooit daardie presiese oomblik kan verstaan toe U in die duisternis daardie uitroep van verlatenheid uitgespreek het nie. Maar as gevolg van daardie eensaamheid wat U ervaar het, sal ek nooit alleen hoef te wees nie. Ek word aanvaar omdat U verlaat is. Ek is vergewe omdat U veroordeel is. Ongelooflike genade onbeskryflik groot, hoe kan dit wees? Amen
2021-03-16 – Lydenstyd Dag 24 (Kliek hier vir die klankgreep)
“25By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” 27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. ” – Johannes 19:25-27 AFR20
Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het amper alles wat Hy gesê het oor ander mense gegaan. Hy het gevra vir vergifnis vir die mense wat Hom gekruisig het. Hy het die misdadiger in die Koninkryk verwelkom. En in vandag se teks, sorg Hy vir Sy moeder, Maria, en vir Sy dissipel, Johannes.
Te midde van die marteling en vernedering, het Jesus nie op Homself gefokus nie. Hy wou seker maak dat Sy moeder versorg sou wees. (Teen hierdie tyd was Josef, Maria se man, reeds oorlede) Jesus wou vir Sy geliefde dissipel, Johannes, die rol gee wat Jesus tot op hierdie punt nog kon doen – om te sorg vir Sy moeder.
Selfs van die kruis af, het Jesus dít laat gaan wat na aan Sy hart was: Sy moeder en Sy goeie vriend.
Om oor te dink:
Aan wat of wie hou ek dalk nog te styf vas? Is God besig om my te oortuig om iets of iemand te laat gaan en om Hom te vertrou vir daardie oorgawe?
Gebed:
Liewe Vader, ek weet ek klou nog dikwels te erg aan sekere mense en sekere idees van hoe die lewe moet wees. Ja, dit is soms skrikwekkend om te laat gaan, maar help my om te onthou dat ek daardie dinge of mense in U hande los – U wie U eie Seun gestuur het na Golgota, vir my onthalwe. Amen
2021-03-15 – Lydenstyd Dag 23 (Kliek hier vir die klankgreep)
39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” 40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” 43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” – Lukas 23:39-43 AFR83
Die misdadiger aan die kruis langs Jesus het Jesus se pleit vir vergifnis aan die mense wat Hom kruisig gehoor. Hy het geweet dat daar iets anders is aan hierdie man wat langs hom hang. Ons weet nie waar en wanneer presies hierdie man dit besef het nie, maar deur die ander misdadiger tereg te wys en sy versoek aan Jesus, sien ons dat hy iewers besef het dat Jesus waarlik die Christus is.
Die woord “koninkryk” is die groot leidraad hier. Hierdie misdadiger – wat deur en deur ’n krimineel is, en dit ook erken – het besef dat hierdie man wat stukkend en gebreek aan die kruis langs hom hang, die Koning is. En hy plaas sy geloof in hierdie onwaarskynlike regeerder.
Jesus aanvaar dan onmiddellik hierdie veroordeelde misdadiger. Jesus gee Sy reg tot sosiale geregtigheid en oordeel op. Hy laat vaar die norme en waardes van die wêreld waarin Hy geleef het – al die dinge wat volgens die mens reg en goed is – en aanvaar hierdie mens in genade. Die misdadiger plaas sy geloof in Jesus. En Jesus verruil sy vuil, sondige klere, met klere van ware geregtigheid. Geen transaksie fooi word gevra nie. Geen vrae nie. Net so. Genade, onbeskryflik groot.
Om oor te dink:
Hou ek partykeer nog vas aan onnodige, oorbodige idees van wat “sosiaal aanvaarbaar” is vir God? Skryf ek dalk nogsteeds mense in my onderbewussyn af, wat – volgens my of iemand anders se definisie – “nie gered kan word nie?” Wat kan ek doen om myself meer te laat besef dat redding en verlossing ’n gratis geskenk is vir ALMAL wat glo?
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir die gerusstellende woorde van Jesus aan die misdadiger. Dit was nie net leë beloftes nie. Jesus het die belofte wat Hy met sy bloed gemaak het, verseël. Dankie dat Hy die skyngevoel van sosiale korrektheid laat vaar het om Sy genade te betoon. Help my om dieselfde te doen. Amen
2021-03-13 – Lydenstyd Dag 22 (Kliek hier vir die klankgreep)
Van vandag af beweeg ons bietjie weg uit Matteus se weergawe van die Evangelie. (Ons sal binnekort weer terugkeer)
“32Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. 33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. ” – Lukas 23:32-34 AFR20
Jesus het gesê: : “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Selfs toe spykers deur Sy hande en voete geslaan is, het Jesus hierdie woorde gesê. Met elke hou van die hamer wat geval het... “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Was die Romeinse soldate enigsins jammer? Het die Fariseërs enige berou getoon? Het hulle enigsins om verskoning gevra of probeer jammer sê?
Nee.
Tog, bied Jesus vergifnis. Eensydige vergifnis. Hy het nie nodig gehad dat hulle jammer sê of vra vir vergifnis nie.
Jesus het ons gewys wat dit beteken om jou “regte” prys te gee. Selfs jou sogenaamde “reg” om vergelding te eis.
Deur hierdie daad, sterf Jesus sonder enige verwyte. Hy het hierdie woorde hard en duidelik gesê om ons te wys wat dit beteken om mense te verlos van die greep van woede en, in ruil daarvoor, om onsself te verlos van bitterheid.
Om oor te dink:
Wie moet ek dalk verlos in vergifnis, net soos Jesus my vergewe het? Is ek bereid om my reg tot vergelding te laat vaar? Vertrou ek God ten volle om my en my saak te regverdig?
Gebed:
Hemelse God en Vader, ek verdien nie die vergifnis wat U so vrylik deur U Seun bied nie. Die wêreld leer ons dat ons allerhande sogenaamde regte het. Ek bid dat U my sal help om my reg om reg te wees, en my reg om vergelding te eis, op te gee. Help my om te weet dat, wanneer ek mense in vergifnis vrylaat, ek myself vrylaat om ’n voller, vryer lewe te lei. Amen
2021-03-12 – Lydenstyd Dag 21 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 32Op pad na buite het hulle 'n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. ” – Matteus 27:32 AFR20
Hy word net so terloops genoem. So amper asof Matteus wou sê: “O ja, iemand het Jesus se kruis toe gedra.” Maar, hierdie man word by die naam genoem: Simon van Sirene.
Ons weet, soos ons gelees het dat hy gedwing was om Jesus se kruis te dra, maar ek wonder of het hy nie dalk ook gewilliglik besluit om Jesus te help nie?
Deur Jesus se kruis te dra, het Simon van Sirene die laaste mens geword om Jesus te help. Onwetend het hy alles wat Jesus geleer het presies gedoen: dat jy jou kruis moet opneem en Hom volg. Natuurlik was hierdie nie Simon se kruis nie, maar dit het hom vir seker ook iets gekos. Soos die mense Jesus behandel het, moes hulle seker ook vir Simon gespot en verneder het. Miskien het hy ook ’n paar sweep-houe of kop-klappe van die Romeinse soldate ontvang. Die kruis was natuurlik ook baie swaar en die pad lank en moeilik. Tog, het Simon saam met Jesus die pad gestap. En Jesus het saam met Simon gestap.
Deur die laaste mens te wees wat Jesus gehelp het, word Simon deur al die geslagte heen onthou. Ek is seker dat Simon se lewe van daardie oomblik af, vir altyd verander is. Simon het Jesus van naderby kon beskou, gebreek en stukkend, tog het Hy een pynlike tree na die ander gegee – sonder een woord van protes.
Om oor te dink:
Is ek bereid om in ’n verhaal ingetrek te word wat baie groter is as wat ek beplan het? Is ek gewillig om my eie kruis te dra en Jesus te volg op onbekende en onverwagte paadjies? Vertrou ek Hom om langs my te loop?
Gebed:
Here Jesus, ek staan verstom oor U sterkte en U genade toe U daardie pad na Golgota gestap het. Selfs op daardie oomblik glo ek dat U nogsteeds gegee het. U het Simon die kans gegee om ’n diep persoonlike ontmoeting met U te hê. U het sy storie in U groter verhaal ingevleg. U het die lewe van ’n voorheen onbekende besoeker aan Jerusalem verander deur hom in die narratief van die grootste liefdesverhaal in die geskiedenis in te sluit. Dankie vir U liefde en genade, onbeskryflik groot. Amen
2021-03-11 – Lydenstyd Dag 20 (Kliek heir vir die klankgreep)
“27Toe het die soldate van die prokurator vir Jesus na die pretorium saamgeneem, en die hele kohort soldate by Hom byeengebring. 28Hulle het sy klere uitgetrek en 'n helderrooi mantel om Hom gehang. 29Nadat hulle 'n kroon van doringtakkies gevleg het, het hulle dit op sy kop gesit, en 'n riet in sy regterhand. Hulle het voor Hom gekniel en met Hom die spot gedryf: “Gegroet, koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die riet geneem, en Hom herhaaldelik op sy kop geslaan. 31Nadat hulle met Hom gespot het, het hulle die mantel afgehaal, sy boklere vir Hom aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. ” – Matteus 27:27-31 AFR20
Soms moet ons eenvoudig net vir ’n oomblik stilstaan en toelaat dat die harde waarheid insink.
Vandag se teksgedeelte het nie regtig enige verduideliking nodig nie. Dit bevat ook nie spesifieke idees wat ons moet wegneem nie.
Dit vereis net ’n diep, sielvolle oorweging oor alles wat Jesus vir ons verduur het. Dit vereis dat ons nie sommer net die brutaliteit en wreedheid van 2000 jaar gelede afmaak as niks nie. Dit verplig ons dat die Heilige Gees die hardheid van ons harte begin wegwerk.
Omtrent 200 soldate het om die Seun van God bymekaargekom met die enkele bedoeling om Hom te verneder en te martel. Johannes vertel dat Jesus gegesel was. Dit was nie net ’n gewone sweep waarmee hulle Hom geslaan het nie. Die sweep het stukkies yster en been ingehad wat die vleis uit jou liggaam uitgeskeur het. Baie mense het al daarvan gesterf nog voor hulle gekruisig kon word. Het jy ook gehoor dat hulle Jesus herhaaldelik oor Sy kop geslaan het? Het jy verder gehoor hoe hulle Hom geparadeer het en Hom uitgelok en gespot het? Hoe hulle ’n doringkroon in Sy kop ingedruk het? Hoe hulle op Hom gespoeg het?
Ja, vandag se teksgedeelte het nie regtig enige verduideliking nodig nie. Dit bevat ook nie spesifieke idees wat ons moet wegneem nie.
Hierdie teks vereis van ons ’n diep, sielvolle oorweging oor alles wat Jesus vir ons verduur het.
Om oor te dink:
Het ek maar net Jesus se lyding vir my begin aanvaar as net nog “iets” wat Hy gedoen het? Laat ek regtig nog die haat en seer van daardie dag toe om te verander wie ek is en Wie s’n ek is?
Gebed:
Here Jesus, ek kan nie die marteling en vernedering wat U namens my deurgemaak het, verstaan nie. Maar my hart reageer in dankbaarheid. U is heeltemal onverstaanbaar volmaak en ek is lief vir U. Amen
2021-03-10 – Lydenstyd Dag 19 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 19Terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou 'n boodskap na hom gestuur: “Jy moet niks te doen hê met daardie •regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie oor hom verduur.” 20Die leierpriesters en die familiehoofde het die skare egter oorreed dat hulle op Barabbas moes aandring, en dat hulle Jesus moes laat doodmaak. 21Die prokurator het hulle weer gevra: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle het geroep: “Barabbas!” 22Pilatus vra hulle toe: “Wat moet ek dan maak met Jesus wat as Christus bekend staan?” Hulle roep toe almal uit: “Laat Hy gekruisig word!” 23Hy het gevra: “Maar watter kwaad het hy dan gedoen?” Hulle het egter nog harder geskreeu: “Laat Hy gekruisig word!” 24Toe Pilatus sien dat hy niks bereik nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Julle moet maar self toesien.” ” – Matteus 27:19-24 AFR20
Ons ken hierdie gedeelte waar Pilatus sy hande voor die skare was goed. Dit is nog altyd in ons gedagtes ingeprent. Selfs vandag nog, gebruik ons ook baie keer die gesegde: “Ek was my hande in onskuld.” Pilatus het in sy hart geweet – en selfs deur sy vrou se waarskuwings – dat Jesus onskuldig was van al die aanklagte teen Hom. Maar daar was nie veel wat hy kon doen om hierdie briesende skare te oortuig om Jesus vry te laat nie. Hy’t probeer en probeer... en uiteindelik het hy ingegee, maar nie voordat hy eers probeer het om homself van sy verantwoordelikheid te onthef en verontskuldig nie.
Pilatus was ’n magtige man gewees in ’n magtige posisie. Hy het geweet dat as hy die regte ding doen en sy voet neersit, sal dit sy politieke loopbaan in gedrang bring. So, toe kies hy maar die opsie met die minste weerstand: hy neem toe maar eerder ’n neutrale posisie in en staan nie op vir Jesus nie.
In die strewe na mag, aansien en posisie is daar altyd slagoffers, waarvan ons karakter en integriteit gewoonlik die belangrikste is.
Om oor te dink: In watter areas van my lewe moet ek my voet neersit en opstaan vir Jesus? Waar is die wêreld vir my belangriker as om God te dien? Waar wys die Here gereeld vir my waar ek ook eerder kies om “neutraal” te wees?
Gebed:
Here, ek is jammer vir die kere waar ek lou is in my geloof. Help my dat my reputasie, aansien, posisie of invloedsfeer nie enige voorkeur geniet bo my geloof nie. Amen
2021-03-09 – Lydenstyd Dag 18 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 11Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: “Is u die koning van die Jode?” Jesus sê toe: “U sê dit.” 12Die hele tyd wat Hy deur die leierpriesters en familiehoofde beskuldig is, het Hy niks geantwoord nie. 13Daarop sê •Pilatus vir Hom: “Hoor u nie wat hulle alles teen u getuig nie?” 14Hy het hom egter op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die prokurator uitermate verwonderd was. ” – Matteus 27:11-14 AFR20
Hierdie gebeure bly vir my vreemd. Vreemd, tog genadiglik los dit my ook in algehele verwondering en ontsag. Die Een wat ons Verdediger is, het nie Homself verdedig nie. Die Een wat ons Middelaar is en intree by die Vader, het nie vir Homself Sy stem laat hoor nie. Die Een wat ons Skild en vaste Vesting is, het nie Homself probeer beskerm nie.
Jesus het gekies om kwesbaar te wees, sodat ons die oorwinning kan behaal.
Pilatus staan voor die mees onwaarskynlike Koning, in tweestryd met wat hy moet doen en die druk van die skare buite. Die Romeinse goewerneur gaan heen en weer tussen die strydlustige skare en Jesus. Pilatus is sommer half opgewerk hieroor. Dit maak vir hom ook nie sin nie.
Aan die ander kant, staan Jesus in volmaakte Koninklikheid. Hy weet presies wat gaan gebeur en Hy is vasberade om deur te gaan daarmee.
In die evangelie van Johannes vra Pilatus vir Jesus: “Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” (Joh. 19:10) Dan antwoord Jesus hom met vrede in Sy gemoed: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie” (Joh. 19:11)
Jesus het Sy vrede gevind in die almag van God. Alhoewel hy ten volle mens was, het Hy nie toegelaat dat twyfel en vrees Hom oorrompel nie, en het Hy ook nie probeer om Hom uit die verhoor te praat nie. In plaas daarvan vertrou Hy dat Sy Vader in algehele beheer is. Hy sien die groot prentjie. Die regte groot, groot prentjie. Hy het dinge vanuit ’n ewige perspektief gesien – en Sy lewe vir ons neergelê.
Om oor te dink: Vind ek vrede in God se almag en heersing in my lewe? Of vrees ek die toekoms? Laat ek God toe om my Verdediger te wees, of probeer ek nogsteeds op my eie alles doen?
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir die voorbeeld van Jesus wat voor owerhede geswyg het. Dankie dat Hy ons wys wat dit beteken om op U soewereiniteit te vertrou en in U beloftes te rus. Dankie vir die beste geskenk van alles – die ewige lewe in Jesus. Amen
2021-03-08 – Lydenstyd Dag 17 (Kliek hier vir die klankgreep)
Judas het die verraad geld teruggegee aan die leierpriesters en homself opgehang. Hier is wat volgende gebeur het:
" 6Die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie toelaatbaar om dit in die skatkis te gooi nie, aangesien dit bloedgeld is.” 7Hulle het toe 'n besluit geneem, en met die geld die grond van die pottebakker aangekoop as 'n begraafplaas vir •vreemdelinge. 8Daarom word daardie grond tot vandag toe Bloedgrond genoem. 9Toe is die uitspraak van die profeet Jeremia vervul: “Hulle het die dertig silwerstukke, die prys waarteen Hy deur die kinders van Israel gewaardeer is, geneem 10en dit vir die grond van die pottebakker gegee, net soos die Here my beveel het.” " – Matteus 27:6-10 AFR20
Ons het dalk al hoeveel keer hierdie gedeelte gelees en nie heeltemal verstaan hoekom die priesters hierdie ding gedoen het nie. Ja, ’n profesie moes ook hierdeur vervul word, maar het ons al opgelet hoe erg hierdie leierpriesters die wette verdraai het? Hulle mag nie bloedgeld in die tempel skatkis gooi nie, maar eiendom mag hulle maar koop daarmee – redeneer hulle. Met ander woorde: hulle hou hulleself by die laaste lettertjie van die wet, maar hulle hou aan met ’n onverbiddelike hardheid in hulle harte.
Hulle was so erg gepla om regverdig voor te kom as om eerder geregverdig te word. Hulle verkies eerder hulle eie afleidings bo berou.
Hoe dikwels is dit nie vir ons ook so verskriklik belangrik om tog net goed te lyk voor mense nie? Ons wil nie God toelaat om die wortel van ons probleme te adresseer of ons van binne af verander nie. Ons laat eerder die leuens en dwaling van die vyand toe om ons te laat glo dat alles “OK” is, as wat ons op ons knieë neerval voor God.
Dink na vandag: In watter dele van my lewe speel ek maar ewe gedwee saam met die wêreldse standaarde en leef ek in ’n misleide eiegeregtigheid? Is ek meer bekommerd oor hoe my dade aan die buitekant lyk of oor hoe ek van binne af verander kan word?
Gebed:
Hemelse Vader, help my om die tyd te neem om in U teenwoordigheid te wees en laat U lig in my lewe skyn. Wys my die dele van my lewe waar ek deur die krag van U Heilige Gees kan verander. Help my om nooit my sonde weg te steek onder lae en lae afleidings, “te besig wees” of dwase dade van eiegeregtigheid nie. Amen
2021-03-06 – Lydenstyd Dag 16 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 1Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. 2Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan •Pilatus, die prokurator, uitgelewer.
3Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem 4en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien.” 5Hy het toe die silwerstukke in die •tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. ” – Matteus 27:1-5 AFR20
Wat ’n somber en donker teksgedeelte. Die oordeel is uitgespreek. Jesus, geboei en weggeneem. En dan, skielik, word Judas oorval met berou oor wat hy gedoen het.
Judas probeer in ’n wanhopige poging om sy eie skuld te besweer deur die dertig stukke silwer terug te neem. Hy probeer verantwoording doen vir sy sonde, maar aan die verkeerde mense. In sy poging om sy skuldgevoelens te verkwik, maak hy ’n baie groot fout – hy vra nie om vergifnis van die ewige, genadige God nie. Hy probeer eerder om sy probleem en sy sonde op sy eie manier reg te maak. Hy besluit om eerder dinge in sy eie hande te neem. Selfs sy eie lewe...
Spyt en berou oor sonde is slegs die begin. Ware gebrokenheid en belydenis voor God, is waar ware vergifnis – en die versekerde daaropvolgende vryheid – lê. God se Woord leer ons dat “As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.” (1 Joh. 1:9) ’n Sondige lewe, is ’n lewe wat wag om verlos te word.
Om oor te dink: Probeer ek om my eie mislukkings reg te maak op my eie manier? Kom ek na God toe in gebrokenheid oor my sonde? Onthou ek dat die verdorwenheid van my sonde nooit ooit die diepte van God se genade kan oorskry nie?
Gebed:
Hemelse Vader, help my om te onthou dat ek nooit my sonde-probleem self kan oplos nie. Help my om te onthou dat ek U genade nooit kan uitput nie, hoe groot my foute ook al mag wees. In berou en rus in U, is my redding. Amen
2021-03-05 – Lydenstyd Dag 15 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 69•Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” 70Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” 71En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” 72Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” 73Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” 74Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai. 75Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus gesê het: “Voordat 'n haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. ” – Matteus 26:69-75 AFR20
Die verhaal van Petrus se verloëning. Elke keer as hy gevra word of hy vir Jesus ken, raak sy antwoord heftiger en aggressiewer in sy verwerping van Jesus.
Petrus, dieselfde Petrus wat vroeër onomwonde bely het dat hy sy lewe vir Jesus sal neerlê, is nou bang vir kleine diensmeisies.
Dan kraai die haan en Petrus onthou Jesus se woorde... Die oordeel in sy hart is onmiddellik en hy huil bitterlik.
Die teksgedeelte noem dit nou nie só nie, maar deur hierdie gebeure, hierdie verloëning, word Petrus die eerste groot stem van die Evangelie: Agter hierdie groot fout wat Petrus begaan – hier waar hy hard val – staan Jesus om hom te vang. Petrus het toegelaat dat die oordeel van die sonde hom platslaan en hy het toegelaat dat die vergifnis daarvan hom weer optel. Psalm 37:24 (AFR20) se woorde is waar vir Petrus: “As hy val, sal hy nie neerslaan nie, want die Here hou hom aan sy hand.” Dit was Petrus en die getroue hand van God.
Van ons kleinste flaters en foutjies, tot ons grootste, donkerste sondes – niks daarvan is buite God se verlossing nie.
Dink na vandag: Voel ek soms dat God my nie ’n sekere sonde kan vergewe nie? Voel ek soms dat, selfs as God my vergewe, ek myself nie kan vergewe nie? Glo ek dit wanneer God vir my sê dat die bladjie skoongevee word en dat Hy my nuut maak van binne af, deur Sy Gees?
Gebed:
Vader God, dankie vir U genade en vergifnis. Ek verdien nie die tweede, derde, soms honderdste kans wat U my gee nie. U is getrou en U lig my uit die as en sit ’n nuwe lied op my lippe. Loof U! Prys U Naam! Amen
2021-03-04 – Lydenstyd Dag 14 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 57Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. 58•Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. 59Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” 62Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” 63Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” 64Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle:
“Van nou af sal julle die •Seun van die Mens
sien sit aan die regterhand van die Magtige,
en Hom op die wolke van die hemel sien kom.”
65Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! 66Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” 67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap 68en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?” ” – Matteus 26:57-67 AFR20
In die verloop van slegs ’n paar ure, het Jesus die ergste pyn en ongeregtigheid ervaar. Iets waardeur niemand ooit veronderstel is om te gaan nie. Veral nie die enigste sondelose Mens wat ooit gelewe het nie.
Verraai deur Judas, gearresteer deur ’n bende, verlaat deur Sy dissipels, verloën deur Petrus, geparadeer voor ’n korrupte hof wat Hom met spottende vrae en valse beskuldigings uitgelok het. Hy was aangeval, geblinddoek, op gespoeg, geklap en met die vuis bygekom. Dit alles, nog vóór Hy daardie kruis teen Golgota moes opdra.
Die woorde van Hebreërs 4:15 (AFR20) maak nou nóg meer sin: “...ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie...” Jesus was erger beproef, getoets en uitgelok as enigiemand anders – en tog was Hy sondeloos.
Wanneer ons deur moeilike tye gaan, sal dit nogal dwaas wees van ons as ons wil beweer dat “God nie weet waardeur ek gaan nie.” Hy weet. Hy het deur elke fisiese, geestelike en emosionele stryd wat daar is gegaan – en Hy het oorwin.
Dink bietjie: Voel ek ook soms dat God “net nie sal verstaan nie?” Wat moet ek onthou in sulke situasies? Waarvoor kan ek die Here loof en prys vandag?
Gebed:
Here Jesus, U het deur elke soort lyding gegaan vir my onthalwe. Dankie dat U vandag aan die regterhand van die Vader sit en intree vir ons. Dankie dat U verstaan. Amen
2021-03-03 - Lydenstyd Dag 13 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 56Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. “ – Matteus 26:56 AFR20
Net so. Skielik! En daar verdwyn al die dissipels. Hulle het gevlug vir hulle lewens. Kan jy dit nou glo?
Vanuit ons meer moderne, 21-eeuse perspektief, is dit nogal maklik om daardie dissipels te brandmerk as lafaards, drosters of verraaiers. Maar... is ons regtig anders as hulle?
As ons mooi dink, wat het veroorsaak dat hulle die pad vat? Hulle het paniekbevange geraak toe die bedreiging en die druk skielik baie hoog raak, en toe verloor hulle sig van die ewige. Die tasbare en vatbare het veroorsaak dat hulle gevul word met vrees. Ek meen, dis mos nou nie hoe dinge veronderstel was om uit te werk nie, het hulle seker gedink. Hulle leermeester en Here, wie hulle vir drie jaar lank gevolg het, het aan hulle ’n Koninkryk belowe. ’n Arrestasie deur ’n woedende bende was nie deel van die plan nie.
Soms, nee, eintlik baie dikwels, laat ons ook omstandighede toe om té groot te raak en dan word God vir ons klein. Ons het ook ’n onbeheerbare vrees vir die onbekende. Ons maak ook haastige besluite, in stede daarvan om God te vertrou wat altyd op die regte tyd – Sy tyd – dinge laat gebeur.
Dink bietjie na vandag: Wat doen ek wanneer ek skielik gekonfronteer word met die onbekende? Swig ek onder druk en paniek? Of staan ek vas en vertrou op wat ek weet en glo waar is oor God?
Gebed:
Vader, vervang asseblief my vrees vir die onbekende met ’n diepe vertroue in die enigste Heersende God – U wat in beheer is. Mag ek nader aan U wandel elke dag, sodat my geloof in U die vrees sal uitdryf, terwyl ek leer om in oorwinning voort te gaan. Amen
2021-03-02 - Lydenstyd Dag 12 (Kliek hier vir die klankgreep)
In vandag se wêreld het ons baie sogenaamde “regte”. Meeste hiervan is eintlik voorregte, maar ons het begin aanvaar dat ons geregtig is op sekere dinge. As ons dit ontneem word, is dit mos onregverdig. Hoe Jesus behandel was, was uiters onregverdig:
“ 50Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. 51En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. 52Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? 54Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” 55Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. “ – Matteus 26:50-56 AFR20
Al die vrede en stilte wat geheers het in die tuin van Getsémané, terwyl Jesus in volle oorgawe aan die Vader se wil onderwerp het, was verbreek. ’n Woedende bende mans, met fakkels en wapens, het gekom met net een doel voor oë: om die Seun van God te arresteer.
’n Onderonsie ontstaan en een van die dissipels kap die slaaf van die hoëpriester se oor af. Te midde van al hierdie chaos, staan Jesus – ’n perfekte voorbeeld van mag steeds onder beheer. Dan wys Hy ons waaroor sagmoedigheid werklik gaan.
Dis nie swakheid nie. Dis nie sommer net sag wees nie. Nee, dis ware sorg en sagmoedigheid. Soos Jesus self sê, kon Hy maklik ’n hele groep engele geroep het om te help. Tog, kies Hy om dit nie te doen nie.
Ten spyte van hoe die uiterlike omstandighede lyk – ’n klompie vissermanne en hul leermeester wat geïntimideer word deur ’n groot groep gewapende mans – was Jesus heeltemal in beheer van die situasie. Die Almagtige, Heersende God het gewys dat ware mag is om jou eie regte soms neer te lê vir ’n groter doel. Jesus het gewilliglik nie net Sy regte neergelê nie, maar Sy eie lewe.
Dink so bietjie na: Op watter maniere wys ek sagmoedigheid in my lewe? Kan ek my regte neerlê vir God se eer?
Gebed:
Redder God, wat is die mens dat U aan hom dink? Die mensekind dat U na hom omsien? U het ons só lief gehad dat U U eie regte neergelê het. U het ons genoeg liefgehad om onderworpe te wees aan wrede verontwaardigings en marteling. U het volmaakte mag getoon deur U sagmoedigheid. Help my om my regte neer te lê in die lig van U opoffering. Amen
2021-03-01 - Lydenstyd Dag 11 (Kliek hier vir die klankgreep)
“ 45Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. 46Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.” 47Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. 48Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” 49Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. 50Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. ” – Matteus 26:45-50 AFR20
Dit was die ergste verraad ooit gewees – ’n sondelose Man word oorgelewer om ’n doodsvonnis te kry deur iemand wat beweer het om Sy vriend en volger te wees. Dis baie erg. Dit moes vir Jesus baie seergemaak het. Dis verstommend!
Maar, in al hierdie dinge, wat regtig verstommend is, is Jesus se woorde aan Judas wat opdaag met hierdie woedende, misleide bende. Jesus sê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.”
Hy noem vir Judas “vriend” en ek glo dat Jesus dit ook bedoel het. Ek dink nie ons kan behoorlik verstaan hoe groot God se liefde vir ons regtig is nie. In Romeine 5:10 stel Paulus dit so: “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is” (AFR83).
Jesus noem ons Sy vriende, selfs terwyl ons aanhou sondig teen Hom. Ons verraai Hom gereeld, maar Hy bly getrou. Ons het ’n ware Vriend in Jesus. Dit is liefde bo ons begrip.
Om oor na te dink: Hoe sien ek my rol in die verhaal van versoening? Bring ek darem ’n bietjie geregtigheid by wat my saak sal “help?” Of weet ek dat dit eintlik alles gaan oor ’n genadige God wat ’n sondaar aanvaar as ’n vriend?
Gebed:
Hemelse Vader, U Gees stuur my tot berou, U liefde dwing my om gebroke voor U te kom, U Seun verlos my deur Sy kruisdood. Help my om nooit iets daarvan as vanselfsprekend te aanvaar nie. Amen
2021-02-27 - Lydenstyd Dag 10 (Kliek hier vir die klankgreep)
Dikwels wonder ons of ons dieselfde gebed oor en oor kan of moet bid. Is dit nie ’n teken van kleingelowigheid nie? God het my mos die eerste keer gehoor... Kom ons kyk na Jesus:
42Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” 43Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. 44Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. – Matteus 26:42-44 AFR20
Dieselfde gebed. Drie maal. Natuurlik het Jesus geweet dat Sy Vader Hom al die eerste keer gehoor het. Ek meen, die band tussen hulle sal nooit regtig deur mense verstaan kan word nie. Hulle is God – deel van die Triniteit. So, hoekom het Jesus drie maal na die Vader gegaan om dieselfde ding te vra en sê?
Dalk wou Jesus in Sy angstigheid en in hierdie uiters moeilike tyd ook vir ons iets leer: dat ons moet volhou in gebed, totdat ons die vrede ervaar wat net Jesus kan gee. Hy het alles wat swaar op Sy hart gelê het, uitgestort voor die Vader. En toe Hy die punt van volle oorgawe vind, kon Hy opstaan en voortgaan in algehele gehoorsaamheid.
Ons het ook die wonderlike voorreg om ons hele hart uit te stort in volgehoue gebed. Dit gaan nie oor God se arm te draai of Hom te probeer manipuleer om te kry wat ons wil hê nie. Dit gaan oor om te leer om heeltemal te onderwerp aan Sy wil. Ons kan dan van ons knieë af opstaan en weet dat God ons gehoor het en dat die oorwinning aan ons behoort.
Dink bietjie na: Wat druk swaar op my hart vandag? Neem ek dit na God toe in gebed? Ervaar ek Sy rus en vrede? Gaan ek vorentoe in gehoorsaamheid?
Gebed
Hemelse God en Vader, dankie vir die ongelooflike voorreg om U in gebed te kan aanroep. Dankie vir Jesus se voorbeeld om aanhoudend na U toe te kom. Help my om te volhard in gebed totdat ek die vrede en innerlike versterking tot in die kern van my wese ervaar. Amen
2021-02-26 - Lydenstyd Dag 9 (Kliek hier vir die klankgreep)
40Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
Jesus vra Sy vriende: “Kon julle regtig nie net vir ’n uur saam met my waak en bid nie?” Dalk was Jesus ’n bietjie vererg deur Sy vriende se lusteloosheid en laksheid, maar miskien gaan Sy vraag aan hulle baie dieper. Jesus het geweet dat hierdie oomblikke in die tuin van Getsémané baie belangrik was. Hierdie tyd was ’n tyd van voorbereiding deur gebed. Voorbereiding vir die uiterste uitdagings wat voorlê.
“Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie”, waarsku Jesus hulle. Ons weet tog wat later gebeur... Wanneer die dissipels almal ’n windrigting inslaan met Jesus se arrestasie. Ons kan maar net wonder: wat sou gebeur as die dissipels, soos Jesus, aangehou worstel het in gebed met die situasie totdat hulle dalk ook op ’n punt van algehele gehoorsaamheid en oorgawe gekom het? Sou hulle dalk kon opstaan teen die soldate? Sou hulle kon opstaan vir hulle geloof?
Jesus het geweet hoe broos hulle geloof kan wees. Hy gee aan hulle – en aan ons – die wapenrusting van gebed om teen hierdie broosheid te waak.
Om oor te dink vandag: Wat is my instinktiewe reaksie wanneer ek skielik onder druk is? Spandeer ek tyd in gebed vir al my daaglikse stryde en uitdagings? Veg ek of vlug ek eerder? Of bly ek in geloof, waar ek ten volle op God vertrou om my deur te help?
Gebed
Liewe Vader, help my om nooit die krag van gebed te onderskat nie. Help my om tyd te maak om by U voete te spandeer en in gebed saam met U te worstel, sodat ek die geestelike slag kry wat ek nodig het om uitdagings die hoof te bied. Ek het daardie alleen tyd saam met U nodig om voor te berei sodat ek nie in versoeking kom nie. Amen
2021-02-25 - Lydenstyd Dag 8 (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons vind Jesus vandag nogsteeds in die tuin van Getsémané, waar Hy saam met 3 van Sy dissipels gaan bid het.
39Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” – Matteus 26:39 AFR20
Ons het net een vers gelees vandag. Tog is daardie paar woorde gevul met met ’n swaar gemoed en baie emosie. Jesus, alleen in die tuin van Getsémané, roep uit na Sy Vader. Dis ’n hulpkreet. ’n Menslike angs en opregte versoek om hulp, troos en krag. Jesus roep dan uit: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan.”
Jesus, God wat waarlik mens geword het om ten volle met ons te identifiseer en al ons sonde op Hom kom neem het, is oorval met angs. Ons sien Sy menswees. Hy is op die punt om onbegrensde marteling te trotseer. Nog erger as dit, weet Hy dat Hy die ergste isolasie ooit sal moet trotseer, wanneer Sy Vader vir ’n oomblik sal wegkyk terwyl Jesus die verdorwenheid van die wêreld se sondes op Homself sou neem.
En dan bid Hy verder: “Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Hierdie was ’n oomblik toe die menslike en Goddelike saamgekom het in een van die grootste handelinge van liefde en gehoorsaamheid.
Jesus het geweet dat geen sonde ooit geregverdig sal word voor God nie. Hierdie is oneindige genade... onverdiende guns vir ons voor die Vader. Ons hoef nou nie meer enige veroordeling te vrees nie, want alles wat ons s’n is en was, is in Jesus. Hy het dit alles op Hom geneem, volgens God se wil en groot genade.
Dink na vandag: Hoe beantwoord ek Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader? Wat is my reaksie op Sy angs in die tuin? Val ek op my knieë in aanbidding voor ’n God wat die martelende reis geken het wat voorlê en tog vasbeslote was om dit deur te voer? Laat ek toe dat dit ’n persoonlike openbaring vir my lewe word?
Gebed
Here Jesus, ek kan nie eers probeer om daardie oomblik in die tuin van Getsémané te verstaan nie. U was alleen in die donkerte van die nag. Maar dit was niks in vergelyking met die isolasie wat U aan die Kruis sou ervaar nie. Tog het U gekies om in gehoorsaamheid dit deur te voer. U het U liefde vir ’n stukkende mensdom getoon deur bloot te sê: “maar soos U wil.” Ek kniel voor U in ontsag en dankbaarheid. Amen
2021-02-24 - Lydenstyd Dag 7 (Kliek hier vir die klankgreep)
36Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” 37Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. 38Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” – Matteus 26:36-38 AFR20
Ons is vandag al besig met dag 7 van die Lydenstyd. Vir die eerste 6 dae was Jesus saam met al die dissipels en was hul amper in ’n feestelike atmosfeer – al het Jesus hulle aanhoudend vertel van Sy dood wat al nader kom. Nou skuif die verhaal na die tuin van Getsémané en die atmosfeer raak donkerder en meer somber. Jesus neem 3 van Sy naaste dissipels met Hom om te gaan bid.
Jesus, 100% mens, maar ook 100% God, nooi 3 vriende om saam met Hom te bid. Dis nie asof die God van die heelal dit nodig gehad het nie. Tog, wat hier uitstaan – behalwe vir die erge worsteling waardeur Jesus gaan – is dat Jesus kies om Sy hartseer en pyn te deel met Sy vriende. Jesus leer hulle dit is goed om jou hart se laste met ander te deel. Net omdat ons God in ons lewens het, beteken nie dat ons altyd sterk, heldhaftig en onkwesbaar moet wees nie. Dit is meer as goed om iemand te vra om saam met jou deur moeilike tye te gaan en hulle te vra om saam met jou te bid.
Onthou: ons maak nie 100% staat op ons geliefdes nie, maar geloof haal hulle nie uit die prentjie uit nie. Inteendeel, geloof trek hulle nog nader in.
Om na te dink: Wat probeer ek vandag alleen hanteer? Het God dalk al spesifieke mense vir my uitgewys waarmee ek my hartseer en my drome mee kan deel? Is ek gewillig om ook in ander mense se laste ingenooi te word, selfs al beteken dit dat ek my tyd en strewes moet opoffer?
Gebed
Hemelse Vader, help my om te begryp dat om te vra vir hulp of om te vra dat ander vir my bid, nie my geloof minderwaardig maak nie. Help my om nederig genoeg te wees om mense wat ek vertrou uit te nooi om saam met my op my geloofsreis te kom. Amen
2021-02-23 - Lydenstyd Dag 6 (Kliek hier vir die klankgreep)
“31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf, “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word.’ 32“Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” 33•Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” ” – Matteus 26:31-33 AFR20
Petrus was darem so ’n goeie vriend vir Jesus, so lojaal. Hy was altyd vol moed en entoesiasme vir die Koninkryk van God. Hy het nooit eers daaraan gedink om ooit sy rug te draai op sy naaste, beste vriend en leermeester, Jesus, nie. Petrus was in ontkenning van sy komende ontkenning.
Petrus was so seker van homself en sy lojaliteit. Hy was heeltemal oorgehaal en “aan die brand” vir Jesus. Petrus het “geweet” hoe sterk hy is, sy geloof is... En hier lê die moeilikheid. Petrus het dalk nie op hierdie oomblik besef dat, selfs al is jou wilskrag en jou geloof hoe sterk, kan jy nie op jy eie kragte staatmaak in moeilikheid nie. God gee die krag en die uitkoms – op Hom alleen moet ons vertrou.
Daarom waarsku Paulus ook in 1 Korintiërs 10:12 AFR20: “12Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!” Ons moet nooit te selfversekerd wees nie.
As Petrus eerder geantwoord het met: “Ek afvallig raak, Here? Regtig? Help my asseblief en wys my hoe om sterk te bly staan.” Kwesbaarheid en weerloosheid voor God is ’n baie veilige posisie. Dit is die eerste stap om in geloof te groei.
Om oor na te dink: Is ek soms te bombasties in my geloof dat ek dink ek sal nooit misluk nie? Is ek gewillig om kwesbaar en weerloos voor God te staan en Hom te vra vir bonatuurlike krag, want op my eie sal ek dit nooit kan maak nie?
Gebed
Hemelse Vader, ek wil nie die lewe doen sonder om van U afhanklik te wees nie. In U leef ek en beweeg en bestaan my hele wese. Ek kan nie vasstaan nie, tensy ek op die Rots staan wat hoër is as ek. Dankie dat U my Rots is. Amen
2021-02-22 - Lydenstyd Dag 5 (Kliek hier vir die klankgreep)
"En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe." – Matteus 26:26-30 AFR83
Meeste van ons ken hierdie teksgedeelte goed. Dit is 'n gedeelte wat dikwels gebruik word met die instelling van die Nagmaal. Die Nagmaal is normaalweg 'n baie spesiale en gewyde geleentheid waarna meeste van ons nogal baie uitsien, maar ongelukkig kan die Nagmaal - soos baie ander gebruike in die kerk - bloot ritueel word.
Kyk ons egter na die eerste Nagmaal wat Jesus met Sy dissipels gedeel het, sien ons hoe kragtig dit was. Jesus het met Sy dissipels gepraat oor Sy dood. Hy't gepraat oor Sy liggaam wat gebreek sou word. Hy't gepraat van Sy bloed wat vergiet sou word... En daarna het Hy 'n lofsang gesing.
Dit is ons Here. Sy kruis is 'n uitnodiging van genade aan 'n stukkende en hulpelose wêreld. Daarom word Nagmaal ook die Eucharis genoem, wat "danksegging" beteken. In die Nagmaal aanvaar ons die gawe van God se genade. Ons hoef nie allerhande werke te doen om dit te verdien nie, maar ons wys met ons veranderde lewens, ons dankbaarheid.
Die Nagmaal herinner ons dat, al wat ons moet doen om redding te ontvang, is om 'n nederige en dankbare hart te hê.
Voel jy soms dat jy hard moet werk om jou redding te verseker? Is daar iets wat in jou pad staan, wat jou verhoed om eenvoudig net Jesus se gratis geskenk van genade te ontvang? Sien jy dalk Nagmaal as taak of vervelige ritueel, of sien jy dit as 'n herinnering van God se genade?
Gebed
Here Jesus, soms raak ek amper immuun teen die grootsheid van U genade. Wanneer ek bietjie stil staan en nadink oor die Nagmaal, word ek oorweldig deur die feit dat U danksegging gegee het vir die brood en wyn wat U liggaam en bloed verteenwoordig. Dankie vir U offer. Dit is iets wat ek seker nooit ten volle sal begryp nie, maar ek aanvaar dit met 'n dankbare hart. Amen.
2021-02-20 – Lydenstyd Dag 4 (Kliek hier vir die klankgreep)
20Teen die aand het Hy saam met die twaalf vir ete aangeleun. 21Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” 22Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” 23Hy het geantwoord: “Die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. 24Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” 25Judas, sy verraaier, sê toe daarop: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Jý het dit gesê.” – Matteus 26:20-25 AFR20
Ons ken hierdie verhaal redelik goed en kan dit amper duidelik in ons gedagtes sien: ’n Groep mans met lang baarde en wynbekers om ’n tafel. Hulle lyk almal redelik gelukkig, maar een van hulle kwaadwillig. Hy lyk anders, asof daar iets boos oor sy gesig geskryf is... dis Judas, die verraaier.
In die laaste maaltyd voor Sy kruisiging, eet Jesus saam met Sy verraaier. Hy gee vir Judas genoeg kans om berou te hê en hom te bekeer. Jesus gaan so vêr om Judas se sonde reguit, sonder doekies omdraai, uit te wys, maar Judas het homself ook al verraai... Sy hart is verhard. Hy glo die leuen en vra selfs vir Jesus: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?”
Judas het geweier om sy sonde te erken. Hy het geweier dat God se regverdige oordeel deur sy trotse selfbehoud deurdring. Hierdie is eintlik ’n baie hartseer oomblik vir Jesus en vir Judas. Jesus word verraai deur ’n vriend en die vriend het geleentheid om deur God vergewe te word, maar hy weier om sy sonde te bely.
Miskien verraai ons nie opsetlik vir God nie, maar miskien tog. Miskien hou ons maar net aan met dieselfde sondige maniere. Miskien laat ons toe dat sondige oortuigings ons ook breek, soos Judas.
Word stil en dink: Waarvan oortuig die Heilige Gees my? Is daar dalk dele van my lewe waarvoor ek verskonings maak en nie God se stem van oortuiging toelaat om my te verander nie?
Gebed
Hemelse Vader, wys my die dele waar my sonde al gewoonte geraak het, waar dit ongemerk verbygegaan het weens jare se verskonings. Gee my die krag om te verander. Gee my ’n hart wat sag en buigsaam is en oop is vir U oortuiging. Amen
2021-02-19 – Lydenstyd Dag 3 (Kliek hier vir die klankgreep)
17Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” 18Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” 19Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei. – Matteus 26:17-19 AFR20
Oor 6 Vrydae van vandag af, vier ons Goeie Vrydag – een van die donkerste, tog wonderlikste dae in die geskiedenis. In vandag se teks is Jesus se dissipels besig om voor te berei vir die Paasfees maaltyd. Ons lees gewoonlik hierdie gedeelte en veral hierdie drie verse en neem aan dat dit bloot vir kennisname daar is, maar ons let nie op wat hier gebeur nie. Die dissipels wys vir ons drie belangrike dinge van dissipelskap hier: 1. Hulle het na Jesus gegaan; 2. Hulle vra vir Jesus wat hulle moet doen; en 3. Hulle gehoorsaam Hom.
Ons is ook in hierdie Lydenstyd besig om voor te berei vir Goeie Vrydag en Opstanding Sondag. Ons onthou vir Jesus – die Lam geoffer vir ons. Is ons besig met voorbereiding volgens ons eie voorwaardes of Syne? Is ons voorbereiding tydens Lydenstyd blote versierings aan ons eie uiterlike geloof voorkoms – of wag ons op Jesus, terwyl ons na Hom luister en Hom volg in gehoorsaamheid?
Mag ons in hierdie voorbereidingstyd, eerste na Jesus toe gaan, leeg van ons eie agendas. Mag ons in nederigheid wag op ons Here. Mag ons na Sy stem luister. Mag ons nie net luister nie, maar mag ons in gehoorsaamheid ook optree en doen.
Vra jouself weer vandag: Indien ek vas, waarvan vas ek? Wat het ek “opgegee” vir Lydenstyd? Is dit iets waarvan God my oortuig het? Is my voorbereiding meer uiterlik as innerlik? Wag ek op God en is ek voorberei om volgens Sy terme te volg?
Gebed
Hemelse Vader, soms is dit so maklik om weer te verval in roetine en ritueel as dit by vastyd, selfondersoek of afsondering kom. Veral nou in hierdie Lydenstyd. Ons gee onnadenkend die een of ander ding prys, en oortuig ons eie skuldgevoelens om gou-gou ’n effens eiegeregtige mantel aan te trek. Ek bid vir ’n hernieude visie tydens hierdie vastyd. Help my om in ware nederigheid na U toe te kom en U toe te laat om my te snoei soos u wil. Amen.
Lydenstyd Dag 2 (Kliek hier vir die klankgreep - klankgreep sê verkeerdelik dis die 17de, dis eintlik die 18de)
“14Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan 15en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. 16Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.” – Matteus 26:14-16 AFR20
Gister het ons gesien hoe die ander Maria Jesus dien en aanbid in volle oorgawe. Vandag, in algehele teenstelling daarmee, kyk ons na Judas. Die een persoon word gekenmerk deur haar amper uitspattige lofprysing en aanbidding, terwyl die ander een vir altyd geken sal word vir sy verraad. Maria het nie die sente afgetel en eers gewonder hoeveel haar aanbidding en diens gaan kos nie en spandeer al haar geld op baie duur reukolie (oftewel parfuum). Judas, aan die ander kant, sit en tel sy 30 stukke silwer. Die een mens was uitverkoop vir Jesus; die ander het Jesus uitverkoop...
Miskien was Judas nie heeltemal net geldgierig nie. Miskien het hy opgetree, soos baie van ons ook maar optree... Judas tree op, word beïnvloed en aangehits vanuit sy vrees vir mense.
Alles tot op hierdie punt het in elk geval daarop gedui dat Jesus se dood ophande was. Selfs Jesus self het so gesê! Judas vrees oor sy toekoms. Hy vrees vir sy lewe. Hy vrees vir wat met hom gaan gebeur as Jesus sou sterf. Die koninkryk wat hy verwag het, gaan nie realiseer nie en nou moet hy vinnig planne maak om weer in guns van die mense te kom. Inplaas daarvan om te fokus op die Een wat die korrupsie en skynheiligheid van die mense in mag uitgewys en aangespreek het, kies Judas vir die wêreldse mag. Hy laat toe dat die tasbare dinge die ewige hoop opsy skuif.
Vra jouself: Waar is my fokus vandag? Wat is dit wat my optrede motiveer? Is dit vrees vir mense of geloof in God? Is ek gewillig om alles op die spel te plaas vir Jesus of volg ek die wêreldse waardes soos ’n verdwaalde skaap?
Gebed
Hemelse Vader, ek weet dat ek maklik kan beïnvloed word deur die vrees vir mense. Ek onderskryf dikwels die valse idee dat mense my omstandighede beheer, eerder as ’n soewereine, liefdevolle God. Ek bid dat ek U die regmatige plek op die troon van my lewe sal gee. Ek bid dat geloof my besluite sal dryf – nie vrees nie. Amen
2021-02-17 – Lydenstyd Dag 1 (Kliek hier vir die klankgreep)
6Toe Jesus in Betanië in die huis van Simon die Melaatse was, 7het 'n vrou na Hom gekom met 'n albasterfles baie kosbare reukolie, en dit oor sy kop uitgegiet terwyl Hy vir ete aangeleun het. 8Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en vra: “Waarom hierdie verkwisting? 9'n Mens kon dit vir baie geld verkoop het, wat aan die armes gegee kon word.” 10Toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het immers 'n goeie daad aan My gedoen. 11Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. 12Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. 13•Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” – Matteus 26:6-13 AFR20
Indien jy nog nie heeltemal seker is, waaroor Lydenstyd (in Engels is dit Lent) gaan nie, moenie bekommer nie. Sien, Maria, die suster van Martha en Lasarus, het dit mooi verstaan en gee vir ons die voorbeeld in vandag se teksgedeelte. Sy’t moontlik besef dat Jesus nie vir nog baie lank met hulle gaan wees nie – al het die dissipels nog gesukkel met die hele idee.
Haar reaksie en antwoord op Jesus se dood wat al nader sluip, is eintlik baie mooi: Sy aanbid en dien Hom! Nie net normale diens en aanbidding nie, maar met oorgawe en geen terughou nie. Sy gee nie om wat dit van haar vra of kos nie. Dit was ’n eerbiedige aanbidding, ’n buitengewone aanbidding, miskien selfs ’n irrasionele aanbidding. Sy’t nie haar horlosie dopgehou of gekyk hoeveel geld in haar beursie gaan oorbly of wie haar sien of na haar kyk en dalk oordeel nie.
Nee, sy’t net vir Jesus gekyk. Oë gefokus op haar Here. Hy alleen was die fokus van haar aanbidding. Niks en niemand om haar kon haar daarvan verhoed nie.
Wat is ons reaksie en antwoord op Jesus aan die kruis? Bied ons Hom ’n offer van ware aanbidding en lof? Of is ons aanbidding en opoffering, veral nou in Lydenstyd, meer vir ons eie gewin?
Gebed
Hemelse Vader, help my om U te aanbid op ’n manier wat werklik alles van my vat. Help my om U nie net met my woorde lief te hê nie, maar met my hele siel, my verstand, my krag en my hart. Laat my nooit met louwarm aanbidding tevrede wees nie, maar laat my brand met die geloofsvlam wat aangevuur word deur ’n diepe eerbied vir u. Amen.