Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-11-15 – God is Getrou. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom”. – Hebreërs 10:23-25 (AFR83)
Hoe dikwels verloor ons tog nie hoop nie? Dinge kan dan so maklik skeefloop in ons lewens en ons sukkel dan om positief te bly. Veral wanneer ons iets beplan het en dan gebeur die lewe (of selfs die dood!). Die skrywer van die Hebreërbrief herinner ons hier dat ons moet styf vashou aan die hoop wat ons bely. En die rede wat hy gee is nie sommer enige rede nie. Hy gee vir ons ’n rede wat vir ons sonder twyfel laat: God is getrou! Nog nooit in die geskiedenis het God die mens in die steek gelaat nie. Die ander kant is wel waar... Die mens het God al baie in die steek gelaat en dan, wanneer God sy seën weerhou, wil dit vir ons menslike oë voorkom asof God ons in die steek laat. Maar dit is nie waar nie. God is getrou. Hy doen wat Hy beloof het. Hy is altyd met ons... Ja, eintlik seën Hy ons nogsteeds, selfs al laat ons Hom in die steek.
Die Here het beloof dat Hy vir ons ’n God sal wees en dat ons Sy kinders is. Vir ons almal wat bely dat Jesus Christus die Here is, is die belofte van God se liefde, vrede en teenwoordigheid ’n realiteit. Moet dus nie dat die lewe jou onderkry nie. Ons God is groter as die lewe. Hy is getrou en Hy is by jou. Besef dit wanneer ander mense jou bystaan. Besef dit wanneer ander liefde en barmhartigheid aan jou betoon. Besef dit wanneer jy self aan ander goeddoen en liefde betoon.
Tydens die verskillende vlakke van inperking wat ons in die laaste jaar en ’n half deurgemaak het, kon die samekoms van die gemeentes nie gebeur nie, maar die kerk is nie daar om net kerk te wees nét by ’n erediens nie. Deesdae kan ons darem weer almal saamkom in eredienste, maar wat gebeur na Sondae? Ons moet in die tussentyd ook kerk wees oral waar ons is – soos die Here dit beplan het. Ons kan ook saamwees in die Gees – ja die Heilige Gees wat ons saambind – oral waar ons is en gaan. Mag ons nie verslap in ons geloof nie. Mag ons vashou aan die hoop wat ons bely. Mag ons aanhou om dit te bely. Onthou: God is getrou.
Genade en vrede vir jou.
2021-11-13 – Oordeel begin in God se huis. (Kliek hier vir die klankgreep)
“17Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? 18Want: “As die •regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word?” – 1 Petrus 4:17-18 (AFR20)
In die eerste brief wat Petrus skryf aan die verspreide Christene, bied hy aan hulle hoop deur voor te skryf dat hulle rustig en eerbiedig lewe, dat hulle konflik moet vermy. Hy sê dat hulle Christus moet naboots – Hy wat self gely het en nie wraak geneem het nie – sodat hulle deur God verlos kan word. Die oordeel kom en dan sal God alles regstel.
Maar hoe kan ons dit doen in ’n land waar ongeregtigheid seëvier? Waar ’n leier soos Nelson Mandela ook gely het om sy mense se vryheid te verseker en onderdrukking en diskriminasie uit die weg te ruim. Hy het ook nie wraak geneem nie en het probeer om uiteindelik ’n plek van vrede en geregtigheid te bewerk, waar mense vry en geseënd sal wees. Nelson Mandela het wel foute gemaak in sy verlede, maar tog het hy probeer om sake reg te stel. Nou, as dit waar is van Mandela, hoeveel te meer van Jesus – wat nooit enige foute gemaak het nie, wat nooit gesondig het nie.
Mandela het gely ter wille van geregtigheid, sodat daar ’n land kan wees waar geregtigheid die norm kan wees. En tog is dit nie. Werkloosheid is die hoogste as wat dit ooit was; geweld, moord, verkragting en korrupsie gebeur elke dag; vroue en kinders word mishandel; M.I.V. infeksies is van die hoogste in die wêreld; buitelanders vanuit Afrika word aangeval en vermoor... In kort, was Mandela se lyding vir die bevryding van ’n land, maar daardie bevryding is vêr van klaar. Inteendeel, het talle mense hulle vergryp aan ’n verwronge definisie van vryheid. Dit is hartseer, frustrerend en eenvoudig onaanvaarbaar soms.
Maar Jesus se lyding was nie net vir ’n land nie. Dit was nie net vir die Jode nie. Jesus se lyding was vir die bevryding van die hele wêreld. En daardie bevryding – ’n algehele bevryding van liggaam, gedagtes en gees – is ook baie vêr van vervolmaak, selfs in die lewens van diegene wat Hy uitverkies het – die kerk. Die kerk, van alle plekke, is waar ware bevryding en verlossing gesien moet word.
Die eerste lesers van 1 Petrus was opgeroep om reg te lewe deur hulle vir ’n kort rukkie aan onderdanige gedrag en lyding te onderwerp (1 Petrus 3:6; 5:10). Hierdie lyding en onderdrukking was vir die welsyn en oorlewing van die familie van gelowiges, terwyl hulle op die wederkoms van Christus gewag het. Ons word ook vandag nog geroep om regverdig op te tree in ons eie kontekste van lyding. Ons is diep bewus daarvan dat ons as ’n familie van gelowiges ander uitdagings in die gesig staar as die kerke wat Petrus eers aangespreek het. Wat hierdie wêreld en ons land veral nodig het, is dat God se kerk weer God se kerk is. Dat die wêreld kan sien hoe ware, Goddelike geregtigheid en regverdigheid werk en hoe God se liefde selfs die ergste haat kan oorwin.
God se liefde en genade begin by ons, maar ook só, God se oordeel. Maak jou vry van die kettings wat jou boei. Leef vry, want Jesus Christus het jou vrygekoop!
Mag die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees. Amen
2021-11-12 – Die tema van die Bybel. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soms kan die Bybel nogal baie kompleks wees – ingewikkeld. Soms is dit eenvoudig. Maar, wat is die eintlike idee, die tema agter al die verhale en vertellings en onderrig wat in hierdie antieke Boek opgeskryf is? Liefde. Ja, natuurlik! Liefde is die oorheersende tema van God se verhaal.
Wanneer Jesus die Wet opsom in Markus 12, Matteus 22 en Lukas 10, is dit nie iets nuuts wat Hy sommer uitgedink het nie. Hy bevestig net wat reeds in die Ou Testament reeds geleer is: Wees lief vir God met alles wat jy is en het, en wees lief vir jou naaste. Liefde moet wen. Volgers van die Here se lewens moet gekenmerk word en uitstaan bo ander mense s’n, omdat dit gevul is met ware liefde, vergifnis en self-opoffering. Dit is nie ’n aardse, wêreldse liefde nie – dit is God se liefde, onvoorwaardelike self-opofferende liefde.
Ons vermoë om lief te hê begin met die ontvangs en diepe bewuswording en aanvaarding van God se liefde vir ons. Uit hierdie reservoir stort ons liefde na mekaar uit. Die teenwoordigheid van God se Gees in ons, wat deur ons werk om ons selfgesentreerdheid te oorkom ten gunste van ons liefde vir ander, bevestig dat ons waarlik kinders van God is.
“10Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. 11Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. 12Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom.” – 1 Johannes 4:10-12 (AFR20)
Elke dag, terwyl ons ons lewens uitleef, het Jesus ons onvoorwaardelik en self-opofferend lief, en Hy bied aan ons voortdurende vergifnis. Hy vra van ons, Sy volgelinge, om dieselfde in ons verhoudings te bied. Hoekom? Want hierdie nuwe soort liefde stel ons in staat om by gesonde verhoudings betrokke te wees en ook vry te wees om God se liefde aan die wêreld te wys.
Jesus se liefde in ons harte, maak dit moontlik vir ons om daardie mense lief te hê wat ons nooit vantevore kon liefhê nie.
Om oor te dink vandag:
Is ek toegewy om God en ander lief te hê? Watter verskil maak hierdie liefde in die manier waarop ek lewe?
Gebed:
Dankie Here, dat U my eerste liefgehad het. Dat U my nogsteeds lief het, al is ek sondig en onvolmaak. Help my om U lief te hê en uit dankbaarheid en gevul met U liefde ander ook lief te hê – selfs dié wat ek gedink het ek nie kan liefhê nie. Amen
2021-11-11 – Op en af... (Kliek hier vir die klankgreep)
In amper al Paulus se briewe sien ons ’n ware menslike worsteling binne iemand tussen die goeie en die slegte van die lewe. Hy skryf iewers opgewek en vol vreugde en hoop en die volgende oomblik verval hy amper in depressie en smeek die gemeentes om hom te help en te bemoedig. Dan kom ons aan die einde van 2 Korintiërs, in die 12de hoofstuk, en sien ons weer hierdie patroon:
“1As daar dan geroem moet word, is dit nie voordelig nie; maar ek kom nou by gesigte en openbarings van die Here. 2Ek weet van 'n man in •Christus wat veertien jaar gelede tot in die derde hemel weggeruk is – of dit in die liggaam of buite die liggaam is, weet ek nie, God weet dit. 3Ek weet ook van so 'n man – of dit met die liggaam of sonder die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – 4dat hy weggeruk is tot in die paradys, en onuitspreekbare woorde gehoor het wat 'n mens nie mag noem nie. 5Op so iemand sal ek my beroem, maar op myself sal ek my nie beroem nie, behalwe oor my swakhede. 6As ek my wel daarop wil beroem, sal ek nie dwaas wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan, sodat niemand meer aan my sal toedig as wat hy van my sien of by my hoor nie, 7selfs met inagneming van die buitengewone aard van my openbarings. Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van Satan, om my met die vuis te slaan. 8Hieroor het ek die Here drie maal gesmeek dat dit van my moet wyk. 9Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. 10Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.” – 2 Korintiërs 12:1-10 (AFR20)
Dit is so asof Paulus die verhaal van enige liefdesverhouding neergepen het. Hy skryf van die ontmoeting, die opgewondenheid net om oogkontak te maak. Die eerste dae gevul met energie en verliefdheid, die troudag en helder drome van ’n lewe saam. Hierdie dae is gevul met geluk en maniere waarop ons ons maat dra op die strome van oorwinning.
Maar dan kom daar ook die dae wat amper verbygaan sonder dat ons dit eers agterkom. Dae gevul met trane kom ook. Ons voel die doring van siekte, verlore geleenthede, dom foute, gebroke beloftes... Ons seepborrel van opgewondenheid word gebars en ons positiewe energie ontsnap. Duisternis word ons enigste vriend... Wat sê ons nou?
In sulke tye, moet ons weer saam met Job daaraan herinner word dat nie alle lyding van God kom nie, en dat geen lyding buite God se sorg is nie. Miskien moet ons saam met Paulus aanspraak maak op ’n groter perspektief wat verhoed dat ons te lank in die donkerte van depressie vassit.
Sonder om pessimisties te wees, wil ek vandag vir jou sê: As vandag die beste dag van jou lewe is, sal dit nie hou nie. Vandag voel jy dalk dat jy op hopeloos se stoep sit... dit sal ook nie hou nie. Wat ook al jou na hierdie oomblik gebring het, is slegs deel van die storie van jou lewe en jou verhoudings. Die res kom nog. Plaas dit alles – donker dorings en goue drade – in God se hande, en Hy sal jou onderhou.
Gebed:
Here my God, ek plaas my hele lewe – al my verhoudings – my seer, my blydskap, my dorings in my vlees en my goue drade van geluk en vreugde; alles in U hande. Ek vertrou op U dat U my sal dra en my sal onderhou, want U genade vir my, is genoeg. Amen
2021-11-10 – ’n Medisynemaat vrolikheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Gister het ons vir ’n oomblik stilgestaan en reflekteer oor die diep seer wat elkeen van ons een of ander tyd in ons lewens deurmaak. Maar almal van ons wil tog vrolik wees. Ons wil vreugde ervaar. Ons weet dat God ons deur moeilike tye dra en dat ons wel weer sal glimlag en dans en vrolik wees, maar wat maak ’n vrolike hart? Wat veroorsaak weer vreugde in ons lewens, as alles om ons donker lyk? Salomo sê in Spreuke 17:22 (AFR20):
“22'n Vrolike hart is goed vir herstel, maar 'n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog.”
Vra maar enige ouer en hulle sal vir jou sê dat ’n huis vol lag en speel en sang, is die dinge wat ’n hart vrolik maak. ’n Huis waar mense oor die weg kom met mekaar en mekaar lief het. Eenvoudige goedjies om te noem, maar wat ’n uitdaging is dit darem om dit altyd uit te leef.
Eerstens, vir ’n huis om gevul te wees met lag en speel en sang, moet iemand ’n vrolike hart handhaaf te midde van verskillende familie style en geaardhede. Iemand moet die regte atmosfeer handhaaf om ’n huis ’n lekker plek te maak – ’n plek waar die hart is. Nou ja, dit vereis soms baie harde werk en ’n mens kan nie altyd maar net “happy-go-lucky” wees nie. Soms moet mens streng en kwaai wees, maar ’n mens moet kan terugkeer na die vrolikheid.
Tweedens, vir ’n huis om gevul te wees met mense wat oor die weg kom en lief is vir mekaar... Sjoe, dis nie altyd maklik nie. Vra maar enige ouer met tieners waar persoonlikhede met die spoed van lig ontwikkel en wissel. Tog kan ons die gemeenskaplikhede – die dinge wat almal in gemeen het – vind, daarop fokus en tyd spandeer daarin. Die belangrikste hiervan natuurlik, moet wees die gemeenskaplike liefde vir God. As gesinne en families en vriende meer oor God praat, en selfs saam bid en Bybelstudie doen, begin hulle meer oor die weg kom met mekaar en bemoedig hulle mekaar. Hulle begin self mekaar se geselskap geniet! Die etenstafel is dikwels ’n goeie plek hiervoor. So, los nou maar die TV etes en maak tyd om by ’n tafel of iewers anders saam te sit.
Derdens, om mekaar lief te hê... Paulus leer ons in 1 Kor. 13 dat liefde geduldig en sagmoedig is. Liefde hou nie boek van die kwaad nie – dit vergewe. Liefde is gewillig en is bereid om die ander persoon se standpunt in te sien. Hierdie kwaliteite moet ingeoefen word...
Salomo sê dat ’n vrolike hart goed is vir herstel en hierdie bestanddele in jou huis, kan sorg dat jou huis vrolik is en gevul is met vreugde. Met ander woorde: ons almal word een of ander tyd siek – ons raak hartseer en voel soms heeltemal stukkend – en ons het hierdie genesing, hierdie herstel nodig. Maak jou huis, jou werk, jou plek waar jy jou bevind, ’n plek van herstel. Waar jy en almal om jou genesing kan vind.
Net soos kinders medisyne sal drink as dit lekker smaak, is vrolikheid daardie tipe goeie medisyne.
Om oor te dink vandag:
Is my huis, my werksplek, my omgewing vrolik? Wat kan ek doen om die atmosfeer te verander? Wat kan doen om meer vrolikheid te skep?
Gebed:
Here, gee aan my ’n vrolike hart. Help my om plekke te skep waar genesing plaasvind in ’n seer en stukkende wêreld. Help my om by die huis te begin. Mag ons U liefde en die kenmerke van die liefde in 1 Kor. 13 begin uitleef, tot U eer alleen. Amen
2021-11-09 – Deel in die bemoediging. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit voel soms of ons in die laaste jaar en ’n half amper te veel smart ervaar het. Asof ons heeltyd rou. Ons hoor en weet en ken mense wat deur diepe smart gaan. Skielik het daar ’n ekstra siekte op die toneel verskyn wat chaos maak. Die persentasie sterftes is dalk nie so hoog soos ander siektes nie, maar dit dra by – dis ekstra – en ons almal het op een of ander manier met hierdie ekstra rou te make gekry.
In die laaste klompie jare het ek al so baie kere by grafte en gedenkmure gestaan waar die rou so wreed is, dat dit jou hele menswees herdefinieer. Jy sien hoe dit die familie heeltemal verlam. Net ’n paar dae vantevore was almal besig met hul normale lewens, maar op daardie oomblik, by die kis, staan alles stil. Hier en daar vul ’n paar woorde die geskokte stilte, maar dit is leë, stom woorde. Daarna beweeg almal aan. Hulle keer terug na hul alledaagse lewe. Almal geklee met dieselfde donker kombers van smart.
Ons wag vir God om alles heel te maak, reg te maak. Dat Hy ons rooi-behuilde oë sal wegneem. Dat Hy ons woede – soms op Hom gerig – sal wegneem. Dat Hy ons skuldgevoelens sal wegneem – skuldgevoelens omdat ons nog kan lewe en kan gelukkig wees, terwyl ons geliefde dood is. Ons verdien nie om gelukkig te wees nie, voel ons.
Liewe mense, hierdie is die realiteit van diep smart. Dis rou. Dis seer. En selfs al is jy lief vir God en weet jy dat Hy jou oneindig baie lief het, vat genesing tyd. Jy móét deur die see van trane werk. Jy moet op jou eie ontdek dat die son nog skyn en dat jy maar mag glimlag. Jy moet ontdek dat gebed nie gaan oor antwoorde soek nie, maar eerder oor ’n verlange om God se perspektief. Maar hoe? Hoe doen ons dit? Paulus skryf in 2 Korintiërs 1:3-7 (AFR20):
“3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! 4Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; 5want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus. 6As ons dan verdruk word, is dit ter wille van julle bemoediging en redding; as ons bemoedig word, is dit ter wille van julle bemoediging, wat tot uitdrukking kom deurdat julle met volharding dieselfde lyding verduur as wat ons deurmaak. 7Ons hoop vir julle is seker, omdat ons weet dat, soos julle deel het aan die lyding, julle ook so deel het aan die bemoediging.”
Ja, dit gebeur nie oornag nie. Daardie diepe seer en rou gaan nie sommer net weg nie. Maar wanneer jy waarlik begin steun op God, op ons Here Jesus Christus wat self diep hartseer deurgemaak het, dan kom jy agter dat jy daardie donker kombers maar kan afgooi. Jy kan dit maar netjies oppak en wegbêre. Jy hoef dit nie te haat nie. Jy hoef dit ook nie te probeer vermy of weerstaan nie. Want onder daardie kombers, het wonderlike dinge gebeur – dinge wat slegs kan gebeur wanneer Goddelike hoop bots met ’n stukkende wêreld. Ja, dis maklike woorde vir my om te praat, maar dit vat tyd. Wees geduldig en hou aan vertrou.
Jy kan weer glimlag. Jy kan weer dans. Jy kan weer sien hoe God nog vir jou ’n plan het.
Baie sterkte met jou seer. Indien jy reeds daardeur is, wees daar vir ander. Deel in die bemoediging.
Mag die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees.
2021-11-08 – Sekuriteit. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag het mense allerhande ekstra soort sekuriteit in plek. Van fisiese sekuriteit by jou huis, tot aftree polisse en pensioen. Die mens probeer om op alle maniere voorsorg te tref, om veilig te wees, om ’n bietjie sekerheid te hê in onsekere tye. Maar, weet jy, ware sekuriteit kan slegs gevind word in die genade en barmhartigheid van God. Dit was die geval vir die Israeliete. Alhoewel hulle keer op keer teen God in opstand gekom het en Sy geduld met hulle konsekwente terugkeer na afgodediens getoets het, het Hy hulle net so konsekwent daaraan herinner dat hulle sy uitverkore volk was en is.
“8“Maar jy, Israel, my dienskneg, Jakob, wat Ek uitgekies het, nakomeling van Abraham, my vriend, 9jy, die een wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde af, wat Ek van sy vêrste dele af geroep het, vir jou het Ek gesê, ‘Jy is my dienskneg!’ Ek het jou uitgekies, jou nie verwerp nie. 10Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand. 11Kyk, hulle sal beskaamd staan en verneder word – almal wat vir jou kwaad is. Hulle sal soos niks wees en tot niet gaan, daardie manne wat teen jou 'n regstryd voer. 12Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, daardie manne wat teen jou stryd voer. Hulle sal soos niks, soos iets niksseggends wees, daardie manne wat teen jou oorlog voer. 13Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand vas, Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie – Ek is die Een wat jou help.’ 14Moenie bang wees nie, wurm Jakob, mense van Israel, Ek is die Een wat jou help!” is die uitspraak van die Here. “Jou losser is die Heilige van Israel.” – Jesaja 41:8-14 (AFR20)
Die volk Israel het nie hierdie reg verdien nie; hulle het dit nie op hul eie nagestreef nie. Inteendeel, God se keuse vír Israel was eerder gebaseer op Sý welbehae en Sý wil. Om dié rede is Sy keuse van ’n volk, ’n uitverkore groep mense, om Sy begunstigde mense te wees ook tot Sy groot eer alleen. Omdat God se keuse van Sy volk op Homself en vir Homself gebaseer is, kom sekuriteit nie daarin om ’n aanspraak op persoonlike geregtigheid te maak nie, maar eerder in die wete en vertroue dat God sy beloftes aan Sy volk nakom.
Soos die Israeliete in daardie tyd, kan ons ook vry wees van vrees. Ons kan op God se krag vertrou. Ons kan weet dat God uiteindelik sal oorwin, en dat ons in daardie oorwinning sal deel. Dit is nie omdat ons enigsins geregtig is om so iets te verdien of kan verdien nie, maar slegs omdat ons gekies is om die ontvangers van God se genade in die offer en opstanding van Jesus Christus te wees.
Wat ook al jou situasie en wat ook al jy oor wonder en twyfel – selfs al voel jy ook so laag soos ’n wurm, soos Israel destyds – God se Woord is vandag nogsteeds vir jou ook, wanneer Hy sê: “Moenie bang wees nie – Ek is die Een wat jou help.”
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U my gekies het. Help my om vreesloos te lewe en volkome op U krag te vertrou. Amen
2021-11-06 – Sterk fondasies. (Kliek hier vir die klankgreep)
Deur die eeue het daar al baie sterk families hulself bewys as formidabele forste in die samelewing. Vandag nog, vind ons dat daar selfs in Suid-Afrika ’n hele paar families en groeperinge is wat deur jare en jare se harde werk hulself gevestig het. Party groepe, partye en selfs families het op ander maniere ook mense geword met redelike mag en gesag. Soms wonder ons – wens ons – dat ons dalk ook eendag ’n erfenis kan laat. Ons wil ook graag dat ons nageslagte goeie mense met genoeg sal wees. Ons begeer dit amper en ons wonder hoe ons dit kan doen.
Maar een ding wat ons ook in die geskiedenis vind, is dat meeste van hierdie families en groeperinge – selfs sterk politieke partye en regerings – nie hou nie. Iewers kom hulle tot ’n val. En in meeste se gevalle, is dit as gevolg van hul fondasie – dít waarop hulle bou. Salomo skryf:
“As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. 2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. 3Kyk, seuns is 'n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is 'n beloning. 4Soos pyle in die hand van 'n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. 5Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie.” – Psalm 127 (AFR20)
Ja, selfs die beste geboude huis sal in duie stort sonder God. Die mees bewaakte stad sal voor sy vyande val as God nie na binne genooi word nie. En selfs ’n loopbaan – jou daaglikse werk – wat gedefinieer word deur vroeg opstaan en laat uitbly, sal nie slaag as God nie in die middel daarvan is nie. ’n Huis wat vol liefde is, maar sonder God se liefde, kan nie staan nie.
Niemand is slim genoeg, mooi genoeg of ryk genoeg om die reis van die lewe suksesvol te navigeer sonder God se hulp nie. Trouens, ’n oorvloed van wêreldse hulpbronne kan ons dikwels te groot vertroue in ons eie vermoëns gee en ons kwesbaar maak vir foute in oordeel.
Soms voel dit of die mure om jou begin in duie stort. Soms gebeur dit. Onthou: ons almal bou ons geestelike huise. Soms is daar heelwat bourommel tussenin en soms is dit nodig dat dit oor gebou moet word. Soms moet ons van vooraf bou en dan moet ons bou op die enigste ware fondasie vir ’n sterk huis. Moenie alleen bou nie. Laat God die huis bou. Laat Hy die middelpunt wees van jou bestaan – huis, werk, familie, alles.
Om oor te dink vandag:
Is my fokus dalk partykeer te veel op my werk en wat ek moet vermag? Verstaan ek dat God belangriker is as my werk en alles wat ek het? Kan ek my daaglikse werk, verhoudings en alles in my lewe meer geniet met minder of meer ure? Wat as ek God meer deel daarvan maak?
Gebed:
Dankie Here dat U in beheer is. Dankie dat my erfenis by U is. Help my om alles wat ek aanpak, saam met U te doen. Wees U die Een wat my lewe bou. Tot U eer. Amen
2021-11-05 – Wat geld nie kan koop nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
In ons alledaagse taal gebruik ons gedurig finansiële terme – veral wanneer ons praat oor verhoudings: “Ons waardeer ’n vriend/in. Ons belê in vriendskap. Ons stel vriendskap of ’n verhouding hoog op prys”... Ons gebruik soms, sonder dat ons dit agterkom, ons liefde in verhoudings, soos geld: om te kry wat ons wil hê.
Kyk bietjie na jou eie verhoudings (ook jou huwelik as jy getroud is): Gee jy liefde, tyd, geduld – sonder voorbehoud, onvoorwaardelik? Beïnvloed die ander persoon se optrede jou gesindheid van gee? Is jou liefde vir ander mense voorwaardelik? Gebruik jy liefde soos geld?
Sien, dít is nie hoe Christus se liefde en genade werk nie. God se liefde is nie afhanklik van my goeie gedrag nie – daar is geen manier waarop ek Sy genade of redding kan verdien nie. Jesus Christus het Sy lewe vir my gegee en God het my in Sy familie verwelkom, omdat ek vertrou en glo in dít wat Christus vir my aan die kruis gedoen het. God gee genade, redding en gawes aan dié wat glo. Jy kan dit nie verdien nie. Jy kan dit nie koop nie.
In Handelinge 8, bid Petrus vir die apostels en, met handoplegging, ontvang hulle die Heilige Gees. Simon, die towenaar, sien dit en wil ook graag hierdie “mag” hê.
“18Toe Simon sien dat die Gees deur die handoplegging van die apostels geskenk word, het hy hulle geld aangebied, 19met die woorde: “Gee vir my ook hierdie mag, sodat elkeen vir wie ek die hande oplê, die Heilige Gees ontvang.” 20Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou in die verderf beland, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry!” – Handelinge 8:18-20 (AFR20)
Simon die towenaar het nie besef dat sommige dinge in die lewe van onskatbare waarde is nie. Hy wou so graag ook hierdie nuwe truuk in sy sak hê. Petrus se antwoord aan hom is nogal ’n sterk en streng uitspraak, maar Petrus maak dit duidelik dat die gawes van God deur God se genade en goedheid alleen gegee word nie; hulle kan nie verdien of gekoop word nie.
Ons pogings om vrye en onvoorwaardelike liefde en vriendelikheid aan ander te bied, soos Jesus sou, is ’n lewenslange uitdaging. Ons is al só erg gekondisioneer met ’n verbruikersmentaliteit, dat ons maar sukkel om te aanvaar dat sekere dinge onvoorwaardelik is – soos God se liefde. Ons sukkel om daardie kopskuif te maak dat ons ander kan liefhê, sonder om iets terug te verwag of sonder dat hulle moet dink hulle “skuld” ons. Dit beteken dat ons by ons huise en ook in ons werksplekke of selfs op straat, ander moet liefhê, selfs al dink ons dat hulle nie ons liefde “verdien” nie.
God se onvoorwaardelike liefde aan ons is veronderstel om die gevolg te hê van ’n lewe van dankbaarheid aan ons kant. So ook, in ons verhoudings, is dit dikwels die gevolg dat ons onvoorwaardelike en soms “onverdiende” liefde, ’n ommekeer in die ander persoon tot gevolg het – maar, daar is geen waarborge nie. Op die ou end moet ek en jy kies om ons liefde vrylik te gee, nie in ’n poging om die ander persoon te manipuleer of daardie persoon te kry om ons goed te behandel nie, maar net omdat ons die Here wil behaag.
Geld kan nie blywende liefde koop nie, en ons moet nie ons liefde soos geld wil gebruik nie. God het ons lief, sonder voorwaardes. Ons kan nie Sy liefde koop nie. Ons kan ook nie ander se liefde koop nie. God gee Sy Gees ook aan ons wat glo. Hy besluit hoe en waar en wat. Ons kan dit nie verdien nie; nie koop nie. En deur Sy Gees wat in ons werk, kan ons Sy liefde, genade en vrede ook onvoorwaardelik deel.
Gebed:
Dankie Here, dat U my onvoorwaardelik lief het. Help my om ook onvoorwaardelik lief te hê. Dankie dat U U Gees en U gawes vrylik gee aan wie U wil. Vul my met U liefde. Laat dit borrel in my, sodat dit uitvloei na almal daar buite wat U só nodig het. Amen
2021-11-04 – Hoë standaarde. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Matteus 5-7 vind ons die bergrede – ’n gedeelte waar Jesus teen ’n berg opgegaan het en vandaar ’n hele klomp wyshede met die mense gedeel het en hulle geleer het.
Wanneer ons dit lees, dan vul dit ons met blydskap en hoop. Jesus leer ons dat ons die lig is vir die wêreld; dat ons moet hou by die Vader se gebooie; dat ons moet bid; dat ons moet goeddoen aan ander; dat ons reg moet lewe; dat ons moet weet wat belangrik is in die lewe. Dit is ’n wonderlike gedeelte en dit motiveer ons gewoonlik as ons dit lees, maar is hierdie standaarde nie ’n bietjie hoog gestel nie? Matteus 5:3-12 (AFR83) bevat die saligsprekinge:
“3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.””
Die Bergrede is deur die eeue heen al die grondwet genoem vir die burgers van God se koninkryk. Maar as ons mooi gaan kyk daarna, dan sien ons dat óns – gebrekkige, onvolmaakte mense – baie selde hierdie vlak van volmaaktheid in hierdie lewe bereik het of sal bereik. Wanneer Jesus die saligsprekinge in hoofstuk 5 begin, dan het Hy juis ons onvermoë in gedagte: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (v. 3). Sien, diegene wat hul geestelike armoede erken – wat erken dat slegs God se Gees ons kan vul met ’n volheid wat die wêreld nooit kan nie, is in die beste posisie om God se seën te ervaar en Sy koninkryk te geniet.
Ons verlossing en hoop op ’n ewige lewe in die hemel is stewig gewortel in die genade van God (Ef. 2:8) – niks is uit eie verdienste nie. Tog sal God se genade positiewe, tasbare veranderinge in ons lewens teweegbring. Selfs wanneer ons pogings tot mislukking lei, moet ons aanhou probeer en vertrou. Die saligsprekinge moet nie gelees word as ’n Eutopiese wens nie. Dit is vir ons ’n etiese model om volgens te leef. Dit is ’n plan vir ons wat ook ’n verklaring van afhanklikheid van God vereis.
Dalk lyk die standaarde ’n bietjie hoog vir jou, maar jy moet onthou dat jy in hierdie wêreld is, maar nie van hierdie wêreld is nie. Jou eindbestemming en die Een waarop jou hoop gevestig is, is vêr bo hierdie wêreld verhewe. So ook, moet jou standaarde wees.
Die saligsprekinge beskryf die lewe van seën wat God van die begin af vir die mensdom bedoel het. Hoe nader ons aan Jesus se standaarde kom, hoe meer ervaar ons die seën van God.
Gebed:
Here, ek is in alles afhanklik van U. U is my God en my Koning. Help my om naby aan U te leef en te doen wat U vra. Laat ek U seën in my lewe ervaar. Amen
2021-11-03 – Die finale hou! (Kliek hier vir die klankgreep)
In die tuin van Eden het God alles vir die mens gegee – verniet! Die mens is geskape in God se beeld. Daar was wel een moeilikheid... Omdat God ’n liefdevolle God is en ons nie kan forseer om Hom lief te hê nie, het Hy ons geskape met vrye wil – ons kan kies. God gee alles aan die mens en lê slegs een verbod neer: Hulle mag nie eet van die boom van kennis, goed en kwaad nie – anders sal hulle beslis sterf. Natuurlik kom die satan in die vorm van ’n slang en vertel vir die vrou dat dit nie regtig so is nie...
“6Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit 'n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om 'n mens insig te gee. Sy het van die vrugte daarvan geneem, dit geëet en ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Al twee se oë het oopgegaan en hulle het besef dat hulle naak is. Hulle het vyeblare aaneengeryg en vir hulle lendeskorte gemaak.” – Genesis 3:6-7 (AFR20)
Ons ken natuurlik die res van die verhaal: die mens word uit die tuin gejaag – weg van God se teenwoordigheid. En die uiteinde van die mens se keuse teen genade en vír die sonde? Die dood. Ja, God hou Sy woord. As gevolg van die mens se keuse teen genade, sal alle mense sterf. Dit is nogal verdoemend. Treurig.
So kan ons maar gaan kyk na alle rekords van die menslike geskiedenis: dit is die aanhoudende verhaal van die konflik tussen die mag van sonde en die krag van God se genade. Tog, selfs in die tuin van Eden al, reageer God in genade deur te belowe om uiteindelik die mag van die bose te vernietig. Deur die mens se sonde, word geweld, korrupsie en bloedvergieting die wêreld inbring en ons kan getuig vandag dat dit deur die geslagte heen net aanhou vermeerder het. Maar God se genade bied dan aan ’n kinderlose egpaar – albei amper 100 jaar oud – ’n baba. Dan kom die sonde weer en maak slawe van Abraham se nageslag in Egipte. Genade kom verlos hulle weer deur die Rooi See. En so gaan die verhaal aan en aan... Sonde en genade stoei met mekaar om te sien watter een van die twee uiteindelik die sterkste is. Dinge bou op... Die spanning word al meer en stadig maar seker in die geskiedenis word dit dan duidelik dat genade wel besig is om sy posisie te vestig, die oorhand te kry, gereed te maak om sy beslissende en verpletterende hou te slaan...
Genade, in die persoon van Jesus Christus, neem dan menslike vlees aan. Sonde slaan verwoed en probeer die kind doodmaak, maar genade vind vir Hom ’n veilige plek in Egipte – ’n plek waar Sy mense voorheen slawe was. Sonde versoek Jesus – probeer Hom breek. Dit is nie opgewasse tee die genade nie en genade oorwin die versoeking. Die blindes sien. Die verlamdes loop. Demone skree. Sonde maak al sy krag bymekaar vir een laaste stryd, maar genade wen in die mees verstommende wending van gebeure. Daar is Een oor wie sonde geen mag het nie en oor wie die dood geen houvas het nie. Net Hy is in staat om diegene wat gyselaar gehou word deur die sonde wat Adam en Eva in die wêreld toegelaat het, vry te laat. Die finale hou is ’n uitklophou! Genade wen! Liefde wen!
Gebed:
Almagtige God en Vader, dankie dat U my elke dag lei na my finale bestemming saam met U. U het reeds oorwin en U sal, wanneer U weer kom, Here Jesus, die finale oorwinning behaal. Help my om die stryd aan te hou stry, sodat ek ook dag vir dag, bietjie vir bietjie, die stryd kan wen. Deur U krag in my en in die Naam van Jesus Christus, my Here en Verlosser, bid ek dit. Amen
2021-11-02 – Ek droom... (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek droom so dikwels van die vroeë kerk. Ek hoop, wens en droom dat dit die kerk van vandag was. Ek onthou hoe die kerk was toe ek grootgeword het. Toe dinge nog eenvoudiger was. Voordat almal alles geweet het. Voordat Google al jou sogenaamde antwoorde vir jou gegee het. Dit sou darem wonderlik wees as dinge nog so kon wees... Maar dit is nie. Tog kan ek droom...
As jy nou nie weet van die vroeë kerk nie, hoor hoe beskryf Lukas dit in Handelinge 2:
“42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. 43Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. 45Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. 47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.” – Handelinge 2:42-47 (AFR20)
Sjoe, dit sou darem lekker wees as die kerk nog só was! Ek meen, dit is darem lekker as iemand iets vir jou doen, of hoe? Maar ook: dit is darem lekker om vir iemand anders iets te doen. Om te gee en ontvang en om dinge te deel, is darem lekker.
Hierdie verse uit Handelinge beskryf die manier waarop Christene in die vroeë kerk geleef het. Hulle het hulle daaraan gewy om van God en mekaar te leer. Hulle het tyd saam deurgebring en gedeel wat hulle gehad het. En selfs meer indrukwekkend, as een van hulle nie genoeg gehad het nie, sou die ander verkoop wat hulle het om vir die persoon in nood te voorsien.
Miskien dink ons: “Ja, maar dit was eeue gelede! Amper 2000 jaar om presies te wees. Ons leef nie meer so nie. Dinge het verander. Tye het verander...” Dit is wel só. Dinge en tye het verander, maar daar is geen rede om te dink dat God nie wil hê dat Christene van vandag op dieselfde manier moet optree nie. Wanneer een van ons broers of susters in Christus in nood is, moet ons help. Ons moet ons hulpbronne deel – tyd, geld, besittings, talente, energie – om diegene te help wat hulp nodig het.
As Suid-Afrikaners – en veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners – het ons mos ’n sekere soort trots in ons. Ons vra nie vir hulp nie. “Ons mag nie. Niemand mag weet as ons sukkel nie.” En dan leer die wêreld ook mos vir ons deesdae dat ons ons eie potjie moet krap. Ons moet individue wees wat niks vir niemand skuld nie en niks van niemand verwag nie. Wat ’n groot klomp twak!
Die liggaam van Christus is ontwerp om saam te werk. As ons ’n broer of suster se behoefte ignoreer, ignoreer ons Jesus, en verswak ons die liggaam van Christus. Die vroeë kerk het dit moeilik gehad. Hulle het erge vervolging in die gesig gestaar. Maar hulle het saamgewerk, en hulle het sterk gebly. Só moet ons ook.
Ons hoef nie te droom van ’n ideale kerk nie. Ons moet dit wees!
Gebed:
Liewe Heer, dankie vir die model van die vroeë kerk. Maak ons oë oop vir die behoeftes van ons broers en susters en maak ons gewillig en in staat om te help. Amen
2021-11-01 – Jou stem maak saak. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag is weer stemdag. Dalk het jy al gaan stem; dalk moet jy nog; dalk het jy besluit om nie te stem nie. Miskien, teen die tyd wanneer jy hierdie boodskap hoor, is die tyd om te stem al verby. Jy wonder dalk of jou stem ’n verskil sal maak. Jou stem maak ’n verskil. Jou optrede en gesindheid maak ’n verskil. Ek wil nou nie klink soos ’n politiese party nie en wil nou nie op jou demokratiese reg indring nie, maar tog weet jy dit: as jy nie iets sê of iets doen aan ’n situasie nie, kan dit nie verander nie. Daarom maak dit saak wat jy sê en wat jy doen. Dit geld vir plaaslike en nasionale verkiesings en dit geld veral ook vir wat in jou huis aangaan.
In Deuteronomium 11, herhaal die Here weer die woorde wat Hy vir die volk gegee het in Deuteronomium 6:8-9. Dit is die woorde wat Hy gespreek het nét nadat Hy aan hulle die Wet gegee het. Hy het probeer aan hulle verduidelik hoe belangrik dit is vir hulle om reg te leef. Hy sê: “18“Koester hierdie woorde van my met hart en siel. Bind dit as 'n teken om julle hande en laat dit versierings op julle voorkoppe wees. 19Leer dit vir julle kinders deur daaroor te praat wanneer jy in jou huis sit en op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” (Deut. 11:18-19 AFR20)
Baie mense – sommige sonder dat hulle dit eers weet – lees die Bybel asof dit bloot ’n handleiding is om ’n morele lewe te lei. Maar die Bybel is soveel meer as net dit. As ons so dikwels wonder oor hoekom die wêreld lyk soos dit lyk, vertel die Bybel ons hoekom dit so is. As ons sukkel met wie ons is, vertel die Bybel ons meer daaroor. En natuurlik vertel dit ons soveel meer oor wie God is en wat Hy in die geskiedenis gedoen het om ons te verlos. Die Bybel is een van die mooiste realiteit romanne – ’n liefdesverhaal sonder vergelyk – wat ooit geskryf is.
Die Bybel is God se vertelling van geskiedenis, wat begin met die skepping, lei na Christus en eindig met ’n nuwe skepping. Al kom Jesus voor die einde van die verhaal, is Christus die klimaks van hierdie vertelling. Die hele Skrif wys na Hom. En tensy ons weet wie Christus is, kan ons nie die Skrif verstaan nie, want Hy is die sleutel tot die verhaal, die hoofkarakter. Hierdie Skrifbeskouing help ons om nie net die Bybel te verstaan nie, maar ook om te verstaan hoe ons werk- en huislewe – woord en daad – ’n kritiese rol speel in die groot verlossingsverhaal.
Baie mense lees net so nou en dan ’n paar versies van die Bybel hier en daar. Alhoewel dit wel nuttig kan wees, laat dit jou nie toe om die groter verhaal van die Bybel te leer nie. Van Genesis tot Openbaring openbaar God die groot prentjie en doel van Sy verlossing in die geskiedenis en in ons lewens. Die verhaal wat begin in ’n tuin wat wag om gekweek te word en eindig in ’n stad vol van die skatte wat deur die nasies ingebring is. Hierdie begin- en eindpunte verskaf die konteks om ons te help om die belangrikheid van ons werk en ons optrede te verstaan. God red nie net Sy volk nie, maar ook die werk waarvoor Sy volk geskape is.
Daarom maak jou stem saak – in ’n verkiesing en in jou huis en in jou werk. Daarom is dit nodig dat jy God se verhaal van verlossing en liefde en genade goed ken. Daarom moet jy dit koester en oral met jou saamneem en oral verkondig – deur dit aan jou kop vas te maak, jou denke en woorde; en deur dit aan jou hande vas te maak, jou dade. Daarom hoef ons nie sinies te wees oor ons werk of die politiese warboel van ons land nie, veral nie in tye wanneer die gebrokenheid van alles so intens voel nie. As ons die Bybelse narratief verstaan, gee dit ons vertroue en insig wat ons daartoe lei om nie net die gebroke elemente in ons huise, werke en land te identifiseer nie, maar ook met dié dinge wat nog goed is en in die proses om genees te word.
Net soos God se stem regdeur die geskiedenis nog ’n verskil gemaak het, maak jou stem – as Sy verteenwoordiger – ’n verskil. Jou stem maak saak!
Gebed:
Dankie Here Jesus dat U alles gaan kom nuut maak. Help my om positief te bly. Help my en gee my krag om die dinge wat stukkend is en binne my beheer is, heel te maak. Help my om in woord en daad aan U Woord vas te hou. Help my om dit te koester. Help my om dit aan my kinders en al die jongmense te leer. Dat ons U sal ken en op U sal vertrou. Amen
2021-10-30 – Die skepping roep uit! (Kliek hier vir die klankgreep )
Daar is nie veel om van te sing of jubel deesdae nie. Ons leef in deurmekaar tye, gevul met rampe en siekte, verlies van lewens, die verval van waardesisteme en regstelsels, anargie en monopolies... Die mens vernietig homself en die planeet. Tussendeur al die kragte en magte aan die werk in die wêreld, is dit moeilik om te hoor hoe daar nog lofliedere gesing word. Ons wonder selfs of dit nog moontlik is... Tog, tussendeur al hierdie chaos, vergeet ons so maklik dat God nogsteeds alles in beheer het; dat Hy nogsteeds die winde, golwe en alles in die natuur gebied. Hoor wat skryf Dawid:
“2Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. 3Dag ná dag bring dit 'n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee. 4Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie, 5gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld. Vir die son het Hy 'n tent opgeslaan in die hemel. 6Die son is soos 'n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan – vol vreugde, soos 'n held wat op die pad hardloop. 7Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy hitte nie. 8Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. 9Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.” – Psalm 19:2-9 (AFR20)
Alhoewel die natuurlike wêreld homself nie verheerlik nie, val die bulderende waarhede wat in die branders breek en deur die lug sweef op menige dowe ore. Maar die natuur se stem “gaan uit oor die hele aarde” en verkondig die duidelike waarheid dat God op die troon sit en dat Hy oor Sy skepping waak.
In die dorpe en stede, waar rookmis die lug bedek en kunsmatige lig die sterre verdof, kan dit moeilik wees om God se stempel te sien. Natuurrampe en pandemies tref ons dalk meer as ’n voorbeeld van die natuur se willekeurige wreedheid en reaksie op ons onoplettendheid, as die handewerk van ons almagtige God. Sekerlik kreun die skepping onder die vloek van sonde, net soos ons. Ons kan nie voorgee dat ons die redes vir enige rampe verstaan nie, maar ons ken wel die Een wat die heelal beheer, en ons kan aan Hom vashou te midde van die stygende waters.
Dus, die volgende keer as jy ’n blom sien wat tussen die sypaadjie se krake groei, ’n woedende donderstorm of ’n skilderagtige sonsondergang, onthou dat die skepping as ’n rigtingwyser dien wat na Iemand groter as "Moeder Natuur" wys. Dit openbaar die God wat wil hê dat alle mense van alle nasies Sy majesteit moet erken, om die Een te aanbid Wie se oneindige kreatiwiteit en krag die skouspelagtige vertonings in die natuurlike wêreld voortgebring het.
Die natuurlike wêreld is ’n getuienis van God se wonderlike Skeppingsmag en behoort ook die voorwerp van ons ywerige rentmeesterskap te wees. Ons moet egter van die twee uiterstes vlug – óf om die natuur se krag te vrees óf om die skepping te aanbid en nie die Skepper nie. Selfs vandag is die skepping God se universele verkondiging van Sy natuur, wat Sy spesiale openbaring deur Christus en die Skrif onderlê.
As mense wat die skoonheid van die wêreld liefhet en waardeer, mag ons altyd onthou om fyn te luister na die dieper waarhede van God se goedheid en grootsheid wat uit die bruisende stroom fluister of uit die donderslag skree.
Die skepping roep uit! Dit sing tot eer van God! Sing saam!
Vrede vir julle almal!
2021-10-29 – Wanneer julle bid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Is daar ’n regte en verkeerde manier van bid? Ons hoor dikwels mense wat sê daar is nie ’n verkeerde manier van bid nie. Gewoonlik word dit gesê om ander aan te moedig om te bid. Maar, is daar ’n regte en verkeerde manier? En, as God reeds weet waarvoor ons gaan vra en wat in ons harte aangaan, hoekom moet ons dan nog bid?
Jesus sê in Matteus 6:7-8 (AFR83): “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”
Ek het al baie gehoor hoe mense sê dat ’n persoon baie mooi bid. Wanneer ek dit hoor, dan wonder ek altyd of dit is omdat die gebed se woorde mooi of kragtig was, of omdat dit alles gegaan het oor God se verheerliking.
Soos genoem, sê baie mense altyd dat daar nie ’n regte of verkeerde manier is van bid nie, maar Jakobus (4:2-3) sê: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig...” Dus is daar ’n verkeerde manier van bid. Wanneer gebed rondom ons en ons begeertes sentreer, dan kan ons netsowel maar met onsself of iemand anders praat. Jesus leer dan juis ook die dissipels dat gebed eintlik moet gaan oor ons hemelse God en Vader:
Dat ons nie moet vergeet dat Hy almagtig is nie.
Dat ons redding in Jesus Christus alleen is en dat ons ons moet onderwerp aan God se wil.
Dat ons in alles afhanklik is van God: kos, beskerming, sorg, vrede... alles!
Dat ons erken dat slegs by God is daar genade en vergifnis van sonde.
Dat ons op Hom alleen vertrou om ons te lei en te verlos van alle boosheid in die wêreld.
Dat alles aan God behoort. Hy regeer. Hy alleen kom toe alle lof, eer en heerlikheid.
Ja, God weet wat jy wil vra en Hy weet presies wat in jou hart en jou lewe aangaan. Maar, Hy wil dit nogsteeds van jou hoor. Hy wil nogsteeds dat jy tyd met Hom spandeer en jou hart met Hom deel, sodat Hy ook Sy hart met jou kan deel. Bid sonder twyfel en glo dat alles in die Onse Vader werklik só is.
En as jy niks het om te sê vir God nie, of jy weet nie wat om te sê nie... Word stil. Wees net daar in Sy teenwoordigheid. Gee Hom kans om te praat.
Sonder gebed, sonder kontak met die Een wat jou gemaak het, gaan jy stadig of glad nie groei in jou geloof nie.
My gebed vir jou vandag is dat jy in jou gebedslewe sal groei, God se vrede sal ervaar en dat jou verhouding met ons Here al sterker sal word.
Mag die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde en vrede van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees. Amen
2021-10-28 – Geheime sondetjies... (Kliek hier vir die klankgreep)
“8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.” – Kolossense 3:8-10 (AFR83)
Ag hoe lekker sou dit nie wees as ons verhouding met Jesus die aanloklikheid van die duisternis wat so algemeen in hierdie wêreld voorkom, heeltemal kon uitwis nie... Maar dít sal nie in hierdie lewe gebeur nie. En of dit nou deur die internet, televisie, beursie, tong of maag gebeur, die meeste van ons is redelik goed vertroud met die meedoënlose volharding van geheime sondes.
Ongelukkig kan die oorwinning van hierdie aanhoudende sondes eers begin wanneer ons besluit dat ons wil verander. Ons is mos gewoonlik vinnig om te sê ons wil vry wees. Maar dan weet ons ook dat ons kan sogenaamde “voordele” trek – plesier, krag, invloed, ego – uit hierdie sondes. Wil ons regtig sonder hierdie “vriende” leef? Wil ons regtig genees word? Liewe mens, ons sal nooit losbreek van hierdie gewoonte sondes, voordat ons glo dat die lewe sonder ons geheime sondes in elke opsig beter is as die lewe daarmee nie.
“Ag, maar dit is moeilik... Hoe gaan ek dit doen? Ek kan nie...” Dis wat ons gewoonlik sê... Sien, ons eerste stap, is om te erken dat ons ’n probleem het waarmee ons wil breek. En dan moet ons die moed bymekaarskraap om iemand anders in die stryd te nooi. Die sonde-siklus sal nie breek as dit in die geheim bly nie. Dit word juis deur geheimhouding aangevuur. Ons het dalk al male sonder tal hierdie sondes voor God bely, maar ons steek dit weg vir ander omdat ons bang is oor wat mense sal sê of oor ons sal dink. Maar deursigtigheid en nederigheid voor ander is ’n geleentheid om in geloof te erken dat God ons werklik vergewe het. Dit verskaf aan ons aanspreeklikheid in ons geestelike groei. En miskien moet ons meer begin dink oor hoe ons God beledig met ons ewige ongehoorsaamheid en minder oor ons vriende se opinies.
Sonde groei in die donker. Moses sê in Psalm 90:8 (AFR20) “8U het ons sondeskuld voor U geplaas, ons geheime sondes in die lig van u teenwoordigheid.” Die lig vernietig die duisternis. As jy ’n noodlottige hou teen geheime sondes wil slaan, besluit om vry te wees en nooi ’n vertroude vriend in om die stryd met jou te stry.
Gebed:
Here, U ken my in elk geval deur en deur. Ek kan niks vir U wegsteek nie. U weet waarmee ek worstel. Help my om waarlik vry te wees. Gee aan my iemand wat kan help. Vorm my elke dag al meer in U beeld. Amen
2021-10-27 – ’n Liefdevolle Vader. (Kliek hier vir die klankgreep)
Een van die grootste wanopvattings wat nie-Christene oor Christenskap het, is dat dit ’n godsdiens van straf is. Hulle het hierdie prentjie van God as ’n eng “ou man met ’n lang baard wat doer iewers in die lug is”. Hulle sien God as iemand wat gretig wag om kwaaddoeners te tugtig met weerlig, donderweer en plae. So ’n misverstand spruit voort uit ’n basiese gebrek aan bewustheid oor die rol wat straf en tug in die Bybel dien.
Alhoewel die Bybel beslis leer dat diegene wat nie aan God behoort nie, die ewige gevolg van oordeel sal ly (vgl. 2 Tess. 1:8-9), word God hoofsaaklik in die Skrif uitgebeeld, nie as ’n wrede, kwaai tiran nie –gereed om enige oomblik te tref met straf nie – maar eerder as ’n liefdevolle Vader. Jesus het self aan die dissipels dit probeer verduidelik in Johannes 14:21, 23:
“21Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.”... “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” – Johannes 14:21,23 (AFR20)
God is nie daarop uit om ons te straf nie. Hy is ons liefdevolle Vader en Hy wil nie hê dat enigeen van ons verlore gaan nie. En soos enige liefdevolle ouer, soek Hy die beste vir Sy kinders en juis dáárom sal Hy hulle dissiplineer. Eergister het ons mos gelees in Hebreërs 12:5-6 dat die Here dié vir wie Hy lief is, tug.
Is jy ’n ouer, of as jy ’n ouer was, sou jy toelaat dat ’n ongehoorsame en rebelse kind op ’n pad van vernietigende gedrag voortgaan? Of sal jy oordeelkundige dissipline toepas om jou kind te help om reg en verkeerd te leer? Die Bybel leer ons dat God ons nogal baie op dieselfde manier behandel. Die inspirerende woorde van Hebreërs 12:5-6 herinner ons daaraan dat God geregtigheid met genade en barmhartigheid temper. Moenie moed verloor nie, sê die Bybel, wanneer jy deur God gestraf word. Selfs wanneer jy deur God gedissiplineer word, is jy steeds ’n kind van God. Hou aan glo en weet dat jy, net soos ’n ongehoorsame en rebelse kind wat deur ’n aardse ouer gestraf word – steeds ’n geliefde kind is.
Daar is niks wat jy kan doen wat sal veroorsaak dat God jou meer of minder lief het nie.
Gebed:
Liefdevolle Vader, dankie dat U my dissiplineer. Ek weet dat U dit doen om my te leer en dat U my ewige redding in gedagte het. Vergewe my dat ek soms ongehoorsaam en rebels is. Dankie dat U my lief het soos ek is. Dankie dat U my nog liewer het en dat U my nie los soos ek is nie. Amen
2021-10-26 – Help die kinders reg. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is regtig vir my vreemd hoe baie mense ongelukkig is met hoe die wêreld vandag lyk. Baie mense is ongelukkig oor die wanorde, die verlies aan behoorlike waardes, die opstandigheid van jongmense teen gesag, die korrupsie in regerings, ag noem maar die redes op – daar is baie! Ouers sit met hulle hande in hulle hare en wonder wat hulle verkeerd gedoen het... Hoekom het hulle kinders dan so “anders” uitgedraai? Hoor gou wat sê Spreuke 19:18 (AFR20) en 22:6 (AFR20):
“18Straf jou seun terwyl daar hoop is, maar moenie jouself opsweep, en so sy dood veroorsaak nie.” – Spreuk 19:18 (AFR20)
“6Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.” – Spreuke 22:6 (AFR20)
Daar is natuurlik talle ander gedeeltes in die Bybel wat ons leer oor dissipline en tug, maar Spreuke begin met die aanname dat kinders van geboorte regstelling nodig het – hulle moet gerig word. Hulle gaan die wêreld binne met ’n geneigdheid om verkeerd te doen – ons kan probeer stry hiermee, maar ons weet dit is waar, want ons almal was en is nog só! Daar word van vaders en moeders verwag om kinders liefdevol, tog ferm, op te lei in die weë van wysheid, verantwoordelikheid en geregtigheid.
Die rigting wat kinders by die huis kry, bepaal die koers vir hulle hele lewe: “Begin kinders op die pad wat hulle moet gaan, en selfs wanneer hulle oud is, sal hulle nie daarvan afwyk nie”, sê Spreuke 22:6. Dit is nie ’n algemene belofte dat Godvresende ouers nie eiesinnige of opstandige kinders sal hê nie, maar dit onderstreep wel die algemene beginsel dat goeie ouerskap ’n lewenslange impak kan hê. Ouers wat hul plig versuim om hul kinders te dissiplineer, dra ’n swaar verantwoordelikheid. As ons Spreuke 19:18 se teks in konteks lees, besef ons dat ouers wat versuim om hulle kinders te dissiplineer bygedra het tot hul kinders se dood! Ja, die straf in Antieke Israel vir verskeie oortredings, was die dood! Om dus in daardie tyd te versuim om ’n kind behoorlik op te voed, kon indirek tot sy/haar dood lei. Ouers wat hul kinders ignoreer of versuim om hulle die dissipline te gee en te leer wat hulle nodig het, stuur hulle op hul pad na ’n somber en treurige toekoms.
Daar is vandag natuurlik baie onenigheid oor hóé om jou kinders te dissiplineer. As ons Spreuke lees, blyk dit dat Salomo die sterker vorme van dissipline bevoordeel het: “24Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf.” (Spr. 13:24 AFR20). Natuurlik, soos gister ook genoem, as ons hierdie tipe dissiplinering tot die uiterste neem, is sulke straf mishandeling, wat die Bybel nooit aanmoedig nie. Die ander kant van hierdie muntstuk is wel dat kinders wat nooit leer dat hul slegte optrede gevolge inhou nie, uiteindelik nóg meer hartseer in die gesig staar.
As ons nie God se opdrag om ons kinders reg te leer en hulle te dissiplineer gehoorsaam nie, moet ons nie vra hoekom dinge lyk soos dit lyk nie. Ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders vir God groot te maak. Hierdie kinders is net vir ons geleen en ons plig is om hulle te help groei in Godvresende volwassenes. Dit is natuurlik ook die verantwoordelikheid van alle mede-gelowiges – ouer of nie.
As jy die wêreld ’n beter plek wil maak, begin by die huis.
Gebed:
Almagtige God en Vader, U is ’n God van orde, geregtigheid en regverdigheid. Vergewe my dat ek soms verval in wanorde en versuim. Help my om in my huis en daar waar ek is elke dag te help om ons jongmense reg te help. Mag hulle grootword om U te eer met hulle lewens. Amen
2021-10-25 – Gesonde dissipline. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons die woord “tug” hoor, begin daar in meeste mense ’n negatiewe konnotasie opkom. Ons dink tug is bloot net straf, of selfs onnodige straf en ’n tipe van ’n magspel. Maar dit is nooit hoe God dit beplan het nie. Hebreërs 12:5-6a (AFR83) en vele ander plekke in die Bybel praat oor die tug.
““My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, 6want die Here tug hom wat Hy lief het...” – Hebreërs 12:5-6a (AFR83)
Dissipline is ’n onderwerp wat baie mense deesdae probeer vermy. Party ouers voel skaam omdat hulle so nou en dan hulle kinders tugtig. Maar, dissipline is ’n onderwerp waaroor ons baie meer moet hoor en baie meer moet praat. Dit is amper ’n verlore woord in ons samelewing, omdat mense so verskriklik bang is om iemand deesdae te dissiplineer uit vrees dat hulle dalk iemand se menseregte sal skend. As dit vir ons belangriker is om regte te beskerm as om die toekoms en die ewigheid van ons kinders se lewens te beskerm, is dit nogal baie kommerwekkend.
Die Bybel leer ons dat die Here diegene wat hy lief het dissiplineer, en daarom moet ons ook diegene dissiplineer vir wie ons lief is. Sodoende wys ons ons kinders dat ons omgee, al sien hulle dit miskien nie so nie. As ouer moet jy hierdie verantwoordelikheid omhels en dit aanvaar. Dit is joune. Moenie verwag dat die onderwysers, die bure, jou ouers of die predikant dit moet doen nie. Hulle is beslis deel van die ondersteuningspan wat jou kinders omring, maar dissipline moet altyd by die huis begin.
Daar is natuurlik ’n baie groot verskil tussen gesonde dissipline en mishandeling en ons moet versigtig wees hoe ons dit benader. Tog, indien ons vertrekpunt God se Woord en God se waardes is, sal ons nie in die verkeerde kategorie val nie.
Handhaaf dus dissipline deur struktuur in jou huis te vestig en grense vir jou kinders te stel. Indien jy nie kinders van jou eie het nie, is dit jou plig, as deel van die liggaam van Christus, om ook om te sien na die ondersteuning en dissiplinering van die gemeente se jongmense. As die grense oorskry word, moet jy ’n spesifieke plan van aksie hê wat insluit dat jy jou kinders dissiplineer en dat daar gevolge moet wees vir hul aksies. Help hulle om te verstaan dat die gevolge ’n direkte gevolg van hul eie gedrag is en nie jou gedrag nie. Dit leer hulle om ’n verantwoordelikheidsgevoel te ontwikkel wat die resultate sal lewer wat jy as ouer wil hê. Tug was nog altyd ’n liefdevolle proses wat God self daargestel het tot behoud van die sondaar.
Onthou: as die jeug die toekoms is, hoe gaan dit lyk as ons nie daarvoor sorg nie? Die wêreld bevoordeel chaos en ongedissiplineerdheid – God se Woord nie. Dissipline sal nie gevestig word, as jy nie self gedissiplineerd is nie.
Om oor te dink vandag:
Hoe dissiplineer God my? Hoe bevoordeel dissipline myself en ander mense? Wat is my styl van tug en dissipline? Is dit in lyn met God se Woord?
Gebed:
Dankie Here dat U my ook nog gereeld dissiplineer en tug toepas. Dit is nie lekker nie, maar ek weet dit is nodig. Help my om my kinders en alle ander mense, waar dit nodig is, in liefde te dissiplineer, maar help my om eers my eie dissipline reg te kry. Wys U my die regte pad. Amen
2021-10-23 – Beroep en roeping. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons die sogenaamde “grootmenswêreld” betree, is ons gewoonlik opgewonde. Ons is opgewonde oor wat voorlê: dalk ’n nuwe werk en ons eie salaris, dis ’n avontuur hierdie... Ons dink soms selfs dat ons ’n groot verskil gaan maak in wêreld. Soms is ons in die beroep en werksplek waaroor ons gedroom het en dinge gaan goed... Maar dalk, net dalk, kom jy ook op ’n punt waar jy begin voel dat jy gemaak is vir meer in die lewe – dat God jou beter kan gebruik.
In Matteus 4:18-22, Lukas 5:1-11 en Markus 1:16-20 roep Jesus twee groepe broers om hul gewone dagwerk as vissermanne te los en Hom te volg. Hy sê vir hulle dat hulle “vissers van mense” sal word.
In die antieke tye was visvang ’n gewone werk wat deur baie mense beoefen was. Dit was ’n harde werk – soos vandag nog. Dit was nou ook nie ’n werk wat baie graag wou beoefen nie, want jy het maar gestink van die vis en, om die waarheid te sê, was daar baie ander meer gesiene beroepe gewees. Maar Jesus kom na hierdie manne toe en sê vir hulle dat Hy hul alledaagse vaardighede in hul alledaagse, gewone werke, wil gebruik in Sy Koninkryk.
Dikwels, in ons alledaagse werke en gewone pligte en take, is ons besig om spesifieke ervaring op te doen. Ons leer geduld, diens, nederigheid – soms, sonder dat ons dit eers agterkom. Dit voel dalk of ons daaglikse roetine van werk, ouer pligte, huweliksverhoudings, skool en studies, of wat ook al ons besig hou, nou nie juis baie glansryk is nie. Ons verwag soms dat dit só moet wees, maar dit is nie. Tog, wanneer ons besig is daarmee elke dag – en wanneer ons ons werk doen soos vir die Here (Kol. 3:23) – dan begin ons die verskil tussen beroep en roeping agter te kom. Ons dink soms dat ’n glansryke beroep waar God ons talente en gawes sal gebruik, ons roeping is, maar soos ons groei besef ons dat daar ’n duidelike verskil is. Ons verstaan van ons daaglikse werke, pligte en take verander, maar ons roeping bly dieselfde: om God lief te hê en om Hom te dien in watter manier ook al en in watter posisie Hy ons ook al plaas.
Jesus het gewone mense genooi om Hom te volg, om by Hom te leer en om saam met Hom te leef. Hierdie mense was vissermanne, tollenaars en ander gewone, alledaagse werksmense. Niks wat ons elke dag doen, is verniet nie. Soms gebruik God ons beroepe om ons iets te leer om ook in Sy Koninkryk te gebruik. Soms moet ons iets van God se Koninkryk begin sigbaar maak in ons beroep. Wat dinge dikwels makliker maak, is om te onthou dat ons roeping nie verander nie.
“9Om die Here te dien, dit is wysheid.” – Miga 6:9a (AFR83)
Om oor te dink vandag:
Is ek bereid om deur God gebruik te word in my huidige beroep?
Gebed:
Baie dankie Here Jesus, dat U my ook geroep het om U te volg. Help my om my beroep – my gawes en my talente – aan te wend in U Koninkryk. Tot U eer. Amen
2021-10-22 – Begin oor. (Kliek hier vir die klankgreep)
Voel jy moeg? Voel jy uitgeput en verslae? Verlang jy na vryheid en vrede? Voel jy dat die storms van die lewe jou teister? Die meeste van ons ervaar die lewe só in een of ander stadium. Dit voel of ons die sonde stryd waaroor ons gister gepraat het net nie kan wen nie. Dit voel of ons probeer om positief te bly, maar ons sukkel...
Jesaja beskryf in Jesaja 53 iemand wat presies verstaan hoe ons voel. Jesaja sê selfs sy eie mense het hierdie “man van lyding” verwerp (Jesaja 53:3). Baie het hom gehaat. Niks oor sy blote fisiese voorkoms het mense aangetrek nie. Kortom, die meeste van ons sou verby hierdie man op straat geloop het en nie eers hom wou groet nie, wat nog sê van hom help.
Tog beskryf Jesaja 53 die mees oortuigende individu in die geskiedenis van die wêreld. Op een of ander manier kan ons hom nie weerstaan nie. Miskien is dit wat hy bied: homself as een soos ons – een wat hartseer ken en tog vrede en verligting bied. Hy offer homself as die offer vir ons sondes. Hy is die Messias. En Jesaja maak dit duidelik dat Jesus die Een is wat identifiseer met al die probleme wat ons ooit kan ondervind. Hy weet hoe dit is om verpletter, geminag, verwerp te word en ook wat dit is om diep emosionele pyn te hê. Hy ken die stille wanhoop wat ons verduur as ons te kampe het met toenemende rekeninge, werksverlies, huweliksprobleme, ouerskap uitdagings en al die ander “dinge” van die lewe wat ons, as ons wys is, tot op ons knieë bring.
Luister mooi na hierdie gedeelte in Jesaja 53:2-12 en neem ’n oomblik dat die woorde in jou bewussyn afsak.
“2Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit, soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. 3Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. 4Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. 5Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. 6Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. 7Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. 8Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk. 9Hy het 'n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie. 10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. 11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. 12Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.” – Jesaja 53:2-12 (AFR83)
Hierdie Jesus, die Seun van God, het aarde toe gekom met die doel om een van ons te word, al was dit tydelik. As ons dus voor Jesus kniel, kniel ons voor Iemand wat met ons probleme en swaarkry kan vereenselwig. Hy kniel langs ons om vir ons krag te gee, om ons spanning te verlig, om ons vry te maak van sonde en om ons in staat te stel om die storms van die lewe te verduur. Dan, deur sy kragtige Heilige Gees, bied hy ons ’n nuwe begin.
Begin oor.
Gebed:
Dankie Here Jesus dat U my lewe en my diepste gevoelens verstaan en dat U saam met my deur alles gaan. Amen
2021-10-21 – Die sonde-stryd. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dikwels hoor ek mense wat sê dat een of ander ding ’n “mag” het oor hulle. Dat hulle regtig hard probeer om op te hou sondig, maar hulle is te swak en die mag van die sonde of die duiwel is net té sterk.
Weet jy, dit is eintlik nie waar nie. Sonde kry slegs mag oor ons as ons dit toelaat om in ons lewens in te kom deur ons eie slegte gewoontes en wanneer ons toelaat dat versoekings ook ons lewens inkom.
Petrus skryf aan die Christene wat moes vlug vir hul geloof en te make gekry het met klomp verskillende interpretasies van die Woord. Hulle het hul hoop op verlossing begin bevraagteken en begin wonder of God se beloftes nog staan:
“14Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge verwag, streef ernstig daarna om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word. 15En beskou die lankmoedigheid van ons Here as 'n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, 16soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. 17Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. 18Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus.” – 2 Petrus 3:14-18 (AFR20)
Sien, om ons wil in lyn te bring met ons gedagtes, gevoelens en sosiale verhoudings, kan dikwels na ’n moeilike en lang pad lyk. Daarom moet ons gereeld spesifieke vaardighede ontwikkel om ons in die tussentyd van onsself te red. Om ons eie situasie en omstandighede te verander deur te leer hoe om sekere dinge te hanteer, is soms ’n goeie korttermynstrategie om weg van die sonde te bly. Maar om net ’n korttermynstrategie te hê en net die situasie te hanteer, is nog nie diep genesing nie. Om net ’n manier te kry om die sonde te vermy, kom nog nie by die wortel van die kwaad, die eintlike versoeking wat gewortel is in begeertes, nie.
Ons is geneig om te dink dat daar soos in die tekenprente ’n klein duiweltjie is wat die versoeking in ons ore fluister, maar in werklikheid is die enigste stem met genoeg mag om ons tot sonde te wend, die stem van ons eie begeerte binne ons: die stem wat vir ons sê dat ons maar mag geniet wat ons dink, voel of waarneem – dat die dinge van die wêreld “OK” is... Dit is ’n goddelose stem.
Om in die versoeking te kom, beteken dat daar binne ons ’n reeds bestaande begeerte is of neiging om net toestemming te verleen daartoe. As dit die geval is, en ons het al toegelaat dat allerhande dwaalleer of wêreldse standaarde ons innerlike stem oorneem, is die kanse goed dat ons soms net wag vir die versoeking om homself voor te doen, sodat ons maar kan ingee daartoe; ons voel selfs hulpeloos in die gesig van versoeking en glo dat ons niks anders kan doen nie. Ons wil selfs onsself laat glo dat “ons niks aan ons diep menslike instinkte en begeertes kan doen, as om te soek na “dinge” wat aan ons begeertes voldoen nie.”
Maar, weet jy, dit hoef nie so te wees nie. Daai “stemmetjie” hoef nie die finale uitspraak te wees nie. Ons moet, soos Petrus sê, op ons hoede wees. Ons moet weet en glo dat sondige gedagtes nie outomaties tot sondige dade hoef te lei nie. Ons hoef nie sondige dade op te stapel wat dan sondige gewoontes word nie. Ons hoef nie met sondige gewoontes te leef wat weer ons karakter en identiteit misvorm nie.
Om jouself oop te maak dat God se Woord lewend is in jou lewe deur aan te hou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, en om Sy Gees toe te laat om jou te lei, sal jou die krag gee om versoeking te identifiseer en sonde te oorkom.
Gebed:
Almagtige God en Vader, help my om meer aan U vas te hou. Here Jesus, U is my Verlosser. Lei my, Gees van God, en word U die stem binne my. Amen
2021-10-20 – Terwyl ons wag... (Kliek hier vir die klankgreep)
Om getrou te wag op die Here se antwoord, is nie iets waarmee ons mense baie goed is nie. Ongeduldigheid is nogal ’n kenmerk by meeste mense vandag. Veral wanneer dit vir ons voel of alles skeefloop, wanneer ons beproef word, wanneer dinge om ons donker en duister is, dan soek ons die Here. Ons verwag dat daar uitkoms moet kom; dat God ons moet red vanuit wat voel soos ’n oordeel van God...
God het nog met die groot vloed belowe dat Hy nooit weer die mensdom só sal straf nie, dat Hy nooit weer só groot ramp oor die hele aarde sal laat kom nie... Maar... God het nie belowe dat Hy nooit weer Sy oordele oor die aarde sal laat kom nie. Soms gebeur daar slegte dinge in ons lewens wat deur en deur die oorsaak is van die mens se eie verdorwenheid, maar soms laat God ook dinge gebeur wat vir ons onaangenaam is. Hoekom dan? As Hy dan ’n God van liefde is, waarom sal Hy sulke dinge laat gebeur? En wat moet ons doen, terwyl dit gebeur?
“8Selfs op die pad van u oordele, Here, het ons op U gewag. U Naam, u gevierde Naam, was ons hartsverlange. 9Met my hele wese smag ek na U in die nag, ja, my gees in my binneste soek na U. Want wanneer u oordele die aarde tref, leer die bewoners van die wêreld wat reg is.” – Jesaja 26:8-9 (AFR20)
Jesaja beskryf die lied wat diegene wat gewag het en getrou gebly het aan die Here sal sing wanneer God uiteindelik alles wat boos is in die wêreld sal uitwis. Tog sing hulle ook oor hulle huidige toestand. Terwyl God se oordeel oor Juda rondom hulle ontvou het, het baie geduldig gewag terwyl hulle standvastig was in hulle liefde vir- en toewyding aan die Here.
Om te wag op die Here, weerspieël ’n afstaan van mag, ’n vertroue in iemand anders vir die toekoms, en dit is presies hoe die mense van Juda hier uitgebeeld word. Hulle weet dat God uiteindelik die Een in beheer is, en hulle is tevrede om te wag op die uiteindelike seën wat God hulle beloof het. Vir diegene wat wag, was God se Naam, Sy gevierde Naam die begeerte van hulle harte.
Hierdie soort geloof dien as ’n uitstekende voorbeeld vir hoe gelowiges hulself voortdurend moet gedra. God se mense wag vir Jesus om terug te keer en geregtigheid op die aarde te bring. Dit is belangrik dat ons besef dat ons niks kan doen om Sy wederkoms te bespoedig nie. Gelowiges moet eerder verseker dat God se Naam die begeerte van hulle harte is en, terwyl ons wag, moet ons geduldig bly in ons lofprysing en getrou wees om aan te hou om ander van Hom te vertel.
Ja, dinge gaan soms sleg met die wêreld, omdat God dit nie gemaak het om sleg te wees nie – as dit sin maak. God wil hê dat alles volmaak moet wees, soos Hy dit geskape het, maar ongelukkig gebeur die oordele oor ons sondigheid nogsteeds elke dag in ’n stukkende wêreld met stukkende mense. Ons werk, as God se kinders, mense wat volgens die beeld van God geskape is, is om daarna streef om ons hierdie beeld weer na vore te bring – die beeld wat Jesus vir ons duidelik kom wys het.
Gebed:
Here Jesus, leer my om bly te wees in die wag. Ek sien uit na U koms – of dit nou in my lewe is of oor ’n duisend jaar. Leer my om U beeld uit te straal en te help genesing bring vir ’n stukkende wêreld. Ek wil hê dat ander U moet sien in my wag. Amen
2021-10-19 – Volhard. (Kliek hier vir die klankgreep)
Regdeur God se Woord vind ons gedurig tekste wat ons aanmoedig om sterk te staan in ons geloof. Veral in die briewe wat Paulus en die ander apostels geskryf het, sien ons hoe hulle die mense aanmoedig om, te midde van beproewing en moeilike omstandighede, sterk te staan en aan te hou glo en vertrou op God.
“15Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur 'n brief was.” – 2 Tessalonisense 2:15 (AFR83)
Kyk, of jy nou in ’n ongesonde werksomgewing is of dalk ’n vervelige en eentonige werk verrig, baie van ons wonder deesdae in die warboel van COVID se gevolge hoe lank ons ons huidige werk kan behou. Werk in Suid-Afrika is skaars en dan weet ons ook dat werk dikwels moeisaam en frustrerend is, maar ons word deur God se Woord aangesê om te volhard – om getrou te wees, ons harte in ons werk te sit, met geesdrif te werk “soos vir die Here, en nie soos vir mense nie” (Kol. 3:23).
Alhoewel ons nie altyd geroep is om op ons huidige pad te bly nie, is daar tye wat God ons roep om te volhard in die werk wat ons tans doen – al is dit werk wat ons nie regtig wil voltooi nie. God se roeping om getrou te bly, spruit voort uit die groter vernuwingswerk wat Hy heeltyd in elke deel van ons wêreld verrig. Ons bereidwilligheid om te volhard, moet kom uit die wete dat God ons en ons werkplekke wil herskep. Ons doen dus nie sommer net werk nie, maar ons is besig om deel te neem aan die werk waarmee God besig is. Die leer van volharding regdeur die Bybel beklemtoon die genade en krag wat ons in Christus het, sodat ons getrou kan wees in ons roeping.
Mense spring deesdae maklik van een werk na ’n ander, omdat salarisse beter lyk of dalk omdat hulle baie ongelukkig is in die werk wat hulle doen of omdat die omgewing waarin hulle werk demoraliserend of afbrekend is. Tog, as Christene, word ons roeping gevorm deur God en nie net deur ons begeertes nie. God roep ons om in die gebrokenheid van die wêreld om ons in te tree, sodat ons kan deelneem aan Sy vernuwing en herskepping van alle dinge. As ons volhard, erken ons die genoegsaamheid van God se genade om ons te help om die take wat Hy ons opgelê het, te voltooi. En as ons nou eerlik is met onsself en ons kyk na ons eie lewens en wat God in ons lewens doen, sal ons erken dat dit ’n daaglikse werklikheid is. Hierdie standvastige genade help ons om die waarde daarvan te sien om in ons huidige werk te bly, as dit inderdaad God se begeerte is dat ons in daardie werk moet bly.
Dikwels sien ons slegs wanneer ons terugkyk na ons lewens God se wysheid om ons paaie te rig raak. Dit is dalk baie moeilik om die rede om te volhard op hierdie oomblik te sien, maar ons weet ons kan vertrou dat God ons wil gebruik om Sy liefde en verlossing aan almal rondom ons bekend te maak. Ons kan waarlik vreugde vind in hierdie kennis en dit kan en moet ons help om te volhard wanneer God wil hê ons moet volhard.
Hou vas aan wat God jou leer. Werk “soos vir die Here, en nie soos vir mense nie” (Kol. 3:23). Volhard.
Om oor te dink vandag:
Gee ek te gou moed op? Waar kan God my gebruik om my werksplek of daar waar ek elke dag besig is, te herskep en vernuwe?
Gebed:
Dankie Here, dat U my gebruik in U groot herskeppingswerk. Vergewe my dat ek soms so gou moed opgee. Skenk aan my geduld en volharding. Help my om vir U te werk, nie soos vir mense nie. Herskep my, sodat ek nuttig kan wees in die herskepping van my werk en die wêreld. Tot U eer en verheerliking alleen. Amen
2021-10-18 – Voorlopers. (Kliek hier vir die klankgreep)
Om die Here dien, is nie altyd ’n maklike taak nie. Om die waarheid te sê, is dit dikwels ’n ondankbare en eensame ding om te doen. Ons dien die Here uit dankbaarheid vir alles wat Hy vir ons gedoen het, nogsteeds doen en nog gaan doen en ons verwag niks lof of prys daarvoor nie. Maar, elke nou en dan is dit lekker om bedank te word daarvoor. Ons word so nou en dan ’n klein bietjie geprys daarvoor en dit laat ons goed voel.
“1In die begin was die Woord,
en die Woord was by God,
en die Woord was God.
2Hy was in die begin by God.
3Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het selfs
nie een ding wat bestaan,
ontstaan nie.
4In Hom was lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.
5En die lig skyn in die duisternis,
en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
6Daar was 'n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. 7Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. 8Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld.” – Johannes 1:1-9 (AFR20)
Johannes die Doper het ’n interessante taak gehad. Hy was, as’t ware, die aangewese voorloper vir die Messias. Hy het mense uitgedaag om hul eiesinnigheid te bely, hy het mense vertel van die komende Verlosser, en toe buig hy die knie. Iemand het dit eenmaal soos volg gesê: “Johannes die Doper het die pad voorberei, die weg aan die mense verklaar en toe het hy uit die pad uit gekom.”
Ek en jy het eintlik iets in gemeen met Johannes. Ons is Christus se voorlopers, voorste manne en vroue: afgevaardigdes. Ons taak is om mekaar en ander liefdevol te konfronteer, dapper uit te daag, en dan onsself onsigbaar te maak, sodat God kan doen wat net Hy kan doen. Ons doen dit in ons werksplekke, en ons doen dit in ons huise.
Ons is Christus se ambassadeurs. Hy het ons nie gevra om die beleid te stel, voor die mikrofone te staan of selfs deur ons eie wysheid en kreatiwiteit te probeer om mense te oortuig van hul behoefte aan ’n Verlosser nie. Sy opdrag is eintlik redelik eenvoudig: daag mense uit met die voorbeeld van ons eie lewens om regverdig te lewe, wees gereed om ander te vertel van ons liefde vir Christus en Sy wonderlike genade en laat God dan die werk in hulle harte doen.
Onthou: dieselfde lig wat in Hom was, skyn deur ons deur Sy Heilige Gees wat in ons woon. Berei die pad voor, verklaar die weg en kom dan uit die pad uit. God is baie goed in wat Hy doen. Laat Hom toe om te doen wat Hy doen.
Gebed:
Dankie Here Jesus vir alles wat U vir my gedoen het, nogsteeds doen en nog gaan doen. Dankie vir alles wat U deur my doen. Help my om te doen wat ek moet. Help my om ook te weet waar en wanneer om uit die pad uit te kom, sodat U kan doen wat U doen. Mag U deur my werk en deur my werk verheerlik word, sodat al meer mense U liefde en U lig kan vind. Amen
2021-10-16 – Is dit die moeite werd om Jesus te volg? (Kliek hier vir die klankgreep)
In ’n wêreld wat ons leer dat ons ons geluk en hoop op talle plekke en in soveel dinge kan vind, kan ons soms verwar word en twyfel kan maklik ons harte oorskadu. Dan begin ons vrae vra. Veral omdat dit dan skynbaar goed gaan met ander mense – ongelowiges. Is daar dan enige praktiese voordele daaraan verbonde om vir Christus te volg? Dit sou moeilik wees om te dink daar is, as ons nie die Bybel aanvaar as God se Woord nie. Paulus lys (slegs) ’n paar voordele in Romeine 5:1-8 (AFR20):
“1Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus •Christus. 2Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. 3Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, 4en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. 5En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 7'n Mens sal nie maklik vir 'n •regverdige persoon sterf nie, al sou 'n mens dalk nog die moed hê om vir so 'n goeie persoon te sterf. 8God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Toe Jesus gesê het: “wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” (Matt. 16:25 AFR20), het Hy nie bedoel dat ons lewens leeg sou word as ons hierdie ruiling maak nie. Paulus help ons in hierdie gedeelte in Romeine 5 om ’n paar wonderlike seëninge te sien wat ons lewens vul wanneer ons hierdie uitruiling doen – wanneer ons gevul word met die volheid van God (Lees gerus die wonderlike gebed wat Paulus vir ons geskryf het in Ef. 3:14-21).
Natuurlik is die lewe vol opdraandes en afdraandes, vol hoogtepunte en laagtepunte. Volgelinge van Jesus Christus kom deur beide die goeie tye en die taai tye deur vas te hou aan beloftes soos hierdie wat God gemaak het.
Die keuse is dus joune: Gaan jy begin vashou aan wankelrige, verganklike beloftes van ’n wêreld wat eendag tot niet sal gaan? Of gaan jy jou vertroue en hoop plaas in die ewige, onverganklike God wat Homself nogsteeds vandag aan ons openbaar in Sy Woord, in die Skepping en in ons lewens?
Gebed:
Ewige, onbegryplike Wese, dankie dat ek nie heeltemal kan verstaan hoe U genade en liefde werk nie. Dinge in my lewe is partymaal heeltemal deurmekaar en dikwels kan ek nie sin maak van hoe en hoekom dinge gebeur nie. Vergewe my dat ek gryp na verganklike wêreldse oplossings en uitkomste. Ek gee my lewe oor in U hande. Laat die ou mens sterf en U die nuwe lewe in my wees. U is my hoop, my redding en my vrede. Mag ek U vrede ervaar. Ek weet dat dit ’n vrede is wat alle verstand te bowe gaan – net soos U liefde en genade. Skenk dit asseblief aan my in moeilike en goeie tye. Laat ek U vertrou met my hele hart. Vul my met U volheid. Tot U eer alleen. Amen
2021-10-15 – “Jesus het gehuil.” (Kliek hier vir die klankgreep)
“1“Troos, troos my volk!” sê julle God.”, so begin die woorde van Jesaja 40.
Wanneer ons seer ervaar in die lewe, is daar sekere soorte troos wat ons eerder wil ontvang. Ons weet dat God ander mense vir ons gee om ons te troos, maar elkeen van ons ervaar pyn op ’n ander manier en dit beteken ook dat ons op verskillende maniere deur ons seer wil werk. Daar is sekere dinge wat ons wil hoor en ervaar in sulke tye en sekere dinge wat ons nie wil hoor en ervaar nie.
Die Here is nie ’n vreemdeling as dit kom by hartseer nie. Hy verstaan dit ten volle, omdat Hy dit self ervaar het. Johannes vertel die verhaal van Jesus se ontmoeting met Sy vriende Maria, Martha en Lasarus in Johannes 11. Hierdie drie was ’n broer en susters. Op ’n dag het Maria en Martha vir Jesus laat weet dat Lasarus baie siek is. Jesus het egter eers gebly waar Hy was vir nog twee dae en toe Jesus hulle bereik, was Lasarus dood.
Maria en Martha was baie hartseer, soveel so dat Martha in ’n mate vir Jesus verwyt het en gesê het dat haar broer nog sou lewe as Jesus net vroeër daar was. Vir al die mense daar het dit dalk gelyk of Jesus nie enige meegevoel toon nie. Asof Hy nie regtig omgee nie. Jesus het egter geweet dat Hy Lasarus uit die dood sou opwek. Hy het geweet dat Maria en Martha en al hul vriende en familie binne net ’n paar minute baie bly sou wees. Jesus was nie eintlik hartseer nie. Hy is God en Hy het geweet wat kom...
Maar, op daardie oomblik, kyk Hy om en sien Hy hoe mense wat Hy liefgehad het, huil en treur. En weet jy wat Jesus gedoen het toe Hy dit sien? Hy het gehuil. Hy het Homself toegelaat om diep, diep smart te voel – en dit te wys. Ander mense se hartseer het Sy hart geraak, en Hy het trane gestort.
Ja, die Here weet watter troos ons nodig het as ons treur. Hy weet selfs beter as ons. Al wat ons hoef te doen is om Hom aan te roep. Ons hoef Hom nie instruksies te gee nie. Ons hoef Hom nie eers te vertel wat fout is nie. Ons hoef Hom nie te verwyt omdat Hy die hartseer in ons lewens kon keer nie. Al wat ons hoef te doen, is om te sê: “Here, ek het U nodig”, en Hy sal reg langs ons wees.
Die Here voel jou pyn. Sy hart word geraak deur jou hartseer. En, soos in die gebeure rondom Lasarus se dood en opwekking, só sal Jesus op Sy manier en op Sy tyd vir elkeen van ons wat ooit seer en lyding deurmaak, uitkoms en verblyding gee.
Gebed:
Liewe God en Vader, dankie dat U U Seun gestuur het, wat pyn en lyding ervaar het en weet hoe om ons te troos as ons seer het. Here Jesus, laat ons altyd onthou om ons in tye van smart na U te wend, omdat ons weet dat U, Heilige Gees, vir altyd en ewig ons groot Vertrooster is. Amen
2021-10-14 – Om saam met ander te treur. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons het hierdie week nogal baie gepraat oor pyn, lyding, rou en smart, want al wil elkeen van ons dit vermy in ons lewens, is dit nou maar eenmaal deel van die lewe en is dit onvermydelik. Die Bybel sê dat Dawid homself “kranksinnig” gehou het by Abimeleg en dat dié hom weggejaag het. In sy tyd vir selfondersoek, skryf Dawid Psalm 34 en bevestig hy ’n hele paar baie wyse dinge:
“15Vermy die kwaad, en doen die goeie; soek vrede, en jaag dit na. 16Die oë van die Here is op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep. 17Die gesig van die Here is gerig teen kwaaddoeners om hulle gedagtenis uit te roei van die aarde af. 18Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle. 19Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy. 20'n Regverdige ervaar baie teenspoed, maar uit dit alles red die Here hom.” – Psalm 34:15-20 (AFR20)
Deur ons worstelinge en tragedies, leer ons dat God “...na aan hulle wat gebroke harte het...” is (Ps. 34:18). Ons het al geleer in die lewe dat, wanneer slegte dinge gebeur, ons daardeur kan kom; en dit is juis daardie kennis wat ons dan hoop gee wanneer die volgende tragedie plaasvind. God gee ons die krag om aan te gaan en gee ons ander mense om ons te help. Dít is van kritieke belang, want om te treur – iets wat nodig is in sulke tye – kan slegs in die konteks van ’n verhouding bereik word. Ons het regtig nodig vir ander om ons vas te hou en te help sterk staan terwyl ons deur die proses van teleurstelling gaan, want ons moet iets goeds in die hand hê om iets sleg te kan los.
Rou en smart is God se manier om ons deur dinge te laat gaan. Dit klink dalk vreemd, maar ons het dit soms nodig om weer waardering te hê vir wat ons het. En ons het ander nodig om ons te help om dit te doen. Daarom leer Paulus ook in Romeine 12:15 (AFR20): “15Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur.” As ons dit doen, kom mense agter dat wat Jesus gesê het in Matteus 5:4 (AFR20) werklik waar is: “4Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Ja, dit klink vreemd en ongewoon, maar aangesien hartseer absoluut noodsaaklik is om suksesvol deur die lewe te beweeg, en aangesien dit ’n noodsaaklike deel van ons groeiproses is, moet ons seker maak dat dit goed gebeur in ons lewens en in die lewens van diegene wat ons liefhet. Die enigste manier waarop dit goed kan gebeur, is in ’n verhouding met ander, as deel van God se kerk – die manier waarop God dit ontwerp het om te werk. Dit is die rede waarom traankliere in die hoeke van ons oë is. Iemand se hartseer moet duidelik wees as hy of sy in die oë van iemand anders kyk.
Om te treur, is ’n verhoudings-proses. Verhoudings bied sorg, ondersteuning, struktuur en die balsem van liefde om seer te genees. Laat mense dus treur. Laat mense op die regte manier treur – saam met ander mense – sodat hulle uiteindelik, eers daarna, kan aangaan met die lewe. Die Prediker sê ook in Prediker 7:3 (AFR20): “3Verdriet is beter as lag, want met 'n droewige gesig gaan dit goed met die hart.”
Om te treur genees pyn.
Om oor te dink vandag:
Wie kan saam met my treur? Ken en gee my gemeente genoeg om vir my om my smart te deel? Vir wie kan ek ook net “daar wees”?
Gebed:
Here, dit klink heeltemal anders as wat die wêreld ons leer, maar ek weet dat dit nodig is om te treur. Daar is baie dinge waaroor ons treur. Die verlies van geliefdes, die teleurstellings in ons eie lewens, die toestand van die wêreld, ja, selfs die toestand van die kerk... Gee asseblief dat ons mekaar sal ondersteun en mekaar sal help sterk staan. Dankie dat U ons groot Trooster is, o Heilige Gees. Amen
2021-10-13 – Hoe groot is jou lyding regtig? (Kliek hier vir die klankgreep)
So dikwels, wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, kom mense na ons toe met allerhande vinnige oplossings. Hulle probeer dalk goed doen, maar eintlik maak hulle dinge erger. Mense kom met raad soos: “Nee man, dis nie so erg nie”; of “Weet jy, jy moet leer om jou pyn en seer by die deur te los... Jy moet dit net laat gaan.”; of “Het jy al jou seer opgeweeg teenoor die seer van ander mense? Jy sal sien dat jy eintlik beter af is as baie ander mense...”
Wat ’n klomp loutere snert! Ag nee man – as ons seer het, het ons seer en het ons nodig om op ons eie manier en ons eie tyd deur dit te werk. Ja, natuurlik is dit ongesond om in depressie te verval en as so iets gebeur moet ons vriende en geliefdes ons help om hulp te soek – nie ons daaruit probeer ruk nie.
Dikwels, omdat die wêreld vir ons wil leer dat ons altyd gelukkig moet wees, dink ons vir onsself dat ons nie mag treur en mag seer hê nie. Ons dink dat ons lyding onnodig is – veral as ons dit begin vergelyk met ander mense s’n. Kom laat ek jou vandag iets vertel: Jou lyding, is JOU lyding. Dit is nie iemand anders s’n nie en jy kan dit nie vergelyk met iemand anders s’n nie, want jy ervaar dit persoonlik. Dit mag dalk lyk soos lyding wat ander mense deurgemaak het en ander mense mag dalk aan jou raad gee oor hoe hulle daardeur gewerk het, maar hoe JY dit gaan doen, bepaal jy – jy en God.
Jou pyn, jou seer, jou lyding – alhoewel eenders – is drasties anders van ander mense s’n. Moenie jou pyn op ’n afstand hou nie. Moenie dit by die deur los nie. Moenie jouself losruk daarvan nie, want dikwels los dit ’n groter litteken as wat dit sou. Vind ’n ware vriend/in om saam met jou deur jou pyn te werk. Ons een teksvers van gister, is weer van toepassing:
“3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! 4Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; 5want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus.” – 2 Korintiërs 1:3-5 (AFR20)
Ja, niemand bied aan ons genesing, soos God dit bied nie. Soms moet ons, soos Job in Job 7:11 (AFR20) ook sê: “11“Op my beurt sal ek my mond nie hou nie. Ek wil praat uit die benoudheid van my gees; ek wil kla uit die bitterheid van my siel!”
Miskien is dit tyd om die pyn te erken. Tyd om bewus te word van die sorg van die Here – Sy “altyd daar” teenwoordigheid. Onthou asseblief: Maak nie saak wat ander stemme gesê het nie, jou pyn is geldig. God gee baie om en wil graag aan jou genesing bied. Geen pyn is te groot nie... en geen pyn is te klein nie. Moenie jou pyn op-bottel nie. Moenie dit by die deur los nie. Moenie jou losruk daarvan nie. Vind ’n ware vriend/in en praat uit die benoudheid van jou gees met God. Sy deur is altyd oop en Sy sorg vir jou oneindig.
Om oor te dink vandag:
Bottel ek al my pyn op? Soek ek soms verkeerde maniere om daarvan ontslae te raak? Vergelyk ek my lyding met ander, in ’n poging om beter te voel?
Gebed:
Here, God wat altyd vir my sorg en meer omgee as wat ek kan verstaan, jammer dat ek soms ander manier soek om van pyn en seer ontslae te raak. Ek weet dat ek by U kan kla, dat ek uit die benoudheid van my gees met U kan praat. Indien ek nie iemand het in my lewe wat U gestuur het om my te help nie, stuur asseblief iemand om my reg te help. Dankie dat U, deur my lyding, my nader aan U trek. Amen
2021-10-12 – ’n Vriend in nood... (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie van ons ken die verhaal van Job in die Bybel. Hoe hy alles verloor het. Hoe sy vriende na hom toe kom en allerhande dinge kwytraak om te probeer sin maak van hoekom dit so sleg gaan met Job. Hulle beskuldig hom selfs daarvan dat hy as’t ware eintlik sy verdiende loon kry, omdat hy – volgens hulle – seker iewers besig was met bose dade. Ja-nee kyk, met sulke vriende...
Maar wat ons wel vergeet van hierdie vriende, is die oorspronklike doel waarmee hulle na Job gegaan het. In Job 2:11-13 (AFR20) lees ons:
“11Drie van Job se vriende het gehoor van al die teenspoed wat hom oorgekom het. Hulle het toe van die plekke waar hulle woon, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, op 'n bepaalde plek byeengekom om met hom meegevoel te gaan betuig en hom te gaan bemoedig. 12Toe hulle van ver af opkyk en hom nie eens herken nie, het hulle hardop gehuil. Hulle het elkeen sy mantel geskeur, en hulle het stof in die lug op gegooi, oor hulle koppe. 13Hulle het saam met hom op die grond gesit – sewe dae en sewe nagte lank. Niemand het 'n woord met hom gepraat nie, want hulle het gesien dat die pyn ondraaglik erg was.”
Ja, Job se vriende het net daar gesit. Hulle was daar. Hulle het nie antwoorde gehad nie en kon nie iets sê nie. Hulle was net daar vir hulle vriend. Dit was eers toe hulle probeer ontsyfer hoe God se wil werk, dat hulle allerhande verkeerde raad en antwoorde kwytgeraak het, maar in die begin het hulle gedoen wat vriende doen: hulle was daar.
Wanneer was die laaste keer wat jy probeer het om iemand te troos? Hoeveel kere doen ons dit reg? Hoeveel kere voel dit of ons dit sommer net opmors? Wat kan ons anders doen?
Dit is darem wonderlik hoe God ons nie gemaak het om alleen te wees nie. Een manier waarop God mense wat seer het troos, is om vriende en vriendinne wat waarlik omgee in hul lewens te plaas. En as ons God volg en elke dag Sy liefde al meer en meer inneem, sal ons een of ander tyd in ons lewens ook een van daardie omgee-vriende wees. Paulus sê in 2 Korintiërs 1:3-4: “3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! 4Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word;” Ja, God gebruik ons eie ervarings om met deernis en vertroosting na ander uit te reik. Wanneer jy dus in die bevoorregte posisie is om ’n troos vir ander te wees, onthou dat God jou gebruik.
’n Paar dinge wat jy dalk in gedagte kan hou wanneer jy met iemand praat wat seer het:
Vra God om jou te lei voordat jy enigsins praat. Onthou: Job se vriende was eers net daar gewees. Wanneer dit nodig is om iets te sê, en jy vertrou op God om jou die woorde te gee, sal Hy jou die regte woorde gee.
Luister eers. Gee jou seergemaakte vriend/in die kans om hul gevoelens te deel. Luister mooi en vra vrae. Moenie probeer om self iets reg te stel wat die persoon sê nie.
Moenie clichés gebruik of maklike antwoorde gee nie. Praat eerder oor hoeveel jy vir jou vriend/in omgee.
Bid saam met jou vriend/in.
As jy iets moet doen, vra of jy eenvoudige dinge kan doen, soos klein take of boodskappe, om die lewe van jou vriend/in ’n bietjie makliker te maak.
Onthou: Wees net daar.
Gebed:
Liewe Heer, dankie dat U geliefdes in ons lewens geplaas het wat vir ons omgee en ons troos. Leer ons om mense te wees wat sorg en vertroosting kan bied aan ander mense wat seer het. Amen
2021-10-11 – Sorg vir mekaar. (Kliek hier vir die klankgreep)
In die wêreld vandag word Christene nogsteeds vervolg. Dit is nie meer so erg soos in die vroeë kerk nie, maar dit gebeur nogsteeds. Die boek Hebreërs was destyds geskryf aan Christene wat vervolg was. Alhoewel meeste van die lesers van die boek nog nie weens hulle geloof gemartel was nie (vgl. Heb. 12:4), is ’n hele klompie van hulle gevangenisstraf opgelê of hulle besittings was weggeneem as straf vir hul geloof (vgl. Heb. 10:34).
Die meeste gelowiges wat in Hebreërs aangespreek is, het hulle van die Judaïsme tot die Christendom bekeer. Die vervolging wat hulle ondergaan het se doel was om hulle onder druk te plaas om terug te keer na Judaïsme. Sommige het gemeen dat die gebooie en leerstellings van die Hebreeuse godsdiens dieselfde was as dié van die Christendom, maar sonder Jesus, en het dus maar ewe gedwee teruggekeer na die ou lewe – net om nie meer vervolg te word of “uit” te voel nie.
Die skrywer van Hebreërs het hierdie gelowiges aangespoor om te erken dat geen geloof volkome is sonder Jesus nie. Om van Jesus af weg te draai, is om die hart van die Christendom uit te sny.
Tog was die bedreiging van verdere vervolging ’n werklikheid waarvan hulle nie kon ontsnap nie. Dinge sou baie moeilik raak vir die gelowiges. Die skrywer van hierdie brief herinner die lesers – ons ook – dat Jesus self baie swaarkry en vervolging verduur het en daarom verstaan wat ons deurgaan. Ja, Jesus bied aan ons Goddelike bystand en aanmoediging, ongeag hoe ernstig ons lyding is. Hoor wat staan in Hebreërs 10:24-25 (AFR20):
“24Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, 25sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!”
Sien, wat die skrywer hier sê is ook baie belangrik: Niemand van ons kan dit op ons eie maak nie; ons moet mekaar help, mekaar versorg, juis omdat ons weet dat daar altyd moeilike tye voorlê.
Hierdie is baie goeie raad vir enige gelowige en ook in enige verhouding. Dit is goeie raad om te volg in ’n huwelik wat dalk deur krisistye gaan, soos finansiële moeilikheid, verhoudings-uitdagings, onvrugbaarheidskwessies of selfs pynlike verliese. So ook is dit goed om mekaar te ondersteun deur eredienste by te woon en werklik belang te stel in mekaar se lewens. Maak nie saak wat gebeur of hoe ernstig ons pyn is nie, die enigste manier om oor beproewing te seëvier, is om in Christus en in mekaar geanker te word.
Onthou: Jesus het vir ons sondes gesterf toe ons nog sondaars was. Hy is ons troos en redding wanneer ons stukkend en sterwend is. Hy is ons hoop in lyding. Nou, terwyl die lewe dan nie altyd maklik is nie, moet ons dieselfde vir mekaar doen. Sorg beteken nie altyd fisiese sorg nie, ons moet mekaar ook bemoedig en geestelik en emosioneel ondersteun.
Om oor te dink vandag:
Sorg ek vir my medemens? Wat van my geliefdes?
Gebed:
Baie dankie Here Jesus dat U vir my gesterf het en dat U medelye het met alles wat ek deurgaan. Dankie dat U my vir my medegelowiges gegee het en hulle vir my. Help ons dat ons U voorbeeld volg en mekaar versorg op alle vlakke wat nodig is. Amen
2021-10-09 – ’n Ander soort rykdom. (Kliek hier vir die klankgreep)
As jy die woord “voorspoed” hoor, waaraan dink jy? Dink jy aan ’n gesonde bankbalans? Genoeg kos in die kaste of spens? Dink jy aan ’n nuwe motor in die motorhuis? Of dalk nuwe meubels en klere? Of dink jy maar net aan om genoeg te hê?
Die Psalmdigter Asaf skryf in Psalm 73 (AFR20):
“2Maar ek, my voete het amper gegly, my treë was amper wankelrig. 3Want ek het verwaande mense beny; ek het die voorspoed van goddeloses gesien.”
Dit is baie maklik vir ons om jaloers te wees op iemand anders se rykdom. En wat erger is: ons weet soms dat iemand anders rykdom verkry het deur goddeloosheid of oneerlikheid. Dit maak ons sommer kwaad. Dan begin ons te wonder: “Hoekom, as ons so hard werk om te lewe soos God wil hê, moet ons nogsteeds sukkel, terwyl ander mense God ignoreer en voorspoedig is?”
Dit lyk deesdae in hierdie lewe nogal baie of ’n persoon vir slegte gedrag beloon kan word. Maar, glo my, as jy ’n paar minute in die skoene van daardie persoon kon spandeer, sou jy gou agterkom dat dit nie so lekker is nie.
Net soos Asaf ook maar agtergekom het. Hy het eers die goddeloses se voorspoed en vooruitgang beny. En dan, later in Psalm 73 beskryf hy die belonings van goddeloosheid. Hy sê dat die goddeloses op “gladde plekke” beland en hulle word uiteindelik tot ’n val gebring en dat hulle in ’n oogwink voor God se oordeel “volledig tot ’n einde kom” (verse 18-19). Maar, vir die een wat Godvresend lewe, is die belonings ewig (verse 24-26).
’n Lewe sonder God is eng en eensaam. Moenie afgunstig wees op die voorspoed van goddelose mense nie. Hulle voorspoed is van korte duur. Dink mooi daaraan... Weeg die tyd van ons aardse lewe bietjie op teenoor die ewigheid met of sonder God. As kind van God besit jy ’n ander soort rykdom, ’n rykdom wat vir ewig sal duur.
Om oor te dink vandag:
Is ek jaloers op ander se voorspoed? Hoe hanteer ek my eie voorspoed?
Gebed:
Liewe God en Vader, dankie dat U vandag en elke dag in al my behoeftes voorsien. Dankie dat U my ’n rykdom gegee het wat vir ewig sal bestaan. Help my asseblief om nie die voorspoed van goddelose mense te beny nie, en vergewe my asseblief as ek dit wel doen. Amen
2021-10-08 – Wat jy nodig het. (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe dankbaar is jy? Hoe dikwels kla jy, soos ons Afrikaners sê, met die witbrood onder die arm? As jy ongelukkig is, waaraan meet jy jou situasie? As jy voel jy kort iets, waaraan meet jy dit?
Die situasie vir die Israeliete het hopeloos gelyk. 2.5 miljoen Israeliete in die woestyn en hulle het dringend kos en water nodig... Dan kla die Israeliete by Moses en Aäron:
“3Die Israeliete het vir hulle gesê: “As ons maar deur die hand van die Here in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf.” 4Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie.”” – Eksodus 16:3-4 (AFR20)
Toe God nie aan die Israeliete voorsien het op die manier waarop hulle verwag het nie, het hulle vinnig soos klein kindertjies geword en sommer vir God beskuldig dat Hy hulle in die wildernis ingeneem het om hulle te laat sterf van die honger. Die groter prentjie: hulle is gered van slawerny, hulle is vry, hulle word nie meer mishandel nie, hulle is op pad na ’n beter plek... Maar hulle kla! Baie van ons sal mos nou sê dat hulle darem verskriklik ondankbaar is, of hoe?
Sien, die Israeliete het nie behoorlik besef dat God alreeds hul benarde situasie raakgesien het, en alreeds begin voorsiening maak het daarvoor nie. Hy voorsien dan aan hulle manna. “Wat is dit?”, was die Israeliete se eerste reaksie toe hulle dit gesien het op die grond (vers 15). Stomgeslaan oor hierdie vreemde kos wat God voorsien, eet die Israeliete maar en is hulle dankbaar dat God voorsien. Maar eintlik moes hulle nie stomgeslaan gewees het oor hierdie vreemde kos nie... Ek meen, dit is dieselfde God wat hulle dan deur die Rooi See laat loop het wat hier voorsien!
Ons dien ’n God van wonders. Ons is dikwels so vasgevang in ons eie situasie en ons eie klein dingetjies, dat ons nie meer sien hoe dikwels God in ons lewens wonderwerke verrig nie. Hoekom het God dit vir die Israeliete gedoen en hoekom doen Hy dit nogsteeds vir ons? Want God wil hê dat ons weet ons kan en moet op Hom vertrou. Ons moet ten volle afhanklik wees van Hom, want Hy is die Een wat altyd voorsien. Hy wil hê ons moet in Hom glo en Hom volg.
Hierdie gedeelte in Eksodus is maar een van vele gedeeltes in die Bybel waar ons sien hoe God altyd sal doen wat nodig is om in Sy volgelinge se behoeftes te voorsien, sodat ons kan doen waarvoor Hy ons geroep het. Ja, dit beteken dat ons nie altyd gaan kry wat ons wil hê nie. Ons sal kry wat nodig is. God sal miskien nie in ons behoeftes voorsien op die manier waarop ons verwag nie, maar Hy sal seker maak dat ons genoeg het. Die maatstaf moet nie ons eie begeertes en wêreldse waardesisteem wees nie, maar God se wil. God het redes vir Sy manier van dinge doen – ’n hoër doel en plan wat ons nie altyd kan sien nie. Soos Moses, moet ons net op God vertrou en wag op Sy voorsiening in ons lewens.
Om oor te dink vandag:
Kla ek dikwels? Waaroor kla ek? Vertrou ek op God vir uitkoms?
Gebed:
Here, U sorg altyd. Dalk nie op die manier waarop ek verwag nie. Dankie dat U ’n God van wonders is. Dankie dat U altyd voorsien. Ek vertrou op U. Amen
2021-10-07 – Aangeneem deur God. (Kliek hier vir die klankgreep)
God se volk het baie uitgesien na die koms van die Messias. Toe Hy gekom het, het hulle dit nie behoorlik besef nie, omdat hulle ’n aardse koning verwag het. In elk geval, terwyl hulle gewag het, was die wet aan hulle gegee as ’n tipe van beskerming, ’n bestuurder van die verhouding tussen God en Sy volk totdat die belofte van die komende Messias vervul is. God self het die wet ingestel om ’n standaard van heiligheid te handhaaf en ’n manier moontlik te maak vir mense om tydelik vir hulle sondes vergifnis en versoening te bewerk. God het die tyd bepaal tussen die gee van die wet en die vervulling van die belofte, tot ons voordeel. Nie een oomblik van wat aangegaan het voordat Jesus gekom het, was vermors nie.
“4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.” – Galasiërs 4:4-5 (AFR83)
Die Israeliete van die Ou Testament het met verwagting geleef en gewag dat God Sy beloftes sou vervul. Soos minderjarige erfgename was hulle onderhewig aan hul voog, die wet. Deur hierdie ooreenkoms, as’t ware, was hulle min of meer in dieselfde lig as slawe gesien. Maar Jesus het gekom “om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.” (vers 5). Hy was die vervulde belofte wat die aanneming tot God se ewige gesin moontlik gemaak het.
In die antieke wêreld was jou status en naam bepaal deur wie jou vader is. Die vader was gewoonlik die hoof van die huis en die prominente figuur in die samelewing. Deesdae word patriargie soos hierdie deur heelwat mense en groepe gesien as ’n negatiewe ding en word dit as diskriminasie gesien. Tog is dit die orde waarin ons ook as kinders deur God aangeneem is en ’n nuwe naam gegee is. Sien, in die antieke wêreld, al was jy ’n weeskind, iemand met geen erfenis nie, iemand sonder ’n naam, en jy word aangeneem, was jou status dadelik herstel. Jy kan niemand wees nie, maar as die koning jou aanneem, is jy ’n koningskind en is jy in lyn om koninklik te erf.
Gelowiges is kinders van God. Die Koning van die heelal het ons aangeneem. Ons dra Sy Naam. En ons deel in die oorvloedige erfenis van die Here self! Hoe kan dit wees? Ons verdien dit dan nie. Dit gaan ons verstande heeltemal te bowe. Maar ons moet nie hieroor twyfel nie. Daar moet geen onsekerheid meer wees nie: God noem gelowiges Sy geliefdes en hulle wandel in die nabye, diep versorgende, toegewyde liefde van hul hemelse Vader.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U my bevry het van twyfel, van slawerny en van eensaamheid. Dankie dat U my aanneming tot God se familie moontlik gemaak het. Amen
2021-10-06 – Waarvoor wil jy ly? (Kliek hier vir die klankgreep)
Lyding in die wêreld is ’n gegewe. Dit is nie opsioneel nie. Ons het nie ’n keuse nie. Een of ander tyd in ons lewens ervaar ons lyding, smart en worsteling. Ons kan maar wens dat dit nie so was nie. Ons kan miljoene rande spandeer om dit te probeer vermy, om dit te ignoreer en selfs om ingeënt te word daarteen, maar nie een van ons is immuun teen lyding nie.
Dit is ons menslike natuur, ons aard, om lyding as iets negatief te beskou. En dan weet ons ook dat baie lyding in die wêreld die direkte gevolg is van sonde of onkunde in mense. Maar, en dit wil mense nie altyd glo nie, soms kom daar goed uit pyn en lyding. Dink maar aan ’n doring in jou hand of voet: die pyn wat veroorsaak word, gee aan ons ’n teken dat ons iets daaraan moet doen, voordat dit meer skade veroorsaak; of wanneer jy ’n virus opdoen, die pyn en siekte dui aan ons dat ons moet rus en medisyne kry, voordat dit dalk iets dodeliks word.
Pyn en lyding is onvermybaar. So ook emosionele en geestelike pyn. Maar Petrus sê dat, indien ons in elk geval gaan ly in die lewe, kan ons dit netsowel vir die regte rede doen. Ons kan kies waarvoor ons ly:
“17Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen.” – 1 Petrus 3:17 (AFR20)
Ons kan dus ly omdat ons besig is met sonde en bose dade, of ons kan ly omdat ons lewe gee in ’n sterwende wêreld.
Ongelukkig ly baie mense as gevolg dwaasheid. Baie mense ly as gevolg van sonde. Maar jy kan kies. Dit is waarom God ons vrye wil gegee het. Dit is waarom God ons leer deur Sy Woord. Jy kan kies om te ly en jy kan kies waarvoor jy ly. Jy kan ly as jy die evangelie verkondig of dit verdedig. Jy kan ly as jy die regte ding doen, selfs al word jy bespot of verkeerd verstaan. Jy kan ly deur woede en beledigende woorde terug te hou wanneer iets onregverdig met jou gebeur. Jy kan kies om saam met ander te ly as hulle seer het en pyn ervaar. Jou keuse kan jou eerder dwing om te bid, te leer, op te tree en te dien.
Waarvoor wil jy ly? Die keuse is joune. Kies reg.
Gebed:
Hemelse Vader, ek bid dat ek wanneer ek ly – en ek weet dat dit onvermydelik is dat ek sal ly – ek sal ly deur die regte- en die goeie dinge te doen. As ek ly, laat ek dit doen met ’n berouvolle hart – ’n hart wat U wil volg. Amen
2021-10-05 – Water en Gees. (Kliek hier vir die klankgreep)
In die boek van Esegiël gee God ’n belofte dat Hy die mense sal reinig. Hy sê dat Hy rein water oor hulle sal sprinkel en vir hulle ’n nuwe binneste gee – dat Sy Gees in hulle binneste sal wees. Dan sal die mens nie meer ’n hart van klip hê nie en sal hulle God se voorskrifte volg en Sy bepalings nakom en uitvoer (Esegiël 36:25-27).
Wanneer Jesus met Nikodemus praat oor wedergeboorte, het Hy moontlik hierdie woorde ook in gedagte, alhoewel Hy dit nie aanhaal of direk daarna verwys nie:
“5Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. 6Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie.” – Johannes 3:5-7 (AFR20)
Jesus sê ons moet weer gebore word. Ons gees moet vervang word. Ons menslike gees is van nature gerat vir die sonde, maar wanneer ons begin glo, wanneer ons bely dat Jesus Christus God is en ons Here is, dan word ons gees weer gebore deurdat God se Gees in ons begin woon. Net soos die doopwater oor ons gesprinkel word, net so gee God Sy Gees aan elkeen wat glo – sodat ons uiteindelik deurdrenk is van die Gees. Paulus skryf juis in 1 Korintiërs 12 ook daarvan en wys nogal mooi uit hoe, al verskil ons opvattings oor hierdie onderwerp dalk, ons nogsteeds deur die een Gees in een liggaam gedoop is. God rus ons toe, deur Sy Gees wat in ons woon, om diensbaar te wees in Sy kerk.
Wanneer jy eenmaal gedoop is, as babatjie of kind of grootmens, het jy die merkteken. Jy behoort aan God. Jy verloor nooit daardie teken nie en hoef nie weer en weer gedoop te word nie, want jy bly God se kind – al is dit soms ’n ongehoorsame kind... Uit dankbaarheid vir hierdie oneindige genade wat God aan jou bewys, begin jy leef vir Hom. God skenk dan aan ons Sy Gees en ons ontvang elkeen ’n gawe of gawes om God te verheerlik en om diensbaar te wees vir Hom.
Die punt wat Jesus aan Nikodemus probeer maak, is dít: Water reinig ons liggame. God se Gees reinig ons siele. Jy kan nie uiterlik skoon wees en innerlik vrot nie. Jy moet van binne af buitentoe vernuwe word. Dit is alleen moontlik deur God se Gees wat in jou woon.
As jy vandag hier lees of luister, is dit moontlik dat jy reeds uit water gebore is – jy het reeds die onsigbare teken van God se verbond ontvang. Jy is gebore in God se volk. Dalk is dit nog iets wat vir jou moet gebeur. Onthou net: dit is nie die doopwater wat jou red nie. God red jou. Die doop is net die teken van God se liefde. Jy moet in die Gees ook gebore word. Daarvoor word jou toegewydheid vereis. Jou gehoorsaamheid en jou bereidwilligheid om God bo alles lief te hê. Word weer gebore en leef die nuwe lewe wat God se Gees in jou gee.
Om oor te dink vandag:
Is ek werklik wedergebore? Leef God se Gees in my?
Gebed (Liedboek Lied 442:1):
Gees van God wat in my woon,
breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon,
kom en heilig my.
Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Gees van God, kom heilig my -
breek die Woord vir my.
Amen
2021-10-04 – Breek maar af. (Kliek hier vir die klankgreep)
Een van die grootste frustrasies in die lewe, is as jy iets wil doen, maar jy het nie alles wat jy nodig het nie. Soms kom jy inligting kort, soms fisiese benodigdhede. Om iets aan te pak sonder die nodige materiaal, is amper doelloos en as jy dan die werk doen, is jy nie regtig goed gemotiveerd daarvoor nie. Dit voel partykeer asof jy met die perfekte ontwerp en bloudruk van ’n projek sit, soos dié van ’n gebou, maar wanneer die bouwerk begin, dan lyk die gebou heeltemal anders. Dan moet jy die voorhamer (sledgehammer) begin inbring en afbreek... Ag nee man, as ons wil bou, wil ons bou. Ons wil nie afbreek nie!
Dit is ook waar van ons geestelike lewens. As ons sekere dinge kortkom, dan werk alles nie lekker uit nie. Maar wat as die dinge wat ons kortkom, dinge is wat ons nie regtig wil hê nie? Wat as ons hierdie voorhamer kort? Jakobus skyf:
“2Beskou dit as 'n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, 3omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. 4Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie. 5As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. 7Want so 'n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. 8Hy is 'n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.” – Jakobus 1:2-8 (AFR20)
Jakobus sê hier vir ons dat die “doel” van ons geestelike lewens, is om “volmaak en sonder gebrek” te wees – niks moet ontbreek nie. En, sê hy, die manier om hierdie verhewe doel te bereik, is om die prys van volharding te betaal – ’n lewe met standvastigheid en vasberadenheid, volharding en uithouvermoë. En die manier om al hierdie wonderlike eienskappe te verdien, is om “allerhande versoekings” te ondergaan, sê Jakobus – die verwoesting van mislukking, frustrasie, siekte, verlies en nederlae van die lewe... Kan dit reg wees? Hoe kan hierdie goed ons help. Ons is mos geleer dat positiewe dinge kweek ’n positiewe gesindheid en ’n positiewe lewe. Hoekom moet ons dan nou hierdie negatiewe dinge in ons bouplan insluit. Dis asof daar vir ons gesê word om ’n muur te bou met stukke spons tussen die bakstene of dat ons maar die voorhamer reg moet hou...
Sien, wanneer ons begin bou aan ons geestelike lewe – wanneer ons ons verhouding met God begin sterk maak – is daar gereeld ander, menslike dinge wat tussenin kom. Ons eie sondigheid en dié van die wêreld maak soms dat ons muur maar baie wankelrig is. Soms is dit nodig om die groot voorhamer in te bring. Soms moet ons die muur, of ’n deel daarvan, afbreek. Soms moet ons die gemors eers verwyder. Dit voel of ons misluk en eintlik agteruitbeweeg. Asof ons vordering belemmer word. Maar eintlik is dit deel van die leerproses en groeiproses. Deur foute en beproewings, maak ons ons geestelike muur sterker.
As ons terugstaan en weer kyk, is dit, soos Jakobus sê, ’n groot vreugde om te sien hoe die gebou al meer begin lyk soos die bloudruk. Die voorhamer is dan nie so slegte idee nie – veral nie as ons die mooi ontwerp in gedagte hou nie. Breek maar af. Sien die groter plan. Fokus op die ontwerp en bloudruk wat God vir jou lewe het. Vind vreugde.
Om oor te dink vandag:
Is ek ongeduldig in die bouproses van my geestelike lewe? Moet ek dalk self ’n bietjie afbreek? Hoe reageer ek as God toelaat dat daar afgebreek word?
Gebed:
Dankie Here dat U ontwerp vir my lewe volmaak is. Vergewe my dat ek soms toelaat dat dit nie lyk soos U beplan het nie. Help my om versoekings te weerstaan en om die beproewings met volle vertroue in U deur te maak. Help my om vrede en vreugde te vind in die feit dat ek soms bietjie afgebreek moet word, sodat ek sterker kan staan in U. Amen
2021-10-02 – Die Gewer van wysheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
“5As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” – Jakobus 1:5 (AFR20)
Dit is nogal baie gerusstellend en vertroostend om te weet dat God Sy wysheid aan ons skenk en dat dit nie afhang van ons volmaaktheid nie. Hy verseker ons dat as ons wysheid nodig het, Hy getrou sal wees om dit aan ons te gee. Trouens, Jakobus beklemtoon hier dat dit met groot vrygewigheid aan ons voorsien sal word. Hoor jy dit? Glo jy dit?
Ons kom so dikwels in situasies waar ons probleme ondervind en ons heeltemal hulpeloos voel. Dalk is daar wrywing tussen jou en ’n kollega; dalk sukkel jy in jou huwelik; dalk sit jy met ’n kind wat deur ’n moeilike fase gaan. Wat ook al jou situasie, die wete dat God aan ons Sy wysheid bied, sonder voorbehoud, help ons om ons denkwyse te verander van ’n toestand van “nie weet wat om te doen” nie, na ’n vrede om te weet dat God wil hê dat ons ons probleme na Hom toe moet bring.
Onthou: God het ons geskep sodat Hy presies weet watter raad ons nodig het. As ons Hom in gebed soek, vind ons vrede en kry ons ’n gevoel van rigting in ons lewens. Daar kan en sal tye wees dat jy God soek en niks van hierdie aard voel nie, maar moenie nie opgee nie. God sal getrou wees.
Net soos jy aan die behoeftes van jou werkgewer, huweliksmaat of kinders wil voldoen, wil God aan jou behoeftes voldoen en jou verwagtinge oortref! Soek Sy wysheid. Moenie aardse raad van hoe om geluk te verkry te gou vertrou nie. Ondersoek dit aan God se Woord. Fokus op ’n gebied waar jy wysheid nodig het, en streef daarna met alles wat jy het. Vertrou God se leiding. Jou meedoënlose soeke en vrae vra sal lei tot Sy meedoënlose leiding en rigting.
Dalk ’n ou cliché, maar so, so waar: Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
Om oor te dink vandag:
Op watter gebied ontbreek ek wysheid omdat ek versuim het om God te vra? Wil ek soms te vinnig ’n antwoord hê, of gee ek te gou op om te vra? Hoe het ek my kinders en geliefdes geleer om God te soek vir wysheid?
Gebed:
Here, God en Bron van Wysheid, dankie dat ek altyd na U kan kom vir antwoorde en vrede. Jammer, Here, dat ek nie altyd geduldig genoeg is nie en soms eerder ander vorme van onvolmaakte wysheid soek. Gee aan my U vrede, sodat ek U leiding kan volg en U my lewe sal rig. Amen