Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Kliek ook gerus op die "Oordenkings" skakel (menu) daarbo 👆🏻 om by die ouer oordenkings uit te kom.
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟑𝟏 – 𝐎𝐨𝐫𝐝𝐞𝐞𝐥, 𝐛𝐞𝐨𝐨𝐫𝐝𝐞𝐞𝐥 𝐞𝐧 𝐯𝐞𝐫𝐨𝐨𝐫𝐝𝐞𝐞𝐥 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons almal sondig. Daar is nie een van ons wat 100% soos Jesus Christus kan wees nie. Daarom moet ons versigtig wees hoe ons mense beoordeel en baie versigtig wees om nie mense te veroordeel nie... Hoor wat sê Paulus en Johannes vir ons:
“¹⁶𝑂𝑛𝑠 𝑏𝑒𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑑𝑢𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑛𝑜𝑢 𝑎𝑓 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑡𝑠𝑡𝑎𝑓 𝑛𝑖𝑒. 𝐴𝑙 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑣𝑟𝑜𝑒𝑒̈𝑟 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑡𝑠𝑡𝑎𝑓 𝑏𝑒𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙, 𝑛𝑜𝑢 𝑏𝑒𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑜𝑛𝑠 𝐻𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑠𝑜 𝑛𝑖𝑒. ¹⁷𝐼𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑡, 𝑖𝑠 '𝑛 𝑛𝑢𝑤𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠. 𝐷𝑖𝑒 𝑜𝑢𝑒 𝑖𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑦, 𝑑𝑖𝑒 𝑛𝑢𝑤𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚. ¹⁸𝐷𝑖𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑. 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛 𝑒𝑛 𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑑𝑖𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑡𝑜𝑒𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢.” – 2 Kor. 5:16-18 (AFR83)
“⁸𝐴𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑒̂ 𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑖𝑠𝑙𝑒𝑖 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑠𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑒𝑛 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒. ⁹𝐴𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑏𝑒𝑙𝑦 – 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑒𝑛 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔, 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑦 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑓 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑘𝑤𝑎𝑎𝑑 𝑟𝑒𝑖𝑛𝑖𝑔.” – 1 Johannes 1:8-9 (AFR20)
Let wel dat Paulus hier (selfs in die oorspronklike Grieks) praat van beoordeel of ken/verstaan/herken – nie “oordeel” of “veroordeel” nie. Ons moet dus erken dat die mens(e) voor ons ook sondaars is – net soos ons. Daar is geen onderskeid nie. Ons mag nie dink dat ons enigsins beter is as enigiemand anders nie – maak nie saak wat hul herkoms, kultuur, velkleur of oortuigings is nie. So herinner Johannes ons ook dat ons almal sonde het. Ons moenie vir onsself lieg en dink ons is beter nie.
Gelukkig herinner beide Paulus en Johannes ons in hierdie teksgedeeltes dat ons wel nuwe skepsels is. Deur die versoeningswerk van Jesus Christus – nie deur ons eie oulikheid of enigiets wat ons gedoen het nie – is ons nuwe mense. Ons sondes word vergewe in genade en ons word gereinig van alle ongeregtigheid. Daardeur en deur die werk van die Heilige Gees in ons, is dit ook dan ons opdrag om versoenend te wees in die wêreld. Ons moet uitstyg bo ons sondige verlede, deur te leer uit ons- en ons voorgangers se foute. Ons moet ons sondes bely. Ons moet streef na volmaaktheid. Ons moet elke dag meer en meer getransformeer word om soos Jesus te wees. Om aan Christus te behoort, maak van ons nuwe mense. Die oue is verby. Dit is die werk van God, deur Sy Gees, in ons.
Ons moet leer om die sonde te oordeel, terwyl ons die sondige mens in onsself en in ander herken (beoordeel – nie veroordeel nie) – ons is almal dieselfde. Dit beteken dat ons almal vergifnis en versoening nodig het. Dit kry ons by Jesus. Ons moet mekaar daaraan herinner en mekaar help om daarby uit te kom. Wees vandag en elke dag ’n nuwe mens.
Onthou: Jesus het juis gekom sodat jy nuut kan wees. Aanvaar die redding, genade, liefde en geloof wat Hy oor ons uitstort.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoeveel keer dink ek dalk nog dat ek beter is as ander mense? Is ek ’n nuwe mens? Het ek God se genade heeltemal aanvaar?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, binnekort vier ons daardie dag toe die Vader aan die kruis alles veroordeel het en op U neer gebring het. Vergewe my. Dankie dat U die straf gedra het en dat ek ’n nuwe mens kan wees. Skenk my U vrede, sodat ek die sonde sal oordeel, maar die veroordeling van die mens vir U sal los. Laat my in liefde leef met almal. Tot U eer en verheerliking. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟑𝟎 – 𝐀𝐠𝐭𝐞𝐫 𝐰𝐚𝐭𝐭𝐞𝐫 𝐠𝐨𝐫𝐝𝐲𝐧 𝐤𝐫𝐮𝐢𝐩 𝐞𝐤 𝐰𝐞𝐠 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
“⁵⁰𝑇𝑜𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑚 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑎𝑠𝑒𝑚 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑒𝑏𝑙𝑎𝑎𝑠. ⁵¹𝐸𝑛 𝑘𝑦𝑘, 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑎𝑛𝑔𝑠𝑒𝑙 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑑𝑜𝑚 𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑏𝑜 𝑡𝑜𝑡 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑡𝑤𝑒𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑢𝑟, 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑢𝑑 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑜𝑡𝑠𝑒 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑝𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑒𝑘. ” – Matteus 27:50-51 (AFR20)
Wat ’n ongelooflike dramatiese oomblik was dit nie! Die voorhangsel in die tempel was in twee geskeur.
Hierdie voorhangsel – wat die Allerheiligste deel, waar net die priesters toegelaat was, geskei het van die aanbidders – was ’n baie swaar materiaal gordyn gewees. Volgens historiese rekords, was dit tussen 14 en 18 meter lank en sowat 10 sentimeter dik gewees. Dit was nie ’n dun en gewone stukkie materiaal gewees nie. En dit het van bo tot onder geskeur!
Hierdie bonatuurlike daad het vir ons – ’n stukkende en sondige mensdom – die reg gegee om in die Allerheiligste in te gaan en weer ’n verhouding met God te hê.
Miskien moet ons onsself bietjie afvra agter watter tipe gordyne of sluiers ons wegkruip. Wat keer ons om in ’n heilige, intieme gemeenskap met God te verkeer?
Is ons verlede dalk te troebel? Of moet ek eers sekere “dinge” in orde kry? Is my sluier of gordyn dalk dat ek nog te lief is vir wêreldse dinge?
Ons moet glo dat die voorhangsel reeds geskeur is. Hebreërs 10:19-21 sê vir ons dat ons die heiligdom kan ingaan deur die bloed van Jesus, deur die nuwe en lewende manier waarop Hy dit vir ons geopen het, met Sy liggaam. Hoor wat staan daar:
“¹⁹𝐵𝑟𝑜𝑒𝑟𝑠, 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑢𝑠 𝑣𝑟𝑦𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑜𝑚 𝑖𝑛 𝑡𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑑𝑜𝑚, ²⁰𝑙𝑎𝑛𝑔𝑠 '𝑛 𝑛𝑢𝑤𝑒 𝑒𝑛 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑤𝑒𝑔 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑜𝑝𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑎𝑛𝑔𝑠𝑒𝑙 ℎ𝑒𝑒𝑛, 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚, ²¹𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑃𝑟𝑖𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑢𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑. ” – Hebreërs 10:19-21 (AFR20)
Jesus se liggaam is afgebreek, sodat almal toegang kan hê tot die Allerheiligste in God se teenwoordigheid.
Solank ons vir onsself die voorhangsel toehou, sal ons nie God in al Sy glorie kan aanskou nie.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wat keer my om die Allerheiligste te betree? Agter watter gordyn kruip ek weg? Kan ek God se troon van genade met vertroue nader?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie, Hemelse Vader, dat U ons so liefgehad het, dat U U enigste Seun gegee het. Dankie dat Jesus vir ons die voorhangsel geword het wat geskeur was, sodat ons toegang het tot die Allerheiligste. Dankie dat ons in U teenwoordigheid mag wees. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟐𝟗 – 𝐌𝐚𝐚𝐤 𝐨𝐨𝐩 𝐝𝐢𝐞 𝐝𝐞𝐮𝐫 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
As ons kuiermense kry saam met wie ons nie regtig wil kuier nie, kan ons in die huis wegkruip en baie stilbly, en hoop dat hulle dalk sal weggaan. Dit is natuurlik nie goeie maniere nie, maar dit kan werk... Dit is natuurlik ook nie reg nie, want een of ander tyd moet ons die onaangenaamheid daarvan hanteer. Of soms is die huis te deurmekaar en vuil en kry ons bietjie skaam... dan hou ons ook die deur toe.
Ons lewens is soms ’n gemors en ons wil nie dat die Here inkom nie. Ons is skaam dat Hy sal sien hoe ons aangejaag het. Maar hoor wat se Jesus vir ons:
“²⁰𝐾𝑦𝑘, 𝐸𝑘 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑏𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑒𝑛 𝐸𝑘 𝑘𝑙𝑜𝑝. 𝐴𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑚𝑦 𝑠𝑡𝑒𝑚 ℎ𝑜𝑜𝑟 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑜𝑜𝑝𝑚𝑎𝑎𝑘, 𝑠𝑎𝑙 𝐸𝑘 𝑏𝑦 ℎ𝑜𝑚 𝑖𝑛𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑓𝑒𝑒𝑠𝑚𝑎𝑎𝑙 ℎ𝑜𝑢, 𝑒𝑛 ℎ𝑦 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑀𝑦.” – Openbaring 3:20 (AFR83)
Jesus staan by die deur van ons harte en klop, maar ons wil nie vir Hom oopmaak nie – skaam, vuil, verontwaardig... Ons sukkel met die sonde van hierdie wêreld en ons is skaam dat ons nie dit kan oorwin nie. Intussen staan Jesus voor die deur van ons hart en klop. Hy wil inkom. Hy wil jou help om die sonde te oorwin. Hy wil hê dat jy deel in die oorwinning wat Hy reeds behaal het. Ons trots en ons skaamte weerhou ons egter so dikwels om Hom in te laat. ‘Hoe verduidelik ek dan aan die Here dat ek Hom in die steek gelaat het? Dat ek ongehoorsaam was? Dat ek Hom nie eerste stel in my lewe nie?’
Wel, ek het nuus vir jou vandag: Jesus staan by die deur. Hy gaan nie weggaan nie. Hy is lief vir jou net soos jy is en Hy weet reeds van al die vuil in jou lewe. Hy wil dit wegneem. Hy is té lief vir jou om op te hou klop. Hy wil nie dat jy die feesmaal mis nie. Hy gaan aanhou klop en jy kan nie wegkruip nie. Maak oop die deur! Laat Hom inkom! Laat Hom toe om jou te help om die mens te wees wie Hy wil hê jy moet wees. Hy het reeds die oorwinning vir jou behaal toe Hy finaal met die sonde afgereken het aan ’n houtkruis. Laat Hom inkom. Hy sal jou tegemoetkom met liefde, vrede en vreugde. Hy is lief vir jou en wil dat jy deel in die feesmaal wat Hy voorberei het. Maak oop die deur!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Jesus aanvaar my as vuil, sondige mens. Dít is juis hoekom Hy in my hart wil inkom. Hy wil my verlos van sonde en my hart reinig. Ek moet die deur oopmaak vir Hom.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, kom asseblief in my lewe in en in my hart in. Maak my skoon en reinig my, sodat my lewe ’n aanneemlike offer sal wees vir ons almagtige God en Vader. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟐𝟖 – 𝐆𝐨𝐝 𝐢𝐬 𝐆𝐞𝐭𝐫𝐨𝐮. (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe dikwels verloor ons tog nie hoop nie? Dinge kan dan so maklik skeefloop in ons lewens en ons sukkel dan om positief te bly. Veral wanneer ons iets beplan het en dan gebeur die lewe (of selfs die dood!). Veral wanneer ons besef dat Jesus juis vir jou en my gekom het om ons van ons sondes te verlos en die vyand kom met alle mag op ons af... Skielik voel dit of die hele wêreld teen jou draai en jy vergeet gou dat jy gered is en dat God wel met jou is IN alle omstandighede en dat God BO jou omstandighede is.
Wanneer dinge nie goed gaan met ons nie, is ons dikwels geneig om in ons doppe te kruip en wil ons nie enigiets met enigiemand te doen hê nie. Maar dit is juis dán wanneer ons mekaar nodig het. Dit is juis in hierdie Lydenstyd wanneer ons moet onthou dat ons Here Jesus ook mens was en dat Hy weet waardeur ons gaan en dat Hy ons kan help. Die skrywer van die Hebreërbrief sê:
“²³𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑡𝑦𝑓 𝑣𝑎𝑠ℎ𝑜𝑢 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑏𝑒𝑙𝑦, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢: 𝐻𝑦 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑡. ²⁴𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑛𝑎 𝑚𝑒𝑘𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑚𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑚𝑒𝑘𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑒 𝑠𝑝𝑜𝑜𝑟 𝑡𝑜𝑡 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑑𝑎𝑑𝑒. ²⁵𝑂𝑛𝑠 𝑚𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑎𝑚𝑒𝑘𝑜𝑚𝑠𝑡𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑚𝑒𝑒𝑛𝑡𝑒 𝑎𝑓 𝑤𝑒𝑔𝑏𝑙𝑦 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑝𝑎𝑟𝑡𝑦 𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑜𝑛𝑡𝑒 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑚𝑒𝑘𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟 𝑎𝑎𝑛𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑜𝑚 𝑑𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑒𝑛 𝑡𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑑𝑒𝑠 𝑡𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑛𝑎𝑚𝑎𝑡𝑒 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙𝑠𝑑𝑎𝑔 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑘𝑜𝑚.” – Hebreërs 10:23-25 (AFR83)
Ja, ons word herinner dat ons moet styf vashou aan die hoop wat ons bely. En die rede wat die skrywer gee is nie sommer enige rede nie. Hy gee vir ons ’n rede wat vir ons sonder twyfel laat: God is getrou! Nog nooit in die geskiedenis het God die mens in die steek gelaat nie. Die ander kant is wel waar... Die mens het God al baie in die steek gelaat en dan, wanneer God dalk kies om sy seën te weerhou, wil dit vir ons menslike oë voorkom asof God ons in die steek laat. Maar dit is nie waar nie. God is getrou. Hy doen wat Hy beloof het.
Die Here het beloof dat Hy vir ons ’n God sal wees en dat ons Sy kinders is. Vir ons almal wat bely dat Jesus Christus die Here is, is die belofte van God se liefde, vrede en teenwoordigheid ’n realiteit. Moet dus nie dat die lewe jou onderkry nie. Ons God is groter as die lewe. Hy is getrou en Hy is by jou. Besef dit wanneer ander mense jou bystaan. Besef dit wanneer ander liefde en barmhartigheid aan jou betoon. Besef dit wanneer jy self aan ander goeddoen en liefde betoon.
Eredienste is wonderlike samekoms geleenthede en is natuurlik baie belangrik en noodsaaklik, maar die kerk is nie daar om net kerk te wees net by ’n erediens nie. Dit sal natuurlik wonderlik wees as alle lidmate elke Sondag by die eredienste is, maar ons moet ook kerk wees oral waar ons is – soos die Here dit beplan het.
Mag ons nie verslap in ons geloof nie. Mag ons vashou aan die hoop wat ons bely. Mag ons aanhou om dit te bely. Onthou: God is getrou. Daarom het Hy Sy Seun gestuur om jou en my te verlos van sonde en om hoop en belofte van die ewige lewe in ons harte te vestig. Glo dit! God is getrou!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Al is ek soms nie getrou aan my beloftes aan God nie, bly Hy getrou. Ek moet streef om my woord te hou, soos God Sy woord hou.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, dankie dat U altyd getrou is. Vergewe my vir my ontrouheid en onbetroubaarheid. Laat ek altyd hoop vind in U beloftes en dankie, Here Jesus, dat U gekom het vir my. Dankie dat U die gevolge van my ontrouheid op U geneem het en dat ek kan verseker wees van die ewige woning wat U vir my voorberei het. Laat my gehoorsaam wees en laat my getrou bly, soos U aan my getrou is. Dankie vir die kerk. Laat my deel wees en deelneem, soos U dit verlang. Ek loof en prys U Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟐𝟕 – 𝐈𝐬 𝐞𝐤 𝐝𝐢𝐞 𝐠𝐫𝐨𝐨𝐭𝐬𝐭𝐞 𝐬𝐨𝐧𝐝𝐚𝐚𝐫 𝐢𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐰𝐞̂𝐫𝐞𝐥𝐝 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Alhoewel ons weet dat God van ons verwag om ’n skoon lewe te lei, is almal van ons een of ander tyd ongehoorsaam. Soms, meer kere as ander. Skuldgevoelens vreet ons stuk-stuk op en ons vra om vergifnis, maar, om een of ander rede, glo ons soms dat ons nie vergewe is nie of dat ons nie vergewe kan word nie. Ons is teleurgestel in ons onsself en ons begin dink dat ons nie God se liefde, barmhartigheid en genade werd is nie. Paulus haal die Psalms aan en sê dan ook vir ons in Romeine 3:10b-12 (AFR20):
“¹⁰... 𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒, 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒; ¹¹𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑛𝑖𝑒, 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒. ¹²𝐴𝑙𝑚𝑎𝑙 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑓𝑔𝑒𝑑𝑤𝑎𝑎𝑙; 𝑠𝑎𝑎𝑚 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑎𝑎𝑟𝑑. 𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑠𝑒𝑙𝑓𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒.”
Dit help ons nie regtig om beter te voel nie, of hoe? Maar selfs koning Dawid het ook soos ons gevoel:
“⁸𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑈 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑎𝑔 𝑜𝑝𝑟𝑒𝑔𝑡ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑖𝑒𝑝 𝑖𝑛 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡: 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑝 𝑖𝑛 𝑚𝑦 𝑏𝑖𝑛𝑛𝑒𝑠𝑡𝑒 𝑤𝑒𝑒𝑡 ℎ𝑜𝑒 𝑈 𝑤𝑖𝑙 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑙𝑒𝑤𝑒. ⁹𝑁𝑒𝑒𝑚 𝑡𝑜𝑔 𝑚𝑦 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑤𝑒𝑔 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑟𝑒𝑖𝑛 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑤𝑎𝑠 𝑚𝑦 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑤𝑖𝑡𝑡𝑒𝑟 𝑎𝑠 𝑠𝑛𝑒𝑒𝑢 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠. ¹⁰𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑏𝑙𝑦𝑑𝑠𝑘𝑎𝑝 𝑒𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑙𝑒𝑤𝑒. 𝑈 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑟𝑦𝑠𝑒𝑙; 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑏𝑒𝑙. ¹¹𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑔 𝑛𝑖𝑒 𝑎𝑔 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑝 𝑚𝑦 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑖𝑠 𝑎𝑙 𝑚𝑦 𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑 𝑢𝑖𝑡! ¹²𝑆𝑘𝑒𝑝 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 '𝑛 𝑟𝑒𝑖𝑛 ℎ𝑎𝑟𝑡, 𝑜 𝐺𝑜𝑑, 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑢𝑤𝑒 𝑚𝑦 𝑔𝑒𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑚𝑦 𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑣𝑎𝑠𝑡𝑖𝑔.” – Psalm 51:8-12 (AFR83)
Ja, baie keer voel ons ook soos Dawid. Ons voel verbrysel, afgetakel, moeg, moedeloos. Deur te lewe soos God wil hê jy moet lewe, in alle omstandighede, beteken dat jy Hom beheer gee. Dit beteken dat jy die vergifnis en verlossing wat Jesus bied aanvaar. Dit beteken dat jy Hom toelaat om jou bron van vreugde, blydskap en vrede te wees.
Ons omstandighede (wêreldwyd) was tydens die pandemie inperking baie onseker en die gevolge daarvan kan ons baie maklik laat glo dat die vyand die oorhand kry. As jy net daarop fokus, is dit ook só. As jy egter besef dat God selfs in die slegste van omstandighede ook daar is, dat Sy vrede daar ook kan heers, dat jy bruikbaar kan wees vir Hom in diens aan ander en tot eer van Sy Naam, dan besef jy ook dat God groter is as dít.
Hoor hoe mooi herinner Paulus vir Timoteus waar ons krag en verlossing vandaan kom:
“¹²𝐸𝑘 𝑑𝑎𝑛𝑘 𝐻𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘 ℎ𝑒𝑡, •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, 𝑜𝑛𝑠 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑚𝑦 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑔𝑒𝑎𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑡𝑜𝑒 𝐻𝑦 𝑚𝑦 𝑖𝑛 𝑠𝑦 𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑡𝑒𝑙 ℎ𝑒𝑡 ¹³– 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑒𝑒𝑛 '𝑛 𝑙𝑎𝑠𝑡𝑒𝑟𝑎𝑎𝑟, '𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑟 𝑒𝑛 '𝑛 𝑔𝑒𝑤𝑒𝑙𝑑𝑒𝑛𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑠. 𝑁𝑜𝑔𝑡𝑎𝑛𝑠 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑖𝑔, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑢𝑖𝑡 𝑜𝑛𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑜𝑛𝑘𝑢𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑡𝑟𝑒𝑒 ℎ𝑒𝑡. ¹⁴𝑂𝑛𝑠 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑜𝑜𝑟 𝑚𝑦 𝑤𝑎𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑣𝑙𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔, 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑚𝑒𝑒 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑜𝑘 𝑛𝑜𝑔 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑒𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑖𝑠. ¹⁵𝐷𝑖𝑒́ 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑝𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑖𝑠 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟, 𝑒𝑛 𝑤𝑒𝑟𝑑 𝑜𝑚 𝑡𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑎𝑛𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑑𝑎𝑡 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑚 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑎𝑎𝑟𝑠 𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠, 𝑣𝑎𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑙 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡𝑠𝑡𝑒 𝑖𝑠. ¹⁶𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑗𝑢𝑖𝑠 𝑜𝑚 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑖𝑔, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦, 𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡𝑠𝑡𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑎𝑎𝑟, 𝑎𝑙 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑙𝑑 𝑘𝑜𝑛 𝑏𝑒𝑡𝑜𝑜𝑛, 𝑎𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑠𝑜𝑢 𝑔𝑙𝑜 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑔 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑤𝑖𝑔𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒.” – 1 Timoteus 1:12-16 (AFR20)
Ja, self Paulus, voorheen ’n Godslasteraar, vervolger en geweldenaar, het God se genade, liefde en geloof as gawe ontvang. Almal van ons kan weer in vrede wees met God.
Mag God ons gees vernuwe, aan ons ’n rein hart gee en ons standvastig en wys maak, sodat ons die regte ding in die regte omstandighede sal doen. Wanneer ons God se beheer besef en getuig daarvan, sal die wêreld Sy almag sal beleef.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Jesus Christus het gekom om my van my sonde te verlos. Ek is skoongewas en witter as sneeu. Soos Paulus, kan en moet ek 180 grade omdraai en op God se pad bly. God is my blydskap en vreugde.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus dat U gekom het om my te verlos van sonde. Vergewe my dat ek soms weer terugkeer daarna. Skep in my ’n rein hart, vernuwe my gees en maak my standvastig om U alleen te volg. Aan U behoort die lof en die eer en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟏𝟕 – 𝐈𝐧𝐠𝐞𝐯𝐥𝐞𝐠 𝐢𝐧 𝐆𝐨𝐝 𝐬𝐞 𝐯𝐞𝐫𝐡𝐚𝐚𝐥. (Kliek hier vir die klankgreep)
“ ³²𝑂𝑝 𝑝𝑎𝑑 𝑛𝑎 𝑏𝑢𝑖𝑡𝑒 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 '𝑛 𝑚𝑎𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑆𝑖𝑟𝑒𝑛𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑛𝑎𝑎𝑚 𝑆𝑖𝑚𝑜𝑛 𝑡𝑒𝑒̈𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚. 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑛 𝑔𝑒𝑑𝑤𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑚 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑠𝑒 𝑘𝑟𝑢𝑖𝑠 𝑡𝑒 𝑑𝑟𝑎. ” – Matteus 27:32 (AFR20)
Hy word net so terloops genoem. So amper asof Matteus wou sê: “O ja, iemand het Jesus se kruis toe gedra.” Maar, hierdie man word by die naam genoem: Simon van Sirene.
Ons weet, soos ons gelees het dat hy gedwing was om Jesus se kruis te dra, maar ek wonder of het hy nie dalk ook gewilliglik besluit om Jesus te help nie?
Deur Jesus se kruis te dra, het Simon van Sirene die laaste mens geword om Jesus te help. Onwetend het hy alles wat Jesus geleer het presies gedoen: dat jy jou kruis moet opneem en Hom volg. Natuurlik was hierdie nie Simon se kruis nie, maar dit het hom vir seker ook iets gekos. Soos die mense Jesus behandel het, moes hulle seker ook vir Simon gespot en verneder het. Miskien het hy ook ’n paar sweep-houe of kop-klappe van die Romeinse soldate ontvang. Die kruis was natuurlik ook baie swaar en die pad lank en moeilik. Tog, het Simon saam met Jesus die pad gestap. En Jesus het saam met Simon gestap.
Deur die laaste mens te wees wat Jesus gehelp het, word Simon deur al die geslagte heen onthou. Ek is seker dat Simon se lewe van daardie oomblik af, vir altyd verander is. Simon het Jesus van naderby kon beskou, gebreek en stukkend, tog het Hy een pynlike tree na die ander gegee – sonder een woord van protes.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is ek bereid om in ’n verhaal ingetrek te word wat baie groter is as wat ek beplan het? Is ek gewillig om my eie kruis te dra en Jesus te volg op onbekende en onverwagte paadjies? Vertrou ek Hom om langs my te loop?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, ek staan verstom oor U sterkte en U genade toe U daardie pad na Golgota gestap het. Selfs op daardie oomblik glo ek dat U nogsteeds gegee het. U het Simon die kans gegee om ’n diep persoonlike ontmoeting met U te hê. U het sy storie in U groter verhaal ingevleg. U het die lewe van ’n voorheen onbekende besoeker aan Jerusalem verander deur hom in die narratief van die grootste liefdesverhaal in die geskiedenis in te sluit. Dankie vir U liefde en genade, onbeskryflik groot. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟏𝟔 – ’𝐧 𝐕𝐫𝐢𝐞𝐧𝐝 𝐯𝐚𝐧 𝐉𝐞𝐬𝐮𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep: )
“ ⁴⁵𝑇𝑜𝑒 𝑘𝑜𝑚 𝐻𝑦 𝑏𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑠𝑠𝑖𝑝𝑒𝑙𝑠 𝑒𝑛 𝑠𝑒̂ 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒: “𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑙𝑎𝑎𝑝 𝑒𝑛 𝑟𝑢𝑠 𝑛𝑜𝑔 𝑠𝑡𝑒𝑒𝑑𝑠? 𝐾𝑦𝑘, 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑢𝑟 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑏𝑟𝑒𝑒𝑘, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 •𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑀𝑒𝑛𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑎𝑎𝑟𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑔𝑒𝑙𝑒𝑤𝑒𝑟. ⁴⁶𝑆𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑝, 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑎𝑎𝑛. 𝐾𝑦𝑘, 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑀𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑎𝑖, 𝑖𝑠 𝑛𝑎𝑏𝑦.” ⁴⁷𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑤𝑎𝑠 𝑛𝑜𝑔 𝑏𝑒𝑠𝑖𝑔 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡, 𝑡𝑜𝑒 𝐽𝑢𝑑𝑎𝑠, 𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑤𝑎𝑎𝑙𝑓, 𝑠𝑘𝑖𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑝𝑑𝑎𝑎𝑔. 𝑆𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑚𝑒𝑛𝑖𝑔𝑡𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑤𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑘𝑛𝑢𝑝𝑝𝑒𝑙𝑠, 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑖𝑒𝑟𝑝𝑟𝑖𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟𝑠 𝑒𝑛 𝑓𝑎𝑚𝑖𝑙𝑖𝑒ℎ𝑜𝑜𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘. ⁴⁸𝑆𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑎𝑖𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 '𝑛 𝑡𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒: “𝐷𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑠𝑜𝑒𝑛, 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 ℎ𝑦. 𝐺𝑟𝑦𝑝 ℎ𝑜𝑚.” ⁴⁹𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑛𝑎 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑔𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑒̂, “𝐺𝑒𝑔𝑟𝑜𝑒𝑡, 𝑅𝑎𝑏𝑏𝑖!” 𝑒𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑠𝑜𝑒𝑛. ⁵⁰𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑉𝑟𝑖𝑒𝑛𝑑, 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑗𝑦 ℎ𝑖𝑒𝑟 𝑖𝑠.” 𝑇𝑜𝑒 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚, 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑔𝑒𝑔𝑟𝑦𝑝 𝑒𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑒𝑒𝑚. ” – Matteus 26:45-50 (AFR20)
Dit was die ergste verraad ooit gewees – ’n sondelose Man word oorgelewer om ’n doodsvonnis te kry deur iemand wat beweer het om Sy vriend en volger te wees. Dis baie erg. Dit moes vir Jesus baie seergemaak het. Dis verstommend!
Maar, in al hierdie dinge, wat regtig verstommend is, is Jesus se woorde aan Judas wat opdaag met hierdie woedende, misleide bende. Jesus sê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.”
Hy noem vir Judas “vriend” en ek glo dat Jesus dit ook bedoel het. Ek dink nie ons kan behoorlik verstaan hoe groot God se liefde vir ons regtig is nie. In Romeine 5:10 stel Paulus dit so: “𝐴𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠, 𝑡𝑜𝑒 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑜𝑔 𝑣𝑦𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑠, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑚𝑒𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛 𝑖𝑠” (AFR83).
Jesus noem ons sy vriende, selfs terwyl ons aanhou sondig teen Hom. Ons verraai Hom gereeld, maar Hý bly getrou. Ons het ’n ware Vriend in Jesus. Dit is liefde bo ons begrip.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Hoe sien ek my rol in die verhaal van versoening? Bring ek darem ’n bietjie geregtigheid by wat my saak sal “help?” Of weet ek dat dit eintlik alles gaan oor ’n genadige God wat ’n sondaar aanvaar as ’n vriend?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, U Gees stuur my tot berou, U liefde dwing my om gebroke voor U te kom, U Seun verlos my deur Sy kruisdood. Help my om nooit iets daarvan as vanselfsprekend te aanvaar nie. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟏𝟓 – 𝐌𝐚𝐚𝐤 𝐫𝐞𝐠. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer iemand die wet oortree, voel ons dat dit reg is as die persoon gestraf word. Wanneer iemand verkeerdelik teenoor ons optree, voel ons ook dat dit net meer as reg is dat die persoon ten minste om verskoning vra. Maar is dit genoeg? Word verskonings nie maar leeg en sonder bedoeling nie?
En as ons iets verkeerd doen? Aan iemand anders? Wat dan? Is ’n verskoning genoeg?
In meeste gevalle, as dit opreg is en daar ware berou is, behoort dit reg te wees. Tog is vergifnis, sonder verantwoordbaarheid, nie ware vergifnis nie. Ons moet “betaal” vir wat ons doen. Só het die Here destyds ook die Israeliete geleer:
“⁵𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: ⁶ “𝑆𝑒̂ 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙𝑖𝑒𝑡𝑒, ‘𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 '𝑛 𝑚𝑎𝑛 𝑜𝑓 '𝑛 𝑣𝑟𝑜𝑢 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑎𝑡 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑘𝑎𝑛 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑛𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑔𝑒𝑝𝑙𝑒𝑒𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑒𝑟𝑠𝑜𝑜𝑛 𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔. ⁷𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡, 𝑏𝑒𝑙𝑦. 𝐷𝑖𝑒 𝑝𝑒𝑟𝑠𝑜𝑜𝑛 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑡𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑜𝑒𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑔𝑒𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑒𝑒𝑟𝑑 𝑔𝑒𝑑𝑜𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑛 '𝑛 𝑣𝑦𝑓𝑑𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑏𝑦𝑣𝑜𝑒𝑔. 𝐻𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑖𝑒 ℎ𝑦 𝑜𝑜𝑘 𝑎𝑙 𝑏𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑒𝑙 ℎ𝑒𝑡. ⁸𝐴𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑒𝑔𝑡𝑒𝑟 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑛𝑎𝑎𝑠𝑡𝑒 𝑓𝑎𝑚𝑖𝑙𝑖𝑒𝑙𝑖𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑣𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑘𝑢𝑙𝑑𝑖𝑔𝑑𝑒 𝑏𝑒𝑑𝑟𝑎𝑔 𝑡𝑒𝑟𝑢𝑔 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒. 𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑡𝑜𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑟𝑖𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟, 𝑏𝑜 𝑒𝑛 𝑏𝑒ℎ𝑎𝑙𝑤𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑎𝑚 𝑣𝑖𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑚𝑒𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑟𝑖𝑒𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑒𝑟𝑠𝑜𝑜𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑜𝑒𝑛.”” – Numeri 5:5-8 (AFR20)
Die terugbetaling, en nogal met ’n rentekoers van 20%, is nie net om jou te laat betaal vir die ontrou aan die Here nie. Dit is juis daar om jou te leer om verantwoordelik te wees. Dit leer jou om die verhouding met die persoon teenoor wie jy verkeerd opgetree het weer te herstel.
Nie alle sondes het geldwaarde nie, maar ons moet juis nog meer doen om verhoudings dan te herstel. Die wonderlike ding wat Jesus ons kom leer het oor vergifnis, is dat ons, as ons verkeerd aangedoen is, kan vergewe en van ons kant af kan werk om die ander persoon hierdie les in liefde te leer.
As jy dalk iewers aangejaag het, gaan betaal jou “skuld”. Maak reg. As jy verontreg is, reik uit in liefde na die ander persoon. Maak daai verhoudings reg.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek moenie wrokke dra nie. Vergifnis is bevrydend – vir my en ook die ander persoon. God vergewe my vir alles wat ek verkeerd gedoen het. Ek moet dieselfde gesindheid hê. Vergifnis kweek vrede.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Hemelse Vader, dankie dat U my vergewe as ek berou het en om vergifnis vra. Ek verdien dit nie. Soms voel ek ook dat ander nie my vergifnis verdien nie, maar ek weet dat dit my soms ook opvreet. Help my om myself en ander te bevry deur vergifnis te gee. Help my ook om daar waar ek verkeerd opgetree het, vergifnis te vra. Gee my die moed om die verhoudings in my lewe reg te maak en skenk aan my U vrede. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟏𝟑 – 𝐀𝐬 𝐆𝐨𝐝 𝐬𝐭𝐢𝐥 𝐢𝐬 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Almal van ons kry daardie dae wanneer jy dalk deur ’n moeilike tyd gaan en jy worstel met allerhande vrae. Jy bid tot God, maar om een of ander rede, voel jy net nie sy teenwoordigheid nie. Dit voel selfs of jy net teen die plafon vas bid. Jy smag na vrede en rustigheid in jou lewe en jy wil graag weer daardie warm gevoel van God se liefde en genade in jou diepste binneste voel, maar dit ontwyk jou. Jy begin selfs die moeilikste, maar oudste vrae in die bestaan van die mens vra: “Wat is doel van alles? Hoekom is ek hier? Waar is God? Raak alles nie net té veel nie?” En dan help alles wat in die wêreld aangaan ook nie om ons gemoedere op te tel nie...
Meeste van ons wat die boek van Habakuk ken, ken gewoonlik die laaste hoofstuk (hoofstuk 3) waar Habakuk die mooi gebed en lied neergepen het oor hoe hy, te midde van moeilike tye, steeds in die Here sal roem, want die Here is sy krag en vaste rots. Kyk ons egter na die eerste paar verse van hoofstuk 1, sien ons Habakuk (en die mens) se frustrasie oor die tye wanneer God stil is:
“²𝐻𝑜𝑒 𝑙𝑎𝑛𝑘 𝑛𝑜𝑔, 𝐻𝑒𝑟𝑒? 𝐸𝑘 𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑜𝑚 ℎ𝑢𝑙𝑝, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑈 𝑙𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒; 𝑒𝑘 𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑢𝑖𝑡 𝑛𝑎 𝑈, “𝑔𝑒𝑤𝑒𝑙𝑑!” 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑈 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠 𝑛𝑖𝑒? ³𝑊𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑈 𝑚𝑦 𝑜𝑛𝑟𝑒𝑔 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑎𝑟, 𝑒𝑛 𝑙𝑒𝑒𝑑, 𝑡𝑒𝑟𝑤𝑦𝑙 𝑈 𝑡𝑜𝑒𝑘𝑦𝑘? 𝑉𝑒𝑟𝑛𝑖𝑒𝑡𝑖𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑤𝑒𝑙𝑑 𝑖𝑠 𝑟𝑒𝑔 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑚𝑦. 𝑇𝑤𝑖𝑠 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 𝑟𝑢𝑠𝑖𝑒 𝑛𝑒𝑒𝑚 𝑡𝑜𝑒. ⁴𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑜𝑟, 𝑒𝑛 𝑡𝑟𝑒𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔 𝑔𝑙𝑎𝑑 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑛𝑎 𝑣𝑜𝑟𝑒 𝑛𝑖𝑒; 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑔𝑜𝑑𝑑𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒𝑠 𝑜𝑚𝑠𝑖𝑛𝑔𝑒𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑣𝑒𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒. 𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑎𝑎𝑖𝑑.” – Habakuk 1:2-4 (AFR20)
Habakuk voel, soos ons soms, dat God stil is. Dit voel asof God wegkyk, terwyl allerhande slegte dinge aanhou gebeur en, veral as dit naby aan ons begin gebeur, voel ons eensaam en verlaat. Dit voel of God nie ons gebede verhoor nie. Dit voel of God nie omgee nie. Ons voel nie sy liefde nie. Ons voel selfs of niks die moeite werd is nie. Maar dan, as ons geduld het en as ons ook stil word en wag, kom ons agter dat God altyd ’n rede het, soos Hy dan ook vir Habakuk antwoord in vers 5:
“⁵𝐾𝑦𝑘 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑛𝑎𝑠𝑖𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑙𝑒𝑡 𝑜𝑝; 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑙𝑎𝑒, 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑜𝑚; 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑖𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑢𝑟; 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑔𝑙𝑜 𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑒𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒!”
Sien, God se stilte beteken nie dat Hy nie sien wat gebeur in die wêreld of in jou lewe nie. God se stilte beteken nie dat Hy nie kan help nie. In Habakuk se tyd was God nie stil omdat Hy moeg was of weg was nie. In die volgende verse vertel God aan Habakuk hoe Hy sy geregtigheid gaan laat geskied.
Wanneer ons partykeer net ongeregtigheid, onregverdigheid en die gebrokenheid van die lewe kan raaksien, sien God altyd meer en is Hy besig om nogsteeds sy plan uit te voer. In die tye wanneer ons God se stilte beleef is, dit dalk moeilik om dit te glo, maar dit is uiters belangrik dat ons juis in daardie tye dit móét glo en vashou daaraan. Soos god aan Habakuk gesê het, moet ons ook mooi oplet. Ons moet kyk en sien, want God sál optree. Ons moet in geloof vêr verby dit wat ons kan sien, begin kyk.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Wanneer God stil is, het ons die geleentheid om weer sy almag en soewereiniteit te besef. Wanneer God stil is, kry ons geleentheid om weer die onskatbare deug van nederigheid en afhanklikheid te leer.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, ek raak soms so ongeduldig met U, terwyl U altyd geduldig is met my. Vergewe my daarvoor. Dankie dat, al wil dit soms vir my voorkom of U stil is en al wat ek kan sien my eie pyn en worstelings is, sien U die groter prentjie raak en is U plan nogsteeds in wording vir die wêreld en vir my lewe. Dankie dat U my soms nederigheid leer en my help om volwasse te word in my geloof. Laat my op U vertrou wanneer dinge voel of dit te veel word. Here Jesus, ek loof en prys U dat U in beheer is en dat U verstaan waardeur ek soms gaan en dat U u genade en liefde uitstort in my. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟏𝟏 – 𝐖𝐚𝐭 𝐠𝐞𝐥𝐝 𝐧𝐢𝐞 𝐤𝐚𝐧 𝐤𝐨𝐨𝐩 𝐧𝐢𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
In ons alledaagse taal gebruik ons gedurig finansiële terme – veral wanneer ons praat oor verhoudings: “Ons waardeer ’n vriend/in. Ons belê in vriendskap. Ons stel vriendskap of ’n verhouding hoog op prys”... Ons gebruik soms, sonder dat ons dit agterkom, ons liefde in verhoudings, soos geld: om te kry wat ons wil hê.
Kyk bietjie na jou eie verhoudings (ook jou huwelik as jy getroud is): Gee jy liefde, tyd, geduld – sonder voorbehoud, onvoorwaardelik? Beïnvloed die ander persoon se optrede jou gesindheid van gee? Is jou liefde vir ander mense voorwaardelik? Gebruik jy liefde soos geld?
Sien, dít is nie hoe Christus se liefde en genade werk nie. God se liefde is nie afhanklik van my goeie gedrag nie – daar is geen manier waarop ek Sy genade of redding kan verdien nie. Jesus Christus het Sy lewe vir my gegee en God het my in Sy familie verwelkom, omdat ek vertrou en glo in dít wat Christus vir my aan die kruis gedoen het. God gee genade, redding en gawes aan dié wat glo. Jy kan dit nie verdien nie. Jy kan dit nie koop nie.
In Handelinge 8, bid Petrus vir die apostels en, met handoplegging, ontvang hulle die Heilige Gees. Simon, die towenaar, sien dit en wil ook graag hierdie “mag” hê.
“¹⁸𝑇𝑜𝑒 𝑆𝑖𝑚𝑜𝑛 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑜𝑝𝑙𝑒𝑔𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑝𝑜𝑠𝑡𝑒𝑙𝑠 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑛𝑘 𝑤𝑜𝑟𝑑, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑦 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑑 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑏𝑖𝑒𝑑, ¹⁹𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒: “𝐺𝑒𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑜𝑜𝑘 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑔, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑤𝑖𝑒 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑜𝑝𝑙𝑒̂, 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔.” ²⁰𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑃𝑒𝑡𝑟𝑢𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝑀𝑎𝑔 𝑗𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑙𝑑 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟𝑓 𝑏𝑒𝑙𝑎𝑛𝑑, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑔𝑒𝑑𝑖𝑛𝑘 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑎𝑤𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑔𝑒𝑙𝑑 𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑟𝑦!” – Handelinge 8:18-20 (AFR20)
Simon die towenaar het nie besef dat sommige dinge in die lewe van onskatbare waarde is nie. Hy wou so graag ook hierdie nuwe truuk in sy sak hê. Petrus se antwoord aan hom is nogal ’n sterk en streng uitspraak, maar Petrus maak dit duidelik dat die gawes van God deur God se genade en goedheid alleen gegee word nie; hulle kan nie verdien of gekoop word nie.
Ons pogings om vrye en onvoorwaardelike liefde en vriendelikheid aan ander te bied, soos Jesus sou, is ’n lewenslange uitdaging. Ons is al só erg gekondisioneer met ’n verbruikersmentaliteit, dat ons maar sukkel om te aanvaar dat sekere dinge onvoorwaardelik is – soos God se liefde. Ons sukkel om daardie kopskuif te maak dat ons ander kan liefhê, sonder om iets terug te verwag of sonder dat hulle moet dink hulle “skuld” ons. Dit beteken dat ons by ons huise en ook in ons werksplekke of selfs op straat, ander moet liefhê, selfs al dink ons dat hulle nie ons liefde “verdien” nie.
God se onvoorwaardelike liefde aan ons is veronderstel om die gevolg te hê van ’n lewe van dankbaarheid aan ons kant. So ook, in ons verhoudings, is dit dikwels die gevolg dat ons onvoorwaardelike en soms “onverdiende” liefde, ’n ommekeer in die ander persoon tot gevolg het – maar, daar is geen waarborge nie. Op die ou end moet ek en jy kies om ons liefde vrylik te gee, nie in ’n poging om die ander persoon te manipuleer of daardie persoon te kry om ons goed te behandel nie, maar net omdat ons die Here wil behaag.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Geld kan nie blywende liefde koop nie, en ons moet nie ons liefde soos geld wil gebruik nie. God het ons lief, sonder voorwaardes. Ons kan nie Sy liefde koop nie. Ons kan ook nie ander se liefde koop nie. God gee Sy Gees ook aan ons wat glo. Hy besluit hoe en waar en wat. Ons kan dit nie verdien nie; nie koop nie. En deur Sy Gees wat in ons werk, kan ons Sy liefde, genade en vrede ook onvoorwaardelik deel.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here, dat U my onvoorwaardelik lief het. Help my om ook onvoorwaardelik lief te hê. Dankie dat U U Gees en U gawes vrylik gee aan wie U wil. Vul my met U liefde. Laat dit borrel in my, sodat dit uitvloei na almal daar buite wat U só nodig het. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟏𝟎 – 𝐒𝐞̂ 𝐛𝐢𝐞𝐭𝐣𝐢𝐞 𝐍𝐄𝐄 ! . . . 𝐦𝐞𝐭 𝐡𝐮𝐥𝐩 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Elke nou en dan – soms meer nou as dan – kom ons in die versoeking om iets verkeerd te doen. Soms doen ons dit onwillekeurig en soms maal die gedagte eers in ons koppe en harte rond en ons staan voor ’n keuse. As ons kies om die verkeerde daad te doen, vreet dit ons gewoonlik op ná die tyd. Ons het spyt en ons het berou. Ons soek vergifnis by God en ook onsself en ander. Dit is hoe dit hoort, maar sou dit nie beter en lekkerder wees as ons net die regte keuse kon maak nie? Jakobus skryf:
“⁷𝑂𝑛𝑑𝑒𝑟𝑤𝑒𝑟𝑝 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑢𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑. 𝑊𝑒𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐷𝑢𝑖𝑤𝑒𝑙, 𝑑𝑎𝑛 𝑠𝑎𝑙 ℎ𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑒𝑔𝑣𝑙𝑢𝑔. ⁸𝑁𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑡𝑜𝑡 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑎𝑛 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑦 𝑡𝑜𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑎𝑑𝑒𝑟.” – Jakobus 4:7-8a (AFR20)
As versoekings aanhou klop aan die deur van ons gedagtes, moet ons eenvoudig NEE sê! Ons moet daardie sondige versoekings verwerp en daardie welluste begeertes afwys. Ons moet die vleeslike versoekings weier en die duiwel en al sy afwykende planne, wat ontwerp is om ons tot ’n veelvoud van sondige aktiwiteite te verlei en wat ons getuienis weerspreek en onse God oneer aandoen, weerstaan. As ons die duiwel teenstaan, sál hy van ons wegvlug.
En ja, ek weet, dit is natuurlik baie makliker gesê as gedaan. Hoe kan ons dan sterker staan, hoe kan ons die duiwel weerstaan? Hoor hoe slim was die Prediker ook gewees:
“⁹𝑇𝑤𝑒𝑒 𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑏𝑒𝑡𝑒𝑟 𝑎𝑠 𝑒𝑒𝑛. 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑛𝑠𝑝𝑎𝑛𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑘𝑜𝑚 𝑡𝑜𝑡 𝑖𝑒𝑡𝑠. ¹⁰𝐴𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑙, 𝑘𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 ℎ𝑜𝑚 𝑜𝑝ℎ𝑒𝑙𝑝. 𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑠 𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑙 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑒𝑛 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑜𝑚 ℎ𝑜𝑚 𝑜𝑝 𝑡𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑝 𝑛𝑖𝑒... ¹²𝐸𝑒𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑒𝑛 𝑘𝑎𝑛 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑒𝑙𝑑𝑖𝑔 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑡𝑤𝑒𝑒 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑 𝑏𝑖𝑒𝑑. '𝑛 𝐷𝑟𝑖𝑒𝑑𝑢𝑏𝑏𝑒𝑙𝑒 𝑡𝑜𝑢 𝑏𝑟𝑒𝑒𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑘𝑙𝑖𝑘 𝑛𝑖𝑒.” Prediker 4:9-10, 12 (AFR83)
Ons het mekaar nodig. Om die aanslae van die vyand in hierdie wêreld alleen te probeer afweer, is dikwels baie moeilik. Jesus is altyd deur- en in die Heilige Gees met ons en ons is nooit ooit alleen nie, maar juis vir hierdie rede bestaan die kerk, die gemeenskap van gelowiges, ook. Ons moet maak soos Jesus ons geleer het en mekaar se laste dra. Ons moet eensgesind wees en saamstaan vir reg en geregtigheid. Ons moet saam die versoekings van die vyand afweer en saam mekaar bemoedig in tye van beproewing. Ons moet mekaar help om NEE te sê.
Twee vaar beter as een, maar die driedubbele tou, gebind in die liefde en genade van God, kan nooit breek nie. Het jy iemand wat saam met jou staan? Dankie vir almal wat bereid is om saam met my te staan. Mag die Here jou seën en beskerm deur die gemeenskap van die heiliges in God se een algemene Christelike kerk.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Prys die Here dat ons deur die krag van die Heilige Gees gesag het oor ons liggame om onsself aan God beskikbaar te stel as instrumente vir geregtigheid: heilig en aanvaarbaar vir God, want ons is nie onder die wet nie, maar onder genade.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie hemelse Vader dat ek nie meer onder die mag van Satan is nie, maar ’n kind van God is wat onder die genade is en nie onder die wet nie. Ek bid dat ek in gees en waarheid kan wandel tot U lof en eer en dat ek in U krag ... die invloede van die wêreld, die vlees en die duiwel sal weerstaan ... en in sagmoedigheid, suiwerheid, geestelikheid en opregtheid sal wandel al die dae van my lewe – tot U lof en eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟎𝟗 – 𝐇𝐨𝐞 𝐨𝐦 𝐆𝐨𝐝 𝐭𝐞 𝐬𝐢𝐞𝐧. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die Bybel leer ons dat niemand vir God kan sien en bly leef nie (Eks. 33:20). Moses kon net God se heerlikheid van agter aanskou en so ook kon Johannes, Jakobus en Petrus net ’n klein blik kry op die onbeskryflike prag van die ewigheid toe hulle saam met Jesus op die berg was (vgl. Matt. 17:1-13; Mark. 9:2-13; Luk. 9:28-36).
As mense wat in ’n “sien is glo” wêreld leef, is dit dikwels moeilik om te glo in ’n God wat nie deur wetenskap gedefinieer of fisies bewys kan word nie. Soms wil ons ook weer bevestiging kry. Ons smag ook soms daarna om God te kan sien, maar kan ons? Het dinge verander sedert God self gesê het dat ons Hom nie mag sien en bly leef nie? Die antwoord hierop, is ‘ja’ en ‘nee’. Hoor wat skryf Paulus aan die gemeente in Kolossense:
“¹⁵𝐷𝑖𝑒 𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑠𝑖𝑔𝑏𝑎𝑟𝑒 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑖𝑒 •𝐸𝑒𝑟𝑠𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒𝑛𝑒 𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑠𝑘𝑒𝑝𝑝𝑖𝑛𝑔; ¹⁶𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐻𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑝: 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒, 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑔𝑏𝑎𝑟𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑠𝑖𝑔𝑏𝑎𝑟𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒, 𝑜𝑓 𝑑𝑖𝑡 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑛𝑑𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒, 𝑜𝑤𝑒𝑟ℎ𝑒𝑑𝑒 𝑜𝑓 𝑔𝑒𝑠𝑎𝑔𝑣𝑜𝑒𝑟𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑖𝑠 – 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑖𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑝. ¹⁷𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑏𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝐻𝑜𝑚 ℎ𝑜𝑢 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑. ¹⁸𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑜𝑜𝑓 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚, 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑒𝑟𝑘. 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑟𝑠𝑝𝑟𝑜𝑛𝑔, 𝑑𝑖𝑒 𝐸𝑒𝑟𝑠𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒𝑛𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒 𝑝𝑙𝑒𝑘 𝑘𝑜𝑛 𝑖𝑛𝑛𝑒𝑒𝑚; ¹⁹𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑜𝑒𝑑𝑔𝑒𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑖𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑜𝑜𝑛, ²⁰𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠, 𝑗𝑎, 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑜𝑝 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙, 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛, 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑢𝑖𝑠. ²¹𝑂𝑜𝑘 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑟𝑒𝑒𝑚, 𝑗𝑎, 𝑣𝑦𝑎𝑛𝑑𝑖𝑔𝑔𝑒𝑠𝑖𝑛𝑑 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑜𝑜𝑟 𝐻𝑜𝑚, 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑙𝑒𝑔𝑡𝑒 𝑑𝑎𝑑𝑒; ²²𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑛𝑜𝑢 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑙𝑖𝑔𝑔𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑑𝑜𝑜𝑑, ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑓𝑜𝑢𝑡𝑒 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑏𝑒𝑟𝑖𝑠𝑝𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑘𝑎𝑛 𝑠𝑡𝑒𝑙 – ²³𝑚𝑖𝑡𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑏𝑙𝑦, 𝑠𝑡𝑒𝑤𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑣𝑒𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑𝑣𝑎𝑠𝑡𝑖𝑔, 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑜𝑚 𝑤𝑒𝑔 𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑤𝑒𝑒𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔. 𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑠𝑘𝑒𝑝𝑝𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑒𝑘, 𝑃𝑎𝑢𝑙𝑢𝑠, '𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑛𝑎𝑎𝑟 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑 ℎ𝑒𝑡.” – Kolossense 1:15-23 (AFR20)
Die eerste dissipels was in die bevoorregte posisie om Jesus fisies te sien, maar ons het nie daardie voorreg nie. Tog het ons die voorreg om Jesus te ken. Ons is met Hom versoen en Hy het, deur sy kruisdood en opstanding, begin om dieselfde beeld van God waarvolgens ons geskep is, weer te herstel. Deur die kerk, die liggaam van Christus, kan ons ook hier en daar ’n blik kry op die prag van die ewigheid en ons opgestane Here. Deur die hele skepping, wat deur Hom en tot Hom geskep is, kan ons die Seun leer ken en raaksien in ons geestesoog en begin besef hoe Hy nog voor die bestaan van tyd af regeer. As die kerk gelei word deur die Hoof, sien ons en ervaar ons die vrede wat Hy vir ons bewerk het aan die kruis.
So, nee, ons kan nie God fisies sien en bly leef nie, maar ons kan in die gees Hom sien, ervaar, ken en, in die geloof van die evangelie, standvastig bly in hoop dat dit wat ons van Hom kan waarneem en sien in sy skepping en in die werk van die Heilige Gees in- en deur sy kerk, sal ons Hom eendag, na hierdie lewe, sien. Ons sal God sien en ons sal bly leef – vir ewig!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek kan en moet Jesus sien in my geestesoog. Ek moet ook vir Jesus sigbaar maak in die wêreld deur vas te hou aan wat Hy ons leer en deur die verkondiging van die evangelie. Eendag sal ek my God aanskou in al sy glorie en vir ewig saam met Hom wees.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, dankie dat U ons kom wys het hoe groot en glorieryk ons almagtige God is. Dankie dat ons dit vandag nog kan waarneem in die skepping en ook in die werk wat U doen deur U Gees. Ek sien uit na die dag wanneer ek weer volmaak volgens u beeld sal wees en vir ewig saam met U kan wees. Laat my leef met daardie hoop en laat my die hoop verkondig. Tot U eer en verheerliking alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟎𝟕 – 𝐁𝐢𝐝 𝐯𝐢𝐫 𝐦𝐲. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Efesiërs 6 leer Paulus ons ’n hele paar belangrike dinge. Hy praat oor die verhouding tussen ouers en kinders, die verhouding tussen eienaars en slawe en dan, natuurlik, die wonderlike gedeelte oor die wapenrusting van God wat ons elke dag moet aantrek in ons stryd teen die bose magte in die wêreld. Maar Paulus skryf ook in hierdie gedeelte aan die gemeente in Efese en roep hulle op om ’n baie belangrike ding te doen:
“¹⁸𝐷𝑜𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑏𝑖𝑑𝑑𝑒𝑛𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑚𝑒𝑒𝑘 𝐺𝑜𝑑 𝑏𝑦 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑒𝑒𝑛𝑡ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠. 𝑊𝑒𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑎𝑘𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑒𝑛 𝑏𝑖𝑑 𝑔𝑒𝑑𝑢𝑟𝑖𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑤𝑖𝑔𝑒𝑠. ¹⁹𝐵𝑖𝑑 𝑜𝑜𝑘 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑑𝑎𝑡 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑝𝑟𝑒𝑒𝑘, 𝐺𝑜𝑑 𝑚𝑦 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒 𝑔𝑒𝑒 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒ℎ𝑒𝑖𝑚𝑒𝑛𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑣𝑟𝑦𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑 𝑚𝑎𝑎𝑘. ²⁰𝑇𝑒𝑟 𝑤𝑖𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑖𝑠 𝑒𝑘 '𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑎𝑛𝑡 𝑖𝑛 𝑏𝑜𝑒𝑖𝑒. 𝐵𝑖𝑑 𝑑𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑡 𝑚𝑒𝑡 𝑣𝑟𝑦𝑚𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑚𝑦 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑙𝑒̂ 𝑖𝑠.” – Efesiërs 6:18-20 AFR83
Bid ons nog vir mekaar? As die predikant elke Sondag deur al die afkondigings gaan, verstaan ons dat al daardie sake voorbidding nodig het?
Hoe bid ons en hoe bid ons gemeentes? As ons kyk na die “Onse Vader”, begin dit dadelik met lofprysing. Gebed gaan eerstens oor God se Naam, sy lof, sy eer, sy koninkryk en dan besef ons weer dat ons in alles totaal afhanklik is van God.
Paulus was nie voorbarig of selfvoldaan toe hy vir die gemeente in Efese gevra het om vir hom te bid nie. Paulus het besef dat die predikantslewe soms baie eensaam is en dat ons leraars ook voorbidding nodig het. Bid ons vir ons leraars, ons herders, ons predikante? Bid ons dat wanneer hulle preek, God hulle die woorde sal gee dat hulle die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak? Bid ons dat ons leraars ook in woord en wandel ware gesante van God sal wees?
Baie leraars verloor of vergeet hul geroepenheid en gemeentes besef nie altyd dat dit ook hul plig is om hierdie mense in gebed voor God te bring nie. Ons het dit al baie gehoor en dalk ook al gepreek, maar in die bediening raak baie leraars maklik te besig met die dinge van God en is hulle fokus nie op die God van die dinge nie.
Ons weet tog dat geen verhouding kan werk as daar nie behoorlike kommunikasie is nie en dit ons plig as Christene om te sorg dat ons kommunikasie met ons Skepper daar is. Dit is ook ons plig om te bid vir die persoon wat voorgaan om God se Woord aan ons te bedien.
Bid vir mekaar, in jou gemeente,. Bid vir jou leraar, ook die ander leraars in jou dorp, in die ring, in die sinode, in die kerk wêreldwyd. Bid vir my.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek moet bid dat God se Woord geopenbaar sal word aan die bedienaars van sy Woord en dat dit suiwer verkondig sal word.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, ons loof en prys U Naam vir 'n nuwe dag en nog 'n geleentheid om U te aanbid. Ons loof U vir die werk wat ons kan doen, sodat U Koninkryk mag kom.
Here, ons bid vir elke bedienaar van die Woord. Openbaar U Woord aan hulle. Gee hulle die vrymoedigheid om die evangelie te verkondig. Mag hul lewens ’n preek en getuienis wees in woord en daad van u liefde en genade.
Waar ons vir ander en mekaar bid, mag ons onthou dat dit gaan om U en U wil. Waar ons bid dat U teenwoordig sal wees een dat u vrede sal heers, mag ons dit self ook ervaar.
Mag ons werk nie werk wees nie, maar ’n voorreg en vreugde.
Aan U behoort die lof en eer, die koninkryk en die krag, tot in ewigheid.
Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟎𝟔 – ’𝐧 𝐉𝐚𝐤𝐤𝐚𝐥𝐬 𝐯𝐞𝐫𝐚𝐧𝐝𝐞𝐫 𝐯𝐚𝐧 𝐡𝐚𝐚𝐫, 𝐦𝐚𝐚𝐫 𝐧𝐢𝐞 𝐯𝐚𝐧 𝐬𝐧𝐚𝐚𝐫. (Kliek hier vir die klankgreep)
Indien jy nog nie die gesegde gehoor het nie, dit beteken dat mense wat een of ander streek het, nie sommer daarvan gaan afwyk nie. Dit is ongelukkig nog altyd die geval in die wêreld. As jy eenmaal begin neig om iets verkeerd te doen, gaan jy aanhou om dit te doen en dit dalk nog meer en erger doen, tensy jy hulp kry. Hierdie gesegde kom heel moontlik van iets wat Jesus self nog vir sy dissipels geleer het.
In Lukas 16:1-18 vertel Jesus die gelykenis van die oneerlike bestuurder en, amper met ’n sarkastiese les omdat die Fariseërs daar naby gestaan en luister het, leer Jesus die beginsel oor betroubaarheid en rentmeesterskap in God se Koninkryk. In verse 10-13 leer Jesus die les van die jakkals:
“¹⁰𝑊𝑖𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔𝑠𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑚 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔𝑠𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑜𝑛𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑚 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛. ¹¹𝐴𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑀𝑎𝑚𝑚𝑜𝑛 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑒𝑓 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑟𝑒 𝑟𝑦𝑘𝑑𝑜𝑚 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢? ¹²𝐸𝑛 𝑎𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑠 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑠𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑖𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑜𝑒𝑘𝑜𝑚? ¹³𝐺𝑒𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑖𝑠𝑘𝑛𝑒𝑔 𝑘𝑎𝑛 𝑡𝑤𝑒𝑒 𝑏𝑎𝑠𝑒 𝑑𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 ℎ𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑜́𝑓 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 ℎ𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑒𝑒𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒̂, 𝑜́𝑓 ℎ𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑙𝑜𝑗𝑎𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑎𝑔. 𝐽𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑒́𝑛 𝑀𝑎𝑚𝑚𝑜𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒.” – Lukas 16:10-13 (AFR20)
Wat Jesus dus leer hier, is dat as jy nie eers met die dinge van hierdie wêreld eerlik en opreg kan optree nie, hoe kan jy verwag om met God se sake eerlik op te tree? As jy nie in jou werk, jou huis, jou verhoudings eerlik is nie – eerlik met jouself, met God en met ander – hoe gaan jy in jou Godsdiens en jou geloof eerlik wees? Ja, ’n jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie. Maar ons is nie jakkalse nie...
As jy gelei word deur God se Gees en as jy elke dag jouself herinner daaraan dat die ou mens saam met Jesus aan die kruis gesterf het, kan jy van snaar verander – dan is daar nie meer streke nie. Dan is die jakkals dood en leef die Lam in jou.
Volg Christus se voorbeeld op elke terrein van jou lewe. Wees betroubaar in die klein dingetjies. Wees betroubaar in elke opdrag. Wees betroubaar in die hulpbronne onder jou rentmeesterskap. Wees betroubaar in jou werk. Wees betroubaar in jou besigheid. Wees betroubaar in jou gesin. Wees betroubaar in elke verhouding: met mense en met God. Wees betroubaar in alles waarmee God jou geseën het, en Hy sal jou grense vergroot.
Kan God jou vertrou met die klein dingetjies? Kan Hy jou vertrou met die oënskynlik klein opdragte? Laat God die werk van jou hande lei.
Laat God jou gewoontes lei in die klein dingetjies. Laat God jou karakter in die klein dingetjies vorm. Laat God jou treë in die klein dingetjies lei. Kies om betroubaar te wees in die klein dingetjies en Hy sal jou in groter sake lei.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Is ek ’n betroubare mens?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie vir alles wat U aan my toevertrou het. Lei my en help my om ’n betroubare rentmeester te wees van alles wat U onder my sorg geplaas het. Ek dien U alleen. Laat ek nie vasgevang word in die aanbidding van geld of materiële dinge in die wêreld nie. Mag U my vind as ’n betroubare dienaar. Tot eer en verheerliking van U Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟎𝟐 – 𝐋𝐮𝐢𝐬𝐭𝐞𝐫 𝐧𝐚 𝐫𝐚𝐚𝐝 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Een van die moeilikste dinge in die lewe, is om deur ander geleer te word en goeie raad te aanvaar. Mense sê mos jy kan luister na alle raad, maar jy moet besluit of jy dit gaan volg of nie. Dalk was jy al in die verlede té veel kere teleurgestel deur slegte raad, wat goed geklink het, te volg. Ongelukkig gebeur dit gereeld in die lewe dat ons raad volg, wat heel moontlik baie goeie bedoel was, maar dan werk dinge nie vir ons uit nie. Wat maak ons dan? Moet ons glad nie na raad luister nie? Hoe weet ons of raad goeie raad is of nie? Hoor wat sê Salomo:
“²⁰𝐿𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑛𝑎 𝑟𝑎𝑎𝑑 𝑒𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑣𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑒𝑟𝑚𝑎𝑛𝑖𝑛𝑔, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑦 𝑢𝑖𝑡𝑒𝑖𝑛𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘 𝑤𝑦𝑠 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑒𝑒𝑠. ²¹𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑏𝑎𝑖𝑒 𝑝𝑙𝑎𝑛𝑛𝑒 𝑖𝑛 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑎𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 – 𝑑𝑖́𝑡 𝑘𝑜𝑚 𝑡𝑜𝑡 𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑.” – Spreuke 19:20-21 (AFR20)
Ou Salomo was regtig baie wys gewees. Hy sê nie hier luister net na goeie raad nie, maar net “raad”. Soms probeer mense goed doen en deel raad oor hoe iets dalk vir hulle gewerk het, maar ons almal het ons eie unieke lewensverhaal. Wat werk vir een, gaan nie noodwendig werk vir ’n ander nie. Tog moet ons wysheid bekom deur te luister. Ons hoef nie die raad te aanvaar of te volg nie, maar ons kan dit in ag neem om ons situasie bietjie beter te verstaan en verskillende opsies te oorweeg. Ware wysheid beteken dat ons leer – uit ons eie verhale se suksesse en mislukkings, sowel as dié van ander.
Uiteindelik sal God se wil geskied. Ons kan allerhande planne maak, maar God weet beter. Dit maak nie altyd vir ons sin nie en soms laat Hy toe dat ons deur beproewings gaan om ons geloof in Hom te versterk. Deur alles moet ons met wysheid optree en op Hom vertrou. In alles moet ons soek na Sy wil, want dít staan vas. Wat God besluit en Sý raad – dít kom tot stand. Sy wil vir ons is vreugde en vrede in die liefde en genade wat Hy voorsien. Luister dus na raad, maar wees versigtig na wie jy luister en nog meer versigtig na watter raad jy ter harte neem. Onthou: God se plan vir jou lewe moet voorkeur geniet.
Mag die Heilige Gees jou lei met die nodige onderskeidingsvermoë om deur verskillende soorte raad te sif, sodat jy wysheid kan hê.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek het baie planne in my hart. Is dit God se planne? Luister ek na die raad wat Hy my bied in Sy Woord?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, wees my raadgewer. Laat ek gedurig U Woord oordink en skenk aan my U planne in my hart. Wat U wil, sal gebeur. Laat my in vrede en vreugde U wil vir my aanvaar. Skenk aan my die onderskeidingsvermoë om die regte raad te volg, sodat U verheerlik sal word deur my besluite. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟑-𝟎𝟑-𝟎𝟏 – 𝐎𝐨𝐫𝐰𝐢𝐧 𝐢𝐧 𝐆𝐨𝐝 𝐬𝐞 𝐍𝐚𝐚𝐦. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons begin soek na God se wil in ons lewens, hou die duiwel niks daarvan nie. Die versoekings en aanslae kom dan uit alle rigtings en ons kan gou ontmoedig raak. Die maklike uitweg om maar net terug te keer na die ou lewe lyk dan vir ons baie aanloklik. Jesus self het gesê dat dit nie vir ons maklik gaan wees om Hom te volg nie. Dit vat inspanning en toegewydheid.
Om jouself te verloën, jou ou eie-ek af te sweer, is nie maklik nie. Maar hierdie ou mens moet eers sterf voordat die nuwe lewe kan begin. Daarom moet jy jou kruis opneem en Jesus volg, sodat daardie ou mens saam met Hom aan die kruis kan sterf (vgl. Luk. 9:18-27). Dis ’n oorlog wat in ons woed elke dag. Maar dis ’n oorlog wat ons kan en móét wen. Paulus skryf:
“¹⁰𝑇𝑒𝑛 𝑠𝑙𝑜𝑡𝑡𝑒: 𝑉𝑖𝑛𝑑 𝑗𝑜𝑢 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘𝑡𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑒𝑛 𝑖𝑛 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑤𝑒𝑙𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔. ¹¹𝑇𝑟𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑝𝑒𝑛𝑟𝑢𝑠𝑡𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑎𝑛, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛𝑑𝑒 𝑘𝑎𝑛 𝑏𝑙𝑦 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑠𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐷𝑢𝑖𝑤𝑒𝑙. ¹²𝑉𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑟𝑦𝑑 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑙𝑒𝑒𝑠 𝑒𝑛 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑤𝑒𝑟ℎ𝑒𝑑𝑒, 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒, 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠, 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑠𝑒 𝑔𝑒𝑒𝑠𝑡𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑟𝑢𝑖𝑚.” – Efesiërs 6:10-12 (AFR20)
Sedert die begin van die mens se bestaan op aarde, was daar nog altyd hierdie oorlog waarin ons betrokke is. Hierdie stryd binne ons. In ’n oorlog, word verslane soldate óf doodgemaak óf gevange geneem om verneder te word en gemartel te word. Wanneer ons moeg raak om te veg in hierdie oorlog van ons, word ons gelukkig nie doodgemaak deur die vyand nie, maar word ons slawe gemaak. Die vyand martel en breinspoel ons, sodat ons begin glo hy hou van ons en dat ons eintlik vry is en dat wat ons doen selfs reg is. Ons word slawe van die sonde. En die sonde lei uiteindelik wel na die dood – ’n ewige dood.
Dit is skrikwekkend en tog is dit iets wat ons só maklik vergeet. Daarom het Jesus gekom om vir ons die lewe te bring. Hy het ons kom leer hoe om hierdie oorlog te wen. Hy het reeds oorwin en die bose het geen mag oor Hom nie. Daarom, as Hy in ons bly en ons in Hom, is hierdie stryd in ons lewens ook reeds oorwin. Maar ons moet elke dag en in elke oomblik weer die keuse maak. Ons moet kies aan watter kant ons staan. Veg ons vir God se geregtigheid en die ewige verlossing van ons en ander se siele, of swig ons onder die druk van duiwel se aanslae op ons lewens? God gee vir ons alles wat nodig is om hierdie oorlog elke dag te wen – elke oomblik en in alle omstandighede.
Lees gerus die hele Efesiërs 6 en ontdek hoe jy ook elke dag die volle wapenrusting van God kan aantrek. Hoe jy elke dag in die volle mag van God kan lewe en meer as genoeg krag kan kry om hierdie oorlog te wen. Net terloops, dit is juis ook hoekom die kerk bestaan en waar jy hulp kry in die oorlog. Dit is waar die weermag van die Here op gereelde basis saamkom om krag te kry en oorlog strategie te bespreek.
“Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag.” Veg die stryd. Oorwin in God se Naam.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 :
Ek kan oorwin teen die sonde in hierdie wêreld. God is my krag.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus, dat U alreeds die oorwinning behaal het. Dankie dat U eendag, eens en vir altyd, die bose sal vernietig en dat ek nou al kan deel wees van daardie oorwinning en dat ek saam met U vir ewig die oorwinning kan vier. Gee my krag, Here, dat ek die daaglikse stryd kan wen in U Naam. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
Ds. Christo Schoeman ···ᶜᴶˢ··· ©