Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
Kliek ook gerus op die "Oordenkings" skakel (menu) daarbo 👆🏻 om by die ouer oordenkings uit te kom.
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟑𝟏 – 𝐖𝐚𝐭 𝐯𝐚𝐭 𝐞𝐤 𝐬𝐚𝐚𝐦 𝐢𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐧𝐮𝐰𝐞 𝐣𝐚𝐚𝐫 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
En so kom nog ’n jaar tot ’n einde. Dalk was dit vir jou nie ’n goeie jaar gewees nie. Dalk was dit ’n uitmuntende jaar gewees. Dalk was dit maar net nog ’n jaar met die gewone opdraandes en afdraandes. Dalk het jy geworstel met ’n paar dinge en dalk het jy oorwinning behaal in ander. Dalk het jy gevoel soos ’n slaaf van jou werk, jou daaglikse take, jou verhoudings, selfs die lewe...
Soos ons aan die einde van ’n jaar staan en die nuwe jaar begin sy kop uitsteek, is ons dikwels ietwat hoopvol. Ons wens mense ’n voorspoedige Nuwejaar toe en ons voel ook goed as ander dit vir ons doen. Ek het al gehoor dat mense sê: ‘Mag die beste van hierdie jaar, die slegste wees van volgende jaar.’ En ons hoop regtig so, dat dinge altyd net beter en beter sal gaan. Ons wonder wat ons uit die Oujaar kan neem in die nuwe jaar in en wat ons kan los... Want, as ons nie realisties is nie, sal die hoop wat ons het, baie gou geblus word.
As Christene, het ons natuurlik ’n groter hoop. As ons dink aan die oorwinning wat Jesus reeds vir ons behaal het, gaan ons gedagtes ook dikwels na Johannes 14 waar Jesus ons belowe dat Hy vir ons plek gereed gaan maak en ook Openbaring 21-22 se beskrywing van die wonderlike plek wat vir ons gereed gemaak word. Ons sien uit na ’n ewige lewe, sonder sonde en dood. Ons sien uit daarna om nie meer slawe te wees nie, maar heeltemal vry.
Paulus sê ook in Romeine 6:6 (AFR20): “⁶𝐷𝑖𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠: 𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑢 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑘𝑟𝑢𝑖𝑠𝑖𝑔 𝑖𝑠, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑜𝑡 𝑛𝑖𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑠𝑙𝑎𝑤𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒.” Vêrder vertel hy in Romeine 8:18-23 dat ons saam met die ganse skepping uitsien na daardie tyd wanneer ons in geheel sal oorgaan van die tydelike na die ewige. In vers 24-25 sê hy dan: “²⁴𝑂𝑛𝑠 𝑖𝑠 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠 𝑖𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑝. 𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑤𝑎𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑛𝑖𝑒; 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑤𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑛𝑜𝑔 𝑜𝑝 𝑤𝑎𝑡 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑘𝑎𝑛 𝑠𝑖𝑒𝑛? ²⁵𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑠 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑑𝑎𝑛 𝑤𝑎𝑔 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑝 𝑚𝑒𝑡 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑎𝑟𝑑𝑖𝑛𝑔.” (Romeine 8:24-25 AFR20)
Maar, het jy geweet dat as hierdie hoop vir jou iets is wat net doer vêr in die toekoms wag is, dan mis jy baie dinge? As jy nie nou al deel in die oorwinning nie, dan bly jy ’n slaaf van hierdie tyd. Jesus het gekom om vir ons in hierdie tyd en hierdie lewe al te laat deel in die oorwinning. Menslik is dit vir ons onmoontlik om ware oorwinning te behaal oor klein en groot dinge in hierdie lewe, maar vir God is dit nie onmoontlik nie. Voor Jesus se koms al, het die engel vir Josef gesê: “²³ “𝐾𝑦𝑘, 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑔𝑑 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑤𝑎𝑛𝑔𝑒𝑟 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑒𝑛 '𝑛 𝑠𝑒𝑢𝑛 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔, 𝑒𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑜𝑚 𝐼𝑚𝑚𝑎𝑛𝑢𝑒𝑙 𝑛𝑜𝑒𝑚” – 𝑤𝑎𝑡, 𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑎𝑎𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑏𝑒𝑡𝑒𝑘𝑒𝑛 ‘𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑚𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠.’” (Matteus 1:23 AFR20)
So, wat neem jy uit die ou jaar die nuwe jaar in? Wat doen jy anders? Wat doen jy dieselfde? Doen wat werk. Doen wat hoop gee. Doen wat jou herinner aan jou ryk erfenis wat jy het in Jesus Christus. Neem niks behalwe jouself die nuwe jaar in nie. Net jy. Kaal gestroop van jou wense en menslike verwagtings. Wees realisties en weet dat alles nie altyd goed sal gaan nie. Wees realisties – nie pessimisties nie. Maar in jou realisme, wees ook realisties oor Immanuel. Gaan die nuwe jaar in, saam met God. God is met ons. Jy kan net jouself die nuwe jaar inneem. Jy kan nie God saamvat nie, want Hy is alreeds daar!
Dít is ons hoop. Lewende hoop! Nie vir doer vêr, eendag in die toekoms nie, maar vir nou – vir vandag en môre en oormôre en al die dae wat volg. Gaan die ou jaar uit en die nuwe jaar binne met die woorde van Paulus in Efesiërs 4:4-7 (AFR20):
“⁴𝑉𝑒𝑟𝑏𝑙𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒! 𝐸𝑘 ℎ𝑒𝑟ℎ𝑎𝑎𝑙: 𝑉𝑒𝑟𝑏𝑙𝑦 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒! ⁵𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑖𝑒𝑛𝑑𝑒𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑 𝑤𝑜𝑟𝑑. 𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠 𝑛𝑎𝑏𝑦. ⁶𝑀𝑜𝑒𝑡 𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑖𝑘𝑠 𝑏𝑒𝑘𝑜𝑚𝑚𝑒𝑟𝑑 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑑 𝑒𝑛 𝑠𝑚𝑒𝑘𝑖𝑛𝑔 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑛𝑘𝑠𝑒𝑔𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑎𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑. ⁷𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑟𝑖𝑝 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑟𝑒𝑓, 𝑠𝑎𝑙 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑜𝑜𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑑𝑎𝑔𝑡𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑎𝑘.”
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 𝕖𝕟 𝕖𝕝𝕜𝕖 𝕕𝕒𝕘 ...
Filippense 4:5b: “𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠 𝑛𝑎𝑏𝑦.”
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God wat altyd by my is, dankie. Dankie vir al u liefde en genade. Dankie dat ek altyd hoop kan hê. Skenk aan ons u vrede. Mag u vrede wat alle begrip oortref, deur die werk van U, Heilige Gees, altyd oor ons harte en gedagtes waak in Jesus Christus, ons Here. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟑𝟎 – 𝐋𝐢𝐞𝐟𝐝𝐞 𝐢𝐧 𝐣𝐨𝐮 𝐃𝐍𝐒. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek het al mense hoor sê dat daar geen groter liefde is as die liefde van ’n ouer vir ’n kind nie. Ander mense reken weer dat die liefde tussen ’n huwelikspaar die grootste is, omdat daar ’n band is wat, met ontmoeting die eerste keer (soms), onverklaarbaar en oneindig is. Natuurlik kan ons baie daaroor redeneer en debatteer, maar daar is een liefde wat alles oortref: Daar is geen groter liefde as die liefde van God nie.
God se liefde is, in ’n mate, die liefde van ’n ouer vir ’n kind. Ons is God se skepsels. Hy het ons gemaak en Hy ken ons deur en deur. Niks is vir Hom verborge nie. Ouers se liefde vir hul kinders, is gewoonlik ook gebaseer op hierdie liefde van God – of ouers in God glo of nie, want, as God se skepsels, is daardie eienskap inherent deel van ons. Ouers weet egter nie altyd wat hul kinders doen, hoe hulle voel, watter dinge hulle dalk wegsteek of hoe hulle eendag sal uitdraai nie. Tog het meeste ouers nogsteeds hulle kinders lief met ’n onvoorwaardelike liefde.
In ’n familie loop alles nie altyd klopdisselboom nie. As kinders, het ek en my broer en suster dikwels saamgespeel. Soms baie lekker, maar soms was daar ’n bakleiery gewees. Ons het amper nooit vir mekaar gesê dat ons lief is vir mekaar nie, maar as ons baie kwaad was, het ons sommer vir mekaar gesê dat ons mekaar haat. Soos ons groter geword het, het ons agtergekom dat ons nie regtig mekaar gehaat het nie, maar net die dinge wat ons soms aangevang het of hoe ons mekaar behandel het, gehaat het. Ons was altyd lief vir mekaar en is nogsteeds.
Soms haat ouers ook dit wat hul kinders aanvang en soms straf of dissiplineer ouers hul kinders daarvoor. Ouers doen dit, sodat kinders uiteindelik sal leer wat reg is en sal doen wat reg is. ’n Straf vir ’n kind is soms baie erg, omdat kinders die teleurstelling van die ouer ervaar. Maar kinders stel ouers teleur en ouers leer om daarmee saam te leef, terwyl hulle nogsteeds net so lief bly vir hul kinders. Dit is genade. Onvoorwaardelike liefde, wat selfs in die hartseer van teleurstelling, nie terugstaan nie. Dít is die soort liefde waarmee God ons liefhet en dít is die soort liefde wat in Christen-huise gewoonlik soveel meer beteken as in ander huise, omdat mense verstaan waaroor dit gaan:
“⁷𝐺𝑒𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒𝑠, 𝑜𝑛𝑠 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑚𝑒𝑘𝑎𝑎𝑟 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒̂, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑘𝑜𝑚 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑒𝑛 𝑒𝑙𝑘𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, 𝑖𝑠 '𝑛 𝑘𝑖𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑒𝑛 𝑘𝑒𝑛 𝐺𝑜𝑑. ⁸𝑊𝑖𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, ℎ𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑘𝑒𝑛𝑛𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑛𝑖𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒. ⁹𝐻𝑖𝑒́𝑟𝑖𝑛 𝑖𝑠 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑜𝑝𝑒𝑛𝑏𝑎𝑎𝑟: 𝑠𝑦 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑠𝑡𝑒 𝑆𝑒𝑢𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑡𝑜𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑘𝑎𝑛 ℎ𝑒̂. ¹⁰𝑊𝑒𝑟𝑘𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑑𝑖́𝑡: 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑏𝑒𝑤𝑦𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑡𝑒 𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑎𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑠. ¹¹𝐺𝑒𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒𝑠, 𝑎𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 ℎ𝑜𝑒 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑦 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑏𝑒𝑤𝑦𝑠 ℎ𝑒𝑡, 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑚𝑒𝑘𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑜𝑘 𝑙𝑖𝑒𝑓 𝑡𝑒 ℎ𝑒̂. ¹²𝑁𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑛𝑜𝑔 𝑜𝑜𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑚𝑒𝑘𝑎𝑎𝑟 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, 𝑏𝑙𝑦 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑦 𝑑𝑜𝑒𝑙 𝑣𝑜𝑙𝑘𝑜𝑚𝑒 𝑏𝑒𝑟𝑒𝑖𝑘.” – 1 Johannes 4:7-12 (AFR83)
Wanneer ons begin besef hoe onmeetlik groot hierdie liefde en genade van God is, sal ons besef dat rusies, meningsverskille, selfs haat vir wat ander mense doen, nie die liefde kan keer wat ons het vir mekaar nie. Dan besef ons hoe hierdie liefde van God in ons bly en hoe dit van geslag tot geslag oorgedra word – of ouers dit wil doen of nie. Dan besef ons hoe die goeie eienskappe van ouers, wat gebaseer is op hierdie liefde van God, altyd sal deel bly van wie kinders is. Dit is hoe God sy liefde met ons gedeel het en in ons DNS (DNA in Engels) geskryf het. Só bly God se liefde in ons.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Ek het ’n keuse elke dag: Ek kan weer nuutgebore word in God se liefde en die wêreld rondom my verander, of ek kan kies om nie meer lief te hê nie. Ek ken God persoonlik. Ek sal liefhê.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, ons as mense is soms heeltemal broos as gevolg van terugslae, hartseer en verlies. Wanneer ons in U teenwoordigheid kom, word ons weer oorweldig deur U liefde vir ons. Dankie dat daar geen ervaring in die lewe is waardeur ons alleen hoef te stap nie. Dankie dat daar nêrens in die wêreld is, waar U liefde ons nie kan aanraak nie. Soms haat ons wat mense doen of is ons kwaad daaroor, omdat U ook die verkeerde dinge gehaat het. Dankie dat U ons nie haat daarvoor nie, maar dat U ons nogsteeds net so lief het. Laat ons mekaar ook altyd lief hê – maak nie saak wat gebeur nie. Leer ons U meer lief te hê elke dag en volkome op U liefde te vertrou en dáárin ons rus en vrede te vind. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟗 – 𝑻𝒆𝒕𝒆́𝒍𝒆𝒔𝒕𝒂𝒊 ! – 𝐃𝐢𝐭 𝐢𝐬 𝐯𝐨𝐥𝐛𝐫𝐢𝐧𝐠 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Kersfees is verby en redelik vinnig is ons aandag weg van daardie klein Baba in die krip. Ons besef dat daardie Kind die Koning is en dat Hy baie vir ons kom doen het – dat Hy álles vir ons kom doen het. Wanneer ons dink aan die genade op genade wat aan ons bewys is – met sy koms, sy voorbeeld, sy lering, sy offer, sy versoeningswerk – dan is ons weer bly oor sy koms en vier ons weer Kersfees, oftewel Christusfees, elke dag.
Die rede hoekom ons bly is, is oor die goeie nuus – die evangelie – wat Jesus gebring het. Die goeie nuus is iets wat meeste van ons ken en seker al baie kere gehoor het. Ons het dit dalk al soveel keer gehoor, dat dit nie meer regtig insink nie. Toe Jesus gekom het, het Hy vir die Vader werk kom verrig. Hy het in ’n wêreld waar daar nie hoop was nie, hoop gebring. Hy het weer versoening gebring.
Reg in die begin, toe God die mens gemaak het, was alles goed en alles was volmaak gewees. Daar was regte gemeenskap tussen God en mens en daar was ’n harmonie wat moeilik is om te beskryf. Dit was alles totdat die eerste mense besluit het dat selfregering en selfstandigheid van God belangriker was as diep afhanklikheid van God. Die mens het gedink hulle sal vry wees, maar uiteindelik het hulle hulself en die hele mensdom in die greep van sonde gedompel en hulself verwyder van God.
Vir eeue lank het die mens probeer om hierdie verhouding te herstel, maar, as gevolg van die mens se sondigheid, kon die verhouding nooit weer herstel word nie. Maar God, oorvloedig in genade en liefde vir hierdie mense wat Hy geskape het, het van die begin af ook ’n plan gehad om hierdie verhouding te herstel. Daar was profesieë wat vertel het van hoe dit sal gebeur – alles terwyl die mens nogsteeds, volgens God se voorskrifte, offers gebring het vir hul sondes en probeer het om ’n goeie verhouding met God te hê.
Jesus het gekom en, soos Filippense 2:6-11 dit so mooi verduidelik, het Hy Homself heeltemal leeggemaak van sy Goddelikheid en Hy het mens geword, sodat Hy as mens, weer die verhouding kon herstel. ’n Finale offer vir hierdie herstel moes gebring word en sy eie bloed het gevloei daarvoor. En daar aan die kruis, volgens Johannes 19:28-30 (AFR20):
“²⁸𝐻𝑖𝑒𝑟𝑛𝑎 ℎ𝑒𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑔𝑒𝑤𝑒𝑒𝑡 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑟𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑣𝑜𝑙𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑖𝑠, 𝑒𝑛 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑆𝑘𝑟𝑖𝑓 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙 𝑠𝑜𝑢 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑑𝑜𝑟𝑠.” ²⁹𝐷𝑎𝑎𝑟 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑘𝑟𝑢𝑖𝑘 𝑣𝑜𝑙 𝑠𝑢𝑢𝑟 𝑤𝑦𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛. 𝐻𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑖𝑡 𝑡𝑜𝑒 '𝑛 𝑠𝑝𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑜𝑙 𝑠𝑢𝑢𝑟 𝑤𝑦𝑛 𝑜𝑝 '𝑛 𝑚𝑎𝑟𝑗𝑜𝑙𝑒𝑖𝑛𝑡𝑎𝑘 𝑒𝑛 𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑎 𝑠𝑦 𝑚𝑜𝑛𝑑. ³⁰𝑇𝑜𝑒 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑢𝑢𝑟 𝑤𝑦𝑛 𝑔𝑒𝑛𝑒𝑒𝑚 ℎ𝑒𝑡, 𝑠𝑒̂ 𝐻𝑦: “𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑣𝑜𝑙𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔!” 𝐸𝑛 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑘𝑜𝑝 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑜𝑜𝑟 𝑔𝑒𝑏𝑢𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑜𝑟𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒.” – Johannes 19:28-30 (AFR20)
Die Griekse vertaling van die Bybel gee die woord Tetélestai. Jesus se werk was volbring. Hy het dit klaargemaak. Die finale prys is betaal en die straf vir die hele mensdom se sondes het op daardie oomblik op Jesus neergekom. Almal wat voortaan berou toon oor hulle sondes en om vergifnis vra by die Vader, word vergewe. Daar is geen beter nuus as dit nie!
Ja, die boodskap van die evangelie is dalk nie nuut vir jou nie, maar neem vandag ’n oomblik en dink aan jou lewe voordat jy vir Jesus ontmoet het. Indien jy nog nie ’n persoonlike ontmoeting met Hom gehad het nie, gaan na Hom in gebed met die wete dat Hy jou in liefde ontvang en jou sy redding en verlossing bied. Maak Paulus se woorde jou eie en glo dit:
“¹⁷𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚, 𝑎𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑖𝑠, 𝑖𝑠 ℎ𝑦 '𝑛 𝑛𝑢𝑤𝑒 𝑠𝑘𝑒𝑝𝑝𝑖𝑛𝑔. 𝐷𝑖𝑒 𝑜𝑢 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑦𝑔𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛 – 𝑘𝑦𝑘, ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑢𝑢𝑡 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑.” – 2 Korintiërs 5:17 (AFR20)
Jesus het die harde, moeilike werk wat nie een van ons kon of sal kan doen nie, voltooi. Dit is volbring! 𝘛𝘦𝘵𝘦́𝘭𝘦𝘴𝘵𝘢𝘪!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Dit is volbring – vir my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, jammer dat ek so dikwels vergeet hoe groot die werk is wat U kom doen het. Dankie dat ek weer in ’n goeie verhouding kan wees met my Skepper, my God en Vader. U het dit alles gedoen, selfs toe ek as sondige mens U nie geken het nie en dalk U liefde en genade verwerp het. Ek verdien dit nie, maar ek aanvaar dit in nederigheid en afhanklikheid. Dankie vir U liefde. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟖 – 𝐕𝐨𝐞𝐥 𝐣𝐲 𝐬𝐨𝐦𝐬 𝐨𝐟 𝐝𝐢𝐞 𝐇𝐞𝐫𝐞 𝐭𝐞 𝐯𝐞̂𝐫 𝐢𝐬 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Dalk ken jy daardie lied wat al deur talle kunstenaars gesing is en nou as Lied 518 in die “Liedboek van die kerk” opgeneem is. Maar, voel jy soms of die Here te vêr is?
Wanneer jy nog klein is, is jou ouers baie belangrik vir jou en bied hulle aan jou ’n gevoel van sekuriteit. Al waarvoor meeste kinders ooit bang is, is die donker, want in die donker kan hulle nie sien nie en weet hulle nie hoe naby hul ouers aan hulle is nie. In die daglig, is dit ’n heel ander storie, want Pa en Ma is daar en hulle kan jou beskerm. As jy skielik afdwaal in ’n winkel of inkopiesentrum en jy draai om en sien hulle nie, voel dit amper soos die einde van die wêreld: vrees, eensaamheid, verlatenheid.
Ek onthou toe ek klein was, het dit eenmaal met my gebeur dat ek in ’n winkel bly staar het na ’n speelding en toe ek omdraai, was my ma skoonveld gewees. Alhoewel daar ander mense ook in die winkel was, het ek heeltemal alleen gevoel. My ma was net in die volgende ry en het presies geweet waar ek is, maar vir my was dit verskriklik gewees. Na my hulpkreet en gehuil, het sy dadelik na my toe gekom en my gerusgestel dat sy daar is.
Soms voel ons ook asof God weg is. Ons hardloop in hierdie wêreld rond, bang vir die donker – bang en alleen. Dit voel regtig asof alles en almal teen ons is en asof God ons ook alleen gelaat het. Maar, as ons weer mooi besef, dan sien ons dat God ons nog nooit verlaat het nie – Hy was dalk net ’n bietjie vêr gewees. God self verduidelik dit só:
“²³𝐼𝑠 𝐸𝑘 𝑛𝑒𝑡 '𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑛𝑎𝑏𝑦 𝑖𝑠,” 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑝𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, “𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑜𝑘 '𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒? ²⁴𝑂𝑓 𝑘𝑎𝑛 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑖𝑛 𝑔𝑒ℎ𝑒𝑖𝑚𝑒 𝑝𝑙𝑒𝑘𝑘𝑒 𝑤𝑒𝑔𝑘𝑟𝑢𝑖𝑝, 𝑒𝑛 𝐸𝑘 ℎ𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒?” 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑝𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒. “𝑉𝑢𝑙 𝐸𝑘 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑛𝑖𝑒?” 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑠𝑝𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒.” – Jeremia 23:23-24 (AFR20)
Ja, soms kruip ons weg vir die Here, maar selfs daar sien Hy ons – selfs daar is Hy met ons. Ons ploeter voort in die donker, probeer God se lig vermy, maar Hy is daar en, wanneer ons dit weer begin besef en ons in ons verlatenheid en selfs eensaamheid uitroep na Hom, dan besef ons soos die Psalmdigter:
“¹⁰⁵𝑈 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑖𝑠 '𝑛 𝑙𝑎𝑚𝑝 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑣𝑜𝑒𝑡 𝑒𝑛 '𝑛 𝑙𝑖𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑚𝑦 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑠𝑝𝑎𝑑.” – Psalm 119:105 (AFR20)
Die wêreld is soms ’n baie angswekkende en selfs skrikwekkende plek, maar God is altyd met ons – ín en déúr alles. Die Here gee ons oor en oor die versekering dat ons nie hoef te vrees nie en nie bekommerd hoef te wees oor hoe ons deur situasies sal kom nie:
“⁸𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐸𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑢𝑖𝑡𝑔𝑎𝑎𝑛; 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑏𝑦 𝑗𝑜𝑢, 𝐻𝑦 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑖𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑒𝑘 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒. 𝑀𝑜𝑒𝑛𝑖𝑒 𝑏𝑎𝑛𝑔 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑒𝑛 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑖𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑎𝑓𝑠𝑘𝑟𝑖𝑘 𝑛𝑖𝑒.” – Deuteronomium 31:8 (AFR20)
Partymaal is dit ons eie leefstyl wat ons laat voel asof die Here dalk bietjie vêr is. Ons eie leuens wat ons dalk inhaal, oneerlikheid, skynheiligheid, onregverdigheid, ag noem dit maar – daar is soveel dinge wat ons dikwels los met ’n gevoel van minderwaardigheid. So asof ons nie in God se teenwoordigheid mag wees nie. En weet jy wat? Dis goed so. Ons moet soms so voel, want dit beteken dat die Here ons kom herinner hoe groot sy genade werklik is. Ons verdien nie om in sy teenwoordigheid te wees nie. Ons verdien nie sy liefde en genade nie. Maar, omdat God God is, skenk Hy dit vrylik aan ons, omdat Hy vir ons lief is. Sodat ons kan terugkeer na die lig en die lewe. Sodat ons weer kan besef dat niks ons ooit van Hom sal skei nie.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
“³⁸𝐻𝑖𝑒𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑢𝑖𝑔: 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑜𝑓 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑜𝑓 𝑒𝑛𝑔𝑒𝑙𝑒 𝑜𝑓 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑜𝑓 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑠𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑜𝑓 𝑡𝑜𝑒𝑘𝑜𝑚𝑠𝑡𝑖𝑔𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑜𝑓 𝑘𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 ³⁹𝑜𝑓 ℎ𝑜𝑜𝑔𝑡𝑒 𝑜𝑓 𝑑𝑖𝑒𝑝𝑡𝑒 𝑜𝑓 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑒𝑝𝑝𝑖𝑛𝑔 𝑘𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑘𝑒𝑖 𝑛𝑖𝑒, 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝐻𝑒𝑟𝑒.” – Romeine 8:38-39 (AFR83)
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie dat U altyd by ons is – selfs al probeer ons soms om U teenwoordigheid te ontvlug. Dankie ook dat U soms vêr is, maar nogsteeds weet waar ons is en nogsteeds ons beskerm. Ons verdien dit nie. Dis alles genade en daarvoor loof en prys ons U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟕 – 𝐊𝐢𝐞𝐬 𝐥𝐞𝐰𝐞. 𝐊𝐢𝐞𝐬 𝐯𝐫𝐞𝐮𝐠𝐝𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek wonder hoeveel mense het vanoggend wakker geword en opgestaan met die gevoel van opgewondenheid en vreugde. Hoeveel mense het vir hulself gesê: “Ek voel uitgerus en ek is lus vir vandag!” My wens is dat jy een van daardie mense was. Maar, ongelukkig is vreugde en blydskap nie iets wat altyd natuurlik kom vir alle mense nie. Soms moet mense hard werk daaraan om verby die lewe se uitdagings en teleurstellings te kyk en weer die positiewe kant van alles raak te sien.
Hierdie tyd van die jaar is vir baie mense ’n tyd van refleksie – ’n tyd om alles van die afgelope jaar op te weeg, dalk te vergelyk met die voornemens aan die begin van die jaar en jouself te evalueer. Dikwels vind mense dat hulle nie aan hul eie verwagtings opgeleef het nie en is hulle teleurgesteld in hulself. Soms het ander mense nie aan hulle verwagtings opgeleef nie en bring dit ook teleurstelling. Dalk het tragedie die familie getref of slegte nuus het gereeld geklop aan die voordeur. Ja, party mense word wakker in die oggend en hul eerste gedagtes is van moegheid, hartseer, moedeloosheid en selfs wanhopigheid. Vreugde voel soms vir baie mense soos ’n luuksheid wat hulle nie kan bekom nie.
Indien jy dalk vandag of ander dae só voel, wil ek jou graag net gou herinner aan een ding: Deur en in al jou “af-dae”, was God daar. Soos in die tye wat jy Hom dalk ervaar het in die blydskap van lofprysing in ’n erediens of die onbeskryflike gevoel van vrede as sy genade oor jou spoel, net só was Hy ook daar in al die ander tye.
Ware vreugde word dikwels ervaar wanneer jy jouself heeltemal oorgee in God se hand en wanneer jy toelaat dat jou siel doen waarvoor dit geskep is: wanneer jou hart weer in lyn kom en gesinkroniseer word met die Vader se hartklop – soos wanneer jy God met oorgawe loof en prys. Maar, het jy geweet dat vreugde ’n keuse is? Vreugde is iets wat jy elke dag en in verskillende omstandighede oor en oor moet kies. Soos wanneer jy kies om jouself oor te gee vir gebruik deur die Heilige Gees in die lofprysing en jy gevul word met God se vreugde. Net só, moet jy kies om in alle omstandighede weer jouself oor te gee om gevul te word met God se vreugde. En waarin lê ons vreugde? Paulus skryf:
“¹𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑑𝑎𝑛 𝑛𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒𝑔𝑒𝑛𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒. ²𝐷𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑔𝑒𝑒, ℎ𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑟𝑦𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑.” – Romeine 8:1-2 (AFR20)
Hoor jy dit? Jy is vry. Waarlik vry. Jy hoef nie gevange gehou te word deur negatiewe gevoelens nie. Jy hoef nie platgeslaan te word deur ’n tragedie nie, want jy is vry. Dalk het jy ’n geliefde verloor of dalk is iemand na aan jou siek – weet jy wat? Hulle is ook vry en daarom kan jy jouself bevry van gevoelens wat jou vreugde steel.
As jy sukkel om hierdie vreugde te vind, bid tot God en, as jy nie weet hoe om aan Hom te beskryf hoe jy voel of jy weet nie wat om te sê nie, laat die Gees vir jou voorgaan. Paulus se vêrder:
“²⁶𝑆𝑜 𝑘𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝑜𝑜𝑘 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑠𝑤𝑎𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑡𝑜𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑝, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑜𝑜𝑖 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑏𝑒ℎ𝑜𝑜𝑟𝑡 𝑡𝑒 𝑏𝑖𝑑 𝑛𝑖𝑒; 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑡𝑟𝑒𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑖𝑛 𝑚𝑒𝑡 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑢𝑔𝑡𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑛𝑖𝑒. ²⁷𝐻𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑, 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑑𝑜𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑖𝑠, 𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 •ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑖𝑛𝑡𝑟𝑒𝑒. ²⁸𝑂𝑛𝑠 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑡𝑒𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑑𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑒𝑒𝑤𝑒𝑟𝑘 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡, 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑠𝑦 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑛𝑒𝑚𝑒 𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑖𝑠;” – Romeine 8:26-28 (AFR20)
Ja, God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet – alles! Goeie en slegte gebeurtenisse – alles werk uiteindelik ten goede mee vir ons. Ons sien dit nie dadelik nie, maar God weet beter. Hy is verhewe bo tyd en Hy is reeds daar in die toekoms om te weet dat alles ten goede meewerk en Jesus het ons ons reeds vooruitgegaan.
Moet dus nie dat omstandighede jou onderkry nie. Moenie gevange gehou word deur iets wat jou vreugde steel nie. Gee jouself oor aan die Gees wat jou lewe gee in Jesus Christus. Kies lewe. Kies vreugde.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Dit is nie altyd maklik om bly te wees en vreugdevol te leef nie, maar Jesus het my gered en ek is vry. Ek sal my vreugde vind in Hom en die wete dat Hy al sy kinders liefhet en vrygemaak het. Vreugde is ’n keuse.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, wanneer die lewe my soms onderkry, maak my bewus van U teenwoordigheid en laat my weer besef hoe U altyd by my is en my altyd weer oplig. Help my om te kies elke dag om vreugdevol te leef. U het my vrygemaak en ek hoef nie ’n gevangene te wees van enige negatiewe of terneerdrukkende gevoelens of emosies nie. Help my om deur moeilike tye U teenwoordigheid te ervaar en laat my steun op U, want U is my rots en veilige vesting. Ek kies die lewe en vreugde wat in my Here Jesus Christus is, deur die werk van die Heilige Gees. Tot eer van God die Vader. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟔 – 𝐄𝐥𝐤𝐞 𝐝𝐚𝐠 ’𝐧 𝐂𝐡𝐫𝐢𝐬𝐭𝐮𝐬𝐟𝐞𝐞𝐬 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Kersfees is verby en, alhoewel dit nog ’n vakansiedag is in Suid-Afrika en baie ander lande, keer meeste dinge terug na normaal. Baie mense werk weer vandag en baie durf weer die lang pad huis toe aan. Sommige is dalk nog op vakansie en ander beplan nog hul vakansie.
Dit was ’n groot opbou tot die groot dag waarop ons die koms van ons Verlosser vier. Dit is dalk, heel moontlik, nie sy verjaarsdag nie, maar iewers moet ons, sy kerk, tyd maak om die grootste geskenk aan die mensdom te herdenk. Dit was dalk vir jou ’n wonderlike dag saam met familie of dalk ’n dag van stilte en refleksie. Hoe ook al, dis nou verby. Nou gaan die lewe weer aan. Dis nie meer Kersfees nie... Of is dit?
Ek hou meer van die Engelse woord: Christmas. Hoekom? Want Christus is in die woord. Die Afrikaanse woord verwys natuurlik na die Lig van die wêreld wat gekom het, soos ’n kers ook sy lig gee, maar Christmas bly vir my mooier en herinner my meer aan hoe dit ’n Christusfees was / moet wees. Dit herinner my ook makliker daaraan dat dit elke dag ’n Christusfees moet wees, want elke dag moet ons onsself herinner dat Hy vir ons gekom het. Ons moet elke dag herinner word dat ons ook, soos die wyse manne, die Koning eerstens moet aanbid en, tweedens, aan Hom ons beste geskenke bring.
Jou beste geskenke beteken nie veel as jy dit nie met ’n opregte hart gee nie. En hoekom sal ons dit nie wíl gee nie? Ons het dan die beste geskenk ooit ontvang!
Ek dink baie van ons ken daardie gevoel wanneer jy ’n geskenk of ’n geleentheid gegee word wat jou verstand heeltemal te bowe gaan. Ons het al te veel Leon Schuster rolprente gesien en, as iemand skielik vir jou iets gee wat jy nie verwag het nie, vra jy amper dadelik: “Waar is die kamera?” Mense is mos nie meer goed vir ons, sonder om iets terug te verwag nie, of hoe? Maar, so nou en dan gebeur dit egter nog. Ek probeer nogal gereeld mense leer om net te gee. Gee sommer net. Moet niks terug verwag nie – nie eers ’n ‘dankie’ nie – in die huwelik, in verhoudings, in die kerk, in die samelewing, in families, oral. Gee net... Want dit is die voorbeeld wat God gestel het.
Elke dag moet ’n Christusfees wees, want elke dag moet ons besef hoe groot God se genade en liefde vir ons is. Paulus skryf aan Timoteus en verduidelik dit so duidelik:
“⁹𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑚𝑒𝑡 '𝑛 ℎ𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝑟𝑜𝑒𝑝𝑖𝑛𝑔 – 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑜𝑝 𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑒𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑢𝑖𝑡 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒. 𝑅𝑒𝑒𝑑𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑒𝑤𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑎𝑓 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 •𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑛𝑘, ¹⁰𝑒𝑛 𝑛𝑜𝑢 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑜𝑝𝑒𝑛𝑏𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑘𝑦𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑉𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑒𝑟, 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑣𝑒𝑟𝑛𝑖𝑒𝑡𝑖𝑔 ℎ𝑒𝑡, 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑣𝑒𝑟𝑔𝑎𝑛𝑘𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑙𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑏𝑟𝑖𝑛𝑔 ℎ𝑒𝑡.” – 1 Timoteus 1:9-10 (AFR20)
Die evangelie, die goeie nuus, het gekom en ons moet dit verkondig aan die nasies. Elke dag is ’n Christusfees, want elke dag stort God weer sy genade oor ons uit. Paulus het dit dalk meer as baie ander mense besef, want hy het Jesus se kerk vervolg en verneder – hy het selfs die dood van Christene goedgekeur (vgl. Hand. 7-8). Maar toe vang slim sy baas. Die einste Jesus wie Paulus probeer uit die pad kry, staan toe self reg voor hom in sy pad en openbaar aan hom Wie Hy werklik is en hoekom Hy gekom het. Dan erken Paulus ook in Romeine 15:10 (AFR20): “¹⁰𝑀𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑖𝑠. 𝑆𝑦 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑤𝑎𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑔𝑒𝑒𝑓𝑠 𝑛𝑖𝑒...” ; en hy herinner ons dan ook in Efesiërs 2:8-10 (AFR20) “⁸𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑢𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑖𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓. 𝐸𝑛 𝑗𝑢𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓 𝑛𝑖𝑒; 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑎𝑤𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑. ⁹𝐷𝑖𝑡 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑒𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘𝑒 𝑛𝑖𝑒, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑜𝑝 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑚𝑎𝑔 𝑟𝑜𝑒𝑚 𝑛𝑖𝑒. ¹⁰𝑂𝑛𝑠 𝑖𝑠 𝑖𝑚𝑚𝑒𝑟𝑠 𝑠𝑦 𝑚𝑎𝑎𝑘𝑠𝑒𝑙, 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑒𝑝 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑜𝑚 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑟𝑘𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑏𝑒𝑟𝑒𝑖 ℎ𝑒𝑡, 𝑡𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛, 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑣𝑜𝑙𝑔𝑒𝑛𝑠 𝑡𝑒 𝑙𝑒𝑒𝑓.”
Elke dag is ’n Christusfees en elke dag moet Hy vereer word. God het mens geword, sodat dit duidelik kon woord hoe groot sy barmhartigheid en genade is. Dis die grootste geskenk – onverwags en onverdiend. Geen verskuilde agendas nie. Geen kameras nie. Sy liefde vir jou is opreg. Maar, soos enige geskenk, moet jy dit ontvang en aanvaar, voordat jy dit kan gebruik.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Elke dag moet ek God se genade vier wat in my Here, Jesus Christus, geopenbaar is en oorvloedig aan my geskenk is.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, dankie dat U die grootste geskenk ooit aan my gegee het. Ek verdien dit nie, maar ek aanvaar dit. Dankie Here Jesus, dat U nogsteeds elke dag vir my wys hoe lief U my het. Skenk aan my ’n genadige, vrygewige hart, sodat ek ook aan U en aan almal my beste geskenke sal gee. Tot die eer van U Naam alleen. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟒 – 𝐈𝐧 𝐥𝐞𝐰𝐞𝐧𝐝𝐞 𝐥𝐲𝐰𝐞 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Die meeste mense het een of ander voorkeur as dit kom by vermaak. Sommige hou baie van musiek, ander van rolprente, ander weer van drama, sommige weer sport. Daar is soveel verskeie soorte vermaaklikheid in die wêreld deesdae. Soveel so, dat ’n mens soms te veel het om van te kies. Maar een ding is nogal waar as dit kom by kunstenaars en optredes: om ’n lewendige optrede te sien van jou gunsteling kunstenaar, is net iets anders. Selfs al is die optrede nie die beste van sy/haar loopbaan nie, is dit net ’n ander belewenis om daar in die teenwoordigheid van die kunstenaar of professionele sportster te wees. Die atmosfeer is amper tasbaar en mens voel amper die positiewe energie van ’n horde ondersteuners wat saamgekom het om dieselfde passie te deel. Ja, om een van daardie mense in lewende lywe te sien – soos ons sê – is soms ’n lewensveranderende ervaring.
Eeue gelede, het die mense die koms van die Christus verwag. Alhoewel meeste mense van die Joodse volk ’n aardse koning en politiese leier verwag het, het hulle geweet dat die Christus God se Gesalfde is. Almal het geweet Hy sal Iemand besonders wees en Hy sal anders wees as enige ander koning voor Hom. Dié mense was God se volk en hulle het God geken. Hulle het geweet dat God oorvloedige liefde en genade vir hulle het en hulle groot verwagting was om hierdie verteenwoordiger van God te ontmoet. Hulle het veral gewag dat hierdie verteenwoordiger sal kom met God se toorn om hul vyande te vernietig. Wat hulle nooit regtig verwag het nie, was dat God self mens sou word en onder hulle kom woon. Hulle wou graag hierdie mens ontmoet wat baie beroemd sal wees, maar nooit in hulle wildste drome sou hulle kon dink dat hierdie mens God self sal wees nie.
Johannes skryf:
“¹⁴𝐸𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑊𝑜𝑜𝑟𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑣𝑙𝑒𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑘𝑜𝑚 𝑤𝑜𝑜𝑛, 𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑡 𝑠𝑦 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑎𝑎𝑛𝑠𝑘𝑜𝑢, '𝑛 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑑𝑖𝑒́ 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑛𝑖𝑒𝑘𝑒 𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 – 𝑣𝑜𝑙 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑.” – Johannes 1:14 (AFR20)
Die Woord van God het vlees geword – mens geword. Alles wat daar al voorheen oor God vertel was, al die verhale wat die volk moes aanhoor van die priesters en profete, al die kere wat hulle soos toeskouers en ondersteuners aan die lippe van die vertellers gehang het – al daardie dinge het gekom om in hulle midde te wees. Daar was dalk heelwat van die heidense volke wat altyd God se volk gespot het oor hierdie verhale wat hulle vertel het en met geloofsoortuiging nagevolg het. Vir mense van God se volk was dit dalk ook soos sprokies, omdat hulle gehoor het daarvan, maar nooit vir God self gesien of ontmoet het nie. En toe, bo alle verwagting, kom God en stel Homself persoonlik vooraan die mense. Amper ongelooflik!
En juis omdat dit amper ongelooflik was, was dit ongelooflik vir baie mense. Hulle kon en wou dit nie glo nie. Hulle het God se toorn verwag om hulle te verlos, maar toe kom Jesus Christus met God se liefde, genade en waarheid.
Daar was Jesus, in lewende lywe, onder sy mense, maar toe sy optrede nie was wat hulle verwag het nie, toe verwerp hulle Hom. Hulle het gehoor van al die magtige verlossingswerk wat God in die verlede met mag en selfs geweld vir hulle bewerk het en hul verwagting was om weer só ’n optrede te sien. Toe stel Jesus hulle teleur en hulle laat Hom kruisig vir sy swak optrede (volgens hulle). Hulle glo nie eers dat Hy God se Seun – God sélf – is nie. Inplaas daarvan dat hulle die positiewe energie voel om daar in sy teenwoordigheid te wees, is hulle meer gefokus op hul eie selfsugtige begeertes en verwagtinge. Inplaas daarvan dat hulle sy heerlikheid aanskou, spoeg hulle in sy gesig en verwerp hulle die genade en waarheid.
God het gekom – in lewende lywe – en onder ons kom woon. Sy Gees woon nou nog onder ons en in ons lewende lywe. Maak ons Hom sigbaar vir die wêreld?
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
As Jesus vandag weer in lewende lywe hier kom woon, voor die wederkoms waarvan ons leer en glo, hoe sal ek Hom ontvang? Kersfees is dit tyd wanneer ek moet onthou hoe gelukkig ons is dat God mens geword het, dat die Woord vlees geword het – vol genade en waarheid – en onder ons kom woon het. God se Gees woon steeds in ons en ons kan Hom ken in lewende lywe.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, U is God. U is die Seun en U het die mensdom kom wys hoe lief die Vader ons het. Dankie dat ons elke dag nou in u teenwoordigheid mag wees. Dit vul ons met iets amper onbeskryfbaar, maar ons weet: dit is die hoop wat U in ons vestig. Dankie daarvoor. Alle lof, eer en aanbidding kom U toe in hierdie tyd wanneer ons U koms weer vier. Dankie dat U ons lief het. Ons het U lief. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟑 – 𝐑𝐮𝐬 𝐢𝐬 𝐯𝐞𝐫𝐧𝐮𝐰𝐢𝐧𝐠 𝐯𝐚𝐧 𝐡𝐨𝐨𝐩. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soos Kersfees al nader en nader kom, begin baie mense half in ’n paniekbevange toestand ingaan. “Is al die inkopies gedoen? Is die plek reg vir die familie? Is al die reisplanne reg? Is daar genoeg geld vir alles?” Ander mense raak dalk weer stiller en stiller... “Wat maak ek met myself hierdie jaar? Ek hoop nie daar kom mense hierheen nie. Ek wil net bietjie alleen wees. Ek wil net rus en vrede hê.”
Ja, elkeen van ons se gemoed verskil oor Kerstyd. Party mense wil graag saam met baie mense verkeer en vrolik wees. Ander mense verkies die stilte en alleen wees. Sommige mense wil juis hul stories van die jaar deel met ander, terwyl sommige mense eerder nie met ander daaroor wil praat nie. Ek het al baie mense hoor sê dat niemand alleen moet wees oor Kersfees nie, maar ek het ook al geleer om ander mense se wense te respekteer. Soms wil mens net rus vind na ’n lang jaar en, veral in hierdie tyd voor Kersfees, is daar nie baie rus nie.
Om ware rus te vind vir ons liggame en vir ons siele, is dit nodig dat ons ons rus vind op die regte manier. Om op vakansie te gaan, is nie altyd rus nie – veral nie dié tyd van die jaar nie. Om waarlik te rus, beteken dat jy weer verfris word en dat jy weer kans sien vir baie dinge. Jou liggaam moet herstel en so ook jou siel. Jy moet weer lus hê vir die uitdagings van familie, werk en die samelewing. Jy moet weer hoop kry.
Dawid skryf:
“²𝑁𝑒𝑡 𝑏𝑦 𝐺𝑜𝑑 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑘 𝑟𝑢𝑠; 𝑣𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑘𝑜𝑚 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔.
³𝑁𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑚𝑦 𝑟𝑜𝑡𝑠, 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔, 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑒𝑣𝑙𝑢𝑔𝑠𝑜𝑜𝑟𝑑; 𝑒𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑛𝑘𝑒𝑙 𝑛𝑖𝑒.”
– Psalm 62:2-3 (AFR20)
Dit is in hierdie tye – en veral hierdie tyd van die jaar – baie belangrik dat ons onsself weer herinner dat ons hoop in Jesus Christus is. Dawid skryf vêrder:
“⁶𝑉𝑖𝑛𝑑 𝑟𝑢𝑠 𝑏𝑦 𝐺𝑜𝑑 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑒𝑛, 𝑚𝑦 𝑠𝑖𝑒𝑙, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚 𝑖𝑠 𝑚𝑦 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑔𝑒𝑣𝑒𝑠𝑡𝑖𝑔.
⁷𝑁𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑚𝑦 𝑟𝑜𝑡𝑠, 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔, 𝑚𝑦 𝑡𝑜𝑒𝑣𝑙𝑢𝑔𝑠𝑜𝑜𝑟𝑑. 𝐸𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑛𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑛𝑘𝑒𝑙 𝑛𝑖𝑒.
⁸𝐵𝑦 𝐺𝑜𝑑 𝑙𝑒̂ 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑙𝑜𝑠𝑠𝑖𝑛𝑔, 𝑚𝑦 𝑒𝑒𝑟. 𝑀𝑦 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘 𝑟𝑜𝑡𝑠, 𝑚𝑦 𝑠𝑘𝑢𝑖𝑙𝑝𝑙𝑒𝑘, 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝐺𝑜𝑑.
⁹𝑉𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑢 𝑡𝑒 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑡𝑦𝑒 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚, 𝑜 𝑣𝑜𝑙𝑘, 𝑠𝑡𝑜𝑟𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑢𝑖𝑡. 𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 '𝑛 𝑠𝑘𝑢𝑖𝑙𝑝𝑙𝑒𝑘.”
– Psalm 62:6-9 (AFR20)
Miskien is jy iemand wat eerder saam met baie mense Kersfees wil deurbring en vind jy weer hierdie hoop in die samesyn en liefde van familie rondom jou, terwyl julle saam die koms van ons Verlosser vier. Dalk is jy iemand wat eerder alleen wil wees en lê die hernuwing van jou hoop in selfondersoek en gesprekke met God. Hoe ook al, ons moet besef dat ons net in God ons rus sal vind – dat ons hoop net in die wonder van sy oneindige liefde lê. Dit is net in Jesus Christus wat ons weer krag kan vind vir ons liggame en siele om weer met vreugde uit te sien na die lewe en alles wat dalk oor ons pad kom. Om rus te vind in God, is om hoop te vernuwe – om daardie versekering weer te vind dat die koms van ons God en Here iets is wat bo alle tyd en omstandighede is en dat dit vandag nogsteeds so is.
In hierdie feestyd, moet ons onsself weer herinner dat ons hoop in Christus alleen is en dat Hy alleen die rede is vir hierdie feestyd. Ons kan weer vreugde vind in die versekering wat Hy ons bied dat Hy altyd vir ons sy rus en vrede sal gee.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Kersfeestyd is ’n tyd om rus en vrede te vind. Ek moet op my eie of saam met familie en vriende weer my hoop in Christus vernuwe deur in God my rus te vind. Ek is verseker van God se liefde en genade – in hierdie tyd en altyd.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, hierdie tyd van die jaar is altyd so gejaagd en eintlik gaan dit oor allerhande ander dinge en nie oor U nie. Rig my fokus weer op U en op die rus wat ek in U vind. Laat my hoop in U, Here Jesus Christus, weer opnuut versterk word en mag ons U vrede ervaar. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟐 – 𝐖𝐚𝐭 𝐬𝐨𝐞𝐤 𝐣𝐲 𝐯𝐢𝐫 𝐊𝐞𝐫𝐬𝐟𝐞𝐞𝐬 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Omdat al my kinders in Desember, nog voor Kersfees verjaar, was Desember gewoonlik ’n duur maand gewees as dit kom by geskenke koop. Wat dit nog moeiliker gemaak het, was dat ek en my vrou twee keer moes wonder oor wat ons moet koop. Hier teen Septembermaand elke jaar het ons al begin uitvis en vra wat die kinders graag wil hê – eers vir hul verjaarsdae en dan vir Kersfees. Soos hulle begin groter word, het hulle dit vir ons makliker gemaak deur self te kies dat hulle slegs een groot geskenk wil hê wat dien as verjaarsdag- en Kersgeskenk.
In ons huis is was Kersgeskenke koop vir meeste van die jare dus nie ’n groot ding nie. Ons sou dalk iets koop vir almal om te gebruik of geniet, maar geskenke was nooit regtig gekoppel aan ’n spesifieke datum of geleentheid nie. Kersfees in ons familie het altyd nog gegaan oor die boodskap en die hoop wat met Kersfees gepaard gaan – geskenke was ’n bysaak en nie regtig belangrik nie. Ons grootste geskenk, het my ma ons altyd geleer, was dat ons saam met iemand kan wees op daardie dag en dat ons onsself weer herinner aan ons Here se koms na die wêreld.
As ek jou dan nou vandag kon vra, as jy ’n geskenk kan kry hierdie jaar: Wat soek jy vir Kersfees?
Daar is baie video’s van kindertjies wat op Kersvader se skoot sit en vra vir allerhande geskenke. Vir sommige van die kinders, sê Kersvader sommer dadelik ja en vir ander vra hy eers of hulle soet was en, vir ander weer, kyk hy eers of pa en ma die goedkeuring gee. Kinders is opgewonde oor Kersfees, omdat hulle wag vir daardie oggend om geskenke oop te maak. Soms is dit ’n verassing, soms weet hulle wat binne daardie fraai papiere toegedraai is. Soms is hulle bly en soms is hulle teleurgestel.
Ons is dikwels ook nogal teleurgestel tydens Kersfees. Ons soek ook ’n groot geskenk – soms onrealistiese dinge. Sommige van ons soek wêreldvrede, ander soek baie geld, ander soek net vrede in hul huis of familie, ander weer ’n nuwe werk of kar of iets... Ons soek ook iets vir Kersfees, terwyl ons weet dat ons grootste geskenk meer as 2000 jaar gelede reeds gekom het. Maar, omdat Jesus nie ’n wondermiddel is wat net gou geneem kan word sodat al die lewe se uitdagings en probleme weggaan nie, is baie van ons teleurgestel wanneer ons op Kersoggend daardie boodskap weer oopmaak wat toegedraai is in die blaaie van die Bybel.
Johannes die Doper was ook bietjie teleurgestel terwyl hy in die tronk was. Hy stuur sy dissipels om na Jesus te gaan en vir Hom te vra: “³ ... 𝐼𝑠 𝑈 𝑑𝑖𝑒 𝐸𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑡 𝑠𝑜𝑢 𝑘𝑜𝑚, 𝑜𝑓 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑤𝑎𝑔?” (Matt. 12:3b AFR20). Johannes het hierdie hoop gehad dat God se toorn Jesus sal vergesel en dat alle politiese magte uit Jerusalem sal wyk en Jesus weer op die troon van Dawid sal sit. Maar dit het nie gebeur nie. Jesus het eerder gekom en liefde verkondig. Jesus het hoop gebring, maar nie hoop wat op aarde gevestig was nie.
Vir eeue lank was dit ’n raaisel – ’n misterie – gewees vir alle nasies. Mense het gehoor van God, hulle het gesien wat Hy kan doen vir sy mense, hulle het geweet dat daar ook groot liefde, barmhartigheid en ontferming is by Hom, maar niemand het geweet hoe hulle dit kan kry nie. Mense het “iets” gesoek vir Kersfees, maar omdat Jesus nie daardie “iets” was nie, het hulle Hom verwerp en was hulle teleurgestel in Hom. Ongelukkig is dit vandag nog so: Mense is nogsteeds teleurgestel in wat hulle kry vir Kersfees; mense is nogsteeds nie tevrede met Wie Jesus is nie. Paulus vertel dan aan die mense hoe groot hierdie geskenk eintlik is:
“²⁷𝐺𝑜𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑏𝑒𝑠𝑙𝑢𝑖𝑡 𝑜𝑚 𝑎𝑎𝑛 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑 𝑡𝑒 𝑚𝑎𝑎𝑘 ℎ𝑜𝑒 𝑟𝑦𝑘 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑖𝑒 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑛𝑎𝑠𝑖𝑒𝑠 𝑖𝑠: 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑖𝑠 𝑖𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑.” – Kolossense 1:27 (AFR20)
Dis nie meer ’n geheim nie: Jesus Christus is die Here en Hy is in ons en Hy is ons hoop.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Wat is die fokus van my verwondering hierdie Kersfees? Wat soek ek vir Kersfees? Soek ek die Koning wat in ’n krip neergelê was? Is Hy genoeg vir my? Hy is genoeg.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, U is Koning. Soms is ek soos ’n bederfde kind wat net nie tevrede is met Wie U is en alles wat U vir my doen nie. Vergewe my. U is die grootste geskenk wat ons nog ooit van die Vader ontvang het, want U het gekom met liefde, barmhartigheid, genade en ontferming. Wees U ons hoop op heerlikheid in hierdie tyd en dankie dat U vir my genoeg is. Ek loof en prys U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟏 – 𝐁𝐞𝐥𝐨𝐟𝐭𝐞𝐬, 𝐛𝐞𝐥𝐨𝐟𝐭𝐞𝐬, 𝐛𝐞𝐥𝐨𝐟𝐭𝐞𝐬 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Toe ek klein was, het my ouers my geleer dat wanneer jy iets belowe, mag jy nie jou woord breek nie. ’n Belofte is ’n kontrak, ’n eed wat jy aflê. As jy die woord “belowe” gebruik, is dit soos iets wat vir ewig in rots geëts is en niks kan daardie rots verweer of vernietig vir jou leeftyd nie. ’n Belofte móét nagekom word. Jou woord is jou eer.
As ons kyk na die woordeboek definisies van ’n belofte, sien ons dat – volgens moderne samelewing – word beloftes gemaak ter inligting, instemming en as eedverklaring. ’n Belofte is vêrder ’n verklaring om voordeel tot iets of iemand te verklaar; ’n eed om iets spesifiek te doen; ’n middel tot hoop, verwagting of versekering van spesifieke sukses in ’n saak; ’n verklaring wat aan die persoon waaraan dit gemaak is die reg (selfs die eis) gee om iets te verwag. Ja, ’n belofte is ’n ernstige saak...
Ongelukkig, soos ons groter word, kom ons agter dat wanneer jy ’n belofte maak, kan jy dit dikwels verbreek, sonder ernstige gevolge (wat jy kan sien, natuurlik). Ons begin agterkom dat beloftes glad nie meer die waarde dra wat dit veronderstel is om te dra nie en ons begin al minder beloftes maak of ons maak leë beloftes – blote woorde, met geen opvolg van aksie nie. Ons leer ook natuurlik mense ken en ons begin agterkom wie se woord is werklik sy/haar eer.
Sien, om staat te maak op ’n belofte, moet ons twee dinge weet: Eerstens, is die een wat die belofte maak vertrouenswaardig? En tweedens, het die een wat die belofte maak die vermoëns om te lewer wat beloof is? Die antwoorde op hierdie twee vrae, is wat uiteindelik ons hoop in die belofte bepaal. As ek, byvoorbeeld, belowe om elke jaar vir my vrou ’n nuwe huis te koop vir haar verjaarsdag, sal sy vir seker weet dat ek nie my belofte gaan nakom nie, want ek besit nie die finansiële vermoë om dit te doen nie.
As ons vêrder lees in Psalm 119, hoor ons iets merkwaardig:
“⁴⁹𝐷𝑖𝑛𝑘 𝑎𝑎𝑛 𝑢 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑢 𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠𝑘𝑛𝑒𝑔 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑚𝑒𝑒 𝑈 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 ℎ𝑒𝑡.
⁵⁰𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑚𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑡𝑟𝑜𝑜𝑠𝑡𝑖𝑛𝑔 𝑖𝑛 𝑚𝑦 𝑒𝑙𝑙𝑒𝑛𝑑𝑒, 𝑑𝑎𝑡 𝑢 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑓𝑡𝑒 𝑚𝑦 𝑙𝑒𝑤𝑒𝑛𝑑 ℎ𝑜𝑢.”
– Psalm 119:49-50 (AFR20)
As God iets belowe, kan jy maar weet dat Hy dit sal doen. God kan nie lieg nie en van God se getrouheid word regdeur die Bybel vertel. In 1 Konings 8:56 (AFR20), verklaar die wysste mens wat gelewe het, Salomo: “⁵⁶𝐷𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑔𝑒𝑝𝑟𝑦𝑠 𝑤𝑜𝑟𝑑, 𝐻𝑦 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙 '𝑛 𝑟𝑢𝑠𝑝𝑙𝑒𝑘 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 ℎ𝑒𝑡, 𝑛𝑒𝑡 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝐻𝑦 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 ℎ𝑒𝑡. 𝑁𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑙 𝑠𝑦 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑏𝑒𝑙𝑜𝑓𝑡𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑏𝑦 𝑚𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 𝑑𝑖𝑒𝑛𝑠𝑘𝑛𝑒𝑔 𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙𝑑 𝑔𝑒𝑏𝑙𝑦 𝑛𝑖𝑒.” Vêrder verklaar Numeri 23:19 (AFR20): “¹⁹𝐺𝑜𝑑 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑚𝑎𝑛, 𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑠𝑜𝑢 𝑙𝑖𝑒𝑔 𝑛𝑖𝑒, 𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒 '𝑛 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒𝑘𝑖𝑛𝑑, 𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑣𝑎𝑛 𝑝𝑙𝑎𝑛 𝑠𝑜𝑢 𝑣𝑒𝑟𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑛𝑖𝑒. 𝑆𝑜𝑢 𝐻𝑦 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑠𝑒̂ 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒, 𝑠𝑜𝑢 𝐻𝑦 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒?”
Daarom kan ons verseker wees dat God se beloftes om ’n Redder te stuur, waar geword het. Selfs toe Maria haarself in God se diens plaas, kom die engel en verseker haar dat alles moontlik is vir God. Deur haar diensbaarheid, het die hoop van alle eeue gekom en is daar vir ewig hoop vir die mensdom. Net soos God in die begin uit chaos uit orde geskep het en alles ’n plek gegee het, net só kan Hy vandag nog in die chaos van ons elkeen se lewe, weer orde bring deur die Heilige Gees wat God se Seun en ons Here, Jesus Christus, vir ons gestuur het. Jesus se belofte was dat ons nooit alleen sal wees nie (Matt. 28:18-20). God kan vertrou word, want Hy hou nog altyd sy woord en Hy het vir seker die vermoëns om alles te doen wat Hy sê – en nog meer!
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
As ek terugkyk na my lewe – as ek mooi kyk – sal ek nogal verbaas wees as ek sien hoe God nog altyd sy beloftes nagekom het en hoe Hy wonderwerk verrig het, die onmoontlike moontlik gemaak het en selfs aan my die goeie gegee het wat ek nie verdien nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige Vader, dankie dat U u woord hou en dat u beloftes vir ewig is en dat ek U kan glo. In Jesus Christus het U bewys dat U nog altyd dieselfde is en dat U ons beste belange altyd op u hart dra. Ek skuld U eintlik so baie. Ek bied aan U my hele lewe as dankoffer. Maak my en gebruik my, soos U wil – tot U eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟐𝟎 – 𝐒𝐭𝐞𝐰𝐢𝐠 𝐠𝐞𝐚𝐧𝐤𝐞𝐫. (Kliek hier vir die klankgreep)
Met die koms van ons Verlosser, Jesus Christus, was baie van die destydse norme en waardes uitgedaag. Mense was stewig geanker in hul sienings oor reg en geregtigheid, status, aansien, rasse en klasse, gesag toekenning en nog vele meer. Vir God se volk, was God se wet daar en was daar vir hulle al vir eeue lank behoorlike riglyne gegee, maar hulle het telkemale dit vergeet of dit eenvoudig net nie gehoorsaam nie. Hulle was soos ’n skip wat geanker was, maar in die vlak water met min vaste grond om die anker in plek te hou.
Ons sien met groot verwagting uit na die wederkoms van die Here. Ons hoop is in Hom, dat Hy, soos die eerste keer dat Hy gekom het, weer die speelveld gelyk sal maak – hierdie keer vir ewig. Maar hierdie is nie ’n hoop, soos wanneer ons hoop iets sal goed gaan of my finansies sal dit maak of dat daardie ander persoon van my sal hou nie. Hierdie hoop van ons is werklik – dis nie blote wense nie. Ons hoop is werklik en ewig, want God self het dit belowe en God se Woord is vir ewig. God is getrou.
Kersfees is nou om die draai en hierdie hoop van ons begin opnuut weer opvlam, want ons onthou die eerste keer toe Jesus gekom het. Ons onthou hoe God se volk allerhande offers moes bring en wette nakom om versoening met God te bewerk. Ons onthou hoe die wet en die profete se profesieë oor die Messias vervul is in Jesus Christus, want Hy het die finale offer gebring en die wet vereenvoudig deur vir ons te wys wat ware liefde is. Liefde is die wet. Liefde vir God en liefde vir mekaar: dít is gehoorsaamheid aan al God se wette.
En toe Jesus daar aan die kruis al ons sonde op Homself neem en Hy sterf, sodat ons vir ewig kan leef, toe skenk Hy ons nog een van die grootste geskenke ooit: direkte toegang tot die Vader. Geen hoëpriester is meer nodig nie – Hý is ons Hoëpriester wat vir ewig intree by die Vader. Toe daardie voorhangsel in die tempel skeur, was dit simbolies van die hoop wat nou vir ewig gevestig is, met Hom wat ons saak verteenwoordig by die Vader.
Dít is ons anker. Stewig geanker in die liefde van God. Die skrywer van die Hebreërbrief stel dit soos volg:
“¹⁹𝑂𝑛𝑠 ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑎𝑠 '𝑛 𝑣𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝑒𝑛 𝑠𝑡𝑒𝑤𝑖𝑔𝑒 𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 •𝑠𝑖𝑒𝑙, 𝑤𝑎𝑡 𝑡𝑜𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑖𝑛𝑛𝑒𝑘𝑎𝑛𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟ℎ𝑎𝑛𝑔𝑠𝑒𝑙 𝑖𝑛𝑔𝑎𝑎𝑛.” – Hebreërs 6:19 (AFR20)
Die storms van die lewe kan maar kom – en ons weet hulle kom gereeld. Ons kan dalk heen en weer geslinger word, maar ons sal nie wegdryf nie. Ons sal nie vergaan nie. Ons sal veilig bly in die teenwoordigheid van God. Ons sien uit daarna om die eerste koms van die Here te vier, want ons weet Hy kom beslis weer.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Is my anker stewig en sal dit hou deur die storms van die lewe? Of lê dit dalk in vlak waters van wêreldse waardes, waar onsekerheid dit maklik kan losmaak en ek wegdryf van my God af?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, laat my saam met die Psalmdigter elke dag smag na u teenwoordigheid:
“⁴⁴𝐸𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑢 𝑤𝑒𝑡 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑑𝑢𝑟𝑒𝑛𝑑 𝑛𝑎𝑘𝑜𝑚, 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑 𝑒𝑛 𝑒𝑤𝑖𝑔.
⁴⁵𝐸𝑘 𝑤𝑖𝑙 𝑖𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑦𝑒 𝑟𝑢𝑖𝑚𝑡𝑒 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑡𝑏𝑒𝑤𝑒𝑒𝑔, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑢 𝑜𝑝𝑑𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠𝑜𝑒𝑘 𝑒𝑘.
⁴⁶𝐸𝑘 𝑠𝑎𝑙 𝑜𝑜𝑟 𝑢 𝑏𝑒𝑝𝑎𝑙𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑔𝑠 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑜𝑚 𝑚𝑦 𝑡𝑒 𝑠𝑘𝑎𝑎𝑚.
⁴⁷𝐸𝑘 𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑖𝑛 𝑢 𝑏𝑒𝑣𝑒𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡;
⁴⁸𝑒𝑘 𝑟𝑒𝑖𝑘 𝑢𝑖𝑡 𝑛𝑎 𝑢 𝑜𝑝𝑑𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒𝑡; 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑛𝑘 𝑛𝑎 𝑜𝑜𝑟 𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑖𝑓𝑡𝑒.”
(𝗣𝘀𝗮𝗹𝗺 𝟭𝟭𝟵:𝟰𝟰-𝟰𝟴 𝗔𝗙𝗥𝟮𝟬)
Here, dankie dat U gekom het om hoop te bring vir my. Dit is my stewige anker. Ek loof en prys U daarvoor. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟗 – 𝐃𝐢𝐞 𝐛𝐥𝐨𝐦𝐦𝐞 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐭𝐨𝐞𝐤𝐨𝐦𝐬 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer Paulus vir ons in 1 Korintiërs 13 verduidelik wat ware liefde is en, belangriker nog, hoe dit lyk, volg dit op ’n ander baie belangrike hoofstuk. In hoofstuk 12 van 1 Korintiërs, verduidelik Paulus dat God se kerk bestaan uit allerhande verskillende soort mense. Elkeen van ons ontvang spesifieke gawes van God en almal se gawes werk saam om uiteindelik God te verheerlik deur sy kerk. Die kerk word beskryf as ’n liggaam waarvan elke ledemaat belangrik is en, alhoewel ’n liggaam sonder een of selfs meer ledemate kan regkom en aanpas, is dit nodig dat ons die ledemate moet oppas en versorg en toelaat om te doen waarvoor hulle gemaak is.
Ek ken ’n paar mense met gestremdhede en ek weet te goed dat hulle baie aanpasbaar is en geleer het om sekere take te verrig sonder ’n spesifieke ledemaat, maar dit het tyd gevat om aan te leer en dikwels is dit nie so maklik nie. Die taak kan nog net so goed verrig word soos ander mense, maar met bietjie meer moeite.
Paulus was ’n baie geleerde mens gewees en hy het nie sommer maar net die hoofstuk oor die kerk opgevolg met ’n hoofstuk oor die liefde nie. Gelei deur die Heilige Gees, skryf Paulus om ons te herinner dat die kerk die liggaam van Christus is en dat ons in sy liefde leef. Ons moet mekaar eerstens liefhê en versorg, anders gaan dit moeilik wees om hierdie liefde uit te deel aan die res van die wêreld.
In hierdie Advent seisoen, terwyl ons in afwagting voorberei vir feestelikheid oor die koms van ons Verlosser, moet ons Christus se liefde – as sy liggaam – uitdeel. Miskien is dit ’n hand wat aan ’n maag ’n bord kos gee. Miskien is dit ’n ander hand wat ’n pakkie skryfbehoeftes vir die skooljaar volgende jaar aan ’n kind wie se ouers dit nie kan bekostig nie gee, sodat daardie brein kan werk. Miskien is dit ’n oor wat luister na die hart van iemand wat seer moet uitkry. Miskien is dit ’n skouer wat ’n plekkie gee vir oë om te huil.
Paulus skryf baie mooi oor die eienskappe van die liefde en dan sluit hy hoofstuk 13 af met die volgende:
“¹²𝑁𝑜𝑢 𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑒𝑙 '𝑛 𝑔𝑒ℎ𝑒𝑖𝑚𝑛𝑖𝑠𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑒𝑙𝑑, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑖𝑛 '𝑛 𝑠𝑝𝑖𝑒𝑒̈𝑙, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑒𝑛𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑔 𝑡𝑜𝑡 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑠𝑖𝑔. 𝑁𝑜𝑢 𝑘𝑒𝑛 𝑒𝑘 𝑠𝑙𝑒𝑔𝑠 𝑔𝑒𝑑𝑒𝑒𝑙𝑡𝑒𝑙𝑖𝑘, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑒𝑒𝑛𝑑𝑎𝑔 𝑠𝑎𝑙 𝑒𝑘 𝑡𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑘𝑒𝑛, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑒𝑘 𝑡𝑒𝑛 𝑣𝑜𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑖𝑠. ¹³𝐸𝑛 𝑛𝑜𝑢 𝑏𝑙𝑦 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓, ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑒𝑛 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒, ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑟𝑖𝑒 – 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡𝑠𝑡𝑒 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒.” – 1 Korintiërs 13:12-13 (AFR20)
Baie mense wil soms nie iets vir iemand anders doen nie, want hulle voel mense is ondankbaar of hulle sien nie dadelik resultate nie. Iemand het gesê dat 𝘥𝘪𝘦 𝘣𝘭𝘰𝘮𝘮𝘦 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘵𝘰𝘦𝘬𝘰𝘮𝘴, 𝘪𝘴 𝘥𝘪𝘦 𝘴𝘢𝘢𝘥 𝘷𝘢𝘯 𝘷𝘢𝘯𝘥𝘢𝘨. Ons kan nie vandag al sien watter geweldige impak ons maak op mense se lewens deur God se liefde met hulle te deel nie. Wanneer ons egter in die geloof optree, met die hoop veilig gevestig in Jesus Christus, kom sy liefde na vore. Liefde is die grootste, want deur God se liefde wat in ons woon, word ons hoop bevestig deur ons geloof in die Messias wat gekom het. Deur die barmhartigheidswerk en sorg van die kerk, word God se liefde sigbaar in die wêreld.
Wees dus hierdie Advent- en Kerstyd (en altyd) behoorlik deel van die liggaam van Christus en werk saam tot verheerliking van sy Naam. Saai die saad vandag, sodat die toekoms kleurvol geklee sal wees met blommeprag.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Ek moet nie die werk wat ek vir God moet doen te veel oordink nie – ek moet net in gehoorsaamheid dit doen. As ek die saad saai, sal God sy lewegewende water daaroor giet en sal dit beeldskoon pronk tot sy eer – al sien ek dit dalk nie in my leeftyd nie.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, dankie vir al die geleenthede wat U oor my pad bring om diensbaar te wees vir U. Laat my deel wees van u liggaam en laat ons, u kerk, veral in hierdie feestyd u liefde deel. Maak ons attent op die nood in ons omgewing en laat ons ywerig werk tot u eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟔 – “𝐇𝐞𝐫𝐡𝐚𝐚𝐥 𝐝𝐢𝐭 𝐯𝐢𝐫 𝐣𝐨𝐮 𝐤𝐢𝐧𝐝𝐞𝐫𝐬...” (Kliek hier vir die klankgreep)
Toe ek klein was, het my ma altyd ’n sêding gehad as ons gevra het vir iets lekker, hetsy kos of iets om te doen of speelgoed. Omdat daar nie altyd geld was vir bederfies nie, het sy as antwoord vir ons gesê: “Onthou, Kersfees kom net een keer per jaar...”
Ja, Kersfees kom net een keer per jaar. En so het ons geleer om net keer per jaar bly te raak oor die koms van die Here. Slegs een keer per jaar probeer ons ons harte in goeie stemming kry en net een keer per jaar onthou ons werklik wat dit van God gekos het om Homself leeg te maak van sy Goddelikheid, mens te word, sodat ons verlos kan word (vgl. Fil. 2:5-11). Slegs een keer per jaar probeer baie van ons om daardie gesindheid van ware diensbaarheid en gehoorsaamheid wat Jesus ons kom wys het, na te volg.
Van die vroegste tye af het God sy volk geleer dat hulle reg moet lewe en reg moet laat geskied. Toe die Voortrekkers op 16 Desember 1838 voor ’n menslik onmoontlike uitdaging te staan kom, het hulle hul tot God gewend. Daar was nie iets soos rassediskriminasie of wit teen swart gewees nie. Hulle het vir hul lewens gevrees en hulle het ’n fisiese vyand voor hulle gehad waarvan hulle verlos moes word. Hulle het gebid tot God en hulle het ’n eed afgelê – ’n gelofte gemaak. Hulle het belowe dat, as God hulle uit daardie penarie red, hulle sal aanhou om te vertel hoe groot en hoe goed God is. Met die maak van die gelofte op 9 Desember al, was die woorde van Deuteronomium 6 dalk ook in hul gedagtes:
“⁴ “𝐿𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟, 𝐼𝑠𝑟𝑎𝑒𝑙, 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑒𝑛. ⁵𝐽𝑦 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑗𝑜𝑢 𝐺𝑜𝑑 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑒𝑛 𝑠𝑖𝑒𝑙 𝑙𝑖𝑒𝑓ℎ𝑒̂ 𝑒𝑛 𝑚𝑒𝑡 𝑎𝑙 𝑗𝑜𝑢 𝑘𝑟𝑎𝑔. ⁶𝐸𝑛 ℎ𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑒𝑘 𝑣𝑎𝑛𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑘𝑟𝑦𝑓, 𝑚𝑜𝑒𝑡 𝑗𝑦 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡 𝑑𝑟𝑎. ⁷𝐻𝑒𝑟ℎ𝑎𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑣𝑖𝑟 𝑗𝑜𝑢 𝑘𝑖𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑒𝑛 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑜𝑟 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑖𝑛 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑢𝑖𝑠 𝑠𝑖𝑡 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑜𝑝 𝑝𝑎𝑑 𝑖𝑠, 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑙𝑒̂ 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑦 𝑜𝑝𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛. ⁸𝐵𝑖𝑛𝑑 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑠 '𝑛 𝑡𝑒𝑘𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑎𝑛𝑑 𝑒𝑛 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑑𝑖𝑡 '𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑖𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔 𝑜𝑝 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑘𝑜𝑝 𝑤𝑒𝑒𝑠. ⁹𝑆𝑘𝑟𝑦𝑓 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟𝑘𝑜𝑠𝑦𝑛𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 ℎ𝑢𝑖𝑠 𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑗𝑜𝑢 𝑠𝑡𝑎𝑑𝑠𝑝𝑜𝑜𝑟𝑡𝑒.” – Deuteronomium 6:4-9 (AFR20)
Met die slag van Bloedrivier, was dit nie ’n wit teen swart oorlog nie. Dit was nie Boer teen Zoeloe nie. Dit was nie ’n politiese magstryd nie. Die wonderwerk van daardie dag, was nie eintlik ’n wonderwerk nie. Wat op daardie dag gebeur het, was herbevestiging dat God altyd getrou is. Dit is baie sleg dat daar ’n verloorkant moes wees en dat duisende Zoeloes gesterf het daardie dag, maar die oorwinning – soos die gelofte lui – behoort aan God.
Dit was 9 dae voor Kersfees en Kersfees het 9 dae vroeg gekom. Mense was weer herinner aan hoe groot God is, hoe getrou Hy is en, hoe God elke dag nog mense verlos – soos Hy dit gedoen het 2000 jaar gelede, in sy Seun, Jesus Christus. Dit was ’n verlossing van ’n fisiese vyand daardie dag en, omdat dit mense was, weet ons dat mense ook kan verander en dat daar versoening van enige mens met God kan gebeur en vandag het daar al miljoene Zoeloes tot geloof gekom in die enigste ware God.
Vertel ons nog ons kinders van hierdie geloofstryd wat gebeur het? Elke dag is ons in ’n oorlog betrokke met ’n vyand, die satan. Elke dag, moet ons God se woorde, sy opdragte, sy gebooie en sy beloftes onthou. Elke dag staan ons ook voor ’n vyand wat nie deur die mens se eie krag oorwin kan word nie. Elke dag moet ons staatmaak op God om ons te verlos – dikwels van onsself en ons eie begeertes. Elke dag moet ons iets beter begeer. Elke dag moet dit Kersfees wees, want elke dag is God se genade weer nuut en weer net soveel soos gister: oneindig.
Herhaal dit vir jou kinders. Praat daaroor elke dag, oral waar jy jou bevind. Laat dit ’n teken op jou hande wees, sodat alles wat jy doen daarvan getuig. Laat dit ’n versiering op jou voorkop wees, sodat jou denke daardeur gevorm word. Skryf dit oral op, sodat daar van God se genade, in Jesus Christus, getuig sal word.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Leer ek my kinders elke dag van God? Herhaal ek verhale van God se grootheid en God se liefde? Is my lewe elke dag ’n getuienis van die boodskap van Kersfees?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus, dat dit Kersfees kan wees elke dag. Dankie dat ek elke dag herinner word aan u grote liefde vir my. Grote God, U is nog altyd getrou aan dié wat in U glo en op U vertrou. Laat my ook vasstaan in my geloof en laat my glo in die verlossing wat U 2000 gelede gebring het en wat U weer nuut maak elke dag. Maak my nuut elke dag en laat my my kinders en al die mense daarvan vertel. Die oorwinning in my lewe, behoort aan U. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟓 – 𝐀𝐬 𝐣𝐲 𝐦𝐨𝐞𝐭 𝐤𝐥𝐚 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons kla tog so maklik oor enigiets. In die verbruikers georiënteerde wêreld waarin ons leef, is dit deesdae die norm. As jy nie gelukkig is met iets nie, dan vervang jy dit met iets nuut, of jy kla daaroor. As jy hard genoeg kla, sal mense luister en sal hulle dit beter maak. Mense glo dat as hulle kla oor sulke dinge, móét ander luister en móét hulle optree, want as kliënt het jy die reg om te kla en is jy altyd reg – selfs al is jy verkeerd...
In Israel se wipplank geskiedenis, lees ons dikwels ook hoe hulle verskriklik baie gekla het. Hulle het gekla dat hulle deur die Egiptenare verdruk word; hulle word dan bevry en dan kla hulle dat dit moeilik is in die woestyn; hulle kry die Beloofde Land en dan kla hulle dat God nie alles vir hulle gee soos hulle dit wil hê nie; hulle word as volk so te sê ontbind en hulle word weggevoer in ballingskap en hulle kla weer oor al die onreg. Elke keer wanneer dinge goed gaan met Israel, gebeur daar weer iets sleg en dan kla hulle weer en weer. Hulle kla ook, selfs al was hulle verkeerd gewees.
In die boek van Klaagliedere, skryf Jeremia sy eie en die volk se klagtes op oor die ballingskap. Die volk voel, soos elke keer wanneer hulle gekla het, asof God hulle verlaat het. In hoofstuk 3 lees ons hoe Jeremia sê dat hy nie meer krag het nie en hoe erg die angs en kwellings is – hy sê eintlik dat hy voel asof daar geen hoop meer is nie. En dan, skielik, is daar ’n ontploffing van hoop wat deursyfer. In die wanhoop en die figuurlike ashoop waarop hy sit, kies hy om sy perspektief te verander. Hy kies om nie meer terneergedruk te wees nie en nie meer sy kop te laat hang nie. Hy kyk op. Hy lig sy oë en rig sy oë op God en die feit dat God ’n God van geregtigheid is, ’n God aan wie se liefde en omgee daar geen einde is nie.
“¹⁹𝐷𝑖𝑛𝑘 𝑎𝑎𝑛 𝑚𝑦 𝑛𝑜𝑜𝑑 𝑒𝑛 𝑚𝑦 𝑠𝑤𝑒𝑟𝑤𝑒𝑟𝑠𝑏𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛, 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑖𝑙𝑑𝑒𝑎𝑙𝑠 𝑒𝑛 𝑔𝑖𝑓.
²⁰𝑊𝑎𝑛𝑛𝑒𝑒𝑟 𝑒𝑘 𝑑𝑖𝑒𝑝 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑜𝑟 𝑛𝑎𝑑𝑖𝑛𝑘, 𝑟𝑎𝑎𝑘 𝑒𝑘 𝑡𝑒𝑟𝑛𝑒𝑒𝑟𝑔𝑒𝑑𝑟𝑢𝑘.
²¹𝐷𝑖́𝑡 𝑟𝑜𝑒𝑝 𝑒𝑘 𝑖𝑛 ℎ𝑒𝑟𝑖𝑛𝑛𝑒𝑟𝑖𝑛𝑔, 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝑒𝑘 ℎ𝑜𝑜𝑝:
²²𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑟𝑜𝑢𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑑𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑚𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚 ℎ𝑒𝑡 𝑛𝑖𝑒, 𝑗𝑎, 𝑠𝑦 𝑜𝑛𝑡𝑓𝑒𝑟𝑚𝑖𝑛𝑔 𝑘𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑒𝑖𝑛𝑑𝑒 𝑛𝑖𝑒.
²³𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝑒𝑙𝑘𝑒 𝑜𝑔𝑔𝑒𝑛𝑑 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑛𝑢𝑢𝑡 – 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑖𝑠 𝑢 𝑔𝑒𝑡𝑟𝑜𝑢ℎ𝑒𝑖𝑑.
²⁴𝑀𝑦 𝑒𝑟𝑓𝑑𝑒𝑒𝑙 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝑠𝑒̂ 𝑒𝑘; 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑒𝑘 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚.”
– Klaagliedere 3:19-24 (AFR20)
Jeremia probeer nie eers verduidelik waarom hy of die volk God se genade verdien nie. Hy probeer nie nog harder kla en God oortuig dat die volk eintlik God se kliënte is en “altyd reg” is nie. Hy probeer nie eers om die teenstrydigheid tussen die pyn en wanhopigheid van die volk op te weeg teenoor God se goedheid nie. Nee, hy erken net eenvoudig dat, selfs in die donkerste van tye en plekke, is daar nogsteeds hoop te vinde.
Vandag woed daar nogsteeds oorloë in die wêreld wat die hele wêreld se ekonomie beïnvloed en is daar nogsteeds hongersnood, armoede, onderdrukking, korrupsie en haat. Baie mense dink, ongelukkig, nogsteeds dat hoe harder hulle kla en hoe belangriker hulle lyk, hoe makliker sal God ingryp en help – mense dink dat hoop afgedwing kan word, soos kliëntediens.
Ons is nie God se kliënte nie. Hy is nie daar om volgens ons pype te dans nie. Ja, Jesus het gekom om te dien, maar die diens wat Hy gelewer het, is nie iets wat gekoop, betaal of verdien kan word nie. Mense kla nog baie deesdae, maar hulle kla sommer net en hulle kla by mekaar en om gesien te word. Israel het ook baie gekla, maar hulle het by God gekla. Hulle het deur die proses elke keer besef dat daar hoop is en dat die Hoop op pad is.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Waaroor kla ek? By wie kla ek? Is my eie aansien vir my dalk té belangrik? God het my nie verlaat nie en God bly getrou. In Jesus Christus is die hoop van die eeue vervul vir my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie vir u troue liefde Here. Dankie dat u ontferming geen einde ken nie en dat dit nuut is elke dag. Dankie dat U getrou is, selfs al is ek dikwels ontrou. My erfdeel is die Here. Ek hoop op U, almagtige God. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟒 – 𝐇𝐲 𝐡𝐞𝐭 𝐠𝐞𝐤𝐨𝐦 ! (Kliek hier vir die klankgreep)
Partykeer voel dit of die woord hoop net ’n woord is. Ons begin baie dae, veral in die begin van ’n jaar, met soveel hoop. Soos die dae verbygaan en die lewe se realiteite begin insink en oorneem, vervaag die hoop na net ’n ietwat warm gevoel in ons binneste. Ons sê dat ons nog hoop, maar eintlik glo ons onsself nie meer nie. Mense stel ons teleur. Ons stel onsself teleur. Dinge gebeur teen die normale verloop van die lewe en hoop word ’n hoopvolle woordjie in ons woordeskat wat al minder waarde het vir ons...
As ons terugdink en weer gaan kyk na Israel se geskiedenis, dan sien ons dat die volk vir eeue lank ook só gevoel het. Hulle was ’n magtige volk – ’n hele paar keer – wat elke keer weer tot ’n val gekom het. Hulle het hierdie eeue-oue belofte gehad van hul verlosser wat sou kom en hulle het rigters, profete, konings en ander sterk leiers gehad, maar amper elke keer het hierdie mense weer gesterf of het hul leiers hul vertroue verraai en was die groot hoop weer in flarde. Die volk het gewag en gewag vir hul redder, deur geslagte heen en deur onbeskryflike trauma. Hul het gewag en toe, omtrent 2000 jaar gelede, het Hy gekom.
Die woord 𝘈𝘥𝘷𝘦𝘯𝘵 is van Latynse afkoms en beteken “die aankoms van ’n noemenswaardige persoon”. Omtrent 2000 jaar gelede het die Verlosser gekom. Die lang wag was verby. Maar Hy het gekom na ’n baie gebroke en onvolmaakte wêreld – net soos ons wêreld vandag. Dit was nie ’n geboorte in ’n privaat hospitaal met wêreldwye uitsendings en opheffings nie. Dit was minder as normaal: in ’n stal, in ’n familie wat op die vlug was en in ’n gemeenskap waar diskriminasie en onderdrukking die orde van die dag was. Hy het gekom, maar ongemerk deur meeste. Net dié wat Hom gesien het as ’n bedreiging vir hul aardse mag, het aandag gegee, want hulle wou Hom uit die wegruim.
Die Lig van die wêreld het gekom, maar oral was dit donker en, soos Jesus vir Nikodemus in Johannes 3:19 (AFR20) sê: “¹⁹...𝐷𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔 ℎ𝑒𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒̂𝑟𝑒𝑙𝑑 𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚, 𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑔𝑒ℎ𝑎𝑑 𝑏𝑜 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑔, 𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑑𝑒 𝑏𝑜𝑜𝑠 𝑤𝑎𝑠.” Ja, die wêreld daardie tyd wou Hom nie aanvaar nie. Hy was nie die hoop wat hulle in gedagte gehad het nie. Eeue lange wag was vervul, maar, omdat dit nie voldoen het aan die menslike begeertes nie, was dit nie “goed genoeg” nie. En toe? Toe word die Lig aan almal gebied!
“¹⁶𝐷𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠 𝑤𝑜𝑜𝑛 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑙𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛; 𝑣𝑖𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑏𝑖𝑒𝑑 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑎𝑑𝑢 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑙𝑒𝑒𝑓, ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑙𝑖𝑔 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛.” – Matteus 4:16 (AFR20)
Hierdie was Jesus se woorde toe Hy sy bediening begin het. Net daarna lees ons: “¹⁷𝑉𝑎𝑛 𝑡𝑜𝑒 𝑎𝑓 ℎ𝑒𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑦 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔𝑖𝑛𝑔 𝑏𝑒𝑔𝑖𝑛 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑠𝑒̂: “𝐵𝑒𝑘𝑒𝑒𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒, 𝑤𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑒 •𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙𝑒 𝑖𝑠 𝑜𝑝 ℎ𝑎𝑛𝑑𝑒.”” (Matteus 4:17 AFR20)
Hy het gekom. Die hoop is vervul. Vir Israel en vir almal. Dit is die Advent-seisoen. Hy het gekom.
Dikwels voel ons ook dat ons nie kan hoop nie of dat ons hoop begin kwyn. Ons bevraagteken selfs God se genade en liefde of ons bevraagteken die hoop wat daar vir ons is in ons Verlosser. Dis menslik en dit is nog altyd die mens se “eie-ek” worsteling. Ons verstaan nie hoe God werk nie en ons wil graag in beheer wees van alles – selfs die hoop wat ons het. En dit is die wonderlike ding van hoop – en veral in hierdie tyd, Advent: Hy het gekom. Ons Hoop lewe! Ons Hoop hoop vir ons as ons nie kan nie en ons Hoop is altyd met ons – Hy wag vir ons om aan te sluit in Hom, wanneer ons reg is om dit te aanvaar soos dit is; om Hom te aanvaar vir Wie Hy is.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
God weet dat ek hoop nodig het en daarom het Hy gekom. Jesus Christus is die Hoop van die eeue en Hy het gekom, vir my.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, help my om te hoop waar en wanneer daar nie hoop is nie. Wees U my Bron van hoop en wees U die Lig in my lewe wanneer dit voel of ek in die skadu van die dood lewe. Dankie dat U gekom het om my te verlos. Laat my leef in die vreugde en vryheid wat U my bied. Laat my oral skyn in ’n donker wêreld, omdat u lig in en deur my skyn. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟑 – 𝐇𝐨𝐨𝐩 𝐞𝐧 𝐛𝐞𝐯𝐫𝐲𝐝𝐢𝐧𝐠. (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie van ons ken die lied (Liedboek 486) wat gebaseer is op Jesaja 58 en 61 en Jesus se lees daarvan in Lukas 4, Matteus 13 en Markus 6, waar ons sing:
𝘉𝘳𝘪𝘯𝘨 𝘢𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘰𝘭𝘬𝘦 𝘥𝘪𝘦 𝘣𝘰𝘰𝘥𝘴𝘬𝘢𝘱 𝘷𝘢𝘯 𝘩𝘰𝘰𝘱 𝘦𝘯 𝘣𝘦𝘷𝘳𝘺𝘥𝘪𝘯𝘨!
𝘚𝘰 𝘴𝘦̂ 𝘥𝘪𝘦 𝘏𝘦𝘳𝘦, 𝘷𝘦𝘳𝘬𝘰𝘯𝘥𝘪𝘨 𝘢𝘭 𝘷𝘦𝘳𝘥𝘦𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘵𝘺𝘥𝘪𝘯𝘨:
"𝘋𝘢𝘢𝘳 𝘪𝘴 𝘮𝘺 𝘬𝘯𝘦𝘨! 𝘏𝘺 𝘣𝘳𝘪𝘯𝘨 𝘢𝘢𝘯 𝘯𝘢𝘴𝘪𝘦𝘴 𝘥𝘪𝘦 𝘳𝘦𝘨 -
𝘷𝘰𝘭𝘨 𝘏𝘰𝘮 𝘨𝘦𝘵𝘳𝘰𝘶 𝘪𝘯 𝘴𝘺 𝘭𝘦𝘪𝘥𝘪𝘯𝘨."
Dit is tog die boodskap van Kersfees dat hierdie Kind, wat in die dorpie Nasaret grootgeword het, aan al die nasies hoop en bevryding bring. Bevryding waarvan? Hoor wat staan in Lukas 4:16-21 (AFR20)
“¹⁶𝑇𝑜𝑒 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑖𝑛 𝑁𝑎𝑠𝑎𝑟𝑒𝑡 𝑘𝑜𝑚, 𝑤𝑎𝑎𝑟 𝐻𝑦 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑑 ℎ𝑒𝑡, ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑆𝑎𝑏𝑏𝑎𝑡 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 •𝑠𝑖𝑛𝑎𝑔𝑜𝑔𝑒 𝑔𝑒𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑠𝑦 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑜𝑛𝑡𝑒 𝑤𝑎𝑠. 𝑇𝑜𝑒 𝐻𝑦 𝑜𝑝𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑚 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑡𝑒 𝑙𝑒𝑒𝑠, ¹⁷𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑒𝑘𝑟𝑜𝑙 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑟𝑜𝑓𝑒𝑒𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑎𝑗𝑎 𝑣𝑖𝑟 𝐻𝑜𝑚 𝑎𝑎𝑛𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒, 𝑒𝑛 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑡 𝑜𝑜𝑝𝑔𝑒𝑟𝑜𝑙 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑝𝑙𝑒𝑘 𝑔𝑒𝑣𝑖𝑛𝑑 𝑤𝑎𝑎𝑟 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑟𝑦𝑓 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛:
¹⁸ “𝐷𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑖𝑠 𝑜𝑝 𝑀𝑦,
𝑜𝑚𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑀𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑎𝑙𝑓 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑜𝑒𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑜𝑑𝑠𝑘𝑎𝑝 𝑎𝑎𝑛 𝑎𝑟𝑚 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔.
𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝑀𝑦 𝑔𝑒𝑠𝑡𝑢𝑢𝑟 𝑜𝑚 𝑣𝑖𝑟 𝑔𝑒𝑣𝑎𝑛𝑔𝑒𝑛𝑒𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑦𝑔𝑒𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑,
𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑏𝑙𝑖𝑛𝑑𝑒𝑠 𝑑𝑎𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑒𝑒𝑟 𝑠𝑎𝑙 𝑠𝑖𝑒𝑛,
𝑜𝑚 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑑𝑟𝑢𝑘𝑡𝑒𝑠 𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑣𝑟𝑦,
¹⁹𝑒𝑛 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑗𝑎𝑎𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑒 𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔.”
²⁰𝐻𝑖𝑒𝑟𝑛𝑎 ℎ𝑒𝑡 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑒𝑘𝑟𝑜𝑙 𝑜𝑝𝑔𝑒𝑟𝑜𝑙, 𝑑𝑖𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑚𝑝𝑡𝑒𝑛𝑎𝑎𝑟 𝑡𝑒𝑟𝑢𝑔𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒 𝑒𝑛 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑠𝑖𝑡. 𝐴𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑖𝑛𝑎𝑔𝑜𝑔𝑒 𝑠𝑒 𝑜𝑒̈ 𝑤𝑎𝑠 𝑠𝑡𝑖𝑝 𝑜𝑝 𝐻𝑜𝑚 𝑔𝑒𝑟𝑖𝑔. ²¹𝑇𝑜𝑒 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑦 𝑚𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑖𝑛 𝑝𝑟𝑎𝑎𝑡: “𝐻𝑖𝑒𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑑𝑒𝑒𝑙𝑡𝑒 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑆𝑘𝑟𝑖𝑓 𝑖𝑠 𝑣𝑎𝑛𝑑𝑎𝑔 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙 𝑡𝑒𝑟𝑤𝑦𝑙 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑛𝑎 𝑔𝑒𝑙𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟 ℎ𝑒𝑡.””
Ja, Jesus het gekom om al hierdie dinge te doen. Hy het gekom om ’n dienaar te wees en bevryding te bring van al die aardse dinge wat ons fokus wegskuif van wat belangrik is. Omdat Jesus self mens was, weet Hy waardeur elkeen van ons gaan elke dag en kan Hy ons help en ons bevry en verstaan Hy ons harte. Vers 3 van Lied 486 sê:
𝘏𝘺 𝘸𝘢𝘵 𝘷𝘦𝘳𝘴𝘵𝘢𝘢𝘯, 𝘴𝘢𝘭 𝘥𝘪𝘦 𝘳𝘪𝘦𝘵 𝘸𝘢𝘵 𝘨𝘦𝘬𝘯𝘢𝘬 𝘪𝘴, 𝘯𝘪𝘦 𝘣𝘳𝘦𝘦𝘬 𝘯𝘪𝘦.
𝘏𝘺 𝘭𝘢𝘢𝘵 𝘥𝘪𝘦 𝘴𝘸𝘢𝘬𝘬𝘦, 𝘷𝘦𝘳𝘥𝘳𝘶𝘬𝘵𝘦 𝘯𝘪𝘦 𝘷𝘳𝘶𝘨𝘵𝘦𝘭𝘰𝘰𝘴 𝘴𝘮𝘦𝘦𝘬 𝘯𝘪𝘦.
𝘋𝘪𝘦 𝘒𝘯𝘦𝘨 𝘪𝘴 𝘏𝘦𝘦𝘳! 𝘋𝘶𝘪𝘴𝘦𝘯𝘥𝘦 𝘸𝘢𝘨 𝘰𝘱 𝘴𝘺 𝘭𝘦𝘦𝘳 -
𝘭𝘢𝘢𝘵 𝘰𝘯𝘴 𝘩𝘶𝘭 𝘯𝘰𝘰𝘥 𝘯𝘪𝘦 𝘷𝘦𝘳𝘨𝘦𝘦𝘵 𝘯𝘪𝘦.
Terwyl so baie mense hierdie Kersfees beplan vir ’n wonderlike feesmaal saam met familie en vriende, besef asseblief dat daar ook mense in die wêreld, ons land, heel moontlik jou eie dorp is, wat nie eers ’n bord kos het om te eet nie. Daar is mense wat fisies in die gevangenis is of deur hul emosies en selfs depressie gevange gehou word. Daar is mense wat deur omstandighede, finansies, selfs ander persone onderdruk word. Ons mag nie ander se nood vergeet nie.
Jesus is ons almal genadig en sy genade, omgee en liefde ken geen perke nie. En nou is dit aan ons toevertrou. Vers 4 van Lied 486 sê:
𝘈𝘴 𝘏𝘺 𝘰𝘯𝘴 𝘳𝘰𝘦𝘱 𝘵𝘰𝘵 𝘴𝘺 𝘥𝘪𝘦𝘯𝘴 - 𝘩𝘰𝘦 𝘴𝘢𝘭 𝘰𝘯𝘴 𝘥𝘪𝘵 𝘮𝘢𝘨 𝘸𝘦𝘪𝘦𝘳?
𝘏𝘺 𝘪𝘴 𝘢𝘭𝘮𝘢𝘨𝘵𝘪𝘨, 𝘨𝘦𝘯𝘢𝘥𝘪𝘨, 𝘥𝘪𝘦 𝘵𝘳𝘰𝘶𝘦 𝘣𝘦𝘷𝘳𝘺𝘥𝘦𝘳.
𝘊𝘩𝘳𝘪𝘴𝘵𝘶𝘴 𝘨𝘦𝘦 𝘬𝘳𝘢𝘨, 𝘬𝘭𝘦𝘦 𝘰𝘯𝘴 𝘮𝘦𝘵 𝘬𝘰𝘯𝘪𝘯𝘨𝘴𝘨𝘦𝘴𝘢𝘨 -
𝘏𝘺 𝘪𝘴 𝘰𝘯𝘴 𝘒𝘰𝘯𝘪𝘯𝘨 𝘦𝘯 𝘓𝘦𝘪𝘦𝘳.
Hierdie Kersfees – of jy nou ’n broodjie of ’n skaapboud eet, dis ’n feesmaal met God aan jou tafel, dek ’n ekstra plek of twee aan jou tafel en herinner mekaar daaraan hoe goed God vir ons is. As jy kan, nooi mense om daardie plekke aan die tafel te vul. Hierdie is die seisoen van hoop en bevryding. Gee hoop aan ander en word ook bevry van die eie-ek. Wees die instrument om ook bevryding aan ander te bring.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Wat doen ek ekstra hierdie Kersfees vir ander mense? Jesus roep my tot sy diens. Ek sal dit nie weier nie en ek sal die boodskap van hoop en bevryding verkondig.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, wys my waar ek hoop en bevryding kan bring. Gee my vrede en bevry my ook van alles wat skeiding maak tussen U en ek. U is my Koning en my Leier, Here Jesus. Klee my met koningsgesag en laat my die swakkes en verdruktes dien soos U ons leer. Waar ek ook in nood verkeer, vertrou ek op U om die hulp te bied. Mag U kerk hierdie Kersfees helder skyn tot U eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟐 – 𝐃𝐢𝐞 𝐛𝐞𝐤𝐞𝐧𝐝𝐦𝐚𝐤𝐢𝐧𝐠 𝐯𝐚𝐧 𝐆𝐨𝐝. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons hoor die opgewondenheid in die stemme van ons kinders – die kleintjies natuurlik – dat Kersfees om die draai is. Ons kan nie help om ook maar weer opgewonde te raak nie. Húlle, oor geskenke; óns, oor die grootste geskenk ooit – Jesus Christus.
Hopelik sal ons in hierdie tyd ons kinders weer vertel waaroor Kersfees eintlik gaan en sal ons hulle herinner hoe lief God vir ons is. Vandag se jongmense glo mos bietjie anders deesdae... Daar is soveel ander dinge en ander waardes wat geloof in ’n onsienbare God redelik uitdagend maak. Hulle sal ánder boeke glo oor onsigbare magte en toorkuns, maar hierdie onsigbare God is vir baie mense dalk net ’n treetjie té vêr. Ander boeke kan in pragtige woorde allerhande snaakse goed verduidelik, maar die Bybel is dan so lank en vervelig...
Ja, Kersfeestyd is ’n anderste tyd en kinders glo eerder in Kersvader as in God. Kersvader kan gesien word by amper elke winkelsentrum, maar God is onsigbaar. Waar is God dan?
Toe Jesus gekom het, het Hy juis daardie vraag beantwoord en het Hý God sigbaar kom maak:
“¹⁶𝑈𝑖𝑡 𝑠𝑦 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑒𝑖𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑎𝑙𝑚𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑣𝑎𝑛𝑔 – 𝑗𝑎, 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑜𝑝 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒. ¹⁷𝑊𝑎𝑛𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑖𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑀𝑜𝑠𝑒𝑠 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒; 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑔𝑒𝑘𝑜𝑚. ¹⁸𝑁𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 ℎ𝑒𝑡 𝐺𝑜𝑑 𝑛𝑜𝑔 𝑜𝑜𝑖𝑡 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛 𝑛𝑖𝑒; 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑛𝑖𝑒𝑘𝑒 𝑆𝑒𝑢𝑛, 𝑠𝑒𝑙𝑓 𝐺𝑜𝑑, 𝑤𝑎𝑡 𝑡𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑜𝑟𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑖𝑠, 𝐻𝑦 ℎ𝑒𝑡 𝐻𝑜𝑚 𝑏𝑒𝑘𝑒𝑛𝑑 𝑘𝑜𝑚 𝑚𝑎𝑎𝑘.” – Johannes 1:16-18 (AFR20)
As ons kyk na die afgelope paar jaar, sien ons dat mense baie gou begin besef hoe kwesbaar ons almal is wanneer ’n tragedie ons tref. Ons begin besef dat ons broosheid onbeheerbaar is en, wanneer ons nêrens anders het om heen te gaan nie, is dit slegs nederigheid waarheen ons ons kan wend. Wanneer jy besef dat jy nie in beheer is van alles in jou lewe nie, wanneer jou siel se diepste hunkering na vore kom, dan besef jy dat Kersvader jou nie kan help nie – net God kan. Maar hoe kan ons God ken? Deur die Seun.
Dan besef ons weer: dít is hoekom ons Kersfees vier; dít is hoekom Jesus Christus mens geword het, dít is hoe God Homself kom bekendmaak het aan die hele mensdom.
As alles in hierdie tye sou afhang van wat ons op TV sien en hoor, sou alles al heeltemal in duie gestort het, want onsekerheid word verkondig. Die inperkings van die pandemie is weg, maar die pandemie is nog hier en die verlies en onsekerheid leef voort: finansies ly, begrafnisse voel alledaags, troues maak nie meer saak nie, kerk is irrelevant – TV kerk is in en koinonia is uit. Christus se bruid – die kerk – lê verstrooid die wêreld oor en God is nie meer bekend nie... Dinge gaan regtig swaar in baie opsigte, maar koop nogsteeds daardie geskenk, want Kersvader sê so...
God het Homself kom bekendmaak aan die wêreld, maar die wêreld kan Hom nie sien nie. Die wêreld kyk vas in wêreldse dinge. Kersfees is om die draai. Sien jy dit? Voel jy dit? Sien jy jou Koning? Ervaar jy God se liefde?
Vanuit die wêreldse perspektief, kan ons nie die vreugde van Kersfees raaksien nie – kan ons nie God raaksien nie. Vanuit ons Koning se perspektief, is ons doel weer herdefinieer. Ons mag nie word wat ons fisies aanskou nie nie, maar ons moet gedefinieer word deur ons Koning wat ons aanskou: Hy wat God kom bekendmaak het aan ons; Hy wat ons kom wys het hoe volmaakte liefde lyk en hoe om ware en broodnodige hoop te weerspieël.
Die vrese van hierdie wêreld word vervang met die vrede van die ewige God. Hy is nie ’n onbekende, onsigbare God nie.
In ’n vaal, kleurlose lewe, breek die lig deur in ’n spektrum van kleure en skyn ons lig, soos Christus s’n nog altyd skyn deur ons. Dit is die hoop vir die wêreld en ons het die groot voorreg om dit te deel.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Jesus Christus is die Seun van God – God sélf. Hy het ons kom wys Wie die Vader is. Maak ek, Christus se verteenwoordiger, Sy bruid, nog God bekend aan die wêreld?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Almagtige God en Vader, dankie dat U U eie Seun gestuur het om ons te kom wys hoe groot U liefde en genade is. Maak my ’n instrument van u liefde en mag die wêreld weer besef Wie U is. Waar daar dikwels wanhoop is in hierdie tye, bring hoop deur my. Mag U alleen verheerlik word. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟏𝟎 – 𝐆𝐨𝐝: 𝐨𝐧𝐬 𝐁𝐫𝐨𝐧 𝐯𝐚𝐧 𝐡𝐨𝐨𝐩 𝐞𝐧 𝐯𝐫𝐞𝐝𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vanoggend begin my dag in die vroeë oggendure met slegte nuus. Baie goeie vriende van my se seun het vanoggend sy eie lewe geneem. Ek is amper sprakeloos en weereens dink ek dat ek mos moet weet wat om in sulke omstandighede te sê. Ek simpatiseer, huil iewers in die stilte en bid dat God die familie sal dra in hierdie tyd wat alle krag hulle begewe.
Dis amper Kersfees en dis veronderstel om ’n tyd van vreugde te wees, maar nou is dit hartseer en “hoekom” vrae ... Ek praat op die foon met die ouers en ek kan die gebrokenheid hoor in hul stemme. Hul wil graag sterk staan, maar hoe kan jy in so ’n situasie? Ek wil graag by hulle wees, maar op die oomblik hou ek bietjie vakansie en voel ek ook amper of ek hulle nou in die steek laat. Gevoelens maal en skok, woede, realiteit, moeilike vrae en grensgeval-hulpeloosheid maak beurte om my emosies te regeer ... En dan daal daar skielik weer ’n vrede oor my. Is dit die Kerstyd wat dit doen? Is dit dalk iets anders? Is dit miskien maar net deel van die trauma-siklus?
Ek besef dan weer: God is in beheer – selfs in só ’n sinnelose, onnodige gebeurtenis. God se vrede gaan my verstand te bowe. As ek net praat met Hom of as ek bid vir ander, ervaar ek vir myself hoe God my gemoed weer rustig maak en is dit my hoop dat Hy dit ook doen vir ander. Ek besef dan dat Paulus ook dit besef het:
“¹³𝑀𝑎𝑔 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑛 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑝, 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑚𝑒𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑎𝑙 ℎ𝑜𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘𝑒𝑟 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠!” – Romeine 15:31 (AFR83)
Ons hoop is IN God – nie OP Hom nie. Ons hoop nie dat Hy eendag dinge sal beter maak nie, ons hoop is lewend en Hy is nou al met ons. Ons hoop is nie om eendag al die antwoorde vir die vrae te kry nie, maar om nou al vrede te vind in Hom – al het ons nie antwoorde nie. Die Heilige Gees is NOU al met ons en dra ons, troos ons, versterk ons.
Op hierdie oomblik voel dit nie of ek met vreugde vervul kan word nie, maar, aan die ander kant, weet ek dat God alles van daardie jongman se pyn en worsteling geweet het en dat God verstaan – ek glo dit. En dan herinner ek my ook graag aan Paulus se woorde van bemoediging in Romeine 8:
“¹𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑑𝑢𝑠 𝑛𝑜𝑢 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟𝑜𝑜𝑟𝑑𝑒𝑙𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒́ 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑖𝑠 𝑛𝑖𝑒. ²𝐷𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑜𝑢 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑔𝑒𝑒, ℎ𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑣𝑟𝑦𝑔𝑒𝑚𝑎𝑎𝑘 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑡 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑑𝑜𝑜𝑑. ... ³⁸𝐻𝑖𝑒𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑖𝑠 𝑒𝑘 𝑜𝑜𝑟𝑡𝑢𝑖𝑔: 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑑𝑜𝑜𝑑 𝑜𝑓 𝑙𝑒𝑤𝑒 𝑜𝑓 𝑒𝑛𝑔𝑒𝑙𝑒 𝑜𝑓 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒 𝑜𝑓 𝑡𝑒𝑒𝑛𝑠𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑜𝑓 𝑡𝑜𝑒𝑘𝑜𝑚𝑠𝑡𝑖𝑔𝑒 𝑑𝑖𝑛𝑔𝑒 𝑜𝑓 𝑘𝑟𝑎𝑔𝑡𝑒 ³⁹𝑜𝑓 ℎ𝑜𝑜𝑔𝑡𝑒 𝑜𝑓 𝑑𝑖𝑒𝑝𝑡𝑒 𝑜𝑓 𝑒𝑛𝑖𝑔𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑎𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑘𝑒𝑝𝑝𝑖𝑛𝑔 𝑘𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑 𝑠𝑘𝑒𝑖 𝑛𝑖𝑒, 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑖𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠 𝑜𝑛𝑠 𝐻𝑒𝑟𝑒.” – Romeine 8:1-2; 38-39 (AFR83)
Liewe mens, onthou asseblief – veral in hierdie feestyd – dat hierdie nie altyd ’n vreugdevolle tyd is vir almal nie. Onthou asseblief dat daar baie mense is wat deur baie wroegings en worstelings gaan. Wees daar vir iemand as jy kan. Miskien is jy daardie iemand. Onthou asseblief dat daar hulp is. Praat met iemand. Bid saam met iemand. Wees by iemand.
Kom ons herinner mekaar gereeld in hierdie tyd dat niks ons ooit kan skei van God se liefde nie. Kom ons wees instrumente van vrede en vreugde, omdat ons aan mekaar verbind is deur die bron van ons hoop – Jesus Christus. Kom ons laat ons hoop, in geloof, en deur die krag van die Heilige Gees al sterker word.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Vir wie kan ek bid vandag? Kan ek dalk aan iemand ’n luisterende oor bied? Het ek nodig om met iemand te praat vandag? Daar is altyd hoop, want God is ewig en Hy is ons bron van hoop.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, daar is selfs in hierdie feestyd baie mense wat seer het en baie mense wat worstel met baie dinge. Ons ken nie almal se harte nie, maar U ken dit wel. Skenk asseblief U vrede en mag mense uitreik na mekaar om U liefde en omgee te deel en te ontvang. Wees asseblief met elkeen wat vandag hartseer en pyn beleef. Wees U ons bron van hoop, krag en troos. Amen
Geliefdes,
“¹³𝑀𝑎𝑔 𝐺𝑜𝑑, 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑟𝑜𝑛 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑝, 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑚𝑒𝑡 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑒𝑛 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙, 𝑠𝑜𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑜𝑜𝑝 𝑎𝑙 ℎ𝑜𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘𝑒𝑟 𝑘𝑎𝑛 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑖𝑙𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑒𝑒𝑠!” – Romeine 15:31 (AFR83)
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟎𝟗 – 𝐁𝐥𝐨𝐞𝐝𝐫𝐨𝐨𝐢 𝐡𝐨𝐨𝐩. (Kliek hier vir die klankgreep)
Hierdie jaar was ’n jaar van verandering gewees vir meeste van ons. Sedert 2020 praat baie mense van die “nuwe normaal” – iets wat ek glad nie my eie gemaak het nie. Normaal is normaal en enigiets daarbuite, is abnormaal. COVID het ons vir meer as twee jaar in ’n abnormale toestand gedompel en ons moes aanpas, maar dit was nie normaal nie. Ons het geweet, gehoop dat dinge weer sal terugkeer na normaal – die regte normaal. Halfpad deur die jaar het dit gebeur en is al die beperkings en inperkings gelig. Tog is die “normaal” waarna ons teruggekeer het ietwat anders as wat ons gewoond was, want alles verander altyd – dit is die een konstante waaroor ons kan seker wees: verandering.
Ek wonder hoeveel keer ek in die laaste drie jaar die woord hoop gebruik het – behalwe nou as ek daaroor skryf of preek? Hoeveel keer het jy die woord gebruik? Ons almal was daar: “Ek hoop dinge keer gou weer terug na normaal.”; “Ek hoop die toetse is negatief.”; “Ek hoop my familie sal ‘OK’ wees.”; “Ek hoop ek kom deur hierdie ding.”; “Ek hoop my finansies sal dit maak.”; “Ek hoop daar is ’n oes hierdie jaar.”; “Ek hoop alles sal regkom.”; “Ek hoop ...”
Só het almal van ons gehoop vir iets hierdie laaste klompie jare en ook eintlik ons hele lewe al. Ons hoor soms selfs dat mense sê dat die enigste hoop in ons land, is die ashoop. Dis natuurlik dikwels in ’n grappie bedoel, maar tog is dit waar vir baie mense, want hulle het geen hoop nie. Maar wat is hoop dan regtig? As soveel mense hoop vir iets, moet daar tog iets dieper daarin lê.
Weet jy, as ons al daardie dinge waarvoor daar gehoop word weer noem en ons kyk hoeveel van hulle het gerealiseer, sal ons gou agterkom hoekom soveel mense nie meer hoop het nie. Hoekom? Want mense hoop 𝘝𝘐𝘙 dinge. Dis nie eintlik hoop nie – dis wense, begeertes. Hoop is iets heeltemal anders. Hoop gaan oor ’n vrede en vreugde 𝘐𝘕 iets of eerder Iemand, wat jou lewensuitkyk só verander, dat dinge maar rondom jou kan gebeur. Jy mag dalk nie kry waarvoor jy “gehoop” (gewens) het nie, maar dis ‘OK’, want jy weet dat God in beheer is en dat jou hoop gesetel is 𝘐𝘕 Jesus Christus en sy beloftes vir jou lewe nou en hierna.
Wanneer ons dink aan die hoop wat ons het in Jesus Christus en ons moet ’n kleur daaraan koppel, is dit gewoonlik wit. Wit is suiwer, skoon, helder en ons wil graag hê dat ons hoop moet dui aan die toekoms wat ons wil hê. Maar, het jy geweet dat ons hoop ’n bloedrooi hoop is? Hoor hoe kondig Jesaja dit aan:
“¹𝑊𝑖𝑒 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑎𝑎𝑛𝑘𝑜𝑚 𝑢𝑖𝑡 𝐸𝑑𝑜𝑚, 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟 𝑢𝑖𝑡 𝐵𝑜𝑠𝑟𝑎 𝑘𝑜𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑𝑟𝑜𝑜𝑖 𝑘𝑙𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑎𝑛? 𝑊𝑖𝑒 𝑖𝑠 𝑠𝑜 𝑖𝑛𝑑𝑟𝑢𝑘𝑤𝑒𝑘𝑘𝑒𝑛𝑑 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑎𝑎𝑟𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑜𝑜𝑖 𝑘𝑙𝑒𝑟𝑒 𝑎𝑎𝑛, 𝑠𝑜 𝑣𝑜𝑙 𝑘𝑟𝑎𝑔? 𝐷𝑖𝑡 𝑖𝑠 𝐸𝑘, 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝐸𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑜𝑟𝑤𝑖𝑛𝑛𝑖𝑛𝑔 𝑎𝑎𝑛𝑘𝑜𝑛𝑑𝑖𝑔, 𝑤𝑎𝑡 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑜𝑚 𝑡𝑒 𝑟𝑒𝑑.” – Jesaja 63:1 (AFR83)
Deur die laaste paar jaar, het heelwat van ons dalk gevoel dat die lewe sélf bloedrooi was. Baie van ons het dood in die oë gestaar – ons eie dalk, of dié van ’n geliefde. As ons só daarna kyk, was die sogenaamde “nuwe normaal” glad nie normaal nie. Gelukkig vir ons wat glo, het ons hoop ook bloedrooi na vore gekom en dit is wat ons ook vier as ons Kersfees vier. Jesus Christus het mens geword en het gekom om oorwinning oor die dood te kom aankondig!
Ons hoop is bloedrooi, soos Christus se bloed wat gevloei het vir elkeen van ons toe Hy met die sonde en die dood afgereken het aan ’n kruis. Kersfees is ’n tyd waarin ons die bloedrooi hoop herdenk. Ons herinner onsself daaraan dat ons hoop in Jesus Christus is en dat daar altyd in Hom ’n beter tyd en beter normaal sal aanbreek, want Hy regeer in- en deur alles. Kersfeestyd is ’n tyd om te onthou dat Jesus Christus gebore is om die oorwinning te kom aankondig oor ons lewens. Hy is die Here en Hy is magtig om te red.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Waarvoor hoop ek? Is dit regtig hoop? My hoop moet 𝘐𝘕 Jesus Christus, my Verlosser wees.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Dankie Here Jesus dat U gekom het om aan my hoop te gee. U is geklee gewees in bloedrooi gewaad toe U afgereken het met alles wat hoop van my kan wegneem. Ek loof en prys U daarvoor. Mag ek in hierdie feestyd vashou aan die hoop wat U Heilige Gees in my laat leef. Mag ek die hoop, liefde en vreugde deel. U alleen is waardig om al die lof, eer en heerlikheid te ontvang. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟎𝟖 – 𝐒𝐭𝐚𝐚𝐧 𝐬𝐭𝐞𝐫𝐤 𝐡𝐢𝐞𝐫𝐝𝐢𝐞 𝐊𝐞𝐫𝐬𝐟𝐞𝐞𝐬. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soos Kersfees al nader en nader kom, probeer ons om alles wat goed is te doen en dink ons gereeld na oor die jaar wat al amper op sy rug lê. Hierdie jaar is amper verby en baie van ons het dalk aan die begin van die jaar verskeie voornemens gehad. Dalk het ons van hulle kon hou, ander is dalk verbreek en ander is nog nie eers aangepak nie. Suksesse is behaal in die jaar en mislukkings en foute was ook kuiergaste in ons lewens. Sommige dinge het ons reggemaak en ander kort nog aandag.
Dikwels, as ons foute maak, is die eerste reaksie ontkenning of om die skuld op iets of iemand anders te pak, want om aan onsself te erken dat ons verkeerd is, spel mislukking in ons gemoed en niemand wil tog misluk nie... Ons almal wil graag sterk staan of ten minste dat dit lyk of ons sterk staan, ons wil nie dat ander dink ons is swak nie. Ongelukkig kom die stroom van lewe té gereeld en, wanneer God se waarheid daaroor begin vloei, ontwortel dit vinnig ons illusie dat alles reg is en goed is.
Met die Feestyd wat al nader stap, is dit nodig dat ons onsself weer herinner dat ons, as Christene, sterk moet staan in moeilike tye en dat ons nie meegesleur moet word deur wêreldse waardes en ons eie verheffing nie. Psalm 1 se eeue oue wysheid weerklink:
“¹𝐷𝑖𝑡 𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑔𝑜𝑒𝑑 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑛𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑛𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑎𝑎𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑔𝑜𝑑𝑑𝑒𝑙𝑜𝑠𝑒𝑠 𝑣𝑜𝑙𝑔 𝑛𝑖𝑒,
𝑛𝑖𝑒 𝑚𝑒𝑡 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑎𝑎𝑟𝑠 𝑜𝑚𝑔𝑎𝑎𝑛 𝑒𝑛 𝑚𝑒𝑡 𝑙𝑖𝑔𝑠𝑖𝑛𝑛𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑠𝑎𝑎𝑚𝑠𝑝𝑎𝑛 𝑛𝑖𝑒,
²𝑚𝑎𝑎𝑟 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑜𝑜𝑟𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒 𝑠𝑦 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑣𝑖𝑛𝑑,
𝑑𝑖𝑡 𝑑𝑎𝑔 𝑒𝑛 𝑛𝑎𝑔 𝑜𝑜𝑟𝑑𝑖𝑛𝑘.
³𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑠𝑜𝑜𝑠 '𝑛 𝑏𝑜𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑡 𝑏𝑦 𝑤𝑎𝑡𝑒𝑟𝑠𝑡𝑟𝑜𝑚𝑒 𝑔𝑒𝑝𝑙𝑎𝑛𝑡 𝑖𝑠,
𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑒𝑔𝑡𝑒 𝑡𝑦𝑑 𝑣𝑟𝑢𝑔𝑡𝑒 𝑑𝑟𝑎 𝑒𝑛 𝑤𝑎𝑎𝑟𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑏𝑙𝑎𝑟𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑣𝑒𝑟𝑑𝑟𝑜𝑜𝑔 𝑛𝑖𝑒.
𝐻𝑦 𝑖𝑠 𝑣𝑜𝑜𝑟𝑠𝑝𝑜𝑒𝑑𝑖𝑔 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒𝑠 𝑤𝑎𝑡 ℎ𝑦 𝑎𝑎𝑛𝑝𝑎𝑘.”
– Psalm 1:1-3 (AFR83)
Jy kan dalk voorspoedig wees in baie dinge wat jy aanpak, maar as jy nie goed gewortel is in die lewegewende Bron nie, sal die strome van die lewe jou begin meesleur. Jy sal dalk dink dat jy gelukkig is, maar as jy gelukkig is ten koste van ander mense, is dit die moeite werd?
Om sterk te staan in God en in God se Woord, beteken dat die storms van die lewe sál woed rondom ons en dat dit nie altyd maklik sal wees nie. Om vrugte te dra op die regte tyd, is wat saak maak. Dit help nie jy vertoon baie mooi op ’n ashoop nie, want dan sal die kraaie en brommers al die goeie vrugte opvreet en is dit tot nut vir niemand nie. Nee, jy moet geplant wees op die regte plek – ín die regte Persoon.
Dalk het alles hierdie jaar nie vir jou uitgewerk soos jy dit wou gehad het nie. Dalk het jy bietjie drooggemaak. Dalk het ander jou seergemaak. Dalk het jy ander seergemaak. Hoe ook al, onthou dat jy gewortel is (of moet wees) in Christus en dat jy sterker kan terugkom nou, omdat jy dieper gewortel is in hierdie tyd wat jy die koms van jou Verlosser onthou.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Wat verby is, is verby. Ek moet my foute erken en streef na versoening. Ek kan ook ander vergewe en ek kan leer daaruit. Ek staan sterk, omdat my wortels in die stroom van lewende water, Jesus Christus, geplant is.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
(Paulus se gebed aan Efese in Efesiërs 3:14-21 AFR83):
“¹⁴𝐷𝑎𝑎𝑟𝑜𝑚 𝑘𝑛𝑖𝑒𝑙 𝑒𝑘 𝑖𝑛 𝑔𝑒𝑏𝑒𝑑 𝑣𝑜𝑜𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 ¹⁵𝑎𝑎𝑛 𝑤𝑖𝑒 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑙𝑒 𝑔𝑒𝑚𝑒𝑒𝑛𝑠𝑘𝑎𝑝 𝑣𝑎𝑛 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑤𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑚𝑒𝑙 𝑒𝑛 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑎𝑎𝑟𝑑𝑒 𝑠𝑦 𝑏𝑒𝑠𝑡𝑎𝑎𝑛 𝑡𝑒 𝑑𝑎𝑛𝑘𝑒 ℎ𝑒𝑡. ¹⁶𝐸𝑘 𝑏𝑖𝑑 𝑑𝑎𝑡 𝐻𝑦 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝐺𝑒𝑒𝑠 𝑢𝑖𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑟𝑦𝑘𝑑𝑜𝑚 𝑣𝑎𝑛 𝑠𝑦 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑎𝑎𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑠𝑎𝑙 𝑔𝑒𝑒 𝑜𝑚 𝑖𝑛𝑛𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑠𝑡𝑒𝑟𝑘 𝑡𝑒 𝑤𝑜𝑟𝑑, ¹⁷𝑑𝑎𝑡 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑜𝑓 𝑖𝑛 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑜𝑜𝑛 𝑒𝑛 𝑑𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑔𝑒𝑤𝑜𝑟𝑡𝑒𝑙 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑔𝑟𝑜𝑛𝑑𝑣𝑒𝑠 𝑠𝑎𝑙 𝑤𝑒𝑒𝑠. ¹⁸𝑀𝑎𝑔 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑖𝑛 𝑠𝑡𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑜𝑚 𝑠𝑎𝑎𝑚 𝑚𝑒𝑡 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑙𝑜𝑤𝑖𝑔𝑒𝑠 𝑡𝑒 𝑏𝑒𝑔𝑟𝑦𝑝 ℎ𝑜𝑒 𝑤𝑦𝑑 𝑒𝑛 𝑣𝑒𝑟 𝑒𝑛 ℎ𝑜𝑜𝑔 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝑠𝑡𝑟𝑒𝑘. ¹⁹𝑀𝑎𝑔 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑠𝑦 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑘𝑒𝑛, 𝑙𝑖𝑒𝑓𝑑𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑠𝑡𝑎𝑛𝑑 𝑡𝑒 𝑏𝑜𝑤𝑒 𝑔𝑎𝑎𝑛, 𝑒𝑛 𝑚𝑎𝑔 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑙𝑡𝑒𝑚𝑎𝑙 𝑣𝑒𝑟𝑣𝑢𝑙 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑚𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑣𝑎𝑛 𝐺𝑜𝑑.
²⁰𝐴𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑤𝑎𝑡 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑠𝑦 𝑘𝑟𝑎𝑔 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑤𝑒𝑟𝑘, 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔 𝑖𝑠 𝑜𝑚 𝑜𝑛𝑒𝑖𝑛𝑑𝑖𝑔 𝑚𝑒𝑒𝑟 𝑡𝑒 𝑑𝑜𝑒𝑛 𝑎𝑠 𝑤𝑎𝑡 𝑜𝑛𝑠 𝑏𝑖𝑑 𝑜𝑓 𝑑𝑖𝑛𝑘, ²¹𝑎𝑎𝑛 𝐻𝑜𝑚 𝑘𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑒 𝑒𝑒𝑟 𝑡𝑜𝑒, 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑘𝑒𝑟𝑘, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑣𝑒𝑟𝑏𝑜𝑛𝑑𝑒𝑛ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑚𝑒𝑡 𝐶ℎ𝑟𝑖𝑠𝑡𝑢𝑠 𝐽𝑒𝑠𝑢𝑠, 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑒 𝑔𝑒𝑠𝑙𝑎𝑔𝑡𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑡 𝑖𝑛 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑒𝑤𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑. 𝐴𝑚𝑒𝑛.”
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟎𝟕 – 𝐃𝐢𝐞 𝐥𝐢𝐠 𝐯𝐚𝐧 𝐦𝐲 𝐥𝐞𝐰𝐞. (Kliek hier vir die klankgreep)
As kind kan ek onthou hoe ons een Kersfees, op die plot waar ons gebly het, so 10 minute voor middernag op die 24ste Desember afgestap het na die stalle toe. My ouma en my ma het ons destyds vertel hoe die diere nogsteeds om middernag – wanneer Kersfees aanbreek – kniel om te wys hoe die hele Skepping onderwerp aan Koning Jesus se gesag. Daardie aand, sonder dat ons die horlosie dopgehou het, het die beeste en die skape skielik almal gaan lê. My suster het op haar horlosie gekyk en opgemerk dat dit net na middernag is ... Ongelooflik !
Tot vandag toe, weet ek nie of dit sommer net toeval was en of dit werklik so is elke jaar in elke stal of nie. Wat ek wel ook kan onthou, is dat ons dadelik daardie aand begin soek het na die “Bethlehem ster”. Ons het die hemele deursoek om die helderste ster te soek en probeer vasstel of dit regtig die Bethlehem ster is of nie. Ons het gewonder of ons regtig vêr vanuit die Suidelike Halfrond die Bethlehem ster sou kon sien, want Bethlehem in die Vrystaat en die “regte Bethlehem” is mos twee verskillende plekke en ons was naby een van die twee nie... Ons kon toe nog nie behoorlik verstaan hoe alles werk en hoe groot God is nie.
Nou, na al die jare kyk ek nog gereeld na die sterre en staan ek weereens verbaas en verwonderd oor God se grootheid, die grootheid van die Skepping en wonder ek nogsteeds oor die Bethlehem ster ...
Die Bethlehem ster is een van grootste en bekendste tekens van Kersfees. Mense wat kersbome in hulle huise het, verfraai die bome met sterre en het gewoonlik heel bo ’n groot ster. Ander mense bak die heerlikste koekies vir Kersfees en maak gewoonlik seker dat ’n hele paar in die vorm van ’n ster is. Behalwe vir my verhaal van daardie een Kersfees iewers in die verlede op plot in Suid-Afrika oor die soektog na ’n ster, is daar baie ander verhale oor sterre, maar die bekendste een, is die een oor die ster of lig wat die wyse manne na Jesus gelei het die aand van sy geboorte. In daardie presiese oomblik en vir die duur van daardie aand, het God iets geskep wat die kollig op daardie aand vir altyd sou plaas. ’n Groot lig het geskyn oor die geboorte en nederige begin van ’n Baba wat uiteindelik die Koning van alle konings sal wees.
Daardie aand op die plot, toe ons nog die ster soek, het ons een gesien wat helderder geskyn het as die ander. Ons was bly, al was ons onseker of dit nou die Bethlehem ster is of nie. Ons was bly en ’n anderste vreugde en vrede het ons gevul – soos dit elke jaar met Kersfees gebeur. Die woorde van Matteus 2:10 (AFR20) was ook waar vir ons:
“¹⁰𝑇𝑜𝑒 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑒𝑟 𝑠𝑖𝑒𝑛, ℎ𝑒𝑡 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 '𝑛 𝑜𝑛𝑏𝑒𝑠𝑘𝑟𝑦𝑓𝑙𝑖𝑘𝑒 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑣𝑟𝑒𝑢𝑔𝑑𝑒 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑎𝑟.”
Vandag, 2000 jaar later, reken sommige astronome dat die “Ster van Bethlehem” moontlik ’n baie seldsame samekoms of oplyn van planete was wat ’n wonderlike lig gemaak het. Of dit so is of nie, maak nie regtig saak nie. Wat ek wel weet en glo, is dat God ’n ster, ’n groot lig, gebruik het om wyse manne te lei om hulde te bring aan hierdie Kindjie en hulle te vul met ’n onbeskryflike groot vreugde.
Die vreugde van Kersfees, is om te besef hoe God se lig begin skyn het om ons te lei na die ewige Lig.
𝕆𝕞 ??𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Besef ek nog hoe groot God is en, dat hierdie grote God mens geword het vir my? Soos die ster van Bethlehem die wyse manne gelei het, so is Jesus vandag nog die lig in my lewe en lei Hy my nogsteeds.
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here, lei my elke dag en wys my die pad wad ek moet stap. Laat my elke dag gevul word met ’n onbeskryflike groot vreugde wanneer ek weer besef hoe groot U is en hoe lief U my het. Laat my U liefde deel in hierdie Kersfeestyd. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟎𝟔 – 𝐖𝐚𝐚𝐫 𝐤𝐨𝐦 𝐊𝐞𝐫𝐬𝐟𝐞𝐞𝐬 𝐯𝐚𝐧𝐝𝐚𝐚𝐧 ? (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie advertensies praat van Kersfees as die “seisoen van gee” of in Engels, “the season of giving”. Nou ja, kyk, natuurlik gaan hierdie wonderlike sêding oor die gee van geskenke en gewoonlik is dit die winkels wat dit gebruik, sodat mense net meer en meer van hul produkte kan koop. Maar eintlik, is Kersfees die seisoen van gee. En dit het alles begin so om en by 2000 jaar gelede, toe God sy enigste Seun gegee het vir die wêreld. Die wêreld het dit glad nie verdien nie, want die wêreld was boos en selfs God se volk het alweer die pad byster geraak. Niemand het dit verdien nie, maar God het dit gedoen ... uit liefde vir ons.
Het ons al ooit gedink daaraan dat as God nie sélf in daardie tyd die opgetree het, sélf mens geword het in Sy Seun en sélf die redding vir ons kom bewerk het nie, was daar geen Christus, geen Evangelie, geen versoening met die Vader nie en geen hoop nie. As God nie sélf ingegryp het nie, was daar geen opstanding uit die dood gewees nie, geen werk van die Heilige Gees in ons lewens nie en geen openbaring van God se liefde wat ons weer leer hoe om lief te hê nie. God het besef dat die mens dit nie in hom-/haarself het om hierdie versoeningswerk te doen nie en God het sélf dit kom doen.
Met die opgewondenheid en hoop wat groei in die Advent-seisoen, eggo die woorde van die profeet Jesaja weer:
“¹𝐷𝑖𝑒 𝑣𝑜𝑙𝑘 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 𝑑𝑢𝑖𝑠𝑡𝑒𝑟𝑛𝑖𝑠 𝑟𝑜𝑛𝑑𝑑𝑤𝑎𝑎𝑙, ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑔𝑟𝑜𝑜𝑡 𝑙𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑠𝑖𝑒𝑛;
ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑤𝑎𝑡 𝑖𝑛 '𝑛 𝑠𝑡𝑖𝑘𝑑𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑙𝑎𝑛𝑑 𝑤𝑜𝑜𝑛 – 𝑜𝑜𝑟 ℎ𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑒𝑡 '𝑛 𝑙𝑖𝑔 𝑔𝑒𝑠𝑘𝑦𝑛. ...
⁵𝑊𝑎𝑛𝑡 '𝑛 𝐾𝑖𝑛𝑑 𝑖𝑠 𝑣𝑖𝑟 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑏𝑜𝑟𝑒, '𝑛 𝑆𝑒𝑢𝑛 𝑖𝑠 𝑎𝑎𝑛 𝑜𝑛𝑠 𝑔𝑒𝑔𝑒𝑒. 𝐷𝑖𝑒 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠𝑘𝑎𝑝𝑝𝑦 𝑖𝑠 𝑜𝑝 𝑠𝑦 𝑠𝑘𝑜𝑢𝑒𝑟. 𝐻𝑦 𝑤𝑜𝑟𝑑 𝑔𝑒𝑛𝑜𝑒𝑚:
𝑊𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑏𝑎𝑟𝑒 𝑅𝑎𝑎𝑑𝑔𝑒𝑤𝑒𝑟,
𝑀𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑜𝑑, 𝐸𝑤𝑖𝑔𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟,
𝑉𝑟𝑒𝑑𝑒𝑣𝑜𝑟𝑠.
⁶𝑉𝑖𝑟 𝑑𝑖𝑒 𝑢𝑖𝑡𝑏𝑟𝑒𝑖𝑑𝑖𝑛𝑔 𝑣𝑎𝑛 ℎ𝑒𝑒𝑟𝑠𝑘𝑎𝑝𝑝𝑦 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑣𝑟𝑒𝑑𝑒 𝑠𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟 𝑒𝑖𝑛𝑑𝑒, 𝑠𝑎𝑙 𝐻𝑦 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑡𝑟𝑜𝑜𝑛 𝑣𝑎𝑛 𝐷𝑎𝑤𝑖𝑑 𝑒𝑛 𝑜𝑜𝑟 𝑠𝑦 𝑘𝑜𝑛𝑖𝑛𝑘𝑟𝑦𝑘 𝑤𝑒𝑒𝑠, 𝑜𝑚 𝑑𝑖𝑡 𝑡𝑒 𝑣𝑒𝑠𝑡𝑖𝑔 𝑒𝑛 𝑡𝑒 𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑠𝑡𝑒𝑢𝑛 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑟𝑒𝑔 𝑒𝑛 𝑔𝑒𝑟𝑒𝑔𝑡𝑖𝑔ℎ𝑒𝑖𝑑, 𝑣𝑎𝑛 𝑛𝑜𝑢 𝑎𝑓 𝑒𝑛 𝑣𝑖𝑟 𝑎𝑙𝑡𝑦𝑑.
𝐷𝑖𝑒 𝑦𝑤𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝐻𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒, 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑑𝑜𝑒𝑛.”
– Jesaja 9:1; 5-6 (AFR20)
Hoor jy dit? “𝐷𝑖𝑒 𝑦𝑤𝑒𝑟 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑟𝑒, 𝐻𝑒𝑒𝑟𝑠𝑒𝑟 𝑜𝑜𝑟 𝑎𝑙𝑙𝑒 𝑚𝑎𝑔𝑡𝑒, 𝑠𝑎𝑙 𝑑𝑖𝑡 𝑑𝑜𝑒𝑛.” God herinner ons dat Hy die ewige, almagtige God is en dat wat Hy beplan, doen Hy. Daar is niks of niemand soos ons God nie. Geen magte is sterker of magtiger nie en daar is niemand en niks met soveel gesag nie. As God die opdrag gee, gee Hy dit met gesag – die opperste gesag. Engele staan gereed om te doen wat Hy sê en niks of niemand kan in sy pad staan nie ...
Jesus Christus het die wêreld ingekom met al hierdie krag en gesag van die hemele self agter Hom. Engele was slaggereed, wagtend op die opdrag van die Seun... Maar Hy het, in gehoorsaamheid aan die Vader, hulle nie ontbied nie ... sodat jou en my straf op Hom kon kom.
Ons moet onsself meer gereeld herinner dat Kersfees nie sommer maar net gebeur het nie. Dit kan dalk voel soos net nog ’n dag en dit is dalk net nog ’n dag, maar die hele idee daaragter is een van die almagtige God se onwrikbaarheid in sy plan vir ons redding. Niks of niemand kon Hom toe keer nie en niks of niemand kan Hom vandag keer nie.
Kersfees kom nie van ’n heidense fees af nie. Kersfees is ’n dag wanneer ons God se groot liefde vir ons herdenk. Dis ’n dag wanneer ons onthou hoe dit regtig lyk as jy alles gee vir dié wat jy lief het.
𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
Word ek nog opgewonde oor die onwrikbaarheid van God se planne in my lewe? Besef ek dat die almagtige Vader, in sy oorvloed van liefde vir my, Sy Seun gestuur het vir my en dat die Heerser oor alle magte nogsteeds heers oor alles?
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, dankie dat U gekom het om die verhouding tussen die Vader en my te herstel. U is waarlik “𝑊𝑜𝑛𝑑𝑒𝑟𝑏𝑎𝑟𝑒 𝑅𝑎𝑎𝑑𝑔𝑒𝑤𝑒𝑟, 𝑀𝑎𝑔𝑡𝑖𝑔𝑒 𝐺𝑜𝑑, 𝐸𝑤𝑖𝑔𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟, 𝑉𝑟𝑒𝑑𝑒𝑣𝑜𝑟𝑠.” Mag u ywer, Heerser oor alle magte, ook in my deurslaan, sodat die wêreld u liefde kan sien. Tot U eer. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
2022-12-02 - 2022-12-05 se oordenkings was gebaseer op die werk van 'n ander outeur - alhoewel dit veel meer uitgebrei en aangepas was op hierdie platform. Dit is verwyder, omdat die outeur van die reeks waarop die oordenkings gebaseer was gevra het dat haar werk nie as basis gebruik sal word nie.
𝟐𝟎𝟐𝟐-𝟏𝟐-𝟎𝟏 – 𝐊𝐞𝐫𝐬𝐟𝐞𝐞𝐬 𝐤𝐨𝐦 . . . (Kliek hier vir die klankgreep)
Een van die dae is dit weer Kersfees. Winkels het al begin versierings opsit en die bekende liedjies speel al klaar oor die klankstelsels en radiostasies. Bekende liedjies ... Hmm ... ? Dis die gewilde sangers en sangeresse wat iets oor Kersfees sing. Soos Mariah Carey wat sing dat al wat sy vir Kersfees wil hê, is iemand. George Michael van Wham sing dat hy die vorige Kersfees vir iemand sy hart gegee het, maar dat hy dit eerder hierdie jaar vir iemand spesiaal sal gee. ’n Paar mense, insluitend Neil Diamond, het al Bobby Helms se Jingle Bell Rock gedoen. Ag, so kan die lysie aangaan. Liedjies wat ons in ’n feestelike stemming bring ... maar dis liedjies wat niks met Kersfees te doen het nie.
Dan kry ons wel van daardie liedjies wat gaan oor Christus. Liedjies wat ons harte vul met ware vrede en ons laat nadink oor God se grootste geskenk van alle tye. Mooi liedjies. Diep liedjies ... Tog, is baie van hierdie mooi, diep liedjies ook opgeneem sodat iemand daaruit kan muntslaan. Soms gaan die opbrengste van sulke treffers vir ’n goeie doel, maar soms gaan dit reguit na die sak van die kunstenaar. Terwyl al die ander liedjies speel om mense in ’n feestelike, spandabelrige stemming te kry, hoekom dan nie ook muntslaan daaruit nie ...?
Nou ja goed, dit klink dalk bietjie swartgallig en ek probeer glad nie teen die goeie bedoelings en goeie uitwerking wat baie Christelike Kersliedere het op mense te praat nie, maar wat ek wel vandag wil uitlig, is dat ons ernstig weer moet dink oor wat Kersfees vir ons beteken: Die koms van die Verlosser, die Messias, die Christus, na ’n wêreld wat Hom nie wou aanvaar nie.
Vir eeue lank is leuens oor Hom vertel en probeer die wêreld nogsteeds ontken dat Hy die Seun van God is. Kommersialisering van een van die grootste gebeure van hierdie wêreld ooit dra ook by daartoe dat mense gou vergeet waaroor alles eintlik gaan. Skielik het baie mense ook nou “kennis” en daardie sogenaamde “kennis” (alles van die internet natuurlik), leer hulle nou dat 25 Desember nie Jesus se geboortedag kon wees nie, maar eerder ’n heidense fees is. Mense vier nie meer Kersfees nie, want God haat ons feeste (Amos 5:21-27 word gereeld hiervoor gebruik)... En so word daar nog baie redes gegee en, as jy weer jou oë uitvee, vier jy nie meer Kersfees nie, is jy nie meer deel van ’n gemeente nie en maak jy skielik staat op wat jy jouself oor God kan leer of wat jy op die internet of van die persoon wat jou hiervan oortuig het kan kry. Voor jy jouself kry, is Kersfees ’n leuen en is Jesus Christus ’n leuen...
Dis baie hartseer, maar hierdie is die realiteit van hoe dinge in vandag se wêreld gaan. Mense gebruik graag verskonings – enige verskonings – om te kan glo soos húlle wil. Maak dit regtig saak of Jesus op 25 Desember gebore is? Maak dit saak dat God sy kerk kan gebruik om ’n dag wat dalk voorheen ’n heidense fees op ’n klein plekkie was te gebruik om ere aan God te bring? Maak dit saak of mense vandag nog eerder wil muntslaan uit die dag, terwyl jý weet waaroor dit gaan? Jesus het gesê: “¹ “𝐿𝑎𝑎𝑡 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 ℎ𝑎𝑟𝑡𝑒 𝑛𝑖𝑒 𝑜𝑛𝑡𝑠𝑡𝑒𝑙𝑑 𝑤𝑒𝑒𝑠 𝑛𝑖𝑒. 𝐺𝑙𝑜 𝑖𝑛 𝐺𝑜𝑑, 𝑔𝑙𝑜 𝑜𝑜𝑘 𝑖𝑛 𝑀𝑦.” ... ⁶ “𝐸𝑘 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑒𝑔 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑤𝑎𝑎𝑟ℎ𝑒𝑖𝑑 𝑒𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑙𝑒𝑤𝑒; 𝑛𝑖𝑒𝑚𝑎𝑛𝑑 𝑘𝑜𝑚 𝑛𝑎 𝑑𝑖𝑒 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑏𝑒ℎ𝑎𝑙𝑤𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟 𝑀𝑦 𝑛𝑖𝑒. ⁷𝐴𝑠 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑀𝑦 𝑙𝑒𝑒𝑟 𝑘𝑒𝑛 ℎ𝑒𝑡, 𝑠𝑎𝑙 𝑗𝑢𝑙𝑙𝑒 𝑜𝑜𝑘 𝑚𝑦 𝑉𝑎𝑑𝑒𝑟 𝑘𝑒𝑛...” (Johannes 14:1;6-7a AFR20)
So kan ons die hele Johannes 14 gaan lees en ook die hele Bybel en ons sal besef dat God ons harte ondersoek en wat Hy van ons vra is gehoorsaamheid. Ons kan dalk heeltemal vuur en vlam wees vir ’n saak waaroor ons deur die internet of ander mense oortuig is dat dit of dat sis of so is, maar wat sê jou hart? Wat is die geloof wat in jou hart is? Is jy gelowig of net godsdienstig? Ek gaan nie vêrder hieroor uitbrei nou nie en ek dink hierdie is genoeg dinge 𝕆𝕞 𝕠𝕠𝕣 𝕥𝕖 𝕕𝕚𝕟𝕜 𝕧𝕒𝕟𝕕𝕒𝕘 ...
𝕲𝖊𝖇𝖊𝖉 :
Here Jesus, dankie dat U die Seun van God is en God self is. Dankie dat U gekom het om my te red. Dit maak nie saak watter dag dit was nie en dit maak nie saak hoe mense die boodskap heeltemal mis nie ... Help mý om te glo en om die dag te vier – nie net Kersfees nie, maar elke dag. Help my om ander te leer en te wys hoe groot U liefde vir ons is. Ek loof en prys U, my God en my Here. Amen
···ᶜᴶˢ··· ©
Alle inhoud van hierdie webtuiste kan met liefde gedeel word om 'n verskil te maak in iemand se lewe. Jy mag egter nie die inhoud verkoop of her-produseer om enigsins munt te slaan daaruit nie. Mag die Here jou seën en mag jy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar in jou lewe!
Ds. Christo Schoeman ···ᶜᴶˢ··· ©