Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-10-01 – Die ware wins van die lewe. (Kliek hier vir die klankgreep)
As ons nie hier is om ryk te word nie. En ons is nie hier om belangrik te wees nie. Waarvoor is ons hier? Hoekom is ons geskape? Watter doel moet ons dan vir onsself stel in die lewe?
Paulus skryf in Filippense 3:7-11 (AFR20):
“7Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. 8Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, 9en in Hom bevind kan word – nie met my eiegeregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – 10en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, 11en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik.”
Ja, ons is gemaak om God te ken. Ons doel in die lewe is om God te ken. Dít is die rede vir ons bestaan: om eer aan God te bring. Ons strewe is om die ewige lewe te verkry. En wat is die ewige lewe wat Jesus Christus ons bied? Kennis van God. Dit bied ons die ewige vrede en ewigheid in die teenwoordigheid van God. Jesus sê in Johannes 17:3 (AFR20): “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.”
Ook in Jeremia 9:23-24 (AFR20) lees ons: “23So sê die Here: “'n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, 'n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en 'n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. 24Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here.”
En so kan ek aangaan. In talle plekke in God se Woord lees ons dat kennis van God – ware intieme kennis – die ding is wat mense meer plesier en meer vrede gee as enigiets anders in hierdie wêreld. Ja, hierdie is iets wat elke Christen hart warm en opgewonde sal laat klop, maar ongelukkig is dit vir die persoon wie se godsdiens bloot ’n formaliteit is, nie regtig belangrik nie. Sien, vir ’n wedergebore Christen, bied om Jesus werklik te ken, tegelyk die fondament, vorm en doel vir ons lewens, plus ’n beginsel van prioriteite en ’n skaal van waardes.
As jy eers besef dat die belangrikste taak waarvoor jy hier is, is om God te ken, verdwyn al jou probleme en uitdagings nie sommer oornag nie, maar val die meeste lewensprobleme in plek op hul eie en begin ons vrede vind in God wat in beheer bly.
Om wêreldse doelwitte te stel, gaan jou amper altyd weer leeg en doelloos los nadat jy dit bereik het of dit gemis het. Wat die lewe die moeite werd maak, is om ’n groot genoeg doelwit te hê, iets wat ons verbeelding vasvang en ons lojaliteit vasgryp; en dit is iets wat die Christen het op ’n manier wat geen ander persoon het nie. Want watter hoër, meer verhewe en oortuigender doel kan daar wees as om God te ken?
Om oor te dink vandag:
Maak ek tyd om God te vind? Waar soek ek Hom?
Gebed:
Here Jesus, dankie dat ek U mag ken. Help my om U almagtige teenwoordigheid te ervaar in U skepping. Help my om U te vind in U Woord. Help my om U te ken in my gebedslewe. Help my om U te ken, omdat U, Heilige Gees, in my woon. Amen
2021-09-30 – Wat meer wil jy hê? (Kliek hier vir die klankgreep)
Hierdie week het ons al gekyk na wat dit is om tevrede te wees en gister het ons gesien hoe Haman se soeke na aardse geluk, selfverheffing en hoogmoed, figuurlik in sy gesig ontplof het. Uiteindelik, as ons mooi gaan kyk na meeste sulke verhale in die Bybel en ook vandag, sien ons dat hierdie tipe gedrag amper altyd gedryf word deur geldgierigheid. Dink maar daaroor: Hoe tree mense op wat lief is vir geld? Hoe tree mense op wat tevrede is met wat hulle het?
Ja, ons haak so bietjie vas by hierdie gedagte, want dit is nogal ’n ernstige probleem in ons tyd. Baie mense sal aanvoer dat hulle nie geld najaag nie, maar dat die wêreld van vandag vereis dat jy “genoeg” geld het. Hulle soek net baie geld, sodat hulle kan veilig wees, vir hulle familie kan sorg en ’n groot erfporsie los vir hulle kinders... Hmm...? Is dit nie maar ook geldgierigheid nie? Die Hebreër skrywer skryf:
“5Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, 6sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my 'n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal 'n mens aan my doen?” – Hebreërs 13:5-6 (AFR20)
Tevredenheid en vergenoegdheid is ’n belangrike deel van die Christelike lewe. Tevredenheid is ’n bewys dat ons God vertrou om vir ons te voorsien, dat ons weet dat God in beheer is en dat ons gelukkig is om binne God se wil vir ons lewens te lewe.
’n Groot deel van tevredenheid is om te weet en te glo dat God ons nooit sal verlaat of alleen los nie. As ons regtigwaar bietjie hieroor nadink en hierdie gedagte laat maal, besef ons dat God altyd by ons is, en word dit eintlik moeilik om ontevrede te wees. Ons het God in ons lewens – wat wil ons nog meer hê? Hoor jy dit? God is in jou lewe. Wat meer wil jy hê?
Maar nou ja, goed, ons moet ook realisties wees: ons leef tog in die wêreld, en die wêreld verkondig altyd ontevredenheid – die wêreld beveel dit amper aan... Moet ons nie ook, “realisties nou” – volgens die wêreld se definisies – ook eerder net sorg dat ons genoeg het nie? Sien, die probleem met hierdie benadering is: ons word so deur die vyand gebreinspoel dat ons net meer, meer, meer wil hê – meer besittings, meer geld, meer aktiwiteite, meer alles. Hoekom? Omdat hy (die vyand) weet dat hierdie “dinge” ons van God sal skei. Die Bybel leer ons op baie plekke en hierdie verse in Hebreërs dat ons ons lewens vry moet hou van geldgierigheid. Die beste manier om dit te doen is om te fokus op die feit dat God ons nooit ooit sal verlaat nie. Maak nie saak wat gebeur nie, God is met ons en ondersteun en dra ons met Sy almagtige krag, ’n krag waarmee aardse rykdom nie kan vergelyk nie.
Om oor te dink vandag:
Hoeveel is genoeg? God se sorg, Sy liefde en Sy genade is genoeg.
Gebed:
Liewe Heer, dankie dat U vir ons sorg. Dankie dat U ons nooit verlaat of alleen los nie. Help ons asseblief om tevrede te wees met wat ons het en om ons lewens vry te hou van geldgierigheid. Amen
2021-09-29 – Jou “status” as Christen. (Kliek hier vir die klankgreep)
In die boek van Ester, red Mordegai die koning se lewe deur nederig en op sy plek die regte inligting te verskaf. Haman, die koning se regterhand, beplan om vir Mordegai te laat hang en hy het selfs klaar ’n paal opgerig daarvoor, omdat Mordegai geweier het om voor Haman te buig. Só, met al Haman se plannetjies om vir Mordegai om die lewe te bring, kom die koning en vra hom skielik ’n anderste vraag: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning graag eer wil betoon?” (Ester 6:6 AFR20)
Ou Haman is so vol van homself dat hy dadelik dink dat die koning dit op hom gemik het. Soos ons mos vandag sê: “As dit reën, moet jy skep!” Dis seker wat Haman gedink het, want hy droom toe die grootste verering seremonie op en stel dit aan die koning voor. Ek dink Haman het al klaar in sy hart en gedagtes gesien en gevoel hoe belangrik hy vir die mense sal voorkom en hoe goed hy daaroor gaan voel, maar dan sê die koning vir hom: “Maak gou, neem die kleed en die perd soos jy voorgestel het en maak net so met Mordegai, die Jood, wat in die koningspoort sit. Moet niks uitlaat van alles wat jy voorgestel het nie!” (Ester 6:10 AFR20)
Nou ja, dis nie moeilik om die ironie in hierdie wending te sien nie. Haman was op pad om aan te beveel dat Mordegai opgehang word, maar dan beveel hy onwetend aan dat Mordegai vereer word en koninklike behandeling ontvang. Ja, ons ken mos die spreekwoord: “Hoogmoed kom tot ’n val.” Dit kom eintlik van Spreuke 16:18 (AFR20), wat sê: “Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar 'n hooghartige gees.” Dames en here van die hof, ek gee vir julle bewysstuk nommer 1: Haman.
Selfs nadat Mordegai die koning se lewe gered het, was Mordegai nederig genoeg om nie erkenning of beloning te eis nie. Al wat Mordegai op gefokus het, was sy eie mense – God se volk – se lot. Jesus het gesê: “Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.” (Matt. 23:12 AFR20). God se tydsberekening is altyd perfek, en Hy weet waar Hy Sy volgelinge kan vind as Hy gereed is om hulle te vereer. Gelowiges hoef nêrens hul posisie te manipuleer of af te dwing nie ... nie by die werk nie ... nie in die kerk nie ... nie tussen vriende en familie nie ... nêrens nie. Om ’n Christen te wees verskaf nie enige wêreldse status aan ons nie. Ons moenie dink dat ons as gevolg van ons geloof, status of enigiets aan onsself kan toe-eien nie, maar “jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.” (Matt. 6:18 AFR20).
As dit kom by nederigheid, is Jesus die volmaakte model en inspirasie vir ons. Jesus het die uiterste nederigheid in Sy vernedering aan die kruis voorgestel (Fil. 2:8), en Sy volgelinge moet ook gekenmerk word deur nederigheid. Neem Paulus se woorde in Efesiërs 4:2-3 (AFR20) ter harte: “2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”
Om oor te dink vandag:
Hoe belangrik is wêreldse eer en aansien vir my? Hoe dikwels plaas ek myself en my eie belange eerste? Besef ek dat om die naam “Christen” te dra, ’n vorm van nederigheid is? Doen ek dit gestand?
Gebed:
Here Jesus, ek wil meer soos Mordegai wees en minder soos Haman. Help my om U leiding te volg in nederigheid, en verhinder my om my eie eer te soek. Amen
2021-09-28 – Tevrede. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag gaan ons bietjie vêrder bou op gister se tema, wat eintlik nie gegaan het oor hoe om meer wins te maak nie, maar eerder oor hoe om vergenoegd te wees. Vergenoegdheid is om tevrede te wees met dit wat jy het. Die Engelse woord is dalk meer bekend: “contentment” of “being content”.
Omdat ons kultuur al so erg verwesters het, het die strewe na selfvervulling en persoonlike geluk amper ’n godsdiens vir ons geword. Nee, nie amper nie, dit het ’n werklike godsdiens geword vir mense. Selfs Christene het al hierdie godsdiens van selfverwesenliking begin aangryp en sien God eintlik net ’n instrument vir hul aarde geluk – ja, mense wil geluk met alle mag hê, en hulle dink dat hulle God kan gebruik om dit te kry.
Dit is regtig hartseer dat ons deesdae in die samelewing geneig is om keuses te maak op grond van wat ons die meeste geluk sal bring. Maar in die Bybel word God se konsep van geluk baie beter gedefinieer deur die woord tevredenheid of vergenoegdheid. Paulus skryf aan die gemeente in Filippi en beskryf sy dank aan hulle – al gaan dit swaar met hom. In Filippense 4:11-13 (AFR20) sê hy:
“11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. 12Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. 13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.”
Weet jy, ons kan onsself darem so gou jammer kry. Dit is ongelooflik hoe jammer ons kan voel vir onsself. Sodra dinge bietjie swaar gaan met ons, besluit ons dat dít mos nie ’n plek is waar ons moet wees nie! O, nee! Christene mag nie swaar kry nie! Maar wat het Paulus gedoen as hy swaar gekry het? Hoe het Paulus geleer om tevrede te wees, ongeag sy omstandighede? Hy het geput uit die regte bron van krag en hoop (vers 13): “Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” Dit is God wat ons help om liefde te kies bo persoonlike geluk, getrouheid bo selfvervulling, om ander te dien bo onsself. Dit is God wat tevredenheid en selfs vreugde verskaf terwyl ons Sy weë kies.
Paulus het twee wonderlike wapens gebruik sodat hy nie ook in hierdie selfvervulling strik gevang word nie. Eerstens het hy onthou dat God in beheer is en dat God belowe het om die goeie werke wat Hy in ons begin het, te voltooi (Fil. 1:6). Tweedens, het Paulus hierdie soeke van die mens na valse geluk gebruik om God se werk te doen – om ander te dien en die evangelie te verkondig in woord en daad.
In plaas van op ander te fokus, het te veel Christene ingekoop in die kulturele waarde van individualisme. Ons het begin dink dat persoonlike onafhanklikheid so wonderlik is, dat ons nie meer die skoonheid en seën van ’n gedeelde lewe herken nie. Onthou: die Christendom gaan oor interafhanklikheid. God sê nie dat ons moet lewe vir ons eie gemak nie. Een rede waarom Hy ons in verskillende verhoudings en ook die huwelik plaas, is om ons te help om ware bevrediging en ware vreugde te vind om ander te dien. Verhoudings met ander mense – die huwelik ingesluit – is die plek waarin ons God se vele gebooie kan uitleef om mekaar te dien, te aanvaar, aan te moedig, te vergewe en ons te onderwerp aan mekaar.
Onthou net: alles in hierdie lewe sal verbygaan. So ook die kortstondige aardse definisie van geluk. Ons kan dit eerder inruil vir die tevredenheid wat aanhou groei as ons ons verhoudings vorm rondom God se manier.
Om oor te dink vandag:
Heg ek te veel waarde aan geluk? Kan ek meer bly wees en tevrede wees in my situasie? Hoe kan ek ander beter dien? God is in beheer.
Gebed:
Dankie Here, dat ek tot alles in staat is deur U wat my krag gee. Help my om tevrede te wees. Help my om ander te dien. Amen
2021-09-27 – Hoe om meer wins te maak... (Kliek hier vir die klankgreep)
Geld is ’n euwel. Só is ons geleer van kleintyd af, maar as ons om ons kyk, dan sien ons hoe lekker lyk die lewe is vir mense met baie geld. Hulle kan koop wat hulle wil, op lekker vakansies gaan, die mooiste nuwe voertuie ry, mooi nuwe klere dra en baie lag en partytjie hou... Ag jong, en dan het Lucas Maree ook nou nog daai lekker liedjie gesing: “Ek sou kon doen met ’n miljoen...” Ja... daar is soveel oënskynlike “bewyse” dat geld nie regtig ’n euwel is nie. Ons het tog geld nodig om te lewe deesdae, want geld is nou al vir eeue lank die manier waarop daar handel gedryf word en waarde bepaal word. Goud, silwer, graan, olie en baie ander dinge speel nog ’n groot rol, maar uiteindelik gaan dit oor hoeveel nulle jy agter ’n syfer in jou bankrekening kan sit. Nulle nogal ... Syfers wat andersins letterlik niks beteken nie!
Geld – ons bestee soveel tyd daaraan om dit na te streef, dit te bestuur en daaroor na te dink. Hoeveel moet jy spaar, hoeveel moet jy belê en moet jy ’n tiende gee vir die kerk? As jy getroud is, hoeveel moet jy bestee aan jou inkopies en hoeveel word geregverdig vir “ontspanning”? Wie moet watter rekeninge betaal? Kyk, stres oor geld kan ’n mens heeltemal opfoeter en laat voel of dit ’n paartjie uitmekaar uit dryf. Inteendeel, een van die top redes en bydraers tot egskeidings in Suid-Afrika – gekoppel aan die hoofrede: verlies aan kommunikasie – is finansies, geld.
Maar tog weet elkeen van ons dat geld uiteindelik geen werklike, ewige waarde het nie. Dit is uiteindelik waardeloos. Dit kan jou nie red of bevredig nie, en dit kan jou gedagtes en hart baie maklik aflei van wat regtig belangrik is. As jy dalk iewers ’n konflik oor geld in jou hart of huis beleef, vra jouself die vraag: is dit regtig die moeite werd?
Paulus skryf aan Timoteus in 1 Timoteus 6:6-10:
“6Wat wel 'n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. 7Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; 8maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. 9Wie ryk wil wees, val in versoeking en 'n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. 10Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.”
Hoe dikwels het ons hierdie al gesien? Ja, dit is hoekom ons nog altyd geleer was dat geld ’n euwel is. Vergenoegdheid, beteken dat ons tevrede is met alles wat God vir ons gee – hoe baie of hoe min ook al. Dit is genoeg. Dit is wat God ons gegee het en dit is waarmee ons nou sal werk. Dit is in elk geval nie ons s’n nie – dit is Syne. Ons kan dit nie saam met ons vat as ons na Hom toe gaan nie en ons sal in elk geval alles in oorvloed hê wanneer ons by Hom is vir ewig. Mag jy vreugde vind in dít wat God nou aan jou toevertrou het. Bestuur dit wys en tot Sy eer alleen.
Om oor te dink vandag:
Is dit ooit goed dat ’n Christen rykdom begeer? Watter ander versoekings gaan dikwels gepaard met hebsug? Watter praktiese maniere kan ek myself aanleer om die liefde vir geld te vermy?
Gebed:
Here, Almagtige God en Gewer van alles wat goed is in my lewe, dankie dat U altyd vir my sorg. Help my om nie rykdom na te jaag nie. Help my om alles wat U my mee seën, só te spandeer en só te bestuur, sodat U daardeur verheerlik word en sodat U Koninkryk daardeur gebou word. Ek loof en prys U vir U goedheid. Amen
2021-09-25 – Leef jou roeping. (Kliek hier vir die klankgreep)
“1Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” – Efesiërs 4:1 (AFR83)
Paulus skryf aan die mense in Efese vanuit die gevangenes. Deur Paulus se lewe as Christen, was hy ’n hele paar keer in die tronk en ook ’n hele paar keer onder huisarres geplaas. Kan julle glo dat een van die invloedrykste skrywers in die geskiedenis van die mensdom dit as ’n voorreg geag het om hierdie woorde neer te skryf op die plek waar God hom geroep het op daardie oomblik van sy lewe: ja, die tronk!
Baie van ons voel dikwels of ons ook in ’n tipe tronk is. Dalk is jy in ’n verhouding waar jy gevange voel. Dalk hou jou werk jou vas. Dalk voel jy dat om ’n ouer te wees, jou nogal vasboei. Maar, wat ’n wonderlike voorbeeld vir ons almal gee Paulus ons om ons roeping in God se koninkryk te erken. Jou werksposisie of jou ouerskap of jou plek in ’n verhouding is moontlik nie die status wat jy gedink het nie. Jou lewe is miskien op hierdie oomblik op ’n plek waar dit vir seker met ’n paar minder frustrasies kon klaarkom. Jou hele situasie is miskien nie wat jy beplan het nie, maar God het dit vir jou gekies. Beskou jy dit as ’n waardige plek? Veg jy daarteen of aanvaar jy dit?
Paulus sê ons moet alles in ons vermoë doen om God te behaag deur ons lewensroeping. Ja, dit is dalk nie heeltyd maanskyn en rose nie. Dalk voel dit nooit so nie, maar as ouers kan ons God behaag deur ons kinders groot te maak om Hom te eer. In ons verhoudings kan ons God behaag deur aan te hou om God se liefde die middelpunt van daardie verhouding te maak. In ons werk kan ons God behaag deur eerlik, opreg en met integriteit alles te doen. Ons moet God se volgehoue seën en ondersteuning soek terwyl ons deur ons roeping feesvier of selfs daardeur worstel.
Onthou, as jy ’n ouer is: ons kinders hou dop hoe ons hierdie lewe vol waarde, wat ons aan hulle voorhou, self aanvaar en leef. As ons goed doen, leer hulle goed. As ons opgee, is dit ook baie waarskynlik dat hulle só sal volg. So is dit ook in enige ander verhouding en by ons werksplekke.
Wees vandag en elke dag tevrede om te wees waar jy is en wees gehoorsaam aan die roeping wat jy van God ontvang het.
’n Verandering in jou gesindheid, kan alles verander.
Om oor te dink vandag:
Hoe sien ek my lewensroeping as waardig? Is ek ’n goeie voorbeeld vir my kinders en ander mense in die uitlewing van my roeping? Waar sukkel ek, indien enigsins, om my lewensroeping te aanvaar?
Gebed:
Dankie Here dat U my geroep het om vir U te lewe. U het vir my sekere take gegee en soms doen ek nie baie goed daarmee nie. Help my om U ambassadeur te wees oral waar ek gaan. Help my om te wees wie ek moet wees in U, Here Jesus, daar waar ek is en daar waar U my heen lei. Laat my lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat ek van U ontvang het en mag U al die lof en eer ontvang. Amen
2021-09-24 – Moet ek alles net so los? (Kliek hier vir die klankgreep)
“18Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat •Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om 'n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 21Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.” – Matteus 4:18-22 (AFR20)
Dikwels dink ons dat ons ook alles sal moet los en ’n heeltemal nuwe beroep en rigting inslaan, wanneer ons besluit om waarlik, 100% vir Jesus te volg. Ons lees hoe Jesus die dissipels geroep het, hoe hulle alles net so gelos het en Hom dadelik gevolg het. Dan voel ons bietjie skuldig... Ons begin dink dat ons nie die Here behoorlik volg nie. Jy dink dalk: “Moet ek nie ook alles net so los nie? Moet ek nie ook voltyds in die bediening wees nie?”
Weet jy, ek dink nie Jesus vra van almal van ons om ons werk of besigheid of ons hele lewe soos ons dit ken, net so te los en voltyds in die bediening te gaan nie. Vir sommige van ons gebeur dit wel, maar gewoonlik nie. Jesus sal wel, die oomblik wanneer jy jou hart en jou hele lewe vir Hom gee, verwag dat jy Hom deel maak en sorg dat Hy betrokke is in alle aspekte van jou lewe – selfs jou werk of besigheid.
Sien, om Jesus te volg, vereis van elkeen van ons dat ons Hom volg daar waar ons is elke dag. Of jy nou werk elke dag, en of jy afgetree is, of jy skool gaan en of jy oefen, rus, slaap of ontspan. Jesus wil deel wees daarvan. Jy volg Hom en leef saam met Hom. Hy is in jou en jy in Hom. As ’n gelowige, is dit baie belangrik dat jy verstaan dat jy vir Jesus oral in jou lewe kan inpas. Jou kalender is nie té besig nie. Om vir Jesus te volg, eis ’n algehele lewens toewyding van ons. Onthou, en moet dit asseblief nooit vergeet nie, Jesus is jou God en Koning, jou Verlosser, jou Trooster, die Een wat jou vergewe en oneindig lief het.
Jesus roep jou. Volg Hom!
Om oor te dink vandag:
Is Jesus deel van my hele lewe? Probeer ek nog om Hom uit sekere dinge te hou, omdat ek skaam is of dink dat Hy nie sal goedkeur hoe ek dinge doen nie? Volg ek Hom regtig? Is ek heeltemal toegewy?
Gebed:
Here Jesus, ek hoor U roepstem elke dag, maar soms dink ek dat U nie in sekere dele van my lewe hoort nie. Eintlik hoort daardie dele nie in my lewe nie of ek moet dit anders begin doen en U deel maak daarvan. Vergewe my dat ek nie altyd toegewy is nie. Gee, deur U Heilige Gees, aan my ’n gewillige en toegewyde gees. Amen
2021-09-23 – Wie is die belangrikste in God se oë? (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie kere dink ons as Christene dat God sekere mense belangriker ag as ander. Ons dink veral dat sendelinge, predikante en ander mense met ’n “geestelike roeping” meer voorkeur by God geniet as ander “gewone” mense. Om eerlik te wees, dink meeste van ons soms dat daar ’n groot skeiding is tussen dít wat ons klassifiseer as “heilige werk” en dít wat ons klassifiseer as “sekulêre werk”. Ek meen, maatskaplike werkers en liefdadigheidsorganisasies is mos belangriker as vullisverwyderaars en kassiere by jou plaaslike winkel, of hoe?
Nee! Natuurlik nie! Tydens die kerkhervorming, het ons begin besef dat almal van ons behoort aan die sogenaamde “priesterdom van alle gelowiges”. Die kerkhervormers het ’n dogma, ’n leerstelling gebaseer op Bybelse waarheid, saamgestel om te leer dat elkeen van ons – ongeag wat jou geskiedenis, geslag, etniese afkoms, beroep, of wat ook al – priesters is voor God. Ja, elkeen van ons het die taak om mense na God te lei en te leer van Sy groot vergifnis en genade.
Voor die kerkhervorming, het mense gedink dat net die priesters ’n heilige roeping van God ontvang het. Maar Petrus skryf dan in 1 Petrus 2:9 (AFR20):
“9Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig”
Eintlik verwys Petrus hier terug na wat God al in Eksodus 19:6 vir die volk gesê het, maar ongelukkig het Israel aanhou misluk in hul pogings om te word wat God wou hê. Gelukkig vir ons, het Christus gekom om hierdie wonderlike gekose identiteit van ons te kom herstel. In Hom, is elkeen van ons gelyk teenoor mekaar, en het elkeen van ons ’n uiters belangrike rol om God se werk te doen. In 1 Korintiërs 12 verduidelik Paulus dan ook die wonderlike beeld van hoe ons almal, met ons diverse andersheid, deel is van een liggaam, met slegs een hoof: Jesus Christus. Elkeen van ons, al verskil ons hoe erg van mekaar in voorkoms, herkoms en kultuur, het ’n spesifieke funksie om te verrig en is ewe belangrik vir die gesonde funksionering van die liggaam.
Ons kan deesdae weer amper normaal eredienste hou, met ’n beperking van 250 mense in ’n erediens. Vir meeste gemeentes – veral op die platteland – is dit wonderlike nuus en is dit weer “vol” eredienste. Dit beteken ook dat ons weer baie van ons ander funksies, buite die erediens, as kerk beter kan uitvoer. Maar... as ons nie ons rol in die liggaam opneem en ons funksie verrig nie, kan die liggaam – die kerk – nie funksioneer soos dit moet en kan nie.
Onthou: Christene is ewe belangrik en dien een Here, maar hulle vervul verskillende rolle ter wille van die kerk en die beswil van die samelewing. Wat werk heilig maak, is nie die tipe werk wat ons doen nie, maar die werk van Christus in ons. Almal van ons wat Jesus Christus dien en Hom erken en bely as ons Verlosser en Redder, word deur Hom geroep om werk te verrig wat nie net waardig is nie, maar ook eer aan God bring. Dit maak nie saak in watter rigting jou daaglikse werk is nie, jy het ’n spesiale roeping van God om te werk tot Sy eer en tot voordeel van ander.
Om oor te dink vandag:
Sien ek my werk as deel van God se roeping in my lewe om Sy priester/es te wees, wat Hom verteenwoordig in die werk wat ek doen?
Gebed:
Dankie Here dat ek my werk vir U kan doen. Dankie dat U in my werk om my heilig te maak. Help my om met dankbaarheid my deel te doen in U kerk. Help my om meer betrokke te wees, sodat U geëer en verheerlik word. Amen
2021-09-22 – Geloof skep probleme. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Handelinge 16 lees ons van Paulus en Silas wat in Macedonië, ’n Romeinse kolonie, die evangelie verkondig. So van vers 16 af, lees ons dat ’n slavin met ’n waarsêer gees in haar agter hulle aan begin loop het. Sy het heeltyd geskree en gesê: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle 'n weg tot verlossing!” (Hand. 16:17 AFR20) Nou ja, eintlik moes dit mos ’n goeie ding wees vir die apostels, maar sy het dit vir dae aaneen gedoen en Paulus het begin ontsteld raak daaroor. Hy het uiteindelik omgedraai en die gees beveel om in die Naam van Jesus Christus uit die vrou te gaan (vers 18). Die gevolg daarvan is dat die eienaars van die slavin – wat haar as ’n bron van inkomste gebruik het oor die waarsêery – vir Paulus en Silas met stokke laat slaan het en uiteindelik in die tronk laat gooi het.
As ons vêrder lees, word hierdie eintlik ’n wonderlike verhaal van hoe die tronkbewaarder en sy hele familie tot geloof gekom het, maar kom ons haak bietjie vas by die tronk...
Laat ons nou maar eerlik wees: ons geloof veroorsaak soms probleme. Dit was nog altyd so. Paulus en Silas se getroue optrede skep ’n opskudding onder die Romeine. Die owerhede het hulle sommer daarvan beskuldig dat hulle onwettige praktyke beoefen wat nadelig is vir die Romeinse samelewing. As gevolg van hulle standvastigheid in hulle geloof, beveel die stadsbestuur aan dat hulle geslaan en in die tronk gegooi word. Sjoe, dis rof! Dit alles, omdat hulle die evangelie verkondig het en goed gedoen het aan mense...
Met ons huidige wette, loop ons darem nie die risiko om gevangenisstraf of lyfstraf op te doen vir ons geloof nie, maar ons loop amper elke dag die risiko om beskuldig te word van “Jesus Freaks” of dat ons mense wil bekeer of dat ons geestelik te eng is. Die standpunt wat ons inneem om vas te staan op God se Woord en ons geloof kan selfs veroorsaak dat mense dink ons is belaglik en kan verwerping en diskriminasie tot gevolg hê.
Paulus en Silas het gereageer deur toe te laat dat hulle namens Jesus ly. Te midde van hulle lyding het hulle selfs hul tronkbewaarder uitgenooi na ’n verhouding met Jesus (Hand. 16:25-34).
Alhoewel ons miskien nie ly in die mate wat Paulus en Silas dit gedoen het nie, kan ons nogsteeds kies om die geestelik korrekte keuses te maak, net soos hulle. Ons kan in hul voetspore volg – opstaan vir- en vasstaan in ons geloof en selfs ons vyande uitnooi na ’n persoonlike verhouding met Jesus.
Onthou, soos ons gister ook gesê het, gaan nie al die saad wat ons saai op goeie grond val nie. Soms gaan ons erge teenkanting kry vir ons getuienis van die evangelie in ons lewens, maar ons moet nie dat dit ons fokus afhaal van die uiteindelike beloning nie. Soms moet ons, ter wille van die evangelie en ons liefde vir God, ly. In ons lyding, hou ons vas aan God en hou Hy nog stywer vas aan ons en groei ons geloof.
Dalk is jy in ’n werksituasie of ’n verhouding waar dit moeilik is om op te staan vir jou geloof. Dalk word jy ook beskuldig van te eng wees in jou geloof, omdat jy glo dat God se Woord vandag nogsteeds waar is en weier om die waardes van die wêreld van vandag te aanvaar. Dalk staan jy selfs die kans om vriendskap te verloor of ’n verhouding wat verbrokkel. Ek weet dit is nie maklik nie, maar staan sterk. Vertrou op God om jou die moed en krag te gee. Hou aan getuig. Hou aan vertel van Sy liefde en genade. Die beloning wag vir ons by Hom vir ewig.
Om oor te dink vandag:
Is ek te bang oor wat mense gaan sê of doen as ek begin leef soos God van my vra? Waar moet ek meer moed hê om op te staan vir God?
Gebed:
Here Jesus, U het meer gely as wat ek kan indink – dit alles vir my sondes. Jammer, dat ek soms stilbly of wegskram van geleenthede om U liefde te verkondig in my woorde en my dade. Help my, gee my krag en moed, om altyd getrou te bly aan U, soos U getrou is om by my te wees. Amen
2021-09-21 – Saai die saad. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek dink ons boere sal nogal baie hiermee kan vereenselwig, want ja, die planttyd kom al weer nader... Ek lees vir ons die gelykenis van die saaier in Matteus 13:3-9 (AFR20):
“3Hy het dikwels met hulle deur gelykenisse gepraat. Hy het gesê: “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. 4Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 5Ander saad, weer, het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son opkom, is dit verskroei; omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7Ander saad weer het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. 8En nog ander het op goeie grond geval, en dit het opbrengs gelewer – party honderd-, ander sestig- en ander dertigvoudig. 9Laat dié wat ore het, luister!””
Ek dink die meeste van ons het al hierdie gelykenis gehoor. Dalk het jy, toe jy dit die eerste gehoor het, besef dat jy ook moet begin om die saad van die evangelie te saai daar waar jy is. Dalk het jy besef dat jy self die goeie saad is wat in rotsagtige, gevaarlike dele jouself heeltyd saai. Dalk het jy besef dat die saad wat in jou geplant en begin opkom het, begin verstik in die onkruid waarmee jy jouself omring.
Hoe ook al, die gelykenis van die saai van die saad help ons om die proses te verstaan van hoe om ons geloof deur evangelisasie in werking te stel. Ons is saad én ons is soos die saaier – ons saai die waardevolle saad oral waar ons gaan. Selfs al is ons getrou aan hierdie taak (wat ons regtigwaar, sonder verskoning móét wees), sal nie almal dadelik luister nie. Hulle hoor, maar hulle luister nie. Sommige mense reageer dalk nie op ons woorde nie; ander het moontlik kulturele vooroordele teenoor die Christendom; ander is dalk net té besig om nog tyd af te staan om aandag aan ons woorde te gee.
Maar vir die mense by wie die saad vrugte dra, is die vreugde van ’n nuwe lewe in Christus groot – die saad wat ons daarin saai, kan gewasse produseer wat veel groter is as wat ons ons ooit kon voorstel. En alhoewel dit lekker sou wees om te kan beheer watter saad wortel skiet en watter nie, is dit nie ons taak nie. Ons rol is om die saad te saai; God sal die res hanteer. In Markus 4:26-29 (AFR20) sê Jesus ook:
““Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, 27en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. 28Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. 29Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.””
So ja, ons is self ook saad wat lank gelede gesaai was. Ons begin vrugte dra en saam met vrugte, kom weer saad. Hierdie saad moet ons saai. Ons moet getrou wees in ons taak, daarvoor bid en op God vertrou. God sal die res doen.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat ek ook ’n saadjie was. U het my self versorg en laat groei. Soms laat ek toe dat die winde van hierdie wêreld my nogsteeds waai na plekke waar ek nie lekker kan groei nie... Vergewe my asseblief daarvoor. Help my om te groei en vrug te dra soos U dit wil. Help my om ook saad te saai, waar ook al ek myself bevind. Ek weet U sal enige saad versorg en dit kry op vrugbare grond as dit U wil is. Ek verstaan nie hoe U dit doen dit nie – en ek hoef ook nie. Maar gebruik my om ’n omgewing te skep of om mense te nooi na die goeie, vrugbare grond, sodat hulle ook kan groei en goeie vrugte dra vir U. Dankie dat ek kan diensbaar wees vir U. Amen
2021-09-20 – Wat van ander mense? (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is deesdae (eintlik nog altyd) mense wat beweer dat daar ander maniere is om gered te word. Sommige mense voer selfs aan dat ander gelowe eintlik ook in God glo, maar dat hulle Hom ken aan ’n ander naam. Ander mense glo weer dat sekere waardes van die Bybel nie meer in vandag se wêreld geld nie... Maar God is duidelik in die Bybel dat dit Sy Woord is en Petrus sê ook in Handelinge 4:12:
“12“Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.””
Jesus se eie woorde in Johannes 14:6 eggo hier, toe Hy gesê het: ““Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Nee, liewe mens, daar is slegs een manier waarop jy gered kan word. Daar is nét Een waardeur jou redding kan kom. Die Hebreër skrywer beaam dit ook en sê dat alle mense voor God sal staan – of hulle van Jesus gehoor het of nie (Heb. 9). Maar, is dit nie ’n bietjie onregverdig nie? Wat as jy nog nooit van Jesus gehoor het nie? Hoe kan jy dan gered word? Wat as jy nie weet nie?
Dit is hoe wonderlik ons God is. Die Bybel leer ons dat God nog altyd Homself deur Sy skepping aan mense openbaar het (Rom. 1:19-20) en dat Hy nog altyd in elke mens ’n besef van die ewige in sy/haar hart gelê het (Pred. 3:11). In dieselfde vers in Prediker sê die Prediker ook dat die mens nooit regtig kan besef hoe God in en deur alles werk nie. Met ander woorde: die mens het ’n inherente sintuig wat die bewyse van God elke dag ervaar en ook die besef dat ons bestem is vir iets meer as net hierdie lewe. God is nie die probleem as dit kom by geloof nie, die mens is. Paulus sê in Efesiërs 2:8 ook dat God aan ons die gawe van geloof gee. Wat ons daarmee maak, is egter ons keuse. As gevolg van sonde, het die mens teen die Godgegewe gawe van geloof en God se wil gerebelleer. Maar deur genade word ons gered (Ef. 2:8-9) as ons die Naam van Jesus aanroep.
Ja, selfs die mens wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, kan Hom – God self – ervaar en ontmoet. Maar hoe?! Hoe is dit dan moontlik? ... Weereens: en ja dit klink dalk baie cliché en ’n maklike antwoord vir ’n moeilike vraag, maar hoe God werk en Sy uiteindelik plan uitvoer is nou maar eenmaal ’n raaisel en té ingewikkeld vir ons om te verstaan. Ons moet net glo. Ons het soms ons eie “idees” van wat dit beteken vir Jesus om die “Weg” te wees, maar onthou net: Hy word nie beperk deur ons verstaan van Hom nie. God werk op Sy manier en op Sy tyd en dit is dinge wat ons nooit sal verstaan nie. Die grense van God se genade en die intensiteit en deurvoering van Sy liefde gaan ons verstande heeltemal te bowe.
Jesus staan sentraal in die verhaal van ons verlossing. Maar God beloon diegene wat Hom soek (vgl. Heb. 11:6). Ons, wat Hom ken, moet diegene wat Hom soek help en ons moet seker maak dat diegene wat nog nie gereageer het op God se roepstem nie, die evangelie hoor en verstaan (Matt. 28:19-20; Hand. 1:8). Al verstaan ons nie, weet ons dat God altyd regverdig optree; Hy kan nie onregverdig of verkeerd optree nie (Deut. 32:4). Wie weet? Dalk sal ons verbaas wees oor almal wie ons eendag in die hemel sal sien? Gelukkig is dit God – nie ons nie – wat die details in elke persoon se geval sal uitsorteer.
Gebed:
Almagtige God, dankie dat ek U nie kan verstaan nie. Al wat ek verstaan, is dat U ’n oormaat genade en liefde het vir ’n gevalle mensdom. Dit is genoeg vir my. Gee dat ek my deel sal doen om U verlossing te bring aan die mense. Tot U eer en verheerliking alleen. Amen
2021-09-18 – “Ek kies jou!” (Kliek hier vir die klankgreep)
In Markus 3, Matteus 10 en Lukas 6 vind ons waar Jesus die 12 aanstel om in Sy Naam te gaan preek, demone uitdryf en siekes genees. 12 Normale manne. Vissermanne, timmermanne, tollenaars, besigheidsmanne – normale alledaagse mense. Hulle word geroep as apostels, gestuurdes vir die Here. Ek kan myself indink hoe daardie gesprek moes gaan... Seker baie soos die eerste keer toe Jesus hulle geroep het:
“Jy! Ek kies jou!”
“Wie? Ek, Here?”
“Ja, jy! Ek roep jou!”
“Maar Here, wat U vra is te moeilik. Ek is nie opgelei hiervoor nie. Daar is geen manier hoe ek ’n sukses hiervan kan maak nie...”
Klink dit dalk bekend vir jou? Meeste van ons weet hoe dit voel as jy gevra word om ’n groot taak aan te pak. As ons weet dit is veeleisend en belangrik, bestaan die vrees vir mislukking. Ons maak maklik verskonings. Tog weet ons dat om verskonings te maak, mis ons dalk die vreugde om deel te wees van iets wonderliks. Ja... verskonings is maklik. Dis die vinnige uitweg. Dis die kwansuis “veilige opsie”. En dalk klink jou verskoning goed genoeg vir jou, maar is dit regtig? As jy dink jy is nie die regte persoon om in God se diens onder jou eie mense en in die wêreld te wees nie, luister gou hierna (ek kan ongelukkig nie onthou wie dit oorspronklik geskryf het nie, maar ek weet Rick Warren het dit ook in een van sy boeke gebruik):
Hoe geldig is jou verskoning regtig? Want:
Noag was 'n dronkaard.
Abraham was te oud.
Isak was ’n dagdromer.
Jakob was ’n leuenaar.
Lea was lelik.
Josef was mishandel.
Moses het gehakkel.
Gideon was bang.
Simson het lang hare gehad en was ’n rokjagter.
Ragab was ’n prostituut.
Jeremia en Timoteus was te jonk.
Dawid het ’n verhouding gehad en was ’n moordenaar.
Elia het selfmoordneigings gehad.
Jesaja het kaal gepreek.
Jona het weggehardloop van God.
Naomi was ’n weduwee.
Job was bankrot verklaar.
Johannes die Doper het sprinkane geëet.
Petrus het Christus verloën – drie keer!
Die dissipels het aan die slaap geraak terwyl hulle bid.
Marta was bekommerd oor alles.
Die Samaritaanse vrou is geskei, meer as een keer.
Saggeüs was te klein.
Paulus was té godsdienstig.
Timoteus het ’n maagseer gehad ... en ...
Lazarus was dood!
Die geskiedenis bewys dat die mense wat deur God geroep is – en veral die apostels – deur hulle geloof en gehoorsaamheid aan Jesus Christus die wêreld ingrypend verander het.
As Jesus ons roep om Hom te volg, soek hy nie die slimste of sterkste of dapperste nie. Hy kyk nie na ons CV nie, of bel ons lys met verwysings nie. Die Skrif is vol verhale van mans en vroue wat ondanks hul gebrek aan ervaring of kundigheid of vaardighede deur God gebruik is op baie kragtige maniere. So, wat van jou? Vra God dalk van jou om ’n opdrag te aanvaar wat vêr buite jou gemaksone is? Is jy bang dat jy dalk kan misluk? Of is jy bang dat jy dalk kan slaag?
Onthou: die apostels het nie die wêreld verander, omdat hulle dit in hulleself gehad het om dit te doen nie; hulle het die wêreld verander, omdat hulle die Een in hulleself gehad wat dit kon doen.
“Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien”. – Psalm 112:1
Mag jy gehoorsaam wees aan God se opdrag en mag jy Sy krag en leiding ondervind. Mag Sy vrede jou dra!
2021-09-17 – Hoop in taai tye. (Kliek hier vir die klankgreep)
In baie verhoudings en selfs in die huwelik, bereik mense dikwels ’n punt waar – as jy behoorlike self-ondersoek instel – dit lyk of jy die laagste van laagtepunte bereik het. ’n Punt vanwaar jy nie kan herstel nie. Dit voel soos ’n té groot berg om sáám oor te klim. Dan begin jy te dink: “Dalk alleen... Maar nie meer saam nie... Dalk is dit tyd om maar eerder alleen aan te gaan...” Dis asof die berg voor jou jou hoop op “een wees” oorskadu.
In baie verhoudings en ook in die kerk, gebruik mense dikwels allerhande beloftes wat God nooit gemaak het nie, om te probeer “spoeg en plak” aan die verhouding. Hulle begin glo dat God die ander person(e) sal verander in hulle eie prentjie van liefdevolle Christene. Maar hierdie lewe het geen waarborge dat dinge beter sal gaan nie of dat God wonder bo wonder mense teen hulle wil, sal begin verander nie. Dit is nie die hoop wat ons het nie, want sulke hoop is vlak en tydelik. ’n Christen se hoop is dieper as net ’n blote verandering in iemand. Ons hoop is vasgevang in die genade van God.
Ek weet, dit is maklik vir my om jou vandag te kom herinner dat God se beloftes en eed aan Sy mense ’n waarborg is van ons hoop wat geanker lê in Jesus Christus wat ons reeds vooruitgegaan het, volgens Hebreërs 6:13-20. Maar miskien is jy of iemand wat jy ken alreeds op daardie “kannie worry nie” stadium. Daai plek in ’n verhouding met ’n spesifieke mens of dalk jou werk of die kerk waar niks regtig meer saak maak nie. Indien wel, wil ek graag vandag ’n paar dinge reguit sê...
Die Here het nooit belowe dat jou verhoudings gaan uitwerk soos jy dit wil hê nie. Die Here het nie belowe dat Hy dit sal red nie. Die hoop van Christene is nie dat jou lewensmaat sal verander, of dat jou baas sal verander, of dat jou gesondheid sal verbeter, of dat jou finansies sal verbeter nie. God belowe nie om ons wêreld te herrangskik sodat dit ons begeertes pas nie. Maar God belowe wel dat Hy sekere dinge sal toelaat in ons lewens om Sy wil te bevorder. Ons verantwoordelikheid is om in dankbaarheid te reageer teenoor ’n oneindige liefde en genade, op ’n manier wat eer aan God bring – nie om mense te verander om te wees soos ons wil hê nie. Selfs al tree ons Bybels op, het ons geen waarborg dat ander mense ook só sal reageer nie. Al word daar vir ’n egskeiding aansoek gedoen, of al drink die ander persoon nog meer, of al maak mense besluite wat erg indruis teen God se Woord, is daar soveel meer rede vir ons om in gehoorsaamheid te volhard.
Natuurlik, as albei partye van ’n verhouding op die fondament van hoop bou en ernstig daarna streef om Bybels te lewe, kan selfs die slegste huwelik en enige verhouding omgedraai word. Hoe ook al, daar is altyd ’n rede om aan te hou hoop. Hierdie rede is vasgevang in die genade van God.
In God se teenwoordigheid is daar nooit rede tot wanhoop nie. Dalk doen die ander persoon nie wat hulle moet doen om die verhouding in ’n gelukkige, vervullende verhouding te herstel nie. Maar as ons getrou bly aan God, ons emosies en ons harte voor Hom uitstort, ons toewyding om Hom waarlik te soek elke dag hernu, en ten volle vertrou dat Hy ons in ons reaksies sal lei, dan sal Hy ons ondersteun en dra deur ons beproewinge en sal ons ’n diepe gemeenskap met Hom ervaar.
Is jy in ’n “kannie worry” toestand? Voel dit of jy nie kan of wil aangaan en vêrder werk aan ’n verhouding nie? Glo my, daar is rede om aan te gaan. Daar is hoop. God se genade is genoeg.
Gebed:
Dankie Here dat U my anker en my hoop is. Gee my U vrede asseblief. Laat my gehoorsaam bly en skenk my die krag om aan te hou werk vir wat goed en reg is , tot U eer. Amen
2021-09-16 – Ons verantwoordelikheid teenoor ander. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die woord “medelye” beteken letterlik om te “ly met ander”. God roep elkeen van ons om in die wêreld van ander ander mense wat ly in te gaan, deel te word daarvan en saam met hulle te ly, sodat hulle nie alleen is nie. Dit beteken nie dat ons die probleem kan of moet oplos nie, maar dit beteken wel dat ons hul pyn kan oplos. Maar voordat ons dit kan begin doen, moet ons glo dat dit God se roeping vir die lewe van alle volgelinge van Christus is. As ons dit in ons hart begin glo, sal ons kan medelye toon aan alle mense, veral aan behoeftiges.
Deur die geskiedenis heen het God genadiglik medelye met Sy mense betoon, met die uiteindelike uiterste demonstrasie van die offer van Sy enigste Seun, Jesus Christus. Omdat die enigste regverdige reaksie op die sondes van die mensdom die dood was, het ons regverdige God volgens Sy geregtigheid die doodstraf ons opgelê. Ja, ons was bestem vir ewige dood. En toe, uit Sy groot medelye, bied hy Jesus aan as ’n “plaasvervangende versoening” – met ander woorde, Jesus neem die mensdom se plek in. Deur hierdie een daad het God Sy volkome medelye betoon sonder om ’n haarbreedte van Sy volkome geregtigheid af te wyk. Ons, wat skuldig is, word geregverdig deur die offer van die enigste Persoon wat nooit enige regverdiging gekort het nie.
In Lukas 10:25-37 lees ons die verhaal van die barmhartige Samaritaan (gaan lees dit gerus as jy dit nog nie ken nie). Jesus vertel van ’n man wat aangeval is deur rowers en sterwend lang die pad lê. Sy eie mense – ’n priester en ’n Leviet – wil hom nie help nie. Die teks sê dit nie vir ons nie, maar dalk wou hulle nie help nie omdat hulle bang was dis ’n lokval. Of dalk omdat hulle van hierdie man se bloed op hulle sou kry en dan onrein wees. Uiteindelik kom ’n Samaritaan verby en help die arme man. Nou kyk, die Samaritane was deur die Jode gesien as slegter as sleg. Hulle was onrein en erger as ongelowiges. Vir die Jode was die Samaritane, wat van Israeliese afkoms was, ’n bastervolk met ’n halwe geloof. Tog kom hierdie man en doen die regte ding. Hierdie Samaritaan kom bewys medelye met die aangerande man en sorg selfs dat hy vêrdere mediese hulp kry. Dit is medelye. Hy het homself deel gemaak van hierdie man se wêreld en gesorg dat sy pyn verminder.
In Psalm 83:3-4 skryf Asaf vir ons ’n goeie opdrag as dit kom by medelye:
“3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses;
laat reg geskied aan magteloses en armes.
4Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses.”
So dikwels word die kerk beskuldig as skynheilige mense sonder integriteit. God roep ons, Christene, om medelye te toon met alle mense en veral mense in nood.
Om oor te dink vandag:
Watter verskil maak ek in die lewens van ander? As ek glo dat God my geroep het om medelye met ander hê, watter verskil maak dit in hoe ek leef?
Onthou: Mense gee nie om hoe baie jy weet nie, totdat hulle weet hoe baie jy omgee.
Vrede vir julle!
2021-09-15 – Die fynskrif. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer jy e-posse of WhatsApp boodskappe kry, of jy sien advertensies op die internet wat sê jy kan iets koop en geen rente of paaiemente betaal vir die eerste 6 maande nie; of jy lees iets soos “verloor 8 kilogram in die eerste week”, of “geld-terug waarborg”, of “gratis finansiering”, of “gratis kontant bonus”, of een van my gunstelinge... “koop een en kry een gratis”... Wanneer ons hierdie dinge lees of hoor, dan is ons sommer dadelik skepties. Waar’s die “catch?”, soos die Engelse sou sê. Of, “wat sê die fynskrif?” Want ons weet mos: daar is altyd een of ander fynskrif wat niemand lees nie, maar op een of ander manier mee uitgevang word. Iemand het mos eendag gesê: “As iets te goed is om waar te wees, dan is dit seker so.” Jip, dit is seker nie waar nie.
Die heel eerste preek wat ek gepreek het, was oor Jesaja 55 en ek wonder hoe sou ons reageer as ons vandag Jesaja 55 in die pos of e-pos of WhatsApp of enige ander platform, behalwe die Bybel ontvang? Vers 1 sê: “1“Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk!” Ja, God belowe gratis kos en iets te drinke. “Ja, right... Waar’s die catch”, sal ons seker wonder. Maar God gaan nog vêrder in verse 2-7 en maak nog meer “gratis” beloftes, totdat Hy in vers 7 ’n gratis kwytskelding bied vir diegene wat die “verkeerde pad laat staan”. Ek meen, hierdie aanbod lyk heeltemal vêrgesog, amper ongelooflik. Sinies vra jy jouself af: “Gratis kwytskelding... Hmm...? gratis, hoe lank voordat die verborge koste en paaiemente inskop?”
Tog, as jy na die fynskrif in hierdie aanbod gaan soek, sal jy dit nie vind nie. God bied vergifnis as ’n geskenk. Die prys was astronomies enorm gewees – en God sélf het dit betaal deur die bloed van sy Seun, Jesus. Ja, God vergewe ons gratis, “free”, “mahala”. Jy kan nie daarvoor betaal nie, selfs al wil jy. Trouens, as jy hierdie aanbod van God probeer verdien, kan jy dit nie kry nie!
En dan, soos daardie TV-advertensies, kom God en sê: “Maar wag, daar is nog meer!” Julle weet mos daai: “But wait, there’s more!” God kom bied nie net gratis vergifnis nie, maar Sy vergifnis maak ons vry! As ons Sy gawe van vergifnis aanvaar, ervaar ons vrede, nuwe lewe en ’n herstelde verhouding met God.
God se beloftes is vir altyd. Jesus het klaar die prys betaal. Wat keer ons dan om deel te hê aan God se fees van die lewe? As God vrylik vergifnis en genade en lewe en liefde en seën bied, bedoel Hy dit regtig. Moenie eers die fynskrif soek nie. Jy gaan jou tyd mors. Daar is geen fynskrif nie. Glo dit! Aanvaar dit!
Gebed:
Hemelse God en Vader, soos U in net die volgende vers van Jesaja 55, daar in vers 8 sê: ““Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here.” Ja Here, ons sal nie U planne en U weë altyd verstaan nie, maar ons is so dankbaar daarvoor. Dankie dat daar geen fynskrif is by die gratis redding wat U deur U Seun en ons Here, Jesus Christus, vir ons bring nie. Dankie dat ons ewige lewe en vrede kan koop sonder ’n sent op ons naam. U is wonderlik verby. Loof die Here! Prys Sy grote Naam! Amen
2021-09-14 – Woede. (Kliek hier vir die klankgreep)
Partykeer word mens kwaad. Dit is ’n natuurlike emosie, maar dit kan beheer word. Toe die Israeliete in die woestyn ronddwaal op pad na die Beloofde Land, Kanaän, begin hulle mismoedig word. Vir ’n tydjie bly hulle in die Tsinwoestyn en daar is amper geen kos en water nie. Nou kyk, ons almal weet hoe knorrig kan jy word as jy honger is... Die hele volk trek op teen Moses en Aäron en begin hulle en die Here te verwyt. Soveel so dat hulle selfs wens dat hulle eerder in Egipte gesterf het. Moses en Aäron moes seker ook ’n bietjie kwaad gewees het hieroor en hulle gaan praat met die Here in die Tent van Ontmoeting hieroor. God se heerlikheid verskyn aan hulle en beveel hulle om met ’n rots te praat en daar sal vir die volk water uit die rots voortkom. Ons vermoed maar dat Moses ook bietjie geïrriteerd en kwaad was, want hy gaan toe en, wag kom ons lees dit in Numeri 20:10-11: “10Toe het Moses en Aäron die geloofsgemeenskap voor die rots bymekaar laat kom, en vir hulle gesê: “Luister nou, opstandiges! Moet ons uit hierdie rots vir julle water laat kom?” 11Moses het sy hand gelig en die rots twee keer met sy staf geslaan. Toe kom daar baie water uit, sodat die volksvergadering en hulle vee kon drink.”
Ja, Moses word kwaad. Hy is geïrriteerd met die volk se kleingelowigheid. Hy verloor sy humeur so bietjie en hy slaan die rots twee keer. En wat doen God? Hy sorg nogsteeds vir Sy volk. Hy gee vir hulle water. Maar in net die volgende vers, vers 12, sê God vir Moses en Aäron dat geeneen van hulle die volk in die Beloofde Land sal inlei nie, want hulle het nie hulle vertroue in God gestel en Sy heiligheid voor die volk erken nie. Sjoe! Dis nogal erg. Een klein foutjie. Een klein “eie-ek” oomblikkie en ’n menslik geregverdigde woede-uitbarsting, en net so, daar gaan Moses en Aäron nie meer die Beloofde Land binne nie.
Woede vernietig mense en verhoudings. Kain, die seun van Adam en Eva, het die eerste moord ter wêreld gepleeg toe hy sy broer Abel in woede vermoor het. Kyk maar deesdae hoe vol gevangenisse, hospitale, mishandeling sentrums en egskeidings howe met die bewyse van woede se vernietigende krag. Maar woede, as dit reg gerig is, is egter nie so erg nie. Efesiërs 4:26 veroordeel nie woede nie; Dit sê eerder: “26Word kwaad, maar moenie sondig nie.”
Dit is nie asof Moses dit nie geweet het nie. Hy het geweet dat as jy jou woede toelaat om jou te regeer, om jou te lei, gaan dit jou in die moeilikheid bring. Op 40-jarige ouderdom het hy só kwaad geword, dat hy ’n Egiptenaar vermoor het. En nou, omtrent 40 jaar later, laat hy weer toe dat sy woede hom lei... En dit lei hom in die moeilikheid in.
Soms moet ons kwaad word. Ons moet woede hê. Soms moet ons vir mekaar ook kwaad word – selfs vir ons huweliksmaat, kinders, ouers, geliefdes en vriende en vriendinne. As ons woede vanuit die regte oortuigings en beginsels kom, sê dit iets oor ons geloof. Verhoudings wat woede nie erken of uitdruk nie, is gewoonlik broos, onstabiel en swak. In enige verhouding, moet ons die vrymoedigheid hê, moet ons veilig voel en seker genoeg voel, om ons woede uit te spreek – sonder om te sondig.
As ons nie ons woede op een of ander behoorlike manier uitdruk nie, lei dit tot die opbou van bitterheid en wrokke. Aan die ander kant, lei woede wat buite beheer is, na onnodige sondes, soos slegsê, vloekery, verkleining, intimidasie, karakter aftakeling en selfs fisieke geweld. Albei uiterstes is duur prys om te betaal vir enige verhouding en veral ’n huwelik, want dit ondermyn vertroue en nabyheid. Op sy uiterste, kan onbeperkte woede een of albei lewensmaats hul lewens kos – ons het tog gesien in die nuus die afgelope maand hoe erg dit kan raak.
In ’n huwelik en in enige verhouding, is respek die sleutel tot die uiting van woede. As woede opvlam, lei respek tot ’n bespreking van die woede eerder as dat een van die partye hul woede in stilte verswelg. Respek sal ook die uitdrukking van woede lei, sodat aksies binne grense gehou word wanneer humeure opvlam. Respek lei daartoe dat mense mekaar as helpers behandel, nie as teëstanders nie. En as dit gebeur, word daar rustig met die rots gepraat, kom die lewenswater uit, en word God se heiligheid en heerlikheid voor ons oë erken en geopenbaar.
Om oor te dink vandag:
Lei my woede my, of is ek in beheer? Moet God nie eerder in beheer wees nie?
Gebed:
Here, my God, plaas asseblief ’n wag voor my mond en wees U in beheer van my woede. Laat dit reg beheer word, sodat U heiligheid en U heerlikheid in my lewe sigbaar sal wees. Amen
2021-09-13 – Liefde, liefde en nog meer liefde. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die Beatles se liedjie kom altyd in my kop op as ek hieroor praat, julle ken mos daai liedjie... “all you need is love... all you need is love ... all you need is love, love... love is all you need.” Ja, ja, nou gaan die liedjie dalk die hele dag in jou kop vassteek, maar dis ook nie ’n slegte ding nie. Want al wat hierdie wêreld regtig baie dringend kort, is liefde. God se liefde.
In Matteus 22 en Markus 12 som Jesus die Wet op deur te sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” (Matt. 22:37 en Mar. 12:30) Sien, die eerste stap om jou lewe as ’n Christen om te draai – om dinge vir jouself anders te maak, omdat jy die wêreld anders begin sien, is om jouself in staat te stel om ’n allesomvattende liefde vir God te begin ervaar. Dit is nie ’n liefde wat ons slegs tydens ’n weeklikse kerkdiens moet aanbied nie, of wanneer ons in desperate en stresvolle tye Hom aanroep nie. Jesus sê eerder dat ons God altyd lief sal hê, met alles wat ons is, sodat ons hoogste prioriteit van elke uur van elke dag, God sal wees.
Nou goed, dit klink nogal na ’n uitdagende taak, maar as ons fokus op ons liefde vir God, sal dit ons beter in staat stel om Sy liefde te ervaar en dit met ander te deel. Jesus sê in Johannes 14:21, 23-24:
“21Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak. ... As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het.”
Om God lief te hê, beteken vryheid van die aardse begeertes wat ons elke dag pynig en ons gevange hou. Die begeerte na mag, roem, rykdom en wie weet wat nog kan ons aflei van die ware boodskap van die evangelie. Liefde vir God is die beste manier om hierdie swakker begeertes, verslawings en afleidings teen te werk, en lei daartoe dat ons vir die eerste keer waarlik vry is. Liefde wen altyd. “All you need is love... God’s love is all you need.”
Om oor te dink vandag:
Waar kan ek meer liefde wys in my lewe? Gee ek soms voor om lief te wees vir mense? Ek kan meer liefde vir ander wys, as ek meer liefde vir God wys...
Gebed:
Dankie Here vir U oneindige liefde. Help my om hierdie liefde wat U vir my het, ook vir U te hê. Ek weet dat wat Johannes sê in 1 Johannes 4:10 ook waar is en dat ons liefde vir U nooit die liefde wat U vir ons het, kan oortref nie – dit gaan ons verstand te bowe, dat U ons só baie lief het. Mag ons elke dag in dankbaarheid ons liefde aan U betoon en ons wêreld beter maak. Tot U eer alleen. Amen
2021-09-11 – Verslawing. (Kliek hier vir die klankgreep)
Meeste van ons het een of ander verslawing. Partykeer is dit sommer iets klein en niksseggend, maar soms is dit iets baie ernstig. Soms kom ons dit nie eers agter nie, en soms begin dit ons lewens oorheers. Dit kan strek van koffie tot kokaïen, oefening tot ooreting, ja amper enigiets kan vir ons ’n verslawing word.
Die ding met verslawing, is dat dit gewoonlik ’n onderliggende oorsaak het. Daar is altyd iets anders wat ons daarheen dryf – iets wat die verslawing vir ons probeer regverdig. Daardie stemmetjie wat jou laat glo dat jy hierdie ding doen, om te ontspan of om te “cope”. Kan jy raai wat dit is? Ja, dit is stres. Stres en vrees.
Maar moet asseblief nie alleen voel nie. Amper almal van ons gaan iewers in ons lewens daardeur. Selfs die mense van die Bybel het dit ervaar – nogal gedurig ook. In Psalm 109 beskryf Dawid die negatiewe fisiese effek wat sy geestelike stres en spanning op hom het. Verse 22-26 lees:
“22Want ek is magteloos en behoeftig,
en my hart is deurboor in my binneste.
23Soos 'n skaduwee wat lank word,
gaan ek heen;
ek word afgeskud soos 'n treksprinkaan.
24My knieë gee mee sonder dat ek vas;
my liggaam is uitgeteer, sonder olie.”
– Psalm 109:22-24 (AFR20)
Dawid se liggaam is tengerig en hy het amper geen fisiese krag nie. Hy verloor gewig en is uitgeteer. Dít alles van stres! Kan jy dit glo? Ek dink ons kan dit glo... Ongelukkig sien ons vandag mense wat ly aan soortgelyke fisiese gevolge – maar nie net weens gebrek aan kos nie, maar ook as gevolg van geestelike redes. Sommige mense wat gekwel word deur geestelike spanning, probeer om ’n skyn van beheer te vind deur meer te eet of glad nie te eet nie. Ander mense neem ’n goeie oefening (soos draf of gym) en oordoen dit. ’n Wanorde van enige aard, wat ongemerk gelaat word, kan jou heeltemal verteer.
As jy dalk iemand is wat ly aan so ’n tipe verslawing, is die eerste stap, om dit te erken. Dalk is dit jy. Dalk is dit iemand wat jy ken? Erken eerstens dat daar fout is. Tweedens, kry hulp. Praat met iemand betroubaar. Dalk jou predikant, ’n Christenvriend of ’n berader. En dan weer eerstens, ja eerstens: Regdeur die proses, volg Dawid in Psalm 109:26 en soveel ander plekke, en ook soos soveel ander gelowiges in die Bybel se voorbeeld en roep uit: “Help my, Here my God”.
Of die verslawing fisies of geestelik is, God kan jou verlos en die oorwinning behoort in elk geval aan Hom. Vertrou Hom om jou of jou geliefdes te help. Die lof en eer kom Hom toe.
Om oor te dink vandag:
Watter geheime steek ek vir ander weg? Sou ander mense dink dat ’n sekere neiging of gewoonte van my dalk buite beheer is? Met watter vertroude persoon kan ek praat oor die worstelinge in my lewe?
Gebed:
Here, U ken my deur en deur. Help my, Here my God. So kom bid ek ook vir alle ander mense wat dalk vandag worstel met een of ander tipe verslawing of geestelike stryd. Almal wat sukkel met stres en spanning. Help hulle, Here onse God. Die oorwinning is in U en alle lof en eer kom U toe. Amen
2021-09-10 – Red my, asseblief! (Kliek hier vir die klankgreep)
Al weet ons in ons harte dat God altyd met ons is, en al weet ons dat ons enige tyd op Hom kan vertrou, kom ons menslike natuur nog so dikwels om ons te laat twyfel. ’n Vraag waaroor ek dikwels wonder: Is dit nie maar baie selfsugtig om heeltyd die Here te vra om ons te red nie? Veral as ons self in die moeilikheid gekom het? Gaan dit net oor ons?
Selfs Dawid, ’n man na God se hart, het sulke oomblikke beleef. In Psalm 70 smeek Dawid dat God hom sal verlos van die onderdrukking en lyding wat deur sy vyande veroorsaak word:
“2O God, red my,
Here, kom my gou te hulp!
3Laat hulle wat my lewe soek,
beskaamd en verleë staan.
Laat hulle wat my teenspoed begeer,
terugdeins en verneder word.
4Laat hulle wat sê, “Aha! Aha!”
omdraai oor hulle skande.
5Mag almal wat U soek,
hulle verheug en in U bly wees;
mag hulle wat u verlossing liefhet,
voortdurend sê: “God is groot!”
6Maar ek is magteloos en behoeftig.
O God, haas U na my –
U is my hulp, my bevryder!
Here, moenie talm nie!”
– Psalm 70:2-6 (AFR20)
Dawid neem toevlug tot God, in die afwagting dat die resultaat groot eer vir die Here sal insluit (vers 5). Dawid wil hê die Here moet Hom help, maar Dawid onthou ook dat dit nie alles net oor hom gaan nie. In die Johannes evangelie het Jesus ook ’n gebed gebid wat ooreenstem met die gebed van Dawid (Joh. 12:27-28). Terwyl Hy probeer het om die gewig van die taak wat voor Hom was te bepaal, het Jesus die diepte van wat Hy aan die kruis sou ly, oorweeg. Hy het ’n versoek aan God, die Vader, oorweeg om Hom te verlos, maar het vinnig van rigting verander – en bevestig dat dít presies die rede is waarom Hy aarde toe gekom het.
In Dawid se woorde word God verheerlik deur hom uit die hande van sy vyande te verlos. In Jesus se woorde word God die Vader verheerlik nie deur die Seun te spaar nie, maar deur die dood van die Seun. As Jesus die kruis vermy het, sou mense geen toegang tot God gehad het nie. Deur die gewillige offer van Jesus maak God die bevryding moontlik van alle mense wat hul geloof in Jesus plaas vir redding.
Om oor te dink vandag:
Besef ek dat God verheerlik word deur my redding?
Gebed:
Jesus, ek weet dat U engele sou kon afroep om U van die kruis te red, maar U het dit nie gedoen nie, omdat U my liefhet. Dankie dat U my liefhet met ’n liefde wat ek nooit kan verdien of terugbetaal nie. Ja, Here, dit gaan nie oor my nie, maar alles oor U. Red my, asseblief Here Jesus en word U daardeur verheerlik. Amen
2021-09-09 – Ewige Redding. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat ’n voorreg is dit darem om in die teenwoordigheid van die Almagtige God te kan wees. Ja, soos gister gesê, is dit nie sommer net in die teenwoordigheid van enigiemand nie. Dit is nie net ’n vriend of kennis nie. Nee, ons is en kan en gaan vir ewig in die teenwoordigheid wees van God. Ons verdien dit nie, ons kan ook nie. Dit is genade. Dit is liefde. Dit gaan ons verstand te bowe.
Nadat Jesaja dit begin besef het in Jesaja 6, en hy daarna uitgegaan het en gedoen het wat God beveel, het hy gou agtergekom dat dit nie altyd maklik is nie. Tog het hy heeltyd die boodskap van God se naderende geregtigheid en redding verkondig. Regdeur die boek van Jesaja verkondig Jesaja dit. In hoofstuk 51:4-6 praat God self en vertel van Sy Arms of Mag wat sal oordeel bring oor almal, maar ook dat dit hierdie selfde Mag is wat almal sal red wat in Hom glo en op Hom vertrou. In vers 5 sê God dat hierdie geregtigheid “gou” of “binnekort” kom, wat verwys na die Jode se terugkeer uit ballingskap. Hierdie geregtigheid en hierdie redding verwys egter ook na die ewige geregtigheid en redding wat Jesus vir alle nasies gebring het.
As on kyk na die toestand van die wêreld en die toestand van die kerk in die wêreld vandag, is dit moeilik om te glo dat hierdie teks nog van toepassing is op ons en dat ons hoop daarin kan vind. Ons kan maklik probeer om dit maar net af te maak as iets wat bedoel was vir die Jode lank lank gelede. Maar God verander nie en Sy beloftes vir Sy mense ook nie. Net soos die oordeel by God alleen lê – stel Hy alleen die standaarde van reg, geregtigheid en heiligheid in die heelal volgens Sy goeie karakter – so ook, lê die redding net by Hom. God alleen het die mag om werklik te red, want Hy red Sy volk van die oordeel wat Hy in die wêreld sal uitvoer.
Hierdie teks in Jesaja 51 herinner ons daaraan dat die hele kosmos in ’n afwaartse spiraal is; dinge word erger en erger en dit sal aanhou gebeur. Net soos die mens, is God se skepping ook gevlek en besmet deur sonde. En alhoewel die aarde en alles wat ons ken sal verbygaan, sal God se redding vir ewig bestaan. Hierdie redding word bewerkstellig deur Jesus en Jesus alleen; redding was en is Sy missie op aarde. God toon Sy ewige toewyding om diegene te red wat op Hom vertrou deur die lewe, dood en opstanding van Christus.
Ons kan maar sê wat ons wil en probeer wat ons wil. Ons kan dink dat ons geregtigheid genoeg is of dat ons menseregte so wonderlik is, maar ware geregtigheid en ware verlossing – ewige verlossing en redding – kan slegs deur Christus verkry word. Dit is waarom die groot hemelse skare in Openbaring 7:10 uitroep: “Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!”
Moenie jouself bluf met tydelike verlossing en redding nie. Moenie toelaat dat ander vorme van eiegeregtigheid of selfregverdiging jou gewete streel nie. Ewige redding en verlossing lê opgesluit in ’n kruis op Golgota 2000 jaar gelede. God se geregtigheid is die enigste ware geregtigheid wat goed is vir jou. Neem dit. Leef dit.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat ons hoop in U is. Dit is ’n ewige hoop wat vêr verby hierdie plek en tyd gaan. Dankie dat daar in U redding en verlossing is van alles wat U volmaakte skepping bederf. Ek vertrou op U. U is my God en my Here. “Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!” Amen
2021-09-08 – Wees versigtig. Wees baie versigtig! (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat is die mees vreesaanjaende herinnering wat jy het? Vir sommige mense is dit iets waaraan hulle nie eers herinner wil word nie, en as ek dalk vandag jou daaraan herinner, is ek jammer. Maar tog, almal van ons het iewers in ons lewens iets heeltemal skrikwekkend beleef. Vir party mense is dit dalk eenvoudig net ’n groot skrik gewees, vir ander was dit dalk ’n geval van lewe en dood. Meeste van ons was al in ’n situasie waar ons baie versigtig moes optree, waar enige skielike beweging of verkeerde handeling baie slegte gevolge vir ons kon hê.
Regdeur die Bybel en ook in meeste van hierdie dagstukkies, word ons aangeraai om God se teenwoordigheid te soek, maar veral in die Ou Testament word ons gewaarsku om sommer net heel gemaklik in God se teenwoordigheid in te gaan. Sommerso asof Hy een van ons is... Asof ons vergeet van Sy ontsagwekkende wonderlikheid... Sy almag en krag... Sy beheerde toorn in die lig van ons sondigheid...
Wanneer Jesaja die tempel binnegaan en bewus word van die teenwoordigheid van ’n heilige God, is dit redelik ongelooflik. Onthou, tot op hierdie punt in die verhaal – dis nou Jesaja 1-5 – herinner Jesaja mense aan húlle sondigheid. Jesaja doen wat hy opdrag voor gekry het. Hy is moeg vir die mense se sonde. Hy is moeg vir alles wat so sleg is in die wêreld. Hy is sommer net moeg... Klink bekend, nè? Hoor weer wat gebeur toe Jesaja in God se teenwoordigheid kom:
“1In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op 'n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. 2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword. 5Ek het gesê: “Wee my, want ek is verlore! Want ek is 'n mens met onrein lippe, en by 'n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.” 6Een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool by hom wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het. 7Hy het my mond aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, jou sondeskuld het gewyk, daar is vir jou sonde versoening gedoen.” 8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Ek sê toe: “Hier is ek, stuur my!”” – Jesaja 6:1-8 (AFR20)
Skielik word Jesaja herinner aan sy eie sonde. Hierdie pragtige beeld van God in die troonkamer is in die Skrif om ons te help om nooit te vergeet dat ons God ’n verhewe God is nie. As ons in Sy teenwoordigheid kom, moet ons harte klop teen 300km/h. Dit moet ons voete lig laat trap, ons hande moet bewe. Ons staan voor suiwer dinamiet. Voor God kan ons nie wegkom met skynheiligheid nie... Ja, ons moet vrees. Ons moet ontsag hê. Ons moet nederiger as nederig wees.
Maar: met hierdie beeld geanker in ons gedagtes, is dit nie ongelooflik dat dieselfde God ons liefhet en Homself in tere liefde ons Vader noem nie? Laat die kontras van hierdie twee ongelooflike waarhede hulself diep in ons harte begrawe.
Gebed:
Here God almagtig! U is groter as wat ek ooit sal verstaan. U is die belangrikste in my lewe. Herinner my gereeld daaraan, want ek laat myself so gou vergeet. Mag ek in U teenwoordigheid wees? Dankie dat U ’n almagtige God is wat alles kan uitwis deur dit net te dink, maar tog ook ’n ewig liefdevolle en genadige God wat my Vader is en my toevou in U liefde. Ek loof en prys U. Amen
2021-09-07 – Wat is ware wysheid? (Kliek hier vir die klankgreep)
Wat is ware wysheid? Is dit slim besluite? Hoë intelligensie? Ons dink dikwels aan wysheid as ’n tipe intelligensie, maar probeer om hierdie definisie na die boek Spreuke te bring en jy kom gou agter dat nie alle dinge ware wysheid is nie. As ons kyk na die groot aantal onderwerpe wat onder die opskrif “wysheid” gedek word, is dit maklik om wanhopig te raak in jou soeke vir gelyke grond, want die opskrif handel oor wye onderwerpe soos vakmanskap, wetenskaplike kennis, etiket, filosofie, sielkunde, politiek, sosiologie en regsleer, om maar net ’n paar te noem. Vêrder, dring die teks by meer as een geleentheid daarop aan dat die “vrees (of ontsag) vir die Here” die begin of grondslag van wysheid is (Spreuke 1:7; 9:10; 15:33). “10Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig.” (Spr. 9:10 AFR20) So, sê dit dat vir ons dat nie een van daardie dissiplines suksesvol aangepak kan wees sonder ’n vrees vir die Here nie?
As ons kyk na die manier waarop mense in die antieke wêreld gedink het, is dit moontlik dat ons die Bybelse manier om dit alles te verstaan, die beste kan vasvang deur te dink in terme van ’n integrasie van wêreldbeskouing. In die antieke wêreld, insluitend Israel, was orde ’n belangrike waarde. Die skepping het orde in die kosmos gebring; die reg het orde in die samelewing gebring; etiket het orde in menseverhoudings gebring; politiek het orde in bestuur en gesag gebring. Antieke wysheid kan dan verstaan word as die strewe na begrip en behoud van orde in die wêreld. Wysheid is teenwoordig wanneer orde waargeneem, nagestreef en bewaar word. Die mense wou hê dat hul wêreldbeskouing soos ’n legkaart inpas – volledig geïntegreer, met elke stuk in die regte verhouding tot die ander.
Hulle het die vrees van die Here gesien as die hoeksteen van hierdie integrasieproses. Om “die Here te vrees” beteken om Sy persoon en rol ernstig op te neem. Orde in die kosmos kon slegs verstaan word deur erkenning van die Een wat orde gebring het. Orde kon slegs in die samelewing en in die lewe behoue bly deur God se vereistes en verwagtinge te verstaan. Op hierdie manier kan wysheid gesien word as die basiese kennis of vaardigheid wat met spesifieke dissiplines verband hou.
’n Dwaas (of enige van die ander sinonieme wat gebruik word om so ’n persoon te beskryf) was iemand wat deur hul gedrag of denke wanorde op enige van die terreine ingebring het. Verder sou ’n dwaas iemand wees wat nie die Here vrees nie en daarom probeer het om samehang te vind in iets of iemand anders – gewoonlik hulself.
Ongelukkig floreer vandag se wêreld op chaos – of hulle dink hulle floreer. Dit is ’n tipe van ’n georganiseerde chaos, maar dit is steeds chaos. In ons land is daar nie meer wet en orde nie, en dit syfer deur in ons huise en die volgende geslag. Mense is dwaas, want hul soek nie meer die ware Wysheid nie. Hulle vrees nie meer die Here nie. Daar is geen ontsag nie.
Moenie ’n dwaas wees nie. Vrees die Here. Skep orde in jou lewe.
Om oor te dink vandag:
Hoe laat ek die gees van die tyd my meesleur? Is God die belangrikste in my lewe? Het ek die nodig ontsag vir Hom?
Gebed:
Here, die wêreld is deurmekaar en mense het vergeet Wie U is. Mense het vergeet dat ons in U orde moet bly en dat dit ons werk is om U orde te handhaaf in die skepping en in ons lewens. Help my om dit in my lewe te doen. U is Wysheid. Laat my meer van U kry. Amen
2021-09-06– Nooit alleen nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
7Waarheen kan ek gaan,
weg van u Gees;
waarheen kan ek vlug,
weg van u teenwoordigheid?
8Klim ek op na die hemel –
U is daar;
gaan lê ek in die •doderyk –
ook daar is U!
9Neem ek die vlerke van die daeraad,
gaan woon ek by die einde van die see;
10ook daar sal u hand my lei,
u regterhand my vashou.
11En al sê ek,
“As duisternis my maar net
wil verberg
en die lig om my nag word”,
12is selfs duisternis
nie vir U donker nie,
maar skyn nag so lig soos die dag,
is die duisternis soos die lig.
– Psalm 139:7-12 (AFR20)
Alomteenwoordigheid – Een van God se ontelbare eienskappe. Ja, ons Here is op dieselfde tyd oral. Hy IS die soewereine God van die heelal.
Ons God is altyd teenwoordig! Daar is geen plek waar Hy nie is nie.
“Jy is nooit ooit alleen nie!” Hoor jy wat die Here vandag vir jou deur hierdie Psalm kom sê? Hy bedoel wat Hy sê as Hy vandag weer in Sy ewige Woord verklaar dat jy NOOIT alleen is nie, want Hy is ALTYD by jou, oral waar jy gaan.
Dit maak nie saak hoe chaoties die wêreld kan word of selfs lyk nie; dit maak nie saak wat ons in die lewe deurgaan nie, watter moontlike lyding en worsteling ons dalk moet verduur nie, ons het vandag en elke dag ’n VERSEKERING dat God by ons is!
Waar ook al die lewensreis jou neem, of dit nou in die diepte van die lewens-valleie is, of in die bergtoppe van sukses, soggens, middag of saans, op die stormsee van die lewe, in oorwinning of nederlaag, in goeie of slegte tye, in hartseer of blydskap, in siekte of in goeie gesondheid, in gevaar of swaard, in hoop of in wanhoop, in die duisternis van die middernagtelike uur of in die lig van die dag, het ons ’n Helper, 'n ewige Here, God self, wat intree vir ons en ons nooit alleen laat nie. Sy naam is Jesus!
Dit maak nie saak wat die vyand of die wêreld jou wil laat glo nie, God se verklaring regdeur Sy Woord, sê vir jou dat jy NOOIT alleen is nie en dat Hy ALTYD by jou is.
In Jesaja 55:11 sê God ook Sy Woord sal nie vrugteloos na Hom toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Hy wil hê en dit sal die doel bereik waarvoor Hy dit gestuur het. In Johannes 1 hoor ons ook dat Jesus self die Woord is. Deur Jesus en die lewende Woord van God – die Bybel – weet ons dus dat God se Woord waar is en kan ons met ’n geruste hart elke dag begin, dit aanpak en dit afsluit met die wete dat God ALTYD daar is.
God se beloftes is ewig aan diegene wat Hom op sy Woord sou neem en glo dat dit waar en eg is. Dat dit waarlik die Woord van God is.
“Jy is nooit alleen nie!” ’n Belofte vanuit die hemel tot op aarde uitgegiet aan almal wat deur geloof sou glo dat ons God die Groot “EK IS” is, dat Hy liefde is, en dat Sy wil die beste is.
Die boodskap van God se Woord, is dié van ’n oneindig liefdevolle God – die enigste God – wat nooit ophou belangstel is Sy skepsels nie, wat nooit ophou betrokke wees nie, wat ons nooit alleen los nie. Neem hierdie belofte van teenwoordigheid aan, laat dit deel word van wie jy is en deel dit met ander vandag.
Gebed:
Almagtige, alomteenwoordige God, waarheen kan ons gaan om van U teenwoordigheid weg te kom? Nêrens! Want as ons hier of daar aankom, is U reeds daar! Dit is vir ons goed Here, want ons wil nooit sonder U wees nie. Dankie Here. Amen
2021-09-04 – Jy hoef nie bang te wees nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons klein is, raak ons maklik bang vir allerhande dinge. Gelukkig word ons weer vinnig gerusgestel deur ons ouers en ons weet dat as hulle daar is om ons te beskerm, is alles weer goed. Maar wanneer ons ouer word, is ons nie meer bang vir enigiets nie... Nee, nou praat ek sommer twak. Natuurlik is ons nogsteeds bang vir baie dinge, maar ons sê dit nie en ons wys dit nie. Wat erger is, as ons kinders het, en hulle is bang, dan is ons ook bang. Ons maak allerhande vreemde scenarios in ons gedagtes op, ons verbeel ons allerhande soort onheil en ongeluk en gaan haal dikwels sommer 4 bobbejane agter ’n bult wat nie eers bestaan nie. Ons lê soms wakker met daardie “wat as” vrae. Wat as hulle in ’n ongeluk is? Wat as hulle nie goed doen nie? Wat as dit en wat as dat?
Dit is tog normaal dat ons die “wat as” vrae vra oor ons geliefdes. Dit is die mense wat God ons gegee het om naby aan ons te wees en dit is die mense waarvoor ons baie lief is. Maar, alhoewel daar ter eniger tyd enigiets kan gebeur, moet ons nie dat hierdie vrees ons oorweldig nie. Ons moet dinge in die regte perspektief benader en dit daar hou.
Die realiteit is dat sommige gebeurtenisse in jou en jou kinders en jou geliefdes se lewens sal plaasvind waarvan jy nie hou nie of wat jy nie wil hanteer nie – miskien selfs ’n tragedie. Slegte voorvalle is deel van die menslike ervaring. Maar ’n mens en veral ’n ouer wat hierdie werklikheid aanvaar en van die Here afhanklik is, sal beter voorbereid wees in geval van ’n werklike ongeluk of tragedie. Kyk, niemand wíl voorberei op ’n ramp nie, maar dit is verstandig om dit wel te doen.
Salomo skryf in Spreuke ’n hele paar goeie wyshede wat ons leer hoe om moeilike situasies te hanteer, maar hy gee ook heelwat goeie raad oor hoe om voorbereid te wees. In Spreuke 3:25-26 (AFR20) vind ons sulke raad. Hy sê:
“25Jy hoef nie bang te wees vir 'n onverwagte verskrikking,
of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie.
26Want die Here sal aan jou sy wees,
en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap.“ – Spreuke 3:25-26 (AFR20)
As ons mooi terugdink oor ons lewens en veral ook die laaste jaar en ’n half, dink daaraan en kyk mooi hoe ons soewereine God die sogenaamde “rampe” wat jy beleef het deurgewerk het en hoe dit jou verhouding met Hom in werklikheid verdiep het. Dieselfde proses sal by jou kinders en jou geliefdes gebeur as hulle die Here vertrou terwyl hulle beproewinge ondervind.
Geen gebeurtenisse verras God nie. Vertrou op Hom om dit te bestuur en te beheer.
Om oor te dink vandag:
Vir watter ramp vrees ek?
Is my persoonlikheid geneig om bekommerd te wees oor rampe en slegte gebeure?
Hoe kan ek my vrees ’n bietjie verminder in terme van bekommernisse?
Gebed:
Here, U sê vir ons in U woord soveel kere dat ons nie bang hoef te wees nie – ons hoef nié te vrees nie – en tog laat ons ons menslikheid, die duiwel en omstandighede so dikwels toe om ons gemoed swaar van kommer en vrees te maak. Dankie Here, dat U altyd aan my sy is en dat U sal keer dat my voet in ’n strik trap. Dankie dat U dit ook doen vir my geliefdes. Ek weet dat ongeluk en slegte gebeure nie onvermydelik is nie, maar ek vertrou op U dat, as dit wel kom, U ook daar aan my sy sal wees en dat U my daardeur sal dra – soos U nog altyd het. Skenk aan my U vrede deur my vertroue in U. Amen
2021-09-03 – Stil, nederig, herhaal. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vir eeue lank het Christene die gewoonte aangeleer om sekere gebede te herhaal. Monnike het in kloosters in ’n sirkel gestap en dieselfde gebed oor en oor herhaal, soveel so, dat baie mense hulle as “mal” of “kranksinnig” bestempel het. Maar as ons eergister se les uit God se Woord oor herhaling en gister se les oor nederigheid saamvoeg, besef ons dat ons gereeld en herhalend in gebed moet wees. As ons God se Woord beter wil leer ken en vrede wil vind in Sy wil vir ons, moet ons begin deur ware nederigheid te ervaar in God se teenwoordigheid.
In Lukas 18:9-14 (AFR20) vind ons waar Jesus die dissipels en veral die hoogmoedige en trotse mense ’n gelykenis vertel. Jesus vertel in verse 10-14:
“10“Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was 'n •Fariseër en die ander 'n •tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien.’ 13Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ 14Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”
“O God, wees my, die sondaar, genadig!” Hierdie eenvoudige gebed van die tollenaar, verwys na Psalm 51 en is ’n gebed wat die vroeë kerk geweldig baie beïnvloed het. In die gereformeerde leer, leer ons ook dat Jesus Christus ons alleen kan red as ons glo, deur genade, deur God se Woord as die enigste waarheid en dat ons lewens dan so aangewend word tot God se eer alleen. Deur hierdie eenvoudige gebed gedurig in nederigheid en stilte te herhaal, erken ons en bely ons wie ons is in Christus en word ons vernuwe van binne.
In die vroeë kerk was hierdie gebed bekend as die “Jesus gebed” en was dit gereeld herhaal as ’n vorm van skuldbelydenis, bekering en die handeling van herhaalde gebed was gesien as een van die eerste nadenkende en innerlik outentieke uitdrukkings van geloof onder Christene. Priester Hesychius, wat geleef het in die vroeë tot middel 5de eeu het gesê:
“Waarlik geseënd is die mens wie se verstand en hart so nou verbonde is aan die Jesus -gebed en aan die onophoudelike aanroeping van Sy naam soos lug aan die liggaam of ’n vlam aan die was. Die son wat oor die aarde opkom, skep die daglig; en die eerbiedwaardige en heilige Naam van die Here Jesus, wat voortdurend in die gemoed skyn, gee geboorte aan ontelbare openbaarmakinge in die denke wat straal soos die son.”
’n Eenvoudige gebed wat ons so baie leer van nederigheid en bekering. Laat mens nogal dink, nè?
Gebed:
“O God, wees my, die sondaar, genadig!” x 5
Amen
2021-09-02 – Kweek nederigheid. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer God se mense Sy opdragte ontvang, moet hulle dit gehoorsaam. Dit help nie jy sit met al die kennis en jy doen niks daarmee nie. Toe God se volk hulleself weer aan God gewy het, verskyn God aan Samuel een aand en God sê “as My mense hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:14 AFR20)
Ons weet tog dat ons onsself gereeld moet verootmoedig voor God. Ons moet nederig word en nederig bly. Maar wat beteken dit, en wat vereis dit van ons? Hoe kan ons hierdie nederigheid kweek?
1. Deur trots en self-twyfel te beveg: Ootmoed en nederigheid help ons om behoorlik – soos God dit wil hê – in ’n verhouding met God en ons naaste te staan. Dit lei daarna dat ons onsself behoorlik sal evalueer en reg na onsself kyk – soos God na ons kyk, sodat ons nie te veel van onsself dink of in onsself twyfel nie.
2. Deur die waarheid te gebruik as jou primêre wapen: Wanneer jy die Woord bestudeer, leer jy wat God te sê het oor jou lewe. Maak notas – positief én negatief – en leer God se waarheid vir jou lewe en die waarheid om die wêreld ’n beter plek te maak.
3. Omring jouself met mense wat jou sal vermaan en reg wys: Ons het mense in ons lewens nodig wat ’n eerlike beoordeling kan gee – mense wat ons goeie punte sal prys en aanmoedig en eerlik met ons sal wees oor ons tekortkominge en foute.
4. Deur ander te dien: Nederigheid gaan nie net daaroor om in te stem oor ’n “idee” van wie ons is nie, maar dit is eerder selfkennis wat deur ervaring opgedoen word. Die sekerste manier om sulke ervaringskennis op te doen, is deur ander te dien. Paulus leer in Galasiërs 5:13 (AFR20): “13Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde.” Deur diens leer ons dat ons Godgegewe talente en vermoëns ons anders maak. Dit maak ons anders, maar nie beter nie.
Nederigheid is ’n deug wat ontwikkel word deur voortdurend te probeer om onsself te sien soos God ons sien.
Gebed:
Almagtige, ewige God, dankie dat U my lief het en Uself aan my openbaar in U Woord. Help my om myself te sien soos U my sien. Leer my U waarheid deur U Woord en gee asseblief die regte mense in my lewe om ook te help daarmee. Vorm my sodat ek in nederigheid U sal dien en ook ander sal dien. Mag U daardeur verheerlik word. Amen
2021-09-01 – Herhaal, herhaal, herhaal. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek onthou op skool hoe jy sekere vakke soos ’n papegaai geleer het. Jy herhaal die woorde oor en oor in jou kop en probeer dit onthou. Ander vakke moes jy verstaan, maar herhaalde oefening daarvan het ook verseker dat jy beter word daarin.
Sommige dinge in die lewe is maklik om te onthou en ander dinge nie so maklik nie. Sommige dinge wil ons eerder vergeet. Tog, die belangrike dinge móét ons onthou. Ons hoor mos dikwels as iemand iets vergeet, dat hulle sê: “Ag, as dit belangrik was, sou ek dit onthou het.” Dit is seker een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel! As dit belangrik was, sou ons plan gemaak het om dit te onthou!
Ons leef in ’n wêreld van elektroniese dagboeke met selfgestelde herinnerings, ons het yskaste met magnete en notaboekies op, ons het in kantore papiertjies wat oral kan plak (“post-it’s” soos ons dit ken). Al hierdie dinge is getuie daarvan dat ons op ons beste funksioneer as ons gedurig aan sekere dinge herinner word en dat ons verskeie maniere het – en reeds gebruik – om onsself aan die “belangrike dinge” te herinner.
Toe God aan die Israeliete die Wet en vêrdere instruksies gegee het, het Hy geweet dat hulle daaglikse herinnering daaraan gaan nodig kry. Daarom sê hy vir hulle:
“6En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” – Deuteronomium 6:6-7 (AFR20)
Die mees belangrikste inligting word nie altyd onmiddellik opgeneem en onthou nie – dit word deur herhaling in ons harte gedompel. Ons moet onsself gedurig daaraan herinner en ons moet ons kinders en die jonger generasie elke dag weer vertel van God se wysheid en liefde. Hulle moet net soveel herinner word daaraan as jy self. Maak ’n week lange plan om met jou kinders of geliefdes of vriende te deel wat jy van God weet en plak dit op jou yskas.
God gaan vêrder in Deuteronomium 6:8-9 en sê: “8Bind dit as 'n teken om jou hand en laat dit 'n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.” Ja, ons moet God se Woord oral met ons saamneem. Ons moet die oral waar ons gaan verkondig. Dit moet op ons hart gedra word en dit moet ons lewens versier.
Om oor te dink vandag:
Hoe natuurlik is dit vir my om met my geliefdes (dalk kinders) oor God te praat?
Sou my geliefdes sê dat God die middelpunt van my lewe is?
Op watter maniere wys ek aan die mense in my lewe my liefde en eerbied vir God?
Gebed:
Dankie Here dat U U liefde en wysheid met ons deel in U Woord. Help my om dit op my hart te dra en om dit oral te herhaal waar ek gaan – veral aan my geliefdes. Laat U Woord my lewe versier en mag dit my lei, tot U eer. Amen
2021-08-31 – Hou boek van die lewe. (Kliek hier vir die klankgreep)
Baie kere as dinge goed gaan, vergeet ons dit te gou. Ons goeie ervarings word té dikwels deur donker wolke van slegte ervarings, selfverwyt, ongeluk en teëspoed oorskadu. Dan vergeet ons sommer van die goeie in die lewe en begin ons dink dat die lewe baie swaar is. Die manier waarop ons boekhou van die lewe, maak dat die balans na die verkeerde kant toe tilt. Dit begin lyk of ons altyd in die rooi is en nooit daaruit kan kom nie. Ons moet leer om dinge anders te doen...
Wanneer Paulus sy eerste brief aan die mense in Tessalonika afsluit, gee hy hulle so paar laaste herinneringe van hoe hulle hul boek se inskrywings moet invul. Hy gee aan hulle so paar laaste wenke van hoe hulle hul gesindhede moet verander. Net so paar van hulle:
“16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” – 1 Tessalonisense 5:16-18 (AFR20)
Sien, nie elke dag is ’n slegte dag nie. Inteendeel, ons moet juis probeer om te vergeet van die slegte dae. Ons kan leer uit slegte ervarings, maar ons kan dit aanwend om van ons beter mense te maak. Ons moet egter meer en meer die goeie dae en goeie ervarings onthou. Ons moet die boek inskrywings waar God aan ons rustigheid en vrede en blydskap geskenk het bewaar. Ons moet dit selfs fisies in ’n regte boek neerskryf, indien nodig. Ons moet onsself daaraan herinner. Daardie tye wat niemand anders gekry nie, maar as jy daaraan dink, dan glimlag jy en onthou jy God se goedheid. Daardie tye waar jou blydskap oorgeloop het. Ons moet boekhou daarvan om onsself te herinner.
Wanneer die donker wolke kom, sal ons reg wees. Ons weet mos: die duiwel hou daarvan om ons koppe te vul met allerhande negatiewe gedagtes. ’n Stukkie geluk werk soos ’n flitslig in die middel van die nag. Die bose kan maar probeer om ons wêreld met somberheid te vertroebel, maar as ons die boek oopmaak wat God se seëninge bevat, word die skaduwees verpletter en verdwyn die donker wolke soos mis voor die son.
Onthou dat jou lewe verander die dag wanneer jy jou geheel en al oorgee aan Jesus Christus. Jou boek begin nuut. Ja, daar is nog van die ou inskrywings daar, maar jy hoef nie almal te hou nie. Begin om daardie ou, donker bladsye uit te trek en stuur dit deur God se versnipperaar en begin om hulle te vervang met nog meer van die gelukkiges waar God aan jou vrede, geluk en blydskap skenk.
Onthou, jy kies hoe jy boekhou van jou lewe. As jy toelaat dat donker wolke die opskrifte van die bladsye gaan wees, gaan dit maak vir ’n tranetrekker die dag wanneer dit geoudit moet word. Jou lewe is onder nuwe bestuur en die ou boeke maak nie meer saak nie. Raak ontslae van daardie ou, donker blaaie. Kies eerder om meer boek te hou van die goeie dae, gevul met God se goedheid. Wees bly, bid gedurig en wees dankbaar.
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat U aan my ’n keuse gee. Help my om nie te fokus op die negatiewe dinge van die lewe nie. Dankie dat alles van my verlede nie hoef te bepaal wie ek is nie. Dankie dat ek ’n nuwe lewe het in U. Help my te om fokus op U teenwoordigheid in my lewe, sodat U, Heilige Gees, my sal vul met blydskap en dankbaarheid. Ek loof en prys U daarvoor. Amen
2021-08-30 – Gunstelinge. (Kliek hier vir die klankgreep)
As ’n ouer weet ek dat ek nie ’n gunsteling kind moet hê nie. Ek dink ek kry dit nogal reg en probeer om almal gelyk te behandel en gelyke kanse te gee. My kinders sal natuurlik dikwels nie met my daaroor saamstem nie – veral as hulle nie hulle sin kry nie. Dit is moeilik om altyd gelyk en regverdig te wees met kinders. Dit is nog moeiliker om dit met alle ander mense te doen. Ek meen, hoe moet jy nou die persoon wat jou haat dieselfde behandel as jou eie kind of jou man of jou vrou? Hoe behandel jy die korrupte raadslid dieselfde as jou mede-Christen kerklidmaat?
Is dit reg dat ons gunstelinge het? Mag ons? Ons lees in Genesis 37 (AFR20) dat Jakob, oftewel Israel, wel ’n gunsteling kind gehad het: “3Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is...”
Dit is gevaarlik om met jou kinders gunstelinge te speel en hulle met mekaar te begin vergelyk. Een van die sleutels tot suksesvolle ouerskap is om die unieke karakter van elkeen van jou kinders te bevestig sonder om voorkeur te gee aan een van hulle in die besonder. Ons weet tog dat dit goeie raad is en dat ons altyd moet probeer om regverdig te wees – by die huis en in werkplek en in die lewe – maar ons sukkel maar soms daarmee. Die hartseer is dat ons soveel goeie lesse en voorbeelde kry in die Bybel oor ouerskap en verhoudings, maar ons maak nogsteeds dieselfde foute – soos baie ander dinge in die lewe.
Toe Jakob grootgeword het, het sy ma hom baie voorgetrek, terwyl sy pa weer sy tweelingbroer, Esau, as sy gunsteling gehad het (vgl. Gen. 25:28). Hulle voortrekkery het tot allerlei mededinging en probleme gelei. In hierdie gedeelte begunstig Jakob (Israel genoem) Josef, sy jongste seun, wat uiteindelik tot baie hartseer lei vir Jakob toe sy ander seuns afgeskeep en jaloers begin voel.
God het nie gunstelinge nie. Almal van ons is gelyk voor Hom. Tog, gee God voorkeur aan diegene wat getrou is aan Hom en Hom gehoorsaam. Jesus self het gesê in Johannes 14:21 (AFR20): “21Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” Ek sal tog so bietjie begunstig voel as Jesus Homself meer aan my openbaar as aan ander... Ek wil graag só ’n gunsteling wees.
Dit is nie dat God ons voortrek nie. Hy gee tog aan almal van ons dieselfde, gelyke geleentheid om Hom beter te leer ken. Soos met kinders en met alle ander mense in die werkplek of andersins in die lewe, is dit wat óns maak met die geleentheid, wat saak maak. Maar, wat Jesus sê is so waar soos dit kom en so reguit soos dit kom: As jy Hom lief het, sal jy Hom gehoorsaam. As jy nie gehoorsaam is nie, is jy nie regtig lief vir Hom nie. Hard, maar waar...
Om oor te dink vandag:
Tree ek regverdig op met my kinders en ander mense deur hulle te laat verstaan waaroor dit gaan? Probeer ek regtig om my liefde vir Jesus te bewys in gehoorsaamheid?
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat ek U kind mag wees. Dankie dat U my nie voortrek nie, maar dat U aan my net meer en meer liefde bewys vir die liefde wat ek in gehoorsaamheid aan U bewys. Help my, Here, om gehoorsaam te wees aan U opdragte, sodat ek U hart elke dag meer en beter sal leer ken. Amen
2021-08-28 – Moet jy jouself bewys? (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is vreemd hoe tye verander. Toe ek grootgeword het, was ek geleer dat jy moet hard werk vir dinge in die lewe: Harde werk lewer goeie resultate. Deesdae se jongmense en eintlik alle mense – darem nie almal nie – glo dat alles hulle toekom, dat die wêreld hulle dit skuld. Gelukkig sien jy hier en daar nog harde werk, maar dan werk mense hard vir wat húlle wil hê – wat hulle dink hulle verdien. Dit is so in die werksplek en ongelukkig syfer dit deur na ons huise ook. Ons dink dat werkies vir ons gunsies en geskenkies afkoop of eerder “omkoop”.
Weet jy, in God se Koninkryk, werk dinge anders. God het aan ons iets gegee wat ons geensins verdien nie: die regte status voor Hom. Romeine 3:23-24 leer (AFR83) ons: “23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
Wanneer ons die regverdigingsleer reg verstaan, sien ons dat ons as regverdig beskou word voor God. Nie omdat ons gehoorsaam is aan die wet nie – want niemand kan altyd aan ál die wet se vereistes voldoen nie – maar as gevolg van die volmaakte verlossingswerk van Jesus Christus. Hy alleen het volmaak volgens die wet geleef en dit vervul. Vanweë Christus se werk beskou God ons nie meer as sondig of skuldig nie. Hy sien ons as regverdig en heilig. Daarom hoef ons nie God se toorn te vrees nie, want ons sondes word vergewe en die gewig van ons skuld is verwyder. Maar onthou: dit is nou mits ons wegdraai van ons ou, sondige lewe. Ons kan nie aanhou sondig en onveranderd wees as Jesus Christus in ons lewe is nie.
Johannes Calvyn verduidelik ook dat geen sondaar hom/haarself ooit sal kan regverdig nie. Nie net dit nie, maar oral waar daar sonde is, is daar ook “die toorn en wraak van God”. Aan die ander kant, is ’n geregverdigde persoon iemand “wat in die toestand van ’n sondaar nie gereken word nie, maar in dié van ’n regverdige; en daarom staan hy/sy vas voor God se regterstoel terwyl alle sondaars val.” Dit gebeur as ons nie op onsself en ons eie werke vertrou nie – omdat ons niks regverdig in ons sal vind nie – maar, as ons in die geregtigheid van Christus deur geloof vertrou. Dis goeie nuus!
As mense, probeer ons onsself voortdurend voor ander mense regverdig. Omdat ons bang is dat ons tekortkominge en sondes blootgestel word, werk ons onsself simpel om onsself te bewys. Dit los ons uiteindelik net uitgeput en vreugdeloos. Maar as ons die waarheid begin begryp dat ons in Christus volkome deur God aanvaar word, ongeag wat ons doen, ervaar ons ’n vrede wat ons toelaat om nie onsself besig te hou met onsself nie – nie meer ons eie suksesse of ons eie mislukkings nie. Vêrder, kan ons dan ook met vertroue die werk verrig wat God vir ons gegee het, selfs met al ons menslike beperkings. Die regverdigingsleer skep vir ons ’n ongelooflike vryheid in ons werk, want as God, die uiteindelike Regter, ons reeds as regverdig geag het, kan niemand en niks ons veiligheid of status in Hom steel nie.
Om oor te dink vandag:
Ek hoef myself nie aan mense te bewys nie. Net aan God. Ek mag nie Sy genade en regverdiging goedkoop maak nie, maar ek moet dit in dankbaarheid aanvaar en daarvolgens leef.
Gebed:
Baie dankie Here Jesus dat U deur die groot werk aan die kruis, my regverdig voor die Vader. Ek verdien dit nie en ek sal ewig dankbaar bly daarvoor. Ek loof U en prys U daarvoor. Amen
2021-08-27 – Bloeisels en vrugte. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is daardie tyd van die jaar wat daar skielik oral begin bloeisels uitkom. Vrugtebome kry net die reuk van reën en dan begin die bloeisels bot. Bloeisels is altyd mooi, want dit dra die belofte van vrugte... Namakwaland se blomme, sien ek, is weer asemrowend mooi vanjaar. Ongelukkig het die laaste koue front van so paar weke gelede, baie ander plante nogal beskadig. Die mense met die groen vingers het darem gedink daaraan en voorsorg getref: sommige plante was bedek en ander was binnehuis geneem.
Tuinwerk is nogal moeite en ek het om een of ander rede nie so groot passie daarvoor nie. Ek hou van ’n mooi tuin en werk lekker in die tuin die dag as ek lus is, maar die onkruid en skoonmaak van beddings is nou nie vir my nie... Ek is altyd verstom om te sien hoe baie tyd ander mense in hul tuin spandeer en die maniere waarop hulle die plante beskerm en daarvoor sorg. Ek dink dit is baie terapeuties en bevredigend om die resultate te sien.
In Jesaja 27 praat God oor die tuin wat Hy sal maak. Sy tuin is Sy volk. Hy sê die mense moet sing van die “goeie wingerd” (vers 2). Dan sê Hy vêrder:
“3Ek, die Here, sorg daarvoor:
Ek lei dit gereeld nat,
dag en nag staan Ek wag daarby
sodat niemand dit kan beskadig nie.
4Ek is nie kwaad vir my wingerd nie.
Niemand sal dit waag om dorings en dissels daarin te plant nie.
Maar soos in 'n oorlog sal Ek my wingerd plattrap
en heeltemal verbrand
5as hy nie in my stad kom skuil nie.
Hy, Israel, moet met My kom vrede maak,
hy moet vrede met My kom maak!
6In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet,
Israel sal groei en lote maak.
Die aarde sal vol word van hulle vrugte.”
(Jesaja 27:3-6 AFR20)
God se bedoeling met Sy tuin, gaan veel vêrder as net beskerming en sorg daarvoor. God wil hê dat Sy tuin uiteindelik wonderlike vrugte dra.
Dit is altyd vir my so mooi as jy in ’n plek instap en daar staan ’n ruiker of rangskikking van pragtige blomme of bloeisels – veral ook in die kerk. Dit herinner mens van die belofte van vrugte en sorg. Behalwe dat dit mooi is om na te kyk, is die geur van blomme ook terapeuties en kalmerend.
As ons mooi blomme in ons tuin het of baie vrugte, help dit nie ons hou dit vir onsself nie. Dit is mos gemaak om te deel. Ons maak ruikers of konfyt of blatjang en ons deel dit met ander. Die vrugte van ons arbeid is gemaak om gedeel te word. Só werk dit ook met die vrugte van God se arbeid in ons. Die bloeisels en die vrugte van God se liefde in ons, is so mooi, dat ons dit nie net vir onsself kan hou nie. Ons moet dit uitdeel. Ons moet dat ander mense die aangename geur van God se liefde inasem. Ons moet die produk van God se liefde vir mense gee om in te neem en te voed daarop. Ons moet in ons huise, in ons huwelike, in ons werke en in ons gemeentes, die produk van God se liefdevolle arbeid in ons deel.
Om oor te dink vandag:
Watter onkruid is in my lewe? Besef ek dat God dit wil uittrek en weggooi? God wil vir my sorg en Hy wil hê dat ek goeie vrugte sal dra vir Hom in die wêreld.
Gebed:
Dankie Here dat U beloftes vir altyd hou. Dankie dat U vir my sorg en dat U elke dag my help om die onkruid uit my lewe te verwyder. Help my om U liefde ten toon te stel. Laat my mooi bloeisels dra en goeie vrugte waarvan almal in my lewe kan baat. Tot U eer. Amen
2021-08-26 – Hoekom bloos jy so? (Kliek hier vir die klankgreep)
Meeste van ons was een of ander tyd skaam in ons lewens – daardie tye wat jy sommer bloos. Onthou jy daardie dag in die kleuterskool of laerskool, toe die onderwyseres onverwags vir jou vra om iets te sê of doen? Of toe jy die eerste keer iemand van die ander geslag se hand vasgehou het. Of toe iemand jou gespot het oor daardie flater wat jy begaan het. Ons almal bloos nou en dan en ons almal het ons al geskaam vir onsself.
Soos ons groter word, begin ons skaamte egter vêrder strek en is daar baie dinge waarvoor ons skaam is. Ons skaam ons selfs vir ons kinders wat aanjaag, ons ouers wat soms laf is en ook aanjaag, of nogsteeds vir onsself wat nie ons eie humeur intoom kan hou nie. Ons voel skaam as ons gebed begin verwaarloos of ons besef dat ons die laaste ruk net dinge vir onsself gedoen het. Ja, daar is soveel dinge waaroor ons kan skaam voel in die wêreld. Maar, moenie bekommerd wees nie, God het ons vrygemaak om onbeskaamd in hierdie wêreld te wees. In Christus is daar vergifnis en ’n nuwe begin.
In Romeine 8.1 (AFR20) verklaar Paulus ook: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie.” Trouens, daar is eintlik net een werklike rede om skaam te wees: as ons skaam is vir die evangelieboodskap. Daarom maak Paulus ook seker dat sy lesers weet dat hy hom nie skaam oor die evangelie van Christus nie. Hy begin in die eerste hoofstuk van Romeine en sê in vers 16: “16Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo...” en net in die vorige verse sê hy dat Hy graag die evangelie wil verkondig aan “Grieke sowel as nie-Grieke,... wyses sowel as onverstandiges...” Ja, almal moet die goeie nuus hoor.
Miskien is jy skaam om mense te laat weet dat jy ’n Christen is. Miskien dink jy dat Christenskap nie meer in die meer “gesofistikeerde” kringe aanvaar kan word nie. Dalk is jy bekommerd dat jy “Jesus Freak”, “godsdienstige fanatikus” of selfs ’n “kruk” of “droë drup” genoem sal word. Miskien deel jy nie jou geloof nie, omdat jy dink dat jou kwalifikasies nie goed genoeg is nie. Jy’s dalk bang dat jy nie die regte opvoeding het nie, of dat jy nie genoeg van die Bybel gememoriseer het nie, of dat jy nie lank genoeg ’n gelowige is nie. Maar dink bietjie ook aan die baie mense wat gered is in die Bybel wat dadelik gegaan het en ander vertel het van hulle ontmoeting met Christus. Die sleutel is dat hulle wel hul verhaal vertel het – en wie ken jou verhaal van voor tot agter, beter as jy self?
As jy nie skaam is vir Jesus nie, is die beste manier om jou vrees om uitgesproke daaroor te wees te oorkom, om dit eenvoudig net te doen. Hou dit eenvoudig, hou dit eerlik, maar praat met jou bure, vertel jou vriende en familie en deel die verhaal oor hoe Jesus jou verlos het. Hoe meer jy praat, hoe meer sal jou selfvertroue groei... en hoe meer word God verheerlik.
Mag die Here jou seën met vrymoedigheid en moed, sodat jy vir Hom kan getuig oor hoe wonderlik Hy vir jou is, tot Sy eer en verheerliking. Vrede vir julle almal!
2021-08-25 – Vind vrede in jou besluite. (Kliek hier vir die klankgreep)
Psalm 119 is die langste psalm in die Bybel – ’n hele 176 verse! 176 verse van wysheid en hart gesprekke. As jy iewers ’n tydjie het, gaan lees gerus dit alles. Eintlik... maak tyd en gaan lees dit. Vandag lees ons verse 33-35 saam:
“33Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. 34Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. 35Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.” – Psalm 119:33-35 (AFR20)
Die lewe is gevul met baie besluite, kruispaaie en vurke in die pad. As ’n ouer, is dit soms ook nog moeiliker, omdat jy graag vir jou kinders ook reg wil leer. Dit is soms amper onmoontlik om die regte besluit as ouer te neem. As jy een pad kies, kan dit ongewenste gevolge hê. Kies jy die die ander kant, kan daardie besluit ook net sulke negatiewe resultate oplewer. Jy kom dikwels in die lewe by oomblikke waar dit lyk of daar nie ’n gewilde resultaat kan wees nie.
’n Ander moeilike aspek van om besluite vir jou kinders of vir ander mense te moet neem, is die insette van ander ouers en vriende wat nie dieselfde besluit as jy sou geneem het nie. En jy weet mos: hulle sal jou dikwels sommer gou vertel hoekom jy die verkeerde besluit geneem het, want mense is gewoonlik mos nie bang om hul opinies te deel nie.
Dalk is jy nog nie ’n ouer nie of het jy nog nie nodig gehad om namens ander mense besluite te neem nie, maar een of ander tyd sal dit wel gebeur. In daardie oomblikke sal jy vrede vind in jou besluite, as jy weet dat jy tot God gebid en geluister het na Hom om jou op Sy pad te lei. Soms is dit die enigste vrede wat jy voel. Dit is daarom baie belangrik om te onthou dat Hy weet wat jou behoefte is, en Hy sal jou lei terwyl jy Hom soek. Dit is Sy belofte.
Om ander te lei en besluite te neem is soms moeilik. Slegs met God se krag kan krom paaie reggemaak word. God lei ons. Vind Sy vrede in jou besluite.
Om oor te dink vandag:
Ek is nie alleen in die besluite wat ek moet neem namens my kinders of namens ander mense nie. God se vrede en leiding help my. Hoe reageer ek as ander mense nie saamstem met ’n besluit wat ek neem nie? Vir watter besluit het ek nodig om God se wysheid nou te soek?
Gebed:
“33Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. 34Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. 35Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.” – Psalm 119:33-35 (AFR20). Amen
2021-08-24 – Immanuel. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Genesis 18 verskyn drie mans aan Abraham. Een van hulle is eintlik die Here en in die gesprek wat volg tussen Hom en Abraham, vertel God weer aan Abraham dat Sara, Abraham se vrou, ’n kind sal hê en dat hulle baie geseënd sal wees en dat al die volke van die wêreld uiteindelik daardeur geseën sal word.
Nou, Abraham en Sara was al baie oud – naby aan 100 – en vir Sara, wat gestaan en afluister het by die tent se ingang, was hierdie nuus onmoontlik en sommer lagwekkend. Ons lees dan in vers 13-15: “13Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom het Sara gelag en dink sy, ‘Sal ek werklik nog geboorte kan gee terwyl ek al oud is?’ 14Is enigiets te wonderbaarlik vir die Here? Op die vasgestelde tyd wanneer die seisoen draai, sal Ek na jou toe terugkom, en dan sal Sara 'n seun hê.” 15Sara het dit egter ontken en gesê: “Ek het nie gelag nie,” want sy was bang. Hy het gesê: “Nee, maar jy hét gelag.”” (Genesis 18:13-15)
Hierdie ongewone ontmoeting tussen Abraham en die drie mans is, soos genoem, eintlik ’n Goddelike ontmoeting waarin God menslike gestalte aanneem. In seldsame gevalle in die Ou Testament verskyn God op ’n fisiese manier om Sy standpunt oor te dra. Hoe wonderlik moes dit nie wees om God self te kon sien nie!
Miskien dink jy ook dat jy geen probleem sou hê om in God te glo as Hy wonderbaarlik aan jou sou verskyn nie. Dit sal moes alle twyfel laat verdwyn... Maar nie Abraham of Sara het hierdie ontmoeting as ’n beraad met God beskou nie. Inteendeel, Sara kon haar twyfelende lag nie inhou nie (net soos Abraham ook getwyfel het toe God in Genesis 17:17 ook aan hom verskyn het) en Sara het selfs so-te-sê in God se gesig gelag en ook gelieg.
Ons smag miskien na hierdie fisiese ontmoetings, maar ons is nie regtig reg daarvoor nie. Ons moet wel ook onthou dat hierdie soort kommunikasie van God ’n hoogtepunt bereik het 2000 jaar gelede, toe Jesus van Nasaret gebore is; een van Sy titels was “Immanuel”, wat beteken “God met ons”. Daarna het Christus die Heilige Gees vir ons gegee wat in ons woon. God is met ons.
As ons na Abraham en Sara se ontmoeting met God kyk, sien ons dat ons versigtig moet wees vir die ongewone of selfs vreemde dinge op die geestelike gebied. Geloof wat hoofsaaklik op sulke seldsame gebeurtenisse gebou is, het nie ’n vaste basis nie. God kan en sal soms onverwagte dinge doen wat jou persoonlik sal beïnvloed. As jy God se leiding in jou lewe soek, sal jy Hom daagliks by die werk, by die huis, en oral ontdek. Dit is die persepsie van God se hand in alles wat jy doen, wat die sterkste grondslag bied vir die opbou van jou geloof. Immanuel. God is met ons.
Om oor te dink vandag:
Soek ek God net in “wow” geestelike ervarings? Besef ek die betekenis van “Immanuel” in my lewe?
Gebed:
Dankie almagtige God, dat U altyd by my is. Amen
2021-08-23 – ’n Pouse...... in die simfonie. (Kliek hier vir die klankgreep)
Ons lees in Genesis 39 van Josef wat vals beskuldig, in die tronk gegooi, vergeet en afgeskryf is (sien Gen. 39:19-23). Maar na hierdie tyd wat hy so-te-sê vergeet is, word hy aangestel as die tweede-in-bevel van Egipte – net onder die farao. Josef moes om een of ander rede eers ’n pouse beleef in sy lewe.
Ons lees ook dat God dieselfde met Paulus gedoen het. Paulus het ook ’n pouse, ’n ruskans (as ons dit so kan noem) van twee jaar gevangenisstraf moes dien. As gevolg van Paulus se liefde vir die evangelie was hy gevonnis, en kan ons dalk op ’n manier sê dat God hierdie pouse in die lewensfase van die apostel ingereken het.
Ek is seker dat Paulus, net soos Josef, lang aande in die hol tronksel deurgebring het en gedink het aan alles wat hy kon vermag as hy vry was om te doen wat hy wou. Dit moes seker ’n stryd gewees het om nie mal te word nie. Paulus was nie ’n rustige of passiewe persoon nie. Hy was ondernemend en ’n inisieerder. Ek is seker hy het gesukkel met die tydsberekening van die Goddelike Dirigent van hierdie liedjie, wat sy lewe so beïnvloed het. Tog moes Paulus wag. Hy moes rustig raak en maar net doen wat hy kon. Hy het gebid en briewe geskryf.
Dikwels wonder ons ook hoekom daar skielik remme aangedraai word op ons lewens. Hoekom dit voel of ons vasgehou word. Dit voel of ons gebede nie verhoor word nie en asof ons begeertes nie vervul word nie. Sommige dinge waarvoor ons gebid het, het nooit gebeur nie. Ons is passievol oor ons geloof en ons is getrou aan God, maar dan lyk dit nie asof God haastig is om ons angstige, soms woedende gebede te verhoor nie. Hy los nie skielik alles en jaag om ons begeertes te vervul nie. Ons wag op God om die tempo van ons lewenslied so bietjie te versnel, maar Hy wat die simfonie geskryf het dirigeer dit ook en Hy ken die regte tempo en nou is dit tyd vir ’n pouse...
Wanneer ons in hierdie oomblikke van ons lewens so bietjie ’n tree terug gee en met nuwe oë na die situasie en onsself kyk, sal ons besef dat ons nie so volwasse is as wat ons gedink het nie. Ons is nie so geduldig soos ons gedink het nie. Ons is nie so wys nie, nie so bedagsaam nie, nie so sterk nie. Ons Goddelike Dirigent ken die tydsberekening van ons groei. God bou dinge in ons en weet hoe lank dit sal neem voordat ons die eienskappe ontwikkel wat nodig is om ons eie gebede te oorleef.
Hierdie het ek al baie gesê, maar ons moet, net soos Josef en Paulus, leer om geduldig te wees. Ons kan nie die toekoms injaag nie – ons kan in elk geval nie vinniger daarby uitkom as wat God bepaal het nie. Ons kan ook nie God se tydberekening vir die spesifieke lewenslied wat Hy vir ons geskryf het, probeer aanjaag nie. As ons dit doen, word die musiek vals en word die skoonheid daarvan in gevaar gestel. Ons moet wag vir die regte tydsberekening. Word stil en luister na die mooie melodieë wat God geskryf het vir jou lewe. Hy is die Groot Komponis en die Dirigent. Sy tydsberekening is perfek.
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir U tydsberekening. My bereidwilligheid om geduldig te wees, is deel van my vertroue en my geloof – nie in die musiek nie, maar in die Dirigent. Ek plaas al my vertroue in U. Dankie dat U tydberekening altyd perfek is. Amen
2021-08-21 – Goeie tradisies. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is Saterdag. Môre is dit weer Sondag en gaan sommige van ons in ’n erediens wees. Ongelukkig, verhoed die inperking a.g.v. die wêreldwye pandemie ons om almal nou eredienste fisies by te woon. Maar wees nou eerlik met jouself: As al hierdie dinge wat so vreemd is, as dinge weer terugkeer na normaal, gaan jy weer tyd maak om eredienste by te woon, bidure te ondersteun, by te dra tot die bedienings van die kerk – bydra met jou arbeid en finansieel?
Hierdie is vrae wat ons ernstig oor moet dink. Is ons deel van die kerk, of sommer maar net ’n statistiek op die boeke? Wanneer dit kom by eredienste en die aanbidding van God, moet ons ook hierdie vrae vra. Of jy nou môre in ’n erediens sit en of jy op TV kyk of sommer op die radio of jou slimfoon luister, is jy betrokke by die erediens? Of het dit bloot ’n kunsmatige, onopregte ritueel geword? Is dit bloot maar net ou tradisies van ’n vorige era?
In Sagaria 7:5-6 (AFR20) lees ons: “5“Sê vir die hele volk van die land en vir die priesters, ‘Toe julle in hierdie sewentig jaar in die vyfde en sewende maand gevas en gerou het, het julle werklik om my ontwil gevas? 6En wanneer julle eet en wanneer julle drink, eet en drink julle nie net soos gewoonlik nie?’”
Sien, tradisies het groot waarde omdat dit die waardes en leerstellings van die verlede bewaar. Dit herinner ons aan dinge wat ons andersins sou vergeet. Terwyl hulle in ’n vreemde land woon, omring deur ’n vreemde kultuur en taal, kon die Jode die belangrike gebeurtenisse in hul geskiedenis maklik vergeet het. Toekomstige geslagte kon heeltemal gemis het hoe belangrik God vir hulle voorouers was en hoe intens betrokke God nog altyd met hulle was. Maar die Jode het rituele en tradisies gebruik om historiese onkunde te vermy. Hulle herdenk die verlede, sodat hulle nie die lesse wat hulle geleer het, vergeet nie.
Ongelukkig het die rituele mettertyd “gefossiliseer”. Mense het gewoond geraak om bloot net die vorm daarvan te vier, maar hulle het die werklikheid daaragter vergeet. Hulle vas het betekenisvol gelyk, maar het geen innerlike waarde nie. As dit of iets soortgelyks gebeur, word aanbidding ’n leë ritueel of, nog erger, ’n ritueel met heeltemal verkeerde betekenis daaragter. Dikwels kan dit gebeur a.g.v. ’n stadige agteruitgang van waardes – ’n proses wat uiteindelik die goeie wat ander bedoel het, vernietig. Kyk maar hoe gekommersialiseerd Paasfees en Kersfees is, Pinkster eredienste word deur ’n handjie vol mense bygewoon en Sondae is eerder “familie-tyd” om piekniek te hou of in die “mall” rond te loop. Alles, omdat die betekenis van wat die ritueel inhou, nie meer vir ons saakmaak nie.
Elke Sondag vier ons Christus se oorwinning oor die dood. Ons vier die feit dat Hy gesterf het vir ons sondes en dat Hy triomfantlik op die derde dag fisies opgestaan het uit die dood, sodat ons ook eendag vir ewig by Hom kan wees en ook vir ewig lewe. Vier jy dit? Of is dit ’n leë ritueel? Dit is ons werk om die volgende geslag te leer van die goeie tradisies.
Om oor te dink vandag:
As ek winkels toe kan gaan, ander plekke en funksies bywoon, kan ek nou alreeds, in die inperking, meer doen en meer betrokke wees in die kerk?
Gebed:
Here Jesus, Sondae is veronderstel om ’n dag afgesonder vir U te wees. Vergewe my dat ek so maklik verval in die gebruike van hierdie wêreld. Help my om my gesin en die volgende geslag te leer van alles wat U vir ons gedoen het en elke dag nog doen. Gee dat ek nie net leë rituele sal toepas nie, maar dat U Gees deur my alle geestelike rituele sal inkleur, sodat U daardeur verheerlik sal word. Amen
2021-08-20 – Goeie raad. (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is nie lekker om verkeerde besluite te neem nie. Om raad te vra, is ook nie ’n maklike ding nie. In ’n verhouding – hetsy huwelik, romanties, of ander – is dit nog moeiliker. Ons trots weerhou ons om rigting en raad te vra en, as ons dit wel doen, word ons kwaad as dit die verkeerde raad is. Maar dit is dit darem ook soveel makliker om iemand anders die skuld te gee as dinge nie uitwerk nie. Ek dink ons weet vele male wat ons moet en nie moet doen nie, maar ons aanvaar eerder slegte raad by mense, sodat ons onsself later kan probeer verontskuldig. Ongelukkig, weet jy, maak jy nogsteeds die keuse.
Die probleem met goeie raad, aan die ander kant, is dat ons dit soms nie volg nie. Mense wat ons probeer help, omdat hulle oor die nodige kennis en ervaring beskik, probeer regtigwaar help, maar ons sien dit as inmeng. Die goeie raad is daar om gevolg te word, maar ons volg dit nie. Dit was die geval gewees met Pontius Pilatus in Matteus 27:17-26, toe Jesus voor hom gestaan het en gewag het om geoordeel te word. Pilatus het geweet dat Jesus onskuldig is, maar die skare wou bloed hê. Pilatus was bang dat daar oproer sal kom as hy nie vir die mense gee wat hulle wil hê nie.
Dan kom Pilatus se vrou op die toneel. Ons weet baie min van haar, maar ons weet dat sy vir Pilatus ’n boodskap gestuur het: “Jy moet niks te doen hê met daardie •regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie oor hom verduur.” (Matt. 27:19 AFR20) Maar Pilatus het hom nie gesteur aan die goeie raad nie. Hy probeer homself verontskuldig deur die skare te laat besluit oor Jesus se lot. Die skare dring aan dat Jesus gekruisig moet word en Pilatus was sy hande, as ’n simbool van sy onskuld in die saak.
Die Bybel sê nie veel oor mev. Pilatus, haar droom of die rede waarom Pilatus haar raad nie gevolg het nie. Tog gebruik God Pilatus se lafhartigheid as deel van sy plan om Christus se kruisdood te bewerkstellig, wat die enigste middel tot ons redding voorsien het.
Om raad te gee en raad te volg, het voordele en nadele. In die huwelik en in enige ander verhouding is dit verstandig om na die raad van ’n maat te luister, maar steeds wyser om dit aan die Skrif te toets. Is daar ’n Bybelse beginsel vir of teen wat voorgestel word? Is daar voorbeelde uit die Skrif wat help?
Behalwe daarvoor om raad te toets aan die Skrif, kan volgehoue gebed deur ’n moeilike saak geestelike insig gee in ’n besluit. As ons ons besluite in gebed tot God bring – as ’n paartjie en as individue – kan ons seker wees dat God ons sal lei en ons die nodige toerusting sal gee wat ons nodig het om goeie besluite te neem.
Om oor te dink vandag:
Sukkel ek om goeie raad te volg? Bid ek getrou oor moeilike sake en besluite? Wie kan ek vertrou met my hartsake om saam met my te bid en antwoorde te soek in die Bybel?
Gebed:
Here, help my om te luister na goeie raad. Help my om elke probleem na U toe te bring. Help ook dat my lewensmaat of die persone wat na aan my is, saam met my besorg sal wees oor my welsyn en ek ook oor hulle s’n. Help ons om saam te bid en U goeie raad soek en te volg. Dankie dat U ons dra deur alle tye. Amen
2021-08-19 – Doen wat jy moet doen. (Kliek hier vir die klankgreep)
As God die Een is wat ons rigting bepaal en ons laat gaan of bly, is die volgende vraag wat ons seker het: Wat moet ek doen? Daar waar ek is. Daar waar ek gaan. Wat is dit wat ek moet doen?
Toe Jesus die dissipels leer bid het, en as ons ook die “onse Vader” bid, dan bid ons juis in Matteus 6:10 (AFR20), “10Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Dit is die kern van ons bestaan. Ons moet God eer en Sy Koninkryk deur ons en deur alles wat ons doen, laat kom.
Deur ons samewerking met God se Gees wat in ons werk, kan ons groei tot die punt waar óns wil lyn is met dít wat God wil hê – ons passies en doelwitte is dan Sy passies en doelwitte; ons dink, praat, stel belang en tree op op ’n Christelike manier. Ons sal nooit volmaak of sonder worsteling en teëspoed in hierdie lewe wees nie, maar ons kan innerlik met Jesus verbind wees. Ons luister na die leiding van die Gees. Ons ontwikkel ons gawes. Ons leef ons lewens na aan die dinge wat belangrik is in God se Koninkryk. Paulus leer in 1 Korintiërs 10:31-11:1 (AFR20) die volgende:
“31Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God. 32Julle moenie vir Jode of Grieke of die •gemeente van God 'n struikelblok wees nie. 33Net soos ek ook probeer om alle mense in alle opsigte in ag te neem, en om nie my eie voordeel nie, maar dié van die meerderheid, na te streef, sodat hulle verlos mag word. 1Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg.”
Maar, ongelukkig, is dit dikwels nie genoeg vir ons nie. Ons wil ons spesifieke, individuele doel met sekerheid ken. Ons wil weet wat presies ek nou of later moet doen. Ons wil hê die raaisel moet opgelos word. Ons wil ’n unieke doel vind waarop ons ons energie kan fokus. Ons wil darem weet wat dit is wat ons lewens die moeite werd maak. Ons wil oortuig wees dat ons lewe tel. Ons soek ’n teiken om voor te mik...
Miskien mislei ons oordrewe soeke na die spesifieke “iets” wat ons moet doen ons... Miskien weerspieël hierdie behoefte van ons om met sekerheid te weet, ons verslawing aan beheer en ons innerlike trots. God wil hê dat ons Hom moet vertrou, en soms, as ons te veel weet, het dit tot gevolg dat ons te min vertrou. Miskien, deur te laat gaan van die druk om ons doel te vind – en deur eerder toegewyd vir God te volg elke dag... miskien los dit ons reg in die middel van die teiken.
So, of jy nou eet, slaap, rus, werk of wat ook al doen, doen dit tot eer van God. Doen wat jy moet doen.
Om oor te dink vandag:
Soek ek dalk ook heeltyd daardie “iets spesifiek”? Mis ek dalk die groter prentjie? Wat kan doen om meer die voorbeeld van Christus te volg?
Gebed:
Here, ek volg so gereeld my eie kop en hart. Ek bid dat U Koninkryk kom en U wil geskied, maar dan dink ek dat ek dit alleen moet doen. Help my om te laat gaan van my eie agenda en plannetjies. Ons Vader wat in die hemel is, laat U Koninkryk in en deur my kom, laat U wil wees wat ek wil hê. Laat my hart, gedagtes en my lewe U liefde weerspieël waar ek ook al is en waar U my ook al lei. Mag alles wat ek doen en dink net tot U eer alleen wees. Amen