Hieronder is 'n lys van die oordenkings met 'n skakel wat lei na teks en 'n klankgreep.
Keer gerus terug na hierdie skakel so elke nou en dan en kyk of daar dalk nuwe sielskos is vir jou.
(Kliek op die skakel en dan op die naam of afpyltjie om die boodskap te sien of die skakel te kry vir die klankgreep.)
2021-12-31 – Wysheid vir die Ou/Nuwejaar. (Kliek hier vir die klankgreep)
En so kom ons weer aan die einde van ’n kalenderjaar. Die nuwe kalender hang al op die muur, maar ons draai dit nog nie om nie – nie omdat ons glo in “bad luck” nie, maar omdat ons nog nie wil beplan nie. Ons wil eers die Oujaar afsluit. Tog weet ons ons moet beplan. Ons moet so bietjie vooruitdink.
As jy vandag voor ’n keuse gestel word, as jy een ding kon vra vir die Nuwejaar, wat sou dit wees? Net een ding... Rykdom? Geluk? Vrede? Gesondheid? Wat sal dit wees?
Koning Salomo, toe hy nog baie jonk was, was bevoorreg gewees om deur God gevra te word. In 1 Konings 3:5-14 (AFR20) lees ons:
“5By Gibeon het die Here in die nag in 'n droom aan Salomo verskyn. God het gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee.” 6Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U. U het hierdie oorvloedige troue liefde teenoor hom volgehou en aan hom 'n seun gegee wat op sy troon sit, soos dit vandag is. 7En nou, Here my God, dit is U wat u dienskneg koning gemaak het in die plek van my vader Dawid. Maar ek is 'n jong seun, ek weet nie hoe om uit te gaan of in te kom nie. 8U dienskneg bevind hom onder u volk wat U gekies het, 'n groot volk wat vanweë sy grootte nie bereken of getel kan word nie. 9Gee dan aan u dienskneg 'n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?”
10Dit was goed in die oë van die Heer dat Salomo juis dit gevra het. 11God het vir hom gesê: “Omdat jy hierdie versoek gerig het en nie vir jouself 'n lang lewe gevra het, nie vir jouself rykdom gevra het, en nie die lewens van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeidingsvermoë gevra het om regsake aan te hoor – 12kyk, Ek voldoen aan jou versoek: Ja, Ek gee aan jou 'n wyse en verstandige hart, sodat daar voor jou niemand was soos jy nie, en ná jou niemand soos jy sal opstaan nie. 13Ook wat jy nie gevra het nie, gee ek aan jou: sowel rykdom as eer, sodat, solank jy leef, daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie. 14As jy my paaie volg soos jou vader Dawid, deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, sal Ek aan jou 'n lang lewe gee.””
Wat meer kan ek hieroor sê? Die hele verhaal spreek reeds van wysheid in ’n besluit wat lei na ’n lewe gevul met wysheid. My wens en my gebed vir jou in die jaar wat kom:
Mag die Here jou seën met ware wysheid, dat jy nie sal vaskyk in die waardes van ’n stukkende wêreld nie.
Mag jy besef hoe waardevol ’n gehoorsame hart aan die Here is. Mag jou hart ’n hart wees wat luister.
Mag die Here jou seën met genoeg wysheid om die regte besluite te neem in goeie en in slegte tye wat mag kom in die jaar.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid – nee, geloof! – om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Liewe mens, glo die seën van die Here:
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.
Amen.
2021-12-30 – “Ek is by jou om jou te red.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Met nog net vandag en môre oor van hierdie jaar, begin baie van ons dalk alreeds om Nuwejaarsvoornemens te maak. Miskien wil jy meer oefen, dalk meer tyd met die familie spandeer, of meer goed doen aan ander of jouself, miskien meer tyd aan jou geloofslewe spandeer. Nuwejaarsvoornemens het die geneigdheid om goeie wense van die Oujaar te word – goedjies wat ons maar weer later sal probeer. Gewoonlik val daar dinge voor, of die lewe raak maar net te besig – die ou roetines neem weer oor, en ons is gou om weer allerhande sogenaamde “goeie” verskonings uit te dink oor hoekom ons nie kon doen wat ons graag wou of selfs móés doen nie.
Wanneer dit kom by diens vir God in die Nuwejaar en eintlik elke dag in ons lewens, is daardie verskoninkies ook nogal gou om by ons op te kom. In die Bybel vind ons ook baie sulke voorbeelde: Moses, Jona, Jesaja, Jeremia, Timoteus... Ek dink amper elke persoon wat ooit deur God geroep is om in Sy diens te staan het gedink dat hulle nie geskik is daarvoor nie. Dalk dink jy daaraan om in die Nuwejaar meer vir God te doen, dalk beplan jy dit nie eers nie, maar God het jou reeds geroep daarvoor. Toe Jeremia geroep was, was hy nie seker daaroor nie en dadelik het Hy half gestry met God daaroor:
“4Die woord van die Here het tot my gekom: 5“Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” 6Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog 'n kind.” 7Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog 'n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. 8Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here.” – Jeremia 1:4-8 (AFR20)
Ons vrese oor wat mense gaan sê en dink, weerhou ons té dikwels daarvan om God se seën in ons lewens te ervaar. Dit is daar, maar omdat ons onsself en God se vermoëns in en deur ons betwyfel, sien ons dit nie eers raak nie. Ons ervaar opdraandes en stryd in die lewe, terugslae en teleurstellings – en dan raak ons gou mismoedig en sommer moedeloos. Ons dink dikwels dat ons alleen staan in die taak wat God ons gee, of selfs die voornemens wat ons vir onsself maak. Ons vergeet dat God oral met ons sal gaan en dat Hy ons nooit ooit sal verlaat nie. Ons dink ook, soos Jeremia, dat ons nog kinders is en nie toegerus is om te doen wat ons moet doen nie.
Onthou: God het elkeen van ons uniek gemaak, volgens Sy beeld. Deur Sy Heilige Gees wat in ons woon, is ons tot soveel meer in staat as wat ons onsself kan indink. God se Gees is altyd besig om te werk in die wêreld en in die harte van mense – al weet hulle dit soms nie eers nie. Al wat ons moet doen, is om daar te wees. Ons moet bloot net aansluit by die werk wat God reeds besig is om te doen. Ons hoef nie te vrees nie. Ons hoef nie moedeloos te word nie. Ons hoef nie onsself teleur te stel nie. Ons kan die wilskrag en alles wat vêrder nodig is om goeie voornemens te hou en God se wil te doen besit, deur rustigheid in ons harte te hê dat God by ons is om ons te red.
Jeremia het gedink hy’s te jonk. God het hom belowe dat Hy met Hom sal wees. Hy hoef nie bang te gewees het vir mense nie. Hy moes net daar wees. Miskien is jy ook bang oor wat mense sal sê en dink omdat jy skielik baie meer werk vir die Here wil doen. Miskien is jy bang oor wat mense gaan sê omdat jy skielik meer wil oefen omdat jy graag die liggaam wat God jou gegee het in stand wil hou, sodat jy beter in Sy diens kan wees. Miskien is jy bang om voornemens te maak omdat jy al te veel keer in die verlede dit nie kon nakom nie. God is met jou om jou te red van jou eie negatiewe gedagtes en ook van die oordeel van mense. Los sommer nou al al jou vrese en bekommernisse in die Oujaar. Vergeet daarvan. Hou moed. Vertrou op God. Hy red jou. Hy help jou. Hy sal altyd met jou wees.
Gebed:
Dankie Here, dat U krag in en deur my werk. Wanneer ek in myself twyfel of selfs in U twyfel, help my om te onthou dat U altyd by my is om my te help. Red my asseblief van myself en negatiewe gedagtes. Help my om te doen wat U van my verwag en my nie te bekommer oor wat ander mense sê of doen omdat ek aan U gehoorsaam is nie. Aan U behoort die lof en die eer tot in alle ewigheid. Amen
2021-12-29 – Kyk in die spieël. (Kliek hier vir die klankgreep)
Die wêreld word amper – volgens ons eie kalenders – ’n jaar ouer. Ons vier dit en ons is bly vir ’n aanduiding van ’n nuwe begin – ’n “oor” begin. Ons is mense. Ons kan só dink. Die res van die skepping, gaan maar net rustig voort. Hoe is ons dan anders? In Genesis 1:26-27 (AFR20) lees on die volgende:
“26God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.” 27God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.”
Dit is altyd vir ons ’n wonderlike wete om te besef dat ons volgens God se beeld geskape is. Maar wat beteken dit? Party mense ruk dit heeltemal uit verband en meen dat ons goddelike wesens is en dat ons net ons potensiaal moet ontgin. Ander reken ook dat ons lyk soos God lyk. Ander weer, meen ons en alles in die skepping, is God en ons is alles verbind aan mekaar... Sjoe, ja, daar is vreemde opvattings hieroor daar buite. Maar wat beteken dit? As ons in die spieël kyk, wat sien ons? Wat behoort ons te sien?
Die mens is uniek geskape na die beeld van God, het ons gelees. Toe daar geboorte geskenk is aan die res van die skepping, het God gesê dat dit “goed” was. God het die voëls, visse, plante en sterre geskep om Sy prag te vertoon en wow!, hoe wonderlik is dit alles nie! God het gesê dat hierdie skeppings, alles wat Hy gemaak het, goed was. Toe dit egter by die mense kom, het die toon verander. Nadat God die mens geskape het, het Hy gesê dat die skepping van mense “baie goed” was (Gen. 1:31).
Die mens is om ’n paar redes uniek en ekstra spesiale skeppings, maar nie om een van die redes of oortuigings wat ek vroeër genoem het nie. Sien, eerstens is dit duidelik dat mense ’n identiteit het wat in God gewortel is. Toe God gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld”, het Hy die teenwoordigheid van Jesus en die Heilige Gees in die skeppingsdaad reeds bevestig... Mense is spesiaal omdat Jesus, as deel van die Drie-eenheid, hulle na Sy beeld geskape het. En tweedens, is mense spesiaal, omdat hulle vir ’n unieke doel geskep is. Geen twee mense is dieselfde nie. Al wat eenders is in ons, is dit wat ons heeltemal anders maak – ons uniekheid! Alle ander dele van die skepping dien ’n algemene doel om God te eer en alle ander dele het redelike algemene funksies, maar net die mens het unieke, individuele doele. En dan, derdens, is mense so spesiaal ontwerp om ’n een-tot-een verhouding met God te hê deur Jesus Christus, aangedryf deur die Heilige Gees. Dit is ons reg, omdat ons na die beeld van ons Skepper geskape is, om in direkte verbinding met Hom te wees en ons lewens volgens Sy wil te vorm. Dit is deur Jesus dat hierdie verhouding weer moontlik gemaak is. Hy het gekom en die skeidingsmuur van vyandigheid wat Sy spesiale skepping van God geskei het, afgebreek (Rom. 8:34-39).
Kyk gerus in die spieël. Kyk en dink na oor die jaar. Dink oor die toekoms. Besef dat jy na God se beeld geskape is. Dit beteken dat jy gemaak is om te poog om volmaak te wees. Dit beteken dat jy God se liefde en genade in jou het, of móét hê, en dat jy dit moet uitdeel.
Wat gaan jy anders doen in die jaar wat kom?
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U daardie skeidsmuur tussen my en my Skepper afgebreek het. Wys my my doel in hierdie lewe en help my om dit te bereik. Help my om die beeld wat ek dra, die eer te betoon wat nodig is – so ook U beeld wat in ander mense is. Amen.
2021-12-28 – Die lewe is kosbaar. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soms voel dit vir ons moeilik om die goeie nuus te versprei. Dit is nou die nuus dat Jesus Christus ons almal kan verlos van ons sondige self. Mense en omstandighede maak dit dikwels vir ons moeilik. Dit voel partykeer soos baie harde werk en ons wil dan eerder vashou aan die lewe wat ons het. Ons wil mos nou nie dinge verloor of vriende verloor as gevolg van wat ons glo nie. Die wêreld leer ons ook mos deesdae dat ons eerder moet stilbly in gevalle waar ons dalk ander mense se regte kan benadeel – “mense kan mos glo wat hulle wil...” volgens die wêreld...
Maar juis omdat die lewe kosbaar is, juis omdat ons weet dat die lewe nie hier op hierdie aarde eindig nie, juis daarom moet ons die evangelie versprei. Ons moet dit ons daaglikse taak maak om mense te vertel en te wys van God se liefde vir ons. Lukas skryf Paulus se woorde in Handelinge 20:24, wanneer Paulus sy afskeidsboodskap lewer aan die mense is Efese. Paulus sê:
“24Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” – Handelinge 20:24 (AFR83)
Ja, juis omdat die lewe so kosbaar is en ons net die een lewe hier het, is dit vir ons ’n vreugde om mense te vertel van Jesus, omdat ons besef waarvan God ons gered het en wáárvoor God ons gered het om te doen. Paulus se een roeping in die lewe was dít: om te getuig van die goeie nuus van God se genade wat in liefde bewys is in Jesus Christus. Ons het dit nie verdien nie en ons kan dit nooit verdien nie. Inteendeel, elke persoon wat nog ooit gelewe het, is verantwoordelik vir die dood van Jesus (vlg. Rom. 4:25, 5:8). Ons sondes het die kruis noodsaaklik gemaak. Almal van ons moes die ewige straf kry – dit was ons verdiende loon, maar God is te lief vir ons om ons te los soos ons is. Jesus het gekom om ons te soek en verlos (Luk. 19:10) en Hy bied aan ons Sy liefde – vergifnis – gratis en verniet, as ons ons bekeer en ons lewens aan Hom wy.
Paulus het gereeld die gemeentes herinner aan God se liefde en genade wat ons verstand te bowe gaan. Hy het gereeld die kerk uitgenooi om te deel in God se barmhartigheid en sorg. Die lewe is kosbaar, want ons het net hierdie lewe om voor te berei vir ’n ewigheid. God het ons gered van ewige straf deur Sy vrygewige en barmhartige genade. Onthou dat jy deur Jesus se genade alleen gered is – dit is inderdaad baie goeie nuus! Deel die vreugde! Maak die lewe kosbaar vir ander ook!
Gebed:
Here Jesus, dankie dat ek gered is. Jammer, dat ek nie altyd so lewe nie. Help my om te besef hoe kosbaar hierdie lewe is, omdat dit my voorberei vir ’n ewigheid met U. Help my om die lewe kosbaar te maak vir ander deur die goeie nuus van U barmhartige genade te versprei. Tot U eer alleen. Amen
2021-12-27 – Terug na “normaal”... (Kliek hier vir die klankgreep)
Die dag waarop ons die koms van ons Verlosser vier het gekom en gegaan. Die opwinding en feesviering is by meeste van ons nou verby en dinge is skielik weer normaal. Vir baie van ons kan hierdie skielike terugkeer na realiteit dikwels nogal angswekkend en depressief wees. Die Kersfees vieringe is verby. Ons pak die versierings weg. Ons groet die familie. Maar die lewe gaan nou aan...
Wanneer ’n mens jonk is, dan wonder jy dikwels wat jy gaan moet doen om meer volwasse te voel en wees. Sommige dink dat ’n huwelik dit sal doen, ander dink kinders of ’n goeie werk is die antwoord. Dan word ons ouer en besef ons dat ons allerhande dinge kan doen en sê, maar die grootmenslewe bly gebrandmerk met iets baie universeel: bekommernis.
Nie dat ons jeug en ons jongmense kommervry is nie – daar is natuurlik ook bekommernis oor die regte ou of meisie kry, huiswerk, sport en jou toekoms. Maar gelukkig was daar in ons jongdae ’n vangnet gewees: ons ouers. Wanneer ons grootword, kan ons nie meer die spreekwoordelike bal aangee nie. Dit stop by ons.
En as ons eers bekommernis se baadjie aantrek, is dit nogal moeilik om ontslae te raak daarvan. Die lewe is onvoorspelbaar: kinders word siek, ouers word ook siek, ouers sterf, selfs kinders sterf. Die toekoms word al hoe meer onvoorspelbaar en ons sit met allerhande vrae: “Het ek genoeg pensioen? Hoe betaal ek die rekeninge? Wat kan ek doen om ‘beter’ te lewe? Wat kan ek doen dat ander beter kan lewe? Sal ons ooit vrede sien in ons land?”
Dit is menslik om angstig te raak oor dinge in die lewe. Dit is nog altyd so. Daarom skryf Paulus aan die mense in Filippi, om hulle te herinner aan die dag wat ons onlangs gevier het – die dag toe God mens geword het en alles wat Hy vir ons kom doen het. Paulus skryf in Filippense 4:4-9 (AFR20):
“4Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! 5Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. 8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. 9Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.”
Let wel dat Paulus nie sê dat alles skielik kommervry gaan wees nie. Hy sê nie dat God skielik al die slegte dinge in die lewe gaan wegneem nie. Inplaas daarvan belowe hy die gelowiges dat God hul angs en vrese sal kalmeer. Hy herinner ons dat ons nie in beheer is nie, dat ons ons bekommernisse en vrese oor die jaar wat voorlê en die jaar wat eindig in die hande van Iemand baie groter as ons kan plaas en dat God met ons is, maak nie saak wat nie.
Dink oor jou eie lewe of praat met ’n ander gelowige wat al deur moeilike tye is – dalk ’n werk verloor het, die dood van ’n kind moes deurmaak, ’n geliefde deur siekte moes help, of dalk verloor het... Jy sal agterkom dat selfs in die moeilikste en donkerste tye, ervaar ons God se teenwoordigheid. Die pyn en hartseer gaan nie weg nie, maar ons weet dat God ons help om op te staan as die lewe ons platslaan.
Onthou dat jy met God kan praat oor die dinge wat swaar op jou hart lê. Ons kan vra vir die vrede wat God ons bied. Ons kan God dank dat Hy omgee, dat Hy ons laste dra, dat Hy ons vertroosting en rus gegee het, selfs in ons moeilikste tye. Inderdaad, om ’n God soos hierdie te hê, gaan ons verstand te bowe. Al wat ons kan doen is om ons harte oop te maak en Hom te ontvang.
Gebed:
Here, die lewe keer weer terug na normaal, na al die feesviering. Die lewe gaan aan en soms maak dit my bekommerd en angstig. Help my om onthou dat U by my is en dat U vrede, wat my verstand te bowe gaan, vrylik aan my gebied word – deur die werk van U Heilige Gees in my. Dankie dat ek elk dag kan bly wees dat U mens geword het vir my. Amen
2021-12-25 – ’n Christusfees vir ALMAL! (Kliek hier vir die klankgreep)
Die dag het aangebreek. Dit is Kersfees. ’n Christusfees. Vir baie mense is dit net nog ’n dag. Vir sommige is dit ’n hartseer dag wat hul dalk alleen deurbring. Vir ander, ’n dag van familie, feesviering en samesyn. ’n Dag deur die wêreld gekommersialiseer, met groot etes, geskenke en Vader Krismis... Almal daag op, maar nie almal onthou waarom ons hierdie dag wy aan die God van die heelal nie...
Só het Jesus se geboorte ook amper ongemerk verbygegaan vir baie mense, maar God het gesorg dat die regte mense opdaag. In Lukas 2 lees ons dat ’n groep skaapwagters die boodskap van Jesus se geboorte ontvang het van ’n engel van die Here. Die engel self, saam met ’n menigte ander engele loof God met die woorde: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het!” (Luk. 2:13). Die skaapwagters haas hulle na Bethlehem om hierdie Kindjie te ontmoet en gaan vandaar om almal wat hulle ontmoet te vertel, terwyl hulle God verheerlik en prys (Luk. 2:15-20).
Die gewone, onopmerklike stal-geboorte, word amper nog vêrder veralgemeen deur laeklas skaapwagters wat opdaag. Kyk, skaapwagters was nou nie juis die room van die samelewing nie. Hulle werk en hul status was op neergesien in die samelewing en hulle was nou nie juis die mense wat jy nooi na ’n partytjie of feesviering nie. Om die boodskap van die geboorte van die wêreld se Redder te verkondig, sou ons eerder ’n moedige profeet of meer engele gekies het, dalk koninklike paleis bewoners of invloedryke besigheidsmense, maar skaapwagters... nie sommer nie. En tog... het die engel aan hulle verskyn op daardie koue aand om aan hulle die die goeie nuus en blydskap te deel. Hierdie gewone mense, laeklas werkers, word ingelig en deel gemaak van God se plan.
Ons hoef nie iemand met aansien te wees om deel te word van God se raadsplan en wysheid nie. God openbaar Homself aan wie Hy wil, en as ons kyk na die Bybel, wil dit voorkom dat dit gewoonlik die ongekwalifiseerde en godsdienstig-benadeelde mense is. Al wat God vra, is ’n oop hart, ’n dienende gesindheid, nederigheid en ’n gewillige gees.
Hierdie tipe gesindheid was dalk meer teenwoordig in die sterrekykers wat uit die ooste gekom het, waarvan ons lees in Matteus 2. Ja, hierdie was wyse manne. Ons weet nie presies hoeveel van hulle daar was nie, maar ons weet dat iets omtrent die ster van Dawid hulle in die rigting van Betlehem gerig het. Hulle het nie geweet wie hulle daar sou ontmoet nie, maar hulle het geweet dat dit ’n koning is... Hoe het hulle geweet? En hier is waar die vreemde deel inkom...
Hierdie “wyse manne”, sterrekykers, was heel moontlik soos astroloë van vandag. Onthou, die kennis van die sterrestelsels en sonnestelsel was nie aan hulle bekend, soos ons dit vandag ken nie. In daardie tyd het hierdie mense na die sterre gekyk om aan konings en regeerders te probeer sin maak van dinge en ook om voorspellings te maak. Vir ons, is dit vandag eintlik ’n redelik belaglike pseudo-wetenskap. Maar weet jy, God word nie beperk deur ons voorskriftelikheid nie en hier word net weer bewys dat Hy mense kies vanuit die mees uiteenlopendste omstandighede, agtergronde en oortuigings om te wys dat Hy diegene beloon wat Hom ywerig soek. Almal van ons, regoor die wêreld, waar ons ook al is en wat ook al ons agtergrond, het in ons ’n inherente kennis van God en ’n wete van Sy reg en geregtigheid.
Die baba Jesus word hulde gebring deur skaapwagters, laeklas gewone mense, en sterrekykers, gesiene belangrike mense in hul tyd. Die eer wat aan God behoort word gebring deur mense wat so vêr moontlik verwyder was van God se verbond. Húlle kom en aanbid die Koning van die Jode en gee aan Hom geskenke geskik vir ’n Koning. Húlle word gevul met vreugde en ’n onbeskryflike vrede, terwyl hulle die ware Koning aanbid het.
Dit is Kersfees. ’n Christusfees. Almal daag op of niemand daag op nie. Waar jy jou ook al vandag bevind, mag jy ook in groot verwondering en ontsag jou haas na die Koning deur God aangewys. Mag jy jou lewe as ’n geskenk aanbied. Jy sal ook onbeskryflike vreugde en vrede ervaar.
Mag jy en jou geliefdes ’n baie geseënde Christusfees ervaar, terwyl julle die geboorte van ons Here en Verlosser, Jesus Christus vier.
2021-12-24 – Die grootste gewone dag... (Kliek hier vir die klankgreep)
Dis nog net een “slapie”, soos die kinders sê. Nog net een keer bed toe gaan, slaap en opstaan, dan is dit Kersfees! Ja, ons het môre gekies as ’n dag om te herdenk toe die God van die heelal Homself só vêr verlaag en verneder het. Hy het gekies om mens te word, ons straf op Hom te neem, sodat alle mense daardeur verlos kan word. Al wat ons moet doen, is om te glo – om “ja” te sê.
Die groot dag het aangebreek vir Maria, maar anders as wat ons vroue deesdae na ’n hospitaal gaan en deur professionele mense gehelp word om geboorte te skenk, was dinge baie anders vir Maria. Hoor hoe het dit gebeur in Lukas se kort opsomming in 2:1-7 (AFR20):
“1In daardie tyd het keiser Augustus 'n dekreet uitgevaardig dat die bevolking van die hele ryk geregistreer moet word. 2Dit was die eerste volkstelling wat gehou is toe Sirenius prokurator van Sirië was. 3Almal het gegaan om hulle te laat registreer, elkeen na sy eie dorp. 4Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. 5Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, 7en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.”
Die krip en die stal waarin Jesus gebore was, was heel moontlik ’n sy-vertrek aan die herberg, omdat die mense in daardie tyd hulle diere naby moes hou. Dit was van nature maar vuil en omdat daar nie hospitale en die goeie gesondheid van vandag was nie, het baie babas by geboorte gesterf of nie lank gelewe nie. Vir die mense van daardie tyd, sou hierdie heel moontlik maar net nog ’n normale geboorte storie gewees het. Vir ons, vandag, kan dit ook klink soos maar net nog ’n verhaal van ’n geboorte buite ’n hospitaal – as dit nie was vir daardie einste baba wat gebore was nie.
Hoe erg moes dit nie wees vir Maria nie? In haar laaste oomblikke van swangerskap, moes hulle reis vanaf Nasaret na Bethlehem. Hulle reis te voet of per donkie – ’n hele 140km, en wanneer hulle in die stad aankom, is dit só vol mense as gevolg van die sensus opname, dat daar geen plek vir hulle is om te bly nie. Weereens is Maria en Josef verontrief deur hoe al hierdie dinge uitwerk, maar weereens is hulle gehoorsaam.
Kyk, as ons dink dat om God se wil te doen altyd gerieflik, eenvoudig of voor die hand liggend en seepglad gaan wees, dan misgis ons onsself. Maria en Josef het te kampe gehad met sosiale uitdagings en oordeel, ontwrigting van hulle families, en die uiteindelike hartseer vir enige ma of ouer – die dood van ’n kind, maar nog erger, aan ’n kruis van alle plekke. Toe Maria gesê het “Mag met my gebeur volgens u woord.” (Luk. 1:38), sou sy nie die implikasies kon besef van wat voorlê nie, maar so ook kan ons nie weet wat voorlê as ons ja sê vir die Here nie. Maar “ja” is eintlik die enigste antwoord op God se roepstem. Om te sê “nee Here”, is ’n oksimoron – dit maak glad nie sin nie! “Ja”, is altyd die beste reaksie, want, alhoewel die pad vorentoe moeilik kan wees, kom dit gepaard met ’n diepe vervulling en vrede, met die wete dat jy God behaag. Met ander woorde, en dink mooi daaroor... ons is baie beter daaraan toe, selfs al lyk dit of ons nie is nie.
Ja, môre breek die dag aan wat ons hierdie gebeurtenis vier. Die groot dag het aangebreek. Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het, is gebore as ’n hulpelose baba in een van die mees onwaarskynlikste plekke, tussen die mees onwaarskynlikste mense. Die Koning van die heelal, is nie gebore in ’n paleis nie; Hy was nie omring deur rykdom en voordeel nie, en Hy is nie gebore in ’n tyd waar daar na-swangerskap sorg in ’n hospitaal was nie. Alhoewel die heersers van die land en nabye wêreld geweet het van Sy geboorte en baie bedreig gevoel het daaroor, was hulle nie daar nie – geen koninklikes was by hierdie Koning se geboorte nie.
Die grootste dag in die geskiedenis van die wêreld het meer as 2000 jaar gelede verbygegaan met skaars ’n blip op die radar van die mense. Maar iets wonderliks, iets ontsagwekkend en mooi het in daardie krip gebeur. Die Kind van ons verlossing was gebore. God wat mens word en onder die mense kom woon – Immanuel – God by ons – God vír ons!
Gebed:
Here Jesus, mag ek nooit die wonder van U menswording verklein of kommersialiseer nie. U is my Koning. Dankie dat U Uself so laag verneder het vir my. Ek loof U en prys U. Amen
2021-12-23 – Soek ondersteuning. (Kliek hier vir die klankgreep)
Nadat Maria die nuus ontvang het van die groot plan wat God met haar en ook ’n familielid, Elisabet het, het sy vir Elisabet gaan besoek. Elisabet was natuurlik op ’n baie hoë ouderdom – na jare se kinderloosheid –swanger gewees met Johannes die Doper, wat die weg sou voorberei vir Jesus se bediening. Vir Maria sou hierdie alreeds baie bemoedigend wees, aangesien sy nou geweet het dat sy nie alleen deur hierdie vreemde gebeurtenis moet gaan nie. Daar was darem nou iemand anders wat ook weet van die besoeke van engele, die profesieë en die vervulling daarvan! In Lukas 1:39-56 lees ons van hoe dié twee, toe hulle mekaar ontmoet en groet, vervul is deur die Heilige Gees en hoe beide van hulle God geloof en prys het vir die wonderwerke wat besig was om in hulle te gebeur.
Met hul ontmoeting, het die baba in Elisabet so moederskoot “van vreugde gespring” lees ons in Luk. 1:41 (AFR20). Hoor Elisabet se woorde in verse 42-45:
“Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. 45En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.”
Volgens alle kulturele verwagtings, moes Maria eintlik aan Elisabet hulde en eer bring, maar God wys weereens dat Sy verlossingsplan nie noodwendig vir die ryk, statige, magtige of hooggeagte mense bestem is nie, maar vir almal. En God het ook geweet dat indien Hy dalk hierdie plan van Hom deur hierdie tipe mense bewerk het, sou hulle – soos die mens mos nou maar is – seker die krediet daarvan aan hulleself toe-eien. God ondermyn én oortref gereeld normale verwagtinge, en die Skrif sê dat net God heerlikheid en eer sal ontvang – net Hy kan. Hy soek die nederiges, die onopgemerkte, die verbaasdes... waar hulle hul ook al bevind: in agterstraatjies of in paleise – God soek die regte gesindheid en gehoorsaamheid.
In verse 46-55 sing Maria ’n loflied tot eer van God en uit haar woorde kan ons sien dat Maria die Ou Testament – hulle Bybel op daardie stadium – redelik goed geken het. Gaan lees dit gerus.
Maria bly dan by Elisabet vir 3 maande, dalk tot en met die geboorte van Johannes die Doper. Ek kan myself indink hoe hierdie twee mekaar in daardie tye bemoedig en versterk het, hoe hulle verhale gedeel het, saam gesing het, saam gebid het en oor en oor in verwondering gestaan het oor God se profesieë – veral die deur Jesaja – oor hierdie wonderlike ding wat aan die gebeur was in en deur hulle.
So dikwels dink ons dat ons alleen deur ’n situasie of uitdaging gaan, dat daar niemand is wat sal verstaan nie. Daar is altyd iemand wat iets soortgelyk as ons deurgaan of alreeds deurgegaan het. Ons hoef nie alleen deur moeilike tye te gaan nie. Ons hoef ook nie alleen bly te wees nie. Indien ons gehoorsaam is aan God, is daar altyd iemand wat Hy oor ons pad bring om ons te versterk en bemoedig. Moenie alleen voel nie. Moenie alleen deur dinge worstel nie – veral nie hierdie tyd van die jaar nie. Gaan haastig na hierdie mense wat God gee om te help, net soos Maria dit gedoen het. Soek ondersteuning in jou gehoorsaamheid. God sal voorsien.
Gebed:
Dankie Here dat ek kan weet U gee altyd hulp in ons taak van gehoorsaamheid. Help my om gehoorsaam te wees. Help my om ook ondersteunend te wees, as dit my taak is. Gee dat ons, as Christene, alle lof en eer aan U sal bring, terwyl ons die boodskap van hoop en bevryding versprei in hierdie tyd. Amen
2021-12-22 – Sê “ja”! (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is 3 dae voor Kersfees – ’n Christusfees! Die langverwagte Verlosser het gekom. Ons vier Kersfees juis daaroor. Dis nie ’n verjaarsdagpartytjie nie. Dis nie ’n heidense fees nie. Dit is ’n fees om God se genade en liefde vir die mens te vier. God kom uit Sy groot ontferming en kies gewone mense om diensbaar te wees vir Hom. Gister het ons gehoor hoe die engel Gabriël na Maria gekom het en haar gegroet het met die woorde: ““Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” (Luk. 1:28 AFR20). Hierdie was gewoonlik die woorde wat gebruik was om priesters en profete te groet en daarom is dit ook dat Maria nie mooi verstaan het wat hierdie groet tog kon beteken nie.
Behalwe vir die feit dat ’n engel aan haar verskyn het, dan nou nog hierdie groet ook. Ek dink enigeen van ons sou ook verbysterd en bang gewees het.
Ons lees vêrder in Lukas 1:34-38 (AFR20):
“34Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” 35Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. 36Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, 37want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” 38Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.”
’n Kind word aan Maria beloof. As dit onder normale omstandighede was, sou dit mos nou nie vreemd gewees het nie. Ons weet tog hoe dit onder normale omstandighede veronderstel is om te werk: ’n man en vrou trou en dan het hulle kinders. Dit is ’n seën van die Here, vertel die Bybel ons... Maar hierdie kindjie sou nie net enige kind wees nie, maar “Hy sal •Seun van God genoem word”, die beloofde nakomeling van Dawid wat vir altyd sal regeer. Kan jy dink wat deur Maria se gedagtes moes maal op daardie oomblik?
Maria het geantwoord dat sy dan nog ’n maagd was. Ek meen, die engel het aan haar sulke ongewone, ongehoorde nuus gebring. Wie sou haar glo? Dit is nie dat sy nie geglo het of getwyfel het nie. Dit was ’n geldige vraag toe sy vra hoe so iets dan nou moontlik kan wees. Toe die engel verduidelik dat dit deur God se genade vir die hele mensdom is dat die Heilige Gees in haar sal werk, wat was haar antwoord? “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” (Luk. 1:38 AFR20) Algehele vertroue en gehoorsaamheid!
Maria se gehoorsaamheid het natuurlik baie van haar gekos. Sy, Josef en baba Jesus moes vlug vir hul lewe. Hulle het glad nie dinge maklik gehad nie. Hoe vêr strek ons gehoorsaamheid? Wanneer ons God se Woord ontvang, dalk so deur die oordenkings heen of in jou eie stiltetyd, besef ons dat dit nie altyd gaan oor ons eie gemaksone en persoonlike begeertes nie?
Toe God vir Maria roep, het sy “ja” gesê. En kyk net die uiteindelike uitkoms van daardie gehoorsaamheid: Redding het gekom vir die hele wêreld! Hoe wonderlik is dit darem as mense begin deel in die Goddelike werking van die heerser van die heelal. Soos met Maria, kan ons ook die saad saai van God se verlossende Woord, wanneer ons “miskien”, ons “dalk later”, verander in ’n “ja”.
Gebed:
Here, ek is U dienaar. Mag met my gebeur volgens U Woord. Amen.
2021-12-21 – Hoekom ék? (Kliek hier vir die klankgreep)
Dit is nog net 4 dae, dan is dit Kersfees. ’n Jaar is amper weer verby en ons dink terug aan baie dinge. Goeie en slegte dinge. Ons wil bly wees oor Kersfees. Ons wil bly wees dat God mens geword het om ons te verlos, maar dit is moeilik in hierdie tye... Hoe moet ék bly wees. As dinge goed gaan of sleg gaan, vra ons so dikwels die vraag: “Hoekom ék?” “Hoe en hoekom moet ek die blye boodskap verkondig?”
Dit was vir meeste van ons nou al die tweede jaar wat “anders” was en baie mense gaan deur baie moeilike tye as gevolg van die pandemie. Tog, deur alles, deur die donker, breek die lig. God se lig. Selfs voor Jesus se geboorte, het hierdie lig al begin deurbreek in mense se lewens. Neem vir Maria as voorbeeld. Hier is hierdie maagd, verloof aan ’n man uit die stam van Dawid. En skielik kom daar ’n engel van die Here na haar en vertel haar dat die hoop vir die hele wêreld deur haar sal geskied. Maar hierdie gebeurtenis sal haar, haar verloofde, die kindjie en al hul omstandighede omvêrwerp. Vir ’n gewone mens, sal dit lyk of hulle in sonde leef en dat hul ongehoorsaam was aan die wet. Met hierdie wonderlike belofte en wonderwerk, het dinge baie donker gelyk...
Lukas vertel dit só:
“26In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, 27na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. 28Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” 29Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. 30Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. 31Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. 32Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. 33Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie.”
Maria het ook gewonder en gevra: “Hoekom ék?” God kies ’n eenvoudige jong vrou uit Nasaret – ’n dorpie waaruit daar nog nooit regtig iets goeds gekom het nie. Selfs Nikodemus sê dit voordat hy Jesus ontmoet het. Maar dit is so dikwels die teken van God se handelinge met die mensdom. God doen dinge op sulke vreemde maniere soms, sodat, soos 1 Kor. 1:29 ons leer: “...geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie.”
So dikwels verwar ons menslike voorkeure, sterkpunte en vindingrykheid met dié van God. Ons dink dat ons nie in staat is om dinge te doen nie. Dat ons nie in staat is om deur sekere dinge en tye te kom nie. Dat ons nie weet nie. En dit is so... Ons weet nie en ons is nie in staat nie, maar God is! Sy wil en weë is hoër as ons sin. Dit beteken dat ons dit nie eers vir onsself kan voorstel of verstaan nie, want dit is nie net ’n weergawe van wat ons sou doen nie – dit is soveel meer. Dit is hoër – buite ons bereik en buite ons begrip.
Dink daaraan: Wie van ons sal na die geringste, onbekendste persoon gaan op die kleinste, agteraf dorpie, en daardie persoon kies om die lot van die wêreld te verander – vir ewig?! Ons gaan mos eerder na die beste universiteite of maatskappye en kies iemand met ’n indrukwekkende CV, of hoe? Nie God nie. Hy kies die onsigbare, die nederige, die swak en verstote mense volgens die samelewing, want hulle weet dit is nie hulle krag of status of verdienste wat die werk gedoen kry nie. Hulle is maar té bewus van hul benadeling, hul tekortkominge, hul menslikheid.
God kies die onwaarskynlike mense, die minste gekwalifiseerdes, die mees bewus van hul tekortkominge; God kies sondaars om te verander in die beste heiliges. In sy Koninkryk word wêreldse voordeel en prag en praal getroef deur eenvoudige gehoorsaamheid en verwondering.
“Hoekom ék?” Want God sien in my wat ek self nie kan sien nie.
Gebed:
Dankie Here dat ek nie verstaan hoe U kies of werk nie. Dankie dat U my gekies het om U wonderlike Evangelie te verkondig. Help my om juis dít te doen. Amen
2021-12-20 – “Maar Here, ek is net ’n mens...” (Kliek hier vir die klankgreep)
Hoe dikwels doen ons dinge wat ons weet verkeerd is, dan kom ons by die Here en vra om vergifnis met die woorde: “Ag Here, vergewe my asseblief, maar Here, ek is net ’n mens...”
In 1 Samuel 15:10-11 (AFR20) staan: “10Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: 11“Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.”
God was jammer dat hy vir Saul koning gemaak het. Daar was aan Saul duidelike opdrag gegee om die Amalekiete uit te wis en te tref met die banvloek. Niks en niemand mag oorgebly het nie, maar Saul se manskappe het dit goedgedink om die beste beeste en skape te hou. Saul het dan nog vir homself ’n gedenkteken ook gaan oprig! Toe Saul deur Samuel daaroor aangespreek word, het Saul – soos ’n klein kind – dadelik mos eers die skuld op die manskappe gepak. Hy probeer homself nog vêrder verontskuldig deur te sê dat die vee gehou is om aan die Here te offer.
God se opdrag was duidelik: wis die Amalekiete uit. Geen uitsonderings nie. Dis so asof Saul antwoord: “Ag Here, maar ek is net ’n mens... Ek het gedink as ek mos net so klein bietjie ongehoorsaam is, sal U mos verstaan... en ek deel mos wat ek nou het met U....” Sien, God se opdrag het nie heeltemal by Saul se planne ingepas nie, toe besluit hy om dit so biejie aan te pas, sodat dit tot sy eie voordeel kan aansluit.
Hoe dikwels trap ons nie ook in dieselfde strik nie? Ons kom voor die Here en sê: “Ag Here, ek weet ek het gesondig, maar ek is net ’n mens. U sal seker verstaan dat ek nie kan ophou sondig nie...” Ons dink dat ons vir God kan lieg, Hom kan manipuleer om in te sien dat sonde nie so sleg is nie. Ons dink: “Maar Jesus was mos ook ’n mens... Hy sal mos verstaan...” Dan dink ons dinge soos:
“Ek weet U genade is genoeg, maar, Here, ek dink ek sal eerder die maklike uitweg neem.”
“Maar, Here, hoekom kan ek nie vir vyf van my beste vriende vertel van wat gebeur het nie?”
“Maar, Here, om net aan te lê by iemand met vleiende praatjies, is mos sekerlik nie om ontrou te wees nie.”
“Maar, Here, hierdie ‘vriendskap’ help my om uit my vervelige lewe te ontsnap.”
“Maar, Here, my ongesonde leefstyl maak tog niemand anders seer nie, of hoe?”
Ja, ons soek allerhande verskonings met ons “maar, Here” verskonings. Ja, Jesus was ’n mens. Maar Jesus was sonder sonde. Jesus het vir ons kom leer dat Sy Gees ons moet lei. Hy het ons kom verlos van alle sonde. Met ons verskonings en eie verontskuldigings begrawe ons onsself net dieper in die moeilikheid in. In plaas daarvan om die versoekings te demp en weg te wys, draai ons onsself daarheen. Hierdie is ’n afwaartse spiraal wat begin wanneer ons, soos Saul, reageer op God se aansporings in ons met “Maar, Here ...” en dan draai ons weg van die Here en voer ons nie Sy opdragte uit nie. Hoe meer gereeld ons daardie wegdraai maak, hoe meer flous ons net onsself dat ons onskuldig is.
Elke dag in ons lewens het ons genoeg geleenthede om God se leiding te kies of om dit te verwerp. Saul het verkies om ongehoorsaam te wees, en dit het hom die hele koninkryk gekos. Jesus het ons gewys wat dit is om gehoorsaam te wees, en Hy het die sleutels tot die koninkryk van die hemel gekry. Die enigste “maar” wat ons as gelowiges in gebed moet uiter, is die een wat Christus ons geleer het om te bid: “nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39 AFR20).
Gebed:
Here, ek is ’n mens en ek is sondig. Ek wil nie verskonings soek nie. Help my om vir U te kies en weg te draai van die sonde en versoekings. Help my om te reageer op U stem en om U opdragte te gehoorsaam. Mag U deur my lewe en keuse verheerlik word. Amen
2021-12-18 – As jou vriende in die vuur spring... (Kliek hier vir die klankgreep)
Amper elkeen van ons het iewers in ons opvoeding dit gehoor wanneer ons iets dom en verkeerd gedoen het... Natuurlik is ons uitgevang en probeer ander mense die skuld gee of ons vra nog toestemming om iets te doen wat ons weet verkeerd is of kan lei tot verkeerde dinge... Jy weet seker waarvan ek praat, nè? ’n Ouer of onderwyser wat vir ons sê: “So, as hulle in die vuur gaan spring, gaan jy ook?”
As ons nog jonk en onervare is, dan dink ons ons ouers of onderwysers oordryf en hulle weet mos nie hoe óns sal optree nie. Ons glo dat ons selfbeheersing het en dat ons dinge kan keer. Maar, weet jy, hierdie is nog altyd ’n probleem vir die mens gewees: groepsdruk. Salomo skryf in die eerste hoofstuk van Spreuke al daaroor. Dit moet seker baie belangrik wees as dit al in die eerste hoofstuk staan, of hoe? In Spreuke 1:10-11 sê hy: “10My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie. 11As hulle sê: “Gaan saam met ons;”
Salomo praat hier van jong manne wat ’n hinderlaag wil opstel vir ander mense om te roof en buit – dinge wat darem (hopelik) nie in ons jongmense se gedagtes is nie. Tog bly die raad vandag nog geldig. Ons moet openlik met ons jongmense – en onsself en mekaar – praat oor hoe aanloklik die sonde gewoonlik is. Sonde word dikwels as sommer net lawwe pret beskou. Mense verontskuldig dit gedurig onder hulself of hul kinders, deur te sê: “Ag man, dis net ’n fase waardeur ek/hy/sy gaan...” Jong, dit mag dalk ’n soet smaak op die tong los vir ’n oomblik, maar, glo my, dit sal uiteindelik ’n bitter smaak in jou mond los en op die ou end sal dit alle herinneringe daarvan versuur en jou verskriklik leeg los in jou binneste.
As ouers vergeet ons dikwels ons eie dom foute van die verlede. Ons probeer ons kinders en jongmense leer van reg en verkeerd, maar voel skaam om hulle te vertel van ons eie foute. As ons hulle nie ’n rede kan gee oor hoekom hulle versigtig moet wees vir sekere dinge, en sekere dinge moet vermy nie, gaan dit dikwels vir hulle voel ons sommer net preek. Dit is maklik om die sondes van ons jeug te vergeet, alhoewel voortslepende gevolge ons soms aan die verlede sal herinner en baie pynlik kan wees. Maar wanneer jy daardie tye onthou, dink aan dit as ’n manier om te verstaan wat jou kinders en ons jongmense ervaar.
Dinge in die wêreld is baie anders as 30 jaar gelede. Daar is nie meer Godsdiensonderrig in ons skole nie. Sondagskool is slegs ’n halfuur of uur. Kinders kry nie meer op genoeg plekke die geestelike, Christelike onderrig wat hulle moet kry nie. Dit móét by die huis begin en daar groei.
Probeer verstaan waardeur jou kinders en ons jongmense gaan. Probeer verstaan waardeur jy self gaan, in ’n totaal anderste wêreld met nuwe en meer uitdagende versoekings. Soek maniere om jouself en ons jongmense te leer oor hoe Jesus Christus se krag in ons, ons kan help om die versoeking van die sonde te weerstaan.
As dit lyk soos ’n slang, seil soos ’n slang, sis soos ’n slang – wees versigtig. Dit is seker ’n slang en dit sal jou heel moontlik pik!
Gebed:
Here, help my om die sonde te sien vir wat dit is. Help my om nee te sê. Help my om my kinders en ons jongmense te leer van reg en verkeerd. Help my om hulle te leer van U, want U help ons om reg te lewe. Dankie dat U altyd by ons is om ons te help. Amen
2021-12-17 – Bestudeer die Woord van God. (Kliek hier vir die klankgreep)
As jy hier lees of luister, is die kanse goed dat jy ’n Bybel besit of toegang het tot een. Hoe gereeld bestudeer jy dit? Nie net lees nie. Bestudeer. Soek jy antwoorde en riglyne vir jou lewe?
Die Bybel is anders as enige ander boek. Dit is nie bloot ’n verhaal nie. Dis nie ’n geskiedenisboek nie – alhoewel dit baie geskiedkundige feite bevat. Die Bybel is God se verhaal wat propvol ontsagwekkende toepassings is vir ons lewe elke dag. Maar, jou gesindheid waarmee jy die Bybel lees of daarna luister, bepaal of dit God se Woord is, of net ’n gewone boek. As jou hart oop en ontvanklik is vir die Woord van God, sal gewone lettertjies en woorde uit ’n boek wat al vir eeue met ons is, begin om vormend en lewegewend te wees vir jou.
Hoe maak ons ons harte ontvanklik vir God se Woord? Deur die Heilige Gees wat in elkeen van ons woon – elke gelowige. Jesus het voor Sy hemelvaart aan die dissipels gesê dat die Heilige Gees in elkeen sal wees om ons te herinner aan alles wat Hy geleer het. Dit is dieselfde Heilige Gees wat vandag nog in elkeen van ons woon. Ons moet die Woord bestudeer en die Gees toelaat om deur dit met ons te praat. Hebreërs 5:11-14 (AFR20) waarsku dat ons nie moet agteruitgaan in ons ontwikkeling as gelowiges nie:
“11Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister. 12Want terwyl julle teen hierdie tyd reeds leraars moes gewees het, het julle nou weer nodig dat iemand julle die grondbeginsels van die uitsprake van God leer, en het julle weer behoefte aan melk, en nie vaste kos nie. 13Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is 'n suigeling. 14Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.”
Die gewenste resultaat van Bybelstudie is transformasie, verandering. Ons wil graag groei in Christus en volwassenheid bereik, maar ons het soveel dinge wat deesdae ons aandag aftrek en ons tyd in beslag neem. Slimfone veral. Dit is mos nie meer net ’n selfoon nie. Meeste van ons het deesdae ’n draagbare klein rekenaar wat ons in ons broeksakke of handsakke ronddra. Daar is soveel toepassings op hierdie toestelle wat só maklik ons tyd steel... Dink bietjie hieraan: Wat as jy vir ’n week lank jou slimfoon inruil vir jou Bybel, of enige ander toepassing wat jy gereeld gebruik op jou slimfoon, vir jou Bybel toepassing? As jy jou tyd vir internet, aanlyn inkopies, oproepe en wie weet wat nog, inruil vir tyd in God se Woord? Sal dit ’n verskil maak in jou lewe? Wie se lewe of lewens sal daardeur beïnvloed word?
Ek verstaan dat ons deesdae baie staatmaak op die tegnologie vir ons alledaagse bestaan en ek probeer nie dat jy nou skielik allerhande skuldgevoelens ontwikkel nie, maar dink bietjie daaraan. Dink jy nie jy kan regtig maar nog meer tyd bestee aan hierdie een stuk gereedskap wat waarlik ’n verskil kan maak in jou lewe nie? Dit sal nie net jou lewe verander nie, maar ook die lewens van die mense om jou. Probeer dit.
Meeste van ons is bang om dit te probeer, want ons weet wat die Hebreër skrywer sê in 4:12 (AFR20) is ook waar: “12Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”
Ek daag jou: Laat God se Woord met jou praat. Stel jouself oop daarvoor. Laat die Gees in en deur jou begin werk.
Gebed:
Here, dankie vir die Bybel. Ek glo dat dit U Woord is. Skenk aan my toegewydheid, sodat ek meer tyd sal maak om U Woord te bestudeer. Laat U Woord lewend en kragtig wees in my lewe en deurdring tot by die raakpunt tussen my siel en gees. Verander my. Laat my groei. Tot U eer. Amen
2021-12-16 – Is jou “ja”, jou “ja” ? – Die Gelofte. (Kliek hier vir die klankgreep)
Vandag is Geloftedag, oftewel Versoeningsdag soos dit deesdae op die kalenders verskyn. Duisende mense vier egter steeds die Gelofte van 16 Desember 1838 wat afgelê was met die slag van Bloedrivier. Ongelukkig het ’n geloofsverhaal van ’n volk deur die jare ’n negatiewe konnotasie bygekry en glo baie Suid-Afrikaners dat die slag van Bloedrivier ’n rassistiese gebeurtenis was. As ons egter gaan kyk na die geskiedenis, dan sien ons dat daar sowat 60 swart mense en 3 Engelse aan die kant van die 468 Voortrekkers geveg het teen die wrede skrikbewind van Dingaan – wat sy eie halfbroer Chaka vermoor het.
Die Voortrekkers, wat ’n Christenvolk was, het ’n gelofte afgelê. Hulle het die bediening van versoening wat aan ons toevertrou is volgens 2 Korintiërs 5:11-21 ernstig opgeneem en het sovêr moontlik probeer om sake in vrede te herstel, maar kon ongelukkig nie met hierdie wrede koning onderhandel nie. Die Voortrekkers was so-te-sê omsingel op daardie dag deur ’n weermag meer as tien maal meer as hulle, maar het wonder bo wonder die geveg gewen. Maar genoeg geskiedenis nou – terug by die gelofte...
Wat is ’n gelofte? En waarom sou ons ’n gelofte aflê? Die HAT beskryf ’n gelofte as ’n plegtige belofte, onderneming, veral teenoor God. Ons tref veral in die Ou Testament voorbeelde hiervan waar mense plegtig aan God belowe het om iets te doen, indien God hulle sou help. Dus was dit – in ’n mate – ’n tipe onderhandeling met God, maar ook nie heeltemal nie. Ons weet tog, dat ons nie God kan intimideer nie, maar ons weet ook dat God ons harte ken. As ons dus ’n belofte maak, moet ons dit nakom. Ons “ja” moet ons “ja” wees. Jesus leer ons ook in Matteus 5:37 (AFR20): “37Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose.”
Nou waarom vandag die geskiedenisles en al hierdie dinge? Want in God se Woord, vind ons die grootste gelofte wat van beide kante ooreengekom is: die Verbond. God het met Noag (Gen. 6:18) en weer met Abraham (Gen. 12, 15, 17) Sy ewige Verbond gesluit. God self het belowe om vir ons ’n God te wees. In die Nuwe Testament, word hierdie Verbond voortgesit en Jesus maak dit moontlik dat almal deel kan word van God se volk. God belowe om ons God te wees en ons belowe om Sy kinders te wees, aan Hom gehoorsaam te wees en vir die wêreld te vertel van Sy wonderlike liefde.
Telkemale in die Woord word daar beklemtoon dat wanneer ons ’n gelofte aflê – wanneer ons belowe om God se volk te wees (en dit sluit Christene van alle rasse en lande in) – moet ons die “woorde... op die hart dra...” en herhaal vir ons kinders en oral waar ons gaan met hulle daaroor praat (vgl. Deut. 6:4-13). Dít is waaroor Geloftedag nog altyd gegaan het. Dit is ’n dag waarop ’n geloofsgemeenskap God se genade en mag herdenk. ’n Dag waarop daar aan ons kinders en nageslag vertel was van Wie God is. Dis nie ’n Afrikaner dag nie. Dis nie ’n “wit teen swart” dag nie. Dit is ’n dag waar ons almal se God geëer word en Sy Naam grootgemaak word.
So, is jou “ja” jou “ja”? Vertel jy nog jou kinders en alle nageslagte van die Gelofte? Leer jy nog alle mense van God se liefde? Leer jy die opkomende geslagte van die gelofte wat van toepassing is op ons stryd teen enigiets boos in hierdie wêreld? Ja, as ons mooi kyk na die gelofte, sien ons dat die Voortrekkers besef en bely het dat slegs God ons kan help teen alles wat boos is en teen die bose een. Daarom word God verheerlik en word hierdie dag gewy aan Hom alleen.
Watter stryd jy ook al deurmaak in jou lewe en watter geveg teen die bose jy ook al het, maak saam met my vandag weer ’n gelofte om hierdie dag aan God te wy, want ons weet dat Hy die vyand reeds verslaan het en dat Hy ons help met ons stryd teen die bose:
Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand – die Satan en die gevolge van sy korrupsie in mense se harte – in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring; en dat ons gereeld by elke huis wat tot Sy eer alreeds opgerig is, as gelowiges bymekaar sal kom om aan Hom alleen alle lof en eer te bring; en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning oor alle bose magte en oor alle grense heen aan Hom te gee.
Amen
Vrede vir julle almal!
2021-12-15 – Vir ewig en altyd... (Kliek hier vir die klankgreep)
Die meeste van ons het grootgeword met sprokies verhale in boeke of rolprente. Daardie stories waarin die mense een of ander moeilikheid tref. Die bose skurke probeer om die held of heldin van die verhaal se geluk te verongeluk, maar op die ou einde, wen die goeie oor die slegte en dan leef die goeie mense gelukkig saam vir ewig en altyd. Gewoonlik, aan die begin van die verhaal, weet ons nie wat die einde is nie – ons wag in spanning om te sien of hoor wat gaan gebeur. Soms weet ons al wat gebeur aan die einde, maar dit is nogsteeds lekker om te kyk, omdat ons weet daar is ’n gelukkige einde. Ek meen, sal jy nou ’n boek lees of ’n fliek kyk as jy weet dat daar ’n ongelukkige einde is? Miskien, ja... maar nie sommer nie.
Die vraag dan nou vandag: Waarna sien jy uit in die hemel? En, hoekom?
Wanneer ons deur moeilike tye gaan en worstel met die uitdagings en terugslae van die lewe; wanneer ons worstel met ons innerlike self – daardie skaaf en groei prosesse wat van ons die mens maak wat God wil hê ons moet wees – dan kan dit soms voel of rou, smart en hartseer eindeloos is. Die pyn is soos houe lyfstraf wat oor en oor neerkom op ons – dis soos golwe in die see wat ons maal en ondertoe trek. Ons kan letterlik voel hoe hierdie dinge ons energie dreineer. Wanneer dinge só gaan, is dit maklik vir ons om te wonder of dit óóit sal eindig. Sal dinge in hierdie wêreld – in my lewe – óóit beter word? Die antwoord, soos met enige sprokie, is ja, dit sal beter wees – aan die einde. Openbaring 21:4 (AFR20) gee vir ons ’n kykie in die hemel in:
“4Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of 'n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.”
Geen trane. Geen hartseer. Geen worsteling. Hoekom? Want daar sal geen dood of terugslae of worsteling meer wees nie. Anders as hier op aarde, waar ons beste vriende, geliefde ouers en grootouers, vriendelike bure, jong kinders en talle ander goeie mense elke dag sterf, leef almal in die hemel – vir altyd en ewig!
Miskien is dit nie regtig vir ons ’n troos vandag as ons onlangs ’n geliefde verloor het nie. Miskien is dit nie troos vir jou as jy deur allerhande rekeninge en finansiële uitdagings geteister word nie. Miskien is dit nie troos vir jou as jou verhouding met jou man of vrou of familie op die rotse is nie... Maar hoor wat sê net die vorige vers, vers 3 van Openbaring 21 (AFR20):
“3Ek het toe 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.””
Onthou: God hou altyd Sy beloftes en ons kan altyd vashou daaraan. Ons kan vertrou dat Hy altyd met ons sal wees en dat ons wel troos en vrede kan vind in Hom, want Hy is met ons.
Ons weet hoe hierdie verhaal uiteindelik eindig en dit is mooier en gelukkiger as enige sprokie, want hierdie is realiteit! Ons almal soek ’n “gelukkig vir ewig en altyd” einde... Deur Jesus Christus, bestaan dit reeds. Sien uit daarna en leef die lewe wat God aan jou geskenk het in daardie hoop.
Gebed:
Dankie liewe Heer, dat U aan ons ’n gelukkige “vir ewig en altyd” belowe en reeds gegee het. Wanneer ons deur pyn, smart en worstelings gaan, herinner ons daaraan dat al hierdie dinge slegs tydelik is en dat U met ons is. Amen
2021-12-14 – Tyd vir ’n bad. (Kliek hier vir die klankgreep)
In Efesiërs 5:14 (AFR20) skryf Paulus: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood en •Christus sal sy lig oor jou laat skyn.” Maar hoe word ons wakker van ’n geestelike slaap wat lyk of ons geestelik dood is? Wat veroorsaak dit? Soos in die fisiese wêreld, word geestelike siekte, slaap en dood veroorsaak deur die negatiewe inwerking van virusse en bakterieë...
Ons leef vandag in ’n wêreld waar virusse binne ’n kort tydjie ontwikkel in nuwe variante. Bakterieë kan darem nog tot ’n redelike sterk mate hok geslaan word met die ontdekking van penisillien in 1928 deur Alexander Fleming, maar voor dit gebeur het, was die mens redelik oorgelaat aan hul eie lot teen enige infeksie. Alhoewel baie mense dink dat die mense in die Middeleeue en antieke tye baie vuil was en nie gebad en hande gewas het nie, was dit nog altyd ’n gebruik gewees onder die mense. Mense het amper nog altyd geweet dat skoon hande en ’n skoon liggaam beteken minder kans op besmetting en siekte.
Met die COVID-19 virus het hierdie bewustheid onder mense weer baie duidelik geraak. Ons was ons hande en reinig dit gereeld met ’n alkohol-basis reiniger. Skoon hande en goeie higiëne bevorder goeie fisiese gesondheid en net só, bevorder “skoon hande” voor God goeie geestelike gesondheid. Om ons hande geestelik te was, beteken dat ons ons sondes bely voor God en toelaat dat Sy lewende water, Sy Heilige Gees, ons oorspoel en deurdrenk. Dawid het hierdie reiniging verstaan, toe hy geskryf het in Psalm 24:3-5 (AFR20):
“3Wie mag teen die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom staan? 4Die mens met skoon hande en 'n rein hart wat nie na nietigheid hunker en nie sweer by wat vals is nie, 5sal seën ontvang van die Here en •geregtigheid van die God wat hom red”
En in Psalm 51:12 (AFR20) vra hy ook: “12Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste.” Sien, geestelike ontwaking begin altyd met geestelike reiniging. Dit begin met die identifisering van die virusse en bakterieë wat ons harte besoedel. Ja, hierdie is nie dieselfde kieme wat ons liggame siek maak nie. Hiérdie is kieme soos twis, haat, nyd, bedrog, leuens, afguns, skinder, inhaligheid, versuim... Geestelike ontwaking kan slegs begin as ons met skoon hande en ’n rein hart voor God kan staan. Ons kan dit slegs regkry as ons erken dat ons vuil is. Dit is nie altyd maklik om dit te erken nie, veral nie as ons nog heeltyd voorgegee het dat ons skoon is nie.
As jy elke dag met vuil, besoedelde hande kos eet, gaan jy een of ander tyd begin siek word. Jy weet dat goeie higiëne nodig is vir ’n gesonde liggaam. Dieselfde geld vir jou siel. Moenie verwag om met vuil geestelike hande die Bybel te lees en skietgebedjies te bid, en só gereinig te word nie. Ons wil graag skoon voor God staan, maar ons moet besef dat ons die reiniging wat nodig is, nie uit ons eie kan bereik nie. Ons het nie die regte seep nie. Die seep wat ons kort, vloei in die bloed van Jesus Christus, vanaf die kruis op Golgota.
As jy ook hunker na ’n hegter verhouding met God, vra Hom om jou hart te ondersoek om te sien of daar enige areas in jou lewe is waarin jy skoongewas moet word voor Hom. Bely jou skuld voor God, erken aan Hom – en aan jouself – dat jy ’n geestelike bad nodig het. Wees ook maar voorbereid, soos ’n klein kindjie, om dalk herinner te word om agter jou ore ook te was. Maar, is dit darem nie lekker om skoon te kom nie?!
Gebed:
Hemelse God en Vader, ek wil so graag skoon wees voor U. Ek wil ook graag met skoon hande en ’n rein hart voor U kom. Ek weet U is die een wat aan my skoon hande en ’n rein hart gee, Here Jesus, deur U bloed aan die kruis. Reinig my en help my om skoon te bly. Wys my waar ek nog geestelik vuil is, sodat ek dit aan U kan bely en U my daarvan kan reinig. Jammer, dat ek vuil voor U kom staan, maar dankie dat ek dit kan doen, sodat U my kan reinig. Reinig my, in Jesus se Naam. Amen
2021-12-13 – Kom af aarde toe. (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar is nie een land wat nog altyd regeer het nie. Daar is ook nie een leier wat vir altyd sal regeer nie. Almal en alles kom en gaan. Baie mense in die verlede het al baie dinge kwytgeraak en gedink dat daar niks en niemand is wat hulle ooit sal wen nie – dat niemand hulle uit hulle hoë posisie van mag en krag sal verwyder nie. Kyk maar na Adolf Hitler, Benito Mussolini, selfs groot sportgeeste soos Mohammed Ali. Ali het altyd gesê “I am the greatest”. Hy het geglo dat niemand hom ooit kon wen nie. Hy was ’n baie goeie bokser, maar uiteindelik het hy verloor teen die geveg van gesondheid en ouderdom. Tog was al hierdie mense baie intimiderend en het hulle, in ’n mate, nederigheid afgedwing by mense.
Spreuke 16:18 (AFR20) sê: “18Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar 'n hooghartige gees.” En vêrder sê Salomo ook in Spreuke 29:13 (AFR20): “23Die verwaandheid van 'n mens sal hom verneder; maar hy wat nederig is, sal eer ontvang.” Dan is daar natuurlik Jesus se eie woorde in Matteus 5:5 (AFR20): “5Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.”
Ja, daar is soveel verse in die Bybel wat ons waarsku om nie hoogmoedig te wees nie. Soveel gedeeltes wat klem lê op nederigheid. In Obadja kry ons die uitspraak deur God self dat “4Al sou jy jou nes so hoog maak soos dié van 'n arend, selfs al sou jy tussen die sterre nes maak, van daar af sal Ek jou afbring,” is die uitspraak van die Here.”
God sal wie ook al of wat ook al gebruik om Sy mense weer nederig te kry. Almal van ons ken ’n moderne Hitler, Mussolini of Mohammed Ali – mense wat uiters intimiderend is en ons in ’n mate nederig hou. Ons mag dalk God se taktiek in hierdie handelings bevraagteken, maar op Sy eie manier kry Hy reg wat Hy nog altyd wou. God gebruik wat ook al nodig is om ons te kry hoe en waar Hy ons wil hê. Ons hoef ons nie te bekommer oor die intimideerders en tiranne in ons lewens nie – God sal hulle wel ook weer afbring aarde toe.
Maar nou ja, om altyd nederig te bly, is nie altyd so maklik nie. Tog weet ons dat nederigheid beteken nie swakheid of minderwaardigheid nie. Nederigheid is om die mond en hart van ’n dienaar te hê. Dit is die outomatiese gevolg van ’n dankbare gees. Tog is nederigheid een van daardie tipe doele in die lewe waarvan jy heeltemal moet vergeet om dit uiteindelik te bereik, want hoe meer jy oor jouself en jou toestand van nederigheid dink, hoe meer dink jy oor- en van jouself... en dan is dit moeilik om nederig te wees. Verstaan jy? Jy kan nie eers trots wees op jouself omdat jy nederig is nie!
Nederigheid is eenvoudig die natuurlike uitvloeisel van jou besef van jou eie sonde en God se heiligheid. Dit is die gevolg van jou daaglikse toewyding om geregtigheid en regverdiging na te jaag. Dit is die besef van oneindige dankbaarheid, om as sondige mens in die almagtige, heilige God se teenwoordigheid te mag wees. Nederigheid gebeur wanneer jy besef wie jy is in Christus.
Ons God is ’n almagtige God. Ons is geroep om Hom te volg. Hy is die enigste een wat al die eer en verheerliking verdien. Daarop mag jy maar trots wees...
Gebed:
Here God, almagtig! U alleen verdien die lof, eer en verheerliking in my lewe. Help my om, sonder om eers daaraan te dink, myself elke dag aan U te onderwerp, sodat ek nederig sal wees – sonder om trots te wees daarop. Mag ek net trots wees omdat U so ontsagwekkend is. Amen
2021-12-11 – Wegkruipertjie. (Kliek hier vir die klankgreep)
As kinders het ons baie buite gespeel. Ons het nie al die tegnologie van vandag gehad nie en die woord speel het beteken “buite speel”. Ons het allerhande lekker speletjies gehad en het sommer ons eie opgemaak ook. Die klassieke, eenvoudige speletjie van wegkruipertjie was egter altyd gewild. Een persoon “hou toe” en mag nie kyk nie, tel tot ’n sekere getal hardop – sodat almal kan hoor – en die ander kruip weg. Die een wat “aan” is, moet dan die ander soek en as hulle gevind word, moet die persoon terughardloop na waar daar toegehou is op hulle te blok. Die ander persone moet egter probeer om in te sluip tot by die blok plek, sonder om gesien te word. As jy dit kon regkry, dan wen jy. Dit was baie keer nogal senutergend gewees, maar dit was lekker. Ek is sommer lus en speel nou wegkruipertjie.
Ja, sommige van ons was of is goed om weg te kruip of om dinge weg te steek. Miskien is dit ook die rede hoekom ons dink ons kan sommige dinge vir God wegsteek. Ons weet dat Jesus Christus vir ons die oorwinning behaal het oor die sonde. Ons weet dat Hy ons Koning is en dat Hy oor alles regeer vir alle ewigheid. Ons weet daar is niks en niemand groter as ons God nie. Hy is oral. Hy weet alles. Hy is almagtig! Tog, bedrieg ons nogsteeds onsself dikwels deur te dink ons kan iets vir Hom wegsteek of wegkruip vir Hom.
Spreuke 28:13 (AFR20) sê: “13Wie sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie; maar hy wat dit bely en dit laat vaar, ervaar ontferming.”
Dit is so asof ons partymaal dink dat ons klein kindertjies is en God is die grootmens wat met streng oë na ons kyk. Ons dink dat as ons ons oë toemaak, dan sal Hy ons nie sien nie. As ons ons sondes bedek, weet Hy dalk nie daarvan nie. Dit is dalk oulik vir klein kindertjies as hulle stout was, maar ons is nie klein kindertjies nie en ons weet dat God in elk geval alles weet en alles sien. So, hoekom steek ons dinge weg vir ander mense en vir God? God weet tog van ons sonde en Hy weet dat dit die dinge is wat ons weghou van Hom. Ons kan nie wegkruipertjie speel met God nie.
Anders as die speletjie van wegkruipertjie, is God nie die een wat toehou nie. Hy is nie daar om ons uit te vang en te blok nie. Die satan doen dit wel. Hy wil ons graag uit die spel haal. Hy wil ons aankla by God. Maar God wil nie hê ons moet kinderspeletjies speel as dit by ons redding kom nie. Hy staan reg om ons te vergewe – maak nie saak wat ons gedoen het nie. Daar is niks in hierdie lewe wat jy kan doen wat sal veroorsaak dat God jou minder of meer lief het nie – Hy het jou reeds oneindig baie lief. Ons hoef nie weg te kruip nie. Ons hoef nie ons sondes weg te steek nie. Om dinge weg te steek, maak altyd net die situasie erger. Om ons sondes te bely en God se genade te ontvang is ’n beproefde en bewyse manier om ’n reuse gevoel van verligting te kry. Moenie speel met jou redding nie. Moenie jouself probeer bluf, terwyl jy weet jy nie vir God kan flous nie.
Gebed:
Almagtige, alleswetende en allessiende God, baie dankie vir die manier waarop U ons behandel as ons ons sondes voor U bring. Help my asseblief om te onthou dat, maak nie saak wat ek gedoen het nie, kan ek altyd vergifnis by U ontvang. Help my om nie probeer wegkruip of my sondes weg te steek nie. Help my om dit voor U te bely en U vergifnis en genade te ontvang. Amen
2021-12-10 – Oorwinning! (Kliek hier vir die klankgreep)
In Josua 12 lees ons van die oorwinning wat God deur sy dienskneg, Moses, en die Israeliete vir hulle behaal het. Die lys van konings is indrukwekkend, maar die lys stop nie daar nie. Daar word ook vertel van die groot landgebiede waaroor hierdie konings regeer het. As ons gaan kyk en besef hoe groot hierdie gebied werklik is vir ’n primitiewe volk (volgens vandag se standaarde) om oorwinning te kon behaal, dan getuig hierdie oorwinnings van God se vermoë om groot en sterk konings en lande te verower.
Ons word dikwels bietjie mismoedig as dinge in ons lewens nie heeltemal uitwerk soos ons dit graag wil hê nie. Ons maak planne en dan loop dinge skeef. Ons het ’n mooi prentjie van hoe ons toekoms, ons huwelik, ons verhouding met ons ouers en kinders moet lyk, maar soms gebeur daar ander dinge en voel dit of ons in ’n opdraande stryd is. Ons sukkel om oorwinnings te behaal in ons eie private koninkrykies – die plekke waar ons regeer...
As ons kyk na Josua 12 en ook vele ander plekke in die Ou Testament, is die fisiese oorlog oorwinnings wat God vir Sy volk bewerk het baie groot, maar eintlik is dit niks in vergelyking met wat Jesus self behaal het nie. Hy het nie bloot ’n oorlog teen ’n heidense koning behaal nie. Hy het die Satan, sonde en die magte van die doderyk oorwin. Hy het die donkerte van mense se harte oorwin met Sy heilige, ewige lig! Hy het nie net ’n stuk land geëien nie, maar Hy het Sy heerskappy oor die hele aarde en heelal bevestig. Paulus herinner die mense in Efese – en vir ons – in Efesiërs 1:18-23 (AFR20) en bid “...dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, 19wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, 20wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, 21bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. 22Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, 23die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.”
Die lys van konings en grondgebied in Josua 12 mag dalk baie indrukwekkend wees vir mense, maar Jesus het nie daar gestop nie. Hy wou nie vir ons net tydelike koninkryke oorwin nie. Ons uitdagings en probleme in hierdie lewe mag ons dalk onderkry, maar ons Koning is, op grond van Sy oorwinning, vir ewig alle eer, roem en glorie waardig. Alles in die hemel en op aarde, tydelike en ewige kosmiese dinge, nou en vir altyd, is onder Sy heerskappy geplaas – ja, selfs ons klein en groot uitdagings... selfs ons eie koninkrykies moet aan Hom behoort.
Onthou: Jesus kan jou bevry van alle sonde: groot, klein, wetend en onwetend. Jy hoef nie ’n slaaf te wees vir die sonde nie. Jy hoef nie gebuk te gaan onder die juk van uitdagings en terugslae nie. Weet en glo dat jou Koning – ons ewige Koning – die grootste oorwinning vir ons behaal het. Ons hoop is nie in hierdie wêreld en die koninkryke hier nie – selfs nie ons eie privaat koninkrykies nie. Ons hoop is in Hom wat die grootste oorwinning wat hierdie wêreld ooit gesien het, reeds behaal het.
Gebed:
Here Jesus, ek weet dat daar geen koning, geen koninkryk, geen mag of krag is wat U van U troon kan verwyder nie. Wanneer ek bang of angstig word oor dinge wat skeefloop in my lewe, herinner my asseblief aan U oneindige mag en heerskappy. Amen
2021-12-09 – Die las van wetende- en onwetende sondes...
Wanneer jy opsetlik iets verkeerd aan ander mense doen, is dit nie lekker nie. Jy weet jy doen iets verkeerd en jy weet ook dat jy die gevolge daarvan moet dra. Slegs psigopate en ander geestelik versteurde mense het nie hierdie skuldgevoelens as hulle iets verkeerd doen nie – maar dit is abnormaal. Maar wat as jy nou iets verkeerd doen en jy weet nie dat dit verkeerd is nie. Kan jy nogsteeds daarvoor aanspreeklik gehou word? Is jy skuldig? Is dit sonde? Wat as jy honderde verkeerde dade onwetend gedoen het, en uiteindelik daarvoor moet skuld dra? Hoe swaar moet die las nie wees op jou skouers nie?! Sal enigeen van ons dan ooit goed genoeg kan wees? Onregverdig, of hoe?
In die Ou-Testamentiese wette, sou jy vir seker skuldig gewees het aan baie sondes. In Levitikus 5:14-19 verduidelik God aan Moses dat die volk skuldig is aan onwetende sondes – ja, al daardie dinge wat jy eerlikwaar kan sê: “Maar ek het nie geweet dit is verkeerd nie.” God se wet was duidelik: Niemand is goed genoeg nie, selfs nie die wat onwetend sondig nie. En vir elke sonde was daar ’n bloedoffer vir herstel wat gedoen moes word. Sjoe, dis erg! So, het dinge verander? Baie min mense dink vandag só aan sonde, sodat hulle hulself kan verontskuldig, maar weet jy wat? God bly dieselfde. Sy standaarde van volmaaktheid kan nie behaal word nie, selfs nie deur die beste van ons op ons beste dae nie.
Klink nogal verdoemend en onheilspellend vir ons, of wat sê ek? Dit sou definitief so wees, as dit nie was vir die versoenende offer van Jesus Christus aan die kruis nie. Al die offers van die Ou Testament was die voorlopers en het Jesus se finale offer voorafgeskadu. Toe Jesus Homself aan die kruis geoffer het, het Hy die prys van al ons sondes ten volle betaal. Ons hoef nie meer offers te bring vir herstel van die sondes wat ons wetend of onwetend pleeg nie. Geen ander bloedoffer sal ooit weer nodig wees nie.
Onthou jy gister se teks in 1 Joh. 1:8-10? Ons moet nie dink ons is sonder sonde nie. Ons moet ons sondes bely. Die wat ons wetend en onwetend pleeg. Ons moet aanhoudend erken dat ons sondaars is. Nie om met skuldgevoelens rond te loop nie, maar om gedurig te erken dat ons God se vergifnis nodig het en dat Hy ons moet nuut maak, sodat ons kan onderskei wat reg en verkeerd is. Wanneer ons dit doen, gee God ons oor en oor ’n nuwe begin – elke keer! Ons hoef nie weer te verval in ons ou gewoontes nie. Ons hoef nie slawe te wees van die sonde nie. Deur die bloed van Jesus, verlos God ons van ons sondes. Ons is waarlik vry en vergewe.
Miskien voel jy skuldig omdat jy te veel werk en jou gesin afskeep. Miskien voel jy skuldig omdat jy sukkel om ontslae te raak van slegte gewoontes. Miskien voel jy skuldig oor iets wat jare terug gebeur het. Miskien voel jy skuldig omdat jy onwetend iets verkeerd gedoen het. Al hierdie dinge is regtig ’n baie swaar las om te dra, maar Jesus sê vir ons in Matteus 11:28-30 (AFR20)
“28“Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. 30Want my juk is draaglik en my las is lig.””
As ons ons sondes bely, vra om vergifnis en die vergifnis aanvaar wat Jesus ons bied, hoef ons nie bloedoffers te bring nie. Ons kan eerder offers van dankbaarheid, bekering, lofprysing en diens bring. Leef ’n lewe van dankbaarheid vir God se genade en deel Sy liefde, omdat “die liefde 'n menigte sondes bedek”, sê Petrus in 1 Petrus 4:8.
Gebed:
Dankie Here Jesus dat U my waarlik vry kan maak. Gee aan my U vrede wat ek vind in die vergifnis en genade van U kruis. Amen
2021-12-08 – Wees eerlik met jouself en God. (Kliek hier vir die klankgreep)
Hierdie tyd van die jaar, begin baie mense opgewonde raak. Dis amper Kersfees. Die nuwe jaar lê om die draai. Nuwe geleenthede. Nuwe avonture. Die jaar is amper verby en, veral as dit nie ’n goeie jaar was nie, sien ons nogal uit na die nuwe jaar. Ons is hoopvol dat dinge beter sal wees, dat ons oor kan begin, indien nodig...
Maar om oor te begin, moet ons eers besin oor wat verby is – waarvan wil ons oor begin? Ons moet selfondersoek doen. Ons moet begin kyk na wat skeef geloop het en beter probeer beplan. Ons moet die dinge wat verkeerd en sleg is in ons lewens, probeer verwyder. En as ons begin kyk na onsself – eerlik en opreg kyk na onsself – dan kom ons agter dat elkeen van ons foute het. En as ons ons foute begin raaksien, kom ons agter dat ons foute dikwels sondes is. En sondes moet bely word...
Wat beteken dit om ons sondes te bely aan God? Wat gebeur wanneer ons ons sondes aan God bely? Hoor wat skryf Johannes in 1 Johannes 1:8-9 (AFR20):
“8As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. 9As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.”
Toe Johannes hierdie brief geskryf het, was daar mense wat beweer het dat hulle nie sondig nie – dat hulle, omdat hulle gedoop is, nie meer kan sondig nie. Vandag nog verstaan mense nie heeltemal wat die beteken om jou te bekeer nie. Mense dink dat wanneer jy met jou mond net die woorde so nou en dan uiter dat jy glo in Jesus Christus, dat alles skielik vir jou geoorloof is – dat jy maar kan doen net wat jy wil, want daar is mos genade en niks is eintlik meer sonde nie... Ons weet dat dit nie waar is nie. Almal sondig. Ja, selfs die ouderling en diaken, selfs die dominee of pastoor.
As ons weier om te erken dat ons gesondig het, beteken dit dat God se waarheid nie in ons is nie sê vers 8 en in vers 10 sê Johannes dit nog reguiter: “10As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” Verstaan jy? God se waarheid kan ons nie behoorlik binnedring en oorneem, totdat ons nie erken dat ons sondaars is wat gered moet word nie. Om oor te begin, om nuutgemaak te word, moet jy eers besef waarvan jy nuutgemaak wil word.
Die Griekse woord wat gebruik word vir die woord “bely” beteken veel meer as net om te erken dat ons sonde het. Ons moet ook met God saamstem dat ons verkeerd is. Ons moet dus ons sondes bely aan God, terwyl ons saamstem dat ons Sy vergifnis nodig het.
Ons kan oor begin. Ons kan nuut begin en nuutgemaak word. Wanneer ons opreg ons sondes bely, is God getrou om ons te vergewe. Hy sal ons weer rein maak. Onthou Paulus se woorde in Romeine 8:35-39 (AFR20):
“35Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Soos daar geskryf staan:
“Ter wille van U word ons
die hele tyd aan die dood uitgelewer,
word ons as slagskape beskou.”
37Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. 38Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, 39nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
Gebed:
Liefdevolle, genadige God, ons bely dat ons gesondig het. Vergewe ons asseblief van ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Dankie vir U getrouheid en genade. Amen
2021-12-07 – Ek en my huis... (Kliek hier vir die klankgreep)
’n Baie bekende vers in die Ou Testament, is waar Josua voor die volk staan en hulle voor ’n keuse stel. Hy vra hulle wie hulle wil dien en volg. Josua 24:15 (AFR20) sê: “15Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”
’n Eenvoudige keuse: dien God of dien iets of iemand anders. Hoe dikwels kom ons nie ook voor hierdie keuse te staan nie. Ons antwoord vol oorgawe soos die volk in vers 16: “Nooit sal ons die Here verlaat deur ander gode te dien nie;”
Vir die Israeliete was dit altyd dieselfde gewees, dieselfde antwoord... Maar wag dat dinge net ’n bietjie moeilik raak – of te gemaklik – dan dwaal hulle maar weer af en hardloop agter hul bure se gode en vrouens aan. Verstaan jy hoekom die Bybel vandag nog só verskriklik toepaslik is? Die verhaal van die mensdom en ons verhouding met God blyk om in ’n ewige herhaal-siklus te wees – ons wil net nie leer vanuit die foute van die verlede nie. God hou Sy deel van die ooreenkoms – die verbond – maar ons sukkel daarmee.
God het die Israeliete bevry uit Egipte; hulle gelei en versorg in die woestyn. Hy het hulle gebring tot by die beloofde land en die land in hulle mag oorgegee. Sy opdrag was dat hulle die afgod-diening heeltemal uitwis – Hy sal hulle help... Maar die Israeliete besluit eerder om halfhartige te veg en saam met die heidene in te trek, hulle land te deel en ook deel te neem aan hulle kulturele gebruike. Hul vat selfs van die heidene se vroue vir hulself – en daarmee saam, hul godsdienstige gebruike. Josua verduidelik in verse 19-24 aan die volk, dat om God te dien nie net lippetaal is nie. God is ’n heilige God; ’n besitlike God. Hy vra hulle: “Sal julle regtig hierdie keer julle beloftes hou?” En soos oudergewoonte, sê die volk in vers 24: “Ons sal net die Here ons God dien, en ons sal net na sy stem luister.”
Hoeveel keer het ons dit nie al ook gedoen nie? Hoeveel keer, wanneer dinge dalk sleg gaan met ons, kom ons na die Here toe en probeer Hom sagmaak? “Ag Here, as U my tog net hiermee help, dan sal ek vir altyd U dien...” of “Ag Here, maak my of my geliefde tog net gesond, dan sal ek weer elke Sondag eredienste bywoon...” Ons vergeet so maklik: God is God. Ja, ons het vrye wil en ons besluite, kan ons hele lewe – nou en vir alle ewigheid – verander, maar God is ook reeds daar. Ons kan nie halfhartige beloftes aan God maak nie. Ons kan nie dink ons flous of manipuleer vir God nie.
In die begin van die COVID-19 inperkinge, was dit so mooi om oral op sosiale media te sien hoe mense weer op God vertrou en tyd maak vir God. Alle ongoddelike dinge en gebruike was verwyder uit mense se lewens. ’n Nuwe verbond is weer met God gesluit. Oraloor het mense gesê: “Ons sal net die Here ons God dien, en ons sal net na sy stem luister.”
Josua het seker, amper aan die einde van sy bediening en leierskap van die volk, daar voor hulle gestaan het en seker gedink – soos ek gedink het aan die begin van die inperkinge: “Ai, ek wens ek kan hulle glo. Ek wil hulle so graag glo, maar mense verander nie regtig nie...” As dit is hoe Josua gedink het, sou hy reg wees – die Bybel beaam dit. As ek kyk hoe dinge in gemeentes en die wêreld nou al weer gaan, beaam die mense ook my gedagtes.
Sal ek regtig hierdie keer my beloftes hou aan God? Met die krag van die Heilige Gees, sal ek vir seker glo dat ek kan. Met Jesus Christus se versoeningswerk en die nuwe verbond wat Hy tot stand gebring het, sal ek uit dankbaarheid leef en God alleen dien. Deur God se genade, sal ek my elke dag bekeer van my verkeerde weë en sal ek ophou leë beloftes maak aan Hom. “... ek en my huis, ons sal die Here dien.”
Gebed:
Here, vergewe my dat ek soms leë beloftes en halfhartige pogings maak. Ek weet dat U my op die regte pad kan hou, slegs as ek styf vashou aan U hand. Help my. Gee my krag en moed en hoop, sodat ek net vir U sal dien. Ek wil geen ander gode dien of eers ken nie. U is my God. Dankie dat ek U kind kan wees. Amen
2021-12-06 – Veldbrande... (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek dagdroom dikwels van ’n samelewing waar almal oor die weg kom. ’n Land waar alles mooi en reg werk. ’n Plek waar mense streef om die regte ding te doen en almal in ag neem voordat hulle iets sê of iets doen. Dit sal darem so wonderlik wees as mense só kan leef... Maar deesdae voel dit of ons groen weivelde afgebrand word en ons verstik in die rook...
In die brief aan Titus, skryf Paulus ’n hele paar belangrike riglyne en vermanings. Dit wil voorkom of die stad Kreta in daardie tyd baie vooruitstrewend was. Dinge het goed gegaan... Maar ons weet mos: as dinge goed gaan met mense, dan vergeet hulle gou van God en mense verval gou in ou maniere en selfs nuwe slegte gewoontes, dwaalleer en waardes van die samelewing. Paulus skryf aan Titus en herinner hom aan God se geregtigheid en die waardes wat hoort by Christene en die kerk.
Christene moet goeie leiers wees en nie verval in die gebruike van die wêreld nie sê Paulus in die eerste hoofstuk. Christene moet ook hul persoonlike lewens goed inrig en fokus op die geloof van hul eie huishoudings vertel hy aan Titus in die tweede hoofstuk. Hierdie goeie Christelike waardes moet voortvloei uit huishoudings na verhoudings met werkers en ander mense van die samelewing vertel Paulus vêrder in hoofstuk twee. Dit is nodig dat ons God se geregtigheid, genade en liefde uitleef, verduidelik hy. Só, moet ons optrede dan ook wees in gehoorsaamheid aan diegene wat in gesagsposisies oor ons aangestel is, solank ons nie ons identiteit in Christus vergeet nie, skryf hy vêrder in hoofstuk drie.
Die brief aan Titus is slegs drie hoofstukke, 46 verse, maar die inhoud daarvan is so breedvoerig en insiggewend, dat ons eintlik wens ou Paulus kon meer geskryf het.
Die grootste kommer wat in die brief uitgespreek word, is nie die bekamping van die valse leerstellings wat oorvloedig was op Kreta nie. Dit is ook nie die gebrek aan ordelike en eerbare kerkleiers nie. Die diepste bekommernis wat Paulus en Titus het, is om die Kretense kerk uit te daag om, deur diens, ware getuienis van hul geloof te gee. Om goed te doen aan ander, moes vir hulle die deurslaggewende uitdrukking van die verlossing wat in Christus gevind word wees (Titus 3:7-8).
Ja, ek sal altyd droom van ’n wonderlike, vreedsame, goed-werkende samelewing en regering. Ek sal aanhou bid daarvoor, want ek weet dat dit slegs kan gebeur wanneer ons, as Christene, begin vasstaan in ons geloof en begin saamstaan in ons geloof. Wanneer gelowiges in solidariteit saam optree, gee hulle uitdrukking aan hul geloof in ’n regverdige God wat met liefde en barmhartigheid vir almal opgetree het.
Gaan lees gerus die brief wat Paulus aan Titus geskryf het in die Nuwe Testament.
Om die wêreld te verander, moet elkeen van ons eers ons eie wêreld verander. As ons dit begin regkry, kan ons saamwerk om die onmiddellike wêreld wat ons deel te verander. Het jy al gesien hoe mooi kom daar nuwe lewe na ’n veldbrand? Die liefde van God brand soos ’n klein vuurtjie in ons harte. As ons dit op die regte plek en op die regte manier aanwend, sal dit versprei soos ’n veldbrand wat deur die wind van God se Gees aangewaai word – niemand sal dit kan stop nie. Dit sal die onkruid en die dorings en dissels voor dit verteer, sodat daar weer nuwe lewe kan voortkom.
Laat jou lig vir Jesus helder skyn en laat jou vlam vurig brand tot eer van God. Vrede vir julle almal!
2021-12-04 – “Ek is die HERE.” (Kliek hier vir die klankgreep)
“1God het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Ek is die Here. 2Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam ‘Here’ het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.” – Eksodus 6:1-2 (AFR20)
Terwyl die Israeliete as slawe in Egipte gewerk het, het hulle God geken, maar omdat daar soveel ander gode aanbid was, het hulle God nie geken aan Sy unieke Naam nie. God kom dan persoonlik na Moses en openbaar Homself deur Sy Naam aan al die wonders wat Hy tot dusvêr vir Sy mense gedoen het te koppel. Hy is die God wat met Abraham, Isak en Jakob ’n verbond gesluit het. Hy is die God wat vir Josef in Egipte as onderbevelvoerder van die land laat heers het. Hy is die God wat die Israeliete na Egipte laat gaan het, toe daar hongersnood in hul eie land was. En Hy is die God wat hulle onder die juk van slawerny sou bevry. God het deur Moses (Eks. 6:3-7) die volk probeer aanmoedig om nie te bekommer nie, want die God wat nog altyd in hul belang opgetree het, gaan dit weer doen. Hy hou Sy beloftes.
Gaan kyk gerus na ander gelowe. Hierdie unieke, persoonlike, volgehoue openbaring van God aan Sy mense, is eie aan die Christelike geloof. Ek sê nie dat God Hom nie openbaar aan ander mense nie, maar omdat ons in ’n persoonlike verhouding met God is, deur Jesus Christus wat dit vir ons moontlik gemaak het, ervaar ons die God van die Bybel nie as een of ander onbetrokke godheid wat onbesorg is oor die lot van Sy mense nie. Nee, Hy is eerder die God wat almagtig en verhewe is en algeheel in beheer is van alle dinge. Hy is die God wat diep besorg is oor- en betrokke in by die lewens van Sy kinders.
Kersfees is om die draai. Dit maak nie saak of 25 Desember Jesus se presiese geboortedag is of nie. Wat saak maak, is die feit dat ons die demonstrasie van hierdie persoonlike sorg van God vier. Hierdie enigste, ware God se liefde en sorg vir Sy kinders, word gedemonstreer in die manier waarop Jesus Homself verneder het, die regterhand van God die Vader verlaat het, en Sy plek aan die kruis ingeneem het (Fil. 2:5-11).
Die wêreld kan dit maar ontken en die wêreld kan maar stry en baklei teen die Christendom. Dit mag dalk vir hulle soos ’n sprokie klink. Mense sal allerhande redes soek om die fokus van hierdie intieme verhouding te verwyder deur te sê dat ons nie mag Kersfees vier nie en allerhande menslike redes daarvoor aanvoer. Baie mense sal terugval in die Joodse gebruike en dit aanvoer daarvoor, maar selfs toe Moses hierdie persoonlike God aan die mense bekend gestel het, wou hulle nie luister nie (Eks. 2:8).
Dalk is mense jaloers op hierdie persoonlike verhouding wat ons het met God. Dalk is die duiwel besig om baie mense te oortuig dat hulle reg is, maar hulle kom nie eers agter hulle is besig om af te dwaal nie... Paulus skryf in Fil. 2:5-11 in die Christus-himne, dat ons uiteindelik nie hierdie persoonlike God kan vermy nie. As Hy die fokus en middelpunt van ons bestaan is, sal elke knie buig en elke tong bely, “Jesus Christus is die Here, tot eer van God die Vader.” (Fil. 2:11 AFR20)
Ons vier binnekort Kersfees. Ons vier die unieke Seun van God se koms na ’n gebroke wêreld. Ons vier die God wat persoonlik betrokke is by Sy kinders, deur mens te geword het; Hy wat Sy vyande liefgehad het en hulle selfs Sy vriende genoem het (Rom 5:10) – ja, dit is ons, voordat ons Hom geken het. Ons vier Hom wat die glans is van die heerlikheid van God, maar tog gewillig is om diegene lief te hê wat gereeld ’n kinderlike geloof openbaar (Luk. 18:16). God is die Koning van die heelal, maar tog die Een wat swakke mense toelaat om Hom hulle Vader te noem en tot Hom te nader (Rom. 8:15). Hy is Jahwe, volgens die Hebreeuse teks, die Here God, die Almagtige. Hy is ons God.
Gebed:
Here Jesus, baie dankie dat U die gordyn verwyder het wat my geskei het van my hemelse Vader. Dankie dat U dit moontlik maak vir my om in ’n persoonlike, intieme verhouding te wees met die almagtige God van die heelal. Ek loof en prys U, dat U aarde toe gekom het om dit vir my te bewerk. Amen
2021-12-03 – Is die Bybel waar? (Kliek hier vir die klankgreep)
’n Mens hoor deesdae baie mense wat beweer dat slegs ’n spesifieke vertaling van die Bybel geglo kan word en gelees moet word. Daar is baie mense wat aanvoer dat jy die Bybel letterlik moet lees. Ander sê weer dat jy glad nie letterlik moet lees nie, maar dit alles as slegs voorgestelde riglyne moet vat. Deesdae is daar selfs mense, predikante en teoloë, wat aanvoer dat die Bybel slegs “mense taal oor God” is en dat ons maar moet aanvaar dat die Bybel feilbaar is. So, is die Bybel waar? Kan ons vandag nog die Bybel glo?
Sien, as ons met ons eie vooropgestelde idees en agendas die Bybel wil lees – as ons ons eie boodskap wil inwurm in sekere tekste in – dan gaan ons dikwels teleurgesteld aan die ander kant uitkom. As ons die Bybel lees, dan moet ons toelaat dat die Bybel ons lees. Ongelukkig lees die meerderheid van mense wat hulself Christene noem nie gereeld die Bybel nie.
Volgens die Bybel self, is die hele Skrif deur God geïnspireer en is dit “nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, 17sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.” (1 Tim. 3:16-17 AFR20). Petrus beaam dit ook as hy sê dat die die Woord nie hul eie woorde is nie, maar “meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.” (2 Pet. 1:21 AFR20). Ons lees natuurlik ook op baie plekke in die Bybel waar God self gepraat het en die mense dit neergeskryf het.
Die Bybel is oor omtrent 2000 jaar geskryf deur meer as 40 mense en bestaan eintlik uit 66 boeke. Vervulde profesieë en argeologiese ontdekkings bevestig gedurig die eis wat die Bybel self maak om God se Woord te wees. As ons kyk na die interne konsekwentheid van die Bybel, kan ons dan ook nie anders as om te glo dat dit werklik die Woord van God is nie: regdeur die Bybel kan ons sien dat dit die boodskap van God se volgehoue liefde, sorg en genade aan die mens verkondig.
Maar goed, as ons dan erken dat die Bybel waar is, is dit nie net ’n geskiedenisboek nie? Hoe is hierdie boek dan nuttig? Hoe help dit my elke dag? Wat maak dit saak of ek die Bybel lees of nie?
Ek sê weer: as ons wil hê dat die Bybel nie net ’n boek is nie, maar God se Woord, dan moet ons toelaat dat die Bybel óns lees. Die skrywer van die Hebreër brief sê in vers 12 van hoofstuk 4 (AFR20):
“12Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”
Wanneer ons glo in God; glo dat Jesus Christus die Seun van God is en self God is; glo dat God Homself aan ons openbaar deur die Bybel – Sy Woord – deur die werking van die Heilige Gees, dan moet ons toelaat dat die Woord ons menswees oopvlek soos ’n tweesnydende swaard. Die Woord moet met ons praat. Dit moet ons diepste geheime en voornemens en gedagtes voor God oopvlek – daardie dinge wat ons dink ons selfs vir onsself kan wegsteek.
Ons kan nie Bybel lees om te hoor wat ons wil hoor nie, ons moet luister na wat God vir ons wil sê. Die Bybel is nie mensewoorde óór God nie. Dit is God se woord oor God se liefde en genade vir Sy mense. Dis nie sommer net ’n geskiedenisboek nie. Dit is ’n vertelling en voorspelling van God se getrouheid – dat Hy altyd Sy beloftes hou en ons nooit sal verlaat nie. Die Bybel gee ons ewige hoop – nie vooruitsigte vir ’n vrolike, sorgvrye toekoms op aarde nie. Ons hoop is in Hom wat ons vooruitgegaan het en ewig bestaan.
Lees God se Woord. Maak dit oop. Maak jouself oop. Laat dit deurdring tot by die raakpunt tussen jou siel en gees. Laat dit jou hart en gedagtes se voornemens beoordeel.
Mag God se Woord lewend en kragtig wees in jou lewe!
Vrede vir jou!
2021-12-02 – Om die leisels oor te gee. (Kliek hier vir die klankgreep)
Net voordat Jesus Sy bediening op aarde begin het, was daar ’n familielid van hom besig om die mense te leer oor Jesus se koms. Sy naam was Johannes. Hy het ook mense gedoop en die doop wat hy bedien het, was vir vergifnis van sondes – voordat Jesus daardie prys ten volle kom betaal het.
Alhoewel Johannes se bediening baie belangrik was en ’n groot impak gemaak het op baie mense, was sy doel om die pad voor te berei vir die komende Messias. In Johannes 1:15 (AFR20) lees ons: “Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ”” Johannes het geweet wat sy doel was en het homself nooit as groter beskou as die Een wat ná hom gekom het nie. Toe die Joodse leiers in Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om vir Johannes te vra wie hy is, het Johannes die aandag van homself afgehaal en op Jesus gerig deur te sê: “27Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” (Joh. 1:27 AFR20)
In ons eie lewens en veral in verhoudings, is dit soms moeilik vir ons om die leisels oor te gee. Ons wil so graag in beheer wees van alles. Om ’n mindere posisie in te neem as ons huweliksmaat of kollega of vriend of broer of suster, is moeilik. Ons raak gou jaloers. Ons hou nie daarvan as iemand anders meer aandag kry as ons nie. Ons wil graag die pas aangee en besluit teen watter tempo die perd galop... Maar ja, soos die ou mense ons geleer het: Miskien moet ons nie so gou op ons perdjie wil spring nie. Miskien moet ons leer om die leisels oor te gee.
Dit is soms moeilik om ’n dienaar te wees in ’n verhouding sonder dat dit voel of ons onsself in ’n mate verloor. Tog roep God ons om ander te dien. Johannes die doper leer ons hoe mens die mindere moet wees, deur die weg voor te berei vir ander mense om Jesus te ontmoet. Vêrder het Jesus self dit nog beter kom demonstreer deur altyd die dienaar te wees – Hy het selfs Sy dissipels se voete vir hulle gewas.
In ’n huwelik moet ons leer om onderdanig te wees aan mekaar, uit ontsag vir Christus, leer Efesiërs 5:21 ons. Hierdie dienende gesindheid is ook van toepassing op enige verhouding in ons lewens. Ons verloor nie ons identiteit deur die leisels oor te gee aan iemand anders nie, want ons gee die leisels oor aan Jesus Christus, ons Here. Ons identiteit is in Hom gesetel, Hy wat die grootste dienaar van almal is: “6Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, 7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (Filippense 2:6-7 AFR20).
Gee maar die leisels oor – eers aan God. Laat Hy jou lei na waar jy moet dien en waar jy leiding moet oorgee aan ander mense in jou lewe. Wees die minste.
Om mekaar te dien, leer ons om meer soos Jesus te wees. In Hom vind ons vreugde daarin om die minste te wees.
Gebed:
Dankie liewe Heer vir die voorbeeld wat Johannes die doper kom stel het van hoe om die minste te wees. Dankie Here Jesus dat U ons nog beter kom wys het. Help my om die leisels oor te gee aan U en ook aan ander mense waar nodig. In my huwelik, my verhoudings en oral in my lewe: mag ek U dien en daardeur ook ander, soos U my leer. Amen
2021-12-01 – Ons hoë Rots! (Kliek hier vir die klankgreep)
In die Psalms vind ons gedurig van koning Dawid se liedere wat hy gesing het toe hy bly was, hartseer was, bang was en selfs ook baie depressief en ongelukkig was. In amper elkeen van hierdie psalms vind ons die hart van ’n gelowige – soms geestelik op ’n goeie plek en soms vol twyfel en vrae. Tog, in meeste psalms, sien ons ook hoe goed dit is om jou gedagtes neer te skryf, want in meeste psalms, sien ons hoe koning Dawid en die ander psalmdigters weer tot die besef kom dat God in beheer is en dat God moet regeer oor ons lewens. Ons sien hoe hierdie mense weer besef dat God hul rots is, hul veilige plek – in enige situasie. Psalm 61 (AFR20) is een van daardie psalms. Hoor wat skryf Dawid:
“2Hoor my klaagroep, o God, luister aandagtig na my gebed.
3Van die einde van die aarde roep ek na U, wanneer my moed my begewe. Lei my na 'n rots wat vir my te hoog is;
4want U is vir my 'n skuilplek, 'n versterkte toring teen die vyand.
5Ek wil vir altyd in u tent vertoef, ek wil skuil onder die beskutting van u vlerke. •Sela
6U is immers die Een wat luister na my geloftes, o God; U gee 'n erfdeel aan hulle wat vir u Naam ontsag het.
7Vermeerder tog die dae van die koning se lewe, mag sy lewensjare geslagte lank duur,
8mag hy altyd voor God regeer. Voorsien toewyding en waarheid, laat dit oor hom wag hou!
9Só wil ek u Naam vir altyd besing, om my geloftes dag ná dag te betaal.”
As God se leier oor Sy mense, besef Dawid sy eie broosheid en swakheid as mens en smag hy na die stabiliteit en beskerming wat hy in God – sy Rots – kan vind. God is nog altyd dieselfde en is nog altyd onwrikbaar. God is onveranderlik in Sy liefde en sorg vir ons en Hy word nie geraak deur enige vyand of weerstand nie. Dawid, in sy wysheid, erken sy kwesbaarheid en steun op die Een wat vir ewig sal bly staan en vasstaan – hy vertrou op die standvastige, onbeweeglike God.
In die Nuwe Testament leer ons dat Jesus Christus ons geestelike Rots is. In 1 Kor. 10:4 sê Paulus ook dat Jesus die geestelike rots is wat Moses en die Israeliete gevolg het in die woestyn. Só is Jesus ons bron van lewende water en ons bron van hoop – Hy voorsien lewe aan elkeen wat dalk op een of ander manier hopeloos word of voel. Romeine 10:13 (AFR20) herinner ons aan Jesus se eie woorde, sowel as die woorde van die profeet Joël: “...elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”
Ja, die lewe is soms moeilik en soms baie uitdagend, maar onthou, jy kies hoe jy dit benader. Gaan jy fokus op die negatiewe, aanvallende en neerdrukkende situasies en omstandighede? Of gaan jy, soos Dawid, bid en vertrou dat God jou sal lei na ’n hoë rots wat jou veilige bewaring is teen die vyand? Gaan jy vergeet van die Rots van die eeue of gaan jy jouself herinner aan Jesus se duidelike boodskap van verlossing wat vrylik aan jou gebied word as jy glo en Sy Naam aanroep?
Gebed:
Here Jesus, ek is kwesbaar, ek is ’n mens, maar U is nie. U is my rots. By U is ek veilig. Gee my die krag, geloof en oortuiging om ten volle op U te vertrou. Mag ek ander ook lei om ten volle op U te vertrou vir beskerming en sorg. Amen
2021-11-30 – Ons leiers kort iets... (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons praat oor reg en geregtigheid in Suid-Afrika, is daar maar min mense wat graag sal wil deel in die gesprek. Daar is baie min respek vir die wetstoepassers in ons land – juis omdat daar in die twee laaste dekades soveel korrupsie en skandes tot lig gekom het. Die leiers van ons dorpe, stede en ook provinsies en land, word oor dieselfde kam geskeer. Dit is regtig harsteer as ons kyk na God se geregtigheid en God se reg, dat die mens altyd sukkel om daarby uit te kom. Dit was mos nie God se bedoeling met leiers nie.
Een funksie van leiers in die Ou Testament, was om te help om geskille tussen mense te skik. Hierdie leiers moes wyse mense wees en moes onpartydig kon wees. Hulle moes na beide kante van ’n storie kon luister, deur die details sif en dan eers by ’n regverdige en onpartydige oplossing uitkom. Hoor wat sê God in Deuteronomium 1:15:17 (AFR20) oor hierdie leiers:
“15Ek het toe julle stamhoofde geneem, verstandige manne met ervaring, en hulle as hoofde oor julle aangestel: •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien, as opsieners oor julle stamme. 16“Ek het in daardie tyd julle regters opdrag gegee en gesê, ‘Luister na albei partye en gee 'n regverdige uitspraak tussen volksgenote, en ook tussen 'n volksgenoot en 'n •vreemdeling by hom. 17Moenie partydig wees in 'n regsaak nie. Luister na die onbelangrike persoon soos julle na die belangrike persoon sou luister. Moet julle nie deur 'n mens laat afdreig nie, want die regspraak is 'n saak van God. 'n Saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, dan sal ek dit verhoor.’”
Hierdie leiers se God-gegewe taak en doel was om die sogenaamde “onbelangrike persone” dieselfde behandeling en gereg en regverdigheid te gee as die “belangrike persone” in die samelewing. Met ander woorde: daar was geen diskriminasie nie. Jou beursie en jou status en jou titel het nie saakgemaak nie – almal moet gelyk behandel word as dit kom by reg en geregtigheid.
Vandag sien ons dit baie min. Die leiers van vandag – nie net in Suid-Afrika nie – het nuwe waardesisteme aangeneem. Geld, status en die verdraaiing van die waarheid, of ’n goeie argument in guns van die oortreder van wette en norme en waardes, is genoeg om deesdae die leiers se koppe te swaai. Goeie leiers in besigheid, die landsregering en onderwys is veronderstel om die kern van ’n probleem raak te sien, om oop te wees vir alle standpunte en om al die bewysstukke of ondersteunende materiaal te oorweeg – en dan eers ’n regverdige en onbevooroordeelde besluit te neem.
Maar dit gebeur nie. Hoekom nie? Iets kort... Daar is nie meer ’n geestelike dimensie aan ons leiers nie. God ontbreek. Maar uiteindelik moet alle leiers voor God verantwoording doen. In hierdie tyd, moet hulle aan die mense wat hulle lei verantwoording doen, en hulle kan dit probeer vermy en dit ook regkry, maar voor God sál hulle te staan kom. Ag, hoe wonderlik sal die regering en die besigheidswêreld en die skole darem wees as mense tog kon besef dat hulle verantwoordbaar is aan ’n alles-sienend, onpartydige God wat eendag oor hulle sal beoordeel en veroordeel.
En ja, my liewe mens, hierdie geld ook vir jou. By jou huis, in die kerk, in jou verhoudings met jou maat, jou kinders, jou ouers, jou werkgewer, jou werknemers, jou vriende, jou vyande... As jy reg en geregtigheid wil laat geskied in jou wêreld, moet dit begin by jou. Staan op vir wat reg is. Wees die leier wat God wil hê jy moet wees.
God se reg en geregtigheid kan slegs seëvier, as Hy regeer.
Mag die Here jou seën met wysheid. Mag jy Sy vrede ervaar en mag jy onder Sy beheer bly, sodat jy Sy reg, geregtigheid, genade en liefde sien seëvier in jou lewe. Amen
2021-11-29 – Die streng, genadige God. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer ons God se Woord lees, kan dit gebeur dat ons soms bietjie deurmekaar word. Ons lees van ’n kwaai, streng God wat mense straf, baie streng reëls neerlê en met slegs ’n gedagte ’n hele nasie van die aarde kan wegvee. Maar dan lees ons ook van ’n God wat oneindige liefde en genade het vir die mens en sélf mens geword het, sodat ons gered kan word. Dit skep dikwels in ons ’n innerlike konflik: Is God liefdevol en barmhartig, of is Hy ’n vurige God wat geregtigheid laat geskied?
Dit is nogal te verstane dat daar ’n groep mense was in die vroeë dae van die kerk wat geglo het dat daar twee gode was: die kwaai, toornige God van die Ou Testament en die liefdevolle God van die Nuwe Testament. Ek meen, hierdie is ’n totaal verbysterende en potensieel siel-aangrypende konsep van God wat die mensdom al verwar het sedert ons ons eerste asem ingeneem het: God is beide regverdig en vrygewig. God kan ons beide tot ons nakoming van die verbond hou én ons vergewe wanneer ons sukkel om daarby uit te kom. God hou in die een hand die mag om ’n woedende, bose weermag uit te wis, en in die ander hand die mag om die sleutels van die Koninkryk weg te gee.
Hoe dikwels mis ons die goedheid en vrygewigheid van God, omdat ons onsself op ’n afstand van God hou; omdat ons nie met Hom praat nie; omdat ons ons eie vooropgestelde aannames maak oor Wie Hy is en hoe Hy sal optree? God is beide regverdig en genadig. As ons die Bybel lees, sien ons raak in die Ou Testament dat God beide was vir Israel. Ons sien dat God geregtigheid laat geskied; dat Hy hou by Sy woord om streng op te tree teen sonde; maar dat Hy oor en oor vergewe. Leidrade na God se groot vrygewigheid van genade is volop. Hulle is oral te sien in ons lewens op sigbare en onsigbare maniere. En tog mis ons hulle so dikwels op een of ander manier.
God het geweet dat ons mense is. Ons is nie soos God nie. Ons neiging tot sonde, maak God se geregtigheid en goedheid noodsaaklik, maar dit is in elk geval deel van Wie Hy is. Hoor hoe mooi beskryf Dawid dit in Psalm 103:6-14 (AFR20):
“6Die Here handhaaf geregtigheid, die regte van almal wat verdruk word. 7Hy het sy weë aan Moses geopenbaar, aan die Israeliete sy dade. 8Barmhartig en genadig is die Here, geduldig en oorvloedig in troue liefde; 9Hy beskuldig nie vir ewig nie, en bly nie vir altyd toornig nie. 10Hy behandel ons nie ooreenkomstig ons sonde nie en vergeld ons nie ooreenkomstig ons sondeskuld nie; 11want so hoog as wat die hemel bo die aarde is, so troon sy troue liefde uit bo dié wat vir Hom ontsag het. 12So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. 13Soos 'n vader hom ontferm oor kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat vir Hom ontsag het; 14want Hy, Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons maar stof is.”
Weet dus dít vandag: In ’n wêreld gevul met pyn en vrees en verwarring, is daar ’n God wat meer goed, vrygewiger en meer vol genade is as wat ons ons ooit moontlik kan voorstel. En so gewillig as wat Hy Homself aan ons aanbied, so moet ons onsself aan Hom aanbied, en nie meer in die sogenaamde, self-gedefinieerde risikovrye afstand van al ons aannames leef nie, maar ná-aan Hom en intiem, sodat ons kan sien hoe goed en vrygewig hierdie Koning werklik is.
Om oor te dink vandag:
Beperk ek God met hoe ek oor Hom dink? Is dit dalk die manier waarop ek lewe wat veroorsaak dat ek een van Sy karaktereienskappe oorbeklemtoon?
Gebed:
Here, almagtige God, U is wat U is. Dit is meer as wat ek ooit kan dink en verstaan. Dankie dat U beide regverdig en genadig is. Help my om U beter te ken en meer op U wil te vertrou. Amen
2021-11-27 – Hoe om God te leer ken. (Kliek hier vir die klankgreep)
Het jy geweet dat God graag ’n persoonlike verhouding met jou wil hê? Dat Hy graag ’n gesprek met jou wil hê? Dat Hy wil hê dat jy jou hart met Hom deel en dat Hy ook Sy hart en wil met jou wil deel?
Dikwels wil dit vir ons voorkom of die Here net té vêr is. Asof Hy doer vêr in die vreemde is en dat ons gebede eensydige toesprake is. Maar dit is nie. Dit is gesprekke. God antwoord. Ons moet net leer om te luister en ons moet nooit ophou bid nie. Ons moet besef dat ons in ons geloof groei deur in gesprek te wees met die Een waarop en waarin ons geloof gesetel is. Jesus Christus het dit vir ons moontlik gemaak om in die Allerheiligste van God se teenwoordigheid te wees en om ons verhouding met Hom te laat groei.
Hoe leer jy mense ken? Deur net vir hulle te kyk? Deur net te luister wat ander van hulle sê? Nee, jy moet self met hulle kommunikeer. Jy moet hoor wat hulle sê, sien hoe hulle optree, ervaar hoe hulle is. Met God werk dit ook so. Die wonderlike verskil tussen God en mense, is dat God altyd met ons is – Hy is alomteenwoordig en ons kan enige tyd met Hom praat, enige tyd Sy Woord lees en enige tyd stil word by Hom.
Ons God is ’n persoonlike God wat ’n ware verhouding met ons begeer. Hy is nie ’n vêrafgeleë, kosmiese wese nie, maar ’n goeie Vader wat smag na interaksie met sy kinders. Gebed is ’n gesprek tussen God en Sy mense. Ons dien ’n God wat nie deur ons vrae en twyfel bedreig word nie. Ons hoef nie ’n valse persoonlikheid aan te neem om Hom te behaag nie. Ons hoef nie voor te gee dat ons iets is wat ons nie is nie. Hy laat ons toe om eerlik te wees oor ons vrese, ons gevoelens van isolasie en ons teleurstellings. Wanneer ons ons idees en planne voor hom uitlê, sien ons Sy goeie, volgehoue betrokkenheid in ons lewens.
Omdat ons die kroon van God se skepping is, wil Hy die begeertes van ons harte ken. Die Bybel leer ons en moedig ons aan om, sonder om te skroom, ons versoeke en harte voor Hom oop te lê. Gaan kyk gerus in Gen. 18:20-31 na die gesprek tussen Abraham en God. Abraham smeek die Here, telkemale, om Sodom en Gomorra te red. Abraham onderhandel, in ’n mate, met God wat vir ons wys met watter vryheid ons ons hemelse Vader kan nader en hoe ons eerlik met Hom kan praat.
Die psalmdigter van Psalm 66 (AFR20) sê in verse 18-20: “18Wat onreg betref, as ek dit in my hart sou gewaar, sou my Heer nie geluister het nie. 19Maar God het geluister; Hy het ag geslaan op die klank van my gebed. 20God moet geprys word, Hy wat my gebed nie afgewys het, sy troue liefde van my nie weerhou het nie.”
Ons bid om God te leer ken, om rigting in ons lewens te vind en om ons hartsbegeertes voor Hom te bring. Wanneer ons bid, bring ons ons lewens in lyn met God se wil en Sy plan vir ons. Ons bid om ons laste neer te lê voor Hom en om vrede te vind. Ons bid om te voorkom dat ons nie foute maak oor groot besluite, voordat ons nie eers God se raad gehoor het nie. Ons bid vir ander mense.
Gebed is ’n gesprek met God. Ons lê ons eerlike versoeke voor God, ons behoefte aan daaglikse brood. Tog moet ons, soos Jesus ons geleer het, bid dat God se wil bó ons wil geskied, en vertrou dat Sy pad goed en reg is. Terwyl ons in die teenwoordigheid van God rus, sal Hy praat – soms in die stilte en soms en deur Sy Woord – en Hy sal ons Sy wil wys, op Sy volmaakte tyd.
Die Here sal julle seën en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
(Num. 6:24-26 AFR83)
2021-11-26 – “EK IS” (Kliek hier vir die klankgreep)
Toe God beplan het om die Israeliete uit Egipte te bevry, verskyn Hy in ’n brandende doringbos aan Moses. Die bos het gebrand maar nie uitgebrand nie en dit het Moses se belangstelling geprikkel. Toe hy nader stap, het God met Hom begin praat en Sy plan aan hom geopenbaar. Nou, soos ons gewone mense mos maar is, dink Moses vooruit en vra die Here om aan hom te openbaar wat Sy Naam is, want die volk gaan hom mos nie sommer net glo nie.
“14God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ”” – Eksodus 3:14 (AFR20)
God voorsien dus aan Sy volk ’n Naam – ’n Naam wat sy ongeskape, onafhanklike en ewige karakter aandui. Moses, wat toe voor die onbenydenswaardige taak gekonfronteer was om die Farao vir die vryheid van die Israeliete te vra, het God vir Sy Naam gevra. God het vir Moses gesê om Hom te noem: “EK IS.” Hy is en sal altyd wees. Hy skuld niks en niemand vir Sy bestaan nie. Inteendeel, Hy is die hoogste, ongeskape, soewereine en enigste God van die heelal. Alle dinge het hulle bestaan aan Hom te danke.
Mense sukkel met hierdie idee. Ons analitiese breine sê vir ons dat alles ’n begin en ’n einde moet hê. Dat alles iewers ontstaan het. Maar nie God nie. God is en was nog altyd en Hy sal nog altyd wees.
Toe Jesus aarde toe gekom het in die vorm van ’n mens, het Hy ook hierdie selfde naam gebruik om Sy identiteit tydens sy aardse bediening te verklaar. Terwyl die mense gestry het oor die verhouding van Jesus tot die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, het Jesus hulle begrip uitgedaag deur te verklaar dat Hy nie sommer net een mens in ’n lang ry van mense is wat deur God gebruik is nie. Hy verklaar aan hulle dat Hy sélf die “EK IS” is.
“58Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.”” – Johannes 8:58 (AFR83)
Vir die kleingelowige mense wat nie kon aanvaar dat die ewige, onbegryplike God uit Sy eie ’n ewige verlossingsdaad vir die mense kom doen nie, was dit onaanvaarbaar en hulle het probeer om Jesus te stenig. Deur hierdie term te gebruik, het Jesus aangekondig dat Hy self God is en het Hy die uiterste sonde van Godslastering in die gedagtes van sy Joodse gehoor geplaas. Hulle kon eenvoudig nie begryp dat hierdie timmerman van Nasaret die einste Seun van God kon wees, in menslike vorm, aan Wie alle mense hul toegewydheid en aanbidding te danke het nie.
Selfs vandag nog sukkel mense daarmee. Mense kan nie glo dat God mens kon word nie. Dit is makliker vir mense om te dink dat God nie bestaan nie, as om te dink dat daar ’n ewige, ongeskape wese is wat die mens só liefgehad het, dat Hy sélf mens geword het om ons Sy liefde te wys. God is nie soos ons nie. Hy is God. Moenie dit probeer verstaan nie. Glo dit net!
Gebed:
Here Jesus, U is die groot “EK IS”. Alhoewel ek nie kan verstaan alles wat U is nie, loof en prys ek U met alles wat ek is. Help my om U te aanbid en te dien elke oomblik van elke dag – selfs as ek slaap. Amen
2021-11-25 – Stry vir die geloof! (Kliek hier vir die klankgreep)
Judas, die broer van Jakobus, het een brief in die Bybel. Slegs een brief en slegs een hoofstuk. Oorspronklik wou hy net skryf oor die wonderlike verlossing in Jesus, maar vanweë die dwaalleer wat die kerk ingekom het... wag, hoor wat sê verse 1-4:
“1Judas, dienskneg van Jesus •Christus, en broer van Jakobus, aan die geroepenes, diegene wat hulle in die liefde van God die Vader bevind, en vir Jesus Christus bewaar is: 2Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle gegee word. 3Geliefdes, alhoewel ek vas van plan was om aan julle oor ons gemeenskaplike verlossing te skryf, word ek nou genoodsaak om aan julle te skryf en julle aan te spoor om te stry vir die geloof, wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is. 4Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Vors en Here, Jesus •Christus, ontken.” – Judas 1:1-4 (AFR20)
Judas voel verplig “...om te stry vir die geloof, wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is” en om die kerk uit te daag om dieselfde te doen. Gelowiges moet onthou wie hulle is en aktief die suiwer boodskap van Christus bewaak teen magte wat werk om dit te ondermyn.
Ons leef in uitdagende tye. Die kerk – alle denominasies – is konstant in die spervuur. Die media hou daarvan om situasies uit te buit, halwe waarhede te vertel en eensydige verhalings van gebeure te gee – alles wat die kerk in ’n slegte lig plaas. Mense hou van sensasie en waarheid maak nie meer saak nie. “As die koerant sê die kerk is sleg, dan is die kerk sleg...” of só reageer baie mense. Mense kies om eerder nie meer deel te wees van ’n gemeente of denominasie nie, want hulle wil tog nie “geassosieer word met ’n klomp skynheiliges nie...” Wat ’n skynheilige stelling!
Maar, ongelukkig bevat baie van die stellings in die media wel ’n gedeelte van die waarheid. Die feit dat dinge in die kerk nie is soos dit moet wees nie, is waar. En weereens: ek praat van alle kerke. In die vroeë kerk was dit ook so. Daarom skryf Judas en ook Petrus (2 Petrus 2) oor hierdie dinge wat die kerk binnegesypel het – dinge wat ons in ons binneste weet is verkeerd, maar omdat die wêreld sê daar is nie fout daarmee nie en omdat die media sê die fout is by die kerk, dan laat ons toe dat ons boodskap van die evangelie verdraai word.
Ek weet dit klink erg, maar dit is ongelukkig die realiteit van die saak en dit is niks nuut nie. Judas (en Petrus en Paulus) stry daarteen en daag hulle mede-Christene uit wat “geroepenes” is en “diegene wat hulle in die liefde van God die Vader bevind”. As ons onthou wie ons is (en Wie s’n ons is), is dit baie makliker om ons oë op Christus gefokus te hou, Sy waarheid te verdedig en op Hom alleen staat te maak vir krag. Om die stryd binne en buite die kerk te stry, kan ons nie van die kantlyn af skree nie. Ons moet betrokke wees. Ons moet dáár wees.
Stry vir die geloof! Leef in die liefde van God die Vader. “Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle gegee word.”
2021-11-24 – Pasop vir valse godsdiens! (Kliek hier vir die klankgreep)
Deesdae is daar allerhande sogenaamde teoloë en predikante wat beweer dat húlle die waarheid het; dat God net met hulle praat; dat jy skielik allerhande dinge moet doen om gered te word. Vir baie mense is dit nogal aanloklik, want ons almal soek so bietjie bevestiging so nou en dan om te weet dat ons darem nog op die regte pad is. Die slegte ding van hierdie tipe teologie, is dat dit dikwels gemeng is met selfsugtige ideologieë en privaat agendas – gewoonlik tot finansiële wins van die prediker.
Selfs in Jeremia se tyd, kom waarsku God hierteen:
“2“Gaan staan by die poort van die huis van die Here. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die Here, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die Here in aanbidding te buig! 3So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! 4Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit!’ nie. 5As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, 6•vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, 7dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. 8Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie.” – Jeremia 7:2-8 (AFR20)
God praat deur Sy profeet, Jeremia, en kom sê eintlik wat Jesus bevestig het in Matteus 6: jy kan nie twee meesters dien nie. God kom herinner die volk dat wanneer hulle Sy tempel ingaan, wanneer hulle gaan om Hom te dien, moet dit opreg wees. Wanneer jy eredienste bywoon, moet jy besef dat jy nie net ’n Sondag-Christen is nie. Jy kan nie op ’n Sondag heel vroom in die kerk sit en dan gaan jy daarna maar net aan soos jy wil nie. Jy kan nie wil ander gode dien nie. Nie geld nie; nie besittings nie, nie fisiese plesier nie; nie mense nie – ja, selfs nie jou kinders nie: hulle behoort aan God; nie jou werk nie... niks wat vir jou ’n afgod kan wees mag jy té belangrik maak in jou lewe nie. Eksodus 34:14 sê: “Julle mag nie 'n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My.” God waarsku gereeld, op soveel plekke in die Bybel: ander gode, ander dinge wat ons bo Hom wil plaas, is nikswerd. Jesus sê mos in Matteus 7:16-18 dat ’n goeie boom tog nie slegte vrugte kan dra nie en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie.
Ons moet ook nie dink dat die kerkgebou en die kerk iets is wat ons heilig nie. Dit is nie nét daar waar ons Christene is nie. Die Israeliete het ook só gedink as ons na vers 4 kyk, waar God hulle waarsku wanneer Hy sê: "4Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit!’ nie.” Ek hoor so dikwels mense wat sê dat dié of dáárdie kerk so of so is, maar by dáárdie ander kerk, dáár is God teenwoordig, dáár beweeg die Heilige Gees... Nou ja goed, dikwels is dit so dat daar by sekere gemeentes ’n bietjie van ’n insinking gekom het en dat dinge nie is soos dit moet wees nie, maar die vraag wat ons moet vra, is: Word die Woord van God suiwer verkondig en staan dít sentraal as waardesisteem en waarheid?
Soos gister genoem: as jy verveeld is met die kerk, vra God wat jy kan doen om dit meer opwindend te maak. As jy die kerk ’n moeilike plek vind om te wees as gevolg van probleme met medegelowiges, bid dat God daardie verhoudings sal genees en jou vreugde sal herstel.
Moet dus nie agter allerhande valse profete en beloftes aanhardloop nie. Moenie jou vertroue op te veel mense plaas nie. Moenie dink dat ’n sekere kerk jou gaan red nie. God red jou deur die bloed van Jesus Christus. Deur genade. Deur geloof wat die Heilige Gees in jou bewerk. Dit is wat God se Woord ons leer. Tot Sy eer alleen.
Mag jy vrede en vreugde vind in God se huis. Mag jy inskakel en deel wees van die gemeenskap van gelowiges. Mag God jou en die gemeente seën. Amen
2021-11-23 – “Kom ons gaan na die huis van die Here.” (Kliek hier vir die klankgreep)
Ek onthou as kind toe ek die eerste keer Gold Reef City toe gegaan het. Daar is soveel om te sien en dan is daar natuurlik al die lekker mallemeule ritte waarop jy kan gaan. Op en af, heen en weer, vinnig, stadig, bo die grond, in die water, hoog, laag... Lekker! Van die ritte is lekkerder as ander, want daar is sommige van die ritte wat mens nogal bang maak. Daar is sommige ritte wat vir party mense lekker is en vir ander glad nie, maar die doel van al die ritte is plesier en vreugde – dit is daar om geniet te word.
Die lewe, en veral die laaste paar jaar, was nogal baie soos al hierdie ritte in die pretpark gewees. Ons emosies word gedurig in alle rigtings geslinger. Wanneer ons net so amper begin erg bang raak en té mismoedig raak, is daar darem lig aan die einde van die tonnel. Met die grendel-tydperke is dit ook so. In die begin, was ons almal baie onseker. Baie van ons het inkomste verloor en die toekoms het donker gelyk. Ons het kerk gemis. Eredienste. Die samekoms van die gemeente. Almal wou so graag weer bymekaarkom. Soos met ’n vreesaanjaende rit in die pretpark, het baie begin bid dat hierdie rit tog net moet eindig. Die grendeltyd en inperking het baie mense weer hul afhanklikheid van God laat besef. Baie mense het geestelik gegroei, maar dis nie dieselfde sonder jou mede-gelowiges nie. Ons is sosiale skepsels – ons wil interaksie hê en ons wil ons geloof saam met ander uitleef. Ons móét! Al wil ons dit nie erken nie.
Maar elke keer as die beperkings op getalle by eredienste verslap word, wil dit voorkom, neem bywoning (oor die algemeen) af of groei dit skaars. Kan jy dit glo? Miskien is dit omdat mense dan weer besiger word met hul alledaagse take. Werk, skool en die malle gejaag van die wêreld neem weer oor. En ons hunkering vir samesyn in die pragtige kerkgeboue van ons land neem weer af. Ons definisie van pret en prioriteit verander weer en ons is tevrede om op die vervelige deel van die pretpark rit te bly.
Dawid skryf ’n lied vir die pelgrims om te sing wanneer hulle na Jerusalem moet gaan om fees te vier in Psalm 122. Hy begin met die woorde: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.”” (Ps. 122:1 AFR20).
Ons almal was bly toe die staat gesê het ons kan weer na die huis van die Here gaan. Ons almal het dalk gegaan die eerste, tweede of derde keer. En nou? Nou is ons weer terug na gemaklikheid. Kerk kyk op TV. Soos in ’n winkel kan ons kies wat ons wil hê: wanneer en na wie ons wil luister. Hoekom is dit belangrik dat ons kerk toe gaan – eredienste bywoon? Wat as ons nooit weer kan gaan nie?
Soms is dit ’n gesukkel om onsself op te kry in die oggend en kerk toe te gaan. Maar God wil hê dat ons met blydskap in Sy huis moet ingaan. Dit beteken nie dat ons altyd opgewonde sal wees wanneer die wekker afgaan nie. Maar dit beteken wel dat ons moet werk om ons harte en gedagtes voor te berei vir wat God vir ons beplan.
God wil hê dat ons saam met ander gelowiges moet bymekaarkom. Hy wil hê ons moet die Bybel bestudeer, die Woord hoor, saam lofsange sing en ander mense tot seën wees. Dit alles moet in die kerk gebeur – binne en buite die mure van daardie gebou. As jy agterkom dat jy begin stagneer, dat die rit begin vervelig raak, vra God om jou gebrek aan entoesiasme met Sy vreugde te vervang.
Baie gelowiges in hierdie wêreld word vervolg omdat hulle bymekaar gekom het. Sommige mense word selfs vermoor. Dit is hoe belangrik dit is om te bymekaar te kom. Vir dié van ons wat maklike toegang tot ’n kerk het, kan dit maklik wees om dit as vanselfsprekend te aanvaar. Maar ons moet nie.
As jy verveeld is met die kerk, vra God wat jy kan doen om dit meer opwindend te maak. As jy die kerk ’n moeilike plek vind om te wees as gevolg van probleme met medegelowiges, bid dat God daardie verhoudings sal genees en jou vreugde sal herstel.
“Kom ons gaan na die huis van die Here.”
Gebed:
Liewe Heer, dankie dat ons in U Naam kan saamkom. Help ons asseblief om niks anders as vreugde in ons harte te hê wanneer ons in U huis instap nie. Amen
2021-11-22 – Om God te nader. (Kliek hier vir die klankgreep)
Soms wens ek dat ek soos Moses, Jesaja en ’n paar ander in die amper fisiese teenwoordigheid van God kan wees. Ek weet God is alomteenwoordig, maar net soms wens ek ek kon Hom sien en Sy almagtigheid eerstehands ervaar. Ek dink dit moet seker een van die wonderlikste ervarings ooit wees. Maar... dan begin ek ook soos Jesaja in Jesaja 6 wonder of ek dit waardig is om in die almagtige God se teenwoordigheid te wees. Sal Sy heiligheid my verteer? Sal ek opgewasse wees daarvoor? Sal ek weet wat om te sê? Sal ek dit regtig kan hanteer?
Baie van ons dink dikwels só. Ons dink dat ons nie in God se teenwoordigheid mag wees nie – dat ons dit nie verdien nie. En ons is reg. Eintlik verdien ons dit nie. Ons kan nie regtig enige verlossing of saligheid verdien nie. En ons lees ook in die Ou Testament – veral met die Israeliete se tog na die Beloofde Land – dat God se mense verbied was om God te nader. Genadiglik het God onder die mense op Sy bestemde berg gewoon. Hierdie plek was egter beskerm sodat die sondige mense nie naby ’n heilige God sou kom nie. Die alles-verterende heiligheid van God sou diegene wat in Sy teenwoordigheid gekom het, verteer. Slegs die priesters kon op sekere vasgestelde tye en op duidelik gedefinieerde maniere die teenwoordigheid van God binnegaan. God was so besorg oor die beskerming van Sy woning, en die mense, dat Hy Moses opdrag gegee het om grense rondom die berg te stel om die mense op ’n veilige afstand te hou. As die mense versuim het om die grense te eerbiedig, is hulle streng deur God geoordeel. Eksodus 19:12 (AFR20) sê:
“12Baken rondom die berg 'n grens vir die volk af en sê vir hulle, ‘Wees versigtig dat julle nie teen die berg opklim, en selfs aan die voet daarvan raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.”
Miskien is dit oor gedeeltes soos hierdie, dat so baie van ons nogsteeds huiwer om in ons almagtige God se teenwoordigheid te kom. Gelukkig het Jesus mens geword en kom die skrywer van die boek Hebreërs en demonstreer die skerp oorgang wat plaasgevind het as gevolg van Christus se werk aan die kruis. Vandat Jesus volmaak en finaal die offer vir die sondes van Sy volk voorsien het, is die skeidingsmure tussen God en mens verwyder. ’n Nuwe en lewende weg is nou oopgemaak waardeur God se volk die vertroue kan hê om deur die bloed van Christus tot Hom te nader. Hoor wat sê Hebreërs 10:19-22 (AFR20):
“19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, 20langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het 'n groot Priester oor die huis van God. 22Laat ons daarom ingaan met 'n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van 'n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.”
Dit is voorwaar wonderlike nuus! Eerder as om veiligheid te vind deur afstand tussen ons en God te behou, kan diegene wat Christus ken, veiligheid vind deur nader aan God te kom. Ons kan skuil by die enigste God, die Almagtige! Ons kan vertoef in Sy teenwoordigheid. Ons hoef nie te weet wat om te sê nie. Ons kan maar net vrede vind by- en in Hom.
Gebed:
Here Jesus, my God en my Redder, dankie dat U die skeidingsmure tussen ons Hemelse God en Vader en my afgebreek het. Help my om so naby as moontlik aan U te kom. Amen
2021-11-20 – Die woorde van my mond. (Verwerking van 2021-08-12) (Kliek heir vir die klankgreep)
Ons hoor so dikwels dat iemand sê: “Stilbly is ook ’n antwoord.” My ma het ook altyd gesê dat dit partykeer beter is om stil te bly. “As jy nie iets goed het om te sê nie, hoef jy nie iets te sê nie”, het sy altyd gesê. En so kan ek aangaan oor hoeveel dinge my ouers my geleer het oor die krag van woorde en ook die krag van stilte. Maar ons moet praat elke dag. Ons moet met mense kommunikeer en soms moet ons ook met mense argumenteer. Dit is nodig om ons woorde te gebruik en dit is nodig dat ons ons woorde rég gebruik.
Ons probeer ons kinders leer dat hulle twee keer, selfs drie keer moet dink voordat hulle praat. Dat hulle hulself moet afvra of hul woorde vriendelik, noodsaaklik en waar is. Dit is drie vereistes vir woorde. Gaan kyk maar, dink mooi daaroor: indien jou woorde slegs een van hierdie eienskappe ontbreek, is dit beter om stil te bly. Maklike raad, of hoe? Ja, miskien vir ’n gesin of ’n klein opset, maar in die wêreld daar buite... nie so maklik nie. Veral nie as die wêreld nie dieselfde reëls volg nie. Maar, as ons dan nou die “sagte” benadering volg, hoe sal ons dan ooit die “harde” moeilikhede van die lewe adresseer? Juis deur anders te wees: met sagtheid, respek en eerlikheid.
In Psalm 19 skryf Dawid hoe die Skepping, sonder woorde, die eer van God verkondig. Meeste van ons, as mense, is egter geseën met spraak en dan sluit Dawid die psalm af in vers 15 met die woorde: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Ps. 19:15 AFR20)
Ons woorde – by die huis en buite die huis – moet ’n weerspieëling wees van wat binne ons aan die gebeur is. Dit moet ’n weerkaatsing wees van die nuwe mens wat Christus in ons bewerk. Dit moet wys dat daardie transformasie besig is om te gebeur, omdat ons vir die lig gekies het (gister se oordenking). Argumente en konfrontasies in ons lewens, is groei geleenthede. Dit is dinge wat ons kán vermy, maar soms is dit nodig. Wanneer ons ons monde oopmaak om te praat, moet ons Jakobus se woorde in Jakobus 3:9-10 (AFR83) onthou: “9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie.”
Woorde wat nie deurdink is nie, woorde wat nie vriendelik, noodsaaklik en waar is nie, is woorde wat kom vanuit afguns en selfsug en Jakobus sê vêrder in vers 16 (AFR20): “...waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.” Ons wil tog nie ons huise vol wanorde en allerlei gemene dade hê nie. Ons wil mos juis ook hierdie dinge uit die wêreld verwyder. As dit beteken dat ons woorde die sleutel is om hierdie dinge uit te sluit, dan moet ons mooi dink voor ons praat.
Kom ons bid saam met Dawid die woorde van Ps. 19:15 (AFR83): “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.” Amen
Vrede vir julle almal!
2021-11-19 – Kies lig. Kies liefde. (Kliek hier vir die klankgreep)
Wanneer jy vir mense vra wat die bekendste vers in die Bybel is, sal ten minste 9 uit 10 mense gewoonlik vir jou sê dat dit sonder twyfel Johannes 3:16 is. Mense verf dit op hulle mure, dra hangertjies daarvan en kry selfs tatoes daarvan. Hoor gou weer wat staan daar:
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Ja, ons ken hierdie vers. Ons ken liedjies oor hierdie vers. Dit som God se genade en liefde op. ’n Selfopofferende liefde vir ’n gevalle mensdom. Genade onbeskryflik groot en liefde sonder perke. En in die volgende verse word dit nog meer verduidelik. Verse 17-19 sê:
“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. – Johannes 3:17-19 (AFR83)
So jaar of twee gelede het ek weer gepreek oor hierdie baie bekende gedeelte in die Bybel. Ek het ook baie vrae gevra oor hoe die liefde van God ons lewens verander – of veronderstel is om te verander, bv. Het ons meer vrede? Is ons meer soos Jesus? Vergewe ons meer en makliker? Is ons meer sensitief vir die situasies van mense om ons? Want sien, vers 19 verduidelik ook mooi vir ons dat daar ’n skeiding kom – ’n oordeel. Ons kan nie net praat oor hierdie wonderlike vers nie... Wat maak ons daarmee?
As ek na my eie lewe kyk, sien ek baie plekke waar daar baie transformasie is wat nog moet plaasvind. Ek is dikwels ontevrede, maar terselfdertyd ook bemoedig omdat ek ’n God ken wat die dooies opwek. Ek ken ’n God wat die sondaar vergewe. Ek ken ’n God wat moed gee aan die swakkes en rigting gee aan die verwardes en dié wat hartseer is troos. Ek weet dat dit waar is omdat die God wat ek ken, die wêreld so lief gehad het dat Hy ons Sy enigste Seun gegee het, sodat ons nie sal vergaan nie, maar sal lewe en floreer en groei. Hierdie God het ons so lief gehad dat Hy nie op ’n afstand gebly het nie, maar in sy Seun, Jesus, naby gekom het. Hierdie God het Homself aan die kruis aangebied om vergifnis moontlik te maak en die ewigheid seker te maak. Hierdie God het ons meer lief as wat ons kan begryp. Hy het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons té lief om ons te laat bly soos ons is, en Hy hou dus die moontlikheid van ware transformasie vir ons voor. As gevolg van hierdie liefde is ek hoopvol.
Kies die lig. Kies liefde. Jy is gered en is vry van die duisternis van sonde. Leef so.
Gebed:
Here Jesus, dankie vir U finale offer. Dankie dat ek gered kan wees. Help my om elke dag te kies vir die lig. U is die lig. Skyn deur my. Amen
2021-11-18 – Hoe groot is U? (Kliek hier vir die klankgreep)
Het jy al gedink hoe groot God is? Het jy al besef hoe klein jy is, in vergelyking met die heelal? En in vergelyking met God, wat groter is as alles wat jy kan dink?
Ek wonder of Dawid, toe hy Psalm 8 geskryf het, ook aan hierdie dinge gedink het. Toe hy die ontsagwekkende natuur en die sterrehemel aanskou het, was hy heel moontlik ook gevul met wonder en nederigheid. Gaan lees gerus Psalm 8. Hier volg Totius se beryming daarvan:
Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid —
of oral blink u Naam en majesteit.
U het, o Heer, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.
As ek, o Heer, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan —
wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng’le om u troon.
Ja, daar’s geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid —
of oral blink u Naam en majesteit.
Besef ons hoe groot ons God is? Besef ons hoe lief Hy ons het? Dat Hy ons die kroon van Sy Skepping gemaak het? Dat ons moet heers (omsien en sorg) oor die Skepping? Hierdie groot, almagtige Skepper en Vader het elkeen van ons só oneindig lief – so oneindig soos die heelal.
En hierdie God, Vader, Skepper, is nóg groter as dit! Kan jy dit verstaan? Ek kan nie. Dit gaan my verstand te bowe. Hoe kan só groot, almagtige God – die enigste God – my liefhê? Hoe kan Hy my deel maak van Sy Skepping? Sjoe! Loof die Here, die almagtige God en Vader, die Skepper van die hemel en die aarde. My Skepper... My Vader... Loof Hom! Prys Hom! Aan Sy liefde is daar geen einde nie!
Mag jy die liefde van God, die genade van ons Here Jesus Christus en die gemeenskap van die Heilige Gees ervaar in jou lewe elke dag!
2021-11-17 – Nie net lippetaal nie. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” – 1 Johannes 3:16-18 (AFR83)
Ek dink nou sommer aan die liedjie wat sê: “Die liefde van Jesus is wonderbaar...” Besef ons regtig wat die Here vir ons gedoen het? Dat Hy Sy lewe afgelê het vir elkeen van ons. Hy het nie nét vir ons gesê hoe ons God die Vader en mekaar moet liefhê nie. Hy het dit gewys. Hy het ons só innig lief, dat geen prys te veel was om te betaal nie. Hy het nie geskroom om Sy lewe op te offer vir ons sondes nie. Dit is die grootste, uiterste vorm van liefde. Sal jy dit doen vir die mense waarvoor jy lief is?
Ons bely (redelik) maklik dat ons lief is vir Jesus. Dat ons lief is vir ons medemens. Maar, wanneer dit kom by die wys daarvan, het ons maklik verskonings. Ons gebruik so graag die Engelse gesegde: “Charity begins at home.” Ja, natuurlik moet ons na ons eie familie en onsself omsien, maar, soos Johannes sê, hoe kan ons sê ons is lief vir God en ons medemens, as ons nie omsien na ons naaste nie as ons weet hulle ly gebrek. “Hoe kan die liefde van God in hom (ons) wees?”. Nee, ons kan nie met die mond bely en dan anders doen nie. Ons praat en oordeel so maklik dat mense skynheilig is, maar ons almal is maar tot ’n sekere mate skynheilig. Ja, barmhartigheid begin tuis, maar só ook selfondersoek en eerlikheid (met onsself). Ons moet met opregtheid optree. Ons moet God se hande en voete wees. Jesus het vir ons die Heilige Gees gegee om Sy werk voort te sit op aarde. DOEN ons dit? Of bely ons dit net – SÊ ons dit net? As ons nood sien of weet daarvan, voel ons maar net jammer vir mense, of DOEN ons iets daaraan?
Wanneer Paulus praat oor liefde in 1 Korintiërs 13, dan noem hy dat al wat oorbly is geloof, hoop en liefde. Hy sê ook dat die grootste hiervan, is die liefde. Hoekom dan nou juis die liefde? Want liefde kan en moet gesien word. Geloof en hoop is geestelike en innerlike kwaliteite van ’n Christen wat tot uiting kom in die dade van liefde. Liefde kan nie net woorde en lippetaal bly nie, dit moet gewys word.
Mag die Heilige Gees ons die insig, krag en oortuiging gee om nie net te bely hoe lief God ons almal het nie, maar om dit te wys. Mag ons die Here se werk voortsit met opregtheid en mag ons lewens ’n lewende offer wees vir Hom – tot eer van Sy Naam. “Die liefde van Jesus is wonderbaar, wonderbaar, wonderbaar... Die liefde van Jesus is wonderbaar, wonderbaar vir my... Kom ons verheerlik Sy Naam!”
2021-11-16 – Wees ’n dienaar. (Kliek hier vir die klankgreep)
Daar was nog maar baie min (indien enige) regerings of leierskorpse ooit waar niemand die mag wat aan hulle toevertrou is, misbruik het nie. Dit maak elkeen van ons wie gewoonlik aan die ander kant van die weegskaal is, baie ongelukkig. Ons voel verontreg en dit voel of daar teen ons gediskrimineer word (op talle vlakke). Dit is nie lekker as jy hard werk, belasting betaal en binne die wette en riglyne bly, maar “die mense daar bo” is die enigstes wat baat daarby nie. Dit wat hulle sê en wat hulle doen, stem nie ooreen nie. “Hul besluite is net tot hulle eie voordeel”, voel ons.
Weet jy, so was dit nog altyd. Selfs in Jesus se tyd en selfs nog vóór Sy tyd. Magsvergrype en magsmisbruik is niks nuut nie. Nie net in regerings nie, maar ook in werksplekke, organisasies, gemeentes, kerkvergaderings, sinodes en ook in huise. Jesus het geweet dat dit een van die dinge is waarmee mense sukkel en dat mense ongelukkig is daaroor as jy aan die negatiewe ontvangkant daarvan is. Daarom kom wys Hy ons hoe om daarteen te werk.
“Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”” – Matteus 20:25-28 (AFR83)
Jesus kom stel die voorbeeld en word ’n nederige Dienaar. Hy word uiteindelik die uiterste voorbeeld daarvan deur Sy lewe neer te lê vir elkeen van ons – selfs diegene wat graag oor ander baasspeel. Sien, Jesus leer ons dat elkeen van ons gered kan word. Hy leer ons dat wanneer ons God bo alles lief het en ons naaste soos onsself, dien ons God en ander met blydskap – al is dit soms baie moeilik.
Dit beteken natuurlik nie dat ons die knie moet buig onder druk en altyd die ander wang draai nie. Om ’n dienaar te wees, beteken ons werk hard om vir ander Jesus se liefde te wys en soms is dit nodig om dan sterk te staan en vas te staan in jou oortuigings oor God se wil en wat reg is. Nederigheid beteken nie swakheid nie. Nederigheid voor God, beteken afhanklikheid van God – algehele vertroue in Sy wil en algehele vertroue in Sy krag in uitdagende situasies, veral politieke onderdrukking in jou huis, kerk en land. Soos gister so boodskap ons ook geleer het: God is getrou en Hy doen wat Hy beloof. As ons op Hom vertrou, gee Hy ons die krag en die nederigheid om Sy dienaar te wees. Vra na Sy wil. Onderwerp jouself aan Sy wil. Verheerlik Sy Naam.
Om oor te dink vandag:
Word ek kwaad oor magsmisbruik? Hoekom word ek kwaad? Oor die onreg of sommer net? Wat doen ek daaraan?
Gebed:
Here, U is regverdig en U regeer – oor my lewe en oor alles. Ek weet dinge is nie altyd soos ek dit wil hê nie – en vir seker nie soos U dit wil hê nie. U wou alles goed en reg hê, maar ons mense foeter dit gereeld op. Vergewe ons. Help my om in nederigheid en afhanklikheid van U ’n verskil te maak waar ek is. Tot U eer alleen. Amen
2021-11-15 – God is Getrou. (Kliek hier vir die klankgreep)
“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom”. – Hebreërs 10:23-25 (AFR83)
Hoe dikwels verloor ons tog nie hoop nie? Dinge kan dan so maklik skeefloop in ons lewens en ons sukkel dan om positief te bly. Veral wanneer ons iets beplan het en dan gebeur die lewe (of selfs die dood!). Die skrywer van die Hebreërbrief herinner ons hier dat ons moet styf vashou aan die hoop wat ons bely. En die rede wat hy gee is nie sommer enige rede nie. Hy gee vir ons ’n rede wat vir ons sonder twyfel laat: God is getrou! Nog nooit in die geskiedenis het God die mens in die steek gelaat nie. Die ander kant is wel waar... Die mens het God al baie in die steek gelaat en dan, wanneer God sy seën weerhou, wil dit vir ons menslike oë voorkom asof God ons in die steek laat. Maar dit is nie waar nie. God is getrou. Hy doen wat Hy beloof het. Hy is altyd met ons... Ja, eintlik seën Hy ons nogsteeds, selfs al laat ons Hom in die steek.
Die Here het beloof dat Hy vir ons ’n God sal wees en dat ons Sy kinders is. Vir ons almal wat bely dat Jesus Christus die Here is, is die belofte van God se liefde, vrede en teenwoordigheid ’n realiteit. Moet dus nie dat die lewe jou onderkry nie. Ons God is groter as die lewe. Hy is getrou en Hy is by jou. Besef dit wanneer ander mense jou bystaan. Besef dit wanneer ander liefde en barmhartigheid aan jou betoon. Besef dit wanneer jy self aan ander goeddoen en liefde betoon.
Tydens die verskillende vlakke van inperking wat ons in die laaste jaar en ’n half deurgemaak het, kon die samekoms van die gemeentes nie gebeur nie, maar die kerk is nie daar om net kerk te wees nét by ’n erediens nie. Deesdae kan ons darem weer almal saamkom in eredienste, maar wat gebeur na Sondae? Ons moet in die tussentyd ook kerk wees oral waar ons is – soos die Here dit beplan het. Ons kan ook saamwees in die Gees – ja die Heilige Gees wat ons saambind – oral waar ons is en gaan. Mag ons nie verslap in ons geloof nie. Mag ons vashou aan die hoop wat ons bely. Mag ons aanhou om dit te bely. Onthou: God is getrou.
Genade en vrede vir jou.